Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 22111 articles
Browse latest View live

US Woordfees 2018: Joernalistiek tussen demokrasie en disaster

$
0
0

Die gedrukte media is op sy sterfbed. Die vraag is nie meer óf gedrukte media gaan verdwyn nie, maar wanneer. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat gedrukte koerante vir alle praktiese doeleindes van die toneel sal verdwyn. Dit was die boodskap van Media24 se uitvoerende hoof, Esmaré Weideman, tydens ’n Woordfees-gesprek oor die toekoms van gedrukte media versus digitale media in die elektroniese era waarin ons leef.

Die tema van die gesprek was joernalistiek tussen demokrasie en disaster.

Weideman was deel van ’n paneel joernaliste wat by die Woordfees gepraat het ter viering van die Universiteit Stellenbosch se 40-jarige herdenking van die Departement van Joernalistiek.

Dit kan korter of langer duur maar die toekoms van joernalistiek is nie meer die gedrukte media nie. Sy sê Media24 het vroeër al gereken die gedrukte media het nog net vier of vyf jaar oor, maar dit kan dalk langer duur.

Die einde van die gedrukte media beteken nie die einde van joernalistiek nie. Die behoefte aan goeie joernalistiek is vandag groter as ooit.

Die paneel van sewe joernaliste was dit eens dat ’n vrye media een van die pilare is wat gehelp verhoed het dat Suid-Afrika se demokrasie die afgelope stormagtige paar jaar van die land se politiek, in ’n ramp verander het.

Die hoof van die departement Joernalistiek aan die US, Lizette Rabe, het gesê ondanks die agteruitgang van die gedrukte media bied die joernalistiek steeds vele uitdagings. Sy is optimisties oor die nuuskantore van die toekoms.

Lizette Rabe

Die noodsaaklikheid van goeie joernalistiek is vandag groter as ooit, het Rabe gesê. Gewone joernalistiek soos wat dit in die ou dae bedryf is, se dae is getel. Die beroep verg vandag talle nuwe vaardighede. Joernaliste moet ook na die publiek luister en het ’n verantwoordelikheid om met hulle lesers in gesprek te tree.

Rabe het gesê joernaliste moet hulself altyd afvra of hulle hul werk goed doen met die minste skade, die grootste mate van onafhanklikheid en of dit wat hulle skryf verantwoordbaar is.

Tim du Plessis het Rabe se standpunt beaam. Hy sê die basis van joernalistiek in Suid-Afrika is stewig. Die rol wat die joernalistiek die afgelope paar jaar gespeel het om korrupsie oop te vlek het dit bewys. Du Plessis het die howe, die media en die burgerlike samelewing uitgesonder as die drie pilare wat die land se demokrasie gedurende die afgelope paar jaar staande gehou het. Hy sê Suid-Afrika kan trots wees oor die stand van joernalistiek in die land.

Tim du Plessis

“Dit is belangrik dat joernaliste nie hulle waaksaamheid sal verslap net omdat daar van Zuma ontslae geraak is nie. Dit is die media se plig om seker te maak die waardes wat die land se grondwet ons bied word ten alle koste beskerm, ongeag wie die land se president is.”

Die res van die paneel het saamgestem mens hoef nie pessimisties te wees oor die toekoms van joernalistiek net omdat die gedrukte media op pad uit is nie. Die digitale era bied nuwe uitdagings aan joernaliste.

Dit bly egter van kardinale belang dat joernaliste moet seker maak die inligting wat hulle met die lesers deel is betroubaar en geverifieer.

Foeta Krige gesels met George Claassen.

Media24 se ombudsman, George Claassen, het gesê die media het die bal laat val tydens Kaapstad se waterkrisis. Daar is te min joernaliste met die nodige wetenskaplike kennis om verantwoordbaar te berig oor sake van wetenskaplike aard. Daar is onder meer gesê daar was te lank toegelaat dat die stadsraad van Kaapstad aan die media dikteer wat die publiek moet weet. Die uitdaging vorentoe is om waaksaam te wees en nie toe te laat dat politici, amptenare of belangegroepe aan die media vertel slegs wat hulle wil hê die publiek moet weet nie.

Claassen het ook gesê daar moet meer verdraagsaamheid wees in die media. Die dilemma is egter om verdraagsaamheid uit te balanseer met die magdom stemme wat dikwels geen bydrae tot die gespek lewer nie soos blyk uit baie van die kommentare onder aan koerante se webwerwe.

Martie Retief-Meiring en Jean Oosthuizen

Die SABC as openbare uitsaaier het ook tydens die bespreking ter sprake gekom. Die paneel sowel as die gehoor was skerp krities oor die manier hoe die openbare uitsaaier misbruik kan word. Een van die sogenaamde SAUK-agt, Foeta Krige, was ook in die gehoor. Hy het gesê die feit dat daar van Hlaudi Motsoneng ontslae geraak is, beteken nie al die openbare uitsaaier se probleme is skielik opgelos nie. Baie van Motsoneng se senior aanstellings is steeds by die SABC werksaam. Joernaliste wat vir die organisasie werk moet waaksaam bly en op hulle hoede wees dat hulle nie misbruik word vir spesifieke agendas nie.

Isabeau Botha, Marita van der Vyver en Jomarie Dick.

Foto's: Gerrit Rautenbach

The post US Woordfees 2018: Joernalistiek tussen demokrasie en disaster appeared first on LitNet.


US Woordfees 2018: Pieter en die wolf, gedagtes van ’n ma

$
0
0

’n Mens moet sonder te veel verwagtinge by ’n partytjie opdaag. Verwagtinge veroorsaak spanning, plaas druk op menseverhoudings.

Maar partykeer is dit onvermydelik.

Prokofiev se Pieter en die wolf was oorspronklik ’n opdragwerk, bedoel om die kinders van 1936 deur middel van storie en musiek van die verskillende musiekinstrumente in ’n simfonieorkes te leer.

My verwagtinge van die produksie was dat ek my kinders die verskillende instrumente wou laat hoor en sien en dit aan die storie en die diere koppel. Selfs al ken hulle dit reeds. Ek het my kinders al Pieter en die wolf laat luister, maar ons het nog nie ’n lewende orkes die werk hoor uitvoer nie.

Die US Woordfees bied ’n besonderse platform vir hierdie produksie. Die hele Coetzenburgstadion is die gehoor se spasie. Hier kan letterlik ’n gehoor van duisende kinders kom luister vandag. Die produksie vorm deel van die Familiedag op Saterdag 3 Maart. En almal wat hier is, kan ook ’n uur of wat later luister na ander populêre musiekgroepe wat kom optree. Die Familiedag is beplan sodat daar musiek speel wat in almal se smaak sal val.

Dis ’n kunstefees en ’n universiteit hierdie wat ’n naweek vantevore ’n grootse produksie aangebied het om die inwoners van hierdie dorp aan mekaar voor te stel deur die produksie 100% Stellenbosch. Dis ’n fees wat moeite doen om geleenthede te skep.

Dit is waarom dit my hart breek om die opkoms te beleef. Dalk is dit omdat die stadion so groot is, maar die gehoor is so klein. Daar is regtig te min mense. Die son is wel daar in al sy glorie.

Philip de Vos is ook daar, ewe aanwesig as die son, en hy is in alle opsigte die ster van die vertoning. Sy manier om die storie van Pieter en die wolf te vertel is fantasties. Hy het die storie humoristies en treffend in Afrikaans oorgeskryf en hy dra dit aan die gehoor voor.

“Weet julle wie hierdie man is?” wil ek vir die kinders wat rondom my sit, vra. Besef julle dis geskiedkundig om hom te hoor voorlees? Sy werk vandag hier te kan beleef? Dis besonders. Hy is ’n woordkunstenaar. Hy is talentvol en dalk duik daar nooit weer so ’n geleentheid op nie. Waardéér hierdie oomblik.

Wat die musiek betref: krediet aan die orkes vir die spel. Erkenning aan elke individuele speler wat die instrument se kenmerkende wysie moes speel. Dit was professioneel, die uitvoering was van goeie gehalte.

Daar was groot skerms waarop die orkes en die dirigent geprojekteer is. Dit was moontlik om telkens die instrument wie se kenwysie gespeel is, aan die gehoor te vertoon. Ek dink nie dit sou die gehoor se algemene kennis onderskat het om te sê: “Dit is Pieter se instrument – die viool; so lyk dit en dit is hoe dit klink” nie. In plaas daarvan het die gehoor byvoorbeeld die vioolspel net (wel duidelik) gehoor, maar nie die instrument gesien vanaf die groot veld waar ons gesit het nie.

Dalk kon die betrokke instrumentalis opgestaan het om sy wysie op die instrument te speel, of sy instrument te vertoon?

Van verwagtinge gepraat. Agter die orkes, op ’n groot skerm, was daar ’n bewegende beeld geprojekteer. Daar was ’n animasiebeeld, asof die gehoor uit ’n trein se venster na ’n heining en ’n tuin met plante en skoenlappers kyk. Die trein ry en ry en die skoenlappers fladder.

Die beeld is mooi en dis werklik interessant saam met die orkes. Maar die visuele element skep die verwagting dat die karakters van die Pieter en die wolf-storie nou enige oomblik ook te voorskyn gaan kom.

In plaas daarvan hou die trein net aan met ry en ry. Dit kan seker wees dat die gedagte nie bedoel was om vir die kinders te interpreteer nie. Daar is sekerlik ruimte vir die verbeelding. Maar tog, in ’n verhaal soos hierdie is daar definitiewe karakters. Daar is ’n seun, daar is ’n wolf, en daar is jagters en ’n oupa en ’n eend en ’n kat. Waar is hulle, tussen die blomme en agter die heining? Die gehoor wag dat hulle hul opwagting maak.

’n Mooi helder beeld op ’n skerm verdien erkenning vir ’n kreatiewe kombinasie van musiek en beeld. Maar daardie mooi helder beeld moet saamhang met die musiek. Wat is die doel van hierdie bewegende animasie? Hoe versoen dit met die musiek?

Na afloop van Pieter en die wolf moet ons die terrein na ander afsprake verlaat.

Op ’n ander verhoog speel Georgetown, ’n groep uit Johannesburg met ’n folk-klank. Hulle eerste note laat my kinders vra of ons langer kan bly, maar ons moet daar weg, anders is ons laat. Ek berou die volgende afspraak. En hoor die hoofsanger van die groep vra: “Weet die mense daar is vandag ’n fees hier op Coetzenburg?”

Dis ’n hartverskeurende vraag om te vra.

Hier is die musiek. Waar is die mense? Is die lewe nou te duur?

Ten slotte: later die middag, by die huis, hoor ek steeds Pieter se vioolkenwysie in my kop draai. Na ’n rukkie besef ek dis nie net in my verbeelding nie. Dis my dogtertjie wat dit sing.

Ten spyte van al my volwassene-verwagtinge, het Pieter en sy musiek tog wel saam met my kind huis toe gekom.

The post US Woordfees 2018: <em>Pieter en die wolf</em>, gedagtes van ’n ma appeared first on LitNet.

Om te twyfel

$
0
0

Desmond Painter (Foto: Izak de Vries)

Hierdie is die eerste aflewering van ’n gereelde rubriek wat ek vir LitNet sal skryf, en dit laat my met ’n gevoel van vertwyfeling.

Nie omdat ek nie weet waaroor om te skryf nie. Dit is juis die probleem: ek het pasklaar idees oor allerlei, en ek is nie bang om hulle uit te spreek nie. Ek word daagliks deur Facebook se Memories-funksie herinner aan halfgebakte, voortydige en dikwels onregverdige menings wat ek deur die jare daar gedeel het. Gewoonlik getik in ’n vlaag van irritasie; dikwels aangebied in ’n toon van vingerswaaiende teregwysing.

Dit is natuurlik een van die kenmerke van die tyd waarin ons leef. Die afgelope dekades se revolusies in inligtingstegnologie en veral sosiale media het nie net bygedra tot ’n grootskaalse demokratisering van deelname aan openbare diskoers nie (alhoewel, dit is natuurlik ’n toenemend gefragmenteerde openbare domein, gekenmerk deur enklaves van eendersdenkendheid, kru identiteitspolisiëring, en ’n moraliserende politiek van beskaming), maar ook tot die relativering van die inhoud van diskoers. Wat is feit en wat fiksie? Wat is waarheid en wat leuen? Hoe besluit jy na wie om te luister, en wie om te glo, in die nimmereindigende lawaai van stemme?

Kom ons noem dit die era van die opinie. In ’n landskap waar tradisionele opvattings oor gesag omvergewerp is en almal met ’n slimfoon toegang het tot ’n platform – en meer nog, diesélfde platforms waarna die magtigstes onder ons, die Zilles en die Trumps, hulle ook wend – is die epistemologiese slagspreuk van ons tyd dalk inderdaad die ikoniese woorde van The Dude in die Coen-broers se kultusklassieke rolprent The Big Lebowski: “Yeah, well, you know, that’s just like your opinion, man ...”

Die relativering van voorskriftelike gesag en alle vorme van establishment, kerklik, polities sowel as wetenskaplik, is natuurlik op vele maniere aantreklik. Die idee dat ons vir onsself kan dink en besluit, en boonop die middele het om ons stem te laat opklink, maak van elkeen van ons ’n potensiële “meningsvormer” – of gee ons ten minste toegang, gewoonlik in die vorm van internetbemiddelde menigtes (mobs), abstrakte groepe wat tydelik gevorm word rondom een of ander politieke knelpunt of morele paniek, tot wat vroeër culture jamming genoem is: die omverwerping, verwerping en soms herontplooiing van outoritêre simbole, amptelike boodskappe en die betekenisse van woorde.

Terselfdertyd is ons uitgelewer aan opportunistiese misbruik van iets wat nie slegs die kulturele veralgemening van The Dude se individualistiese bravade is nie, maar ’n soort sistemiese relativisme: Facebook, Twitter, die kommentaarkolomme onderaan artikels en berigte wat aanlyn gepubliseer, gedeel en gelees word, moedig nie bloot gesprek aan nie, maar ’n gelykstelling van menings. En daarmee saam ’n radikale versplintering van die regulatiewe idee van die waarheid. Dit wat eers gewoon mistasting was, word ’n alternatiewe wetenskap. Dit wat eers net politieke of historiese leuen was, word alternatiewe feit. Dink aan die hardnekkigheid van menings dat inentings by kinders kousaal verbind kan word aan outisme. Dink aan Donald Trump ... Of Helen Zille se stellings oor kolonialisme en Steve Hofmeyr s’n oor apartheid.

’n Mens sou Thabo Mbeki, wat in die middernagtelike ure op die internet afwykende sienings oor MIV ontdek, dalk nog as ’n slagoffer van hierdie tendens kon sien, maar wanneer Donald Trump verwys na “fake news”, weet jy hy het dit reggekry om van die waarheid as sodanig ’n retoriese figuur en ’n politieke speelbal te maak. Is ons in die era van die opinie inderdaad, soos baie beweer, postwaarheid?

’n Mens moet versigtig wees vir reaksionêre response op hierdie wilde weste van wedersyds antagonistiese menings en die relativering van waarheid. Die neiging is te dikwels om simplisties terug te verlang na ’n era van kundigheid, van oorgelewerde gesag, van duidelike hiërargieë van kennis en opinie; en om terug te val op onkritiese beskouings van die wetenskap, liberaal-demokratiese instellings en praktyke, en die tradisionele media. So asof die intense era van maatskaplike kritiek – dekolonialisering en feminisme, marxisme en postmodernisme, en so baie ander – niks bygedra het tot ons morele en politieke verbeelding nie behalwe om die teelaarde te skep vir die relativisme van ’n Trump.

Dit bring my terug by my vertwyfeling. Wat is die doel van ’n rubriek soos hierdie? Om ook mý mening te lug? My stem te voeg by al die ander stemme wat daagliks gehoor word? Om ’n mediaprofiel te bou? (Want selfs die universiteite besef húlle kennisbronne, die professor met sy navorsing, die artikels en die patente, moet bemarkbaar en mededingend gemaak word.) Of is dit om myself te vestig as ’n soort arbiter van die waarheid binne die grense van die vakgebied waarin ek grade en ’n akademiese posisie het?

Nee. Alhoewel ek nie meegesleur wil word deur die gelykmakende stroom van opinie nie, wil ek ook nie ’n intellektuele wetgewer wees nie. My doel hier is nie om waarheid te onderskei van leuen, feit van fiksie nie. Ek wil eerder getrou bly aan my vertwyfeling, dit as kritiese bril dra. Eerder as om te onderskei tussen regte en verkeerde antwoorde op vrae, wetenskaplike teenoor kwasiwetenskaplike oplossings, wil ek wonder oor die vrae wat ons vra – waar hulle vandaan kom, wie hulle vra, en in wie se belang hulle, wetenskaplik sowel as kwasiwetenskaplik, gevra en beantwoord word.

Is die rol van die kritiese bewussyn dan nie by uitstek om die historiese en ideologiese aard van wat bestendig, en veral natuurlik, skyn te wees, te dissekteer nie? Om die vloeibaarheid en onvoltooidheid van die wêreld rondom ons, dit wat soms ons mees vertroude waarhede skyn te wees, raak te sien nie?

Om te twyfel.

The post Om te twyfel appeared first on LitNet.

Die dag toe die Jukskei homself weer laat geld het

$
0
0

Elke af en toe word die mens tot verhaal geroep. Soos nou met die greep van droogte waarin ons land verkeer en dan ook soos onlangs met die Knysna-brande. Dit laat mens dink. Dit maak mens klein. Feilbaar. Want die graad van verwoesting en lyding kan nooit net misgekyk, omgeblaai en vergeet word nie.

So ook nie die verwoesting toe die Jukskeirivier einde voorverlede jaar sy walle oorstroom het nie. Die skade was niks wat ek my sou kon ingedink het nie. Oral aan die een oewer was sink en hout en seil met bos en boom verstrengel. ’n Groep mans was besig om ’n voertuig onder sand en modder uit te sleep. Jy sal nie glo nie, sê die een, hierdie bakkie was net die vorige dag hier geparkeer. Dit lyk nie so nie, want die voertuig was aan die binnekant vol grond en modder. Ander het hul tyd verwyl deur plank en vervormde sink bymekaar te gooi. Talle gesinne was net besig om hul deurweekte goedjies op hopies bymekaar te gooi. Groot groepe mense het weer net rondgestaan. Verslae. Verwonderd. Dit was ’n nuwe dag. Die uur van verwoesting was verby. Maar midde hierdie deurmekaar prentjie was daar ook reeds ’n ander soektog geloods en aan die gang. ’n Kind was soek. Weg. Meegesleur.

Die kind se naam het ek eers later gehoor. Everlate. En ook haar van. Chauke. En sy het ouers. Chadrack en Cynthia Chauke. Hulle is afkomstig van Chikombedzi in Zimbabwe, maar het meer as tien jaar gelede hierheen gekom op soek na ’n beter lewe. ’n Beter lewe, so vertel Chadrack, wat die volgende dag ’n paar honderd meter van die wal van die Jukskei gehuisves was in ’n baie knap, maar veilige, sinkwoning. Buite het die donderweer steeds geraas en die reën het ook weer begin val. Dit was die laaste ding waaroor Chadrack en Cynthia hulle nou sou bekommer. Hul kind was weg. En vir eers was hulle veilig. Veilig, maar nooit alleen nie. Geen stille oomblik om oor hul verlies en ook oor die verskrikking van die vorige aand te tob nie. Hul kind was weg, dalk dood, en die media stroom met reëlmaat by die klein sinkwoning in en uit. Daar word foto’s geneem en aanhoudend vrae gevra. Dit kan nie anders nie. Die storie moet uit. Die wêreld moet weet. ’n Kind is weg.

Vanoggend word kos gebring. Vars gekook. Gebottelde water. Dis net Cynthia, die ma van klein Everlate, wat stil bly sit in haar sitplek. Haar oë beweeg, haar kyk is amper leeg, gestroop. Afgestomp. Die tydjie wat ek daar saam met hulle in die groen sinkhuisie is, praat sy nie één maal nie. Sy sit daar en speel met die plastiekvurkie deur die skepsel varsgekookte rys in haar bakkie. Ek hou haar hande dop. My oë wat nie rêrig met hare wil kontak maak nie. Wat gaan deur ’n ma se kop as sy so sit? Wat sien haar oë? Maak enigiets vir haar op die oomblik sin? Ek weet nie. Ek kan nooit weet nie. Dis net Chadrack Chauke wat moedig dieselfde vrae bly beantwoord. Hy is hartseer. Hy is die hoof van sy gesin. Sekerlik voel hy dat hy sy kind versaak het, hierdie bloedjie van hom wat ten tye van die verwoesting saam met hom in die boom skuiling gesoek het. En toe is sy nie meer daar nie, net nie meer dáár om aan sy hand te klou nie. Moedig probeer hy die media in die oë kyk. Op ’n manier is dit vir my makliker om hóm in die oë te kyk. En ek kyk, maar ek kan nie ophou wonder wat dit is wat sy oë vir sy vrou sê wanneer hulle na mekaar kyk nie?

Ek druk tussen die mense deur by die deur uit. Die lug daar binne het té swaar vir my geword. En soos ek uitsukkel, sukkel meer mense om die skuiling binne te gaan. Buite sing ’n groep vroue. Dis ’n hartseer dag. Vir almal. Meer voertuie trek op om groente en vrugte en kospakkies af te lewer. Meel. Mieliemeel. Komberse. En ook tweedehandse klere. Dit word ’n showdown van vrygewigheid, want mens kan nooit té veel politieke punte aanteken as hierdie soort ding hom voordoen nie. Plakkate word rondgeswaai. Meer dreunsang. En nog meer baniere. Ook die President en sy trawante kom onder ’n swart laken van weelderige motors en swaargewapende lyfwagte aan. Almal soek waar hulle kan score. En intussen, weg van hierdie gedruis, word daar steeds na klein Everlate Chauke gesoek.

Ek stap weer af oewer toe, na die Stjwetla informele nedersetting. Oral staan mense steeds rond. Die brug oor die Jukskei dien nou as wasgoedlyn vir die volk se nat matte en komberse en klere. Wat veral opval, is die derduisende ton bouafval en rommel wat op die oewer gestort lê. Jy moet omtrent mooi trap om jou weg te vind tussen stukke teëls en boublokke en elke denkbare stuk gemors wat afval genoem kan word. So probeer hulle van die rivier steel, hoor ek ’n omstander sê. Die grond word so gelykgemaak en dan kan hier gewoon word. Dis maar hoe dit hier gedoen word, sê hy.

Aan die bo-ent bottelnek die Jukskei van die tonne bouafval. Dis nie ideaal nie. Nooit nie. Nie vir lopende water wat altyd maar die kortste en maklikste roete volg nie.

Die rivier is heelwat kalmer. Tussen die verstrengelde oorblyfsels van wat die vorige dag nog ’n huis, ’n woning, ’n hawe, ’n drinkplek of skuiling was, soek ’n ander man na sy ID-boekie. Dis al waarna hy vandag soek, sê hy. Hy het dit nodig. Hy moet werk soek. Hy móét hierdie gemors bly fynkam. Sonder ’n ID is hy niemand. Seker so, maar intussen was daar steeds ’n groter soektog aan die gang. Everlate Chauke wat met die afkom van die rivier meegesleur was.

“Almal staan dan net rond. Dit lyk nie of enigeen na die kindjie soek nie,” hoor ek haar hier langs my praat. Hierdie vrou met die kopdoek wat vanmôre deur haar organisasie daarheen gestuur was om te help.

“Die reddingspanne soek sekerlik verder af,” antwoord ek haar. “Hulle het blykbaar klaar dié area gefynkam.”

“Wat as hulle nie reg gekyk het nie? Wat as sy tog hier iewers is?” Die vrou beweeg ’n paar treë voor my uit. Ek laat haar begaan. Want wat meer kon ek sê of doen om die moedeloosheid op die gesig weg te vee. Dis dan wanneer die vrou by ’n nat en ou matras gaan staan en die ding se punt probeer oplig. “Wat as sy tóg hier iewers is? Wat as hulle die liggaampie misgekyk het?”

Haar soeke onder die matras lewer niks op nie. Die kind is weg. Ek sien haar ’n traan wegvee. Hierdie vrou is ook ’n moeder.

“Almal is hier om die storie te dek, maar ek sien niemand wat rêrig na die kind soek nie,” praat sy toe sy weer by my aansluit. Ek knoop my hart vas. Ek huil self. Binnetoe. ’n Paar meter van waar ons staan, het die Jukskei het sy “nuwe” gang gegaan. Kalm. Maar steeds stuwend.

Soms wonder mens hoe word hier gelewe. Hoe maak hierdie mense ’n bestaan? Dis omtrent nooit die regte vraag om te vra nie, want hier op die oewers van die Jukskei wórd daar gelewe, en hárd gelewe. En dit is ook nie die eerste maal dat die Jukskei hier by Alexandra sy grond probeer terugvat nie. Dit sal ook nie die laaste maal wees nie.

Die soeke na die jong Everlate Chauke het godgenadiglik dae later geëindig toe haar liggaam in Buccleuch, noord van Johannesburg, gevind is. Vandag onthou ek steeds daardie prent van verwoesting wat my in Alexandra begroet het. En die lewe in Alexandra het sekerlik stadig weer tot “normaal” teruggekeer. Maar daardie beeld van die vrou wat onder ’n matras na die kleine Everlate gesoek het en dan ’n traan stort ... Dit sal my ewig bybly.

The post Die dag toe die Jukskei homself weer laat geld het appeared first on LitNet.

Brand deur Peet Venter: ’n resensie

$
0
0

Brand
Peet Venter
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386141

“Busse en treine wat brand, en skole. Fees must fall. Dekolonisasie. Universiteitsgeboue brand. ’n Biblioteek. Suid-Afrika word ’n land van vuur. Hoekom brand die mense dinge as hulle kwaad is?” (bl 33)

In die jongste aflewering van die Thys Krige-sage skets Peet Venter ’n ontstellende prentjie van regeringskorrupsie en -komplotte wat gans té bekend lyk ...  Brand is Venter se vyfde boek in die Thys Krige-reeks en in dié roman loop die spanning hoog!

Die enigmatiese, hardnekkige Krige beland kniediep, en sonder dat hy werklik wou, in ’n web van leuens en afpersing. President Zondo en kie het een doel voor oë: ’n land waar alleenheerskappy seëvier. En hoe hoop hulle om dít te bewimpel? Deur die spanning in die land tot nuwe hoogtes te dryf, ’n noodtoestand af te kondig, die verkiesing uit te stel en sodoende te verseker dat die president bankvas in sy magsposisie bly. Krige probeer die web ontrafel en besef  dat daar met traangasgranate en basiese hulpbronne gekonkel word om verdere chaos te saai. Die land brand.

Tussendeur veg hy verbete teen sy eie donker kant wat dreig om sy lewe te oorskadu en hy moet boonop probeer sin maak van sy gevoelens teenoor drie uiteenlopende vroue: Karen, Liesl en Delaré.

Krige se verhouding met sy halfsuster, Karen, is gekompliseerd, onverstaanbaar en hy sukkel om sy eie gevoelens te peil. Tussen hom en die gestremde IT-ghoeroe, Liesl, lyk dit asof daar ’n liefdesvlammetjie begin brand en die leser wil-wil hoop kry dat dié vlammetjie dalk die donker in Krige kan verlig. En dan is daar die impulsiewe Delaré Brand wat Krige se lewe op haar ysterperd binnery en met haar reël-virtuele bewussynteorie en psigo-wiskunde dinge verder kom deurmekaarkrap.

Voeg daarby ’n buitelandse familie met ’n hele paar vingers in die regering se geldpastei, protesoptredes wat in algehele chaos ontaard, aksietonele wat jou na jou asem laat snak én ’n grusame moord (of twee) en jy sit met ’n naelbyt-lekker storie en ’n snaarstyf spanningslyn!

Venter vervleg ook tientalle sielkundige teorieë, veral dié van Freud en Jung, soomloos met die verhaalgebeure om die leser ook introspeksie te laat doen. Die donkerweb vol duisterhede, soos “dwelmhandel, mense- en wapenhandel, sluipmoord, terrorisme, kinderpornografie” (bl 47), roep Freud se idees oor die menslike psige en die onbewustelike vol “vrese, manies, fobies, irrasionele fantasieë, immorele drange, siek seksuele fantasieë” op (bl 47). Verder word die spel tussen Jung se begrippe van lig en donker, positief en negatief deurgaans met die storielyn vervleg en die leser sien later hoe die donker kant in sekere karakters oorwin.

Krige en sy skop-en-trap-skoene (bl 158) is die toonbeeld van ’n aksiefliekheld – sy optrede is onvoorspelbaar, hy is onmoontlik dapper en hy laat hom nie deur enigiemand stuit nie. Die ontwikkeling van al die karakters in Brand is meesterlik gedoen en elke karakter kry ’n outentieke stem.

In hierdie roman word ’n hele rits geheime onverbiddelik blootgelê en die grense tussen reg en verkeerd word telkens uitgedaag. Sal Krige en Delaré se blootleggings enigsins help om die brand in die land te blus? Is daar werklik iets soos verbode liefde en is die gevolge daarvan regtig so erg soos wat die samelewing ons laat glo? Is dit moontlik dat die mens se ligkant sy skadukant kan troef? Oor dié vraagstukke kwel jy jou tot aan die einde van hierdie roman. En wees gewaarsku: Jou nerwe sal tot op die laaste bladsy aan flarde wees en dis hoogs waarskynlik dat jou dagtake agterweë sal bly vir die volle duur van dié roman –Venter sorg dat Brand moeilik neergesit word.

The post <i>Brand</i> deur Peet Venter: ’n resensie appeared first on LitNet.

US Woordfees 2018: INK gratis beskikbaar – Uitgawe een

US Woordfees 2018: Gespreksgenoot: ’n brieweboek

$
0
0

 

Haar aanvanklike opdrag was om ’n biografie te skryf oor die lewe van die legendariese letterkundige en akademikus, Elize Botha maar toe word dit ’n lywige brieweboek waarin Botha in haar eie woorde self haar storie vertel.

So het die Potchefstroomse akademikus Heilna du Plooy tydens ’n gesprek by die Woordfees vertel hoe dit gekom het dat lesers in haar boek toegelaat word om in Elize Botha se eie woorde oor dekades heen te deel in die gesprekke wat sy met verskeie kleurvolle Suid-Afrikaners gehad het.

Du Plooy het die verhoog gedeel met een van Elize Botha se dogters Liesbeth. Nadat Du Plooy reeds sowat drie jaar navorsing gedoen het met die oog daarop om Botha se biografie te skryf, het sy besef dit sal beter wees om Botha self deur middel van haar ryke versameling briewe aan die woord te stel.

Die resultaat is ’n lywige bundel van sowat 700 bladsye wat bestaan uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het oor die jare met Botha gekorrespondeer.

Liesbeth Botha
Foto: Naomi Bruwer

Al die briewe wat in die boek verskyn is ongesensor en ongeredigeer. Du Plooy sê daar is doelbewus besluit om die briewe net so te plaas omdat dit nie meer Botha se eie stem sou wees as sy enigsins daaraan verander het nie.

Sommige van die briewe handel oor resensies en rubrieke waarin skrywers hulle misnoeë oor die resensies van hul werk in geen onduidelike taal teenoor Botha uitgespreek het nie.

Die agting wat Botha by oud en jonk afgedwing het en haar toeganklikheid blyk uit die wye verskeidenheid mense met wie sy deur haar lewe gekorrespondeer het; van mense soos NP van Wyk Louw tot Koos Kombuis.

Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag.

Botha se dogter sê haar ma se lewe het oor boeke gegaan en na haar dood was daar 115 meter boekrakspasie vol boeke in hulle huis. Sy het ook verskeie trommels met briewe nagelaat omdat sy baie sentimenteel was en dit nooit wou wegmaak nie.

Volgens die digter Lina Spies was die herlees van die korrespondensie tussen haar en Botha ’n nuwe kennismaking met haar eie jong self.

Liesbeth sê haar ma was ’n baie emosionele mens en het ’n lewe van dankbaarheid gelei. Haar groot vreugde in die lewe was boeke en mense. Soms het sy ook neerslagtig geraak maar sy het die vermoë gehad om haarself uit ’n depressie te skryf wanneer sy met haar vriende gekorrespondeer het. Sy het elke mens met wie sy te doen gekry het spesiaal laat voel. Daarom het selfs jonger skrywers so groot aanklank by haar gevind. 

Liesbeth het vertel hoe sommige van die jonger en soms omstrede mense voor die tyd by haar ma gaan bieg het “dat hulle gaan kak aanjaag” omdat hulle haar volkome kon vertrou en as klankbord kon gebruik.

Heilna du Plooy lees voor uit Gespreksgenoot
Foto: Naomi Bruwer

Botha was professor, redakteur van die Tydskrif vir Letterkunde en boonop die eerste vroulike bekleër van die voorsitterskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns én die kanselierskap van die Universiteit Stellenbosch.

In die eerste deel van die boek Gespreksgenoot: ’n brieweboek wat deur Litera Publikasies uitgegee is verskyn briewe aan en van gewyde name soos NP van Wyk Louw (onder wie Botha haar doktorale studie in Amsterdam voltooi het), Elisabeth Eybers, die Oppermans, Audrey Blignault, Elise Muller en Alba Bouwer. In deel twee kom die daaropvolgende geslag, onder wie Hennie Aucamp en Lina Spies, aan die bod. In deel drie en vier is dit die jong Turke soos Joan Hambidge en Koos Prinsloo wat met Botha in gesprek tree.

 

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Gespreksgenoot: ’n brieweboek

The post US Woordfees 2018: <i>Gespreksgenoot: ’n brieweboek</i> appeared first on LitNet.

US Woordfees 2018: Fotoblad 1

$
0
0

Die ANC se nuwe besem

Gesprekleier: Tim du Plessis

Die nuwe ANC-leier wat in Desember verkies is, is Suid-Afrika se ekwivalent van ’n aangewese president, ’n gesalfde troonopvolger. Sal die party se afwaartse trajek nou gestuit en selfs omgedraai word? Wat kan ons te wagte wees wanneer dié nuwe ANC-president in Tuynhuys en die Uniegebou intrek?

Met: Joel Netshitenze (ANC, NUK-lid), Melanie Verwoerd (oud-ANC LP en ambassadeur) en Theuns Eloff (FW de Klerk-stigting)

Tim du Plessis, Joel Netshitenzhe, Melanie Verwoerd en Theuns Eloff

Joel Netshitenzhe en Melanie Verwoerd

Tim du Plessis

Theuns Eloff

Elsa Joubert: Spertyd

Ter viering van haar 95e verjaarsdag en die publikasie van die slot van haar outobiografiese trilogie, voorafgegaan deur ’n Wonderlike geweld en Reisiger, het Ena Jansen ’n eksklusiewe onderhoud met Elsa gevoer, wat in Berghof-aftreeoord opgeneem is waar die boek ook afspeel. Dié onderhoud word uitgesaai, waarna Ena ook met Elsa se seun, Nico Steytler, en haar uitgewer, Etienne Bloemhof, gesels.

Ena Jansen en Elsa Joubert se seun Nico Steytler

Elsa Joubert se uitgewer, Etienne Bloemhof

Tant Anna en die 25 Shakespeare-sonnette

Op 80 het Anna Neethling-Pohl, dramadoyenne en skoonsuster van NP van Wyk Louw, 25 van Shakespeare se sonnette in Afrikaans vertaal – ‘om te wys ek kan’. Dié gedigte is nou op CD beskikbaar, voorgelees deur Karin Hougaard. Sy gesels oor die projek se ontstaan met Ingrid Glorie, koördineerder van die Week van de Afrikaanse roman, en lees gedigte voor.

Ingrid Glorie en Karin Hougaard

Karoogesprek

’n Musiekkunstenaar, skrywer, organiseerder van boekfeeste en fotograaf vertel watter rol dié magiese, droë stuk aarde in hulle werk speel. David skets die agtergrond van die bekende Karoo Kitaar Blues en van die liedjies op sy nuwe CD, Wakkerslaap, Eben lees voor uit sy roman Groen soos die hemel daarbo, Darryl (die enigste Indiër-dosent van Afrikaans in Suid-Afrika) vertel van sy Karoo-feeste soos BoekBedonnerd, en Louis gee ’n voorsmaak uit sy nuwe koffietafel-fotoboek, Karoo.

Darryl David

Eben Venter

David Kramer

Louis Botha

Ramaphosa – Behind the enigma

What does Ray Hartley's Ramaphosa – The Man Who Would Be King say about the enigma that is the new ANC president – ambitious, charming, a born negotiator, astute businessman, the boy who at a young age told his friend that he would one day be president?

In this centenary year of Nelson Mandela, who anointed him as his successor, everyone wants to know: Does he have what it takes to turn SA around?

Max du Preez will lead the discussion with Hartley, Cape Talk's Koketso Sachane and former Sky News anchorman Jeremy Thompson.

Max du Preez

Jeremy Thompson

Ray Hartley

Koketso Sachane

The post US Woordfees 2018: Fotoblad 1 appeared first on LitNet.


A few thoughts on win-win partnerships, nationalisation of land by the state and the expropriation of land without compensation

$
0
0

Christo van der Rheede (foto: Naomi Bruwer)

I’ve travelled the length and breadth of South Africa for the past decade, and continue to be intimately involved in people development within the educational, cultural and economic spheres.

My current job entails transformation in the agricultural sector, and what a privilege it is to be part of so many agricultural projects that are successful. In all instances, such success is the end result of win-win partnerships between black, coloured and white farmers who respect and care for each other.

However, I’ve also seen many agricultural projects that have failed. Once thriving farms are destroyed due to a lack of support and expertise, mismanagement, corruption, lack of partnerships and conflict between beneficiaries.

A critical success factor that runs like a golden thread throughout the many successful agricultural projects is ownership of land. For many black and coloured farmers, this issue is the biggest constraint, because the land on which they farm cannot be used as security to access finance.

Current policy pronouncements by the EFF and the ANC sadly, though, dismiss or question the concept of private ownership. This, for me, is a critical building block for economic freedom and wealth creation!

Nationalisation of land, as proposed by the EFF, means that the state becomes the owner of all land. Existing title deeds constituting evidence of a right, especially to ownership of property, will be nullified. The economic implications for every citizen who owns the land on which his house, factory, shop, etc is built, and where retail, manufacturing and farming operations, for example, are practised, will be dire.

Most people use their properties as security to borrow money from banks, and municipalities depend on the rates and taxes they collect from all property owners to build and maintain infrastructure.

For our treasury, which already faces a shortfall of R48 billion, the additional burden of also compensating municipalities for the loss of income from rates and taxes will result in the need to increase taxes to avoid a complete collapse of municipalities.

It is clear that, should the state become the owner of all land, it will put South Africa on a path of economic decline from which it will never be able to recover. And, while the rich will be able to emigrate and shift their money to other countries, ordinary South Africans, and especially the poor, will bear the brunt!

Many of our state institutions, such as public hospitals, schools, colleges, etc, and farms that are under the control of the state, are barely functioning and, as such, perpetuate and deepen the hardship our people endure on a day to day basis.

And, while so many people pin their hopes on accessing land for agricultural purposes, it’s clear that the proposed changes to the constitution to expropriate land without compensation will only benefit the politically connected. This has been the case for the past twenty years, and it will be no different in the event of large scale land expropriation, due to deeply rooted corruption, political patronage and incompetence.

The Agri-Phakisa initiatives, which are based on chapter six of the NDP and which are the result of intensive engagement between all government departments, agricultural labour unions, organised agricultural bodies, universities and leading agricultural policy makers, developed in-depth and comprehensive project plans related to land reform, farmer development, rural development, farmworker skills development, farmworker housing ownership plans, etc.

These plans were developed to transform the agricultural landscape in a methodological and sustainable way, in order to ensure people development, restoration of their dignity, food security and job creation! Why not implement them as a joint project between the public and private sectors under the custodianship of all of our political parties?

Sadly, though, some of our political leaders are hell-bent on stoking racial division and hatred, instead of bringing people together to work as Team South Africa for the greater good! So, too, are extremist right-wing groups who are fuelling fear, and the handful of lunatics who are threatening each other with war talk. No land grabs or illegal occupation of land has taken place thus far, which leaves the door wide open for constructive engagement between organised farmer unions and the government.

Visionary and statesmanlike leadership is now required, such that will not compromise with any attempt to change the national constitution to allow for expropriation without compensation and the nationalisation of land – because it is not in the interest of our people. Instead, it will bring about greater uncertainty, deter foreign investment and result in economic havoc and untold suffering!

For the corrupt and political opportunists, such ill-fated policies create the perfect breeding ground for self-enrichment at the expense of our citizenry, and for consolidating their power base, based on nepotism, partisanship and patronage!

Let us not be fooled by populist rhetoric that raises more questions and that provides no answers!

We do have the agricultural plans jointly developed by role players in the agricultural sector, which are based on chapter six of the NDP! The government forked out millions to get all role players around the table to devise workable and implementable plans.

The successful implementation thereof should be our first priority! Why it isn’t is beyond anyone’s grasp!

  • Christo van der Rheede is Deputy executive director of Agri SA

 

The post A few thoughts on win-win partnerships, nationalisation of land by the state and the expropriation of land without compensation appeared first on LitNet.

US Woordfees 2018: INK gratis beskikbaar – Uitgawe twee

US Woordfees 2018: Kook & Geniet – foto's

$
0
0

Na al die jare is SJA de Villiers se Kook & Geniet steeds ’n topverkoper en het dit ook ’n suksesvolle TV-reeks tot gevolg gehad. Tydens ’n kosdemonstrasie het Tannie Ina se dogter, Eunice van der Berg, en Lise Swart gewys hoe om onder andere gazpacho, risotto en vrugtekoek te maak. Die gehoor het aan hul lippe gehang (en natuurlik ook ’n happie gekry om te proe). Hier is ’n paar foto's van die geleentheid.

Eunice van der Berg met die nuwe uitgawe van Kook & Geniet

Die bestanddele vir die gazpacho (’n koue sop wat van rou groente gemaak word)

Die bestanddele van die risotto (’n Italiaanse rysdis)

Lise Swart

Lise meng die gazpacho volgens Eunice se instruksies.

Eunice verduidelik hoe om ’n pan uit te voer wanneer jy ’n vrugtekoek bak.

Lees ook:

Kook & Geniet: ’n onderhoud met Eunice van der Berg

Eunice van der Berg, Naomi Meyer
Onderhoude

"Uiteindelik is die reeks ’n wonderlike erkenning vir my ma se lewenstaak."

The post US Woordfees 2018: <i>Kook & Geniet</i> – foto's appeared first on LitNet.

Links of regs (van die pad)

$
0
0

Stap laat verlede jaar in St. Denis (Reunion) uit 'n kroegie uit en van die sypaadjie af amper voor 'n kar in.

Daar word vreeslik aan my beduie (snaaks hoe ek dit kon verstaan) om my f..... oë oop te maak. Ek weer op daardie oomblik skreeu terug op Afrikaans:  "Kyk waar ry die b.....se ou, is hy gesuip?", waarop my vrou my daarop wys dat ék fouteer en dat ek anderkant toe moet kyk! In die RSA as ons die straat wil oor, kyk ons eers regs, links en weer regs. Daar mos nie, jy kyk eers links, regs en weer links. Met ons aankoms later in Mauritius (eers Frans en toe Engels) is alles toe weer reg.

By die huis pleeg ek 'n Raed-a-google en vind uit dat dit nogal 'n heel interessante vraagstuk/onderwerp is. Met verdere rondblaai kom jy agter dat daar geen verskil aan voordeel of nadeel is aan watter kant van die pad 'n land se padreëls jou verplig om te bestuur nie. Die padverkeerbotsingstatistiek is dieselfde, maar www.citymetric.com is nogtans van mening dat die linkerkant beter en veiliger is omdat die mensdom regteroog-dominant is.

Die regterkant ryery is blykbaar meer polities geïnspireer as enige ander faktor. Die Engelse edelmanne het in die saal die swaard in die regterhand vasgehou en ook die perd aan die linker bestyg omdat sy swaard aan sy regterkant in die skede was. Voor die Napoleontiese oorloë was die hele Europa linksryers en omdat Napoleon linkshandig was het hy al die verowerde gebiede regs laat ry. Daarna het die een land na die ander gevolg en omgeswaai.

Noord Amerika (VSA) het in die laat 18de eeu om oa die Britse koloniale juk behoorlik af te skud, verander na regs. Nigerië, 'n Britse kolonie, het eers in 1972 om blykbaar dieselfde rede, na regs ry oorgeskakel. Dan is daar die interessantheid van Samoa wat in 2009 van regs na links oor geskakel het om die goedkoper Japanese (links ry) en Australiese voertuie in te voer.

Met die driftige anti-kolonialisme hier te lande -  is dit ook ons voorland? - regs ry.

Linksry-groetnis

Raed-na-Gael

 

 

The post Links of regs (van die pad) appeared first on LitNet.

Andrew Murray en die debat oor wondergeloof

$
0
0

Andrew Murray en die debat oor wondergeloof

Vincent Brümmer, Buitengewone professor in Sistematiese Teologie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 15(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In “Die hermeneutiek van die geloof” wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het (Brümmer 2017), het ek die standpunt verdedig dat geloof ’n hermeneutiese verskynsel is. Dit is nie ’n soort kennis nie, maar ’n soort interpretasie van die dinge wat ons ken. In hierdie artikel wil ek hierdie stelling illustreer aan die hand van Andrew Murray se debat met die Kaapse moderniste oor wondergeloof. Die moderniste het die wêreld geïnterpreteer in terme van ’n panenteïstiese interpretasieraamwerk waarin daar geen ruimte is vir ’n bonatuurlike werklikheid wat binne die natuurlike orde in wonderwerke ervaar kan word nie. Murray het die wêreld geïnterpreteer vanuit die interpretasieraamwerk van die Réveil waarin die natuurlike wêreld sin kry vanuit sy verhouding met die bonatuurlike God wat deur wonders sy liefde binne die natuurlike orde aan ons openbaar, en die menslike lewe sin kry vanuit “die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van sy groot liefde” wat alleen deur die wonder van die opstanding moontlik word. Vir Murray is dit “die hoofsaak van die Christendom”.

Trefwoorde: Andrew Murray; determinisme; hermeneutiek van die geloof; Kaapse moderniste; opstanding van Christus; wonderwerke

 

Abstract

Andrew Murray and the debate on miracles

In my paper on “The hermeneutics of faith” published recently in LitNet Akademies (Brümmer 2017), I argued that religious belief is a hermeneutical rather than a cognitive phenomenon. It is not a kind of knowledge but a kind of interpretation of the things we know. In this paper I illustrate this point with reference to the debate on the credibility of Biblical miracles that Andrew Murray had in 1869–1870 with the Cape modernist theologians D.P. Faure, J.J. Kotze and T.F. Burgers. Murray defended the credibility of the biblical miracle narratives, whereas the modernists rejected it. This debate is interesting because of its implications not only for the nature of miracles but also for the nature of belief in miracles as well as the nature of religious belief in general.

According to Faure a miracle is “an event that can be viewed as a violation of all natural laws, both known and unknown”. Initially it seems that Murray accepts this definition. As we shall see below, the problem with this definition is that miracles are more than mere violations of natural law, and furthermore that not all miracles violate natural law.

The modernists defended a worldview that today is known as panentheism, which sees the world as part of the Divine. According to the modernists this entailed that the natural order is immutably fixed, because God is immutable. This determinism excludes the possibility of miracles because this would violate the immutable natural order.

Murray rejected this determinism and argued that the modernists failed to distinguish between necessary and contingent truths. Since the natural order is contingent and not necessary, events contrary to natural law are in principle possible. On this point Murray is closer to the current view in modern physics. Since the introduction of quantum theory, natural laws are considered to be statistical rather than deterministic. They enable us to predict the relative likelihood of future events, but not their necessity. Scientific predictions are therefore always fallible. As Karl Popper puts it, they are conjectures that are always subject to falsification.

Murray also rejects the modernists’ deterministic view of God, which according to him follows from a misinterpretation of Divine immutability. More seriously, it has disastrous implications for Christian spirituality. It excludes the free agency of both God and human beings. Since free agency is defining for personhood, it also excludes a spirituality of loving personal fellowship with God. By definition love cannot be coerced. It can only be freely bestowed. Human persons must therefore be able to respond freely to the love of God, and God must be free to bestow his love on human beings.

The question now is whether God’s involvement in the world is limited to miraculous interventions that violate the natural order. If so, such interventions must be very rare. If God were regularly to violate the natural order, the natural order would cease to exist. Furthermore, it is possible that events occur that we cannot explain in terms of natural law. However, we can never be certain that future knowledge of the circumstances will not enable us to explain them in terms of natural law. Would they then cease to count as Divine interventions? This view also does not account for the way in which believers pray for God’s involvement in their lives. Most prayers are for events that are in accordance with the natural order. Clearly then, miracles in the sense of Divine actions in the world cannot be limited to Divine interventions that violate the natural order.

At this point R.F. Holland makes a useful distinction between “violation miracles” and “coincidence miracles”. Violation miracles are felicitous events that seem to be contrary to the natural order, whereas coincidence miracles are felicitous but unforeseen coincidences. However, to count as miracles, both these kinds events must be viewed as Divine acts in which God reveals his love for us.

If we reject a deterministic view of the world, violation miracles are logically possible but very unlikely. Thus in David Hume’s classic argument against miracles, he states that they are so unlikely that it would be highly unreasonable to believe them.

On this Ninian Smart writes:

Image Hume being present at someone’s rising from the dead. What does he say to himself? “Impossible, gentlemen, impossible. This is contrary to all my previous experience of mortality, and to the testimony of countless human beings. It would be a lesser miracle that my eyes deceive me that that this resurrection should have occurred.” Well, perhaps of course his eyes do deceive him. Let him test them. Let him investigate minutely the resurrected body. Can he still doubt? (Smart 1964:34)

If in such a case Hume would have to admit that someone has really risen from the dead, he is still not obliged to interpret this as a Divine miracle. He can also look on it as an inexplicable anomaly and leave it at that. The same applies to coincidence miracles. We need not interpret them as Divine actions but merely take them as unforeseen felicitous coincidences, and leave it at that.

From this it is clear that an extraordinary event can only be seen as a Divine miracle if we interpret it as such in the light of faith. It is only with the eyes of faith that we can experience an event as a miracle. According to Murray, this also applies to the revelatory character of the Bible as the Word of God. Without faith, the Bible is merely a book and not The Divine Word. This explains why so many people fail to recognise the revelatory character of the Bible. In brief, without faith we are unable to recognise divine miracles or revelations in nature or in the Bible.

In my paper on the hermeneutics of faith (Brümmer 2017) I argued that believers look on the world of empirical perception with the eyes of faith. They interpret their sensory perceptions of the world in terms of the comprehensive framework of interpretation handed down to them in a religious tradition. For believers this interpretation bestows meaning and significance on the world. Non-believers perceive the same world, but do not interpret it in terms of faith. The difference is not in the perception but in the interpretation. The interpretation bestows meaning on the perception. Belief in miracles is therefore primarily a hermeneutical and not a cognitive phenomenon.

In his debate with the modernists Andrew Murray wanted first of all to argue for the possibility of miracles. But after that he also wanted to show that they really occurred. To this end he wanted to show that Jesus really rose from the dead. In doing this he makes an unexpected move. Instead of appealing to the Gospel narratives about the empty tomb and the appearances to the disciples, Murray appeals to the apostle Paul’s experience on the way to Damascus. Although Murray probably held a relatively literal view on the empty tomb, it was not his primary aim to prove this. Rather, he argued that Paul really encountered Jesus on the road to Damascus, and therefore that Jesus was really alive and had therefore risen from the dead. This strategy has important implications for the way in which we are to understand the resurrection of Jesus.

1. Both Paul and his travelling companions on the way to Damascus saw a strong light and heard a loud sound. However, it was only Paul who took this to be the voice of Jesus calling him to stop persecuting the Christians and to preach the gospel to the heathens. The difference between Paul and his companions was not in what they perceived but in how they interpreted this perception.

2. Paul was well acquainted with the framework of interpretation of both the Christians and their Jewish opponents, and he was a staunch adherent of the latter. His experience caused him to radically change the way he looked on the world and on Jesus. It was, therefore, a conversion experience.

3. Paul claimed that he really encountered the risen Lord on the way to Damascus. However, this encounter was not with an empirically observable person with a material body. According to Murray the risen Lord had a spiritual body that was no longer subject to the limitations of a material body like ours. However, this body was not merely a subjective vision of Paul’s. It was an objective reality.

4. In order to argue for this, Paul appeals to the spirituality of personal fellowship with God in Jesus. Such fellowship is spiritual and not physical. But this assumes that Jesus was really alive. We cannot have spiritual fellowship with a mere subjective vision nor with someone who is not alive but dead and buried. Hence it is a necessary assumption that is constitutive for the spirituality of Christian believers that Jesus is really alive and risen from the dead. For Murray this is the essence of Christianity.

Keywords: Andrew Murray; Cape modernism; freedom and determinism; hermeneutics of faith; miracles; resurrection of Christ

 

1. Inleiding

In November 1866 het D.P. Faure teruggekeer in die Kaap na voltooiing van sy teologiestudie in Leiden. Hy was nou ’n oortuigde volgeling van die sogenaamde moderne rigting van sy Leidse leermeester, J.H. Scholten, en van Theodore Parker, die leidende verteenwoordiger van die unitarisme uit New England in die VSA.1 Dit was vir Faure duidelik dat sy afwykende teologiese opvattings dit vir hom onmoontlik sou maak om by die colloquium doctum van die NG Kerk verby te kom en as predikant beroepbaar te word in die Kerk. Daarom het hy besluit om sy eie vrysinnige gemeente, die Free Protestant Church (Unitarian), in Kaapstad te stig en onderdak te bied aan alle vrysinnige gelowiges in die Kaap, ook uit die NG Kerk.2 Aanvanklik het hy die Mutual Hall in Kaapstad gehuur en daar op Sondae dienste gehou in die gees van die moderne rigting. Die eerste dertien keer het hierdie dienste die vorm aangeneem van “toesprake” waarin hy die teologie van die moderne rigting bekend wou stel.3

Andrew Murray, wat toe predikant in Kaapstad was, het besluit om hierdie “toesprake” te beantwoord met dertien “leerredes” in die Groote Kerk.4 Hierdie leerredes het ’n reeks kritiese reaksies in De Onderzoeker5 van 1869–1870 uitgelok van sowel ds. J.J. Kotze van Darling (onder die skuilnaam XYX) as van ds. T.F. Burgers van Hanover (onder die skuilnaam Herder),6 met wie Murray toe ’n uitgebreide debat in De Onderzoeker gevoer het. Elders het ek hierdie hele debat uitvoerig bespreek.7 In hierdie artikel wil ek egter nader ingaan op één vraagstuk wat by sowel by Faure as by Murray baie aandag kry, naamlik die vraag na die geloofwaardigheid van die Nuwe-Testamentiese wonderverhale. Faure wy twee van sy dertien toesprake daaraan en Murray twee van sy dertien leerredes. Murray verdedig die geloofwaardigheid van die wonderverhale, terwyl Faure dit verwerp.

Hierdie debat werp interessante lig nie alleen op die vraag na die aard van wonderwerke nie, maar ook op die aard van religieuse geloof in die algemeen en wondergeloof in die besonder. Ek wil egter die debat tussen Murray en die moderniste8 plaas in die kader van ’n breër filosofiese ontleding van die hele vraagstuk van wondergeloof. Hierby wil ek begin deur te vra of die definisie van wonders wat Faure en Murray veronderstel, bevredigend is.

 

2. Wat is ’n wonder?

Volgens Faure “is ’n wonder dit wat as ’n verbreking word beskou van alle natuurwette, bekende en onbekende” (Faure 1868:98). In die debat sluit Murray hom in eerste instansie by hierdie definisie aan. Die probleem is egter dat ’n wonder meer is as net ’n gebeurtenis wat in stryd is met natuurwette, en dat daar bowendien ook wonders moontlik is wat nie in stryd met die natuurwette is nie. Laat ek egter begin deur te kyk hoe Murray en die moderniste hulle onderskeie standpunte verdedig.

Die moderniste het die bonatuurlike verwerp en ’n naturalistiese wêreldbeeld verdedig. Burgers stel dit soos volg:

Die moderne wêreldbeskouing […] is deur en deur antisupranaturalisties. Dit verwerp stoutweg elke erkenning van ’n orde van dinge wat buite en bo die natuur lê, en erken alleen één wêreldorde waarin alle verskynsels, sowel die verklaarbare as die tot nog toe onverklaarbare, die sinnelike en die bosinnelike die produkte is van oorsake wat in die natuur aanwesig is.9

Hierdie wêreldbeeld staan vandag bekend as panenteïsme, waarvolgens die wêreld één is met die goddelike. Scholten stel dit só: “So is God en die wêreld één van wese, en deel elke skepsel in sy eie mate in die natuur van God. […] Elke skepsel is daarom in sy eie mate goddelik” (Scholten 1882:133, 73). Volgens die moderniste volg hieruit dat die natuurlike orde onveranderlik is omdat God onveranderlik is. Hierdie determinisme sluit die moontlikheid van wonders uit, omdat wonders die onveranderlike natuurlike orde sou verbreek. Faure stel dit soos volg:

Die denkbeelde wat ons aangaande God en sy werksaamhede het, laat nie toe dat ons aan wonders glo nie. Ons God is ’n God by wie daar geen verandering of skaduwee van omkeer is nie. God is onveranderlik en werk altyd na ’n vaste plan en na vaste wette. Hy het die heelal volmaak geskape en bestuur die heelal na volmaakte wette. Indien God één van hierdie wette sou verbreek, dan sou Hy daarmee die bewys lewer dat sy werk onvolmaak en vir verbetering vatbaar is […] Maar, sê jy, by God is alles moontlik. Ons sê dit ook maar voeg daaraan toe: alles wat met sy natuur ooreenkom, alles wat nie in stryd is met wat Hy vooraf bepaal het nie. Of sou God in stryd met homself kon handel? Dit sou Hy immers doen as Hy sy eie wette sou verbreek? God werk volgens ’n vooraf gestelde plan. (Faure 1868:111–2)

Murray verwerp hierdie determinisme en onderskei

tussen twee soorte waarhede wat die moderne teologie met mekaar verwar. Daar is noodwendige waarhede wat ons met geen moontlikheid vir ons anders sou kan voorstel nie. Daar is toevallige waarhede waarvan ons ons baie maklik kan voorstel dat hulle anders kan gewees het. Tot die eerste soort behoort sedelike waarhede, soos dat God heilig is, of dat steel sonde is; en verder wiskundige waarhede, soos dat ’n geheel groter moet wees as sy helfte. Hierdie waarhede noem ons noodwendig omdat ons die teenoorgestelde daarvan vir ons nie eens kan voorstel nie; hulle skyn in die wese van dinge gegrond te wees. Van die tweede soort daarenteen is natuurkundige waarhede, soos byvoorbeeld dat die dag 24 uur lank is. Ons kan ons baie maklik voorstel dat dit anders kon bepaal gewees het, en dat ’n dag 30 uur lank was. Ons kan dit vir ons baie goed voorstel, om nog ’n voorbeeld te noem, dat die natuur so kon bepaal gewees het dat, net soos ’n sieke weer gesond word, ’n dooie so ook weer lewendig sou word. Omtrent die noodsaaklike waarhede stem ons toe dat ons ons nie ’n denkbeeld daarvan sou kan vorm dat dit by God moontlik sou wees om dit anders te wil nie. Die toevallige waarhede is egter van heeltemal ’n ander aard. En al die wonders van die Bybel word gevind op hierdie gebied van die natuur. (1942:133–4)

As reaksie op hierdie argument van Murray, skryf Kotze:

Hierop moet ek aanmerk dat elke waarheid, ’n natuurkundige sowel as ’n wiskundige, nie toevallig kan wees nie. Die een is net so noodsaaklik as die ander, want albei het hulle grond in God. God het die lengte van die dag verorden; en hierdie verordening is ’n uitvloeisel van sy volmaakte wysheid en is dus net so noodsaaklik as die ander, dat 2x2=4. Om te praat van toevallige natuurkundige waarhede is eenvoudig absurd. (De Onderzoeker, 1869:80)

Ook al kan ek kanttekeninge plaas by sy argumentasie,10 dink ek dat Murray heeltemal reg is in sy bewering dat die determinisme van die moderniste saamhang met die feit dat hulle nie onderskei tussen noodsaaklike en kontingente waarhede nie en daarom die kontingente aard van die natuurlike orde misken. Bowendien is ’n deterministiese opvatting van die natuurlike orde vandag ook wetenskaplik verouder. Hierdie opvatting hang saam met die meganistiese teorie van Laplace (1749–1827), waarvolgens die natuur saamgestel is uit meganiese deeltjies wat onderwerp is aan die bewegingswette van Newton. Hierdie teorie impliseer dat die toestand van die heelal (insluitend die toestand van alle materiële deeltjies daarin) op elke willekeurige moment die voldoende materiële voorwaardes bevat om die toestand op elke daaropvolgende moment te bepaal, en dat die gang van die natuur daarom streng gedetermineerd verloop. In die moderne fisika is die meganistiese teorie van Laplace vervang deur die kwantumteorie, waarvolgens natuurwette nie deterministies is nie maar statisties. Die natuurwette bepaal nie die voorkoms van enkele gebeurtenisse nie, maar alleen die statistiese waarskynlikheid in groot klasse van gebeurtenisse. Dit verklaar waarom ons geen onfeilbare voorspellings van môre se weer kan maak nie, maar alleen statistiese voorspellings oor die waarskynlike rigting van die weer. Die natuurwette stel ons in staat om met ’n mindere of meerdere mate van waarskynlikheid (die weer in ’n mindere mate as die beweging van die planete) kan voorspel, maar hulle bepaal nie met noodsaaklikheid wat sal gebeur nie. Selfs die beweging van die planete kan nie met onfeilbare sekerheid voorspel word nie – veral nie oor lang periodes nie.

Hierdie soort indeterminisme sluit nie uit dat ons van noodsaaklike kousale voorwaardes vir gebeurtenisse kan praat nie. Inteendeel, sonder beweging in die atmosfeer sal daar geen reën val nie. Dit impliseer egter wel dat die volledige versameling kousale voorwaardes wat voldoende is om ’n gebeurtenis teweeg te bring, altyd voorwaardes sal insluit wat aan toeval onderwerp is. Daarom kan geen gebeurtenis met onfeilbare sekerheid voorspel word nie, omdat sommige van die noodsaaklike voorwaardes daarvoor in beginsel onvoorspelbaar is. Om hierdie rede is wetenskaplike voorspellinge altyd in beginsel feilbaar. Soos Karl Popper dit stel: hulle bly gissings (“conjectures”) wat onderworpe is aan empiriese weerlegging (“refutations”).11 Op hierdie manier kan die kwantumteorie die wetmatige struktuur van die werklikheid verklaar sonder om die kontingente aard daarvan te ontken. Op hierdie punt is Murray dus nader aan die waarheid as die moderniste.

 

3. ’n Deterministiese godsbegrip

Die deterministiese wêreldbeeld van die moderniste hang egter ook saam met hulle godsbegrip. In die woorde van Faure: “Die denkbeelde wat ons aangaande God en sy werksaamhede het, laat nie toe dat ons aan wonders glo nie” (Faure 1868:111). Murray verwerp hierdie godsbegrip, aangesien dit die aard van God se onveranderlikheid misverstaan en veral ook omdat die determinisme daarvan die handelingsvryheid van God en mens en dus ook die spiritualiteit van ’n persoonlike liefdesverhouding tussen God en mens onmoontlik maak.

Laat ek hierdie punte nader toelig, en begin met die onveranderlikheid.12

Volgens Murray

verwar [die moderniste] verandering in die manier van werk met veranderlikheid in die persoon. Tussen die twee is daar ’n hemelsbreë verskil. […] Ek sien reeds in die geskiedenis van die skepping, nie alleen soos dit in die Bybel te lees is nie, maar ook in die natuur, dat daar ’n gereëlde opklimming is van trap tot trap in die ry van die lewende wesens, totdat die mens, die laaste van almal, as iets nuuts, iets heeltemal anders as wat tevore bestaan het, te voorskyn gekom het. Die eerste mens, met sy gees en sy mag oor die natuur, was ’n wonder in die skepping: want hy was ’n nuwe begin wat nie kon verklaar word uit wat voorafgegaan het […] nie. Daardie nuwe, daardie ander is geen bewys van verandering in God nie. […] Verskil, verandering, vooruitgang in die manier waarop God Hom openbaar, is geen teken van verandering in sy wil nie; juis die wysigings en veranderings te midde waarvan die groot verlossingsplan in sy eenheid uitgevoer is, het vir ons die sterkste bewys geword van die onveranderlikheid van God en van sy raad. […] Vir ons laat dit glo aan die onveranderlikheid van God wat geopenbaar word te midde van verandering. Sy onveranderlikheid is geen onbeweeglikheid nie. Hy is die lewende wie se oneindige volheid nie binne die perke van die natuur kan gebind word nie. (Murray 1942:134–6)

Met ander woorde, die ontwikkelingsproses in die natuur is nie deterministies nie. Dit kan ook onverwagte en onvoorspelbare ontwikkelinge bevat. Volgens Murray is die ontstaan van die mens so ’n onvoorspelbare ontwikkeling wat nie noodsaaklik gevolg het uit die voorafgaande ontwikkelinge nie. Dit was ook moontlik dat die mens nooit in die proses sou verskyn het nie! Die ontwikkelingsproses gee dus blyke van veranderinge en ontwikkelinge in die manier waarop God deur die tyd heen onder veranderende omstandighede werk en Hom openbaar. Dit impliseer egter nie veranderlikheid in God se persoon of in sy trou aan sy raad nie.

Belangriker nog vanuit Murray se perspektief is die implikasie van die determinisme vir die spiritualiteit van gelowiges. Die determinisme van die moderniste sluit die keusevryheid of handelingsvryheid van sowel God as die mens uit. Aangesien handelingsvryheid definiërend is vir persoonwees, sluit dit ook die persoonwees van sowel God as mens uit. Dit maak die spiritualiteit van ’n persoonlike liefdesverhouding tussen God en mens ook onmoontlik. Murray redeneer soos volg:

In God verenig die onveranderlikheid van wese hom met vryheid van wil en werking. Die rede kan hom op geen ander manier ’n denkbeeld van God vorm nie as om van die menslike op te klim, en nadat hy opsy gelê het alles wat menslike gebrek en swakheid is, die hoogste in die wese van die mens vir hom in oneindige volmaaktheid voor te stel. Nou is die heerlikste waarvan die mens hom bewus is, sy vryheid, die mag van sy wil. Hiermee kan hy die natuur beheers en die werking van sy wette verhinder of wysig. […] En wat die mens kan doen, dit sou God nie kan doen nie! Die mag wat Hy aan die mens oor die natuur toevertrou het, daarvan sou Hy Homself beroof het toe Hy vir die eerste maal vir die natuur sy wette voorgeskryf het […] Die wat in waarheid aan ’n lewende en persoonlike God glo, oneindig verhewe bo die mens in sy vryheid, vir hom is die wonder, wanneer dit aan hom berig word, soos die natuurlike gevolg van wat hy geglo het. (Murray 1942:136–7)

Liefde kan per definisie nie afgedwing word nie. Dit kan alleen vryelik geskenk word. ’n Liefdesverhouding tussen persone kan alleen in wedersydse vryheid aangegaan en in stand gehou word.13 Daarom veronderstel die spiritualiteit van ’n liefdesverhouding tussen God en mens die keusevryheid van sowel God as mens.

Murray stel dit soos volg:

As die mens tot ’n vrye en vrywillige vereniging met God sou kom, moes die keuse aan hom gestel word. Die keuse het ingesluit die ontsettende moontlikheid van die sonde. En sou ek aan Gods liefde kan glo maar ook kan verklaar dat Hy die wêreldorde so ingerig het dat daar vir Hom geen moontlikheid sou wees om na die val van sy skepsel tussenby te kom om hulle te verlos uit die diepe ellende waarvan hulle ’n prooi geword het? Onmoontlik. (Murray 1942:138–9).

 

4. Werk God alleen deur ingrepe in die natuurlike orde?

Die mens moet dus vryelik God se liefde kan beantwoord en God moet vry wees om sy liefde aan die mens te betoon. Die vraag is nou of God alleen deur ’n wonder wat die natuurwette verbreek, sy liefde aan die mens kan betoon? Teen hierdie veronderstelling is daar ernstige besware. Ten eerste, as God se betrokkenheid by die gang van sake in die wêreld moontlik is alleen deur wonderbaarlike ingrepe wat die natuurlike orde verbreek, moet hierdie betrokkenheid baie seldsaam wees. As God reëlmatig die natuurlike orde sou verbreek, dan sou die natuurlike orde as sodanig ophou om te bestaan.

Tweedens, hoewel gebeurtenisse soms plaasvind wat ons nie in terme van die natuurlike orde kan verklaar nie, kan ons nooit met absolute sekerheid weet of hulle regtig in stryd met die natuurlike orde en dus goddelike ingrepe is nie. Kan ons ooit die moontlikheid uitsluit dat verdere kennis van die omstandighede ons in staat kon stel om die gebeurtenis in terme van die natuurlike orde te verklaar?

Derdens kan hierdie opvatting geen rekenskap gee van die manier waarop gelowiges bid vir God se betrokkenheid by hulle lewens nie. Die meeste vra-gebede is vir gewone gebeurtenisse waarvan ons uitgaan dat hulle verklaarbaar is in terme van die natuurlike orde. Om die waarheid te sê, die meeste gelowiges sal ophou om vir iets te bid as dit sou blyk dat dit kan gebeur alleen deur ’n wonderbaarlike ingreep wat die natuurlike orde verbreek. So het Dawid opgehou om te bid vir die herstel van sy kind toe dit blyk dat die kind reeds dood was (2 Samuel 12:15–23). Dit is duidelik dat ons goddelike wonderwerke nie kan beperk tot wonderbaarlike ingrepe wat die natuurlike orde verbreek nie.

Ook Andrew Murray is hier nie konsekwent nie, omdat hy ook wondere erken wat nie die natuurlike orde verbreek nie. Hy skryf:

[E]lke gelowige het in sy eie wedergeboorte, en in die ondervinding van die genademag wat in hom werk, die sekerste wonderbewys. Hy weet dat God nie opgehou het om wonders te doen nie: die uitwendige gedaante daarvan mag verander wees, maar die wonder […] herhaal hom nog altyd as die lewende ondervinding van die wonderkrag van Gods liefde. (Murray 1942:162)

Die wedergeboorte waardeur die lewensuitkyk en die lewenshouding van ’n gelowige radikaal verander word, kan wel as ’n wonder geld, maar dit is nie in stryd met die natuurlike orde nie.

In hierdie verband maak R.F. Holland ’n nuttige onderskeid tussen “violation miracles” wat oënskynlik die natuurlike orde verbreek en “coincidence miracles” waarby twee stande van sake wat albei in terme van die natuurlike orde verklaar kan word, op ’n betekenisvolle en gelukkige manier saamval.14 So byvoorbeeld val die treinbestuurder flou sodat die trein tot stilstand kom ’n meter vóór ’n man wat op die treinspoor vasgebind is, en my vriend uit Hawaii loop onverwags my kamer binne op die moment dat ek wanhopig is om hulp wat hy alleen vir my kan bied. Hier sou ons definitief van ’n wonder praat, ook al word die natuurlike orde op geen manier verbreek nie. ’n “Coincidence miracle” is egter meer as alleen ’n toevallige sameloop van omstandighede. Dit moet ook bydra tot die welsyn of die heil van die persone wat daarby betrokke is. So sou ons nie van ’n wonder praat as die trein ’n meter voor die einde van die tonnel sou stop nie, of as my vriend sou binneloop op die moment dat ek besig was om die skottelgoed te was nie. ’n Wonder is egter ook meer as net ’n gelukkige sameloop van omstandighede. Dit moet ook beskou word as ’n weldaad waarin God sy heilsbedoelings verwerklik. ’n Wonder is ’n wonderwerk. Dieselfde geld ook vir die sogenaamde “violation miracles”. Ook hier moet daar sprake wees van ’n heilsame uitkoms wat deur God tot stand gebring word.

Indien ons afsien van ’n deterministiese wêreldbeeld, is “violation miracles” as gebeurtenisse wat die natuurlike orde verbreek, nie logies onmoontlik nie, maar hulle is wel baie onwaarskynlik. In sy klassieke kritiek op wondergeloof15 argumenteer David Hume dat as ek ’n wonder sou teëkom waarin die natuurlike orde verbreek word, dit meer waarskynlik is dat my oë my bedrieg as dat die wonder regtig plaasgevind het. Daarom is dit nie redelik om in wonders te glo nie.

Ninian Smart skryf hieroor:

Imagine Hume being present at someone’s rising from the dead. What does he say to himself? “Impossible, gentlemen, impossible. This is contrary to all my previous experience of mortality, and to the testimony of countless human beings. It would be a lesser miracle that my eyes deceive me than that this resurrection should have occurred.” Well, perhaps of course his eyes do deceive him. Let him test them. Let him investigate minutely the resurrected body. Can he still doubt?

Indien Hume in so ’n geval sou toegee dat hier iemand werklik uit die dood opgestaan het, is hy egter nog nie verplig om dit te beskou as ’n goddelike wonderwerk nie. Hy kan dit gewoon beskou as ’n buitengewone en tot nog toe onverklaarbare anomalie, en dit daarby laat. Ook die man wat op die treinspoor vasgebind was, kan sy ontsnapping aan die dood beskou as die gevolg van ’n gelukkige sameloop van omstandighede waaraan hy sy lewe te danke het en dit daarby laat.

 

5. Die oë van die geloof

Dit is duidelik dat ons ’n buitengewone gebeurtenis as ’n goddelike wonderwerk kan beskou alleen indien ons dit in die lig van ons geloof as sodanig interpreteer. Dit is alleen met die oë van die geloof dat ons iets as ’n wonderwerk kan ervaar. In die woorde van die blinde digter Jan Wit (2013):

Laat dan mij hart u toebehoren
en laat my door de wereld gaan
met open ogen, open oren
om al uw tekens te verstaan.
Dan is het aardse leven goed
omdat de hemel mij begroet.

Miskien is dit waarom Jesus in Nasaret geen wonderwerke kon verrig nie – dit was omdat die mense daar nie in Hom wou glo nie (Matt. 13:58). Ook Murray gee hierdie punt toe. Dit is alleen met die oë van die geloof dat ons ’n wonder kan sien as ’n weldaad van God. Daarsonder is ’n wonder niks meer as ’n buitengewone of indrukwekkende gebeurtenis sonder betekenis nie. ’n Mens sou jou daaroor kan verwonder, maar dit nie erken as ’n wonderwerk van God nie.

Die wonder kry altyd in die Bybel sy waarde van die goddelike openbaring wat daardeur moet bevestig of verklaar word. Waar die gemoed vir die seën van die Woord onvatbaar is, daar sou ook die wonder geen heil bring nie. […] Die wondergeloof […] veronderstel altyd dat die wondertekens in ’n lewensverband staan met die leer wat dit moet bevestig, en deur die gewete en die godvrugtige gemoed beoordeel moet word. In die lig van wat reeds vroeër deur God gegee is, óf die wet wat in die hart geskryf is, die gewete, óf ’n voorafgaande openbaring, dus in die kennis wat vooraf in ons besit is, is daar altyd die toetssteen waaraan die waarde van die wonder […] op die proef gestel word. (Murray 1942:126, 128)

Volgens Murray geld dit ook vir die openbaringskarakter van die Bybel as Woord van God. Sonder die geloof bly die Bybel vir ons ’n dooie letter. Volgens Murray verklaar dit waarom daar so baie mense is wat nie die openbaringskarakter van die Bybel herken nie:

Nêrens verwag dit [die openbaring] om deur almal aangeneem te word nie: orals stel dit ’n voorwaarde wat by baie gemis word. Dié voorwaarde is: geestelike behoefte. Net soos die Here Jesus nie erken is nie behalwe deur diegene wat behoefte gevoel het aan ’n goddelike verlossing, so kan die openbaring geen ingang vind waar die mens in eie selfgenoegsaamheid vas besluit het om geen openbaring van die hemel aan te neem nie. Vir ’n blinde wat verklaar dat daar geen sonlig is nie, kan ’n mens nie bewys dat daar lig bestaan nie. Die lig bewys homself vir die geopende oog: die waarheid kan homself slegs betuig aan die ope gemoed. (Murray 1942:45)

Sonder die geopende oog van die geloof kan ons die wondertekens van God in die natuur en in die Bybel nie herken nie.

Dit impliseer dat die ervaring van goddelike wonderwerke en openbarings die geloof veronderstel eerder as om dit te bewys. In die woorde van T.S. Eliot: “We found our belief in miracles on the Gospel, not our belief in the Gospel on miracles” (Eliot 1953:86). Maar dan berus elke poging om die waarheid van die geloof te bewys, met ’n beroep op wonders, op ’n sirkelredenering: die geloof wat bewys moet word, word veronderstel deur die wonder wat dit moet bewys. Kotze wys daar tereg op dat Murray op hierdie punt oënskynlik in ’n sirkelredenering verstrik raak: “‘Die wonder bekragtig die Woord,’ sê ds. Murray. […] Hier verneem ons van ds. Murray, dat dit juis die godsdienstige waarheid is wat ons reeds besit, wat ons die wonder laat aanneem” (De Onderzoeker 1869:86).

Ek dink die verwarring ontstaan hier omdat wonderwerke beskou word as gebeurtenisse wat ons as sodanig waarneem in plaas van waargenome gebeurtenisse wat ons met die oë van die geloof as wonderwerke interpreteer. Maar dan is geloof nie ’n soort kennis wat ons aflei uit wat ons waarneem nie. Dit is eerder ’n soort interpretasie van die dinge wat ons waarneem. Die vraag is nou of gelowiges alleen ’n buitengewone gebeurtenis, soos ’n onverklaarbare anomalie of ’n gelukkige sameloop van omstandighede, as ’n wonderwerk sal interpreteer?

 

6. Alleen buitengewone gebeurtenisse?

Met die oë van die geloof interpreteer gelowiges nie slegs buitengewone gebeurtenisse as wonderwerke nie. Hulle kan ook alle goeie dinge as goddelike wonderwerke interpreteer. So byvoorbeeld in die lied van John Rutter (1996):

Look at the world, everything around us:
Look at the world and marvel every day.
Look at the world, so many joys and wonders,
So many miracles along our way.
To thee, o Lord, for all creation,
Give us thankful hearts that we may see:
All the gifts we share and every blessing,
all things come from thee.

Tog is dit moontlik dat gelowiges dikwels so gewoond raak aan gewone gebeurtenisse dat hulle sulke gebeurtenisse nie meer as “wonderwerke” kan herken nie. Die hand van God word dan alleen in die buitengewone gesien.

G.K. Chesterton illustreer hierdie punt met verwysing na kinderverhale:

When we are very young children we do not need fairy tales: we only need tales. Mere life is interesting enough. A child of seven is excited by being told that Tommy opened the door and saw a dragon. But a child of three is excited by being told that Tommy opened the door. Boys like romantic tales; but babies like realistic tales – because they find them romantic. […] These tales say that apples were golden only to refresh the forgotten moment when we found that they were green. They make rivers run with wine only to make us remember, for one wild moment, that they run with water. (Chesterton 1908:80–1)

Miskien moet gelowiges dikwels deur buitengewone wonderwerke geskok word om hulle geloofsoë te open om ook die gewone as goddelike wonderwerke te ervaar! Maar hoe dan ook, sonder die oë van die geloof is daar geen wonders nie. Daar is alleen gewone en buitengewone gebeurtenisse, sonder sin of waarde. In die woorde van Murray wat ek hier bo aangehaal het: “Vir ’n blinde wat verklaar dat daar geen sonlig is nie, kan ’n mens nie bewys dat daar lig bestaan nie. Die lig bewys homself vir die geopende oog: die waarheid kan homself slegs betuig aan die ope gemoed” (Murray 1942:45).

In my artikel oor “die hermeneutiek van die geloof” het ek betoog dat gelowiges met die oë van die geloof na die wêreld van hulle waarneming kyk (Brümmer 2017). Dit wil sê hulle interpreteer hulle sintuiglike waarnemings van die wêreld in terme van die omvattende interpretasieraamwerk van hulle geloofstradisie. Vir gelowiges ontleen die wêreld van ons waarneming sy sin aan hierdie geloofsinterpretasie. Die ongelowiges neem dieselfde wêreld waar, maar verleen daar nie vanuit die geloof sin aan nie.

John Lucas illustreer hierdie punt soos volg:

God sends the rain to the just and the unjust: but to the just who has asked for it, it comes as a token of God’s goodness, whereas to the unjust who never says “please” and never says “thank you”, it is a mere climatic condition, without significance and without being an occasion for gratitude; and the unjust’s life is thereby poorer and drearier. (Lucas 1976:38)

Die verskil is dus nie in die waarneming nie, maar in die interpretasie. Die interpretasie verleen sin aan die waarneming. Wondergeloof is dus nie primêr ’n kognitiewe verskynsel nie. Dit is eerder ’n hermeneutiese verskynsel.

 

7. Die wonder van die opstanding

Soos ons gesien het, verwerp die moderniste vanuit hulle deterministiese godsbeeld die moontlikheid van wonders. In die eerste van sy twee leerredes oor wondergeloof probeer Andrew Murray teenoor hulle die moontlikheid van wonders te verdedig. In die loop van sy betoog verbreed hy egter ongemerk die betekenis wat hy aan die begrip wonder heg deur toe te gee dat dit alleen vanuit die geloof is dat ons iets as ’n wonder kan herken. Die implikasie hiervan is dat wondergeloof ’n soort interpretasie is wat vanuit die geloof aan buitengewone gebeurtenisse geheg word.

Murray is egter nie tevrede om alleen die moontlikheid van wonders te bewys nie. In sy tweede leerrede oor wondergeloof wil hy nou ook bewys dat hulle werklik plaasgevind het.

Ons het in die voorgaande rede die vraag omtrent die moontlikheid van die wonders behandel. […] Ons is nou gereed om die tweede vraag in oorweging te neem: het die wonders werklik plaasgevind? En kan dit op geskiedkundige manier en met sekerheid bewys word? (Murray 1942:142)

Met die oog hierop wil Murray nou bewys dat Jesus werklik opgestaan het uit die dood.

Ons wil dit veral doen met betrekking tot die een groot wonder van die opstanding. Vriend en vyand erken tegelyk dat met daardie een wonder al die ander staan of val. […] As Hy nie opgestaan het nie, dan val die hele gebou inmekaar. (Murray 1942:146)

Maar nou doen Murray iets merkwaardig. ’n Mens sou gedink het dat as hy vir die liggaamlike opstanding van Jesus wil argumenteer, hy sou begin het by die evangelieverhale oor die leë graf en die verskynings aan die dissipels. In plaas hiervan beroep hy hom egter op Paulus se getuienis aangaande sy ervaring op die pad na Damaskus. Ook Kotze is verbaas oor hierdie keuse van Murray om hom op Paulus in plaas van op die evangelieverhale te beroep:

Indien dit Murray se bedoeling was om die liggaamlike opstanding van Jesus te bewys, sou hy hom nie by ’n blote opsomming van die verskynings bepaal het nie, maar ook die plek en die geleentheid van die opstanding en die manier waarop dit plaasgevind het genoem het. Van dit alles swyg hy en sê alleen dat Jesus na sy dood aan sy volgelinge verskyn het. (De Onderzoeker 1889:97)

Hoewel Murray waarskynlik self ’n taamlik letterlike opvatting oor die leë graf gehad het, was dit nie sy hoofdoel om dit te bewys nie. Hy wou nie die werklikheid van die opstanding verdedig deur te argumenteer dat die graf wérklik leeg was nie, maar deur te argumenteer dat Paulus wérklik vir Jesus ontmoet het en dat Jesus daarom werklik leef en dus uit die dood opgestaan het.

Hierdie keuse het belangrike implikasies vir die manier waarop ons die opstanding van Jesus moet verstaan. Laat ons hierdie implikasies een vir een nader bekyk.

1. Sowel Paulus as sy reisgenote het op die weg na Damaskus ’n helder lig gesien en ’n harde geluid gehoor. Alleen Paulus het egter daarin die stem van Jesus gehoor wat hom oproep om op te hou om die Christengemeenskap te vervolg en om die evangelie aan die heidene te gaan verkondig. Die verskil tussen Paulus en sy reisgenote was dus nie in hulle sintuiglike waarnemings nie, maar in hulle interpretasie van hierdie waarnemings.

2. Paulus was volledig op die hoogte van die belydenis van sowel die volgelinge van Jesus as van die Joodse teenstanders daarvan. Hy was dus bekend met die interpretasieraamwerk van sowel die Christene as van die Fariseërs, en hy was ’n ywerige aanhanger van laasgenoemde. Hy het dus met die oë van die Fariseërs na Jesus gekyk en in ooreenstemming daarmee sy volgelinge vervolg.

Murray stel dit soos volg:

Paulus getuig dat hy ’n tyd lank, na die vestiging van die Christendom, ’n vervolger was van die gemeente. Hy het geweet dat ’n kort tyd nadat Jesus gekruisig was hulle begin preek het dat Hy uit die dode opgestaan het. Hy het geweet dat dit die hoofsaak was van hul belydenis. In Jerusalem het Hy vertroulike omgang gehad met die owerhede van sy volk wat die voorgangers was in die stryd. […] Sy kennis het gepaard gegaan met buitengewone ywer vir die voorvaderlike insettings. Die gedagte aan die opgewekte Nasarener was vir hom soms voorwerp van onbegryplike veragting, as die toppunt van die dwaasheid, dan weer as voorwerp van verfoeiing en haat, as Godslastering en vyandskap teen sy volk en godsdiens. En meteens word hierdie Paulus belyer en verkondiger van die geloof van die opstanding. (Murray 1942:153–4)

Paulus se ervaring op die Damaskuspad was dus ’n bekeringservaring.16 Sy ervaring het hom aangeset tot ’n radikale verandering in die manier waarop hy na die wêreld en na Jesus gekyk het. Hy het die interpretasieraamwerk van die Fariseërs verwissel vir dié van die gemeente van Christus. Hierdie ander manier van kyk het gepaard gegaan met ’n ander manier van leef. Hy het verander van ’n vervolger van die gemeente tot ’n apostel van die evangelie.

3. Paulus het getuig dat hy op die weg na Damaskus die opgestane Heer ontmoet het. Hierdie ontmoeting was egter nie met ’n empiries waarneembare persoon met ’n materiële liggaam van vlees en bloed nie. Die opgestane Heer het nie dieselfde soort liggaam gehad as die Jesus wat aan die kruis gesterf het nie. Dit geld ook vir die verskyningsverhale in die evangelies. Daar kon die opgestane Heer verskyn en verdwyn en Hy kon deur geslote deure loop. Hy het dus nie ’n materiële liggaam gehad wat onderwerp was aan die beperkings van die menslike bestaan nie.

Andrew Murray stel dit soos volg:

In I Kor. 13: 44 stel hy [Paulus] duidelik dat die “geestelike liggaam” van die opstanding, die onverderflike, heeltemal verskillend is van die “natuurlike liggaam”, die verderflike, van “die vlees en bloed wat die koninkryk van God nie kan beërwe nie.” […] Die opgewekte liggaam van die Here Jesus was nie langer, soos ons liggaam, gebonde deur die swakheid van die natuur nie. (Murray 1942:151)

In sy kommentaar op Murray beweer Burgers dat Murray hier afwyk van die ortodokse leer en hom eintlik aansluit by die standpunt van die moderniste:

Die stryd loop nie oor die vraag of Jesus wel of nie geestelik opgestaan het nie, d.w.s. of hy opgestaan het met ’n geestelike liggaam nie, maar oor die vraag of Hy wel of nie met sy natuurlike, d.w.s., sy stoflike liggaam uit die graf opgestaan het. […] Wil hy [Murray] nie ’n ketter wees nie, moet hy die opstandingsleer bewys dat Jesus met ’n vleeslike liggaam uit die graf opgestaan het. […] Die verskil kom dus eintlik hierop neer, dat die ortodoksie glo dat die liggaamlike opstanding ’n (fisieke) stoflike is en ons [modernes] dat dit ’n geestelike is. (De Onderzoeker 1869:93)

Maar wat word nou verstaan onder ’n “geestelike liggaam”? En op watter manier het Paulus só ’n liggaam “gesien”? Volgens Burgers kon dit nie ’n sintuiglike “sien” gewees het nie. “Jesus is immers met ’n geestelike liggaam opgestaan en hoe kan die verskyning daarvan vir die vleeslike oog sigbaar wees? Dit kan alleen ’n stoflike voorwerp sien” (De Onderzoeker 1869:94). Volgens Kotze moes dit “’n geestelike sien gewees het, ’n openbaar word van die Christus aan Paulus deur middel van die lig wat hy gesien het en die stem wat hy gehoor het” (De Onderzoeker 1869:97).

Ek dink dat Murray tot op hierdie punt sou saamstem met die standpunt van die moderniste oor die aard van die opgestane liggaam van Jesus. Maar nou gaan Kotze ’n stap verder:

Nou ontstaan die vraag: was die verskyning ’n objektiewe of ’n subjektiewe? Dit wil sê, was dit ’n werklike, buite Paulus aanwesige verskyning, of moet ons aan ’n inwendige sien, ’n visioen dink? Ongetwyfeld die laaste. (De Onderzoeker 1869:94)

Dit is op hierdie punt dat die verskil tussen Murray en die moderniste aan die lig kom. Teenoor die moderniste verwerp Murray die voorstelling dat die verskyning van Jesus alleen maar ’n visioen en nie ’n werklikheid was nie:

Elkeen besef dat as die verskyning van die Here Jesus slegs iets inwendigs was, ’n visioen, ’n geestelike voorstelling, en nie ’n werklike gebeurtenis nie, elkeen van sy [Paulus se] bestryders hom daarop sou kon beroep het dat alles subjektief en sy eie mening was, en dat dit die hoogste vermetelheid is om daaraan die gesag van ’n Goddelike openbaring toe te ken. Die daadsaak daarenteen dat onder vriende en vyande die persoonlike opstanding algemeen erken is, toon aan hoeseer nie alleen by die apostels nie, maar by die duisende in die Christengemeentes, die geloof hieraan beskou word as die grondslag van die Christendom. (Murray 1942:152)

Die probleem met die moderniste was dat hulle panenteïstiese werklikheidsbeeld dit vir hulle onmoontlik gemaak het om te erken dat ’n bonatuurlike “geestelike liggaam” ’n werklikheid kan wees. As God en die wêreld één is, verval die onderskeid tussen ’n natuurlike en ’n bonatuurlike werklikheid. Dan kan alleen ’n stoflike liggaam werklik wees en kan ’n geestelike liggaam niks meer as ’n visioen of ’n subjektiewe inbeelding wees nie. Dan is Paulus se oortuiging dat die Heer (met ’n geestelike liggaam) werklik aan hom verskyn het en dat Hy dus werklik leef en uit die dood opgestaan het, niks meer as ’n subjektiewe inbeelding van Paulus nie. Teenoor die moderniste stel Murray dit egter dat “nie alleen by die apostel nie maar by die duisende in die Christengemeentes, die geloof [aan die werklikheid van die opstanding] beskou word as die grondslag van die Christendom” (Murray 1942: 152). Hierby sluit Murray hom aan.

4. Die vraag is nou waarom Murray die geloof in die werklikheid van die opstanding beskou as “die grondslag van die Christendom”? In antwoord op hierdie vraag verwys Murray na die noodsaaklike voorwaardes vir die Christelike spiritualiteit.

In my vorige artikel, “Die hermeneutiek van die geloof”, het ek uitvoerig betoog dat die geloofsinterpretasie van ons ervaring noodsaaklike veronderstellings oor die werklikheid impliseer. Ek kan nie alle goeie dinge sien as gawes waarvoor ek dankbaar moet wees as ek nie die werklikheid van ’n gewer veronderstel nie. In die woorde van Chesterton: “The worst moment for the atheist is when he is really thankful and has nobody to thank” (Chesterton 1957:78). Op dié manier was die geloof dat Jesus leef en uit die dood opgestaan het, die noodsaaklike voorveronderstelling van Murray se spiritualiteit.

Murray se evangeliese spiritualiteit was dié van die Réveil en van graaf Von Zinzendorf.17 Net soos vir Von Zinzendorf was vir Murray “die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van sy groot liefde die hoofsaak van die Christendom” (Murray 1905: bl. X). Die liefde van Christus is egter ook die liefde van God, omdat dit in die lewe en veral die kruisdood van Jesus is dat ons die liefde van God leer ken. Dit is alleen in die lig van die wonder van die opstanding dat ons alle ander wonders, alle ander uitings van God se liefde in ons lewe en ervaring, kan herken. Maar hierdie “persoonlike omgang met Christus” is moontlik alleen indien Christus werklik leef en uit die dood opgestaan het. Persoonlike omgang met ’n dooie is per definisie onmoontlik. Daarom is geloof in die wonder van die opstanding “die grondslag van die Christendom”.

Anders as ons menslike omgang met mekaar, is ons omgang met God in Christus geestelik en nie stoflik of materieel nie. Dit is omgang met die bonatuurlike en nie met die natuurlike nie. Daarom veronderstel hierdie omgang nie, soos Burgers en Kotze die ortodokse leer interpreteer, dat Christus opgestaan het met ’n stoflike liggaam nie, maar wel met ’n geestelike liggaam. Dit veronderstel egter wel dat hierdie geestelike liggaam ’n werklikheid is en nie ’n subjektiewe inbeelding van die gelowige nie. Met ’n subjektiewe inbeelding kan ons geen gemeenskap hê nie.

Teenoor die visie van moderniste beredeneer Murray dit alles soos volg:

As die mens genoeg het aan homself en aan die natuur, as hy rus kan vind by die aanbidding van die onbekende God wat nooit deur die voorhangsel van die natuur breek om antwoord te gee op die gebed, of om Hom deur die soeker te laat vind nie […] dan spreek dit vanself dat so ’n godsdiens aan die wondergeloof geen behoefde het en daar geen seën van ontvang nie. Waar iemand nie verlang om God van naby te ken nie […] is daar vir die wonderdoende God geen plek nie. Die gewete en die rede van die mensheid getuig egter saam met die Christendom dat hierdie godsdiens nie die dieper behoeftes van die hart kan vervul nie. En as die godsdiens in daardie behoefde sal voorsien, en waarlik sal wees die soek sowel as die vind van die verkeer van ’n lewende gemeenskap met die Godheid, dan het die godsdiens in die wondergeloof alleen sy krag en sy heerlikheid. Dit kan geen gemeenskap met God genoem word waar alle werksaamheid slegs van die een kant plaasvind nie, waar alleen die mens begeer en voel en verlang en liefhet terwyl die Godheid geen teken van Hom laat verneem of die aanbidding van Hom welgevallig is of by Hom weerklank vind nie. [...] Dan is die wonderpersoon van Jesus wat uit die hemel neergedaal het en uit die dode opgewek is as die gawe en die bron van Gods liefde, waarlik die middelpunt en wese van die Christendom en godsdiens. In Hom het ons ’n goddelike lewe, ’n Goddelike verlossing. (Murray 1942:161–2)

 

8. Slot

In my artikel oor “die hermeneutiek van die geloof” (Brümmer 2017) het ek betoog dat gewone gelowiges mense is wat probeer om sin te maak van hulle lewens en hulle ervaring van die wêreld deur dit te interpreteer in terme van die omvattende interpretasieraamwerk van die geloof wat in ’n religieuse tradisie aan hulle oorgelewer is. Hierdie interpretasie is eksistensieel en nie bloot intellektueel nie: dit vereis ’n lewenshouding wat by die interpretasie pas. Bowendien veronderstel dit ook ’n werklikheidsbeeld wat konstituerend is vir die interpretasie.

In hierdie artikel het ek probeer om hierdie opvatting oor religieuse geloof te illustreer aan die hand van die debat oor wondergeloof tussen Andrew Murray en die Kaapse verteenwoordigers van die modernisme. Die moderniste het die wêreld geïnterpreteer in terme van ’n panenteïstiese interpretasieraamwerk waarin daar geen ruimte is vir ’n bonatuurlike werklikheid wat binne die natuurlike orde in wonderwerke ervaar kan word nie. Murray het die wêreld geïnterpreteer vanuit die interpretasieraamwerk van die Réveil waarin die natuurlike wêreld sin kry vanuit sy verhouding met die bonatuurlike God wat deur wonders sy liefde binne die natuurlike orde aan ons openbaar, en die menslike lewe sin kry vanuit “die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van sy groot liefde” wat alleen deur die wonder van die opstanding moontlik word. Vir Murray is dit “die hoofsaak van die Christendom”. Alleen hierdie interpretasieraamwerk kan bevredigend sin maak van die lewe en die wêreld. Ten aansien van die moderniste se naturalistiese interpretasieraamwerk stel Murray dit dat “die gewete en die rede [...] saam met die Christendom [getuig] dat hierdie godsdiens [die interpretasie-raamwerk van die moderniste] nie die dieper behoeftes van die hart kan vervul nie.”

 

Bibliografie

Brümmer, V. 1992. Speaking of a Personal God. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 1998. Andrew Murray en die liefde van Christus. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 39:39-46.

—. 2006. Brümmer on Meaning and the Christian Faith. Collected Writings of Vincent Brümmer. Aldershot: Ashgate.

—. 2013. Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybel-Media.

—. 2017. Die hermeneutiek van die geloof. LitNet Akademies, 14(3):542–56.

Chesterton, G.K. 1908. Orthodoxy. Londen: The Bodley Head.

—. 1957. St. Francis of Assisi. New York: Garden City.

Eliot, T.S. 1953. Selected prose. Aylesbury: Penguin Books.

Faure, D.P. 1868. De Moderne Theologie. Dertien Toespraken. Kaapstad: J.C. Juta.

—. 1907. My life and times. Kaapstad: J.C. Juta.

Hanekom, T.N. 1951. Die liberale rigting in Suid-Afrika. Stellenbosch: C.S.V.-Boekhandel.

Hofmeyr, N.J. 1860. Een getuigenis tegen de hedendaagse dwaling. Kaapstad: N.H. Marais. 1860.

Holland, R.F. 1965. The miraculous. American Philosophical Quarterly, 2(1):43–51.

Hume, D. 1963. Of miracles, Section 10. In Wollheim (red.) 1963.

Lucas, J.R. 1976. Freedom and grace. Londen: S.P.C.K.

Murray A. 1942. Versamelde Werke, deel II. Stellenbosch: Christen-Studentevereniging van Suid-Afrika.

Murray, A., Debat met J.J. Kotze en met T.F. Burgers. Onderzoeker, De. 1867 tot 1869. jg. 8 tot 10.

Popper, K. 1963. Conjectures and refutations. Londen: Routledge.

Rutter J. 1970. “God be in my head”. Oxford: Oxford University Press.

Scholten, J.H. 1858. Aangehaal in Hofmeyr (1860:26).

Smart, N. 1964. Philosophers and religious truth. Londen: S.C.M. Press.

Wit, Jan. 2013. Aan U behoort, o Heer der heren. Lied 978 in Liedboek. Singen en Bidden in Huis en Kerk. Den Haag: Interkerklike Stichting voor het Kerklied.

Wollheim (red.). 1963. Hume on religion. Londen: Collins.

 

Eindnotas

1 Oor die teologie van die Moderne Rigting, kyk Brümmer (2013) hoofstuk 3. Oor die lewe van D.P. Faure, kyk Faure (1907).

2 Hierdie kerk bestaan vandag nog aan die bo-ent van Houtstraat in Kaapstad.

3 Hierdie “toesprake” is gebundel in Faure (1868).

4 Murray (1868. Afrikaanse vertaling 1942).

5 Die teologiese tydskrif van die Moderne Rigting aan die Kaap. Dit was onder redaksie van Leopold Marquard, die swaer van D.P. Faure.

6 Hoewel hulle aanhangers van die Moderne Rigting was, is Kotze en Burgers op grond van hulle legitimasie in Nederland tot die bediening in die NG Kerk toegelaat, voordat die sinode van 1862 besluit het om ’n eie colloquium doctum in te stel. In die sogenaamde liberalismestryd in die 1860’s het die Kerk onder leiding van Andrew Murray en N.J. Hofmeyr tevergeefs probeer om hulle uit die bediening geskors te kry. Oor hierdie kerkstryd, kyk T.N. Hanekom (1951). Hanekom gaan uitgebreid op die kerkpolitieke stryd in, maar gee geen aandag aan die teologiese debat agter hierdie stryd nie.

7 Kyk Brümmer (2013), hoofstukke 3–6.

8 Die term modernisme het deur die loop van jare verskillende betekenisse gehad. Dit moet egter duidelik wees dat ek my in hierdie opstel beperk tot die soort “modernisme” van die Kaapse aanhangers van die sogenaamde Moderne Rigting van J.H. Scholten in Leiden in die middel van die 19de eeu.

9 De Onderzoeker (1867:75).

10 Is morele en logiese waarhede op dieselfde manier “noodsaaklik”? En is hierdie “noodsaaklikheid” die gevolg van ons beperkte voorstellingsvermoȅ? Dit sou my te ver voer om hier op hierdie punte in te gaan. Kyk Brümmer (1992), hoofstukke 3 en 4 oor die verskillende vorme van noodsaaklikheid.

11 Kyk Popper (1963:33–65).

12 Elders het ek uitvoerig die aard van God se onveranderlikheid bespreek. Kyk Brümmer (2008:40–6).

13 Vir ’n beredenering van hierdie punt, kyk Brümmer (1998).

14 Kyk Holland (1965:43–51).

15 Hume (1748), seksie X. Vir ’n verhelderende bespreking van Hume se kritiek op wondergeloof, kyk Smart (1964), hoofstuk 2.

16 In my vorige artikel, oor “Die hermeneutiek van die geloof”, het ek uitvoeriger geskryf oor die aard van sulke bekeringservarings. Kyk Brümmer (2017).

17 Kyk hieroor Brümmer (2013), hoofstuk 1.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Andrew Murray en die debat oor wondergeloof appeared first on LitNet.

Present laughter: ’n resensie deur Danie Botha

$
0
0

NOËL COWARD

PRESENT LAUGHTER

Met Patrick Ryecart, Kate Normington, Michele Maxwell, Nicole Franco, John Maytham, Marcel Meyer, Matthew Baldwin, Skye Russell, Jo Da Silva en Dean Roberts.

Regie, stel- en beligtingsontwerp: Fred Abrahamse

Bou van stel: Just Sets

Kostuumontwerp: Marcel Meyer; geskep in Kunstekaap se garderobe

’n Pieter Toerien-aanbieding in The Theatre On The Bay. Tot 10 Maart 2018. In samewerking met Alan Brodie Representation Ltd, Londen.


Gary Essendine, o Gary Essendine! Hy is ’n voortreflike en uiters gewilde verhoogakteur. Goed in romantiese komedie.

Dis die laat jare ’30 van die vorige eeu in Londen. Hy het so pas 40 geword. Vir baie nogal ’n keerpunt-ouderdom. Nou  glo hy hy moet Afrika toe. Dit raak dadelik sy sakevennote, huishouding en verskeie dames. Veral laasgenoemdes hoop om tog weer passievol met hom in die kamer te verkeer. Hulle luste gaan oor in listigheid. Dis handig as jy laataand jou huissleutel “vergeet” en wil oorbly. (Coward gebruik die woord “latchkey” wat destyds in Bosman en Van der Merwe se Tweetalige Woordeboek vertaal is as “knipsleutel”...) 

 Patrick Ryecart vertolk Gary. As ’n mens sien hoe hy al as veelsydige akteur presteer het, kan ’n mens glo dat hy baie van sy eie ervarings in sy vertolking kan betrek. Hy kom byvoorbeeld ook vir die eerste keer uit Londen om hier in Suid-Afrika te kom speel.

Hy vorm die spil waarom die intrige draai. Hy speel feitlik sonder aanstellerigheid en melodrama. Sy karakter word in bronne beskryf as selfbehep; vir my was daar min daarvan. Soos die Nederlanders sê: “Hy doet normaal.”  Die ander karakters se spel kan dan daarmee boeiende en baie snaakse kontraste vorm. Coward se kenmerkende spitsvondighede, woordspel en ironisering laat ’n mens spontaan lag.

Visueel is dit ’n besonder treffende aanbieding. Regisseur Fred Abrahamse het die stel so ontwerp dat daar ’n verskeidenheid speelvakke gebruik word. Jy sien en hoor al die spelers. Daar’s die trappe waarteen Dean Roberts as Fred flink met vele drinkgoed uitbeweeg. En dis ook  waar Jo Da Silva as die huishulp, Miss Erikson, sommer die stoffer agter haar aansleep en so woerts-warts iets afstof. Sy mik-mik vir die kroonkandelaar. Gaan sy dit ooit bykom? Dis een van die wonderlike komiese hoogtepunte.

Op die boonste vlak daag die besoekers op. John Maytham as Henry en Marcel Meyer as Morris verskyn in een toneel besonder brullend en dominerend. Hier sien ’n mens ook die eerste keer vir Matthew Baldwin in sy uiters energieke spel as Roland Maule. Wild skud hy blad. En hy hou aan en aan daarmee.

Die dames, betrokke by riskante liefdesverhoudings, trek baie aandag met hul binnekomste: Kate Normington as Liz; Nicole Franco as Joanna en Skye Russell as Daphne. Hulle fleurige gewade is ontwerpe van Marcel Meyer in die aller helderste kleure. En ook daardie geelste der geelste baadjie van Roland Maule.

Te midde van die gedoentes is daar iemand wat “kalmte uit die onrus haal”. Dit is Gary se sekretaresse wat hier op die onderste vlak opstap. Michele Maxwell is eenvoudig lewensgetrou as Monica Reed. Sy weet presies wat om te antwoord; sy oordonder niemand nie, maar haar mensekennis blyk duidelik uit haar reaksies. Dis ’n voorreg om haar spel te beleef.      

Van Coward se bekendste komposisies word tydens toneelwisselinge gespeel. Dit lewer kommentaar op die inhoud. Aan die einde hoor ons toe: “Why must the show go on?”

Ja, dit móét! Baie mense moet dit nog sien en geniet.   

The post <em>Present laughter</em>: ’n resensie deur Danie Botha appeared first on LitNet.

Present laughter: ’n resensie deur Maryke Roberts

$
0
0

Present Laughter: Theatre on the Bay vier drie dekades as een van die Moederstad se beste vermaakbestemmings. Dis hier waar vele jong sterre hul voete kom vind het en vele gerespekteerde steunpilare van die bedryf aand na aand kom wys het hoekom hulle dié gerekende talent van die land is.

Om hierdie mylpaal te vier, bring Pieter Toerien Noël Coward se tydlose komedie, Present Laughter, op die planke, maar met ’n verdere hoogtepunt: Die West End-ster, Patrick Ryecart (The King’s Speech, Parting Shots, Agatha Christie`s Poirot) vertolk die hoofrol as Gary Essendine, ’n flambojante akteur wat hom effe in die middel van verskeie krisisse bevind, maar ook heel moontlik in sy eie middeljarige krisis is. Daar is vroue wat hul liefde verklaar; ’n sekretaresse wat hom sekerlik die beste van almal ken en weerlose jongetjies wat aan die voete van ’n ster wil wees om alle kennis uit hom te tap.

Coward het die rol as tour-de-force rol vir homself geskryf en dit bly een van sy onvergeetlike karakters. Hy het inderdaad self die rol vertolk – in 1942 en 1947 –  maar vele groot akteurs van die afgelope paar dekades, is al deur Essendine se charisma verlei en het die rol vertolk. Hieronder is Clifton Webb, Nigel Patrick, Albert Finney, Donald Sinden, Peter O'Toole, Simon Callow, Victor Garber, Ian McKellen en Kevin Kline, wat die 2017 Tony-toekenning vir beste akteur gewen het vir sy vertolking van die onlangse Broadway-herlewing.

Saam met Ryecart op die verhoog is ’n indrukwekkende lys Suid-Afrikaanse akteurs: Kate Normington speel Gary se vervreemde vrou, Liz, terwyl die bekroonde Michelle Maxwell sy geduldige sekretaresse, Monica, vertolk. Die Cape Talk-omroeper, John Maytham, speel Henry, Gary se vervaardiger en Marcel Meyer speel sy opgewerkte regisseur, Morris. Dean Roberts en Jo da Silva speel onderskeidelik die hofknaap Fred en die eksentrieke huishoudster Miss Erikson.

Twee jongelinge, Matthew Baldwin en Skye Russell speel die rolle van Roland Maule, ’n aspirerende jong toneelskrywer wat effe van die pad af dwaal en Daphne Stillington, ’n jong meisie wat glo sy is Gary se sielsmaat, maar eintlik net sterre in haar oë het oor die glanslewe van die teater.

Nicole Franco is Henry se vrou en speel ’n slinkse verleidster wat dreig om die vriendskappe tussen Henry, Morris, Gary en Liz te verongeluk.

Die toneelstuk in breë trekke: Dis die 1930’s in Londen; die tyd van deftige japonne wat oor pakke gedra word; toe drankies nog in kristalglase van ’n uitgebreide kristalversameling op die sytafel bedien is en vroue lang handskoene en bypassende hoede gedra het.

Gary is op pad Afrika toe vir ’n rol en tussen sy voorbereidings deur, is daar een malle gebeurtenis op die ander.

Coward het die toneelstuk as ligte komedie geskryf en voltooi dit net voor die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, maar voer dit vir die eerste maal in 1942 op. Die ligte komedie is vandag steeds net so relevant en snaaks as wat dit waarskynlik bykans 80 jaar gelede vir Londense gehore was.

Dis die tipiese Engelse humor en toneelstukke waarvoor die teater so bekend én geliefd geword het en vir die paar uur daar in die donker kan jy jouself amper indink jy sit iewers in ’n intieme teater op die West End in Londen.

Ryecart was beslis die regte keuse vir hierdie speelvak, want sy houding en gesigsuitdrukkings beklemtoon die stuk se droë humor. Kate Normington, Michelle Maxwell en Jo da Silva was my ander gunstelinge. Kate het daardie amper-histerie van ’n vervreemde vrou wat steeds glo sy dra die broek in die huis bykans vervolmaak en hou almal op haar eie manier bymekaar.

Die dekor en kostuums is in die kol en verdien beslis vermelding. Dis weer Britse teater op ons tuisveld soos ek daarvan hou.

As jy Shakespeare soek, ry eerder Maynardville toe, maar as jy wil agteroorsit en lekker lag, koop beslis jou kaartjie en kom sommer nog ’n keer vir nog ’n dosis, om al die fyn humor waarmee die stuk aanmekaar geweef is en jy dalk die eerste maal gemis het, op te let.


Present Laughter

Met: oa Patrick Ryecart, Kate Normington, Michelle Maxwell, John Maytham, Marcel Meyer, Dean Roberts, Jo da Silva.

Deur: Noël Coward

Regie: Fred Abrahamse

Theatre on the Bay

16 Februarie tot 10 Maart

Kaartjies deur Computicket of by die teater se kaartjieskantoor by 021 438 3301.

The post <em>Present laughter</em>: ’n resensie deur Maryke Roberts appeared first on LitNet.


US Woordfees 2018: Tjieng Tjang Tjerries – ’n onderhoud met Jason Jacobs

$
0
0

Jason Walter Jacobs (26) is ʼn trotse seun van Kharkams – én ʼn bekroonde teatermaker. Foto: verskaf

Met die eerste ontmoeting tréf Jason Jacobs mens as ’n fyn, kreatiewe en doelgerigte jong man. Hy kyk jou ernstig en reguit in die oë, effens teruggetrokke, maar vriendelik. Sy glimlag is oop en beskeie. Hy praat sag in ’n mooi, gemoduleerde Afrikaans.

Jason se veelsydige talent en sonderlinge kultuurstem is verlede jaar met die KKNK se Kunste Onbeperk-toekenning vir sy eiesoortigheid bekroon. Dié teatermaker, skrywer, dramaturg, ontwerper, akteur, regisseur en dialoogafrigter vir kykNET se demografiese sepie Suidooster voeg ’n dinamiese en belangrike nuwe stem aan die Suid-Afrikaanse teaterbedryf toe.

Wanneer hy skep, wil en moet jy luister en kyk. Sy produksietrilogie – Kalahari Swaan, Stof Rooi en In wag van – het hom ook Kanna-toekenning as beste nuweling besorg.

Die elemente – water, sand en vuur – en die mites, die tradisies, die kultuur, die taal, die liedjies, die danse, die lyf- en gebaretaal – die siel – van die Khoi en die San herleef met ʼn brandende begeerte wat die gehoor ontroer, meevoer en tot nadenke stem.

Jason skryf oor die dinge waarvan hy weet; met eerlike, rou meevoeling. Baie oor sy kinder- en grootwordjare; oor die mense in die gemeenskappe wat hy leer ken het op Kharkams, Hondeklipbaai, Kamieskroon, Carolusberg en Vredendal. Hy het daar skoolgegaan en sy hoërskooldae was by Vredendal Senior Sekondêr. Wiskunde, rekenaarstudies en Engels was sy gunstelingvakke. Hy het in graad 10 by die skool se dramagroep aangesluit, en daar het dit alles begin.

Hy is dramaskool toe en het daarna as verhoogbestuurder begin werk en ’n dubbelrol – as seun en ma – gekry in Philip Rademeyer (Fiësta-wenner vir Ashes/As) gekry. Die res is opgeteken: veelsydig.

In kwalik drie jaar was Jason se stem gevestig. Kunstefeeste, benoemings en toekennings oral – van Grahamstad se Nasionale kunstefees tot die US Woordfees, Suidoosterfees en die KKNK. Hy is die wenner van die Theatre Arts Admin Collective-beurs vir jong opkomende teaterregisseurs, betrokke by die Magnet Theatre Early Years Company en die Mother-tongue Youth Arts Project in McGregor, die stigter en kreatiewe hoof van KleiSandProduksies, projekte vir onder meer ASSITEJ – Theatre for Children & Young People en die Desmond & Leah Tutu Legacy Foundation.

Dié omgeemens en gemeenskap-verryker glo aan teater van genesing.

Gretchen Ramsden en Rehane Abrahams in Dans van die Watermeid. Foto: Nardus Engelbrecht

Dans van die Watermeid

Jason is vanjaar by drie produksies by die Woordfees betrokke. Onder meer behartig hy die regie van Die dans van die Watermeid.

Dié stuk, wat in Willowmore in die Groot Karoo afspeel, takel sosiale kwessies soos die stryd wat hedendaagse jongmense voer, sonder die vooruitsig van werk of ’n beter lewe en die dinge wat gemeenskappe onder die mat invee. Dít alles onder die neus van die kerk. Intussen weerklink die ritme van die dans van die Watermeid wat die jong meisies kom verlos wanneer die reën kom. Die mense is gelowig en selfs meer bygelowig. Kyk mooi en jy sal die mitiese reddingsfiguur, Watermeid, sien: die een wat verlossing bring, die misvormde wese – half mens, half vis. Spook dit nog hier?

Womb of fire

Jason was ook betrokke by Womb of fire (met regie deur Sara Matchett), ’n drama waarin die verre verlede met ons ontstellende tye kommunikeer.

Die drama speel af teen die epiese agtergrond van die Indiese The Mahabharata en verweef die persoonlike narratiewe en eietydse werklikhede met die lewens van twee vroue in die stigtingsjare van die Kaapkolonie. Hulle integreer die “Womb of fire”, wat geboorte gegee het aan Suid-Afrika. Die drama volg Grote Katrijn van Pulicat se reis as slaaf van Indië deur Batavia na die Kaap. Die drama fokus ook kortliks op die wrede lewe van Zara, ’n Khoekhoen-dienskneg wat gewelddadig deur die VOC gestraf word weens moord.

Jason het die vertaling vir dié produksies gedoen, uit die oorspronklike teks deur Rehane Abrahams.

Gretchen Ramsden, Marlon Swarts en Celeste Matthews-Wannenburgh luister terwyl Jason Jacobs regisseer aan Tjieng Tjang Tjerries. Foto: verskaf

Gehore by die US Woordfees (en elders in die toekoms) word vanjaar met ’n splinternuwe opvoering deur Jason se maatskappy, KleiSandProduksies, vermaak. Dié werk, Tjieng Tjang Tjerries, is ’n verwerking uit die skrywer Jolyn Phillips se bekroonde kortverhaalbundel Tjieng Tjang Tjerries & other short stories, wat deur Modjaji Books gepubliseer is.

Die verhoogstuk volg op ’n eenvoudige manier die gekompliseerdheid van die gesinslewe op ’n fiktiewe vissersdorpie. Dit word ’n metafoor vir mense wat vergete is, mense wat besig is om meer as net hul stem te verloor. Uit desperaatheid soek hulle mekaar in die mistigheid van voorgeslagte en lang ure op skepe wat amper leeg huis toe kom. Maar daar is hoop en bure wat mekaar dra.

Jason gesels oor sy jongste kreatiewe skepping.

Hoe het jy met Jolyn Phillips se skryfwerk in aanraking gekom?

Gewoonlik skep ek my eie stories. As teatermaker is ek egter altyd op soek na vars idees en vernuwing. Daarom lees ek wyd. Ek het Jolyn Phillips se kortverhaalbundel gelees en was meegevoer met veral twee stories: “The photograph” en “Legend of Tjieng Tjang Tjerries”. Ek het haar genader om die werk vir die US Woordfees voor te stel. Sy was onmiddellik opgewonde oor die idee. Dié keer dra ek die verantwoordelikheid van iemand anders se stories in my hande – sónder om my eie artistieke kreatiwiteit en integriteit te verloor. 

Wat het jou van die tekste aangegryp?

Daar is ’n menswaardigheid omtrent die stories, karakters, en die landskappe waarin hulle woon en hulself bevind. Die ruimtes voel na aan dit wat ek ken, waarmee ek grootgeword het en die mense wie my inspireer om voort te gaan as kunstenaar. Dit is vir my belangrik om hierdie stories meer lewe te gee. 

Wie het die verhoogverwerking gedoen en wat was die uitdagings?

Dit was regtig ʼn uitdaging! Ek en Jolyn het saam aan die verhoogteks gewerk. Sy het die musiek – eenvoudig, maar kragtig met net kitaarbegeleiding – en die woorde daarvoor geskryf. Ek en die choreograaf Byron Klassen het die verwerkingproses vir verhoogmatigheid gesamentlik onderneem. Byron en die danser Dustin Beck het die opwindende, stemmings- en genregetroue choreografie behartig.

Het die oorspronklike skrywer ingemeng?

Jolyn maak alles ligter omdat sy ons visie ten volle vertrou. Dis pynlik as skrywers nie kan "oorgee" nie. Ons werk met poësie, dans en oorspronklike musiek en die groot uitdaging is die bymekaar vleg van dié elemente. Hoe vertel mens ’n volle kortverhaal in een danssolo? Hoe beskryf jy die gevoelens van ’n karakter en sy psige in ’n kort gedig – sónder om die hartklop van die kortverhaal te verloor? Dit is die tipe vrae waarmee ons in die repetisielokaal gekonfronteer is – en met graagte aangepak en opgelos het. Dit was uiters bevredigend om die regie van dié meervlakkige teaterproduksie te doen.

Hoe verskil die toneelteks van die oorspronklike werk, en/of hoe getrou is dit daaraan?

Daar is nie juis ’n verskil nie, maar wel ’n ontwikkeling. Karakters op papier – Senna, Lelik en Fisherman – word nou in aksie gesien en gehoor; as’t ware ’n reeks kleurryke foto’s in klank en beweging.

Waarom is dié produksie relevant?

Die verhale mimeer die natuurlike wanorde van die daaglikse lewe. Dit ontwyk alles wat staties en berekenbaar is en omhels eerder die aard van menslike eentonigheid, wispelturigheid en inkonsekwentheid. “The photograph” is ’n verhaal wat die innerlike stryd oor verlies as’ t ware fotografeer en dan moeiteloos verplaas. Die stuk wek empatie met die bitter glans van verdriet, uitgebeeld deur ’n treurige moeder wat net nie kan laat los nie en ’n afwesige vader wat sy lewensdoel verloor het.

“The legend of Tjieng Tjang Tjerries” word die lig wat die skaduwee van “The photograph” komplementeer; byna neurie-speels en humoristies. Hieruit spruit ʼn nuuskierigheid waaruit opgevoed word.

Die elemente speel altyd onontbeerlike ondersteunende en aanvullende rolle in KleiSandProduksies se kreatiewe benadering tot die stelinkleding. Dié keer ook?

Ons verweef die natuur en alledaagse gebruikmiddels in die eenvoud van die narratief. Die stel is gestroop; sielsoop – mét sand; die stof van lewe en dood.

Die kombuis personifieer ’n oop graf: van ’n ma wat haar seuns daagliks begrawe (nie letterlik nie) terwyl sy haar huis (én kruis) saam met haar op haar rug dra (letterlik).

Ander openbarende elemente in die produksie is ’n skottel met bietjies water, plastiek, seepbelle en ’n wit skoolhemp. Die ma probeer haar kind wég was, maar sy sukkel om hom op te hang. Sy sukkel om hom te laat droog raak.

Wat is die boodskap wat dié produksie wil oordra?

Die produksie ondersoek die impak van verlies, die mure wat dit rondom ons skep en hoe dit gesinne en gemeenskappe beïnvloed, verdeel en vervreem. Daar is nie net een spesifieke boodskap wat ons wil uitbeeld nie; dit is eerder ‘n uitlokking van emosies en gevoelens. Die ganse aanbieding – die beweging, die poësie, die klank en die inkleding – dra by tot die stories en die ménse se verhoudings. Gehore kry die geleentheid om daarvan te hou, daarmee te verskil of net te ervaar en te “voel”.

Jason se Woordfeesproduksies

Tjieng Tjang Tjerries

  • R120–R140 | R140–R160
  • KleiSandProduksies ondersteun deur die US Woordfees.
  • Regie en stelontwerp: Jason Jacobs
  • Teks: Jolyn Phillips en Jason Jacobs
  • Musiek: Jolyn Phillips
  • Choreografie: Byron Klassen en Dustin Beck
  • Met: Dustin Beck, Kaylin Coetzee, Marlon Swarts, Gershwin Mias, Celeste Matthews-Wannenburgh en Gretchen Ramsden.
  • Geen o/12
  • 70 min

5 Maart 18:30 Hoërskool Cloetesville
8 Maart 18:30 Hoërskool Cloetesville
10 Maart 18:30 Hoërskool Cloetesville
11 Maart 12:30 Hoërskool Cloetesville

Die dans van die Watermeid

  • ’n NATi/Baxter Teater-produksie
  • R100 | R120
  • Regie: Jason Jacobs
  • Teks: Amee Lekas
  • Choreografie: Deidre Jantjies
  • Stel- en kostuumontwerp: Birrie le Roux
  • Beligtingsontwerp: Patrick Curtis
  • Produksie-assistent: Enrico Hartzenberg
  • Verhoogbestuur: Marisa Steenkamp
  • Met: Abduragman Adams, Rehane Abrahams, Elton Landrew, Ephraim Gordon, Gretchen Ramsden en Celeste Matthews-Wannenburgh.
  • Geen o/10
  • 80 min

2 Maart 20:30 Hoërskool Cloetesville
3 Maart 10:00 Hoërskool Cloetesville
3 Maart 12:30 Hoërskool Cloetesville
4 Maart 20:30 Hoërskool Cloetesville
5 Maart, 20:30, Hoërskool Cloetesville

Womb of fire

  • The Mothertongue Project
  • Regie: Sara Matchett
  • Teks: Rehane Abrahams
  • Vertaling: Jason Jacobs
  • Stel- en beligtingontwerp: Craig Leo
  • Met: Rehane Abrahams en Lukhanyiso Skosana
  • Geen o/14
  • R90 | R100
  • 60 min

06 Maart 21:00 Hoërskool Cloetesville
08 Maart 18:00 Hoërskool Cloetesville

The post US Woordfees 2018: <i>Tjieng Tjang Tjerries</i> – ’n onderhoud met Jason Jacobs appeared first on LitNet.

The Alan Paton Book Festival 2018

US Woordfees 2018: Die feëkoningin, ’n resensie

$
0
0

Die feëkoningin 3–5 Maart 2018, Spier Amfiteater, Kaapstad Opera in samewerking met Naspers en Universiteit Stellenbosch, Woordfees 2018


Henry Purcell se Die feëkoningin is ’n semi-opera, en soos Izak Grove se programnota vir Kaapstad Opera se nuwe produksie aandui, beteken die term presies wat dit sê: dit is ’n werk wat slegs ten dele uit konvensionele opera bestaan en wat, benewens die sang, uitgevoer word met dans- en spraakrolle, sowel as instrumentale items. Die feëkoningin behoort boonop tot die sogenaamde masque-genre, wat enersyds beteken dat die werk van gemaskerde metaforiese of allegoriese karakters, eerder as werklike karakters, gebruik maak en andersyds dat die narratief ’n sekondêre rol speel. Hierdie aspekte is die gegewe waarbinne die regisseur die werk op die planke moet bring. Alan Swerdlow noem in sy regisseursnota dat die stuk oorspronklik uitgevoer is saam met die grootste gedeelte van Shakespeare se A midsummer night’s dream. Só ’n produksie sou vyf uur duur en is, ook natuurlik vanweë koste, deesdae nie lewensvatbaar nie. ’n Nuwe libretto is gevolglik van Wessel Pretorius aangevra en dit is hierdie libretto wat die werk laat afspeel binne die beleerde drama- en musiekdepartemente van ’n Nzimande-era-universiteit in ’n Bolandse dorp wat bekend is vir sy eikebome.

Swerdlow se produksie is ’n lawwe mallemeule van kleur, oordaad en melodrama. Die sentrale intrige is die verhouding tussen die hoof van die dramadepartement, Piscator, en sy gewese vrou, Cadenza. Dié twee word deur die universiteit se burokrasie gedwing om saam te werk aan ’n maak-of-breek-produksie van Die feëkoningin wat aangebied word vir bepaalde Chinese besoekers aan die universiteit wat daarin belangstel om dit te koop en te omskep in ’n tegnologiese sentrum waar drama en musiek beslis nie ’n plek sal hê nie. Die gebeure speel af rondom en gedurende die finale kleedrepetisie. Ons het dus hier te make met die sogenaamde metadrama – die teater binne die teater, die verhoog op die verhoog en die gehoor op die verhoog. Die overte posisionering van die werk as ’n finale kleedrepetisie is ’n slim keuse wanneer studente en jong kunstenaars die grootste gedeelte van die rolverdeling beklee – dit beteken dat sekere toegewings by die gehoor vanuit die staanspoor moontlik is, omdat die aspek van repetisie twyfel by die toeskouer kan laat ontstaan aangaande die inskatting van die gehalte van die kunstenaarskap. Is die vals, onvaste note by die sangers opsetlik (as deel van die opvoering van ’n repetisie) of is dit die gevolg van rolvereistes wat ver bo die vuurmaakplek van die vertolker is? Ek het die gevoel gekry dat die repetisie-aspek nie die onbeholpe sang deur veral die sopraanrolle kon verskoon nie – daar is net te veel daarvan. Daar is egter wel uitsonderings op hierdie algemene indruk wat die sang aanbetref: Marina Pienaar wend ’n goeie poging aan in die naamrol, maar dit is die sang (én spel) van Keaton Manwaring as Winter wat mens bybly; so ook die vertolking van Lusibalwethu Sesanti in die Coridon-en-Mopsa-duet. Erik Dippenaar agter die klavesimbel verdien die hoogste lof, want dit is sy rotsvaste musikale leiding van die afgeronde “Camerata Tinta Barocca” wat verhoed dat die mallemeule heeltemal hand uitruk.

Wat die toneelspel aanbetref, waardeer mens die vlot, liriese Afrikaans van Wessel Pretorius se teks (met byskrifte in Engels), die behendige spel van die meeste van die studente-akteurs, en die uitsonderlike vertolking van Petrus du Preez as Barrymore. Die kostuums en ontwerp is interessant en Swerdlow se strategie wat die inkorporasie van die Chinese aspek van die masque aanbetref is briljant.

Hierdie produksie is ’n lofwaardige poging met ’n eerbare doel: om aan jong kunstenaars die onskatbare geleentheid van ’n volskaalse uitvoering te gee (soos Matthew Wild dit in sy nota oor samewerking stel). Flou sang is, vergeleke met hierdie oogmerk, ’n klein prys om te betaal as dit beteken dat die kunstenaars van môre die blootstelling kry wat van hulle meer ervare toekomstige ambassadeurs sal maak van ’n genre wat permanent onder beleg is en deur baie as dood beskou word.

In hulle boek oor die sogenaamde tweede dood van opera noem Slavoj Žižek en Mladen Dolar dat opera nog nooit in pas met die tyd was nie: “[F]rom its very beginnings, it was perceived as something ‘outdated’, as a retroactive solution of a certain inherent crisis in music, and as an ‘impure’ art. To put it in Hegelese, opera is ‘outdated’ in its very concept. How, then, can one not love it?” Dolar gaan in sy gedeelte van die boek voort en wys daarop dat opera, ten spyte van die sogenaamde dood daarvan, lustig voortleef en gedy. Vir Dolar kan die rede hiervoor bestaan in die feit dat opera geskiedkundig die bevoorregte plek vir die opvoering van die fantasie van die fabelagtige gemeenskap was. Wat mens veral opval van Swerdlow se Feëkoningin, is die mate van versoening, verdraagsaamheid, gemeensaamheid, vriendskap en beperkte konflik in die gemeenskap – op ’n baie herkenbare manier verbeeld Swerdlow hier die postapartheid gemeenskap in ideale gedaante. Vandag glo baie min mense nog in die fabelagtige, harmonieuse idee van die gemeenskap, maar die fassinasie met en geloof in ’n tyd waarin mense nog in die fabelagtige gemeenskap geglo het, oorleef. Dolar skryf: “[I]t is [in the opera] that our own weird rites, the mythical beginnings of our society [persist] ... it’s lost but still persistent ... origins are presented and re-enacted […] Opera thus retroactively recreates the mythical past that nobody believes in but yet is dearly needed and piously re-created.”

Die vraag is natuurlik hoekom hierdie mitiese verlede ons steeds fassineer. Swerdlow se antwoord, reken ek, is dat hierdie mitiese verlede eintlik net in die toekoms kan bestaan en dat die eintlike doel van opera daarop gemik is om ons oë op die toekoms te rig en ons te wys op ons betrokkenheid by en verantwoordelikheid vir daardie toekoms en sy onbeperkte moontlikhede (goed én sleg) – die toekoms is nooit volledig voorafbepaal nie. Om hierdie rede kan ’n semi-opera uit 1692 in 2018 by die Woordfees leef asof opera nooit gesterf het nie.

 

  • Jaco Barnard-Naudé is die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe by die Westminster Universiteit in Londen. In ’n vorige lewe was hy ’n tjellis.

The post US Woordfees 2018: <em>Die feëkoningin</em>, ’n resensie appeared first on LitNet.

Daar is ’n byt in die lug van die Cyril Lente

$
0
0

Cyril as Messias: dis die nuwe narratief wat oral weerklink.

Kritiek teen Cyril word nie geduld nie. Gee vir Cyril kans, verandering vat tyd, sê hulle. Moenie negatief wees nie, kyk hoeveel het hy al vermag in ’n kort tyd, brom hulle. Hy’t ons van Zuma gered, moenie krap nie, pleit hulle. Dit begin al meer die gevoel kry van ’n kind, bang vir die donker, wat fluit om sy dapperheid te wys.

Moenie die noot so hoog insit nie, is my antwoord. ’n Boom sal geken word aan sy vrugte, haal ek aan.

En wat is die vrug van die sg Cyril Lente?

Eerstens het Zuma getjaila, wat ons almal kan saamstem ’n goeie ding is.

Tweedens is die kabinet geskommel, maar dit voel of die dice nie altyd lekker geval het daar nie.

Aan die positiewe kant: Gordhan, Pandor en Nene is terug in die saal. Amptenare in Buitelandse Sake is uit hul velle om Sisulu terug te kry. Sommige van die Zuma vrot appels is verwyder. Die opposisie se sterkste verkiesingsboodskap is geneutraliseer.

Aan die negatiewe kant: die aanstellings het twee dinge baie duidelik laat blyk. In die eerste plek is Cyril nie die onafhanklike Messias waarop soveel burgers hoop nie. Hoekom anders sit Bathabile Dlamini nog soos ’n neet? Sou sy nog soos ’n neet sit as sy nie die leier van die ANCVL was nie?

In die tweede plek dui die plasing van lede op ’n minagting, of ten minste ’n blindheid, vir die behoeftes van armes.

Bathabile Dlamini het Sassa in ’n krisis gedompel en rustig agteroor gesit terwyl die krisis net al groter en groter word. Sy moes weggeneem word uit Maatskaplike Ontwikkeling, daaroor is daar geen twyfel nie. Maar met ’n krisis op die horison moes ’n Mr/Ms Fixit ingestuur gewees het, iemand wat besluite kan neem en deurvoer, iemand wat onder druk kan werk en wat die werkers kan inspireer om hulle alles te gee om die uitbetalings te maak werk. Alle beskikbare berigte dui daarop dat die Social Security Agency nie gereed is om op 1 April, ’n maand van nou, betalings oor te neem nie. CPS het aangedui hulle stel nie belang om na 31 Maart voort te gaan met hulle onwettige kontrak nie. Wat beteken dit? Waarskynlike krisis by alle betaalpunte waar mense in kontant betaal word. Op 1 April 2018. Minder as ’n maand van nou. En die minister wat in beseringstyd ingestuur word, Susan Shabangu, kon nie hond haaraf maak in haar rol as minister in die Presidensie: Vroue, kinders en mense met gestremdhede nie. Boonop moet sy saamwerk met die nuwe minister verantwoordelik vir beplanning, monitering en evaluasie, ene Nkosazana Dlamini-Zuma, wat die leier is van die interministeriële taakmag wat die oorgang moet hanteer. En Dlamini-Zuma is self nie juis bekend vir haar dringendheidsin nie. Dis ’n kombinasie wat dui op ’n waarskynlike geween en gekners van tande op 1 April.

Angie Motshekga bly aan in Basiese Onderwys. In stede daarvan om die gehalte van onderwys te verbeter, wil sy slaagsyfers selfs verder verlaag om die statistieke beter te laat lyk. Navorsing het bewys dat ons kinders funksioneel ongeletterd is, soos wat ek in ’n vorige rubriek geskryf het. Dit terwyl opvoeding bewese is as die beste manier om aan armoede te ontsnap.

Derdens is die nuwe begroting gemengde nuus. Goed, Cyril kan nie regtig daarvoor blameer word nie, maar die prioriteit dui weer eens daarop dat armes nie regtig in ag geneem is nie. BTW word opgeskuif. Dit is armes wat die swaarste getref gaan word. En wat persoonlike belasting betref, is die kategorieë met die hoogste inkomste nie getref deur ’n toename in belasting nie.

Vierdens is die onteiening-van-grond-sonder-vergoeding-kwessie weer stewig op die voorgrond, wat vrugbare teelaarde vir paniek aan die een kant en vals hoop aan die ander kant is. Die staat het in die afgelope aantal jare sedert 1994 nie behoorlik daarin geslaag om grond wat reeds in staatsbesit is, in privaatbesit oor te dra nie. Indien hulle ernstig is om die Grondwet te verander, privaatgrond te onteien en aan ander oor te dra, hoe gaan dit vinniger geskied? En as hulle nie ernstig is daaroor nie, is dit net weer ’n siniese taktiek om armes te mislei.

Die nuwe president het nie die volle steun van die NUK en sy party agter hom nie. Dit word al hoe duideliker. Beteken dit egter dat die land steeds gebuk moet gaan onder onbevoegde en selfs korrupte leiers terwyl Cyril met sy eie binnelandse weergawe van quiet diplomacy besig is?

Natuurlik nie.

Die Cyril Lente begin al meer soos die Cyril Herfs voel. Daar’s ’n byt in die lug.

The post Daar is ’n byt in die lug van die Cyril Lente appeared first on LitNet.

US Woordfees 2018: INK gratis beskikbaar – Uitgawe drie

Viewing all 22111 articles
Browse latest View live
<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>