Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21841 articles
Browse latest View live

Afrikaans in 'n meertalige Suid-Afrika

$
0
0
.............
"Die uitspraak in die Gelyke Kanse-saak is ’n gevoelige slag, maar as ons mense kan oortuig dat ons tale moet gebruik om in te sluit sal Afrikaans en al die ander amptelike tale (ja, ook Engels) bly voortleef." 

.............

Menán van Heerden gesels met Karien Brits oor meertaligheid en Afrikaans.

Afrikaans is een van die elf amptelike tale in Suid-Afrika. Word Afrikaans oor die algemeen as ’n inheemse taal beskou? 

Indien wel, deur wie? (bv die media; taalbeplanners; akademici; Afrikaanssprekers; sprekers van ander moedertale; ens?) 

Indien nie, hoe kan hierdie persepsie verander word?

Ons het hier met terminologie te doen wat belangrik is in die voortbestaan van tale soos Afrikaans. Ek sien amptelik taal en inheemse taal in jou vraag. Ek sal ook Afrikataal wil byvoeg. Dit is alles terminologie wat ons gebruik as ons oor die voortbestaan van Afrikaans in die onderwys en spesifiek in die hoër onderwys praat.

Amptelik beteken dat ons nie net mag nie, maar ook moet.

Dit is net onrusbarend dat ons regters nie noodwendig weet wat amptelik regtig beteken nie. (Jy kan dalk ook met Cerneels Lourens oor hierdie aspek gesels.) Daar is nie ’n definisie vir amptelik in die Grondwet nie.

Ek is glad nie ’n regsgeleerde nie, maar ek sien net in praktyk dat al die amptelike tale nie altyd ewe amptelik hanteer word nie. As ons die Grondwet mooi lees, sal ons sien dat dit amper vanselfsprekend is dat Afrikaans ’n belangrike status het (of eerder gehad het).

.............

"Hoekom is ons dan so besorg daaroor dat Afrikaans ’n inheemse taal is? Dit is ’n manier waarop ons Afrikaans se bestaan kan regverdig. Daardie stempel wat sê ons mag hier wees en ons mag dit gebruik ... Afrikaanse mense wil ook behoort."

.............

Afrikaans en Engels word amper teen die inheemse tale opgestel in die Grondwet (hoofstuk 1): “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.”

Hoekom is ons dan so besorg daaroor dat Afrikaans ’n inheemse taal is? Dit is ’n manier waarop ons Afrikaans se bestaan kan regverdig. Daardie stempel wat sê ons mag hier wees en ons mag dit gebruik. Ek dink nou veral ook aan die positiewe konnotasie met inheemse plante, diere, voëls en insekte. As iets nie inheems is nie, hoort dit nie. Afrikaanse mense wil ook behoort.

Dit is nie net ons (taalbewuste) Afrikaanssprekendes wat so dink nie, UNESCO het 2019 tot die internasionale jaar van inheemse tale verklaar.

Daar is natuurlik ook die debat oor of Afrikaans ’n Afrikataal is – en lesers kan gerus hier na Ernst Kotzé se mening loer: https://www.litnet.co.za/die-klassifikasie-van-afrikaans/.

My uitgangspunt is: Afrikaans is ’n amptelike inheemse Afrikataal.

Nou ja, om by jou vraag uit te kom:

Ek dink dit hang af van die politieke en ideologiese uitgangspunte, maar ook kundigheid van die media, taalbeplanners, akademici, Afrikaanssprekendes, sprekers van ander moedertale. Net ’n kantlynopmerking oor kundigheid – ek bedoel hier kennis. As ons meer oor ’n onderwerp weet, hoe minder is daar geleentheid vir wanpersepsies.

Ek wil graag glo dat daar konsensus is dat Afrikaans ’n inheemse taal is – wat die taalbeplanners, akademici, die Afrikaanse media en taalbewuste Afrikaanssprekendes betref.

Ek dink dit is op hierdie punt die moeite werd om na die definisies in die Revised Language Policy Framework in Higher Education (Revised Language Policy) van 2017 te kyk; Afrikaans word as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal asook ’n amptelike Afrikataal beskou.

Geen taal (ook nie Engels nie!) is neutraal nie en dra ook maar bagasie uit die verlede. Afrikaans word ongelukkig daarom ook die speelbal van opportunistiese politici. Ek dink die moedswillige wanpersepsie is by ’n klein minderheid – die politici. 

Hoe kan ons die wanpersepsie uit die weg ruim dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie? Sit die feite op die tafel. Daar kan ’n mens na navorsing deur wyle Christo van Rensburg kyk. Dan is daar ook die werk van Wannie Carstens, Hans du Plessis en nog vele meer. 

Ek dink egter ons moet nog ’n stap terug gee. Alle Suid-Afrikaners moet bewus wees van die waarde van ons inheemse tale om mee te begin! Solank as wat Suid-Afrikaners gaan bly glo dat onderrig deur middel van Engels as onderrigmedium gelyk staan aan gehalteonderrig, gaan dit nie eers help om mense te oortuig dat Afrikaans ’n inheemse taal is nie.

Ons moet dus die wanpersepsie afbreek dat inheemse tale ’n laer status het as wêreldtale en nie in die hoër onderwys gebruik kan word nie. 

.............

.............
Lees meer oor die wyse waarop studente aan ’n veeltalige Suid-Afrikaanse universiteit hulle identiteite met behulp van narratiewe onderhandel en navigeer in die LitNet Akademies-artikel, "Veeltaligheid op universiteit: ’n uitdaging én ’n geleentheid vir identiteitsvorming" (Emma Groenewald en Adré le Roux, 2019)
.............

Daar is baie mense wat drie tale magtig is, wat byvoorbeeld vlot Engels, Xhosa en Afrikaans kan praat.  

Word hierdie sprekers ingesluit in die debatte oor meertaligheid?

Of, betrek die debatte oor die algemeen mense wat slegs byvoorbeeld Engels en Xhosa OF Engels en Afrikaans kan praat en verstaan?

Hoe kan Suid-Afrikaners wat drie tale magtig is (spesifiek Engels, Afrikaans en een van die ander 9 amptelike tale) by die debatte oor meertaligheid betrek word?

Ek dink die debat word soms deur mense oorheers wat die hardste kan praat. Miskien moet ons nie aandag skenk aan mense wat die hardste kan praat nie, maar wat die sinvolste kan praat.

Ons almal is skuldig daaraan – ons gee lugtyd aan mense wat omstrede goed kwytraak.

Dit is dalk wys om na mense te luister wat wel meertalig is en te hoor hoe dit hulle baat. Want meertaligheid is ’n bate! Dit is wat op die agenda moet kom. Veral meertalige taalkundiges moet meer lugtyd kry.


Wat kan gedoen word om drietaligheid te bevorder? (bv Engels, Afrikaans en Xhosa in die Wes-Kaap)? 

Bewusmaking van die waarde van moedertaalonderrig (dit klink amper ironies, nè?).

Voer moedertaalonderrig in, met die ander twee tale as eerste en tweede addisionele taal. Dit kan in al die provinsies gedoen word.

Moedertaalonderrig is die basis van gesonde meertaligheid. Daar moet wel meer moeite gedoen word met kinders wat ’n dominante taal praat, om die ekonomiese noodsaaklikheid van die ander twee tale.

Oortuig mense daarvan dat dit nie te duur is om dit te doen nie. Ongelukkig oorheers die kostekomponent van meertaligheid die debat. Weereens onkunde.

Het die mense wat die kostekomponent voorhou as ’n verskoning vir eentaligheid al die sommetjies gemaak? Dit hoef ons nie eers 5% van ons begroting te kos nie.

Het ons wel al die koste van eentaligheid bereken? Hoeveel kinders val uit die onderwysstelsel omdat hulle nie die taalmas kan opkom nie? Watter groot invloed het dit nie op ons ekonomie nie?

Hoe sal jy ’n ideale, meertalige Suid-Afrika definieer / voorstel?

Dit is ’n land waar ons nie meer oor ander mense praat nie, maar met mekaar praat in die tale wat ons na aan die hart is. Dit is ’n land waar ons die etikette van onderdrukkertaal en Bantoe-onderwys afgeskud het. Dit is ’n land waarin ons ons tale as bates beskou!

Afrikaans is die derde mees gesproke taal na Zulu en Xhosa (Engels is vierde). Sal Afrikaans kan "oorleef" met kwynende amptelike status?

Ek is baie hartseer oor al die verlore kanse vir al ons tale in Suid-Afrika. Ek is veral hartseer oor die mense wat nie toegang tot basiese dienste, onderrig en geleenthede kry nie omdat hulle uitgesluit word deur eentaligheid en omdat ons tale in praktyk nie amptelike status het nie.

Ek dink nogtans dat Afrikaans kan oorleef, want daar is nog die kritieke massa wat dit belangrik ag.

Die uitspraak in die Gelyke Kanse-saak is ’n gevoelige slag, maar as ons mense kan oortuig dat ons tale moet gebruik om in te sluit sal Afrikaans en al die ander amptelike tale (ja, ook Engels) bly voortleef.

Ons sal wel ALMAL ons moue moet oprol!

.............
  • Grafika bronne: Wikimedia Commons 

 

Lees ook

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Veeltalige universiteite: ’n onderhoud met Emma Groenewald

Multilingual schools, multilingual universities: an interview with Russell Kaschula and Michael Kretzer

The post Afrikaans in 'n meertalige Suid-Afrika appeared first on LitNet.


Matriekvraestelle: Rekeningkunde (2018)

Matriekvraestelle: Afrikaans Eerste Addisionele Taal (2018)

Musiekonderhoud: Neil Nachtrein oor Op plekke waar ons eens was

$
0
0

Die sanger en liedskepper Neil Nachtrein het onlangs ’n nuwe album, Op plekke waar ons eens was, bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die musiek en die lewe.

Goeiedag, Neil. Hoe’s alles?

Dagsê Henry, alles is goed ... Maar régtig – ek het vrede en vreugde, en ek’s dankbaar daarvoor.

Baie geluk met jou nuwe album, Op plekke waar ons eens was. Dis ’n album wat oorloop van kragtige melodiewerk en meesleurende lirieke – nie ’n pap of dooie sekonde êrens nie. In ’n mediaverklaring word gesê jy het besluit om “ná drie jaar van Blomtrein ry [met verwysing na jou tydperk van samewerking met Jan Blohm] op ’n ander stasie af te klim” en jou “eie trein se stoom aan te vuur”. Op watter maniere is dié album vir jou ’n nuwe koers wat ingeslaan word? Hoe sou jy sê verskil dit van jou werk met Blomtrein, en ook van jou vorige vrystellings? Op watter maniere het jy (of andere) jouself uitgedaag om diep te delf vir die nuwe materiaal?

In ’n groot mate voel hierdie vir my soos ’n eerste album, in die sin dat die eindproduk ooreenstem met die visie wat ek gehad het terwyl ek geskryf het, ’n volkome breinkind. Sou nie sê dis noodwendig ’n nuwe rigting nie, maar wel die rigting wat ek nog altyd in gedagte gehad het – dit voel of ek uiteindelik soos myself begin klink.

Met my eerste vrystelling, Gisters & Blisters, het ek – baie groen – met ’n handvol liedere by ’n studio ingestap. Van wat in ’n studio gebeur, het ek nie veel geweet nie, met die gevolg dat die engineer/producer ’n groot invloed gehad het op hoe die album uitgedraai het.

Die opnames wat ons as Blomtrein gemaak het, was live takes in die studio, iets wat ek nog altyd wou doen en graag weer sal wil. Ek en Jan het die tunes op toer geskryf en dit elke aand voor ‘n gehoor getoets, wat dit moontlik gemaak het dat ons ‘n hele album in ’n paar sessies kon neerlê.

Wel, ek het basies myself vir ses maande in die huis toegesluit en geskryf. Die snit “Op plekke waar ons eens was” is die enigste lied wat reeds geskryf was, en dit het gedien as die hoeksteen vir die album. Ek’t nog altyd gedink dis ‘n sterk titel wat gepas sal wees vir ’n album. In dié tyd het ek ook baie geskaaf aan my kitaarspel en speelstyl, wat ook nuwe diepte aan die album verleen het. Aan die ander kant voel dit ook of songs reeds daar is, klaar gebeur het, klaar bestaan ... jy moet net stil word en luister.

Dit is duidelik dat jy baie waarde heg aan die lirieke wat jy skep – daar is ’n digterlike aanslag wat getuig van ’n groot liefde vir woordkuns. Trouens, die laaste snit op die album, “Op plekke (Slot)”, word gedeeltelik uitgevoer as ’n “spoken word”-stuk. Hoe beskou jy die wisselwerking tussen liriek en musiek in jou werk? Wat word eerste gebore, en watter element moet watter een “volg”? Hoeveel kop-teen-notaboek-geslaan vind plaas totdat jy weet die lirieke – en die volledige pakket – van ’n lied is nou “reg”, of ten minste “gereed”? Word daar in die ateljee verder getimmer aan liedere, of moet jy jou oorspronklike instink voor die record-knop gedruk is, vertrou? En, waar en hoe is hierdie passie aanvanklik gebore?

Vir seker, die een kan nie sonder die ander nie. Alhoewel die vergelyking gereeld opkom, sien ek myself beslis nie as ’n digter nie. Ek skryf lirieke – dis anders. My fassinasie met hoe mens met woorde kan speel se vonk het in my tienerjare ontstaan met die eerste luister na “August and everything after” van Counting Crows. Adam Duritz se melankoliese styl het groot aanklank gevind by my as jong musiekliefhebber. Later jare het skrywers soos Gert Vlok Nel, Kabous Verwoerd, Cohen, Waits en Springsteen ook ’n massiewe impak op my gemaak.

Daar’s nooit ’n vaste patroon nie. Soms begin ek skribbel aan iets en toonset dan, maar met hierdie album het ek grotendeels eers die musiek geskryf en probeer luister wat die gevoel is, waarheen vat dit jou as jy jou oë toemaak, wat wil dit sê, en toe lirieke geskryf.

Ek dink daar word heelwat geskaaf ná die aanvanklike neerpen. Sodra die melodie in jou kop is, voel dit makliker om met lirieke rond te speel en ’n goeie metrum te kry.

Soos vroeër genoem, het ek definitief met die studio in gedagte geskryf, en die album was 90% gereed vir opname.

Verlange, eensaamheid, verlore liefde en nostalgie/melankolie dien deurlopend as hoekstene vir die album. Tot hoe ’n mate moet die verskeie vertellings vir jou verbonde wees aan iets wat werklik gebeur het? Of beskou jy die liedere as kreatiewe skeppings, stories wat vertel word wat treffend (en maklik geskep) is, of dit nou fiktief of niefiktief is? Dit raak veral interessant as ’n mens dink aan die baie spesifieke visuele beelde wat jy gebruik, soos die heuning-polkadot-romp in “Niks is meer ons eie”, of Conroy’s-kafee en die Mimosadam in “1998”. In ’n mediaverklaring verwys jy na die verskil tussen inspirasie en invloed ... Hoe sluit dit aan by die kwessie van stories skep in jou lirieke?

Die hele album is byna soos ’n lewenswandel ...

(1) “Op plekke waar ons eens was” – gee liries die pas aan vir wat verwag kan word, waaroor die album handel.

(2) “Somerville” – ’n misterieuse love song aan ’n plek of persoon.

(3) “Weet jy nie?” – kennismaking met die Gospel en ewigheidsbesef.

(4) “Stilste uur” – nuwe liefde wat vir eers moet gaan, met die hoop dat tyd vir vanaand ’n bietjie stilstaan.

(5) “Dans om koue vuur” – ’n verhouding op die rotse.

(6) “Hannah” –’n geliefde afstaan aan die dood.

(7) “Rivier” – ’n herinnering aan hoe dit was.

(8) “Pelgrim” – ’n alleenreis in soeke na ...

(9) “1998” – ’n terugblik na jonkwees.

(10) “Niks is meer ons eie” – die besef dat volwassenheid nie so onskuldig is soos deur kinderoë nie.

(11) “Op plekke (slot)” – ’n Damaskus-soeke na die sin uit alles.

So ja, tot ’n redelik groot mate kon ek nog nooit regtig fiktiewe stories uitdink nie. Dit moet self beleef, gesien, gehoor word, al is dit nie mý storie nie. Alhoewel, ek dink dis altyd emosioneel outobiografies, al is dit fiktiewe karakters. As skrywer probeer jy maar altyd iets van binne jouself na vore bring in dit waaroor jy skryf. Jy moet, anders gaan niemand jou glo nie.

Ja, sommige belewenisse los ’n tatoemerk op jou geheue en jy kan nie anders as om dit presies weer te gee nie. Spesifiek “1998” handel oor die dorpie waarin ek grootgeword het, tienerwees, toekomsdrome, mense wat agterbly of weggaan. Conroy’s, Mimosadam, Odendaallaan, die tiekiebokse voor die poskantoor ... dis alles scenes wat my in ’n oomblik terugvat na die daar en toe.

Invloede sien ek so half as “you are what you eat” – jy kan dit amper nie verhoed nie – of jy dit nou wil hê of nie, dit beïnvloed jou. Inspirasie word meer gebore uit die werklikheid, die realiteite van wie en wat ons is. So, die kombinasie van albei is belangrik – geen persoon is interessant genoeg om net oor hulself te skryf nie.

Die instrumentwerk op die album is relatief gestroop, selfs minimalisties. Tog duik daar oral lekker verrassings op, soos die bekfluit op “Pelgrim” en die mandolien (as ek reg luister) op “1998”. En dan, amper asof vanuit nêrens: distorted kitare en harde tromme in die laaste deel van “Hannah”. Hoor jy hierdie uiteenlopende instrumentasie in jou kop wanneer jy die liedere skep, of is dit ’n geval van toets-en-kyk-wat-werk? Hoe besluit jy op die ou end watter instrumente en arrangements ‘n spesifieke lied ten beste dien? Is daar oomblikke op die album wat vir jou uitstaan as gunstelinge in hierdie opsig – iets waardeur jy self verras is, of oor en oor luister vir die lekkerte daarvan?

Ek’s altyd oop vir voorstelle en eksperimentering in die studio – mens móét wees. In hierdie geval het ek wel vooraf ’n baie goeie idee gehad van wat ek wil hê. Die idee was van die begin af dat die akoestiese kitaar die hoof- instrumentele feature van die album sou wees. Van daar die gestroopte klank ... selfs van die perkussie is op kitaar.

Dan vind ek groot aanklank met die “vamp”-element wat baie in soul music voorkom. Die outro jam op twee chords wat gepaard gaan met ‘n sanger en musikante wat hulself net oorgee en verloor in die musiek. Van daar snitte soos, “Hannah”, “1998”, “Niks is meer ons eie”. Hier het die manne van Crooked House Studio in Bloem, Pieter Greyling en Jean Fourie, ook ‘n belangrike rol gespeel. Hulle het van die begin af op die trein gespring (pun intended) en presies verstaan wat ons wil bereik. Veral op die snit “Weet jy nie?”, die dubbeloktaaf vocal, die layered backing vocals, en so meer.

Dit bly maar altyd ’n bietjie onbekende grond om te besluit wanneer het ‘n snit optimale potensiaal bereik en jy weet nooit regtig of jy dit regkry nie. Oordoen jy dit? Het jy te min gedoen? Dis maar ’n natuurlike twyfelproses vir enige kreatiewe skepping, maar êrens binne jou is daar ’n artistieke integriteit wat jou rigtingwyser is en jy moet leer om dit te vertrou, I guess.

Oe ja, daar is van die tunes wat ek baie geniet. Is dit bietjie vain van my om so te sê? Ek reken ek sal altyd die akoestiese songs skryf, dis maar wat ek doen, maar ek’t wel ’n vars aar ontdek wat ek meer sal wil ontgin in die toekoms. Soos met “Weet jy nie?”, “Hannah”, en “Niks is meer ons eie” – dis ’n rigting wat my opgewonde maak.

 

Jy het ’n besonder sterk en unieke stem, oftewel vokale aanslag, wat beslis onmiskenbaar is. Daar is natuurlik weer eens verrassings, soos die seldsame falsetto-oomblikke op “Pelgrim”. Beskou jy die stemwerk as ’n tipe “trademark” van jou musiek? Hoe dink jy het jou sangstyl ontwikkel oor die jare – veral van jou optredes voordat jy oorspronklike musiek geskryf het? Ek is seker ander mense het ook al onwillekeurig raakpunte met Eddie Vedder se aanslag gehoor wanneer hulle na jou musiek luister ... Is daar spesifieke sangers by wie jy aanklank vind, en by wie jy wenke vat (direk of indirek)?

Henry, ek hoop so. Ek dink elke sanger wil graag ’n unieke stem hê. Gelukkig is sangstyl iets waaraan jy kan skaaf, dit bly maar ’n skill wat jy tot ’n mate kan aanleer en verbeter. Dis iets waaraan ek doelbewus werk vandat ek begin het. In my eie oë is ek maar meer ’n songwriter wat probeer sing en musikant wees. So van dag een af het ek besef ek’s nie ’n buitengewoon natuurlik-begaafde vocalist nie en dat ek maniere moet vind om my stem meer effektief te gebruik.

Een van die vreedsaamste oomblikke is wanneer jy besef jy begin soos jouself klink. Maar om in dieselfde sin as Eddie Vedder genoem te word ... daarteen gaan ek nie protesteer nie. As ek kon kies, sou ek wel soos Jeff Buckley wou kon sing, maar jy werk maar met die talent wat vir jou gegee word en ek was nog altyd ’n aanhanger van Vedder.

Te veel om te noem, maar ek geniet om na Foy Vance, Paolo Nutini, Jeff Buckley, Brian Fallon, Bruce Springsteen en Anderson East te luister vir ’n bietjie vocal tips.

Jy het besonder baie toere en gigs agter die blad, en jy hou aan reis vir die musiek – soos ek verstaan, is jy in Standerton vir ’n huiskonsert terwyl ek hierdie vrae opstel. Hoe belangrik is dit vir jou, beide persoonlik en as skeppende kunstenaar, om aan die reis te bly? Vind jy dat jy steeds verras word deur dinge en mense wat jy op die pad teëkom, na al die jare? En hoe beïnvloed dit jou werk as liedskrywer? Is daar enige optredes, venues of plekke wat vir jou as hoogtepunte uitstaan? Enige agter-die-skerms-stories wat jy nie sommer sal vergeet nie, lekker of onlekker?

Dit bly maar eintlik die enigste manier om hierdie roeping te beoefen. Jy kan vir mense soveel vertel as wat jy wil, maar ultimately moet jy hulle kan wys wat jy kan doen. Dis show business, the business of showing, not telling. Ek dink dis waar ons Afrikaanse musiekbedryf die kat aan die stert beet het. Daar word te veel vir die publiek gesê waarna hulle behoort te luister.

Daar is inderdaad min vervelige oomblik op die pad. Elke aand is uniek, elke gehoor is uniek en mens word telkens verras. Die einste Standerton-huiskonsert wat ek met slegs ‘n akoestiese kitaar aangepak het, het byvoorbeeld geëindig in ’n gedansery, los, vas, sokkie, iemand wat eenkant staan en kopskud (soos in headbang), alles terwyl die kindertjies in ’n sandput langs die “stage” sit en speel. So ja, never ’n dull moment.

In ’n gesprek in die aanloop tot hierdie onderhoud het jy grappenderwys gesê jy is al “die afgelope 12 jaar onder die radar” as musikant. Die plaaslike musiekbedryf en/of -landskap kan inderdaad ’n bliksem wees. Hoe beskou jy jou plek op die landskap, en wat sou vir jou die ideale verhouding met die musiekbedryf wees? Waar dink jy skiet die plaaslike bedryf tekort, en waar dink jy is daar tog sterk punte wat uitgebou moet word, indien daar eniges is?

Ja Henry, ons bevind ons in ’n unieke, veranderende industrie wat jou soms laat kopkrap oor hoe jy die pad vorentoe moet aanpak. Vir my is daar niks wat die live element klop nie. Daai wêreld wat ontstaan tussen kunstenaar en luisteraar die oomblik wanneer die eerste noot gespeel word en jy sien, hoor en beleef wat musiek kan bemag.

So ek reken ek verkies die organiese pad, waar jy elke aand ’n nuwe onverwagte aanhanger tot die musiek bekeer omdat hulle dit beleef het en dit kies, nie omdat iemand dit vir hulle vertel het nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Neil Nachtrein in, in so verre jy dit kan beheer?

Hopelik ore wat ontvanklik is. Ek sal nie omgee om meer en meer te gig nie. Beslis nog albums – ek geniet dit net so baie om kreatief te wees in die studio.

Wat is die sin van die lewe?

Dankbaarheid, want alles is net genade. Dis eerlikwaar soms al hoe ek kan sin maak van wat om ons aangaan – deur ’n lewe van dankbaarheid.

The post Musiekonderhoud: Neil Nachtrein oor <em>Op plekke waar ons eens was</em> appeared first on LitNet.

Matriekvraestelle: Geografie (2018)

Matriekvraestelle: Landboubestuurspraktyke (2018)

Matriekvraestelle: Siviele Tegnologie (2018)

$
0
0

Skryf jy nou jou matriekeindeksamen? Hier is vraestelle en memo's van verlede jaar se Siviele Tegnologie.

 

Vraestel (Siviele Dienste): Siviele Tegnologie Nov 2018 (Siviele Dienste) Afr 

Vraestel (Konstruksie): Siviele Tegnologiey Nov 2018 (Konstruksie) Afr

Vraestel (Houtwerk): Siviele Tegnologie Nov 2018 (Houtwerk) Afr

 

Memo (Siviele Dienste): Siviele Tegnologie Nov 2018 (Siviele Dienste) FINALE Memo Afr

Memo (Konstruksie): FINALE Memo Afr. Siviele Tegnologie Nov 2018 (Konstruksie)

Memo (Houtwerk): Siviele Tegnologie Nov 2018 (Houtwerk) FINALE Memo Afr

 

 

 

The post Matriekvraestelle: Siviele Tegnologie (2018) appeared first on LitNet.

Matriekvraestelle: Landboutegnologie (2018)


Matriekvraestelle: Lewenswetenskappe (2018)

Matriekvraestelle: Drama (2018)

Matriekvraestelle: Musiek (2018)

Matriekvraestelle: Besigheidstudies (2018)

Matriekvraestelle: Ekonomie (2018)

Matriekvraestelle: Verbruikerstudies (2018)

Persvrystelling: Nominasies vir die Jan H Maraisprys 2020 ingewag

$
0
0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wag nominasies in vir die Jan H Maraisprys vir 2020.

Doel van die Prys: Om erkenning te gee vir ’n uitstaande lewenslange bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op ’n hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans.

Instellings as ontvangers: Die prys is in beginsel vir natuurlike persone bedoel, maar die keurkomitee mag ook besluit om dit aan ’n instelling of vereniging wat besonder verdienstelik is om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder, toe te ken.

Prysgeld: Die prysgeld beloop R500 000 en tans ’n beeldjie, “Helpende Hand”, deur Coert Steynberg. Die prysgeld mag in ’n bepaalde jaar tussen meerdere pryswenners, soos deur die keurkomitee bepaal, verdeel word.

Oorhandiging: Jaarliks op 30 Mei (of so na as moontlik aan dié datum) te Stellenbosch

Nietoekenning: Dit staan die keurkomitee vry om in ’n bepaalde jaar geen toekenning te maak nie.

Aanwending van prysgeld: Na goeddunke van die ontvanger

Formaat van nominasies:

  • Die voorstel moet duidelik motiveer waarom die bepaalde kandidaat/instansie vir die prys voorgestel word. Daar moet ook duidelik aangetoon word watter uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans gelewer is.
  • Die nominasie moet deur ’n voorsteller en twee sekondante onderteken wees.
  • Die grootste mate van vertroulikheid moet gehandhaaf word. Onder geen omstandighede mag die kandidaat bewus wees dat hy/sy vir die prys genomineer word nie.
  • Die volle name van die kandidaat, asook van die voorsteller en sekondante, landlyn- en selfoonnommers, adresse en e-posadresse moet verskaf word.
  • Die voorstel moet gesteun word deur die jongste curriculum vitae en publikasielys van die kandidaat, indien van toepassing.
  • By die toekenning van die prys is die keurkomitee se besluit finaal. In die geval van ’n nominasie wat nie suksesvol was nie, sal geen korrespondensie of gesprekke na die toekenning gevoer word nie; nie met voorstellers nie, en ook nie met kandidate nie.

Nominasies sluit op Vrydag 31 Januarie 2020
Bekendmaking van die prys: Einde Maart 2020

Skriftelike nominasies vergesel van ’n volledige CV moet per e-pos of per koerier gerig word aan:

  • Die Hoof- Uitvoerende Beampte, Privaat sak X11, Arcadia, Pretoria 0007
  • Elektroniese nominasies moet gestuur word na akademie@akademie.co.za
  • Fisiese adres vir aflewering per hand of per koerier: Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria 0083

Navrae kan gerig word aan die Hoof- Uitvoerende Beampte, Anne-Marie Beukes: tel: 086 133 3786 (kantoorure); sel: 083 675 8053; ambeukes@akademie.co.za.

The post Persvrystelling: Nominasies vir die Jan H Maraisprys 2020 ingewag appeared first on LitNet.


Het Vijfde Evangelie volgens Mickey: ’n onderhoud met Clinton V du Plessis

$
0
0

Clinton V du Plessis se eerste Nederlandse versamelbundel, Het Vijfde Evangelie volgens Mickey, is binnekort beskikbaar. Cliffordene Norton gesels met hom.

Clinton V du Plessis (Foto: Naomi Bruwer)

Clinton, jy het onlangs die opwindende nuus gekry dat ’n versamelbundel van jou gedigte word in Nederlands gepubliseer. Wanneer verskyn die bundel en waar sal dit beskikbaar wees?

Ons is nou in die finale fase van die bundel se redigering. Dit word amptelik op 15 Desember 2019 in Amsterdam by ’n nuwe literêre fees bekendgestel. Ek sal self die plaaslike verspreiding hanteer.

Watter gedigte het jy gekies vir die bundel? Is daar ’n sentrale tema?

Ek was glad nie betrokke by die seleksie van die gedigte nie. Die vertaler het gedigte uit drie van my bundels, Rangeer, Woorde roes in die water en Aantekeninge teen die skemeruur gekies. Die vertalings word langs die oorsponklike Afrikaanse teks afgedruk.

In sy voorwoord tot die bundel, getiteld, Het Vijfde Evangelie volgens Mickey, skryf die digter Martijn Benders:

“Clinton, zoon van een spoorwegarbeider, verhaalt in veel gedichten over het Zuid Afrika van de jaren zeventig en tachtig, armoede, apartheid, chaos, maar in al die ellende lukt het hem diep menselijke gedichten te schrijven die tot de kern van je wezen gaan.”

Van jou werke is opgeneem in Nederlandse bloemlesings, soos Honderd dichters 1, De tweede ronde en O droewe en wye land. Jy was ook ’n gas van die Stichting Poëziefestival Nijmegen in Nederland. Hoe het hierdie ervaringe die samestelling van dié bundel beïnvloed?

Nie regtig nie, van my ervaringe aldaar het neerslag in van my ander publikasie gekry, maar daardie werk is nie hier opgeneem nie.

Jy is bekend daarvoor dat jy self jou digbundels publiseer. Waarom het jy besluit om nou ’n uitgewer te nader?

Marthinus (Martijn) Benders, die Nederlandse digter, uitgewer en grafiese ontwerper (en iemand wat ook die meeste van sy werk onder eie beheer, buite die hoofstroom uitgegee het) het my as een van vyf digters gekies om deel te wees van die eerste groep digters wat deur die nuwe uitgewery, De Kaneelfabriek, in 2019 uitgegee sal word.

..........

Meer besonderhede oor hulle werksaamhede en die ander vier digters kan bekom word by De Kaneelfabriek:

Stichting de Kaneelfabriek heeft als doel het uitgeven, promoten en organiseren van duurzame cultuur, in de vorm van boeken en events. Inzet daarbij is dat de uitgedragen cultuur een duurzaam karakter heeft – zowel kwalitatief als inhoudelijk wil de stichting bijdragen tot een gezonder en duurzamer klimaat op cultureel vlak.

Door in te zetten op kwaliteit en diversiteit hoopt de stichting wezenlijk bij te dragen aan het verbeteren van de maatschappelijke en culturele infrastructuur.

De naam is losjes geïnspireerd op het boek “De Kaneelwinkels” van Bruno Schulz.

..........

Wat is jou advies vir jong opkomende digters?

Volg die ou-ou resep. Lees, lees en nogmaals lees – wyd en omvattend. Moet nie gatkruip nie, moet nie tou opgooi nie en glo in jouself.

 

Lees ook

Verjaarsdagvers vir Breyten deur Clinton V du Plessis

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

Vrouedag-skryfkompetisie – Clinton V du Plessis is die wenner!

Resensie: Woorde roes in die water deur Clinton V du Plessis

Tien vrae: Clinton V du Plessis oor Woorde roes in die water

Clinton V du Plessis (1963–)

The post <i>Het Vijfde Evangelie volgens Mickey</i>: ’n onderhoud met Clinton V du Plessis appeared first on LitNet.

Persverklaring: leesaflos in skole

$
0
0

Wil jy lees by jou skool of in die gemeenskap bevorder?

Die ATKV en WOW begin in November met ’n leesaflos saam met LAPA Uitgewers en ’n privaat borg.

Vyf graad 10-leerders word uit elke deelnemende skool gekies. Die vyf leerders kry elkeen vyf boeke wat hulle self lees en daarna aan vriende uitdeel om ook te lees. Die vriende gee dan op hulle beurt die boeke aan ander om te lees. Elke keer as ’n boek gelees word, word dit aangeteken en die vyf leerders kry punte wanneer hulle boeke gelees word. Die vyf leerders kry ook vyf kinderboeke om voorleessessies vir jonger leerders in die gemeenskap te hou, waarmee hulle ook punte verdien. Die vyf leerders ding dus teen mekaar mee vir die meeste punte, maar ding ook informeel mee teen die leerders in naburige skole: wie se boeke word die meeste gelees van November 2019 tot April 2020?

Uiteindelik sal deelnemende skole se leerders verryk word en hulle sal met ’n klein biblioteek toegerus wees om ander leerders aan te moedig om ook te lees.

Die droom

Gabby Olivier en die bestuur van CKR raadgewende ingenieurs het ’n droom vir die jong leerders van ons land. Dié droom is om deur opvoeding en leiding ’n blink toekoms vir hulle te skep en hulle te motiveer om hard daarvoor te werk. Gabby en sy kollegas en vriende wil met kundigheid en lewenswysheid aktief betrokke raak by die lewens van jongmense wat tans ’n uitsiglose toekoms ervaar. Ná samesprekings met die LAPA-span is die idee van die leesaflos gebore.

Die Afrikaanse boekpakke kos R3000 en die Engelse boekpakke R3200.

Die eerste aantal boekpakke word deur CRK raadgewende ingenieurs en LAPA Uitgewers geborg. Ander borge het ook reeds hulle steun toegesê.

CRK daag nou ander maatskappye en individue uit om ook borgskappe toe te staan.  Borge kan self die skool wat hulle wil borg kies.

Borge, of skole wat wil deelneem kan enige van die volgende persone kontak:

Melvina Mason – ATKV (MelvinaM@atkv.org.za of 081 797 6794)

Fiona van Kerwel – WOW (wow@sun.ac.za of 072 117 3483)

Marieta Nel – LAPA Uitgewers (mnel@lapa.co.za)

Do you want to promote reading at your school or in your community?

In November the ATKV and WOW are starting with a reading relay together with LAPA Publishers and a private sponsor.

Five grade 10 learners will be selected from each participating school. These five learners will each get five books to read and then give to friends to read as well. The friends then also pass the books on to their friends to read. Each time a book has been read, it is recorded and the five learners score points when their books have been read. The five learners also get five children’s books to read to younger learners in their community, for which they also score points. The five learners compete against each other for the most points, but also in an informal way against the learners from the neighbouring schools: whose books are read most from November 2019 to April 2020?

In the long run the learners from participating schools will be enriched and they will have a small library to also encourage other learners to read.

The dream

Gabby Olivier and the management of CKR Consulting Engineers have a dream for the young learners of our country. This dream is to provide education and guidance to create a promising future for them and to motivate them to work hard towards it. Gabby and his colleagues and friends want to use their skills and wisdom to become actively involved with the lives of young people who currently have a bleak future. After consulting the LAPA team the idea of a reading relay has been born.

The Afrikaans book packages cost R3000 and the English book packages R3200.

The first book packages are sponsored by CRK Consulting Engineers and LAPA Publishers. Other sponsors have also pledged their support.

CRK challenges other companies and individuals to also offer sponsorships. Sponsors can choose their own schools who they want to sponsor.

Sponsors or schools who want to participate can contact any of the following people:

Melvina Mason – ATKV (MelvinaM@atkv.org.za or 081 797 6794)

Fiona van Kerwel – WOW (wow@sun.ac.za or 072 117 3483)

Marieta Nel – LAPA Publishers (mnel@lapa.co.za)

The post Persverklaring: leesaflos in skole appeared first on LitNet.

Saam die toekoms in met Afrikaans

$
0
0

...........

“Tensy ons die ware geskiedenis van Afrikaans ken en verstaan, kan daar nie werklik versoening wees nie. Versoening kan net plaasvind as ons al die feite het.” – Michael le Cordeur 

...........

Die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid is nie ’n doodsvonnis vir Afrikaans nie.

So sê Michael le Cordeur van die Departement Kurrikulumstudie aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch (US).

Hy was deel van ’n gesprek oor die inklusiwiteit van Afrikaans en hoe om dit prakties te maak. Die gesprek is in Stellenbosch deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) aangebied. Saam met hom op die verhoog was die bekende taalkundige Wannie Carstens. Carstens was die eerste voorsitter van die ATR wat in 2008 in Wellington gestig is en Le Cordeur was die tweede voorsitter van die ATR.

Wannie Carstens en Michael le Cordeur

Hulle is ook mede-redakteurs van die boek Ons kom van vêr – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans, waarvan daar die afgelope naweek ’n hersiene weergawe bekendgestel is.

Vir Carstens is die Konstitusionele Hof se uitspraak ’n groot terugslag vir Afrikaans. “Ons moet nie dink dat die impak klein gaan wees nie. Inteendeel. Vir Afrikaans se waarde as onderrigtaal is dit ’n groot terugslag met ’n verdoemende impak wat beteken dat Afrikaans mettertyd as akademiese taal kan verdwyn.”

Le Cordeur sê Afrikaans se dood is nog lank nie in sig nie. Die hofuitspraak voorspel volgens hom ook nie die einde van Afrikaanse skole nie. “Slegs ’n klein persentasie Afrikaanse leerders gaan in elk geval universiteit toe. Solank daar Afrikaanse mense is sal daar ’n behoefte vir Afrikaanse skole wees,” het hy ná die tyd aan LitNet gesê.

Die klem tydens die naweek se gesprek het egter geval op inklusiwiteit en die vraag hoe maak mens Afrikaans in die praktyk inklusief vir almal.

Beide die sprekers was dit eens dat dit slegs kan gebeur as almal verstaan waar kom Afrikaans vandaan sonder om by die verlede vas te steek.

Apartheid het nie alleen mense uitmekaar gedryf nie maar ook veroorsaak dat mense mekaar begin wantrou, het Le Cordeur gesê. “Tensy ons die ware geskiedenis van Afrikaans ken en verstaan, kan daar nie werklik versoening wees nie. Versoening kan net plaasvind as ons al die feite het.”

Le Cordeur sê daar is steeds mense wat nie besef Afrikaans is nie deur ’n paar witmense uitgedink nie. “Waar het Afrikaans ontstaan, in die Paarl of die Bokaap? Daar is sowaar nog mense wat glo SJ du Toit het Paarlberg opgestap en dat die Here Afrikaans daar vir hom op twee kliptablette gegee het.”

Carstens het ook gepleit dat die mite van Afrikaans as ’n wit taal afgebreek word sonder om die bydraes van wit Afrikaanse mense te misken of eenkant te skuif. Sy boek Die storie van Afrikaans, deel 2 is ook tydens die geleentheid bekendgestel.

Die storie van Afrikaans is ’n lywige biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en in Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het).

Die geskiedenis van Afrikaans het laagte- en hoogtepunte wat nog nie behoorlik vertel is nie omdat soveel elemente en gebeure nog nie na behore betrek is nie of bloot afgeskeep is. Afrikaans het nie “sommer net” ontstaan nie, maar is oor jare geslyp en geskaaf tot wat dit vandag is, verduidelik Carstens.

Die taal het ’n unieke pad van wording geloop. Die outeurs probeer die agtergrond skets van hierdie pad en ook van die breë spektrum sprekers omdat húl keuses, optredes, gebruike en besluite ten nouste met die taal in al sy vorme verweef is.

In deel 2 van die boek word meer van hierdie pad vertel, oor hoe die land en taal deur gebeure verbind word en ook oor hoe die pad vir Afrikaans vorentoe kan loop.

“In dié boek word die lelike en die goeie oor die storie van Afrikaans vertel” sê Carstens. “Ons kan dit wat in die verlede gebeur het nooit vergeet nie maar ons kan dit net agter ons sit en saam vorentoe gaan as ons die volle verhaal van Afrikaans ken en nie slegs die vals deel van die geskiedenis nie.”

Met verwysing na die verlede het Le Cordeur gesê witmense moet wegkom daarvan om heeltyd skuldig te voel. “Nelson Mandela het julle ook vrygemaak en almal bemagtig. As mens heeltyd so skuldig voel oor die verlede kan dit jou so verlam dat jy nie op die toekoms kan fokus om reg te maak wat verkeerd is nie.”

Hy het ook verwys na die sogenaamde stilswye van bruin Afrikaanssprekers oor Afrikaans. “Daar is nie regtig  ’n stilswye nie,” sê Le Cordeur. “Hulle stemme word eenvoudig nie genoeg gehoor nie omdat hulle sukkel om blootstelling te kry in die media. Afrikaanse redakteurs moet daarvan kennis neem. As hulle nie my storie oor Afrikaans in Afrikaans wil plaas nie dan skryf ek dit in Engels,” het Le Cordeur gesê.

“Die verhaal van Afrikaans moet nie net uit een hoek vertel word as Afrikaans inklusief wil wees nie.” Le Cordeur het onder meer verwys na die groot rol wat bruin Afrikaanse mense gespeel het in die stryd teen apartheid. Een van die voorbeelde is Basil Kivedo wat lid was van die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we Sizwe.

In die boek Ons kom van vêr vertel Kivedo hoe hy in Afrikaans geveg het teen apartheid en in Afrikaans deur die polisie in hegtenis geneem is.

“Ek is deur die veiligheidspolisie gearresteer in Afrikaans, ek is aangehou in Afrikaans, ek is gemartel in Afrikaans, maar ek het terugbaklei in Afrikaans.”

Teen die einde van die gesprek is daar ’n sterk pleidooi deur al die deelnemers gelewer om saam die toekoms in te gaan met Afrikaans.

Ons kan nie altyd vir mekaar kwaad bly nie, het die ATR se programbestuurder Ria Olivier die gesprek opgesom. Sy sê die leuse vorentoe moet wees “saam hiervandaan” want dit sê iets van Afrikaanse mense se “komvandaan”.

...........

Lees meer oor die Afrikaanse taalgemeenskap en die proses van onderlinge versoening in die LitNet Akademies-artikel, “Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening” (Wannie Carstens, 2013).

...........

Kyk ook

Suidoosterfees 2019-video: Die volle storie van Afrikaans

Lees ook

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Ons kom van vêr: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Kettinggesprek: Frank Hendricks gesels met Michael le Cordeur oor Ons kom van vêr

Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt

Kettinggesprek: Charlyn Dyers gesels met Wannie Carstens oor Ons kom van vêr

Michael le Cordeur gesels oor Kaaps

Lees ook op Voertaal

Wannie Carstens: “Die wit geskiedenis is nie die geskiedenis van Afrikaans nie”

Vijf vragen voor Wannie Carstens over Die storie van Afrikaans (Deel 2)

Wannie Carstens: voorzichtig optimisme over het Afrikaans

The post Saam die toekoms in met Afrikaans appeared first on LitNet.

Matriekvraestelle: Ingenieursgrafika (2018)

Matriekvraestelle: Engels Eerste Addisionele Taal (2018)

Viewing all 21841 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>