Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 22111 articles
Browse latest View live

Pik Botha: lewensgenieter, omstrede, geliefd, ’n man vir verandering

$
0
0

Pik Botha tydens ’n onlangse US Woordfees-geleentheid (foto: Naomi Bruwer)

Roelof Frederik (Pik) Botha

1932–2018


Omtrent elkeen wat Pik Botha geken het, het ’n Pik-storie. As hy met jou gepraat het, was dit met die deurdringendheid van iets belangriks, asof hy met jou alleen ’n idee, ’n antwoord, ’n gedagte wou deel.

Hy is ’n Laurence Olivier, het ’n ou vriend verduidelik: groot gebare, groot stemverheffing. Dit was by ’n braaigeleentheid in Kampsbaai. Pik het pas teruggekeer van ’n VN-vergadering, en met lang vurk in die hand, pet op die kop, sy VN-span met hom, het Pik sy orasies gelewer. Die vurk is in jou rigting gerig, hy maak ’n punt. Hy vra ’n vraag, hy beantwoord dit self. Iemand por hom met ’n vraag oor die VN. Pik draai sy vurk in daardie rigting. Dramaties, dringend, nek vorentoe wei hy uit.

Niemand kon sy sjarme ontkom nie, sy ooglopende plesier om uit die digters, die filosofie aan te haal, sy eie gedagtes op ’n weggooimanier uit te saai.

Wie was hy regtig? Hierdie man wat graag kortverhale, nogal sentimenteel, sou skryf. Sy gedigte was direk, meestal rym, meestal oor sy gevoelens. Hy het ’n persona gehad wat hom onpeilbaar gemaak het: Was hy die voorloper, die pleitbesorger, die man wat apartheid brokkie vir brokkie begin aftakel het? Was hy PW Botha se gewete? Was hy showman? Was hy die media se liefling, al was hy nie oral gewild nie. Kon hy kritiek verduur?

Immers was hy getuie van geskiedkundige gebeure: die Den Haag-verhoor, Suidwes-Afrika wat Namibië geword, die man wat die Rubicon wou en kon oorgesteek het as sy baas, PW Botha, nie skielik van oortuiging verander het nie.

Uiteindelik: was Pik nie werklik ’n panasee in die verskriklik uitmergelende tagtigerjare toe sy party stamelend, voetjie vir voetjie apartheid probeer vernietig het nie?

Miskien was Pik Botha te teatraal, dalk te dapper, te getrou , om ’n heldegrafskrif te verdien.

Ek dink hy verdien ’n heldegrafskrif. Sy persoonlikheid was te groot, sy uitsprake soms te weersprekend, sy begrip vir media-aandag te opsigtelik, maar nogtans was hy die sterkste stem wat aan buitelandse deure, asook sy eie partydeure, geklop het om indien nie te aanvaar nie, dan tog te help om eenheid tussen wit en swart te bewerkstellig.

Pik se nalatenskap kan ook romantisering nie vryspring nie.

Die jong regstudent wat sy ouers se vriende se dogter ontmoet het, dadelik verlief geraak het, is nie Mills & Boon nie – dit sou ’n lang verbintenis word. Helena Bosman was ’n dramastudent op Stellenbosch. Sy was mooi, sy was gewild, en pas na haar en sy studies is hulle getroud. Hulle was die “goue paar”. Pik was duidelik ’n man met ’n toekoms in die Departement Buitelandse Sake. Skaars ’n jaar later is na die ambassade in Swede verplaas. Hulle sou altyd in die openbare oog wees.

In haar omvattende, deeglik-nagevorste biografie van Pik Botha (waarvoor hy nooit eksplisiete goedkeuring wou gee nie) het Theresa Papenfus geskryf van vele onderhoude oor sewe jaar met Pik waarin hy liries, en natuurlik sentimenteel, sy gedigte oor sy liefde en beminde getoon het.

Dat hy ’n flirt was, was net so deel van sy persona dwarsdeur sy volwasse lewe. Hy en Helena het vier kinders gehad wat almal in hul lewenskeuses uitgestyg het. Dit was Helena wat nie haar eie ideale kon opvolg nie – die belowende dramastudent sou nooit weer aktrise wees nie. Sy was gewild as ambassadeursvrou vir haar fynbesnaardheid. Sy het, soos dit haar aard was, Pik se openbare lewe in koerante en tydskrifte sorgvuldig gevolg, dit uitgeknip en sodoende ’n onskatbaar waardevolle argief vir hom opgebou. Helena is tragies dood. Sy het geval. Sy was broos.

Pik se tweede vrou, ’n joernalis, Ina Joubert, het in die onstuimige jare bekend geword as Pik se regterhand, hoeder, geselskap; het sy beeld van ’n denker, ’n geselser, ’n plotbewoner versterk. Pik was lief vir sy grond. Hy was lief vir plante. Veral was hy lief vir braai, sing, opsê en gesels. En lees.

Toe hy in 2000 aankondig dat hy ’n ANC-lid gaan word, was dit ook maar weer net ’n “Pik-ding”, het sommige vriende en die media ook gedink. Pik se onstuimige geaardheid, sy respek vir Thabo Mbeki en, wie weet, sy verlange dat hy dalk ’n rol kon speel in openbare sake, het nie te veel opspraak verwek nie. Mettertyd sou hy baie krities word oor die ANC-regering.

Theresa Papenfus se biografie, Pik Botha en sy tyd, is ’n magistrale werk. Bloot op navorsing en gesprekke met hom en ander gebaseer, het sy in oor die 800 bladsye Pik Botha se lewe, loopbaan, gedagtes opgeneem. Sy maak self geen aannames oor Pik se geaardheid nie, maar haal ander aan, soos Patrick O’Malley, ’n gedugte politieke joernalis wat Pik se loopbaan goed gepeil het.

Wêreldbekend as op ’n stadium die langs dienende buitelandse minister in die wêreld was Pik vanselfsprekend bekend op internasionale verhoë. Hy en Henry Kissinger het ’n goeie, langdurige vriendskap gehad

Dit was stellig Pik Botha se statuur, en ook sy persoonlike verhoudings met mense soos Helmuth Kohl, Margaret Thatcher en George Bush, wat gehelp het om in die stuwende 1989 vir FW de Klerk aan die groot gesaghebbers te gaan voorstel en, natuurlik, om hulle te beïndruk met wat in Suid-Afrika kan gebeur, en met hul hulp moet gebeur.

Argiewe oor hierdie vergaderings sal sekerlik die charisma wat Pik gehad het, bevestig. Hy was die man wat eindeloos teleurgesteld was, nadat hy die wêreldleiers wou laat glo dat groot veranderinge kom, om te sien hoe PW Botha, teen alle verwagtinge in, nie die Rubicon in 1985 wou oorsteek nie.

Pik die bon vivant, die drinkebroer, die flankeerder het wel die bewonderde gawe gehad om polities en op diplomatieke terrein te oorleef. Dikwels verguis deur die media, soms gespot, soms bejammer, was hy nogtans ’n liefling. As hy bombasties, kort van draad met ’n joernalis sou oorkom, sou dieselfde joernalis weer ’n onderhoud soek. Pik was goeie mediawaarde. Hy het dit sekerlik ook geweet. Hy kon bekostig om uitdagend, moeilik, selfs beledigend te wees. Maar hy het ook geweet, met daardie vreemde aanvoeling vir aandag, dat hy wel weer besing sou word. En dit was duidelik dat die akteur in hom dit geniet het om ander lande van skynheiligheid te beskuldig, veral Afrikalande.

Pik het deel gehad aan roemlose besluite soos aanvalle op vermeende ANC-kaders. Tog het hy met dieselfde vuur van sy ministeriële dae by die Waarheid-en-versoeningskommissie erken dat hy meer kon gedoen het om aanvalle en marteling op ANC-gesindes te stop. “May God forgive me,” het hy sy betoog afgesluit.

Vrae oor Pik se bydrae, sy rol in die geskiedenis, sal moontlik juis vanweë sy indrukwekkende persona nie na waarde geskat kan word nie. Wat jammer gaan wees, want sy rol as soms eensame vegter in die Nasionale Party teen apartheid kan tog nie misgekyk word nie.

Sy kleurrykheid, sy lewenslus en genieting is bloot ’n bonus. Agter die skouspel was daar tog ’n hartstogtelike agent vir verandering.

The post Pik Botha: lewensgenieter, omstrede, geliefd, ’n man vir verandering appeared first on LitNet.


The inside-out man by Fred Strydom: reader impression

$
0
0

The inside-out man
Fred Strydom
Publisher: Penguin Random House

ISBN: 9781415209561

Fred Strydom’s The inside-out man, nominated for the University of Johannesburg (UJ) Main Prize for South African Writing in 2018, is a Salvador Dali meets Quentin Tarantino mind twister. Perspectives somersault from all directions, and the many storylines spin vertiginously. Yet, there is nothing unfathomable about Strydom’s chronicle. The story unfolds in a surprisingly coherent way, the dialogue filled with wacky nihilistic quips.

Bentley “Bent” Croud, an accomplished jazz pianist, is eking out a meagre existence, living only for the moments when he can lose himself in his music. These opportunities only come when he is performing three nights a week in some of the city’s more seedy establishments. After a performance one night, he receives an unexpected offer from a wealthy patron, and before long gets drawn deeper and deeper into a quicksand of incidents. Is Bent a modern-day Van Hunks, who inadvertently made a deal with the devil? Who will win this time?

In the first part of the novel, one cannot shake the feeling of a sinister presence, a puppeteer watching, waiting to reveal itself, flashing and snapping its teeth behind the scenes. Yet, the story remains unpredictable throughout, and the narrative has the hallucinatory quality of “life is but a fever dream”. Somewhere towards the middle, the narrative shifts. One is no longer sure which character is complicit and which not. Even the hapless Bent, whom the reader warms to initially, sours somewhat.

Fred Strydom | Photo: Joanne Olivier

Strydom paints a pulp fiction South African city, combining its mercurial weather patterns with illusory imagery and a disarray of unusual characters. The story conjures up memories of the devil and the eponymous Van Hunks smoking on Table Mountain. There is even a popular waterhole called Van Hunks that features in the story. Ghoulish symbolism abounds. A student turns demonic in a pub. A shape-shifter metamorphoses. Warping walls, macabre paintings, flesh, tongues and many variations of teeth, all set in haunting surrealism.

Through the author’s dexterity of storytelling and astute turn of phrase, each sentence becomes its own canvas, and yet the storylines blend effortlessly. The inside-out man cannot be typified as a dystopian psychological thriller alone. It contains existential reflections that leave one in a state of introspection long after the finish line, a decidedly disconcerting place. This novel is not to be missed if you enjoy a truly South African story with fangs.

(This is Fred Strydom’s second novel. His debut is the dystopian novel, The raft.)

The post <i>The inside-out man</i> by Fred Strydom: reader impression appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Spelkampioene maak gereed vir die eindronde van die nasionale Sanlam WOW Spelfees

$
0
0

Meer as 300 leerders van 129 skole dwarsoor Suid-Afrika het gekwalifiseer vir die eindronde van die Sanlam WOW Spelfees 2018, wat op 20 Oktober by die Universiteit Stellenbosch plaasvind. Dit beteken ’n klomp skoenlappers fladder reeds in baie leerders (en hulle ma’s en pa’s en onderwysers) se mae, want die eindstryd van die Spelfees is ’n opwindende toeskouersport.

“Dit is die hoogtepunt van ’n jaar se harde werk,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees en WOW-projek. (WOW is ’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde.) “Ons doel met die kompetisie is om leerders weer opgewonde te maak oor hul taal – en oor woorde. By WOW en by die Woordfees draai alles wat ons doen om woorde – lees, skryf, sang, toneel. Ons wil graag dié passie ook by ’n nuwe geslag laat vlamvat.”

Frank Louw, Sanlam se bestuurder van sosio-ekonomiese ontwikkeling, sê hulle is trots om die borg van die Sanlam WOW Spelfees te wees: “Spel speel ’n groot rol in leerders se akademiese prestasie op skool, asook in die ontwikkeling van leerders se potensiaal om uiteindelik naskoolse opleiding te ondergaan, finansieel vooruit te kan gaan en waardige, suksesvolle landsburgers te word. Dit is vir leerders van uiterste belang om hul taal so korrek moontlik te verstaan, praat en skryf. Die Spelfees is juis hierop gemik – om spel, wat soms uitdagend mag wees, in ’n leerryke ervaring te omskep.”

Fiona van Kerwel, die WOW- projekbestuurder, is dit met Louw eens: “Goeie spelling verbeter jou punte op skool en met goeie punte kan jy uiteindelik ’n Matie word. Deelnemers se selfvertroue verbeter daarmee saam en hul selfbeeld word versterk deurdat hulle leer om voor ’n hele gehoor ’n woord te spel.”

Van Kerwel en haar span deurkruis jaarliks die land om te sorg dat die verskillende rondes van die kompetisie – van skoolvlak, dan na kring-, distriks- en provinsiale vlak – foutloos en glad verloop. “Ons maak staat op ’n hele klomp onderwysers en ouers wat ons vrywillig help om die projek verder uit te bou. Die potensiaal van ons leerders én hulle ouers en onderwysers is ongelooflik en gee ’n mens oneindig baie hoop,” sê sy.

Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, bestempel die WOW Nasionale Spelfees as een van sy “jaarlikse hoogtepunte”, onder meer, omdat dit help om brûe te bou: “Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde kom saam om mekaar te leer ken en om – ten minste vir ’n oomblik – as gelykes mee te ding in ’n kompetisie wat ons wys wat hierdie geslag Suid-Afrikaners kan doen. En skielik is daar splinternuwe moontlikhede vir ons land.”

WOW ondersteun meertaligheid en vanjaar neem 112 leerders uit vier provinsies deel aan die Sanlam WOW Nasionale Spelfees vir Engels Eerste Addisionele Taal. Sedert 2017 bied WOW ook ’n Xhosa-spelfees in vier distrikte aan en die plan is om hierdie aanbod verder uit te brei.

Die nasionale eindronde van die Sanlam WOW Spelfees word op Saterdag 20 Oktober by die Universiteit Stellenbosch aangebied en die kompetisie begin om 10:00. Die prysuitdeling sal om 15:00 in die HB Thom Teater (binnekort die Adam Small Teater) plaasvind. Sien asseblief die volledige program onder.

Om die geleentheid by te woon of vir meer inligting oor die Sanlam WOW Spelfees, kontak vir Danie Marais by die Woordfees-kantoor by danie_marais@sun.ac.za of 083 325 3433.

Sanlam WOW Spelfees, eindronde, 20 Oktober 2018

 

Program: Afrikaans

08h30

Aankoms en registrasie van deelnemers langs RW Wilcocks Gebou in Ryneveldstraat.

09h15

Verwelkoming:

Graad 1–3: RW Wilcocks Gebou – Lokaal 1001
Graad 4: Geologie Gebou – Lokaal 1004
Graad 5–10 : Lettere en Sosiale Wetenskappe Gebou – Lokaal 230

Daarna beweeg leerders na die verskillende lokale.

Tyd

Item

Venue

Beskrywing

10h00

Graad 1

RW Wilcocks 1012 (Noordsaal)

Babbel: Klank van woorde

10h00

Graad 2

RW Wilcocks 1001 (onderste verdieping)

Babbel: Klank van woorde

10h00

Graad 3

RW Wilcocks 3001 (boonste verdieping)

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 4

Geologie 1004

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 5

GG Cillié Gebou (Opvoedkunde): 4029

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 6

Lettere en Sosiale Wetenskappe Gebou: 230

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 7

Lettere en Sosiale Wetenskappe Gebou: 223

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 8

Lettere en Sosiale Wetenskappe Gebou: 225

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 9

Lettere en Sosiale Wetenskappe Gebou: 227

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 10

Lettere en Sosiale Wetenskappe Gebou: 229

Babbel: Spel van woorde

14h45

Prysuitdeling: Almal beweeg nou na die HB Thom Teater in Victoriastraat

 

Program: Engels Eerste Addisionele Taal

08h30
09h30
09h50

Aankoms en registrasie van deelnemers langs RW Wilcocks Gebou in Ryneveldstraat.
Verwelkoming: GG Cillie (Opvoedkunde) Lokaal 1028
Deelnemers beweeg na onderskeie lokale

Tyd

Item

Venue

 

Beskrywing

10h00

Graad 6

GG Cillié Gebou (Opvoedkunde)
(Education Building)

Lokaal 1028

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 7

GG Cillié Gebou (Opvoedkunde)

Lokaal 3001

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 8

GG Cillié Gebou (Opvoedkunde)

Lokaal 2004

Babbel: Spel van woorde

10h00

Graad 9

GG Cillié Gebou (Opvoedkunde)

Lokaal 2051

Babbel: Spel van woorde

14h45

Prysuitdeling: Almal beweeg nou na die HB Thom Teater in Victoriastraat

 

The post Persvrystelling: Spelkampioene maak gereed vir die eindronde van die nasionale Sanlam WOW Spelfees appeared first on LitNet.

Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse deur Herman Lategan: ’n resensie

$
0
0

Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse: Stories or woorde, mense en aanhou beweeg en geraas maak
Herman Lategan

Penguin Random House
ISBN: 9781776091607

 Tel hierdie boek op en kry koers na ’n woordkoninkryk.

Die eerste indruk van hierdie bundel essays was: “O asseblief, tog nie so ’n buiteblad nie!” Ek wou amper die woord “kitsch” gebruik. Toe stap ek by ’n winkelvenster verby en winkend, wel, tartend, lok die buiteblad bo al die ander heelwat stemmiger buiteblaaie nadere ondersoek. Is die blonde vrou op die blad ’n aktrise? ’n Lorelei? ’n Gesellin – of dalk ’n hoer? Met Herman Lategan se kenmerkende bril?

Maak die boek oop en nou ja, daar val Alice behoorlik die wonderwêreldgat in. Om Lategan se “prosa” te takseer is soos om ’n woer-woer te probeer stop. Satire, hartroerendheid, hartstog, spot, ironie en medemenslikheid dryf die leser van bladsy tot bladsy. Gaandeweg kom besinning. Lees stukkie vir stukkie, slukkie vir slukkie. Proe-proe.

Lategan se besigheid met die lewe is woorde. Hy flankeer, toets, daag en leef in en met woorde. Sy rubriek “Woorde wat wip” in Rapport het tot groot hoogte hierdie versameling byeengebring. Sy modus operandi is om ’n woord ewe ordentlik uit die WAT, of etimologieë, of selfs duistere woordeboeke, aan te haal – en dan te laat waai met assosiasies, verdraaiing, ekstrapolering of soms die doodgewone betekenis.

So lanterfanter die leser deur die towerwoud wat Lategan vol strikke, vol pret en dikwels met deernis skilder. Hy is die essensiële straatflaneur. Soms is hy voyeur, loer deur ’n venster van ’n woonstel in Seepunt. ’n Natgereënde weggooimatras laat hom die geskiedenis van die matras bedink. Hy laat die sieligheid van ou Jode in Seepunt leef; hy sien straatvroue, mislukte musikante en raak innig bevriend met ’n ou, ou Italiaanse toonnaelklipper.

Onder “memento mori” word in afgryslike besonderhede vertel van die oopsny en toewerk van ’n dooie liggaam. Die volgende oomblik vlieg jy met ’n “moffiepropeller” deur ’n taal genaamd gayle. Skaamteloos proprieer gays vrouename in hul geheime taal met mekaar. Wag maar tot die regte Fatimas in hierdie wêreld opstaan teen die gayle vir ’n vet man. En hoe lank gaan polisiemanne dit duld om Priscillas genoem te word? Ek laat dit aan die leser oor om te lees wie of wat ’n Ramona Rottencrotch is. (Ek sal die gays nie aankla van gendermisbruik nie.)

Wat is ’n hondekrap? Dis ’n dans, om hemelsnaam. Lategan ontleen die woord aan die kultuurhistorikus Matilda Burden se optekening van die volksdans (die WAT beskryf dit as ’n dans waar die bewegings van die voete laat dink aan dié van ’n hond wat met sy agterpote die grond agteruitskop).

In Namakwaland, skinder Lategan voort, het die mense ook gepraat van ’n hallelujagesig met jazz-voete.

Leesskaamhare” om behoorlik lekker geskok te word, en dan intens innig die elegiese “seewier”-essay te lees en dit dan nooit te vergeet nie.

Uiteindelik wil die leser self bestek neem. Watter waarde het hierdie ryk, innemende leesstof? Satirici het immers agendas. Humoriste ook. Lesers van hierdie genres sal natuurlik dadelik aan Rabelais, Jonathan Swift of selfs Spike Milligan, en humoriste soos ons eie Trevor Noah dink. Agter die werklikheid is daar ’n ander werklikheid. Dan kom die vraag: Watter ewigheidswaarde (ekskuus vir die groot woord) het hierdie soort skrywe? Sekerlik dié van die “little history”.

Dis presies waar Lategan se essays (rubrieke of stukke of stukkies) tuishoort. Die toevallige in die groter, dalk wreder, tydsgewrig.

Dis ’n onverwagte bonus by die lekkerlees van hierdie boek met sy bedrieglike buiteblad.

Video: Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse word bekendgestel

The post <em>Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse</em> deur Herman Lategan: ’n resensie appeared first on LitNet.

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VII

$
0
0

Hier verskyn die sewende lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud

Johan Kotze
Riëtte Salzmann
Shirley van der Merwe
Tessa Kruger
Marissa du Plessis
Johané Snyders
Marna van den Berg
Susanne Pike
Amanda Niehaus
Jean-Marie Engels
Suna Ester Snyman
Sanet van der Westhuizen
Sharon du Preez
Rosalee Meyer
Christa Kleynhans
Jadrick Pedro-Koopman
Evert Louw
Sunelle Geyer
Wilna Meyer
William Witbooi
Bronwyn Edwards
Erica Pretorius
Engla Goosen
Patricia C Viljoen
Franza de Kock


 

Johan Kotze

Plekkie innie son

Daar is tyd om klippe op te tel
meneer
om vuis te bal en smeek vir aandag
sodat ons nie elke nag
hoef te vrees vir skote en wonde
waar ons skreeu met monde
wat hees is van moed'loosheid
net om ’n plekkie innie son te kry.

Daar is tyd om klippe neer te gooi
en almal uit te nooi
om saam te dans en op te skuif
want God se son is groot
meneer
ons kan almal deel hê in sy gloed


 

Riëtte Salzmann

Verkeer

Ons groet soos myners
tydens skofruilings
wissel wipplank-woorde
in wankelende hysers –
’n skuldige, “ons moet kuier”
gryp gou ’n handdruk in
’n swaaideurbeweging

of glip verby glure in
kruisings – motors en ons
stip vooruitstarend want
ons moet stiptelik wees

vingers verstrengel in
stuurwiele wat gesluit na regs
die tik-tok wysers volg
slinger om-en-om vasgevang
in ’n selfgesentreerde spilletjie
(moet nou gaan) verby mekaar
(sien jou weer) vermy mekaar

vermink in die ratwerk
van ons eie ure word ons
stuk vir stuk
ingesluk in die kolk
van elke sonsteekdag en
uiteindelik die doodse nag


 

Shirley van der Merwe

Verbleikte herinneringe

’n Oomblik vasgevang in tyd
’n minuut ... ’n uur ... ’n ewigheid:
Ek staar na die verbleikte herinnering van jou glimlag
Terwyl jou stem verkrummel dag by dag

Dit raak verlore soos u harmoniese simfonie tussen reuse berge
Die eggo's duideliker as die realiteit
’n Gat in my siel vir altyd sal daar bly
Terwyl jy steeds in my gedagtes rond sal swerwe

Ek staar na verbleikte herinneringe van jou oë wat teruggetrokke voor jou uitstaar:
Jy was nooit een vir foto's nie maar dié een maak my hart so swaar
Hy is perfek, jou oomblik vasgevang in tyd
’n Minuut ... ’n uur ... ’n ewigheid sal jou oomblik in my gedagtes sluit

’n Minuut ... ’n uur ... ’n ewigheid
Jou glimlag sal bly vir altyd


 

Tessa Kruger

Hipomnemata

Eens, lank gelede, was daar ’n plaas.
Sewe geslagte was daar die baas.

Eeue terug geruil;  vir ’n beesvel.
Te perd afgetree; soos die bevel.

(Maar min het hul geweet …
Die Heer het tyd gemeet …)

Kinders het perd gery, gelag, gedroom.
Gespeel onder ’n eeue-ou boom.

Ouers het gedy en hul werk getoom.
Treinstasie toe gery met die kan room.

Van vroeg tot laat die Karoo getroef.
Hul geloof, van dag tot dag, erg beproef.

Dis ’n droë wêreld daai, selfs met reën
en donderblitse, kraak ysterklip kwaai.

Soetveld; wuiwend in die wind gewaai.
Fontein met ’n maalgat, vis geswaai

tot doer onder met gans en makou
op die plaasdam, waar die otter hou.

Op banke van klip was wasgoed gewas.
Dis vir skoon klere aan elkeen se bas.

Kloofspruite groen en besembosse.
Koppies, rante en karoobosse.

Veldplant. Vetplant. Insekte galore.
Reuke, medisyne en “what more?”

Bure kom bymekaar, waar skraap-skraap
met raad, hulle planne maak met skaap.

Teen skeertyd was dit ’n groot kaboel.
Almal kon die skeertjek al klaar voel.

(Maar min het hul geweet …
Die Heer het tyd gemeet …)

Soveel dinge word dan gedek hier:
Dis die koshuis en skool, volk en dier.

Saans om die tafel was die hoofde laag –
Groot genade, die Heer het ons behaag!

Appelkooskonfyt en warm brood!
Bekers vars melk, stil die hongernood.

Verekombers, warmwatersak vir die nag.
Koolstoof en moerkoffie maak elke nuwe dag!

Nou is dit net weg …
Droogte het geseg …

Ra, die songod lag:
’n AGSTE geslag?

Elkeen kry sy dag.
Wat het jy verwag?

Maar min het Ra geweet …
Die Heer hét tyd gemeet …

Die sirkel ís goed voltooi.
Hy gee hul iets anders mooi.

Met dankbaarheid in hulle harte
verbly hulle hul … daar’s geen smarte.

So het Hy self gesê:
“Ek gee wat jul wil hê.

Eer julle net my Naam,
en Ek gaan altyd saam.”

Met net mooi herinneringe
kyk hul nou na al die dinge.

Eens was die plaas hul wel geleen.
Kinders en liefde mee geseën.

Al moes hul oppak, vaarwel sê en gaan,
die Heer het hul na iets anders gebaan.

Nou sien hulle al die wrede dinge.
Hul’s gespaar, en kan net tesaam singe:

“Hipomnemata,
dis wat ons deurdra.

Die Heer het wel onse tyd gemeet,
ons agste geslag het te veel leed …”


 

Marissa du Plessis

Verlore vingerverf onthou

Klaasvakie,
 is jy al oor die klip in die lig?
Of kan ek nog droom?

Ek is wanhopig
 oor die deugniet
 wat my gister en onthou
 in sekondes
                        en ure
                                      weg
                                                 tik.

Bose kwashale op donker doeke.

Jy, Tyd, verheug jou
 in ons rou, oor verlore
 vingerverf onthou


 

Johané Snyders

Vallende druppel

Vallende druppel op my vensterbank
Klink soos die tik-tok wyser in my hand
Alle gedagtes in derde rat
Mag ons almal ’n tree terugvat

Vallende druppel op my vensterbank
Mag ons almal weer God bedank
Nog ’n keer weer stil gaan staan
Die lopende wyser van die muur afhaal

Vallende druppel op my vensterbank
Kom ons maak weer die dae lank
Kom ons draai die tyd weer terug
Draai die tyd weer op sy rug


 

Marna van den Berg

Wyser

                                                      Die son skuifelstap

                    klein bietjie wyser                                      met ’n krom kierie

          met elke syfer                                                                terwyl skaduwees kruip

ontdek opnuut                                                                                    in dowwe grysheid

          klokslag in ritme                                                                   afwagtend in die aand

                      ontwaak seisoene                                     op die ewige slaap

                                                       in ’n tydlose siklus


 

Susanne Pike

verpaste trein

jou afwesigheid wen
anti-kloksgewys af:

stoomrol oor rooi
onvervulde ure
misbruikte minute
sedelose sekondes
stondes vol sondes –

beur deur flikkerligte
na ’n perron vol puin
om in ’n verpaste trein
rukkend tot stilstand
te tik


 

Amanda Niehaus

Soos sand deur my vingers

Tyd is nou maar eenmaal nie in ons hande nie.
Hoe graag ons dit ook al somtyds sou wou aanhelp
Of somtyds dit ’n rukkie sou wou terughou
Dit wat verby is, is verby …
Dit wat nog voorlê, moet ons voor wag
Tyd is soos ’n uurglas
Die sand wat deurgeval het, kan nie terug nie
Terwyl ouers wag op die koms van ’n baba, wil ons die tyd aanhelp
Wanneer daar gestaan word by ’n sterfbed, wil ons die tyd ’n bietjie laat stilstaan
Tyd kan nie gekoop word nie
Tyd kan nie verkoop word nie
Die slotsom waartoe gekom word ten opsigte van tyd
Maak die beste van elke geleentheid
Leef asof tydgewys, vandag jou laaste dag is!


 

Jean-Marie Engels

Omwenteling van sekondes

Tyd is kosbaar en staan vir niemand stil
Dit beweeg aanhoudend, maar begin weer by nul
Elke sekonde, is nog ’n kans verby
Om weer iets te doen en jou sonde te bely.

Ons sê altyd môre; maar kom nooit daar uit
Elke nuwe dag, is weer ’n ander besluit
Ons drome en rykdom is ’n gejaag na wind
Want sonder tyd is ons ’n verdwale kind.

Los jou horlosie en als wat jou lewe beheer
Hou op om ander se dinge te begeer
Spandeer eerder tyd aan die naby jou
Sodat jy nooit eendag, verlore tyd berou.


 

Suna Ester Snyman

Vyf voor twaalf

Ek't tien miljoen gesteel
Jy's gereed om te deel
Net drie miljoen vir jou
Nou het jy rede om my af te knou

Ek's ongeskik, jy's ongeskraap
Jy heul met die vyand om my te kaap
Ek bespiegel oor jou sanity
Jy pak die skuld op ons humanity

Ons baklei heen-en-weer
Selfs die hof kan ons nie keer
Dis tyd om die malligheid te staak
Ek's bankrot, verleë, geskaak ...

Die tyd van afrekening is hier
Ons is nog besig met die nuutste gier
Ons geboortereg is reeds verkoop
Dis veels te laat om weg te loop

Vyf voor twaalf – waarom was niks ooit genoeg?
Dis nou te laat om te sweet en te swoeg
Selfsug en gierigheid het alles opgedons
Twaalfuur is dit klaarpraat met ons


 

Sanet van der Westhuizen

Tussenspel

Wat is tyd?
’n Dimensie,
’n Persepsie,
’n Ewige frekwensie,
’n Ritmereëlmaat wat sekondes loslaat
In
minute
ure
dae
maande
jare …
Daar is ’n tyd vir alles onder die son …
Tussen liefde en haat
lê die spasies van tyd
en letsels gelaat
Tussen nou en onthou
lê jare se berou
Tussen weet en vergeet
lê daar eeue vol leed
Tussen die wieg en die graf
dalk jare … of net ’n dag


 

Sharon du Preez

Altoos

hoe lank kan ’n ewigheid duur?
soms net ’n skemering in sekondes verhuur
en soms is die flikkering van ’n vlam
wat herinneringe aan jou moet vergestalt, te tam
dit duik en dit piek
van bloubont na blos
tot in die donkerste uur geblus tog
talm die nadraai steeds manjifiek
tiktak tiktak tiktak alom gepols
sonder tussenpoos
is jy is ek is ons
tydeloos


 

Rosalee Meyer

Icarus

Rondrolnagte vol
rustelose onthou
hoe moes ek geweet het
dat ware goud opgesluit lê

in die sekondes
tussen my en jou

Die uurglas staan leeg
my hart bloei berou
vlerke gesmelt
Icarus val hard

Tyd verdamp in ’n wasem-asem onmeetbare smart


 

Christa Kleynhans

“Tempus Fugit; usque nunc stat” – Tyd vlieg; tyd staan stil

Katvriendelik, kliniese wit gewaad ontvang my onder die neonligte.
Stilte. Horlosie getik. Susters se skoene se ritmiese klik-klik-klik.

Stille gille. Skrillend. Skreiend in my brein    alles teen my weerbarstige, rebelse  grein
"híérdie keer" het die "lááste keer"       my ondermyn.

                                         My oordeelsuur is hier.

Teen willens en wetens,                      o, hard hierdie stryd:
Moes ek maar nie net die silwer koord sny?
Moes ek nie maar nie?
Maar ek weet nie wat wag anderkant Die Muur nie.

“Juffrou Kleynhans, u mediese fonds?”
“Juffrou Kleynhans, u medikasie?”
“Juffrou Kleynhans, meld asseblief u sielsrenons.”

Hoe kan ek my verslane gesig meer vermom?
Te laat.
Hulle lees trane en afgeremde siel in my aura.
Weerloos. Gehawend. Drogbeeld uit die boks van Pandora.

Vegtend …     om tyd te laat stilstaan            .
Vegtend om die seer te kan vergeet.
Vergeet van die relevansie van tyd.

My hartsmense in my hand waai oop palm     uit my lewe.
Lot se vrou se lot is my beskore             – alles versteen met die terugblik –
                      na my land van Melk en Heuning

Alles was so eenvoudig.                     Nóú is dit soos dit is.

Ek probeer myself uit onheilspelhede ontwrig.
Dit is te laat: die oomblik van verweer           is verby               toe die dokter my kennis gee;
Hospitaalbandjie om die arm soos ’n geringde wedstrydduif.

Binne klop my hart en al my emosies.

Alles seer                     wil ek uitbraak en my nie meer dááraan verknies.

           Want
vir jou liefde in my lewe was tyd nietig.
Elke sekonde het getel vir jou;
maar my hele leeftyd is verby.

In my lewe was daar tyd vir jou, vir altyd;
vir ewig in die figuur agt; die omwenteling van ’n ring.
 Jou woorde “tot die dood ons skei” was so roekeloos
 want jou “vir éwig” se tyd       vir my het verstryk.
Jou naam was op my hart ingeëts.

Die spieël vertolk die verhaal
van die psige agter donker kringe, sny hale; vel asvaal  en:
Tyd …
Biologiese klok …
Doodsklokke wat beier …
Doodsklokke wat amper gebeier het vir my …

Wasbak water kan  nie hierdie verwronge waarheid afwas nie.

Ek sluit my oë; hoor hoe sing Ouma die Magaliesbergse aandlied.
Deur skemerlig verander die   vaal maanlig
 realiteit in ’n droom                           soos dit die vensterbank, gordyne omboor.
Klein handjies volg plooie om vriendelike, Ouma-hande na wat “Bloubaard” stories vertel.
Die terugflits van jong  kaleidoskoopdae, “Rooikruis” poeier- en sitrusgeur.

Oop oë aanskou ek die seer-waar:
Nou is die wiegstoel leeg, en die bababedjie ook.
Ek klou aan die beeld, hou my hartsmense    toe in my hand se palm.
Tyd      forseer                        dit       oop
verwaai al hul as          totdat daar net                       ’n paar korrels in my lewenslyn talm

Die horlosieglas wasem op      en binne is herinnering.
Want die tyd, Ma        was ons nie beskore.
Gebrek aan Sondae-aande selfoon-sang  eliksir smaak wrang;
koestering van lief-en-leed  onskuldige meevoel verwronge.

Op oorsese oewer  het jou stem vervaag; die dood se doodstilte dit vervang:
Wie sou kon reken die sekel-swaaier sou jou siel kom maai?
Tydige-ontydige tyding …  erkentlik  het jy jou rus verdien.
In die land van die Rooi vlag was dit ook winter soos die 16de Desember 2017.
Jy het die Groot Lente betree;
ek ’n Groot Ysreënwinter by ’n shrink moes laat smee.

Hoe versug ek  om die rigting van die Lewe se Seestrome te bepaal;
Hoe groot my versugting om die Winde van Verandering te stuit;
Tam is my arms deur die Stroom van Rede teë te probeer gaan.
 My verweer min         teen die arms   wat tikkende tyd                     van my verhaal.

Valkenburg … Stikland … Weskoppies … Tara
 – die kwale is eenders –
  ons almal net hier “tot tyd en wyl”;
besig om die truspieël van vervloë tye te probeer vermy; die demone kasty.

Hier waar rooskleurige brille hul pad tot die aashoop van waarheid vind.
Hier waar die waarheid jou tydloos hamer.
Hier waar jy jou tyd-slot-gedagtes elke-dag-elke-oggend-elke-minuut-elke-uur moet bestuur.
Al hierdie kwale is te sterk vir pille se potensiële kuur.

“Niemand gaan dood aan ouderdom; mens gaan dood aan siektes wat die ouderdom bring.”
Hier is jou sielsontwaking.
Hier waar dit piltyd, slaaptyd, huiltyd, terapie-tyd jou in die werklikheid dwing.

Tog staan tyd nog steeds stil in die laaste skaam-skemer oomblikke 
waar droom en herinneringe assimileer.
Hier waar jy in jou enigheid ander kwale van ander – en later jouself – diagnoseer.

“Periculosum iter tumm erit Deus vobiscum.”
“Mag God  jou gaan vergesel op gevaarlike weë.”
– woorde ingebrand deur vaarwel boodskappe.

Want op die Lewenspad is  hierdie “vorentoe-agter-toe-nou”-tyd jou gevaarlikste anathema.


 

Jadrick Pedro-Koopman

Tydloos.

Nog voor die tyd
van ’n naaimasjien
toe my ouma nog
sonder ’n bril
kon sien
was ek netjies
gelap
en toegestop.

Doeke, dekens en doilies
o ja en ’n lappieskombers
was alles gemaak
in die lig van ’n kers.

Nou, jare later
kook ons nie
meer water
in ’n ou paraffienblik
maar kry steeds
dêm swaar
want die Here
het ouma se
draad kom knip.


 

Evert Louw

Die skemerman

Ek is die skemerman,
die grysbaardman,
die uurglasman,
wat in elke skreef
en skadu skuil
om lewens
vir tyd te verruil ...

’n Silwersens
glim in my hand
waarmee ek dae
     en dekades
opkerf
soos snye brood –
’n korsie vir die lewe;
’n korsie vir die dood.

Ek is ’n wyserplaat
wat eenogig
uit ’n toring
na benede staar,
met arms wat om en om,
beskuldigend!
vingerwys
na man en vrou, en kind.

Ekself moes eens
stil gaan staan;
vries,
toe die voorhangsel skeur,
en ek die son verban,
want ook dag en nag
is in my hand –

Ek is die skemerman.


 

Sunelle Geyer
1994 – 20__

Uit Ouma se sitkamer
het die halfuur, die uur
gehamer

dié art deco-stuk
het ons skoolvakansies afge-
tik

by my snags
as ek luister hoe die sinkdak
knars

EEN
halfeen, eenuur of halftwee?

EEN
eenuur of halftwee?

EEN
halftwee

Beter as stories lees en skape tel
moes ek my eerder voor die
venster stel

wat uitkyk oor maanlig-rudbeckia
’n visvangkabouter
die peperboom en bougainvillea

U te nader vir my
môre
dat alles presies net so moes bly

of om vir méér as bewaar in die leeukuil te vra
verby raaiselskrif teen mure tot waar my bede
Nehemia se skinkbord dra?

het ek profesie gehad, kon ons oor die
reënboogmite praat
Die dertiende uur

dis nog nie te laat nie
dalk nog nie te laat nie

EEN


 

 

Wilna Meyer

Glazi      Bloed

Hy hardloop
hy hardloop
hy hoor
die koeëls spat
hy struikel
hy val
hy kyk na bo
oneindig die blou
rooi syfer deur sand
sy growwe hand
omklem
die korrels
Glazi sug sy
stukkende lyf


 

William Witbooi

Ek bepaal!

Die gewigte moet val,
Ek sal alles bepaal,
Weeg jou toekoms op ’n skaal,
Sonder my gaan jy niks behaal.

Om en om in die dag en nag,
Ek beskik oor die mooiste prag,
Die seisoene moet almal op my wag,
Ek beskik oor die aardse mag.

Oud en jonk,
Krom en bont,
Hou jou hand voor jou mond,
Ek bepaal jou tyd tot die onder grond.

Soms draai jy my trug,
Elke keer is ek weer op die brug,
Ek kan die hardste tug,
Mens op aarde kan net sug.

Ek sal alles van jou bepaal,
Ek is die tyd-skaal.


 

Bronwyn Edwards

Daai nag innie koelte

Dit het my skoon ontgaan
My liggaam is gedaan!

Ongeluk
En toe weer ’n ongeluk
Eintlik het alles gebeur vir daai klein bietjie
Geluk
Ek het nog een of twee kiekies
In die hospitaal se bed
Die rolstoel
Liewe Jesus het my lewe gered
Dit alles gevoel ek is op ’n film set
In sekondes sê ek toe ’n kragtige gebed
Here gee my nog ’n kans
Om die wonderbaarlike lewenslied te dans
Daai nag
En toe ek my oë weer oopmaak
Toe is dit dag

In die hospitaal
Die rolstoel
Alles gebeur met ’n groot doel
Na ’n tyd sal alles sin maak
In jou hart sal jy dit voel

Maar ek sal nooit vergeet nie
Die bloed uit my arm
Daai nag
Die lug was koel en die bloed so
Warm
Maar toe dink ek aan die Psalms
Die Here is my herder niks sal my ontbreek nie 

Die pyn in my nek
Soos stukke vleis geruk
Ek kon skaars myself uit die gevaar uit pluk

Daai nag innie koelte
Langs ’n plaas
Net die heelal wat in sy stilte toe so raas

Daai nag in die koelte
Sal ek nooit vergeet

Ek bid toe die Psalms
Die Here is my herder
Niks sal my ontbreek nie.


 

Erica Pretorius

Hemels

geen horlosie
geen gejaag
geen spertyd of maandeinde
in hierdie dimensie

geen vergadering
geen kalender
geen geldmaak
in hierdie onderhandeling

want sien, my vriend,
wie sal nie smag
na daardie dag?

dis nie wat jy saamvat,
maar wat agterbly,
eindig die gety


 

Engela Goosen

Waarheen nou!

Rooi gevlek lê bloed en pyn
Bruis strome water deur jou siel
Verkrag deur woorde wat fyn deur jou sny
Jy glo wat jy hoor
Maar dit wat jy sien en ervaar
Maak niks meer saak nie
Tyd bly die faktor van jou lewe
Waarheen en waarnatoe
Lê op die horison
En loer met elke sonsopkoms
Brand deur jou siel dag na dag
Tot niks meer saak maak
Tot die lig in donker verander
En elk emosie vergal
Jou lag word pyn, jou oë grou
Donkertes kolk deur jou
Onbeantwoorde vrae
WAARHEEN NOU?


 

Patricia C Viljoen

Liefde se skerwe

As my gedagtes
(dalk vir ’n laaste keer) om jou vou
en die gleuf van tyd soos ’n bom
tik-tok tik-tok verby snel
dan neem dit my terug
na die dag toe jy my smart
pynloos toegesnou het

in ’n smeekgebed
skreeu my hart uit onthou
van jou veersag aanraking
en jou oë wat vertel waarna jy smag –

terwyl hy nog biddend na my siel roep
word hy herinner aan die geluid van jou stap
wat weggeraak het in die mistigheid van trane
en die skerwe van liefde
(wat sonder verduideliking)
bloeiend om my voete rus


 

Franza de Kock

Swartkoldae

Vandat jy weg is
is daar oral swart kolle op my almanak
swart dae
seer dae
verjaarsdae
joune,  myne,  pa s’n,  Stellie s’n, Josie s’n,  Boeta s’n
ons kringetjie van ses
En dan nog Kersdae
Moedersdae
Vadersdae
altyd-bymekaarwees-dae
kuierdae
mekaar-bel-dae
lagdae
eet-en-vier-dae
Maar, nou leë dae met swart kolle
masker-dra-dae
voorgeedae
wil-wegkruip-dae.
Die seerste,  jou weggaandag
die grootste swart kol op my almanak
stukkend-skeur-dag ... jaar na jaar
pynbranders wat oor my spoel en spoel

Lees ook:

Skryfkompetisie: Tyd

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings IV

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings V

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VI

The post Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VII appeared first on LitNet.

Wat elke skrywer moet weet oor aanlyn outeursregskending

$
0
0

Corné Güldenpfennig, ’n prokureur wat in intellektuele goederereg spesialiseer, vertel in hierdie artikel meer oor die gevare wat die aanlyn omgewing vir skrywers kan inhou. Sy kyk spesifiek na outeursregskending en kuberdiefstal, en gee wenke oor hoe skrywers hul werk kan beveilig.

Met die voortdurende verandering en ontwikkeling in tegnologie dien dit geen doel om te bly vasklou aan hoe dinge in die verlede gedoen is nie.  Ons het absoluut geen ander keuse as om óf saam met die stroomversnelling te vaar óf te verdrink nie.  Ook skrywers, van byvoorbeeld fiksie, opinies, biografieë, akademiese materiaal, nuus of draaiboeke, het dikwels nie ’n keuse in hierdie snelveranderende era as om hulle werke aanlyn te publiseer nie. Sodoende word die maksimum gehoor of ore bereik en hopelik word verkope daarmee saam bevorder en wins gemaak.

Aanlyn publikasie en verkope het egter ook nadele. Die digitale omgewing speel ’n reuse rol in die vervalsing en verspreiding van vervalste publikasies of letterkundige werke.  In die verlede, toe die bekendstelling, bemarking, publikasie en verkope nog uitsluitlik via gedrukte media en persoonlike kontak plaasgevind het, was daar natuurlik ook gevalle van onregmatige kopiëring wat ’n skrywer groot skade kon berokken. In vandag se tyd gebeur dit vinniger en makliker.

Daar bestaan verskeie maniere waarop skrywers aanlyn uitgebuit kan word. Hieronder val die fisiese kopiëring van werke in PDF-formaat en verkope daarvan deur middel van skakels op webwerwe wat vervalste produkte verkoop, asook skakels wat deur e-pos en sosiale media versprei word.  In so ’n geval kan die vermoede dat ’n produk vervals is, of dat skrywers se werk sonder toestemming versprei word, gewoonlik met die eerste oogopslag of deur middel van internetsoektogte bevestig word.

Daar bestaan ook professionele bedrieërs wat webwerwe stig en domeine registreer sodat dit naastenby lyk soos die ware Jakob.  Die produk word op hierdie wyse gewoonlik op die tuisblad geadverteer met ’n aktiewe aflaai-ikoon en ’n bietjie meer geld word gevra as die oop en blote vervalste webwerwe, maar altyd steeds goedkoper as die oorspronklike en goedgekeurde publikasies.

Internetsoektogte word dikwels ook gekaap en herlei na ’n webwerf vir vervalste goedere sonder die gebruiker se medewete.  Normaalweg neem so ’n soektog langer aangesien die herleiding deur verskeie diensverskaffers gaan, wat hoogs waarskynlik in verskillende lande gevestig is. Hierdie herleide internetsoektogte is bekend daarvoor dat dit baie meer data gebruik as dié wat die stempel van die waarheid dra.

Uitvissing (“phishing”) is ’n term wat verband hou met internetbedrog. E-pos- of webwerfherleiding word dikwels ingespan om niksvermoedende internetgebruikers se persoonlike besonderhede te bekom. Persoonlike besonderhede soos jou telefoonnommer, beroep, wagwoorde van jou profiel op sosiale media, e-posrekening of bankbesonderhede kan sodoende onderskep word en iemand anders kan beheer neem van jou data. Hiernaas kan internet-misdadigers jou IP-adres bekom en so jou rekenaarfunksies beheer. Dít kan gebeur sonder dat jou gestoorde inligting noodwendig uitgevee word of dat daar ingemeng word met jou hardeskyf- en privaatheidstellings. Daar is dan byna geen waarskuwing of aanduiding dat iets nie pluis is nie.

Baie aanlynkopers en ander internetgebruikers is nie bewus daarvan dat hul dalk verbode waters betree met moordwalvisse en haaie om nie eers te praat van uitvissing nie en is gewoonlik onder die indruk dat hul oorspronklike goedere gebruik of koop.

Die beste raad vir skrywers wat aanlyn publiseer of hulle produkte aanlyn verkoop, is om duidelike kopieregkennisgewings aan te bring, ongeag of die werk bedoel is vir onderwys, nuus, kommersiële verkope of vir vrye gebruik en oopbronne (“open source”).  Dit gee aan voornemende kopers en gebruikers leiding oor die eienaarskap van kopieregwerke en voed hulle op om respek te hê vir oorspronklike werke, in lyn met ons land se wetgewing, en kweek ook  ’n bewustheid oor twyfelagtige, vervalste en onwettige werke. 

Die snelveranderende tegnologiese ontwikkelings dra ook daartoe by dat verskerpte beskermingsmaatreëls toegepas kan word teen kuberkrakers en kuberdiefstal.  Skrywers kan hul werke deur middel van ’n program kodeer wat verhoed dat dit enigsins gekopieer of versprei kan word sonder toestemming. 

Daar bestaan wel organisasies en instansies waaraan skrywers en uitgewers behoort om tantième in te vorder vir gebruik van hulle werke, soos DALRO, maar daar is nie noodwendig organisasies wat hulp verleen met die polisiëring van aanlyn outeursregskending nie.  Die gevolg is dat wanneer skrywers bewus word van moontlike kuberkraking en/of kuberdiefstal dit reeds te laat is of die kostes verbonde te hoog is om dit hok te slaan.

Die Departement van Handel en Nywerheid, via die kantoor van Intellektuele Goederereg en die CIPC (Companies and Intellectual Property Commission), beskik wel oor ’n opgeleide spesialis wat die publiek gratis kan bystaan en verwys na betroubare en bekostigbare regshulp in die geval van aanlyn kopieregsake.  Skrywers kan die direkteur van dié afdeling kontak via die skrywer.

Daar is gelukkig ’n lig aan die einde van die kuberkrakertonnel: met behulp van wetgewing en samewerkingsooreenkomste met die groot soekenjins, diensverskaffers en domeinorganisasies is daar wel prosesse in plek wat skrywers van hulp kan wees sonder om ’n arm en ’n been te kos. 

Dit is egter noodsaaklik om mens se werke te beskerm en bewus te wees van tersaaklike wetgewing, beskermingsmaatreëls en metodes.  Die Wet op Outeursreg is natuurlik die primêre bron wat die bestaan en beskerming van kopieregwerke beheer.  Die volledige uiteensetting van dié wet is beskikbaar op die webwerf van die Departement van Handel en Nywerheid.  Die wet maak onder andere voorsiening vir strafregtelike en siviele remedies vir die verontregte party.

Skrywers kan hulself ook help en self onwettige en twyfelagtige domeine, vervalste webwerwe, die onregmatige gebruik van foto’s; beelde, verdagte skakels en agterdogwekkende advertensies aanmeld en versoek dat dit op soekenjins verwyder word.

Dit is egter noodsaaklik dat daar voorkomend opgetree word. Voorsorg is immers beter as nasorg.  Skrywers behoort oral waar hulle produkte op die internet teenwoordig is, hetsy op ’n webblad of sosiale media, die geleentheid te skep vir eerlike internetgebruikers om beweerde kuberbedrog en kopieregskending te bevraagteken en te rapporteer en die outentiekheid van die produk te bevestig.

Bewaar jou werke, beskerm jou werke en tree op teen inbreukmaking in die aanlyn omgewing. Die kostes daaraan verbonde hoef nie buitensporig te wees nie.

Kontak my enige tyd met enige verdere navrae.

Corné Güldenpfennig

Proc LLM (Intellektuele goederereg en kommersiële reg)

Prokureur en notaris (RSA)

Kontak: corne@cornelaw.co.za

0724919155 of corne@law.co.za

The post Wat elke skrywer moet weet oor aanlyn outeursregskending appeared first on LitNet.

Ongelykheid in skole, en hoe blind almal daarvoor is

$
0
0

https://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

Na hul op 15 September 2018 teen die Springbokke verloor het, het die All black- afrigter, Steve Hansen, sy span gevra: “After being a champion for so long, what were your habits from last Sunday to today?”

Wanneer ons jaarliks op 5 Oktober wêreldonderwysersdag vier, moet ons dalk dieselfde vraag vra. Watter gewoontes het ons aangeleer nadat ons so mooi op koers was as die wêreld se model van ’n rëenboognasie? Het ons dalk op ons louere gaan rus en weer verval in ons ou gewoontes – dié wat ons verdeel eerder as saamsnoer? Het ons weer begin vinger wys na die ander as die oorsaak van die probleem? Lê die fout dalk by swak bestuur en korrupsie in die regering of die voortdurende begeerte van sommige landsburgers om in ’n staat binne ’n staat te bestaan? Is daar dalk fout met ons lense oor wat reg of verkeerd is as ons die VBS se R2 miljard-verlies beskou as die “grootste bankrooftog” terwyl die Steinhoff-verlies van R400 miljard beskryf word as “onreëlmatige uitgawes”? Die feit is dat ons doen en late ná Madiba se vertrek ons weer op ’n destruktiewe koers geplaas het en as ons nie vroeg genoeg wakker skrik nie, stuur ons af op ’n gewelddadige konflik.

Materiële strukturele ongelykheid in Suid-Afrika word alom aanvaar as een van die grootste redes waarom daar gedurige struweling in die land is. As skole ’n mikrokosmos van ’n samelewing is, soos Adams (2000) argumenteer, dan staan skole in die middel van waarheen ons ons kinders wil neem en die beleefde lewenswerklikhede waarmee leerders na die skool kom.

In ’n wêreld van globalisasie is alle lande besig om hul opvoedingstelsels te herstruktureer ten einde hul kinders op te voed om aktiewe deelnemers in ’n baie wisselvallige 21ste-eeuse ekonomie te wees enersyds, en om ’n kulturele identiteit te kan hê andersyds. Die probleem is dat ons hierdie doelwitte probeer bereik deur dinge te doen wat ons in die verlede gedoen het, en as gevolg daarvan reproduseer skole ongelykhede. As ons na die Suid-Afrikaanse skoolstelsel kyk, lyk dinge nie baie optimisties nie, want na meer as 20 jaar van demokrasie sukkel die meeste werkersklasskole steeds om ekonomiese aansporings om te skakel in aanvaarbare skolastiese prestasies wat op dieselfde vlak is as dié van voormalige model C-skole en die meeste van ons buurlande. Nog ’n komplikasie is dat ons net nie verby die kwessie van uitsluiting kan kom nie, want alhoewel ras nie meer die mees opvallende kwessie is nie, is dit wat in die skoolstelsel gebeur, nóú gekoppel aan ras.

Die uitdagings is kompleks

Aan die een kant ...

Eksklusiwiteit in skole het bloot net ’n gedaanteverwisseling ondergaan waar ras vervang is deur klas. Skoolkeuse byvoorbeeld lyk op die oog af maklik en ongekompliseerd, maar dit verdoesel eintlik die feit dat daardie keuse in ’n groot mate beperk is tot die ekonomies bevoorregtes en die politieke elite. Selfs al het nietradisionele leerders nou toegang tot voorheen eksklusiewe skole, word hulle steeds gekonfronteer deur hewige weerstand om die hegemoniese kultuur in daardie skole onveranderd te hou. Toe swart ouers ná die verwoesting van apartheid hul kinders na voormalige model-C-skole begin stuur het, was hulle gekonfronteer deur allerhande koverte uitsluitingsmeganismes. Hiervan getuig die talle hofsake waarin skole weerstand bied teen verandering. Die Laerskool Mikro [2006 (1) SA 1; 2005 (10) BCLR 973 (SCA)-hofsaak word uit sommige oorde beskou as ’n oorwinning vir die Afrikaanssprekende skoolgemeenskap van Kuilsrivier omdat hulle standpunt ingeneem het vir ’n reg wat deur die Skolewet aan hulle toegeken is, maar wat die saak eintlik belig, is die skoolgemeenskap se weerstand om tred te hou met die demografiese veranderinge in die gemeenskap en Engelssprekende leerders ook te akkommodeer. Die Daily Maverick van 14 Augustus 2018 het berig dat Overvaal Höerskool vroeër in die jaar die middelpunt van stryd om toegang was wat voortslepende weerstand teen transformasie in die vorm van ras- en taalkwessies in die opvoedingstelsel belig; verder, dat die Federasie van Skoolbeheerliggame (Fedsas) in ’n 2016-Hoër Hof-saak nagenoeg 70% skole in Gauteng wat wit en enkelmedium is, verteenwoordig het in ’n saak wat hoofsaaklik gehandel het oor die gebruik van taalbeleid as uitsluitingsmeganisme vir swart leerders uit hierdie skole. In hierdie hofsaak het die skole staatgemaak op die handjievol swart Afrikaanssprekende leerders in hul skole om te bewys dat die skole genoegsaam tot transformasie verbind was. Die hof het saamgestem.

So was daar ook die hofsake van Hoërskool Ermelo, ’n Afrikaansmediumskool wat swart, Engelssprekende leerders van die nabygeleë township geweier het ten spyte van die feit dat hulle kapasiteit gehad het. Nieteenstaande die feit dat die hof beslis het dat die provinsiale departement verkeerd gehandel het deur die skool se taalbeleid op te skort, het die Konstitusionele Hof steeds die skool beveel om hul taalbeleid te belyn met die veranderde samelewing. In die Rivonia Primêre Skool-saak het die provinsiale departement die skool se besluit dat hulle vol was, omgekeer en leerders fisies in die skool gaan plaas. Die Konstitusionele Hof het in hierdie geval beslis dat die provinsiale departement wel die reg het om te verwag dat die leerders toegelaat word ten spyte van die skool se toelatingsbeleid, maar dat kapasiteit in samesprekings tussen die skool en die provinsiale owerhede bespreek moet word. Alhoewel ouers via skoolbeheerliggame ’n onmiddellike belang het, het die hof beslis dat die behoeftes en belange van alle leerders nie geïgnoreer kan word nie. (https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-08-14-race-and-language-concourt-misses-chance-to-guide-transformation-of-the-education-system)

Vandeyar (2010:334) het die migrasiepatrone van leerders waargeneem en bevind dat soos wat swart leerders na historiese wit en Indiërskole gestroom het op soek na beterkwaliteit-opvoeding, ’n groot persentasie wit en Indiërleerders na voormalige model- C- en privaatskole migreer het. Die algemene persepsies was die vrees dat die standaard van opvoeding sou daal. Hierdie migrasiepatrone het ’n mark in die privaatsektor laat ontstaan en allerlei privaatskole het in Suid-Afrika ontstaan. Die aanname van dalende standaarde is polities gelaai, want dit impliseer dat iemand se standaarde die goue standaard is om na te streef.

Hierdie uitsluitingstrategieë (lees apart-wil-wees-strategieë) is dikwels nou verwant aan ras en word elke nou en dan blootgelê. Dit wissel van die haredebakel in die geval van die Sans Souci- en Pretoria-hoërskole en leerders wat fisiek aangeval word deur ouer seuns in Graeme College, tot die traagheid in St John’s College om met openlike rassisme om te gaan, tot die opvoeder wat by Westville Girls’ High bedank het nadat sy rassistiese beledigings teenoor leerders geuiter het.

Al is swart leerders die numeriese meerderheid in voormalige model C- en privaatskole, bly hulle steeds die kulturele minderheid. Roets (2016) het in haar studie oor rassistiese diskoerse in voormalige model C-skole bevind dat swart leerders dikwels bang is om in klasse te praat uit vrees dat daar vir hul swart aksent gelag sal word. Dit beteken dat die kultureel diverse leerders probeer om aspekte van hul kulturele identiteite weg te steek uit vrees vir vernedering in hierdie skole.

Cummins (1997 in Roets 2016) sê die leerders word sigbaar, onsigbaar en onhoorbaar. Wanneer bruin of swart ouers Engels verkies as die taal van onderrig omdat hulle ’n berekening maak van die sosiale en ekonomiese potensiaal van Engels vir mobiliteit in ’n multikulturele nuwe Suid-Afrika en die arbeidsektor, word hulle begroet met hewige teenkanting van skoolbeheerliggame wat veg vir die behoud van monokulturele instellings. Die feit dat hierdie ouers nie hul teenkanting verbaliseer nie, word dikwels verkeerdelik as konsensus opgeneem. Burgerlike verenigings wat hulle beywer vir die behoud van Afrikaans poog dikwels om nie-Engelssprekendes onder een politieke sambreel te bring in ’n oppervlakkige skema van eksklusiwiteit. Vir dekades was Afrikaans op swart burgers afgedwing, en noudat daar pogings is om die bordjies te verhang, is daar hewige teenkanting vanuit hierdie groepe.

Afrikaans-ekslusiwiteit is vir Jansen (2013) ’n ernstige bedreiging vir rasseverhoudings in Suid-Afrika, want jy kan nie jongmense voorberei om te handel met die skade van die verlede sonder om optimale geleenthede in klaskamers te skep om saam te leer nie. Vir hom is dit belangrik dat die transmissielyn vir die oordrag van “bitter kennis” verbreek word.

In reaksie op Panyaza Lesufi (LUR vir onderwys in Gauteng) se argument dat die polariteit in die onderwysstelsel veroorsaak word deur uitsluitingsmeganismes in tradisioneel wit skole waar daar gepoog word om die personeelbevolking homogeen te hou, het Debbie Schäfer (LUR vir onderwys in die Wes-Kaap) toegegee dat daar wel onderduimse uitsluitingsmeganismes (soos taal en kriteria in posadvertensies) gebruik word om bepaalde bevolkingsgroepe uit te sluit en skoolbevolkings homogeen te hou.

Wanneer diskrepansies in skole uitgewys word, word die slagofferkaart dikwels uitgehaal. Elders (Joorst 2017) het ek Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, aangehaal wat die bewerings van koverte uitsluitingspraktyke deur middel van taal as “absolute onsin” afgemaak het en aangevoer het dat die regering nou probeer om openbare skole terug te verander na staatskole deur “skoolkaping” (gesprek op die geselsprogram Monitor op RSG, 23 Oktober 2017). Sy adjunk, Jaco Deacon, se posisie hieroor is dat die staat ’n “outokratiese stelsel wil voorskryf” en dat “Afrikaans-enkelmediumskole spesifiek geteiken word, terwyl 95% van die land se skole Engels-enkelmediumskole is” (Facebook, 14 November 2017). Verder word gal gebraak op Monitor en Spektrum op RSG se Facebook-inskrywings van 24 Oktober 2017 wat wissel van “standaarde en kwaliteit van opvoeding wat afgetrek word” en die regering se skynbare “sosialistiese agenda” tot vrees dat die regering eenvoudig in ’n “duiwelstaat” verval. 

Baie ironies gebruik die burgerregte-organisasie AfriForum die 1976-Sharpeville-slagting as fondasie vir hul argument oor selfbeskikking en die behoud van Afrikaans in skole (lees ’n staat binne ’n staat). Die organisasie wat hulself voorhou as beskermers van minderhede se regte, gebruik dikwels nie-Engelssprekende bruin groepe as kanonvoer vir hul eie agitasie oor Afrikaans.

Oor wit bevoorregting sê Ernst Roets van AfriForum dat hy wel bevoordeel was op die basis van sy vel, maar hy regverdig dit deur aan te voer dat swart mense ook nou bevoordeel word op die basis van hul velkleur. So asof die een verkeerde die ander een regverdig. Hy argumenteer dat “wit mense beter skole het en daarom beter opvoeding” en “dat die meeste disfunksionele skole swart is”. Roets is wel reg in sy argument dat die huidige regering 20 jaar kans gehad het om dinge reg te stel, maar solank hulle natuurlik nie raak aan sekere skole nie. Dit is verbysterend dat hierdie groep nie die engheid raaksien in hul retoriek nie, naamlik dat dit nie saak maak hoe hulle hul motief vermom in woorde nie, dit eintlik vir hulle gaan oor die beskerming van die wit Suid-Afrikaners. Ras het in die proses dus ’n gedaanteverwisseling ondergaan en taal geword.

Roets se gespreksgenoot, Eusebius McKaiser (aanbieder op Radio 702), se reaksie hierop is dat die “maar”-woord bevraagteken moet word, want dit dien baie keer as voorspel vir iets baie wreeds wat volg. Sy siening oor wit bevoorregting is dat hierdie mense dit gewoonlik probeer ontken of minimaliseer of daarvan deflekteer. (http://bookstorm.bookslive.co.za/blog/2015/11/12/eusebius-mckaiser-debates-white-privilege-with-ernst-roets-of-afriforum-podcast)

Aan die ander kant ...

Skole se gebrek aan toerekeningsvatbaarheid, meen Duncan Hindle, ’n senior opvoedkundige beampte, dra dikwels by tot disfunksionaliteit. Hy skryf dit toe aan opvoeders wat dikwels afwesig bly sonder goeie rede, opvoeders wat laat opdaag vir werk en ander wat nie voorberei is vir werk nie. Begrafnisse en vakbondverpligtinge word ook gerieflike verskonings om nie op te daag vir werk nie. Vrydae en einde van die maand, sê hy, word vroeë skoolsluitdae in sekere skole (Hindle in Netshitangani 2018:98). Terwyl Duncan ’n punt beet het, is dit belangrik om te noem dat ons disfunksionaliteit ook in funksionele skole kry en funksionaliteit ook in disfunksionele skole.

Motshohi (2011) beskryf die vernietigende rol wat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (Sadou) speel in die aftakeling van die bestuur in veral arm gemeenskappe. Hy en baie ander beskryf hoe prinsipale in hierdie skole geïntimideer en onder druk geplaas word wanneer hulle dissipline probeer afdwing en skole wil normaliseer. Die ironie, sê hy, is dat die kinders van die opvoeders wat hulle hieraan skuldig maak, by meer gegoede skole is.

Wanneer die provinsiale hoof van onderwys in KwaZulu-Natal (Maritzburg College v Dlamini NO & Others (2005) JOL 15075 (N)), meer as 18 maande voete sleep om ’n skool te ondersteun met die uitsetting van ’n leerder (toevallig swart) en eers deur ’n Hoër Hof beveel moet word om op te tree, is dit ’n aanduiding van die oorverpolitisering van opvoeding. Selfs nadat die hoof van onderwys wel opgetree het en die amptenaar erken het dat die leerder wel skuldig was aan ernstige wangedrag, het hy steeds geweier om teen die leerder op te tree. Hierdie selektiewe optrede skep die persepsie van politieke apatie teenoor mense wat nie soos jy lyk nie.

Wanneer die begrotings wat spandeer behoort te word aan die opgradering van skole verduister word en veroorsaak dat leerders in put-toilette sterf, laat dit die hare op ’n mens se vel behoorlik orent staan en verdiep dit die persepsie van onkunde en blatante kriminaliteit.

As die nasionale adjunkminister van onderwys ’n vrou aanrand en dan bloot op die vingers getik word, terwyl opvoeders vir ver minder as dit afgedank word, laat dit mens twyfel oor regverdigheid in die stelsel.

So ook wanneer ’n voormalige president van die land hom openlik skuldig maak aan verdagte gedrag, en sy volgelinge openlik populistiese retoriek teenoor ander rasse aanblaas, kan mens verstaan waarom mense ’n renons opbou in ander. Die ongeluk hierin is dat alle swart mense dan oor dieselfde kam geskeer word as onbevoeg, barbaars en korrup. Wanneer politieke onderwyshoofde wysigings in wette voorstel en wil deurvoer sonder konsultasie, kan weerstand verwag word.

Tot hiertoe blyk dit daar in alle skole in die land kwessies is wat tot ’n baie ongesonde situasie in ons onderwysstelsel lei. Buiten die geboue, bestaan skole uit mense – mense wat weet dat ons eenmaal in dieselfde situasie was; mense wat deeglik daarvan bewus is dat hulle blinde kolle het wat aangespreek moet word.

Blindheid

Suid-Afrikaners het weer eens ’n blindheid begin ontwikkel vir die idee van saambestaan. Die #FeesMustFall- en #RhodesMustFall-betogings sedert 2015 het die strukturele, materiële ongelykhede in die land weer onder die vergrootglas geplaas en getoon dat ’n volstruisbenadering tot die probleem nie ’n oplossing is nie. Die gevolg van laer trek vir die behoud van wat klaarblyklik gesien word as ’n reg om in isolasie te leef, te leer en te bestaan, die ontkenning, minimalisering en defleksie van bevoordeling en ras enersyds, en die frustrasie oor die gebrek aan erkenning van bevoordeling en die reg op gelyke behandeling aan alle groepe andersyds, het die potensiaal om die spreekwoordelike vonk in die kruitvat wees. Ons skoolstelsel in sy huidige vorm reproduseer ongelykhede, want ons het blind geword vir die institusionele klasapartheid wat dit bevorder.

Wanneer AfriForum voorhou dat ekonomiese krag van mense die gevolg is van “behoorlike opvoeding”, maar dan ’n groot fonds stig vir die opvoeding van wit, Afrikaanse kinders en die uitsluitingsmeganismes teen niewit kinders in skole kondoneer deur die narratief van minderheidsgroepe, belig dit nie net hul selektiewe geheue oor die oorsake van die tweeledigheid in die skoolstelsel nie, maar ook hul noue siening van gehalte-opvoeding vir alle landsburgers. Wat goed is vir my kind, moet mos ook goed wees vir iemand anders se kind.

Wanneer Black First, Land First revolusionêre ekonomiese transformasie propageer wat gebaseer is op ’n bepaalde siening van wit monopolistiese kapitaal, vertoon hulle ’n blindheid teenoor die korrupsie in eie geledere, en wanneer hulle ander stemme doodskreeu, word hul onverdraagsaamheid jeens ander sienings ontbloot.

Wanneer mense beweer dat hulle patrioties is, maar dan net ’n sekere deel van die nasionale volkslied sing, of iemand lê ’n eed af, maar jok daaroor om landsbelang voor eie belang te stel, laat dit ’n mens wonder oor die opregtheid van hierdie mense. As niemand hul blinde kolle wil erken nie, hoe gaan ons die prentjie verander in die belang van ons almal se kinders? As opvoeders in hul tientalle verkies om eerder oorsee te gaan skoolhou, wat presies vier ons met internasionale onderwysersdag?

Ons het inderdaad in verkeerde gewoontes verval, want ofskoon die rolspelers in leierskap verander het, doen ons dieselfde dinge aan mekaar wat ons dekades gelede gedoen het. Die geskiedenis van Suid-Afrika leer ons dat dominante groepe wat ander onderdruk deur hulle uit te maak as ondergeskikte mense, net vir so lank daarmee kan wegkom. Die nadeel van onderdrukking is dat jong kinders dit oor tyd internaliseer, dit deel maak van hul psige en daardie persepsies reproduseer. Die kultuur van selfsug, haat en vooroordeel teenoor ander mense verdoesel dikwels skewe godsdienstige argumente, inhalige selfbeskikkingsideologieë, basislose biologiese aannames en opvoedkundige regverdigings wat die produk van jare lange indoktrinasie is. Dit lei dikwels tot nie net baie eng sienings van die self in verhouding tot ander nie, maar ook ’n verwronge beeld van wie en wat ons kan wees as ’n nasie. Die geskiedenis het ons geleer dat magsmisbruik, korrupsie en kwaadstokery uiteindelik ontbloot sal word. Ons weet ook dat intimidasie en vergrype nie daarin slaag om gemarginaliseerde mense te stuit teen hul soeke na geregtigheid nie. Geen wetgewing of beleidsverandering kan mense se konfigurasie van hulself in gemeenskappe, organisasies, skole en algemene interaksie met mekaar stuit nie. Maar tog repliseer ons dit.

As ’n samelewing moet ons eers erken dat ons almal 25 jaar gehad het om die euwels van die verlede af te breek, maar ons het kollektiewelik daarin gefaal. Ons het verval in die ou gewoontes van vinger te wys na ander en van die regverdiging van die verkeerde. Ons het verval in ons apartheidsmentaliteit waar ons soms openlik en soms deur aannames ander mense kategoriseer in terme van waardevol en waardeloos. Onder die huidige dominante marklogika het ons ’n nuwe taal gevind om apatiese houdings, sienings en aksies te legitimiseer. Dit is dus belangrik dat ons ons morele blinde kolle moet kan identifiseer ten einde betekenisvol met ander om te kan gaan. Hierin kan opvoeders ’n deurslaggewende rol speel.

Wat word benodig?

Dit is ons kollektiewe verantwoordelikheid om die narratiewe van wetteloosheid, selfsug, uitsluiting, onderdrukking, korrupsie en so meer af te breek ten einde ’n beter toekoms saam te bou. In skole het opvoeders die geleentheid om inspraak te maak in die lewens van toekomstige burgers en ’n kans om dominante narratiewe te bevraagteken en te toets. Die opvoeder is tussen die vereistes van ’n snelveranderende globale samelewing en die beleefde realiteite van hul leerders geposisioneer. As agente van verandering het hulle dus die geleentheid om ons kinders toe te rus met gereedskap en taal wat hulle anders oor hulself in verhouding met ander menses kan laat dink. Opvoeders kan kinders deur herverbeelde lense na die lewe en na ander laat kyk en die ooreenkomste eerder as die verskille in hulself en ander mense raak te sien.

Maar opvoeders kan dit nie alleen doen nie. Hulle het die hulp nodig van die samelewing wat eers haar blinde kolle moet erken en bieg dat ons verval het in ou gewoontes wat ons op die oomblik nie nader aan mekaar bring nie. Opvoeders se gesagsposisie wat voortspruit uit die gemene reg moet weer in ere herstel word. As ouers moet ons besef dat opvoeding ’n geïntegreerde benadering verg om suksesvol vir alle kinders te wees. Opvoeding kan net slaag as daar samewerking tussen al drie die hoofrolspelers (ouerhuis, gemeenskap en skool) is. Ons het opvoeders nodig wat leerders leer dat die kognitiewe nie alleen belangrik is nie, maar ook sosiale en emosionele intelligensie sodat mense in staat kan wees om hulself te reguleer. Van ’n vroeë ouderdom af moet kinders geleer word hoe om met stres en verandering om te gaan. Suid-Afrika het al voorheen gewys dat die land uitdagings kan oorkom indien mense hul individuele verskille bylê en gesamentlik fokus op landsbelang. Daar is ongetwyfeld genoeg diepte en integriteit in die land om die magtigste in die wêreld aan te vat en te klop. Maar om dit te kan doen, moet ons verby ons blinde kolle kom en doelbewus die gewoontes van ons verlede verwyder deur dit te vervang met nuwe verbeeldings van wie en wat ons gesamentlik kan wees. Opvoeders kan ons fakkeldraers van sosiale geregtigheid wees. Wanneer ons dus weer op 5 Oktober internasionale onderwysersdag vier, laat ons dink aan opvoeders wat, soos kerse, hulleself moet uitbrand om ander die lig te wys.

Bibliografie

Adams, A.T. 2000. The status of school discipline and violence. The Annals of the American Academy of Political and Social Science, 567(1):140–56.

Ally, N. en S. Brener. 2018.  Race and language: ConCourt misses chances to guide transformation of the education system. The Daily Maverick, 14 Augustus. Beskikbaar by https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-08-14-race-and-language-concourt-misses-chance-to-guide-transformation-of-the-education-system (13 Oktober geraadpleeg).

Hoërskool Ermelo v Head, Department of Education, Mpumalanga 2009 JOL 23349 (SCA).

Jansen, J. 2013. Afrikaans white schools a threat to race relations in South Africa. Politicsweb, 2 Oktober. Beskikbaar by http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/afrikaans-white-schools-a-threat-to-race-relations (13 Oktober geraadpleeg).

Joorst, J. 2017. Die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys en hoe om nuwe denke rondom skole te bou. LitNet Skoleseminaar.

Laerskool Middelburg v Departementshoof, Mpumalanga Departement van Onderwys 2003 4 SA 160 (T). 2003.

Maritzburg College v Dlamini NO & Others, 2005. JOL 15075 (N).

Motsohi, T. 2011. The corrosive influence of unions on SA schools. Mail & Guardian, 18 Augustus 2011. Beskikbaar by https://thoughtleader.co.za/thabangmotsohi/2011/08/18/the-corrosive-influence-of-sadtu-undermines-discipline-in-public-schools (14 Oktober geraadpleeg).

Netshitangani, T. 2018. Management style and school violence: South African perspectives. International Journal of Educational Management, 32(1):96–106.

Roets, C. 2016. Racialised discourse in the former Model C school: Discourse of exclusion and inclusion. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Schleicher, A. 2015. Global perspectives on education and skills. Beskikbaar by http://oecdeducationtoday.blogspot.co.uk/2015/05/education-post-2015.html (15 Oktober geraadpleeg)

St John’s College: Teacher found guilty of making racist remarks has resigned. TimesLive, 28 Julie 2018. Beskikbaar by https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2017-07-28-st-johns-confirms-teacher-found-guilty-of-making-racist-remarks-has-resigned (15 Oktober geraadpleeg).

The Federation of Afrikaans Cultural Associations welcomes the Mikro Judgement. 2005. Beskikbaar by http://vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=272 (14 Oktober geraadpleeg).

Vandeyar, S. 2010. Responses of South African teachers to the challenge of school integration. South African Journal of Education, 30(3):343–59.

Western Cape Minister of Education v Governing Body of Mikro Primary School 2005 10 BCLR 973 (HHA).

 

In die greep van geweld!

’n Respons op Wouter Gildenhuys se ope brief aan Phumelele Buthelezi oor die toekoms van Afrikaans in skole

’n Taalplan vir Afrikaanse skole: ’n reaksie

The post Ongelykheid in skole, en hoe blind almal daarvoor is appeared first on LitNet.

Bejaardheid en asketisme in die vroeë Christendom: ’n Vergelyking tussen die sienswyses van Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg

$
0
0

Bejaardheid en asketisme in die vroeë Christendom: ’n Vergelyking tussen die sienswyses van Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg

C.L. de Wet, Departement Bybelse en Antieke Studie, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 15(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van hierdie artikel is om die verband tussen bejaardheid en asketisme te ondersoek deur die sienswyses van Johannes Chrusostomos (349–407 n.C.) en Filoksenos van Mabboeg (ca. 440–523 n.C.) te vergelyk. Bejaardheid word benader as ’n biologiese, sosiale en kulturele verskynsel wat diskursief gekonstrueer word deur die antieke skrywers. Die artikel begin met ’n literatuuroorsig rakende die tema, en daar word aangetoon dat die studie van bejaardheid in die vroeë Christendom baie min aandag ontvang het oor die afgelope paar dekades. Die studie kontekstualiseer dan die verskynsel van bejaardheid binne die antieke Mediterreense wêreld, met aandag aan sosiale, kulturele en mediese perspektiewe op bejaardheid. Hier word ook oorsigtelik gekyk na die verskeie ouderdomstrukture van die antieke wêreld, en ons sien dat baie antieke skrywers ouderdomstrukture soms teologies of eties geformuleer het. Die sienswyses van Chrusostomos en Filoksenos word dan vergelyk, en ’n aantal ooreenkomste en verskille word uitgelig. Beide verstaan die proses van oud word as een van afkoeling en uitdroging, soos die mediese skrywer en dokter Galenos ook gemeen het. Hulle albei beskou asketisme dan ook voorts as aan veroudering gekoppel. Asketisme is ook saamgestel uit praktyke wat die liggaam afkoel en uitdroog. Alhoewel bejaardheid wysheid en dissipline behoort te kweek, word dit ook nie as vanselfsprekend aanvaar deur dié twee skrywers nie. Beide is baie besorg oor ’n mens se gedrag tydens bejaardheid. Filoksenos gaan dan ook ’n stap verder as Chrusostomos deur te redeneer dat ’n mens die hitte van jou jeug in jou siel kan berg en oordra vir gebruik tydens jou oudag. Uiteindelik word daar in die artikel aangetoon dat bejaardheid en asketisme baie noue bande in vroeg-Christelike denke het en dat die een nie werklik sonder die ander verstaan kan word nie.

Trefwoorde: asketisme; bejaardheid; Filoksenos van Mabboeg; gerontologie; Johannes Chrusostomos; ouderdom; Patristiek; vroeë Christendom

 

Abstract

Old age and asceticism in early Christianity: A comparison between the views of John Chrysostom and Philoxenus of Mabbug

The purpose of this article is to investigate the relationship between old age and asceticism in early Christianity by specifically comparing the views of John Chrysostom (349–407 C.E.) and Philoxenus of Mabbug (ca.440–523 C.E.). The study starts with an overview of the relevant literature published on the topic. Thereafter the notion of old age is contextualised within the ancient Mediterranean world, with attention given to sociocultural and medical perspectives and age structures. This then serves as a trajectory for the comparative analysis of Chrysostom’s and Philoxenus’s views respectively.

In the past two decades there has been an upsurge of studies on children, childhood and education in the ancient world. For example, in 2013 The Oxford handbook of childhood and education in the Classical world (Grubbs and Parkin eds) was released, which represents a thorough and expansive analysis of the topic in classical antiquity. One of the leading experts in the field of children and childhood in antiquity, Ville Vuolanto, together with several collaborators, has compiled an online bibliography of works related to the study of children in antiquity. In the fourth edition of the bibliography (2008) there appear 1 140 entries, in the fifth (2010) there are 1 573, and in the sixth (2014) there are 1 771. The latest (2015) version boasts 2 067 entries, which would have increased in the meantime. And while the growth in this field is welcome and encouraging, the field of studies related to old age in antiquity remains scant.

It is unfortunate that elderly persons experience marginalisation even in the process of historiography, a criticism that Simone de Beauvoir (1972:134) voiced more than four decades ago. We have a handful of sources on old age and the elderly (and especially the care of the elderly) in the ancient Near East and ancient Greece. There are two important studies of which to take note for the Roman period. The first is the excellent monograph of Tim Parkin, Old age in the Roman world (2004), in which he analyses all sociocultural aspects of old age and aging in the Roman world. The second is the work of Karen Cokayne, Experiencing old age in ancient Rome (2003), which especially covers social and psychological aspects of aging in the Roman world. These two monographs, however, rarely if ever refer to early Christianity. Edward Watts (2015:191–211) also discusses the experience of elite elderly persons, like Libanius and Themistius, in the later Roman Empire.

The work of Christian Gnilka is fundamental for approaching a study on old age in early Christianity. He is especially interested in the care of the elderly in the early church, and the role of aged persons in the church more generally (see Gnilka 1972; 1977; 1980; 1983; 1995; 2005). After Gnilka’s 1972 monograph, Aetas spiritualis: Die Überwindung der natürlichen Altersstufen als Ideal frühchristlichen Lebens, we do not find any other monograph published on the topic. Georges Minois’s History of old age: from Antiquity to the Renaissance (1989) does cover early Christian views, but as this article will show, his conclusions are at times problematic. The article goes on to discuss some other studies on the topic of old age and aging.

Thus, old age in this article is approached as a discourse, known as gerontology, which is a way of speaking about both the individual and social body. Old age is a complex phenomenon that cannot be limited to one fixed locus, but finds expression in manifold social, cultural, religious and political formations. Old age and aging are therefore phenomena that are socially constructed.

When looking at old age as a social and cultural phenomenon in the ancient Mediterranean world, we also find that it differs quite substantially from modern concepts of old age and aging. Aging is not necessarily based on the number of years an individual has lived, or whether they have retired from an occupation. Retirement in antiquity differed fundamentally from how we understand retirement today. The status and experiences of non-elite persons in the ancient world are even more ambiguous. There are also important intersections between old age and gender, as De Wet (2016:491–521) has shown.

The article also provides an overview of ancient medical approaches to aging, and especially highlights old age as a period characterised in humoral medicine by an excess of phlegm, and the characteristics of coolness and dryness.

The popularity of the ancient age structure (or the so-called “ages of man” scheme, or in Latin, gradus aetatum) is quite interesting. These structures tell us that persons in ancient times often attempted to give meaning to their experience of aging by seeking other parallel structures. The article gives a brief summary of a few such structures. For instance, Solon and some in the Hippocratic corpus provide us with an age structure consisting of ten separate divisions of seven years each. Age structures consisting of seven ages were equally popular, especially among early Christian and Jewish writers. Augustine, for instance, provides a six-plus-one age structure in which each age corresponds theologically to a certain period in biblical salvation history. The final age, the seventh, is eternal life. The Pythagoreans, on the other hand, followed a scheme of four ages. Both of the writers examined in this article, Chrysostom and Philoxenus, structured each age group ethically, attributing a characteristic vice or virtue to the corresponding age group. This way of approaching human development and aging, from an ethical perspective, enables these authors to draw close links between aging, old age, and asceticism.

When the views of Chrysostom and Philoxenus on old age and asceticism are compared, several similarities and differences are evident. Both authors understand old age as a process of cooling and drying, as Galen has suggested, and then understand this as a correlate for asceticism, which also entails adopting practices that serve to cool and dry the body – to mortify it, so to speak. Old age is supposed to cultivate wisdom and discipline, but this is not a given. Both authors are very concerned about a person’s behaviour in old age. Philoxenus goes somewhat further than Chrysostom by suggesting that one can transfer the heat of adolescence to one’s old age by depositing it, so to speak, in the soul.

Keywords: age; aging; asceticism; early Christianity; gerontology; John Chrysostom; old age; Patristics; Philoxenus of Mabbug

 

1. Inleiding tot die studie van bejaardheid in die vroeë Christendom

In die afgelope twintig jaar het daar ’n groot aantal akademiese werke verskyn wat oor kinders, die kindertyd en opvoeding in die antieke tyd handel. In 2013 verskyn byvoorbeeld The Oxford handbook of childhood and education in the Classical world (Grubbs en Parkin (reds.) 2013), wat ’n deeglike en breedvoerige (720 bladsye) handleiding tot die tema slegs binne die klassieke tydperk is. Een van die kenners op die gebied van kinders in die vroeë Christendom, die Finse akademikus Ville Vuolanto, onderhou al, saam met ’n aantal medewerkers, vir jare ’n aanlyn bibliografie oor die tema van kinders in die antieke tyd (vanaf die 8ste eeu v.C. tot die 8ste eeu n.C.). In die vierde uitgawe van die bibliografie (2008) verskyn daar 1 140 inskrywings, in die vyfde (2010) is daar 1 573, en in die sesde (2014) verskyn daar 1 771. In die jongste weergawe (2015) is daar 2 067 inskrywings, en daardie getal sou al intussen vermeerder het (Vuolanto, Aasgaard, Christensen, Krohn en Roll 2015). Dit sou natuurlik moeilik wees om presies te bepaal waarom hierdie onderdeel van die vakgebied so groei, maar dit hou waarskynlik verband met die wêreldwye groeiende klem op die regte van vroue en kinders, en die groeiende druk op historici oor die antieke tyd om hul werk sosiaal relevant te maak. Hierdie groei is natuurlik ’n welkome verskynsel.

Ongelukkig kan ons nie dieselfde sê oor die studie van bejaardes en bejaardheid in die antieke tyd nie. Bronne oor hierdie tema bly yl gesaai. Dit is jammer dat bejaardes selfs in die proses van antieke geskiedskrywing so min aandag geniet het, net soos dit dikwels in die betrokke samelewings gebeur het – kritiek wat ook reeds dekades gelede deur die bekende feminis-filosoof Simone de Beauvoir (1972:134) uitgespreek is. Enkele werke bestaan oor bejaardes (en veral bejaardesorg) in die Ou Nabye Ooste (sien Stol en Vleeming 1998; Harris 2003) en antieke Griekeland (sien Richardson 1969; Falkner 1995; Johnson en Thane 1998). Vir die Romeinse tydperk is daar twee belangrike studies om van kennis te neem, veral vir die tema van hierdie artikel oor bejaardheid in die vroeë Christendom. Eerstens word verwys na die uitstekende boek van Tim Parkin, Old age in the Roman world (2004), waarin hy alle sosiokulturele aspekte van bejaardheid in die Romeinse wêreld ondersoek. Tweedens is daar Karen Cokayne se Experiencing old age in Ancient Rome (2003), waarin sy veral na die sosiopsigologiese ervaring van bejaardheid in die Romeinse wêreld kyk (sien ook Falkner en De Luce (reds.) 1989). Dit moet wel genoem word dat in beide hierdie werke daar bykans geen verwysing is na die vroeë Christendom nie.1 Edward Watts (2015:191–211) bespreek ook die ervaring van elite-bejaardes, soos Libanios en Themistios, in die laat-antieke Romeinse Ryk.

Vir die konteks van die vroeë Christendom is die werk van die Duitse kerkhistorikus Christian Gnilka grondliggend van aard. Die belang van Gnilka se werk lê veral in die fokus op gebruike van bejaardesorg (in Grieks gêrotrofia2) binne die vroeë kerk, en watter rol bejaardes in die daaglikse lewe van die gemeente gespeel het (Gnilka 1972; 1977; 1980; 1983; 1995; 2005). Gnilka redeneer veral dat die vroeë kerk juis ruimte en sorg voorsien het vir mense op die rand van die samelewing, soos slawe, weeskinders, weduwees en bejaardes. Gnilka se werk strek egter nie so ver as die tema van hierdie artikel nie, naamlik die verband tussen bejaardheid en asketisme, maar verleen wel aan ons belangrike beginsels vir die studie van bejaardheid in die vroeë Christendom. Na Gnilka se boek uit 1972, Aetas spiritualis: Die Überwindung der natürlichen Altersstufen als Ideal frühchristlichen Lebens, het daar nie enige verdere volledige monografie oor bejaardheid in die vroeë Christendom verskyn nie. ’n Boek wat wel baie aandag ontvang het, en wat inderdaad voldoende ruimte aan die vroeë Christendom verskaf, is Georges Minois se History of old age: from antiquity to the Renaissance (1989; vertaal uit Frans). Ongelukkig, en anders as Gnilka, is Minois se ontleding van vroeë Christelike sienswyses oor bejaardheid problematies, om redes wat deur die loop van hierdie studie uitgewys sal word. Daar moet ook genoem word dat baie aandag gegee is aan die verskynsel van sogenaamde ouderlinge of presbuteroi in die Nuwe Testament, maar dit word dikwels bespreek binne die konteks van leierskapstrukture in die vroeë Christendom, en daar is reeds aangetoon dat ’n ouderling in die vroeë kerk nie noodwendig ’n bejaarde hoef te gewees het nie.3

Illustrasie 1. Die bejaarde Sint Paulus die Kluisenaar met sy lang grys baard (oorgeneem uit WordPress; https://citydesert.files.wordpress.com/2014/01/paul-the-hermit.jpg)

Illustrasie 2. ’n Ikoon van die askeet vader Makarios van die Sint Katarina-klooster in Sinai, Egipte, met sy lang wit baard, langs ’n gerub (Wikimedia Commons 2009; https://commons.wikimedia.org/wiki/File:St_Macarius_the_Great_with_Cherub.jpg)

Illustrasie 3. Nog ’n ikoon van die askeet vader Arsenios met sy grys-wit baard en hare (Wikimedia Commons 2008; https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Arsenius_the_Great.jpg)

Net soos Bryan Green (1993:1–3), benader ek die verskynsel van bejaardheid in hierdie studie as ’n diskoers (die gerontologiese diskoers, of gerontologie). Ons gebruik die terme bejaardheid, en ook gerontologie, om te praat oor die individuele en gemeenskaplike liggaam. Soos Stephen Katz (1996:1) ook noem, is bejaardheid deel van elke vorm van kennis en alle kulturele praktyke, insluitend geestelike, rituele, mitiese, simboliese, kunstige, metaforiese, en selfs argitektoniese praktyke. Bejaardheid kan nie vervat word in een vasgestelde locus nie. Die betekenisse van bejaardheid is veelvoudig, en elke kultuur toon ’n unieke blik op bejaardheid. Vir party mense is die ouderdom van 60 of 70 jaar die begin van die tydperk van bejaardheid in die lewe, terwyl ander in die geskiedenis hulself al op 40-jarige ouderdom as bejaard beskou het (Lamirande 1982:227–33; Parkin 2004:17–8). Ons moet dus Green (1993:13–25) se waarskuwing ernstig opneem dat bejaardheid en gerontologie nie slegs met ’n biologiese verskynsel te doen het nie, maar ook sosiaal gekonstrueerd is (Stoneking 2003:63–89).

Uit hierdie kort literatuuroorsig kan ons aflei dat daar reeds bepaalde grondslae gelê is oor vroeg-Christelike sienswyses oor oudword, bejaardes, en bejaardheid, maar dat daar nou ’n behoefte is om dié veld meer met gespesialiseerde en gerigte navorsing uit te brei wat die nuutste krities-teoretiese raamwerke en metodologieë op die antieke Christelike bronne toepas. My doel in hierdie artikel is om te kyk na die verband tussen bejaardheid en vroeg-Christelike asketisme. Na slegs ’n kursoriese lees van vroeg-Christelike bronne oor asketisme, die kloosterlewe en hagiografie, merk ’n mens voor die hand liggende oorvleueling op tussen bejaardheid en asketisme (sien byvoorbeeld De Wet 2016:491–521). Wat is die aard van hierdie verband(e) tussen bejaardheid en vroeg-Christelike asketisme, en is hierdie verband(e) noodwendig eenvormig? Om hierdie vrae te beantwoord sal daar slegs op een tak van vroeg-Christelike asketisme gefokus word, naamlik Siries-Christelike asketisme, en om die omvang van die antieke materiaal te beperk sal ek slegs ’n vergelyking tref tussen Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg se sienings.4 Beide hierdie skrywers kom uit die Siries-Christelike tradisie en plaas ’n sterk klem op asketisme. Chrusostomos (349–407 n.C.) was eers ’n priester in Antiogië in Sirië en word later die biskop van Konstantinopel, en Filoksenos (ca.440–523 n.C.) het in 485 biskop van Mabboeg (of in Grieks, Hierapolis) geword. Daar sal na verskeie geskrifte van Chrusostomos gekyk word. In die geval van Filoksenos is sy opmerkings oor bejaardheid en asketisme hoofsaaklik te vinde in sy versameling preke, getiteld Memrê of Redevoerings (memrâ is ’n Siriese woord vir preek of redevoering/diskoers). Dit is ’n versameling van riglyne, raad en vermanings spesifiek geskryf vir monnike wat in ’n klooster gewoon het (Kitchen 2013:xiii–lxxix). Chrusostomos verskil ook hier van Filoksenos in die sin dat hy meestal nie aan monnike in kloosters skryf nie, maar aan gewone stadsbewoners wat ’n populêre en gematigde vorm van asketisme bedryf het. Dit is dus ook interessant om te sien hoe dié skrywers hul gedagtes oor bejaardheid en asketisme by hul onderskeie gehore aanpas.

Illustrasie 4. Antiogië, Mabboeg en omliggende gebiede (2018; Chris L. de Wet)

Alhoewel Chrusostomos en Filoksenos in dieselfde geografiese en tradisionele gebied geleef het, is daar beslis bepaalde dogmatiese verskille tussen hulle. Hulle verskil ook daarin dat Chrusostomos byna ’n eeu voor Filoksenos geleef het. Hulle het ook in verskillende stede gewoon, met verskillende gehore vir hul werke, en het in verskillende tale geskryf: Chrusostomos in antieke Grieks en Filoksenos in Siries, ’n latere dialek van Aramees. Die verskeidenheid binne die Siries-Christelike asketiese tradisie word dus ook in ag geneem in hierdie ondersoek. Maar voor dié twee skrywers vergelyk word, is dit nodig om eers te kyk na ’n paar grondliggende aspekte van hoe mense van die Grieks-Romeinse wêreld bejaardheid beskou het.

 

2. Bejaardheid in die antieke Mediterreense wêreld: sosiokulturele en mediese perspektiewe en ouderdomstrukture

Bejaardheid is ’n veelkantige konsep wat moeilik is om objektief vanuit die antieke Grieks-Romeinse bronne te beskryf. Die nosie van bejaardheid dui nie noodwendig slegs op die aantal jare wat ’n persoon geleef het nie. Ons moet verstaan dat die meerderheid persone in die antieke tyd wat nie tot die elite behoort het nie, lae vlakke van syferkennis gehad het, en dit is moontlik dat baie mense nie eers presies geweet het hoe oud hulle is nie. Verskillende mense verouder ook teen verskillende tempo’s, afhangende van genetiese faktore, dieet, lewenstyl, omgewing, ens. Dit blyk uit die navorsing van Scheidel (2001:1–26) dat min mense in die Grieks-Romeinse wêreld ’n hoë ouderdom bereik het. ’n Ander probleem wat ’n mens ervaar in die konteks van die Grieks-Romeinse wêreld, is dat daar nie ’n formele konsep van aftrede was nie. Vir die Romeine het aftrede iets heeltemal anders beteken as vir ons vandag. Mans kon byvoorbeeld op ’n bepaalde ouderdom uit sekere take en poste aftree, maar daar was ander siviele pligte waarvan ’n mens, ongeag jou ouderdom, nooit verskoon kon word nie (Parkin 2004:123–9; Cokayne 2003:94–100). Omrede daar geen formele aftree-ouderdom was nie, so redeneer Cokayne (2003:2), is bejaardes nie soseer gesien as ’n sosiale groep nie, maar eerder as individue. Die ervarings van bejaardes wat nie behoort het tot die elite nie, bly grotendeels ’n raaisel, aangesien die bronne byna niks oor hierdie persone sê nie.

Bejaardheid en gender het ook bepaalde verbande gehad in die antieke Mediterreense wêreld. Ons lees dikwels van bejaarde weduwees in die antieke bronne, en hulle word dikwels uitgebeeld as gemarginaliseerde en kwesbare persone (dikwels saam met weeskinders en slawe) (Lampe 2016:23–5), alhoewel ons ook weet van ’n aantal ryk en magtige weduwees in die Romeinse wêreld (Walsh 2008:176–86). Ons lees min van bejaarde wewenaars, vanweë die feit dat die meeste mans weer getrou het, dikwels met jonger vrouens, om nog kinders te verwek – onvrugbaarheid is eerder beskou as ’n vroulike kwaal as ’n manlike (Cokayne 2003:131). Bejaardheid het veral uitdagings vir Romeinse mans se manlikheid ingehou, en baie bejaarde patresfamilias het gesukkel om die druk van huishoudelike bestuur en leierskap te hanteer (De Wet 2016:491–521).

Sommiges het leeftyd op grond van numeriese ouderdomstrukture geklassifiseer; sodoende ontstaan die begrip van die lewensfases (in Latyn gradus aetatum). Volgens Solon en die Hippokratiese korpus bestaan daar tien lewensfases van sewe jaar elk (dus tot op 70 jaar) (Parkin 2004:16–7). Die getal sewe is natuurlik ’n belangrike getal in die opvattings van antieke mense. Die Christelike skrywer Klemens Aleksandrinus (Stromata 6.16.144.3–6; in Wilson 1885) het ook hierdie struktuur wat op die getal sewe gebaseer was, gebruik.

In dieselfde gees as Klemens voorsien Augustinus ses lewensfases (plus een) wat ooreenstem met die ses fases (plus een) van die bestaan van die wêreld en die mens. In sy De diversis quaestionibus 58 (in Mosher 2002:105–7) beskryf Augustinus hierdie ses fases as volg:

Tabel 1. Augustinus se indeling van lewensfases

Augustinus se indeling van lewensfases

Fase

Heilsgeskiedenis van die mens

Ouderdomstruktuur

1

Adam tot by Noag

Babajare

2

Noag tot by Abraham

Kinderjare

3

Abraham tot by Dawid

Puberteitsjare/adolessensie

4

Dawid tot by die Babiloniese ballingskap van Juda

Jeugjare

5

Die Babiloniese ballingskap tot by die koms van Christus

Volwassenheid

6

Christus se hemelvaart tot by sy koms en die einde van die wêreld

Bejaardheid

 

Die sewende en laaste fase stel die hiernamaals voor en die ewige lewe na die dood van die mens. Die ses-dag-skema (plus een dag) bou natuurlik ook op die struktuur van die skeppingsverhaal in Genesis 1 en ook Mattheus se geslagsregister van Jesus wat uit 14 geslagte bestaan (Matt. 1:17). Augustinus kom by sewe fases uit wanneer hy die 14 geslagte van Jesus deur twee deel, aangesien ’n geslag verwek word deur twee mense, ’n man en ’n vrou. Augustinus sien dus ’n parallel tussen die heilsgeskiedenis en die verloop van die mens se lewe. Augustinus laat die eerste vyf fases ook ooreenstem met die menslike sintuie, en voeg dan ook redevoering en aksie by om die getal sewe te voltooi. In hierdie gedeelte noem Augustinus spesifiek dat bejaardheid op ongeveer 60-jarige ouderdom begin. Die struktuur van sewe (oftewel ses plus een) is ook oor die algemeen in die Joodse kultuur gevolg, juis as gevolg van die Bybelse strukturering wat in só ’n skema moontlik is (Kohut 1906; Löw 1875).

Die Pythagoreërs se tekste (en sommige ander Hippokratiese tekste) het ’n stelsel van vier klassifikasies gevolg, naamlik 0–19, 20–39, 40–59, en 60–80. Volgens Diogenes Laertius (Vita Pythagorae 7, in Guthrie 1988:143–4) stem hierdie vier klassifikasies van Pythagoras ooreen met die seisoene. Die ouderdom 0–19, kindsbeen, stem ooreen met lente; 20–39, jeug, is die somer van die lewe; 40–59, die middeljare, is die lewensherfs; en 60–80, bejaardheid, is die winter van die lewe. Hierdie seisoenale benadering tot die verloop van die lewe was baie gewild in die antieke denke. Die meerderheid Romeinse skrywers, soos Varro en Censorinus, volg volgens Parkin (2004:17) ’n stelsel van vyf lewensfases. Parkin (2004:17–8) meen dat Augustinus moontlik op Varro se struktuur gebou het, maar dit ook uitgebrei het.

Wanneer ons na die twee skrywers kyk wat in hierdie studie vergelyk word, Chrusostomos en Filoksenos, sien ons dat hulle ook elk hul eie skema gehad het waarvolgens hulle menslike ontwikkeling en bejaardheid geklassifiseer het. Soos die Pythagoreërs volg Chrusostomos ook ’n viervoudige skema, maar sy indeling van die ouderdomsgroepe blyk te verskil van dié van die Pythagoreërs. Anders as Chrusostomos was die Pythagoreërs baie afhanklik van numeriese ordes. Chrusostomos verduidelik menslike ontwikkeling aan die hand van ’n seevaartmetafoor. Hy praat van die vier seë van die lewe waardeur die siel moet vaar (sien Homiliae in Matthaeum 81.5; Homiliae in epistulam ad Titum 4; De statuis 3; ook De Wet 2016:495–6). Die eerste see is die kinderjare. Dit is ’n tyd van onskuld, maar ook onkunde, dwaasheid, en gulsigheid, en dus is dit ook die tydperk waarin die tugmeester of paidagôgos moet intree ter opvoeding van die kind. Die volgende tydperk is dié van puberteit. Hierdie tydperk bestaan na die mening van Chrusostomos uit moeilike en gevaarlike jare omrede dit gewoonlik die tyd is wanneer die tugmeester terugstaan en wanneer wellus aan die orde van die dag is. Hierdie lewensfase begin waarskynlik op ongeveer 16-jarige ouderdom (Laes 2011:115), wanneer die kind die toga van volwassenheid sou ontvang, en net voordat seuns weermag toe sou gaan. Dan volg die tydperk van volwassenheid of die middeljare, wanneer ’n mens binne ’n huishouding aan die hoof staan. Volgens Chrusostomos is dit ook die tyd wanneer geldgierigheid en jaloesie seëvier. Vir mans sou hierdie fase waarskynlik op ’n ouer leeftyd intree as vir vroue, aangesien mans normaalweg op ’n ouer leeftyd as vroue getrou het. Uiteindelik is daar die tydperk van bejaardheid (to gêras), wat die tyd is wanneer ’n mens maai wat jy gesaai het toe jy jonk was. As iemand losbandig gelewe het, meen Chrusostomos, sal hulle ’n swaar oudag beleef, maar die persoon wat regverdig en met selfbeheersing geleef het, sal ’n goeie oudag hê (Homiliae in Matthaeum 30.6). Hier is ’n tydperk waar die gevare van woede en droefheid kan toesak. Ons kan die indeling soos volg opsom:

Tabel 2. Chrusostomos se verdeling van lewensfases

Chrusostomos se indeling van lewensfases

Fase

Ouderdomstruktuur

Ondeug

1

Kinderjare

Onkunde, dwaasheid, gulsigheid

2

Puberteitsjare

Wellus

3

Volwassenheid/middeljare

Geldgierigheid, jaloesie

4

Bejaardheid

Woede, droefheid

 

Chrusostomos struktureer menslike ontwikkeling nie volgens ’n teologiese raamwerk nie, maar volgens ’n etiese raamwerk waarin elke ouderdomsgroep gedefinieer en geklassifiseer word op grond van ooreenkomstige deugde en ondeugde wat ’n mens in ’n bepaalde tydperk uitdaag.

Filoksenos verskil van Chrusostomos in hierdie verband. Soos baie antieke Joodse en Christelike skrywers volg ook hy die sewevoudige struktuur (Memrā 11.56; in Kitchen 2013:365–6). Dit is sonder twyfel deel van Filoksenos se Siries-Aramese kulturele erfenis. Anders as Augustinus voorsien Filoksenos nie aan ons ’n teologiese skema waarvolgens hy ouderdomsgroepe klassifiseer nie. In hierdie opsig stem hy meer ooreen met Chrusostomos deur ook ’n etiese raamwerk vir ouderdomsgroepe te konseptualiseer. Filoksenos glo ook, soos Chrusostomos, dat daar problematiese menslike drange in elke fase van die lewe is, en dat elke fase ook sy eie strategie moet hê om hierdie uitdagings die hoof te bied. Die volgende tabel gee ’n voorstelling van Filoksenos se struktuur:

Tabel 3. Filoksenos se indeling van lewensfases

Filoksenos se indeling van lewensfases

Fase

Ouderdomstruktuur

Ondeug

1

Peuterjare

Woede, gulsigheid

2

Kinderjare

Woede, gulsigheid

3

Puberteitsjare/adolessensie

Wellus, verwaandheid, geldgierigheid, magsbeheptheid

4

Volwassenheid

Wellus, verwaandheid, geldgierigheid, magsbeheptheid

5

Middeljare

Wellus, verwaandheid, geldgierigheid, magsbeheptheid

6

Bejaardheid

Woede, vermetelheid

7

Hoogbejaardheid

Woede, vermetelheid

 

Ons sien hier bo dat Filoksenos byna ’n chiastiese struktuur toepas op hoe hy die fases van die lewe verstaan. Die ondeugde van (hoog-)bejaardheid stem deels ooreen met dié van die kinderjare. Dit is waarskynlik so omdat mense in die antieke tydperk geglo het dat bejaardheid ’n tweede kindsheid voorstel, veral weens die behoefte aan sorg en die gevaar van seniliteit (Parkin 2004:83; De Wet 2016:498). Ons sien reeds bepaalde ooreenkomste tussen Chrusostomos en Filoksenos in hierdie verband. Dit is nodig om daarop te wys dat hierdie twee skrywers nie glo dat hierdie die enigste ondeugde is van die bepaalde lewensfases nie – in elke lewensfase kan min of meer elke ondeug voorkom (behalwe dat kinders nog nie werklik wellus kon beleef nie, het hulle geglo; hulle het ook geglo bejaardes moes eintlik ook nie wellus beleef nie, maar erken dat wellus steeds ’n probleem vir bejaardes kan wees). Die ondeugde wat hier bo gelys word, is die kenmerkende ondeugde van elke lewensfase. Filoksenos het byvoorbeeld geglo dat elke ouderdomsgroep vraatsug kon beleef (Memrā 12.31 in Kitchen 2013:299), en dat dit verskillende gevolge vir elke ouderdom sou inhou.

Dus sien ons dat antieke denkers die fases van die lewe gekonseptualiseer het op grond van hul beeld van die kosmos, die menslike subjek, en die verloop van die geskiedenis van die mens. Die ontwikkeling van die mens dien daarom as ’n mikrokosmos vir die makrokosmos, wat die skepping en aardgeskiedenis is. Vir sommige Christelike skrywers was die lewensfases van die mens analogies gekonstrueer teenoor die Bybelse heilsgeskiedenis – dit wil sê dat ’n skrywer soos Augustinus die ontwikkeling van die mens en die verloop van die lewe in teologiese terme konseptualiseer. Ander, soos Chrusostomos en Filoksenos, verkies om te fokus op etiese verbande met elke ouderdomsgroep. Nietemin, die feit dat sommige vroeg-Christelike skrywers hul ouderdomstrukture volgens teologiese en veral etiese beginsels struktureer, bevestig die geldigheid van ’n ondersoek na die verband tussen bejaardheid en asketisme, aangesien asketisme beskryf kan word as die praktyk van deugsaamheid (Pinsent 1995:211–4). Chrusostomos en Filoksenos klassifiseer die verskillende lewensfases op grond van wat ons ’n “asketiese patologie” kan noem.

Verder is dit ook duidelik dat die meerderheid van die antieke strukture en klassifikasies van die lewensfases van die mens bejaardheid min of meer rondom die leeftyd van 60 jaar plaas. Alhoewel daar afwykings van hierdie bepaling mag wees, is dit tog nuttig om dan af te lei dat ons die antieke konsep van bejaardheid rondom die ouderdom van 60 jaar kan situeer. Dit is ook die uitgangspunt wat Parkin (2004:18) volg.

Dit is ook belangrik vir die huidige studie om bejaardheid vanuit die antieke mediese perspektief te beskou aangesien asketiese tekste hulle veral op antieke mediese kennis beroep (Mayer 2015:337–51). Antieke dokters uit die tyd van Hippokrates (en die vroeg-Hippokratiese korpus) het geglo dat die mens se liggaam uit vier kernvloeistowwe of humores (die Latynse woord humor beteken “vloeistof”) bestaan, naamlik bloed, slym, geel gal en swart gal. Elkeen van hierdie humores het ooreengestem met ’n bepaalde element (en uiteindelik ook die vier menslike temperamente, naamlik sanguinies, flegmaties, koleries, en melankolies) (Siegel 1968). Die onderstaande figuur toon die dinamiek van humorverwante denke:

Figuur 1. Antieke humorisme: die dinamiek tussen die humores en die elemente, sowel as hul gesamentlike eienskappe (Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Humorism; Afrikaanse weergawe deur Chris L. de Wet 2018)

Die balans van hierdie vloeistowwe was baie belangrik vir algemene gesondheid, só het die bekende Grieks-Romeinse dokter Galenos van Pergamum geglo. Wanneer daar te veel van die een of ander vloeistof was, het dit tot ongesteldheid gelei. Galenos was besonder invloedryk in die ontwikkeling van vroeg-Christelike mediese denke, veral in die laat-antieke Ooste waar Chrusostomos en Filoksenos gewoon het (Ferngren 2016:105–6). Galenos het geglo dat jou lewenstyl, veral aspekte soos dieet, slaapgewoontes, liggaamlike oefening, badgewoontes en die klimaat, die balans van jou liggaam se humores kan beïnvloed. Voedsel het ’n bepalende rol gespeel. Sekere kosse het verhittende of verkoelende eienskappe gehad (sien oor die algemeen Grant 2002; Shaw 1998). Daar is ook geglo dat elke lewensfase deur die voorkoms van bepaalde humores gekenmerk word, soos die onderstaande tabel aantoon:5

Tabel 4. Lewensfases en voorkoms van humores in die laat-antieke Ooste

Humor

Seisoen

Lewensfase

Element

Orgaan

Eienskappe

Temperament

Bloed

Lente

Kinderjare

Lug

Lewer

Nat en warm

Sanguinies

Geel gal

Somer

Jeug

Vuur

Milt

Warm en droog

Koleries

Swart gal

Herfs

Volwassenheid

Aarde

Galblaas

Droog en koud

Melankolies

Slym

Winter

Bejaardheid

Water

Brein/

longe

Koud en nat/droog6

Flegmaties

 

Humorisme veronderstel dus ook ’n viervoudige ouderdomstruktuur, wat gepaard gaan met vier seisoene, elemente, organe (wat die vloeistof produseer en/of reguleer), eienskappe en temperamentele eienskappe. Dit is dus ’n holistiese benadering tot die mens in terme van sy of haar liggaam, psige en ook die omgewing. Bejaardheid, as die winter van ’n mens se lewe, word dan hoofsaaklik gekenmerk deur ’n koue en nat ingesteldheid. Hier moet ons wel verstaan dat Galenos, in teenstelling met sommiges in die Hippokratiese korpus, geglo het dat bejaardheid eintlik ’n koue en ’n droë ingesteldheid is, en dat die blykbare nattigheid – die oormaat van slym in die oudag – ’n teken is van ’n liggaam wat lek (De sanitate tuenda 5.8 in Green 1951:213–5; sien ook Parkin 2004:251, 420; De Wet 2016:497–498). Die oormaat van slym was juis die oorsaak van siekte (en nie die gevolg, soos ons vandag glo nie). Koue en droogheid is dus die kenmerk van bejaardheid vir Galenos. Die brein en longe was gekoppel aan bejaardheid, veral weens die probleme van kardiovaskulêre siekte en geestesongesteldheid. Koudheid en droogheid was ook kenmerkend van ’n lyk – die stadige verkoeling en uitdroging van die liggaam soos ’n mens ouer word is ook aanduidend van die dood wat naderkom. Dus het Galenos sy bejaarde pasiënte aanbeveel om kosse te eet wat verhittende eienskappe het, genoeg warm baddens te neem, en in ’n warm klimaat te woon (maar een wat nie te droog is nie). Die Nuwe Testament, byvoorbeeld in 1 Timoteus 5:23, beveel ook ’n bietjie wyn aan vir gesondheidsdoeleindes. Maar Titus 2:3 waarsku ook bejaardes (spesifiek bejaarde vroue) teen die gevare van drankverslawing. Chrusostomos het Galenos (en die Nuwe Testament) in hierdie raad gevolg en bejaardes (en veral vroue, omdat daar geglo is die vrou se liggaam is kouer as dié van die man) toegelaat om ’n bietjie wyn te drink (Homiliae in epistulam ad Titum 4.1). Chrusostomos was wel van mening dat jongmense, veral jong mans, weg moes bly van wyn, aangesien wyn die liggaam verhit (en dronk gemaak) het en wellus kon laat ontvlam.

Aangesien die belangrikste en algemeenste aspekte van bejaardheid in die antieke Mediterreense wêreld nou uitgelig is, kan die verbande tussen bejaardheid en asketisme in Chrusostomos en Filoksenos van nader bestudeer word.

 

3. Die verband tussen bejaardheid en asketisme volgens Johannes Chrusostomos

Chrusostomos het, soos baie ander vroeg-Christelike skrywers, geglo dat die verskynsel van bejaardheid (to gêras in Grieks) en dood die gevolg van die sonde is (Gnilka 1983:995–1094; Minois 1989:118–20). As daar nie sonde was nie, sou die mens nooit oud geword en gesterf het nie. Chrusostomos het interessant genoeg geglo dat sonde die siel verouder (Homiliae in epistulam ad Corinthios 1; Quod nemo laeditur nisi a se ipso 8). Maar bejaardheid self is nie beskou as ’n sondige toestand nie. In beginsel glo Chrusostomos dat die proses van oud word tot selfbeheersing en dissipline (sôfrosunê) behoort te lei. Dit is as gevolg van die natuurlike proses van oud word – wat verkoeling en verdroging inhou – wat die prosesse van wellus – wat verhitting en benatting impliseer – teëwerk. Chrusostomos het dus geglo dat die proses van oud word verkoeling en uitdroging impliseer (Homiliae in epistulam ad Titum 4.1). In Homiliae in epistulam ad Hebraeos 7.3 (bronteks in Field 1862:7:95) sê Chrusostomos die volgende:

Want die siel is versterk in bejaardheid – die siel is dan in sy fleur – dan is hy in sy trots! Want net soos die liggaam, terwyl dit verdruk word met koorse en een siekte na die ander, afgemat word selfs al is dit sterk, sy krag herwin wanneer die siektes verbygaan, so ook is die siel koorsig gedurende ’n mens se jeug, en is bowenal beset deur verwaandheid, en luuksheid, en wellus, en baie ander fantasieë. Maar die aanvang van bejaardheid verdryf al hierdie hartstogte, sommiges deur die verloop van tyd, en ander deur filosofie. Want bejaardheid bedaar die liggaamskragte, en laat nie die siel toe om hulle te gebruik nie, selfs al wil hy, maar dit onderwerp hulle soos ’n skaar van vyande. Bejaardheid plaas die siel in ’n plek wat vry is van kommer en verwerk besondere rustigheid, en voer nog groter godvresendheid in. Want hulle sê as niks anders kan nie, sal hulle wat oud geword het besef dat hulle naderkom aan hul einde, en dat hulle beslis naby aan sterfte is. Daarom wanneer die begeertes van hierdie lewe verdwyn, en die verwagting van die oordeel nader kom, wat die hardkoppigheid van die siel versag, sal só ’n mens, indien hulle gewillig is, nie meer gehoorsaam word nie?

Chrusostomos glo dat die proses van oud word goed is vir die siel, aangesien dit deur natuurlike prosesse die liggaam verswak. Daar is ’n interessante dinamiek tussen die liggaam en siel in die proses van oud word. Die hitte van wellus word beskryf as ’n tipe sielskoors; wellus vernietig die siel. Begeertes word verdryf deur die praktyk van selfbeheersing, wat Chrusostomos as ware filosofie beskou, of bloot net met die verloop van tyd soos ’n mens oud word. Die proses van oud word het ’n estetiese effek op die siel. Dit maak die siel lieflik: “Want dít is die aard van die siel se skoonheid; selfs in bejaardheid het dit baie mense verlief daarop, en dit verwelk nimmermeer, maar blom vir ewig” (Homiliae in epistulam II ad Corinthios 7.7; bronteks in Field 1845:3:98). Goeie bejaardheid is dikwels in hierdie terme gedefinieer (Gnilka 1980:5–21). In retoriek wat grens aan die erotiese, bou Chrusostomos sy argument op die paradoks dat die siel se skoonheid toeneem soos die liggaam verouder. Vrome bejaardheid is ware skoonheid. Alhoewel die liggaam swak is in bejaardheid, het die siel die vermoë om sterk te wees. Verder het die bewuswording van sterflikheid en die nabyheid van die dood, wat dikwels met bejaardheid gepaard gegaan het, volgens Chrusostomos, ook ’n positiewe effek op die siel, aangesien dit wysheid en gehoorsaamheid kweek (sien ook Gnilka 1977:5–38).

Chrusostomos begin dus met ’n baie positiewe evaluasie van bejaardheid, en Minois (1989:125) se siening wanneer hy sê: “John Chrysostom does not appear to like old people” kan nie gestaaf word nie (sien De Wet 2016:493–47 pace Minois 1989:124–6). Chrusostomos se sienswyses oor bejaardheid, en veral die gepaste gedrag vir bejaardes, is belangrik om in ag te neem en te problematiseer. Ten spyte van die algemene sienswyse dat bejaarde persone wys en eerbiedwaardig is, waarsku Chrusostomos dat ’n mens nie wysheid en eerbiedwaardigheid as vanselfsprekend met bejaardheid moet assosieer nie. Chrusostomos sê verder in Homilae in epistulam ad Hebraeos 7.3–4 (bronteks in Field 1862:7:96–7) die volgende:

Want die gryskop is dus eerbiedwaardig wanneer hy of sy so optree. Maar wanneer so iemand handel asof hy of sy ’n opstandige jeugdige is, sal dit nog meer belaglik as die regte jeugdige wees. Hoe sal julle wat bejaarde mans is dan in staat wees om vir ons hierdie vermanings aan die jeug te gee wanneer julle dronk is van jul wanordelike lewenstyl? Ek sê dit nie om die bejaardes te beskuldig nie, maar die jeugdiges. Want na my mening is hulle wat só optree jeugdig, selfs al is hulle ’n honderd jaar oud! Net so ook is die jonges, selfs al is hulle blote klein kindertjies, wanneer hulle met selfbeheersing optree, beter as bejaardes daarsonder. En dit is nie my eie opinie nie, maar die Skrif erken ook hierdie onderskeid. “Want bejaardheid,” sê dit, “is nie geëerd vir die lengte van tyd nie, maar ’n onbevlekte lewe is bejaardheid” [uit die apokriewe Wysheid van Ben Sirag 4:8–9, wat Chrusostomos as kanoniek beskou het]. Want ons respekteer die grys hare, nie omdat ons die wit kleur bo die swart eer nie, maar omdat dit ’n bewys is van ’n deugsame lewe; en wanneer ons hulle sien dan streef ons na innerlike grysheid. Maar wanneer hulle aanhoudend dit wat in teenstelling met die grysheid is, doen, sal hulle dus nog meer belaglik word … Ons voer nie hierdie beskuldigings teen alle bejaarde mense aan nie, ons argument is nie teen bejaardheid as sodanig nie – ek is nie so waansinnig nie! – maar ons is teen ’n opstandige jeugdige siel wat bejaardheid in die skande steek … Want die bejaarde man is ’n koning, as jy wil, en meer koninklik as die keiser wat in pers geklee is, indien hy oor sy drange heers, en hulle in die rang van wagte onderwerp. Maar as hy heen en weer gegooi word en neergewerp word van sy troon, en wanneer hy ’n slaaf van geldgierigheid, verwaandheid, uiterlike optooiing, luuksheid, dronkenskap, woede en wellus word, en sy hare met olie stileer, en ’n ouderdom toon wat hy beledig met sy gedrag, watter straf sou so ’n persoon nie verdien nie.

Ons sien hier dat Chrusostomos bejaardheid beoordeel op grond van die bejaarde se gedrag – bejaardheid is nie in sigself eerbiedwaardig nie. Ons het in die vorige afdeling gesien dat Chrusostomos se verstaan van ouderdomstrukture eties van aard was. Hy glo dus dat elke ouderdomsgroep bepaalde deugde en ondeugde sou hê. Wanneer ongepaste ondeugde in ’n bepaalde ouderdomsgroep voorkom, is dit selfs nog meer skandelik. Volgens Chrusostomos is dit byvoorbeeld verstaanbaar dat bejaarde mense iets soos droefheid en woede ervaar. Maar wanneer bejaarde mense, veral mans, wellus beleef – wat eintlik al lankal dood moes gewees het weens die afkoeling en uitdroog van die liggaam – is dit ’n groot skande. As ’n diskoers van bejaardheid praat Chrusostomos dan ook van “innerlike grysheid”, wat ’n as ’n idioom vir ’n wyse en gedissiplineerde karakter dien. Jongmense kan selfs na innerlike grysheid, oftewel bejaardheid, streef (sien ook Gnilka 1995:175–84).

Chrusostomos gebruik die voorbeeld van Abraham om te illustreer hoe merkwaardig bejaardes vir die geloof en kerk kan wees indien hulle hulle korrek gedra. “Sien julle die lewenskragtige grys hare? Sien julle die edele atleet ’n gevegshouding inneem teenoor die natuur en die hart?” vra Chrusostomos aangaande Abraham (De beato Abraham 1; bronteks in Migne 1862:50:737). Chrusostomos gebruik hoogs manlike taal, naamlik militêre en atletiese retoriek, om sy figuur van Abraham in te kleur. Bejaardes is natuurlik nie altyd beskou as manlik nie, wat Chrusostomos se beeld hier nog meer opspraakwekkend maak (De Wet 2016:497). Dan sê Chrusostomos verder: “Alhoewel die aard van sy vlees swak was, was die aard van sy geloof nog meer gespierd – want dit is juis die aard van die prestasies van die kerk aangesien die swakheid van die liggaam nie die gretigheid van die geloof wegvee nie” (De beato Abraham 1; bronteks in Migne 1862:50:737).

Chrusostomos se evaluasie van bejaardheid is dus positief, op voorwaarde dat die bejaardes hulle gedra soos daar van hulle verwag word – met wysheid en eerbied. Die liggaamlike uitwerking van oud word het dus, volgens Chrusostomos, ’n morele effek op die mens. Veroudering, wat afkoeling en uitdroging veronderstel, spreek ook van ’n afname van wellus en die kweek van dissipline.

Wat interessant is in hierdie opsig, is dat Chrusostomos sy verstaan van asketisme ook op die prosesse van afkoeling en uitdroging bou. Sowel Rousselle (1996:160–71) as Shaw (1998:131–8) het aangetoon dat Chrusostomos, soos baie ander vroeg-Christelike skrywers, asketisme as ’n kombinasie van afkoelende en uitdrogende prosesse gesien het. Die kosse wat Chrusostomos mense aanbeveel om te eet, is kosse wat hierdie selfde eienskappe bevat (Homiliae in II epistulam ad Corinthios 19.3). Asketisme het ook geïmpliseer dat ’n mens min moet slaap, skryf Chrusostomos (In Acta Apostolorum 26.3). Slaap het, volgens Galenos (Johnston 2006:234), die liggaam benat. Asketiese slapeloosheid droog die liggaam uit. Dieselfde geld vir bad – Chrusostomos is baie gekant teen mense wat aanhoudend bad (In Joannem 18.4), aangesien dit ’n luuksheid is wat die liggaam warm en nat maak (en ook die gevaar van wellus inhou as gevolg van naaktheid).

Chrusostomos glo dus dat om oud te word en asketisme te beoefen, gelyklopende en soortgelyke prosesse is. Om oud te word kan gesien word as die natuur of God se eie asketisme, aangesien dit dieselfde doel as asketisme het. Beide asketisme en om oud te word verwek wysheid en veral dissipline, omrede dit die kragte van die liggaam verswak en wellus uitblus. Die praktyk van asketisme, aan die ander kant, kan in hierdie perspektief gesien word as praktyke wat die liggaam voor sy tyd verouder. Bejaardheid word by Chrusostomos daarom meer as net ’n liggaamstoestand. Dit word ’n asketiese karaktereienskap waarna selfs jongelinge moet streef.

 

4. Die verband tussen bejaardheid en asketisme volgens Filoksenos van Mabboeg

Wanneer ons na Filoksenos se sienswyses oor die verband tussen asketisme en bejaardheid (saybutha in Siries) kyk, sien ons ’n aantal ooreenkomste met Chrusostomos se sienings, maar ook ’n paar belangrike verskille. Soos hier bo aangetoon is, het Filoksenos ook sy ouderdomstruktuur op grond van ’n etiese raamwerk gestruktureer. Elke leeftydsgroep het sy eie ondeugde wat bestry moet word. Net soos Chrusostomos, glo ook Filoksenos dat wellus teen die tyd van bejaardheid afgekoel behoort te wees. Filoksenos (Memrâ 13.38; bronteks in Budge 1893:583) skryf:

Die vuur van wellus wat die Skepper in die liggaam se natuur geplaas het, sodat die mens sou vermenigvuldig, bedaar teen die einde van ’n persoon se lewe gedurende bejaardheid, omdat hy nie vir sy hele lewe lank voortplant nie. Want hy is nie in sy kinderjare of in bejaardheid daartoe in staat om voort te plant nie.

Filoksenos glo dus, bloot vanuit ’n natuurlike en biologiese oogpunt, dat bejaardheid en seksuele gemeenskap mekaar moet uitsluit. Hy praat juis van die “vuur” van wellus, wat ’n verwysing is na die hitte van die bloed in die jonger liggaam. Maar hy besef ook dat wellustige gedagtes steeds ’n probleem is, selfs al is die liggaam natuurlik afgekoel en uitgedroog. Filoksenos skryf verder (Memrâ 13.37; bronteks in Budge 1893:582): “Of jy nou wil of nie, in die tyd van jou oudag sal jy jouself leeg bevind en sal jy as gevolg van die swakheid van jou liggaam nie in staat wees om jou drange te bevredig nie, nie omdat jy wellus uitgeblus het nie, maar omdat wellus homself op jou uitblus.”

Die bogenoemde tekste is sonder twyfel ’n verwysing na die afkoeling en uitdroging wat kenmerkend is van die proses van oud word. Ons sien dat Filoksenos veral besorg is oor die probleem van losbandige gedagtes in ’n mens se oudag. Ons moet hier onthou dat Filoksenos skryf vir manlike monnike wat binne ’n klooster woon (Kitchen 2013:209–10). Alhoewel sulke mans nie fisiek toegang sou hê tot vroue nie, kon hulle steeds oor losbandige dade gefantaseer het. Die oogmerk van beheer oor ’n mens se denke is baie algemeen in die vroeg-Christelike asketiese literatuur.

Hoe word hierdie probleem van losbandige denke in die monnik se oudag bekamp? Soos Chrusostomos glo ook Filoksenos dat die praktyk van asketisme en geestelike dissipline in ’n mens se jeug ’n goeie en eerbare oudag tot gevolg sal hê. Hy skryf ook ’n persoonlike roetine voor wat die liggaam sal afkoel en uitdroog. Ryk en soet kosse en wyn moet te alle tye vermy word (Kitchen 2010:49–63). Selfs te veel water kan ’n probleem wees (sien Filoksenos, Memrâ 10, wat handel oor brassery).

Tot op hierdie punt is daar nie werklik veel verskille tussen die benaderings van Chrusostomos en Filoksenos nie. Ons vind wel ’n baie interessante idee by Filoksenos oor bejaardheid wat ons nie by Chrusostomos aantref nie. Filoksenos glo dat ’n mens in staat is om deur die siel die hitte van jou jeug op te berg vir ’n mens se oudag. Hy verduidelik dit as volg (Memrâ 11.55; bronteks in Budge 1893:467):

Daarom, ontneem van jou liggaam en gee vir jou siel, en moenie van jou siel ontneem en vir die liggaam gee nie … Hierdie hoop is aan jou geskenk: jou liggaam sal tydens die opstanding volgens die vlak van jou siel verhef word. Moenie dat jou siel daal tot op die dooie toestand van jou liggaam en sy verganklikheid nie.

Filoksenos glo dus dat ’n mens, deur middel van asketisme en via die bemiddeling van die siel jou opstandingsliggaam stelselmatig opbou. Die siel dien as ’n simulacrum vir die opstandingsliggaam. Hy glo dus in beginsel dat daar oordrag kan en móét plaasvind tussen liggaam en siel. Wanneer Filoksenos hierop uitbrei, sien ons dat die oordrag van die element van hitte baie noodsaaklik is. Hy stel dit as volg (Memrâ 13.27; bronteks in Budge 1893:579–580):

Indien jy begeer dat die hitte van jou jeugjare beskikbaar sal wees in jou oudag, werk met al jou krag in die tyd van jou jeug en vertrou hierdie hitte toe aan die hande van jou siel. Want die siel word nie oud saam met die liggaam nie. Wanneer jou liggaam in sy bejaardheid swak is, sal jy dié hitte uit die skatkamer van jou siel voortbring en jouself in jou oudag verkwik met hierdie belegging wat jy aan jou siel toevertrou het … Wanneer die begeerte van die siel teen die vlees se begeerte veg, koel dit nie net die hitte van die vlees af nie, maar die siel se begeerte laat die hitte van die vlees tot die siel self terugkeer sodat die vlees ’n slaaf van die wil van die siel mag word.

Filoksenos glo dat die hitte van adolessensie oorgedra en herskep kan word tot ’n geestelike hitte, wat dan binne die siel gedeponeer moet word, nie slegs vir die tyd van die opstanding nie, maar selfs vir gebruik gedurende ’n mens se bejaardheid. Deur die liggaam af te koel word die siel verhit. Filoksenos het baie invloed ondergaan van die teologie van Evagrius van Pontus, en in hierdie verband sien ons Evagrius se invloed duidelik. Evagrius het ook geglo dat asketisme die siel verhit het: “Nadat hy sy vullis na die kampioen van asketisme gegooi het, spring die demoon van wellus vinnig weg van die vurige fakkel van sy asketiese arbeid, juis omdat die demoon nie die hitte kan vat nie” (Eulogios 21.22; in Sinkewicz 2006:48).

Hitte was belangrik vir ’n bejaarde monnik. Hitte was nie net nodig om demone weg te jaag nie; dit het ook gelei tot geestelike vrugbaarheid, volgens Filoksenos (Memrâ 13.27; bronteks in Budge 1893:574): “Wanneer natuurlike begeerte saam met die liggaam se hitte verdwyn het, sal die Gees se begeerte in jou bly, wat te alle tye gedeel word en wat baie geestelike kinders verwek.”

Soos Chrusostomos glo ook Filoksenos dat jongmense die karakter van hierdie tipe bejaardheid moet nastreef: “Moenie wag vir wellus om self af te koel en stadig maar seker natuurlik te verdwyn nie, want dan is daar geen genade in jou nie” (Memrâ 13.23; bronteks in Budge 1893:568). Om wellus te oorwin deur die natuurlike proses van oud word is nie vir Filoksenos ’n prestasie nie. Die rede hiervoor is dat selfs al is die liggaam koud en droog, is die wysheid van God nie in so ’n mens teenwoordig nie, en so ’n persoon sal nie noodwendig geestelike hitte hê nie. Vir Filoksenos is die hitte van begeerte nie in sigself boos nie, maar dit moet gerig wees op die monnik se hemelse Minnaar. So funksioneer bejaardheid in Filoksenos as ’n diskoers wat bo fisieke ouderdom uitstyg, en in die gebied van die morele en psigiese neerslag vind.

 

5. Slot

Die doel van hierdie artikel was om die verband tussen bejaardheid en asketisme in die werk van Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg van nader te beskou en te vergelyk. Daar is bevind dat beide Chrusostomos en Filoksenos ’n ouderdomstruktuur uitwerk wat gebaseer is op ’n etiese raamwerk van deugde en ondeugde wat met elke ouderdomsgroep geassosieer word. Hierdie etiese benadering tot bejaardheid het juis die oogmerk om sterk verbande tussen bejaardheid en asketisme te konstrueer. Sowel Chrusostomos as Filoksenos maak gebruik van die mediese denkraamwerke van die dag om sin te maak van die natuurlike proses van veroudering. Hulle volg Galenos deur bejaardheid met afkoeling en uitdroging te koppel. Maar Chrusostomos en Filoksenos besef dat asketiese praktyke ook die liggaam afkoel en uitdroog, en dit is die belangrikste verband wat hulle albei tussen bejaardheid en asketisme trek. Hierdie verband tussen asketisme en bejaardheid word ook verder beïnvloed deur die noue verband tussen asketisme en die dood. Die praktyk van asketisme is ook die praktyk van selfverloëning, om die self af te sterf en dood te wees vir sonde en drange. ’n Lyk is ook koud en droog, en bejaardheid word ook gesien as teken van die nadering van die aardse dood.

Asketisme kan dus in hierdie skrywers se siening benader word as die vroeë en opsetlike veroudering van die liggaam voor sy tyd om die karaktereienskap van bejaardheid, wat sinoniem met wysheid en dissipline is, te kweek. Bejaardheid word nou ’n karaktereienskap waarna die jeug moet streef. Bejaardheid is ook vir beide skrywers nie van waarde in sigself nie – dit moet gepaard gaan met die korrekte gedrag. Wysheid en dissipline word nie as vanselfsprekend aanvaar by bejaardes nie. ’n Waarborg vir ’n goeie oudag is ’n jeug wat in gematigdheid en met geestelike dissipline geleef word.

Maar Filoksenos gaan ’n stap verder as Chrusostomos deur sy gehoor van monnike aan te moedig om die hitte van hul jeug vir hul oudag te stoor. Dit is ’n unieke en belangrike bevinding in hierdie studie van bejaardheid in die vroeë Christendom. Vir Filoksenos is die uitdaging van bejaardheid juis die koue wat op die individu toesak. ’n Monnik het hitte nodig om sy liefde vir God aan te vuur en om demone te verdryf. Bejaardheid op sy eie beteken nie veel vir die monnik nie, aangesien enige mens, volgens Filoksenos, steeds losbandige denke kan hê. Hierdie verskil tussen Filoksenos en Chrusostomos kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat hulle aan verskillende soorte gehore geskryf het. Filoksenos skryf gespesialiseerde asketiese riglyne vir monnike in ’n klooster – hy het die luuksheid om tegnies te skryf. Chrusostomos het nie hierdie luuksheid nie. Hy skryf aan (of eerder: preek vir) ’n gehoor van gewone stadsbewoners (met dalk ’n monnik of twee in die gehoor) en moet dus sy raad aanpas vir ’n meer ongeskoolde gehoor.

Ter afsluiting: Hierdie artikel het aangetoon dat die vroeë Christene belangrike verbande getrek het tussen asketisme en bejaardheid. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat ’n navorser nie hierdie twee temas in die konteks van die vroeë Christendom afsonderlik sal kan verstaan nie, maar slegs in samehang met mekaar.

 

Bibliografie

Barclay, J.M.G. 2007. There is neither old nor young? Early Christianity and ancient ideologies of age. New Testament Studies, 53(2):225–41.

Budge, E.A.W. 1893. The discourses of Philoxenus, bishop of Mabbôgh, A.D. 485–519, volume 1: The Syriac text. Londen: Asher & Co.

Campbell, R.A. 1994. The elders: Seniority within earliest Christianity. Edinburgh: T & T Clark.

Cokayne, K. 2003. Experiencing old age in ancient Rome. Londen: Routledge.

De Beauvoir, S. 1972. Old age. Londen: André Deutsch; Weidenfeld en Nicolson.

De Wet, C.L. 2016. Grumpy old men? Gender, gerontology, and the geriatrics of soul in John Chrysostom. Journal of Early Christian Studies, 24(4):491–521.

Dummer, J. en M. Vielberg (reds.). 2005. Zwischen Historiographie und Hagiographie: Ausgewählte Beiträge zur Erforschung der Spätantike. Altertumswissenschaftliches Kolloquium. Wiesbaden: Franz Steiner.

Eyben, E. 1989. Old age in Greco-Roman antiquity and early Christianity: An annotated select bibliography. In Falkner en De Luce (reds.) 1989.

Falkner, T.M. 1995. The poetics of old age in Greek epic, lyric, and tragedy. Norman, OK: University of Oklahoma Press.

Falkner, T.M. en J. de Luce (reds.). 1989. Old age in Greek and Latin literature. Albany, NY: SUNY Press.

Ferngren, G.B. 2016. Medicine and health care in early Christianity. Baltimore, MD: Johns Hopkins University Press.

Gnilka, C. 1972. Aetas spiritualis: Die Überwindung der natürlichen Altersstufen als Ideal frühchristlichen Lebens. Bonn: Hanstein.

—. 1977. Neues Alter, neues Leben: Eine antike Weisheit und ihre christliche Nutzung. Jahrbuch für Antike und Christentum, 20:5–38.

—. 1980. Kαλόγηρος: Die Idee des “guten Alters” bei den Christen. Jahrbuch für Antike und Christentum, 23:5–21.

—. 1983. Greisenalter. Reallexikon für Antike und Christentum, 12:995–1094.

—. 1995. Das puer senex-Ideal und die Kirchenbauten zu Nola. Boreas, 18:175–84.

—. 2005. Das “gute Alter”: Ein Leitbild des frühen Christentums. In Dummer en Vielberg (reds.) 2005.

Grant, M. 2002. Galen on food and diet. Londen: Routledge.

Green, B.S.R. 1993. Gerontology and the construction of old age: A study in discourse analysis. New York: Aldine De Gruyter.

Green, R.M. (red. en vert.). 1951. A translation of Galen’s Hygiene (De sanitate tuenda). Springfield, IL: Charles C. Thomas.

Grubbs, J.E. en T. Parkin (reds.). 2013. The Oxford handbook of childhood and education in the Classical world. Oxford: Oxford University Press.

Guthrie, K.S. (red.). 1988. The Pythagorean sourcebook and library: An anthology of ancient writings which relate to Pythagoras and Pythagorean philosophy. Grand Rapids, MI: Phanes.

Harris, R. 2003. Gender and aging in Mesopotamia: The Gilgamesh epic and other ancient literature. Norman, OK: University of Oklahoma Press.

Hauerwas, S., C.B. Stoneking, K.G. Meador en D. Cloutier (reds.). 2003. Growing old in Christ. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Holman, S.R. (red.). 2008. Wealth and poverty in early church and society. Grand Rapids, MI: Baker Academic.

Humorism. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Humorism (11 Julie 2018 geraadpleeg).

Johnson, I. (red. en vert.). 2006. Galen: On diseases and symptoms. Cambridge: Cambridge University Press.

Johnson, P. en P. Thane (reds.). 1998. Old age from antiquity to post-modernity. Londen: Routledge.

Katz, S. 1996. Disciplining old age: The formation of gerontological knowledge. Charlottesville, VA: University of Virginia Press.

Kitchen, R.A. 2010. The lust of the belly is the beginning of all sin: A practical theology of asceticism in the Discourses of Philoxenos of Mabbug. Hugoye: Journal of Syriac Studies, 13(1):49–63.

Kitchen, R.A. (red. en vert.). 2013. The discourses of Philoxenos of Mabbug: A new translation and introduction. Collegeville, MN: Liturgical Press.

Kohut, G.A. 1906. The seven ages of man in Jewish literature. Jewish Encyclopedia Online. http://www.jewishencyclopedia.com/articles/895-ages-of-man-in-jewish-literature-the-seven (24 Julie geraadpleeg).

Laes, C. 2011. Children in the Roman Empire: Outsiders within. Cambridge: Cambridge University Press.

Lamirande, E. 1982. Les âges de l’homme d’après Saint Ambroise de Milan. Cahiers des études anciennes, 14:227–33.

Lampe, P. 2016. Social welfare in the Greco-Roman world as a background for early Christian practice. Acta Theologica Supplementum, 36(S23):1–25.

Leão, D.F. 2011. Paidotrophia et gerotrophia dans les lois de Solon. Revue historique de droit français et étranger, 89(4):457–72.

Löw, L. 1875. Die Lebensalter in der jüdischen Literatur: Von physiologischem, rechts-, sitten- u. religionsgeschichtlichem Standpunkte betrachtet. Szegedin: S. Burger.

Mayer, W. 2015. The persistence in late antiquity of medico-philosophical psychic therapy. Journal of Late Antiquity, 8(2):337–51.

Minois, G. 1989. History of old age: from antiquity to the Renaissance. Cambridge: Polity.

Mosher, D.A. (vert.). 2002. St. Augustine: Eighty-three different questions. Washington, D.C.: The Catholic University of America Press.

Parkin, T.G. 2004. Old age in the Roman world: A cultural and social history. Baltimore, MD: Johns Hopkins University Press.

Pinsent, J. 1995. Ascetic moods in Greek and Latin literature. In Wimbush en Valantasis (reds.) 1995.

Richardson, B.E. 1969. Old age among the ancient Greeks: The Greek portrayal of old age in literature, art, and inscriptions, with a study of the duration of life among the ancient Greeks on the basis of inscriptional evidence. New York: Greenwood.

Rousselle, A. 1996. Porneia: On desire and the body in antiquity. New York: Barnes & Noble.

Schaff, P. (red.). 1886–1900. A select library of Nicene and post-Nicene fathers. Buffalo, NY: Christian Literature Publishing Co. http://www.newadvent.org/fathers (2 Augustus 2018 geraadpleeg).

Scheidel, W. 2001. Roman age structure: Evidence and models. Journal of Roman Studies, 91:1–26.

Shaw, T.M. 1998. The burden of the flesh: Fasting and sexuality in early Christianity. Minneapolis, MN: Fortress.

Siegel, R.E. 1968. Galen’s system of physiology and medicine: An analysis of his doctrines and observations on blood flow, respiration, humors and internal diseases. Basel: Karger.

Sinkewicz, R.E. (red. en vert.). 2006. Evagrius of Pontus: The Greek ascetic corpus. Oxford: Oxford University Press.

Stol, M. en S.P. Vleeming (reds.). 1998. The care of the elderly in the Ancient Near East. Leiden: Brill.

Stoneking, C.B. 2003. Modernity: The social construction of aging. In Hauerwas e.a. (reds.) 2003.

Vuolanto, V., R. Aasgaard, C. Christensen, C. Krohn, en C. Roll. 2015. Children in the Ancient World and the Early Middle Ages. A bibliography (Eight [sic] century BC – Eight [sic] century AD). https://www.hf.uio.no/ifikk/forskning/prosjekter/barndom/biblio-2016.pdf (1 Julie 2018 geraadpleeg).

Walsh, E.M. 2008. Wealthy and impoverished widows in the writings of St. John Chrysostom. In Holman (red.) 2008.

Watts, E.J. 2015. The final pagan generation. Oakland, CA: University of California Press.

Wimbush, V.L. en R. Valantasis (reds.). 1995. Asceticism. Oxford: Oxford University Press.

 

Eindnotas

1 Aangesien dit lank gelede opgestel is, is die kort bibliografiese uiteensetting van Emile Eyben in 1989 oor studies oor bejaardheid in die Grieks-Romeinse wêreld en die vroeë Christendom nie naastenby so breedvoerig soos dié van Vuolanto e.a. (2015) nie.

2 Gêrotrofia, oftewel “die sorg vir bejaardes” is saam met paidotrofia (“kindersorg”) een van die vroegste wette wat deur Solon in antieke Griekeland ingestel is; sien (Leão 2011:457–72).

3 Vir ’n goeie oorsig oor die kwessie van ouderlinge in die Nuwe Testament, sien Campbell 1994; Barclay 2007.

4 Alle Afrikaanse vertalings van Chrusostomos (uit Grieks) en Filoksenos (uit Siries) se werke is my eie. Engelse vertalings van die meeste van Chrusostomos se werke in die NPNF (Schaff 1886–1900) is aanlyn beskikbaar by www.newadvent.org/fathers. Die Griekse bronteksverwysings vir Chrusostomos se direkte aanhalings word aangedui. ’n Engelse vertaling van Filoksenos se Memrê of Diskoerse is te vinde in Kitchen (red. en vert.) (2013), en die Siriese bronteks in Budge (1893).

5 Sien ook https://en.wikipedia.org/wiki/Humorism.

6 Party skrywers, soos Galenos, het egter gevoel dat om oud te word eerder verkoeling en verdroging impliseer. Dit was ook die sienswyse in die vroeë Christendom.

7 Die fokus van De Wet (2016:491–521) is op bejaardheid en die ontwikkeling en probleme van manlikheid in Chrusostomos se denke.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Bejaardheid en asketisme in die vroeë Christendom: ’n Vergelyking tussen die sienswyses van Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg appeared first on LitNet.


Old age and asceticism in early Christianity: A comparison between the views of John Chrysostom and Philoxenus of Mabbug

$
0
0

Abstract

The purpose of this article is to investigate the relationship between old age and asceticism in early Christianity by specifically comparing the views of John Chrysostom (349–407 C.E.) and Philoxenus of Mabbug (ca.440–523 C.E.). The study starts with an overview of the relevant literature published on the topic. Thereafter the notion of old age is contextualised within the ancient Mediterranean world, with attention given to sociocultural and medical perspectives and age structures. This then serves as a trajectory for the comparative analysis of Chrysostom’s and Philoxenus’s views respectively.

In the past two decades there has been an upsurge of studies on children, childhood and education in the ancient world. For example, in 2013 The Oxford handbook of childhood and education in the Classical world (Grubbs and Parkin eds) was released, which represents a thorough and expansive analysis of the topic in classical antiquity. One of the leading experts in the field of children and childhood in antiquity, Ville Vuolanto, together with several collaborators, has compiled an online bibliography of works related to the study of children in antiquity. In the fourth edition of the bibliography (2008) there appear 1 140 entries, in the fifth (2010) there are 1 573, and in the sixth (2014) there are 1 771. The latest (2015) version boasts 2 067 entries, which would have increased in the meantime. And while the growth in this field is welcome and encouraging, the field of studies related to old age in antiquity remains scant.

It is unfortunate that elderly persons experience marginalisation even in the process of historiography, a criticism that Simone de Beauvoir (1972:134) voiced more than four decades ago. We have a handful of sources on old age and the elderly (and especially the care of the elderly) in the ancient Near East and ancient Greece. There are two important studies of which to take note for the Roman period. The first is the excellent monograph of Tim Parkin, Old age in the Roman world (2004), in which he analyses all sociocultural aspects of old age and aging in the Roman world. The second is the work of Karen Cokayne, Experiencing old age in ancient Rome (2003), which especially covers social and psychological aspects of aging in the Roman world. These two monographs, however, rarely if ever refer to early Christianity. Edward Watts (2015:191–211) also discusses the experience of elite elderly persons, like Libanius and Themistius, in the later Roman Empire.

The work of Christian Gnilka is fundamental for approaching a study on old age in early Christianity. He is especially interested in the care of the elderly in the early church, and the role of aged persons in the church more generally (see Gnilka 1972; 1977; 1980; 1983; 1995; 2005). After Gnilka’s 1972 monograph, Aetas spiritualis: Die Überwindung der natürlichen Altersstufen als Ideal frühchristlichen Lebens, we do not find any other monograph published on the topic. Georges Minois’s History of old age: from Antiquity to the Renaissance (1989) does cover early Christian views, but as this article will show, his conclusions are at times problematic. The article goes on to discuss some other studies on the topic of old age and aging.

Thus, old age in this article is approached as a discourse, known as gerontology, which is a way of speaking about both the individual and social body. Old age is a complex phenomenon that cannot be limited to one fixed locus, but finds expression in manifold social, cultural, religious and political formations. Old age and aging are therefore phenomena that are socially constructed.

When looking at old age as a social and cultural phenomenon in the ancient Mediterranean world, we also find that it differs quite substantially from modern concepts of old age and aging. Aging is not necessarily based on the number of years an individual has lived, or whether they have retired from an occupation. Retirement in antiquity differed fundamentally from how we understand retirement today. The status and experiences of non-elite persons in the ancient world are even more ambiguous. There are also important intersections between old age and gender, as De Wet (2016:491–521) has shown.

The article also provides an overview of ancient medical approaches to aging, and especially highlights old age as a period characterised in humoral medicine by an excess of phlegm, and the characteristics of coolness and dryness.

The popularity of the ancient age structure (or the so-called “ages of man” scheme, or in Latin, gradus aetatum) is quite interesting. These structures tell us that persons in ancient times often attempted to give meaning to their experience of aging by seeking other parallel structures. The article gives a brief summary of a few such structures. For instance, Solon and some in the Hippocratic corpus provide us with an age structure consisting of ten separate divisions of seven years each. Age structures consisting of seven ages were equally popular, especially among early Christian and Jewish writers. Augustine, for instance, provides a six-plus-one age structure in which each age corresponds theologically to a certain period in biblical salvation history. The final age, the seventh, is eternal life. The Pythagoreans, on the other hand, followed a scheme of four ages. Both of the writers examined in this article, Chrysostom and Philoxenus, structured each age group ethically, attributing a characteristic vice or virtue to the corresponding age group. This way of approaching human development and aging, from an ethical perspective, enables these authors to draw close links between aging, old age, and asceticism.

When the views of Chrysostom and Philoxenus on old age and asceticism are compared, several similarities and differences are evident. Both authors understand old age as a process of cooling and drying, as Galen has suggested, and then understand this as a correlate for asceticism, which also entails adopting practices that serve to cool and dry the body – to mortify it, so to speak. Old age is supposed to cultivate wisdom and discipline, but this is not a given. Both authors are very concerned about a person’s behaviour in old age. Philoxenus goes somewhat further than Chrysostom by suggesting that one can transfer the heat of adolescence to one’s old age by depositing it, so to speak, in the soul.

Keywords: age; aging; asceticism; early Christianity; gerontology; John Chrysostom; old age; Patristics; Philoxenus of Mabbug

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Bejaardheid en asketisme in die vroeë Christendom: ’n Vergelyking tussen die sienswyses van Johannes Chrusostomos en Filoksenos van Mabboeg

The post Old age and asceticism in early Christianity: A comparison between the views of John Chrysostom and Philoxenus of Mabbug appeared first on LitNet.

Kavanaugh, vroueregte en die toekoms van protes

$
0
0

Erkenning: http://the-handmaids-tale.wikia.com/wiki/Faithful

Die beeld van Christine Blasey Ford, oë toe, regterhand in die lug om die eed te neem, is vir 2018-feministe wat Rosie the Riveter vir vroue gedurende die Tweede Wereldoorlog was.

Dit was toe oorlog. Dis nou oorlog. Die verskil is, hierdie slag weet vroue dat hulle nie net ’n ondersteunende rol in die oorlogvoering speel nie. Hulle is die onderwerp daarvan. Hulle is die vyand wat ten alle koste op die knieë gebring moet word.

Maak nie saak of Ford die slagoffer was nie, sy is die een wat haar huis moes verlaat en nog steeds met gewapende wagte moet rondgaan. Haar en haar gesin se lewe is omgekeer. Anita Hill moes dieselfde deurmaak in die vroeë 1990’s. Khwezi moes die land verlaat om veilig te wees na haar aanklag teen Jacob Zuma. Ashley Judd is geswartlys toe sy aanvanklik gekla het oor Harvey Weinstein. Talle vroue se klagtes is oor die hoof gesien toe hulle Bill Cosby van seksuele misdrywe beskuldig het. By minstens twee plaaslike Afrikaanse universiteite is vroulike akademici se kontrakte beëindig toe hulle bewerings van seksuele teistering teen manlike kollegas gemaak het.

Maak nie saak hoe verskillend die verhale is nie, dis tog elke keer dieselfde. Die vrou betaal die prys. Twee keer. Een keer wanneer sy aangeval word. ’n Tweede keer wanneer sy geregtigheid probeer verkry.

Selfs wanneer dit ’n vreemdeling is wat haar aanval, wonder mense dadelik: Wat het sy aangehad? Was sy nugter? Wat het sy op daai plek gesoek? Hoekom was sy so laat op straat?

Reg van die begin af is die onus op die vrou om haar onskuld en haar reinheid te bewys. Selfs met die onlangse verkragting van die dogtertjie in die Dros-restaurant was die vraag dadelik hoekom die ma haar kind alleen laat badkamer toe gaan het. Dis altyd die vrou se skuld, nooit die man s’n nie. Selfs wanneer ’n babatjie, ’n gestremde of ’n bejaarde aangeval word, moet daar eers verskoing gesoek word vir die man se gedrag. Kyk maar hoe het die volk in oproer gegaan oor die pedofilie-bewerings teen Magnus.

In die Katolieke Kerk word priesters van parogie na parogie verskuif om hule pedofiliese bedrywighede voort te sit sonder enige kommer dat hulle tot verantwoording geroep gaan word. Ingryping van buite gebeur gewoonlik eers na dekades. Ingryping van binne ... nou ja, daar word opgetree in gevalle waar daar konsensuele seks tussen volwassenes was, maar waar die slagoffer ’n kind is? Jy’s op jou eie. Onlangs het ’n kardinaal in die kerk beweer hy’t nie geweet dis ’n misdryf om seks met kinders te hê nie.

Die Man (gesigloos, naamloos, verteenwoordigend van alle mans oral) moet jammer gekry word, want sy toekoms word deur die beweringe in die gedrang gebring. Is hy dood, soos in Magnus se geval, is die groter kommer oor sy naam en eer. Nevermind dat die vrou se toekoms ook onherroeplik verander, en in baie opsigte vernietig is. Die vrou se belange moet maar agter in die ry staan. Dis hoe die patriargie werk. Dis hoe dit nog altyd gewerk het. Die skuldige party word nou in die rol van slagoffer gewerp.

Behalwe natuurlik as die man swart is. Dan word sy gewaande primitiewe drange en sy tweederangse burgerskap teen hom gebruik. Vra maar vir Bill Cosby. Clarence Thomas se saving grace was die groter Republikeinse aanslag op die regstelsel.

Word die man regtig vernietig deur die beweringe? Clarence Thomas is nou nog op die regbank om vroueregte saak vir saak terug te stoot. Brett Kavanaugh is huilend en kermend bevestig tot die hoogste hof in die VSA. Jacob Zuma is ingesweer as president en toegelaat om die land tot op die randjie van vernietiging te bring – en steeds word hy vereer. Hierdie week is een klag teen Harvey Weinstein teruggetrek, en dit lyk asof hy besig is om sy aansien te herwin. Cosby is tronk toe, but then again ... hy is swart, en hy is nie meer ’n aktiewe rolspeler in Hollywood nie. Die sisteem was van die begin af teen hom opgestel. Het hierdie saak gekom toe hy nog op die kruin van gewildheid as Dr Huxtable was, sou die uitslag aansienlik anders gewees het.

Dis hoe mag werk. Dis hoe patriargie werk. Dis hoe vroue keer op keer op keer onder die stootskraper van manlike chauvinisme, manlike wellus, manlike gevoelloosheid beland.

Nêrens was dit duideliker as onmiddellik na Ford se getuienis nie. Trump en sy trawante het die spot gedryf met haar pyn. Politici het gestem volgens partypolitieke opdragte asof hulle nie ’n woord gehoor het nie. Brené Brown het dit miskien die duidelikste gestel toe sy op Twitter die volgende gesê het: “It is no longer a matter of whether they believe her or not. They don’t care.”

Bitter selde kom verandering van binne.

Kavanaugh se aanstelling was ’n terugslag wat potensieel vir dekades skade aan vroueregte in VSA beteken. Vroue is moeg, moeg daarvoor om nie gehoor te word nie. Moeg daarvoor dat politici nie omgee nie. Moeg.

Maar daar is ’n teenkant, ’n verposing.

Die skermutseling is dalk verloor, maar vroue maak hulle nou reg vir grootskaalse oorlog. Oorlog in die politieke arena. Oorlog in die vermaaklikheidsbedryf. Oorlog in die besigheidswêreld.

Dis nie meer lank nie, of daar gaan ook oorlog in die slaapkamer kom. ’n Koue oorlog.

Dis nie sonder presedent nie. Seksstakings het positiewe resultate in Liberië gebring, met soortgelyke vredestakings in Nigerië, die Ivoorkus, Kenia, Colombia, Italië, Suid-Soedan, Togo en die Filippyne.

Dit het tyd geword dat Westerse vroue hulle mag terugneem. Hierdie slag is daar te veel op die spel om goedsmoeds tou op te gooi. The handmaid’s tale is nie meer net ’n distopiese verhaal nie. Dis ’n waarskuwing, ’n blik op ’n potensiële toekoms, een wat vroue nie kan bekostig nie. Nie nou nie, nie ooit nie.

Nolite te bastardes carborundorum.

The post Kavanaugh, vroueregte en die toekoms van protes appeared first on LitNet.

Onderwys, opvoeding en gebruike in ’n nuwe era

$
0
0

Alle mensgemaakte uitvindings is nie noodwendig positiewe vooruitgang nie. Sommige uitvindings is skadelik vir die natuur en mense behoort dit te weet.

Gesprek van Estelle Kruger met Henriëtte Loubser oor haar artikel:

Uitdagings van die Antroposeen: Onderwys in die era van ’n mensgemaakte wêreld

Henriëtte, hierdie artikel is jou vierde een oor omgewingsopvoeding (OO). Hierdie keer fokus jy egter dieper, naamlik op die Antroposeen, wat eintlik ’n diepgewortelde kulturele raamwerk is waarvolgens mense hulleself as die meerdere van ander bestaansvorme beskou. Hoe het jy van die beskouing bewus geword?

Estelle, toe ek begin met my navorsing, was ek reeds deeglik bewus van die heersende toestand van verbruik en misbruik van die aarde se natuurlike hulpbronne, maar ek het nooit werklik besin oor die meerderwaardigheid waarmee die mens die niemenslike bejeën nie. Die term Antroposeen was ook vir my totaal nuut. Dit was Chris Reddy, my promotor, wat dit die eerste keer gebruik het en ek was totaal in die duister – het nie geweet waarvan die man praat nie. Totdat ek daaroor begin oplees het – en nog nie weer opgehou het nie.

Dit blyk uit jou artikel dat mense kan aanleer hoe om diep-ingebedde gedragspatrone te herken en uiteindelik aan te spreek en te verander. Sou jy sê dat mense oor die algemeen bewus is van hierdie gedragspatrone? Hoekom (of nie)?

Nee, ek dink nie mense is bewus van hierdie gedrag nie. Dit is so ingebed in optredes en aksies dat dit rustig voortgaan totdat ’n mens op een of ander manier daarop gewys word. Dit is eers dan dat hierdie patrone in eie gedrag duidelik herkenbaar word.

Hoe pas die kennis en insig oor die Antroposeen by die sg nuwe materialisme? Kan jy dit asseblief verduidelik aan iemand wat belangstel maar niks hiervan af weet nie?

Die nuwe materialisme kan as ’n uitvloeisel van die Antroposeen gesien word, waar mense bewus geraak het van die skade wat die mens aan die natuurlike omgewing aanrig en die gevolglike ontstaan van ’n nuwe teoretiese raamwerk waarvolgens daar ’n “terugkeer na die materiële (tasbare) wêreld” bepraat en ondersoek kon word. Die studieveld van die nuwe materialisme behels ’n nuwe manier van kyk na die eeue oue mens-natuur-verhouding en die intense vervlegtheid van alle bestaande dinge. Dit behels ’n soort terugkeer, ’n erkenning van die feit dat die een nie sonder die ander kan nie – dat die mens en die niemenslike nie sonder mekaar kan voortbestaan nie.

Jy noem ’n aantal kritieke menslike optredes wat in veral nywerhede die ekologie skade aandoen – kan jy ook aan menslike optredes dink wat in die alledaagse lewe skadelik is vir die ekologie?

Daar is so oneindig baie skadelike optredes/gebruike van mense. Ek kan maar net dink aan weggooidoeke as voorbeeld. Volgens navorsers sal dit ’n weggooidoek ongeveer 400 jaar neem om ten volle te vergaan.

In jou artikel verwys jy na die “groot versnelling” en die belangrikste uitwerking van globale menslike aktiwiteit op aarde, naamlik die chemiese en biologie gevolge daarvan – siftingsas en tegnofossiele. Dan verwys jy na tipiese tekens van die Atroposeen in spesifiek Groenland. Is daar ook bepaalde voorbeelde van hierdie soort skade aan die ekologie wat in Suid-Afrika geïdentifiseer is?

Ek dink hier onmiddelik aan die onlangse bekendmaking van die besoedelingsvlakke van die Vaalrivier. Hoe daar feitlik geen lewe meer in daardie rivier oor is nie. Hoe visse op die oewers uitspoel, hoe hele families otters uitgewis is, weens die impak van die besoedeling op die watergehalte van die rivier. Hier kan ’n kenner soos Dave Pepler ’n legio voorbeelde aan ons voorlê, maar ek dink in Suid-Afrika, soos waarskynlik in die hele Afrika, is skade aan ekostelsels en die ekologie (deur die mens aangerig) reusagtig.

Verduidelik asseblief kortliks hoe hierdie negatiewe gedragspatrone mbt die ekologie herstel of verander kan word.

Daar is talle betoë dat die aarde onomkeerbaar beskadig is. Dat die skade onherstelbaar is. Ek is ’n aartsoptimis en ek glo dat ons steeds ’n verskil kan maak deur opvoeding. Deur die boodskap aan mense te bring, mense te motiveer tot groter verantwoordelikheid en om sodoende uiteindelik gemeenskappe te vorm wat ons in-die-natuur-wees, ons deel-van-die-natuur-wees, sal erken en daarvolgens sal laat leef.

Die gevare wat al die bogenoemde dinge inhou, klink so ver van die meeste mense af. Hoe kan ’n mens leerders op skool daarvan bewus maak sodat hulle nie net kennis opdoen nie, maar deur ervaring begin om ’n verskil in hulle omgewings te maak?

Hierdie vraag sluit aan by die vorige een. Deur bewusmaking, op watter manier ook al, kan kinders gelei word tot ’n beter begrip van wat met ons aarde aan die gebeur is, wat die uitwerking van onverantwoordelike menslike optrede op die natuurlike stelsels is en hoe hulle, deur veranderde denke en optredes, ’n verskil kan maak. Deur projekte soos dié wat ek in hierdie artikel noem, aan te pak en in skole te implementeer, kan kinders deel vorm van die soeke na oplossings.

Jy bepleit in jou artikel die gebruik van transformatiewe leer in OO. Wat behels dit presies?

Transformatiewe leer, of TL, is die proses van leer vir verandering. Met ander woorde, leer sodat jy toegerus is met die nodig kennis om anders en nuut te dink / op te tree. Dit behels ook die voorveronderstelling dat bestaande kennis vervang sal word, dat ingesteldhede omvorm sal word, ten einde veranderde of vernuwende denke te stimuleer. In hierdie geval sou ’n mens selfs daarvan kon praat as ’n soort “verlering” van antroposentrisme.

’n Voorbeeld hiervan sou wees om reeds tydens programme wat met vroeë kinderontwikkeling te doen het, die meerderwaardigheidsgevoel van die mens uit te daag deur die onderlinge afhanklikheid van alle bestaande dinge aan die jong kinders uit te wys en om hulle bewus te maak van die verweefdheid van alle dinge binne ’n meer-as-menslike wêreld. Kinders behoort te leer dat ons nie die natuur moet “bewaar” ten einde die mens te bevoordeel nie, maar dat ons interafhanklik is. Dat die natuur nie bewaar moet word bloot omdat dit vir ons kos en ander natuurlike produkte verskaf nie, of dat dit ’n lekker plek is om in te gaan speel nie, maar dat kinders begelei word om aktiewe deelnemers te wees, kritiese ondersoekers te wees, ten einde maniere te vind waarop ons almal saam in die wêreld kan wees.

Op watter ander maniere kan leerders bewus gemaak word? Nie almal neem die vak OO op hoogste vlak nie. Is daar voorbeelde in ander vakke van iets wat bewustheid kan kweek en negatiewe gedragspatrone kan begin teëwerk?

In enige vakgebied/leerarea kan opvoeding vir die omgewing plaasvind.

Inheemse kennis kan byvoorbeeld deur storieboeke of storievertelling opgedoen word. Daar bestaan verhale oor die San wat voorheen in suiwer harmonie met die natuur geleef het. Wat net uit die natuur geneem het dit wat hulle nodig het en wat elke keer die natuur (byvoorbeeld die dier wat hulle met pyl en boog geskiet het) te bedank dat hy sy lewe gee sodat die jagter en sy mense kan eet. Die jagter belowe die dier/natuur ook dat hy nie meer sal neem as wat hy nodig het nie. Hier kan die interafhanklikheid van die mens en die niemenslike aan die jong kind verduidelik word. Van die saadjie in die grond wat ’n plant word, die plant wat kos word vir die bok en die bok wat kos word vir die jagter en sy clan – die lewenskringloop met ander woorde. Op hierdie manier word die kind bewus van die mens se in-die-natuur-wees eerder as in-beheer-van-die natuur-wees. Hierdie kennis kan oorspoel na ander leerareas, soos die sosiale wetenskappe (aardrykskunde, plek en geskiedenis, voorkennis, tradisionele storievertelling), landbouwetenskappe (landbou vir volhoubaarheid), lewenswetenskappe (biodiversiteit, ekologie, habitatte, nisse edm), en selfs wiskunde (getalbegrip, syfervaardigheid deur byvoorbeeld teloefeninge met ’n eko-aanslag, en so meer). So word gemeenskappe gekweek wat in hulle daaglikse lewensgang verantwoordelik leef en optree.

Ek merk dat daar reeds maniere is waarop leerders op skool deur middel van aksieleer (O’Donoghue 1993) en die EkoSkool-program (Rosenberg 2008) indringend kennis maak met genoemde ekologiese gevare en die moontlike optredes. Beskryf asseblief die volgende kortliks:

O’Donoghue se program van aksieleer

O’Donoghue se aksieleerprogram behels die proses van leer deur ervaring/belewenis/veldwerk. Sy raamwerk behels gesprekvoering oor omgewingskwessies, vraagstelling, toetsing, die inwin van inligting en die opstel van ’n aksieplan waar die kind deurentyd betrokke is. O’Donoghue (1993:34) beskou dit as ’n voorbeeld van ’n “enabling framework for fieldwork” wat vir die aanspreek van omgewingskwessies ontwikkel is.

Rosenberg se EkoSkool-program

Dit behels die uitrol van ’n ekoprogram by individuele skole, in samewerking met onderwysers van daardie skole. Die program word ondersteun deur Wessa (Wildlife and Environment Society South Africa) en die Wêreldnatuurfonds (WWF) Suid-Afrika. Gewilde projekte sluit in die aanlê en instandhouding van kostuine, herwinningsprojekte, grond- en vleilandrehabilitasie en programme vir verminderde water- en elektrisiteitsverbruik. Volgens Rosenberg kan hierdie program tot verbeterde onderwys en leer in skole bydra. Daar moet egter genoegsame steun aan onderwysers gebied word sodat hulle die program – en OO – kan bemeester.

Waarmee het jy gesukkel in die navorsing van hierdie spesifieke artikel? Watter struikelblokke het jy ervaar?

Ek het nie werklik met iets gesukkel nie, Estelle. Ek dink die aspek wat my die meeste aangeraak het, of wat die hardste tot my gespreek het in die hele proses, is die besef dat die mens werklik ’n geweldige impak op natuurstelsels het, die dringendheid van die dilemma en die erns van die saak – die opvoedkundesaak.

Wat was jou grootste ontdekking in hierdie navorsing-en-publikasie-proses?

Die besef dat daar hoop is en dat elke mens op sy/haar unieke manier ’n verskil kan maak. Jy weet, die druppel in die emmer ...

Is daar enige ekologiese projekte in jou omgewing waarby jy of jou kollegas of onderwysstudente betrokke is?

Net buite Stellenbosch is ’n ekodorpie geleë waar daar ’n skool is, asook ’n volhoubaarheidsentrum. Studente van die Opvoedkunde-fakulteit is baie betrokke en daar vind allerhande wonderlike dinge plaas. Tans is twee kollegas van my, Peter Rule en Krystle Ontong, ook betrokke by ’n plekgebaseerde projek in Enkanini. Hulle gaan ondersoek instel na wyses waarop inwoners ondersteun kan word en hoe inwoners hulle onmiddellike omgewing kan gebruik om vaardighede te ontwikkel. Hulle beoog ’n behoeftebepaling in die gemeenskap, die identifisering van bestaande vaardighede in die gemeenskap en wat gedoen kan word om dit deur OO te bevorder (soos hulp met die registrasie van groentetuine). Ek het self baie planne, maar alles is nog baie aan die begin en meestal nog net in my kop.

Die opvoedkundige waarde van ekoliterêre tekste: ’n Toepassing van Adrian Rainbow se sienings op ’n Afrikaanse jeugverhaal, ’n oorgangsroman en ’n prenteboek vir kinders

Met bome soos met boeke

The post Onderwys, opvoeding en gebruike in ’n nuwe era appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans AJV 2018: Bestuurdersverslag

$
0
0

Goeienaand almal. Dit is vir my ’n groot plesier om hier te wees en om aan julle te kan verslag doen oor PEN Afrikaans se werksaamhede oor die afgelope jaar. Die volgende twee agendapunte, oor die Vertaalfonds en die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, sal ook in hierdie verslag aandag kry.

In Oktober verlede jaar het my lewe ’n onverwagse positiewe wending geneem toe ek die geleentheid gekry het om as bestuurder van PEN Afrikaans te kon inspring. Kort ná my aanstelling het die internasionale strekking van PEN se bedrywighede vir my duidelik geword. Die verskyning van The President’s Keepers en die gepaardgaande geskarrel aan regeringskant om deur dreigemente en boelie-taktiek die boek van die mark te laat onttrek, het hewige teenkanting op eie bodem ontlok en ook sterk ondersteuning vanuit die buiteland, met PEN International en PEN Swede wat die saak aan die groot klok help hang het.

Terugvoer oor PEN International-kongres

By die pas afgelope internasionale PEN-kongres wat van 24 – 29 September in Pune in Indië plaasgevind het, het die groot internasionale familie waarbinne ons ons bevind vir my konkreet geword. PEN is ’n enorme netwerk van skrywers en belanghebbendes vanuit al die hoeke van die wêreld; sommiges wat veel erger uitdagings in die gesig staar as waarmee skrywers hier in Suid-Afrika gekonfronteer word.

Martin Luther King Jr het gesê: “Injustice anywhere is a threat to justice everywhere.” Daarom mobiliseer die PEN-netwerk om die beginsels vervat in die PEN-handves wêreldwyd te bevorder. Die tema van vanjaar se kongres was “vryheid, waarheid en diversiteit”.

In ’n tyd wanneer onverdraagsaamheid blyk te groei, en sensuur, ook self-sensuur, volop is, is dit ’n riem onder die hart om deel te wees van so ’n sterk netwerk wat vryheid van uitdrukking, persvryheid, taalregte en outeurs se regte en welstand aktief nastreef.

Fiona van Kerwel het die kongres saam met my bygewoon en sal in ons volgende nuusbrief meer volledig verslag doen oor wat ons daar beleef het. Daar is onder andere ’n Global Language Park gestig waar afgevaardiges van al die verskillende PEN-sentrums ’n boom vir hul onderskeie tale kon plant. Ek en Fiona was trots om vir Afrikaans ’n boom te plant en ons hou duim vas dat ons vingers groen genoeg was dat die boom sal floreer.

Artikelreeks: Wat elke skrywer moet weet

Hierdie reeks is vanjaar deur PEN Afrikaans bekend gestel. Kenners skryf kort artikels oor regskwessies wat skrywers raak: van publikasie-ooreenkomste, tot laster, plagiaat, verhoogverwerkings en die opstel van ’n testament om vir die oordrag van outeursreg na erfgename voorsiening te maak.

Die bydraes is daarop gemik om skrywers in te lig en te bemagtig. Ons is dankbaar vir die bydraers se bereidwilligheid om hul kennis te deel en ons moedig skrywers aan om die reeks te raadpleeg.

Rubriekreeks: Boeke wat skrywers laat skryf

Boeke wat skrywers laat skryf is ’n reeks rubrieke wat in die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot verskyn. Dit word deur PEN Afrikaans aangebied en geborg. Rudie van Rensburg, Irna van Zyl en Jeremy Vearey het die eerste drie rubrieke van 2018 gelewer. Die doel is om die Afrikaanse boekjoernalistiek te bevorder en die kollig te plaas op die grootse impak wat boeke en skrywers op ander kan hê.

Taalgenoot is nie net ’n plesier vir die oog met hul treffende ontwerp en sterk visuele aanslag nie, maar inhoudelik bied hul gehalte-joernalistiek oor die Afrikaanse taal, kultuur en leefstyl. Die boeke-inhoud uit dié tydskrif word ook in PDF-formaat met vergunning van die redaksie op PEN Afrikaans se webportaal gepubliseer, aangesien dit andersins glad nie digitaal beskikbaar is nie.

Resensiekursus

Die resensiekursusse wat verlede jaar in samewerking met Netwerk24 en NB-Uitgewers aangebied is, is besonder goed ontvang. PEN Afrikaans sal weer ’n resensiekursus in samewerking met Netwerk24 aanbied, hierdie keer as deel van die Woordfees se 2019-boekprogram.

Die doel van dié kursus is om die Afrikaanse literatuurkritiek te bevorder deur nuwe resensente op te lei. Soos Koos Kombuis vroeër vanjaar in ’n rubriek oor die stand van die Afrikaanse literatuurkritiek gesê het: “Ons het resensente nodig. Hoe meer, hoe beter.”

Kerneels Breytenbach, voormalige uitgewer, skrywer, kranige resensent en oud-voorsitter van PEN Afrikaans, sal die kursus aanbied en kursusgangers touwys maak oor wat ’n goeie resensie onderskei.

Belangstellendes word aangemoedig om gou te spring as die kursus geadverteer word. Hou ons sosiale media-platforms dop.

Sosiale media

Die afgelope jaar het PEN Afrikaans se teenwoordigheid op sosiale media-platforms goeie groei getoon. Ons gehoor op Twitter het met 17% gegroei, terwyl ons Facebook likes ‘n groeikoers van 14% toon.

Kom kuier saam in die kuberruimte en bly op die hoogte van nuwe projekte en inisiatiewe.

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Ons gesels al ’n geruime tyd in vergaderings en in nuusbriewe oor die nou al berugte Wysigingswetsontwerp op Outeursreg wat ingrypende veranderinge ons land se kopieregwetgewing voorstel.

Nie net is die wetsontwerp se formulering uit verskeie oorde gekritiseer as so  ontoereikend en ondeurdag dat dit op ’n ramp afstuur nie, maar die beleidsrigtings wat in die wetsontwerp vervat is, is uiters kommerwekkend vir skrywers en uitgewers. Dit behels in wese ’n vermindering of verswakking van outeursregbeskerming en ’n beweging na vryer gebruik van outeursregwerke, in bepaalde gevalle sonder sprake van toestemming of vergoeding.

Op uitnodiging van die Departement Handel en Nywerheid, het PEN Afrikaans in Julie vanjaar kommentaar ingedien oor spesifieke bepalings in die wetsontwerp wat nadelig op ons lede kan inwerk.

Ons het advies van ’n outeursregkenner ingewin en het die volgende argumente en/of punte van kritiek in ons voorlegging gemaak:

  1. Die wetsontwerp, soos dit tans staan, is oop om in die Konstitusionele Hof aangeveg te word, omdat die inperking en opheffing van gevestigde regte op ’n vorm van onteiening sonder vergoeding neerkom. Die Konstitusionele Hof het al voorheen beslis dat intellektuele eiendom ongetwyfeld eiendom is en dieselfde grondwetlike beskerming geniet as ander soorte eiendom. Alhoewel die Grondwet vir onteiening voorsiening maak, is die omstandighede waarbinne onteiening mag plaasvind uiters beperk. Dit is ons mening dat ander roetes nie voldoende ondersoek is voordat die wysigingswetsontwerp die lig gesien het nie.
  2. Die uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg in die wetsontwerp is nie versoenbaar met die strekking van die internasionale konvensies oor outeursreg wat deur Suid-Afrika onderskryf is nie.
  3. Die wetsontwerp is nie in voeling met die werklikhede van die uitgewersbedryf nie. Dit verander aan bepalings waaroor daar, vanuit beide uitgewers- en skrywersgeledere, nie ongelukkigheid is nie. Dit krap spreekwoordelik waar dit nie jeuk nie en skep dus regsonsekerheid waar dit nie voorheen was nie.

Ek herhaal hier die slotparagaaf van ons voorlegging omdat dit ons posisie kortliks uiteensit:

PEN Afrikaans welcomes the revision of the Copyright Act but implores the legislature to consider the impact of the proposed provisions on the creative industries that authors are dependent on. It is our opinion that the Bill, as it stands, still does not pass muster on constitutional compliance, legal certainty, and on truly protecting and enhancing the interests of authors whose livelihood depends on the ability to commercialise their work.

Ons wag tans vir terugvoer oor volgende stappe, maar dit lyk of dit onwaarskynlik is dat die wetsontwerp hierdie jaar nog deur parlement gedruk sal word soos wat die voorneme was. Die reaksie uit die skeppende bedrywe was sterk en het gelei tot die stigting van die Kopieregalliansie, ’n liggaam waardeur rolspelers uit verskillende kreatiewe bedrywe ’n verenigde front gevorm het teen die wetsontwerp.

Ons sal ons lede op die hoogte hou van verwikkelinge en sal aanhou deelneem aan die proses om hopelik te verseker dat skrywersbelange deur die uiteindelike teks gedien sal word.

PEN Afrikaans Vertaalfonds

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het ten doel om die vertaling en publikasie van verdienstelike Afrikaanse literêre werke in die buiteland te bevorder deur vertaalkoste te subsidieer. Daar is twee sperdatums vir aansoeke in ’n kalenderjaar: 15 Mei en 15 November.

Die eerste twee rondes befondsingsaansoeke het ses Nederlandse vertalings van Afrikaanse boeke moontlik gemaak:

  • Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • Fees van die ongenooides deur PG du Plessis (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • Alles begin met Anna deur Annemari Coetser (Uitgeverij Mozaïek)
  • Die hemeltuin deur Karel Schoeman (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • Wonderboom deur Lien Botha (Zirimiri Press)
  • Slagyster deur Rudie van Rensburg (Uitgeverij Conserve)

Dit is verblydend dat so ’n groot verskeidenheid Afrikaanse werke hier gedek word: van ouer literêre werke, na Fees van die ongenooides, ’n roman wat deur vele as Die Groot Afrikaanse Roman geag word, na ’n debuutroman wat literêre pryse opgeraap het, na ’n topverkoper-speurroman. 

Soos Marga genoem het, is dit te verwagte dat daar danksy die sterk band tussen die tale veral uit Nederland belangstelling sal wees in die Vertaalfonds. Ons glo egter dat ons ook aansoeke uit ander taalgebiede sal ontvang namate buitelandse uitgewers bewus word van die Vertaalfonds.

’n Artikel oor die Vertaalfonds het vanjaar op Publishing Perspectives, ’n gewilde webblad oor internasionale boeke- en uitgewersnuus, verskyn. Volgende week by die Frankfurter Buchmesse sal buitelandse uitgewers ook in kennis gestel word van die moontlikheid om vir befondsing aansoek te doen.

Hierdie befondsingsmoontlikheid kan werklik die deurslag gee wanneer daar deur ’n buitelandse uitgewer gewik en geweeg word of dit lewensvatbaar is om ’n boek te vertaal en in hul mark te publiseer. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsigte en dankbaar vir die Trust vir Afrikaanse Onderwys se ruim finansiële ondersteuning wat dit meer moontlik maak om Afrikaanse skrywers ’n voet in die buitelandse deur te gee.

Bewusmakingsveldtogte en stellingnames

Ons het deur die jaar verskeie kere stelling ingeneem oor sake waar ons gevoel het dat dit aan die hand van ons visie, missie en mandaat van ons lede gepas was om dit te doen. Dit sluit in, soos Marga genoem het, stellingnames teen

  • die bedreiging van pers- en uitdrukkingsvryheid
  • die potensiële afskraling van moedertaalonderrig

PEN Afrikaans het vanjaar stelling ingeneem teen die taalklousule in die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys. Dit hou volgens ons ’n bedreiging in vir moedertaalonderrig en vir Afrikaans as voertaal. Ons stellingname is teen die sperdatum as amptelike kommentaar op die wetsontwerp by die Departement van Basiese Onderwys ingedien.

Ons het ook kommentaar ingedien oor die Konseptaalbeleid vir Hoër Onderwys, wat ’n bemoedigende stap in die rigting van meertaligheid verteenwoordig. Danie Marais sal verder oor taalregte uitbrei.

Hertzogprys vir drama

PEN Afrikaans glo dat dit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en die letterkunde sal strek indien die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Letterkundekommissie herbesin oor die publikasiekriterium vir die toekenning van die Hertzogprys vir drama.

Alhoewel daar ’n noemenswaardige opbloei in die Afrikaanse dramakuns is, kom die meerderheid van nuwe dramatekste nie in aanmerking vir die Hertzogprys nie, aangesien publikasie deur ’n gevestigde uitgewery vereis word. Selfs met subsidies vir publikasiekoste is Suid-Afrikaanse uitgewers lugtig om dramas te publiseer. Die mark daarvoor is eenvoudig so klein dat dit nie winsgewend is nie. Dramas wat nie die nasionale voorskryflys haal nie word meerendeels teen ’n verlies gepubliseer. Daarom het plaaslike uitgewerye oor etlike dekades die hoeveelheid dramas op hul publikasielyste drasties verminder. 

Ons het ’n versoek aan die Akademie gerig om gesprekke met belanghebbendes in die teater- en die uitgewersbedryf te voer, moontlik deur die aanwysing van ʼn taakspan, ten einde die reglement te hersien om ʼn groter aantal (gepubliseerde en ongepubliseerde) dramatekste in te sluit of om maniere te ondersoek om meer dramatekste winsgewend gepubliseer te kry.

Die Akademie het positief hierop gereageer en ’n oop gesprek hieroor is vir volgende week geskeduleer.

Tuin van Digters

Laastens is dit baie aangenaam om vlugtig te vertel van twee sessies wat PEN Afrikaans in September by die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum in Wellington kon aanbied.

Met behulp van PEN International se Free the Word-program, wat befondsing aan PEN-sentrums toestaan, kon ons twee sessies aanbied wat die kollig op die veeltalige bloemlesing ConVerse geplaas het. ConVerse is gesamentlik deur InZync Poetry en die US Woordfees uitgegee en ons het die befondsing benut deur onder andere 100 eksemplare van dié merkwaardige bundel gratis aan feesgangers beskikbaar te maak.

In die gees van intertalige gesprekvoering is 15 opkomende digters wat in isiXhosa, Afrikaans en Engels werk, genader om gedigte by te dra wat by die tema van gesprekvoering aansluit. Die gedigte is in al drie tale by die bundel ingesluit.

Tydens Tuin van Digters het die digters hul werk kom voordra en ek glo dat dié wat daar was, sal saamstem dat daar hope talent en energie op die verhoog was.

Later die dag het Danie Marais in gesprek getree met van die samestellers en die bydraers tot die bundel. Hulle het gesels oor wat hulle geleer het deur die vertaalproses, oor die belang van vertaling, en sommer oor poësie in die algemeen.

Hierdie sessies het mooi aangesluit by ’n sentrale uitgangspunt van die PEN-handves, naamlik dat letterkunde geen grense eerbiedig nie en gemeengoed tussen mense moet bly.

Ten slotte

Dit was ’n vol eerste jaar by PEN Afrikaans en ek is dankbaar vir die geleentheid om hierby betrokke te wees. ’n Groot dankie ook aan die bestuur van PEN Afrikaans vir die gawe samewerking.

PEN Afrikaans is ’n lede-organisasie en ons wil diensbaar teenoor ons lede bly, so ons nooi julle uit om die vrymoedigheid te neem om ons te nader met terugvoer en voorstelle. Ons werk graag saam, ter wille van die Afrikaanse woordkuns.

 

Catrina Wessels

2 Oktober 2018

The post PEN Afrikaans AJV 2018: Bestuurdersverslag appeared first on LitNet.

’n Skerfie glas deur Erika Murray-Theron: ’n resensie

$
0
0

’n Skerfie glas
Erika Murray-Theron
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309109

Self nog ’n kleuter, moet die kleine Issie Malherbe ma speel vir haar twee jonger boeties. Enetjie laat val sy bottel (destyds van glas) op die stoep en ’n skerfie beland in haar oog. Meer as ’n eeu later vors haar kleindogter Erika Murray-Theron (https://af.wikipedia.org/wiki/Erika_Murray-Theron) Issie en die res van die familie se geskiedenis na en bou die prentjie skerfie vir skerfie op.

Issie se pa Izaak is ’n man van daardie tyd: sterk, soms afstandelik. Maar toe sy dogtertjie haar oog verloor, huil hy langs haar bed. En hy noem haar Belle – sy is sy mooie dogter. Toe hy haar later aan sy tweede vrou as Issie voorstel, is dit vir haar die bevestiging van die afstand wat daar tussen hulle gekom het.

’n Skerfie glas is, soos Murray-Theron se ander boeke (oa Die toubrug, Vlegsel en Stippellyn), nie ’n uitbundige, dramatiese boek nie. Groot en klein gebeurtenisse word met haar kenmerkende subtiliteit so lewend geskilder dat dit nie vir die leser moeilik is om ’n prentjie te vorm nie.

’n Skerfie glas is die verhaal van Issie Malherbe, maar ook die verhaal van haar uitgebreide familie, van die skrywer self en uiteindelik van die Afrikanervolk. Murray-Theron volg die lotgevalle van Issie se familie deur baie jare en na verskillende belangrike plekke in die familiegeskiedenis, oa Tulbagh, Johannesburg en Pretoria, Wellington en die destydse Nylstroom (nou Modimolle). Sy slaag uitmuntend daarin om wat sy self noem ’n sense of time and place aan die verhaal te gee.

Die lewenstyl van die tyd word vir die leser lewend gemaak. Veral Issie se ouma Bella slaag deurgaans daarin om soms te midde van groot smart op Tulbagh en later in Wellington ’n besondere lewenstyl te handhaaf. Sosiale aanvaarbaarheid was van die grootste belang en dinge om en in die huis is op baie spesifieke maniere gedoen.

Dis soms hinderlik dat die skrywer die verhaal telkens onderbreek om van haar eie ervarings tydens haar navorsing te vertel. Aan die ander kant voeg dit ’n ekstra dimensie by die verhaal en verryk dit. Hoewel die skrywer haar eie metodes kritisieer, is die fyn besonderhede die stille getuienis van uitmuntende navorsing. Die insetsels toon dat die navorsing ook vir haar verskeie intense belewenisse en nuwe vriendskappe gebring het. Hoewel die verhaal op intensiewe navorsing en baie feite berus (die baie name en besonderhede is soms verwarrend), dui die skrywer hier en daar tong-in-die-kies aan dat sy haar tog soms die vryheid van haar verbeelding toegelaat het. Dit gee veral aan Issie en Piet se liefdesverhaal ’n besondere kwaliteit.

Die families wat hier geskilder word, is geen plebs nie. Dit sou seker nie verkeerd wees om na hulle as Boere-adel te verwys nie. Die skrywer kom onvermydelik ook by die vraag uit waarmee baie van haar tydgenote waarskynlik worstel: Hoe kon hierdie hardwerkende, eerlike, gelowige, ontwikkelde, belese mense aandadig gewees het aan die skep van apartheid? Hoe kon hulle dit as reg en regverdig gesien het? Hoe kon hulle die regering wat dit afgedwing het, gesteun het?

Die verhaal wemel van indrukwekkende karakters, mans sowel as vroue. Die meeste is geleerde mense met ’n sterk kultuuragtergrond. Ook die meisies kry ’n goeie opvoeding, veral op aandrang van ouma Bella, die matriarg van die familie.

Bella is een van die aangrypendste figure in die boek. ’n Vrou wat kan raakvat, wat hard werk om haar elf kinders groot te kry en haar gekose lewenstyl te handhaaf, maar ook ’n vrou wat uiteindelik ses van haar elf kinders, sowel as haar man, aan die dood moet afstaan. Haar diep geloof bring nie altyd vir haar verligting nie, want sy worstel met God en soek soms die rede vir haar smart by haar eie vermeende tekortkominge.

Issie word, ten spyte van die vele verliese en baie ontwrigtings as kind, ’n besonderse vrou wat haar ses kinders ordentlik grootmaak, haar man in sy rol as politius ondersteun en telkens by nuwe omstandighede aanpas. Hiermee sluit sy aan by die talle vrouekarakters in die verhaal. Vroue wat dikwels groot smart en baie verliese beleef, vroue wat dikwels grotendeels via hul mans gedefinieer word, maar vroue met besonder sterk karakters, sonder om sagtheid in te boet.

’n Skerfie glas is die roerende verhaal van ’n individu en ’n familie, maar ook van ’n nasie. Die leser kom met ’n beter begrip van wit Afrikaners se komvandaan uit die ervaring wat die lees van hierdie boek is. Dit word sterk aanbeveel vir almal wat beter wil verstaan.

 

The post <em>’n Skerfie glas</em> deur Erika Murray-Theron: ’n resensie appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans AJV 2018: Voorsittersverslag

$
0
0

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering
Dinsdag 2 Oktober 2018 om 19:00
ATKV-Boeke-oase (Hoffmanstraat 61), Potchefstroom

Agenda

  1. Verwelkoming
  2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
  3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
  4. Goedkeuring van notule vir die AJV gehou op 16 September 2017 in Wellington, en sake voortspruitend uit die notule
  5. Voorsittersverslag
  6. Tesourier se verslag
  7. Bestuurder se verslag
  8. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds  
  9. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg se implikasies vir skrywers en uitgewers
  10. Taalregte: die stand van sake en ’n stemming oor die pad vorentoe
  11. Algemeen

Verwelkoming, verskonings, kworum, goedkeuring van notule

Goeienaand! Dit is ’n plesier om Afrikaanse skrywers, joernaliste, uitgewers en ander taalgenote te kan verwelkom by ’n algemene jaarvergadering van PEN Afrikaans. Vanjaar is dit PEN Afrikaans se sesde byeenkoms van dié aard.

Lede wat verskoning aangeteken het, is Bernard Odendaal, Wannie Carstens, Andries Visagie, Charl-Pierre Naudé en Fanie Viljoen. Ons het volmagte ontvang van die volgende lede: Amanda Lourens, Annie Olivier, Bernard Odendaal, Carina Stander, Chanette Paul, Fanie Viljoen, Fiona van Kerwel, Franci Greyling, Francis Galloway, Frederick J Botha, Hannes Deetlefs, Irma Venter, Jaco Fouché, Martin Steyn, Miemie du Plessis, Pierre-Marie Finkelstein, Ronel de Goede, Tertius Kapp, Wannie Carstens en Fanie de Villiers.

Oor die vasstelling van ’n kworum: Ons het tans 68 opbetaalde lede en ’n kworum is 40% daarvan, d.w.s. 27 lede.

Die sakelys vir vandag is per e-pos aan alle lede gestuur, en so ook die notule van die vorige algemene jaarvergadering, in September 2017. Ten aanvang vra ek nou goedkeuring vir vandag se sakelys, en daarna vir die 2017-notule. Daar is geen sake voortspruitend uit die notule wat nie ook ondervang word in die sakelys vir vandag nie, dus gaan ek direk voort met die voorsittersverslag.

Voorsittersverslag

Bekronings

Ten aanvang wil ek, soos gebruiklik, graag PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan alle skrywers wat sedert die begin van vanjaar bekroon is vir publikasies wat in 2017 (en in sommige gevalle vroeër) verskyn het. Hulle sluit in:

Pieter-Dirk Uys: Hertzogprys vir drama vir Stukke teater, met inagneming van sy hele oeuvre;

SJ (Fanie) Naudé: Eugène Maraisprys, die UJ-prys en die kykNET Rapportprys vir fiksie vir Die derde spoel;

Etienne van Heerden: ATKV-prosaprys vir Die wêreld van Charlie Oeng;

Eben Venter: WA Hofmeyrprys vir Groen soos die hemel daarbo;

Nicole Jaekel Strauss: Jan Rabie-Rapportprys vir haar kortverhaalbundel As in die mond;

Marlene van Niekerk: CL Engelbrechtprys vir Letterkunde vir Kaar en die Elisabeth Eybersprys vir poësie vir In die stille agterkamer;

Jolyn Phillips: UJ-debuutprys vir haar digbundel Radbraak;

Johan Myburg: ATKV-prys vir poësie vir Uittogboek;

Elsa Joubert: kykNET Rapport-prys sowel as die ATKV-prys vir niefiksie vir Spertyd;

Rudie van Rensburg: ATKV-prys vir spanningslektuur vir Kamikaze;

Irma Joubert: ATKV-prys vir liefdesroman vir Mentje, kind van Pas-Opkamp;

Gerda Taljaard: kykNET Rapport boekprys vir film vir Die laksman se dogter;

Dina Botha: ATKV-prys vir romanses vir Alles is perfek;

Jaco Jacobs: Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur vir Grom (geïllustreer deur Lilje Karsten); en

Carin Krahtz: MER-prys vir jeugromans vir Blou is nie ’n kleur nie.

ATKV-Kinderboektoekennings is ook gewen deur die volgende skrywers:

Louise Smit: Voorleeskategorie vir Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Jaco Jacobs: Selfleeskategorie graad 2-3 vir Professor Fungus en die monsterformule en Selfleeskategorie graad 4-5 vir Zackie Mostert en die super-stinkbom

Cecilia Steyn: Sefleeskategorie graad 6-7 vir #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Marion Erskine: Selfleeskategorie graad 8-10 vir Vlerke vir almal.

Ook die werk van joernaliste en resensente het erkenning ontvang. Herman Wasserman is bekroon met die Stalsprys vir kommunikasiekunde en joernalistiek, en Martie Retief Meiring het die Markus Viljoenmedalje vir joernalistiek ontvang. Die wenners van die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is Charl-Pierre Naudé, in die fiksie-kategorie, vir sy resensie van Jolyn Phillips se digbundel, Radbraak; Jean Meiring in die niefiksie-kategorie met sy resensie van Elsa Joubert se Spertyd; en Ronel Foster in die kategorie vir langer resensies met haar resensie van Krap uit die see deur Fourie Botha. 

Dié wat ons verlaat het

Sedert ons algemene jaarvergadering in Wellington verlede jaar het ons afskeid geneem van verskeie individue wat groot spore getrap het in die Afrikaanse letterkundige wêreld. Ryk Hattingh is in Oktober verlede jaar, kort nadat hy bekroon is met die kykNET Rapportprys vir fiksie vir Huilboek, in Nieu-Seeland oorlede. In Junie vanjaar is die literêre wêreld geruk deur die moord op die digter Tom Gouws. Ons het ook vanjaar afskeid geneem van Lerina Erasmus, skrywer van Die Mannheimsage en meer onlangs Die leliemoordenaar; die skrywer en sanger Annalise Wiid; die joernalis en skrywer Cas van Rensburg; en die navorser Christo van Rensburg. Koos Human, medestigter van Human & Rousseau en ’n reus in die plaaslike uitgewersbedryf, is ook onlangs oorlede. Ons rou ook oor die skielike dood onlangs van Mark Minnie, medeskrywer van Die seuns van Bird Island.

PEN Afrikaans Vertaalfonds

Ek wil vlugtig drie sake aanraak wat op die sakelys is en in meer besonderhede bespreek sal word deur ons bestuurder, Catrina Wessels, en ons ondervoorsitter, Danie Marais. Die eerste is die PEN Afrikaans Vertaalfonds, tweedens is daar die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, en derdens die kwessie van taalregte.

Oor die PEN Afrikaans Vertaalfonds: Soos u weet, het Afrikaanse literêre werk in die verlede nooit dieselfde voordele geniet wat ander tale het waar daar ’n vertaalfonds is wat dit makliker maak om werk in vertaling die lig te laat sien nie. Dit was baie moeilik om vertaalregte in literêre werke verkoop te kry omdat die vertaalkostes dit bitter duur gemaak het vir buitelandse uitgewers om bo en behalwe die gewone produksiekoste te absorbeer. PEN Afrikaans het twee jaar gelede ons vertaalfonds op die been gebring danksy ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Ons kon in Desember 2017 en Mei 2018 aansoeke vir vertaalkoste oorweeg en die eerste titels het reeds die lig gesien in vertaling. Die meeste daarvan is in Nederlands – en dit weerspieël die sterk bande wat Afrikaanse uitgewers met hul Nederlandse kollegas het. Ons glo egter dat brûe na ander taalgemeenskappe ook versterk sal word, tot voordeel van ons skrywers, en dat ons binnekort ook vertalings in ander tale sal sien.

Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Ons lede is bewus van ons kommer oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat ons die afgelope drie jaar by ons vergaderings bespreek het. Die hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp is vroeër vanjaar beskikbaar gemaak en belanghebbendes is uitgenooi om geskrewe kommentaar in te dien oor spesifieke bepalings in die hersiene dokument. Die hersiene weergawe bevat steeds, en ten spyte van die gedokumenteerde besware van organisasies soos die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging en verskeie vooraanstaande regskenners, bepalings wat uiters nadelig vir skrywers en uitgewers sal wees. PEN Afrikaans het ook ’n voorleggings aan die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ingedien.

Catrina is goed ingelig oor die Wysigingwetsontwerp en sal die jongste verwikkelinge opsom.

Taalregte

As organisasie wat hom toespits op vryheid van spraak en die bevordering van die belange van Afrikaanse skrywers is taalregte ’n prioriteit vir PEN Afrikaans.

Soos Kerneels Breytenbach twee jaar gelede gesê het: Skrywers het lesers nodig. ’n Skrywer se toegewyde werk aan ’n manuskrip – die ure wat gespandeer word, die herhaalde oorskryf en skaaf aan ’n stuk skryfwerk – en die verdere werk wat gedoen word om die manuskrip tot by publikasie te bring, is tevergeefs as daar nie ’n leserspubliek is nie.

Op sy beurt kan ’n leserspubliek alleen bestaan en in stand gehou word as daar ’n toereikende onderwysstelsel is, en universiteite waar die taal as medium gebruik word, maar ook bestudeer en verfyn kan word.

PEN Afrikaans is uiteraard ten gunste van alle pogings wat daarop gemik is om die teelaarde vir Afrikaans te koester, te behou en uit te bou.

Danie Marais het in Junie ’n byeenkoms van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte in Switserland bygewoon. Hy het tydens die konferensie ’n referaat gelewer oor meertaligheid en taalregte in Suid-Afrika. Hy sal kortliks daaroor terugrapporteer en ook die gesprek oor waar PEN Afrikaans oor taalregte staan bespreek en die stemming oor die pad vorentoe lei. Ons sal vandag graag ons lede se gevoelens daaroor wil peil.

Stellingnames deur PEN Afrikaans

Die beskerming van die reg op vryheid van uitdrukking - die vryheid om idees uit te druk sonder vrees vir aanvalle, arrestasie of ander vervolging – lê sedert PEN International se ontstaan in 1921 aan die kern van dié organisasie se werksaamhede.

As lid van PEN International, die wêreld se grootste skrywersvereniging, skaar ons ons graag by standpunte wat op internasionale vlak geneem word oor die skending van skrywers en joernaliste se regte, en teenstand teen alle vorme van sensuur. Eweneens geniet ons die steun van PEN International oor standpunte wat ons inneem oor plaaslike skrywersake.

In hierdie konteks het ons in die afgelope jaar ten sterkste beswaar aangeteken teen die regering (die departement Staatsekuriteit sowel as SARS) se pogings om Jacques Pauw en sy uitgewer te dwing om sy boek The President’s Keepers aan die mark te onttrek, en hulle te intimideer. Hierin het ons die ondersteuning van PEN International (sowel as die International Publishers’ Association) ontvang.

PEN Afrikaans het ook beswaar gemaak teen die intimidasie van die skrywers van Die seuns van Bird Island, Chris Steyn en Mark Minnie, en die joernalis Marianne Thamm, wat die voorwoord van die boek geskryf het en dit geredigeer het.

PEN Afrikaans het ook ’n openbare verklaring uitgereik waarin versoek is dat die Film- en Publikasieraad die X18-ouderdomsbeperking op die kontroversiële film Inxeba|The Wound terugtrek, aangesien dit neerkom op sensuur, en dat die vorige ouderdomsbeperking van 16 herstel word sodat die film vryelik landwyd getoon kon word. Die ouderdomsbeperking is uiteindelik wel herstel tot 16.

Ander

PEN Afrikaans is egter ook met ander projekte gemoeid waar daar geen politiek of aktivisme betrokke is nie, en waar dit gewoon gaan oor die ondersteuning van skrywers, en die fasilitering van projekte. So het ons vanjaar twee afsonderlike sessies tydens die jaarlikse poësiefees Tuin van Digters in Wellington aangebied.

As diens aan ons lede het ons ook vanjaar ’n artikelreeks in ons nuusbrief begin oor onderwerpe wat spesifiek relevant is vir skrywers. My dank aan Catrina Wessels, wat dit gereël het.

Afsluiting

Ten slotte wil ek ons dankbaarheid uitspreek aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys, vir hulle finansiële ondersteuning wat dit vir ons moontlik maak om ’n aktiewe vereniging met internasionale aansien te wees, en wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak.

Ek wil ook graag ons bestuur bedank, wat almal op verskillende maniere groot bydraes gemaak het. Ek is baie dank verskuldig aan ons ondervoorsitter, Danie Marais, ons bestuurder, Catrina Wessels, en ons tesourier, Naomi Bruwer vir hulle harde werk, tyd en ondersteuning. Ons ander bestuurslede – Bernard Odendaal, Charl-Pierre Naudé, Francis Galloway, Izak de Vries, Fiona van Kerwel, Andries Visagie – dra ook almal aktief by tot ons projekte en ek wil vir hulle almal baie dankie sê. In ’n jaar wat vir my op persoonlike vlak onverwags uiters veeleisend was, kon ek staatmaak op ’n bestuur wat besonder begeesterd is, en wat uiters sinvol en positief saamwerk. Ek is trots op wat ons as span kon vermag.

Oor die pad vorentoe: Ek hoop dat PEN Afrikaans dit toenemend sal regkry om die volle spektrum van Afrikaanse skrywers te verteenwoordig, dat ons op ’n sinvolle wyse sal kan bydra tot die belange van alle Afrikaanse skrywers, dat ons meer jonger lede kan lok, en dat ons as organisasie kan groei sodat ons ook sodoende meer kan vermag, tot voordeel van Afrikaanse skrywers.

 

Marga Stoffer

2 Oktober 2018

The post PEN Afrikaans AJV 2018: Voorsittersverslag appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Slimkoppe verstom beoordelaars by ATKV-Spelathon

$
0
0

Sosiale media openbaar gereeld die swak gehalte van spelling, nie net onder jongmense nie, maar ook onder volwassenes. Lelike taalgoggas verskyn in die kuberruim wat enige taalpuris se nekspiere sal laat bult, maar gelukkig is daar hoop.

Leerders van regoor die land het op 12 en 13 Oktober hul taalvernuf by vanjaar se ATKV-Spelathonfinaal by die HB Thom-teater in Stellenbosch ten toon gestel. Een ding was duidelik: Spel kan hulle spel.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe hierdie kompetisie se gehalte elke jaar verbeter,” sê Minette Mentz, hoofbeoordelaar van die ATKV-Spelathon.

“Hierdie leerders is fenomenaal en ons monde het telkemale oopgehang vir die moeilike woorde wat hulle reg kon spel.”

Dit sluit in woorde wat selfs volwassenes sal laat kopkrap, soos: biochemikus, kaas-en-wyngeselligheid, haakwurmbesmetting en tipe A-persoonlikheid.

Dit is ook die eerste jaar waar senior leerders (graad 10 tot graad 12) ook aan die ATKV-Spelathon deelgeneem het.

“Daar was so ’n groot aanvraag van kinders wat vorige jare deelgeneem het en weer wou deelneem dat ons besluit het om hulle ook in te sluit,” sê Minette.

Volgens René Zietsman, projekorganiseerder, is die doel van hierdie projek om spelvaardighede te verbeter, innoverende onderrigmetodes te bied en gesonde kompetisie aan te moedig.

“Dit is kompetisies soos hierdie wat nie net ’n kardinale bydrae tot spelling lewer nie, maar dit ook vir leerders lekker maak om te spel,” sê sy.

Die ATKV verskaf die gesiene woorde en die leerders moet daardie woorde leer. Deelnemers word ook met ongesiene woorde by die uitdunne, provinsiale finale en nasionale finaal uitgedaag.

“Wat nog meer verbasend is, is dat die leerders so goed vaar met ongesiene woorde,” sê Minette.

Die ATKV-Spelathon bied geleenthede vir huistaalsprekers sowel as Afrikaans addisionele taalsprekers.

Die kategorieë sluit in: graad 6 en graad 7 (huistaal en eerste addisionele taal), graad 8 en graad 9 (huistaal en eerste addisionele taal), en graad 10 tot graad 12 (huistaal en eerste addisionele taal).

Die uitslae is soos volg:

Graad 6 en graad 7, eerste addisionele taal

1ste plek: Gia Reynolds van Bryneven Primary School (Gauteng)
2de plek: Unam Hewu van Laerskool Danie Malan (Gauteng)
3de plek: Tyler Schagen van Laerskool Gene Louw (Wes-Kaap)

Gia Reynolds

Graad 6 en graad 7, huistaal

1ste plek: Annemay Schade van Laerskool Welgemoed (Wes-Kaap)
2de plek: Venessa Bouwer van Laerskool Kabega (Oos-Kaap)
3de plek: Jessy Bekker van Laerskool Roodekrans (Gauteng)

Annemay Schade

Graad 8 en graad 9, eerste addisionele taal

1ste plek: Sameeha Minty van Al Huda Muslim School (Noordwes)
2de plek: Gavin Swartz van Hoërskool Noord-Kaap (Noord-Kaap)
3de plek: Caitlin Hamilton van Fourways High School (Gauteng)

Sameeha Minty

Graad 8 en graad 9, huistaal

1ste plek: Deandré Jacobs van Hoërskool Grens (Oos-Kaap)
2de plek: Angelique Abrahams van Hoërskool Noord-Kaap (Noord-Kaap)
3de plek: Jenna Steenkamp van Hoërskool Ferrum (KwaZulu-Natal)

Deandré Jacobs

Graad 10 tot graad 12, eerste addisionele taal

1ste plek: Nolwazi Mahlangu van Hoërskool Patriot (Mpumalanga)
2de plek: Sethabile Mchunu van Hoërskool Ferrum (KwaZulu-Natal)
3de plek: Kylie van Wyk van Hoërskool De Kuilen (Wes-Kaap)

Nolwazi Mahlangu

Graad 10 tot graad 12, huistaal

1ste plek: Lucille Carmen Bray van Hoërskool Sentraal (Vrystaat)
2de plek: Ingrid Groenewald van Hoërskool Ferrum (KwaZulu-Natal)
3de plek: Almé Hugo van Hoërskool Zwartkop (Gauteng)

Lucille Carmen Bray

Foto's: Stef Krüger

The post Persvrystelling: Slimkoppe verstom beoordelaars by ATKV-Spelathon appeared first on LitNet.


Suid-Afrika en die ekonomiese resessie

$
0
0

Suid-Afrika is in ’n volle ekonomiese resessie. “Tegniese resessie” se voet.

Die wisselvalligheid van die rand teenoor die Amerikaanse dollar, ons fiskale tekort wat dreig om ons oor die fiskale afgrond te stoot, en die algehele gebrek aan ekonomiese groei wat verantwoordelik is vir die erge werkloosheidsyfer van nagenoeg 38% is besig om inflasie te laat styg en pryse van goedere deur die dak te druk.

Maak jou gordel vas. ’n Skurwe reis lê vir ons voor.

Nie eens die aanstelling van die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, gaan ons in die nabye toekoms red nie. Net drastiese ekonomiese besluite sal ons van die huidige ekonomiese trajek van ondergang kan red.

Terwyl die rand tot sowat R14,71 teen die dollar versterk het ná Mboweni se aanstelling nadat dit aanvanklik weens die onsekerheid oor Nhlanhla Nene se posisie tot R15 verswak het, het die fokus intussen na die lewering van die mediumtermynbegrotingsrede op 24 Oktober verskuif.

Die verwagtinge is groot, maar die beweegruimte vir Mboweni is min, want die staat se uitgawes oorskry sy inkomste. Die begrotingstekort gaan vanjaar tot ongeveer R51 miljard styg en dit gaan broekskeur om dit onder 60% van die bruto binnelandse produk (BBP) te hou. Breek dit deur die 60% merk, word ons afgegradeer tot ekonomiese rommelstatus deur kredietgraderingsagentskappe. Inflasie en die werkloosheidsyfer sal die hoogte inskiet tot op ’n punt waar die lewe onbekostigbaar sal wees.

Die bevolking groei vinniger as die ekonomie – op pad na 60 miljoen mense. Hoe gaan ons dus in die behoeftes van die mense voorsien terwyl staatsfinansies vermors of gesteel word?

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Wêreldbank het reeds hul verwagtinge vir Suid-Afrika se ekonomiese groei tot onder 1% verlaag, teenoor die wêreldekonomie se 3,7% vir vanjaar en volgende jaar.

Boonop het Suid-Afrika 12 plekke gedaal en is nou in die onderste helfte van 162 lande in die jongste jaarverslag oor ekonomiese vryheid. Die verslag deur die Fraser-instituut – wat beskou word as die vyfde mees invloedryke verslag wat deur die wêreld se 6 618 dinksentrums uitgereik word – bevestig Suid-Afrika se vryval van die 45ste plek in 2003 tot 94ste in 2016.

Die wegholpetrolprys maak die lewe nog moeiliker. Nagenoeg 60% van alle werkende mense is afhanklik van die taxibedryf. Hulle spandeer ongeveer 30% van hul inkomste aan openbare vervoer – wat moontlik weer kan styg omdat petrol binnekort R20 per liter sal kos.

Die groot vraag is hoe om die finansiële en ekonomiese krisis op te los, veral omdat die onlangse werkberaadooreenkoms gefinansier moet word met geld wat die regering nie het nie. Die regering wil ’n “afval-ekonomie” skep wat werk kan verskaf. Om dit te finansier gaan verbruikers ’n “herwinningsbelasting” op sekere items moet betaal.

Boonop moet Cyril Ramaphosa se ekonomiese-stimuluspakket van R50 miljard ook gefinansier word deur geld wat die land ook nie het nie.

Beteken dit hoër belastings? Is daar ruimte vir hoër belastings?

“Nee,” sê regter Dennis Davis. Hy sê Jan Taks se insamelingsvermoë moet liewer verhoog word. Davis laat egter na om te noem dat die belastingbasis van ongeveer 10 miljoen mense nie genoeg is om vir luukshede te betaal nie. Boonop het die staat se vermoë om belasting in te vorder verswak. Dit is waarom die Inkomstediens (SAID/SARS) verlede jaar R50 miljard minder belasting ingesamel het. Vanjaar sal die syfer tot R51 miljard styg.

Die belastingbasis kan egter vergroot word net indien meer mense werk het om belasting te betaal. Dit is die groot olifant in die vertrek. Die fokus moet dus wees op werkskepping en nie op hoër belastings nie – hetsy persoonlik of deur BTW.

Die goeie nuus is dat groei veral in die landbou, mynbouwese en vervaardigingsektor gaan plaasvind. Wat die regering moet doen, is om ’n gunstige ekonomiese klimaat te skep vir dié groei om te kan plaasvind. Dit is hoe die resessie geklop kan word.

The post Suid-Afrika en die ekonomiese resessie appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans AJV 2018: Notule

$
0
0

Notule: PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering
Dinsdag 2 Oktober 2018 om 19:00
ATKV-Boeke-oase (Hoffmanstraat 61), Potchefstroom

1. Verwelkoming

Marga verwelkom almal by die sesde AJV van PEN Afrikaans.

2.Verskonings en vasstelling van ’n kworum

Teenwoordig: Danie Marais, Colette Combrink, Eben Pienaar, Samantha Buitendach-Miller, Heilna du Plooy, Izak de Vries, Naomi Bruwer, Marga Stoffer, Catrina Wessels

PEN Afrikaans het tans 68 opbetaalde lede, en ’n kworum is 40% daarvan, d.w.s. 27 lede.

Daar is 7 stemgeregtigde lede teenwoordig en ons het volmagte van 20 lede ontvang. Daar is dus ’n kworum by die vergadering verteenwoordig.

Marga lees die name uit van diegene wat verskoning aangeteken het: Andries Visagie, Bernard Odendaal, Wannie Carstens, Fanie Viljoen, Jaco Fouché, Charl-Pierre Naudé.

3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem

Marga lees die name uit van lede wat volmagte gestuur het: Amanda Lourens, Annie Olivier, Bernard Odendaal, Carina Stander, Chanette Paul, Fanie de Villiers (Kleinboer), Fanie Viljoen, Fiona van Kerwel, Franci Greyling, Francis Galloway, Frederick J Botha, Hannes Deetlefs, Irma Venter, Jaco Fouché, Martin Steyn, Miemie du Plessis, Pierre-Marie Finkelstein, Ronel de Goede, Tertius Kapp, Wannie Carstens.

4. Goedkeuring van notule vir die AJV gehou op 16 September 2017 in Wellington, en sake voortspruitend uit die notule

Die notule vir die AJV gehou op 18 September 2017 is aanlyn beskikbaar. Daar is geen sake voortspruitend uit die notule nie. Naomi stel voor dat die notule goedgekeur word. Danie sekondeer.

5. Voorsittersverslag

Marga lewer haar verslag, waarin sy onder andere PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan ’n lys van pryswenners in die letterkunde en joernalistiek en erkenning gee aan dié skrywers wat sedert die afgelope AJV heengegaan het. Sy verwys na ’n paar sake waarop PEN Afrikaans die afgelope jaar gefokus het en bedank die Trust vir Afrikaanse Onderwys vir die finansiële ondersteuning en die bestuur van PEN Afrikaans vir die goeie samewerking. Haar verslag is hier beskikbaar.

6. Tesourier se verslag

Naomi lewer haar verslag. Alhoewel daar geen ongerymdhede of bevraagtekening met betrekking tot die finansies was nie, het PEN Afrikaans nie ’n ongekwalifiseerde oudit gekry nie.

Dit is standaard praktyk vir ’n ouditopinie om gekwalifiseerd te wees vir ’n nie-winsgewende organisasie omdat dat dit nie moontlik is vir die ouditeure om te bepaal of skenkings in die vorm van kontant ontvang is en nie aangeteken is nie.

Alhoewel die oudit gekwalifiseerd is, is dit dus die beste uitslag wat ’n nie-winsgewende organisasie kan kry.

Naomi meld dat enige lid op versoek toegang tot die ouditverslag kan kry en stel op rekord dat PEN Afrikaans nie sodanige kontantskenkings ontvang het nie.

Die oudit is gedoen deur LDP, Stellenbosch.

7. Bestuurder se verslag

Catrina doen verslag oor PEN Afrikaans se werksaamhede oor die afgelope jaar. Dit sluit in: ’n artikelreeks oor regskwessies wat skrywers raak, die PEN Afrikaans Vertaalfonds, samewerking met Taalgenoot aan ’n rubriekreeks, PEN Afrikaans se voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, sessies by die Tuin van Digters, sowel as bewusmakingsveldtogte en stellingnames wat in lyn is met PEN Afrikaans se visie, missie en mandaat van lede. Haar verslag is hier beskikbaar.

8. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds  

Hierdie agendapunt is in die bestuurder se verslag gedek.

9. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Hierdie agendapunt is in die bestuurder se verslag gedek.

10. Taalregte: die stand van sake en ’n stemming oor die pad vorentoe

Danie doen verslag oor die situasie rondom taalregte en meertaligheid in ons land. Hy verwys na die vergadering van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte wat hy in Junie in Switserland bygewoon het en waar hy ’n referaat oor dié onderwerp gelewer het.

Die hofsaak oor die US-taalbeleid sal bepalend wees vir die toekoms van moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Die Konstitusionele Hof het die saak uitgestel om tyd te laat vir die hofverslae om vertaal te word.

PEN Afrikaans sal aan die hand van die uitspraak besluit oor verdere stappe in samewerking met mede-taalorganisasies. Lede se insette is welkom.

Daar vind nie ’n stemming plaas nie.

11. Voorstel vir wysiging van grondwet met betrekking tot lidmaatskapvereistes

Catrina stel voor dat PEN Afrikaans se grondwet gewysig word om lidmaatskap nie te beperk tot vaste kategorieë (skrywer, joernalis, uitgewer) nie, maar oop te stel vir persone wat ’n gevestigde belang by PEN Afrikaans se bedrywighede het en aan die ander formele vereistes vir lidmaatskap voldoen.

PEN Afrikaans se fokus bly primêr die Afrikaanse skrywers-, media- en uitgewerswêreld, maar ’n meer inklusiewe benadering tot lidmaatskap sal tot gevolg hê dat persone betrokke by geletterdheidsprogramme of wat in ander hoedanighede in die boekewêreld werk, ook kan aansluit.

Die voorstel word sonder teenstem aanvaar. PEN Afrikaans se grondwet is gewysig om as volg te lees (met die wysiging in vetdruk):

R6 Ordinary membership is open to natural persons with a vested interest in the affairs of the Association, including but not limited to writers, translators, reviewers, analysts, editors (including newspaper, magazine and book editors), publishers and journalists:

R6.1       who endorse the founding principles, beliefs, aims and modus operandi of the Association and subscribe to the principles of the PEN Charter, and:

R6.1.1    whose names appeared on the membership list of the Association on 20 October 2012;

OR

R6.1.2    who have applied for membership in accordance with specific requirements in the prescribed manner as determined from time to time and reflected in the application form [Appendix 1] and whose membership has been approved by the Executive or at a general meeting of members;

AND

R6.2       who have paid the annual membership fee as determined by the Congress.

12. Algemeen

Daar is geen verdere sake vir bespreking nie. Die vergadering word verdaag.

The post PEN Afrikaans AJV 2018: Notule appeared first on LitNet.

Blinde geloof

$
0
0

Blinde geloof

Ons was geleer van God en sy gebod.
Jou naaste sal jy lief het.
Die goewerment is altyd reg.
Politiek word nie genoem
Christene is tevrede.
Group Areas Act is reg.
Van wit beaches bly jy weg.
Hoekom?
Want dis reg.
Dit moet jy glo.

The post Blinde geloof appeared first on LitNet.

Sabbat

$
0
0

Sabbat

Die beste klere hang voor die kas.
Dis die Sabbat.
Die kerkbanke roep
Die kinders ken die reëls
Van stilsit tot saamsing.
Halleluja en amen
Nagmaal en groet.
Vroom gesigte en sagte glimlagte.
Amper klaar
Ons was mos vergewe.
Laat die kattekwaad begin.

The post Sabbat appeared first on LitNet.

Video: ConVerse by die Tuin van Digters

Viewing all 22111 articles
Browse latest View live
<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>