Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21513 articles
Browse latest View live

NouNet: Hoërskool Driehoek-brugtragedie en veiligheid van skoolgeboue

$
0
0

Vier kinders is dood en talle ander beseer in ’n voorval by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark toe ’n betonblok van ’n loopbrug meegegee het en die brug ineengestort het.

Onderwyskenner en Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersontwikkelingstrust, Danie van Wyk, lewer kommentaar oor dié tragedie.

...............................................................................................

Kan iemand verantwoordelik gehou word vir die brugtragedie by Hoërskool Driehoek, en indien wel, wie en hoekom?

Iemand sal beslis verantwoordelik gehou móét word. Daar moet begin word by wie die brug ontwerp het en of die riglyne van die ingenieur gevolg is. Daar sal vasgestel moet word wat die ineenstorting veroorsaak het: Was dit ’n swak ontwerp of was die oorsaak swak instandhouding? Dit sal egter moeilik wees om te bepaal wie verantwoordelik is vir die ramp. Regskenners is dit eens dat siviele eise teen die Departement van Basiese Onderwys asook die Departement van Openbare Werke ingestel kan word. Die beheerliggaam kan ook tot ’n mate verantwoordelik gehou word as ’n regspersoon, want dit is deel van hul rol en funksie om te verseker dat leerders en onderwysers in ’n veilige omgewing onderrig gee en ontvang.

Is daar rede om bekommerd te wees oor die infrastruktuur en veiligheid van skoolgeboue in Suid-Afrika?

Daar behoort groot kommer te wees oor die toestand van openbare skole. Baie van hierdie skole in agterstelde gemeenskappe is 50 tot 60 jaar gelede van hout en asbes gebou. Ek besoek gereeld skole en dan sien ek die gehawende toestand en is die infrastruktuur vervalle juis as gevolg van die goedkoop materiaal waarmee dit gebou is. Skole het ’n gevaar geword vir leerders en onderwysers se veiligheid. Hierdie skole kan nie meer herstel word nie en moet dus gesloop en met nuwe steenstrukture vervang word. Die Onderwysdepartement plaas die skuld op die Departement van Openbare Werke en andersom as dit tot lewensverliese gelei het as gevolg van hierdie vervalle strukture. Daar is dus honderde skole wat in ’n swakker toestand is as Hoërskool Driehoek. Leerders en onderwysers loop elke dag die risiko van beserings en selfs die dood.

Kon die tragedie enigsins voorkom geword het, en hoe kan so ’n tragedie in die vervolg voorkom word?

Die tragedie kon voorkom geword het indien die veiligheidsrisiko gereeld in ag geneem was. Ek wil nie skuld op enige individu of liggaam plaas nie, maar die skoolhoof is die bestuurder van die skool en gereelde inspeksies van die infrastruktuur sal beslis help, en om enige skade of defekte dan onder die aandag van die skoolbeheerliggaam asook die Onderwysdepartement van Onderwys te bring. Indien gevind kon word dat die tragedie verhoed kon word deur vroeë herstelwerk of strukturele ingryping, kan die skoolbeheerliggaam strafregtelik aangekla word omdat die beheerliggaam ’n regspersoon is en siviele eise dus teen hulle ingestel kan word. Skoolbeheerliggame moet hul verantwoordelikhede aanvaar en hul mandate nougeset uitvoer. My voorstel is dat die Departemente van Onderwys, in samewerking met die Departement van Openbare Werke, onmiddellik strukturele ingenieurs na alle skole in die land ontplooi en ’n opname maak van alle veiligheidsrisiko’s wat die strukture inhou. Indien daar defekte gevind word, moet dit onmiddellik herstel word of moet geboue in sommige gevalle gesloop word. Een dood van ’n leerder of onderwyser is een dood te veel. Onderwysdepartemente sal hul begrotings moet hersien om meer fondse beskikbaar te stel om skoolgeboue te beveilig. Daar is skole wat gesloop en herbou moet word. Departemente moet onmiddellik aan die werk spring en nie wag tot ’n volgende ramp ons tref nie. Een ramp is een ramp te veel. Ons kinders en onderwysers moet veilig voel in die onderrigomgewing. Die departemente, skoolbeheerliggame en skoolhoofde mag nie hul pligte versaak nie.

The post NouNet: Hoërskool Driehoek-brugtragedie en veiligheid van skoolgeboue appeared first on LitNet.


Begrawe buite Fampoux ... en in Lichtenburg

$
0
0

Gebaseer op ’n ware verhaal

Net so na twaalf die middag klop die posman aan die deur van die Hammangesin van Lichtenburg. Johanna Hamman maak die deur oop en groet hom. Hy gee aan haar ʼn koevert wat van die telegramkantoor op die dorp kom. Johanna maak die koevert oop en die posman loop sonder om te groet. Hy weet dit is slegte nuus.

Johanna haal ʼn geelgekleurde blaadjie uit die koevert en begin lees:

Mnr. en mev. Hamman

Dit is vir ons ʼn moeilike taak om u in te lig dat u seun, Vic Hamman, op die 12de April 1917 gedurende die gevegte naby Fampoux gesneuwel het.

Beide sy Majesteit, George V, en die Eerste Minister, generaal Louis Botha, wil u graag inlig dat u seun se opoffering hoogs aangeskryf word en dat hy sy koning en sy land met eer gedien het. Ons hoop u is net so trots op hom as ons.

Ons wens u sterkte toe in hierdie moeilike tyd.

Sy stort net daar in die deur inmekaar. Haar man vind haar daar, snikkend. Hy vra haar nie wat fout is nie. Hy kan net raai. Hy neem die telegram uit haar hand en lees dit ook. “Wie de donner is Vic Hamman?” vra hy.

“Dit is die naam wat hy vir homself gekies het. Johannes, ons Wijnand is dood,” ryg sy die woorde deur die gesnik uit. Haar jongste seun is dood. Die appel van haar oog is nou ʼn gevalle soldaat iewers in Frankryk. Sy staan op en loop na die sitkamer waar haar seun se foto op die kaggelrak staan. Saggies streel sy die glas waardeur sy gelaat vertoon word. Toe die idee by haar opkom hoe swaar hy dalk moes ly, stort sy vir die tweede keer ineen en gee geen keer aan die pyn wat by haar hart uitstroom nie. Johannes het steeds by die deur gestaan. Hy wou nie voor sy vrou huil nie. Alhoewel hy en Wijnand nooit oor die weg gekom het nie, wou hy gehad het dat sy seun moes terugkom. Nou is dit onmoontlik. Dit is selfs onmoontlik om totsiens aan hom te sê.

Wijnand Hamman het sy naam opgegee as Vic Hamman toe hy vrywilliglik aangesluit het as Suid-Afrikaanse soldaat wat in Europa wou gaan veg. Hy het in Frankryk gearriveer in Julie van 1916. Drie maande later is hy tot die rang van onderkorporaal bevorder en moes hy saam met sy sersant, O’Donaghue, die troepe in sy veggroep in lyn hou.

Teen die oggend van die 9de April 1917 was Vic en sy veggroep net buite Arras. Die oggend se weer was koud en nat, maar daar was reeds tekens dat die lente op pad was. Vic kon dit sien, nie net in die natuur nie, maar ook aan die kleiner hoeveelheid whisky wat sy troepe elke nag gedrink het om warm te bly. Daardie oggend sit Vic, in ʼn nat en modderige loopgraaf, op ʼn houtbankie en maak sy bajonet skerp. Terwyl hy besig was, het een van sy makkers langs hom kom sit. Hubert Wilson was ʼn Durbaniet wat by die Durbanse hawe gewerk het toe hy besluit het om by die 2de Suid-Afrikaanse Infanterie Regiment aan te sluit. Hy was van die min Engelssprekende soldate wat met Vic kon gesels omdat hy Vic se taal tot ʼn mate geken het. Vic kon wel Engels vlot praat na twee jaar in die Transvaalse Skotse Regiment, waarin hy voor die oorlog diens gedoen het. Hy wou Wilson egter help om sy Afrikaans te verbeter sodat, wanneer hulle terug in Suid-Afrika was, Wilson beter met die Natalse Afrikaners oor die weg kon kom.

“Jy weet, Vic, ek mis die see,” het Wilson gesê.

“Seker ook die woeligheid van die hawe?” antwoord Vic.

“Net so. Ek verkies die geluid van nuwe inkomende skepe in plaas van hierdie ontploffings elke dag. As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek nooit aangesluit het nie.”

“Ek sou,” antwoord Vic kortaf terug.

“Hoe nou?”

“Dis maklik, Wilson. Ek wou nie my hele lewe in Lichtenburg bly nie”.

Wilson het Vic snaaks aangekyk. Hy het so pas eintlik vir Wilson vertel dat die Wes-Front beter vir hom is as sy geboortedorp. Vic het agtergekom dat Wilson hom verbaas aanstaar.

“Wat? Lichtenburg is nie Durban nie, Wilson. Gaan bly jy daar en dan sal jy sien hoe jou opinie ook sal verander.”

“Jy is vreemd, Vic,” is al wat Wilson kon sê terwyl hy ’n sigaret aansteek en ook vir Vic een aangee. Daar sit die twee troepe toe – hul rûe teen ʼn papnat loopgraafmuur, wagtend, soos almal, vir hul volgende bevele. Beide het geweet dit kon enige tyd kom. Die sleutel was om elke oomblik ten volle te geniet. Al kom die sersant met bevele wat jy nie wil hoor terwyl jy aan jou sigaret teug nie.

Sersant O’Donaghue, ook ʼn Durbaniet, het by die twee manne gestop en sy pyp aangesteek. Hy was ʼn veteraan van die Anglo-Boereoorlog, maar het nie sy Afrikanersoldate swak hanteer nie. Inteendeel, hy het maklik met Vic saamgewerk en hom net soos sy ander troepe hanteer.  

“Get your gear. We are moving out,” het O’Donaghue gesê toe hy sy pyp aangesteek het.

“Waarheen, Sersant?” het Vic gevra en sy sigaret doodgesmoor teen die muur.

“To a little town called Fampoux. We will be stationed on its eastern side. Spread the word.” Vic het opgestaan en so gemaak. Hy het al die manne onder sy beheer vertel en seker gemaak dat hulle gereed is om te beweeg.

Twintig minute later het almal onder leiding van O’Donaghue begin aanstap na hul nuwe buitepos by Fampoux. Niemand in die veggroep het al van die plek gehoor tot op daardie dag nie. Natuurlik het elkeen gehoop dat hul nuwe buitepos nog ʼn treetjie nader aan Duitsland was. Elkeen was steeds oortuig dat hulle binnekort die Keiser uit Berlyn sou wegjaag en die Duitsers sou dwing om oor te gee. Vic was een soldaat wat nie aan sulke lawwe praatjies deelgeneem het nie. Hy het nie enige haat teenoor die Duitse Keiser of die Duitsers gekoester nie. Hy wou net ʼn soldaat wees en nie die oorlog mis nie. Hy wou iets van homself maak en ʼn loopbaan in die Unie Verdedigingsmag was vir hom veel beter as die vervelige lewe van ʼn kaartjieknipper vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë.

Teen die aand van die 10de April 1917 was Vic en sy makkers by hul beplande punt in Fampoux. Hulle was so naby aan die Duitse magte dat hulle kon hoor hoe hul vyand in die teenoorgestelde loopgraaf vir mekaar geroep het. Die Duitsers het geweet dat dit Suid-Afrikaners was wat so pas gearriveer het en een van hulle het Sarie Marais gesing om Vic en sy manne te verwelkom. Die woorde was natuurlik nie heeltemal korrek nie, maar met die wysie was daar geen fout nie. Toe die serenade klaar was, het Wilson “Vele Dank!” teruggeskree, tot groot genot van die Duitsers. Vic en die ander soldate het ook gegiggel. “Don’t fraternise with the enemy!” het O’Donaghue Wilson tereggewys, maar self geglimlag toe hy omdraai om sy pyp aan te steek.

O’Donaghue was besig om sy vuurhoutjies in sy boonste sak te bêre toe Vic by hom aansluit. O’Donague het na Vic gekyk. Hy kon steeds nie verstaan waarom hierdie seun uit die Wes-Transvaal saam met die Britte wou veg nie. Het hyself en ander Britse soldate nie Afrikaners soos Vic se lewe minder as twintig jaar gelede ʼn lewende hel gemaak nie? O’Donaghue het self gesien hoeveel kruise daar by die verskillende konsentrasiekampe gestaan het na die oorlog. En tog, hier staan hy, ’n Brit, vandag saam met ʼn Afrikaner-onderkorporaal wat hy met sy lewe vertrou.

O’Donaghue het Vic aangesê om die manne te waarsku dat die bevele om aan te val enige oomblik aangestuur kan word. Al waarvoor die bevelvoerders gewag het, was om al die voorraad vir die beplande aanval te ontvang en onder die soldate te verdeel. Elkeen moes maar ʼn plekkie kry om te lê en probeer om soveel slaap as moontlik in te kry. Vic het die boodskap aan sy makkers oorgedra en elkeen se tyd om as brandwag te staan, uitgewerk. Toe elkeen ʼn sluk van die enigste whiskybottel in die groep geneem het, sien Vic hoe ene Parker die enigste holte in die loopgraaf vir homself toeëien. Parker was ʼn jong soldaat uit Pietermaritzburg se geweste en nie gewoond daaraan om onder die sterre te slaap nie.

Die son was nog nie behoorlik op nie toe hulle die eerste skoot hoor. Dadelik het almal opgespring en gekyk waarvandaan die skoot gekom het. Almal was op, behalwe Parker. Dié het nog op sy rug bly lê, sonder sy helm, in die holte waar Vic hom laas gesien het. Vic het homself vir Parker vervies. Die jongman was darem al twee weke in Vic se veggroep en moes al gewoond gewees het aan die klank van ʼn skoot wat afgaan.

“Ag nee, man! Parker, lig jouself uit daardie gat, man!” het Vic uitgeroep en Parker aan die skouer gepluk, maar niks het gebeur nie. Hy vervies homself toe behoorlik en tel die jongman aan die kraag uit die holte op. Dis toe dat hy sien dat Parker deur ʼn skoot in die kop getref is. Sy dooie oë het teen die kant van die oogbank gerol en bloed het stadig uit sy mond en neus gevloei. Vir ʼn oomblik het Vic geskok gestaan. Dit is toe dat die tweede skoot die stilte deurboor, Vic net-net mis en Parker ’n tweede keer in die kop tref.

Vic het Parker se liggaam laat val en homself agtertoe geslinger na waar sy makkers hom agter die naaste draai kon terugtrek.

“Sniper!” het Wilson geroep en probeer kyk waar die vabond moontlik kon wees. Hulle het geweet dat die skerpskutter nie weer ʼn skoot sou afvuur om sy posisie weg te gee nie. Die beste skut onder die manne was Charlie Warren van Ladysmith. Hy het reg langs Wilson gaan staan om te probeer kyk waarvandaan hy die skoot, so om die draai van die loopgraaf, kon afvuur om die skerpskutter te dood. Oorkant die loopgraaf se wal, het Warren drie bome sien staan. Die bome was verniel, maar het steeds tot ʼn mate beskerming gebied aan enigiemand wat dit sou waag om van daar af te skiet.

Warren het Wilson gevra om op sy knieë te staan sodat hy die loop van sy geweer op sy skouer kon rus. Dit sou Warren genoeg ruimte gee om sy loop te lig en die skerpskutter te soek. So gevra en so gedaan. Warren het stelselmatig deur die takke begin soek om te sien of hy nie die skerpskutter kon opmerk nie. Daar was nie enige blare aan die bome oor nie, maar die stamme was so dik dat ’n mens maklik agter dit kon wegkruip. Al wat Warren moes sien, is ʼn voet wat uitsteek of ʼn vinnige beweging wat die skerpskutter sou verraai.

Warren het nie lank gewag nie. Deur sy geweer se teleskoop het hy gesien hoe ʼn hand vinnig iets in ’n geweer laai en die skerpskutter links om die boom sou draai om die volgende skoot te neem. Warren was reg vir hom. ʼn Sekonde later het hy sy kans geneem en ʼn skoot afgevuur. Die skerpskutter het agteroor geval en nie weer opgestaan nie. Die manne het Warren juigend en prysend op die skouer geklop. Vic en Warren het saam afgesit na waar die skerpskutter geval het en Vic het die lyk vinnig tot binne-in die loopgraaf getrek. Gelukkig het geen Duitser die kans waargeneem om Vic te skiet toe hy die skerpskutter se lyk gaan haal het nie.

O’Donaghue het by die plek aangekom net toe Vic die lyk begin ondersoek het. Warren se skoot het die skerpskutter in die kop getref. Hy is op slag dood. Vic het die gesneuwelde skerpskutter se sigarette uitgehaal en dit in sy eie sak gesteek. Die skerpskutter se aansteker het hy vir O’Donaghue gegooi.

“Daar, Sersant. Nou hoef jy nie meer te sukkel met nat vuurhoutjies nie.” O’Donaghue het sy kop geknik en teruggeglimlag. Vic het ʼn klein boekie uit die skerpskutter se baadjiesak gehaal. Hy het dit oopgemaak en verbaas na die Afrikaanse woorde op die eerste bladsy gestaar. Verslae het hy na O’Donaghue opgekyk.

“What is it, Vic?” het die sersant gevra. Op die eerste bladsy het die man se naam gestaan.  

“Dit het behoort aan Heinrich Raubenheimer. Hy is van Heilbron in die Vrystaat” het Vic verbaas teruggeantwoord.

O’Donaghue het geweet dat daar Duitse afstammelinge van Suid-Afrika was wat by die Duitse magte in Suidwes-Afrika aangesluit het. Na sy kort verduideliking het O’Donaghue Warren beveel om die twee gesneuwelde soldate aan die medici te gaan oorhandig. Hy het Vic een kant toe geroep en hom vertel dat die kanse goed was dat hulle die volgende dag sou aanval. Vic moes die manne besig hou. Die aanvalsplan sou teen laatmiddag bekend wees.

’n Aandete van aartappels en boeliebief, en ekstra sigarette, is aan die soldate opgedis, wat aan hulle die versekering gegee het dat hulle die volgende dag sou veg. Terwyl elkeen gesit en geëet het, kon hulle hoor hoe O’Donaghue luidkeels beswaar maak teen die aanvalsplan. Wat presies hy geskree het, kon hulle nie hoor nie, maar dit was duidelik dat die sersant sy humeur heeltemal verloor het. Oomblikke later het hy by die ingang van die luitenant se kwartiere uitgebars en verder van hulle af weggestap. Hy het sy pyp opgesteek en dit op sy eie gestaan en rook. Vic kon sien sy manne was bekommerd. Al die onrus in die luitenant se kwartiere het hulle laat besef dat hul kans op oorlewing maar skraal was. Vic het hulle die belofte gegee dat hy met die sersant sou gaan praat. Hy het sy bord neergesit en na die sersant geloop.

Sersant O’Donaghue het byna geskrik toe Vic by hom aankom, so diep versonke was hy in sy eie gedagtes.

“Wat gaan aan, Sersant?” wou Vic weet. Die sersant kon Vic nie in die oë kyk nie. Hy het diep asemgehaal en die gebrande tabak uit sy pyp op die loopgraaf se modderige oppervlakte uitgegooi.

“You see those scorched tobacco leaves in the mud?”  

“Ja,” antwoord Vic.

“We will be like that tomorrow.” Vic en O’Donaghue het vir ʼn oomblik doodstil gestaan, voordat die sersant die stilte gebreek het en verder aan Vic gesê het: “Tell the men that they should be ready by 05:00.” O’Donaghue het niks verder gesê nie, maar by die loopgraaf afgeloop.

Vic het die instruksies aan sy troepe oorgedra. Die aanvalsplan was eenvoudig: Om vyfuur sou elke soldaat met ’n leer oor die loopgraaf se muur klim en oor die laagte tussen die loopgrawe van die Duitsers en hul eie loopgraaf beweeg. Enige Duitse soldaat wat kop bo die loopgraaf uitsteek, moes hulle doodskiet. Hulle moes ook weet dat daar doringdraad gespan was en dat die Duitsers direk oorkant hulle ten minste twee masjiengewere tot hul beskikking gehad het.

Vic se troepe kon nie maklik aan die slaap raak nie. Die troepe wat iets vir hul geliefdes wou sê, het hul briewe gedurende die aand geskryf en aan die kommunikasie-offisier in die luitenant se kwartiere oorhandig. Vic het aan niemand geskryf nie.

Vic het twee ure lank diep geslaap. Om vieruur was hy wakker en besonder rustig en kalm. Hy het elke soldaat individueel en saggies wakkergemaak en seker gemaak hulle is reg om oor die loopgraaf te klim. Met die lere teen die muur stewig opgerig, het elkeen kans gekry om sy laaste sigaret aan te steek terwyl hulle na Vic se laaste woorde van bemoediging geluister het. Hy het geëindig met: “Sien julle weer hier wanneer die koffie reg is!” Die manne het senuweeagtig gegiggel, maar dadelik stil geword toe sersant O’Donaghue sy opwagting gemaak het. Hy het niks gesê nie omdat hy geweet het Vic het alles gesê wat die manne moes weet. Elkeen het nou net gewag vir die fluitjie om af te gaan.

Presies op die uur is die fluitjie geblaas. Soos een man het die soldate geskree en die eerstes het die lere uitgeklim. Binne oomblikke was die eerstes op die rand. Die tweedes en derdes was op hul hakke. Dit het vir ’n oomblik gelyk na ʼn goeie begin, totdat die eerste soldate van die rand tot op die loopgraaf se grondvlak geval het. Die Duitsers was nie onkant gevang nie. Hulle het die aanval verwag en toe hulle die eerste soldate gesien het, het hulle begin om elkeen wat oor die rand klim, dood te skiet. Op die derde trap is Vic deur ʼn gewonde soldaat van die leer afgestamp. Dit was Wilson. Hy was noodlottig gewond. Oomblikke later het hy gesterf. Vic het sy geweer gegryp en weer begin klim. O’Donaghue was net agter hom. Beide het dit reggekry om tot op die rand te kom en die eerste skote wat op hulle gemik is, te ontduik. Hulle het Warren plat op die grond sien lê, die draadknipper steeds stewig in sy hand. Hy het ten minste daarin geslaag om die doringdraad te knip voordat hy doodgeskiet is. O’Donaghue en Vic het met byna elke tree ʼn skoot afgevuur in die rigting van die Duitse loopgrawe. Dit was moeilik om tegelykertyd vinnig te beweeg, te mik en te vuur.

Op ’n stadium het Vic omgekyk en probeer om sy manne en sy sersant te soek. Hy kon niemand sien nie. Dit is toe dat hy gevoel het hoe iets sy enkel gryp. Dit was O’Donaghue. Hy het gewond langs Vic gelê het en om hulp geprewel. Vic het afgebuk en die sersant probeer optel. O’Donaghue se hele buik was oopgeskiet en hy kon nie opstaan nie. Vic het sy geweer neergegooi en probeer om O’Donaghue op sy skouers te tel. Dit was die laaste oomblik wat hy enige krag in sy lyf gevoel het.

Hy het op sy knieë neergeval. Hy kon voel hoe sy bloed warm uit sy borskas en oor sy vel vloei. Hy het O’Donaghue ook laat val. Hy het stadig afgekyk na sy wond en na waar sy sersant nou morsdood gelê het. Toe het hy net voor hom uitgestaar. Hy het geweet sy tyd het gekom. Hy het nou verstaan waarom sy sersant die vorige dag so kwaad was. O’Donaghue het geweet dat die Suid-Afrikaners as kanonvoer gebruik sou word, of liewers, as teikens vir die masjiengewere. Oomblikke later het Vic se kop agteroor geruk en hy het gehoor hoe iets in sy nek breek. Hy het agteroor geval. Leweloos. Vic Hamman is vir die tweede keer geskiet; hierdie keer in sy kop. O’ Donaghue, Vic en elke troep wat onder hulle gedien het, was dood. Elkeen deur Duitse vuurkrag binne vyf minute verniel en vermorsel.

ʼn Maand later het Skotse soldate die oorskot van Vic en sy manne buite Fampoux begrawe. Kort na die sluiting van die Verdrag van Versailles kry Johanna Hamman weer ʼn brief, hierdie keer van die Britse Grafkommissie.

Soos u in kennis gestel is, Vic Hamman het gesneuwel en is begrawe by Fampoux. Hy sal in die Browne Copse-begraafplaas herbegrawe word waar u en u geliefdes eer aan hom sal kan betuig. Laat ons net weet indien u iets spesiaals op sy grafsteen wil laat graveer voordat dit opgerig word.

Om onbekende redes het Johanna egter ʼn ander plan gemaak om Vic te herdenk en oor hom te rou. In Lichtenburg se begraafplaas het sy vir Vic – of Wijnand vir haar – ʼn vollengte graf laat uitlê waar ’n mens dit vandag steeds kan sien.

Foto's met vergunning van die skrywer.

The post Begrawe buite Fampoux ... en in Lichtenburg appeared first on LitNet.

Three poems by Abigail George

$
0
0

Gnarled oak in the poet’s hands
(for Diana Ferrus and the Dutch poet Joop Bersee)

This is a song for the lover of poems. Tall
poems. Short poems. Poems written with a
quiet courage. There’s an alchemy found
there. A sanctuary called home and freedom.
I can write a poem anywhere. While sitting on a
park bench watching the day go by. Listening
to classical or opera music. Walking on the
beach. Dancing and singing with my nephews.
Look at the winter leaf. Look at how it gathers
under your bedroom window. Look at the
arrangement of light as it falls on this cool
as spring Monday afternoon. Rain nourishes

soil. The soul makes a transition from the
worldly to the earthly plane. There’s place for new life
and the old ways of the world. I’m homesick
for smoke and honey that fill the landscape
of my city. You are a song of the experience
of innocence. Of the loneliness of solitude. Of
futility. And whenever I dream of solitude or
vertigo or innocence or tenderness I think of
you. I gaze at the grass when the sky is blue.
And when night comes I gaze at the starlit night
and when day comes I try not to think of the distance
between us, thinking of Freud and man’s soul.

Autumn’s gift
(for Diana Ferrus and the Dutch poet Joop Bersee)

This pathetic frustration comes only in June.
Loneliness eats me up from the inside. From
my heart (can you believe that?). I mask it with
perfume. She paints her mouth a fire engine
red. Her nails an exotic colour that matches
the cocktail she is drinking. Hungry for her
love I fall through the sky to meet her. There’s
life even after the wreck of me was found in
the abyss. Something is forgotten. The day.
The day. The night. I hope that she drowns in

traces of the perfume I always wear. In music.
In the rooms of her house, that looks like the
pages of an interior decorating magazine. She
lives in a city on red alert. In the shadow of the
sun. She’s attractive and a victim. She wears
the scars of America and Brazil. She’s haunted
by her father’s manic depression. His misery that
he could not give her everything. As a woman 
she knows about homesickness now that’s cold
and electric. Coiled like a snake in her heart.

She’s been in love, but experienced a lot of
bad luck. She’s never married or had a serious
relationship in years. She walks differently from
the way she did when she was in high school. In those
days she was a dreamer. By this time she had
planned to have a tribe of children. A golden bear
of a husband. A true and firm example and a splendid
lion of a man. Now, her shoulders are hunched
sometimes as if she has spent the evening crying. Sometimes
she’s sad, but she always smells of perfume.

Woman studying ecology from the ground up
(for Diana Ferrus and the Dutch poet Joop Bersee)

Here’s a thought. Love. Here’s another thought.
Be kind. Accept that all children are mischievous.
It’s in their nature to be gregarious. Don’t think
about the life you could have had. This will only
make you sad and you’ve cried enough tears. You’ve
cried enough tears, enough salt for the children
that you didn’t have. The husband that never courted you,
called you, “my darling”. The husband that never

whispered sweet nothings in your ear. Know that
you’re special anyway, even though you don’t belong
to the tribe of wife and mother. Even though you
belong in a separate village. Feed on cooked fish
alone sometimes. Good bread and cheese. Red
wine and pasta. Let the erosion in your soul disperse.
Just let go, and if you’re not strong to let go of it
then surrender it to the song that the wind carries

in her heart, the bright lights of the city that you
live in now. Rain washed away tears and sins. You
wanted to know what tomorrow would bring. Just
another day. Don’t live in fear. Don’t do that. It’s
an exquisite waste of time. In your city, I know, I know
how it is. Silence can eat away at your soul. So will
all of loneliness’s fetters. You’ve cried enough tears.
I know you: when you’re silent, when you don’t say a

thing, you’re thinking of us in the same way that we’re
thinking of you. You’re missing us. We’re all, all, all
missing you. I know you know about a literal hunger. A
starvation that goes way beyond the soul. Many people
do think like that. But they won’t admit it to themselves.
They’d rather die than admit it. That there are two kinds
of pain in this world. The still life found in disorder
and the strangeness to this town make me sad. Save me.

The post Three poems by Abigail George appeared first on LitNet.

Meer as nét vlam

$
0
0

ʾn Gedig na aanleiding van die onlangse Bettiesbrand

Overberg verstik swaar aan die reuk van rook en roet
waar die ligfakkel duisend sterre versper het
en ʾn boosdoener skuldig sy hande (gemaak biddend) vou
dans vuurtonge onbeheers met grou vlerkslae
wyl ontembare oranje-goud
verstard swart littekens oor die vertes lek

skemer het ontydig in dié onheilsdag kom vou;
waar die warmwind se asem grimmig blaas
word die landskap ʾn verskrikking
doodsheid woed
oor die onmag van mens en dier
terwyl die vlammesee verdelging saai

dom mensehande
het wreed verwoesting kom saai
en soos warm sneeuvlokkies
dribbel die as en roet van bo
onderwyl seevoëls swerm en draai
luid kwetter hul oor die onreg gedoen

waar die murasie van my huis (asof in versagting) gloei
lê die puinoorblyfsels van my huis in swart en bloei.

The post Meer as nét vlam appeared first on LitNet.

Vyf nuwe gedigte deur Gideon C du Toit

$
0
0

Die koutjie

In die hoek van die voorhuis,
in die groot ruit wat uitkyk
op die stoep
en vrugteboord,
hang die koutjie waarin jy woon.

Stokkie na stokkie spring jy,
wyl jou goudgeel vere fladder
en voor jou spieëltjie gesels
jy opgewonde
oor die dag wanneer jy gaan vlieg.

Gawe hande dis jou saad op
langs vars water in ʼn bakkie,
en ruil die vuil koerant om
wat uitgelê is,
op die bodem van jou koutjie.

Vanuit jou hokkie kan jy sien
hoe vlieg die vaal voëls
daar buite ongestoord,
en vreet hulself vet
aan die vrugte van die boord.

Vanoggend het ek jou gekry
lê op die vuil koerant.
Jou kraalogies was dof,
jou geel vere roerloos
en die voorhuis is stil.

Eindelaas, kan jy ook nou vlieg.

 

Eenders

Vir my is elke mens besonder uniek,
soos elke ander mens daar buite.
Hul bly in eenderse huise met eenderse tuine
en eenderse gordyne in eenderse ruite.

Mense praat meestal eenderse praatjies
oor dieselfde eenderse twak.
Hulle maak almal eenderse grappies,
eenders flou en eenders kak.

Smôrens ry die eenderse mense
na hul eenderse hokkies by die werk.
Hulle vat tee en lunch op eenderse tye,
en drink almal hulle koffie eenders sterk.

Mense werk soos eenderse batterye,
en op vyf-en-sestig is almal eenders pap.
Hul word begrawe in eenderse houtbokse
wanneer hulle aan eenderse kwale omkap.

Dié dinge laat my somtyds wonder;
is mense eenders dom of net eenders blind?
Hoe stap almal ʼn eenderse vaal lewenspad
en eindig almal op met twee en ʼn halwe kind?

Moet tog nooit vir mense sê hulle is eenders nie
want dan word hulle almal eenders befok.
Vertel mense maar hulle is spesiaal en uniek
al moet jy dan ook nou eenders vir hulle jok.

 

Euforie

Verdraagsaamheid kom met ʼn slukkie water.
Dan roer jou kus nostalgie sonder verlange
en bring verlange sonder verdriet.

Met jou kom verdriet sonder ʼn enkele traan.
Liefde wat jy bring is sonder vreugde,
en gee my vreugde sonder om lief te hê.

Jou omhelsing is verbande vir my verlore drome.
Dit is die boei wat my verwyte gegrond hou
en my anker wanneer my wêreld wankel.

Jou bevryding hou my grootste geheime gegrendel
en eindig my nagmerrie wanneer ek gaan slaap.
Tog,
lê my nederlaag nie daarin of jy my verslaan nie,
maar in my eindelose herhaling van elk gebonde dag.

 

Rigting

Voor jy vanaand jou oë sluit,
steek tog ʼn lampie aan vir my
en brand dit heelnag in jou ruit,
dat ek my pad terug na jou kan kry
uit hierdie mergeling uit.
Want binne ʼn verwelkte hart se are,
eens gevul met lewensbloed,
lê nou opgehoop oor lang swart jare
niks anders as stof, en as, en roet.

 

Waar die hart is

In my gees is daar ʼn wegsteekplek,
waar ek kan lê en wolke tel
op ʼn goue strand met wier bedek
en sand wat vasplak teen my vel.
Dit is hier waar ek die see se sproei
tot heel onder in my longe haal,
en my houtskuit ver die diep in roei
om te vis vir vannag se maal.

Vir liefde is ek wel ʼn gewillige kneg
maar ek is ook ʼn drenkeling daarin,
dis die kettings wat my aan die lewe heg
en my nog eens my lot besin.
Dan reis my gedagtes ook weer terug
met ʼn verlange wat in my brand,
na vissies vang by die Klein-Brak brug
en na die fynbos langs die strand.

In die nadag stoot die hooggety
en spoel die water oor my spore.
En ek weet vir nou is ʼn droom verby
en vir nou is jy vir my verlore.
Dan maak ek my oë weer oop
vir die lot wat my begroet.
En hierdie stad se droë, vuil lug
word ʼn kiekie van my gemoed.

The post Vyf nuwe gedigte deur Gideon C du Toit appeared first on LitNet.

Peet Venter (1940–)

$
0
0

Sêgoed van Peet Venter:

In 1978: “Ek wil oor die mens skryf en oor die heroïese in hom. Ek wil sinvol en volwasse skryf, want ek self en my naam is onlosmaaklik aan my werk verbind.”

In 2013 reageer Peet oor bogenoemde stelling as volg: “Met die klem op ‘jare gelede’.  Toe was ek nog windgat. Maar ek het intussen grootgeword. Ek het al dinge geskryf, veral kortverhale, waarvan ek myself vandag graag sal wil distansieer. Maar dit is water onder die brug. Gelukkig is ek trots om my naam aan die meeste verbonde te hê, want hulle kom uit die siel. Elke mens kies sy of haar eie helde. Ek kies die heroïese van Victor Hugo, Ayn Rand, Bach, Mozart, Beethoven, Brahms, Da Vinci, Van Rhyn, Van Wouw, Pierneef, en ander. Die verheerliking van die ‘antiheld’ – Dostoevsky, Salman Rushdie, Etienne Leroux, Van Gogh, Picasso, Preller, ens – laat my koud. Dis nie te sê ek het in die ou dae vasgeval nie; daar is baie moderne skrywers, komponiste, beeldende kunstenaars wat heroïese werk lewer. Ja, ons het helde nodig, nie ‘idols’ nie.” (aan LitNet)

“Ek hou van die riller-genre, maar ek is versigtig om my te laat vasbind in net een spesifieke genre.” (Beeld, 2 September 1997)

In 1997: “Wanneer ek aan ’n boek werk, hou ek daarvan om in ’n styl te skryf wat in daardie stadium in my kop is. Disa DISA is byvoorbeeld nie net ’n riller nie. Daar is ook romanse in. Ek hou myself oop en wil nie vasgepen word as ’n skrywer wat net in een styl werk nie.” (Beeld, 2 September 1997)

“Die misdaadroman leen hom by uitstek tot vinnige, volgehoue aksie en spanning. ’n Mens moet jou storie ken om dit reg te kry. Jy moet jou leser binne die eerste sin of twee vasvang, en nie weer laat los tot die einde nie.” 

Hoekom die misdaadgenre? “Ek hou van dié genre, omdat dit lekker breinoefening is. En omdat dit so na aan die werklike lewe is, moet ’n mens se navorsing deeglik wees. Dit is ook die rede waarom ek huiwer om te diep ondersoek na die psige van die misdadiger in te stel. Dit is ’n baie gespesialiseerde veld, en ek het nie genoeg kennis daarvoor nie. Ek verkies om net aan die basiese innerlike van die moordenaar te raak, en sy dade verder te laat spreek. Die res laat ek aan die leser oor.” (aan Carla van der Spuy op LitNet)

“Wie is ek om my siening aan ander te wil opdring? As ’n skrywer wil derms uitryg oor moraliteit, politiek, godsdiens, dan moet hy ’n niefiksie-boek of tesis loop skryf. Afgesien daarvan dat dit weer eens oor oormatige woorde gaan, het die meeste stories die werklike lewe as verwysing. Dinge wat daagliks om en met ons gebeur, is van toepassing op die karakters en storielyn. Om dit in ’n storie totaal te vermy, kom neer op kosmetiek. Dit mag mooi wees, maar dit is vals. Laat dit met die karakters gebeur, laat hulle daaroor praat en dink, maar nie tot kotsens toe nie. Dieselfde geld vir vloek. Sommige mense vloek, of ons nou daarvan hou of nie. Punt.” (op LitNet)

“Mense vra dikwels hoekom is ek so stil. Miskien is ek tot ’n mate ’n introvert – ek weet nie. Maar dit gaan darem nie so ver as antisosialisme nie. Ek kom gemaklik met mense oor die weg, kan gesprekke voer, selfs laf raak. Ek dink dit gaan meer daaroor dat daar vir my nie eensaamheid in alleenheid is nie. Ek geniet die ‘regte’ geselskap, maar mis dit ook nie as dit nie daar is nie, want eintlik is my gedagtes die beste geselskap.” (op LitNet)

Oor kritiek: “Positiewe kommentaar en resensies is lekker, maar mens moet dit nie kop toe vat nie. Negatiewe kritiek is net so belangrik: ’n mens leer daaruit. Dit sluit natuurlik die snotterige aftakeling van sommige kritici uit. Hulle is gewoonlik dié wat woorde gebruik wat mens moet gaan opsoek, en kleinhuisiemetafore. ’n Mens leer maar so met die tyd om hulle van ’n afstand raak te sien. Die ware kritikus wys die goeie en slegte uit én staaf dit. Die ware kritikus onderrig en bou op. Die een wat ’n persoonlikheidsprobleem het, verkleineer en breek af.” (op LitNet)

Wat is die beste raad wat hy aan ’n voornemende spanningsverhaalskrywer kan gee? "Baie verbeelding. Vinnige pas. Min woorde. Laat jou karakters die storie vertel. Moet nooit jou lesers se intelligensie beledig nie." (Romanza se webwerf)

Sy skryfproses: "Ek werk nie volgens ’n raamwerk nie. Dis te beperkend. Die storie is in my kop. Ek kou ’n ruk lank daaraan, dan kom sit ek voor my rekenaar en begin bloei. Basiese navorsing doen ek vooraf om seker te maak die storie kan werk, dan doen ek detailnavorsing wanneer nodig soos ek vorder." (LitNet)

Oor die genre waarbinne hy skryf: "Apartheid was ’n onvergeeflike lelike ding. Mense is gemarginaliseer en eenkant toe gestoot. Maar feit bly staan; die mense wat vandag aan bewind is, het ’n land oorgeneem wat gewerk het en dit in minder as twee dekades gebreek. Ek is hartseer en kwaad. Ek wil mense seermaak. Die genre waarin ek skryf, is ’n uitlaatklep vir my. Anders weet ek nie..." (LitNet)

Aan Carla van der Spuy op LitNet: "Ek hou van Krige. Hy is ’n gewone ou wat net reg wil maak wat verkeerd is. Ek dink ’n 'shrink' sal seker kopkrap oor die geweldspotensiaal in so ’n man, en na sy teksboeke gryp, maar hy het nie die pille nodig nie. Hy is gevaarlik net as met hom geneuk word."

Izak de Vries meen dat Peet baie filmies skryf. Hoe kry hy dit reg? "Die maklike antwoord is, dis maar soos ek is. Maar om te ontleed: ek dink dit het te doen met my aanlegte. Verbeelding, waarneming en aanvoeling is onderliggend. Om ’n meganiese stelsel te kan ontwerp moet ek dit eers in my geestesoog kan sien. Dieselfde met karakters en hulle handelinge. Ek moet hulle kan sien, hoor, voel.

En dan moet jy verskriklik oortuigend kan lieg. Jy moet in Pixar kan lieg. Dit het ek, as die jongste van vier seuns, vroeg in my lewe geleer." (LitNet)

Gebore en getoë

Petrus (Peet) Venter is op 3 Oktober 1940 op Krugersdorp gebore as die jongste van vier seuns, met een jonger suster. Sy pa, WF Venter, was ’n predikant daar. Hulle het in 1943 na Louis Trichardt verhuis, waar hy “mens geword” het. Hy is in 1947 Op Louis Trichardt skool toe.

As die jongste van vier seuns, met een jonger suster, het Peet baie “onafhanklik” grootgeword. Hy vertel aan LitNet: “Ek dink in die sin dat my ouers hulle hande so vol gehad het met my drie ouer broers, en so in hul skik was met die dogter (uiteindelik), dat ek soort van die een in die middel was. Hoegenaamd nie afgeskeep of verwaarloos nie. Net vryer, meer op myself aangewese, wat ek glo ’n goeie ding was. Ek dink dit het my in staat gestel, miskien selfs gedwing, om myself as mens reeds in daardie vormende kinderjare te vind. Dis dalk die rede waarom ek nooit ’n ‘midlife crisis’ gehad het nie. As ek een gehad het, moes dit een nag gebeur het toe ek geslaap het. Ek kan nie onthou of ek ooit aan myself getwyfel het nie. Dit klink baie windgat, maar ek het die reg om dit te mag sê op my eie verwerf.”

In 1949 het Peet se pa ’n beroep na Pretoria-Noord aanvaar en sedertdien is hy ’n Pretorianer. Hy het sy laerskoolloopbaan aan die Voortrekker Eeufees Laerskool in Pretoria-Noord voortgesit. Daarna is hy na die Hoërskool Wonderboom, waar hy in 1958 gematrikuleer het.

Sy liefde vir die letterkunde dateer reeds uit sy kinderjare en sy ouers het hierdie liefde vroeg besef en sy verjaardaggeskenke het gewoonlik uit boeke bestaan. “Ek was van jongs af lief vir lees. My ma het my baie aangemoedig om te lees. En in ’n stadium begin ’n ou drome droom oor wat jy wil word, en ek wou ’n skrywer wees.” (aan LitNet)

Peet se eerste tree op die skrywerspad het hy in standerd vyf gewaag toe hy ’n pryswenner was in die jaarlikse opstelwedstryd wat die destydse Suid-Afrikaanse Vlootbond gereël het, maar hy het eers later ernstig begin skryf.

Verdere studies en werk

In 1959 skryf hy in by die destydse PU vir CHO (vandag Noordwes-Universiteit) op Potchefstroom vir die BMus-graad aan die Konservatorium vir Musiek, maar slaan in sy tweede jaar oor na die natuurwetenskappe.

In 1964 het Peet as tegnikus in diens van die destydse Departement van Landbou-Tegniese Dienste getree en in 1971 het hy as ontwerptegnikus by ’n raadgewende ingenieursfirma in Pretoria aangesluit en was later daar werksaam as medewerker in die meganiese spesialiteitsrigting.

As ingenieur was Peet betrokke by baie groot projekte. Izak de Vries (op LitNet) wou by hom weet hoe hy voel as hy by een van hierdie bakens waaraan hy gewerk het, verbyry. "Ek wonder hoeveel mense besef wat alles in geboue aangaan om dit te laat werk. Die argitek ontwerp die sigbare onderstel en bakwerk. Die bouer bou dit. Ons, die ingenieurs, sit die enjin in, die wiele aan, die ontstekingstelsel, laat dit werk. Dis vir my soos ’n monument wat ek vir myself gebou het, maar net ek weet daarvan omdat dit vir ander meestal onsigbaar is. Dit maak die trots net soveel meer intiem. Soos in, ek weet wat ander nie weet nie, sien. Nie vermakerig bedoel nie. Dis net … spesiaal. My eie. Mense aanvaar die hysbakke, roltrappe, lugversorging, elektrisiteit, kommunikasie, water, riolering, brandbeveiliging as vanselfsprekend. Hulle is reg. Maar ek weet ek het dit daar vir hulle gesit – vir hulle gemak en veiligheid. Daar is dinge waarvoor geld nie kan betaal nie."

Izak wou ook weet watter ingenieursprojek staan vir hom uit as hy oor sy loopbaan moes terugkyk. Hierop was Peet se antwoord: "Oor ’n loopbaan van bykans 50 jaar vergeet ’n mens noodwendig heelwat van wat agter lê. Deels omdat nie almal 'monumentaal' was nie, deels omdat daar voortdurend nuwe uitdagings voorlê. Die een wat my die naaste aan die hart lê, is die Staatsteater in Pretoria. Dis nie ’n gebou wat mense insluk en agt, of meer, ure se werk van hulle vereis nie. Dis ’n plek wat mense verwelkom, hulle gemaklik laat voel, en ’n paar uur se genot aan hulle verskaf, iets mooi vir hulle gee; soos ’n elegante gasvrou."

Peet se eerste roman, Die alleenlopers, is in 1978 by Perskor gepubliseer. Dit is beskryf as ’n sterk verhaal wat sentraal staan in Suidelike Afrika van 1978 met sy onstuimige agtergrond. Anton Vermeulen met sy soeke na sy pa en na homself is die hoofkarakter. Sy oupa en ouma het hom grootgemaak en volgens hulle is hy die gevolg van sy ma se verkragting. Sy grootwordjare was nie normaal nie en sy hele lewe het hy gewy om sy identiteit te vind.
Hy bekwaam hom as advokaat en skei later van sy vrou. Hy gaan na die noorde van die destydse Transvaal  nadat hy gehoor dat sy pa dalk ’n jagter daar kan wees. Hy wil met sy pa afreken en daarna met homself.

En dit is hier waar die avontuurverhaal sy loop begin neem: daar is twee mooi meisies, ’n wapensmokkelaar, ’n klomp swartes wat in opstand wil kom. Die alleenlopers is Anton en die terroris, Omata Oshinga.

Vir PH Roodt (Die Transvaler, 9 September 1978) het die verhaal ’n lekker avontuurverhaal geword, maar die verteller was baie geneig om te diep te raak, veral as dit kom by die teken van Anton se karakter, Die uitbeelding van Omata en die stam het meer oortuiging gehad en die leser kon sien dat die skrywer die swart man goed ken. Roodt beskou die vertelling in daardie dele van die boek is behendig en dit het hom geboei. Dit was vir Roodt duidelik dat Venter dit wat hy het om te vertel, heeltemal goed doen, maar die storie sou baat gevind het by beter redigering, aangesien daar ’n klompie struktuurfoute is.
Peet het lank aan Die alleenlopers gewerk, meestal snags, want hy is ’n besonder veelsydige mens. Sy skeppende talent begin en eindig nie by skryf nie: hy skilder graag en doen ook baie goeie beeldhouwerk. Die indrukwekkende gedenkpaneel in Delmas se stadsaal was sy handewerk en sy skilderye is ook baie gewild.

Terwyl Peet ’n intense belangstelling in die werk van die groot filosowe, van Plato en Aristoteles tot Nietzsche, het, het hy ook ’n besondere voorliefde vir motorfietse en een van sy grootste plesiere was om teen 200 km/h op ’n groot fiets te jaag (dit was in 1978).

Hy het in Ayn Rand die antwoord gevind op sy lewensfilosofie wat so deur die jare opgebou het. Sy het ’n besliste invloed op sy werk gehad.
’n Verskeidenheid van sy kortverhale het onder andere in die tydskrif Keur verskyn, asook in bundels wat deur JP van der Walt uitgegee is, soos NaglopersKortetjies vir die katelVangnetDie goeie getyBloudrukDrif en Dwalers.

Na die publikasie van Die alleenlopers in 1978 het 17 jaar verloop voor Peet se tweede boek in 1995 verskyn het onder die titel Die reuk van rose in JP van der Walt se Speur-/Spanningsreeks.

Die reuk van rose het ’n baie interessante intrige. Drie dienspligtiges ry duim huis toe met ’n naweekpas en die leser kom baie gou agter dat ’n reeksmoordenaar hulle gaan vermoor. Maar die rede daaragter is nie baie duidelik nie. En hier verskyn die uiters bekwame speurder, Thys Krige, en sy sexy en slim vrou op die toneel. Hulle moet agter die kap van die byl kom. Om alles nog verder te kompliseer, word ’n wit roos by elke lyk gelaat. Nog hulp daag op in die persoon van Renier Rossouw, ’n professor in sielkunde, en gebeurtenisse loop ’n aardige draai.

Dieper as die bloed (1996) is ’n vervolg op Die reuk van rose, maar die twee kan ook  onafhanklik van mekaar gelees word.

Nog ’n spanningsverhaal uit Peet se pen, Disa DISA, verskyn in 1996.

Die milieu vir Disa DISA is die Knysna-woud. Matt le Roux gaan terug na die erfplaas Donkerhoek om dit weer ’n spogplaas te maak, maar Matt kry met baie geheimsinnige probleme te doen. En hy glo amper vas dat sy eie broer, Jean-Roux iets daarmee te doen het. Daar is kwessies soos moorde wat onopgelos is, aanrandings, skelmheid en boonop manipuleer Jean-Roux mense op so ’n manier dat Matt weet daar nie net ’n stryd tussen goed en kwaad daar is nie, maar dat daar ook ander duistere dinge aan die gang is.

Volgens Marianne Breytenbach (Keur, 4 Oktober 1996) sal lesers wat van okkultiese ondertone in hul leesstof hou, van Disa DISA hou. Elk van die 448 bladsye spreek van jare se beplanning, navorsing, oordenking en herskryf. Maar dis nie ’n mak boek nie. Benewens die okkulte is daar ook effe kru taal en ’n warm sekstoneel of twee.

Oor Disa DISA het Peet in 1996 by die Leeskringseminaar op Welkom die volgende gesê (Volksblad, datum onbekend): “Die onderstroom van Disa DISA kan met die eerste interpretasie gesien word as die ou konflik tussen goed en kwaad. Hoewel dit basies reg is, is dit nie volledig nie, en miskien ietwat simplisties. Die onderstroom van die onderstroom gaan oor daardie mistieke, daardie instink wat in die mens was van sy vroegste, primitiefste bestaan as denkende wese, en waaruit juis die begrip van goed en kwaad ontstaan en ontwikkel het – eers as net ’n heel grondige onderskeid tussen wat as mens teenoor mens in ’n samelewing reg of verkeerd is, tot wat ons vandag ken as ’n uiters verfynde en verweefde etiese en morele kode.

“Ek het in Disa DISA die mistieke nie alleen doelbewus grondliggend tot konflik gemaak nie, maar dit ook as die samebindende faktor probeer gebruik, nie alleen tussen die versoenbare nie, maar ook tussen die konflikterende.

“My keuse om van Disa DISA ’n lekkerleesstorie – maar geensins ’n oppervlakkige een nie – te maak, was nie gegrond op ’n vrees vir of onvermoë tot die swaar filosofiese werk nie. Ook nie op die feit dat dié genre al redelik holrug gery is nie.

“Ek het my om verskeie redes weerhou om die bose met die taamlike tradisioneel mistieke onderstroom, in direkte konflik te plaas met byvoorbeeld ’n sterk teenstellende Christelike oortuiging. Die groot rede is dat die Christelike of enige ander aanvaarbare godsdienstige geloof, ook maar ’n sterk mistieke onderstroom het. Sou ek die twee teenoor mekaar stel, sou ek maar net die konflik verdiep het na die mistieke vlak.

“Daar is rillerelemente, want ons leef in ’n riller. Daar is humor, vreugde en tragedie, en ook witwarm seks en tere romanse. Daar word skreiend gevloek. Wat kan ek sê? Dit is nie my skuld as mense so lelik praat nie. Ek is maar net ’n eerlike skrywer. Daar word gelieg en bedrieg, en daar is rugstekery, want die politici sal maar altyd met ons wees.”

Disa DISA het groot genot aan F Vorster (Onse Angeltjie, November 1997) verskaf in die opsig dat dit ’n afwisseling bied van die meeste destydse werke wat primêr om die politieke situasie verweef was. ’n Aanhaling uit Raka van NP van Wyk Louw waarmee die roman open, dui op die ou-ou tema tussen goed en kwaad wat hier uitgebeeld word. Liefde speel uit die aard van die saak ’n belangrike rol as daar probeer word om die bose te bowe te kom.

Die legende van die enkeltweeling met die tweelingsiel waar ’n tweeling by geboorte geskei word, word in die voorwoord vertel en so word die agtergrond aan die leser geskets. Een van die tweeling word as offer gebring en dan gaan die siel van die geofferde binne in die oorlewende in.

Nog ’n daarstelling van die invloed van die legende op die karakters is naamgewing. Sekere limitasies soos talent, liefde wat onbeantwoord bly, wellus en moordgenot veroorsaak dat al die karakters in die verhaal op ’n manier vasgevang word. Dan in die epiloog slaag Venter daarin om al die los rafels tot ’n eenheid saam te snoer en word daar ook geleentheid geskep vir ’n opvolg.

’n Bundel ligte kortverhale getiteld Die koeël is deur die kerk word in 1997 gepubliseer. Hierin herroep ’n predikantseun sy kinderdae, tot groot vermaak, skryf Jeanette Ferreira (Leeftyd, Desember 1997-Januarie 1998). ’n Komiese toneel word partykeer ’n bietjie uitgerek sodat dit nie meer so goed tref nie. Venter skryf met groot empatie oor sy karakters en dit is wat daartoe bydra dat die verhale sulke heerlike humor bevat. Hy skryf oor swakhede en wense van mense wat eie is aan die plattelandse, Calvinistiese kultuur. Daar is lesers wat dalk kan eksepsie neem oor seksuele sinspelings of die gebruik van kragwoorde, maar dit bly alles in ’n goeie gees.

Henk van de Graaf (Die Patriot, Julie 1997) meen dat Venter die vermoë het om uitdrukkings en woorde nuwe betekenis te gee en dat sy manier van stories vertel, pittig is. Volgens Van de Graaf is Die koeël is deur die kerk ’n aanwins vir die boekrak.

Thys Krige, die speurder van Die reuk van rose, maak in latere boeke van Peet weer sy opwagting, soos in Nag van die narre, waar hy weer met ’n reeksmoordenaar te doen kry – hierdie keer is die toneel vir hierdie lekkerleesriller ’n universiteitskampus en al die slagoffers is studente.

By die universiteit se mediese skool wag die eerstejaars snags angstig vir nog ’n sarsie in die ontgroeningsproses, wanneer senior studente, almal gesigloos agter klapmusse, soms genadeloos op hulle toeslaan. En sommige knak onder die aanslag. In die kliek van die uitgesoekte seniors is die sogenaamde narrekring, waar dinge soms te ver gevoer word. Dan kap iemand terug en van die narre word vermoor.

Met die honderdste herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 publiseer Van der Walt Peet se Vlieg, duifie, vlieg!. Dit handel oor die Villiers-gesin van Boesmanskloof naby Aliwal-Noord wat deur omstandighede buite hulle beheer in die Boere se stryd teen die Engelse ingedwing word. Dis ’n oorlog wat die gesin uitmekaar skeur en Chrissie Villiers weerloos laat teen groter vyande as die Britse soldate op die vernielde Boesmanskloof.

Chrissie word, soos baie ander Afrikaners in die Kaapprovinsie, vasgevang in die oorlogsnet. Toef Taljaard wil nie gaan veg nie, want dis nie die Kaapse Afrikaners se oorlog nie. Marcel gaan wel, en Jan Lotriet weet wat hy wil hê – in oorlog geld verraad ook. Maar op die ou end lei alle paaie terug na Chrissie. Dit is ’n opwindende historiese roman met genoeg romanse en avontuur om lesers te boei en wat goed aansluit by die res van die lektuur oor die Anglo-Boereoorlog.

Met In kringe: ’n verhaal in drie stemme wat in 1999 gepubliseer is, het Van der Walt Uitgewers ’n interessante eksperiment gedoen. In 1956 verskyn GA Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die Vuurpyle Vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die Lewe verskyn.

Volgens Joan Hambidge (Die Burger, 22 Desember 1999) is die verhaal oerbekend: “’n Man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus ’n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.”

Hambidge skryf verder dat die waarde van die novelle in die vermoë lê om subteks te hanteer. “Onder meer die kernpassasie wanneer die hings getem word, en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies.’n Mens lees jou soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat ’n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.

“Tipies postmodernisties antwoord twee ander skrywers Watermeyer, en die publisiteitstuk wil dan Watermeyer tot Douw verklaar; Estelle Marais tot Myrna; en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.Hambidge meen dat puriste waarskynlik die piep sal kry, maar dat dit tog ’n interessante literêre eksperiment is. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag vol te hou, moet die leser self besluit.

“Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om vanuit ’n psigoanalitiese perspektief te ontleed) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. ’n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met ’n ongeskonde oog kan lees nie. (...)

“Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit ’n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die Oedipale struktuur (die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by ’n jong student. Sy is weer, op haar beurt, verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees. 

Die bloedskendige word hier geaktiveer, en volgens Freud is dit onderliggend aan die sogenaamde ‘familieromanse’ wat gebaseer is op Sofokles se Koning Oedipus.

“Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel, en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser (en hier by name Hambidge) met ’n rooi pen sit en tik-tak. Kan iemand nie asseblief ’n embargo op die woord ‘bruusk’ plaas nie? Om nie te praat van ‘honger’ nie!”

Hambidge betreur dit dat ’n vertelling waarmee soveel gedoen kon word, nie tot sy reg gekom het nie. Dalk sou ’n beter redakteur In kringe kon gered het. Maar daar is ook positiewe wat hieruit kan spruit. ’n Student wat werk aan ’n postmodernistiese projek, kan hierdie aanhangsels bestudeer. Ook kan diegene wat navorsing in gewilde fiksie doen, kyk na die taalgebruik en die “leë metaforiek van liefdesverhale” nagaan, aldus Hambidge.

In 2001 is twee van Peet se verhale opgeneem in 3 van die bestes, saam met François Bloemhof se Vrou in die maan. Peet se stories was As die regters swyg onder sy eie naam en Diep moord onder die skuilnaam Tom Weiss. As die regters swyg is nog ’n Thys Krige-storie met ’n dwelmagtergrond, terwyl Diep moord se hoofkarakter ’n skisofreniese vrou is wat ’n appeltjie of twee, drie, vier te skil het en sy het ’n unieke manier om daardie appeltjies te skil. (aan LitNet)

Peet se volgende boek word eers weer in 2009 gepubliseer. Met Slang – die onbesonge held bied Venter heerlike ligte vermaak en word die verhaal van Slang Slabbert, die onbesonge held, op kostelike wyse vertel. Hy is eintlik Josias Slabbert gedoop, maar omdat hy haarloos gebore is en so geruisloos beweeg het, het almal hom Slang genoem.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was Slang in sy twintigs en ’n goeie skut, ruiter en ’n uitstekende verkenner. Maar hy kon nie op kommando bly nie. Die kommandant het hom huis toe gestuur na sy weduweema Sanna toe. Die rede ...

Die kommandant het hom vir die nag ingerig onder sy velkombers. Hy het pas sy snorkritme gekry toe hy, soos in ’n droom, bewus word van ’n tweede teenwoordigheid saam met hom onder die kombers ... 

“Naand, Oom,” sug Slang vertroulik in sy oor. 

“O, jou ... se ...!” gil die kommandant. Hy glip onder sy kombers uit soos ’n katowadruif uit sy dop. “Slang!’ gil hy van waar hy etlike treë verder in sy flennie-onderbroek en hemp staan. 

“O, jou ... se ...!” koor die manne. “Wáár, Kommandant?” terwyl hulle so in die donker na gooibare klippe soek.

Ter wille van die verdere ordelike historiese verloop van die oorlog is Slang toe maar huis toe gestuur. En dis eintlik dáár waar sy heldhaftige en onverskrokke dade ’n Skot se hele lewensverloop verander het en die Boerkrygers een van die treffendste veldslae gelewer het. (Uitgewers se inligtingstuk)

Peet het in 2012 Die reuk van rose en Dieper as die bloed saamgevat en herskryf en LAPA het dit uitgegee onder die titel Dieper as die bloed. Dit is op versoek van die uitgewers gedoen. Die storielyn is aangepas en Thys Krige is herskep. Peet wou ’n held hê wat ’n diep en donker plek in hom het waar boosheid broei. Die speurder in ’n gelukkig huwelik met ’n beeldskone vrou het net nie gewerk nie. Hy het ’n gebroke huwelik oorweeg, maar besluit dat dit darem te tipies Amerikaans is. Krige het net ’n alleenloper geword met sy twee Jack Russels en innerlike konflik met die donker plek in hom. Nog ’n handsome en cool ou, maar hy kyk nou met ander oë na mense, en homself. (aan LitNet)

In Dieper as die bloed is Thys Krige se dryfveer die onopgeloste moord op sy pa. Die enigste leidraad wat hy het is iemand wat hy daardie aand vlugtig naby die toneel gesien het, en die woorde wat die man vir hom gesê het: “Kyk dieper as die bloed.”

Sy ondersoek na die moord op twee sakemanne lei Krige na die onopgeloste moord op ’n model. Hy krap ’n misdaadsindikaat van korrupte sakemanne en senior polisie-offisiere oop; mense wat hulself as bo die wet beskou; mense wat nie skroom om wie in hul pad kom uit die weg te ruim nie.

In die proses kry Krige oproepe van ’n geheimsinnige persoon wat nie alleen sy vordering met die ondersoek dophou nie, maar ook duidelik baie van hom weet. In hul gesprekke sê die man by herhaling vir hom: “Kyk dieper as die bloed.” (Uitgewers se inligtingstuk)

Ou bloed wat in 2013 gepubliseer is, is nog ’n Thys Krige-storie waarin hy uiteindelik na vyftien jaar sy pa se moordenaar(s) opspoor.

Ou bloed is ’n opvolg van Dieper as die bloed en hier kan die leser lees van Thys Krige se soektog na sy pa, Albert, se moordenaar, maar die storie is meer ingewikkeld. Daar is ’n moord op ’n landdros en ’n pastoor wat ’n raaisel blootlê. Krige kom tot die gevolgtrekking dat die moordenaar bekend is en dat dit dieselfde man is wat in Dieper as bloed hom gekontak het.

Die mans wat vermoor is, was pedofiele en die storie word meer spannend met wraakmoorde, pedofilie en kinderhandel. Krige moet leidrade wat die moordenaar spesifiek vir hom gelos het, bymekaarbring. Die moordenaar wek wel simpatie by die leser omdat hy net pedofiele teiken. Maar Krige laat homself nie toe om sy soektog te verslap nie, want moord is moord.

Riaan Grobler (Die Burger, 16 Junie 2013) skryf: "Hoewel baie spanningsromans dikwels resepmatig en futloos kan wees, bevat Ou bloed meer as genoeg kinkels en die oorspronklike storielyn, interessante tema en goeie tydsberekening sorg vir ’n uiters spanningsvolle leeservaring."

Teenoor Carla van der Spuy (LitNet) beskryf Peet vir Krige as volg: “Hy maak mense dood, maar hy maak die regte mense dood; om sy eie lewe te beskerm. Die feit dat hy nie veel daaroor wroeg nie, is een van die dinge waarmee hy innerlik stoei. Sy pa was ’n harde, genadelose man wat oor mense geloop het om te kry wat hy wou hê, maar hy het darem nie so ver gegaan om mense dood te maak nie. Is hy soos sy pa, maar net op ’n bloedige manier? Is gewelddadigheid deel van sy psige? Is daar ’n diep, donker plek in hom waar boosheid broei?”

Ou bloed is aangewys as LAPA Uitgewers se Lekkerlitboek vir Augustus 2013.

Vir Madri Victor (LitNet) is Ou bloed  ’n uiters boeiende en vermaaklike misdaadroman. "Die leser kan dalk aardig voel oor die tema van die boek, maar gelukkig is geregtigheid op die ou end die wenner. Die reeksmoordenaar neem namens die leser wraak, maar die leser mag maar saam met hom voel. En die besluit at Krige uiteindelik moet neem en die feit dat hy nie gemaklik is met alles wat hy tydens die ondersoek gedoen het nie, maak dat die leser heelwat vrae het. Dit veroorsaak dat die leser uitsien na ’n opvolg van Ou bloed. En dit is die toonbeeld van ’n suksesvolle misdaadroman."

In 2014 verskyn Waar boosheid broei en in hierdie verhaal staan Thys Krige weer vierkantig in die booswigte se pad. In Waar boosheid broei ondersoek Krige ’n organisasie wat vir menseslagting verantwoordelik is.

In Die Burger (30 Junie 2014) vertel Riaan Grobler verder oor Waar boosheid broei: "Soos dit met hierdie tipe verhale gaan, is daar verskeie kinkels en Krige bevind hom onder meer in Zimbabwe om die aanhouding van die joernalis Henk Human te ondersoek. Hy kom af op ’n video wat Suid-Afrikaners in ’n menseslagting impliseer en hy volg die spoor terug na Suid-Afrika, waar die polisie se misdaadintelligensie by die ondersoek betrokke raak. Die joernalis Robyn Arendse se reeks artikels oor kindersmokkelary sorg vir ’n verdere kinkel, veral wanneer dit blyk dat haar lewe in gevaar is. Hugo Mentz, ’n kennis wat sy op Twitter ontmoet het, bied aan om haar te beskerm op sy plaas en só begin die spanningslyne verstrengel raak.

"Venter sorg weer vir ’n boeiende speurverhaal waar die leser nie vinnig genoeg kan omblaai nie."

Op LitNet is Jonathan Amid net so komplimentêr oor Waar boosheid broei: "Krige is ’n bloedhond, ’n man van min woorde. Teen die einde van Ou bloed weet die leser alte goed dat ons hier met ’n besonderse tipe antiheld te doen het, een wat tot die einde sal stoei met die boosheid in homself en die boosheid wat oral om hom ’n verskyning maak. Hierdie uitmergelend-lekker misdaadroman het egter uitgeroep om ’n vervolg, die derde in die Thys Krige-reeks, en dis waar Venter vir lesers sy mees mistroostige, donker en genadelose meditasie op die bose bied: Waar boosheid broei. (...)

"Venter wil die leser se vermoë om tussen reg en verkeerd, goed en kwaad, boosheid en goedheid te onderskei, met ’n besliste aanslag omverwerp en beproef.

"Aangesien Venter reeds teen dié tyd vir lesers ’n presiese padkaart met sy vorige romans gebied het van wat om te verwag – verwikkelde spanningslyne, ’n uiters onheilspellende atmosfeer, oortuigende, fyngepoleerde dialoog, klipharde en meedoënlose sielkundige beskouings van die bose, ’n getraumatiseerde dog hardgebakte protagonis wat sukkel om iets meer te doen met sy seksuele verhouding met die verslaggewer Robyn, ’n fyn aanvoeling vir nuanse wat menslike gedrag betref, en die bereidwilligheid om karakters tot op breekpunt te dryf met geloofwaardige dog moeisame fisieke en veral sielkundige uitdagings – sal dit deug om hier slegs te noem dat Venter 'meer van dieselfde' vir sy lesers bied.

"Dis egter besonder opvallend presies hoe genadeloos die teks Krige se sielkundige aftakeling met baie kort, kragtige sinne weergee en op ’n uiters minimalistiese dog geslypte vertelstyl staatmaak. Waar Ou bloed meer afwisseling gebied het, is Waar boosheid broei op die man af, uitdagend en seningrig gespierd in sy benadering. Dis dalk net genoeg om menigte lesers onder hul kussings te laat inkruip, en om ’n tikkie ligte humor hier en daar te smeek, maar vir ’n genre-hardebaard soos ek was dit baie geslaagd.

"Ons het hier met meer as net genre-vermaak te doen. Daar is weinig kans vir die leser om asem te skep soos wat Venter die spreekwoordelike vuishoue op die leser laat reën. Etiek, moraliteit en geregtigheid, tesame met die aard en betekenis van die bose, is die gewigtige onderwerpe wat hierdie gerekende skrywer geslaagd ondersoek. Hierdie keer is dit dalk nie so ’n grusame en brutale geestesaanslag soos die geval was met Ou bloed, waar Krige se familie-intrige dalk tog daardie ietsie ekstra bied wat nie altyd hier te bespeur is nie, maar Waar boosheid broei is steeds ’n roman wat sielkundige ondersoek en sosio-politieke kommentaar net so hoog ag as om lesers te vermaak. Glad nie maklik nie, maar hier is die stryd gewonne."

Peet Venter stel nie sy lesers wat gereeld ’n nuwe boek uit sy pen verwag, teleur nie. In 2015 verskyn die volgende Thys Krige-verhaal getiteld Plasenta. In Plasenta bring die skrywer baie van die drade wat in vorige boeke agtergelaat is, bymekaar.

Krige se motief in Plasenta is weer persoonlik wanneer hy begin ondersoek instel na sy halfsuster wat 15 jaar tevore verdwyn het. Ook moet sy meisie, Robyn, se dood ook verklaar word.

"Krige se ondersoek is besaai met eksotiese karakters, plekke en raaisels wat die leser boei, terg en fassineer," skryf Riaan Grobler in Die Burger van 16 Mei 2015. "Op die spoor van ’n Turkse sluipmoordenaar maak Krige ’n draai in Maputo - die plek vanwaar hy vermoed sy suster na Pakistan ontvoer is. Daarna is dit Ciprus waar Krige deur booswigte gevange geneem word, en dit is hier waar die leser en Krige behoorlik begin kopkrap. Veel meer wil ek nie oor die verhaal self sê nie, anders gee ek die hele ding weg, want die merkwaardigheid van Plasenta – soos met Venter se vorige werke – is die ekonomie waarmee hy skryf. Dis ’n ou skrywershand wat hier besig is, want elke sin en gebeurtenis is geweeg en gestroop van enigiets oorbodig.

"Naas (Deon) Meyer is Venter my gunsteling-spanningsromanskrywer. Maar waar Meyer se boeke soos ’n hoofstroom-polisiereeks op TV voel, is Venter se skrywes eerder donker, broeiende rillerflieks. Meyer se Bennie Griessel is ’n Huisgenoot-held terwyl Venter se Thys Krige soos ’n gebroke Gotiese strokiesprent-antiheld dié randfiguur van die spanningsromangenre in Afrikaans geword het."

Op LitNet sluit Madri Victor haar resensie oor Plasenta as volg af: "Plasenta is die hoogtepunt van Venter se Krige-reeks en ’n adrenalien-rush. Dis naelbytlekkerte, beter as enige aksiefliek, met Thys Krige as ’n tipiese James Bond in die hoofrol. Dit vra vrae oor reg en verkeerd, waar die grense van etiek en moraliteit is en of  ’n mens jou optrede kan regverdig mits jy dit met 'suiwer' intensies doen. Peet Venter posisioneer hom met hierdie reeks in die groep briljante krimi-skrywers in Suid-Afrika. Vergeet maar van fliek by Ster Kinekor – jy sal Plasenta in een sitting wil deurlees en veel meer plesier daaruit kry."

Later in 2015 word Lem gepubliseer en stel Peet ’n nuwe karakter, Lemmer Bosman, ook bekend as Lem, aan sy lesers bekend. Hy is ’n lid van die destydse weermag se spesiale magte. Ná 1994 sluit hy by ’n sekerheidsfirma aan waar hy betrokke raak by ’n onwettige staatsgreep in Botswana en nadat dit skeefgeloop het, beland Lem in die tronk.

In die tronk besef hy dat hy ingeloop is en ná sy vrylating het hy net een doel voor oë – om diegene wat hom te na gekom het, op te spoor en te laat betaal daarvoor.

Sterk vrouekarakters kom in hierdie verhaal na vore: Fleur Bloem, ’n blommeboer wat vir Lem onder haar vlerk neem na sy ma, ’n dwelmverslaafde en prostituut, se dood; Irma Storm, ’n verslaggewer wat Lem se lewensverhaal op papier wil sit; en adjudant Christine Watts, ’n speurder.

Op Romanza se webwerf vertel Peet meer oor die inspirasie agter die ontstaan van Lem: "Ek werk selde op inspirasie. Ek kry ’n storie in my kop, en skryf hom. In Lem gaan dit oor die individu teen die samelewing. Ek veronderstel dit kan as ’n bron vir inspirasie gesien word, want ons sit maar almal in dié posisie."

Om geloofwaardige vrouekarakters te skep was een van die moeilikste aspekte vir Peet by die skryf van Lem. "Synde ’n man, is dit maar altyd moeilik om vroulike karakters geloofwaardig te maak. In Lem se geval was dit die drie, Fleur Bloem, Irma Storm, en Christine Watts. Veral met Christine was dit moeilik om haar emosies en frustrasies as vrouespeurder in ’n omgewing wat deur mans oorheers word vas te vang."

Romanza wou ook weet oor die verskille én ooreenkomste tussen Lem en Thys Krige. Hierop antwoord Peet: "Vir my sal Lem Bosman en Thys Krige alleenlopers bly. Dit, en die feit dat hulle mense doodmaak, is die enigste ooreenkoms. Die grootste verskil is dat Krige ’n man met ’n missie is, en niks keer hom nie. Lem, daarenteen, wil net sy gebreekte lewe weer aanmekaar sit."

Riaan Grobler beskryf Lem as ’n verhaal wat boei met veral sterk vrouekarakters en wat gemaklik lees. "Daar is min ooreenkomste tussen Lem en Thys Krige, maar wat vreemd is, is die ooreenkomste tussen Lem en Deon Meyer se karakter, Lemmer. Dieselfde naam, albei oudsoldate, albei was in die tronk ... Maar dis waarskynlik toevallig.

"Venter is ’n gesoute skrywer wat ’n verhaal met verskeie kinkels en storielyne naatloos aanmekaar kan flans. En Lem is ’n sout-van-die-aarde-karakter by wie vele lesers aanklank sal vind."

In 2017 is Peet terug op die boekrakke met Brand en hierdie slag is Thys Krige weer aan sy sy. In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet vertel Peet ’n bietjie meer oor die storie. Die kern van die verhaal is die politieke toestand in Suid-Afrika wat self soos ’n riller lees. "Die pres en sy kliek besef  hulle tyd om te roof raak min, maar hulle wil so lank as moontlik aan die mag klou. Hulle beraam ’n makabere plan om die reeds gespanne toestand in die land uit te buit en dit onregeerbaar te maak. Dan kan hulle ’n noodtoestand afkondig, die weermag ontplooi, die parlement ontbind en die grondwet opskort. Krige raak deur die geheime eenheid waaraan hy verbonde is, betrokke.

"Hy kom gou agter dat hy met magtige mense te doen het wat nie huiwer om dood te maak ten einde hulle doelwit te bereik nie. Dit raak persoonlik vir hom toe die twee mense met wie hy saamwerk koelbloedig vermoor word. Met die hulp van Delaré Brand, ’n rekenaargenie, ontrafel hy die komplot en kom so agter dat Sjina ’n hand daarin het omdat dit hulle imperialistiese planne pas. In die verband trek ek ’n vergelyk tussen staatskaping waarop almal so gefikseer is, terwyl sagte kolonisasie stilweg ongehinderd voortgaan agter die skerms van BRICS-handelsooreenkomste wat veral Sjina en Rusland se ekonomiese greep op Suid-Afrika verstewig."

Die prikkel vir die roman was die agteruitgang van basiese onderwys en gesondheidsdienste," vertel Peet aan Naomi Meyer. "Ook die fiasko rondom staatstoelaes. Life Esidimeni. Vra jouself af hoeveel die mense in beheer voel vir die swaarkry en lewens van gewone mense. ’n Mens kry die indruk dat dié wat aangewese is op staatsbystand vir hulle net ’n lastigheid is. Toe vra ek myself die vraag af, as hulle so behep is met hul selfverryking, hoe ver sal hulle gaan om in ’n posisie te bly waar hulle kan aanhou roof?"

Peet het ook niks aan die verhaal verander soos sekere situasies in Suid-Afrika ontplooi het nie. Hy het wel partymaal gewonder of hy nie te veel waag nie en toe, terwyl Brand in produksie was, verskyn Jacques Pauw se The president's keepers. Hierop was Peet se reaksie: "Dit het my nogal gekielie waar dit lekker is!" 

Peet was aanvanklik glad nie daarop ingestel om ’n reeks met Thys Krige as hoofkarakter op papier neer te pen nie. Vir hom voorspel ’n opvolgreeks probleme, want hoeveel keer kan jy as skrywer na vorige boeke verwys sonder om die storie oor te vertel? "Dis ’n wetter. Deur Karen (Thys se halfsuster) in die storie in te bring, het ek daarin getrap. Ek kon haar eenvoudig nie net eenkant toe skuif nie. Maar in Brand het ek dit reggekry om haar deel af te rond. Almal weet nou waar almal staan. Uitgesorteer."

Op LitNet skryf Daleen Venter dat die spanning in Brand op ’n mespunt gebalanseer word. Krige bevind hom diep in die moeilikheid sonder dat hy wou. President Zondo en sy trawante wil net een ding hê: om die land in ’n alleenheerskappy te verander. Krige probeer sy bes om agter die kap van die byl van die planne van die bewindhebbers te kom. Hy kom tot die besef dat daar met traangasgranate en basiese hulpbronne gekonkel word om die land in nog groter chaos te dompel.

"Tussendeur veg hy verbete teen sy eie donker kant wat dreig om sy lewe te oorskadu en hy moet boonop probeer sin maak van sy gevoelens teenoor drie uiteenlopende vroue: Karen, Liesl en Delaré.

Krige se verhouding met sy halfsuster, Karen, is gekompliseerd, onverstaanbaar en hy sukkel om sy eie gevoelens te peil. Tussen hom en die gestremde IT-ghoeroe, Liesl, lyk dit asof daar ’n liefdesvlammetjie begin brand en die leser wil-wil hoop kry dat dié vlammetjie dalk die donker in Krige kan verlig. En dan is daar die impulsiewe Delaré Brand wat Krige se lewe op haar ysterperd binnery en met haar reël-virtuele bewussynteorie en psigo-wiskunde dinge verder kom deurmekaarkrap.

"Voeg daarby ’n buitelandse familie met ’n hele paar vingers in die regering se geldpastei, protesoptredes wat in algehele chaos ontaard, aksietonele wat jou na jou asem laat snak én ’n grusame moord (of twee) en jy sit met ’n naelbyt-lekker storie en ’n snaarstyf spanningslyn!

"Venter vervleg ook tientalle sielkundige teorieë, veral dié van Freud en Jung, soomloos met die verhaalgebeure om die leser ook introspeksie te laat doen. Die donkerweb vol duisterhede, soos 'dwelmhandel, mense- en wapenhandel, sluipmoord, terrorisme, kinderpornografie' (bl 47), roep Freud se idees oor die menslike psige en die onbewustelike vol 'vrese, manies, fobies, irrasionele fantasieë, immorele drange, siek seksuele fantasieë' op (bl 47). Verder word die spel tussen Jung se begrippe van lig en donker, positief en negatief deurgaans met die storielyn vervleg en die leser sien later hoe die donker kant in sekere karakters oorwin.

"Krige en sy skop-en-trap-skoene (bl 158) is die toonbeeld van ’n aksiefliekheld – sy optrede is onvoorspelbaar, hy is onmoontlik dapper en hy laat hom nie deur enigiemand stuit nie. Die ontwikkeling van al die karakters in Brand is meesterlik gedoen en elke karakter kry ’n outentieke stem.

"In hierdie roman word ’n hele rits geheime onverbiddelik blootgelê en die grense tussen reg en verkeerd word telkens uitgedaag. Sal Krige en Delaré se blootleggings enigsins help om die brand in die land te blus? Is daar werklik iets soos verbode liefde en is die gevolge daarvan regtig so erg soos wat die samelewing ons laat glo? Is dit moontlik dat die mens se ligkant sy skadukant kan troef? Oor dié vraagstukke kwel jy jou tot aan die einde van hierdie roman. En wees gewaarsku: Jou nerwe sal tot op die laaste bladsy aan flarde wees en dis hoogs waarskynlik dat jou dagtake agterweë sal bly vir die volle duur van dié roman –Venter sorg dat Brand moeilik neergesit word."

In Die Burger (4 Desember 2017) is Riaan Grobler se finale oordeel oor Brand as volg: "Venter kry dit reg om in die leser se psige te klim en hier en daar ’n onverwagte (maar ’n berekende) kinkel agter te laat. Hy skep moeilike uitdagings vir sy karakters en bied nie maklike antwoorde of oplossings nie. Brand bevestig Venter se stand as dié randfiguur van spanningsfiksieskrywers."

Binne ’n jaar is Peet Venter se volgende boek op die winkelrakke in Suid-Afrika onder die titel Soos ’n diep waterkuil. Die teksvers in die Bybel, Spreuke 23:27, "’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil, ’n verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie," staan sentraal in hierdie verhaal.

In Die Burger van 3 Desember 2018 is Francois Bekker van mening dat die moordenaar godsdiens en morele oordeel gebruik om sy dade te regverdig – "iemand wat homself as regter en laksman aangestel het".

Thys Krige is nie in die verhaal die ondersoekende beampte nie. Speuradjudant Boel Helberg is die man wat die moordenaar moet opspoor. Die moordenaar het hom gebel om hom na die slagoffer se liggaam in die Wemmerpan te lei.

Bekker gaan voort: "By nadere ondersoek blyk dit ’n skendmoord op ’n jong vrou te wees. Dis nie waar dit ophou nie. Nog twee lyke is elders in die stad versteek. Kriptiese leidrade is deur die moordenaar verskaf wat die speurder moet opvolg om hulle op te spoor. (...)

"Soos die ondersoek sy loop neem, ervaar Helberg konflik op twee vlakke. Dat daar enigsins ’n siek persoon rondloop met reeds drie lyke op sy kerfstok, is genoeg om enige ondersoekbeampte slapelose nagte te besorg. Namate hy leidrade opvolg, ontvou ’n verhaal van jaloesie, gierigheid en bedrog. Helberg se bekommernis oor sy vrou en dogtertjie, Ellie, is een van die aspekte van die storie wat Venter veral goed uitbeeld.

"In die ontvouing van die verhaal word die onderwêreld van misdaad met verrassende kinkels verken. Wat onder die loep geneem word, is die verskynsel van goed en kwaad in die lewe. En die verlies van onskuld. Hier en daar is ’n karakter wat baat sou kon vind met verdere ontginning. Neem die karakter van Ben Klein as voorbeeld. In sy leefwêreld is daar nie ’n markante onderskeid tussen goed en kwaad nie.

"Soos ’n diep waterkuil is ’n onthutsende konkoksie van wellus, moord en jaloesie. Venter se aanslag is sonder fieterjasies en hou die leser tot aan die einde vasgenael."

Op ’n vraag van Carla van der Spuy oor hoekom sy reeksmoordenaars intelligente mense is, antwoord Peet: “Ek maak my reeksmoordenaars intelligent en gesofistikeerd om die psigiese kontraselement meer dramaties te maak: die konflik in die beskaafde, hoogs ontwikkelde brein waar daardie barbaarse geweldenaar ook skuil. Wat maak dat die dier die mens op die agtergrond stoot? Dit sal seker ook werk as die moordenaar ’n doodgewone, vaal ou is wat heeldag in ’n kantoor sit, en by die huis sit sy vrou op sy kop. Maar vir my is dit net soveel lekkerder as hy ’n professor of rekenaarfoendi is. Dit is net soveel lekkerder as so ’n slim moordenaar daardie een foutjie maak wat Krige uiteindelik raaksien. Dit is so lekker soos ’n taai toffie wat aan jou tande vassit as Krige weet daardie foutjie moet daar wees, maar hy sukkel om dit raak te sien.”

Van der Spuy wou verder weet of Peet ook, soos talle ander, voel dat moordenaars nie hard genoeg gestraf word in Suid-Afrika nie en hoe hy oor die doodstraf voel.

Vir Peet is dit bloot menslik vir ’n skrywer om in sulke situasies deur die karakters en gebeure uiting te gee aan sy eie gevoelens, maar hy meen dat dit egter versigtig hanteer moet word (aan Carla van der Spuy op LitNet). “Ons kan ons vergeldingsdrome droom en ons wraakfantasieë koester, maar moet nooit ons etos vergeet nie. Die frustrasie en gevoel van magteloosheid is wel daar; om grondige redes, maar om die reg in eie hande te neem, is verkeerd. Die enigste wat daardeur bereik kan word, is om ons nóg verder in die moeras van anargie en barbaarsheid in te sleep. Ons het ’n regstelsel, hoe verwarrend ook al. Laat ons dan liewer ons energie aanwend om deur die regte kanale weer orde uit die verwarring te probeer skep. Hoe? Deur minder apaties te wees, en proaktief te wees. Dit raak ons almal. Daar is meer aan die lewe as eet, slaap, werk en speel.

“My etiek sê vir my die doodstraf, al dra dit sogenaamd wetlike goedkeuring, lê op dieselfde vlak van barbaarsheid as moord. My gemoed sê: hang die wetter, veral as kinders die slagoffers is. Ek is sensitief oor kinders. Dit was vir my swaar om die onderwerp van veral kinderhandel te hanteer. Pedofilie het mos deesdae ten minste die verskoning dat dit ’n ‘sielkundige afwyking’ is. Vir mensehandel is daar geen verskoning nie. Dit is bloot barbaarse winsbejag. Hoe dieper ek navorsing gedoen het, hoe meer het ek begin twyfel of ek kan voortgaan daarmee. Hoe behou ’n mens objektiwiteit? Is dit hoegenaamd moontlik om objektief te bly? Dit is die rede waarom ek in Ou bloed nie te veel op die daad spesifiek uitgebrei het nie, dit so bondig en op die man af as moontlik gestel het, en meer gekonsentreer het op die invloed wat dit op naasbestaandes het.”

Peet het sedert 1982 op sy plaas, Seringveld, in die Pretoria-omgewing gewoon, waar hy al sy liefhebberye kan beoefen soos die tyd dit toelaat.  Hy komponeer ook musiek op sy rekenaar. Hy is getroud met Jauna van Loggerenberg en hulle het twee kinders, Witze en Andrea.

Hy woon egter deesdae op ’n plaas in die Dinokeng-reservaat naby Pretoria en het in 2000 semi-afgetree het, maar werk steeds deeltyds as raadgewende ingenieur. Sy vrou, Jauna, is in 1999 oorlede, maar “ek is daardeur en gaan aan”.

Oor ’n vraag wat hy ons nog van sy grootwordjare kan vertel, antwoord Peet as volg aan LitNet: “My grootwordjare verder? Wat is daar nog om te sê? Jy weet, daar is grootword, en daar is grootword. Die liggaam, en die mens. Ek dink die mens word groot van geboorte tot dood. In die tienerjare is jy erg bekommerd oor wat mense van jou dink. In die twintigs en dertigs gee jy nie ’n hel om wat mense van jou dink nie. In die veertigs en verder, besef jy mense het hoegenaamd nie aan jou gedink nie. Dis maar soos dit gaan. Ek is vandag ’n senior burger, wat beteken ek is flippin oud. Almal sê vir my oom. Maar dis orraait. Dis nog nie nodig dat iemand anders my omgord nie. Ek trek nog self my sokkies en skoene aan, hoef nie op die bed te sit om my broek aan te trek nie. Ek kan nog my seerkry en vreugdes ‘handle’, onthou nog wat my kinders se name is.”

Oor sy skrywery vertel Peet aan LitNet: “Ek gaan sit en ek skryf. Geen raamwerke of diagramme nie. Die stories is in my kop – baie van hulle. Net navorsingnotas. Deesdae doen ek meeste navorsing in Google, maar dit bly maar lekker om in boeke, ensiklopedias, of argiewe rond te krap. Ek hoef nie iets te drink of te rook om aan die gang te kom nie. Ek luister na barok, klassieke, en romantiese musiek as ek skryf. Albanoni, deur Bach en Brahms, tot by Albeniz. Dis seker in ’n sekere sin my muse, maar ek kan daarsonder ook klaarkom. Eskom-krag, jy weet. Wil nog ’n paraffien- of steenkool-CD-speler ontwerp.  Ek kyk by my studeerkamervenster uit na die koedoes, duikers, blesbokke, vlakvarke, tarentale wat in my tuin wei of sommer net lê en ontspan. Dan skryf ek verder.”

In LAPA se besprekingsinligting oor Ou bloed word die volgende gesê oor Peet se skryfwerk: “Peet Venter skryf met min woorde. Of so voel dit. Daar is nooit langdradige beskrywings en hortende morele preke nie. Die boek lees so vinnig, ek was verbaas toe ek nou weer na die agterste bladsy kyk en sien daar staan 303 op. Dit voel nie so nie.

“Hoe kry hy dit reg? Dié vraag het my ’n oomblik geboei, want ek het gesukkel om te verstaan wat sy geheim is. Toe ek egter weer daardie eerste paar bladsye lees, toe weet ek: Venter skets eintlik vir die leser ’n film. Ons belééf die hele tyd. Jy is sáám met die moordenaar, dan is jy sáám met Krige, of jy is by Shirdi Mayet, jy leef saam met haar wanneer sy haar broodjie koop en wag dat die moordenaar haar kom ontmoet. Op hierdie manier beleef ’n mens ook die rassisme teen Dlamini, jy word nooit vertel hoe sleg rassiste is nie, dis nie nodig nie. Peet laat ons eenvoudig toe om saam met Krige en Dlamini te ry en die storie deur hulle oë te beleef.

“Ek gaan van nou af Peet se boeke aanbeveel vir enige een wat sukkel om te show in hulle skryfwerk. Baie mense haak vas by beskrywings en morele vraagstukke en lewenslesse. Peet Venter donder voort, hy boender jou in die storie in en hy sleep jou saam op ’n mallemeulereis deur sy storie. Kyk mooi: Jy sien die hele tyd die gebeure. Dit voel of jy na ’n film kyk.”

In Oktober 2013 is ’n skrywersgesprek oor misdaad en dwelms by die Laerskool Voorpos in Waverley in Pretoria deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere asook enkele uitgewerye aangebied. Peet het ook aan hierdie gesprek deelgeneem.

Oor die oplewing in misdaadfiksie in Suid-Afrika het Peet gesê: “Lesers is in die jare 60 vervreem van ligte ontspanningsliteratuur in Afrikaans. Akademici het indertyd die ’nuwe denke’? van die Sestigers aangegryp. “Vurige resensies het verskyn en debatte is in die pers gevoer. Dit was groot nuus. Intussen het die hoofstroomfiksie maar sy rustige gang geloop. 

“Uitgewers het hul boekklubs gehad. Daar het wel boeke met meriete buite klubverband verskyn, maar daar was eintlik nooit uitgebreide resensies hieroor in die pers nie en in akademiese kringe is hulle doodgeswyg. Dit het intussen verander. Meer onlangs het ’n jonger geslag akademici weer begin kennis neem van populêre fiksie. Hulle lewer positiewe kommentaar waar daar meriete is.

“Deon Meyer het plaaslik ’n belangrike rol gespeel in die opbloei van misdaadfiksie. Ek dink ook uitgewers het meer aggressief begin bemark, met die gevolg dat ander Afrikaanse misdaadskrywers nou baie meer blootstelling kry in die media. Nog ’n faktor kan wees dat ons vandag met soveel geweld en misdaad moet saamleef dat lesers ’n soort ontvlugting vind in misdaadstories waar die speurderheld die kriminele die een ná die ander laat aftjop en reg laat geskied.”

“Die morele klimaat het ook baie verander sedert my skryfdebuut in 1979. Toe ek begin skryf het, moes jy by ‘magtig’ en ‘bleddie’ hou; as jy begin ‘donder’ dan is die wenkbroue gelig.”

Peet is al beskryf as ’n skrywer van “min woorde maar diep insig”. Hierop reageer hy: “Ek is self lief vir lees. (’n Skrywer wat nie lees nie, maak ’n groot fout.) Maar ek het ’n ongeduld ontwikkel met skrywers wat mens laat verdrink in ’n vloed van onnodige woorde – seker omdat my leestyd so beperk is. Toe ontwikkel ek ’n manier om boeke te kies. Eerstens moet die titel my aandag trek, maak nie saak wie die skrywer is nie. Dan haal ek die boek van die rak af en lees die eerste twee sinne. As dit my nie boei nie, gaan die boek terug op die rak. As die eerste twee sinne my boei, lees ek die eerste twee bladsye. As ek dit wat die skrywer in twee bladsye sê, in twee of drie paragrawe kan sê, gaan die boek terug op die rak. As ek dit nou wragtag nié in minder as ’n bladsy en ’n half kan sê nie, al probeer ek, koop ek die boek. Dus, in my eie skryfwerk waak ek gedurig teen oorbodige woorde.

“Diep insig? Sjo! Ek luister na wat mense sê, hoe hulle dit sê. Ek kyk na hul lyftaal. Verder is dit seker maar ’n kwessie van lewensondervinding.” (aan Carla van der Spuy op LitNet)

Carla van der Spuy wou by Peet weet hoeveel van Krige se karaktertrekke is ook by hom te bespeur en hoe die twee verskil, indien wel? "Natuurlik word die skrywer se sienings, gevoelens, voorkeure en renonse in die karakters geprojekteer, maar dit moet so gedoen word dat dit hulle eie word deur dialoog, gedagtes, handelinge. Laat hulle die storie vertel. Dis nie altyd maklik nie, maar met ondervinding leer mens om uit jou storie te bly sonder om daarvan verwyder te wees. Wat ’n leser van die skrywer uit sy stories kan agterkom, hang af van hoe diep die storie is en hoe diep die leser lees. Dis seker onafwendbaar dat iets van die skrywer in sy karakters geprojekteer word. Onvermydelik sal daar iets van my in Krige wees, anders sal hy nie vir my lééf nie. My innerlike verwysingsraamwerk is sy bloudruk, plus ’n paar dinge wat ek graag sou wou wees as ek die moed gehad het. En ja, minus die voorkoms, jeugdigheid en welvaart.

"Ek dink hoeveel van die skrywer ingebou word – goed en sleg – en hoe openlik en eerlik dit gedoen word, bepaal tot ’n groot mate die geloofwaardigheid van die karakters. As ek as skrywer nie met ’n karakter kan assosieer nie, hoe kan die leser?

"Dus, ja, daar is heelwat van my in Krige. Die stil geaardheid, die denker, die keuse om afgesonderd in die natuur te woon en die onwrikbare geloof in geregtigheid. Miskien verskil ek van hom wat die geweld betref, maar as ek deesdae so na die nuus kyk, is ek ook nie meer altyd so seker daarvan nie. Daarom dat ek ’n afleier soos hy het. En ek is oud, lelik, en arm."

Peet is nie net skrywer en ingenieur nie; hy is ook baie lief vir musiek en beeldhouwerk. Hy beskou homself as ’n jack of all trades, met die stukkie master of none bygelas. "’n Mens moet realisties wees en keuses maak. My eerste liefde lê by musiek, maar ek is net nie goed genoeg daarmee om ’n lewe daaruit te maak nie. Daar bly musiek toe in die slag. Ek skilder en maak beelde van wat ek sien, soos ek dit sien. Ek weet nie hom om emosionele boodskappe daarin te sit (kodeer?) nie. Ek kyk na ander kunstenaars se werk en dis vir my mooi of lelik. Punt. Daar bly skilder en beeldhou in die slag.

"Om ’n lewe te maak, wend ek my toe na my tegniese aanleg, en na skryf om sinvolle uitdrukking – wat ek ook verstaan – te gee aan al die strooi hierbinne. Beide skeppend. Genoeg vir my."

Publikasies:

Publikasie

Die alleenlopers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013671 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die reuk van rose

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322466 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799323241 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Disa DISA

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799322636 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die koeël is deur die kerk

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323497 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Middernagblou

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799324132 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nag van die narre

Publikasiedatum

1998

ISBN

079932499X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlieg, duifie, vlieg!

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326259 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

In kringe: ’n verhaal in drie stemme / Saam met GA Watermeyer en Estelle Marais

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326852 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

3 van die bestes. Saam met François Bloemhof

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328367 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Slang, die onbesonge held

Publikasiedatum

2009 (Grootdruk)

ISBN

Nie bekend

Uitgewer

Nie bekend

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2013

ISBN

  • 9780799358339 (sb)
  • 9780799357745 (e-boek)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ou bloed

Publikasiedatum

  • 2013
  • 2014

ISBN

  • 9780799361292 (sb)
  • 9780799361575 (e-boek)
  • 9780799361810 (mobi)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar boosheid broei

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799368499 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Plasenta

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799373790 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lem

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799376487 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brand

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799386141 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soos ’n diep waterkuil

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799388312 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Peet Venter beskikbaar op die internet:

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Peet Venter (1940–) appeared first on LitNet.

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings Week 1

$
0
0

 

#politieklimeriek – hier is ons eerste inskrywings! Al die inskrywings wat vir Week 1 kwalifiseer, sal op hierdie bladsy verskyn teen Maandag 11 Februarie.

Week 1 se inskrywings sluit eers om middernag, 8 Februarie, so jy kan nog laat waai!



Liz Walters

Ministers

Ministers is slim mans en vrouens
wat werk met die kieser-vertrouens.
        Maar as hulle kul
        swyg die hele ou spul
En beloof om hul bekke te houens.



Fred Walters

Kolonoskopie dui op ’n pyn
waar die son tog maar selde kom skyn,
         Die oud-Pres se derm
         wys mooi op die skerm
’n Duid’like prent van sy brein.



Marié Heese

Ace Magashule

’n Gewese premier ene Ace
moet getuig in ’n state capture-kys.
Maar wat sit in sy broek?
Smallanyana, of kroek?
Ons sal sien as hy uithaal en wys.



Francois Meyer

15%

in rande en sente se tel
word geld se ou waarde geskel –
siembamba lê dood
langs krummels van lood
in SARS se inflasie en hel



Kallie Pauw

Ek vra of jy stem soos ’n skaap
of is jy wat stem dalk ’n swaap?
jou stem gaan aan Zuma
want hy het mos woema
al is ons so lelik gekaap.



Dirk Laurie

Hoender- en vuurvreter Julius
laat almal dink wat 'n fulius
maar hulle's verkeerd:
hy's slim en geleerd;
al daai bewys net hoe culius.



Franz Dullaart

’n jong bariton van orania
val van ’n hoë hyskrania
hy beland toe wydsbeen
op ’n muur van baksteen
en nou is die man ’n soprania



Linki Steyn

“Die land se bestuur gee die gees”,
is die boodskap wat mens oral lees.
Tog het dié in beheer
Braaidag goedgekeur
So hoe erg kan dit dan regtig wees?



Luisa van der Linde

Bosasa

Agrizzi kry skaam
Hy’s skielik man van faam
maar snags klou hy sy bersie
met dapper perversie
want die base soek sy kop in ʼn raam.



Hennie van Deventer

’n Wakker tenderpreneur met ambisie
Sien sy kans in Bosasa se missie en visie:
Sy kontrakte was bielies
Vir al die hoenders se mielies;
Nou’t hy rusie met die Zondokommissie.



Gerhard Erasmus

Die party van Mandela en Zuma
is geskool deur die land van die Duma
maar die sekels raak stomp
en die kamerade raak lomp
en die party’s nou ʼn tjor sonder woema



Daan Prinsloo

Helen Zille

Die slim ystervrou, Helen Zille
Het baie bekoor met haar grille.
Sy wil almal dien
Maar hulle kan sien
Dis tyd vir haar brille en pille.



Brenden Ruiter

Eendag sit Jakob-met-ʼn-dubbele-kop
ʼn Duur swembad en ʼn hoenderhok op
Maar hy’t nie gedink
Dat ʼn snotgat kind
Hom sal laat flop by sy job



Inge Venter

Net toe ons almal beginne dink
Zuma en kie het ons land finaal gesink
Kom Cyril, Shamira, Angelo
en baie getuies by Zondo
Dalk word ons reputasie nou weer blink!



Liesl Saayman

Politieke polemiek laat humeure vinnig tiek
Veral as verkiesing midjaar almal briek
Agrizzi kla BOSASA maak hom naar
Terwyl Julies gryp na ʼn lewensaar
Die BLF wil grond afstiek en Musi maak lede siek



Christien Nieser

Daar was eenmaal ʼn ou, Aggrizzi
Heel lywig, nie een vir ʼn fiets’ie
Hy laat waarhede val
Die korruptes raak mal
Hul wil hom nou opdons, nie piets’ie.



Anri Vermeulen

Hier is nou iets ongewoon;
ʼn Verhaal met ʼn heel ander toon
Ons eks-president,
(daai laggende vent)
Ruil dalk stortkop vir mikrofoon



Karien Groenewald

Ou Donald is té lief vir Twitter
Hy reken dis daar waar hy skitter
Sy lakeie probeer
Maar kry hom nie gekeer:
“Maak ‘Merika weer Groot … en Witter.”



Antoinette Venter

ʼn Sekere man in ʼn oorpak
vergader en braak net ʼn spul twak
opposisie gekoer
stuur hom in sy moer
nou tjank hy en gryp na sy potsak.



Jan Schaafsma

Die Goeptas, ’n Watson en Zoem
Is by Zondo al groot kroeks genoem
Die vrome sint Sirrel
Sit soet in die mirrel
Sý geld is as buffels verbloem!



Jean Lombard

Daar was ʼn knaap van die ou Transvaal
Omgekrap en erg radikaal
Met rooi oorjas en helm
Sien jy sommer hy’s skelm
Grootste nar in die land se raadsaal



Francois Abrahams

My naam is Pravin Gordhan
Ek maak skoon in die land, ja ek gaan
Die hele gemors het die staat gekos
En nou is die vos van korrupsie los
Terwyl die Guptas skuil in ʼn bos.



Zandra Bezuidenhout

Parlement-pret

Ons rooiduiwels dans en baljaar
oor die kieserspalawer vanjaar.
Pret en ʼn storie
is nodig verdorie!
Wat sing oom Malema nou daar?



Fielies de Kock

Na drie dekades kla ou FW,
leier van die gevalle NP,
dat dinge in die land nou slegter gaan.
Maar daar’s niks nuut onder die maan –
óf in Afrika demokrasieë.



Jan Vermeulen

as oom pieter groen terug wil slaan
wie het tog die eerste hou gedaan
was dit oom piet retief
of dingaan zoeloe chief
wat nou ons weg na die stembus baan



Angie Gallagher

altaar
 
die laervuur staan in ligte laaie
by koorsige kierankiebraaie
of jy stem dat hy skroei
of verkies dat hy bloei,
bly dié karmenaadjie ’n taaie



Henlie Barnard

BOSASA

ʼn Man blaas fluitjie oor Bosasa.
Staatskas nou dolleeg, dis verseker, ja.
Bevoordeeldes skreeu, bly kalm.
Hul skatryk, land brandarm.
Geen lied meer van mi casa, su casa.



Yolande Strauss

Eens was daar ʼn man by naam Zuma
Hy maak toe ʼn vriend van ʼn Gupta
Maar die man is ʼn tang
En hul word toe gevang
Nou deel hul ʼn sel en heet Zupta



Yolanda Spies

Ou Trumpty-Dumpty mor oor sy muur
Want almal kla die ding is te duur
Die Wet van Transvaal
Sê die Yanks gaan betaal
En Meksiko se arbeiders huur



Jeanne Henning Els

Oranjekop kerm vir ʼn muur
En May het haar bas in die vuur.
Philip bly rinkink
Nou sit hy met sy hink.
Kyk, Cyril, híér moet jy bestúúr.


Kompetisiebesonderhede:

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – ’n kompetisie wat rym!

The post Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings Week 1 appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met die sterre van Lollos en Lettie

$
0
0

Lollos en Lettie is ou bekendes by die US Woordfees. Naomi Meyer gesels met die sterre van die vertoning – en ook met Minki Burger, wat saam met hulle dans en sing. 

Lollos, is jy dan al tien? Die naam van julle nuwe DVD is Lollos en Lettie 10-jaar-basaar. Of werk jare anders in Lallaland as op aarde?

In Lalaland werk ons nie met jare nie, die lekker tye is baaaie lank en die hartseer tye is baie kort want die Foempies kom vee vinnig ons traantjies weg. Ek moes leer van dae, maande en jare toe ek eers op die aarde kom kuier het. Ek het sulke lekker liedjies geleer sing wat sommer vinnig vir my al die name van die dae, en al die maande van die jaar geleer het! Dit is veral lekker om dit saam met die maatjies te sing - dan leer hulle dit ook sommer dit in 'n japtrap saam!

Vir mense wat nog nooit van jou gehoor het nie, wie is jy?

Ek en Lettie is Lalalanders. Ons kom van die planeet Lalaland af en kom kuier graag by ons aarde-maatjies omdat daar so baie wonderlike dinge is om te leer in julle wêreld. Die heel, heel lekkerste ding vir ons is om te kom sing en dans saam met al ons aarde maatjies en ons lekker vriende - Alta, Minki, Disco, Karla en Muisvriend!

Die nuwe DVD en die konsert by vanjaar se Woordfees bied hoogtepunte van die afgelope tien jaar se musiek.

Na watter liedjies kan jong luisteraars uitsien?

Hierdie konsert is nog die lekkerste een sover! Dit is 'n heerlike mengelmoes van al ons beste en bekendste treffers! Ons het probeer sien dat iedereen se gunsteling-liedjie 'n kans kry en dit maak die vertoning baie opwindend en sommer hope pret! 

Lettie, jy is Lollos se beste maat. Maar jy is ook 'n meisie in eie reg. Wil jy iets van jouself vertel?

Oe la la! Ek het verskriklik baie om julle van myself te vertel!

Ek is natuurlik Lalaland se Herwinkoningin, jy weet? Ek het 'n baie belangrike werk in Lalaland om seker te maak die Lalalanders pas hulle planeet mooi op deur hulle te leer van herwinning en hoe om hulle wêreld mooi skoon te hou! Ek is baie goed daarmee, hoor! En verder is ek 'n regte, egte ballerina! Ek is versot daarop om te kom dans hier by julle, ek het nou al die wonderlikste danspassies geleer en soos julle weet is ek ook 'n modeontwerper - jy kan gerus 'n spesiale Lettie-tutu vir jou kom koop by die konsert! Ek maak hulle self! Ag, ek is net so baie lief vir Lollos en vir die maatjies hier op aarde - om hier te kan kom kuier is vir my feno-mino-mino-minaal!

Is dit nie baie warm om so baie te dans nie? Wat is die lekkerste en die minste lekker van al die dansvertonings?

Ag, dit maak nie saak om so bietjie warm te kry nie - om te dans is dan soveel pret! Die lekkerste is om te sien hoe gelukkig ons maatjies is as hulle kan saamdans en die slegste is dat die konsert nie vir ewig kan aanhou nie! 

Watter liedjies op julle nuwe DVD is vir jou die heel lekkerste?

“Die kiem”, “Die paddakonsert”, “Bons dat die gons”, “Hoe maak die krokodil?”, “Spring op”, “Ek wil dans”, “Die disco jive” … en daar is nog so baie ... Ek weet nie watter een om te kies nie! Al ons heel lekkerste liedjies is daar! 

Minki, jy is die draaiboekskrywer en regisseur van Lollos en Lettie 10 jaar-basaar se DVD. Vertel asseblief vir die lesers van jou reis saam met Lollos en Lettie, 'n terugblik. 

Sjoe - dis moeilik om te glo hierdie is al die tiende “episode” van Lollos. Dit was voorwaar 'n ongelooflike reis wat gestrek het oor die afgelope 12 jaar. Ek en Alta [Joubert] het baie klein begin met 'n droom wat later die God se genade vermenigvuldig is tot baie meer en groter as wat ons ons kon indink. Dit was met tye 'n moeilike pad maar dit was ook altyd ongelooflik verrykend en bevredigend om te weet ons beteken iets vir klein kinderhartjies reg oor die land en selfs oorsee. Dit was 'n groot voorreg om saam met Lollos te stap die laaste dekade of so, en saam met hom groot te word en saam met hom so ongelooflik baie dinge te kon leer. Ek noem dit altyd in my persoonlike kapasiteit die Universiteit van Lollos; die menigte vaardighede wat ek bygekry het en die lewenslesse wat ek geleer het sal altyd van onskatbare waarde vir my bly en het my beslis gevorm en gehelp om te maak wie ek vandag is.

Vertel asseblief iets van hierdie nuwe DVD van julle - ek weet jy het die draaiboek geskryf en was verantwoordelik vir die gedagtes hieragter. Waarna dink jy is hedendaagse Afrikaanssprekende ouers en kinders op soek as dit kom by lekkersing- en dansliedjies? Wat bied julle vir die mark? 

Lollos en Lettie 10-jaar-basaar is regtig net 'n lekker terugblik op al Lollos en Lettie se avonture oor die laaste 10+ jaar. Dis 'n lekker saamsing-DVD en -konsert - almal sal al die woorde ken! Die pas is lekker opgewek en vinnig, so daar is nie tyd vir stilsit nie, almal se voete sal jeuk om saam te dans op al die ou bekende treffers. Dit is 'n huldeblyk aan die bydrae wat Lollos aan die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het oor die laaste dekade - en in egte Lollos-styl is dit baie kleurvol en energiek!

Die klimaat in die Afrikaanse mark en ook kindermark is vandag aansienlik anders as hoe dit was toe ons oorspronklik begin het met Lollos. In daardie dae was Afrikaanssprekende ouers uitgehonger vir gesonde Afrikaanse vermaak en daar was min om van te kies. Deesdae is daar baie meer keuses in Afrikaans, en dit is 'n goeie ding! 'n Groot verskil is ook wel dat internasionale kindervermaak deesdae 'n groter rol speel in Afrikaanse huise omdat dit soveel makliker beskikbaar is aanlyn en dus 'n kitsoplossing vir ouers bied as hulle op enige plek vir hul kinders wil vermaak bied. Gelukkig het Lollos ook nou 'n app vir slimfone en tablette waarop jy jou Lollos-films kan aflaai om enige plek te kyk.

Hoe gereeld dans julle by bestemmings dwarsdeur die land? En waarna kan julle luisters en kykers uitsien by vanjaar se Woordfees? Ook: sal hulle kan saamdans?

Gaan besoek gerus on tuisblad (www.lollos.co.za) of ons Facebook-blad (https://www.facebook.com/Lollosfriends/) vir alle inligting oor ons vertonings. Ons doen weekliks vertonings op verskillende bestemmings regdeur SA en ook gereeld in Namibië. Vir die afgelope 10 jaar doen ons so min of meer 120 vertonings per jaar en ons neem ook deel aan baie feeste. Indien daar dalk belanstelling is om ons te bespreek kan mense ons kontak by hanli@lollos.co.za.

By die US Woordfees kan feesgangers verwag om 'n baie opgewekte en interaktiewe konsert te beleef met al die lekkerste Lollos gunstelinge, spesiaal aanmekaargeweef vir saamsing en saamdans pret! Hoe meet uitbundig hoe beter! Lollos, Lettie, Disco en Karla neem die kyker op 'n toer van die laaste 10 jaar en dink terug aan die lekker lessies wat geleer is en snaakse grappies wat gemaak is. Ons dink ook terug aan die fantastiese gaste wat al by Lollos kom kuier het!

Waar kan mense Lollos se nuwe DVD bestel as hulle nie by een van jul vertonings kan uitkom nie?

Bestel gerus op ons webtuiste: http://lollos.co.za/winkel/

Stuur epos aan info@lollos.co.za vir navrae.

Lollos Dvd's is beskikbaar by Musica en op Takealot.

As jy 'n Android-foon het kan jy die Lollos Wolkie App aflaai en daar enige Lollos film koop om direk op jou slimfoon of tablet af te laai en te kyk. (Apple in die pyplyn) https://play.google.com/store/apps/details?id=com.lollos.wolk

Lollos-produkte is ook by al ons vertonings beskikbaar. 


 

LOLLOS & LETTIE 10 JAAR-BASAAR

Skrywer en regisseur: Minki Burger Musiek en vervaardiger: Lollos Productions

Met: Benjiman Jacobs, Linecia MattheeDaniels, Elizna Vermeulen, Redione Stephens en Disco Verhoogbestuurder: Liezl Hendricks

Tien jaar van Lollos en Lettie! En hulle kyk terug op ’n plesierige dekade van die grootste Lollos-treffers wat almal sal laat saamsing en dans. Al die groot gunstelinge is daar: “Die krokodille”, “Die paddakonsert”, “Spring op!”, “Die kiem” en vele meer.

2 Maart 09:00 | 4 Maart 17:00 5 Maart 15:00 45 min | HMS Bloemhof R80 | R100 by die deur

The post US Woordfees 2019: ’n onderhoud met die sterre van Lollos en Lettie appeared first on LitNet.


Nuwe mentorskapprogram gee vier opkomende skrywers 'n hupstoot

$
0
0

Dit is nie ’n maklike taak om ’n boek te skryf nie, wat nog van publiseer. Juis daarom stuur die Jakes Gerwel-stigting, saam met NB-Uitgewers, vanjaar ’n mentorskapprogram van stapel om opkomende skrywers met dié taak te help.

"Ons gaan van vanjaar af elke jaar vier opkomende skrywers kies wat in fiksie of niefiksie skryf, in Afrikaans of Engels. Ons kies dan ook verder mentors wat met die opkomende skrywers werk op ’n individuele basis, maar ook in groepsverband," vertel Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting.

"Hierdie skrywers, met die voorwaarde dat hulle nog nie voorheen gepubliseer het nie, se hande word geneem om ’n eerste poging van ’n manuskrip tot ’n publiseerbare en verkoopbare produk te neem."

Vanjaar is vier skrywers geïdentifiseer wat manuskripte aan NB-Uitgewers voorgelê het waarin daar baie potensiaal raakgesien is, maar wat nog ’n pad moet loop voordat hulle werklik vir publikasie oorweeg kan word, vertel Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers. Die eerste skrywers wat aan die projek sal deelneem, is Bronwyn Davis, Engela Ovies, Shana Fife en Sharon Mogoaneng. Stoffer verduidelik dat dié vier skrywers geïdentifiseer is deur middel van ’n kortlys wat opgestel is van skrywers wat manuskripte aan NB-Uitgewers voorgelê het.

"Die vier skrywers wat aan die projek deelneem het elkeen ’n unieke verhaal of spesiale leefwêreld waaruit die verhaal ontwikkel het. Dit is eg-Suid-Afrikaanse stories – of dit nou ’n liefdesverhaal, ’n speurverhaal, ’n roman oor liefde en verlies, of memoires is. En die werke speel hulle in uiteenlopende Suid-Afrikaanse omgewings en kontekste af," vertel Stoffer.

"Wat al die skrywers deel, is dat elkeen werklik ’n storie het om te vertel, ’n storie wat verdien om vertel te word."

Die skrywers sal gereeld by die Jakes Gerwel-stigting se nuutgerestoureerde skrywershuis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap saam met die mentors byeenkom om in groepsverband aan hulle boeke te skaaf. Verder sal kommunikasie oor die skryfwerk op ’n individuele basis tussen skrywer en mentor plaasvind. Die mentors betrokke by dié inisiatief is die redigeerder Suzette Kotzé-Myburgh en die skrywer Francois Bloemhof, wat die opkomende skrywers vir die volgende jaar of twee sal ondersteun.

"Dis vir my ’n groot eer en voorreg om deel te kan wees van hierdie projek," vertel Kotzé-Myburgh.

"Om ’n boek te skryf wat uiteindelik vir publikasie aanvaar word, is oneindig moeiliker as wat die meeste mense dink of verwag, selfs al beskik die persoon oor die nodige skryfvermoë."

Suzette Kotzé-Myburgh (Foto: Verskaf)

Kotzé-Myburgh vertel dat sy in haar 30 jaar in die uitgewersbedryf dikwels te doen gehad het met manuskripte wat potensiaal het, maar waarvan die skrywers "net nie daartoe in staat [was] om daardie laaste hekkie na publikasie oor te steek nie".

Sy verduidelik die oplossing in sulke gevalle is dat ’n kundige persoon die skrywer stap vir stap help om die manuskrip se probleme uit te stryk; maar, beklemtoon sy, so ’n proses is ongelukkig tydrowend en professionele hulp is natuurlik duur.

Ook Bloemhof is opgewonde om aan die inisiatief deel te neem.

"Ek het dadelik ingestem, omdat sulke inisiatiewe so skaars is, en so noodsaaklik. Nuwe stemme moet tog gehoor word en ek kan nie dink aan ’n beter manier om dit te bereik nie.

"As iemand graag wil skryf, behoort daar geen onnodige struikelblokke in sy of haar pad te wees nie. Daar is soveel goeie stories wat nooit vertel word nie omdat mense met die een probleem op die ander gekonfronteer word en uiteindelik tou opgooi. Teen dié tyd ken ek die mynveld baie goed en dit sal ’n voorreg wees om iemand daardeur te lei."

Francois Bloemhof (Foto: Verskaf)

Kemp vertel die rede waarom ’n inisiatief soos dié belangrik is, is dat dit die gaping in die Suid-Afrikaanse letterkunde vul tussen uitgewers en opkomende skrywers wat dikwels nie vir die diens van professionele mentorskapprogramme kan betaal nie.

"Daardie skrywers se manuskripte, met hope potensiaal, beland by die uitgewers sonder om ooit uitgegee te word. Die uitgewersbedryf is te kompeterend en die uitgewers werk onder groot druk en kan nie werklik die rol vervul om manuskripte te ontwikkel nie.

"Vir ’n letterkunde om te kan vernuwe is projekte soos hierdie broodnodig om jong stemme, ander stories en leefwêrelde na die letterkunde te bring," verduidelik Kemp.

Stoffer stem saam.

"In baie gevalle het skrywers wonderlike potensiaal, maar het hulle leiding nodig om daardie potensiaal te kan bereik. Daar is soveel talent, soveel uitstekende idees vir boeke, maar min mense wat die proses enduit deursien.

"Ons wil met hierdie projek skrywers help om deur al daardie moeilike en eensame oomblikke te kan beur, en dit is vir enige jong skrywer, glo ek, ’n groot voorreg om ’n mentor aan sy of haar sy te kan hê."

Lees ook

Vier vrae aan die skrywers van die Jakes Gerwel-stigting en NB-uitgewers se skrywermentorskapprogram

The post Nuwe mentorskapprogram gee vier opkomende skrywers 'n hupstoot appeared first on LitNet.

Vier vrae aan die skrywers van die Jakes Gerwel-stigting en NB-uitgewers se skrywermentorskapprogram

$
0
0

’n Mentorskapprogram vir opkomende skrywers van die Jakes Gerwel-stigting word vanjaar in samewerking met NB-uitgewers van stapel gestuur.

Dié program bied aan belowende jong, ongepubliseerde skrywers die geleentheid om onder leiding van ervare mentors hulle manuskripte wat reeds aan NB-uitgewers gestuur is, verder te ontwikkel, vertel Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting. Die doel is om manuskripte wat aan NB-Uitgewers gestuur is, maar nog verder ontwikkel moet word, publiseerbaar te maak.

Die eerste skrywers wat aan die projek sal deelneem, is Bronwyn Davis, Engela Ovies, Shana Fife en Sharon Mogoaneng.

Dít is wat hierdie opkomende skrywers te sê het.

Bronwyn Davids

Tell us more about your manuscript – what is it about?

Now that is the multi-million-dollar question. What is the book about? I had no intention of writing this particular book. Of course, I dreamt of writing a book, but I thought it would be a future creative endeavour. But finding myself unemployed last year, I began a character arc for a fiction story for young adults. As I thought about my characters I remembered snatches of the past and I ended up writing Facebook posts which my former newspaper colleagues enjoyed to the extent that one of them told an NB editor about my stories and she also asked if she could send some of these stories to the editor. I thought what the heck, I haven't got anything to lose. NB contacted me for more samples and eventually they suggested that I write a book. I don't think I'm that interesting; it’s just that I lived through some interesting times as a newspaper journalist working in riot-torn townships just before the end of apartheid. It eventually drove me to go in search of other people's normal in other parts of the world from 1992 to 1995. I didn’t go back to newspapers until 2016, but remained stuck in my journalist-self restlessness, no matter how hard I tried to find my place in other professions. Last year when I was stuck at home with myself with no work on the horizon, all these memories of my take on forced removals cropped up. I would say it is a book about two aspects of apartheid-era Cape Town: one part in the 1960s, ‘70s, and the other in the late 1980s, early 1990s, but it is also about the individual yearning to find something better than the given. My conduits to better things were the books I read, the travels that arose out of curiosity to see the places the authors described, and my own need to make art. Change happened on the inside for me rather than in outward appearances and material things. I am still working on bringing the various components together as I am currently on deadline, reworking and restructuring the manuscript before the first meeting of the writers’ project next month.

How do you feel about being a part of the mentorship project, and what are your expectations of the project?

NB Publishers’ recommending me to the writers’ project came out of the blue and needless to say, I'm still swinging wildly between states of shock, gratitude and apprehension. I have no idea what to expect from the workshops and the mentoring process, so I have no expectations except to say that I hope to do the very best I can and that my work will be of worth.

Who is your favourite South African writer?

The first name that popped up was Max du Preez. I enjoyed his unusual stories from South Africa's past: Of warriors, lovers and prophets and Of tricksters, tyrants and terrorists. I liked the humour and eccentricity.

Who has inspired you to write?

I've always read myself silly, so I would have to say the world of authors, past and present, proved to be the most influential. I'm sure I will find lots of authors that I will gravitate towards in the future who will prove to be just as inspiring. I don't follow reviewers’ recommendations. I will browse until something jumps out at me, and when I settle down to read, I will find that it is precisely the book that I needed to read at that particular time and inevitably I will find that there are similar ideas, as if the authors were speaking to one another. I suppose I just got swept up by the magic of the world of books, ideas and words.

Engela Ovies

Vertel ons meer oor jou manuskrip: waaroor gaan dit?

’n Noord-Kaapse liefdesverhaal wat afspeel op ’n plaas. Dis al wat ek vir nou verklap!

Hoe voel jy daaroor om deel van die mentorskapprogram te wees – wat is jou verwagtinge?

Dit is vir my ’n kans van ’n leeftyd. Ek is uit my vel uit van opgewondenheid! Ek is baie opgewonde oor die opleiding en ongelooflik dankbaar vir die geleentheid.

Wie is jou gunsteling Suid-Afrikaanse skrywer?

André P Brink

Wie het jou geïnspireer om te skryf?

Om te skryf is maar net iets wat altyd by my was – ek het nog altyd geskryf. Toe ek op skool was, het die onderwyser altyd my opstelle vir die klas voorgelees – ek dink die skryfding het daar posgevat. Ek wou net nog altyd ’n boek skryf. My ma het my nog altyd aangemoedig, en dit het my op koers gehou.

Shana Fife

Tell us more about your manuscript – what is it about?

My manuscript follows the life of an aspiring crime journalist from Mitchells Plain who finds herself not only investigating the recent spike in child murders, but also delving into the unexplained, yet sworn upon stories of the supernatural by the area’s vast coloured community. She embarks on an undertaking to prove either that there are sinister things that lurk on the Cape Flats, or that because of the neglect, abuse and poverty the residents face, they are all suffering from symptoms of varying degrees of PTSD.

How do you feel about being a part of the mentorship project, and what are your expectations of the project?

It is a great honour just to have been selected. The chance to learn from an award-winning writer, author, playwright, composer and copywriter and film reviewer is absolutely remarkable and I am very grateful. My expectation, if anything, is that I walk away with an abundance of knowledge to employ on my future works.

Who is your favourite South African writer?

Sarah Bullen. I loved her book Hey Baby: The hip new mom’s guide.

Who has inspired you to write?

My parents. My mother was very strict on reading and writing when I was a child. She really drilled the importance of words and stories into my head and nurtured a real love for books that has stayed with me, and now informs my whole life and career.

My father was the one who suggested I study journalism. He thought I had a talent for writing, even though I had other plans for myself. I am very glad I accepted his guidance. I really enjoy what I do now.

Sharon Mogoaneng

Tell us more about your manuscript – what is it about?

My book is about the journey of a young woman whose husband has just passed away and who, through that, has to negotiate the journey of widowhood – culture vs religion, dealing with her in-laws and finding love again.

How do you feel about being a part of the mentorship project, and what are your expectations of the project?

I am super-excited to be in the mentorship project – I can't wait to get started. My expectations of the project are – actually my hope is – to work well with my mentor and in that achieve what I have been struggling to achieve on my own, which is to be published after the project is completed.

Who is your favourite South African writer?

My favourite writer is Bessie Head.

Who has inspired you to write?

The person who inspired me to be a writer is William Shakespeare.

Lees ook

Nuwe mentorskapprogram gee vier opkomende skrywers 'n hupstoot

The post Vier vrae aan die skrywers van die Jakes Gerwel-stigting en NB-uitgewers se skrywermentorskapprogram appeared first on LitNet.

''Ons skryf soos ons praat'': Informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners

$
0
0

"Ons skryf soos ons praat": Informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners

Elvis Saal, Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika, en Donovan Lawrence, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 16(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Taal is voortdurend aan die verander, en een van die kragte wat op taalverandering inwerk, is informalisering, dit is die integrasie van spreektaalvorme in die skryftaal. Daar is, sover vasgestel kon word, nog geen studies onderneem na die potensiële informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners nie. Die begrip sociolinguistic change (“sosiolinguistiese verandering”), soos voorgestel en omskryf deur Coupland (2009, aangehaal in Coupland 2014b:282), word hier ingespan om aan te dui dat taalverandering in die konteks van sosiale verandering plaasvind. Die spesifieke rol wat die media speel in die demokratisering van die openbare diskoers, word pertinent belig. Die media het die potensiaal om linguistiese variante oor geografiese grense en tyd heen te versprei, wat tot groter ooreenkomste onder dialeksprekers kan lei. In hierdie ondersoek word daar gepoog om aan die hand van korpuslinguistiese metodes te bepaal tot watter mate informalisering in die skryfwerk van Noord- en Wes-Kaapse tieners voorkom, en watter ooreenkomste daar tussen die twee tienergroepe te bespeur is. Vir hierdie doel is 65 formeel geskrewe Afrikaanse opstelle van Afrikaanse graad 10-leerders in twee verskillende provinsies (die Noord-Kaap en die Wes-Kaap) versamel. Hierdie twee stelle data is met mekaar vergelyk in terme van hul spreektaalkenmerke, asook die frekwensies van die kenmerke. Die bevindinge van die ondersoek dui daarop dat beide Wes- en Noord-Kaapse tieners gebruik maak van algemeen gebruiklike omgangsvorme en dialektiese merkers in hulle skryftaal. Van die frekwentste spreektaal- grammatiese vorme wat in die skryftaal van tieners voorkom, is die eiesoortige voorsetselgebruik, agteropplasing van uitdrukkings, die ongewone werkwoordpatroon, die regularisering van werkwoordvorme en die weglating van lidwoorde, werkwoorde, onderwerpe en voegwoorde. Die belangrikste verskille tussen die twee tienergroepe is op dialektiese gebied. Noord-Kaapse tieners is, vergeleke met hul Wes-Kaapse eweknieë, meer geneig om streeksmerkers in hul formele skryfwerk in te span. Die bevindinge dui op ’n stilistiese skuif in die rigting van informaliteit in die geskrewe Afrikaans van tieners.

Trefwoorde: Afrikaanse tieners; dialektiese variasie; geskrewe Afrikaans; informalisering; Kaapse Vernakulêre Afrikaans; media; Oranjerivierafrikaans; sosiolinguistiese verandering; spreektaal; Standaardafrikaans; taalverandering

 

Abstract

“We write the way we speak”: Informalisation of the written Afrikaans among Afrikaans teenagers

This article examines the informalisation (also known as colloquialisation) of the written registers of two groups of Afrikaans teenagers – one from the Northern Cape, the other from the Western Cape – comparatively by way of corpus-linguistic methods. Impressionistic observations in Afrikaans newspapers about Afrikaans teenagers’ poor spelling abilities and their inability to write a single sentence without switching to English, point to a potential stylistic shift in the direction of the spoken language. No (recent) studies have been conducted on the informalisation of the written Afrikaans among Afrikaans teenagers. This purpose of this article is firstly to identify and describe the colloquial features in the written registers, and secondly to determine how frequent these colloquial forms occur.

In the literature on language change, the stylistic process of informalisation is regarded as one of the forces of language change. Informalisation is generally described as “writing becoming more like speech”, i.e. the increasing integration of spoken features in the written language (Leech, Hundt, Mair and Smith 2016:239). Informalisation does not happen in isolation but within the context of social change. Coupland (2009, quoted in Coupland 2014b:282) suggests that the concept of sociolinguistic change be used for this integrated approach to language change whereby the theoretical dualism between language change and social change is challenged and brought together. The new wave of socio-political changes in South Africa since the nineties had a direct bearing on the increasing democratisation tendencies that could be observed in Afrikaans literature, the print and broadcast media, as well as the music and theatre industry.

From a sociolinguistic change perspective, the specific role that media plays in “democratising the public discourse” (cf. Fairclough 1992, quoted in Mair 2015:7) is of particular relevance for this study. The media has the potential to spread linguistic variants across geographical areas, which could lead to greater similarities among dialect speakers. Such rapid linguistic changes are referred to as “off the shelf” changes (cf. Eckert 2003, quoted in Stuart-Smith, Pryce, Timmins and Gunter 2013:505). The media is viewed as a “shelf” where speakers can appropriate, recontextualise and resemiotise material from the media shelf for their own local discourse context (Buchstaller 2014). Media contextualisations of dialectal variation could legitimise such variation in those institutional spaces that were previously the preserve of the standard variety. The expectation of this study was that the adoption of spoken features in the formal written register of Afrikaans teenagers would show some degree of similarity due to the influence of mediated language.

In this study, formal written Afrikaans essays were sampled from (coloured) grade 10 Afrikaans learners in two different provinces, namely the Western Cape (Piketberg) and the Northern Cape (Upington). Learners were asked to write a formal essay about predetermined topics. The Northern Cape corpus consisted of 8 297 words and the Western Cape corpus consisted of 8 120 words. These two sets of data were compared with in respect of their colloquial features, as well as the frequency of these features.

The colloquial features identified could be divided into two main groups: (i) commonly used colloquial forms (colloquialisms) and (ii) dialectal forms. Dialectal forms could be further subdivided into typical regional markers and supraregional forms.

Commonly used colloquial features include the following:

On a lexical level

(i) Code-switching to English (e.g. “en hulle gaan ons vir ’n spin vat”) occurred surprisingly more frequently among Northern Cape teenagers than their Western Cape counterparts. Surprisingly, because Afrikaans-English mixing is regarded as a typical structural feature of South-western Afrikaans (also referred to as Cape Vernacular Afrikaans a variety which is associated with speakers in the Western Cape). A closer analysis of the Northern Cape corpus revealed some evidence of the influence of social media: Some of the most frequent individual switches included lexical items such as the verbs like and smile, and party. Furthermore, the inclusion of English items in a formal written essay, which could be seen as an overt informal marker, could point to some form of normalisation and legitimation of the use of English lexical items (or a limited form thereof) among teenagers.

(ii) Afrikaansified English words (e.g. “oraait”, “warrie”, “brieke”) and direct (literal) translations from English (e.g. “mense van ander plekke kom hou somstyds vakansie hier”) occurred more frequently among the Western Cape teenagers than the Northern Cape teenagers. This could be attributed to the fact that Western Cape teenagers are probably more confronted with English on a daily basis and they use these “translation” strategies in formal writing to “sound more Afrikaans”, i.e. to enhance the Afrikaans character of the text.

(iii) Afrikaans-specific colloquial items – which are those widely diffused Afrikaans colloquial items where no apparent English influence is evident (e.g. “om meisies of oukies te hê”) – showed a slightly higher frequency in the Northern Cape corpus than in the Western Cape corpus.

A combined frequency count of the phenomena discussed in (i) and (ii) above revealed that Western Cape teenagers used more English-related items in their formal writing than their Northern Cape counterparts. Northern Cape teenagers seem to have more ready access or exposure to Standard Afrikaans equivalents than their Western Cape counterparts, who seem to be more readily exposed to English lexemes.

On a grammatical level

(i) The facultative vir before animate (and sometimes inanimate) objects, which has been regarded in dialectal studies as typical of South-western Afrikaans (Hendricks 2012, Kotzé 1984), occurs frequently in both the Western Cape and Northern Cape corpora (e.g. “ek het nie vir hom gehoor nie”). Furthermore, both groups use prepositions that do not follow the normative prepositional pattern (e.g. “daar is baie tienerswangerskappe in die jeug” x onder die jeug). This study finds that Western Cape teenagers use nearly twice as many colloquial-type prepositions than the Northern Cape teenagers.

(ii) Restructuring of the verb patterns in subordinate clauses is a common occurrence among both teenage groups. Restructuring of the verb patterns in subordinate clauses is seen in the tendency to increasingly position the pivot verb in subordinate clauses earlier in the sentence (as is the case in root clauses), and not at the clause boundary (e.g. “As hulle alkohol gebruik dan weet hulle nie wat het die vorige dag gebeur nie”). Both Northern Cape and Western Cape teenagers tend to follow a root clause verb order in the subordinate clause, which could point to a potential informalisation of the subordinate clause construction.

(iii) The addition of articles (e.g. “... kinders help wat saam met hul enkel ouers op diestraat woon” x op straat) and the suppression of articles, usually in combination with the suppletive meeste (e.g. “in ons huise is meeste van ons geriewe elektronies” x die meeste), occur twice as frequently among Northern Cape teenagers than their Western Cape counterparts.

An overall analysis of all the colloquial-type grammatical forms in the two corpora reveals that the Western Cape teenagers are more likely to use an informal stylistic option than their northern counterparts.

Besides colloquialisms, dialectal markers are also evident in the written Afrikaans of teenagers. With regard to dialectal markers, a distinction is made between typical regional markers and supraregional forms. Typical regional markers are those lexical and grammatical features that are associated with a specific region. Supraregional forms are those that could have originated in one region but later spread to other areas, and are therefore no longer typical of a specific region.

This study found that Northern Cape teenagers are twice as likely to include regional markers in their formal writing as their Western Cape counterparts. Western Cape teenagers tend to use to a limited extent phonological markers associated with South-western Afrikaans in their writing (e.g. vowel raising: “gewies” x gewees and postvocalic r-deletion: “wek” x werk). In contrast, Northern Cape teenagers include a variety of grammatical (and lexical) markers associated with North-western Afrikaans (also known as Orange River Afrikaans) in their formal writing, such as:

  1. The use of the possessive formative se in combination with personal pronouns: “om hulle se goeters af te vat”
  2. Prepositional suppression: “dat ek hulle sit en luister” x dat ek na hulle sit en luister
  3. Frequent use of the preposition af: “kinders is ’n seëning van God af
  4. The use of the singular form instead of the plural form: “in Upington kry jy wonderlike mens
  5. Unconventional use of the morphemes -lik, ont- and -ing: “dus baie besonderlik vir ons wêreld”; “behoeftige mense wees wat ontgeleerd is”

Supraregional forms that occur frequently in both corpora include:

  1. Shortening of the /a/ vowel (e.g. “smak” x smaak) and vowel lowering (e.g. “morsag” x morsig)
  2. Syntactic extraposition, i.e. the tendency to place objects and (adverbial) phrases in the sentence final position: “Hy het begin lag en my gedreig met ’n mes
  3. Verb regularisation: “hulle het toe toegang tot die geld gehet
  4. The temporal conjunction wat in place of the standard temporal conjunction toe to introduce temporal clauses: “Wat ons by die N7 kom ...”
  5. Wat/van in place of the conjunction want:“en dan weet die ouers nie meer wat om te doen nie wat hulle hart is baie seer”
  6. Suppression of the verbs het en wees as well as the pronoun ek in subject function and the conjunction en:“dat dit die regte oomblik om seks te beoefen” x die regte oomblik is ...; “kon nêrens afswaai nie” x ek kon nêrens …; “Hulle los die sport gebruik alkohol” x hulle los die sport en gebruik alkohol
  7. saam construction (“with” construction): “ons het saam hom geloop”

The frequent use of these dialectal markers in the written Afrikaans of both the Northern Cape and Western Cape teenagers could point to an acceptance of these dialectal forms as suitable and legitimate forms for the (formal) written register.

From a corpus-linguistic perspective, this study found that there is little to choose between these two groups as far as the overall frequency of colloquial forms in their writing is concerned. Commonly used colloquial forms are used most frequently, followed by supraregional forms and lastly the typical regional markers. The biggest difference, however, between the two teenage groups relates to the use of distinctive regional markers. Northern Cape teenagers demonstrate a greater tendency to include regional markers in their writing. The most frequent type of informalisation apparent in both teenage groups is grammatical informalisation. It is more often that these “invisible” grammatical markers infiltrate formal writing inconspicuously rather than the more “visible” lexical markers.

Not all of the linguistic informalisation features discussed in this apparent-time study will necessarily find their way to Standard Afrikaans, because of the age-grading phenomenon. As teenagers grow older their formal writing of Afrikaans might change. The linguistic evidence nonetheless points to a stylistic shift towards informality in the formal written Afrikaans of teenagers. Further comparative studies in this regard would make a valuable contribution to our understanding of the state of informalisation in written Afrikaans.

Keywords: Afrikaans teenagers; Cape Vernacular Afrikaans; informalisation; dialectal variation; language change; media; Orange River Afrikaans; sociolinguistic change; spoken language; Standard Afrikaans; written Afrikaans

 

1. Inleiding

Taal is nie staties nie, maar is voortdurend aan die verander (Aitchison 1991:3). So byvoorbeeld is die Afrikaans wat vandag gepraat en geskryf word, nie dieselfde as ᾽n eeu gelede nie. Studies wys daarop dat daar veral in die 20ste eeu ᾽n groter geneigdheid was tot die informalisering van die (formele) skryftaal, dit wil sê die skryftaal het al hoe meer kenmerke van die spreektaal begin aanneem (vgl. Leech, Hundt, Mair en Smith 2016:239; Mair 2006:183–93; 2015:6–7).

Jongmense word baie keer gesien as die agente van taalverandering. Holmes (1992:221) wys daarop dat jongmense nuwe vorme vinniger aanneem en dit meer dikwels gebruik as ouer sprekers. Dit verbaas daarom nie dat die taalgebruik van jongmense soms sulke hewige kritiek ontlok nie. Taalverandering word baie keer met groot agterdog bejeën en geassosieer met taalbesoedeling en die algehele verval van die taal (vgl. Aitchison 1991:4; Leech 2012:127). In die briewekolomme van Afrikaanse koerante en in mediaonderhoude word daar dikwels gekla oor Afrikaanse tieners se swak taalgebruik, onder meer dat tieners nie meer kan spel nie en nie ᾽n sin kan skryf sonder om Engels in te voeg nie (Wit Umfaan 2009; De Lange 2012; Bruwer 2013; Oosthuizen 2015). Hierdie impressionistiese waarnemings oor Afrikaanse tieners se skryftaal suggereer dat daar moontlik ᾽n stilistiese verskuiwing in die rigting van die omgangstaal plaasgevind het. Binne ᾽n taalveranderingsparadigma kan wat tradisioneel as spelfoute getipeer word, van waarde wees deurdat dit as aanduider van die potensiële evolusie van die taal kan dien (vgl. Aitchison 1991:6). In hierdie ondersoek word die taalgebruik van tieners nie vanuit ᾽n preskriptiewe raamwerk beskryf nie, maar eerder deskriptief lig gewerp op die potensieel stilistiese verskuiwings in die skryftaal van tieners (vgl. ook Leech 2012:127).

Hierdie ondersoek het ten doel om aan die hand van korpuslinguistiese metodes te bepaal in watter mate die formele skryftaal van Afrikaanse tieners tekens toon van ᾽n proses van informalisering, dit wil sê om te bepaal watter kenmerke van die omgangstaal in die formele Skryfafrikaans van tieners voorkom en hoe frekwent dit voorkom. Verskeie ondersoeke is al onderneem na die taalveranderinge in Afrikaans (vgl. die oorsig in Kirsten 2016:3–4), maar sover vasgestel kon word, is daar nog geen ondersoeke gedoen na die moontlike informalisering van die skryftaal van Afrikaanse tieners nie. Mair (2006:185) wys in hierdie verband daarop dat ondersoeke oor informalisering ("colloquialisation") hoofsaaklik gefokus het op die populêre skryftaalregisters (soos essays, briewe, fiksie), maar dat daar nou ᾽n klein, maar groeiende aantal onlangse ondersoeke is wat daarop dui dat informalisering die formele skryftaal kan beïnvloed.

 

2. Taalverandering en informalisering

Volgens Leech (2012:140–1) kan taalverandering beïnvloed word deur drie verwante prosesse, naamlik grammatikalisering, informalisering en veramerikaansing. Vir die doeleindes van hierdie ondersoek is die taaleksterne proses informalisering van belang.1

Onder informalisering word verstaan die proses waardeur die skryftaal toenemend kenmerke van die spreektaal aanneem (Leech e.a. 2016:239). Leech e.a. (2016:239) verwys hierna as "writing becoming more like speech". Mair (2006:187; 2015:8) argumenteer dat informalisering nie net verwys na die vernouing van die stilistiese gaping tussen die skryf- en spreektaal nie, maar ook na ᾽n (doelbewuste) wegbeweeg van die skryfnorme wat formaliteit vooropstel na ᾽n stilistiese norm wat akkommoderend is ten opsigte van informaliteit. As sodanig kan informalisering ook as ᾽n versetstrategie gesien word wanneer dit doelbewus aangewend word om die formele karakter van die taal (en veral die standaardtaal) uit te daag.

In korpuslinguistiese ondersoeke na die informalisering van geskrewe Engels word onder meer die volgende grammatiese kenmerke geïdentifiseer as voorbeelde van informalisering wat redelik verbreid in geskrewe Engels voorkom:

  • vokaalreduksie (vokaalskrapping) by die werkwoord (it’s x it is) en die ontkenningswoord (n’t x not)
  • die ᾽s-genitiefsvorm, soos in Peter’s house (x the house of Peter)
  • die progressiewe aspek, byvoorbeeld is speaking
  • die betreklike bysin sonder that
  • die semimodale werkwoorde2 going to, want to, need to en have to
  • die toenemende gebruik van vrae
  • die afname in passiefkonstruksies.

(Vgl. Mair 2006:189–90; 2015: 3–5; Leech 2012:130–4; Leech e.a. 2016:240–9)

In teenstelling met die korpuslinguistiese ondersoeke na die informalisering van geskrewe Engels, is daar – sover vasgestel kon word – nog geen korpuslinguistiese ondersoeke na die informalisering van geskrewe Afrikaans onderneem nie. Ponelis (1992; 1998) het alreeds in die 1990’s aangevoer dat Afrikaans toenemend onder die invloed van Engels staan – iets wat belangrike gevolge vir Standaardafrikaans kan inhou. Ponelis (1992) bespreek egter nie die informaliseringstendense wat in Standaardafrikaans waargeneem kan word nie en fokus in sy ondersoek slegs op die invloed van Engels op Omgangsafrikaans.

Kirsten (2016:272–5) het in haar ondersoek na die grammatiese veranderinge in Afrikaans van 1911 tot 2010 bevind dat die volgende grammatiese verskynsels verbind kan word met die informalisering van geskrewe Afrikaans:

  • die toenemende gebruik van die tweedepersoonvoornaamwoorde jy en jou
  • die toename in die gebruik van die se-genitiefsvorm naas die van-genitiefsvorm
  • die toenemende gebruik van die aanwysende voornaamwoord dié (teenoor die meer formele hierdie)
  • afname in passiefkonstruksies.

Ondersoeke na die informalisering van die skryftaal neig om veral te fokus op die grammatiese veranderinge wat waargeneem kan word, terwyl leksikale veranderinge onderbeklemtoon word. In Afrikaans is kodewisseling na Engels byvoorbeeld die dominante struktuurkenmerk van die omgangsvariëteite. In die afgelope drie dekades kom kodewisseling al hoe meer frekwent in skriftelike Afrikaans voor (vgl. Ponelis 1999:157). Die invloed van Engels op Standaardafrikaans kan gesien word as een van die sterkste kragte werksaam in die informalisering van Afrikaans (Ponelis 1999:164). Die Standaardafrikaanse leksikon het, te oordeel aan die normatiewe bronne die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) (1991; 2017) en die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (2005; 2015), die afgelope drie dekades ook al hoe meer tekens van geleidelike informalisering begin toon. In hierdie normatiewe bronne word daar, in vergelyking met vroeëre uitgawes, nou groter erkenning gegee aan dialektiese vorme (soos die religieuse items van Maleise herkoms) en ander algemeen gebruiklike omgangsvorme (soos flair) en dit wil voorkom asof omgangsvorme, in ᾿n groter mate as drie dekades gelede, hul weg na Standaardafrikaans vind (vgl. die verskillende uitgawes van die AWS 1991; 2009; 2017 in hierdie verband).

Ondersoeke na die informalisering van die skryftaal gee weinig aandag aan die taalgebruik van tieners. Tieners kan egter gesien word as agente van taalverandering deurdat hulle, vergeleke met ouer sprekers, meer van vernuwende vorme gebruik maak (vgl. Holmes 1992:226; Ota en Takano 2014:199). Volgens Garcarz (2004:90, 92) is tieners ook meer geneig om die informele register te gebruik – iets wat moontlik ᾽n invloed op hul skryftaal kan uitoefen. Mantila (2004, soos na verwys in Nuolijärvi en Vaattovaara 2011:70), het ook bevind dat jongmense in Finland se geskrewe Fins al hoe meer gekenmerk word deur algemeen gebruiklike omgangsorme en dialekvorme. Ondersoeke na tieners se houdings na taalvariasie in Brittanje het aan die lig gebring dat daar by Britse tieners ᾽n ideologiese skuif waargeneem kan word deurdat hul houdings teenoor die niestandaardvorme al hoe positiewer geword het, terwyl die standaardvorm in terme van prestige afgegradeer word (vgl. Garrett, Selleck en Coupland 2011:60). Volgens Coupland (2007:96) is die positiewe evaluering van variasie een van die algemene kenmerke van die laat-moderne era, en wel as uitvloeisel van die rol van die populêre kultuur: omgangstaalvorme word al hoe meer gehoor in nuwe ruimtes soos die radio en TV, wat voorheen uitsluitlik deur die standaardvorm oorheers is (vgl. Coupland 2007:97).

Die informalisering van geskrewe Standaardafrikaans3 vind nie in isolasie plaas nie, maar word beïnvloed deur verskeie eksterne kragte wat sosiaal ingebed is. In die volgende afdeling word gekyk na watter sosiale en politieke faktore bygedra het tot die demokratiseringstendense in die samelewing wat ᾽n invloed kon uitgeoefen het op die veronderstelde informalisering van die skryftaal van Afrikaanse tieners.

2.1 Veranderende Afrikaanse taallandskap

Taalverandering gebeur nie in isolasie nie, maar kom in die konteks van sosiale verandering voor (Coupland 2014a:70). Taalverandering hang nóú saam met sosiale verandering, en juis daarom is dit belangrik om die sosiale en politieke faktore by ondersoeke na taalverandering te verreken (vgl. Mair 2006:182–3; 2015:6; Coupland 2014a:70). Coupland (2009, aangehaal in 2014b:282) stel voor dat die term sociolinguistic change (voortaan “sosiolinguistiese verandering”) gebruik moet word vir hierdie geïntegreerde benadering tot taalverandering waarin die tweedeling tussen taalverandering en sosiale verandering opgehef word en navorsing daarop gerig is om die veranderende verhouding tussen taal en samelewing te verken en te verklaar. Die linguistiese proses informalisering kan gesien word as ’n weerspieëling van die demokratiseringstendense wat in ᾽n samelewing voorkom, en juis daarom behoort sosiale veranderinge ontgin te word as ᾽n integrale deel van die ontledingsraamwerk by die informaliseringsproses.

Die demokratiese politieke bestel wat ná 1994 in Suid-Afrika gevolg het, het ᾽n merkbare invloed op die Afrikaanse taallandskap gehad, en wel op verskeie vlakke. Een van die belangrikste makrovlakveranderinge was die toenemende oorheersing van Engels as hoëfunksietaal en die gepaardgaande afname van Afrikaans in die openbare domein as byvoorbeeld uitsaaitaal, onderrigtaal, mediataal, regstaal en taal van die staatsdiens (vgl. Giliomee 2014:579–82; 585–93; Verhoef 1997:15–6). Vir die Afrikaanssprekende het daar ’n (nuwe?) diglossiese situasie tussen Afrikaans en Engels geheers: Afrikaans was nou grotendeels ᾽n omgangstaal met Engels die hoëfunksietaal. Steyn en Duvenhage (2011:207) wys byvoorbeeld daarop dat in die periode 2003–2008 taalvermenging in wit huishoudings toegeneem het, en wel in só ᾽n mate dat dit bruin mense se taalvermenging ingehaal en verbygesteek het. Tradisioneel was kodevermenging met bruin Afrikaanssprekendes geassosieer. Die toename in die vermenging van Engels en Afrikaans veral vanaf die 1990’s is ᾽n direkte gevolg van die tweetalige situasie wat hom in menige Afrikaanssprekende se professionele en private lewe afspeel: Engels word toenemend as beroepstaal gebruik, terwyl Afrikaans die omgangstaal is. Dit is dus onvermydelik dat die omgangstaal (wat in intieme, ontspanne, niegemoniteerde situasies gebesig word) sterk deur die dominante taal Engels beïnvloed sal word (vgl. Ponelis 1998:5).

᾽n Tweede verandering in die Afrikaanse taallandskap wat in die postapartheidsera waargeneem kon word, is die demokratiseringstendense wat toenemend in die skryftaal asook die openbare domein begin voorkom het. Odendaal (2015:40–50) wys in hierdie verband daarop dat daar sedert 1990 doelbewuste pogings was om die Afrikaanse literêre sisteem meer inklusief, oftewel demokraties, te maak deur die insluiting van voorheen gemarginaliseerde stemme in die poësie. Vanaf die 1990’s word omgangsvariëteite toenemend in literêre werke aangewend om uitdrukking te gee aan hierdie demokratiseringstendens in die Afrikaanse letterkunde (vgl. Odendaal 2015:40–3). Hierdie toenemende aanwending van omgangsvariëteite as skryftaalkode was nie net beperk tot die Afrikaanse poësie nie, maar kom ook in ander literêre genres voor, waaronder jeugromans, wat veral ná 1994 ’n bloeitydperk beleef het. ᾽n Voorbeeld hiervan is die roman Daar’s vis in die punch deur Jackie Nagtegaal (2002) wat hewige polemiek ontlok het oor die Engels-Afrikaanse taalvermenging wat daarin voorkom.

Omgangsvariëteite was egter nie net beperk tot die literêre domein nie, maar is ook in die drukmedia as skryftaalkode aangewend. Tienerafrikaans word byvoorbeeld meer dikwels ingespan as skryfkode in tydskrifte soos Hoesit en jeugbylaes tot hoofstroomkoerante (soos Jip by Beeld) wat daarop gerig is om die tienermark te bereik. Dit was egter met die verskyning van die poniekoerante Son en Sondag in onderskeidelik 2003 en 2007 dat die Afrikaanse medialandskap onherroeplik verander het (vgl. Saal 2017). Die suksesse van veral die poniekoerant Son het moontlik daartoe bygedra dat hoofstroomkoerante soos Rapport en Beeld toenemender tekens van informalisering begin toon het. Die versagtende houding van hoofstroom- Afrikaanse koerante teenoor veral die insluiting van Engelse woorde (alhoewel in skuinsdruk) in hul berigte die afgelope paar jaar dien as bewys hiervan. Die sporadiese insluiting van Engelse woorde in berigte van die hoofstroom- Afrikaanse Sondagkoerant Rapport die afgelope paar jaar, alhoewel hoofsaaklik in die sitaatgedeeltes daarvan, dien as bewys dat die formele skryfstyl in Rapport meer omgangstaalkenmerke weerspieël. Smith e.a. (2012:228) wys daarop dat hoofstroomkoerante soos Rapport en Beeld almal sekere poniekoerantkenmerke oorgeneem het. Hierdie kenmerke sluit in ᾽n groter klem op vermaak, die dramatiese aanbieding van nuusberigte en sensasionalisme, insluitend ᾽n groter fokus op triviale nuus en die gebruik van ᾽n meer verpersoonlikte omgangstaal.

Dit is opvallend dat die Afrikaanse uitsaaimedia ná die eeuwending meer dialektiese variasie begin getoon het as wat vroeër die geval was. Dit is nou nie meer vreemd om in TV-sepies soos Arendsvlei, 7de Laan en Suidooster en geselsprogramme soos Jou show streeksdialekte en ander spreektaalvorme van Afrikaans te hoor nie. Ook die musiektoneel weerspieël ᾽n toename in die benutting van omgangsvariëteite. Kaapse Vernakulêre Afrikaans word byvoorbeeld deur plaaslike kunstenaars soos Brasse vannie Kaap, Jack Parow en D Low as skeppingsvorm gebruik (Van der Rheede 2012:4). Teaterproduksies, soos Afrikaaps en Kap ᾽an, asook musiekspele soos Ghoema en District Six, is tekenend van die herlewing en groei van die omgangsvariëteite as kreatiewe uitdrukkingsvorm (vgl. Van der Rheede 2012:4).

Op akademiese gebied was daar ook ᾽n herlewing van die debat oor die demokratisering van Standaardafrikaans en ’n aandrang daarop dat die dialektiese basis van Standaardafrikaans verruim moet word (Van Rensburg 1992; Ponelis 1998:68; Willemse 2012:64–87; Odendaal 2014). Normatiewe bronne soos die AWS (2009) en die HAT (2015) het ook begin om met die insluiting en erkenning van verskeie omgangsvorme ’n beduidende kopknik ten gunste van die omgangsvariëteite te gee.

Die eeuwending bring ook ᾽n toename in digitale kommunikasie mee wat veral gekenmerk word deur die benutting van ᾽n oorwegend informele en eiesoortige taalgebruik (Markman 2013:539). Sosialemediaplatforms soos Facebook en Twitter wat met die eeuwending die voorkeurmetode van (interpersoonlike) kommunikasie geword het, het nou nuwe geleenthede geskep vir die toenemende aanwending en verspreiding van ’n informele styl.

Impressionistiese waarnemings van die tipe Afrikaans wat in formele gebruikskontekste aangewend word, dui daarop dat daar ’n groeiende informaliseringstendens waargeneem kan word in openbare ruimtes wat tradisioneel as formeel gekenmerk is. Volgens McLachlan (2015:514), ’n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, is Engels-Afrikaanse taalvermenging, of "gemengde brabbeltaal", soos hy dit stel, deesdae kenmerkend van die gebruik van Afrikaans in die openbare domein:

Almal weet hoeveel Engelse woorde in private Afrikaanse gesprekke gebruik word, maar wat besonder steurend is, is die skynbare onvermoë van Afrikaanssprekende mense om hulle in gesprekke of onderhoude met die media of by openbare geleenthede in goeie Afrikaans uit te druk sonder om hulle gedurig (en onnodig) van Engelse woorde en uitdrukkings te bedien.

Luister maar hoe gereeld sportlui van game, championships, score, tackle en so meer praat. Afrikaanse sportterme word skynbaar, soos meisies wat fluit, by die deur uitgesmyt. En dan praat ek nie eens van die sogenaamde pop- en glanspersoonlikhede nie, want die meeste vind dit skynbaar onmoontlik om ’n sin sonder ’n Engelse woord in te uiter.

[...]

Mense van alle kleure en geure en stande en ouderdomme vind dit blykbaar al hoe moeiliker om in die openbaar te praat sonder om Engelse woorde en uitdrukkings te gebruik, of hulle gee nie meer om om gemengde brabbeltaal in die openbaar te gebruik nie, of hulle dink die Engels tussenin laat hulle byderwets of jonk of koel of meer aanvaarbaar of iets klink.

Die informalisering van die media en ander openbare domeine wat tradisioneel met ’n formele register geassosieer word, maak deel uit van wat Fairclough (1992, soos na verwys in Mair 2015:7) die "demokratisering van die diskoers" noem. Demokratisering van die diskoers verwys na die erodering van daardie sigbare merkers van magsongelykheid, waaronder die ongelykheid tussen die spreek- en skryftaal. Voorbeelde van sodanige "demokratisering van die diskoers" kan waargeneem word in koerante en advertensies wat al hoe meer tekens van ’n informele spreektaalregister vertoon (Fairclough 1992, soos na verwys in Mair 2006:187; ook Duguid 2010 en Vis, Sanders en Spooren 2012 vir ’n bespreking van die toenemende informalisering in koerante). Die informalisering van die skryftaal staan in diens van ’n veranderende verhouding tussen die spreek- en skryftaal wat die vermindering inhou van daardie merkers van afstand, prestige en meerderwaardigheid waarmee die skryftaal geassosieer word (vgl. Leech e.a. 2016:259).

Die toenemende informaliseringstendense wat in die Afrikaanse media en ander openbare ruimtes waargeneem kan word, laat vrae ontstaan oor die aard van die invloed daarvan op formele Skryftaalafrikaans (en by implikasie Standaardafrikaans). Watter invloed het die media op taalverandering, spesifiek op die informalisering van die skryftaal?

2.2 Rol van die media by taalverandering

Ondersoeke na die invloed van die massamedia op sosiolinguistiese verandering fokus primêr op die rol van televisie. Om TV regstreeks of op die internet te kyk, is volgens Buchstaller (2014:206), die primêre ontspanningsaktiwiteit by tieners: in die VSA spandeer Amerikaanse tieners ongeveer 4 uur en 30 minute per dag voor die TV en volgens ’n ondersoek deur die Nielsen Foundation (2009; aangehaal in Buchstaller 2014:206) spandeer tieners in lande soos Suid-Afrika en Ierland selfs veel langer tyd voor die TV as hul Amerikaanse eweknieë.

Oor die invloed van die media op sosiolinguistiese verandering bestaan daar twee duidelik uiteenlopende standpunte. Sommige sosiolinguiste, soos Trudgill en Labov, verwerp die aanname dat die media enigsins ’n invloed op sistemiese linguistiese verandering kan uitoefen. In die woorde van Labov (2001:228): “But all of the evidence generated in this volume and elsewhere points to the conclusion that language is not systematically affected by the mass media, and is influenced primarily in face-to-face interactions with peers.”

Ander sosiolinguiste, soos Coupland (2014a), Kristiansen (2014) en Ota en Takano (2014), is weer van mening dat die media wel ’n beduidende rol kan speel, hetsy direk of indirek, by sosiolinguistiese verandering.

Dit is egter nie so maklik om ’n direkte verband te vestig tussen die invloed van die media en linguistiese verandering nie, juis vanweë die feit dat sodanige linguistiese verandering ook met ander sosiopolitieke en ekonomiese veranderinge kan saamval (Buchstaller 2014:209; Stuart-Smith en Ota 2014:129). Die empiriese bewyse vir die potensiële invloed van die media is egter nog beperk, wat daartoe lei dat die invloed van die media hoogstens afgelei kan word (sien die oorsig in Sayers 2014).

In sosiolinguistiese ondersoeke na die invloed van die media op taalverandering val die fokus veral op twee soorte veranderinge, naamlik strukturele linguistiese veranderinge en taalideologiese en taalhoudingsveranderinge (Stuart-Smith en Ota 2014:128). Volgens Buchstaller (2014:206) het die uitsaaimedia die potensiaal om linguistiese variante vinniger te versprei, asook om bepaalde ideologieë oor normatiewe taalgebruik te (her)vorm. Kristiansen (2014) wys byvoorbeeld hoe mediakontekstualiserings van die plaaslike dialekte in Noorweë bygedra het tot groter aanvaarding en waardering van die plaaslike dialekte, dit wil sê tot die bevordering en vestiging van die variasie-ideologie. Hierteenoor was die uitsaaimedia in Denemarke weer instrumenteel in die verspreiding en bevordering van die standaardtaal ten koste van die dialekte, dit is die bevordering van die standaardtaalideologie wat gelei het tot ’n proses van dialekgelykmaking ("dialect levelling").

Die media het ook ’n beduidende invloed op die snelle verspreiding van linguistiese variante oor geografiese grense heen. Daar word algemeen aanvaar dat linguistiese veranderinge hul oorsprong het in aangesig-tot-aangesig-interaksie, maar dat die media ’n invloed uitoefen op die snelle verspreiding van linguistiese variante oor geografiese grense en tyd heen (Stuart-Smith, Pryce, Timmins en Gunter 2013:502–5; Holmes 1992:237–8). So byvoorbeeld het die media ’n belangrike invloed gehad op die snelle globale verspreiding van die kwotatief "like" na verskillende variëteite van Engels, asook die verspreiding daarvan na ander tale, soos Afrikaans. Na hierdie snelle verspreiding van linguistiese variante / leksikale vernuwings word daar in die literatuur verwys as "off the shelf"-veranderinge (Eckert 2003, soos na verwys in Stuart-Smith e.a. 2013:505).

Die media word dus gesien as ’n "rak" waar sprekers leksikale vernuwings toe-eien, herkontekstualiseer en hersemiotiseer vir hul gelokaliseerde gesprekskonteks (Buchstaller 2014:209). Volgens Buchstaller (2014:210) verskaf die uitsaaimedia aan die spreker sosiolinguistiese hulpbronne wat die spreker vir bepaalde stilistiese doeleindes kan gebruik, byvoorbeeld om register te sinjaleer. ’n Voorbeeld hiervan is die gewilde uitdrukking "Gun my die geleentheid om ’n paar gevleuelde woorde te uiter" wat die bekende karakter Oubaas in die Afrikaanse sepie 7de Laan dikwels gebruik het om sy formele toesprake in te lei. Dit is nie ongewoon om hierdie uitdrukking tydens toesprake by geleenthede soos troues en verjaardagvieringe te hoor nie. Stuart-Smith en Ota (2014:134; na aanleiding van Coupland 2007:185) wys daarop dat "some stylistic variation in the community increasingly [has] the feel of mediated discourse".

Vir die uitsaaimedia om by die snelle linguistiese verspreiding ’n rol te speel is blote blootstelling aan die media nie genoeg nie. Ondersoeke het bevind dat die effek van die media op linguistiese verandering verhoog word wanneer die spreker ’n sielkundige en emosionele betrokkenheid by ’n program en/of karakter openbaar (soos die karakter Naomi in die sepie Binnelanders) wat met die spreker se sosiale ondervinding strook (Stuart-Smith e.a. 2013; Stuart-Smith en Ota 2014). Naas hierdie emosionele belegging van die spreker by programme/karakters speel die sosiale betekenisse en sosiale prestige (hetsy sigbaar ("overt") of bedek ("covert")) wat die spreker met hierdie vernuwende variante verbind, ’n ewe belangrike rol in die snelle verspreiding van linguistiese variante (vgl. Stuart-Smith e.a. 2013:531; Holmes 1992:237). Media het die potensiaal om nuwe sosiale betekenisse vir bestaande linguistiese variante te bied (Stuart-Smith en Ota 2014:133).

Dit is nie vergesog om aan te voer dat linguistiese vernuwings wat in die media "opgevoer" (gestileer) word, kan deursypel na die formele skryftaalregister van jongmense nie, juis vanweë die feit dat die "strict divisions between media language and community language are becoming blurred as linguistic styles are produced and reproduced" (Stuart-Smith en Ota 2014:133). Media het die potensiaal om die skeiding tussen die private en die openbare ruimtes af te breek, sodat die twee ruimtes mettertyd ineengestrengel kan raak. Die media stel nie net die kyker bloot aan taalvariasie nie, maar skep ook geleenthede vir die vestiging van nuwe taalhoudings en linguistiese voorstellings (Kristiansen 2014:115). Die koverte prestige (d.i. in terme van status of solidariteit) wat sommige linguistiese variante in mediataal verkry, kan ook die toe-eiening daarvan in die formele register verhaas.

Die informele styl wat in die mediataal ingespan word, het die potensiaal om as model te dien vir hoe tieners hul skryftaalregister stileer. Ota en Takano (2014:187) het byvoorbeeld bevind dat die informele, ontspanne TV- Japannese aksent in sommige gevalle die standaardaksent vervang het. Die verwagting in hierdie ondersoek is nie dat die skryftaalregister deur ’n spreektaalregister vervang sal word nie, maar wel dat tieners linguistiese/vernuwende variante van die mediarak sal kies en vir hul spesifieke kommunikasiebehoeftes sal gebruik. Die veronderstelling in hierdie studie is dat Noord- en Wes-Kaapse tieners se skryftaalregister van Afrikaans ’n redelike mate van ooreenkoms sal toon wat betref die informaliseringskenmerke, juis vanweë die feit dat die mediataal as model kan dien vir hul gestileerde voorstelling van ’n formele skryftaalregister. Mantilla (2004, soos na verwys in Nuolijärvi en Vaattovaara 2011:70) het met sy ondersoek na jongmense se geskrewe Fins bevind dat daar, ongeag hul geografiese herkoms, ooreenkomste met omgangsvorme ("colloquialisms") en sekere dialekkenmerke in hulle geskrewe tekste waargeneem kon word.

Die mediakontekstualiserings van dialektiese variasie het ook die potensiaal om sodanige variasie te legitimeer as gepas vir daardie institusionele ruimtes wat vroeër deur die standaardvorm oorheers is, en as sodanig kan dit daartoe bydra dat wat aanvanklik as "gepaste" en "onvanpaste" taalgedrag gesien is, vir bepaalde gebruikskontekste herevalueer, herbedink en aangepas word. Coupland (2014a:78) argumenteer dat "mediatization changes the terms of our social engagement with language [...] [and that media] continually reinvent new indexical relations, positing new relations between ways of speaking and social ways of being" (ons invoeging). Die reëlmatige blootstelling aan dialektiese variasie in TV-programme soos sepies waar die leser ’n emosionele belegging maak, kan daartoe lei dat dialektiese vorme nie meer die aandag trek nie, omdat dit gesien word as "ongewoon", "vreemd" of "koddig", wat, op sy beurt, tot gevolg kan hê dat sulke dialektiese vorme die skryftaalregister ongesiens kan binnesluip (vgl. ook Nuolijärvi en Vaattovaara 2011:70).

Ondersoeke na die invloed van die media op sosiolinguistiese verandering is hoofsaaklik beperk tot die uitsaaimedia, terwyl die invloed van sosiale media op sosiolinguistiese verandering nog weinig aandag geniet het (Buchstaller 2014:212). Ondersoeke na die invloed van SMS-taalgebruik (taalgebruik in teksboodskappe) is hoofsaaklik beperk tot die spel- en skryfvermoë van skoolleerders. Hierdie ondersoeke lewer egter heelwat uiteenlopende resultate, wat gevolgtrekkings bemoeilik (vgl. die oorsig in Steyn 2015:36-61). Steyn (2015) het ondersoek ingestel na Engelse skoolleerders se vermoë om die foutiewe gebruik van SMS-taal in ’n formeel-geskrewe brief korrek te identifiseer. Hy het bevind dat leerders in staat was om twee derdes van die SMS-foute in die brief korrek te identifiseer. By nadere ondersoek het dit egter geblyk dat die SMS-foute wat leerders makliker kon identifiseer, sigbare SMS-taalmerkers is, soos letter-en-getal-homofone (“b4”), simbole en emotikone (#), niekonvensionele spellings ("skool" x "school"), en akronieme en inisialismes (“SA”, “LMAO”). Die “minder opsigtelike" informele taalmerkers is soms deur leerders misgekyk en nie gekorrigeer nie. Van die minder opsigtelike informele taalmerkers het ingesluit: die informele aanspreekvorm ("Hi"), slengmerkers ("cool"), inkortings ("info"), klisis ("won’t") en sametrekkings ("gonna" x "going to"). Dit blyk dus dat sekere omgangsvorme by leerders so ingeburger en gevestig kan raak dat ’n registeronderskeid nie meer gehandhaaf word nie.

Soos uit bostaande bespreking blyk, behoort die impak van die media (beide die uitsaaimedia en die informele sosiale media) op die informalisering van die skryftaal nie ontken te word nie. Die veronderstelling in hierdie ondersoek is dat ongeag die verskillende geografiese liggings van die Afrikaanse tieners, hulle formele skryftaal tog ’n mate van ooreenkoms sal toon met mekaar wat betref sekere informaliseringskenmerke. Hierdie potensiële ooreenkomste in die gebruik van informele merkers in die skryftaalregister kan tot ’n sekere mate direk of indirek aan die invloed van die media toegeskryf word.

Die veronderstelde informalisering van die skryftaal onder Afrikaanse tieners laat vrae ontstaan oor die blywende aard van sodanige taalveranderinge. Is sulke taalveranderinge beperk tot slegs dié bepaalde generasie of kan dit gesien word as ’n vroeë stadium van taalverandering in die taalgemeenskap? In die volgende afdeling word enkele van die metodologiese probleme wat ondersoeke na taalveranderinge by tieners tot gevolg kan hê, belig.

 

3. Metode van ondersoek

In hierdie studie word daar ondersoek ingestel na die veranderinge wat by die formele skryftaal van Afrikaanse tieners voorkom. Die primêre aanname vir die keuse van tieners as ondersoeksubjek is dat hulle gewoonlik baie meer ontvanklik vir taalverandering is.

In hierdie afdeling word daar eerstens gekyk na hoe die korpus van formeel geskrewe tekste saamgestel is, en daarna word enkele metodologiese uitdagings belig.

3.1 Die korpus

Graad 10-leerders4 verbonde aan ᾽n skool in die Wes-Kaap (Piketberg) en ’n skool in die Noord-Kaap (Upington) en wat Afrikaans as huistaal besig, is versoek om tydens ’n klasperiode van ongeveer 40 minute lank ’n formele opstel van ongeveer ’n bladsy lank te skryf.

Die skool in die Noord-Kaap het 29 opstelle gelewer waarvan 13 (45%) deur seuns en 16 (55%) deur dogters geskryf is. Die onderwerpe het ingesluit:

Wat ’n wonderlike wêreld!
Só het ek my meisie of kêrel ontmoet
Die geheimsinnige verdwyning van ...
Moeders sonder werk.

Die skool in die Wes-Kaap het 36 opstelle gelewer waarvan 9 (25%) deur seuns en 27 (75%) deur dogters geskryf is. Die onderwerpe het ingesluit:

Hoe ek ternouernood aan die dood ontkom het
Die moderne jeug gaan die kreeftegang.

Twee stelle korpusse van formeel geskrewe opstelle is onderskei: ’n Noord-Kaapse korpus bestaande uit 8 297 woorde en ’n Wes-Kaapse korpus bestaande uit 8 120 woorde. Hierdie twee stelle korpusse is vervolgens korpuslinguisties ontleed deur te fokus op die omgangsvorme wat in die korpusse voorkom. Die aard en frekwensie van die omgangsvorme in die korpusse is met mekaar vergelyk en bespreek. Die frekwensie van die omgangsvorme is soos volg bereken:

(Berekening)

Frekwensie-ontledings, wat met die hand gedoen is (en nie met behulp van korpussagtewareprogramme nie), en wel op grond van die groot verskeidenheid omgangsvorme, dui aan hoe frekwent die omgangsvorme in die twee tekskorpusse voorgekom het.

3.2 Beperkinge van die skyntydsbenadering

In hierdie ondersoek word ’n skyntydsbenadering ("apparent-time approach") gevolg, eerder as ’n werkliketydsbenadering ("real-time approach") (vgl. Mair 2006:21–33). Die gebrek aan data oor geskrewe tekste deur Afrikaanse tieners in vorige tydsperiodes het dit onmoontlik gemaak om ’n werkliketydsbenadering te volg waar data uit twee of meer verskillende tydsperiodes met mekaar vergelyk kan word. Die skyntydsbenadering word in hierdie ondersoek gevolg, met inagneming van die beperkinge. Onder ’n skyntydsbenadering tot taalverandering word verstaan dat sinchroniese data versamel en ontleed word, en daarna dan afleidings oor waarskynlike diachroniese data gemaak word (Mair 2006:29). Om taalveranderinge by jong sprekers te identifiseer, is geen maklike taak nie, omdat hierdie taak veral deur die verskynsel ouderdomsgradering ("age grading") bemoeilik word (Mair 2006:29). Hierdie verskynsel hou in dat niestandaardvorme ’n hoër frekwensie onder jong sprekers geniet, maar dan afneem soos die spreker ouer word en meer standaardvorme begin gebruik om aan bepaalde taalverwagtinge te voldoen (vgl. Holmes 1992:226).

Die aanname wat in hierdie ondersoek gemaak word, is dat spreektaalvorme wat die skryftaal van Afrikaanse tieners binnedring, as potensiële merkers van ’n vroeë fase van linguistiese verandering gesien kan word, juis omdat dit deur die (bewuste) filter van formaliteit geglip het (vgl. ook Mair 2006:29). Dit hou egter nie in dat alle informaliseringskenmerke wat in die skryftaal van tieners voorkom, noodwendig as blywende linguistiese verandering gesien kan word nie. Die waarde van hierdie ondersoek lê egter daarin dat hierdie skyntydsondersoek ’n aanduiding kan gee van watter linguistiese veranderinge om verdere ondersoek sou vra (vgl. Mair 2006:34).

 

4. Spreektaalkenmerke in die skryftaal

Die spreektaalkenmerke in die twee korpusse val in twee hoofgroepe uiteen: algemeen gebruiklike omgangsvorme ("colloquialisms") en dialektiese vorme. By dialektiese vorme word ’n verdere onderskeid getref tussen tipiese streek- en groepmerkers en suprastreeksvorme. Onder laasgenoemde word verstaan streeksvorme wat nie meer streekspesifiek is nie, maar ’n voorkomsfrekwensie in meerdere streke het. ’n Derde groep verskynsels is in die twee korpusse geïdentifiseer, naamlik ortografiese veranderinge en hiperkorrekte taalgebruik. Hierdie verskynsels kan nie as tipiese spreektaalverskynsels gesien word nie, maar dit het so frekwent in die teksdata voorgekom dat dit nie in die bespreking geïgnoreer kon word nie. Hierdie derde groep verskynsels gee ’n aanduiding van die potensiële veranderinge wat die skryftaal mettertyd kan kenmerk.

Vervolgens word elk van die drie kategorieë aan die hand van tersaaklike voorbeelde uit die twee korpusse bespreek.

4.1 Algemeen gebruiklike omgangsvorme

In die twee korpusse is die algemene omgangsvorme uiteraard die frekwentste. Die algemene omgangsvorme is egter nie beperk tot slegs die leksikon nie, want ook die grammatika toon verskeie spreektaalinvloede. Ook enkele algemene uitspraakverskynsels (soos assimilasie) vind in die skryftaal van die tieners neerslag.

4.1.1 Spreektaalinvloede op leksikale gebied

Spreektaalinvloede op leksikale vlak kom op vier wyses in die geskrewe opstelle tot uiting, t.w. as (i) sinsinterne kodewisseling na Engels, (ii) verafrikaansing van Engelse ontlenings, (iii) direkte vertalings uit Engels, en (iv) Afrikaans-spesifieke spreektaalitems. Hierdie vier vorme van spreektaalinvloed kom vervolgens aan bod, waarna daar kortliks op (v) die frekwensie van spreektaalitems in kombinasie gewys word.

(i) Sinsinterne kodewisseling na Engels

Voorbeelde van kodewisseling uit die twee korpusse word in tabel 1 verskaf.

Tabel 1. Voorbeelde van sinsinterne kodewisseling

Wes-Kaap Noord-Kaap
En hulle gaan ons vir ’n spin vat Van dai omlik as jy hom sien begin jou net begin smile
Party jongmense probeer cool wees Die eerste dag toe ek haar sien toe likes ek haar
... maar hulle fool hulleself ... en dies wat so boring is en vervelag
Baie tieners word gedwing om voortuidige (sic) sex te hê ... ek het weer terug na die party gekeer
Daarna het ek al my puzzles gevul Niemand sal wil down gedruk word deur ’n ander nie

 

Frekwensie-ontledings het getoon dat die frekwensie van kodewisseling in die Wes-Kaapse korpus op 1,72 wisselings per 1 000 woorde te staan gekom het, terwyl dit in die Noord-Kaapse korpus 2,05 wisselings per 1 000 woorde was. Die marginaal hoër frekwensie van individuele wisselings in die Noord-Kaapse korpus is betekenisvol gesien in die konteks van die geografiese variëteite wat in die twee streke gebesig word. In die Wes-Kaap word die geografiese variëteit Suidwestelike/Wes-Kaapse Afrikaans (ook Kaapse Vernakulêre Afrikaans) gebesig wat die ineenvlegting van Afrikaans en Engels as dominante struktuurkenmerk het (vgl. Hendricks 2012:103; 2016:3, 6–7; Ponelis 1993:65). Hierteenoor word die Afrikaans-Engelse vermenging nie gereken as een van die heersende struktuurkenmerke van die geografiese variëteit wat in die Noord-Kaap gebesig word nie, te wete Noordwestelike Afrikaans (ook Oranjerivierafrikaans) (waaronder die subvariëteite Namakwalandse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans) (vgl. Ponelis 1993:63). By ’n nadere ontleding van die Noord-Kaapse korpus was die invloed van die media (en veral dan die sosiale media) duidelik waarneembaar. Van die frekwentste wisselings het ingesluit die Engelse items"like"(5 keer), "smile" (3 keer) en "party"(2 keer). Die insluiting van items soos "like" en "smile" in die geskrewe opstelle kan moontlik toegeskryf word aan die gereelde gebruik van en blootstelling aan die like-funksie en die smile-emoji’s op sosiale media.

Die insluiting van Engelse leksikale items in ’n formele skryftaak (wat as die sigbaarste taalmerkers van informaliteit gesien sou kon word) is moontlik tekenend van die ingeburgerde en gevestigde aard van hierdie Engelse leksikale items in die skryftaalregister van tieners. Die feit dat sulke sigbare informele merkers (d.i. Engelse leksikale items) in die geskrewe opdragte ingesluit word, kan dui op ’n waarskynlike normalisering (en legitimering) van kodewisseling (of dan ’n beperkte vorm daarvan) in skriftelike gebruik onder tieners. Hierdie veronderstelde normalisering van kodewisseling impliseer ook ’n geleidelike normverandering: die grense van wat as "gepaste" en "onvanpaste" taalgebruik gesien word, word al hoe meer vloeibaar en daar is duidelike verskuiwings waarneembaar.

Die rol van die media om normveranderings teweeg te bring, kan nie geringgeskat word nie. Coupland (2007:171; 2010:69) wys byvoorbeeld daarop dat die toenemende gebruik van die vernakulêr in veral die massamedia op lang termyn daartoe kan bydra om voorheen gestigmatiseerde variëteite van ’n nuwe positiewe inhoud te voorsien en gevestigde sosiale stereotipes wat met hierdie spreektaalvorme verbind word, uit te daag. Hy wys byvoorbeeld daarop hoe die gestigmatiseerde noordelike Engelse vernakulêr deur blootstelling in die media gewild geword het deurdat dit met vernuwende kinder-TV-programme geassosieer is (Coupland 2007:185). Afrikaanse tieners se gereelde blootstelling aan Engels, asook kodewisseling in die uitsaai- en sosiale media (laasgenoemde met sy kenmerkende informele skryftaalvorm), kan daartoe lei dat die ineenvlegting van Engelse leksikale items in die skryftaal nie meer die aandag trek nie en derhalwe al hoe meer as legitieme (formele) skryfvorme gesien word.

(ii) Verafrikaansing van Engelse ontlenings

’n Strategie wat Afrikaanssprekers baie keer in skriftelike gebruik aanwend, is om Engelse ontlenings in ’n Afrikaanse "gewaad" aan te bied wanneer die gepaste Afrikaanse ekwivalent by hulle ontbreek. In tabel 2 hier onder word enkele voorbeelde van sulke verafrikaanste vorme uit die twee korpusse verskaf:

Tabel 2. Voorbeelde van verafrikaanste vorme

Wes-Kaap Noord-Kaap
Net om seker te maak ek is oraait vat hulle my hospital toe Toe is dit moes wat ek nie weer van haar begin warrie het nie
toe is daar ᾽n groot hond in die jaart Ons land is so opses om te weet wat in ons wêreld aangaan
Die motor het  
Hulle bank klasse om verkeerde dinge te doen.  
Ek het my memorie verloor  

 

Dit was opvallend dat die tieners van die Wes-Kaap meer gebruik gemaak het van verafrikaanste vorme as die Noord-Kaapse tieners (Wes-Kaap: 1 verafrikaanste vorm per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 0,2 verafrikaanste vorm per 1 000 woorde). Die rede hiervoor kan wees dat Engelse leksikale items so gevestig of ingeburger geraak het dat dit die ekwivalente Afrikaanse item verdring het, met die gevolg dat verafrikaanste vorme aangewend word in ’n poging om te voldoen aan die norme ten opsigte van wat gesien word as "gepaste" Afrikaans in die skriftelike domein. Sommige verafrikaanste vorme (soos “opses”, “warrie” en “memorie”) kan as ’n doelbewuste strategie gesien word om aan die teks ’n verhoogde Afrikaanse "karakter" te gee (vgl. AWS 2017:708), terwyl dit nie die geval is by meer ingeburgerde verafrikaanste vorme (soos “jaart”, “brieke” en “bank”) nie. Die feit dat heelwat minder verafrikaanste vorme by die Noord-Kaapse tieners voorkom, het waarskynlik daarmee te make dat tieners óf die ekwivalente Afrikaanse vorm makliker kon oproep óf gewoon voorkeur gegee het aan die direkte oorneem van die Engelse leksikale item.

(iii) Direkte vertalings uit Engels

Voorbeelde van direkte vertalings uit Engels wat in die twee korpusse voorkom, word in tabel 3 verskaf:

Tabel 3. Voorbeelde van direk-vertaalde vorme

Wes-Kaap Noord-Kaap
Die pa’s maak net kinders. Toe begin dinge uitrafel en ons breek op
Baie tieners hang hulle op aan dagga en tik. Mense van ander plekke kom hou somstyds vakansie hier.
Kinders wat vandag matriek gemaak het Later was stoom motors (sic) ontdek agterna was die eerste motor gemaak.
  Die wonderlike wêreld wat deur God gemaak is, moet ons respek.

 

Direkte vertalings het, soos in die geval van verafrikaanste vorme, meer frekwent voorgekom onder die Wes-Kaapse tieners in vergelyking met die Noord-Kaapse tieners (Wes-Kaap: 1,48 direkte vertalings per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 0,84 direkte vertalings per 1 000 woorde). Die meer frekwente gebruik van direkte vertalings by Wes-Kaapse tieners kan tekenend wees van ’n groter invloed van Engels op die leefwêreld van hierdie tieners. Volgens Ponelis (1998:40) kan direkte vertalings funksioneer as ’n kragtige strategie wat deur Afrikaanssprekendes gebruik kan word "om die 'Engelse' konseptuele wêreld sy eie te maak". In teenstelling met direkte ontlenings uit Engels tree direkte vertalings op soos Afrikaanse woorde; dus verbaas dit nie dat direkte vertalings baie keer deur die spreker self as Standaardafrikaans gesien word nie (vgl. De Wet 1997:389–91).

Die invloed van Engels op die Afrikaanse leksikon word duideliker as daar gekombineerd gekyk word na die drie talige verskynsels wat hier bo bespreek is (te wete kodewisseling, verafrikaanste vorme en direkte vertalings). ’n Gekombineerde frekwensie-ontleding van die drie bespreekte verskynsels hier bo toon dat in skriftelike gebruik Wes-Kaapse tieners 4,19 Engelsafkomstige items per 1 000 woorde aanwend, terwyl Noord-Kaapse tieners 3,13 Engelsafkomstige items per 1 000 woorde gebruik. Hiervolgens blyk dit dat die Wes-Kaapse tieners se skryftaal, wat betref die leksikon, sterker in ’n Engelse konseptuele web gespin is as die Noord-Kaapse tieners s’n. Dit blyk dat Noord-Kaapse tieners, in die algemeen, meer geredelik toegang tot of blootstelling aan Standaardafrikaanse ekwivalente het, terwyl die Wes-Kaapse tieners meer geredelik gekonfronteer word met Engelse leksikale items wat dan óf direk oorgeneem word, óf klankmatig verafrikaans word, óf direk na Afrikaans toe vertaal word.

(iv) Afrikaans-spesifieke spreektaalitems

Afrikaans-spesifieke spreektaalitems is daardie groep spreektaalitems wat nie herkenbaar deur Engels beïnvloed is nie en wat geografies verbreid in die Afrikaanse spraakgemeenskap voorkom. Van hierdie spreektaalitems is in die HAT (2015) gelemmatiseer en met die etiket "informeel" gemerk (byvoorbeeld "daai"), terwyl ander leksikale items (byvoorbeeld "dies" < diegene) of hulle betekenisse nog nie opgeneem is nie. In tabel 4 hier onder word enkele van hierdie verbreide spreektaalitems geïllustreer aangegee.

Tabel 4. Voorbeelde van Afrikaans-spesifieke spreektaalitems

Wes-Kaap Noord-Kaap
Om meisies of oukies te hê Na ’n maand het hy trug gekom
Toe kry ek ’n helse koppyn En dies wat so boring is en vervelag
Baie tieners moet die skool los omdat hulle swanger is En hy het gewonder watse mooi meisie is die
Toe ek weer sien was daar ’n trop mense Ek het nie geweet wat om op daai oomblik te maak nie
  van dai dag was vir jou baie spesiaal

 

Frekwensie-ontledings het getoon dat Noord-Kaapse tieners marginaal meer dikwels gebruik gemaak het van Afrikaans-spesifieke spreektaalitems vergeleke met die Wes-Kaapse tieners (Wes-Kaap: 0,74 spreektaalitems per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 1,21 spreektaalitems per 1 000 woorde).

(v) Frekwensie van spreektaalitems in kombinasie

Wanneer die spreektaalitems in (i) tot (iv) hier bo in kombinasie beskou word, is die frekwensie van algemeen gebruiklike spreektaalitems in beide korpusse basies dieselfde: Wes-Kaapse tieners het 4,93 algemeen gebruiklike spreektaalitems per 1 000 woorde in hul opstelle gebruik, terwyl Noord-Kaapse tieners 4,34 spreektaalitems per 1 000 woorde gebruik het. In die geheel beskou, is daar is dus min te kies tussen die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse tieners wat betref die frekwente aard van die algemene omgangsvorme. Die verskil tussen die twee tienergroepe lê eerder in die tipe omgangsvorm wat aangewend word.

Dit blyk dus dat die skryftaal van sowel die Wes-Kaapse as die Noord-Kaapse tieners neigings toon van leksikale informalisering in soverre dit die algemene omgangsvorme betref. Die vraag of hierdie informaliseringstendens ook op grammatiese gebied waarneembaar is, word vervolgens ondersoek.

4.1.2 Spreektaalinvloede op grammatiese gebied

Grammatiese veranderinge is, in teenstelling met leksikale veranderinge, nie altyd so maklik sigbaar nie en gebeur eintlik "onder die oppervlak" (vgl. Mair 2006:17). Dit is by grammatiese veranderinge waar die grens tussen "informeel" en "formeel" asook tussen "gepaste" en "onvanpaste taalgebruik" vervaag en nie so duidelik waarneembaar en onderskeibaar vir die spreker of skrywer is nie.

Die spreektaalinvloede wat op grammatiese gebied waargeneem kan word, sluit in (in dalende volgorde) onderskeidelik (i) voorsetselgebruik, (ii) werkwoordsvorme en -plasing, (iii) lidwoordweglating/-toevoeging en (iv) dubbele graadtrapvorming. Die bespreking word in paragraaf (v) hier onder afgesluit met ’n gekombineerde frekwensie-ontleding van al die bespreekte spreektaal- grammatiese verskynsels.

(i) Voorsetselgebruik

In die twee korpusse het die gebruik van die voorsetsel vir voor veral persoonsobjekte redelik frekwent voorgekom. Voorbeelde hiervan word in tabel 5 aangegee.

Tabel 5. Enkele voorbeelde van vir voor persoonsobjekte

Wes-Kaap Noord-Kaap
En hulle gaan vir ons vir ’n spin vat ... en vir hulle gevra
Ek het nie vir hom gehoor nie ... en vir ons gesit en geniet
Die tyd toe die suster kom het sy dadelik virdie dokter geroep ... om vir my weg te hou van die verkeerde dinge

 

Die gebruik van vir voor die persoonsobjek (soos in die voorbeelde hier bo geïllustreer) word gesien as kenmerkend van die spreektaal, terwyl die skryftaal voorkeur gee aan die gebruik sonder vir in objekkonstruksies waar vir opsioneel is (vgl. Carstens 2011:59). In die Wes-Kaapse korpus word die opsionele vir voor die objek ook na niemenslike objekte uitgebrei: Die tieners steel vir die dwelms.

Die voorkeurgebruik van die opsionele vir in objekkonstruksies word in verskeie dialekwerke beskryf as ’n kenmerkende verskynsel van Kaapse Vernakulêre Afrikaans wat via Laagportugees die variëteit binnegekom het (vgl. Hendricks 2012:107; Kotzé 1984:58; Raidt 1989:122). Alhoewel hierdie verskynsel met groter reëlmaat in die Wes-Kaapse korpus voorgekom het, is dit nie tot die Wes-Kaap beperk nie; trouens, dit het geografies ’n veel groter reikwydte (vgl. Ponelis 1993:267). Die voorkoms van die opsionele vir in objekkonstruksies ook onder Noord-Kaapse tieners dien as bewys van die geografies verbreide aard van hierdie verskynsel. Die verskynsel word hier as ’n algemeen gebruiklike spreektaalverskynsel gesien en nie as ’n geolektiese verskynsel nie.

Dit was verder opvallend uit die twee korpusse dat die gebruik van voorsetsels baie keer nie volgens die normatiewe patroon plaasvind nie, maar gereeld (soms weens Engelse invloed) ’n andersoortige voorsetselpatroon aanneem. Soos in tabel 6 aangedui, is dit onder meer die voorsetsels in, op, aan, van en na wat anders ingespan word.

Tabel 6. Voorbeelde van die andersoortige gebruik van die voorsetsels in, op, aan en van

Wes-Kaap Noord-Kaap
Daar is baie tienerswangerskappe in die jeug (x onder) maar in die ander kant (x aan)
Hulle almal loop net heeldag op die strate (x in) Ons het die hele aand daar op die park gesit (x in)
Ek ry toe vas aan ’n boom (x teen) mense wat net nie aan mense belangstel nie (x in)
Vandag se jongmense kan ’n verskil maak van hul lewens (x aan) Dat ’n ander nie geintemideur (sic) word van ’n ander mens nie (x deur)

 

In teenstelling met bogenoemde voorsetselgebruike het daar slegs enkele gevalle van voorsetselskeiding in die twee korpusse voorgekom. Voorsetselskeiding, wat waarskynlik aan Engels ontleen is (vgl. Ponelis 1993:119), kan as kenmerkend van die algemene spreektaal gesien word (vgl. Carstens 2011:67). Voorbeelde uit die twee korpusse is die volgende:

Noord-Kaap:

... en ook dankie sê vir dit (x daarvoor)
Ek het eerste gelag en hom toe gevra vir wat roep sy my (x waarvoor)

Wes-Kaap:

... soos dwelms wat aan goeie kinders nie wil wees nie (x waaraan)

Frekwensie-ontledings het getoon dat daar in die Wes-Kaapse korpus 4,80 gevalle van spreektaalvoorsetsels per 1 000 woorde voorgekom het teenoor die Noord-Kaapse 2,53 gevalle van spreektaalvoorsetsels per 1 000 woorde. Wes-Kaapse tieners gebruik bykans dubbel soveel spreektaalvoorsetsels in vergelyking met die Noord-Kaapse tieners.

(ii) Herstrukturering van die werkwoordpatroon

In die spreektaal word werkwoorde nie altyd volgens die vaste bysinvolgordepatroon ingespan nie. In hoofsinne staan die spilwerkwoord gewoonlik in die tweede sinsposisie (net ná die onderwerp of voorveld), terwyl die spilwerkwoord in bysinne nader aan die einde van die sin staan (Carstens 2011:44). In die spreektaal volg bysinne baie keer ’n hoofsinvolgorde (na analogie van Engels), dit wil sê die eerste werkwoord kom in ’n tipe spilposisie in die bysin voor (vgl. Carstens 2011:49; Van Rooy 2017:293). Voorbeelde uit die twee korpusse is die volgende:

Noord-Kaap:

... die kind het nou sy ma gaan sê wat is hy aangedoen.
... omdat hulle wil met hulle vriende maak.
... jy sal later spyt wees hoekom het jy dit gedoen.

Wes-Kaap:

Terwyl ons stap swembad toe kry ek ’n helse koppyn.
As hulle alkohol gebruik dan weet hulle nie wat het die vorige dag gebeur nie.
... omdat van die jeugs (sic) het nie geld nie ...

Die invloed van Engels op die Afrikaanse sinspatroon in die spreektaal is ook duidelik waar te neem by neweskikkende sinne wat verbind word met die neweskikkers en, maar en want waar die eerste werkwoord direk op die neweskikker volg (in die literatuur bekend as Tante Betje-styl (vgl. Carstens 2011:47)). Die volgende voorbeelde kom in die Wes-Kaapse korpus voor:

...en hou hulle besig met dwelms (x ... en hulle besighou)
... maar ek het gewag tot hy dit soek en het dit gekry (x ... en dit gekry het)

Daar is nie veel onderskeid te tref tussen die Wes- en Noord-Kaapse tieners wat betref die andersoortige plasing van die werkwoord in die bysin en in neweskikkende sinne nie. In die Wes-Kaapse korpus het 0,99 gevalle per 1 000 woorde voorgekom, terwyl dit marginaal laer was in die Noord-Kaapse korpus, met 0,84 gevalle per 1 000 woorde. Die toenemende herstrukturering van die werkwoordpatroon in veral die bysin kan tekenend wees van ’n potensiële informalisering van die bysinvolgordepatroon.

(iii) Toevoeging en weglating van lidwoorde

Lidwoorde word baie keer in die spreektaal weggelaat of toegevoeg. Die weglating van die lidwoord die vind veral plaas in kombinasie met die graadtrapvorm "meeste" wat moontlik na aanleiding van die Engelse patroon ontstaan het, soos in Most people... . Die weglating of toevoeging van lidwoorde kom in ’n beperkte mate voor in die skryftaal van beide die Wes- en die Noord-Kaapse tieners. Frekwensie-ontledings toon dat Noord-Kaapse tieners meer geneig is om lidwoorde weg te laat of toe te voeg as die Wes-Kaapse tieners (Wes-Kaap: 0,62 gevalle per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 1,21 gevalle per 1 000 woorde).

Enkele voorbeelde uit die twee korpusse:

Wes-Kaap:

Die moderne jeug van vandag meeste van hulle rook. (x die meeste)
Paar jaar gelede toe ek veertien jaar oud was ... (x ’n paar jaar gelede)
Die tieners word deel van bende. (x deel van ’n bende)

Noord-Kaap:

Daar is nie geld om huis af te betaal nie. (x om die huis)
In ons huise is meeste van ons geriewe elektronies (x is die meeste)
... kinders help wat saam met hul enkel ouers op diestraat woon (x op straat)
Daar was ’n een seun ... (x was een/᾽n seun)
... of wanneer ’n persoon nie in ’n goeie omstandighede is nie (x nie in goeie omstandighede)

(iv) Dubbele graadtrapmorfeme

In die spreektaal het die leksikale graadtrapvorme meer en mees al hoe meer gevestig geraak en word dit soms gereeld saam met die graadmorfeme -er en -ste aangewend wat dan dubbele (toutologiese) graadtrapvorme tot gevolg het. In die twee korpusse het die opeenstapeling van graadmorfeme ’n lae frekwensie gehad (Wes-Kaap: 0,25 gevalle per 1 000 woorde, Noord-Kaap: 0,12 per 1 000 woorde). Die volgende voorbeelde is in die twee korpusse geïdentifiseer:

Wes-Kaap:

Dwelms is die meesgevaarlikste ding in die lewe.

Noord-Kaap:

Upington is die mees wonderlikste dorp ...

Die leksikale graadtrapvorm meer en mees verdring soms die algemeen aanvaarde graadmorfeme -er en -ste:

... waar ek meer gelukkig en opwindend voel. (x gelukkiger en opwindender)

(v) Frekwensie van spreektaal- grammatiese vorme

Uit die bespreking hier bo van die grammatiese vorme wat op die spreektaal gebaseer is (d.i. (i)-(iv)), is dit duidelik dat die voorsetselpatroon die meeste deur die gesproke taal beïnvloed word en dus die duidelikste tekens van informalisering toon.

Frekwensie-ontledings van die totale aantal grammatiese vorme in die twee korpusse wat as tiperend van die gesproke taal gesien kan word (d.i. (i) tot (iv) hier bo), het dieselfde informaliseringstendense as in die geval van leksikale informalisering weerspieël. Wes-Kaapse tieners gebruik bykans die helfte meer algemene spreektaal- grammatiese vorme as die Noord-Kaapse tieners: Wes-Kaapse tieners het 6,66 spreektaal- grammatiese vorme per 1 000 woorde ingespan, terwyl Noord-Kaapse tieners 4,70 grammatiese vorme per 1 000 woorde gebruik het.

Dit was opvallend uit die twee korpusse dat die spreektaal nie net ’n invloed op die leksikon en op grammatiese verskynsels uitgeoefen het nie, maar ook in die ortografie weerspieël word.

4.1.3 Algemene uitspraakverskynsels

Onder algemene uitspraakverskynsels word hier verstaan uitspraakverskynsels wat nie geografies beperk is nie, maar oor die hele Afrikaanse taalgebied kan voorkom.

Uit die twee korpusse het dit duidelik geword dat die spelling van woorde soms deur die spreektaaluitspraak gerig word. Die volgende algemene uitspraakverskynsels word in die ortografie weerspieël:

Vokaalreduksie: akedemies (Wes-Kaap)
menier; middig (Noord-Kaap)
Klankweglating: os (x ons), verantwoordlik (x verantwoordelik) (Wes-Kaap)
Konsonantklustervereenvoudiging: onstaan (x ontstaan) (Noord-Kaap)
Assimilasie:

vanie (x van die), hettie (het nie), geldie (x geld nie) (Wes-Kaap)
lente van dae (x lengte van dae) (Noord-Kaap)

 

Die algemene spreektaaluitspraak het ’n beperkte invloed op die skryftaal van die tieners gehad (Wes-Kaap: 0,86 gevalle per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 0,60 gevalle per 1 000 woorde). Korpuslinguisties beskou, is dit veral op leksikale en grammatiese gebied dat spreektaalinvloede in die skryftaal van die tieners duidelik waarneembaar is.

Naas algemeen gebruiklike omgangsvorme kan daar ook dialektiese merkers in die skryftaal van die tieners onderskei word. In die volgende afdeling word die tipiese dialekkenmerke, asook die voorkomsfrekwensie van hierdie dialektiese merkers, vergelykend bespreek.

4.2 Dialektiese merkers

Die kategorie dialektiese merkers word hier onderverdeel in tipiese streeks- en groepmerkers en suprastreeksvorme (na analogie van Ota en Takano (2014:199) se toeligting van die term supra local features). Onder tipiese streeks- en groepmerkers word verstaan daardie leksikale en grammatiese verskynsels wat kenmerkend is van ’n bepaalde streek of sosiale groep en beperk voorkom. Onder suprastreeksvorme word verstaan leksikale en grammatiese verskynsels wat hul oorsprong in ’n bepaalde streek kon gehad het en later na ander gebiede migreer het, en dus nie meer tot ’n spesifieke geografiese gebied beperk is nie. Dit is natuurlik nie altyd moontlik om duidelik te onderskei tussen die twee subkategorieë nie, maar frekwensie-ontledings sal ingespan word om te bepaal hoe tipies (al dan nie) ’n bepaalde dialektiese verskynsel is.

Vervolgens word elkeen van hierdie subkategorieë bespreek.

4.2.1 Tipiese streek- en groepmerkers

In die Wes-Kaapse data het die volgende fonologiese en grammatiese verskynsels voorgekom, wat in die literatuur oor Kaapse Afrikaans, gereeld as tipiese streeksmerkers van Kaapse Vernakulêre Afrikaans (oftewel Suidwestelike Afrikaans) voorgehou word (frekwensie word tussen hakies aangedui) (vgl. Coetzee 2005:39, De Vries 2015:10-2; Dreyer 1986:140–215; Hendricks 2012:105–7, 2016:8–9, 22–5; Kotzé 1984:42–69; Otto 2017:380-383, Saal en Blignaut 2011:350–2):

Vokaalverhoging: My vriend wat by my gewies het. (1)
Postvokaliese r-weglating: Ons almal skree toe terug "os hettie geldie, hoeko ga wek jy nie?”; Ons wedstryd het goed veloop. (3)
Nasaal-apokopee: "Hoeko ga wek jy nie?" (2)
Oormatige gebruik van die voor tydspuntuitdrukkings: Op die 25 November 2011/op ᾽n dag, die 20 Januarie 2014 (2)
Tydsadjunkherhaling: Ek is al toe alreeds op die bodem (1)

 

Hierteenoor is daar in die Noord-Kaapse data die volgende fonologiese en grammatiese verskynsels geïdentifiseer wat, in aansluiting by die literatuur oor dialekmerkers in Oranjerivierafrikaans (oftewel Noordwestelike Afrikaans), as tipiese merkers van Oranjerivierafrikaans voorgehou kan word (vgl. Coetzee 2001:22, 2005:31–47; Links 1989:12–3, 19–20, 33, 38, 81; Hendricks 2014:725; Ponelis 1993:65; Van Rensburg 1989:458–60; Otto 2017:383–5):

Ontronding:5 Die woonbierd waar in ek bly (x woonbuurt); Ons twee het besliet (x besluit) (9)
Vokaalverlenging:6 Die man het ᾽n swart masker oor sy gesig gehaat (x gehad); ons kan nie soo lewe nie (7)
Pronominale genitiefsvorm met se: om hulle se goeters af te vat; ’n paar mense wat in hulle se eie wêreld leef; woonbuurte waarin baie van onse se mense woon (5)
hom-besitvorm: En jy wil nie ophou in hom oë te kyk nie (1)
Voorsetselweglating:7 dat ek hulle sit en luister (x dat ek na hulle ...); Sy kan nie vir haar kinders hul basiese behoeftes voorsien nie (x kinders in hul basiese behoeftes ...); wat hier ons wereld (sic) bly (x hier in ons wêreld) (6)
Frekwente gebruik van die agtersetsel af: Kinders is ’n seëning van God af; om vir my weg te hou van die verkeerde dinge af (4)
Gebruik van enkelvoudsvorm om meervoud aan te dui: in Upington kry jy wonderlike mens; maar ook met ons sosiale problem wat ons mag ervaar; party enkel moeder verloor hul huisse (9)
Ongewone gebruik van die afleidingsmorfeme –lik8 en -ing: dus baie besonderlik vir ons wêreld; mekaar te ondersteun in alle voorvallings wat in jou pad kom; daai mense lewe ’n beskerming lewe onder (5)

 

Tipiese leksikale merkers wat geografies beperk is, is nie so maklik om te identifiseer nie en hier word toegegee dat van hierdie leksikale merkers wat hier as streeksitems onderskei word, ook moontlik ’n voorkomsfrekwensie in ander streke kan hê. Die voorbeelde van spreektaalitems wat in tabel 7 aangegee word, het in die twee korpusse voorgekom en word hier as potensiële streeksitems voorgehou:

Tabel 7. Voorbeelde van potensiële streekspesifieke leksikale items en uitdrukkings

Wes-Kaap Noord-Kaap (frekwensie >1 tussen hakies aangedui)
’n bolling seuns gestaan (klomp) Sy ouers was baie oor my (mal oor my) (2)
Amper, amper was ek wit voetjies onder die grond (witbene/dood) met mense wat groter as ek is (ouer)
Die motor het brieke gevang (gerem) as jy van die pad af is (verkeerd is)
  om nie mekaar lelike/slegte woorde te gee nie (slegsê) (2)
  gaan nie stoute geld aanvang nie (vir kattekwaad/kwaadgeld rondloop)
  jy kennie lewe nie (nie straatslim nie)

 

Korpuslinguisties beskou, het Noord-Kaapse tieners meer as dubbel soveel streeksmerkers as hul Wes-Kaapse eweknieë ingespan: Noord-Kaapse tieners het 6,63 streeksvorme per 1 000 woorde gebruik teenoor die Wes-Kaapse tieners se 2,83 streeksvorme per 1 000 woorde. Dit was opvallend by die Wes-Kaapse tieners dat veral die fonologiese merkers van Kaapse Afrikaans ortografies weergegee is, terwyl Noord-Kaapse tieners hoofsaaklik grammatiese en leksikale merkers wat kenmerkend van Oranjerivierafrikaans is, in hul formele skryfwerk ingespan het. Die hoër frekwensie van veral die streeks- grammatiese en leksikale vorme by Noord-Kaapse tieners kan daarop dui dat hierdie dialektiese vorme nie langer as "verkeerd" of "onvanpas" gesien word nie en as sodanig (onbewustelik) as aanvaarde en gepaste gebruiksvorme vir die skryftaal beskou word. Vroeër is gemeld dat grammatiese veranderinge "onder die oppervlak" voorkom en nie so maklik sigbaar is nie en daarom ’n groter kans het om deur die filters van wat as "standaard" en "normatief" gesien word, te glip. Die twee tekskorpusse toon egter dat streeks- leksikale merkers nie altyd so "sigbaar" is soos wat soms aangeneem word nie, en juis daarom die potensiaal het om as legitieme vorme vir die formele skryftaalregister gesien te word.

Naas die streekspesifieke merkers het daar in die twee tekskorpusse ook sosialegroepmerkers voorgekom. Die oormatige gebruik van vae woorde (soos goed, dinge, iets) in die plek van meer spesifieke leksikale verwysings val op in die twee korpusse. Die frekwente voorkoms van sulke vervangende woorde verbaas nie, want sodanige woorde word as tipiese merkers van tienertaal beskou (vgl. Marais en Coetzee 2005:255). Onder die mees frekwente vae woorde in die twee korpusse ressorteer die woorde goed en dinge. Vergelyk:

Wes-Kaap:

Vandag se jeug en hul dinge
... en die soorte dinge maak ’n mens se ouers baie seer
Seksueel is nie ’n ding oor te praat nie

Noord-Kaap:

Toeriste kom besoek verskeie goed.
Die wêreld is ’n baie wonderlike ding.

In die Wes-Kaapse korpus is die pragmatiese merker (oftewel kwotatiefmerker) soos wat veral met jeugtaal geassosieer word, ook in ’n enkele geval aangetref:

Die jeug het geen belangstelling soos in sport of ander dinge nie.

Frekwensie-ontleding het getoon dat Wes-Kaapse tieners dubbel soveel tienertaalmerkers as hul Noord-Kaapse eweknieë gebruik het (Wes-Kaap: 1,72 tienertaalmerkers per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 0,84 tienertaalmerkers per 1 000 woorde).

Die twee korpusse het nie net tipiese streeks- of groepsmerkers ingesluit nie, maar ook verskeie dialektiese vorme wat ’n voorkomsfrekwensie in beide tekskorpusse gehad het.

4.2.2 Suprastreeksvorme

Suprastreeksvorme verwys na dialektiese vorme wat moontlik in een streek ontstaan het en later versprei het na ander streke en dus streng gesproke nie meer streekspesifiek is nie. Suprastreeksvorme verteenwoordig hier ’n tussenfase in die migrasie van linguistiese variante: dit is variante wat nie meer as slegs kenmerkend van ’n bepaalde geografiese gebied gesien kan word nie, maar wat egter nog nie oor die hele taalgebied versprei het sodat dit as algemeen gebruiklik gesien kan word nie. Die suprastreeksvorme het in beide korpusse voorgekom en omvat fonologiese, morfologiese asook sintaktiese merkers:

(i) Fonologiese merkers

Die fonologiese verskynsels wat in sowel Noordwestelike as Suidwestelike Afrikaans frekwent voorkom, sluit in die verkorting van die vokaal /a:/ en vokaalverlaging.

In tabel 8 word voorbeelde van /a:/-verkorting verskaf.

Tabel 8. Voorbeelde van /a:/-verkorting

Wes-Kaap Noord-Kaap
Ek sal nooit weer hastig wees nie. dan smak dit vir jou jy kan maar nog ...
Net om seker te maak ek is oraait vat hulle vir my hospital toe son wat skyn bo-oor ons koppe en liggams
  ek is nie hastig vir kêrels nie

 

In dialekstudies oor Kaapse Vernakulêre Afrikaans word die verkorting van /a:/ bespreek as ’n kenmerkend Kaapse verskynsel (vgl. Kotzé 1984:54, Hendricks 2012:105, 2016:9). Coetzee (2005:47) toon egter aan dat /a:/-verkorting ook voorkom in tekste wat in Griekwa-Afrikaans (’n subvariëteit van Oranjerivierafrikaans) geskryf is (vgl. ook Links 1989:12). Dit blyk dus dat /a:/-verkorting redelik verbreid in die Noord- en Wes-Kaap voorkom en dat hierdie vorm nie beperk is tot ’n bepaalde geografiese gebied nie. Die frekwente voorkoms van vokaalverkorting in die twee korpusse kan gesien word as aanduider van die toenemende migrasie van die verskynsel.

Tabel 9 illustreer schwaverlaging by die morfeme ge- en -ig in die twee korpusse.

Tabel 9. Voorbeelde van schwaverlaging by ge- en –ig (/ә/ > /a/)

Wes-Kaap Noord-Kaap
Mense is morsag ... en dies wat so boring en vervelag is
  en jy is ook heeltyd gelukag
  Hy was heelwat sweeterag en het bleek gelyk

 

Die twee korpusse weerspieël dat die frekwensie van schwaverlaging onder Noord-Kaapse tieners hoër is as onder Wes-Kaapse tieners. Schwaverlaging is reeds goed gedokumenteer in dialekwerke oor beide Noordwestelike en Suidwestelike Afrikaans en is ’n frekwente spreektaalverskynsel van beide streke (vgl. Hendricks 2012:105, 2014:724; Links 1989:17–8; Kotzé 1984:44; Dreyer 1986:148).

(ii) Morfologiese merkers

Die morfologiese verskynsels wat ’n voorkomsfrekwensie in beide die Noord- en die Wes-Kaap het, is onder meer: ongewone meervoudsvorming en die onverboë attributiewe adjektief.

  • Ongewone meervoudsvorming

In die Noord- en Wes-Kaapse datakorpus het meervoudsvorme voorgekom wat nie die algemeen gebruiklike meervoudspatroon weerspieël nie:

Noord-Kaap:

dan doen ek sports
son wat skyn bo-oor ons koppe en liggaams
dat die kêrel net my gevoels gaan mors

Wes-Kaap:

Dwelmverslaafdes doen glad nie sports nie
... en skreeu: "Gee nou julle gelde"
Die moderne jeuge maak gebruik van alkohol.
Omdat van die jeugs het nie geld nie.

Wes-Kaapse tieners is ook meer geneig om naamwoorde wat nie ’n meervoudsvorm neem nie (soos geld en jeug), wel van ’n meervoudsmorfeem (-s of -e) te voorsien. Die verbreidheid van hierdie ongewone meervoudsvorming is moeilik om te bepaal en om hierdie rede word hierdie tipe meervoudsvorm beskou as ’n verskynsel wat tans nog ’n beperkte reikwydte het.

  • Onverboë attributiewe adjektiewe

Die onverboë vorm van die attributiewe adjektief word soms in die plek van die verboë vorm gebruik. Hierdie verskynsel het in ’n beperkte mate onder die tieners voorgekom:

Noord-Kaap:

Ons land het pragtig inwoners

Wes-Kaap:

Meestal van die tieners vandag in die modern lewe dink alles gaan oor populêriteit.
Daar is baie intelligent jong kinder daar buite wat dwelmsmisbruik.
Om my liggaam die nodig suurstof te stoor.

Die onverboë vorm van die attributiewe adjektief (waar adjektiefverbuiging verwag word), word gewoonlik gesien as kenmerkend van Oranjerivierafrikaans (Van Rensburg 1989:400). Dit blyk egter ook in Suidwestelike Afrikaans voor te kom. Dit was opvallend dat die gebruik van die nie-emfatiese verboë vorm waar die onverboë vorm verwag word (bv. ’n sware dag in plaas van ’n swaar dag), nie in die Wes-Kaapse data voorgekom het nie. Die aanwending van nie-emfatiese adjektiefverbuiging waar geen verboë vorm verwag word nie (soos in ’n donkere aand), word gesien as ’n tipiese kenmerk van Suidwestelike Afrikaans (Ponelis 1993:373–4).

(iii) Sintaktiese merkers

Die grootste groep suprastreeksvorme wat in die korpusse te onderskei is, is sintaktiese verskynsels. Hierdie sintaktiese verskynsels kom vervolgens (in dalende volgorde van frekwensie) aan bod.

  • Eindrelevering

Eindrelevering, dit is die agteropplasing van bepaalde uitdrukkings, word in sowel die suidwestelike as die noordwestelike variëteite aangetref (Kotzé 1984:54; Hendricks 2012:106; Links 1989:74). Tabel 10 illustreer die voorkoms van eindrelevering in die twee korpusse.

Tabel 10. Voorbeelde van eindrelevering

Wes-Kaap Noord-Kaap
Toe wil die hond my byt van Duncan-hulle Ek het toe gegaan na haar toe
en die ander voertuie het gewag aan die linkerkant My vriende het my gevat na ’n kamer
’n klein hond wat by die hek gestaan het en blaf aanhoudend ... en ek het my dag geniet by die kerk
Hy het begin lag en my gedreig met ’n mes  

 

Die frekwensie van eindrelevering onder die Wes-Kaapse tieners is hoër as onder die Noord-Kaapse tieners: by Wes-Kaapse tieners het 1,48 gevalle van eindrelevering per 1 000 woorde voorgekom, terwyl dit by die Noord-Kaapse tieners 0,96 gevalle per 1 000 woorde was. Dat eindrelevering aan die invloed van Engels toegeskryf kan word, is dalk nie te vergesog nie (vgl. Ponelis 1993:314).

  • Regularisering van werkwoordsvorme

Regularisering van die werkwoord word in verskeie dialekstudies uitgewys as ’n produktiewe verskynsel in sowel die suidwestelike as die noordwestelike variëteite (Coetzee 2001:22–3; 2005:44; Dreyer 1986:177; Hendricks 2012:49, Kotzé 1984:52–3). Soos aangedui in tabel 11, kom die regularisering van die hulpwerkwoorde wil en kan en die hoofwerkwoorde hê en wees in die twee korpusse voor.

Tabel 11. Voorbeelde van frekwente werkwoordregulariserings

Wes-Kaap Noord-Kaap
Die man het ’n vuurwapen op hom gehad en wil my skiet. Ek kan nie geglo het nie.
Ek was al een wat ernstig beseer gewas het. Hulle het toe toegang tot die geld gehet.
Hoe kan jy ’n kind het en jy is self ’n kind? Hulle wou nie gehad het ek moet ’n kêrel het nie.

 

Die regularisering van die hulpwerkwoorde en die hoofwerkwoord (tot het en gehet) het onder sowel die Wes-Kaapse as die Noord-Kaapse tieners voorgekom. In die twee korpusse is die voorkomsfrekwensie van werkwoordregularisering nagenoeg dieselfde (Wes-Kaap: 0,86 regulariserings per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 1,08 regulariserings per 1 000 woorde).

  • Voegwoorde wat x toe en laat/wat x dat

In die twee korpusse is die voegwoord wat (d.i. die omgangsvorm) in sterk kompetisie met die algemeen gebruiklike voegwoord toe "om tydspuntsinne in te lei" (Kotze 1984:57). Tabel 12 illustreer die gebruik hiervan in die twee korpusse.

Tabel 12. Die voegwoord wat in plek van die standaardvorm toe

Wes-Kaap Noord-Kaap
Wat ons by die N7 kom ... Die dag wat ons twee mekaar ontmoet het ...
Wat ek bo water kom asem ek eers ’n klomp suurstof ... Toe wat ek buite kom ...
Dit was Donderdagmiddag so 2 uur se kant wat ons op pad Ceres dorp toe was  

 

Verder is ook die voegwoord dat in kompetisie met die omgangsvorme laat en wat (vgl. Ponelis 1979:439). In die Noord-Kaapse korpus word die voegwoord dat soms afgewissel met die spreektaalvorm laat:

... moenie laat sy weet nie ...
... moenie laat ander mense weet nie.

Een voorbeeld uit die Noord-Kaapse korpus illustreer die gebruik van die voegwoord wat in die plek van dat by splitsingskonstruksies:

... toe is dit mos (< dit is mos toe) wat sy met my begin lag ...

Daar was min te kies tussen die Noord-Kaapse en Wes-Kaapse tieners wat betref die gebruik van die omgangsvorme wat en laat as voegwoorde (Wes-Kaap: 0,62 gevalle per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 0,84 gevalle per 1 000 woorde).

Reeds in 1993 skryf Ponelis (1993:295) dat die voegwoord dat al hoe meer deur die omgangsvorm wat verdring word. Uit die voorbeelddata blyk dit duidelik dat die voegwoorde toe en dat in kompetisie met die omgangsvorme wat en lat/laat verkeer.

  • Die vorme wat/van in die plek van die voegwoord want

Die voegwoord want word in die twee korpusse plek-plek met die omgangsvorme wat en van afgewissel:

Wes-Kaap:

Die seuns gee ook nie meer om vir die meisies nie wat dan het hy klaar vir haar swanger gemaak.
En dan weet die ouers nie meer wat om te doen nie wat hulle hart is baie seer.

Noord-Kaap:

Hy het my gevra om sy meisie te wees wat hy kan nie meer langer sy gevoelens weg steek nie.
As jy iets goed doen dan sal die mense van jou hou van jy doen nie verkeerde dinge nie.

’n Voorbeeld van waar van in die plek van die voegwoord wat optree, is in die Wes-Kaapse korpus geïdentifiseer:

Daar is baie jeug daar buite wat nie weet van om hulle lewe te maak nie.

Die gebruiksfrekwensie van wat/van in die plek van want is hoër onder Noord-Kaapse tieners: in die Wes-Kaapse korpus het 0,25 gevalle voorgekom, vergeleke met die 0,96 gevalle in die Noord-Kaapse korpus.

By die vorm van het heel waarskynlik homorgane eindklustervereenvoudiging plaasgevind deurdat die slot-/t/ wat op die nasaal /n/ volg, weggelaat word (vgl. Kotzé 1984:44). Die vorm wat vir want kan as ’n geval van nasaal-sinkopee bestempel word: /vant/ > [vat]. Dit is onduidelik of die gebruik van die vorme wat/van in die plek van die voegwoord want slegs tot die tienergroep beperk is, en om hierdie rede word dit nie hier as ᾽n tipiese dialektiese merker hanteer nie.

  • Weglating van die werkwoorde het en wees

Soos uit die volgende voorbeelde blyk, is die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse tieners geneig om die hulpwerkwoord het en die koppelwerkwoord wees soms weg te laat:

Wes-Kaap:

Ons toe stilgehou om vir haar te wag, maar al wat uitkom is sy. (x Ons het toe ...)
dat dit die regte oomblik om seks te beoefen (x die regte oomblik is ...)

Noord-Kaap:

Maar ek klaar by haar vriendin gehoor sy het gesê sy like nie van my nie (x Maar ek het klaar ...)
dan sal jy voel dat dit ’n wonderlike wêreld (x wonderlike wêreld is)

Ook die weglating van ander hoofwerkwoorde soos raak en is onder die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse tieners gebruiklik:

Wes-Kaap: Wanneer ’n meisie swanger raak is dit tyd om verantwoordelik te begin om ’n moeder te wees. (x te begin raak ...)

Noord-Kaap: Ek wil kinders moet veilig wees (x wil ...)

Daar was weinig verskil in frekwensie onder die Noord- en Wes-Kaapse tieners: by die Wes-Kaapse tieners het 0,62 gevalle van werkwoordweglatings per 1 000 woorde voorgekom, terwyl dit by die Noord-Kaapse tieners op 0,60 gevalle per 1 000 woorde te staan gekom het.

In ondersoeke is bevind dat die weglating van die hulpwerkwoord redelik algemeen in mobiele kommunikasie is (vgl. Thurlow en Poff 2013:170). Die weglating van die hulpwerkwoord het en die koppelwerkwoord wees in die twee korpusse sou dus ook aan die invloed van mobiele kommunikasie toegeskryf kon word.

  • Wisselende gebruik van die infinitiefvorm om ... te

Die infinitiefvorm om ... te word in die Wes-Kaapse korpus soms met slegs die te-vorm (sonder om) afgewissel:

My liggaam was lam geskok en ek begin te dryf af tot by die bodem.
Dan begin hulle verkeerde dinge te doen ... so byvoorbeeld te steel in winkel en ouer mense te "rob" of steel.

In die Noord-Kaapse korpus was daar ook enkele gevalle waar die infinitiefvorm slegs met om (d.i. sonder te) voorkom:

Dit is hoekom mense hou om na ’n wonderlike wereld altyd wil kyk.

Enkele ander wisselings in die infinitiefvorm om ... te sluit in te-herhalings, die ongewone plasing van te asook ’n ongewone kombinasie van en ... te:

Wes-Kaap: Die meisies weet nie hoe om te verantwoordelik te wees nie. (te-herhaling)

Noord-Kaap: Die belangrike om welkom te laat voel word. (ongewone plasing)

Ons moet saamstaan en al hierdie negatiwiteit uit ons mooi dorp te roei (ongewone kombinasie)

Die wisselings in die infinitiefvorm blyk lankal nie meer slegs tot Noorwestelike Afrikaans beperk te wees soos wat Du Plessis (1984:159, soos na verwys in Coetzee 2001:26), in die 1980’s bevind het nie. Coetzee (2001:26–7) het ook wisselings in die infinitiefvorm in die spreektaal van die Bolandse wingerdwerkers gedokumenteer (vgl. ook Dreyer 1986:213–4). Die wisselende gebruik van die infinitiefvorm blyk dus nie meer streekspesifiek te wees nie, maar funksioneer al hoe meer as ’n verskynsel met ’n groter geografiese reikwydte.

Die voorkomsfrekwensie van die wisselende infinitiefvorm onder die twee groepe tieners het nie veel verskil nie: in die Wes-Kaap het 0,62 gevalle per 1 000 woorde voorgekom, terwyl dit in die Noord-Kaap 0,48 gevalle per 1 000 woorde was. Die wisselende gebruik van die infinitiefvorm het dus ’n lae gebruiksfrekwensie in beide korpusse.

  • saam-konstruksie

In ondersoeke na die geografiese variëteite van Afrikaans word die met ... saam-konstruksie, soos in mettie ellende saam, beskryf as kenmerkend van sowel die suidwestelike as die noordwestelike variëteite (vgl. Coetzee 2005:47; Hendricks 2012:107, 2014:726; Van Jaarsveld, Jenkinson en De Wet 2001:152). Volgens Ponelis (1993:347) het hierdie vernuwende sintaktiese ontwikkeling van saam in die postposisie waarskynlik onder invloed van ’n soortgelyke Maleise konstruksie in die suidwestelike variëteite ontwikkel. Dit wil voorkom asof hierdie konstruksie vanaf die suidwestelike variëteite na die noordwestelike variëteite toe kon migreer het.

Dit was opvallend uit die twee korpusse dat daar aan die saam-konstruksie (dit is sonder die voorsetsel met) voorkeur gegee word. Voorbeelde hiervan word in tabel 13 verskaf. Die saam-konstruksie het ook ’n veel hoër voorkomsfrekwensie in die Wes-Kaapse korpus gehad (0,49 gevalle per 1 000 woorde; Noord-Kaap: 0,12 gevalle per 1 000 woorde).

Tabel 13. Voorbeelde van die saam-konstruksie

Wes-Kaap
(frekwensie >1 tussen hakies)
Noord-Kaap
Het ek gesellig saam familie en vriende gekuier / by die huis het hulle saam my gepraat / ons het saam hom geloop (4) ... om saam mense te bly

 

Die wisseling tussen die dialektiese saam-konstruksieen die meer gebruiklike saam ... met-konstruksie val veral in die Wes-Kaapse korpus op. Ook is die saam-konstruksie meer frekwent in die Wes-Kaapse korpus en dit wil voorkom asof hierdie "nuwe" saam-konstruksie besig is om groter veld te wen ten koste van die gevestigde saam ... met-konstruksie. Die wisselende gebruik verteenwoordig ’n tipiese taalveranderingsverskynsel waar die ou gevestigde vorm vir dekades lank naas die nuwe vorm gebruik kan word totdat die nuwe vorm gevestig raak (Aitchison 1991:75).

  • Herhaling van die setsels uit ...uit

Setselherhaling het (vreemd genoeg) slegs onder die Wes-Kaapse tieners voorgekom:

... en uit die Bybel uit gelees
Al kom jy uit ’n arm familie uit
Van die kinders kom uit goeie huise uit
Hy het na my gehardloop en my uit die pad uit geruk.

Die afwesigheid van die herhalingskonstruksies uit ... uit en in ... in in die Noord-Kaapse korpus verras, aangesien setselherhaling reeds as ’n frekwente verskynsel in Oranjerivierafrikaans uitgewys is (vgl. Van Rensburg 1989:459). Uit die afwesigheid van die herhalingskonstruksie in die Noord-Kaapse korpus sou nouliks afgelei kon word dat dié verskynsel tot die Kaap en omstreke beperk sou wees; inteendeel, die verbreide aard van die verskynsel is in verskillende dialekstudies oor Afrikaans gedokumenteer (vgl. Coetzee 2001:25; 2005:44, 47; Dreyer 1986:204; Hendricks 2012:107; 2014:726; Kotzé 1984:57; Van Rensburg 1989:459). Den Besten (1989:240) voer aan dat sulke lokatiewe setselkonstruksies die gevolg kan wees van beide die slawe en die Khoi-Khoi se pogings aan die Kaap in die 18de eeu om die Hollandse setselkonstruksie te bemeester.

  • Weglating van die voornaamwoord in onderwerpfunksie en voegwoord en

Wes-Kaapse tieners neig soms om die voornaamwoord ek in onderwerpfunksie en die voegwoord en in die sin weg te laat:

Kon nêrens afswaai nie, want daar was klippe langs die pad. (x Ek kon nêrens ...)
Grootgeword om in die teerpad te gaan ry, omdat ek gedink het ek was groot genoeg. (x Ek het grootgeword ...)
Hulle los die sport gebruik alkohol (x Hulle los die sport en gebruik ...)

Die invloed van mobiele kommunikasie kan nie hier uitgesluit word nie. Ondersoeke na mobiele kommunikasie het getoon dat die weglating van voornaamwoorde wat as onderwerp diens doen, en ander funksiewoorde van die algemeenste sintaktiese reduksievorme is (Thurlow en Poff 2013:170). Die weglating van die onderwerp en die voegwoord word nie hier as tipies van ’n bepaalde streek of sosiale groep (die tieners) gesien nie; inteendeel, dit het die potensiaal om ook in ander streke en onder ander sosiale groepe voor te kom.

  • Werkwoordherhaling

Die herhaling van die werkwoord het slegs onder die Noord-Kaapse tieners voorgekom:

wat die persoon laat ongemaklik laat voel nie
Ek was baie op my seniwes gewees van ons ouers gaan ons gaan sking (skel)

Volgens Kotzé (1984:56–7) is werkwoordherhaling ’n produktiewe verskynsel in Suidwestelike Afrikaans (vgl ook Dreyer 1986:204–5). Die voorkoms van werkwoordherhaling onder die Noord-Kaapse tieners, alhoewel in ’n beperkte mate, kan dui op die potensiële verbreiding van hierdie verskynsel.

(iv) Frekwensie van suprastreeksvorme

Korpuslinguisties beskou was daar min te kies tussen die Noord- en Wes-Kaapse tieners se gebruik van suprastreeksvorme: Wes-Kaapse tieners het 7,64 suprastreeksvorme per 1 000 woorde gebruik, teenoor die Noord-Kaapse tieners se 7,95 per 1 000 woorde. Die onbeduidende frekwensieverskille ten opsigte van die suprastreeksvorme wys op die verspreiding van die vorme oor die twee streeksgrense heen. Wanneer die suprastreeksvorme vergelyk word met die dialektiese merkers en algemeen gebruiklike vorme ten opsigte van gebruiksfrekwensie, word dit duidelik dat algemeen gebruiklike omgangsvorme die hoogste frekwensie het (11,03 algemene omgansvorme per 1 000 woorde), gevolg deur suprastreeksvorme (7,80 vorme per 1 000 woorde) en dialektiese merkers (6,04 merkers per 1 000 woorde). Hierdie frekwensietendens bevestig die aanname dat suprastreeksvorme in vergelyking met die algemene omgangsvorme tans nog ’n begrensde reikwydte het. Dit was tog opvallend uit die frekwensie-ontledings dat Noord-Kaapse tieners dialektiese merkers net soveel inspan soos suprastreeksvorme (onderskeidelik 7,47 dialektiese merkers en 7,95 suprastreeksvorme per 1 000 woorde). Hierteenoor gebruik Wes-Kaapse tieners bykans dubbel soveel suprastreeksvorme as dialektiese merkers (7,64 suprastreeksvorme teenoor 4,56 dialektiese merkers per 1 000 woorde). Vergeleke met die Wes-Kaapse tieners toon Noord-Kaapse tieners dus ’n groter geneigdheid om dialekties verwante vorme in die skryftaal in te span.

 

5. Ortografiese veranderinge en hiperkorrekte vorme

In die twee korpusse is veranderinge waargeneem wat nie noodwendig deur spreektaalinvloede gerig word nie, maar so frekwent voorgekom het dat dit nie geïgnoreer kan word nie. Twee veranderinge wat in die korpus waargeneem is, was die veranderinge in spelkonvensies (ortografiese veranderinge) en die verkeerdelike inspan van woorde in ’n poging om formeel te klink (hierna na verwys as hiperkorrekte vorme). Hierdie vorme kan dalk nie as tipiese informaliseringskenmerke gesien word nie, maar dit dui tog op potensiële taalveranderinge (in die skryftaal) waarvan kennis geneem behoort te word, juis op grond van die hoë frekwensie daarvan.

Die frekwensie van ortografiese veranderinge in die Noord-Kaapse korpus is hoër as dié in die Wes-Kaapse korpus (Noord-Kaap: 17,60 gevalle van ortografiese veranderinge per 1 000 woorde; Wes-Kaap: 7,64 gevalle per 1 000 woorde). Die ortografiese veranderinge wat geïdentifiseer kon word, sluit onder meer die volgende in:

  • Daar is sprake van ’n wisseling tussen f en v; v en w; t en d; ui, ei en y; i, e en u; ee en eu:

friendin, voute, konverensie, gevluit
gave (gawe), van (x wat/want)
gewoont, buurd, skied, kwaat, gedref,
voortuidige, eitsig, verskuie
sistertjie, volgins, geintemideur, geskuk
probeur, keure, geintemideur, waardeur (x waardeer)

  • Woorde met dubbele konsonante word gereduseer (letterreduksie) of enkelletters word verdubbel (letterverdubbeling):

stape, somer (x sommer), pleke, aleen, misluking, onmiddelik, veruil
hassie, uitdagging, huisse, speeletjie, woonings, idiaale, sireene

  • Woorde wat los geskryf moet word, word vas geskryf en omgekeerd:

bewiste loos, sokker wedstryde, enkel moeder, liefde vol, dwelm misbruik, jonk heid, saam leef, uit kom, aan vang, mee bring, om dat, hul self
asgevolg van, komtoe, eersteoogopslag, dannou, perongeluk, volvrees, ingevaar (in gevaar), pappampoen, nogsteeds, huistoegegaan

  • Woorde word sonder diakritiese tekens geskryf:

se (x sê), le, he, kerel, wereld, reen, ingeseen, gereel.

Sekere van die spelvorme toon ooreenkomste met die spelwyse van SMS-Afrikaans, soos die letterreduksie by woorde en die weglating van diakritiese tekens (vgl. Saal 2015:3). Die invloed van mobiele kommunikasie op tieners se spelling en skryfwyse van woorde, kan nie uitgesluit word nie. By die los skryf van woorde is die invloed van Engels duidelik sigbaar.

Naas die veranderinge in die ortografie wat in die skryfstukke van sowel die Noord-Kaapse as die Wes-Kaapse tieners opgeduik het, was ook die gereelde verkeerde woordkeuse in ’n poging om formeelheid na te streef opvallend in hierdie skryfopdragte. Hierna word verwys met die term hiperkorrekte vorme, waaronder verstaan word dat daar gepoog word om so korrek en formeel as moontlik te skryf, as gevolg waarvan onvanpaste (soms hoogdrawende) woorde dikwels buite konteks ingespan word. Vergelyk die volgende voorbeelde uit die twee tekskorpusse:

Wes-Kaap:

Seksueel is nie ’n ding om oor te praat nie.
’n Hele tyd daar toe begin ’n ternouernood.

Noord-Kaap:

Ons woonbuurt is maar net die idiaale plek om in te verkeer.
Ons twee het besliet ons gaan nie meer stout wees en ons was by die dood bestel.
Nou voel die persoon hy/sy is ernstig aangeraak met die woorde wat mense ontneem het.

Uit die data is dit duidelik dat normatiewe spelling en skryfwyse in sterk kompetisie staan met die "alternatiewe" spelvorme wat aanduidend kan wees van watter spelvorme in die toekoms verandering kan ondergaan. Die gebruik van onvanpaste (en soms hoogdrawende) woorde vir die formele skryftaalregister kan ook tekenend wees van tieners se toenemende informalisering van die skryftaalregister.

 

6. Ten slotte

Die skryftaalregister van die Wes- en Noord-Kaapse tieners toon tekens van ’n moontlike proses van informalisering. Die tieners se skryftaal wat toenemend deur die spreektaal gevoed word, herinner aan die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) se skryftradisie in die 19de eeu toe "ons skryf soos ons praat" die uitgangspunt was in ’n poging om die verskrifteliking van Afrikaans te bevorder (vgl. Van Rensburg 2015:324).

Frekwensie-ontledings van die totale aantal spreektaalvorme soos hier bo bespreek (uitgesluit ortografiese veranderinge en hiperkorrekte vorme) wat in die (formele) skryftaal van die twee tienergroepe voorkom, toon dat die Wes-Kaapse tieners 24,63 spreektaalvorme per 1 000 woorde gebruik het, teenoor die Noord-Kaapse tieners se 25,07 spreektaalvorme per 1 000 woorde. Daar is dus min te kies tussen die twee tienergroepe wat betref die frekwensie waarteen hul spreektaalvorme in hul skryfwerk aanwend. Die grootste verskil tussen die Wes- en Noord-Kaapse tieners het te make met die inspan van streeksmerkers: Noord-Kaapse tieners toon naamlik ’n groter geneigdheid om streeksmerkers, in die besonder grammatiese en leksikale streeksmerkers, in te span. Omgangsvorme op grammatiese vlak word nie geredelik as omgangsvorme herken nie en dikwels as aanvaarbaar en gepas vir die formele skryftaalregister gesien.

Die frekwentste tipe informalisering wat onder die twee tienergroepe voorkom, is grammatiese informalisering. Dit is juis hierdie "onsigbare" spreektaal- grammatiese merkers wat meer dikwels die skryftaal ongesiens infiltreer, vergeleke met die meer "sigbare" spreektaal- leksikale merkers. Van die frekwentste spreektaal- grammatiese vorme wat in die twee korpusse voorkom, is die eiesoortige voorsetselgebruik, die agteropplasing van uitdrukkings (eindrelevering), die ongewone werkwoordpatroon, die regularisering van werkwoordvorme, die weglating van lidwoorde, werkwoorde, onderwerpe en voegwoorde, die gebruik van die voegwoord wat in plaas van toe en die gebruik van wat in die plek van want.

Die linguistiese kenmerke van informalisering wat in hierdie skynbaretydsondersoek bespreek word, sal nie noodwendig almal hul weg na Standaardafrikaans vind nie, gegee die genoemde leeftydspesifieke verskynsel "age grading" (ouderdomsgradering ) – dit wil sê, soos tieners ouer word, kan hul Skryfafrikaans verander. Die tipe spreektaalvorme wat die potensiaal het om in (formeel) geskrewe Afrikaans gevestig te raak, blyk in die lig van hierdie korpuslinguistiese ondersoek die volgende te wees:

Leksikale kenmerke:

  1. Die toenemende invloed van Engelse leksikale items (hetsy direk of indirek oorgeneem) – die invloed van Engels is alreeds duidelik te sien in normatiewe bronne soos die AWS en die HAT waarin verskeie Engelse leksikale items, waaronder "sexy", "song", "show", "stupid", "affair", "poster", "straight" en "flirt" al gelemmatiseer is (HAT 2015).
  2. Die toenemende ingebruikneming van streekspesifieke leksikale items – die AWS (2009, 2017) het alreeds ’n belangrike kopknik in hierdie rigting gegee deur onder meer verskeie leksikale items uit Kaapse Vernakulêre Afrikaans op te neem.

Grammatiese kenmerke:

  1. Veranderinge in die voorsetselpatroon – die hoë voorkomsfrekwensie van veranderinge in die voorsetselpatroon dui op die wisselende gebruik van voorsetsels wat taalverandering in die hand kan werk.
  2. Agteropplasing van bepaalde uitdrukkings ‒ onder invloed van Engels kan die verskynsel eindrelevering algemener word in formele Skryftaalafrikaans.
  3. Die toenemende regularisering van die werkwoordvorme ‒ die frekwente voorkoms van regularisering in verskeie streke verhoog die waarskynlikheid dat hierdie verskynsel in die toekoms toenemend in die skryftaal sal voorkom.
  4. Die weglating van lidwoorde en die toenemende gebruik van mees as graadtrapvorm – die vorm meeste sonder die lidwoord die,asook die graadtrapvorm mees (soos in mees algemeenste) maak alreeds ’n gereelde verskyning in die skryftaal.
  5. Herstrukturering van die werkwoordpatroon (infinitiefvorm ingesluit) – onder Engelse invloed kan veranderinge in die werkwoordpatroon al hoe gereelder voorkom.
  6. Die voegwoord wat om tydspuntbysinne in te lei – die wisselende gebruik van wat en toe as voegwoorde kan taalverandering in die hand werk.

Uitspraakkenmerke:

(ix) Ortografiese weerspieëling van /a:/-verkorting – verkorting van /a:/ het waarskynlik die beste kans, gegee sy frekwente voorkoms in die teksdata, om formeel geskrewe Afrikaans binne te dring.

Met hierdie skynbaretydsondersoek, die metodologiese beperkinge daarvan ten spyt, is daar gepoog om, aan die hand van frekwensie-ontledings, gebruiklike spreektaalvorme in die skryftaal van tieners te identifiseer. Die ondersoek wil ’n aanduiding gee van die soorte taalveranderinge wat aan die hand van vergelykende korpuslinguistiese studies verder ondersoek kan word. ’n Soortgelyke korpuslinguistiese ondersoek waarin die geskrewe Afrikaans van volwassenes onder die loep geneem word, behoort verdere lig te werp op die stand van informalisering in geskrewe Afrikaans.

 

Bibliografie

Aitchison, J. 1991. Language change: Progress or decay? Cambridge: Cambridge University Press.

Androutsopoulos, J. (red.). 2014. Mediatization and sociolinguistic change. Berlyn, Boston: Walter de Gruyter.

AWS (Afrikaanse Woordelys en Spelreëls). 1991. Agtste, hersiene uitgawe. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2009. Tiende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

—. 2017. Elfde, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

Botha, T.J.R. (red.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Tweede, hersiene uitgawe. Pretoria: Academica.

Bruwer, P. 2013. Voute veras nie. Noordkaap, 6 November, bl. 1.

Buchstaller, I. 2014. Commentary: Television and language use. What do we mean by influence and how do we detect it? In Androutsopoulos (red.) 2014.

Carstens, A. en H. Grebe (reds.). 2001. Taallandskap: Huldigingsbundel vir Christo van Rensburg. Pretoria: Van Schaik.

Carstens, W.A.M. 2011. Norme vir Afrikaans. Enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans. Vyfde uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Tweede uitgawe.Pretoria: Van Schaik.

Coetzee, A. 2001. Van morfologie tot sintaksis: Taalvorme van die Bolandse wingerdwerkers. In Carstens en Grebe (reds.) 2001.

—. 2005. Dialekmerkers in die Afrikaanse literatuur. Tydskrif vir Taalonderrig, 39(1):35–50.

Coupland, N. 2007. Style: Language variation and identity. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 2010. Language, ideology, media and social change. In Junod en Maillat (reds.) 2010.

―. 2014a. Sociolinguistic change, vernacularization and broadcast British media. In Androutsopoulos (red.) 2014.

―. 2014b. Language change, social change, sociolinguistic change: A meta-commentary. Journal of Sociolinguistics, 18(2):277–86.

De Lange, C. 2012. Afrikaans sal sterf oor jonges se taal. Beeld, 9 Februarie, bl. 15.

De Vries, A. 2015. Wie mag Kaaps in wie se Kaaps? ’n Ondersoek na die gebruik van Kaaps in Marlene van Niekerk se Kaar. Stilet, XXVII(2):1-16.

De Wet, J.P. 1997. Afrikaans: ’n Ideologiese besinning in ’n multilinguistiese Suid-Afrikaanse bestel. PhD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe foreigntalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The creation of a novel grammar. In Pütz en Dirven (reds.) 1989.

Dreyer, H.C. 1986. Die beskrywing van Kaapse Afrikaans as ’n variëteit van Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Duguid, A. 2010. Newspaper discourse informalisation: A diachronic comparison from keywords. Corpora, 5(2):109‒39.

Garcarz, M. 2004. Young Poles and their casual speech: The process of colloquialisation of the contemporary Polish language. BRNO Studies in English, 30:89–101.

Garrett, P., C. Selleck en N. Coupland. 2011. English in England and Wales: Multiple ideologies. In Kristiansen en Coupland (reds.) 2011.

Giliomee, H. 2014. Die troebel toekoms van die Afrikaners en Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):571–95.

HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). 2005. Vyfde uitgawe. Kaapstad: Pearson.

—. 2015. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson.

Hendricks, F. 2012. Om die miskende te laat ken: ’n Blik op Adam Small se literêre verrekening van Kaaps. Tydskrif vir Letterkunde, 49(1):95–114.

―. 2014. Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P. Nel. LitNet Akademies, 11(2):715–48. http://www.litnet.co.za/die-verrekening-van-taalvariasie-in-die-prosawerk-van-elias-p-nel.

―. 2016. Die aard en konteks van Kaaps. ’n Hedendaagse, verledetydse en toekomsperspektief. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

Hendricks, F. en C. Dyers (reds.). 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: SUN MeDIA.

Herring, S.C., D. Stein en T. Virtanen (reds.). 2013. Pragmatics of computer-mediated communication. Berlyn: De Gruyter Mouton.

Holmes, J. 1992. An introduction to sociolinguistics. Londen, New York: Longman.

Junod, K. en D. Maillat (reds.). 2010. Performing the Self. Swiss papers in English Language and Literature 24. Tübingen: Narr.

Kirsten, J. 2016. Grammatikale veranderinge in Afrikaans van 1911–2010. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Kotzé, E.F. 1984. Afrikaans in die Maleierbuurt: ’n Diachroniese perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 24(1):41–73.

Kristiansen, T. 2014. Does mediated language influence immediate language? In Androutsopoulos (red.) 2014.

Kristiansen, T. en N. Coupland (reds.). 2011. Standard languages and language standards in a changing Europe. Oslo: Novus.

Labov, W. 2001. Principles of linguistic change, Vol. 2: Social factors. Oxford: Blackwell Publishers.

Leech, G. 2012. How English grammar has been changing. In Littlejohn en Mehta (reds.) 2012.

Leech, G., M. Hundt, C. Mair en N. Smith. 2016. Change in contemporary English: A grammatical study. Cambridge books online. Cambridge: Cambridge University Press. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511642210.012 (5 Februarie 2017 geraadpleeg).

Links, T. 1989. So praat ons Namakwalanders. Kaapstad: Tafelberg.

Littlejohn, A. en S.R. Mehta (reds.). 2012. Language studies: Stretching the boundaries. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars Publishing.

Mair, C. 2006. Twentieth-century English. History, variation, and standardisation. Cambridge: Cambridge University Press.

―. 2015. Parallel corpora. A real-time approach to the study of language change in progress. Diacronia, 1:1–9.

Marais, S. en A. Coetzee. 2005. Tienerafrikaans. Journal for Language Teaching / Tydskrif vir Taalonderrig, 39(2):244–59.

Markman, K.M. 2013. Conversational coherence in small group chat. In Herring, Stein en Virtanen (reds.) 2013.

McLachlan, T. 2015. Die Afrikaanse idioom onder druk: Oor die gebruik van Afrikaans in die openbare domein. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(3):512–21. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512015000300014&lng=en&nrm=iso (15 November 2017 geraadpleeg).

Nagtegaal, J. 2002. Daar’s vis in die punch. Kaapstad: Tafelberg.

Nuolijärvi, P. en J. Vaattovaara. 2011. De-standardisation in progress in Finnish society? In Kristiansen en Coupland (reds.) 2011.

Odendaal, B. 2015. Omgangsvariëteite van Afrikaans in die digkuns sedert Sestig. Stilet, XXVII(2):32–62.

Odendaal, G. 2014. Moet Afrikaans geherstandaardiseer word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):656–74.

Oosthuizen, J. 2015. Red ons taal. LitNet-onderhoud. http://www.litnet.co.za/red-ons-taal (9 Junie 2017 geraadpleeg).

Ota, I. en S. Takano. 2014. The media influence on language change in Japanese sociolinguistic contexts. In Androutsopoulos (red.) 2014.

Otto, A. 2017. Sosiolinguistiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

―. 1992. Standaardafrikaans in oorgang. In Webb (red.) 1992.

―. 1993. The development of Afrikaans. Duisburg papers on research in language and culture. Frankfurt am Main: Verlag Peter Lang.

―. 1998. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie. Universiteit van Stellenbosch, Annale, 1998(1):1–80.

―. 1999. Afrikaans-English codeswitching and convergence. Language Matters, 30(1):157–70.

Prah, K.K. (red.). 2012. Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming. Boekreeks, no. 88. Kaapstad: CASAS

Pütz, M. en R. Dirven (reds.). 1989. Wheels within wheels. Papers of the Duisburg symposium on pidgin and creole languages. Frankfurt am Main: Verlag Peter Lang.

Raidt, E. 1989. Ontwikkeling van vroeë Afrikaans. In Botha (red.) 1989.

Saal, E.O. 2015. Teenagers᾿ perceptions of SMS Afrikaans in print advertisements. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 33(1):1–19.

—. 2017. ’n Verkenning van taalvariasie in die Afrikaanse poniekoerante Son en Sondag. LitNet Akademies, 14(1):87–132. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/06/LitNet_Akademies_14-1_Saal_87-132.pdf.

Saal, E.O. en J. Blignaut. 2011. "Moetie rai gammattaal gebrykie": Die gebruik en waarde van ’n Tienerkaaps in gedrukte advertensies. LitNet Akademies, 8(3):345–71. http://www.litnet.co.za/assets/pdf/13_Saal%20en%20Blignaut.pdf.

Sayers, D. 2014. The mediated innovation model: A framework for researching media influence in language change. Journal of Sociolinguistics, 18(2):185–212.

Smith, A., L. Fourie en J.D. Froneman. 2012. Setting the tabloid agenda: What two Afrikaans-language tabloids offer their readers. Communicatio, 38(2):225–43.

Steyn, H.J. 2015. Textese and secondary school learners: Identifying textisms in formal written English. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Steyn, J. en A. Duvenhage. 2011. Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: Tendense en toekomsperspektiewe. LitNet Akademies, 8(3):195–241. http://www.litnet.co.za/assets/pdf/8_steyn%20en%20duvenhage.pdf.

Stuart-Smith, J. en I. Ota. 2014. Media models, “the shelf”, and stylistic variation in East and West. Rethinking the influence of the media on language variation and change. In Androutsopoulos (red.) 2014.

Stuart-Smith, J., G. Pryce, C. Timmins en B. Gunter. 2013. Television can also be a factor in language change: Evidence from an urban dialect. Language,89(3):501–36.

Thurlow, C. en M. Poff. 2013. Text messaging. In Herring, Stein en Virtanen (reds.) 2013.

Van der Rheede, C. 2012. “Kaaps in fokus”-referaat: Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps. http://www.litnet.co.za/kaaps-in-fokus-referaat-ekonomiese-bemagtiging-deur-kaaps (26 Augustus 2016 geraadpleeg).

Van Jaarsveld, G.J., A.G. Jenkinson en A.S. de Wet. 2001. Die intertaalteorie en taalverskeidenheid. In Carstens en Grebe (reds.) 2001.

Van Rensburg, M.C.J. 1989. Soorte Afrikaans. In Botha (red.) 1989.

―. 1992. Die demokratisering van Afrikaans. In Webb (red.) 1992.

―. 2015. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(3):319–342.

Van Rooy, B. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.

Verhoef, M. 1997. Die transformasie van Afrikaans – die afgelope dekade se mediadebat in oënskou. Literator, 18(1):1–19.

Vis, K., J. Sanders en W. Spooren. 2012. Diachronic changes in subjectivity and stance ‒ A corpus linguistic study of Dutch news texts. Discourse, Context & Media, 1:95‒102.

Webb, V.N. (red.). 1992. Afrikaans ná apartheid. Pretoria: Van Schaik.

Willemse, H. 2012. Om ’n veelkantiger Afrikaans te bedink. In Prah (red.) 2012.

Wit Umfaan. 2009. As jy iemand wil blame. Rapport, 23 Augustus, bl. 4.


Eindnotas

1 Onder grammatikalisering word verstaan die proses waarvolgens leksikale items tot grammatiese verskynsels ontwikkel (Leech 2012:140). Veramerikaansing verwys na die invloed van Amerikaanse Engels (soos die pragmatiese merker like) op ander tale of variëteite (Leech e.a. 2016:252). Veramerikaansing kom meer beperk voor in vergelyking met die ander twee taalveranderingsprosesse deurdat veramerikaansing afhang van die mate waartoe sprekers van ander tale of variëteite aan Amerikaanse Engels blootgestel is. Die taalinterne proses grammatikalisering en die taaleksterne proses veramerikaansing lei tot veranderinge in die gesproke taal en kom die geskrewe taal via die proses informalisering binne (vgl. Leech e.a. 2016:241).

2 Vir Leech (2012:132) is semimodale werkwoorde breedweg daardie groep "modale" werkwoorde in Engels wat, grammaties beskou, tussen die hulpwerkwoorde en die hoofwerkwoorde staan, waaronder have to, used to, supposed to en want to. Hierdie groep semimodale werkwoorde kan, soos die tradisionele klas modale hulpwerkwoorde in Engels (waaronder must, shall en will), betekenisse soos verpligting, waarskynlikheid en wenslikheid uitdruk, byvoorbeeld: I must tell you this (modale hulpwerkwoord wat verpligting uitdruk) teenoor I have to tell you this (semimodale werkwoord wat verpligting uitdruk).

3 Die term Standaardafrikaans word hier gebruik om te verwys na die formele register van Standaardafrikaans, d.w.s. Standaardafrikaans wat aangewend word vir hoëfunksiegebruike soos akademiese taal, regstaal, onderrigtaal, ens.

4 Die groep respondente in hierdie ondersoek was uitsluitlik bruin graad 10-leerders verbonde aan hoërskole in Upington (in die Noord-Kaap) en Piketberg (in die Wes-Kaap).

5 In die Wes-Kaapse korpus is slegs twee gevalle van ontronding geïdentifiseer, naamlik skier (x skuur) en ondeense (x ondeunde), maar weens die hoë frekwensie van ontronding (insluitend monoftongering) in die Noord-Kaapse korpus word ontronding hier as ’n kenmerkende verskynsel van Noordwestelike Afrikaans gesien (vgl. Coetzee 2005:43–4; Links 1989:20).

6 In die Wes-Kaapse korpus het slegs een geval van vokaalverlenging (kaans) voorgekom; daarom word dit hier as ’n Noordwestelike verskynsel hanteer (vgl. Links 1989:12–3).

7 Ponelis (1993:65) beskryf die weglating van die voorsetsel as ’n tipiese verskynsel van Noordwestelike Afrikaans. In die Wes-Kaapse korpus is slegs twee gevalle van voorsetselweglating aangetref, maar weens die betreklik hoër frekwensie van die verskynsel in die Noord-Kaapse korpus word dit hier as ’n tipiese streeksverskynsel van Noordwestelike Afrikaans hanteer.

8 In die Noord-Kaapse korpus het ’n enkele geval voorgekom waar die afleidingsmorfeem -lik weggelaat word by ’n adjektief in attributiewe gebruik: dit was ’n baie uitsonder dag (x uitsonderlike). Dit is onduidelik uit die data of hierdie voorbeeld as ’n spreektaalverskynsel gesien kan word. As gevolg van die gebrekkige voorkoms in die twee korpusse word dit hier as ’n taalfout hanteer.

The post ''Ons skryf soos ons praat'': Informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: Diskoers

$
0
0

Verskeie groot geeste, slim mense en ingeligtes is op die Diskoers-program en jy kan kom luister en saamgesels en dis: gratis.

Tim du Plessis

Die Woordfees-gespreksreeks

Weeksoggende om 11:00 is dit tyd vir hierdie gewilde reeks onder die bekwame leiding van Tim du Plessis. Op sy reguit manier het Tim die vermoë om deelnemers die régte vrae te vra en tot die hart van sake deur te dring.

Vanjaar is daar verskeie aktuele sake van dringende belang op die agenda. Die komende verkiesing is natuurlik op almal se lippe, en deelnemers wat hiervan gaan probeer sin maak, sluit in Judith February en Jan-Jan Joubert.

En waar Cyril Ramaphosa verlede jaar hierdie tyd skaars sy sit in die warm stoel gekry het, was daar nou al genoeg tyd om ’n idee te begin vorm van die man wat tans Suid-Afrika se president is. Maar is hy sterk genoeg om die faksie-gevegte binne die ANC te oorleef? En sal hy die groot skip wat die Suid-Afrikaanse ekonomie is, op beter koers kan help stuur? Kom hoor wat sê Moeletsi Mbeki, Piet Croucamp en Prince Mashele.

Die wêreldorde het onherroeplik verander en die meeste van ons sukkel om sin te maak van die nuwe rolle wat deur lande soos die VSA, Brittanje, Rusland en China ingeneem (gaan) word. Luister wanneer kenners soos Ishmail Lagardien en Elizabeth Sidiropoulos perspektief gee op ons plek in hierdie veranderende wêreld.

En dan is daar – die grondkwessie. Die afgelope jaar of wat het die herverdeling van grond in die toekoms gelê, maar nou is dit op ons en baie mense is steeds onseker oor wat dit werklik gaan behels. Deelnemers sluit in Phephelaphi Dube, Mohammad Karaan en Wandile Sihlobo.

Die media was nog altyd noodsaaklik as bron van inligting en menigsvormer. Maar sosiale media blyk soms ’n heel ander gedierte te wees, met niks of niemand wat dit kan stop nie. Chris Roper, Desmond Painter en Schalk Engelbrecht saal dié wilde perd op.

*4-8 Maart 11:00 | 50 min | Die Plataan | Gratis

RSG Praat Saam met Lynette Francis

Praat saam op RSG

Nog ‘n gewilde reeks wat al sinoniem met die Woordfees is, is RSG se oggendreeks Praat saam, met vuurvreter Lynnette Francis agter die mikrofoon. Kom luister wanneer kenners besin oor bestuursvaardighede in Suid-Afrika: Het ons die nodige leiers in die openbare en private sektor om die jammerlike stand van dienslewering reg te ruk en die ekonomie te stimuleer? Tony Ehrenreich en Harlan Cloete deel hul mening.

Die inmenging van Rusland om die uitslag van die vorige Amerikaanse verkiesing te beinvloed, het wêreldwyd baie mediadekking geniet, maar die voortdurende ontwikkeling van tegnologie moet tog sonder twyfel ook verkiesings wêreldwys beïnvloed. Wat gaan die impak van tegnologie op ons komende verkiesing wees? Courtney Sampson (Hoof van die OVK Wes-Kaap) gee sy mening.

Wanneer klimaatsverandering nogeens die voorblaaie haal, voel menige van ons om eerder ons kop in die sand te steek. Kan ons nog iets doen om ons planeet te red en die verwoesting teë te werk – of is dit reeds te laat?

Dink net: geld in die bank sonder dat jy jou daagliks vir lang ure aan ’n baas se grille onderwerp… Maar is dit werklik so ’n gawe gedagte? En behoort daar iets soos ’n universele basiese inkomste, ’n sogenaamde UBI, te wees? Of is arbeid adel die enigste seker weg na ’n inkomste? (Met, onder andere, Servaas van der Berg, bekleёr van die SARChI-navorsingstoel in die ekonomie van sosiale beleid)

 En dan word een van die Praat saam-gesprekke gewei aan ’n verkiesingsdebat, waartydens verteenwoordigers van verskillende partye hul saak kom stel.

* 4-9 Maart 08:00 | 50 min | Die Plataan | Gratis

Suna Venter-gedenklesing

Vanjaar word die tweede Suna Venter-gedenklesing, vernoem na een van die brawe joernaliste bekend as die SABC 8, gelewer deur Pumla Gobodo-Madikizela. Sy beklee die navorsingsleerstoel in Studies oor Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, en is ’n ontvanger van die Alan Paton-prys vir haar boek A Human Being Died that Night.

* 5 Maart 17:00 | 50 min | Drostdy Teater | Gratis

Heindrich Wyngaard

Fredrik Van Zyl Slabbert-gesprekreeks

Kabous Meiring, bekend as aanbieder van Prontuit en MegaBoere, kry vanjaar die jongmense aan die praat oor kwessies wat vir hulle belangrik is. En hoewel die deelnemers in ouderdom wissel van studente tot afgetredenes, is die doel van hierdie gesprekreeks om sake deur die oë van die nuwe geslag te bekyk. As jy jonk is, of wil weet hoe jongmense oor sake dink, kom sluit gerus by Kabous en haar gaste aan. Onderwerpe wat onder die loep kom, sluit in die jeug se politieke deelname (met Farai Mubaiwa, mede-stigter van die Africa Matters inisiatief en Lwando Nkamisa voormalige SR-voorsitter van die US), sosiale integrasie in hoër onderwys (met, onder andere, Frances Petersen, rektor van die UFS, en Carli van Wyk, huidige SR-voorsiter), en die handhawing van ’n gesonde lewenstyl te midde van groot druk om te presteer (met Ronelle Carolissen en andere).

5-7 Maart 17:30 | 50 min | Visuele Kunste Vierkant | Gratis

The post US Woordfees 2019: Diskoers appeared first on LitNet.

Kompetisie: Die liefde in jóú se Afrikaans

$
0
0

LAPA Uitgewers soek manuskripte oor die liefde wat Afrikaans in al haar tonge uitbeeld. Die liefde is wel ’n universele taal, maar dit klink darem baie lekkerder in jou eie dialek of variëteit.

Om dít te fasiliteer, hou ons ’n kompetisie waarin ons vra: Hoe klink die liefde in jóú se Afrikaans? Praat jy of jou karakters Kaaps, Johannesburgafrikaans, Namakwa-afrikaans of Oranjerivierafrikaans? Klink die Afrikaans van die Weskus anders as die Afrikaans van die Ooskus?

Ons wil weet; en ons wil weet oor die liefde, want dít is iets wat ons almal verstaan.

HemelBesem vertel gereeld dat jongmense skaam is vir hulle eie variëteit van Afrikaans, want daar bestaan nie genoeg voorbeelde in die media dat enige Afrikaans, anders as die sogenaamde standaard, gebruik kan word om hartsake aan te spreek nie. Ons wil dit verander.

Daar is geen genrevoorskrif nie, solank dit ’n lekkerleesverhaal van tussen 45 000 en 75 000 woorde oor die liefde is. Soos Afrikaans, het die liefde baie vorme. Enige dialek of variëteit van Afrikaans word aanvaar, LAPA soek egter opsetlik na verhale wat Afrikaans in al haar tonge uitbeeld; die keuse van wenners en publiseerbaarheid sal hierdeur beïnvloed word.

Die prysgeld is soos volg:

  • R20 000 vir die wenverhaal
  • R10 000 vir die naaswenner
  • ’n Debuutprys van R5 000 word uitgeloof. Dié prys sou moontlik ook aan die wenner of die naaswenner toegeken kon word.

Die sluitingsdatum vir voorleggings is middernag 3 Februarie 2020.

* * *

Die reëls van die kompetisie is soos volg:

  1. Persone bo 18 mag inskryf.
  2. Slegs oorspronklike werke deur die skrywer sal aanvaar word en slegs een verhaal per persoon mag ingeskryf word. Enige dialek of variëteit van Afrikaans word aanvaar, LAPA soek egter opsetlik na verhale wat Afrikaans in al haar tonge uitbeeld; die keuse van wenners en publiseerbaarheid sal hierdeur beïnvloed word.
  3. Verhale van tussen 45 000 – 75 000 woorde kan ingeskryf word.
  4. Deelnemers gee aan LAPA Uitgewers (Edms.) BPK. die eerste opsie om enige van die inskrywings te publiseer. Geen ingeskrewe verhaal mag elders voorgelê word of tans voorgelê wees vir moontlike publikasie nie. LAPA sal ná afloop van die kompetisie skriftelik met alle deelnemers in verbinding tree om te bevestig of hul verhale gepubliseer word, al dan nie.
  5. Die volgende moet op die heel eerste bladsy van die voorlegging verskyn en enige inskrywing kan gediskwalifiseer word indien dit nie daarop verskyn nie:
  • Die skrywer se naam en van*
  • Titel van die manuskrip
  • Lengte (aantal woorde) van manuskrip
  • E-posadres
  • Telefoonnommer
  • Is jy ’n gepubliseerde skrywer of nie?
  • Vir redigeringsdoeleindes dui aan in watter dialek of variëteit die verhaal geskryf is

*Indien daar onder ’n skuilnaam geskryf word, moet die skrywer se volle naam en van ook op die heel eerste bladsy van die manuskrip aangebring word.

  1. Stuur ’n sinopsis (opsomming) van 100-300 woorde oor die manuskrip wat jy voorlê
  2. Stuur jou manuskrip vir ons in die volgende formaat:
  • Getik op wit A4-papier en slegs aan een kant gedruk (indien nie per e-pos voorgelê nie).
  • Dubbelspasiëring.
  • In ’n maklik leesbare lettertipe (12 pt Times New Roman of Arial).
  • Breë kantruimtes (margins) om aantekeninge te maak (2cm is voldoende).
  • Manuskripte moet nie gebind wees nie.
  • Onthou om die bladsye te nommer.
  1. Indien die manuskrip aanvaar word vir publikasie, sal ’n proses van manuskripontwikkeling plaasvind.
  2. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Indien die gehalte van die inskrywings nie na die beoordelaars en LAPA Uitgewers se mening voldoende is nie, word die reg voorbehou om geen pryse toe te ken nie. Die doel van die kompetisie is tweeledig: Om variëteite van Afrikaans te ondersoek wat tot nou té min aandag gekry het, en om ’n verhaal van liefde uit te beeld. Manuskripte wat albei goed doen, staan ’n beter kans om uitgegee te word en moontlik te wen.
  3. Die prysgeld is soos volg:
  • R20 000 vir die wenverhaal
  • R10 000 vir die naaswenner
  • ’n Debuutprys van R5 000 word ook uitgeloof. Dié prys sou moontlik aan die wenner of die naaswenner ook toegeken kon word.
  1. Geen manuskripte sal teruggestuur word ná afloop van die kompetisie nie. LAPA Uitgewers en die organiseerders is nie aanspreeklik vir die verlies van enige inskrywing nie, en ontvangs sal per e-pos erken word. Dit is altyd raadsaam om ’n afskrif van ’n manuskrip te hou.
  2. Werknemers van die ATKV en LAPA Uitgewers mag nie deelneem nie.
  3. Geen korrespondensie sal vooraf plaasvind nie. Die eerste korrespondensie sal met die ontvangs van die manuskrip plaasvind.
  4. Wenners moet bereid wees om media-onderhoude toe te staan.
  5. Deur in te skryf onderneem jy dat jy al die reëls gelees en aanvaar het.

* * *

Inskrywings kan op drie maniere voorgelê word.

  • Per e-pos: stuur dit aan kompetisie@lapa.co.za
  • Per koerier: Stuur dit aan LAPA Uitgewers, Bosmanstraat 380, Pretoria, 0002
  • Die posdiens is uiters onbetroubaar en baie stadig, maar voorleggings kan ook gestuur word aan: LAPA Uitgewers, Posbus 123, Pretoria, 0001

Merk duidelik jou manuskrip: Die liefde in jou se Afrikaans 2019/20

 

 

The post Kompetisie: Die liefde in jóú se Afrikaans appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

$
0
0

Staatsrede 2019: “Watch this space”

$
0
0

Foto: YouTube

So een keer elke paar dekades kom daar ’n toespraak wat my hoendervleis gee. Obama se “Yes we can” was een. Hierdie een van Cyril Ramaphosa is nog een.

Dit was ’n toespraak wat gepoog het om ons as Suid-Afrikaners te verenig, om ons sover te kry om saam te bou aan ons toekoms. In baie opsigte was die temas dieselfde as verlede jaar se “Thuma mina”-rede, maar gelewer met ’n passie wat aansteeklik is. Verskeie kere in die toespraak het hy belowe “Watch this space”, tot groot vermaak van sy gehoor.

Op verskeie van die aankondigings, soos optrede teen korrupsie, werkverskaffing en investering en dies meer, sal ontwikkelinge inderdaad met groot belangstelling dopgehou word.

My aanvanklike verwagting was dat die President al die regte geluide sal maak voor die verkiesing, maar niks van substansie sal daarstel nie. Soos verwag kon word, het hy heelwat gewag gemaak van die dinge wat die afgelope jaar gedoen is – en ons het nie eens gehoor van die kompakte met die duiwel(s) agter die skerms nie.

Hy het heelwat klem gelê op werkverskaffing aan jongmense, ondersteuning van klein en mediumbesighede, geleenthede om te belê, geleenthede om toerisme uit te brei en dies meer.

Hy het aangekondig dat die verkiesing op 8 Mei 2019 sal plaasvind. Hy het verder belowe om die regering voor die verkiesing te herstruktureer – dus letterlik tot op die dag binne die volgende drie maande.

Die Nasionale Intelligensiediens word herstruktureer om die land se belange te dien eerder as die belange van individue – ’n duidelike steek teen die afwesige Jacob Zuma.

Zuma het verkies om nie die staatsrede by te woon nie – met rede. Ramaphosa se staatsrede het nie doekies omgedraai omtrent staatskaping en korrupsie nie – Zuma se twee stokperdjies gedurende sy tyd aan bewind.

Twee aankondigings in hierdie verband het groot reaksie ontlok. Die eerste was dat staatsamptenare (en parlementslede) in die toekoms verplig sal word om kursusse oor etiek en teenkorrupsie by te woon.

Die tweede – en dit is die een wat die staatskapingnetwerk slapelose nagte behoort te besorg – is die aankondiging dat ’n gespesialiseerde eenheid in die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, se kantoor gestig word. Hierdie eenheid sal bestaan uit ondersoekers en aanklaers wie se taak dit sal wees om korrupsie en staatskaping te ondersoek en te vervolg. Hulle sal ook by magte wees om bates te herwin wat gesteel is. Skerpioene v 2.0, met ander woorde.

Malema het belowe om die staatsrede te onderbreek, soos wat hy gereeld met Zuma gedoen het. Dit het nie gebeur nie. Die grootste reaksie van die nag was toe die President Gwede Mantashe se naam noem, in verband met Total se betrokkenheid in Outeniekwa. Terwyl omgewingsbewustes na verwagting heelwat kommentaar hierop gaan lewer, was die parlementslede se reaksie veel eerder gemik op onlangse onthullings in die Zondo-kommissie dat Mantashe een van die ontvangers van somme geld van Bosasa was.

Hopelik gaan Mantashe binnekort ’n intense gesprek met Batohi se spesiale eenheid voer.

Geen staatsrede vlak voor ’n verkiesing sou volledig gewees het sonder beloftes om die herverdeling van grond te bespoedig nie. Stukke staatsgrond sal vir huisvesting beskikbaar gestel word. Grond vir landbou en nywerhede sal ook beskikbaar gestel word.

Die onderneming om boere wat onlangs deur herverdeling grond bekom het, met kundigheid by te staan om hul boerderye suksesvol te bedryf, gee hoop.

Eskom beter sy sokkies optrek of daar is perde. Uitvoere moet verbeter, buitelandse beleggings neem toe. Meer toeriste as verlede jaar kom kuier vir ons, en volgende jaar sal selfs beter wees. Opvoeding is ’n prioriteit, en putlatrines is binnekort ’n ding van die verlede. Bekostigbare, gehaltegesondheidsorg vir almal is op die drumpel. Daar is planne om die ekonomie te stimuleer en vir almal werk te verskaf. Dis als beloftes wat ons met elke staatsrede hoor.

Hierdie jaar het dit anders gevoel. Hierdie jaar het dit gevoel asof ons te doen het met ’n president wat weet wat hy doen. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het die staatsrede my hoopvol gelaat, veral aan die einde, toe hy al die leiers van die opposisiepartye by die naam noem en uitdaag om te help bou aan ’n beter Suid-Afrika vir almal, verby partypolitieke grense.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het dit gevoel asof dit die president van die land is, nie net van een politieke party nie, wat aan die woord is.

Watch this space.

The post Staatsrede 2019: “Watch this space” appeared first on LitNet.


Suid-Afrika se onderwys is ’n “katastrofiese mislukking”

$
0
0

Foto: YouTube

Suid-Afrika is tans die mees ongelyke land ter wêreld en een van die redes daarvoor is die mislukte onderwysstelsel.

Suid-Afrikaners moet hulle nie laat flous deur die jaarlikse verbetering van die matriekslaagsyfer nie. Die land se onderwysstelsel is ’n katastrofiese mislukking, sê oudpresident FW de Klerk.

’n Kommerwekkende prentjie van die groter wordende kloof tussen ryk en arm is deur De Klerk geskets tydens die 10de jaarlike konferensie van die FW de Klerk-stigting in Kaapstad. Die tema van die gesprek was om ongelykheid aan te pak.

Die gaping tussen die bevoorregtes en minderbevoorregtes is selfs groter as in 1994 toe die land ’n demokrasie geword het. Ongelykheid het die afgelope 25 jaar onder alle bevolkingsgroepe toegeneem, maar in die besonder tussen swart Suid-Afrikaners onderling.

De Klerk sê dit is ’n nasionale skande dat Suid-Afrika die mees ongelyke land ter wêreld is en nie daarin kon slaag om ongelykheid suksesvol aan te pak nie. Een van die dryfvere vir die toenemende ongelykheid is volgens hom die uiters swak skoolprestasie van die meerderheid Suid-Afrikaanse kinders. Hy sê dit is een van die grootste dryfvere van armoede en ongelykheid omdat daar ’n direkte verband is tussen onderwysvlak, inkomstevlak en werkloosheid.

Hy het statistiek van die Organisation for Economic Co-operation and Development (OECD) in 2015 aangehaal. Uit 76 lande wat geassesseer is, was Suid-Afrika tweede laaste op die lys. In 2016 was die land feitlik heel laaste in ’n internasionale studie wat leerders van 57 lande se wiskunde- en wetenskapvaardighede getoets het.

Suid-Afrikaanse leerders vaar swakker as kinders van veel armer lande. Na ses jaar op die skoolbanke kon 27% Suid-Afrikaanse kinders nog nie lees of skryf nie, vergeleke met slegs 4% in Tanzanië en 19% in Zimbabwe.

Een van die probleme is volgens De Klerk dat miljoene kinders na die eerste drie jaar op skool in Engels onderrig word – ’n taal wat veral plattelandse kinders nie verstaan nie.

Uit elke 100 kinders wat begin skoolgaan, sal die helfte uitval voordat hulle in matriek is, 40 sal slaag en slegs 12 sal universiteitstoelating kry.

In effek beteken dit dat slegs 12 uit elke 100 kinders wat in die land se skole opgeneem word, 12 jaar later ’n aanvaarbare kwalifikasie het. Die ongelykheid word verder verhoog omdat kinders uit die laer ekonomiese vlakke dubbel benadeel word. Kinders in die topkwintiel geniet onderwysopleiding op dieselfde vlak as die meeste ander middelklaslande, maar diegene in die laer kwintiel se onderwysgehalte neem eksponensieel af.

Blankes is steeds die mees bevoorregte groep in Suid-Afrika in terme van inkomste en opvoeding, maar die situasie is vinnig besig om te verander. De Klerk sê in 1995 het blanke Suid-Afrikaners 69% uitgemaak van die land se topinkomsteverdieners. In 2007 het dit gedaal tot 43%. Volgens Statistiek Suid-Afrika het slegs 38% blanke huishoudings nou ’n maandelikse besteding van meer as R10 000.

In 2016 het sowat 1,7 miljoen swart, bruin en Indiërhuishoudings ’n groter maandelikse bestedingsinkomste gehad as 30% van die blanke huishoudings. Daar was ook 3,9 miljoen swart, bruin en Indiër-Suid-Afrikaners met ’n hoër opvoedingskwalifikasie as meer as die helfte van die land se blankes.

De Klerk het die ANC krediet gegee dat daar sedert 1994 vordering gemaak is om genderdiskriminasie te verminder, maar het ernstige kritiek uitgespreek teen die land se onderwysbeleid en werkloosheid.

Die lande met die grootste gelykheid ter wêreld ten opsigte van inkomste is die Tsjeggiese Republiek, Noorweë, Swede en Denemarke. In daardie lande verdien die top 10% van die bevolking net effens minder as die saamgestelde inkomste van die laagsbesoldigde 40% van die bevolking. Daarteenoor verdien die top 10% Suid-Afrikaners meer as sewe maal meer as die onderste 40% van die bevolking.

De Klerk sê die belangrikste ongelykheidsverdeling in Suid-Afrika is nie meer tussen wit en swart nie, maar tussen diegene wat vaardighede en opvoeding het en dié wat dit nie het nie, en tussen diegene wat werk het en die sowat 40% van die land se werklose bevolking.

Hy sê die land moet sy onderwysstelsel regruk. Vanjaar se onderwysbegroting beloop R277 miljard. Saam met ander onderwysuitgawes kom dit neer op R16 000 per leerder of student. “Ons moet daarop fokus om seker te maak dat ons en ons kinders behoorlike waarde kry vir hierdie enorme belegging,” het De Klerk gesê.

Dit beteken:

  • daar sal ’n behoorlike onderwysomgewing vir kinders geskep moet word
  • die kwaliteit van onderwysers moet opgeskerp word
  • uitstekende skoolhoofde moet gevind en aangestel word
  • leerders moet in die eerste ses jaar moedertaalonderrig ontvang voordat hulle op hoërskool na Engels oorslaan
  • daar moet ’n einde kom aan die toksiese invloed wat sekere onderwysvakbonde het.

Die adjunk-direkteur-generaal vir onderwysbeplanning, evaluering en monitering (EPEM) van die Oos-Kaapse departement van onderwys, Penelope Vinjevold, het gesê daar moet begin word om die graad 1-slaagsyfer te verbeter.

Sy het ook die matriekslaagsyfer van 78% bevraagteken en gesê dit is nader aan 40% as die uitvalsyfer in ag geneem word.

The post Suid-Afrika se onderwys is ’n “katastrofiese mislukking” appeared first on LitNet.

US Woordfees 2019: Nederlandse en Vlaamse komponent

$
0
0

Hieronder is items op vanjaar se US Woordfeesprogram op Stellenbosch (1-10 Maart 2019) met ’n Nederlandse of Vlaamse komponent. Volledige program heel onder.

Connie Palmen (Foto: Vera de Kok - Eigen werk [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

REBELLIE EN VERSET

Met: Adriaan van Dis, Connie Palmen, Adrian “Diff” van Wyk en Valda Jansen. Moontlik gemaak deur die Kaapse Forum vir Neerlandistiek en SASNEV

Die grande dame van Nederlandse letterkunde Connie Palmen en De Wereld Draait Door-boekprogramaanbieder en skrywer Adriaan van Dis debatteer met plaaslike skrywers Valda Jansen en Adrian “Diff” van Wyk oor die jeug, rebellie en verset: Behoort dit net aan die jeug? Hoe sien die paneel die gevestigde orde? Hoe kom húlle in hulle skryfwerk in opstand? Dié forumgesprek dien as lusmakertjie voor die jaarlikse, feestelike SASNEV-verwelkomingsborrel ter viering van die nou verhouding tussen Afrikaans en Nederlands. 

2 Maart 17:00 60 min | ATKV Boektent R55 | R70 by die deur

Alfred Schaffer (foto: Naomi Bruwer)

DIGTERSPARADYS

Met: Frieda van den Heever as gasvrou. Aangebied deur Protea Boekhuis, Naledi en NB-Uitgewers

RSG se Frieda van den Heever speel vanjaar gasvrou wanneer bekende en debuutdigters hulle werk kom voorlees. Op die spyskaart is Willie van der Merwe uit Nederland met Doodmenslik, Alfred Schaffer met sy bekroonde Mens, dier, ding, Corlia Fourie (Die goeie vrou en ander mites), Marlise Joubert (Grondwater), Johannes van Eeden uit Switserland met sy debuut, Die val, Gabeba Baderoon met The History of Intimacy, en Koos Kombuis (Vandag wil ek my blou skoene dra).

9 Maart 17:00 90 min | ATKV Boektent R55 | R70 by die deur – glas wyn ingesluit

Ellen Deckwitz (Foto: Sebastiaan ter Burg from Utrecht, The Netherlands [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)

VAN VER EN HIER

Ryan Pedro, in gesprek met Ellen Deckwitz en Radna Fabias. Moontlik gemaak deur die Kaapse Forum vir Neerlandistiek en SASNEV

Die talentvolle digter Ryan Pedro gesels met twee jong en suksesvolle digters – Ellen Deckwitz uit Nederland en Radna Fabias, oorspronklik afkomstig van Curaçao – oor die belang van pryse en erkenning, die rol van afkoms en die lekkerte van skryf en optree. Uiteraard vertel dié verhoogpersoonlikhede ook hoekom hulle gedigte so goed ontvang is in die Lae Lande.

2 Maart 14:00 60 min | Adam Small Seminaarkamer R55 | R70 by die deur Taal: Afrikaans en Nederlands

PICTURE THIS!

Aangebied deur Protea Boekhuis.

’n Uitstalling van die afgelope vier jaar se wenners van die internasionale Picture this!-prenteboek-illustrasiekompetisie maak vanjaar ’n Woordfees-draai nadat dit reeds in die ander deelnemende lande, Duitsland, Engeland en Nederland, vertoon is. Dié wedstryd is deur Lemniscaat, die bekendste Nederlandse kinderboekuitgewer, begin om ongepubliseerde illustreerders die kans te gee om raakgesien te word deur bekendstelling in ’n katalogus tydens die Bologna Kinderboek-Beurs in Italië. Kom verlustig jou in meer as 40 kleurryke werke – waaronder dié van die drie onlangse Stellenbosse wenners. Werke is te koop.

1-10 Maart 10:00 - 17:00 Voorportaal Stellenbosch-stadsaal, gratis

ARGITEKTUUR UIT VLAANDERE

Taalboustene uit die argitektuur

Dolf Wieërs, emeritusprofessor en argitek uit Vlaandere, gesels oor die kleurryke herkoms van gesegdes en uitdrukkings wat hul oorsprong in die argitektuur en boukuns het. Ondergrondse blyplekke in Suid-Afrika Die Vlaamse argitek Jan Keymis het in Port Elizabeth navorsing oor ondergrondse wonings binne ’n Suid-Afrikaanse konteks gedoen. Hy verduidelik aan die hand van interessante internasionale en plaaslike voorbeelde die verskille tussen, asook die voor- en nadele van ondergrondse en bogrondse boukuns.

Kultuur – landskap – argitektuur: Lesse uit Limburg

Die Vlaamse provinsie Limburg en die Boland stem in baie opsigte ooreen – albei streke word gekenmerk deur historiese dorpies en vrugteboerdery. Rudolf Perold het pas sy doktorale navorsing in geografie en argitektuur aan die universiteite van Stellenbosch en Hasselt voltooi. Hy praat oor die werk van twee argitektuurpraktyke in die Limburgse hoofstad wat op omsigtige wyse tot die argitektuurerfenis in hul streek bydra.

9 Maart 14:00 105 min (3 sessies van 35 min) | Adam Small Seminaarkamer Gratis Taal: Afrikaans en Vlaams

DIE EGGO VAN JOU OË

Regisseur: Jannie du Toit & Susan Mouton. Met: Jannie du Toit (sang en kitaar), Susan Mouton (tjello) Vervaardiger: Jannie du Toit

Jannie du Toit en Susan Mouton bederf die gehoor in Die eggo van jou oë met Jannie se jongste liedjies en gunstelinge uit sy jeugjare – van die Afrikaanse kunslied, wêreldpop, folk van die sestigeren sewentigerjare en die beste uit die Europese kleinkunstradisie. Dis Dylan tot Doep en die Beatles tot Brel saam met enkele instrumentale werke vir tjello en kitaar.

1 Maart 18:30 | 2 Maart 20:30 3 Maart 20:30 60min | kykNET Fismer | R130 | R150 by die deur Taal: Afrikaans, Engels, Frans, Nederlands

AMANDA STRYDOM

Met: Amanda Strydom (sang) begelei deur Coenraad Rall (klavier)

Amanda Strydom is volksbesit. Sy vier in 2019 vier dekades in die vermaaklikheidsbedryf. In hierdie konsert sing sy liedjies uit haar groot repertoire van haar albums en ook ballades in Frans, Engels en Nederlands. Oudergewoonte verweef sy stories en poësie met die musiek en dek sy die hele spektrum van die skreeusnaakse tot roerende patos.

4 Maart 20:00 60 min | Stadsaal R100 - R150 | R170 by die deur

Niël Rademan (foto: Naomi Bruwer)

RADEMAN

Met: Niël Rademan (klavier en sang), Louis Jones (perkussie), Corneil Müller (tjello en sang) en Lucas Heinen (klavier en trekklavier)

In RADEMAN vervleg gesoute musikante pop en teatermusiek en swaai gemaklik tussen sigeunerklanke, ligte rock, klassiek, tango en selfs volksmusiek met kort, vermaaklike vertellings tussendeur. Die produksie sluit oorspronklike komposisies deur Niël Rademan en Neil McDonald in, asook ikoniese ou bekendes deur Koos Kombuis, Christa Steyn, Hennie Aucamp, Carlos Gardel en Jacques Brel.

6 Maart 13:00 | 7 maart 19:00 9 maart 19:00 60 min | Weltevreden Restaurantteater | R130 | R150 by die deur | Taal: Afrikaans met lirieke in Afrikaans, Engels, Nederlands en Spaans

The post US Woordfees 2019: Nederlandse en Vlaamse komponent appeared first on LitNet.

Jagter deur Bettina Wyngaard: Grabouw-boekbekendstelling

US Woordfees 2019: Wen drie dubbelkaartjies na jou voorkeurproduksies

$
0
0

Na watter produksies sien jy die meeste uit op vanjaar se US Woordfees-program? Stuur jou keuse van drie produksies voor 15 Februarie aan wen@litnet.co.za en staan die kans om deur 'n gelukstrekking 3 x dubbelkaartjies na jou voorkeurproduksies te wen!

Sluitingsdatum: 15 Februarie
Kaartjies vir spesifieke produksies is onderhewig aan beskikbaarheid.

 

Laai die volledige feesgids in PDF-formaat af (33 MB)

The post US Woordfees 2019: Wen drie dubbelkaartjies na jou voorkeurproduksies appeared first on LitNet.

LitNet: Jou Woordfees

Viewing all 21513 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>