Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21497 articles
Browse latest View live

Lesersindruk: Michel Houellebecq se Serotonin

$
0
0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer hiervan na LitNet se redaksie aangestuur.

Serotonin
Michel Houellebecq

In ’n vertaalde weergawe van Michel Houellebecq se opstel "Om te bly lewe: ’n Handleiding", staan die volgende aan die begin van die eerste hoofstuk:

“Die heelal skree. In beton sien mens die geweld waarmee
dit as muur gevorm is. Beton skree. Gras kerm onder die
tande van die diere. En die mens? Wat sal ons sê van die mens?”

Houellebecq werk ’n antwoord hierop uit in van sy boeke. By die lees van Houellebecq se nuutste boek, Serotonin, word mens onwillekeurig herinner aan die aanhaling van Remarque aan die begin van Hertmans se boek Oorlog en Terpentyn: “Dit is asof die dae, soos engele in goud en blou, ongrypbaar bo die sirkelgang van die vernietiging staan.” Die konteks is hier wel effens anders: die verval van die individu en die samelewing waarbinne hy funksioneer, ’n bekende tema by Houellebecq.  Wat hom egter onderskei is die berekende, blatante en by tye fyn waarnemings, en die oorspronklikheid van die verbande wat hy lê. Houellebecq is geen groot intellektueel nie, maar hy sien die konteks waarbinne hy kommentaar lewer, skerp raak. Serotonin is teen hierdie agtergrond ’n kroniek van persoonlike, teen die agtergrond van ’n konteks van groter kollektiewe, verval.

Dit wil soms lyk of Houellebecq volgens ’n tipe program skryf. Een boek spreek "groot" kwessies aan (Submission), die volgende een maak erns met individue binne hierdie groot stories.  Serotonin is weer iets van laasgenoemde. Die verhaal skets hoofsaaklik drie aspekte – ’n persoonlike, Franse en Europese vertelling van ’n hipermoderne bestaan en die proses van verval wat inherent die realiteit is daarvan. As sodanig word die verval ook toegepas op die Westerse samelewing in die geheel, reeds ’n sentrale tema by Houellebecq soos bo na verwys is.

Serotonin skets die verhaal van Florent-Claude Labrouste, en daar word ’n greep op die karakter se lewe in ’n huidige Frankryk geskets, ’n Frankryk wat volledig funksioneer binne die EU, waarvan Houellebecq geen groot aanhanger is nie. Florent se lewe word in die eerste persoon vir ons aangebied, en die klem val hoofsaaklik op sy beroep binne die Franse staatsdiens, sy verhoudingslewe en sy sielkundige toestand, waarvan al drie mettertyd grootliks agteruitgaan of tot ’n einde kom, terwyl hy probeer om dinge te beredder deur die gebruik van antidepressante, deur fisies te vlug, en deur ’n reeks skeefgetrekte verhoudings. Vervreemding, misleiding en tipiese buitestaander – gedrag is aan die orde. Uiteindelik wonder die leser, en dit is dalk Houellebecq se doel: hoe het Florent in hierdie situasie aangeland? Die sosiale, politieke en persoonlike beskrywings van en kritiek op die Franse (Europese) samelewing en mense wat hy teëkom is plek-plek skreiend, en mens kan uiteindelik dit nie vermy om ’n verband raak te sien tussen Houellebecq se standpunt en iemand soos Hermans se laaste paragraaf in sy werk, An Untouched House, nie:

I looked deep into the house’s diseased and dying maw. It was like it had been putting on an act the whole time and was only now showing itself as it, in reality, had always been: a hollow, drafty cavern, rancid and rotting at its core.

Hierdie realiteit ken ons deeglik ter plaatse, regoor die sosio-politieke spektrum; deesdae baie meer algemeen omvattend as wat ons aanvanklik vermoed het. Daar is min hubris by Houellebecq se karakters in Serotonin, wat dit nie geskik maak om te bepaal waarom (en hoe) hierdie verskynsel deesdae al belangriker word nie (’n afgeskeepte veld). Hier is egter ander voordele te kry. In Houellebecq se werk staan dit sentraal: ver weg van die ideologiese sekerhede wat vroom funksioneer om sogenaamd insig te bied, staan die verloopte individu wat maskers van fatsoenlikheid afruk Inderdaad, soos iemand dit gestel het, hou die skrywer homself met belangstelling besig deur sy eie en ander se agteruitgang dop te hou. Dit is sy eerlikheid wat opval; soms skokkend sodanig. Soos in van sy ander boeke, teken Houellebecq hier vir ons ’n prent van ’n bestaan waarvan ons self die slegte smaak geskep het en waarop ons soms baie trots is – duidelik onbewus van Jos de Mul se waarskuwing van wat gewoonlik die noodlot uitlok: oormoed, verblinding en misleiding.

Serotonin is nie Houellebecq se beste werk nie en is daar een of twee tyd- en konstruksiefoute in die boek. Tog wonder die leser wat Houellebecq nog verder te sê het na die relatief stomp maar betekenisvolle einde. Dalk verras hy weer deur nog ’n mantel van ’n gemaklike skynorde op ’n nuwe manier af te ruk. Hierin lê waarskynlik sy belangrikste bydrae –  ’n tipe ontmaskering en konfrontering van die spektakelsamelewing, sy woordvoerders en sy weefkunstenaars. As hy dit net (weer) regkry, is dit al die moeite werd – of mens nou elke keer die spesifieke aanslag of inhoud van sy verhale kan verteer of nie. ’n Spieëlgeveg het egter geen wenners nie.

The post Lesersindruk: Michel Houellebecq se <em>Serotonin</em> appeared first on LitNet.


Nello en Patrasche: my gedagtes rondom Herman Meulemans se artikel

$
0
0

Dingie van Rensburg skryf sy gedagtes na aanleiding van hierdie artikel wat gedurende die feestyd op LitNet verskyn het:

Nello en Patrasche: Een kerstverhaal met een miljoenenoplage over Vlaanderen

Inleidende opmerkings

Ek het Herman Meulemans se resensie van Nello en Patrasche: Een kerstverhaal met een miljoenenoplage over Vlaanderen, op Oukersdag gelees. Die verhaal is ’n ware Kersverhaal, en vir my nog meer aangrypend omdat ek dit juis in die Kerstyd gelees het. Die agtergrond van die verhaal is die eertydse ou Antwerpse omgewing, met die tipies wye, wit winterweide van die Kerstyd. Hierdie resensie of waardering deur Meulemans – soos ook die meeste van sy voriges – word gekenmerk deur ’n stewige begronding binne ’n wyer konteks, ’n beter blik en verstaan van die outeur van die oorspronklike verhaal, verder verryk deur die resensent se ryk idiomatiese Vlaams, en sy vanselfsprekende sosiologiese perspektief (sociological imagination) – dit is sy aanvoeling en verstaan van die mens in sy breër sosiale omgewing, en die wisselwerking tussen die twee.

Tog volstaan Herman nie met ’n blote sketsing in breë lyne en waardering van die inhoud van die boekie en sy verhaal nie. Hy gaan daarna oor om meer oor die skrywer, haar herkoms en haar lewe , haar leefwyse en haar skryfwerk te sê – iets wat ’n mens seker in ’n goeie resensie kan verwag. Ooreenkomstig sy sosiologies-verbeelding (waarin hy immers geskool is) gaan hy egter verder en skets op insigvolle wyse ook veel van die lewe, leefwyse en stand van die outeur vis-a-vis die skrille kontras wat haar omstandighede met die stand, lewensomstandighede en daaglikse sleur van gewone mense vorm, ook soos sy in die Vlaandere, in Brussels, Antwerpen en op die vlakke platteland van haar tyd waarneem.

Oor die blyende waarde van die verhaal en sy boodskap, merk Meulemans elders in sy resensie oor die boek en die outeur daarvan op: “Ouida zal voortleven in het hart van velen omdat ze in haar novelle A dog of Flanders het lief en leed van liefde en verlies tijdloos afschildert. Nello en Patrasche streven een droom na, over de onbenulligheden van elke dag, de worstelingen van het leven en zelfs de dood heen – een droom die de lezer betovert en op de been houdt.”

Meulemans se resensie van Nello en Patrasche, tesame met die breë-spektrum metodologie wat hy in die samestelling van sy waardering aanwend, maak daarvan eintlik veel meer as ’n resensie in die gewone sin van die woord, juis omdat hy die net so wyd span om die bestek van die verhaaltjie en sy alledaagse/eenvoudige inslag lewendiger tuis te bring, te kontekstualiseer en ook in beeld te verryk met dit wat hy daarrondom met terplaatse foto’s en rondsnuffel vertoon en te sê het. Dié inisiatiewe, na my mening werklik luukse elemente, prikkel en eis bepaald dat Nello en Patrasche met meer sintuie en emosies deur lesers gelees, maar ook gehoor, gevoel en beleef word.

Nello en Patrasche – die verhaal

In sy resensie stel Herman die verhaal van Nello en Patrasche met veel nuanses van sy eie aan ons bekend – deels in ligte verteltrant, deels in swaarder beskrywing van die gebeure van die verhaal self én die sombere agtergrond waarteen dit afspeel. Die verhaal is genestel in die die klein dorpie, Hoboken, in die buitewyke van die grootstad, Antwerpen, waar Jehan Daas en sy kleinseun Nello woon (Hoboken is tans ’n deelgemeente van die grootstad Antwerpen en steeds bekend as een van die minder gegoedes). ’n Eens-beseerde hond kom by en word met verloop van tyd as Patrasche, en naas Nello, die tweede hoofrolspeler in die verhaal. Die storie fokus voorts op die wel en weë van Nello en Patrasche waar hulle in Antwerpen melk aflewer wanneer Oupa Jehan self nie meer die afleweringsrondtes kan meemaak nie, en die taak aan Nello en Patrasche oorlaat. Met hul melkkanne op ’n waentjie wat deur Patrasche getrek word, volg ons die tweetjies deur die staatjies en stegies van die stad om die melk af te lewer.

Ek het opgemerk dat Herman se resensies – hierdie en ook voriges – inhoudelik veel meer as ’n resensie in die gewone sin van die woord is, en om verskeie redes so: Vir eers skets hy die kruks en strekking van die verhaaltjie in breë hale, maar tog met genoeg inhoud en ook genoegsaam gevoelvol (soos die skrywer dit oorspronklik sou bedoel het) om die leser in staat te stel om die inhoudelike lyn van die verhaaltjie te volg en ook te beleef, asook om die belangrike lesse of wyshede daarin te snap. Dit is per slot die waarde van ’n resensie – en Meulemans doen dit wel so, en hy doen dit ook goed.

Ook maak Meulemans die landskap en die kern van die verhaaltjie vir kindertjies heel lewendig en toeganklik – en ook so avontuurlik as moontlik – met sy boeiende verteltrant en sprekende beelde in taal en terplaatse foto’s; sodoende help hy ook om die voorleser of verteller van die verhaaltjie te bemagtig om die lessies en boodskappies daarin op sprokiesmanier oor te dra. Ook vir grootmense én oumense is daar veel in Meulemans se beeldryke taal, ryk aan Vlaamse idiomatiese uitdrukkings, om die kernboodskappe heel eenvoudig maar gevoelvol oor te dra. Kortom, Nello en Patrasche is in sy eenvoud maar ’n simpele verhaaltjie, eintlik ’n sprokie, wat elke kinderhart aanspreek, ongeag die taal waarin dit vertel word, maar so ook die harte van grootmense (pa’s en ma’s) én oumense (oupas en oumas) vinniger en warmer laat klop. Die verhaal is bepaald nie gebonde aan ouderdom en konteks nie, dit is tydloos in die sin dat dit vir alle mense, boweal mense van alle tale en in alle kultuurkontekste relevant is en bly. Alles maniere om die lees van die boek te bevorder.

Die lewe en leefwyse van die outeur – van Maria Louise Ramé na Marie Louise de la Ramée

Maria Louise Ramé (1839-1908) is van oorsprong van die landelike Engelse stadjie, Bury St Edmunds, maar toe sy 19 was, verhuis sy en haar moeder na Londen. Haar vader, ’n wispelturige Fransman, was nooit werklik op die toneel nie. Maria Louise Ramé skryf egter onder die deftige skuilnaam van Marie Louise de la Ramée, wat sy aangeneem het pas na haar eerste suksesse met haar skryfwerk en sedertdien ook deurlopend onder dié naam geskryf het. Marie Louise de la Ramée is dan die outeur van die oorspronklike, A Dog of Flanders, met Nello en Patrasche die hooffigure in die hartroerende maar tog tragiese verhaal wat binne Vlaamse konteks afspeel.
Die som van haar uiteindelike literêre nalateskap as outeur was egter, vir haar tyd, veel groter as hierdie enkele verhaaltjie: dit tel meer as 40 romans, novelles, kortverhale, kinderboeke en essays. Daarmee het sy oor baie jare as produktiewe outeur ’n aansienlike inkomste verdien, dermate dat sy tereg as ’n welgestelde, eintlik ryk persoon, bestempel sou kon word en ook as sodanig in sosiale kringe alom bekend geword het. Terselfdertyd maak haar skryfwerk ook van haar ’n gewilde ikoon, selfs gevierde (heuse) kultusfiguur wat die verbeelding van mense aangryp en haar by haar lesers geliefd maak. As welgesteld kon sy dit sekerlik bekostig om ’n luukse lewe van genieting te lei, en waarin sy neersien op die lewenswyses van die arm klasse (onder andere ook in landelike Vlaandere). Saam met haar moeder, kon hulle na die groot kultuurstede van Europa reis, en daar tyd in genotvolle luuksheid deurbring.
Haar geluk en voorspoed was egter nie ewigdurend nie. Trouens, in 1893 ontval haar moeder haar. Armoede – die tema waaroor sy so hartstogtelik geskryf het – word mettertyd ook háár deel. Die eens gewilde en befaamde Marie Louise de la Ramée sterf in 1908 op 70-jarige ouderdom in ellende aan longontsteking: ’n bejammerenswaardige persoon, vereensaamd en vervolg deur skuldeisers – in skerpe kontras met haar eertydse luukse, uitspattige leefwyse. Sy sterf in die Italiaanse dorpie, Viareggio naby Florence – die stad waarin sy eerdien van die gelukkigste tye in haar lewe deurgebring het.

Herman peins soos volg oor die impak van haar werk na haar dood: “Het is vreemd hoe een dubbeltje rollen kan. Het overlijden van Ouida in de bitterste omstandigheden, na een sprankelend, opwindend, extravagant leven, had de krantenkoppen gehaald in Italië, het VK en de VS. De belangstelling voor haar literair œuvre had onmiddellijk na haar dood in 1908 een enorme boost gekregen.” Oor die detail hiervan, en ook die waarom daarvan, lees ons meer in ’n latere paragraaf.

’n Opsigtelike oorgang in die blik van die outeur op die werklikheid waaroor sy skryf

In talle van haar eerste werke het die outeur, Marie Louise de la Ramée, duidelik ’n afkeer van of renons in die lewensomstandighede van die laer stand en hul leefwyse. Dít te midde, ongeag en moontlik ook vanweë haar eie suksesvolle, ryk en weelderige omstandighede en haar verhewe, luukse lewenstyl wat van haar (die outeur) ’n kommerlose karakter en ietwat flambojante, selfs uitspattige lewensgenieter maak. Aanvanklik baseer sy dan ook haar verhale hoofsaaklik en pertinent hierop – die omstandighede en leefwyse van haar eie hoër stand en klas.
In haar latere werke – soos in die geval van A dog in Flanders, en by wyse van die Vlaamse hoofkarakters, Nello en Patrasche – gebruik sy juis hierdie kontraste tussen sosiale klasse, stande en die lewensomstandighede van mense wat alom in samelewings heers, om emosiebelaaide, tragiese temas daarrondom te weef, en melodramatiese fiksie op hierdie werklikhede te baseer en temas vir haar boeke daaruit te skep, soos in die geval van die Nello en Patrasche verhaal. Sy doen dit natuurlik met groot sukses en luide akklamasie by die groeiende leserspubliek. Sy behou dus haar eie ryk en luukse lewenswyse te midde van haar suksesse, maar staan, in kontras, steeds afsydig en afkerig teenoor die bittere armoede, die honger, die kinderarbeid, die barre, koue winters in die stede, en miskien nog meer voelbaar op die troostelose platteland. Die rykmenslewe wat so sentraal in haar eerste romans gestaan het, maak dan plek vir melodramatiese verhale oor die wantoestande en die daaglikse sleur van mense van die arm stand wat swig voor die ellende meegebring deur meganisasie van die arbeid.

Transmutasie van die verhaal: veelvuldige aanbiedingsvorme maak dit beide grensloos en tydloos

In sy waardering som Meulemans, soos reeds vermeld, die neerslag van Marie Louise de la Ramée se uitsonderlike literêre werk en produksie, asook haar nalatenskap in wêreldliteratuur, in telbare uitdrukkingsvorme en in meetbare formate soos volg op: dit omvat meer as 40 romans, novelles, kortverhale, kinderboeke en essays. Inderdaad ’n merkwaardige prestasie vir haar tyd. Sover dit A dog in Flanders en Nello en Patrasche spesifiek betref: eers ná die dood van die outeur volg die nog omvangryker impak van hierdie werk van haar, met ’n soort wyerkringende ewigheidswaarde wat dit aanneem namate die verhaal in meerdere tale vertaal word, in oplaag na oplaag miljoene der miljoene boeke gedruk word, in aangepaste vorme na alle wêrelddele versprei, en deur nóg talryker lesers gelees word. Anders gestel, deur Meulemans se verrykende argumentasie en feitelike toeligting kry Marie Louise de la Ramée se A dog in Flanders én die verhaal van Nello en Patrasche (in die Nederlands) ongekende momentum en word die verhaal inderwaarheid sowel grensloos as tydloos.

Aan die een kant is die boodskap in die verhaal grensloos: Deur vertalings in een taal na die ander versprei die verhaaltjie: die grense tussen lande en kulture word oorgesteek by wyse van miljoene der miljoene kopieë van die verhaal wat reeds wêreldwyd in gedrukte vorm verskyn het en steeds verskyn, asook by wyse van vertalings waardeur die verhaal reeds in talle tale in boekvorm omgesit is en waardeur die omvang van leserskringe sodoende mateloos verbreed en divers het, onderwyl elke land en elke taal ’n eie inhoud aan die verhaaltjie gee om by sy eie kultuurgoedere en -konteks aan te pas en in te pas. Daarby kom nog die menigvuldige verfilmings waarin die verhaal reeds internasionaal verbeeld is – eers klankloos, met klank, in kleur, in ’n veelvoud van tale wêreldwyd, asook deur nuwe mediums waardeur die verhaal in steeds moderner en tegnies meer gevorderde omvormings en aanbiedings getransmuteer word. Alles gee andersoortige toegang vir andersoortige belangstellendes, telkens ín en vír ’n groterwordende magdom van kontekste aangepas en beskikbaar vir nóg meer lesers en steeds meer kykers en hoorders. Die verhaal en die kernboodskap wat dit dra, word dus meer en meer grensloos.

Aan die ander kant, en terselfdertyd, word die verhaal ook al meer tydloos namate die aanbieding daarvan met verloop van tyd verander en daardeur met die veranderende tye tred hou. Inderdaad merkwaardig hoe en tot watter wêrelduithoeke hierdie besondere verhaal in sy oorspronklike eenvoud reik. Wonderbaarlik, deur al hierdie verwerkings en omvormings, bly die kernboodskap en kernwaarde van die verhaaltjie desondanks dieselfde, vlekloos en ongeskonde in sy eenvoud.

Deur sy toegewyde naspeurwerk en suiwer argumentasie lewer Meulemans dan bykomende bewyse, weliswaar voldoende antwoorde, waarom boeke – in besonder ook hierdie verhaaltjie oor Nello en Patrasche – “overeind blijven”, waarom “blijven ze ons boeien” en waarom “doorstaan ze de tand des tijds” en sodoende ook “sal voortleven in het hart van velen.”

In afsluiting

Ek moet – by wyse van beklemtoning – herhaal van dit wat ek reeds aan die begin na verwys het: Soos die meeste van sy ander resensies word hierdie waardering deur Meulemans van die Nederlands-vertaalde werk, Nello en Patrasche, ook gekenmerk deur die moeite wat hy doen om met sy resensie meer waarde vir die leser toe te voeg: hy besoek vir ons die plek van oorsprong van die verhaaltjie, die dorpie Hoboken, eertyds ’n gemeente op sy eie op die rand van die ou Antwerpen. Deur sy kopfoto van die beeldjie van Nello daar ter plaatse vergestalt hy vir ons die verhaaltjie op fisieke wyse. Hy snuffel verder deur in gesprek te gaan met Daisy Daems en nog ’n foto te trek van haar in haar doopsuiker- en snoepwinkel vlak teenoor die beeldjie van Nello in Hoboken. Sy wys ook trots haar eie bewerking (met Annick De Wit) van die novelle waarmee sy die verhaaltjie lewend hou.

Hierna bring Herman ons by in die bekende Lieve-Vroue-Katedraal van Antwerpen met sy twee torings waarvan die een nooit tot ewe hoogte opgebou is nie (verskeie verklarings word daarvoor aangevoer: hetsy fondse wat opgedroog het, hetsy dat die gewig van die gebou so naby die Maas te veel sou word). Hy begelei ons die kerk binne, wys vir ons sy terplaatse foto’s van daardie meesterskilderye van die gevierde grootseun van Antwerpen en Vlaandere, Peter Paul Ruebens (hy wat self fier en deftig gekleed op sy hoë voetstuk op die Groenplein langs die massiewe katedraal staan). Daardie gebeure en lewensgroot figure by die kruisiging van Christus op doek wat Nello só graag, so baie graag, te siene wou kry, te meer omdat dit sy lewensdroom was om eendag ook ’n gekende skilder te wees. Maar helaas, daarvoor het hy nie die nodige middele gehad nie. En daar, langs daardie meesterwerke wat die gebeure by die kruisiging op doek vasvang, sterf Nello van koue en ontbering – só naby, maar tog só ver van die waarword van sy hartsbegeerte en sy lewensdroom.

Ten slotte toon Herman vir ons ’n terplaatse foto deur hom van die 1916-toevoegsel tot die beeldeskatte van Antwerpen, vlakby die Onze-Lieve-Vrouwekathedraal op die Handschoenmarkt: die hartroerende beeld (deur beeldhouwer, Batist Vermeulen) in wit marmer (sneeuwit) van die slapende Nello en sy getroue hond, Patrasche (hul lywe vir warmte vas teen mekaar toegewoel, halflyf bedek met ’n kombers van die kenmerkende keistene van die strate van die oustad). Hier waar die twee boesemvriendjies uiteindelik hul rus gevind het. ’n Inisiatief van die stadsvaders om hierdie eenvoudige verhaaltjie en sy twee dappere hoofrolspelertjies (Nello en Patrasche) vandag steeds in ere te roep, vir toeriste meer toeganklik te maak, Antwerpen duideliker op de internasionale toerismekaart te plaas, en teselfdertyd sy kulturele erfgoed op dié wyse te bewaar.

Deur dit alles, én deur Meulemans se nougesette en onselfsugtige moeite as rapporteur, word die waarde van hierdie kinderlik-eenvoudige verhaaltjie met sy gewigtige kernboodskappie – die versinnebeelding van goedheid en die goeie – nogmaals beklemtoon, vernuwe en terselfdertyd nog méér as ’n tydlose en grenslose sprokie verewig – en wel op die plek waar dit soveel jare gelede sy ontstaan gehad het.

Enkele slotgedagtes

Na die indrukwekkende relaas en kontekstualisering van Meulemans betreffende die eenvoudige verhaaltjie van Nello en Patrasche moet ’n mens jouself afvra waarom het, kon en sou hierdie trefferverhaaltjie in ander lande nie (en ook nooit) enigsins die vergelykbare hoë hoogtes bereik wat Nello en Patrasche (teksgetrou deur Tom Naegels in die Nederlands vertaal) in Nederlands-talige lande, of dan sy oorspronklike Engelse versie, The dog of Flanders, in die Verenigde Koninkryk en die VSA gehaal het nie? Wel sou ’n mens seker antwoorde kon vind in verskille in lesersgetalle en die leeskultuur in lande. Ook in die gepaardgaande aptyt van uitgewers en boekhuise en hul geneëntheid om beleggingsrisiko’s te waag. Maar dan moet ’n mens tog en veral ook die groot verskille in die konteks, kultuur, geskooldheidvlakke en lewenswyses van die bevolkings in hierdie bevoorregte wêrelddele in ag neem, vergeleke met dié van Suid-Afrika en ander minderontwikkelde lande. Daar was jare gelede – in my kinders se kleintyd – wel ’n poging in Suid-Afrika met die animasiefilm, Niklaas die seun van Vlaandere, maar moontlik juis vanweë bogemelde oorwegings was die sukses daarvan skynbaar nie grondbrekend, selfs meldenswaardig nie. ’n Mens sou seker kon aanvaar dat dit waarskynlik uit voeling met die Vlaamse en Europese omgewing en kultuur was.

Dankie, Herman Meulemans, my Antwerpse vriend oor baie dekades, vir jou insiggewende en beeldryke resensie, en meer dankies vir die veelfasettige manier waarop jy hierdie beskeie, maar tog aldeur treffende verhaaltjie met sy eenvoudige boodskappie uit jou eie geweste vir ons in nuutgegote vorm lewend hou en verder verewig. Dankie ook vir nog ’n staptog – helaas, hierdie keer slegs in die verbeelding – langs daardie bekende strate en stegies en oor die beeldryke stads- en markpleine van jou stad waardeur ons so dikwels saam gestap het. Ek waardeer alles van daardie verloë tye en mymer dikwels met veel heimweë daaroor. [Daarom waardeer ek soveel temeer nog jou laaste, heel persoonlike, invoegsel in jou resensie wat jy oor ons – my en my vrou – te sê het.]

Dingie van Rensburg, Johannesburg
Oor die Kerstyd van 2019

The post <em>Nello en Patrasche</em>: my gedagtes rondom Herman Meulemans se artikel appeared first on LitNet.

Raaiselster: ’n onderhoud met Troula Goosen

$
0
0

Foto van Troula Goosen: verskaf

Raaiselster
Troula Goosen
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798178976

Naomi Meyer vrae vir Troula Goosen oor Troula se boek Raaiselster, ’n jeugroman wat in 2019 verskyn het.

Troula, baie geluk met Raaiselster – ’n historiese-gruwel-riller-jeugroman, soos wat die agterblad van die boek dit beskryf. Of hoe sou jy die boek se genre in jou eie woorde verduidelik?  

Met Raaiselster daag ek die jong leser (10–12) uit om op ’n tydsreis te gaan! Wanneer hulle die boek oopmaak, is hulle skielik in die Kaap van 120 jaar gelede – ’n vreemde wêreld, half-bekend en tog ook opwindend anders. Die leser beleef naelbytavonture, ontmoet fantastiese karakters en raak ’n bietjie verlief ook. Die belangrikste is egter ’n tergende geheim, ’n raaisel wat hulle móét oplos om te oorleef ...

Alhoewel jou beskrywing in die kol is, sal ek Raaiselster sommer as ’n raaiselstorie beskryf. Om die waarheid te sê, dit is die tweede boek in ’n reeks waarvan Raaiselklip (2018) die eerste was. Raaiselsee, die derde boek, verskyn in 2020. Al drie stories speel in die negentiende eeu in die Kaap en omgewing af.

As kind was ek mal oor oudtydse stories en aangesien daar tans nie veel historiese jeugromans in Afrikaans beskikbaar is nie, het ek besluit om my hand daaraan te waag.

Die tydperk en omgewing waarteen jy jou boek laat afspeel, is interessant. Dis die tyd van die Diamantstormloop, mense begin in die res van die land praat van elektrisiteit (dis amper so ‘n groot gesprek soos wat elektrisiteit op die oomblik in die land is). Daar is ’n seun wat sy ouers verloor het, en ook ’n oerding wat hom bang maak. Wat was vir jou die inspirasie vir die storie? 

Gewoonlik besluit ek heel eerste wáár ’n storie gaan afspeel. Daarna skep ek die karakters en besluit dan wat met hulle gaan gebeur. Met Raaiselster was my inspirasie die tolhuis in Michellspas. Die huisie lê my na aan die hart omdat my pa, JP Venter, in 1971 die hoof van Laerskool Gericke, hom daartoe beywer het om dit tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar te kry. Vandag is dit die enigste van Ceres se ou geboue wat bewaar gebly het.

Die tolhuis is opgerig kort nadat Michellspas in 1848 deur Andrew Geddes Bain en 240 gevangenis voltooi is. Na die ontdekking van diamante was dit op die hoofroete van die Kaap, deur Ceres en tot in Kimberley. Vinnige poskoetse met hul vars perde en swaargelaaide togwaens het dus hier deur die tol gegaan op pad verby Ceres en deur die gevaarlike Tankwa-Karoo wat met wit doodsbeendere besaai lê.

Watter heerlike, avontuurlike tyd vir ’n storie om af te speel! Ek het besluit die jaar 1880 is nommerpas en was verras om te lees dat daar juis in daardie jaar ’n groot diamantroof by die poskantoor in die Kaap plaasgevind het. Al dié lekker brokkies geskiedenis het ’n plek in die storie gekry.

Die hoofkarakter is die veertienjarige Leopold, skatryk, aantreklik en gewild. Toe sterf sy ma aan tering en kom hy agter dat daar niks oor is van die geld waarop hulle so rojaal geleef het nie. Oom Barend, ’n boggelrugtogryer met sy hond, Asem, bied aan dat hy saam met hom na die Diamantvelde reis om sy fortuin te maak. Leopold aanvaar die aanbod en pak die gevaarlike tog aan. Sy enigste geselskap op pad is die bitsige touleiertjie, Sarel. Maar is Sarel regtig wie hy voorgee om te wees?

In Michellspas gaan hulle deur die tol en maak hy kennis met die geheimsinnige tollenaar, oom Arius. Op Ceres gekom, laat die beeldskone Emily sy hart vinniger klop, al kan hy nie help om te wonder of sy nie dalk ’n spook is nie.

Maar dan begin alles verkeerd loop ...

Ek het ’n hele paar van Raaiselster se karakters “ontmoet” toe ek by die Tolhus Bistro aan roosterkoek gesmul het. Cathy, een van die baksters, het my vertel van die vreemde verskynsels wat daar rondhang. Van die man in die swart jas wat soms inkom en voor die vuurherd gaan staan. Van die blonde vrou/meisie met haar wit hondjie wat uit die bloute verskyn en verdwyn. En van die skrikwekkende gesig wat ’n personeellid eendag op ’n klip agter die huis gesien het, iets tussen ’n mens en ’n bobbejaan.

Wat is vir jou lekker daaraan om boeke vir jong lesers te skryf – en wat is uitdagend?

Alhoewel baie mense kinder-en jeugboeke as minderwaardig teenoor volwasse lektuur beskou, sien ek dit as is ongelooflik belangrik. Ek sal die boeke wat ek as kind gelees het, net nooit vergeet nie. Dit speel só ’n belangrike rol in die vorming van jong lewens en kweek die lesers van die toekoms. Maar dis veral kinders se wonderlike verbeelding wat my fassineer. In ’n jeugboek is alles moontlik!

Wat vir my uitdagend is, is die feit dat die wêreld waarin die kinders van vandag leef hemelsbreed verskil van die een waarin ek grootgeword het.

Jou boek handel oor die Diamantstormloop, maar daar is ook ’n stuk geskiedenis waaroor jy skryf waarvan meer mense behoort te lees. Ek praat van die sterrereën en van ontdekkings in die Bokkeveld. Hoe het jy jou navorsing hieromtrent gedoen? En wil jy hierop uitbrei, sonder om te veel van die storie te verklap?

Die meeste van my storieidees het ek tydens ’n besoek aan die Togryersmuseum op Ceres gekry. Daar het ek gesien hoe oom Barend se bokwa en juffrou Estrelita se lykswa lyk. Daar het ek gelees van die sterrereën en van die rooi hand van Sara se voormense wat so ’n belangrike rol in die ontrafeling van die geheim speel. Verder het my man ’n heerlike versameling ou boeke en is hy altyd behulpsaam om relevante inligting te soek.

Vir skole wat Raaiselster wil gebruik, is daar talle fassinerende feite wat nagevors kan word. (In 2020 gaan daar ook ’n gratis onderwysgids beskikbaar gestel word.) Sommige feite is in die kol – soos byvoorbeeld die diamantroof wat ek beskryf nes dit gebeur het, ander bewimpel ek effens om die storie te pas. Ek impliseer byvoorbeeld dat die meteoriet in die nag geval het deur van ’n sterrereën te praat, maar volgens wat ek kon navors, het dit in die dag gebeur.

Raaiselster is ’n boek wat vir my hadel oor hoe die mense van hierdie land dalk tog ’n geskiedenis en ’n verlede deel. Hoe het die skeppingsproses daarvan vir jou gewerk? Baie geluk daarmee, en met die manier hoe al die drade geknoop het.

Deur my Raaiselstories wil ek die kinders van ons land inspireer om Suid-Afrika lief te hê, om te voel hulle behóórt – aan ons land én aan mekaar. Ons deel ’n geskiedenis en ’n toekoms. In ons geskiedenis was baie trane, maar saam kan ons ’n nuwe, positiewe toekoms bou.

Ek doen wel vooraf beplanning. Ek weet byvoorbeeld waar die storie gaan afspeel, wie die karakters gaan wees en breedweg hoe die storie gaan verloop - die navorsing wat ek doen, speel ook ’n rol hierin – maar hierdie beplanning beslaan gewoonlik nie meer as ’n bladsy nie. Wanneer ek begin skryf, is daar ook organiese ontwikkeling.

Dit het my so ses maande geneem om Raaiselster te skryf.

The post <em>Raaiselster</em>: ’n onderhoud met Troula Goosen appeared first on LitNet.

Afrikaans is ons grote kans: die invoering van Afrikaans op die Universiteit van Zagreb

$
0
0

Die volgende artikel het LitNet via Wannie Carstens bereik. Wannie Carstens skryf hieromtrent:

Hiermee ’n interessante teks uit Zagreb in Kroasië. Toni Bandov is daar aan die universiteit ’n entoesiastiese beyweraar van Afrikaans en hy skryf in sy eie Afrikaans. Die uniekheid vd teks lê in die feit dat hy geen formele opleiding in Afrikaans gekry het nie, maar homself geleer het.

Die LitNet-redaksie het eerstens die toestemming van Toni Bandov gevra om die artikel te publiseer en plaas onderstaande artikel soos wat ons dit ontvang het, sonder enige taalkundige versorging.

Wannie Carstens en Toni Bandov in Belgrado (2019)


 

Die departement Nederlands van die Universiteit van Zagreb in Kroasië is behoorlik jong. Ons het hierdie jaar net die tiende jubileum gevier met die organiseer van die Comenius Zomercursus vir 40 studente Nederlands uit die Comenius-regio, wat min of meer Sentraal-Europa inhou.

Ons is ook ’n klein departementjie met slegs vier medewerkers en ons het die sogenaamde "sikliese" inskrywings, wat beteken dat ons om die drie jaar 20 nuwe studente Nederlands inskryf.

Maar gelukkig is ons baie gemotiveer en die fakulteit se bestuur steun ons. Hoe dit werk kan beste gesien word in die laaste ontwikkeling op ons departement. ’n Paar jaar terug het die idee gekom dat ons eksperimenteel met ’n kollege Afrikaans begin, onder my leiding. Ek het naamlik nog tydens my studietyd ’n interesse ontwikkel vir Afrikaans en dit is deur die tyd my stokperdjie gewees. Gelukkig het die bestuur van die departement gehoor gehad en my die kans gegee dat ek daarmee begin. Die bedoeling van die kollege was eenvoudig. Ek sou aan die vyfdejaarstudente Nederlands ’n oorsig gee oor die geskiedenis van Afrikaans, sy geskiedenis, sy bande en verskille met Nederlands en as laas nog ’n bietjie ’n oorsig gee van die literatuur in Afrikaans. Die kwart van die lesse het ons taalverwerwing gedoen, in die sin dat hulle die taal leer. Ons het die handboek Colloquial Afrikaans van Bruce Donaldson gebruik en baie veel geluister om die lees van tekste te vergemaklik. Vir die res moes hulle komparatief self tot konklusies kom, net soos wat die spelreëls van Afrikaans is, hoe die grammatika verskil van die van Nederlands ens.

Dan kom ’n breekpunt. In die somer van 2018 tydens die IVN-kollokwium in Leuven (België) het ek voor die eers kennis gemaak met dosente en deskundiges uit Suid-Afrika. Ek het lang gesels met prof Wannie Carstens, die my veel het gehelp by die begryp van bepaalde stukke van uit die ontwikkeling van Afrikaans. Uit die onderhoude het die idee gekom dat prof Carstens ’n besoek aan ons bring tydens sy Europese toernee in die voorjaar van 2019. Ek het onmiddellik  met die bestuur gepraat en sy het die groen lig gegee. By die Nederlandse Taalunie het ons befondsing gevra en hulle het gehoor gehad die projek gesteun. Ons het in kontak gekom met kollegas uit Ljubljana (Slovenië) en Belgrado (Servië) wat ook deel wou wees van die lesingstoer. Dit was vir die eers dat ons ’n gastodsent uit Suid-Afrika het gehad die ons ook in Afrikaans oor Afrikaans het vertel.

Prof Carstens het ’n belangrike invloed agtergelaat. Die bestuur het nou duidelik gesien dat daar dadelik interesse vir Afrikaans bestaan en dat ons hier, as ’n klein departement, ’n kans het met die kombinasie van Nederlands en Afrikaans.

Daarom het ons de volgende fase ingegaan. Hierdie najaar het die hervorming van die hele Fakulteit se programme begin. Dit het ons gebruik om ons band met Afrikaans te versterk en offisieel te maak. Na lang onderhoude het ons tot die volgende gekom. Ons studente Nederlands sal op die vyfde jaar van hul nagraadse studie verplig Afrikaans moet volg in twee semesters. In die eerste semester gaan hulle die geskiedenis van Afrikaans leer saam met die kultuur en literatuur. In die tweede semester lig die nadruk meer op taal, wat beteken dat daar kontrastief gaan word gewerk met Nederlands. Soos gesien kan word, beteken dit ’n grote verandering ten opsigte van ander departemente Nederlands in die regio.

Die vraag is natuurlik: Waarom het ons die besluit geneem? Wat beteken Afrikaans vir die Neerlandistiek en die studente Nederlands vandag?

Ons dink naamlik dat Nederlands en Afrikaans ’n organiese geheel vorm, wat vir studente Nederlands ’n nuwe horison kan oop met die bedoeling dat die kulturele produksie in Afrikaans gelees en ondersoek word. Daarom sien ons Afrikaans nie as iets eksoties nie, maar as ’n natuurlike en vanselfsprekende gebied van interesse vir Neerlandiste. Dit is die rede waarom ons ook vir meer direkte kontakte pleit en vir meer aanwesigheid van Afrikaans opteer. Die doel is dat ons studente maklik oorskakel na Afrikaans as hulle tekste lees en dat hulle ’n begrip het van Suid-Afrika, die konteks begryp en die posisie van Afrikaans daarin.

Een van die oorlewingskanse van die internasionale neerlandistiek berus seker in die integrasie van Afrikaans binne die kurrikulum.

As ons noukeurig die sosio-ekonomiese ontwikkelinge in Europa bekyk, sien ons dan dat daar ’n stadige maar aanhoudende ontmanteling van die tradisionele geestes-fakulteite bestaan, die tale-studies word dikwels net gesien as taal-kursusse, wat die studente so spoedig moontlik aan die arbeidsmark wil stuur, sonder die kulturele kennis van ’n bepaalde taalgebied. Ons in Kroasië voel dat nog nie, maar ons kan reeds die trends sien en volg, en ons sien ’n duidelike afname in die inskrywings op die hele Fakulteit. Ons moet daarom berei wees wanneer die moment kom en die bestuur ons vra: Waarom is julle belangrik? Wat lewer julle op?

Die omslag van die vertaling van Die sneeuslaper in Kroaties

In Desember 2019 kom ook die vertaling van die boek Die sneeuslaper van Marlene van Niekerk in Kroaties uit. Dit is tegelyk die eerste vertaling direk uit Afrikaans na Kroaties. Ons is momenteel in gesprek met Marlene van Niekerk en ons hoop dat sy ons in 2020 gaan besoek tydens die promosie van haar boek. En dit is ook een van die moontlikhede van ons studente, dat hulle deur interesse vir Afrikaans ook uit Afrikaans begin te vertaal.

The post Afrikaans is ons grote kans: die invoering van Afrikaans op die Universiteit van Zagreb appeared first on LitNet.

Gestaag ontvouwen van een blad

$
0
0

Poëticale lezersprints van Klara du Plessis

Het bibliofiele chapbook Unfurl van de Zuid-Afrikaans-Canadese auteur Klara du Plessis bevat vier poëzie-essays. Na het tweetalige (Afrikaans-Engels) poëziedebuut Ekke (2018; zie mijn recensie op LitNet: https://www.litnet.co.za/multiple-identity-meertaligheid-van-het-ik/), uitgegeven door Palimpsest Press in Canada, bundelt Du Plessis bespiegelingen over de lyriek van Erín Moure, Dionne Brand, Lisa Robertson en Anne Carson.

De teksten zijn eerder verschenen in periodieken en als blog. De samenspraak van deze korte beschouwingen veronderstelt niet zozeer een thematische en poëticale of een op vormentaal gerichte relatie in de respectievelijke oeuvres.

De specifieke tekstarchitectuur is veeleer toe te schrijven aan een particuliere interpretatieve benadering, aan de wijze waarop de lezeres teksten ontvouwt (“unfurl”), hoe zij aan tekstexegese doet.

..........

“Naast deze markante poëticale component besteedt Klara du Plessis revelerende passages aan taal en sensualiteit, de ‘inherent vibrancy that is humanity’.”

..........

In de essays ontmoeten wij een empathisch lezer, tegelijk een auteur die in barthesiaanse zin terugschrijft en auto-poëticale statements maakt. Roland Barthes tekende op: “On ne peut faire, à proprement parler, aucune distinction entre «lire» et «écrire» puisque chaque lecteur est un écrivain qui, pour comprendre le texte, doit le réécrire dans sa tête, lui fournir un sens. Il n’y a donc pas de lecteur puisque chacun devient, en lisant, l’auteur d’une interprétation unique et personnelle”.

In het woord vooraf, waaruit ik citeer, benadrukt zij de aandachtspunten: “language, ars poetica, self-referential dialogue of grammar and poetics”. Vooral de vibratie van het tekstlichaam, een “female embodiment of intelligence through sensuality, radical integration into geographies of mind and space”, bepaalt in hoge mate het lees- en schrijfproces. De lectuur van het lyrisch werk is de aanleiding voor het terugschrijven. Kort samengevat in de woorden van de essayist luidt het opzet als volgt: “an individual’s reading pratice become writing”.

deeply visceral and cognitive level

In de hedendaagse Engelstalige lyriek van Canada worden Moure, Brand, Robertson en Carson gerekend tot een oudere schrijversgeneratie, vier auteurs met wie Klara du Plessis zich publiekelijk associeert. Die associatieve drift impliceert geenszins invloed of een attestering van literair moederschap: “these poets and their thinking have moved me on deeply visceral and cognitive level. While this collection of essays doesn’t intend to position itself in a conversation of influence, lineage, or literary parenthood, it is grateful for a poetic climate of curiosity, resilience, and endless potential”.

the word’s semantic growth

Unfurl, for me, is the shape of a leaf managing itself into growth. It’s the gesture of a frond uncurling itself, standing upright, broadshouldered and confident”. Met deze openingszinnen wordt het werkwoord “unfurl” van een betekenis voorzien en de bundel van een programmatisch opzet. Van meet af aan construeert de auteur een dwingend verband tussen de natuur (het openvouwend groeiproces van knop naar blad) en de bladzijde in een boek: “It’s a leaf from a book, a page inscribing poetry that is organic and energetic and lends itself to my mind”. Hiermee etaleert Du Plessis een gedachte die als rode draad door alle essays loopt: het gedicht is eindeloos. In het proces van betekenisgeving (“the word’s semantic growth”) groeit de tekst grenzeloos in een continue interactie met de lezer. De tekst is niet statisch: in de verbeeldingswereld, buiten de controle van een scheppende autoriteit, groeit en bloeit hij mateloos en veelzeggend. De lezer wordt steevast uitgenodigd de fragmenten en beelden tijdelijk, gestaag in het leesproces, tot een verhaal te polijsten. Ook al zijn de “semantische snippers” (Hans Faverey) niet te consolideren in of te reduceren tot een samenhangende narratieve structuur. In de gebundelde essays is het semantische veld van “leven” (of de groei van het gedicht) dominant.

In unfurl is een auteur aan het woord die semantische ambiguïteit tot artistiek adagium heeft genomen. In de beschouwing over Erín Moures poëzie leest zij instemmend met het lyrisch subject dat de meest voor de hand liggende betekenis van het woord, de lexicale betekenis, doorgaans de minst relevante is. Zij leest in de diepte, op zoek naar het onvindbare in de taal. In “in hormonal forest”, het essay over Lisa Robertsons 3 Summers waarin hormonen en bomen deel uitmaken van een bijzondere beeldengrammatica (“The poem is a hormone”, LR), spreekt Du Plessis over Daphnes metamorfose in een boom: “it can be argued that utterance as self-activation inspires metamorphosis – metamorphosis into an organism, a tree that, by definition, never stops growing” (mijn onderstreping).

..........

“Met unfurl geeft zij de lezer en zichzelf alvast inkijk in de poëticale mindset.”

..........

In de tekst over Dionne Brands The Blue Clerk. Ars Poetica is sprake van “the endless potentiality of regeneration and growth”, over Carsons zelf-ontwikkelend oeuvre noteert zij: “[t]exts slip and merge, swell, growing tendrils that navigate thematically, stylistically into a distinct set of covers”. Het leesproces is kortom een oneindig experiment, een onstuitbare groeicurve, in het proces van betekenistoekenning aan een tekst.

inherent vibrancy that is humanity

Naast deze markante poëticale component – volgens Jacques Derrida de aandacht voor dissémination of uitwaaiering van tekens in talige betekenissen – besteedt Klara du Plessis revelerende passages aan taal en sensualiteit, de “inherent vibrancy that is humanity”. Zij spreekt dan weer over “multilingualism” (Moure), over taal die bij voorkeur tactiel wordt benaderd. Het is overigens in dit essay dat we het linguïstische concept van de tweetalige bundel Ekke geformuleerd vinden, de enige poëziebundel mij bekend waarin Afrikaans en Engels in een afwisselend speelse en intellectuele relatie van translanguaging staan: “One strategy [tegenover het monolinguïsme] is to consistently switch codes between French and English, fluctuating back and forth from line to line. This approach shapes a structural sense of multilingualism, while keeping the reader alert as the tongue slips tardily between different expectations of pronunciation”. Zeer van toepassing op passages in Ekke. En verder: “Moure embraces the Babylonian in life as in literature”. Voor een betekenis-verrijkende combinatie van Engels en Afrikaans, gebundeld in Ekke, verwijs ik voor de belangstellende naar Asymptote, een internationaal online publicatie met aandacht voor vertaling (luister ook naar de voordracht): https://www.asymptotejournal.com/special-feature/klara-du-plessis-three-poems/

texts floating

Wat deze auteur fascineert in het werk van de canonieke Canadese schrijfsters is de wijze waarop zij “a cohesive, poetic feminism” articuleren. Zij doen dat vormelijk op een atypische want niet-lineaire en incoherente wijze. De teksten fluctueren, zoals in het geval van Anne Carsons lyriek. Ze zijn fluïde, laten zich niet gijzelen door een statische positie op het gedrukte blad. In de bijdrage over Robertson spreekt Du Plessis over “the uncontainability of hormones or the nondefinitive, fluid context of hormones away from their negative connotations”. Inderdaad, in dat feministisch referentiekader is het gedicht een hormoon, en dus een expressie van sensualiteit en vibratie. Precies zoals het werk van de auteurs dat zij ontvouwt en in het zingevingsproces oplaadt met betekenissen, streeft Klara du Plessis naar niet-statische lyriek. Ik denk daarbij aan een negatie van Gottfried Benns bekende bundel Statische Gedichte. Zoals in Carsons Float: “a collection of 22 separate chapbooks – essays, long poems, dialogues, translations, lists – to be read in no particular order, guarded in a transparent box, texts floating, so to speak, in their independent status as writing simultaneously together and separate”. Niet enkel heeft deze Zuid-Afrikaans-Canadese dichter de kiem van de bundel Ekke ontleend aan zelf geschreven marginalia in haar boekexemplaar van Carsons Red Doc> (“I find handwriting in the margins marking the sprouts of a poem that will soon be released as my debut collection. I am grateful for that periphery, which let me reach out to my book to be”), zij onderschrijft “a nonlinear timeline of writing” en gelooft, zoals uit een vooralsnog ongepubliceerde dichtbundel blijkt, “[b]uilding a whole from an infinity of smaller, fragmenting wholes”. Of in de zegging van de Vlaamse “postmoderne” dichter Dirk van Bastelaere: “allemaal delen van een geheel dat niet bestaat”.

Het is uitkijken naar het Afrikaanse poëziedebuut van Klara du Plessis. Met unfurl geeft zij de lezer en zichzelf alvast inkijk in de poëticale mindset.

Klara du Plessis, unfurl. Four Essays. Devil’s Whim Occasional Chapbook Series (No. 41), Gaspereau Press Limited, Nova Scotia, Canada, 30 p. ISBN 9781554471997.

The post Gestaag ontvouwen van een blad appeared first on LitNet.

"Halala Suid-Afrika": ’n onderhoud met Michael le Cordeur

$
0
0

Menán van Heerden gesels met Michael le Cordeur oor sy nuutste boek, Halala Suid-Afrika (Naledi, 2019). 

Michael le Cordeur (Foto: Izak de Vries)

 Michael, Halala Suid-Afrika is ’n versameling van 60 van jou artikels wat die afgelope 25 jaar in die media gepubliseer is. Is daar een of meer artikels wat jou bybly?

Beslis die twee oor werkloosheid. Dit is ongetwyfeld ons land se grootste probleem, en ek het dit al voorheen gesê. “Meneer ek soek werk” is die noodkreet van ’n man van Kayamandi wat graag vir sy gesin wil sorg, maar nie in staat is nie, omdat hy werkloos is. Ek het hom dopgehou en die hoop gesien elke keer as hy hoop iemand laai hom op en bied hom werk aan vir ’n dag. En dan sien hoe sy gesig verander in wanhoop.

Daarteenoor vertel “Krismisboks vir Platkep” die verhaal van ’n man wat sy vaardighede as sweiser gebruik om self werk te skep en so vir sy gesin te sorg. Hy was ook werkloos, maar soos hy self sê, hy wil nie handouts hê nie, hy wil werk. Dit is die oplossing vir Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem. ’n Klein bietjie opleiding tesame met ’n bietjie inisiatief is die verskil tussen ’n bedelaar en ’n broodwinner.

Jy sê in jou boek: “Taal is die kern van SA se onderwyskrisis.” Wat het na jou mening die afgelope 25 jaar verbeter/versleg mbt die onderwys?

As dinge so sleg is soos wat dit was in 1994, kan dit beswaarlik slegter gaan. Die groot teleurstelling is die onvermoë van die ANC-regering om die geleenthede wat daar was, en steeds is, om te sit in positiewe uitsette in die onderwys. Die oormatige klem op die matriekuitslae is ’n rookskerm om die werklike probleme in onderwys te systap. Ek dink ook die huidige minister van nasionale onderwys is te lank in haar pos. Sy het niks meer om te bied nie.

Jy skryf baie oor sosiale geregtigheid. Hoe kan geleenthede vir die volgende generasie geskep word?

Deur die basiese dinge reg te doen en voortdurend reg te doen. Allereers moet die onderwysstelsel tot sy reg kom, omdat dit die sleutel is tot ’n suksesvolle land, soos ek hier bo aangedui het. Onderwysers moet elke dag op hul pos wees en klasgee. Dit sal ’n goeie begin wees. Dan is daar baie aksies wat die burgerlike samelewing kan doen en reeds doen.

………..

“Ek skryf lankal nie meer net oor Afrikaans nie. Daardie debat lei na nêrens. Intussen is daar so baie ander aspekte wat oopgeskryf moet word, en baie mense verval in ’n groef sonder om die groter prentjie te sien.”

………..

Die regering behoort hierdie aksies te ondersteun, omdat dit eintlik werk is wat hulle as regering behoort te doen, maar versuim om te doen. Onlangs het ek twee artikels in Die Burger geskryf oor twee goeie voorbeelde: Die een was oor ’n gewone vrou wat honderde haweloses voed sonder enige staatshulp. Die tweede is die rol wat die klopse kan speel in jeugontwikkeling. Daar’s baie ander voorbeelde.

Een van jou artikels stel die vraag: “Afrikaans in bruin hande: Regtig?” Wil jy uitbrei?

Afrikaans was nog altyd die taal van die meeste bruin mense. Maar dit is geïgnoreer, nie net deur die regering nie, maar ook en veral ook deur Afrikaanse instellings soos die media en Afrikaanse organisasies. Dikwels word die menings van sogenaamde kenners gevra, ook oor onderwys, en word bruin kenners nie geraadpleeg nie.

Bruin mense is byvoorbeeld nie geken in die vasstelling van Standaardafrikaans nie, en Kaaps word steeds misken. Ons kan dus nie verkwalik word as ons dink bruin mense word net geken as die wit man en sy taal in die moeilikheid is en dan moet ons kom help nie. As dit goed gaan, word ons geïgnoreer.

Jou boek belig onder andere Kaaps, Krotoa, die Kaapse Klopse, die Bo-Kaap, die Rieldans en huldeblyke aan byvoorbeeld Adam Small. Watter aspekte van Afrikaanse erfenis voel jy moet meer aandag geniet in geskiedenisboeke / die media / die onderwys?

Al die bogenoemde aspekte. Ek skryf lankal nie meer net oor Afrikaans nie.

………..

“Ons kan dus nie verkwalik word as ons dink bruin mense word net geken as die wit man en sy taal in die moeilikheid is en dan moet ons kom help nie. As dit goed gaan, word ons geïgnoreer.”

………..

Daardie debat lei na nêrens. Intussen is daar so baie ander aspekte wat oopgeskryf moet word, en baie mense verval in ’n groef sonder om die groter prentjie te sien. 

“Halala Suid-Afrika. Ewig is ons Suid-Afrika.” Hoe lyk die pad vorentoe vir Afrikaans en Suid-Afrika?

Presies soos wat ek met Halala bedoel. Afrikaans is vir ewig. Net omdat dit op die US afgeskaal word, beteken dit nie die taal gaan môre uitsterf nie. Afrikaans is diep gewortel in die psige van mense se politiek, godsdiens, kultuur, sport en die breë samelewing. Ons sing, skryf, dig, rap en dans soos die klopse in Afrikaans.

Diegene wat huil oor die dood van Afrikaans, huil dus by die verkeerde begrafnis. Afrikaans gaan nêrens heen nie en ek ook nie. Daarom het ek my twee kinders Afrikaans grootgemaak en in Afrikaanse skole gesit. Dis meer as wat sommige wat my kritiseer, kan sê.

The post "Halala Suid-Afrika": ’n onderhoud met Michael le Cordeur appeared first on LitNet.

’n nuwe spekskieter

$
0
0

Onse de ruyter van die windjie
red ons van die afgrond se randjie
die steenkool is nat
in die ketel ’n gat
gewis ’n rommelhoop ons landjie

 

The post ’n nuwe spekskieter appeared first on LitNet.

Melt Myburgh terug by LitNet

$
0
0

Melt Myburgh, oud- Meningsbestuurder van LitNet, het weer by LitNet ingeval – hierdie keer as Bestuurder: LitNet Akademies.  

Melt Myburgh het ’n MA in Afrikaans en Nederlands en ’n Hoër Onderwysdiploma (HOD) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Hy was 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels by hoërskole in Murraysburg, Grahamstad en Kaapstad. Hierna het hy in verskeie terreine van die literêre veld gewerk, onder meer as meningsbestuurder by LitNet, organiseerder van die US Woordfees en as senior opdraggewende redakteur by Penguin Random House SA.

In die uitgewerswese was hy betrokke by verskeie topverkoper-publikasies wat internasionaal opslae gemaak het en met gesogte pryse bekroon is.

As dosent het Melt voor- en nagraadse kursusse aan die universiteite van Rhodes en Stellenbosch aangebied in die opvoedkunde en Afrikaanse letterkunde.

In 2011 het hy die Ingrid Jonker-prys vir sy digbundel Oewerbestaan ontvang.

  • Foto: verskaf 

The post Melt Myburgh terug by LitNet appeared first on LitNet.


Skrywersonderhoud: Bun Booyens oor 50 jaar met Fred

$
0
0

Naomi Meyer gesels met Bun Booyens oor 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente.

Titel: 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente
Samesteller: Bun Booyens
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429721

Hallo Bun, ons is aan die begin van ’n nuwe dekade en ek dink dis gepas om ook terug te kyk ─ ek kyk na die boek wat jy saamgestel het: 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente. Wat was vir jou die hoofdoel van hierdie boek?

Dit het eintlik nie as ’n boek begin nie. Ek wou aanvanklik net so veel as moontlik van Fred se oorspronklike prente skandeer sodat dit digitaal behoue kan bly, want baie van Die Burger se vorige twee spotprentkunstenaars se oorspronklike sketse het oor die dekades verlore geraak. DC Boonzaier, die koerant se eerste kunstenaar, het byvoorbeeld baie van sy sketse verkoop. Ek het toe ’n stuk of vierduisend van Fred se sketse laat skandeer en geïndekseer. Dit het ’n goeie ses maande geneem en toe dit klaar was, het ek gedog ek kan nou maar net sowel deurdruk en ’n boek saamstel.

As ’n mens probeer om ’n strookprent-geskiedenis van die land oor die afgelope vyf dekades saam te stel, waar begin ’n mens se navorsing? Hoe weet mens wat om te vat en wat om te los, wat om in te sluit en wat om uit te laat? Die geskiedenis is immers ’n onderwerp wat voortdurend herbekyk en as 't ware oorgeskryf word. Wat is die belangrikste gebeure? Of handel dit oor wat word die beste of op die mees gevatte wyse uitgebeeld?

Ek het begin met Fred se eerste sketse vir Die Burger, sodat ek kon sien hoe sy styl oor die jare verander het. Maar op die ou end was dit moeilik om die prente vir die boek te kies. Ek is tans besig om ’n seleksie vir ’n Fred-uitstalling by die Woordfees saam te stel en kyk weer deur alles en daar is waarskynlik genoeg goeie prente vir nog twee of drie boeke. Ek het maar net probeer om die vloei van die nuusgebeure min of meer te behou. Dit is wel makliker om ’n spotprentboek saam te stel as ’n konvensionele geskiedenisboek, want spotprente is in hul wese nie objektief of gebalanseerd nie. ’n Goeie spotprent is altyd effens moedswillig en impulsief. Net ’n enkele ding word elke dag geteken. Dis amper soos ’n koorspennetjie waarmee jy meet wat op daardie spesifieke dag voor op mense se gemoed is. Saam gesien vorm dit dan ’n eiesoortige storielyn.

Vanuit jou eie perspektief en omvangryke betrokkenheid by die koerantwese: wat het vir jou verander aan spotprente oor die jare en wat het dieselfde gebly, as mens so ’n vraag kan beantwoord?

Interessante vraag. Fred het onder sewe van die tien redakteurs in Die Burger se geskiedenis gewerk en jy kan beslis elk van hulle se hand in sy sketse sien. Jy kan ook die skadu van Die Burger se twee vorige spotprenttekenaars sien. Elders in die wêreld is bobbejane of ape byvoorbeeld ’n simbool van onnoselheid. By Die Burger het die bobbejaan van meet af in 1915 ’n verhewe status gekry. In Boonzaier se sketse was die bobbejaan die simbool van Suid-Afrika self – ’n werfbobbejan, vasgeketting en verneder deur Brittanje. Plattelanders kon hulself weer herken in TO Honiball se bobbejaanfamilie, Adoons-hulle. Wat het oor die jare verander? Die politieke situasie onder pres Zuma het geverg dat Suid-Afrikaanse spotprente meer onbeskof raak. Aan die einde van sy bewind was daar geen simpatie of genade oor nie.

Was daar spotprente van Fred Mouton wat vir jou uitgestaan het of wat jy dadelik onthou het terwyl jy met hierdie projek besig was?

Ek onthou ’n hele klomp uit my kinderdae. Dit wys jou net hoe sterk visuele indruk ’n spotprent kan laat. Die beste prente bly dié wat so ondubbelsinnig is dat geen woorde nodig is nie. Dit gesê, Fred is ook fyn met woordspeling.

Wat is die belang van spotprente in die joernalistiek, dink jy? Dink jy dat ek oorvereenvoudig om te meen dit was ’n vroeë voorloper tot multimedia-aanbiedings: video's, en ander aanlyn-inhoud?

’n Spotprent is ’n hoogs doeltreffende politieke wapen, soms ’n knuppel, soms ’n skalpel. Reeds in 1916 is daar in Die Burger geskryf van “die haas onweerstaanbare mag van ’n spotprent”. Politici is gewoond aan konflik, trouens vir hulle is dit dikwels ’n middel tot ’n doel, maar hulle is diep ongemaklik daarmee om die skyf van spot te wees. Hulle is liggeraak en kwesbaar daarvoor. Kyk maar na hoeveel miljoene rande se lastereise Jacob Zuma teen Zapiro ingestel het. Hy kon dit nie verdra dat iemand die spot met hom dryf nie. Ek dink Suid-Afrika se spotprenttekenaars het ’n baie groot bydrae gelewer om van Zuma ontslae te raak. Dit is ook moeiliker om ’n spotprentkunstenaar aan laster skuldig te bevind as ’n skrywende joernalis, dus skep visuele satire ’n bietjie meer beweegruimte. Die tweede deel van jou vraag: Ek dink nie spotprente was ’n voorloper van die digitale milieu nie. Dit het wel twee, drie eeue hand aan hand met die geskrewe joernalistiek geloop. Fotografie is waarskynlik eerder die voorouer van die hedendaagse digitale media.

The post Skrywersonderhoud: Bun Booyens oor <em>50 jaar met Fred</em> appeared first on LitNet.

Mango met hoogsomer in die lyf

$
0
0

Ek het nog altyd gewonder oor daai appeltjie – ek sweer dis met die vlesige oordaad van ’n mango wat Eva vir Adam verlei het. ’n Appel doen dit net eenvoudig nie vir my nie. ’n Appel is byna engelagtig in sy onskuld. Dis die vrug waaraan jy mag knibbel as jy op ’n dieet is. En dis heel bo-aan die lysie van steeds krimpende genietinge wat jou dokter jou nog toelaat. ’n Sondige klein bliksem? Nie sommer nie …

Maar ’n mango …natuurlik het ’n mango ook ’n lang lys van gesondheidsvoordele, meer as waarvan jy ooit sal kan droom. Maar die ou vruggie is soos die gewildste meisie op skool – daardie enetjie wat vroeër as al die ander sagte rondings gewys het en deur haar minderbevoorregte susters van allerhande losbandigheid verdink – en beskinder – word. Haar goeie hoedanighede word lankal nie meer raakgesien nie.

In die sappige vlees en soet smaak van ’n mango proe jy die oordaad van hoogsomer. En dis ’n ou vruggie wat jy ook nie sommer so in ordentlike geselskap kan eet nie. Die beste manier om ’n mango te eet, sê hulle, is om die badkamerdeur te sluit, jou klere uit te trek en in die bad te klim. Dan kan jy sommer agterna die taai sopperigheid van jou lyf afwas. En van die lastige vesels tussen jou tande ontslae raak.

My eerste mango was by die see, by die ou Bakke van Mosselbaai, in die tyd toe dit nog ’n vakansieplek met houthuisies en hart was. (Deesdae word dit De Bakke genoem en die houthuisies is platgeslaan om plek te maak vir chalets). Ek onthou ek het van die strand af gekom, met die soutwater en sand nog aan my lyf, en net daar buite op die sementblad voor die agterdeur die sagte soet om die pit afgeëet, agterna nog met tande deur die vesels gehark vir die laaste bietjie vlees. Destyds het die mango’s nog baie meer vesel gehad. Ons het agterna die pit met sy kaalgestroopte vesels in die son laat droog en ’n gesiggie daarop geteken.

Vandag se mango’s het meer vlees en minder vesel, fyn geteel vir ekstra genot. Ek begin al hier van November af uitsien na daardie eerste mango, maar my groenteman hou hom doof. Die mango’s wat nou op die mark is, maan hy, is nog sonder smaak. Dis eers amper Kerstyd wanneer hy daardie eerste vrugte op my tafel kom neersit – vol van lyf en stroopsoet. Ek het al in my ongeduld skelm in die winkel gaan koop, net om Nazeem gelyk te gee. Vergeet van die voorvruggies – jy soek ’n mango met hoogsomer in sy lyf.

Hier oor die feestyd is mango’s op hul beste. Net reg vir die Kersmaal. Vanjaar het ons by my suster se huis saamgekom. My broer het vir die hoender gesorg – geurig met ’n lekker speseryerige geelrys daarby. My sussie het Ottolenghi ontdek en twee bygeregte met Midde-Oosterse geure opgetower. Ek moes vir die poeding sorg en dis ’n groot kopseer met almal se voor- en afkeure en kosallergieë. Toe maak ek maar ’n yslike groot vrugtebord met lietsjies, volryp appelkose, grenadella, wit en rooi druiwe, bakkies met Lindt se sjokoladebedekte bloubessie- en framboosbokdrolletjies en kersies wat met die eerste hap in jou mond ontplof. En reg in die middel van die bord – ’n glasbak met mango-en-perskeslaai, liggies gegeur met gerasperde lemmetjieskil en ’n bietjie lemmetjiesap.

Op my kosreis het ek mango in verskillende gedaantes leer ken. ’n Lekker klapperpavlova met vars mango en room, mangokaaskoek, ’n lekker mango-en-lemmetjiejellie, garnaal-en-mangokelkies  . . . noem maar op. Ek het ook geleer dat mango’s kan heelmaak en genees. Wanneer die somerson hier op die berg neerbrand, sukkel my tagtigjarige ma om die hitte te hanteer. Dan verpleeg ek met gebraaide uie met komyn, my apteker se pienk-koeldrank-konkoksie en, die heel beste van alles, vars skywe mango – die heel beste medisyne.

Maar dis hier in die Moslem-hartland, waar ek nou al die afgelope agt jaar woon, waar ek mango op sy beste leer ken het. Hier wag hulle nie op die mango’s om ryp te word nie. Hier van begin November af is daar al sakke met klein, groen mango’s in die groentewinkels. Dis vir die mangoblatjang wat van die jong groenetjies gekook word. Mango-atjar. En wanneer die mango’s begin ryp word, ’n lekker hoenderkerrie met vars mango daarin of ’n lekker mangosambal as kondiment. Mango-lassi vir die feestafels en die nie-alkoholiese dors.

En dan is daar die allerlekkerste slaai wat my buurvrou se Moslem-vriendin haar leer maak het. Dié het ek so effe aangepas en my eie gemaak, spesiaal vir my feestafel om die nuwe jaar te begroet. En saam met die mango’s op my tafel, het ek net die één nuwejaarsvoorneme – om te leer om myself te vergewe. Nie net vir al die mango’s wat ek nog gaan eet nie, maar vir elke klein dingetjie waaroor ek myself nog al die jare kasty. Want ek glo as ’n mens eers geleer het om jouself te vergewe, is dit soveel makliker om meer verdraagsaam teenoor ander te wees.

Karen se mangoslaai

Genoeg vir 4 – 6

Vir die slaai
Slaaiblare van jou keuse
2 groot mango’s, geskil en in skywe gesny
½ van elk: rooi, geel en groen soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in dun repe gesny
1 klein rooiui, in dun ringetjies gesny
’n handvol vars gekapte koljanderblare

Vir die slaaisous
3 eetlepels olyfolie
1 eetlepel wit balsemiekasyn
1 teelepel heuning
sout en varsgemaalde peper na smaak

Rangskik die slaaiblare op ’n mooi plat bord en pak ’n laag mangoskywe, gevolg deur ’n laag soetrissie van gemengde kleure. Pak die uieringe bo-op en sprinkel die koljanderblare oor. Meng al die bestanddele vir die slaaisous en giet bo-oor.

Lees ook

Poue, bloubessies en bittersjokolade

Tamatiebredie is ’n waardige gryskoptante

The post Mango met hoogsomer in die lyf appeared first on LitNet.

EskomSePush

$
0
0

Leierskap het my nog altyd fassineer. Wat maak dat groot groepe mense ’n persoon volg?

Partykeer is dit natuurlik omdat die groep dieselfde waardes as wat die leier voorhou, navolg. Partykeer is dit omdat die leier charismaties is. Soms is dit omdat die persoon op die regte tyd op die regte plek was. Soms, ongelukkig meer gereeld as wat mens voor sou hoop, gooi die groep alle onafhanklike denke oorboord en volg die leier slaafs.

Ons het dit met Zuma gesien. Ten spyte van die skade wat hy die land aangedoen het, het sy party in hul arrogansie bankvas agter hom gestaan. Ons sien dit nou met die Republikeine in Trump se regering. Selfs terwyl oorlog dreig, en terwyl hy blatant  spog dat hy oorlogsmisdrywe oorweeg, ondersteun hulle hom. In albei gevalle het ek nog altyd gewonder oor die kompromat wat andersins intelligente mense beweeg om weg te kyk en eiebelang eerste te stel.

Aan die ander kant is daar positiewe leierskap. Jacinda Ardern van Nieu-Seeland is die eerste opvallende voorbeeld hiervan. Angela Merkel van Duitsland ook. Toevallig dat albei vroue is? Ek dink nie so nie. Ardern het by meer as een geleentheid bewys dat wanneer die politieke wil daar is, omstrede besluite met spoed geneem en geïmplimenteer kan word. Dink maar aan die besluit om outomatiese gevegswapens te verban. Tussen die tydperk dat daar ’n aanval was, en die besluit geneem is om die wapens te verban, het minder as ’n maand verloop. Vergelyk dit met die Amerikaanse proses, waar massa-aanvalle feitlik daagliks gebeur, en geen politieke wil bestaan om die wapens te verban nie.

Gaan soek gerus ook die video op waar Ardern in onder drie minute alles wat haar regering in twee jaar vermag het, lys. Vergelyk dan wat die ANC-regering die afgelope vyf-en-twintig jaar vermag het. Hulle sou dit waarskynlik ook in onder drie minute kon lys, vir ander redes.

Wanneer die wil en die leierskap bestaan, kan berge verskuif word. Ardern bewys dit. Nader aan die huis is die Regshulpraad ’n suksesverhaal wat ons alte maklik vergeet. In 1999-2000 was die Regshulpraad ’n lomp, oneffektiewe, en onsuksesvolle instansie. Werkers was gedemotiveerd, sake het deur die mat geval en beskuldigdes was nie verseker van hul grondwetlike reg op regsverteenwoordiging nie. Tot met die aanstelling van regter Mohamed Navsa, ’n naam wat nie regtig in die volksmond bekend is nie. Binne ’n kwessie van ’n jaar het regter Navsa die kultuur binne die instansie verander. Dieselfde mense was nog steeds daar, maar hul hele gesindheid en hulle motivering het verander. Hoekom? Navsa het hulle laat besef van watter belang hul bydrae vir die demokratiese proses is. Hy het besef dat dit nie beleidsoorwegings, of politieke besluite, of mooi toesprake is wat mense beweeg nie. Dis die besef dat wat hulle doen, groter as hulleself is. Dis die besef dat hulle help bou aan ’n nasie en aan ’n droom.

Dit bring ons by Eskom. Kersfees en Nuwejaar is verby, en skielik is daar weer kragonderbrekings. Dit kom nie regtig as ’n verrassing nie, want analiste het alreeds in Desember gewaarsku dat Eskom nie die pyp kan rook nie. Nat steenkool, sabotasie, korrupte Gupta-steenkool, toerusting wat nie in stand gehou is nie en nou breek … Met elke week, blyk dit, is daar ’n nuwe verskoning. En in dieselfde asem word daar gevra vir geld om prestasiebonusse uit te betaal, en om verhogings aan bestuurders te gee. Watter prestasie, wonder mens? Hoekom moet daar verhogings gegee word as hulle nie eens die eenvoudige taak om die ligte aan te hou, kan uitvoer nie? En is daar ’n verband tussen die eis vir meer geld en die skielike gebrek aan elektrisiteit? Dis alte toevallig dat daar elke keer wanneer Eskom meer geld vra, of dit nou is om tariewe te verhoog of salarisse te vermeerder, en dit nie toegestaan word nie, dat daar klokslag elke keer kragonderbrekings is. Pers Eskom ons af?

Wat sê dit van Cyril Ramaphosa se leierskap dat hy skynbaar nie in staat is om Eskom, of enige van die ander disfunksionele instansies, sover te kry om hul mandaat uit te voer nie? Die ekonomie is in vryeval, en met elke kragonderbreking word dit erger. Om elke keer sy hande te wring en ’n verrassing uit te spreek, werk eenvoudig nie meer nie. Dit het tyd geword om daadwerklik op te tree.

Wat sê dit van die regerende party dat hulle midde-in hierdie krisis kliphard aan ’n multimiljoenrand-makietie in Kimberley beplan. Hulle is skynbaar onbewus van, of ongeërg oor, die ekonomie wat sienderoë in duie stort. Wat vier hulle? Dit kan nie suksesvolle regering wees nie. Dit het ons laas in die 1990’s gesien.

Motiveer die mense. Wortel of stok, dit maak nou nie meer saak nie. As Eskom dan nie krag wil voorsien nie, moenie mense penaliseer wat ander alternatiewe gebruik om hul eie elektrisiteit op te wek nie. Help hulle om sonkrag te benut of windkrag of wat ook al. Maak dit maklik om alternatiewe te verkry. Maar hierdie situasie, waar disfunksionele verskaffers in ons kele afgedruk word, is ’n kruitvat.

Genoeg is genoeg. Binnekort gaan die tyd aanbreek dat gewone burgers in hul massas gaan opstaan en protes aanteken.

Ek sal voor toi-toi.

The post EskomSePush appeared first on LitNet.

Orwellington se nuwe album ’n trefseker uitnodiging na hul optredes

$
0
0

Orwellington tydens ’n optrede (Foto: Engela Duvenage)

In die vroeë 1980’s is David Kramer se debuutalbum, Bakgat!, uitgereik. En tot vandag toe bly talle Afrikaanse musiekgroepe, bewustelik of onbewus, in gesprek tree met daardie album, die sfeer en stories daarop wat Kramer so duidelik opgeroep het.

Sy versnit van folk, rock en punk in Afrikaans is sedertdien nog nooit geëwenaar nie, en dit is die hoeksteen van boerepunk, na my geheel en al onkritiese mening in hierdie verband. Jy kan dit Kramer probeer nadoen, maar jy sal beter vaar as jou groep ’n gesprek met só ’n groot album aangaan.

(As hy vandag Bakgat! uitgereik het, sou dit wys dit het nog niks van sy seggingskrag verloor nie – dit vertel van mense soos sy karakters wat nog vandag daar is.)

Die omslag van David Kramer se album Bakgat!

Dit is dan in die steeds uitkringende effek van Bakgat! dat die groep Orwellington teen die einde van die vorige dekade na vore tree met hul tweede album, Die angstige avonturier (die groep se debuut, Nael Sussie nael, is in 2016 uitgereik). Dit was vir hulle belangrik om iets van hul verhoogteenwoordigheid in intieme lokale na die opname te bring. Dit is bedóél is om jou na hul optredes te nooi. Die gerekende Willem Möller van Gereformeerde Blues Band-faam was die klankoperateur en het die vervaardiging gedoen. Dit strek hom tot eer (as so iets nog nodig was) dat hy die klank so getrou aan die groep se versnit van rock en boerepunk-bedoeling en optredes gehou het. Dis nie naastenby oorvervaardig nie en dit is presies hoe dit hoort (vra iemand wat soms verlang na ’n kasset eerder as wat jy maar te bly is jy kan huur by ’n musiekdiens wat alles in ’n stroomversnelling plaas).

Orwellington boor gestroop en ondermynend in harde Bolandse rock. Daar is frack lekker musiek te hoor. Terloops, noudat die koolstofvoetspoor van musiekmakers in die nuus is: Die ganse Orwellington s’n is indrukwekkend klein gemeet teen dié van Coldplay, Radiohead én U2. Orwellington het nog nooit vir stadionskares gespeel wat krag trek asof ’n dorp dit nooit weer mag kry nie. (’n Mens kan jou dit goed voorstel dat ’n lid van die groep dalk ’n sespak tuis kan vergeet, maar dan nie sal terugry om dit te gaan haal nie.) Orwellington se sterk punt is die plaaslike, waar hulle ook al speel, in enige kroeg, op ’n buitelugverhoog of dergelike opset. Noem dit fasette van goeie biermanskap.

Orwellington se lede speel doelbewus nog gereeld saam, om sleur en treusel om te ploeg met ’n omvormende geraas. En te oordeel na Die angstige avonturier werk daardie soort lekker saamspeel boonop aansteeklik in op luisteraars.

Die sangers op die album is Christie Botha (wat ook die cajón bespeel), Louis Duvenage (van Raaskopleef!-faam, ook hoofkitaar en skrywer van die meeste van die groep se lirieke – iets waarvoor hy eweneens lof verdien) en Tanja Erasmus (altviool en ritmekitaar). Ian Smith speel baskitaar en Möller speel hoofkitaar op twee van die snitte.

Orwellington op die verhoog (Foto: Engela Duvenage)

Al voel ’n mens dat soveel aan plaaslike musiek al erg gekommersialiseer is, is genadiglik nie alles só nie. Aan laasgenoemde herinner Orwellington jou opnuut. Die groep bring iets na die plaaslike toneel wat weg van die grootste deel van die bedryf staan: Orwellington bring voel en bedoel na die opname omdat hulle iets doen wat vir hulle lekker is. Op ’n snit soos "Woester" is iets van die groep se kreatiewe spanning weergegee: “Daar’s vryheid daar buite / Daar’s vryheid hier binne / Soek jy vryheid of vrede?”

Tussen twee weergawes van die titelsnit is die landskap van die album goed gestroop en vol klip, daar waar jy in die verbyry Lou Reed gewaar waar hy vir Gert Vlok Nel vir vuurhoutjies vra en Sonic Youth duimgooi saam met The National.

Invloede is fyn verwerk in daardie garage op Wellington en in die ateljee van Sharp Street Studio. Die groep se klank is soos hulle dit wíl hoor, danksy Möller en Orwellington se wedersyds begrip.

Die groep druk hulle uit eerder as om hulle te rig op ’n markklaar gehoor wat hulle wil beïndruk. Hulle staan ver van verbruikerisme en is na aan hul musiek, en dít groei op ’n mens. Orwellington spring met gemak die dans van die groot mark vry deur dít waarvoor hulle kennelik lief is, op ’n kompromislose wyse te doen. Sit die groep se tweede CD so ’n klompie anderkant Bakgat!, dalk al nader aan Pavement se Slanted and enchanted, want ook niks te netjies of onnodig kleef aan dié musiek nie. Dis ’n langpad-CD. Mag dit goed reis.

Luister hier na Die angstige avonturier.

Kyk hier na een van Orwellington se YouTube-video’s:

The post Orwellington se nuwe album ’n trefseker uitnodiging na hul optredes appeared first on LitNet.

Reisskets: Met kapmes en galblaas

$
0
0

Swaziland

Swaziland se vlag

Die bruid steek die kapmes stewig in die middel van die beeskraal. Trane van vreugde loop oor Anna se wange. Ná dertig jaar het sy die grond gebreek in Napoleon se kraal. Die kapmes is tradisioneel ’n werktuig, onontbeerlik vir die vlytige vrou. Met die mes sê sy: Ek het gekom om te bly tot die dood ons skei; die houthandvatsel ’n teken van lewe. Die ysterlem ’n simbool van die dood.

Mense juig en jodel, klink bottels bier druppend uit die ysbaddens. Sappige stukkies bees word van die vuur af bedien, die vet spat in die poeierstof van Swaziland se laeveld. Drie dekades ná hul troue in ’n kerkie in Lesotho, kry die bruid haar dag.

Ek het Anna enkele weke voor die troue ontmoet en is summier na die grootste dag in haar lewe uitgenooi. Anna, ’n onderwyseres, en Napoleon,’n ingenieur, was albei in hul vroeë vyftigs. Hul kinders was reeds op universiteit. Immer nuuskierig, vra ek: Waarom ’n tradisonele troue ná soveel jaar? Napoleon verduidelik. Hulle was in Lesotho en hul familie kon nie daar wees nie. Hy moes nogtans lobola vir Anna betaal, vyftien beeste, voordat hulle kon trou. Daardie dag het hulle ’n belofte gemaak. Eendag sou hul ’n Swazi-troue hê; eendag wanneer Anna die ekwiwalente waarde van daardie vyftien beeste se lobola vir Napoleon se familie kon gee. Alleenlik dán, mag die tradisionele troue plaasvind. En dis waaroor alles vir enige Swazi–bruid gaan ─ die tradisonele plegtigheid waar sy amptelik haar pa se kraal vir haar man se kraal verlaat.

Anna en Napoleon woon in Mbabane, maar die troue is honderde kilometer daarvandaan by Napoleon se tuiskraal. Al loop jou pad ook in die groot stad, huis blý die kraal van jou voorvaders. ’n Paar dae voor die groot dag, vra ek aanwysings. Versigtig vis ek oor ’n trougeskenk. Gee bruilofgaste vir die bruidspaar ’n geskenk soos in die Westerse tradisie? Gesien die uitstaande lobola, moet ’n mens ’n geskenk vir Napoleon se familie gee? Anna huiwer nie ’n oomblik nie: “Jy kan vir my ’n bankrekening oopmaak.”

Die bruid, haar gevolg en uitgebreide familie kamp langs ’n droë rivierloop, skaars tweehonderd meter van die bruidegom se kraal af. En ja, die bruidspaar mag mekaar nie gedurende dié tyd sien nie. Die troue duur drie dae, maar gedagtig aan die ongemaklike uitstaande saak van ’n bankrekening, woon ons net die derde dag by. Beter dat daar nie tyd vir lang gesprekke is nie, besluit ons. Ons ry vroegoggend op dag drie uit Mbabane en laai dosyne vars broodrolletjies en ’n verskeidenheid konfyte by die groot mangoboom in Napoleon se kraal af. Ons stap met die voetpad na die rivier met ’n persoonlike geskenkie vir die bruid. Ek druk ’n koevert met kontant in haar hand en gee pad na die vuur waar die beesvet oor die oop vlamme sis.

En toe begin ons partytjie hou. Napoleon was ’n vrygewige bruidegom. Hy het nie een bees nie, maar twee gestuur, vertel Anna se vriendin. Die reuk van geskroeide bees hang in die lug. Die mans kuier om die vure en onder die skadubome met bier en vleis. Ons word gulhartig by die feestelikhede ingetrek en word happie vir happie sappige vleisies van die vuur af gevoer.

Toe die son reg van bo begin brand, begin Anna se gevolg om haar skarrel. Almal staan nader toe ’n ou man skuifel-skuifel aangedans kom met, wat ons later sou uitvind, ’n bees se galblaas. Hy druk die geelbruin vloeistof oor Anna se gesig, oor haar regterarm en -been. Die familie skreeu en jil terwyl Anna lustig ronddans. Nou sal sy sterk en gelukkig wees, verduidelik ’n vriendelike neef.

Die galblaas, kroonjuweel van die bruid se hooftooisel word vasgesteek (Foto: Johan Opperman)

Ons word na Napoleon se kraal aangejaag. Ook daar kry ons stukkies vleis uit die vlamme en ’n koue bier uit ’n groot drom yswater. ’n Groepie vroue in swart geplooide rompe met eenderse blou en wit doeke om die skouers, bring borde vol rys en vars gesnyde tamaties. Ons kan regtig net nie meer eet nie, maar die dromme red ons. Oorverdowend word die skare tot stillstand gedwing. Almal storm vir ’n goeie uitsig. Die bruid en haar gevolg kom! Die dromme word mal toe twee jong meisies met swaar wielietjietasse tussen die bosse te voorskyn kom. Anna se lobola word afgelewer.

Lobola in 21ste eeu (Foto: Johan Opperman)

Dans-dans volg eers die jong manne; daarna die ouer mans met lendedoeke en velvoorskote. Lang stringe krale swaai ritmies om die swetende lywe. Dan verskyn die eerste bruidsmeisie in haar rooi, wit en swart doek met die Swazi-embleem. ’n Tweede en derde bruidsmeisie in rooi, wit en swart stap uit die bosse. Anna loop gebukkend, toegewikkel in ’n dik kombers. Haar gevolg steek haar speels-aggressief weg tot die prosessie in die middel van die kraal is. Die kombers word afgegooi en Anna staan in al haar prag ten aanskoue van die huweliksgaste. Ten spyte van die hitte dra sy ’n handgemaakte sjaal van dertig beessterte. Haar hooftooisel van swart volstruisvere wieg sag in die windlose somersmiddag.

Later toe Anna en Napoleon die kraalvloer met hul eerste dans open, val iets in die stof. Die strooimeisies hardloop vervaard nader. Dis die galblaas! Die kroonjuweel van die tiara het losgekom. Die skare kreun; die lusiba is ’n teken dat Anna se lank-oorlede pa toestemming gegee het dat sy dogter die kraal mag verlaat. Maar gou-gou word die galblaas weer met ’n ekstra paar haarnaalde aan Anna se haarnet vasgespeld. Die fees kan voortgaan!

Dansgroepe van die twee families daag mekaar in die stof van die beeskraal uit. Mense lag, klap hande, moedig aan en uiteindelik lei Napoleon Anna die stofkring binne. Hulle dans soos jong verliefdes, beloof met hul passies en lywe liefde en toewyding. Ek hou Napoleon dop. Sweet stroom hom af, maar sy oë bly op Anna. Sy bly die liefde van sy lewe, bieg hy later. Sy het gewerk sodat hy universiteit toe kon gaan en hom vyf kinders gegee. Dit is haar dag. Ek kyk na die baie jong meisies met die ferm liggame. ’n Tweede vrou? vra ek meegevoer deur die bier en die dromme. Nee, Anna is die enigste vir hom, sê hy as hy haar hand neem en hul doodmoeg in die stof gaan sit.

Die bruidspaar vat ’n ruskans (Foto: Johan Opperman))

Ons kuier tot laat. Die kindertjies slaap op karosse, die dansers is pootuiten die kos is op. ’n Jong man kom vra of hy met my dogter kan trou. Hy wag nie vir ’n antwoord nie en vertel dat hy ’n paspoort nodig het om in Suid-Afrika te studeer. Hy lyk verergd dat ek nie ’n dogter het nie. Iemand anders kom vra werk. ’n Groepie tienerseuns wat ’n bal rondskop vra of Johan nie hul sokkerspan wil borg nie.

Toe weet ons, ons beter ons ry kry, Die groot dag is verby. Die partytjie is klaar. Die lewe gaan aan; net te veel verwagtinge klop aan ons deur.

Lees ook:

Reisskets: Arme Eva

Reisskets: 'n Meer wat wegraak

Gekamoefleer teen die lewe

Reisskets: Biker-biskop in die Afrikabos

The post Reisskets: Met kapmes en galblaas appeared first on LitNet.

my kleivlerke

$
0
0

vandag wil ek my kleivlerke sprei
op die klanke van Mendelssohn
tot verby die Jordaanrivier
om daar ’n olyftak te soek
wat nuwe drome 
sal bring

my voete sal kwartelspore maak
op Vivaldi se vier seisoene
wat dool op die wind
sweef op die groenduif se vlerk
’n sfeer van voldoening
laat kring

dartels van my hande vry laat tas 
deur Wolfgang Amadeus
se elfde sonate-klanke
wat deur die donker eklips
sal dring

vandag wil ek my kleivlerke sprei
bedelbakkies met my hande maak
onbeheersd huppel en dans 
terwyl my voete luid
hallelujas sing

Lees ook

Alcatraz

Nuttelose uurglas

The post my kleivlerke appeared first on LitNet.

Resensie: Blood on her hands: South Africa’s most notorious female killers deur Tanya Farber

$
0
0

Titel: Blood on her hands: South Africa’s most notorious female killers
Skrywer: Tanya Farber

Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429264

’n Kommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste het al vir my gesê: “There are no sweetie-pies in Pollsmoor. And the women are the worst.”

Hierdie vrouekarakters uit die werklikheid wat deur Farber beskryf word, is gewetenlose rillers.

Suid-Afrika is al bestempel as een van die gevaarlikste lande ter wêreld waar daar nie ’n oorlog woed nie. Misdaad is inderdaad Suid-Afrika se grootste probleem. Tog is baie van ons al ietwat afgestomp deur berigte van wrede plaasaanvalle, huisrooftogte en kapings. Lees jy daaroor, is dit maar “net nog een”. Sug. Deel van die statistieke. Verskerp jou veiligheidsmaatreëls of sluit by die plaaslike buurtwag aan, besluit talle as dit in hul eie buurt gebeur.

Moord is al ’n alledaagse verskynsel in ons land. Oor die meeste word nooit berig nie. As dit egter ’n vrou is wat vir moord in die beskuldigdebank staan, is die howe gepak met lede van die media en nuuskieriges wat met morbiede belangstelling elke bloedige detail opslurp.

Hoekom word ons so gefassineer deur vroue wat moor? Waarskynlik omdat daar baie minder vroue as mans agter tralies is. Slegs 5% van moordenaars is vroue. Geweldsmisdade is iets wat met mans geassosieer word. Vroue is immers die moederfigure en dikwels self die slagoffers.

In Blood on her hands: South Africa’s most notorious female killers, kyk Farber na van Suid-Afrika se berugste vrouemoordenaars; diegene wat oor die jare die meeste opspraak gewek het – van die berugte Daisy de Melker tot Marlene Lehnberg en Najwa Petersen. Waar talle vroue wat in ons gevangenisse vonnisse vir moord uitdien erg deur hul mans mishandel is en dit die sneller was om hul mans die ewigheid in te help, is dit nie die geval met hierdie vroue nie. Hulle het ook nie almal hul mans vermoor nie. Van hulle het ook diegene wat hulle gemeen het in die pad van hul geluk staan, vermoor – soos haar minnaar se onskuldige baba in die geval van Dina Rodrigues, en haar minnaar se onskuldige vrou in die geval van Lehnberg.

Farber het haar navorsing gedoen en gee die feite weer, maar sy gebruik ook ’n goeie skeut verbeelding om die vertellings so aan die begin van elke hoofstuk in te kleur dat dit aan fiksie herinner. Een voorbeeld is hoe De Melker in die spieël kyk en besef dat sy op 46 nie meer so slank soos in haar jonger dae is nie. Hierdie beskrywings doen geen afbreuk aan haar werk nie, maar laat dit net lekkerder lees.

Dis opmerklik dat baie van hierdie vroue – van Daisy tot Najwa – enduit volgehou het dat hulle onskuldig is. Van berou was daar dus nie sprake nie.

Dis makliker om jammer te voel vir ’n vrou wat jare lank deur haar man mishandel en verkrag is en hom in ’n oomblik van woede met ’n mes doodsteek as vir ’n vrou wat ’n moord koelbloedig beplan – soos wat in die meeste gevallestudies in hierdie boek die geval is. Daar is selfs ’n klompie jare gelede betoog vir ligter vonnisse vir mishandelde vroue wat hul mans vermoor het. Maar baie van die vroue wat in Blood on her hands beskryf word wou nie bloed aan hul eie hande hê nie; nee, hulle het iemand anders gekry om die vuil werk vir hulle te doen en daarna onskuldig gepleit.

Mens het wel simpatie met van die vroue in hierdie boek se traumatiese kinderjare, maar dit regverdig nog nie hul bloeddorstige dade nie. Die wreedstes onder hulle is egter diegene wat dit vir geldelike gewin gedoen het. As jy ’n moord tot in die fynste detail beplan, gaan jy welverdiend lank sit – in party gevalle selfs langer as jou handlangers.

Die interessantste deel van die boek is Hoofstuk 10, wat insig in die vrouemoordenaars se psige bied. Daisy de Melker en Chané van Heerden, die begraafplaasmoordenaar, se gedrag herinner aan dié van reeksmoordenaars – Daisy weens herhaaldelike vergiftiging (sy is egter aan net een moord skuldig bevind en gehang) en Chané weens haar obsessie en fetisj met afslagting wat by diere begin het. Sy het die slagoffer se gesigvel verwyder en het die liggaam saam met haar kêrel en medepligtige opgekap. Dis bisarre gedrag wat moontlik herhaal kon word.

Kenners se menings is dat baie van hierdie vroue psigopatiese eienskappe het – iets wat mens glad nie verbaas nie. Hulle is mense sonder empatie wat slegs in eie belang optree en ander manipuleer.

Farber se skryfstyl is gemaklik en boeiend, soos wat mens van ’n ervare en bekroonde joernalis sal verwag.

Dis egter jammer dat ’n bestaande hooftitel vir die boek gekies is, weliswaar met ’n ander subtitel – naamlik Blood on her hands – women behind bars (LAPA Uitgewers, 2015). Hoewel baie boeke wêreldwyd dieselfde titels het, moes sy en haar uitgewers dalk meer moeite gedoen het om ’n ander titel vir ’n Suid-Afrikaanse boek te kies. Dit kan die skrywers en uitgewers van beide titels dalk benadeel of lesers verwar.

Dan is dit ook glad nie ’n uitgemaakte saak dat Joey Haarhoff, van wie ’n onvleiende foto op die omslag pryk en natuurlik aandag sal trek, die ses dogtertjies wat verdwyn het vermoor het nie. Niemand weet wat van die slagoffers geword het nie. Hulle het vermoedelik gesterf, maar dit is nooit bewys nie. Selfs onlangse soektogte het niks opgelewer nie. Of hulle vermoor is of nie is ’n geheim wat saam met Haarhoff en Gert van Rooyen graf toe is.

Hierdie boek sal beslis by krimilesers en diegene wat verslaaf is aan misdaadreekse byval vind.

The post Resensie: <em>Blood on her hands: South Africa’s most notorious female killers</em> deur Tanya Farber appeared first on LitNet.


Skrywersonderhoud: Carina Stander oor Die Wonderwese

$
0
0

Remona Voges praat met Carina Stander oor haar boek Die Wonderwese.

Titel: Die Wonderwese
Skrywer: Carina Stander
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310136

Ek het onlangs foto’s van die bekendstellings van Die Wonderwese gesien en ek moet sê, dit het skouspelagtig gelyk! Ek was sommer jaloers dat ek dit nie self kon bywoon nie. Kan jy ’n bietjie oor die geleenthede vertel? En hoe die tema van die aand by jou boek aansluit?

“Ek glo omtrent soveel in wonderwerke as wat ek in vuurwerke glo: Mens hoef nie te verstaan hoe plofstof werk om die lig en krag daarvan te herken nie.” So word daar gepraat in Die Bergengel. Natuurlik het dit vir my soos ’n vuurwerk-wonderwerk gevoel toe die bestuurderes van die eeu oue Kleinkaap-boektiekhotel in Pretoria my uit die bloute nader gewink het vir ’n Wonderwese-boekpartytjie. Want sien, wat sy nie geweet het nie, wat niemand behalwe my man geweet het nie, is dat Kleinkaap die enigste venue in die wye Gauteng is wat ek ses maande tevore gegoogle het met die oog op ’n boekbekendstelling! Ek het die webwerf nog vir Gerrit gewys met ’n: “Kyk dié plek! ’n Geskiedkundige ou huis, bome vol liggies. Dit lyk soos ’n toneel uit my boek." Ek het Kleinkaap egter nie gekontak nie, omdat ek eers doodseker wou maak van my publikasiedatum. Toe hulle my vanjaar uit hulle eie nooi, het ek eers versigtig-verbaas probeer uitvis of hulle perdalks kon sien dat ek die webwerf ses maande tevore besoek het. Nie ’n manier nie, het die vasvattter-bestuurderes gelag. Ek het nie ’n televisie nie, maar Kleinkaap is glo waar die program Hotel verfilm word en daar is gereeld musiekoptredes. Sy het die verskillende dele van die venue met my bespreek, maar voordat ek kon vertel van die boomreuse met liggies op hulle webwerf waarvan ek so baie hou, vonkpos sy vir my ’n foto: “Ek het nog nie jou boeke gelees nie, maar ek dink dit sal by die bome pas.” Sy het uitgevra oor die boekkarakters en toe sy hoor die groot skurk is ’n steltstapper en vuurblaser, het sy summier ’n steltstapper en ’n vuurblaser vir die bekendstellingsaand gereël.

Vuurwerke by die bekendstelling van Die Wonderwese (Foto: verskaf)

Die eienares van Kleinkaap het glo voor die tyd Die Wonderwese vir haar personeel gegee om te lees, sodat hulle die atmosfeer van die storie kon vasvang vir die aand – van die bebaarde handyman wat die koperpotte en feetjieligte gehang het tot die event manager (haar werkbeskrywing is “miracle worker”). Die sjef het wragtiewaar gewone bestanddele gebruik om die vreemde disse uit my boek vir die gaste op te tower: gekookte skilpadeiers, pou toegedraai in spek, takboktong-geweek-in-wyn. Dit alles is met aanhalings uit die boek voorgesit, sodat die gaste kon weet waar in die storie hulle hulle bevind. Kleinkaap het uitgevind na watter musiek ek geluister het terwyl ek aan Die Bergengel en Die Wonderwese geskryf het en dit oor die luidsprekers gespeel. Die kelners en kelnerinne se gesigte is geverf om by die Steampunk-era te pas. Van die honderdtal gaste (wat te midde van November se swetterjoel funksies en eksamens hulle weg kon oopsien om saam te fees) het aangetrek soos karakter uit my boeke en daar was vlerke, skermbrille, hoede, korsette, beblomde rokke, tjalies, mantels, staalarms en veremaskers. Een boekklub van Pretoria het dit sommer hulle afskeidsfunksie van die jaar gemaak en ’n ander boekklub het 300 km van die Bosveld af gery om te kom saamspeel. Iemand het vir my ’n botteltjie walvistraan present gegee, iemand anders ’n ring wat soos ’n blaar lyk. Die onderhoud met vriend en filmman Matthys Boshoff was meer soos ’n rustige rusbankkuier. Dit was lag-lag een van die spesiaalste aande van my lewe saam met die feestelike lesers.

Een van die vermaaklikheidskunstenaars en Carina deel ’n ligte oomblik (Foto: verskaf)

In Desember het ek nog drie boekbekendstellings gehou: by ’n boekklub in die Bosveld, in ’n wonderlike kunsgalery op die Tuinroete en in ’n ou kerkie in die Kaap. Wat ’n voorreg om in Gordonsbaai se historiese kerkie op te tree saam met die begaafde Joshua na die Reën. Al het ons mekaar nog net een keer tevore vinnig ontmoet, jare tevore, was dit ’n ou droom om saam ’n projek aan te pak, aangesien ons werk op soveel vlakke oorvleuel. Sy broer het my inksketse van tonele uit Die Bergengel en Die Wonderwese enorm groot geprojekteer teen die muur van die kerkie terwyl ek twaalf gedeeltes uit my boeke voorlees en hy twaalf liede sing. Van die mense het ook aangetrek soos karakters uit die boeke. Die vrou wat die konsert georganiseer het, het my verras met my ’n takkroon vol vogeltjies wat sy vir die aand gemaak het en vere vir my skouers. Vir Jacques het sy ’n mantel met geborduurde swaeltjies gemaak soos wat die digter Anav Elanov in Die Wonderwese dra. Toe die kragonderbreking ons tref (en voordat die kragopwekker aangeskakel is) het Jacques in die donker voor die klavier ingeskuif en gesing dat sy stem deur die donker kerkie weergalm. Dit was een van daardie oomblikke wanneer die alledaagse toweragtig voel. ’n Aand musiek en woord, berg en see, siel en gees, volmaan en wind. Magic!

Carina Stander en Joshua na die Reën (Foto: verskaf)

Die Wonderwese is al deur resensente beskryf as van die beste fantasieliteratuur in Afrikaans. Dit is ’n groot pluimpie! Baie geluk daarmee. Was jy nog altyd geïnteresseerd in hierdie genre? En uit watter skrywers se werk put jy die meeste inspirasie?

Baie dankie – ek het groot waardering vir die pluimpie. Toe lesers Die Bergengel vir die eerste keer fantasie genoem het, het ek my egter disnis geskrik: Ek het nooit kon raai dat my werklikheidsbelewenis vir ander mense soos fantasie klink nie! 🙂 Ek moet bieg dat ek geen kenner van die fantastiegenre is nie. My leeservaring wat fantasie betref, is beperk tot Narnia, The inheritance cycle en The Lord of the Rings – en dit alles het ek gelees eers nadat ek reeds ’n paar jaar besig was met die skryf van die trilogie. Dat daar in resensies ’n verband getrek word tussen my trilogie en dié van Tolkien, is ’n enorme kompliment wat ek hoop om eendag werd te wees. Tolkien skryf met ’n liriese stembuiging; hy ontgin sekere oerbeginsels. Maar anders as met sy suiwer fantasie, is daar geen elwe, trolle of drake in Die Bergengel nie, en eers in Die Wonderwese maak ’n ewigheidswese haar verskyning. ’n Fantasie-avontuur soos Life of Pi van Yann Martel waarin die jong held ’n epiese reis onderneem, The alchemist van Paulo Coelho wat neig na magiese realisme of ’n reismistiek en verhalende gedig soos Dante se Heilige Komedie het die begeerte in my wakker geroep om ’n hoofkarakter op ’n lang reis te stuur. My grootste inspirasie vir die trilogie kom egter nie uit die letterkunde nie, maar uit my dagboekinskrywings tydens reise op die bergreekse van twee dosyn lande. Op ’n tegniese vlak streef ek na die digterlike prosa van Anne Micheals (Fugitive pieces) of Sigrid Undset se verstommende Kristin Lavransdatter, wat ook in drie dele vertel is en van ’n geskiedkundige tydsgleuf gebruik maak. Fantasie, allegorie, spekulatiewe fiksie, magiese realisme, faerie bildungsroman, liriese prosa? Ek is gewillig om dit alles met ope arms te aanvaar indien dit lesers help om ’n vashouplek in my vreemde werklikheid te vind.

Jy is ook ’n digter. As jy móét kies: Verkies jy om poësie of prosa te skryf? En hoekom? En beïnvloed die feit dat jy gedigte skryf ook jou prosaskryfstyl?

Van my heel vroegste indrukke as kind was ingekleur deur metafore. Die digterlike sintuig bepaal alles wat ek skep; alles vloei daaruit. Dat Die Bergengel-trilogie ’n allegorie is, is waar. Dat ’n allegorie ’n uitgebreide metafoor is, is ook waar. So gesien, is die trilogie een baie lang verhalende gedig.

Kan jy ons ’n bietjie oor die Wonderwese vertel? Wie of wat is dit presies?

Sal jy my vergewe as ek die boek se voorwoord aanhaal?

“Vanaf die vroegste tye verlang die mens na ’n tydlose staat waar verlede, hede en toekoms versmelt. In die soeke na dié bo-tyd-ruimtelikheid is daar dikwels ’n bewuswording van die ewigheid, en ewigheidswesens soos engele, meerminne, drake en duiwels maak hul verskyning in petrogliewe en volksverhale regoor die wêreld. Sekerlik een van die mees ontwykende ewigheidswesens is die Wonderwese van die Gabriëlliese mitologie. Volgens mondelinge oorlewering en opskrywings in Die Boek van Bergengele is die Wonderwese slegs sigbaar vir dié met ’n sogenaamde gawe van ‘helder sienkrag’, daarom staan dié wese in algemene spreektaal ook bekend as die deursigtige Teenwoordigheid of die Fladdering. In Bagterstam se Leksikon word ‘Wonderwese’ as volg toegelig: oervlerceia [urflærsia] snw (1) in Gabriëlliese opskrywings die geskenk van die Helder Een aan die eerste Bergengel, die Heilige Jared (2) ’n vrylewende voëltjie wat deur die eeue oorgedra is van Bergengel na Bergengel, maar slegs twee of drie keer in ’n Bergengelbewind van twintig jaar verskyn (3) die mistieke verteenwoordiger van die Helder Een wie se nabyheid tot oerheimlike vermoëns en verstommende wonders lei.

“Gedurende die ampstermyn van elke Bergengel wat ooit die land Gabriëllië gedien het, was daar lewensgevaarlike situasies waarin geen lewenslesse van die Geseëndes en geen natuurlike gawes of talente ’n Bergengel van die dood kon red nie. In sulke tye het die Wonderwese verskyn, waterskeidingsoomblikke wat later in die geskiedenis bekend sou staan as mîkal’lî, oftewel suiwer mirakels.”

Die boek vorm deel van ’n trilogie waarvan Die Bergengel die eerste boek is. Vir diegene wat ’n eksemplaar van Die Wonderwese in hul Kerskous gehad het, maar nog nie die eerste boek gelees het nie: Het ’n mens nodig om die boeke in volgorde te lees of funksioneer Die Wonderwese ook selfstandig?

Die Wonderwese staan op eie voet, maar die leesplesier sal beslis groter wees as jy verstaan waar die hoofkarakter Eron Verberger vanaand kom. Hy ondergaan so ’n geweldige karakterontwikkeling, dis byna ’n karakteromwenteling tussen boek een en boek twee.

Hoe gaan ’n mens met die skryf van ’n trilogie te werk en hoe besluit mens om ’n verhaal uiteindelik in dele te vertel? Weet jy al vooraf hoe die verhaal gaan verloop of ontvou dit soos wat jy daaraan skryf? Voor watter uitdagings en beperkings kom mens te staan? Of sou jy sê dat ’n mens met die skryf van ’n trilogie eintlik meer vryheid tydens die skryfproses het?

Toe ek so halfpad met Die Bergengel was, het ek besef die verhaal is te wydreikend om in een boek te vertel en dat ek dit oor drie boeke sal moet uitsprei. Ek het toe die verhaallyn tot in die fynste besonderhede uitgewerk en aan my redakteur gestuur, waarna ek die addendum tot my kontrak met die uitgewer onderteken het waarin ek beloof om drie boeke te lewer. Jy vra oor die uitdagings? Om stamina te behou, want die boeke in die reeks volg vinnig op mekaar, hoogstens 2,5 jaar, dus is daar nie rustyd nie. Die groter uitdaging is om finansieel te oorleef terwyl ek heeltyds boekskryf. In die verlede het ek vir minstens ’n jaar lank joernalistieke werk gedoen of kuns gemaak om sodoende vir myself tyd vir boekskryf te kon loskoop, maar met die trilogie is daar eenvoudig nie tyd vir ander werk nie. Oor jou vraag oor of mens meer vryheid tydens die skryfproses van ’n trilogie het? Nee. Ek het my tyd geneem om die verhaallyn sedert 2002 te deurdink en sedert 2016 met my boekeredakteur te bespreek. As ek eers weet in watter rigting ek ’n storie wil laat vloei, vat dit omtrent ’n aardbewing om my anders te oortuig – maar ek ís oop vir oortuiging. Karakters kan lekker eiewillig wees.

Jou vertelstyl is baie beeldend en beskrywend. Jy is inderdaad ook ’n visuele kunstenaar – ’n eienskap wat moontlik tot jou treffende visuele waarnemings bydra. Die kunswerk op die voorblad van Die Wondewese is ook een van jou eie. Kan jy ’n bietjie meer oor jou kunsagtergrond vertel? Wat het eerste gekom: om te skryf of te skilder? En van watter medium maak jy die graagste gebruik in jou kunswerke?

Ek het van kindsbeen af geweet dat ek albei wil doen – kuns en skryf. Ek het eers my honneursgraad in visuele kuns by Tuks voltooi voordat ek die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by Ikeys aangedurf het. Al was my nagraads in beeldhou, het ek die afgelope jare aan tekenkuns gewy. Dis minder tydrowend as beeldhou (siende dat ek ’n ma van twee seuns is) en konseptueel pas ink op papier goed by skryf. Ek is ontsaglik dankbaar vir uitgewers wat my die vryheid gun om self my voorblaaie te teken. Die voorblaaie van albei my digbundels en die trilogie is my eie kuns.

Wie is van jou gunsteling- visuele kunstenaars? En wat is van die interessantste kuns wat jy al in lewende lywe gesien het? 

Toe ek 19 jaar oud was, het ek in die skrootwerwe van Pretoria gaan rondkrap vir afvalmetaal waaruit ek bronsbeelde kon giet. Met die geld wat ek uit die bronsbeelde verdien het, het ek vir drie weke deur Duitsland gereis – my eerste oorsese reis. In München het ek vir die eerste keer die werk van die surrealis Rene Magritte in lewende lywe aanskou, en veral sy beeldhouwerk was vir my pragtig.

Die kunstenaars wie se werk my die meeste ontroer, werk almal met die verhalende. Hulle werk is grepe uit langvergete verhale, of soms skep hulle ’n eie mitologie of simboletaal, ’n droomsfeer. My gunsteling- Suid-Afrikaanse kunstenaar het toevallig saam met my by Tuks studeer – die skilder Angela Banks. Ek is aangetrokke tot die magiese realisme van skilders soos Andrea Koch wat die skoonheid en waansin van plattelandse Amerika uitbeeld, of Brad Kunkle, wie se werk ’n spirituele ondertoon het. Ook die Vlaamse skilder Eddy Stevens. Al vier hierdie kunstenaars se werk het tematies sterk ooreenkomste met my skryfwerk: die spel tussen natuur en bonatuur, onheil en onskuld, wakker en slaap, mens en dier, werklikheid en bowerklikheid.

In Carina se gunstelingkunswerke word die "spel tussen natuur en bonatuur, onheil en onskuld, wakker en slaap, mens en dier, werklikheid en bowerklikheid" vooropgestel (Grafika: verskaf)

Wat baie lesers miskien nie weet nie, is dat jy vir Die Bergengel en Die Wonderwese gelyknamige kunsuitstallings gehou het. Kan jy ons van jou onlangse uitstalling by die Knyna Fine Arts Gallery vertel?

Deur die jare het ek elk van my digbundels en romans met ’n kunsuitstalling bekendgestel – ’n visueelmaking van karakters en tonele uit die boeke. Vir my digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, het ek ’n private uitstalling gehou. Die tweede digbundel, woud van nege en negentig vlerke, se meegaande kuns is uitgestal by die Breytenbachsentrum. My eerstelingroman, Wildvreemd, is bekendgestel by Signature Gallery in Pretoria en by Lanzerac in Stellenbosch. Die Bergengel by Tina Skukan-galery in Pretoria en die Breytenbachsentrum. Ek voel baie bevoorreg om my Wonderwese-kunsuitstalling by Knysna Fine Arts Gallery te kon hou. Dis ’n praggalery wat behoort aan ’n doyen in die kunsbedryf, Trent Read. Die bekwame kurator Corlie de Kock is aan die stuur. Ek het 27 splinternuwe inksketse op Fabriano-papier uitgestal en die titels was aanhalings uit die boek. Vroeg in 2020 gaan ek, soos met my vorige uitstalling, ’n baie beperkte uitgawe van twaalf afdrukke per inkskets maak en via Facebook verkwansel. Sodoende kan ek hopelik my gebotterde broodjie koop terwyl ek aan die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, skryf.

Voorbeelde van Carina se kunswerke (Grafika: verskaf)

The post Skrywersonderhoud: Carina Stander oor <em>Die Wonderwese</em> appeared first on LitNet.

Resensie: Blinde gode deur Dibi Breytenbach

$
0
0

Titel: Blinde gode
Skrywer: Dibi Breytenbach
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799398212

In haar vyfde misdaadriller laat Breytenbach twee gebeure in ’n knap jukstaposisie afspeel. Aella O’Malley – die karakter wat reeds in Dowe Gode geskep is – is weer die hoofkarakter en is bevorder tot bevelvoerder van Opathe se speurtak.

Aella sleep ’n verlede saam – sy het ’n intieme geliefde verloor en is verraai deur ’n goeie kollega wat as ’n stroper en moordenaar ontmasker word. Dit strem haar geestelik en liggaamlik terwyl sy al haar kragte nodig het om die moord op ’n landdros te ondersoek.  

Aella se taak word goed opgesom met hierdie aanhaling: “Te veel is soos om deur stroop te swem. Dit trek jou na die bodem en plak aan jou vel. Te veel is te veel is te veel.” 

Sy word te hulp gesnel deur Erwin Bjilsma wat deur die president aangestel is om in ’n kommissie te dien wat die korrupte strafregstelsel moet ondersoek. Hy beweeg saam met haar en moet die korrupsie en gebrekkige ywer onder geregsdienaars en landdroste saam met haar beleef en daaroor verslag doen. Dit vorm ’n groot deel van die storie. Vir lesers wat ingelig is oor die swak dienslewering en korrupsie wat dreig om van die land ’n mislukte staat te maak, is daar nie veel nuut nie, wel ’n beklemmende bevestiging. Die gebrek aan respek vir die regstelsel, die rondslomp, burokratiese prosesse, binnegevegte, seksisme en rassisme word genadeloos deel van die riller.  

Haar ander hulp is Christophe Blanc van Interpol, wat ’n herverskyning uit die vorige boek maak. Daar ontwikkel ’n verhouding tussen hulle wat enduit deel van die verhaal uitmaak en verwagtinge by die leser skep.  

Nes van Aella se ondersoeke is kolonel Alex MacLachlan belas met ’n ondersoek na die renosterstropery tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Hy moet ’n magtige sindikaat ontbloot en raak ’n getuie van die koelbloedige moord op twee stropers. 

Soos ’n goeie riller tel hierdie een stoom op ná ’n goeie ontknoping. Die wapen waarmee die moord gepleeg is, word met drie ander misdade op verskillende plekke verbind. Wat is die verband tussen hierdie moorde en die een op die landdros? Dit laat O’Malley en MacLachlan saamwerk en lei tot verrassende ontdekkings wat almal opgevolg moet word. 

Breytenbach het haar reeds as een van die land se beste krimiskrywers gevestig en bou in Blinde Gode voort op haar reputasie. Die skrywer is self ’n aanklaer en bedank in haar outeursnota ’n klomp kenners wat almal bydra tot haar gesaghebbende en gedetailleerde ontleding van die regstelsel en haar beskrywing van misdaadtonele en nadoodse ondersoeke. 

The post Resensie: <em>Blinde gode</em> deur Dibi Breytenbach appeared first on LitNet.

Grensgeval deur Marita van der Vyver: ’n resensie

$
0
0

Titel: Grensgeval
Skrywer: Marita van der Vyver

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903796

Marita van der Vyver se jongste roman, Grensgeval (2019), word aangekondig as ’n roman “waarin sy Suid-Afrikaners se aandeel in die Grensoorlog onder die loep neem”. Dit skep die verwagting dat sy met dié roman haar bydrae lewer tot grensliteratuur – ’n versameling tekste oor wat as die Grensoorlog bekendstaan. Hierdie oorlog het in die eertydse Rhodesië, Suidwes-Afrika (nou bekend as Zimbabwe en Namibië) en Angola gewoed en die (literêre) tekste daaroor is meestal deur mans geskryf. Verwonderlik is dit skynbaar nie, want dit is veral mans wat van die vroegste tye af as soldate aktief by oorloë betrokke is. Vroue speel weer gewoonlik ’n geringer rol in die representasie van oorloë, asof hul minder daardeur geraak word, hoewel Afrikaanse literêre werke oor die Tweede Vryheidsoorlog, geskryf deur vroue, in die afgelope dekades toegeneem het (sien Van Coller 2009:50–55). Die meeste van hierdie werke is toeganklik en stel eerder menslike verhoudings as historiese feite, dikwels ’n liefdesverhaal, op die voorgrond.

’n Mens hoef slegs aan die Tweede Vryheidsoorlog, die Tweede Wêreldoorlog en die Balkanoorlog van die jare tagtig en negentig te dink om te besef dat vroue dikwels verál die slagoffers van oorloë is – deur verkragting, ontberings én psigologiese druk (byvoorbeeld die verwagting dat hulle “sterk” moet bly en hulle kinders en mans daadwerklik moet onderskraag). Dit is opvallend dat vroue literêr gesproke veel eerder hulle hand gewaag het aan die niefiksionele representasie van oorlog en dan dikwels in werke soos dagboeke wat as ego-dokumente bestempel sou kon word. Voorbeelde is die talle dagboeke van Afrikanervrouens ná die Vryheidsoorlog (soos dié van Anna Barry, Nonnie de la Rey en Alida Badenhorst) en heelwat dagboeke – waarvan enkeles eers later bekendheid verwerf – ná die Eerste Wêreldoorlog, soos dié van die Vlaamse Virginie Loveling, die Britse Enid Bagnold en die Amerikaners Mary Borden en Ellen la Motte. Nóg bekender selfs is die dagboeke van die Nederlandse Anne Frank en Etty Hillesum ná die Tweede Wêreldoorlog.

Daar bestaan wel Afrikaanse tekste deur vroue oor die Grensoorlog, onder meer Maretha Maartens se ietwat soetsappige Verste grens (1991), die oorskatte Die heidendogters jubel (1995) van Riana Scheepers en Van der Vyver self se roman Die dinge van ’n kind (1994). Inderwaarheid bestaan daar baie raakpunte tussen hierdie werk van Van der Vyver en haar jongste roman deurdat Van der Vyver nie in een van die twee romans werklik die “Suid-Afrikaners se aandeel in die Grensoorlog onder die loep neem nie”. So ’n beskrywing skep die verwagting van ’n deeglik gedokumenteerde relaas vol feitelikhede oor die Grensoorlog met ’n oorsigtelikheid. Dit is nie die geval in die twee genoemde romans nie. Albei romans speel af (in die geval van Grensgeval net ten dele) in die sewentigerjare van die twintigste eeu en adem dieselfde atmosfeer van stil ontnugtering, geheimhouding, onderdrukking, onvryheid en paternalisme. Sentraal staan die argetipiese Van der Vyver-Afrikanerman wat outoritêr, magsbehep en aggressief is en in sy optrede (ook seksueel) en vroulike behoeftes minag. In die eersgenoemde roman is Pine Pienaar en in die jongste roman Waldie vergestaltings van dié tipe man. In albei die romans is die teenpool van hierdie man (ook versinnebeeld deur Broederbonders, NP-politici en militêre leiers) die sensitiewe, kunssinnige man met sy liefde vir kuns, protesmusiek en letterkunde. Dikwels rook hy dagga, is ’n pasifis óf dienspligontduiker; kortom staan hy in voorkoms en optrede buite die rigiede verwagtingspatroon van destyds.

In albei die werke staan ’n bepaalde (liefdes)verhouding sentraal en word die historiese agtergrond met breë kwashale geskilder. Oor die oorlog self, die aanloop daartoe, die verloop daarvan en die redes vir Suid-Afrikaanse deelname word daar maar bitter min gesê. Ook ontbreek ’n deeglik gefundeerde samevattende evaluering van al hierdie aspekte. Daar is wel kritiese vermelding van die nuttelose sterwe van “wit seuns wat op die grens geskiet is vir volk en vaderland. Swart skoolkinders wat in die townships geskiet is, vir ’n ander volk en vaderland” (bl 12 van Die dinge van ’n kind) en gelykluidende uitsprake soos dienspligtiges wat beskryf word met “haarlose borskaste en dun arms van seuns wat nie genoeg kry om te eet nie”; “‘iewers aan die grens’ het haar toekomstige minnaar en man – en duisende ander dienspligtiges soos hy – mense doodgemaak, nie slegs ‘terroriste’ nie, maar soms ook vroue, kinders, bejaardes, babas” (Grensgeval, 8; 11). Verset teen verpligte diensplig figureer ook in albei die boeke.

Dit was (as ek goed onthou) Adriaan Roland Holst wat van sy medeskrywer en digter, Simon Vestdijk, gesê het dat dié vinniger skryf as wat die Liewe Vader kan lees. Marita van der Vyver staan wat haar gemengde oeuvre van vertalings, tydskrifartikels, radiodramas, kinder-en jeugliteratuur, romans en niefiksie (wat resepteboeke insluit) betref nie ver agter Vestdijk nie. Kwantiteit en kwaliteit is egter nie noodwendig teenpole nie, soos die omvangryke oeuvres van baie skrywers (soos Louis Couperus, WF Hermans én Vestdijk self) bewys. Desondanks is daar wel bepaalde opmerklike aspekte verbonde aan ’n groot oeuvre: werke is nie almal op dieselfde vlak wat gehalte betref nie en kenmerkende gemene delers (tematies, stilisties en struktureel) raak nie net opvallend nie; soms selfs voorspelbaar. Marita van der Vyver se debuutroman, Griet skryf ’n sprokie (1992), en Wegkomkans (1999) is vroeë hoogtepunte in haar oeuvre, terwyl Misverstand (2017) weer een van die dieptepunte in haar werk is.

Die kenmerke van Marita van der Vyver se werk is dat dit dikwels outobiografiese gegewens bevat. Soos by André P Brink toon haar vroulike hoofkarakters ’n vaste stramien: hulle is dikwels blond, buitestanders, teruggetrokke en onseker aan die een kant en hardekwas, onafhanklik, wilskragtig, sensueel, seksueel geëmansipeerd en selfs bykans promisku aan die ander kant. Hulle raak ook toenemend bewus van die aftakeling wat ouderdom meebring en die sterflikheid wat op die agtergrond huiwer. ’n Vaste gegewe is die feit dat hulle dikwels buite geykte verwagtings val. Soos gesê word ook die manlike karakters gestereotipeer en soms bykans karikaturaal voorgestel. Haar ideaal-tipes is selde Afrikaners; veel eerder Engels, Frans of Kubaans óf “alternatiewe” Afrikaners met min van die tipiese identiteitskenmerke wat Olivier (2006:490) aan Afrikaners toeskryf: “kulturele homogeniteit, eksklusiewe (letterlik uitsluitende) Afrikaner-nasieskap, blankheid (as rasse-eienskap), Afrikaanse kerk-georiënteerdheid, Afrikaanstaligheid en ’n politieke verbintenis met ’n eie kollektiewe grondgebied”. Daarom speel baie van haar werk ook in ander (eksotiese) ruimtes soos Frankryk of Kuba af en toon van haar werke ook die kenmerke van reisliteratuur. Intertekstualiteit speel ’n belangrike rol in Van der Vyver se werk en belangrike literêre werk speel telkens ’n rol in haar romans (soos Boccaccio se Decamerone in Wegkomkans).

Straattoneel in Kuba (Foto: Unsplash)

Daar is narratologies gesproke by Van der Vyver ’n duidelike voorkeur vir ’n geringe vertelafstand (en interiorisering) deur gebruikmaking van ek- of personale vertellers, dagboeke en briewe. Stories word dikwels gekaats teen ’n herkenbare historiese agtergrond wat by tye karakters se lot bepaal. ’n Konstante aspekte van haar historiese representasie is die afkeer van apartheid, militêre optrede in townships en buurlande en van politici in die algemeen. ’n Geliefde (sub-)genre is die liefdesverhaal met al sy kenmerke van gefnuikte liefde en ontnugtering tot die moontlikheid van geluk. Stilisties wissel sy graag registers af deur byvoorbeeld die insluiting van Engelse woorde en veral skunnighede: “Nina het gelag en gevra of sy dan nie weet hoe die kruisvaders geplunder en genaai het op hulle soektogte na die Heilige Graal nie” (71). Trekke van die sprokie (die prinses wat vasgevang is in ’n toksiese verhouding of psigologiese trauma, die “held” en die bose skoonma) maar ook temas soos aborsie, miskrame, egskeiding en selfdood kom dikwels voor. Deurgaans word beklemtoon dat veral die woord en die taal (skryf) ’n amulet teen die vuur kan wees en redding kan bring; so ook vriende en vriendskaplike verhoudings.

Van der Vyver se werk is dikwels siklies gekonstrueer, omdat die (vroulike) hoofpersoon ’n individuasieproses – met liminale kante – voltooi. Nie alleen gaan dit hier weer oor peregrinasie nie; die hoofpersoon verkry insig en kan uiteindelik voortbeweeg. In die resepsie van haar werk val op dat kritici (en sy self) hulle by herhaling uitgelaat het oor een van dié kwessies in die Afrikaanse letterkunde: die verskil tussen esoteriese, elitêre en toeganklike literatuur. In Carstens en Raidt (2019:509) word Van der Vyver ingedeel by skrywers van verstrooiingsliteratuur (skynbaar selfs nie eers goed genoeg vir die kategorie “intelligente massalektuur” [508] nie). Verstrooiingsliteratuur is, volgens hulle definisie, “lekkerleesboeke (fiksie) oor mense en hulle dinge”.

Daar is weliswaar aspekte wat Van der Vyver se werk bestempel as behorende tot die “middelmaat”: blokkarakteriserings; stereotipering; oorduidelike skurke en helde; die neiging tot ’n bepaalde oppervlakkigheid (“gemoedelikheid”) en selfs naïwiteit wat betref indringende politieke kommentaar en kritiese historiese representasie (byvoorbeeld van figure soos Che Guevara en Fidel Castro in die jongste werk). Desondanks is Marita van der Vyver ’n rasegte skrywer wat skynbaar moeiteloos skryf, juis omdat sy haar vak tot in die puntjies goed beheers. Ook ’n verteller by uitstek, van boeiende stories met interessante karakters en ruimtes.

Che Guevara en Fidel Castro (Foto: Openbare domein)

Grensgeval is geen uitsondering nie. Theresa Marais is ’n middeljarige vrou wat skynbaar ’n ekwilibrium bereik het: woonagtig in ’n relatief aangename omgewing, redelik gelukkig in haar bestaan en met haar werk en rustig ná ’n traumatiese egskeiding en woeste seksuele avonture daarna. Nie verniet woon sy in Observatory nie; sy het haar mettertyd ontheg van die aktiewe bestaan en veel eerder die lewe (en mense) afstandelik begin betrag. Hierdie oënskynlik rimpellose bestaan word wreed versteur deur die ontdekking van ’n brief tussen ander briewe en foto’s in ’n boks wat aan haar gestorwe man Theo (van wie sy al vroeër geskei het) behoort het. Hierdie brief van ’n Kubaanse soldaat (wat tydens die Grensoorlog deur haar man gedood word) aan sy dogter is die motoriese moment wat nie net ’n reeks gebeure laat ontvou nie, maar ook Theresa se onderdrukte herinnerings aktiveer.

In die res van die roman is daar struktureel ook sprake van ’n ekwilibrium: soos sy progressief vorder in haar soektog na die dogter aan wie die brief gerig is – selfs tot in Kuba – keer haar gedagtes retrospektief terug na haar jeugjare, veral tydens die jare sewentig toe die Grensoorlog in volle gang was én na haar ontmoeting en latere huwelik met Theo. Maar veral ook na sy toenemende aftakeling, ’n episode wat sy eintlik verdring het. Die roman se titel is weer eens meerduidig. In die eerste plek slaan dit op Theo, wie se siekte letterlik terug te voer is na sy ervarings tydens die Grensoorlog. Maar ’n grensgeval is ook iets wat nie duidelik klassifiseerbaar is nie en by die een of die ander rubriek kan hoort. In hierdie roman dien die Grensoorlog as voorbeeld hiervan: Is iemand ’n vryheidsvegter of terroris? Wie is die helde – die dienspligtiges of dienspligontduikers?

Struktureel werk die roman ook met doelbewuste parallelismes: Kuba en Suid-Afrika ten opsigte van die vroeëre onderdrukkende regimes; die onervare (en selfs onwillige) soldate aan beide kante; die magtige propagandaveldtogte in albei die lande, ensovoort. Op ’n ietwat melodramatiese wyse is Theresa se reis na Kuba ook ’n boetedoening vir haar man se optrede en “die grootskaalse bedrogspul waarmee die Suid-Afrikaanse regering besig was” (15). Tipies van peregrinasieromans is die letterlike reis terselfdertyd ’n innerlike psigologiese reis na verdronge en vergete aspekte van die eie bestaan.

Die besoek aan Kuba bied ruimskoots geleentheid om die liefdesverhaal en die reisverhaal te meng. Van der Vyver gee ’n interessante blik op ’n land wat steeds nie een van die hoofbestemmings van Suid-Afrikaanse toeriste is nie met veral uitvoerige beskrywings van mense, plekke, kos en kultuur. Oor die gewelddadige revolusie en die nagevolge daarvan (soos onteiening, armoede, sensuur en onderdrukking), asook oor die mislukte inval by Varkebaai en die Kuba-krisis, is daar bykans niks nie. Tog raak nog ’n parallel algaande duideliker. In beide Suid-Afrika en Kuba is die omverwerping van ’n regime begelei deur drome van ’n geluksalige én ’n suksesvolle toekoms. Algaande het ontnugtering ingetree en het misdadigheid, korrupsie, geweld en armoede die realiteit geraak.

Om die verloop van Theresa se soektog te beskryf, sou leesplesier bederf. Dis genoeg om te sê dat die soektog nie moeiteloos verloop nie en talle afdraaipaadjies op verskeie vlakke het. Boonop is daar weer die onwaarskynlike sprokiesprins en ander redders, asook mense en gebeure wat die soektog dwarsboom. En of daar ’n gelukkige einde aan hierdie sprokie is, sal lesers maar self moet vasstel.

Grensgeval is ’n onderhoudende boek met genoeg storiekinkels én diepgang om te boei.

Bronnelys

Carstens, WAM en E Raidt. 2019. Die storie van Afrikaans – Uit Europa en van Afrika: Biografie van ’n taal. Pretoria: Protea Boekhuis.

Olivier, B. 2006. Die kompleksiteit van identiteit in demokrasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(4):482–497.

Van Coller, HP. 2009. Prosakroniek: 1998–2000: skrywers op die tweesprong. In Van Coller, HP. 2009. Tussenstand. Letterkundige opstelle. Pretoria: Van Schaik.

The post <i>Grensgeval</i> deur Marita van der Vyver: ’n resensie appeared first on LitNet.

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

$
0
0

Titel: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089216

Op ’n Woensdagmiddag vroeg in 2013 laai ek een van Afrikaans se mees gerespekteerde literatore by Rosebank se Gautrein-stasie op om na die universiteitskampus in Aucklandpark te neem. Daardie jaar tree hierdie emeritus professor as gasdosent vir die honneurskursus oor die Afrikaanse prosa op, en ek, as pas aangestelde (tydelike) letterkundedosent, speel haar chauffeur. Dis my jaar van Driving Miss Daisy. Daardie middag, as inleiding tot haar kursus waarby ek gretig ingesit het om te luister en te leer, maak sy ’n stelling wat my siening van letterkunde ingrypend verander: Literatuur is ’n produk van die lewe waardeur ’n mens die problematiek van ons tyd leer ken en selfs beter verstaan. Die prosa, het sy aangevoer, word gevorm deur konteks en geskiedenis, en ontstaan deur iemand wat deel van ’n gemeenskap is.

Die daaropvolgende jaar skryf ek in vir my doktorsgraad in Afrikaanse letterkunde, met ’n onderwerp wat bogenoemde stelling as vertrekpunt neem en spesifiek fokus op die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ná 1994. Aan die einde van 2019, tydens die finale afronding van my proefskrif, word ek versoek om Etienne van Heerden se nuutste roman te resenseer. As selferkende Van Heerden-dissipel aanvaar ek die versoek sonder huiwering. Die afgelope twee jaar was ek toegewyd gefokus op my proefskrif, en het ek nie my hand aan enige resensies gewaag nie. Watter beter skrywer as Van Heerden om weer tot die Afrikaanse resensie terug te tree! Boonop het ek nodig om myself los te maak van my proefskrif en van hierdie onderwerp wat my by tye tot waansin gedryf het. Hierdie resensie, meen ek, sou die perfekte geleentheid bied om dit te doen.

Aikôna.

Want sien, Etienne van Heerden se nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, moes deel van my doktorale studie gewees het. Nie alleen bied hierdie roman ’n magdom besinnings oor Afrikaneridentiteit in die postkoloniale Suid-Afrika van ná 1994 nie, maar dit is ’n roman wat die leser uitdaag: ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik maar ook internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. En wat presies is daardie beeld wat die leser vind?

Dis die tyd van Trump, fopnuus, sosiale media, toksiese maskuliniteit, blackface, grondgrype en die konstante aanmaning om woke te wees.  Dis die tyd van #RhodesMustFall, #FeesMustFall, en ’n rits ander hutsmerke. Dis die tyd van selfsensuur, politieke korrektheid, en die verwagting dat Afrikaners onsigbaar moet wees. Om van hierdie roman as tydsdokument te praat, sou nie verkeerd wees nie. Talle werklike nuusgebeure word op kreatiewe wyse by die verhaal ingewerk.

Teen hierdie agtergrond leer ken die leser verskeie uiteenlopende karakters. Ian Brand, die Kaapstadse prokureur en kampvegter vir Afrikaans, stuur in ’n oomblik van frustrasie ’n ondeurdagte twiet waarin hy dienslewering kritiseer. ’n Twitter-storm bars los, wat aan Ian die nuwe naam as die Twietboer besorg, en wat die lewe vir hom warm maak. As deeltydse student in ’n vertaalkundekursus wat gemoeid is met die wyse waarop Suid-Afrikaners hulself in ’n nuwe era behoort te vertaal, jaag Ian sy klasmaats se bloeddruk gedurig op met sy uitlatings oor Afrikaans en Afrikanerskap. Ian vind ontvlugting in sy vurige seksuele verhouding met Elizabeth, ’n uitgewer. Elizabeth is bevriend met Thuli Khumalo wat sy as sensitiwiteitsleser vir haar uitgewery se manuskripte gebruik in die tyd van pc-kultuur. Thuli is ’n bekende studenteaktivis, die nuwe Winnie Mandela, en leiersfiguur in die Fees Must Fall-beweging aan die Universiteit van Kaapstad. As medestudent in die vertaalkundekursus, bots sy konstant met Ian se sienings wat sy as patriargaal, chauvinisties en koloniaal ervaar. Dan is daar Jerome Maarman, ook ’n student saam met Ian en Thuli, maar anders as hulle, het hy nie die luukse van ’n bevoorregte lewe nie, maar veg hy elke dag vir oorlewing in ’n selfgemaakte shelter langs die N2. As bruin man is hy ’n pion in die ideologiese argumente tussen Thuli as swart vrou en Ian as wit man. In ’n oeuvre vol onvergeetlike karakters het Van Heerden met Jerome ’n karakter geskep waarvan ek nog nie genoeg gekry het nie. Ek hoop van harte dat daar weer aan hierdie komplekse en tragiese karakter ’n stem gegee sal word in volgende romans. En so van komplekse karakters gepraat: dis presies hoe meeste van die karakters in hierdie roman uitgebeeld word, veral soos gesien in Elizabeth se wisselende ideologiese oortuigings. Suid-Afrika, so wil dit voorkom, is ’n skisofreniese land, so hoekom sal haar landsburgers anders wees?

Die leser ontmoet ook die plastiese chirurg, Piekenier Leqluerck, en sy fassinasie met die agterkant van mense se knieë, oftewel die popliteale fossa; Bill van Bellville, wat ’n bordspeletjie “Nkandla” ontwikkel het, en vas oortuig is dat die Afrikaner in ’n krisis verkeer. Dan is daar ook die Stellenbosse mafia wat Ian by hulle pogings wil betrek om veilige ruimtes vir Afrikaners te skep waarbinne hulle van Suid-Afrika kan afstig; Thuli se ouers, die ANC-veterane wat destyds in ballingskap in Londen was; die slinkse Sello, drinkebroer van Thuli se pa; en doktor Stephen Eliot, die ouskool-liberalis aan die Universiteit van Kaapstad en dosent in vertaalkunde, wat sy hande vol het om sy studente tevrede te hou terwyl die gemoedere hoog loop op kampus.

Van Heerden bring al hierdie karakters – en nog vele ander – op meesterlike wyse bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Daarom is die roman aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser sal boei.

Ian se twiet wat die groot konflik in die roman veroorsaak, is tekenend van die hedendaagse tendens waar sosiale media aan almal ’n stem en opinie bied, daar waar hulle agter die skerms van hulle rekenaars of slimfone skuil – sonder om aan die gevolge van hul plasings te dink. Terselfdertyd is dit ook tekenend van hoe ons, ten spyte van vryheid van spraak, steeds gesensureer word. Die roman bied uiteindelik ook ’n besinning oor die rol van tegnologie, en watter implikasie dit vir ons privaatheid inhou. Met biblioteke as ruimtes van kennis wat weens assosiasies met kolonialisme deesdae geteiken word, word toekomstige kennis eerder in kunsmatige intelligensie gevind, met Van Heerden wat op fassinerende (en skrikwekkende) wyse aandui hoe hierdie tegnologie in die toekoms deel gaan wees van ons alledaagse lewe, wat sulke ingrypende gevolge vir die mensdom inhou, dat dit as’t ware die einde van die wêreld soos ons dit ken, sal beteken. Die toekoms van Afrikaans, en die moontlikhede wat veeltaligheid vir ’n diverse land soos Suid-Afrika inhou, word eweneens onder die soeklig geplaas, en daar word selfs gespeel met die idee van Afrikanerkultuur as ’n groot biblioteek wat besig is om af te brand.

Hierdie roman dien uiteindelik ook as biblioteek van Van Heerden se eie oeuvre. Bekende temas word weer hier gevind: rassespanning, vermomming, kollektiewe en individuele skuld, en die soeke na identiteit. Ook wat die struktuur betref, maak Van Heerden weer eens gebruik van bekende tekstuele aspekte wat sy vorige romans kenmerk: die wisselende vertelperspektief, die jukstaponering van geografiese ruimtes, die rol van briewe, en ’n oop romanslot. Saartjie Windvogel, die talentvolle viooldogtertjie van Matjiesfontein in Van Heerden se In stede van die liefde, wat die leser later in sy roman Klimtol as die verstote Snaartjie leer ken, keer in hierdie roman terug as Snaar, maar in ’n heel ander (fisiese) gedaante. Dit is ook die idee van die boek as biblioteek van ander literêre werke wat geaktiveer word deur intertekstuele verwysings na, onder andere, George Orwell se 1984 en J. van Melle se Bart Nel.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld kan beskryf word as ’n spanningsroman, in die wydste sin van die woord. Die roman begin met ’n moord, met die leser wat in spanning deur hierdie allemintige bielie van ’n boek moet lees om antwoorde op hierdie treffende verhaalopening te vind. Dis met rede dat hierdie roman oor die 600 bladsye beslaan, want om die uiteenlopende hedendaagse spanning op die sosio-maatskaplike en -politieke front te boekstaaf, is geen eenvoudige of korterige taak nie. Vanweë haar betrokkenheid by die Fees Must Fall-beweging, verkeer Thuli in spanning met haar ouers teen wie sy in opstand kom. Aanvanklik sukkel sy ook om as sogenaamde coconut, gevorm deur haar grootwordjare in Londen, haar met Afrika te identifiseer tydens hul terugkeer. Ian verkeer in spanning met sy traumatiese verlede op die Grens, maar ook as Afrikanerman met die onstuimige Suid-Afrika van vandag. Snaar, in transisie, verkeer in spanning met sy lyf en die werkinge van institusionele manlikheid. Ook Jerome is in spanning met die sisteem, die nuwe Suid-Afrika, en Madiba se idee van ’n reënboognasie wat hom as bruin man gefaal het, want alhoewel dit demokrasie na Suid-Afrika gebring het, is daar steeds nie vryheid vir alle Suid-Afrikaners nie. Spanning word ook geskep met die leser wat as speurder moet optree om uit te vind wie die kruisboog-moordenaar is wat Kaapstad teister. Dis veral in die laaste twintig bladsye van hierdie roman waar die spanning só koorsagtig hoog loop, dat die leser nie vinnig genoeg kan omblaai nie.

Op ontstellende wyse herinner die roman dat sosio-maatskaplike en -politieke chaos op weldeurdagte wyse geskep en gemanipuleer kan word, juis as manier om beheer uit te oefen – alles in die naam van korrupsie as die groot merker van ons tyd. Die grootste beloning van hierdie roman is egter die uitsonderlike wyse waarop Van Heerden aandui hoe kompleks maar ook bisar rassekwessies in Suid-Afrika kan wees. Terselfdertyd word daar ook besin oor die rol, relevansie en selfs luuksheid van fiksie in ’n land met dwingende probleme, en word die leser herinner aan Philip Roth se stelling: “Actuality is continually outdoing our talents.”

Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïes: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek, of hom daaraan steur om polities korrek te wees nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Sonder om bloot beskrywings van die stormagtige situasies te bied wat soos ’n ontnugterde gesanik of gekerm klink, of wat selfs as voorskriftelike prekery ervaar kan word, ondersoek Van Heerden hierdie kwessies oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Van Heerden, by monde van Elizabeth tydens ’n gesprek met Thuli oor ’n manuskrip se kulturele gepastheid, stel dit soos volg: “Vir my is die sterkpunt van die boek dat elke karakter sy of haar kans kry om hul sê te sê. Dink jy nie dis ideologies mooi gebalanseerd nie? Dalk is dit eintlik ’n baie liberale uitbeelding van ons land se probleme […]” (130). Dieselfde geld vir Van Heerden se roman.

Net soos Ian, mag talle lesers voel dat hulle ook eerder wil wegbreek uit hierdie “uitputtende land” (165), en daarom nie ’n roman daaroor wil lees nie. Die roman begin immers met ’n trigger warning! Maar dalk is dit juis die rede hoekom hierdie roman gelees móét word: omdat dit poog om insigte in hierdie gekwelde land te bied en al hierdie brandende kwessies te verstaan; omdat dit gemoeid is met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel. En dit is nodig, want soos die roman aandui, is dit onmoontlik om van hierdie omstandighede te ontsnap. Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n broodnodige roman waarmee Suid-Afrikaners die nuwe dekade kan betree.

The post Resensie: <em>Die biblioteek aan die einde van die wêreld</em> deur Etienne van Heerden appeared first on LitNet.

Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie

$
0
0

Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie

Engelina du Plessis, Skool vir Toerismebestuur, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van hierdie navorsing was om die mededingende faktore en sleutelaspekte te bepaal wat wynplaaseienaars en -bestuurders nodig ag om ’n suksesvolle wynfees aan te bied, met spesifieke verwysing na Wacky Wine en Wine on the River wat jaarliks in Robertson in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, aangebied word. Die rede vir hierdie ondersoek is dat die meerderheid wynplase in die omgewing aan beide feeste deelneem, wat ’n groot kapitaaluitleg tot gevolg het. Die vraag ontstaan dus of dit werklik die moeite werd is om aan albei feeste deel te neem en wat volgens wynplaaseienaars nodig is om een suksesvolle wynfees aan te bied. Die uniekheid van die twee feeste is gebruik as agtergrond waarop hierdie menings gebou is. Om die doel van die studie te bereik is onderhoude met die eienaars en bestuurders van nege van die wynplase in die Robertsondistrik gevoer. Die menings van hierdie respondente met betrekking tot sleutelsuksesfaktore is bepaal. Resultate dui daarop dat die regte mark, ’n verskeidenheid produkte en ’n persoonlike-diens-aanslag van die belangrikste faktore is wat aanleiding gee tot ’n suksesvolle wynfees wat volhoubaar is. Die resultate sal wynfeesorganiseerders in staat stel om beter bestuursbesluite te neem ten opsigte van bemarking, produkte gekoppel aan die fees, die program en die algemene bestuur daarvan.

Trefwoorde: mededingendheid; sleutelsuksesfaktore; toeristebestemming; volhoubaarheid; wynfeeste

 

Abstract

What makes a wine festival successful? The Robertson Valley story

The purpose of this research was to determine the competitive factors and critical aspects that wine farm owners and managers deem necessary to host a successful wine festival, with specific reference to Wacky Wine and Wine on the River, which are held annually in Robertson, Western Cape, South Africa. The reason for this investigation is that the majority of wine farms in the area participate in both festivals, resulting in a large capital outlay. The question, therefore, exists whether it is worthwhile to participate in both festivals and what they believe is necessary to present one successful wine festival. The uniqueness of the two festivals provides the background against which these opinions were formed. Interviews were conducted with the owners and managers of nine wine farms in the Robertson district. The opinions of these respondents regarding critical success factors were determined. Results indicate that the right market, a variety of products, and a personal service approach are some of the most vital factors that lead to a thriving and sustainable wine festival. The results will allow wine festival organisers to make better management decisions regarding marketing, products linked to the festival, the programme, and general management.

Keywords: competitiveness; critical success factors; sustainability; tourist destination; wine festivals

 

1. Inleiding

Wyntoerisme het oor die afgelope paar jaar baie aandag geniet, beide binne die akademiese en die bedryfswêreld, weens die positiewe impak wat dit op bestemmings het (Sevil en Yuncu 2009). Verskeie wyngebiede gebruik toerisme om hul wyne te bemark en bewustheid te skep vir hul produkte asook om ’n bydraende inkomste vir wynplase te bewerkstellig (George 2006). As gevolg van hierdie feit groei wyntoerisme wêreldwyd en word dit gesien as ’n belangrike ekonomiese en sosiale drywer (Ferreira en Hunter 2017). 

Wyntoerisme is deel van agritoerisme weens die duidelike plasing binne alternatiewe- of nistoerismesektor (Carmichael 2005). Hall en Macionis (1998:267) definieer die wese van wyntoerisme as “’n besoek aan wynplase, wingerde, wynkelders, wynfeeste en wynskoue vir wynproe en/of die belewing van eienskappe van druiwe en die wyndistrik wat as primêre doel van die besoeker dien”. ’n Meer omslagtige definisie van wyntoerisme sou verwys na verskeie toerismeprodukte binne die wyndistrik wat ’n unieke ervaring bied aan besoekers en sluit in: wyn, restaurante, kulture, kuns, opvoeding en reis (Dowling 1998), asook die fokus op die landskap, aantreklikhede, geskiedenis en erfenis en die wynproduksieproses (Van Westering 1999). Hierdie definisies leen hulle daartoe dat wyntoerisme ook deel uitmaak van verskeie ander vorme van toerisme, en meer spesifiek van feeste as deel van gebeurtenistoerisme, soos in Figuur 1 uiteengesit.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van die plasing van wyntoerisme binne die toerismebedryf (Skrywer se eie samestelling) 

Die aanbieding van feeste is een manier waarop wynplaas-bemarkers, -bestuurders en ‑bestemmingsbemarkers kan fokus om hierdie sektor te ontwikkel en te laat groei. Feeste en gebeurtenisse was nog altyd ’n belangrike element in mense se lewens en hierdie neiging word versterk deur die vinnige groei van die fees-en-gebeurtenis-sektor in die toerismebedryf wêreldwyd en veral ook in Suid-Afrika (Du Plessis, Slabbert en Saayman 2017). Gebeurtenistoerisme het een van die belangrikste middele van die ontwikkelingstrategieë van baie dorpe en stede geword en is dikwels daarop gemik om as drywer vir verdere ekonomiese ontwikkeling te dien (Visser 2005:155). 

Die toenemende belangrikheid van feeste word ook in Suid-Afrika ervaar. Dit kan toegeskryf word aan die toenemende behoefte wat mense toon om verskillende kunsvorme, kultuurervarings, tale en tradisies te ervaar (Pissoort en Saayman 2007:255). Suid-Afrika se toerismebedryf bied meer as 600 feeste, en elkeen is uniek volgens die omgewing, besoekende mark, primêre doel van die fees en die bestuurstelsel van elke fees (Kruger en Saayman 2012:147; Getz 2008:404).

Organiseerders en bemarkers beleef verskeie uitdagings om die sukses van hul feeste te verseker en om mededingend te bly (Du Plessis, Saayman en Griffel 2014; Kruger en Saayman 2012:148). Navorsing deur Kruger en Saayman (2012), Slabbert en Viviers (2011) en Botha en Viviers (2012) het aangedui dat verskeie van hierdie feeste binne die Suid-Afrikaanse konteks primêr om dieselfde mark meeding. Om gesond mee te ding en volhoubare groei te verseker is dit van die uiterste belang dat die betrokke rolspelers inligting moet bekom rakende unieke faktore wat mededingendheid verhoog, sleutelsuksesfaktore en die toerismemark. Dit sal hulle dan daartoe in staat stel om hierdie faktore suksesvol te bestuur.

 

2. Agtergrond en doel van hierdie navorsing

Feeste en gebeurtenisse word dikwels gebruik om uitdagings waardeur die meeste bestemmings in die gesig gestaar word, byvoorbeeld deurdat hulle onbekende besienswaardighede en toerismeprodukte en seisoenaliteit moet bestuur en minimaliseer, te oorkom. Hierbenewens word gebeurtenisse of feeste aangewend en aangebied ter bevordering van die bemarking van verskillende bestemmings. Die feeste dien as ’n aantrekking, bou gemeenskapstrots en -identiteit en bevorder stedelike vernuwing, kultuurontwikkeling en volkseie. Dit bevorder die beeld van die bestemming en dien ook dikwels as katalisator ter bevordering van kultuuraktiwiteite wat feeste en gebeurtenisse as ’n toerismeproduk onderskei (Getz 2008:403–6). Die ekonomiese en sosiale voordele van feeste en gebeure maak reeds deel uit van die onderwerpe van vele navorsingsprojekte (Daniels en Norman 2003; McHone en Rungeling 1999; Crompton, Lee en Shuster 2001; Goldblatt 2002; Allen, O'Tool, McDonnell en Harris 2005; Van Niekerk en Coetzee 2011:348), wat daarop dui dat feeste en gebeurtenisse ’n belangrike rol speel ter bevordering van gebiede en dorpe ten opsigte van die verbetering van infrastruktuur en bemarkingstrategie asook ter bevordering van plaaslike en organisatoriese bestuursvermoëns (Getz 2003:2). Die aanbied van feeste is een manier om die ekonomie te bevorder en ’n positiewe sosiale impak te bewerkstellig (Van Niekerk en Coetzee 2011:352). Alhoewel feeste en toerismemarkte nasionaal en streeksgewys van mekaar geskei is, is die grense tussen nasionale toerismebesighede, -produkte en -bestemmings in die afgelope dekades geneig om te verdwyn en almal ding mee om dieselfde mark, wat ’n mededingende voordeel in gevaar stel (Navickas en Malakauskaitė 2009:37).

Een manier waarop hierdie probleem onder die loep geneem kan word, is deur ’n beter begrip te verkry van die mededingendheidsfaktore, wat bestuurders insig kan gee in hoe om vraag en aanbod te balanseer en ’n beter produk of diens te lewer wat uniek is tot elke fees. Om as ’n fees mededingend te wees is om ’n unieke produk en ervaring te bied. Dit kan bereik word alleenlik as organiseerders, bemarkers en bestuurders tred hou met veranderinge in toeriste se behoeftes. Die eise van globalisering sowel as dié van ’n gesofistikeerde bedryf, en die verskillende faktore wat daartoe bydra, moet ook in ag geneem word (Crouch en Ritchie 2000; Poon 1993; Lickorish 1991).

Mededingendheid is ’n omvattende begrip, en navorsers ontwikkel elke dag nuwe strategieë en modelle om hierdie begrip beter te definieer en te omskryf. Vir Michael Porter (1990), Ritchie en Crouch (1993) en Crouch en Ritchie (2000), wat beskou word as die leiers op die gebied van navorsing oor mededingendheid, gaan mededingendheid oor die soeke na ’n gunstige mededingende posisie wat winsgewendheid en volhoubaarheid bevestig ten spyte van eksterne faktore (Porter 1985; Crouch en Ritchie 2000). Hierdie navorsers waarsku dat mededingendheid sonder volhoubaarheid ’n illusie is. Om mededingend te wees, moet ’n bestemming se toerisme-ontwikkeling volhoubaar wees, nie slegs ekonomies nie, maar ook ekologies, sosiaal, kultureel en polities. Daar kan dus aangevoer word dat die mees mededingende bestemming die een is wat die volhoubare welstand van die inwoners in ag neem.

Mededingendheid is egter ’n komplekse verskynsel wat uit verskillende oogpunte geanaliseer moet word, wat die vraag-en-aanbod-kant van produkte insluit. Porter (1993) het die produksiefaktore beskryf as die belangrikste insette wat nodig is om in enige bedryf mee te ding en globale mededingendheid te handhaaf. Hy maak dit duidelik dat dit slegs die kombinasie van hierdie faktore is wat van produk tot produk en van bedryf tot bedryf verskil. Die geheim is egter om die regte mengsel van faktore te gebruik om mededingendheid te verseker. Ritchie en Crouch (1993) het die uniekheid van die toerismebedryf beklemtoon deur mededingende faktore te identifiseer wat meer gegrond is op die dienservaring, in teenstelling met die produksiefaktore wat Porter as prioriteit stel. Ritchie en Crouch (1993) bespreek ’n paar faktore wat as belangrik beskou word om globale mededingendheid te bepaal, naamlik: waarde (waarde vir geld, waarde en toepaslikheid); kwaliteit (kwaliteit van diens, kwaliteit en egtheid van die ervaring, kwaliteit van die fisiese instellings); en miskien die belangrikste faktor: om die konteks te verstaan wat toeriste van mekaar onderskei en toerismeprodukte uniek maak (Hu en Richie 1993).

Die identifisering en evaluering van die mededingende faktore rakende toerisme en bestemmings is ’n algemene navorsingsprobleem (Navickas en Malakauskaitė 2009:37). Namate toerismemarkte groei en die belangrikheid van verskillende sektore vir toerisme ontwikkel, word bogenoemde navorsingsprobleme meer betekenisvol en meer spesifieke navorsingsbenaderings tot die unieke produk of bestemming noodsaaklik. Alhoewel verskeie studies gefokus het op bestemmings en mededingende faktore in toerisme, was min spesifiek gerig op die mededingende faktore van feeste en gebeurtenisse. Daar is dus nog onsekerheid oor die mededingendheidsfaktore van produkte binne toerisme en veral wyngerigte feeste binne Suid-Afrika.

Mededingendheidsfaktore is egter nie die enigste noodsaaklike bestanddeel vir die volhoubaarheid van toerismeprodukte (in hierdie geval feeste) nie, en is verder ook onderworpe aan interne en eksterne faktore, die bestuur van sleutelsuksesfaktore, die bepaling en ontwikkeling van die korrekte teikenmark en soveel meer (Marais, Du Plessis en Saayman 2016). Wat bydra tot hierdie dilemma, is dat daar nie ’n resep is wat vir alle toerismeprodukte gebruik en geïmplementeer kan word nie. Wynfeeste verskil byvoorbeeld van musiekfeeste, kunstefeeste en kultuurfeeste. Vir besighede om te oorleef in ’n uiters mededingende mark, is goeie bestuur van groot belang (Page 2003:249), en dit kan slegs met genoegsame inligting oor die betrokke fees en produk plaasvind.

Wynfeeste is deel van wyntoerisme, wat gedefinieer word as die ontwikkeling en bemarking van wynplase en distrikte wat gebou is op die vraag na wyn (Getz en Brown, 2006:79; O’Neill en Palmer 2004:272). Getz (2000) beskryf wyntoerisme vanuit drie perspektiewe; dié van die verbruiker, die wynkelder of wynplaas en die omgewing en gebied wat gekoppel is aan die vraag na wyn, en die aktiwiteite daarom heen. Toerisme is dus belangrik vir hierdie rolspelers waar feeste ’n groot rol in hierdie verband speel (Kruger en Saayman 2010). William en Dossa (2003:28) voeg by dat wynfeeste verbruikers na die wynbestemmings kan lok wanneer die distrikte hoë seisoenaliteit beleef met betrekking tot besoekers en ook ’n rol kan speel ter bewusmaking van die bestemming en dienste wat markposisionering vir wynprodusente en toerismebesighede kan verseker. Ter ondersteuning van laasgenoemde het Yuan en Jang (2008:279) verduidelik dat besoekers ’n positiewe beeld vorm wanneer hulle ’n aangename ervaring by ’n fees beleef, wat dan aanleiding daartoe kan gee dat die besoekers lojale besoekers word.

 

3. Gevallestudie: Wine on the River en Wacky Wine

Wine on the River en Wacky Wine is beide feeste wat jaarliks in die vallei van die Wes-Kaapse Karoodorp Robertson aangebied word. Robertson is in die Breederiviervalleistreek geleë en in 2019 het 46 wynplase langs Roete 62 bygedra tot die vallei se wynproduksie. Die feeste bied plaaslike wynkelders die geleentheid om hul spogwyne ten toon te stel. Die feeste word deur een instansie gereël en bestuur onder toesig van die plaaslike deelnemende wynkelders en -plase.

Wine on the River is die jongste van die twee feeste. Dit het in 2005 ontstaan en word op die oewer van die Breërivier gehou, op ’n feesterrein spesiaal afgebaken vir die tydperk van die fees. Toegangsfooie word gehef in die vorm van ’n dagtoegang- of ’n naweekkaartjie. Die kaartjie sluit in toegang tot die eksklusiewe terrein en die kans om van die vallei se wyne te proe. Die kelders wat deelneem, kan hul wyne tentoonstel en vyf wyne aan elke besoeker skink vir proe. Gedurende die fees is daar kosstalletjies en vermaak wat vir besoekers aangebied word. 

Die fees ding mee met sy susterfees, Wacky Wine, wat vroeër in die jaar gedurende herfs plaasvind. Wacky Wine het in 2004 ontstaan en het ’n unieke vorm aangeneem deur nie ’n spesifieke feesterrein te gebruik nie maar eerder die totale vallei. Wynplase en -kelders is die keuse gegun om dan aan die drie dae se verrigtinge deel te neem waartydens besoekers van een plaas na die volgende kan ry om die wyne op die plaas of kelder self te proe. Slegs ’n paar jaar na die ontstaan daarvan word die Wacky Wine-fees as die grootste streekswynfees in Suid-Afrika beskryf, met meer as 16 076 besoekers in 2009. ’n Opmerklike diens is die fees se Buddy Bus Shuttle, wat in 2009 begin is om ’n verantwoordelike bydrae te lewer tot, en aan te sluit by, die nasionale veldtog van “moenie drink en bestuur nie”. Toegang tot en gereguleerde deelname aan die fees is deur die jare aangepas tot die hede waar besoekers ’n wynpaspoort koop vir die naweek met kaartjies om ’n aantal wyne per plaas te proe.

Na verskeie jare waarin beide feeste deel uitgemaak het van die kalenderjaar se gebeurtenisse van die Robertsonvallei, het die vraag ontstaan of die kompetisie tussen die twee feeste die bestaansreg van een van die feeste in die weegskaal bring. Verhoogde kostes om as uitstaller aan beide hierdie feeste deel te neem, dwing wynplase om die waarde van die blootstelling te herevalueer en ’n keuse tussen die twee feeste te maak. As die bestuurders van die wynplase en organiseerders van Wine on the River en Wacky Wine ingelig kon word oor hoe om die mededingende voordeel van die fees te verhoog en in staat gestel kon word om ’n lojale mark te waarborg, sou die beleggingsopbrengs geregverdig kon word.

Bestuurders word gekonfronteer met ’n toerismemark wat beter ingelig is as voorheen en die feit dat toeriste soortgelyke produkte vergelyk ten einde ’n beter keuse te maak ten opsigte van ervaring, waarde vir geld, kwaliteit en diens (Phakdisoth en Kim 2007:226). Navorsing moet nie aandag skenk net aan die besoekers se persepsies en voorkeure om sodoende volhoubaar te wees nie, maar ook aan die persepsies van produsente en diensverskaffers rakende mededingendheid, om beter praktyke daar te stel. Dit is belangrik dat die bestuurders van feeste ingelig moet wees oor die spesifieke sleutelsuksesfaktore, sowel as die onderskeie feeste se unieke faktore wat bydra tot mededingendheid en volhoubaarheid.

Alhoewel bogenoemde feeste tot dusver suksesvol was, word daar met verskeie wynfeeste in die Wes-Kaap en met mekaar meegeding. Vandaar die reeds genoemde vraag of dit die moeite werd is om as wynplaas aan beide feeste deel te neem. Is daar nog ’n bestaansreg vir beide die feeste in dieselfde vallei? Dit het duidelik geword dat die twee feeste met mekaar vergelyk moet word en die opinies van die deelnemers aan hierdie feeste bepaal moet word deur die volgende te ondersoek: 

  • Aanbevelings rakende die bestuur van die plaas ten opsigte van die feeste. Met ander woorde, die sleutelsuksesfaktore om die fees beter te bestuur.
  • Die mededingende faktore van wynfeeste.
  • Unieke faktore wat bydra tot die sukses van die fees.

 

4. Navorsingsmetode

Soos reeds genoem, het hierdie navorsing gefokus op die Wine on the River- en Wacky Wine-feeste wat in die Robertsonvallei aangebied word. Die doel van die feeste is om besoekers aan die wyne van die vallei bekend te stel en terselfdertyd die besoeker die geleentheid te gun om aan aktiwiteite, avontuur, gesinspret en musiek deel te neem.

Die navorsingsmetode het beide ’n literatuurstudie en ’n empiriese studie ingesluit. Dit het die navorsers in staat gestel om die doelwitte en beoogde uitkomste van hierdie studie te bereik.

Die studie het die kwalitatiewe navorsingsmetodologie aangewend, en ’n semigestruktureerde-onderhoud-gids is gebruik om data van nege deelnemers in te samel; die deelnemers was eienaars en bestuurders van wynplase in die Robertsonvallei. Tematiese analise met behulp van Creswell se ses stappe is vir data-ontleding gebruik. 

Die literatuurstudie was gebaseer op verskeie bronne om die nodige inligting in verband met hierdie studie te bekom. Dit sluit in: akademiese handboeke, konferensiedokumente, verhandelings en proefskrifte, akademiese tydskrifte en ander toerismeverwante literatuur, om slegs enkeles te noem. Elektroniese databasisse soos SA ePublications, Google Books, Google Scholar en EBSCOhost is gebruik om inligting in te samel.

Ongeveer ’n kwart van die plase wat aan die wynfeeste deelneem, is besoek, wat verteenwoordigend van die populasie is. Die steekproef het op nege plase in die Robertsonvallei betrekking gehad. Die respondente was bestuurders of eienaars wat gewillig was om aan die studie deel te neem. 

Om die doelstellings van hierdie studie te bereik is ’n onderhoudgids deur TREES (Tourism Research in Economic and Environs Society) by die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, ontwikkel in samewerking met die organiseerders van die feeste. Onderhoude van min of meer 30–45 minute is gedurende Desember 2018 met die respondente geskeduleer en op die plase van die onderskeie produkeienaars gevoer. Die doel van die studie is aan al die respondente verduidelik om te verseker dat hulle vrywilliglik en eerlik aan die projek sou deelneem. Die afdeling oor mededingendheid was gebaseer op die werk van Du Plessis (2002), Mangion e.a. (2005) en Ritchie en Crouch (1993) en is vir die wynfeeste aangepas.

Die onderhoudgids bestaan uit die volgende afdelings:

  • Aanbevelings ten opsigte van die fees (sleutelsuksesfaktore)
  • Die mededingende faktore van wynfeeste
  • Unieke faktore wat tot die sukses van die fees bydra.

 

5. Resultate en aanbevelings ten opsigte van die betrokke fees 

Die resultate word weergegee met betrekking tot die profiel van die betrokke fees. 

5.1 Demografiese profiel

Dit blyk duidelik uit die resultate dat die meerderheid respondente reeds langer as 10 jaar by beide die feeste betrokke is (Respondente 1, 2, 4, 5 en 8). Slegs drie van die wynplase het ’n restaurant op die perseel (2, 5 en 7) as alternatiewe produkte en vier van die wynplase bied akkommodasie (2, 3, 5 en 6). Met die uitsondering van Respondente 1 en 4 bied die meerderheid plase wynproe en verkope op die plaas aan.

5.2 Aanbevelings ten opsigte van sleutelsuksesfaktore van die wynfeeste

5.2.1 Wat moet verander ten opsigte van Wacky Wine? Sleutelsuksesfaktore

Die mark moet heroorweeg word na ’n meer gesofistikeerde en ouer mark (1, 2 en 3) of die fees moet herverpak (“rebranded”) word (1 en 2). Dit blyk uit die terugvoer van sommige respondente (1, 4, 6, 7 en 9) dat die kaartjies- en koeponstelsel moet verander om dit meer toeganklik te maak asook om meer beheer uit te oefen. Ander aanbevelings was gefokus op vervoeralternatiewe of om die fees op ’n sentrale plek te hou (3 en 4), en op ander produkte, soos musiek (respondent 1). Die beheer van die wynproe- en feestye is ook genoem (1, 5, 6 en 9). Die huidige mark is vir die meeste van die respondente ’n probleem en hulle sal ’n meer gesofistikeerde mark wou trek.

5.2.2 Wat moet verander ten opsigte van Wine on the River? Sleutelsuksesfaktore

Verskillende opinies oor die fees was duidelik uit die onderhoude, en respondent 2 was van mening dat die fees kan wegval. Die mark en bemarking was ook onder bespreking, soos ook in die geval van Wacky Wine, en daar is gevoel dat op ander markte gefokus moet word deur dalk die beeld ook te verander (1, 3, 4, 5, 9). Die beheer van die wynproe (1, 6, 8), sekuriteit, logistiek en alternatiewe produkte tel ook onder die aanbevelings wat gemaak is (1, 4, 6, 7).

Dit is duidelik dat respondente se aanbevelings aansluit by literatuur wat aandui dat wynplase die potensiaal van toerisme en feeste herken as ’n koste-effektiewe alternatief vir verkope en bewusmaking om wyne sowel as die bestemming te bemark. Dit mits die regte mark getrek word en die regte strategie gevolg word met beeldvorming van die feeste (Dodd 1995; Fuller 1997; Wargenau en Che 2006:4). Saayman en Krugell (2009) het ook aangedui dat alternatiewe produkte en dienste feeste se populariteit verhoog. 

5.3 Mededingende faktore 

Uit die resultate wat die mededingendheidsfaktore aandui, is die volgende temas geïdentifiseer as synde belangrik by ’n wynfees:

5.3.1 Tema/Faktor 1: Verskeidenheid van produkte

Dis duidelik dat ’n verskeidenheid produkte aanleiding kan gee tot ’n mededingende voordeel (respondente 1, 2, 4, 5, 6, 7 en 9). Hierdie verskeidenheid kan aangedui word in ’n program wat ’n variasie van produkte aandui, en pakkette kan musiek, bootritte op die rivier en “maak jou eie etikette vir jou bottel” insluit, om slegs enkeles te noem (Kruger en Saayman 2010). Navorsers (Getz en Brown 2006; Byrd, Canziani, Hsieh, Debbage en Sonmez 2016) het dit duidelik in die literatuur gestel dat alternatiewe produkte wat wyntoerisme ondersteun, belangrik is vir die volhoubaarheid van wynplase as deel van die toerismeproduk. Produkte sluit in: ’n proelokaal, opvoedkundige praatjies, vermaak en feeste, gasvryheidprodukte (akkommodasie en restaurante), wynklubs en wyntoere. Unieke produkte sal ook tot hierdie tema bydra (1, 3 en 9).

5.3.2 Tema/Faktor 2: Waarde vir geld

In die moeilike finansiële omgewing is prys altyd ’n belangrike faktor en die persepsie dat verbruikers waarde vir hul geld kry, is belangrik (Du Plessis, Slabbert en Saayman 2016). Respondente 3, 4, 6, 7 en 8 het aangedui dat toegangsprys, waarde vir geld en kwaliteit belangrik is. Waarde vir geld is die waarde wat ’n toeris toeken aan die regte prys wat betaal is vir die kwaliteit van diens en produkte wat ontvang is (Weaver, Weber en McCleary 2007:334; Lovelock 2000:41; Cant 2005:6; Sweeney en Soutar 2001:203; Du Plessis en Saayman 2015:15).

5.3.3 Tema/Faktor 3: Gasvryheid en persoonlike ervaring

Gasvryheid ondervang belangrike konsepte, soos vriendelike personeel, persoonlike diens en persoonlike verhoudings (2 en 4). Persoonlike ervaring is gebaseer op die aanvanklike motivering om die wynfees by te woon wat faktore insluit soos: om te ontspan, saam met familie en vriende te kuier, iets nuuts te leer en wyn te proe en te koop (Carmichael 2005). Verbruikers/toeriste evalueer die toerisme-ervaring deurlopend, wat op verskillende vlakke geskied (Gronroos 1990).

5.3.4 Tema/Faktor 4: Mark 

Om die regte beeld vir die fees te ontwikkel en die regte mark na die fees te trek is deur sommige respondente (1, 5, 7, 8 en 9) as baie belangrik beskou om ’n volhoubare wynfees te hou. Die motief van wynplaaseienaars om deel te neem aan wynfeeste is primêr om hul wyne in die toekoms bekend te stel en ’n groter mark vir hul produk te skep (Yuan en Jang 2008:286). Die fees dra by tot hierdie potensiële markvoordeel. 

5.4 Unieke faktore wat bydra tot die sukses van die fees

Dit is geen verrassing nie dat al die respondente aangedui het dat die gehalte van die wyn die belangrikste faktor vir enige wynfees is. Respondente 1, 4 en 5 het natuurskoon genoem as die unieke faktor (wat hulle, interessant genoeg, nie aangedui het by mededingende faktore of as deel van die sleutelaspekte nie). Persoonlike diens en alternatiewe produkte is deur 7 uit die 9 respondente aangedui as die unieke faktor wat hand aan hand loop met die wyn.

 

6. Bevindinge en aanbevelings 

Die volgende bevindinge en aanbevelings is uit die resultate gemaak: Dit is duidelik dat verskeie opinies oor die feeste bestaan. Groter kelders fokus meer op die voordele wat die feeste ten opsigte van bemarking, verkope en bewusmaking bied. Die kleiner kelders is meer gefokus op die finansiële aspekte, aangesien dit elke jaar vir hulle ’n geweldige uitleg van kapitaal inhou. As organiseerders van beide die feeste moet daar gepoog word om die impakte van die feeste duidelik te kommunikeer. Die feeste het bygedra tot die bewusmaking van Robertson as wynstreek en as ’n toerismebestemming. Die opbrengs op die aanvanklike kapitale uitleg sal nie dadelik gesien word nie, maar met verdere navorsing kan gewys word hoe verbruikers se aankoopgedrag ten opsigte van wyn beïnvloed is as gevolg van die feeste. 

Die tweede bevinding is dat al die respondente sterk voel oor die huidige markte van die fees. Die gevoel is dat die beeld van die fees moet verander om ’n ouer, meer gesofistikeerde mark, veral by Wacky Wine, te trek. Gebaseer op al die vorige jare se data sal die aanbeveling wees dat die mark geanaliseer moet word om vas te stel hoe die mark oor tyd heen verander het. Om beter bemarking vir ’n spesifieke mark te doen is dit belangrik om die ouer mark se reismotiewe vas te stel. Effektiewe bemarkingstrategieë van bemarkingsagentskappe, gegrond op die behoeftes van die produkeienaars, kan verder ontgin word om sodoende ’n nuwe mark vir die feeste te ontwikkel. Die resultate het getoon dat die meerderheid respondente die ontwikkeling van alternatiewe markte vir beide die feeste voorstel.

Derdens is vier wynfeesmededingendheidsfaktore geïdentifiseer, naamlik verskeidenheid van produkte, waarde vir geld, gasvryheid en persoonlike ervaring en mark. Die les uit hierdie navorsing is dat alhoewel daar nie nuwe faktore ontgin is vir mededingendheid nie, elke toerismeproduk uniek is, en dat hierdie eienskappe of samestelling van hierdie faktore van die wynfeeste verder ontgin en ondersoek moet word vir ’n fees om meer mededingend te wees. 

Die laaste bevinding is dat die belangrikste faktor van mededingendheid by wynfeeste die alternatiewe dienste en produkte is wat bydra tot die uniekheid van die fees. Dit blyk duidelik uit die resultate dat daar geleenthede vir entrepreneurs van die omgewing is vir die bied van kos, vermaak en vervoer gedurende hierdie feeste, en hierdie navorsing kan riglyne bied ten opsigte van die besigheidskonsepte van hierdie geleenthede. Bogenoemde kan lei tot ’n verhoogde wins vir die plaaslike wynplase en beter bestuursteorie om die waarde van die fees te verhoog, tot voordeel van die wynplaas as deelnemer en uitstaller by die fees.

 

7. Ten slotte 

Wacky Wine en Wine on the River is twee unieke feeste wat in dieselfde vallei aangebied word, min of meer dieselfde mark trek en dieselfde wynplase insluit as uitstallers by of deelnemers aan die feeste. Die formaat van die feeste verskil in terme van die ligging en logistiek, wat die uniekheid aan elke fees verleen. Die vraag is egter of albei feeste wel bestaansreg het en wat wynfeeste mededingend maak volgens die wynplase wat aan hierdie twee feeste deelneem. Die respondente is dit wel eens dat die mededingende faktore onder andere insluit: die unieke ervaring van wynproe, die omgewing en “ambiance” wat die fees bied, die feesprogram en die versekering van ’n unieke ervaring. Wynfeeste is ’n unieke toerismemark wat verder ontgin kan word tot voordeel van die hele vallei, deur die uniekheid van feeste te erken en hierdie faktore verder te ontgin. Beide feeste kan ’n plek in die jaar se kalender opneem, omdat dit tog twee verskillende ervarings aan toeriste bied, wat ’n belangrike element van die toerismebedryf uitmaak. Hierdie faktore kan ook in ag geneem word tydens die bestuur en bemarking van ander wynfeeste, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks.

 

8. Erkennings en bedankings 

Eerstens wil ek my dank betuig aan die Kanselierstrust vir die geleentheid om hierdie navorsing te doen en weer in Afrikaans te kon werk. 

Die bestuur van Wacky Wine en Wine on the River word bedank vir hulle hulp gedurende die opname, en so ook al die respondente wat gewillig was om aan die navorsing deel te neem. 

Dankie aan my afgestorwe kollega Melville Saayman wat my in hierdie projek bygestaan het.

 

Bibliografie

Allen, J., W. O’Toole, I. McDonnell en R. Harris. 2005. Festival and special event management. 3de uitgawe. Brisbane, Australië: Wiley. 

Botha, K. en P.A. Viviers. 2012, Exploring the factors that contribute to KKNK ticket purchases. SAIMS (South African Institute for Management Sciences) Conference Proceedings, September 2012:113.

Botha, K., P. Viviers en E. Slabbert. 2012. What really matters to the audience: Analysing the key factors contributing to arts festival ticket purchases. South African Theatre Journal, 26(1):22–44. 

Botha, M., F. Fairer-Wessels en B. Lubbe. 2006. Tourism entrepreneurship. Kaapstad: Juta.

Butler, R., C.M. Hall en J. Jenkins (reds.). 1998. Tourism and recreation in rural areas. Sydney: John Wiley and Sons.

Byrd, E.T., B. Canziani, Y.C.J. Hsieh, K. Debbage en S. Sonmez. 2016. Wine tourism: Motivating visitors through core and supplementary services. Tourism Management, 52:19–29.

Cant, C., A. Brink en R. Machado (reds.). 2005. Pricing management. Claremont: New Africa Books.

Cant, M. 2005. The importance of price. In Cant, Brink en Machado (reds.) 2005

Carmichael, B. 2005. Understanding the wine tourism experience for winery visitors in the Niagara Region, Ontario, Canada. Tourism Geographies, 7(2):185–204.

Cassidy, K. en C. Guilding. 2007. Tourist accommodation price setting in Australian strata titled properties. Hospitality Management, 26:277–92. 

Clark, L.A. en D. Watson. 1995. Constructing validity: Basic issues in objective scale development. Psychological Assessment, 7(3):309–19. 

Crompton, J.L., S. Lee en T.J. Shuster. 2001. A guide for undertaking economic impact studies: The Springfest example. Journal of Travel Research, 40(1):79–87. 

Crompton, J.L. en S.L. McKay. 1997. Motives for visitors attending festival events. Annals of Tourism Research, 24(2):425–39. 

Crouch, G.I. en J.R.B. Ritchie. 1999. Tourism competitiveness, and societal prosperity. Journal of Business Research, 44:137–52.

—. 2000. The competitive destination: A sustainable perspective. Tourism Management, 21(2):1–7.

Daniels, M.J. en W.C. Norman. 2003. Estimating the economic impacts of seven regular sport tourism events. Journal of Sport & Tourism, 8(4):214–22.

Dimanche, F. 2008. From attractions to experiential marketing: The contributions of events to “new” Tourism. In Kronenberg, Mueller, Peters, Pikkemaat en Weiermair (reds.) 2008. 

Dowling, R.K. 1998. Conference report: Three conferences in Western Australia: Wine, geography of tourism and ecotourism. Tourism Recreation Research, 3(2):41–59. 

Du Plessis, E. 2002. Competitiveness of South Africa as a tourist destination. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). 

Du Plessis, E. en M. Saayman. 2015. Understanding value for money at a live music performance. Journal of Contemporary Management, 11:1–19.

Du Plessis, E., M. Saayman en S. Griffel. 2014. Key factors of competitiveness of the Innibos arts festival in South Africa. SAIMS (South African Institute for management Sciences) Conference Proceedings, September 2014. 

Du Plessis, E., E. Slabbert en M. Saayman. 2017. What do festinos at a national arts festival regard as value for money? South African Journal of Business Management, 48(1):35–43.

Dwyer, L. en C. Kim. 2003. Destination competitiveness: Determinants and indicators. Current Issues in Tourism, 6(5):369–414.

Dwyer, L., P. Forsyth en P. Rao. 2000. The price competitiveness of travel and tourism: A comparison of 19 destinations. Tourism Management, 21(2000):9–22.

Enright, M.J. en J. Newton. 2005. Determinants of tourism destination competitiveness in Asia-Pacific: Comprehensiveness and universality. Journal of Travel Research, 43:339–50. 

Ferreira, S.L.A. en C.A. Hunter. 2017. Wine tourism development in South Africa: A geographical analysis. Tourism Geographies, 19(5):676–98. 

Field, A. 2005. Factor analysis using SPSS. Londen: Sage.

George, B.P. 2006. Wine tourism motivation and the perceived importance of service cape: A study conducted in Goa, India. Tourism Review, 61(3):15–9.

Getz, D. 2002. Event studies and event management: On becoming an academic discipline. Journal of Hospitality and Tourism Management, 9(1):12–23

—. 2003. Sport event tourism: Planning, development, and marketing. In Hudson (red.) 2003.

—. 2008. Event tourism: Definition, evolution, and research. Tourism Management, 29:403–28. 

Getz, D. en G. Brown. 2006. Benchmarking wine tourism development. The case of the Okanagan Valley, British Columbia, Canada. International Journal of Wine Marketing, 18(2):78–97.

Goeldner, C.R. en J.R.B. Ritchie. 2010. Tourism: Principles, practices, philosophies. 12de uitgawe. Hoboken, New Jersey: John Wiley & Sons.

Goldblatt, J. 2002. Special events: Events leadership for a new world. Hoboken: New Jersey: Wiley & Sons.

Gronroos, C. 1990. Service management and marketing. Lexington, Massachusetts: Lexington Books.

Hall, C.M. en N. Macionis. 1998. Wine tourism in Australia and New Zealand. In Butler, Hall en Jenkins (reds.) 1998. 

Heath, E. 2002. Towards a model to enhance Africa’s sustainable tourism competitiveness. Journal of Public Administration, 37(3.1):327–53. 

Hu, Y. en J.R.B. Ritchie. 1993. Measuring destination attractiveness: A contextual approach. Journal of Travel Research, 32:25–34.

Hudson, S. (red.). 2013. Sport and adventure tourism. New York: Haworth.

Kim, H. 1998. Perceived attractiveness of Korean destinations. Annals of Tourism Research, 28(2):340–67.

Knowles, T. 1994. Hospitality management: an introduction. Londen: Pitman.

Kronenberg, C., S. Mueller, M. Peters, M. Pikkemaat en K. Weiermair (reds.). 2008. Change management in tourism. Berlyn: Erich Schmidt Verlag.

Kruger, M. 2009. Spending behaviour of visitors to the Klein Karoo National Arts Festival. M.Com-verhandeling, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). 

Kruger, M. en M. Saayman. 2012. When do festinos decide to attend an arts festival? An analysis of the Innibos National Arts Festival. Journal of Travel & Tourism Marketing, 29(2):147–62. 

Lickorish, L.J. 1991. Developing a single European tourism policy. Tourism Management, 12(3):178–84.

Lovelock, C.H. 2000. Service marketing. 4de uitgawe. Upper Saddle River, NJ: Prentice Hall International.

Mangion, M., R. Durbarry en M.T. Sinclair. 2005. Tourism competitiveness: Price and quality. Tourism Economics, 11(1):45–68.

Marais, M., E. du Plessis en M. Saayman. 2016. A review on critical success factors in tourism. Journal of Hospitality and Tourism Management, 31(2017):1–12.

McHone, W.W. en B. Rungeling. 1999. Special cultural events: Do they attract leisure tourists? International Journal of Hospitality Management, 18(2):215–9. 

Navickas, V. en A. Malakauskaitė. 2007. Efficiency of event usage for the increase in competitiveness of companies. Engineering Economics, 52(2):91–97.

O’Neill, M.A. en A. Palmer. 2004. Wine production and tourism. Adding service to a perfect partnership. Cornell Hotel and Restaurant Administration Quarterly, 45(3):269–84.

Page, J. 2003. Tourism management: Managing for change. Oxford, Engeland: Butterworth-Heinemann. 

Pallant, J. 2007. SPSS survival manual: A step-by-step guide to data analysis using SPSS version 15. 3de uitgawe. New York, NY: McGraw-Hill. 

Phakdisoth, L. en D. Kim. 2007. The determinants of inbound tourism in Laos. ASEAN Economic Bulletin, 24(2):225–37. 

Pissoort. V. en M. Saayman. 2007. Market segmentation of visitors at three selected arts festivals in South Africa. Acta Commercii, 7(1):255–68.

Poon, A. 1993. Tourism, technology and competitive strategies. Wallingford: CAB International.

Porter, M.E. 1985. Competitive advantage. Creating and sustaining superior performance. Londen: The Free Press.

—. 1990. Competitive advantage of nations, states and regions. Harvard Business School: Advanced Management program.

Ritchie, J.R.B. en G.I. Crouch. 1993. Competitiveness in international tourism: A framework for understanding and analysis. Proceedings of the 43rd Annual Congress of the International Association of Scientific Experts in Tourism (AIEST), Argentina, October 17–23, 1993.

—. 2000. The competitive destination: A sustainability perspective. Tourism Management, 21(1):1–7.

—. 2005. The competitive destination. A sustainable tourism perspective. Wallingford: CABI Publishing.

Saayman, M. en W. Krugell. 2009. Determinants of visitor spending: The Wacky Wine festival as a case study. Journal of Economic and Financial Sciences, 3(2):153–170. 

Saayman, A. en M. Saayman. 2006. Does the location of arts festivals matter for the economic impact? Regional Sciences, 85(4):569–84.

—. 2008. Determinants of inbound tourism to South Africa. Tourism Economics, 14(1):81–96. 

Saayman, M., M. Kruger en J. Erasmus. 2012. Finding the key to success: A visitors’ perspective at a national arts festival. Acta Commercii, 12(1):150–72.

Sevil, G. en H.R. Yuncu. 2009. Wine producers’ perceptions of wine tourism. Tourism Review, 57(4):477–87.

Slabbert, E. en P. Viviers. 2011. Towards an instrument measuring community perceptions of the impacts of festivals. Journal of Human Ecology, 40(3):197–212. 

Steyn, H.S. 2000. Practical significance of the difference in means. Journal of Industrial Psychology, 26(3):1–3.

Stolz, M., E. du Plessis, M. Saayman en A. Saayman. 2013. A marketing analysis and economic impact of the Innibos National Arts Festival. Unpublished report. Potchefstroom: TREES.

Sweeney, J.C. en G.N. Soutar. 2001. Consumer perceived value: The development of a multiple item scale. Journal of Retailing, 77:203–20. 

Van Hove, N. 2002. The economics of tourism destinations. 2de uitgawe. Burlington: Elsevier. 

Van Niekerk, M. en W.J.L. Coetzee. 2011. Utilizing the VICE model for the sustainable development of the Innibos Arts Festival. Journal of Hospitality Marketing & Management, 20(3–4):347–65.

Van Westering, J. 1999. What is wine tourism? Referaat, eerste Europese wyntoerismekonferensie, Surrey, Engeland, 1–4 September.

Visser, G. 2005. Let’s be festive: Exploratory notes on festival tourism in South Africa. Urban Forum, 16(3):155–75. 

Weaver, P.A., K. Weber en K.W. McCleary. 2007. Destination evaluation: The role of previous travel experience and trip characteristics. Journal of Travel Research, 45(3):333–4. 

Yuan, J. en S. Jang. 2008. The effect of quality of satisfaction on awareness and behavioural intentions: exploring the role of a wine festival. Journal of Travel Research, 46(1):279–88.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie appeared first on LitNet.

Viewing all 21497 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>