Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21515 articles
Browse latest View live

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg oor Medusa

$
0
0

Medusa
Rudie van Rensburg
ISBN: 9780795801839
NB-Uitgewers

Rudie van Rensburg vertel vir Naomi Meyer van sy jongste boek, Medusa, wat ook vanjaar by die US Woordfees in ‘n boekgesprek bespreek word.

Rudie, baie geluk met die verskyning van Medusa. Ek moet jou sê: hierdie boek van jou het my geraak en plek-plek my hart gebreek. Hoeveel van hierdie storie is waar?

Baie dankie, Naomi! Ongelukkig is die boek grootliks op die waarheid geskoei. 

Aspekte hiervan moet eenvoudig waar wees; dit klink onheilspellend moontlik dat hierdie soort dinge bestaan. Ek sien in die bedankingsgedeeltes hiervan dit was ook vir jou donker om hieroor te skryf. Hoe het die verhaal jou pad gekruis?

Verskeie koerantberigte oor kindermolestering het my op die verhaal laat besluit. Ek het egter nie toe besef waarvoor ek my inlaat nie. Toe ek navorsing oor pedofilie begin doen, het dit my onkant betrap en my omtrent uit my gemaksone geruk. Buiten vir die ontstellende navorsingsgegewens, was ek ook bang dat ek die grense van fatsoenlikheid met so ’n verhaal gaan oorskry. Ek het dit selfs in ’n stadium ernstig oorweeg om nie voort te gaan met hierdie onderwerp as tema nie. Maar  persoonlike gesprekke met Stella Potgieter, een van die land se voorste kenners op die gebied van pedofilie, en Celeste de Vaal, wat ’n kenner van mensehandel en “rape homicides” (kinderverkragting) is, het my finaal aangespoor om voort te gaan. Uit my gesprekke met hulle het ek ook tot die gevolgtrekking gekom dat die omvang van die misdryf in Suid-Afrika baie onderskat word. So ook die gevare waaraan kinders blootgestel word op die internet (onder meer op Facebook). Met letterlik miljoene mense wat onder vals Facebook-profiele opereer, is kinders sagte teikens vir pedofiele, allerlei soorte molesteerders en mensehandelaars. En ja, ’n groot deel van die storie is gegrond op ware gevallestudies wat ek onder meer in doktor Potgieter se doktorale proefskrif oor pedofilie raakgeloop het en toe gebruik het om ’n sekere karakter in die boek se gedrags- en denkpatrone geloofwaardig te beskryf.

Hoe gemaak as mens so betrokke raak by die karakters wat mens skep? Wat het jou laat aanhou (al weet jy almal se uitkoms is nie ewe gunstig nie)?

Dit is nogal ’n “intieme” proses. Jy leef elke dag saam met die karakters in jou kop. Dit is veral moeilik as jy effe verknog raak aan sekeres, maar weet daar wag ’n ongelukkige einde op hulle. In Pirana het een karakter so diep in my hart gekruip dat ek sy lewe in die boek "'gespaar"' het, wat aanvanklik nie die plan was nie. Maar ongelukkkig is dit soms in belang van ’n misdaadverhaal dat jy "wrede besluite" moet neem. Die lesers sal maar self moet lees om te sien of dit in Medusa die geval is.

Fynkam jy die koerante vir stories en storielyne of hoe vind jy van alles uit?

Ek is ’n fanatiese koerantleser, wat in elke brokkie ’n moontlike storie soek. Talle van my boeke het juis ontstaan as gevolg van koerantberigte of tydskrifartikels (Slagyster, Judaskus, Pirana, Ys en nou Medusa). Die storielyne kry gewoonlik eers gestalte wanneer ek begin skryf.

’n Boek per jaar, sien ek. Dis darem ’n kragtoer! Was dit ’n doelbewuste doelstelling toe jy begin het om ernstig misdaadromans te skryf?

Ja, ek wou altyd minstens een boek ’n jaar skryf. Ek handhaaf daagliks ’n gedissiplineerde skryfroetine en die afgelope twee jaar het ek harder as ooit gewerk  om vanjaar ’n tweede boek (in September) te laat verskyn. Dit is ook ’n spanningsroman, maar dié keer is Kassie Kasselman nie die hoofkarakter nie. ’n Sekere karakter in my debuutboek, Slagyster, spook al jare lank by my. Van die begin af het ek geweet hy het die potensiaal om ’n sterk hoofkarakter te maak en die September-boek handel oor hom. Daar sal egter volgende jaar weer ’n Kassie-boek verskyn.

En dit lees so vloeiend, jy word wyd bekroon. Word dit vir jou makliker?

Die skryfproses word beslis makliker. Dit help natuurlik ook dat ek ’n joernalistieke agtergrond het. Die basiese skryfboustene is in daardie omgewing gelê. En ek weet darem teen die tyd hoe om die slaggate te vermy waarin ek as debuutskrywer getrap het. Terselfdertyd moet ek ook erkenning gee aan my vaardige redigeerder, Suzette Kotzé-Myburgh, vir haar bydrae.

En kom die idees so vinnig by jou op? Maak jy gedurig aantekeninge oor nuwe stories al is jy nog besig met die een verhaal? Skryf jy sommer die volgende dag al, nadat die manuskrip weggestuur is, aan ’n nuwe verhaal?

Ek dink stories kom vinnig by my op omdat ek heeltyd op die uitkyk daarvoor is.  As ek dit nie in koerante of niefiksie-boeke kry nie, delf ek maar diep in my eie kop vir idees. Laasgenoemde gebeur gewoonlik as ek saans in die bed klim. Ek maak nie regtig aantekeninge nie. Wanneer ek aan ’n manuskrip begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verhaal gaan verloop. Buiten vir die navorsing wat klaar gedoen is, is my voorafbeplanning gering. Ek vermy fyn beplande raamwerke, want ek glo dit beperk my denkproses. Gedurende die skryfproses loop elke storielyn maar sy eie verrassende draaie, wat ’n mens in die beginstadium nooit voorsien het nie. As ek halfpad met ’n manuskrip is, het ek gewoonlik nie ’n idee hoe die verhaal gaan eindig nie. Vir my is dit juis die lekkerste deel van skryf om na daardie eindpunt toe te werk. Wanneer ek klaar is met ’n manuskrip, is dit vir my baie moeilik om stil te sit. Teen daardie tyd het ek al ’n groot deel van die navorsing vir ’n volgende boek afgehandel, wat ek saans doen om nie met my oggendskryfwerk in te meng nie. Ek vat gewoonlik ’n breek van ’n week of twee voordat ek ’n nuwe manuskrip aanpak, maar in Desembermaande gun ek myself ’n effe langer rustyd.  

Was die Griekse mite van Medusa ’n inspirasie? Op watter wyses, indien wel?

Ek sou nie sê daardie mite het as ’n inspirasie gedien nie. Maar die beeld uit my jeugjare van die lelike en onheilspellende vrou met die spul krioelende slange op haar kop, het perfek ingepas by die verhaal en veral die antagonis wat ek geskep het.

Is dit vir jou lekkerder om boeke te skryf as om koerantman te wees, of versekeringsman? Het jy toe ook maar geskryf, destyds, of het jy nie teruggekeer na ou manuskripte in die laai nie, maar vars en nuut begin skryf toe jy klaar is by die verskeringsmaatskappy?

Ek kan onteenseglik sê dat om boeke te skryf verreweg die lekkerste werk is wat ek nog gedoen het. Trouens, dit voel glad nie soos werk nie omdat ek die proses so geweldig geniet. Ek het ná my tyd as joernalis bly skryf en het vir verskeie koerante en ander publikasies rubrieke onder skuilname geskryf. In die tyd het ek ook die drama, Die begrafnis, geskryf. Ek het wel eenkeer ’n halfhartige poging aangewend om ’n boek te skryf, maar my tyd was eenvoudig te beperk om my volle aandag daaraan te gee. Ná my versekeringsdae het ek vars begin met my debuutboek se manuskrip.

Wat doen jy as jy tyd kry vir iets anders as skryf? Vertel ons van jou seëlversameling (as ek Kassie se stokperdjie as voorbeeld kan gebruik)?

Ek was in ’n stadium ’n ywerige gholfspeler, maar my onkonvensionele swaai was nie bevorderlik vir my lang rug nie. Ek en my vrou, Líze, hou baie van die teater. Ons ander groot bederf is om in Desember in Hermanus uit te span, waar ek van skryf en stories vergeet en nie eens my skootrekenaar heen saamneem nie. Ek is ook ’n groot sportliefhebber en kyk gereeld krieket, rugby en gholf op TV. En vanjaar het ek besluit om meer tyd in te ruim om te skilder, ’n passie wat ek die afgelope ses, sewe jaar gruwelik afgeskeep het.

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

The post US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg oor <em>Medusa</em> appeared first on LitNet.


PEN Afrikaans Nuusbrief: Februarie 2019

$
0
0

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Jaarplan 2019
 
2019 is in volle vaart aan die gang en ons sien uit na 'n produktiewe jaar in samewerking met ons lede.

Ons deel graag vanjaar ’n jaarplan met datums wat vir ons bedrywighede en hopelik vir ons lede relevant is. Dit sluit datums vir kunstefeeste, literêre feeste, skryfkompetisies en skryfkursusse in. Die jaarprogram kan hier afgelaai word.
 
Ons sal die jaarprogram opdateer soos nuwe datums en geleenthede bekend word en by volgende maande se nuusbriewe insluit.   
 
Resensiekursus en slypskool by die US Woordfees

 

Die US Woordfees is om die draai en dit is vir PEN Afrikaans ’n plesier om betrokke te wees by twee kursusse op die feesprogram. Een is daarop gemik is om terug te ploeg in die boekjoernalistiek deur die opleiding van resensente, terwyl die ander daarop gemik is om jong skrywers te begeester en op te lei in die skryfkuns.  

Op 2 Maart word die WOW-Skryfskool in samewerking met PEN Afrikaans en die ATKV-Skryfskool van die NWU aangebied. Tydens dié slypskool sal hoërskoolleerders en studente touwys gemaak word oor die fynere kuns van skryf. Die kursus is gratis, maar plek is beperk. Hierdie slypskool is vir aspirantskrywers ’n gulde geleentheid om onder leiding van Bernard Odendaal en Franci Greyling, kenners en gesoute aanbieders, die eerste stap in hul skryfloopbaan te neem. Meer inligting is hier beskikbaar.

Netwerk24 en NB-Uitgewers bied in samewerking met PEN Afrikaans op 9 Maart ’n resensiekursus by die Woordfees aan. Kerneels Breytenbach, Jo Prins en Anastasia de Vries sal kursusgangers met praktiese wenke en voorbeelde lei. ’n Nuwe roman uit NB-Uitgewers se stal sal met die oog op die kursus deur deelnemers geresenseer word. Sien hier vir meer inligting. 

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg: volgende stappe en 'n simposium

Die Gekose Komitee oor Handel en Internasionale Betrekkinge beoog om hierdie maand oor die wysigingswetsontwerp te vergader, met insette van die Departement Handel en Nywerheid. Na verwagting sal belanghebbendes dan genooi word om kommentaar in te dien. Dit sal die laaste geleentheid wees om kommentaar te lewer voordat die wetsontwerp na die Nasionale Raad van Provinsies gaan vir goedkeuring. Ons sal ons lede op hoogte hou van verwikkelinge.

Op 19 Februarie bied ANFASA 'n simposium aan oor die impak van die kopiereg-wysigingswetsontwerp op akademiese skryfwerk en die publikasie daarvan in Suid-Afrika.
 
Die sentrale vraag wat by die simposium gevra sal word, is wie by dié kopieregwysigings sal baat. Hierdie vraagstuk sal uit ’n verskeidenheid perspektiewe belig word.
 
Toegang is gratis, maar plek is beperk. RSVP om 'n sitplek te bespreek. Sien volledige inligting onder.

Naas Steenkamp (1933–2018)
 
’n Geleentheid ter herdenking van die lewe van Naas Steenkamp, ’n stigterslid van PEN Afrikaans, is op 4 Februarie in Somerset-Wes gehou.
 
By dié geleentheid is Naas Steenkamp se sentrale rol in die totstandkoming van PEN Afrikaans onder andere belig. Ons is hom dankbaar vir sy reuse-aandeel in ons vestiging as PEN-sentrum. Sy nalatenskap is ryk en sy bydrae groot.
 
Lees hier meer.
 
’n Nuwe artikelreeks
 
In 2018 het PEN Afrikaans by kenners aangeklop oor regskwessies wat skrywers raak. Hul deelname en kundige insette het tot gevolg gehad dat ons maandeliks nuttige artikels met ons lede kon deel oor praktiese en wetlike sake wat hul raak. Kyk gerus na ons webportaal om die artikels na te gaan of soek op Facebook en Twitter met die hutsmerk #WatElkeSkrywerMoetWeet.
 
Hierdie jaar beplan ons ’n nuwe reeks artikels waarin skrywers self aan die woord is. Ons sien uit om te lees oor ’n verskeidenheid onderwerpe wat met die wêreld van die skrywer te doen het.
 
Die eerste skrywer aan die beurt is PEN Afrikaans-bestuurslid, bekroonde digter, resensent en nou ook romansier, Charl-Pierre Naudé.  Hy skryf hierdie maand oor die rol van netwerke en netwerkskepping in sy loopbaan as skrywer, en brei uit oor skrywersresidensieprogramme waaraan hy al deelgeneem het.

Hou gerus ons sosialemedia-platforms dop vir die artikel.
 
Spesiale aanbod: PharosAanlyn

 

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry tot einde Maart 15%-korting by PharosAanlyn, Pharos se aanlyn versameling van algemene en vakwoordeboeke. PharosAanlyn is ’n omvattende naslaanbron vir elkeen wat effektief in Afrikaans, Engels en ander tale wil kommunikeer. Hierdie versameling sluit ’n wye verskeidenheid tegniese woordeboeke in en word deurlopend aangevul wanneer nuwe titels verskyn. Daar is tans meer as 30 woordeboeke in die versameling.
 
Daar is vir enkelgebruikers vier pakkette om van te kies.  Meer inligting oor die pakkette is hier beskikbaar en hier is ’n kort video wat illustreer hoe om PharosAanlyn te gebruik.
 
Fakture vir ledegeld, wat nie vanjaar verhoog sal word nie en dus steeds R300 beloop, sal binnekort uitgereik word. Lede wat hul ledefooi betaal het, kan by PharosAanlyn ’n koeponkode kry om teen dié afslag toegang tot ’n pakket van hul keuse te kry.
 
Ná vereffening van die faktuur, kan opbetaalde lede van PEN Afrikaans ’n e-pos stuur aan sales@pharosonline.co.za om ’n afslagkoepon te kry. Lidmaatskap moet bevestig word deur ’n kwitansie vir 2019-ledegeld by die e-pos aan te heg.  
 
Maandelikse resensie-oorsig


Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2019
 
Die stewige lys van nuwe Afrikaanse boeke wat in Januarie en Februarie verskyn het, voorspel goeie dinge vir ’n jaar vol boeke. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Februarie 2019 appeared first on LitNet.

Erfskandes deur Trisa Hugo: ’n lesersindruk

$
0
0

Erfskandes
Trisa Hugo
Uitgewer: Boekemakranka
ISBN 9781928268017

Selfpublikasie het gekom om te bly, maar het ongelukkig ’n swak reputasie opgebou as gevolg van die gebrekkige taalkundige versorging en algemene afronding wat ongelukkig dikwels hierdie werke kniehalter. Dit is natuurlik verstaanbaar dat skrywers nie altyd die middele het om van ’n professionele taalversorger en verkieslik ook ’n manuskripontwikkelaar gebruik te maak nie. Die e-boek het immers nie voldoen aan die aanvanklike verwagtinge nie en dis bekend dat baie min nuwe skrywers ooit meer as 50 boeke op die internet verkoop.

In hierdie lig gesien is Erfskandes ’n welkome uitsondering. Die dienste van ’n professionele manuskripontwikkelaar is gebruik en die taalversorging is goed. Die kritiese leser hoef dus nie bang te wees dat dit ’n minderwaardige stuk werk is nie.

Die verhaal draai om die bejaarde broer en suster Jannerik en Vya, wat besef dat hulle die einde nader en dat daar geen erfgenaam vir die plaas en ander bates is nie. Die spanningslyn word gebou rondom die plan wat Jannerik beraam om hierdie situasie aan te spreek en hoe dit hulle broerskind Willem en sy vrou raak. ’n Tragedie uit hulle kinderdae spook ook nog steeds by hulle en bind die hede en die verlede saam in die sin dat daar telkens ’n onskuldige kind betrokke is.

Die verhaal word afwisselend uit die oogpunt van hierdie vier karakters vertel, maar dis veral Vya wat na vore tree met haar outentieke binnestem wat aan die leser die lyding wat die verlede steeds vir haar veroorsaak, duidelik teken. Vya se taalgebruik is tekenend van ’n ouer generasie Afrikaanssprekendes en help mee om haar karakter volrond en oortuigend te maak. “Al wat sy gedink het voordat sy kamer toe is, is dat oorle’ Ma in haar graf omdraai in hierdie donkere nag. Dat sy selfs in haar dood langs die man moet lê wat haar soveel bittere dae besorg het, is erg genoeg.”

Die manier waarop Vya haar liefde betoon deur die boerekos wat sy maak eerder as woorde, spreek my besonder sterk aan. “Die reuk van vleis wat wil-wil brand laat haar na die kombuis haas. Die skaapboud het droog gebak, en die sousies wat onder in die bak gevorm het, is nou taaierig en bruin. Nét reg. Kos is darem die een ding wat uit haar hand kom wat altyd reg is. Die smaak, reuk en tekstuur. Dis een ding waarvoor sy altyd geprys word. Min mense het nog onvervuld van haar tafel af opgestaan, al het hulle hulle monde vol oor die oordaad. Sy hoor mos.”

Haar smagting na ’n kind van haar eie hou sy vir haarself, maar selfs vir haar as bejaarde het die gemis nog nie verdwyn nie.

Ook Vya se aftakeling tot ’n hulpelose sieke in die ouetehuis word aangrypend geteken.

In wese is Erfskandes ’n aanklag teen die vergrype van die verlede en die volgehoue geheimhouding daarvan. Vya se lyding as bejaarde vrou as gevolg van die gruwel wat sy as dogtertjie gesien het, bevestig die hedendaagse kennis van die gevolge van kinderondervindings waar die kind geen leiding of terapie ontvang het nie, soos dit in vroeëre geslagte gebeur het en ongelukkig steeds dikwels gebeur.

Die verhaal lees vlot en telkens kom ’n nuwe kinkel te voorskyn wat die leser verras. Dis egter die tekening van die twee bejaardes en die interaksie tussen hulle wat vir my die hoogtepunt van die boek is. Die interaksie tussen hulle spreek van ’n gevestigde patroon waar min woorde uitgespreek word, maar waar begrip sowel as pyn op ’n dieper vlak lê.

“Nou wat is dit dan met jou vanaand? Dis laat, ek wil kooi toe.”

“Sit. Ons moet praat.”

Sy het geskrik, sy wou nie weer oor die dinge van vergange dae praat nie. Wat verby is, is verby. Sy het lankal vergiffenis afgebid. Nee, afgesmeek. Haar knieë is deurgebid. Hoe minder sy daaroor dink, hoe beter. En haarself het sy lankal vergewe, en dit is tog wat tel. Dit was haar saak. ’n Saak tussen haar en haar God.

“Hier sit ons. Ons beste jare is verby, en ons het geen kind of kraai nie.” Jannerik het eers met ’n vuurhoutjie in sy pyp gekrap en dit toe uitgeklop. Hy het weer tydsaam uit die blinkgevatte twaksak gestop. “Nie jy nie, en nie ek nie. Wat gaan van ons goed word?”

Op ’n subtiele vlak sien die leser ook hoe Vya Jannerik as die leier en haar meerdere aanvaar, want sy woord is wet, al is sy planne vir haar ontstellend. “Jannerik het nie teëpratery aanvaar nie. Hy het vir hom opgeruk en dan het hy vir dae die verte sit en instaar. Dit was baie makliker om hom maar te laat begaan en net aan te gaan met haar dag.”

Net so aanvaar sy hoe haar lewe verloop het as die wil van God waarteen sy haar nie durf verset nie.

Waar die bejaardes, en veral Vya, oortuigend en simpatiek geteken is, kom die twee jonger karakters Willem en Charien nie as volronde persoonlikhede na vore nie. Hoewel daar gepoog word om Charien se gedrag teen die lig van haar agtergrond te verklaar, word sy nooit ’n karakter waarmee ek werklik simpatie en empatie kon hê nie.

Erfskandes is in wese ’n boek oor die krag van familie, maar ook die gif wat in families kan skuil. Die boek word aanbeveel vir lesers wat realistiese verhale verkies.

The post <em>Erfskandes</em> deur Trisa Hugo: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

#SansSouci: ’n Gesprek met ’n oudonderwyser oor wat onderwysers én kinders nodig het

$
0
0

Dewald Koen (foto verskaf)

https://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

’n Voorval waartydens ’n leerder deur ’n onderwyseres in ’n klaskamer deur die gesig geklap is, het onlangs aandag getrek. Sonja Loots het ’n rubriek in Rapport hieroor geskryf. 

Naomi Meyer vra vir Dewald Koen, wat self ’n onderwyser was en nou ’n dosent is, wat hy dink van die kinders én die onderwysers in hedendaagse Suid-Afrika: van wie hulle is, en ook van hulle behoeftes.

Dewald, hoe sien jy die Alfa-generasie, oor wie Sonja Loots onlangs in Rapport geskryf het? Vir my is dit die kinders van millenniërs, diegene wat nie dink dis vreemd om voortdurend 'n selfoon in die hand te hê nie want dis immers 'n verlengstuk van jou menswees; jy, synde half mens, half robot = androïde.

Ek is nie ’n ouer nie, dus kan ek die vraag slegs as voormalige onderwyser en huidige dosent beantwoord. My interaksie met Generasie Z is en was beperk tot die klaskamer en/of lesingsaal. Generasie Z is ’n groep kinders en tieners wat te veel uitdagings het om op daaglikse basis te moet trotseer. Vyftig jaar gelede was daar nie kuberboelies op Facebook nie. Kinders kon in die straat speel sonder dat hulle deur ’n dwaalkoeël van ’n bendegeveg getref word. Ek dink selfone het kinders se spreekwoordelike skild teen die gevare van die samelewing geword. Kinders het nie voldoende emosionele ondersteuning nie (weens afwesige ouers en/of vaderfigure ens). Hulle kruip weg in die kuberruim. Jy hoef nie van aangesig tot aangesig met mense te kommunikeer nie. Selfone, tablette en rekenaars word deur kinders en tieners as ’n veilige sone beskou. Ek dink nie ons as volwassenes sal ooit weet wat in hul koppe aangaan nie. (Ons is self maar effens verslaaf aan ons selfone ...)

Ja, vorige generasies moes wêreldoorloë en apartheid trotseer, maar die druk wat deur tegnologie veroorsaak word, was afwesig. Vandag moet kinders en tieners fisieke geweld tesame met tegnologiese geweld in die gesig staar.

Die Alfa-generasie is baie meer as net robotte, ek weet. Wat gaan binne-in elkeen aan, gebaseer op wat jy beleef het? Kan ek vra wat jý dink die lewensbeskouing is van kinders in vandag se klaskamers?

Ek dink kinders is ontnugter deur die samelewing in sy geheel. Suid-Afrikaanse kinders word blootgestel aan die buitewêreld deur middel van tegnologie. Hulle sien watter geleenthede kinders in ander welgestelde (meestal Eerste Wêreld-) lande het. Generasie Z moet die prys betaal vir die sondes van die voorvaders. Die oorgrote meerderheid kinders leef in armoede. Hulle word groot in ’n samelewing waar hul daagliks aan sosio-ekonomiese ongelykheid blootgestel word. Dit lei tot frustrasie en woede. Dit is wat tans by universiteite gebeur. Die oorgrote meerderheid studente is gefrustreerd. Verandering gebeur te stadig en aangesien Generasie Z gewoond is aan onmiddellike bevrediging, is hulle nie altyd bereid om die uitgerekte prosesse te volg om verandering teweeg te bring nie. Veral wit kinders voel dat hulle spreekwoordelik “gestraf” word vir hul ouers se aandeel aan apartheid en kolonialisme in Suid-Afrika. Wit seuns het gereeld vir my as onderwyser gevra waarom hulle byvoorbeeld nie vir mediese studie aan ’n universiteit toegelaat word nie terwyl ’n swart student met laer punte wel toegelaat word. Hulle kon nie insien waarom hulle as sulks “gestraf” moet word vir die onregte wat in die verlede in ons land gepleeg is nie. Swart leerders is gefrustreerd met die oorheersend Westerse skoolsisteem waar hul kultuur nie altyd gerespekteer word nie. Suid-Afrikaanse kinders moet al die “Westerse” probleme die hoof probeer bied terwyl hul boonop ’n “normale” samelewing in ’n eens “abnormale” land moet skep. Die emosionele druk en verwagtinge op Generasie Z is abnormaal hoog.

Die onderwysers wat skool hou deesdae is jonk – dis dalk net my eie persepsie soos wat ek ouer word. Wie dink jy is Generasie Z se onderwysers? (Kan hulle spel? Nee, jy hoef nie hierdie vraag te beantwoord nie.) Net: wie dink jy is vandag se onderwysers? En aan watter soort druk is hulle uitgelewer? 

Ek hou baie van hierdie vraag. Dit is ’n vraag wat eenvoudig gevra moet word. Daar bestaan ’n groot gaping tussen die ouer, meer ervare onderwysers en die nuwe, jonger-generasie-onderwysers wat vandag klaskamers betree. Ek gaan nou ’n gewaagde uitspraak maak, maar dit moet gesê word: Die jonger onderwysers wat aangestel word, het nie voldoende kennis en/of ervaring om die uitdagings in die klaskamer baas te raak nie. Die probleem kan aan allerlei faktore toegeskryf word.

Eerstens moet onderwys ’n passie wees. Ek vind dat talle studente onderwys studeer omdat dit as die “maklike” opsie op tersiêre vlak beskou word. Boonop is daar talle beurse vir onderwysstudie beskikbaar en is die toelatingsvereistes vir onderwys nie op dieselfde peil as byvoorbeeld vir ingenieurswese of vir mediese studente nie. Ek veralgemeen nou liederlik, maar ek is onder die indruk dat jou toppresterende studente selde onderwys as loopbaan kies. Gevolglik word onderwysers wat nie altyd ’n passie of belangstelling in die beroep het nie opgelei om kinders te onderrig. Op hoërskoolvlak word onderwysers met BEd-kwalifikasies in klaskamers geplaas om op graad 12-vlak te onderrig sonder dat hulle die vak (byvoorbeeld Afrikaans of wiskunde) voorgraads tot op derdejaarsvlak studeer het. Sulke onderwysers is dus nie vakspesialiste nie. As voormalige onderwyser en departementshoof wat gereeld onderwysstudente moes oplei, het die gebrek aan vakkennis my geweldig gefrustreer. Talle jong onderwysers kan nie behoorlik lees, spel of skryf nie. Dit is kommerwekkend, aangesien hulle kinders moet leer lees en skryf. Daar sal indringend aan die probleem aandag gegee moet word. Opvoedkundefakulteite sal hoër standaarde daar moet stel om studente voldoende vir die klaskamer op te lei.

Onderwys is wel ’n uitdagende en uiters spanningsvolle beroep. Die geweld, intimidasie, dreigemente, druk om te presteer en totale gebrek aan respek vir die beroep sowel as die onderwyser as persoon is maar enkele faktore waaraan onderwysers daagliks blootgestel word. Die meeste onderwysers gebruik antidepressante of kalmeermiddels. Boonop is die werkslading, swak besoldiging en gebrek aan ondersteuning vanaf die Departement van Basiese Onderwys, beheerliggame, skoolhoofde en ouers kommerwekkend. Die onderwysberoep geniet geen aansien meer nie. Jong onderwysers word gou ontnugter en verlaat die beroep binne twee tot vyf jaar. Dit is nie die geval by alle Suid-Afrikaanse skole nie, maar is op die oorgrote meerderheid van toepassing.

Ek krap dalk aan iets wat irrelevant voel in vandag se Suid-Afrika: die vraag oor wie die mense in die klaskamer is en tot watter generasie hulle behoort. Van groter belang is dalk: die meeste mense het nie kos in die huis nie. En wat dink jy is ooreenkomste in hierdie generasies se kinders, of hul ryk is of arm?

Alhoewel daar groot sosio-ekonomiese ongelykhede tussen kinders in verskillende dele van die land en samelewing in die geheel bestaan, is daar heelwat faktore wat in enige huishouding, hetsy arm of ryk, teenwoordig is. Daar kan wel ’n spreekwoordelike “gesig” aan Generasie Z gekoppel word. Dit mag dalk wees dat die probleme waaraan hulle blootgestel is, nie uniek aan die 21ste eeu is nie, maar daar is definitief meer probleme waarmee die oorgrote meerderheid kinders wat deel uitmaak van Generasie Z, worstel. Enkelouergesinne, egskeiding, geweld, seksuele misbruik, die rol van tegnologie (hetsy positief of negatief), pornografie, alkoholmisbruik en dwelmmisbruik is maar enkele voorbeelde van wat enige kind, hetsy in Waterkloof of Khayelitsha, kan affekteer. Ons mag dus veralgemeen deur laasgenoemde faktore op Generasie Z in sy geheel van toepassing te maak, aangesien ’n kind se lewe deur een of meer van die faktore geaffekteer kan word.

Wat dink jy het die Alfa-generasie in hierdie land nodig? In terme van versorging - fisiek en emosioneel - en ook in terme van tegnologie (moet hulle nie dalk meer hiervan gespaar word nie, eerder as om tablette uit te deel?), betreffende kos en boeke en taal en toegang? En ook: Wat dink jy is onderwysers in hierdie land se behoeftes? Wat het húlle nodig?

Die probleme wat Suid-Afrikaanse kinders ervaar, is nie uniek nie, maar die feit is dat ons vanweë ons geskiedenis in ’n land woon waar groot sosio-ekonomiese ongelykhede aan die orde van die dag is. Dit gaan dekades neem om die ongelykhede selfs slegs gedeeltelik reg te stel. Ek wens ek het ’n towerstaffie gehad om alle probleme uit te wis! Hoe kan ons as Suid-Afrikaners verwag dat ’n dertienjarige seun/meisie op skool moet presteer wanneer hy/sy die versorger van sy/haar jonger broers en susters is? Kinders word deur ons as volwassenes in die steek gelaat. Dit is ons verantwoordelikheid om vir kinders te sorg, hetsy as ouer, oom, tannie, oupa, ouma, neef, niggie, voog, ouer broer of suster. Kinders benodig meer as net fisiese dinge soos kos, klere en ’n dak oor hul kop. Suid-Afrikaanse kinders smag na emosionele ondersteuning. Weens die gejaagde samelewing waarin ons leef, het ouers of voogde nie altyd tyd om saam met hul kinders te spandeer nie. Hoeveel ouers maak daagliks tyd om met hul kind te gesels? Om voor slaaptyd saam te sit en lees? Hoeveel ouers is werklik bewus van wat in hul kind se lewe aangaan? As onderwyser het ek gevind dat baie ouers bloot die kind by die skool aflaai en verwag dat die onderwyser die rol van ouer, sielkundige, mentor, opvoeder en rolmodel moet vertolk. Dit is onregverdig teenoor onderwysers. Ons as volwassenes en as ouers moet ons rol ernstig opneem.

Ek het gemengde gevoelens oor tegnologie. Ek glo dat kinders wel daaraan blootgestel moet word, maar vir spesifieke doeleindes. Die grootste onding in skole is die gebruik van tablette in klaskamers. Ek het eerstehands ervaar watter onreg aan leerders gedoen word indien onderwysers nie opgelei is en/of onwillig is om tablette in die klaskamer te gebruik nie. Dit word bloot ’n duur speelding. Geen tablet kan ’n gedrukte boek of kennis en akademiese leiding van ’n onderwyser vervang nie. Kinders moet veral in taalvakke gedrukte boeke lees. Hul moet die papier kan voel, aantekeninge kan maak en ’n liefde en waardering vir boeke kan kweek. ’n Tablet of selfoon is nie daar om die kind besig te hou terwyl die onderwyser sy/haar administrasie doen nie. Indien dit nie vir ’n spesifieke doel in die klaskamer gebruik word nie, hoort ’n selfoon of tablet nie in die klaskamer nie. Alle skole behoort leerders en onderwysers te dwing om daagliks vir minstens 30 minute in die klaskamer te lees. Dit is ononderhandelbaar.

Daar is duisende onderwysers wat passievol is oor hul beroep. Hulle is uitstekend opgelei, het jare se onderrigervaring en versit daagliks berge vir hul leerders. Die meeste onderwysers sal openlik erken dat hulle nie onderwys as beroep gekies het weens die salaris nie. Beter besoldiging sou verwelkom word, maar ek dink die meerderheid onderwysers wil eerder meer deur die leerders, ouers, skoolbestuur en gemeenskap in die geheel gerespekteer word. Onderwysers is geleerde mense wat een van die belangrikste take in die samelewing vertolk – om die toekomstige leiers, wetenskaplikes en ekonome (om maar enkele voorbeelde te noem) op te lei. Onderwysers benodig ondersteuning. Nie bloot in terme van goedtoegeruste klaskamers en hulpbronne soos handboeke nie, maar veral emosionele ondersteuning. In Engels word daar verwys na “wellness”. Suid-Afrikaanse onderwysers is oorwerk, verkeer onder enorme druk met te veel administrasie, ’n groot aantal leerders in die klaskamer en hopeloos te veel assesserings wat gedoen moet word. Skole sal self planne moet beraam om seker te maak dat die emosionele welstand van hul onderwysers as ’n prioriteit beskou word. Indien dit gebeur, gaan ons nie insidente hê waar ’n onderwyser ’n leerder klap nie. Onderwysers is ook mense met gevoelens. Ons sit op ’n spreekwoordelike tydbom wat enige oomblik gaan ontplof. Dit is in almal se belang dat die behoeftes van kinders en onderwysers dringend aandag geniet.

Lees ook:

Kô proe, wan soe smaakie Souci!

The post #SansSouci: ’n Gesprek met ’n oudonderwyser oor wat onderwysers én kinders nodig het appeared first on LitNet.

Filmresensie: The favourite

$
0
0

 Draaiboek: Deborah Davis en Tony McNamara

Regie: Yorgos Lanthimos

Akteurs: Olivia Colman, Rachel Weisz, Emma Stone, Nicholas Hoult, James Smith

Hierdie fliek is loshande my favourite om vanjaar se Oscar-wenner te wees: in die kategorieë beste film, oorspronklike draaiboek, regie, kinematografie, aktrise (Olivia Colman, gelykop met Glenn Close vir The wife) en beste vroulike byspeler (Emma Stone).

En as dit sou lyk soos ’n uitvloeisel van #MeToo – ’n film wat fokus op drie vroue terwyl die mans net daar is vir versiering (letterlik, met daai oordadige pruike en grimering) – het dit in werklikheid andersom gewerk. Deborah Davis het die eerste draaiboek al 20 jaar gelede geskryf, terwyl regisseur Yorgos Lanthimos die projek reeds in 2008 aanvaar het. Dus is dit ’n film wat sy tyd moes afwag (met meer as ’n sweempie van soete wraak?).

Die historiese agtergrond is in hooftrekke korrek: die verhaal speel af in ongeveer 1708 aan die hof van die Britse koningin Anne (gespeel deur Olivia Colman), maar die eintlike mag agter die troon is haar ou vriendin lady Sarah Churchill (Rachel Weisz). Wanneer Sarah se verarmde familielid Abigail Hill (Emma Stone) by die paleis opdaag, sien sy gou ’n gaping om die sieklike koningin se guns te wen. Die stryd wat volg, is van titaniese afmetings. Wie wen? Die een wat laaste bly staan, natuurlik.

Wees gewaarsku: Hierdie fliek is satire en dis brutaal. Dis ook absoluut oorspronklik en eenvoudig briljant.

Sterre: 5

 

The post Filmresensie: <i>The favourite</i> appeared first on LitNet.

Tweede kanse deur Stefan Enslin: ’n FMR-resensie

$
0
0

Tweede kanse
Stefan Enslin
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426165

Fliekvlooie sal Stefan Enslin ken as draaiboekskrywer en vervaardiger van goedvoel Afrikaanse rolprente soos Strikdas: ’n familiegedoente, Nul is nie niks nie en Verskietende ster. Enslin was ’n gekwalifiseerde stad- en streeksbeplanner voordat hy ná bykans tien jaar in dié beroep besluit het om sy langgekoesterde ideaal te verwesenlik om die wispelturig plaaslike rolprentbedryf te betree. Nadat hy ’n kursus as draaiboekskrywer met lof geslaag het, stig hy in 2012 sy eie produksiemaatskappy, Faith In Motion Productions, én waag hy terselfdertyd sy hand aan die skryfkuns.

Sy debuutroman, Verskietende ster, word in 2013 gepubliseer en twee jaar later verower die filmweergawe daarvan die toekenning as gehoorgunsteling by kykNET se Silwerskermfees. Volgens Enslin is ook Tweede kanse bestem om vir die silwerdoek verwerk te word. Tydens die lees van hierdie liefdesverhaal voel dit dan ook dikwels asof die verhaalgebeure deur ’n kameralens waargeneem word. Luister byvoorbeeld hoe die hoofkarakters hul geheime wegkruipplek ervaar:

Glansgoue lig gaan oop en skoenlappers in hulle duisende fladder vrylik rond, sodat dit soos ’n kleurryke sykombers lyk. Die dam skitter soos ’n gepoleerde spieël. Vanaf die oorkantste oewer kom ’n groep eende nader geswem toe Anna aan die voet van die dam gaan kniel.

Of die volgende toneeltjie:

Gert kyk na die houtwerkbank in die hoek. Hy trek die laai oop.

Stop.

Hy kyk daarin asof daar ’n slang is wat enige oomblik gaan pik. Gert kyk stadig om hom rond om die vertrek te fynkam vir enige onwelkome besoekers.

Niemand nie.

Stadig steek Gert sy hand in die laai en haal ’n foto uit.

’n Boek se voorblad skep sekere verwagtinge by ’n voornemende leser. Hierdie roman se idilliese voorblad in sagte pastelkleure laat dan ook geen twyfel dat dit ’n liefdesverhaal met ’n gelukkige einde gaan wees nie. Onder die titel, wat die blad in twee verdeel, sit ’n dogtertjie en seuntjie langs mekaar op ’n swaai en kyk oor groen weivelde na die opkomende son. Hulle is kaalvoet en in wit geklee as toonbeeld van kinderlike onskuld. Bokant die titel druk ’n lieftallige paartjie hul voorkoppe teen mekaar en staar salig diep in mekaar se oë. Hierdie roman is dus onteenseglik bedoel vir diegene wat lees vir ontspanning en ontvlugting van die alledaagse werklikheid.

In die proloog dink ’n volwasse Anna Struwig terug aan haar pa, Sarel – ’n suksesvolle stadsklerk en burgemeester wat een dorp na die ander regruk en mense beïndruk met sy sjarme en selfversekerdheid. Maar ons besef gou Sarel het ’n skadukant wat die oorsaak word van Anna se wantroue in mans en hul liefdesgebaartjies. Reeds op skool “het alle seuns geweet dat Anna Struwig ’n katjie was wat jy nie met enige handskoene aanpak nie” en haar geterg dat sy nooit ’n man sou kry nie ... totdat die Edmuns-gesin langsaan intrek en Anna en die nuwe buurseun begin “skryf aan ’n storie wat vir baie jare daarna onthou sou word”.

Dit is die jaar 1965. Te midde van politieke onrus begin die jaar vir die dertienjarige Anna op ’n laagtepunt. Haar ouers se huwelik wankel en Anna neem haar toevlug tot ’n geheime plek waar sy veilig voel en haar warboel botsende emosies kan ontrafel. Vir Joe, die nuwe buurseun, begin die jaar in die nuwe skool met ’n sarsie lyfstraf voor die hele klas. Hy hardloop uit die klas om sy vernedering weg te steek en die onderwyser stuur vir Anna, die klaskaptein, om hom te gaan soek. Waar Joe ineengekrimp sit, kyk hy op en, soos in ’n visioen, sien hy die meisie met die groot donker oë en blonde hare wat soos diamante in die son skitter. Instinktief besef hy die befaamde “liefde met die eerste oogopslag” het ook vir hom ingehaal.

Hierna ontdek die twee tieners die omgewing en ware vriendskap. Hulle fietsrit word ’n metafoor vir die lewensreis en saam met hulle ontdek die leser verskeie elemente wat terugkerende motiewe in die verhaal word: ’n majestueuse maar vervalle huis, ’n begraafplaas met hekke wat wyd oopstaan, ’n bos wat toweragtige gemoedsrus skep en ’n doring wat hulle met bloed laat sweer: “Together for ever …” Ons leer ken ook Joe se ouers, Gert en Magda, en sy kleinboet Jacques wat die oorsaak word van Gert se verterende skuldgevoel.

Maar dan stort Anna en Joe se sprokieswêreld ineen en ’n gebroke Joe moet magteloos toekyk hoe twee vragmotors die Struwigs en hul besittings wegvoer. Hoewel hy besef dat ’n mens nie vir liefde kan baklei nie, onderneem hy om vas te byt tot die dag wanneer hy Anna weer sal sien.

Nou volg ’n tydsprong van sewe jaar. Dit is 1972. Joe is 20 jaar oud en studeer medies aan ’n universiteit in Kaapstad. Saam met hom in die tweedejaarklas is Bianca de Wet. Anders as die halsstarrige Anna, sy gewese buurmeisie, is Bianca die spreekwoordelike “girl next door” op wie enige man “verlief behoort te raak”. Joe moet kies tussen “together for ever” en hierdie pragtige meisie wat dolverlief op hom is.

Dan tree die noodlot weer tussenbeide. Tant Siena Moolman, die koshuismoeder wat vir Joe soos ’n eie ouma voel, se geliefde man moet ’n operasie ondergaan en Joe trek by haar in om te help. Maar dan, te midde van ’n stormagtige reënbui, daag haar verloopte dogter se wederstrewige dogter daar op.

Intussen is Anna se ergste vrese bewaarheid toe haar pad met dié van die onweerstaanbare Marko Malherbe kruis. En kort daarna ook met dié van die beeldskone Bianca …

Saam met die karakters leer ons die studentelewe ken: die prettige vermaak van padkafees en bierdrinkery sowel as die donker drama van vuisgevegte en liefdelose seks. Joe ontdek die revue-groep as teenmiddel vir die nostalgie en verlange na Anna en Anna ontdek die skreiende waarheid oor haar geboorte en beland in ’n maalstroom van emosies en verkeerde besluite. Joe se welmenende pa dompel die gesin in ’n Griekse tragedie.

Maar, soos die romantitel voorspel, kry almal tweede kanse, al is dit soms onbeplan en onbedoeld. Na ’n hele paar onverwagte wendings word al die drade in die epiloog saamgeknoop sodat ’n mens die boek sonder onbeantwoorde vrae kan toemaak en, met nuwe hoop vir die liefde, na die werklikheid kan terugkeer.

Volgens Enslin is die hoofkarakters, Anna en Joe, geïnspireer deur die paartjie Noah en Allie in Nicholas Sparks se roman The notebook. Soos Sparks, wou hy “soortgelyke karakters skep, wie se liefde ’n baie interessante draai met hulle stap. […] Net soos in Noah se geval wou ek dat Joe moes veg om te verseker hulle liefdesverhaal word een van die mees asemrowendstes. ’n Liefdesverhaal wat harte sal roer en jonges sal inspireer, vir die regte redes.” In Die Volksblad (23 April 2018) beweer AJ Opperman egter in sy ietwat onvleiende resensie Tweede kanse is “beswaarlik ’n Afrikaanse weergawe van The notebook”. Lees gerus die boek en besluit self met wie jy saamstem.

Tog jammer dat ’n boek met soveel edele voornemens ontsier word deur etlike taal- en feitefoute. So ’n goedbedoelde skryftaak verdien noukeuriger redigering.

The post <em>Tweede kanse</em> deur Stefan Enslin: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

Grondwoorde-skryfkompetisie: langlys aangekondig

$
0
0

Grondwoorde is 'n Afrikaanse digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal.

Die drie hoofdoelwitte is: (i) die bevordering van Afrikaans; (ii) om aspirantdigters te ondersteun; en (iii) om brûe tussen leerlinge van meer diverse groepe te bou.

Wouter Gildenhuys is passievol oor al die inheemse tale van Suid-Afrika, ook oor Afrikaans.

"Ek voel baie sterk oor die gelyke regte van ander inheemse tale in Suid Afrika. Dit is belangrik dat ons indringend hieraan aandag skenk, nie net in die onderwys of op tersiêre akademiese vlak nie, maar ook op kulturele vlak. As ons respek vir Afrikaans wil beding en sy regmatige plek in ons Suid-Afrikaanse samelewing wil bevorder, dan is dit van uiterste belang dat wederkerige respek getoon word vir ander inheemse tale en dat hulle hul regmatige plek in ons ryk taal(kultuur)erfenis inneem; met ander woorde, taalrestitusie moet aan die orde van die dag wees! En ons het nie meer baie tyd oor as ek so na gebeure in ons land kyk nie," sê hy in 'n onderhoud op LitNet.

Van die begin af was dit sy doelwit om 'n Afrikaanse digkompetisie te fasiliteer/skep met 'n streeksgebonde (gefokuste) karakter, 'n digkuns wat eie is aan KZN; uit die grond van KwaZulu-Natal. Van daar die naam Grondwoorde.

Die titel is voorgestel deur Helize van Vuuren van die Nelson Mandela Universiteit. 

Wouter het onlangs vir Naomi Meyer vertel van die kompetisie, wat Grondwoorde genoem word.

Sedert hierdie onderhoud gevoer is, is ’n langlys bekendgemaak. Hier is die deelnemers wie se gedigte in aanmerking kom om 2018 se kompetisie te wen:

Agterste ry: Jaco Nel, graad 11 (Gelofteskool), Eugéne van der Linde, graad 9 (Suid-Natal), Kayla Vosloo graad 12 (Suid-Natal), Minette Janse van Rensburg, graad 10 (St Dominic’s, Newcastle), Stefan Friedrich, graad 11 (Eden Kollege), Zoë Meneses, graad 11 (Crawford Kollege), Marcé Strydom, graad 9 (Durban-Noord Kollege)

Middelste ry: Abigail van Staden, graad 10 (Greytown Hoër), Jayla Sayner, graad 11 (Kingsway), Jo-Anne van der Wath, graad 9 (Suid-Natal), Mignon Potgieter, graad 12 (Suid-Natal), Marlene Cloete, graad 10 (Suid-Natal), Tiana Hendrikse, graad 9 (DGHS), Roché Fourie, graad 11 (Durban-Noord Kollege), Chamoné Visagie, graad 11(Durban-Noord Kollege) 

Voorste ry: Caitlyn van Dyk, graad 9 (Suid-Natal), Nitasha Pillay, graad 9 (Arena Park Secondary), Nombuzo Vuna, graad 10 (Avoca Secondary), Kieasha Singh, graad 9 (Belverton Secondary), Nokukhanya Ntuli, graad 11 (New West Secondary), Fiona Mgenge, graad 10 (Avoca Secondary), Prashant Ramlall, grade 11 (New West Secondary)

  • Die sluitingsdatum vir vanjaar se kompetisie is 1 Augustus 2019 en die wenners sal in November aangekondig word.
  • Afrikaansgebruikende hoërskoolleerders in KwaZulu-Natal wat wil inskryf, kan vir Wouter kontak by: gildenhuys.wouter@gmail.com.

Lees ook:

Grondwoorde groei uit KwaZulu-Natal: ’n onderhoud oor ’n Afrikaanse gedigkompetisie

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

 

The post <em>Grondwoorde</em>-skryfkompetisie: langlys aangekondig appeared first on LitNet.

Engels in het hoger onderwijs aanpakken?

$
0
0

Gesien, Ingrid Glorie op Facebook:

Marten van der Meulen (Milfje): "Mocht je er toch wat aan willen doen, dan is het belangrijk te kijken naar de onderliggende oorzaken. Engels in het hoger onderwijs aanpakken? Verander de bekostiging. Minder Engels in de wetenschap? Zorg dat publiceren in het Nederlands weer aan prestige wint. Engels in de horeca verminderen? Pak het personeelstekort aan. Het oppervlakkige gevecht tegen het Engels heeft in ieder geval weinig zin. Als je echt iets wil veranderen, dan moet je dieper durven kijken."

The post Engels in het hoger onderwijs aanpakken? appeared first on LitNet.


Taalkommunikasiedosente se persepsies en verwagtinge van e-leerondersteuning om dienslewering te verbeter

$
0
0

Taalkommunikasiedosente se persepsies en verwagtinge van e-leerondersteuning om dienslewering te verbeter

Sanet Cox, André Steenkamp en Retha de la Harpe
Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie

 

LitNet Akademies Jaargang 16(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van die artikel is om verslag te lewer oor die persepsies en verwagtinge wat taaldosente oor e-leer-ondersteuning het en om ’n model vir ondersteuning bekend te stel. In die ingewikkelde konteks van hoër onderwys in Suid-Afrika verkeer alle dosente onder druk, en soveel te meer taalkommunikasiedosente. Dit is hulle taak om studente voor te berei om in die taal van onderrig en leer op ’n akademiese vlak deur verskillende vakgebiede heen te kommunikeer. Studente kom uit uiteenlopende kulturele agtergronde en verskil wat betref die verskeidenheid tale wat hulle magtig is en ook in terme van hulle vaardigheid in die taal van onderrig en leer by die universiteit, wat bykomende uitdagings op hierdie dosente plaas.

Daar word van dosente verwag om ’n leerbestuurstelsel (LBS) te gebruik om tegnologie deel van hulle onderrig te maak. Tog is die inkorporering van tegnologie in onderrig nie altyd suksesvol nie (Czerniewicz 2007; Brown and Gachago 2013) en is dosente nie gretig of noodwendig gemotiveerd om dit te gebruik nie (Govindasamy 2002; Zellweger 2006; Mohammadi 2015:371). Ondersteuning vir dosente in hulle gebruik van LBS is uitgewys as een gebied waarop e-leergebruik aangemoedig behoort te word (Govindasamy 2002; Spender en Stewart 2002; Stiles en Yorke 2004; De Freitas en Oliver 2005; Czerniewicz 2007; Brown en Gachago 2013). Omdat e-leer-ondersteuning ’n diens is, is daar by die diensleweringsbedryf moontlike benaderings tot die ondersteuning van dienste ondersoek. ’n Gewilde model vanuit die diensleweringsbedryf, genaamd die gapingsmodel (Parasuraman, Zeithaml en Berry 1985:44), het as teoretiese besinning by die ontwerp en beplanning van die studie gedien.

Onderrig is ’n ingewikkelde handeling waarby metodologie ’n integrale rol speel en veral met die inkorporering van tegnologie, soos deur die model vir Tegnologiese Pedagogiese en Inhoudelike Kennis (TPIK) (Mishra en Koehler 2006:1025) voorgestel word. ’n Effektiewe ondersteuningsbenadering word benodig om taalkommunikasiedosente by te staan in die insluiting van tegnologie in onderrig. Die gapingsmodel waarna vroeër verwys is, het by die ontwerp van die navorsing en vrae vir onderhoude en vraelyste ’n rol gespeel, terwyl die TPIK-model die ontleding en interpretasie van data ondersteun het.

Die navorsing was interpretatief van aard, met ’n induktiewe navorsingsbenadering waar ’n gevallestudie van een universiteit gebruik is om kwalitatief te werk. Data is van taalkommunikasiedosente en die personeel van die LBS-ondersteuningsdiens ingesamel deur middel van vraelyste en semigestruktureerde onderhoude om kwalitatiewe data te bekom. Die data dui daarop dat gapings rakende die persepsies en verwagtinge van LBS-ondersteuning tussen die twee eenhede bestaan.

’n Model is ontwerp om bogenoemde gapings voor te stel en te bespreek. Hierdie model kan bydra tot optimale e-leergebruik vir taalkommunikasiedosente, wat uiteindelik sal bydra tot die visie van hoër onderwys in Suid-Afrika waar herskepping van onderrigmetodes deur die Witskrif vir Naskoolse Onderwys en Opleiding versoek word.

Trefwoorde: diensverskaffing; e-leer; e-leer-ondersteuning; gapingsmodel; persepsies; taalkommunkasiedosente; TPIK-model; verwagtinge

 

Abstract

Language lecturers' perceptions and expectations of e-Learning support for improved service delivery

The aim of this article is to report on the perceptions and expectations that language lecturers have regarding support of e-learning and to present a framework of gaps between the language lecturer and e-learning support provider. E-learning has promised to enhance teaching and learning practices and yet it has not been optimally implemented (Zellweger 2006; Bozalek et al. 2013; Uppal et al. 2017). In the current complex context of higher education in South Africa all lecturers are confronted with challenges. Language lecturers, however, have added strain, being tasked with preparing students to communicate academically in the language of learning and teaching of the university across all subject areas. Students come from varied demanding, multicultural and multilingual backgrounds and they differ in terms of the various languages that they know.

Universities, in line with expectations from the White Paper on e-Education (South Africa. Department of Education 2004), require lecturers to use a Learning Management System (LMS) during academic activity even though some lecturers are reluctant, for various reasons, to do so. This contributes to the poor uptake of e-learning in teaching (Govindasamy 2002; Zellweger 2006; Mohammadi 2015:371). Lecturer support in their use of e-learning has been identified as one way in which to promote smooth and optimal e-learning uptake (Govindasamy 2002; Spender and Stewart 2002; Stiles and Yorke 2004; De Freitas and Oliver 2005; Czerniewicz 2007; Brown and Gachago 2013). Support is a service and for that reason the service delivery industry was consulted to find possible service quality solutions in aid of the assistance for lecturers. The gap model (Parasuraman, Zeithaml and Berry 1985:44), a popular model used in service delivery, was used as a theoretical framework underpinning the research and allowing it to inform specifically the design of data collection instruments.

Teaching is a highly complex activity with complex underlying pedagogy. Part of this complex pedagogy is the incorporation of technology, which is what the Technological Pedagogical and Content Knowledge (TPACK) (Mishra and Koehler 2006:1025) framework underscores. This framework represents the complexity of introducing technology to teaching, considering pedagogy which is a contemporary research domain. To aid the lecturer in introducing TPACK, a qualified and trained support service is key. While the gap model informed the design and data collection instruments used in this study, the TPACK model assisted in data analysis and interpretation thereof.

The principal research question that guided the study was:

What are the existing gaps between the perceptions of the language communication lecturer and the e-learning support service regarding their expectations of support as a service?

In order to address the research question the following objectives were identified:

  • To ascertain gaps regarding perceptions of e-learning support between the language communication lecturer and the e-learning support provider.
  • To construct a model that illustrates the gaps between the two parties.
  • To provide possible solutions for bridging the gaps between the language lecturer and the support service for e-learning.

The study is located within an interpretivist philosophy as the researchers attempted to understand the differences between humans in their roles as social actors within a specific context, which in this instance is that of the current higher education in the Western Cape of South Africa. The research approach was inductive, using a single case study to gain an in-depth and rich understanding of this specific real-life context. Qualitative data collection methods were used to glean data from language communication lecturers on the one hand and the staff of the e-learning support service on the other hand. Semi-structured interviews were conducted and participants completed questionnaires which were used for qualitative data. Data analysis confirmed that gaps regarding the perceptions and expectations between language communication lecturers and e-learning support staff exist.

The insights and perspectives of an extensive literature review about the complex context of higher education in South Africa, language lecturers, e-learning and support as a service are presented in this article as a backdrop to the circumstances under which the investigation took place. All these elements are intrinsically linked and interwoven with one another. Given this context and the particular challenges, language lecturers should use technology optimally for transformation. The complicated environment creates its own set of challenges where the use of technology should assist in alleviating these stresses and add to teaching solutions – it should not contribute to the problem.

The rationale for the inclusion of the gap model from the service delivery industry with specific focus on perceptions and expectations is investigated and key issues related to language lecturers’ perceptions and expectations of LMS support are explored. In this article relevant elements of a support service for technology are identified to optimise the teaching practice of language lecturers in the complex environment of higher education. The discrepancy between the intended use of LMS and the actual use thereof is addressed, while a framework of gaps regarding LMS support within a university of technology in South Africa was developed. There are five identified gaps between the two parties mentioned, and this article suggests practical approaches to bridge these gaps. The gaps can and should be traversed to achieve further uptake and optimal use of technology in teaching. By adhering to the elements of a support service for technology that are identified in this study, language lecturers, and other lecturers by extension, can be effectively supported. The findings of this study can be compared with findings with lecturers in other subject fields and other universities in South Africa.

This framework can assist with optimal support and ultimately contribute to the vision for higher education in South Africa as set out by the Department of Higher Education and Training in their White Paper on post-school Education and Training (2013) calling for transformation. Although e-learning is not yet optimally applied, it can still make a meaningful difference under the difficult current circumstances in South African higher education, as was the case during #FeesMustFall disruptions.

The conclusion is drawn that classroom practice for language communication lecturers in higher education can be enhanced through thorough support for these lecturers in their use of e-learning, because it encourages successful, knowledgeable and pedagogically grounded use of technology by the lecturers, thus making enhancement of teaching and learning attainable.

Keywords: e-learning; e-learning support; expectations; gap model; language communication lecturers; perceptions; service delivery; TPACK model

 

1. Inleiding

Die gebruik van e-leer het die belofte van vernuwing en verbetering van onderrigpraktyke ingehou, maar is tot dusver nog nie optimaal benut nie (Bozalek, Ng’ambi en Gachago 2013:420; Uppal, Samnan en Gulliver 2017). Wêreldwyd is verskeie redes vir hierdie tendens ondersoek en erken. Een hiervan is ’n tekort aan ondersteuning vir die opvoeder wat die Leerbestuurstelsel (LBS) gebruik (Brown en Gachago 2013; Uppal e.a. 2017; Voogt en McKenney 2017). E-leer is ’n breë begrip waarvan die LBS ’n onderafdeling is en as voertuig vir e-leergebruik dien. LBS is dus een manifestasie van e-leer.

 

2. Probleemstelling

Die konteks van hoër onderwys in Suid-Afrika is tans besonder ingewikkeld en plaas alle dosente onder druk. Suid-Afrika is ’n land waar armoede ’n groot rol speel, die onderwysstelsel gebuk gaan onder die druk van lae geletterdheidsvlakke en veeltaligheid uitdagend is, terwyl studente se protesaksies tot verdere uitdagings aan tersiêre onderrig in die geheel lei. Die uitdagings waarmee taalkommunikasiedosente egter spesifiek te kampe het, is selfs meer kompleks, aangesien dit hulle besondere taak binne die universiteit is om studente uit multikulturele en veeltalige omgewings by te staan om in die voorgeskrewe taal van onderrig oor verskeie vakgebiede heen op ’n akademiese vlak te kan kommunikeer.

Die studie waaroor in hierdie artikel verslag gedoen word, was gerig op die beskrywing van die toepaslike elemente van ’n ondersteuningstelsel vir e-leer aan taalkommunikasiedosente by ’n universiteit vir tegnologie in die komplekse konteks van hoër onderwys in Suid-Afrika. Verder was die doel van die studie om vas te stel waarom daar ’n teenstrydigheid bestaan tussen die verwagting om e-leer te gebruik en die toepassing daarvan in die praktyk, sowel as om te ondersoek hoe hierdie teenstrydigheid (of selfs wanverhouding) die hoof gebied kan word ten einde vernuwing in hoër onderwys te bewerkstellig.

Die navorsingsvraag na aanleiding waarvan hierdie artikel geskryf is, is soos volg:

Watter gapings bestaan tussen die persepsies van taalkommunikasiedosente en e-leer-ondersteuningsdienste rakende verwagtinge van laasgenoemde se diens?

Ten einde die navorsingsvraag te beantwoord, is die volgende doelstellings geïdentifiseer:

  • Om gapings rakende die persepsies van e-leer-ondersteuning tussen die twee genoemde partye vas te stel.
  • Om ’n model te bou waar die gapings tussen die twee partye aangedui word.
  • Om moontlike oplossings te verskaf ten einde enige gaping tussen die taalkommunikasiedosent en die e-leer-ondersteuningsdiens te oorbrug.

Vervolgens word die konseptuele en teoretiese raamwerk wat ontwerp is, aangebied en die leemtes wat ontdek is en moontlike oplossings om sodanige leemtes te hanteer, bespreek.

 

3. Konseptuele en teoretiese raamwerk

Onderrig is ’n ingewikkelde handeling waarby metodologie ’n integrale rol speel en wat verder bemoeilik word met die insluiting van tegnologie, soos deur die model vir Tegnologiese Pedagogiese1 en Inhoudelike Kennis (TPIK) (Mishra en Koehler 2006:1025 se Technological Pedagogical and Content Knowledge, of TPACK) voorgestel word. Die model verteenwoordig die ingewikkeldheid van tegnologie in onderrig waar pedagogie oorweeg word wat saam met rekenaargesteunde taalonderrig ’n eietydse navorsingsdomein vorm. Daar word wel in hierdie model voorsiening gemaak vir die spesifieke konteks van taalonderrig. ’n Effektiewe ondersteuningsbenadering word benodig om taalkommunikasiedosente by te staan in die inkorporering van tegnologie in hulle onderrig.

Die Witskrif vir e-leer (Suid-Afrika. Departement van Onderwys 2004) stel dit duidelik dat daar van dosente verwag word om ’n LBS, wat in Engels ’n Learning Management System (LMS) genoem word, vir die insluiting van tegnologie in hulle onderrig te gebruik. Daar is egter dosente wat om verskeie redes huiwerig is om tegnologie in hulle onderrig te integreer. Dosentondersteuning is deur vorige studies beide op internasionale vlak (Govindasamy 2002; Spender en Stewart 2002; Stiles en Yorke 2004; Zellweger 2006) en in Suid-Afrika (Czerniewicz 2007; Stoltenkamp en Kasuto 2009; Brown en Gachago 2013; Gachago, Ivala, Backhouse, Bosman, Bozalek en Ng’ambi; Bytheway, Cronje en Branch 2017) uitgewys as een van die metodes om die gebruik van e-leer aan te moedig. Omdat e-leer-ondersteuning ’n diens is, is daar as deel van hierdie studie na die diensleweringsbedryf gekyk om moontlike vir die ondersteuning van taalkommunikasiedosente oplossings te soek.

In die diensleweringsbedryf bestaan ’n gewilde model, genaamd die gapingsmodel (Parasuraman, Zeithaml en Berry 1985:44), wat die gapings rakende persepsies en verwagtinge van goeie diens tussen die diensverskaffer en die diensontvanger identifiseer en omskryf. Hierdie model, gekoppel met die TPIK-model, het as teoretiese besinningsraamwerk vir die ondersoek gedien.

3.1 Ingewikkelde landskap van hoër onderwys in Suid-Afrika

Daar is vyf funksionele elemente ter sprake by hierdie studie, naamlik die student, die taalkommunikasiedosent, LBS, LBS-ondersteuningsdiens en die ingewikkelde opvoedkundige omgewing van hoër onderwys, soos figuur 1 hier onder aandui. ’n Wisselwerking tussen hierdie elemente moet oorweeg word, aangesien hulle met mekaar verband hou en mekaar beïnvloed. In die figuur dui die stippellyn die fokusgebied vir die ondersoek aan. Verder illustreer die stippellyn dat die fokusgebied nie in isolasie staan nie, maar dat die ander elemente dié wat beklemtoon word, beïnvloed. Die ingewikkelde opvoedkundige omgewing is egter oorkoepelend en beïnvloed elke element direk. Dit word vervolgens dus saam met die konteks van elke element bespreek.

Figuur 1. Funksionele elemente betrokke by die studie

3.1.1 Die konteks van die student

Hoewel die klem hier nie op die student val nie, maar op die taalkommunikasiedosent, die tegnologie en die ondersteuningsdiens, is dit nodig om die student binne konteks in ag te neem omdat die student die uitgangspunt van die onderrig is. Die Suid-Afrikaanse student betree hoër onderwys vanuit ’n onderrigomgewing wat deur verskeie faktore beïnvloed word, onder andere ’n swak skoolstelsel, armoede en veeltaligheid, terwyl studenteprotesaksies op tersiêre vlak ook ’n rol speel.

Die onderwysstelsel in Suid-Afrika word gekenmerk deur lae geletterdheidsvlakke, soos onder andere in die Progress in International Reading Literacy Study- (PIRLS-) verslae van die afgelope paar jaar (Howie, Van Staden, Tshele, Dowse en Zimmerman 2012; Howie, Combrinck, Roux, Tshele, Makoena en McLeod Palene 2017) bevind. Die groep leerders wat in die 2012-PIRLS getoets is, is die studente in die huidige konteks van hoër onderwys. Daar is ook wyd verslag gelewer oor die swak onderwysstelsel in Suid-Afrika, vergeleke met dié van ander lande (Baloyi en Isaacs 2015; BusinessTech 2016; Qobo 2017).

In Suid-Afrika is daar grootskaalse armoede, wat verskeie uitdagings bied. Die land se ekonomie word gekenmerk deur uiterstes wat betref die verdeling van rykdom en hulpbronne wat tans ’n groot rol speel in die tipe student in hoër onderwys. Suid-Afrika word deur die Central Intelligence Agency (CIA) (2017) as ’n gemiddelde-inkomste-land met ’n tweeledige ekonomie beskryf, wat beteken dat daar elemente van sowel hoë ontwikkeling as uiterste armoede en werkloosheid bestaan. Dit bring, volgens Baloyi en Isaacs (2015), mee dat ongelykheid in die land aanhoudend aan die toeneem is.

Een van die unieke eienskappe van Suid-Afrika is dat dit ’n multikulturele land met 11 amptelike landstale is. Studente is in die algemeen veeltalig en die meeste ontvang onderrig in ’n taal wat nie hulle huistaal is nie (Marnewick 2015). Die uitdaging lê daarin om effektief te onderrig gegewe die taal van onderrig (wat gewoonlik Engels is) teenoor die student se huistaal (Desai 2012; Coetzee 2013; Cook 2013).

’n Verdere faktor wat die afgelope drie jaar ’n groot rol in tersiêre onderrig gespeel het, is studenteprotesaksie. Proteste soos #FeesMustFall het as oorsaak die aandrang op gratis tersiêre onderrig vir studente wat dit nie kan bekostig nie (Baloyi en Isaacs 2015; Fihlani 2015; Draper 2016; Hauser 2016; Henderson 2017). Hierdie proteste lei tot die onderbreking van klasse, ontwrigting op kampusse en angs onder studente en dosente.

Die kombinasie van genoemde faktore veroorsaak buitengewone druk vir almal, insluitende die dosent. Alle dosente is die afgelope jare hiermee gekonfronteer, en hoewel hulle nie oplossings kan bied nie, is dit hulle taak om onder hierdie druk steeds so effektief as moontlik met hulle akademiese aktiwiteite voort te gaan. Dit bring die aandag na die taalkommunikasiedosent, wat bykomend ’n besondere taak binne die universiteit moet verrig.

3.1.2 Die taalkommunikasiedosent

Die ingewikkelde omgewing van die student en hoër onderwys, soos hier bo genoem, beïnvloed alle dosente en veroorsaak spanning, en in sommige gevalle selfs ’n lae moreel (Bozzoli 2015). Bozalek e.a. (2013) is van mening dat die integrasie van tegnologie daartoe kan bydra om die druk op dosente in die huidige omstandighede van hoër onderwys in Suid-Afrika te verlig. Hulle voer aan dat die gebruik van tegnologie die uitdagings die hoof kan bied en steeds gehalte-onderrig kan bewerkstellig (Bozalek e.a. 2013:420).

In hierdie studie sluit die woord taalkommunikasiedosente alle dosente in wat taalverwante vakke doseer, m.a.w. dosente wat tale as eerste of addisionele tale onderrig, asook dosente wat ander taalverwante vakke soos kommunikasie en die metodiek van taalonderrig doseer.

Hoewel alle dosente met dieselfde uitdagings in hierdie konteks gekonfronteer word, het die taalkommunikasiedosent bykomende verantwoordelikhede. Weens die komplekse agtergrond van die studente wat die stelsel betree, is daar unieke kwessies wat na vore kom as gevolg van veeltaligheid en die lae geletterdheidsvlakke van studente (Bozalek e.a. 2013; Baloyi en Isaacs 2015; Qobo 2017). Die primêre doel van die taalkommunikasiedosent is om vir studente taalverwante vaardighede aan te leer, en nie om vakinhoud oor te dra soos die geval is met vakdosente nie. Dit is die taak van die taalkommunikasiedosent om studente te bemagtig met die vaardighede om in die taal van onderrig op ’n akademiese vlak in al hulle vakgebiede te kommunikeer. Soos genoem, is die taal van onderrig dikwels nie studente se huistaal nie, en soms ook nie die vakdosent se huistaal nie. ’n Situasie word hier geskep wat onnatuurlik en soms moeilik is. Waar kommunikasie nie suksesvol is nie, kan akademiese aktiwiteite nie optimaal plaasvind nie. Die taalkommunikasiedosent behoort sensitief te wees vir die ongelykhede wat studente beïnvloed, vanaf bevoordeelde tot minder bevoordeelde agtergronde. Dit geld veral vir diegene wat onderrig in ’n ander taal as hul huistaal ontvang. Taalkommunikasiedosente behoort dus hulle onderrigmetodes aan te pas om vir die verskille tussen studente se agtergronde voorsiening te maak.

Benewens die ingewikkelde konteks, en die besondere taak van die taalkommunikasiedosent, word daar van dosente verwag om tegnologie in hulle onderrig te gebruik. Mohammadi (2015:371) is van mening dat die gebruik van ’n LBS nie iets is wat dosente noodwendig gemotiveerd is om te doen nie, en verder bevind Brown en Gachago (2013) dat nie alle dosente oor die nodige kennis beskik om dit te inkorporeer nie. Nietemin is daar toenemende belangstelling in e-leer deur dosente en studente, waar beide partye die ontwikkeling van tegnologie in onderrig verwelkom. Gegewe die taalkommunikasiedosent se besondere opdrag is dit noodsaaklik dat die gebruik en ontwikkeling van die LBS aandag kry, met die noodwendige klem op die ondersteuning daarvan.

3.1.3 E-leer en die LBS

Tegnologie word al ’n geruime tyd in onderrig gebruik en het hernude aandag op die aard van onderrig en leer, leerontwerp en pedagogie gevestig (Uppal e.a. 2017). Dienooreenkomstig plaas die Departemente van Basiese Onderwys (DBO) en Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) deur middel van beleid klem op onderrig met behulp van tegnologie in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. Die Witskrif vir Hoër Onderwys en Opleiding beoog transformasie in onderrig en leer deur onder meer die integrasie van tegnologie om gehalte en diversiteit te bewerkstellig (Suid Afrika. Departement van Hoër Onderwys 2013:18, 53).

Die toepassing van e-leer by universiteite geskied deur middel van ’n leerbestuurstelsel, waarvan Blackboard, Moodle en Edmodo enkele voorbeelde is. Badenhorst (2006:5) beskryf ’n LBS as ’n instrument om struktuur te skep en die aspekte van verskillende onderrigaktiwiteite, wat bestuur, administrasie, die lewering van leerstof en kommunikasie tussen student en dosent insluit, bymekaar te trek. Dit skep, volgens Gavriushenko, Kankaanranta en Neittaanmäki (2015:299) ’n verbeterde leeromgewing en dra by tot die ontwikkeling van nuwe geleenthede in die domein van leer, waar individuele behoeftes van leerders hanteer kan word.

Met die inkorporering van tegnologie in onderrig is pedagogie fundamenteel. Harvey en Beards (2004:354) argumenteer dat leer die basiese beginsel van e-leer is, en nie tegnologie nie; ook Cronje (2007) se mening is dat “technology should not be the driving force behind learning. Learning should be.” Dit is egter noodsaaklik, volgens Chapelle (2008:589), dat dosente kundig moet wees in hierdie verband. Matherson, Wilson en Wright (2014:46) beklemtoon die feit dat baie dosente te kort skiet in die tegnologiese kennis, vaardighede en ondervinding wat nodig is om tegnologie suksesvol by hulle onderrigbenadering te inkorporeer. Seminale navorsing in hierdie verband is deur Mishra en Koehler onderneem, met die TPIK-model (2006), uitgebeeld in figuur 2, as resultaat.

’n Kort verduideliking van die TPIK-model is nodig, aangesien dit integraal was by die ontleding van die empiriese data in hierdie ondersoek en die ontwerp van die model wat vervolgens in hierdie artikel bespreek word, beïnvloed.

Die ontwerpers van TPIK erken die belangrikheid van pedagogie by die inkorporering van tegnologie deur te verduidelik dat dit ’n manier is om die praktyke wat alreeds in onderrig gebruik word te ondersteun en te verryk (Koehler, Mishra, Kereluik, Shin en Graham 2014:106). Die aanvangspunt van TPIK is dat onderwys ’n hoogs ingewikkelde aktiwiteit is wat op verskeie tipes kennis staatmaak (Mishra en Koehler 2006:1020), waar pedagogie die primêre oorweging behoort te wees met die opneem van tegnologie in onderrig. Die wisselwerking tussen hierdie verskillende soorte kennis, naamlik tegnologiese kennis, pedagogiese kennis en inhoudelike kennis, is belangrik ten einde goeie onderrig te lewer.

Konteks is in die TPIK-model vooropgestel aangesien Mishra en Koehler (2006:1017) aandui dat tegnologie in konteks, eerder as in isolasie, sinvol is. Dit is die klem op konteksgebonde pedagogie, eerder as op algemene pedagogie wat die TPIK-model van ander modelle wat tegnologie-inkorporering voorstel, onderskei (Koehler e.a. 2014:108). Koehler e.a. (2014:101) noem dat TPIK breedvoerig in verskeie situasies getoets en toegepas is. Met die onderrig van Engels as vreemde taal het Wu en Wang (2015) bevind dat taalonderwysers meer kennis rakende die tegnologiese aspek van TPIK benodig en dat daar nie genoegsame geleentheid vir taalkommunikasiedosente is om hierdie kennis op te doen nie. Hulle is van mening dat dit in onderwysopleidingsprogramme opgeneem behoort te word. Outomatiese opname van tegnologie in onderrig is, volgens Turgut (2017), nie ’n natuurlike uitvloeisel van tegnologiese kennis nie.

Figuur 2. Die TPIK-model (Mishra en Koehler 2006:1025)

Volgens Marek en Wu (2014) verskaf tegnologie vernuwende onderriggeleenthede in taalonderrig. Chapelle (2008) waarsku egter dat dit wel ook uitdagings veroorsaak vir taalkommunikasiedosente wat nie weet hoe om met die tegnologie om te gaan nie en nie die verskeie moontlikhede en toepassings van rekenaarondersteunde taalonderrig verstaan nie.

Chapelle voer egter aan dat dit ’n uitdaging is wat aangepak behoort te word, veral as die voordele van nuwe taalonderrigmetodes in ag geneem word (Chapelle 2008:586). Rekenaarondersteunde taalonderrig (Computer Assisted Language Learning, oftewel, CALL, soos dit in Engels bekend is) val binne die TPIK–domein, want, soos Tai (2015:130) aanvoer, behoort taalkommunikasiedosente oor die vermoë te beskik om toepaslike tegnologie te kies en aan te wend na gelang van hulle pedagogiese behoeftes en doelwitte. Turgut (2017) voer hierdie idee verder deur te sê dat tegnologiese kennis tot transformasie in onderrig moet lei, eerder as net tot die vernuwing daarvan. Tog het opvoeders gereeld toegang tot tegnologie sonder duidelike riglyne oor die toepassing daarvan (Garrett 2009). Dosente benodig dus leiding om hulle in hierdie proses van tegnologie-integrasie by te staan (Keengwe en Kang 2012) en om te verseker dat die aanwending van tegnologie pedagogies sinvol is (Voogt en McKenney 2017).

Die TPIK-model verteenwoordig die kompleksiteit van die opneem van tegnologie in onderrig met inagneming van pedagogie tesame met rekenaarondersteunde taalonderrig. Om die taalkommunikasiedosent in hierdie taak by te staan is effektiewe ondersteuning van uiterste belang.

3.1.4 LBS-ondersteuning

E-leer-ondersteuning verwys in hierdie studie na die ondersteuning vir die gebruik van die LBS en nie na tegniese ondersteuning soos met betrekking tot wagwoord- of internetkonneksieprobleme nie.

Die belangrikheid van die bestuur van e-leer-ondersteuning word deur Stoltenkamp en Kasuto (2009) uitgelig wanneer hulle aanvoer dat die doeltreffende toepassing van e-leer in die opleiding en ondersteuning daarvan berus. Hulle voer aan dat die beginpunt van ’n ondersteuningsdiens, en die bestuur daarvan, die gebruikers ontmoet waar hulle is in terme van e-leer-gebruik. Verskeie faktore lei tot ’n doeltreffende ondersteuningsdiens, maar dit hang grotendeels af van doeltreffende ondersteuningspraktyk (Bozalek e.a. 2013:420; Gavriushenko e.a. 2015:304; Uppal e.a. 2017:1). Heller (2006) stel dit duidelik dat “where direction, support and encouragement are lacking, so is focus”, en wys verder daarop dat die kliënt en werknemer se menings en insette waardevol is ten einde deurlopende welslae te bereik.

Soos hier bo aangedui, bevind taalkommunikasiedosente hulle in ’n komplekse omgewing, met ’n ingewikkelde taak binne die universiteit. Hulle onderrig studente vanuit komplekse omgewings en daar word van hulle verwag om ’n LBS te gebruik. Die gevolg hiervan is dat taalkommunikasiedosente veranderende rolle moet vervul en toenemende druk ervaar (Marshall 2008:2; Wagner, Hassanein en Head 2008:26). Volgens Govindasamy (2002:292) is dit geen wonder dat dosente glad nie gretig is om e-leer te probeer gebruik nie. Dosente behoort eerder genoegsaam in staat gestel en ondersteun te word, en tyd gegun word om hulle onderrigbenadering te vernuwe.

Die belangrikheid van ondersteuning vir e-leer is beide op internasionale (Zellweger 2006; Marshall 2008; Islam 2014; Mohammadi 2015) en op nasionale terreine (Czerniewicz 2007; Stoltenkamp en Kasuto 2009; Brown en Gachago 2013) geïdentifiseer en beklemtoon. Die sukses van e-leer is afhanklik van goeie ondersteuningsdiens.

3.1.5 Onderrigomgewing

Die onderrigomgewing van hoër onderwys in Suid-Afrika is in die voorgaande paragrawe beskryf, aangesien elke funksionele element hier bo onlosmaaklik van die spesifieke omgewing is en dus binne konteks bespreek moes word. Die student, die taalkommunikasiedosent, die LBS en die ondersteuning daarvan is in hierdie konteks vervleg.

Die teoretiese raamwerk vir hierdie studie het die ingewikkelde landskap van hoër onderwys en die TPIK-model aan die een kant oorweeg, terwyl dit aan die ander kant die diensleweringsbedryf ondersoek het. Omdat e-leer-ondersteuning ’n diens aan die taalkommunikasiedosent is, word die twee elemente, naamlik LBS-ondersteuning en diensverskaffing, vervolgens by mekaar geïntegreer.

3.2 LBS-dienslewering

Die ondersteuning van die LBS tydens e-leer-gebruik word deur ’n ondersteuningsdiens, wat ’n eenheid binne ’n universiteit is, gelewer, met die dosent as gebruiker van die diens. Gehaltediens moet tot doeltreffende e-leer-gebruik lei, wat uiteindelik voordelig is vir die dosent, die student en die universiteit, veral in ag genome die ingewikkelde konteks van hoër onderwys in Suid-Afrika. Die dosent, as ontvanger van die ondersteuningsdiens, het spesifieke persepsies en verwagtinge van die diens wat gelewer word, terwyl die ondersteuningsdiens hulle eie verwagtinge en persepsies daarvan het. Uppal e.a. (2017:3) is van mening dat oordele oor die gehalte van dienslewering subjektief is en dat verskillende partye dus daaroor sal verskil. Dit is derhalwe nodig om die betrokke partye se persepsies en verwagtinge met mekaar in verband te bring sodat die ondersteuningsdiens optimaal kan funksioneer.

Die gewilde en veeldoelige gapingsmodel van die diensleweringsbedryf is ’n model wat in 1985 ontwerp is en oor verskeie bedrywe heen vir dienslewering gebruik is om die gehalte van diens te meet en te verbeter. Reeds in 1996 is dit deur Cuthbert (1996) in die onderwysdomein aangewend, waar dit so onlangs soos 2017 deur Uppal e.a. in navorsing rakende e-leer in tersiêre onderrig gebruik is.

Die gapingsmodel is ’n model wat gapings rakende die persepsies en verwagtinge van gehaltediens tussen die diensverskaffer en die ontvanger daarvan geïdentifiseer het. Die ontwerpers daarvan is van mening dat die leemtes deur effektiewe bestuur oorbrug kan word. Hoëgehaltedienslewering lei tot produktiwiteit, wat in wese ook die doel van e-leer-gebruik is. Parasuraman e.a. (1985:42) is van mening dat “quality service sustains customers’ endeavour”. Dit is dan te verwagte dat hoëgehalte-e-leer-ondersteuning daarna sal streef om die e-leer-gebruiker (die taalkommunikasiedosent in hierdie geval) se strewe om die LBS deel te maak van die onderrig in stand te hou.

 

4. Empiriese ondersoek

As gevolg van ons belangstelling om mense as sosiale wesens en hulle interpretasie van gebeure te bestudeer, is die filosofiese beskouing interpretatief van aard, met ’n induktiewe navorsingsbenadering waar ’n gevallestudie van een instansie gebruik is om kwalitatief te werk te gaan. Data-insameling is deur middel van vraelyste en semigestruktureerde onderhoude met taalkommunikasiedosente en die personeel van die ondersteuningsdiens vir die LBS gevoer.

Die populasie vir die studie het bestaan uit taalkommunikasiedosente, vir die doel van die studie gedefinieer as dosente wat taalverwante vakke oor fakulteite heen aanbied, en ook die personeel van die ondersteuningsdiens vir e-leer by die betrokke universiteit. Die steekproef was 24 taalkommunikasiedosente wat vrywillig die vraelyste voltooi het, terwyl agt aan die onderhoude deelgeneem het. Vyf personeellede van die e-leer-ondersteuningsdiens het ook vrywillig aan onderhoude deelgeneem. Soos genoem, het die gapingsmodel die ontwerp van die vrae vir die vraelys sowel as vir die semigestruktureerde onderhoude beïnvloed.

Die empiriese data is gekodeer en ontleed, waaruit temas, subtemas en kategorieë geïdentifiseer is. Die model wat deur Tesch in Creswell (2009:186) verskaf is, het leiding in hierdie verband gebied deur die stappe wat aangedui word waarvolgens data ingewin en ontleed kan word. Die twee stelle data (van die taalkommunikasiedosente en die personeel van die ondersteuningsdiens onderskeidelik) is apart hanteer.

’n Oorsig oor die data is verkry deur herhaaldelik na die onderhoude te luister en al die transkripsies van onderhoude te lees, waarna elke onderhoud aandagtig deurgelees is en aantekeninge daaroor gemaak en temas bepaal is. ’n Lys van temas het ontwikkel na aanleiding van die sikliese proses van die lees, herlees van en herluister na die onderhoude. Temas uit die transkripsies is uiteindelik met verskillende kleure gemerk en by mekaar gegroepeer. Daar is gewaak daarteen om toe te laat dat die data die koderingsproses genereer, en nie dat die navorsers self kodes aan die data koppel, of subjektiewe, persoonlike afleidings maak nie. Die bevindinge is daarna tematies opgeskryf, waaruit afleidings gemaak kon word.

Geldigheid en betroubaarheid is doelbewus deurgaans tydens die studie by elke onderafdeling in ag geneem, vanaf die begin, tydens die beplanning en ontwerp, deur die proses van data-insameling en -ontleding tot en met die opskryf en afleidings wat gemaak is, waar objektiwiteit vooropgestel is. Data is byvoorbeeld deur verskillende bronne, naamlik onderhoude asook vraelyste ingesamel en bevindinge is nie veralgemeen nie. Ons was bewus van die verskillende soorte vooroordele van navorsers, soos deur Saunders, Lewis en Thornhill (2012:381–2) geïdentifiseer is en het gepoog om dit te vermy. Yin (1994:36) verskaf ook raad rakende die geldigheid van studies en moedig die navorser aan om foute en waninterpretasies te vermy. Ons was bewus van ons eie moontlike vooroordele tydens onderhoudvoering, en het doelbewus gepoog om dit te vermy. Ons het vooroordele wat die deelnemers moontlik teenoor ons kon hê, probeer verhoed deur professioneel op te tree en vertroulikheid en anonimiteit met deelname aan die studie te verseker. Ons het genoegsame tyd toegelaat vir deelnemers om te reageer. Verder het ons ons dit ten doel gestel om verslag te lewer oor die realiteit van persepsies en verwagtinge van e-leer-ondersteuning ten tye van die studie.

Om betroubaarheid te bewerkstellig was ons daarop bedag om deur die korrekte metodes dieselfde afleidings te maak wat ander navorsers in dieselfde omstandighede sou kon maak. Yin se raad hieroor was ons kompas: “[C]onduct research as if someone were always looking over [y]our shoulder” (Yin 1994:37).

Etiese vereistes soos deur die universiteit voorgeskryf is streng nagekom deur uit die staanspoor etiese klaring te kry. Die doel van die navorsing is duidelik aan deelnemers gestel en hulle het ’n ingeligte toestemmingsbrief onderteken. Die maak van afsprake is professioneel behartig.

Die data soos vervolgens bespreek dui daarop dat duidelike gapings bestaan tussen die persepsies en verwagtinge wat taalkommunikasiedosente het oor wat LBS-ondersteuning behels, aan die een kant, teenoor die persepsies van wat ondersteuning moet behels aan die kant van die ondersteuningspersoneel. ’n Model is ontwerp om hierdie gapings uit te beeld.

 

5. Bevindings

Die data is ingesamel en ontleed, en hieruit het temas na vore gekom. Die tematiese bevindinge is soos volg saamgevat.

5.1 Tematiese bevindings

5.1.1 Tema 1: Mandaat om die LBS te gebruik

Dosente is in die algemeen entoesiasties oor die bestaan van ’n opdrag om e-leer te gebruik. Een dosent voer aan: “Ek dink dit is noodsaaklik. Ek dink elke dosent behoort dit te doen.” ’n Ander dosent het uitgeroep: “I love it. I love it!” Tog het dit ook geblyk dat nie almal seker is wat van hulle verwag word nie.

Die volgende is ’n lys van elemente wat aan die lig gekom het oor die opdrag deur die universiteit aan dosente om die LBS te gebruik:

  • Daar bestaan ’n mandaat in die vorm van beleid deur die universiteit vir die dosent om ’n LBS in onderrig te gebruik.
  • Dosente is óf onbewus van die mandaat, óf onbewus van die vereistes wat daardeur gestel word.
  • Dosente het in die algemeen ’n positiewe ingesteldheid oor die bestaan van ’n mandaat om die LBS te gebruik.
  • Die mandaat en die bestaan daarvan word nie duidelik gekommunikeer nie.
  • Die mandaat, in die geval van dosente wat daarvan bewus is, lei tot die inkorporering van die LBS in onderrig, wat positiewe houdings oor die tegnologie tot gevolg het.

Hoewel die universiteit se verwagting om die LBS te gebruik deur die meeste dosente aanvaar en selfs ondersteun word, is daar steeds ’n tekort aan kennis oor die instruksie om dit te gebruik. Aangesien daar geen gevolge is vir dosente wat kies om dit nie te gebruik nie, het die mandaat nie noodwendig tot veranderde of vernuwende onderrigpraktyk gelei nie. Die gebruik van tegnologie is nie in taalonderrig opgeneem nie. Die uitreik van die mandaat as beleid alleen is nie voldoende om dosente te oortuig om dit in onderrig te inkorporeer en om hulle onderrigbenadering dienooreenkomstig aan te pas nie.

5.1.2 Tema 2: LBS-ondersteuningskwessies

Taalkommunikasiedosente gebruik die LBS-ondersteuningsdiens gereeld vir ondersteuning en bystand. Die dosente het oorheersend positiewe ervarings en persepsies gehad rakende die ondersteuningspersoneel en die diens wat gelewer word, soos in die volgende kommentaar duidelik is: “Ek voel baie, baie goed ondersteun. Die ondersteuningsentrum is fantasties.” Dosente ervaar die personeel van die ondersteuningsdiens as hulpvaardig, kundig, professioneel, vriendelik en doeltreffend. Die ondersteuningsdiens se persepsies van die diens wat hulle bied, is ook gunstig en hulle het vertroue in die gehalte van die diens wat hulle lewer. Hulle noem self dat hulle personeel hardwerkend en toegewyd is.

Daar bestaan egter verwarring by sommige dosente rakende die verskillende funksies wat onderskeidelik deur die LBS-ondersteuningsdiens en die rekenaar en telekommunikasiedienste, oftewel die CTS (Computer and Telecommunications Services) gebied word. Die volgende kommentaar dui op hierdie verwarring: “[M]ost of the time I’ve got to log a call and unfortunately my experience is that it does not really give me immediate help. I have to wait and wait and wait until I’m helped eventually.” Waar LBS-ondersteuning benodig word, word dit telefonies of per e-pos direk aan die ondersteuningspersoneel gerig, terwyl CTS-ondersteuning van personeel verwag om die probleem sentraal aan te meld en word daar dan mettertyd op gereageer – daar is nie onmiddellike ondersteuning nie. Hierdie verwarring lei verkeerdelik tot negatiewe persepsies van die LBS-ondersteuningsdiens.

Taalkommunikasiedosente het die volgende spesifieke verwagtinge van die LBS-ondersteuningsdiens. Hulle vereis dat die personeel:

  • aanmoediging en ondersteuning bied en hulpvaardig is
  • oor genoegsame kennis beskik om kundige en gehalte-ondersteuning te bied, soos wat individue dit mag nodig kry
  • voortdurende opleiding en ondersteuning verskaf nadat aanvanklike opleiding gebied is
  • onmiddellike (binne perke) bystand en ondersteuning verleen, soos dosente dit benodig
  • op kampus of binne fakulteite beskikbaar moet wees
  • verskillende vlakke van opleiding duidelik afbaken om te verseker dat opleidingsessies optimaal verloop
  • studente in LBS-gebruik oplei.

Die personeel van die LBS-ondersteuningsdiens het sekere sieninge oor die aard van die diens wat hulle kan lewer, en dit oorvleuel met die verwagtinge wat die taalkommunikasiedosente oor hierdie diens het. Hierdie verwagtinge word deur beide eenhede as redelik beskou, en meestal word nie slegs daaraan voldoen deur die betrokke ondersteuningsdiens nie, maar word die verwagtinge selfs oortref.

Daar word egter onderskei tussen redelike en onredelike verwagtinge wat op die personeel van die ondersteuningsdiens geplaas word. Onredelike verwagtinge word ondervind wanneer daar van hulle verwag word om deurentyd, 24 uur per dag, sonder afspraak beskikbaar te wees. Sommige dosente verwag van die personeel om onmiddellik beskikbaar te wees wanneer hulle benodig word, wat nie altyd moontlik is nie. Die ondersteuningsdiens verskaf die beste bystand wat hulle moontlik kan na gelang van beskikbaarheid. Hulle is ’n klein en sentrale eenheid wat op twee hoofkampusse van die universiteit geleë is en hulle kan dus nie deurlopend op satellietkampusse ondersteuning bied nie. ’n Verdere onredelike verwagting is dat dosente van die ondersteuningspersoneel verwag om vakinhoud te ontwerp en uit te voer, of die administrasie van die LBS namens die taalkommunikasiedosent te behartig. ’n Ondersteuningslid noem dat “dit onmoontlik is vir my om mense se kursusse te ontwerp, want ek is nie ’n kundige in hulle veld nie”.

Daar is ’n wanbalans tussen die verwagtinge van ondersteuning, wat óf nie moontlik is om te verskaf nie, óf onredelik is, teenoor die diens wat vir die ondersteuningsfunksie moontlik is. Waar ondersteuning geskied binne die model van wat algemeen aanvaarbaar is, gegewe die beskikbaarheid van hulpbronne, word daar aan die meeste verwagtinge voldoen. Die verwagtinge van ’n ondersteuningsdiens behoort aktief bestuur te word om dosente in te lig oor die effektiewe gebruik van die LBS in hulle onderrigpraktyk.

5.1.3 Tema 3: Tydimplikasies

Tyd is ’n noodsaaklike oorweging vir alle professionele persone, insluitend dosente en ondersteuningspersoneel. Dit blyk dat nie alle dosente bewus is van die tyd wat hulle wen nadat hulle opleiding in die gebruik van tegnologie ontvang het nie. Hulle het aanvanklik nodig om tyd te bestee om te leer hoe om tegnologie funksioneel in taalonderrig aan te wend voordat dit ’n tydvoordeel vir hulle kan inhou. ’n Respondent dui haar/sy ongewilligheid om die LBS volledig te inkorporeer aan: “Ek dink dit neem tyd om seker genoeg te voel om na die volgende stap oor te gaan ...” en erken ook die belangrikheid daarvan: “[T]yd om bekwaam te word om die tegnologie te gebruik is my grootste struikelblok op die oomblik.”

Met onderrigonderbrekings tydens #FeesMustFall is dosente genoop om die LBS te gebruik en kon hulle die tydbesparingsvoordele daarvan ervaar.

5.1.4 Tema 4: LBS-gebruik

Die data het redes vir LBS-gebruik en redes waarom dosente dit nie gebruik nie opgelewer. Die volgende tabel stel dit kortliks:

Redes vir die gebruik van die LBS

Redes waarom die LBS nie gebruik word nie

1. Daar is ’n mandaat om die LBS te gebruik.

1. Dosente is onbewus van die bestaande opdrag om dit te gebruik.

2. Dit is gerieflik om te gebruik.

2. Daar is ’n persepsie dat dit nie aan taalspesifieke vereistes voldoen nie en dat dit dus ongerieflik is om te gebruik.

3. Dit verryk onderrigpraktyk.

3. Ander vorme van tegnologie bied verryking van onderrigpraktyk.

4. Dit hou voordele vir studente in.

4. Negatiewe studente-ervarings

5. Dit bespaar tyd.

5. Dit neem lank om aan te leer.

6. Omgewingsbewustheid – dit bespaar papier.

6. Infrastruktuur maak dit soms moeilik om te gebruik.

7. Persoonlikheidstipe en ingesteldheid

7. Persoonlikheidstipe en ingesteldheid

8. #FeesMustFall

 
 

8. Onkunde oor wat die LBS bied.


Figuur 3. ’n Tabel wat die redes vir LBS-gebruik en -niegebruik aandui

Daar is ’n wanbalans tussen die voorneme om die LBS te gebruik en die werklike toepassing daarvan deur taalkommunikasiedosente. Die verwagting om die LBS te gebruik bestaan, maar tog (om die redes in die tabel hier bo) gebruik nie alle dosente dit nie.

Hoewel dosente die gerief van die LBS ervaar en dit stelselmatig meer in onderrig inkorporeer, is daar steeds dosente wat, weens onkunde, voel dat dit nie aan hulle spesifieke vereistes voldoen nie en dit ervaar as ongerieflik om te gebruik. Hulle kies dan om dit eerder nie te gebruik nie, of soek ander maniere om tegnologie by onderrig te inkorporeer.

Hoe meer dosente die LBS met vertroue by onderrig inkorporeer, hoe meer voordele daarvan word ervaar en hoe meer gretig is hulle om dit te gebruik. Dit lei noodwendig tot voordele vir die student, vir wie die leerervaring positief is en om die beurt weer die dosent aanmoedig om dit te gebruik. Daar is egter, om verskeie redes, studente wat die LBS negatief ervaar, hetsy vanweë persoonlikheidstipe of infrastruktuur, wat dan ’n negatiewe uitwerking op die dosent se behoefte om dit te gebruik het.

Een van die grootste redes waarom dosente die LBS wil gebruik, is die tydsvoordele wat dit inhou, hoewel ’n belegging in tyd aanvanklik nodig is en nie alle dosente gewillig is om daardie belegging te maak nie.

Die gebruik van ’n LBS dra by tot besparing van papier, wat voordelig is vir die omgewing. Aan die ander kant lei infrastruktuurprobleme soms daartoe dat die gebruik van tegnologie problematies is en dosente en/of studente dit nie wil gebruik nie.

Nadat die voor- en nadele, en die redes vir gebruik en niegebruik, van die LBS oorweeg is, is persoonlikheidstipe steeds ’n belangrike oorweging. Party mense is natuurlik aangetrokke tot die gebruik van tegnologie, terwyl ander daarvan wegskram. ’n Ondersteuningsdiens behoort hierdie feit te verreken en dienooreenkomstig bystand aan individue te bied.

Ongeag die redes wat vir die gebruik of nie van ’n LBS bevind is, het dosente dit noodgedwonge tydens die ontwringtinge van #FeesMustFall gebruik toe daar beperkte kommunikasiewyses tussen dosent en student moontlik was.

5.1.5 Tema 5: Infrastruktuur

Waar onstabiele omstandighede, soos kragonderbrekings of ’n tekort aan beskikbaarheid van rekenaars in lokale, rekenaargebruik in die verlede negatief beïnvloed het, is daar tans minder sulke elemente wat LBS-gebruik belemmer. Dosente is egter steeds bekommerd dat sulke faktore hulle onderrig en die gehalte daarvan moontlik kan benadeel, dus is hulle nie gretig om tegnologie te gebruik nie. Probleme wat met infrastruktuur geassosieer word, maak dit vir dosente moeilik om op die LBS staat te maak.

5.1.6 Tema 6: Protesaksie

Protesaksies het die onderrigomgewing in alle opsigte beïnvloed, en so ook ’n uitwerking gehad op elk van die temas wat hier bespreek is. Die gevolge van #FeesMustFall het die studente, die dosente, die ondersteuningsdiens en die onderrigomgewing (m.a.w. vier van die funksionele elemente van hierdie studie) beïnvloed.

Ontwrigting en chaos wat as gevolg van die protes geheers het, het studente en dosente geaffekteer. Wat die fisiese omgewing betref, was daar verwoesting op kampusse wat klasse ontwrig het. Die geweld het vrees en angs by studente en dosente veroorsaak. Dosente moes onder moeilike omstandighede hulle onderrigmetodes aanpas en is gedwing om die LBS, as enigste kommunikasievorm by tye tussen student en dosent, te gebruik. As gevolg van onderbrekings en veranderde aanbiedingstyle was dosente bekommerd oor hoe hulle kursusse geaffekteer is en oor die uiteindelike gehalte daarvan.

Ironies genoeg het die protes, wat begin is om toegang vir arm studente tot hoër onderwys te verseker, verdere verwydering tussen dié wat het en dié wat nie het nie veroorsaak. Hoe meer ontwrigting daar op kampusse was, hoe meer het dosente vir kommunikasie op die LBS staat gemaak, wat veroorsaak het dat die studente wat nie internettoegang kon bekom nie, verder benadeel is. In die algemeen gebruik studente die kampusbiblioteke vir rekenaartoegang, ’n hulpbron wat tydens die studenteprotes vir hulle gesluit was. Die studente wat ander bronne van internetverbinding kon bekostig, kon dus voortgaan met hul studie, terwyl ander studente die geleentheid ontneem is.

 

6. Bespreking

’n Studie van die TPIK-model en die gapingsmodel het tesame met die empiriese data aanleiding gegee tot die ontwerp van ’n model wat gapings oor e-leer-ondersteuning aandui.

Die doel met hierdie artikel is om verslag te lewer oor die gapings wat bestaan tussen die taalkommunikasiedosent aan die een kant en die LBS-ondersteuningsdiens aan die ander kant wat betref persepsies en verwagtinge wat hulle van LBS-ondersteuning het. Figuur 4 hier onder beeld die ondersteuningsmodel met vyf gapings uit, gevolg deur ’n beskrywing van elke gaping.

Figuur 4. ’n Model van gapings tussen die taalkommunikasiedosent en LBS-ondersteuning

Gaping 1: Bewustheid van die mandaat om die LBS te gebruik

Hierdie leemte is tussen die taalkommunikasiedosent en die bestuur van die universiteit geïdentifiseer en verwys na die bewustheid van ’n mandaat deur die universiteit wat aan die dosent gestel is om die LBS te gebruik asook wat die opdrag vereis. Hoewel die mandaat in die universiteitsbeleid bestaan en as sodanig veronderstel is om aan die dosent bekend te wees, is dit nie noodwendig die geval nie. In die praktyk is die dosente daarvan bewus weens departementshoofde wat dit kommunikeer en die gebruik daarvan aanmoedig.

In die algemeen het dosente ’n positiewe houding oor die bestaan van ’n mandaat om die LBS te gebruik en verwelkom hulle dit selfs, hoewel eers nadat hulle die opvoedkundige voordele daarvan ervaar het. Dosente is soms onbewus van die bestaan van ’n opdrag om die LBS te gebruik en in weinige gevalle het dosente geweet wat die spesifieke vereistes daarvan behels. Waar dosente egter van die mandaat bewus was, het dit in baie gevalle tot gebruik van die LBS oorgegaan, waar dosente die voordele van die tegnologie in onderrig ervaar het.

Gaping 2: Persepsies en verwagtinge

Hierdie gaping word gevind tussen die taalkommunikasiedosent en die personeel van die ondersteuningsdiens aangaande die persepsies en verwagtinge wat hulle oor LBS-ondersteuning het. Die gaping is tweeledig, met verwysing eerstens na die misverstand wat heers oor die dienste wat onderskeidelik deur die LBS-ondersteuningsdiens en die CTS-diens verskaf word, en tweedens na die persepsies en verwagtinge wat taalkommunikasiedosente en die diensverskaffers het.

Die misverstand oor die tipe diens wat aangebied word, lei tot frustrasie en negatiewe persepsies oor die diens, terwyl dosente wat deeglik tussen die twee dienstipes onderskei, meestal positiewe persepsies het aangaande die ondersteuningsdiens en die personeel van die dienseenheid. Die personeel van die ondersteuningsdiens het ook positiewe persepsies oor die diens wat hulle lewer.

Nie alle dosente is van die verskeidenheid dienste bewus wat deur die LBS-ondersteuningsdiens aangebied word nie. Dosente weet van generiese opleidingsdienste, maar is onbewus daarvan dat die dienste individuele kundige pedagogiese ondersteuning en bystand insluit.

Gaping 3: Verwagtinge van die LBS

Die teenstrydigheid hier lê tussen die taalkommunikasiedosent en die toepassingsmoontlikhede wat deur die LBS as ’n pedagogiese instrument moontlik is. Die LBS bied verskeie onderrigmoontlikhede en fasiliteite om die onderrig en leer aan te vul en te ondersteun, maar tog is dosente onbewus van en selfs oningelig oor hierdie moontlikhede. Dosente het ten doel om te onderrig. Hulle beskik nie noodwendig oor die tegnologiese kennis, of soms die belangstelling, om die LBS te inkorporeer wanneer hulle nie onmiddellik die pedagogiese voordele daarvan ervaar nie. In hierdie verband bring die TPIK-model hierdie wisselwerking van kennisdomeine na vore. Dit is dus van kardinale belang dat die e-leer-ondersteuningspersoneel die onderrigmetodiek in ag neem wanneer hulle taalkommunikasiedosente bystaan.

Die verwagtinge wat dosente spesifiek van die LBS het, is dat dit:

  • na gelang van behoefte, volkome funksioneel, vinnig en effektief moet wees (in hierdie verband speel infrastruktuur ’n rol, wat buite die fokus van hierdie ondersoek val)
  • ’n toeganklike, gebruiksvriendelike en veeldoelige instrument moet wees wat die taak wat daarvan verwag word, kan verrig,
  • gereeld bygewerk behoort te word.

Gaping 4: Ander vorme van tegnologie (Oopbronsagteware)

Die gaping hier is gesetel aan die kant van die universiteitsbestuur en die verskaffers van tegnologie en leerbestuurstelsels. Dit val buite die fokus van die studie, maar tog dui die data daarop dat dit ’n nodige element vir suksesvolle e-leer-gebruik is. Die betrokke LBS word deur die universiteitsbeleid bepaal en daar word van dosente verwag om dit te gebruik. Daar bestaan talle ander vorme van tegnologie, en al hoe meer dosente verkies om tegnologie soos Moodle, Google Classroom en Google Docs te gebruik, aangesien hulle voel dat dit eerder in hulle behoeftes voorsien. Studente word dan blootgestel aan verskeie onderrigmetodes, wat positief is, maar terselfdertyd vir die studente frustrerend kan wees, aangesien hulle verskillende tegnologiestelsels vir verskillende dosente moet leer gebruik.

Hierdie gaping oorvleuel met gaping 3 en hou verband met die TPIK-model, aangesien tegnologiese en pedagogiese kundigheid van die bestaande LBS moontlik daartoe kan bydra om die probleem die hoof te bied. Dosente beskik nie noodwendig oor die verskillende kennisdomeine soos in die TPIK-model aangedui is om die LBS op ’n effektiewe wyse tydens hulle onderrig toe te pas nie.

Gaping 5: Universiteit en die student as produk in die omgewing

Daar bestaan ’n gaping tussen die universiteit en die produk, bedoelende die student, wat aan die ingewikkelde Suid-Afrikaanse omgewing en die groter wêreld gelewer word. Die primêre doel van die universiteit is om studente vir die doel waarvoor hulle opgelei word, op ’n professionele vlak voor te berei sodat die studente in die breër samelewing ’n bydrae kan lewer. In sommige gevalle is daar ’n verskil tussen die produk wat aan die wêreld gelewer word en die vereistes en verwagtinge van die onderskeie bedrywe in die werksomgewing, soos in hierdie studie veral met betrekking tot onderwys uitgelig is.

Onderrigmetodes moet voortdurend vernuwe om tred te hou met die vinnig veranderende tegnologie wat in die klaskamer aangewend kan word. Universiteite wat onderwysers oplei, het nie in alle gevalle daarin geslaag om by te bly met die veranderende tegnologie nie. Die gevolg is dat nuutgekwalifiseerde onderwysers nie noodwendig oor die jongste kennis en vaardighede beskik met betrekking tot hoe die nuutste tegnologie in hulle onderrig geïnkorporeer kan word nie. Die inkorporering van tegnologie op universiteit het stadiger plaasgevind as in die onderwyspraktyk, waar die student, as produk van die universiteit, gaan meeding.

Die doel van die artikel was tweeledig, naamlik om verslag te lewer oor die persepsies en verwagtinge wat taaldosente rakende LBS-ondersteuning het en om die gapings tussen gebruiker en diensverskaffer in die vorm van ’n model uit te beeld. Daarnaas was dit om moontlike oplossings vir die gapings te identifiseer. Hierdie voorstelle word vervolgens aangedui.

 

7. Aanbevelings

Verskeie benaderings om die genoemde gapings te vul is moontlik, waarvan die meeste in kommunikasie gesetel is. Gapings 1, 2 en 3 kan betreklik maklik oorbrug word deur inligting effektief te kommunikeer. Gaping 1, wat handel oor die bewustheid van ’n mandaat om die LBS te gebruik, behoort duidelik en ondubbelsinnig gekommunikeer te word deur voorafbepaalde kanale om dosente te bereik. Deur ’n effektiewe kommunikasielyn te bewerkstellig kan hierdie gaping volkome uitgewis word. Die persepsies-en-verwagtinge-gaping (gaping 2) kan aansienlik verbeter word deur ’n doeltreffende kommunikasiebenadering waar die taalkommunikasiedosent en die diensverskaffer se onderskeie persepsies en verwagtinge van LBS-diens uitgestip word. Ten einde duidelikheid en ooreenstemming te verkry behoort hierdie gesprek ’n tweerigtinggesprek te wees waar beide partye gelyke kans kry om mekaar se vereistes te verstaan en die onderliggende kwessies van elk te bespreek. Waar daar aan die verwagtinge van beide partye voldoen word, sal positiewe persepsies ’n outomatiese uitvloeisel wees. Dit is ook die geval by die verwagtinge van die LBS (gaping 3), waar daar meer as bloot die kommunikasie van verwagtinge ter sprake is. Dit behels ook die opleiding en bemagtiging van taalkommunikasiedosente om kennis en vaardighede oor die toepassingsmoontlikhede van die LBS as pedagogiese instrument te bekom. Die TPIK-model is in hierdie verband nuttig. Dit is nodig dat dosente nie alleen moet weet watter tegnologie om te gebruik en hoe om dit aan te wend nie, maar ook dat hulle deurlopend ondersteun en aangemoedig word in hulle pogings, veral gegewe die ingewikkelde omgewing van hoër onderwys in Suid-Afrika.

Nog ’n oorbruggingsbenadering vir gaping 1 is om taalkommunikasiedosente aan te moedig om die LBS te gebruik deur hulle aanspreeklik te maak vir LBS-gebruik. Administratiewe prosesse behoort uitsluitlik met die LBS te skakel waar die gebruik noodsaaklik is. Dosente behoort byvoorbeeld die administrasie van punte deur die LBS te behartig en op geen ander manier nie. Gegewe die verwagtinge wat dosente van die LBS het, behoort hierdie proses positief benader, aangemoedig en ondersteun te word. Die gebruik moet eenvoudig, prakties en maklik wees en as voordelig vir die student en die dosent ervaar word.

Die ondersteuning wat op kampus of binne fakulteite beskikbaar is, is onder gaping 2 bespreek. Dosente verwag vinnige en effektiewe ondersteuning op die oomblik wanneer hulle dit nodig het. Dit is nie altyd moontlik om te wag of na ’n ander kampus te reis vir bystand nie, ’n kwessie wat op alle kampusse, maar soveel te meer op kleiner satellietkampusse, problematies is. Een van die trekpleisters vir tegnologie is juis dat dit vinnig en onmiddellik is. Dit skep dus die verwagting dat die gebruik, en uiteindelik die ondersteuning daarvoor, ook vinnig moet kan geskied. Dit is dus noodsaaklik dat ondersteuning byderhand, naby en toeganklik sal wees.

’n Verdere benadering vir die oorkoming van gaping 3 is dat meer opleiding vir taalkommunikasiedosente nodig is om hulle op te lei in tegnologiegebruik vir die pedagogiese behoeftes waarvoor hulle dit mag nodig kry. In hierdie verband sal kommunikasie ’n bydrae lewer, waar dosente hulle behoeftes binne die ingewikkelde konteks van hoër onderwys kan identifiseer en aan die ondersteuningsdienspersoneel kan kommunikeer. Die personeel van die ondersteuningsdiens het vir hierdie doel volledige kennis van die moontlike toepassings wat die LBS bied waardeur hulle individue kan ondersteun. Die TPIK-model is hier ter sprake, en die verskillende kennisdomeine wat met mekaar vervleg is. Een van die redes waarom die personeel van die ondersteuningsdiens nie individuele dosente se inhoud op die LBS kan ontwerp en die bestuur daarvan kan behartig nie, is dat inhoudelike kennis aan die kant van die dosent lê. Dit is juis die wisselwerking van tegnologiese, pedagogiese en inhoudelike kennis wat die gebruik van tegnologie suksesvol maak. Die aanname is dat die ondersteuningspersoneellid oor meer tegnologiese kennis beskik, en beide die taalkommunikasiedosent en die ondersteuningslid oor pedagogiese kennis, sodat die wisselwerking die opneem van tegnologie in onderrig sal ondersteun.

Gaping 3 word aanvullend deur ’n natuurlike proses oorbrug wanneer tegnologiegebruik opgeneem word. Die vernuwende gebruiker, of dosent wat daarvan hou om tegnologie te gebruik, gebruik geredelik die LBS, en wanneer sukses in die gebruik daarvan ervaar word, sal ander dosente die moontlike gebruike van die tegnologie sien en geleidelik aangemoedig word om dit ook in hulle onderrigbenaderings op te neem.

Die keuse van ’n LBS in die universiteit is ’n bestuursbesluit wat deur middel van beleidstelling gekommunikeer word. As sodanig val gaping 4 buite die klem van die studie, maar dit kan deur die LBS hanteer word.

Die eietydse student word vir die moderne samelewing voorberei om ’n professionele bydrae in die handelsektor te lewer. Deur kleiner gebruikersgemeenskappe (“communities of practice”2), te skep waar tegnologie in taal- en kommunikasieonderrig effektief gebruik word, sal dosente aangemoedig word om van mekaar te leer. Daar behoort ook sterk klem gelê te word op die wyse waarop tegnologie in die praktyk aangewend word om sodoende gaping 5 te oorbrug. ’n Kultuur van tegnologiegebruik kan deur hierdie stappe by universiteite gekweek word, waar opleiding en ondersteuning ’n belangrike rol kan speel. Taalkommunikasiedosente behoort bevoeg te wees om tegnologie in onderrig te gebruik, sodat studente deur blootstelling daaruit kan leer. Verder moet daar van dosente verwag word om te alle tye voor te bly met tegnologiese verwikkelinge en die vereistes daarvan in die veld waarvoor hulle studente oplei. Aandag aan die ander gapings sal bydra tot die oorbrugging van gaping 5.

Figuur 5 hier onder is ’n tabel waarin die moontlike oplossings kortliks teenoor die gapings gestel word.

Gaping

Moontlike oplossings

Gaping 1: Bewustheid van die mandaat om die LBS te gebruik

  • Effektiewe kommunikasie
  • Aanspreeklikheid vir gebruik
  • Aanmoediging en aansporing om die LBS te gebruik

Gaping 2: Persepsies en verwagtinge

  • Effektiewe kommunikasie
  • Ondersteuningsdiens op kampusse
  • Voldoende personeel by die ondersteuningsdiens
  • Kennis oor die TPIK-model

Gaping 3: Verwagtinge van die LBS

  • Effektiewe kommunikasie
  • Opleiding en onderrig van taalkommunikasiedosente
  • Kennis oor die TPIK-model

Gaping 4: Ander vorme van tegnologie

  • Bestuursbesluite
  • Kennis oor die TPIK-model

Gaping 5: Universiteit en die student as produk in die omgewing

  • Gebruikersgemeenskappe wat van mekaar kan leer
  • Die skep van ’n gebruikskultuur
  • Opleiding en onderrig van taalkommunikasiedosente


Figuur 5. Moontlike oplossings vir die gapings

Binne die konteks van hoër onderwys in Suid-Afrika is dit nodig dat taalkommunikasiedosente, gegewe hulle besondere taak binne die universiteit, tegnologie effektief in hulle onderrigbenadering aanwend. Die ingewikkelde konteks skep uitdagings en die gebruik van tegnologie behoort nie tot die probleem by te dra nie, maar moet eerder ’n oplossing wees en die onderrigproses vergemaklik.

Om e-leer effektief aan te wend is dit nodig dat taalkommunikasiedosente voldoende ondersteuning in die gebruik van die LBS ontvang. Daar is spesifieke vereistes waaraan die LBS-ondersteuningsdiens moet voldoen. Van die personeel word verwag om, benewens professioneel, ook vriendelik en ondersteunend te wees, en verder ook kundig te wees oor die pedagogiese toepassing van die tegnologie. Die diens moet ondersteuning stiptelik (binne perke) kan verskaf soos wat dit deur die dosent benodig word. Die taalkommunikasiedosent en die ondersteuningsdiensverskaffer behoort saam te werk vir die suksesvolle gebruik van tegnologie.

Die data het aan die lig gebring dat daar gapings bestaan tussen die taalkommunikasiedosent en die ondersteuningsdiens rakende die persepsies en verwagtinge wat hulle van LBS-ondersteuning het. Hierdie gapings kan oorbrug word deur effektiewe bestuur en grotendeels deur effektiewe kommunikasiekanale. Deur uitvoering te gee aan die voorstelle wat in hierdie artikel gemaak is, kan die kwessies uitgepluis word en sal dit tot ’n gladde opneemproses van tegnologie bydra.

Verdere navorsing aangaande die uitwerking van #FeesMustFall op e-leer-gebruik kan onderneem word. Die bevindinge van hierdie studie dui daarop dat dosente onder hierdie omstandighede die tegnologie gebruik ten spyte van verskonings om dit nie te gebruik nie. Die omstandighede waaronder dosente die LBS steeds gebruik wanneer dit nie deur ’n krisis genoodsaak word nie, kan ook ondersoek word.

Die bevindinge in hierdie studie kan ook vergelyk word met die bevindinge van dosente in ander vakgebiede of by ander universiteite.

 

8. Slotsom

Die gebruik van e-leer het die belofte van vernuwing en verbetering van onderrigpraktyke ingehou. Al is dit tot dusver nie optimaal benut nie, kan dit in die huidige konteks van hoër onderwys in Suid-Afrika steeds ’n verskil maak, en met doeltreffende bestuur transformasie bewerkstellig. Taalkommunikasiedosente in die universiteit het ’n besondere taak om studente in die taal van onderrig voor te berei vir akademiese kommunikasie oor alle vakgebiede heen. Met LBS-gebruik en effektiewe ondersteuning is dit ’n bereikbare mikpunt.

 

Bibliografie

Badenhorst, J.J.C. 2006. The changing classroom: Managing the learning experience with a learning management system (LMS). Interim: Interdisciplinary Journal, 5(2):1−9.

Baloyi, B. en G. Isaacs. 2015. South Africa’s “fees must fall” protests are about more than tuition costs. CNN African Voices, 28 Oktober. http://edition.cnn.com/2015/10/27/africa/fees-must-fall-student-protest-south-africa-explainer/index.html (18 Oktober 2017 geraadpleeg).

Bozalek, V., D. Ng’ambi en D. Gachago. 2013. Transforming teaching with emerging technologies: Implications for higher education institutions. South African Journal of Higher Education, 27(2):419–36.

Bozzoli, B. 2015. Behind the university funding crisis. Politicsweb, 19 Oktober. http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/behind-the-university-funding-crisis (18 Oktober 2017 geraadpleeg).

Brown, C. en D. Gachago (reds.). 2013. Emerging technologies in Higher Education: A guide for South African Higher Education practitioners. Emerging ICTs in Higher Education blog, 1 November. http://emergingicts.blogspot.co.za/p/guide.html (18 September 2017 geraadpleeg).

BusinessTech. 2016. South Africans among the most illiterate in the world. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/116230/south-africans-among-the-most-illiterate-in-the-world (12 Januarie 2018 geraadpleeg).

Bytheway, A., J. Cronje en R.M. Branch. 2017. Managing information in education. Journal of Information Management, 30(5):694–700. https://doi.org/10.1108/JEIM-07-2017-0107 (7 September 2017 geraadpleeg).

Central Intelligence Agency (CIA). 2017. The world factbook. https://www.cia.gov/library/publications/resources/the-world-factbook/ (6 November 2017 geraadpleeg).

Chapelle, C.A. 2008. Computer assisted language learning. In Spolsky en Hult (reds.) 2008.

Coetzee, M. 2013. Mother-tongue classrooms give a better boost to English study later. Mail & Guardian, 13 Oktober. https://mg.co.za/article/2013-10-18-mother-tongue-classrooms-give-a-better-boost-to-english-study-later (10 Oktober 2017 geraadpleeg).

Cook, M.J. 2013. South Africa’s mother tongue education challenge. Brand South Africa, 18 November. https://www.brandsouthafrica.com/governance/education/south-africa-s-mother-tongue-education-problem (3 November 2017 geraadpleeg).

Creswell, J.W. 2009. Research design: Qualitative, quantitative, and mixed methods approaches. 3de uitgawe. Los Angeles: Sage Publications Inc.

Cronje, J.C. 2007. Who killed e-learning? Kaapstad: Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie. http://asianvu.com/digital-library/elearning/Whokillede-learning.pdf (10 September 2010 geraadpleeg).

Cuthbert, P. 1996. Managing service quality in HE: Is SERVQUAL the answer? Part 1 Managing Service Quality, 6(2):11−6.

Czerniewicz, L. (red.). 2007. ICTs and higher education in Africa. Sentrum vir Opvoedkundige Tegnologie, Universiteit van Kaapstad.

De Freitas, S. en M. Oliver. 2005. Does e-learning policy drive change in higher education? A case study relating models of organisational change to e-learning implementation. Journal of Higher Education Policy and Management, 27(1):81–96.

Desai, Z.K. 2012. A case for mother tongue education? PhD-proefskrif, Universiteit van die Wes-Kaap.

Draper, A. 2016. Op-Ed: #FeesMustFall: the students’ side. Daily Maverick, 26 September. https://www.dailymaverick.co.za/article/2016-09-26-op-ed-feesmustfall-the-students-side (18 Oktober 2017 geraadpleeg).

Fihlani, P. 2015. South African students continue fees protest. BBC News, 26 Oktober. http://www.bbc.com/news/world-africa-34636419 (18 November 2017 geraadpleeg).

Gachago, D., E. Ivala, J. Backhouse, J.P. Bosman, V. Bozalek en D. Ng’ambi. 2013. Towards a shared understanding of emerging technologies: Experiences in a collaborative research project in South Africa. The African Journal of Information Systems, 5(3):94–105.

Garrett, N. 2009. Computer assisted language learning trends and issues revisited: Integrating innovation. The Modern Language Journal, 93:719−40. https://courses.cs.washington.edu/courses/cse590h/10au/papers/garrett_2009_language_learning.pdf 20 Desember 2017 geraadpleeg).

Gavriushenko, M., M. Kankaanranta en P. Neittaanmäki. 2015. Semantically enhanced decision support for learning management systems. Refereaat gelewer by die IEE 9th International Conference on Semantic Computing, Kalifornië, 7–9 Februarie 2015.

Govindasamy, D. 2002. Successful implementation of e-Learning pedagogical considerations. The Internet and Higher Education, 4:287−99. http://uait.pbworks.com/w/file/fetch/53312858/govindasamy_elearning_pedagogical.pdf (7 Maart 2016 geraadpleeg).

Harvey, B. en D. Beards. 2004. E-learning in Scottish further and higher education. Education and Training, 46(6/7):353−60.

Hauser, C. 2016. “Fees Must Fall”: Anatomy of the student protests in South Africa. The New York Times, 22 September. https://www.nytimes.com/2016/09/23/world/africa/fees-must-fall-anatomy-of-the-student-protests-in-south-africa.html (18 Oktober 2017 geraadpleeg).

Heller, R. 2006. Successful business: Why customer service and employee attitudes are more important than the bottom line. Edward de Bono & Robert Heller's Thinking Managers. http://www.thinkingmanagers.com/management/successful-business.php (24 Junie 2011 geraadpleeg).

Henderson, R. 2017. Report about Fees Must Fall protests at universities stirs up more debate. Business Day, 9 Maart. https://www.businesslive.co.za/bd/national/education/2017-03-09-report-about-fees-must-fall-protests-at-universities-stir-up-more-debate (19 Oktober 2017 geraadpleeg).

Howie, S.J., C. Combrinck, K. Roux, M. Tshele, G.M. Mokoena en N. McLeod Palene. 2017. PIRLS Literacy 2016 South African highlights report. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Howie, S.J., S. van Staden, M. Tshele, C. Dowse en L. Zimmerman. 2012. South African children’s reading literacy achievement. PIRLS 2011 summary report. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Islam, A.K.M.N. 2014. Sources of satisfaction and dissatisfaction with a learning management system in post-adoption stage: A critical incident technique approach. Computers in Human Behaviour, 30:249–61.

Keengwe, J. en J. Kang. 2012. Blended learning in teacher preparation programs: A literature review. International Journal of Information and Communication Technology Education, 8(2):8–93.

Koehler, M., P. Mishra, K. Kereluik, T.S. Shin en C.R. Graham. 2014. The technological pedagogical content knowledge framework. In Spector, Merrill, Elen en Bishop (reds.) 2014.

Marek, M.W. en W.V. Wu. 2014. Environmental factors affecting computer assisted language learning success: a complex dynamic systems conceptual model. Computer Assisted Language Learning, 27(6):56078.

Marnewick, A. 2015. The debate about mother-tongue education: What you should know. Online & Printable School Worksheets, 17 Maart. http://www.worksheetcloud.com/blog/the-debate-about-mother-tongue-education-what-you-should-know (10 Oktober 2017 geraadpleeg).

Marshall, S.J. 2008. What are the key factors that lead to effective adoption and support of e-learning by institutions? Konferensiestukke van die Higher Education Research and Development Society of Australasia (HERDSA), Rotorua, 1–4 Julie 2008. Nieu-Seeland, Roturua: HERDSA.

Matherson, L.H., E.K. Wilson en V.H. Wright. 2014. Need TPACK? Embrace sustained professional development. Delta Kappa Gamma Bulletin, 81(1):45–52.

Mishra, P. en M.J. Koehler. 2006. Technological pedagogical content knowledge: A framework for teacher knowledge. Teacher College Record, 108(6):1017–54.

Mohammadi, H. 2015. Investigating users’ perspectives on e-learning: An integration of TAM and IS success model. Computers in Human Behaviour, 45:359−74.

Parasuraman, A., V.A. Zeithaml en L.L. Berry. 1985. A conceptual model of service quality and its implications for future research. The Journal of Marketing, 49(4):41−50.

Qobo, M. 2017. South Africa can’t compete globally without fixing its attitude to maths. Mail & Guardian: Januarie 10. https://mg.co.za/article/2017-01-10-south-africa-cant-compete-globally-without-fixing-its-attitude-to-maths (3 November 2017 geraadpleeg).

Saunders, M., P. Lewis en A. Thornhill. 2012. Research methods for Business students. 6de uitgawe. Essex: Pearson.

South Africa. Department of Education. 2004. White Paper on e-Education. Government Gazette, 26762:343, September 2. https://www.education.gov.za/Portals/0/Documents/Legislation/White%20paper/DoE%20White%20Paper%207.pdf?ver=2008-03-05-111708-000 (20 Junie 2016 geraadpleeg).

South Africa. Department of Higher Education and Training. 2013. White paper for post-school education and training. Pretoria: Department of Higher Education and Training. http://www.dhet.gov.za/SiteAssets/Latest%20News/White%20paper%20for%20post-school%20education%20and%20training.pdf (20 Junie 2016 geraadpleeg).

Spector, J.M., M.D. Merrill, J. Elen en M.J. Bishop (reds.). 2014. Handbook of research on educational communications and technology. 4de uitgawe. New York: Springer.

Spender, D. en F. Stewart. 2002. Embracing e-Learning in Australian schools. Brisbane: Commonwealth Bank.

Spolsky, B. en F.M. Hult (reds.). 2008. The handbook of educational linguistics. Malden, Massachusetts: Blackwell.

Stiles, M. en J. Yorke. 2004. Embedding staff development in eLearning in the production process and using policy to reinforce its effectiveness, Staffordshire Universiteit. 9de CEDA-konferensie. Birmingham, 2004. http://citeseerx.ist.psu.edu/viewdoc/download?doi=10.1.1.476.3279&rep=rep1&type=pdf (5 Julie 2018 geraadpleeg).

Stoltenkamp, J. en O. Kasuto. 2009. E-Learning change management and communication strategies within a HEI in a developing country: Institutional organisational cultural change at the University of the Western Cape. Education and Information Technologies, 16(1):41−54.

Tai, S.D. 2015. From TPACK-in-action workshops to classrooms: CALL competency developed and integrated. Language Learning & Technology, 19(1):13964.

Turgut, Y. 2017. Tracing preservice English language teachers’ perceived TPACK in sophomore, junior, and senior levels. Cogent Education, 4(1368612):1−20. https://www.tandfonline.com/doi/pdf/10.1080/2331186X.2017.1368612 (10 Oktober 2017 geraadpleeg).

Uppal, M.A., A. Samnan en S.R. Gulliver. 2017. Factors determining e-learning service quality. British Journal of Educational Technology, 1–15.

Voogt, J. en S. McKenney. 2017. TPACK in teacher education: Are we preparing teachers to use technology for early literacy? Technology, Pedagogy and Education, 26(1):69–83.

Wagner, N., K. Hassanein en M. Head. 2008. Who is responsible for e-Learning success in higher education? A stakeholder’s analysis. Educational Technology and Society, 11(3):26–36.

Wu, Y.T. en A.Y. Wang. 2015. Technological, pedagogical, and content knowledge in teaching English as a foreign language: Representation of primary teachers of English in Taiwan. The Asia-Pacific Education Researcher, 24(3):525–33.

Yin, R.K. 1994. Case study research design and methods. 2de uitgawe. Newbury Park, Kalifornië: Sage.

Zellweger, F. 2006. Formulating eLearning support strategies in research. Switserland, St Gallen: Universiteit van St. Gallen.

 

Eindnotas

1 Ter wille van begrip en ten einde verwarring te voorkom, word hier gemeld dat die twee woorde vir dieselfde begrip – pedagogie en opvoedkunde – afwisselend gebruik word in die studie. Albei terme word in die literatuur gebruik en ten einde soektogte te maak, is dit nodig om te meld dat beide die Germaanse en die Klassieke term gebruik kan word.

2 Die term “communities of practice” of “gebruikersgemeenskappe” is ’n algemeen gebruikte term in onderwyskringe. Dit verwys na ’n groep mense wat ’n bepaalde nuwe metode of tegnologie gebruik en wat mekaar ondersteun om dit onder die knie te kry. In die konteks van hierdie artikel verwys dit eenvoudig na ’n groepie gebruikers wat saam werk en mekaar help om nuwe tegnologie optimaal aan te wend in hulle onderrig.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Taalkommunikasiedosente se persepsies en verwagtinge van e-leerondersteuning om dienslewering te verbeter appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: Lorraine Hechter se keuse

$
0
0

Na watter produksies sien jy die meeste uit op vanjaar se US Woordfees-program? Hier is Lorraine Hechter se keuse van drie produksies:

SAMSON

Musiekteater 

In samewerking met: Die Nasionale Lotery-kommissie, Grahamstadse Nasionale Kunstefees en die US Woordfees

Skrywer en regisseur: Brett Bailey
Musiek: Shane Cooper
Choreografie: Vincent Mantsoe
Beligtingsontwerp: Wolf Britz Stelontwerp: Brett Bailey en Tanya P. Johnson
Vervaardiger en produksiebestuur: Barbara Mathers en Third World Bunfight
Video-animasie: Kirsti Cummings

Hierdie dans-musiekteater is gegrond op Ou Testamentiese waardes van oorheersing, verraad en rebellie, maar dit speel af in die konteks van hedendaagse politieke ekstremisme, ongelykheid, ontheemding en geweld. Aan die woord is opera, kore, animasievideo’s en elektroniese musiek. Dis heerlik anargisties.  

Geen o/16    

Taal: Engels

R120 - R180 | R200 by die deur
Koop nou op Computicket hier
 
 

DEURnis

DEURnis een-tot-een is die opwindende nuwe teaterervaring en `n eerste vir Suid-Afrika: teater tussen een akteur en een gehoorlid op `n slag. Die unieke en grensverskuiwende produksie speel af binne of rondom `n huis of gebou en het as plekpesifieke teater dus `n baie intieme benadering. Dit is bekroon met `n 2018 kykNET Fiesta, `n 2018 ATKV-Woordveertjie en benoem as Beste Produksie by Aardklop 2017. `n Kaartjie gee jou toegang tot drie toneelstukke van ongeveer 20 minute elk.

 

SWERFGOED

Drama

In samewerking met: NATi, Baxter Teatersentrum, Kunste Onbeperk en US Woordfees

Skrywer: Bauke Snyman
Regisseur: Tinarie van Wyk Loots
Stelontwerp en kostuums: Jemma Kahn en Kanya Viljoen
Beligtingsontwerp en verhoogbestuurder: Michael Garbett
Vervaardiger: Kunste Onbeperk

Dis iewers in die nabye toekoms en die duurste hulpbron is water. Maar by Motel Stillewater, op ’n godverlate vlakte, is ’n oerskat opgesluit. Dis ’n vreemde (en snaakse) spulletjie wat hier woon, en vir water sal party mense moord pleeg. Dit word ’n tragikomedie van Griekse omvang. Swerfgoed het drie KKNK-Kanna-pryse ontvang: Beste manlike en vroulike byspeler (Richard September en Nicole Holm) asook Beste nuutgeskrewe debuutteks (Bauke Snyman).

Geen o/16

Taal: Afrikaans

Met: Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Andrew Laubscher, Richard September

The post US Woordfees 2019: Lorraine Hechter se keuse appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: Elize se keuse

$
0
0

Na watter produksies sien jy die meeste uit op vanjaar se US Woordfees-program? Hier is Elize se keuse van drie produksies:

TOUTJIES & FERREIRA

Komedie, dan drama

’n US Woordfees-produksie, ondersteun deur Aardklop met ontwikkeling ondersteun deur NATi

Skrywer: Saartjie Botha 
Regisseurs: Wolf Britz en Nicole Holm 
Stel- en beligtingsontwerp: Wolf Britz 
Musiek: Antoni Schonken 
Kostuums: Beaura Jacobs 
Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp

Al ooit gewonder wat gebeur op die verhoog in die uur voor ’n vertoning by ’n kunstefees begin? Die antwoord is ongelóófik baie. Kom benut ’n seldsame kans om hierdie gekke, snaakse, spanningsvolle uur met akteurs en tegnici te beleef. Jy gaan lag en dan gaan jy minder lag in dié produksie wat as komedie wegspring en by knop in die keel eindig. As jou kinders emigreer is die vooruitsig van Skype op ’n Sondag met kleinkinders wat Engels praat, ’n skrale troos. Spesiaal vir diesulkes en ander wat sit met ’n gat in die hart; ook vir feesfoendies, en almal wat nog nooit agter die skerms in ’n teater was nie.

Geen o/14 (T)

Taal: Afrikaans

Met: Frank Opperman, Joanie Combrink, Anthea Thompson, Esther von Waltsleben, Aphiwe Livi, Geon Nel, Wolf Britz, Malan Steyn, Melanie Scholtz, Antoinette Kellermann

R120 - R150 | R170 by die deur 
 

MY MENSE IS DIE KLUTS KWYT

Sketskomedie

Skrywer: Ludwig Binge 
Regisseur: Wessel Pretorius 
Verhoogbestuurder: Kanya Viljoen 
Vervaardigers: Wessel Pretorius en Ludwig Binge

’n Lewensmoeë geskiedenisonderwyser gee sý weergawe van wêreldgebeure met drastiese gevolge, terwyl Lady Rugga haar manlike kollegas touwys maak. ’n Blou Bul-braai in Pretoria neem ’n onverwagse wending, terwyl Louise en Pieter op hul eerste Tinder-afspraak ontdek die liefde is bipolêr. Hier ontmoet Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang mekaar. Die satire loop dik soos stroop oor geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik. Natuurlik herken ons onsself (en die bure).

Geen o/14

Taal: Afrikaans

Met: Ludwig Binge, De Klerk Oelofse, Roeline Daneel

R115 - R135 | R155 by die deur 
 

KLEEDKAMER-BLUES

Drama

’n NATi / Feesteforum-produksie

Skrywer: Ludwig Binge 
Regie, stelontwerp en kostuums: Marthinus Basson 
Beligtingsontwerp en vervaardiger: Chris Pienaar 
Verhoogbestuurder: Danielle Louw 
Vervaardiger: Raminidam in opdrag van Innibosfees

Ons is in ’n kleedkamer voor ’n laaste optrede by ’n kunstefees. Almal is ’n bietjie moeg, almal ’n bietjie feesvoos. Daar sit die diepseun Johan met premature post-production blues.

Hy sê nie ’n woord nie. André is knorrig omdat sy mede-akteur, Hendrik, nooit sy eenmanstuk kom kyk het nie. Hendrik is benoem vir ’n toekenning terwyl André se stuk ’n louwarm resensie gekry het. Hendrik het ’n oog op Wena, maar sy’s op pad Johannesburg toe vir ’n rol in ’n sepie.

Paul, die ou veteraan wat ná 15 jaar ’n comeback maak in hierdie alternatiewe weergawe van Beckett se Godot, sukkel om sy woorde te onthou. O, die nerwe, die nerwe. Boonop is daar ’n belangrike gas in die gehoor... 

Taal: Afrikaans

Met: Carel Trichardt, De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius, Ludwig Binge, Greta Pietersen
 
R80 - R145 | R165 by die deur
Koop nou op Computicket hier
US Woordfees 2019: Wen drie dubbelkaartjies na jou voorkeurproduksies

LitNet
Wen

Na watter produksies sien jy die meeste uit op vanjaar se US Woordfees-program? Stuur jou keuse van drie produksies teen 15 Februarie aan wen@litnet.co.za en staan die kans om deur 'n gelukstrekking drie dubbelkaartjies na jou voorkeurproduksies te wen!

The post US Woordfees 2019: Elize se keuse appeared first on LitNet.

LitNet: Jou krag

Regtig?

$
0
0

Jy word na ’n plek toe vervoer vir een of ander belangrike afspraak. Jy bly in die duister. Jy word begelei en stap in ’n bewaakte gebou in en betree ’n vertrek waar jy moet wag, ’n uur of wat. Jy kyk rond, sien dit en dat.

Agt jaar later word jy gevra om te beskryf wat jy gesien het. Jy dink terug, na die beste van jou vermoë onthou jy ietsie hier en daar. Ander glo jou nie en jy word teruggeneem. Hulle kyk nou aandagtig en met aandag. En hulle wonder na hul aandagtige waarneming oor die verskil oor wat jy gesê het jy agt jaar gelede waargeneem het. Was dit marmer of graniet trappe -  was daar tien of ses? Gaan ons in die donker bly en maar die wet van Transvaal gehoorsaam?

“Chair” is darem tweede in rang.

Kers-en-blaker-groetnis

Raed-na-Gael.

 

The post Regtig? appeared first on LitNet.

Die 9de kykNET Fiëstas: Hier is die wenners

$
0
0

Die 9de kykNET Fiëstas is op Donderdag 14 Februarie 2019 by die Kunstekaap-teater in Kaapstad gehou en regstreeks op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. Dit was ’n aand ter viering van kreatiwiteit en besonderse prestasies in die uitvoerende kunste.

Bennie Fourie het die program as seremoniemeester gelei en is deur Schalk Bezuidenhout, Gideon Lombard, Kay Karriem, Jarrid Geduld en Jill Levenberg as sy mede-aanbieders bygestaan.

Die gaste en kykers was ook met optredes deur Jo Black, Craig Lucas, Paxton, die Cape Dance Company, CPYO onder leiding van Chad Hendricks en UWC Choir bederf.

Karen Meiring, M-Net Direkteur:  kykNET-kanale: “Die feeste speel ’n ongelooflike belangrike rol in die volhoubaarheid van die kunste en vermaaklikheidsbedryf. Daarom is die kykNET Fiësta-toekennings so ’n gepaste wyse vir ons om dit te erken en vier. Baie geluk aan al die wenners.”

Geluk aan die wenners:

BESTE AKTEUR:

Wilhelm van der Walt – Klippe wat Val

BESTE AKTRISE:

 

Joanie Combrink – Toutjies & Ferreira

BESTE MANLIKE BYSPELER:

 

Dean John Smith – Klippe wat Val

BESTE VROULIKE BYSPELER:

Lee-Ann van Rooi - Kinnes

BESTE REGIE:

Nicole Holm en Wolf Britz – Toutjies & Ferreira

BESTE TEATERONTWERP:

Ilana Cilliers en Wolf Britz – GodgOdgoD

BESTE SPEL IN ’N SOLO-VERTONING:

Antoinette Kellermann – Hierdie Lewe

BESTE NUUTGESKEPTE AFRIKAANSE TEKS:

 

Saartjie Botha – Toutjies & Ferreira

BESTE OPKOMENDE KUNSTENAAR:

 

Anoecha Krüger – Raak

BESTE PRESTASIE IN KLASSIEKE MUSIEK:

 

Zanta Hofmeyr, Miro Chakaryan & Olive Sandilands – Viool Dialoog

BESTE PRESTASIE IN VISUELE KUNS:

 

Diane Victor – Skadu’s en Lig/Shadows and Light

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – BUITELUG:

kykNET Konsert Saterdagaand

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – PODIUM:

Amanda Strydom – Stadig oor die Klippers

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – TEATER:

David Kramer se Platteland

BESTE AANBIEDING:

Toutjies & Ferreira

BESTE DUO OF ENSEMBLE:

Roberto Pombo, Thami Baba en Klara van Wyk van Babbelagtig

BESTE VERTALING OF VERWERKING VAN Ń BESTAANDE WERK:

Saartjie Botha – Hierdie Lewe

FEES VAN DIE JAAR:

Andy Lubbe van Innibos

BLOU FIËSTA:

Sharon-Paulsen van The Johaar Mosaval Journey: District 6 to the Royal Ballet

LEWENSBYDRAE TOT TEATER:

Eduard Greyling

John Kani

Sandra Prinsloo

The post Die 9de kykNET Fiëstas: Hier is die wenners appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: ’n Gesprek met Mercy Kannemeyer

$
0
0

Mercy Kannemeyer (foto: Facebook)

Naomi Meyer vra vir Mercy Kannemeyer oor kunstefeeste en oor haar betrokkenheid by produksies op vanjaar se US Woordfeesprogram. 

Mercy, ek weet jy woon gereeld kunstefeeste by. Wat neem jy waar?

Kunstefeeste is ’n belangrike platform vir die voortbestaan van kuns en kultuur. Eerstens skep dit werk en tweedens word dit ’n plek waar mense kan saamkom en saambestaan. Kunstefeeste het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap waar dit plaasvind. Die onus berus by die onderskeie feeste om te bepaal wat hul verantwoordelikheid is, hetsy gemeenskapsbemagtiging deur middel van werkskepping, ekonomiese hupstoot, of die ontginning van plaaslike talent. Ek besef ook kunstefeeste is ’n nasionale bate, dus moet die ruimer konteks van Suid-Afrika ook in ag geneem word.

Rondom jou betrokkenheid by vanjaar se Woordfees: Ons is nie almal so nie ... Het jy die boek geken, en hoe beïnvloed dit vir jou die produksie? Wat is jou rol hierso – agter die skerms?

Ek het die teks verwerk en behartig ook die regie. Dit was glad nie maklik om hierdie teks te verwerk nie, want ek wil so graag getrou bly aan Jeanne se manier van skryf, want haar styl is deurtrek met humor en ironie. Die uitdaging is ook natuurlik dat ek nie die hele boek op die verhoog kan sit nie. Ek het dele geïdentifiseer wat ’n verhaallyn binne 70 minute kan behou. Ek moes ook baie dink oor die konteks waarin die storie afspeel en die uitwerking wat daardie konteks op ’n hedendaagse gehoor sal hê. Die storie speel af in die 1950’s. En destydse gebeure mag moontlike sensitiewe kykers ontstel. Jeanne hou glad nie terug nie – sy sê ’n ding reguit. Teater moet nie polities korrek wees nie, dit moet wel verantwoordelik wees. Ek wil nie dinge op die verhoog sit net om te skok of te offend nie – ek wil hê mense moet dink. En indien mense aanstoot neem, is dit ’n belangrike gesprek wat moet plaasvind om te probeer uitvind waarom hulle aanstoot neem.

Ek het Ons is nie almal so nie in graad 9 vir die eerste keer gelees. Daarna is die boek behandel in my eerste jaar van Afrikaans en Nederlands. Afgesien daarvan dat ek ’n groot aanhanger van Jeanne Goosen se werk is, is Ons is nie almal so nie een van daardie boeke wat ’n mens altyd bybly. Jeanne gaan met soveel deernis om met ’n pynlike storie en beeld sodoende die menslikheid van verkeerde besluite uit. Ek wil hoegenaamd nie ’n apologeet wees vir rassiste nie – ek dink dis die moeite werd om genuanseerd met hierdie storie om te gaan. “Ons is nie almal so nie”, wat deur Doris in die boek gesê word, is natuurlik die toppunt van ironie – want die meeste van die mense in die boek ís so – so rassisties, so bevooroordeeld, so blind vir hul eie foute. En dit kom in 2019 nog steeds voor. Mense sal hulself distansieer van hul eie mense, want hulle is nie soos daai mense nie. En dis geldig. Ek wonder dan maar net: As ons nie almal so is nie, hoe is ons dan?

Die bul die wil nie is 'n ander Woordfeesproduksie waarby jy betrokke is. Hoe skep mens teater vir kinders? En hoe verskil dit van ander teater vir volwassenes vir jou, of van die film (Ferdinand the bull)?

Ek gaan nou maar probeer. Ek dink nie dit hoef noodwendig te verskil van teater vir volwassenes nie – natuurlik in inhoud – maar ander teaterelemente bly steeds staan. Daar is ’n storie, daar is ’n plek waar dit plaasvind en ’n gehoor wat dit kom kyk. Met Die bul die wil nie probeer ek en Amee om ’n prettige, kleurvolle en energieke produksie op die planke te bring wat jong gehore kan vermaak. Stories soos Rooikappie en Raponsie word oor en oor vertel. Ons moet bietjie na stories gaan soek wat wegbreek van dit wat ons nou al ken. Kinders is baie slim, so ek wil nie die idee skep dat ek “maklike” teater probeer maak nie. Dis juis uitdagend om ’n jong gehoor se aandag vir 45 minute te probeer behou. So jy moet vermaak!

Die teaterdiskoerse waarby jy betrokke is - watter gesprekke is warm en lewendig op die oomblik? Wat kan mense kom kyk?

My gespreksreeks is getiteld “Naggesprekke saam met Mercy Kannemeyer – Kom kry jou loopdop en gesels saam.” Ons gesels vanjaar onder andere oor teatertoekennings, transformasie en teater, kulturele toe-eiening, wat jongmense teater toe sal lok, en feeshoogtepunte. Ek is baie opgewonde oor naggesprekke en dink mense moet almal kom bywoon. Dis ’n lekker geleentheid om te kom debrief na ’n lang dag van feesvier. Van die paneellede is Ilza Roggeband, Wolf Britz, Cornelia Faasen, Christo Davids, Shihaam Domingo en Martie Meiring.

Wat laat ek uit? Waarby is jy nog betrokke by die Woordfees?

Ek doen ook die regie vir ’n komedie, Large, asseblief, wat handel oor vier vroue wat gearresteer word omdat hulle buite ’n bekende klerewinkel betoog. Die winkel het nie klere in hul grootte nie. Hulle moet dan hul saak voor ’n konstabel gaan pleit.

Gaan daar tyd oor wees vir jou om self iets te gaan kyk? Wat sou jy sommer net vir die lekker wou bywoon? 

Ek het min tyd om ander produksies te kyk. Maar ek wil probeer om die volgende te sien:

Walk
SAMSON
Katrina: die dansende taal
MI(SA).

Jy het die afgelope tyd so baie kunstefeeste bygewoon. Watter van die produksies wat jy gesien het, is vanjaar by die US Woordfees?

Ek beveel die volgende aan:

GodgOdgoD
Rooilug
Toutjies & Ferreira
Huishou
Babbelagtig
Klippe wat val.

Lees ook:

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Saartjie Botha

US Woordfees 2019: Teater

 

 

The post US Woordfees 2019: ’n Gesprek met Mercy Kannemeyer appeared first on LitNet.


’n Blik op die produksie Krotoa: Eva van de Kaap

$
0
0

In die hedendaagse Suid-Afrika ontmoet ’n Nederlandse akteur, Thijs, en ’n Suid-Afrikaanse aktrise, Sam, mekaar kamtig op die stel van ’n fliek wat handel oor die Khoi-vrou Krotoa. Thijs vertolk die rol van Jan van Riebeeck, die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie- (VOC-) handelaarsbevelvoerder wat in 1652 ’n verversingstasie in die Kaap gevestig het.

Sam vertolk die rol van Krotoa, die jong Khoi-meisie wat deel van Van Riebeeck se huishouding geword het en later ’n belangrike onderhandelaar en vertaler tussen die Hollanders en die plaaslike mense geword het.

Die verhaal van Krotoa ontroer die fiktiewe akteurs Thijs en Sam, en hulle vind dit moeilik om hul persoonlike lewens van dié van hul karakters te skei. Só gaan die twee op ’n geestelike reis waar hulle gekonfronteer word met die realiteite van Suid-Afrika se geskiedenis en reflekteer oor die verhaal van Krotoa…

Die produksie Krotoa: Eva van de Kaap, wat deur die Kunstekaap in samewerking met die Nederlandse teater die Volksoperahuis aangebied word, is tans in die Kunstekaap in Kaapstad te sien. Die toneelstuk, wat geskryf is deur die joernalis Sylvia Vollenhoven, met regisseur Basil Appollis wat die regie behartig, kyk  op ’n unieke manier na ’n ondergewaardeerde figuur in Suid-Afrika se geskiedenis. Die Suid-Afrikaanse aktrise Bianca Flanders vertolk die rol van die fiktiewe aktrise Sam, wat Krotoa in die fiktiewe fliek vertolk, en die Nederlander Kees Scholten vertolk die rol van Thijs en Jan van Riebeeck.

Soos deur Vollenhoven verduidelik, bring hierdie toneelstuk hulde aan Krotoa en poog dit om die verwronge rekord en beeld van Krotoa reg te stel. Vollenhoven sien hierdie geleentheid as ’n geleentheid vir herstellende geregtigheid, en sê dat die verontregte Khoi-voorouers die nodige respek verdien wat hulle nie destyds gekry het nie. Krotoa se aangrypende verhaal kry nie altyd die noodsaaklike aandag wat dit verdien nie, en dáárom is dit noodsaaklik om haar verhaal te vertel. Dit is ook vanjaar die Verenigde Nasies se Internasionale Jaar van Inheemse Tale, wat ’n produksie soos dié selfs meer betekenisvol en relevant maak in Suid-Afrika.

Foto's: YouTube

Die produksie ondersoek die verhaal van Krotoa, wat die ware verhaal is van ’n Khoi-vrou wat as tolk tussen die Khoi-mense en die VOC-amptenare opgetree het. Krotoa was familie van Autshumao (Herry de Strandloper), wat in die 1600’s as tolk en bemiddelaar vir die Europeërs opgetree het, om en by die tyd toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom het. Krotoa het in Van Riebeeck se huis gewerk, en later as tolk en bemiddelaar tussen die Hollanders. Krotoa was ook die eerste inheemse persoon van Suider-Afrika om as ’n Christen gedoop te word. Die Nederlandse setlaars het haar Eva gedoop. Later is sy met ‘n Deense chirurg, Pieter van Meerhoff, getroud, en hulle huwelik word beskou as die eerste huwelik tussen mense van verskillende rasse in Suid-Afrika. Van Riebeeck se opvolger, Wagenaer, was egter agterdogtig oor Krotoa se lojaliteit, wat verdeel was tussen die Hollanders en die Khoi. Nadat Van Meerhoff oorlede is, is Krotoa na Robbeneiland toe verban, waar sy later gesterf het.

Die toneelstuk ondersoek ook hoe Krotoa emosioneel geknak is deur die botsing van twee kulture: dié van die Khoi-mense en dié van die Nederlanders. Die twee fiktiewe akteurs, Thijs en Sam, sukkel beide om hulle karakters ten volle te verstaan en te vertolk. Dit is veral Thijs, wat sukkel om Van Riebeeck se dade en optrede te verstaan en ontsteld word wanneer die regisseur van die fiktiewe rolprent vir hom sê hy moet Van Riebeeck as "aangenaam" vertolk. Thijs en Sam beleef ’n warboel van emosies en ondergaan innerlike konflik wanneer hulle gekonfronteer word met die nare werklikheid van Krotoa se geskiedenis. Wat is die pad vorentoe? Hoe stel ’n mens die verkeerde dade van die verlede reg? Dit is net sommige van die vrae waarvoor hulle te staan kom.

Krotoa: Eva van de Kaap is tans in die Kunstekaap te sien.

Elemente van metateater is duidelik in die produksie te sien, in die manier waarop dit wissel tussen tonele van die fiktiewe akteurs Thijs en Sam en tonele van Van Riebeeck en Krotoa. Die gehoor kyk dus na twee akteurs (Kees Scholten en Bianca Flanders) wat twee akteurs (Thijs en Sam) vertolk, wat weer op hulle beurt die twee karakters Jan van Riebeeck en Krotoa vertolk. Die produksie bied dus uiters relevante geskiedkundige gebeure op ’n vars en interessante manier aan. In plaas daarvan dat die verhaal van Krotoa slegs lineêr aangebied word, word daar op dié manier ruimte vir nodige refleksie en nabetragting geskep. Die gehoor word op ’n verfrissende manier met die verhaal van Krotoa gekonfronteer, en word genoop om saam krities te dink en te wonder oor die verlede en hoe dit die hede beïnvloed.

Scholten en Flanders kwyt hulle goed van hulle taak en lewer beide sterk en geloofwaardige vertolkings. Hulle vermoë om tussen Thijs en Sam, en Jan van Riebeeck en Krotoa te wissel is treffend. Die dinamiek tussen die twee akteurs is boeiend en hulle het ’n energie en teenwoordigheid op die verhoog wat noemenswaardig is. Komiese tonele sorg vir ’n paar ligpunte en oulike oomblikke om die swaar tonele te balanseer. ’n Toneel waar Sam vir Thijs leer rieldans om hom te laat ontspan en te laat lag, is veral kosbaar.

Een van die hoogtepunte van die produksie is beslis die musiek. Die produksie sluit in oorspronklike musiek van Frazer Georgio Barry en Jef Hofmeister, en Bradley van Sitters is die Khoekhoe-taalkonsultant. Die musiek is ’n samesmelting van Westerse musiek en Khoi-klanke, en skep die gepaste atmosfeer.

Beslis ’n goeie ervaring en die kyk werd om meer te leer oor ’n belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis.

Krotoa: Eva van de Kaap is tot 16 Februarie in die Kunstekaap-teater in Kaapstad te sien.

Lees ook op Voertaal en LitNet

Sylvia Vollenhoven: "Je kunt het heden niet losmaken van het verleden"

Frazer Barry: "Ik heb ervoor gekozen om Khoi te zijn"

Krotoa: ’n mening

Krotoa movie: an interview with Kaye Ann Williams

Krotoa: uit ’n historiese oogpunt

The post ’n Blik op die produksie <i>Krotoa: Eva van de Kaap</i> appeared first on LitNet.

Pniël Adam Small Fees 2019: Darryl David gesels met Naomi Meyer

$
0
0

Darryl David vertel vir Naomi Meyer van die derde Adam Small-fees wat binnekort in Pniël plaasvind.

Darryl, dis tyd vir die Adam Small-fees in Pniël! Wat beskou jy as die hoogtepunte by die fees vanjaar? Enigiets of enigiemand wat jy spesifiek wil uitsonder?

Must you ask? Ongetwyfeld Thuli Madonsela. Ek het haar al verlede jaar genader. Ons is net te bly dat sy nie van ons vergeet het nie. En vir die onderwerp, “What about de lô”. Meer perfek gaan jy nie kry nie. 

Een van die hoogtepunte vir gehoorlede om in hierdie moeilike ekonomiese tye uit te sonder is die feit dat die fees gratis is. Maar is dit so? Kan ’n mens opdaag en, sonder om enigiets te bespreek of ’n kaartjie te koop, kom luister na almal wat optree? Is hier uitsonderings, iets waarvoor mense moet betaal? Wat van die etes?

Hulle sê “There is no such thing as a free lunch.” Wel, by die Adam Small-fees is dit nie die geval nie. Alle lesings is gratis. Die etes vir die skrywers is alles gratis. Ongelukkig sal besoekers wel vir hul etes moet betaal. Maar niemand sal sekerlik hieroor kla nie. 

Hierdie fees is al in sy derde jaar. Wat het jou oorspronklik die idee hiervoor gegee? Wat gryp jou aan van Adam Small as literêre figuur en as mens? En hoekom Pniël?

Ek wou altyd ’n fees vir Adam Small begin. Maar hy kom van Wellington af. Ek het nie geweet hoe om verby die probleem van Breyten te kom nie, want Adam Small sou daar altyd in die skadu van Breyten gestaan het. Virginia Woolf se bekende roman A room of one's own is hier ter sprake. Elke skrywer het ’n wêreld nodig wat eie is aan hom of haar. Toe ek vyf jaar gelede die kerk op Pniël besoek het vir my kerkboek Church tourism in South Africa, het ek vir my vrou en dogter gesê ek gaan eendag ’n fees op Pniël begin. Hulle het net hul oë gerol. Na Adam Small se dood het ek besef ek was te laat. Maar ek het geweet as ek dit nie nou doen nie, sal dit nooit gebeur nie. Kyk wat het van Outa Lappies geword. Na sy dood wou almal iets doen om sy nalatenskap te herdenk. Nadat ek Murray la Vita se onderhoud met Small gehoor het, was ek vasbeslote om daardie fees binne ’n paar maande op die been te bring. Ek het instinktief geweet Pniël is die plek. Ek was so siek einde 2016. Ek kon nie my hande gebruik nie. My vrou moes my skoene vir my aantrek en my voer. Maar die proses om die Adam Small-fees in die lewe te roep het my genees. Ek sê altyd vir mense: As jy Pniël toe gaan, voel jy die liefde. Sommige gemeenskappe is net so. 

Wat gryp my aan oor Adam Small as literêre figuur? Ek wil nie arrogant klink nie, maar hy herinner my aan myself. Nie in die opsig dat ek ooit ’n skrywer van formaat gaan wees nie. Maar dis sy sagte geaardheid. Sy buitestanderskap. Jy moet onthou ek is ’n Indiër met ’n donker vel. Ek pas nie perfek in by die Afrikaanse akademie nie. Toe ek hierdie pad begin het, het ek mense hoor sê: ’n Koelie sal nooit ’n voet in ons dorp sit nie. In Soweto het ek vir die eerste keer in my lewe wit gevoel. Die jonger geslag swart skrywers het daardie fees geboikot. So onwelkom dat ek nooit weer ’n voet in Soweto sal sit nie. In Durban, die mini-Indië van Suid-Afrika, nadat ek die Unesco City of Literature-status na die stad gebring het, het hulle vir my gesê die stad sal nie ’n Indiër as direkteur van hierdie gesogte prys duld nie. Nee wat, ek is ’n buitestander. Ek ken Adam Small se pyn maar alte te goed. Die enigste lig aan die einde van die tonnel is dat universiteite ná my dood lesingsale na my sal vernoem, as ’n mens na Adam Small kyk. 

Jy is wyd bekend as die organiseerder van feeste dwarsoor die land, en nou is jy ook ’n inwoner van die Wes-Kaap. Wil jy dalk vertel waar jy jou deesdae bevind?

Ek gaan jou antwoord omdat ek weet my ouers verstaan nie Afrikaans nie. Want dit sal hul harte breek. Die kort antwoord is dat ek nog nie ’n inwoner van die Wes-Kaap is nie. Maar ek is op pad. Ja, Stellenbosch se nonnatjies roep my, roep my na die Eikeland ...

Ek het ’n pos by die Universiteit van die Wes-Kaap aanvaar. Dieselfde pos wat ek twee jaar gelede van die hand gewys het! En die droom is om in Pniël ’n huis te koop. Pniël. Johannesdal. Kylemore. Because I am a slave to beauty! Daar is iets oor berge wat goed is vir die siel. My vrou het klaar gesê dis waar sy wil wees. En as my pa hoor deel van my Adam Small-fees vind in die kerk plaas, sal dit definitief sy gebroke hart troos. Na my paar jaar as Ingelsman, as dosent van Engels, weet ek sonder enige twyfel: Ek hoort met Afrikaners, in die wydste sin van die woord. In die woorde van David Kramer: My tongue is English, but my heart is Afrikaans. 

Laai die finale program in pdf-formaat af.

The post Pniël Adam Small Fees 2019: Darryl David gesels met Naomi Meyer appeared first on LitNet.

Soos ’n parfait of ’n sundae: die kykNET Fiëstas 2019

$
0
0

kykNET se Fiëstas, die kanaal se jaarlikse toekennings vir kuns, musiek en teater, het op Valentynsaand in die Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind. Dit was ’n swierige, plesierige, inderdaad lieflike, snikhete aand.

Die verhoogproduksie – met “grond” as tema – het my herinner aan Theodor Adorno se beskrywing van ’n boek deur Georg Lukács: “The book is like a parfait or a sundae – halfway between a so-called thaw on the one hand and a renewed freeze on the other.” Adorno noem nie dat beide die parfait en die sundae soet geregte is nie, maar die onvermydelike implikasie is dat daar ’n soetigheid – ’n lekkerte, ’n plesier – in die boek is.

Só was dit dan ook met die Fiëstas-verhoogproduksie vanjaar. Aan die een kant het mens soms die gevoel gekry dat die plesierigheid op die punt was om te versmelt en te vervloei in die banale en selfs die belaglike. Die soetigheid van die pasticheagtige verwerkings van bekende klassieke musiek – wat die “songs” ingelei of afgesluit het – het my van die begin af geïrriteer; maar ek is ’n enkele toeskouer en kykNET ken hulle teikengehoor. Hierdie soort soet musiek, aan die einde van nóg ’n beurtkragdag, hou die TV aan – veral as dit gepaardgaan met skaflike dans en bekwame spel deur die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van Chad Hendricks.

Dit is seker ook waarom dié musiek ’n deurlopende tema in die produksie was en uiteindelik gekulmineer het in ’n sundae-agtige hemelvaart van ’n wit engel met ’n massiewe sluier wat oopsprei oor die ganse verhoog, alles op die maat van ’n (vir my skrikwekkende) verwerking van Beethoven se negende simfonie. My indruk was dat die visuele oordadigheid aan die kortstondige oomblik van verlossing ’n sweem van desperaatheid verleen het. Die klimakse in van die musikale items was ook telkens so luid dat die klankdistorsie in die gehoorsaal steurend was en ongelukkig nie heeltemal reg aan die sangers se stemme laat geskied het nie.

Aan die ander kant was tekens van ’n “renewed freeze” sigbaar in die “In Memoriam”-gedeelte van die program, waartydens ons weer eens vermaak is met ’n klassieke treffer – dié keer genadiglik nie verwerk nie – wat bedoel was om die hartsnare te roer, terwyl donker foto’s van die gestorwenes kom en gaan op die skerm. Sommige van hierdie foto’s was só spookagtig dat dit gelyk het of die regisseur mik na die ontslape kunstenaar se onsterflike gees. Wanneer dit kom by ’n “In Memoriam”-gedeelte van só ’n program, is dit nie onredelik om te verwag dat meer sorg aan die dag gelê sou word om duidelike foto’s van ons gevalle kunshelde te vertoon nie. En waarom is dit nodig dat die kontras so voorspelbaar monochroom en ooglopend somber (kompleet met solo-koperblaas-in-kollig, “Last post”-styl) moet wees in ’n andersins kleurryke en uitspattige produksie?

Vir my is die visuele taal van die verhoogproduksie in die geheel dus oorheers deur te veel voorspelbare letterlikheid en geykte ooglopendheid – en dit is ironies, gesien in die lig van die feit dat dit die poëtiese, dikwels subtiele, taal van die teater en kuns is wat hier vereer word. Hiermee wil ek nie sê dat die produksie geheel en al letterlik was nie – die feesuittreksels byvoorbeeld het vir goeie afwisseling gesorg. Ook die estetiese hantering van die grondtema was, in die geheel beskou, besonder vernuftig, deurdag en dikwels in die kol.

Kort voor die Fiëstas het Joanna Lumley vanjaar se Baftas in Londen aangebied. Haar flou grappies en kwinkslae oor Brexit het onder andere veroorsaak dat die Guardian ’n berig geplaas het waarvan die opskrif was: “Is Joanna Lumley the worst Bafta host of all time?” By tye het dit gelyk of die Fiësta-gasheer, Bennie Fourie, in dieselfde strik as Lumley gaan trap. Sy sjarme ten spyt het Fourie se gasheertegniek, veral wat die komiese betref, nie altyd hond haaraf gemaak nie. Die grappie oor die kateders wat, geskoei op die grondtema, gelyk het soos ’n emoji van ’n hopie iets-anders-wat-ons-almal-ken, was baie snaaks, maar partykeer was die grappies so flou dat selfs die luimige gehoor nie ’n beskaafde giggel kon bybring nie.

Enige goeie sundae of parfait het sy sublieme oomblikke, en by die Fiëstas was die hoogtepunt van die aand ongetwyfeld die verering van John Kani as ’n teaterlegende. Die commendatio is gelewer deur Sandra Prinsloo, wat self ook vroeër in die aand as ’n teaterlegende vereer is (in ’n oomblik wat baie mense na die snesies laat reik het). Kani se toespraak het perfek gepas by die grondtema en in net ’n paar woorde het hy die problematiek, tragedie, hoop én potensiaal verwoord van wat dit beteken om saam in hierdie land te leef en om saam aan die grond gebonde te wees. “You’re stuck with me,” was die sin uit sy toespraak wat my bygebly het, en dit het my laat dink aan ’n gunstelingreël uit die Wachowski-broers se film The Matrix revolutions: “I’m interested in one thing, Neo – the future. And believe me, the only way to get there is together.”

Kani is ook luid toegejuig nadat hy verklaar het dat die kunste ’n onontbeerlike rol speel in die strewe na versoening, vrede en harmonie, en dit het my herinner aan Albie Sachs wat ’n paar jaar gelede in ’n onderhoud verklaar het dat die kunstenaars van Suid-Afrika die Grondwet “geskryf” het lánk voor die regsgeleerdes dit op skrif gestel het.

Ook Saartjie Botha het tydens een van haar meerdere aanvaardingstoesprake (sy het inderdaad skoonskip gemaak) klem gelê op die belang van die kunste en dank uitgespreek aan kykNET vir die kanaal se belegging in die kunste.

Diane Victor het in haar toespraak verwys na die feit dat die kunstefeeste ruimtes maak vir kuns wat nie in kommersiële galerye geduld word nie. ’n Mens spreek dus enige kritiek van die aand met gelyktydige enorme waardering uit – dit is immers die kuns wat ook die kritiek moontlik maak.

Dit was dan ook besonder gepas dat die aand, oorkoepelende wit engel en al, met ’n boodskap van hoop afgesluit is in ’n lied vertolk deur die gaskunstenaars Craig Lucas, Jo Black (wonderlike stem) en Paxton. Hoop beleef wêreldwyd vandag ’n oplewing, te midde van die verskriklike menslike verdelings, polarisasie, geweld en die versnellende verval van ons planeet – die grond is inderdaad besig om hopeloos onder ons voete mee te gee. As ’n idee, gaan die geskiedenis van hoop gepaard met ’n ambivalensie wat nie onderskat moet word nie. Die ondubbelsinnige retoriek van die Valentynsdag-Fiëstas was egter dat ons hoop in mekaar kan vind, in die feit dat ons saam op die grond is, dat ons “stuck” is met mekaar – en dat dit nie ’n slegte ding is of hoef te wees nie.

 

# Jaco Barnard-Naudé is mededirekteur van die Sentrum vir Retoriekstudie (CRhS) aan die Universiteit van Kaapstad.

The post Soos ’n parfait of ’n sundae: die kykNET Fiëstas 2019 appeared first on LitNet.

Hierdie is die vierde industriële rewolusie

KI kan vals nuus skryf en lees

Viewing all 21515 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>