Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21497 articles
Browse latest View live

Liefde is ... Inskrywings (VI)

$
0
0

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Christo Meyer
  • Karien Martinson
  • Nikita van den Heever
  • Hendry Kortje
  • FG Buitendag
  • L-Morgan Cooper
  • Nicolette Fouldien
  • Evelyn van der Merwe
  • Elsa Malan Olivier
  • Elizabeth Arends
  • Wendy Anthonie
  • Marita du Preez
  • Christopher Pedro
  • Corne Fourie

 

Christo Meyer

Liefde is ...

om laataand in bishop lavis
op ’n trein te klim
en na denkbeeldige gesigte
op die leë sitplekke te staar
op pad na jou valentyn
wat in bonteheuwel bly
omdat die verlange na haar
’n vlam aansteek in jou hart
dis wat liefde is

om koes-koes tussen die koeëls
van bendes deur te loop
en skelm aan jou valentyn
se kamervenster gaan klop
omdat haar pa jou geweeg
en te lig bevind het vir sy dogter
dis wat liefde is

om ure aaneen
in haar bruin oë te kyk
oor haar wang te vryf
en haar te soen
en niks behalwe soet woordjies
in haar oor te fluister
dis wat liefde is

om deur polisielede
wat haar pa ontbied het
hardhandig in ’n vangwa
geboender te word
en later tussen misdadigers
in ’n sel gaan lê
en droom van ’n beter toekoms
vir jou en jou valentyn
weg van treine
weg van stasies
weg van bendegeweld
dis wat liefde is ...


 

Karien Martinson

Liefde is ...

’n Troupant – blou en skor – in die bos
                          daar waar die somer hang
Teen herfs knak hy haar vlerke los los
en bang word sy in haarself vasgevang.

Sy woorde
swart-lanfer-skoenlappers
breek haar oë oop
haar dae gedoop in smart

Kneus haar verlê vere mooi,
hoe maklik vryf die kleure af
op haar sidderende vel
lilapers        diepblou        skelrooi.

Argeloos
dansend in ’n perfekte pirouette
het hy gekom
teen die silwer silhouette
sy dolk geslyp
en in die bister
hom probeer vergryp aan haar lied.

Maar in haar donkerste uur
vind sy vir die eerste keer haarself
En in dié heuninglig
Ontvlug sy die kou


 

Nikita van den Heever

Liefde is...

Die Liefde het sy eie voorafbepaalde pad,
en soms ondervind jy dat die Liefde jou vooruit hardloop:

dit teer die pad waar slegs ’n oorvleueling van digte bosse eens was,
en neem jou kaalvoet op ’n
onbekende en ongekose reis
lankal voor jou uitgestrek.

En dit is hoe jy weet
wanneer dit bedoel is om te wees.
Dis wanneer jy nie self die keuse maak nie,
maar wanneer Liefde die keuse namens jou neem.


 

Hendry Kortje

ons is tweesaam!

al die ander het hulle knap gedra
maar jy toring hoog bo almal uit!

saans in sagsnik skrede
huilend hard oor vergete verlede
troos die vat aan jou vel
met my pen se huilende akkoorde 
skryf ek my treurlied se woorde
(wat wankelend waak)
oor die bitter aalwyn wat my skemerhart braak

geweeg maar te lig bevind
wei ek in wenende weemoed
verspeelde kanse deur out of step-lewensdanse
het ons skreeuend laat steun en ons skelwoordgedreun
in onritme laat verval
(dis hoekom ek nou wankelend waak)

maar
dit moet ek jou vertel van die algehele hel
waarin ek my bevind het toe jy mý gevind het

ken jy die hartseer huil van die hadida?
sulke kras skreeupyn het druppend gebloei
teen die afgebreekte muur van my siellose snikke snags
in my middernaguur was jy tog net hier
jy was die kuur van die treurtier
ek was gedryf tot net duskant verlorenheid

en toe ...
saggies en teer was die geroep
ritselend deur my herfsblaar se leef
het jy polsend gekom
in lief se reaksie het beide gebeef
totdat hortende asemhaal ons roete bepaal
teen die tydlose toring van taanvrye toekoms
jy troon gewis bo almal uit, my Lief

die naam van die Here is ’n sterk toring
die regverdige vlug daarin en word beskut

jy is my sterkste toring ... en ek noem jou Persevering Love


 

FG Buitendag

Katastrofies

Smeulend sag
Soos Hiroshima in die nag.

Onverwags maar verwags
Het die roulette sy tol geëis.

Die bom het elke greintjie van my vernietig
Die koeël my hartklop beëindig.

Want almal weet liefde is roulette
’n Bom wat jou lewe met pyn kan besmet.

Om gepynig te word kies mens steeds
Met die hoop om hierdie keer
Dalk
Net te kan oorleef.

Maar om te vertrou
Weer en weer
Sal veroorsaak dat jou hart disintegreer.

Liefde is pyn.
Maar dikwels maak pyn
Jou hart meer rein.


 

L-Morgan Cooper

Liefde is: iemand wat saam jou veg 
Iemand wat saam jou lag en huil
Iemand wat nie te skerp oordeel
Iemand wat jou menswees soos hulle eie koester

Liefde is: een wat praat en een wat luister
’n Bron van hulp en troos
Die somer wat die winter uit jou siel dring

Liefde is: iemand wat jou die lig laat sien deur die duister
Iemand wat "onmiskenbaar" verander aan jou siel
Iemand wat in ’n briefie iets besonders met jou deel
Iemand wat aanvaar wie jy is en waar jy vandaan kom

Liefde is: ’n plek waar jy beskerming vind
’n Baken, eindloos en teer

Liefde is: iemand wat ongetwyfeld daar sal wees
Vandag, more en vir ewig daarna
Deur elke winter, donker nag, storm en reën


 

Nicolette Fouldien

Liefde is ’n melodie

ek fluister vir jou ’n liedjie
op wieke van die wind
hopend dat die melodie
jou hart se oor sal vind
liefdeswoorde van verlange
dwaal vroetelend deur jou hart se gange
ek ontbloot my hartsgeheime
in note onhoorbaar sag
’n liriek wat sê
ek sal vir altyd op jou wag
dit bereik ’n crescendo
ek verhef my solo sang
duidelik kom die boodskap
jou hart het dit ontvang.


 

Evelyn van der Merwe

Liefde is ...

Die skryf van jou naam met skulpe op die strand
onderstreep met die palm van ’n sagte hand
(in die bosveld) teen die stam van ’n soetdoringboom
met boomgom ons foto en ’n hartjie omsoom

Jou gelaat geskets in spierwit spoelklip
(in die spruit aan wal) met grassade perfek ge-vierkantraam
op my siel se blad, noteer ek jou naam
met liefdeskodes wat ek en jy verstaan

’n Gevoel van die reënwoud se misvloer klam
waar twee rye voetspore hoog daarbo hang
en in ’n wattebed van groen-groen mos
afgeëts – dubbelharte styf vasgevang

Jou wentel om my gedagtekern
waar ek wandel deur intieme hartsgange
laat ek tone-trippel ’n krummelstreep
van gevoelens en diepe hartsverlange

Jou portret grof uitgegriffel
teen my hartkamer se muur
waar die vlammevers voortdans
in ons warm liefdeskuur

Die aanhoor van jou ritmiese stem
en verdrink in saffierblou van jou kyk
sonder woord of gebaar net verstaan
die praat van die hart wat liefde ken


 

Elsa Malan Olivier

Liefde is ...

.... om te lewe, te lag, te glo, te vergewe
Jouself op ’n vreemde ander planeet te begewe
Jou hart op ’n bootrit te stuur op ’n oop storm – see – oseaan
Die hemel elke dag te sien sonder om dood te gaan

Daai eerste soen – knieë wat skielik nie weet wat om te doen
Jou hart was nog altyd myne – op dit kan ek steeds roem
Tye saam – onvergeetlik
Jou arms om my – nog net so begeerlik

Ons vat nog hande – stap nou stadig – ouderdom maak ons waardig
Jy steeds vir my mooi en nog meer geloofwaardig
Ons glo nog altyd onwrikbaar in mekaar
Ons liefde bly altyd daar en ongelooflik raar

Pille, brille poeiers en pyne
Na alles bly jy nog my beste medisyne
Sal mekaar se vreug en laste dra – al word ons lyding swaar
Nooit ophou om God se hulp te vra

Elke jaar saam jou word beter en ek meer seker
Die liefde is goed en vul jou menswees-beker
Hoe meer jy gee – hoe meer sal jy ontvang
Maak nie saak van ouderdom, kleur of rang


 

Elizabeth Arends

Liefde is vorme van lig

In hierdie duist’re grys mis
van onsekerheid,
onder die strawwe skadu’s
van veroordeling,
deur die dralende newels van
te veel
ter wille van en
heeltemal te min syn
(en samesyn)
durf ek nie
opgee meegee ingee.
Eerder van binne sterk gesmee
óp
sodat ek – wanneer die donker op sy nagste is –
die lig hóóg kan hou
as ’n soeklig wat
nimmer verflou
as ’n skans teen als wat
my wete wil doof
as ’n vlam met tonge
wat die laaste onsuiwerheid oplek
as ’n fakkel wat eindelik
triomfeer en dan
as ’n kompas - vir jou
wat séker die rigting roep:

O, kom dan nou
net een tree nog …
(en nόg)
na hier waar ek stralend
bly wag
totdat ons sáám
vry kan wees en helder
én lig.


 

Wendy Anthonie

Liefde is moeilik om met woorde aan te raak
selfs Van Gogh se kwas sal meesterlik faal
onsigbaar portret van emosie gemaak
’n woordeskat-ramp wat deur jou grysstof maal

Liefde is ’n Saul met geen tikkie sig
wat jou laat strompel oor klip en rant
tog baai dit jou nag in sterrelig
as jy moeiteloos voortstu oor dein en sand

Liefde is die Suiderkruis wat kantel
as jy jou kop skuins draai vir ’n kus van die maan
maar in sy plek omswagtel in Adamsmantel
proe jy die nektar as sy lippe oor joune gaan

Liefde is ’n spookkitaar wat soet melodieë tokkel
Jou sinne bekoor – met jou kop bly smokkel


 

Maritza du Preez

Verlief

In daardie soen vermurwe ek,
saam met jou lyf se lyne,
die spitsword van jou ken.

Wil ek my toekombers ...
aan jou lag se strelende
vingerpunte raak.

Vintage portraits smeulend
vanuit jou oë se ylblou kyke haal
Onverpoos voor jou hart se poorte waak.

Want jý, skryf die poetry ...
wat my lyf ’n lovesong maak.


 

Christopher Pedro

Soos die uurglas begin loop
Kan geld nie die liefde koop
In die begin is ’n verhouding een groot plesier
“Cupid” word met sy pyle gestuur
Sjokolade, blomme en soene word uitgedeel
Met wyn en sagte musiek wat in die agtergrond speel
Daarna begin dinge in die slaapkamer opvlam
Sonder om die toekoms te beplan

Totdat die uurglas half begin raak
En die sjokolade en soene nie meer so lekker smaak
Want die dame is swanger
En die kêrel word al banger
Die paartjie wil nou mekaar se koppe afbyt
Want al twee is bang vir die verantwoordelikheid

Die uurglas lê nou al kwart
In die verhouding is daar net pyn en smart
Beide ouers forseer die paartjie om te trou
Vanweë die swangerskap het al twee nou berou
Daar is geen toekomsdrome meer oor
’n Huwelik met ouerskap lê nou voor

Die uurglas loop nou letterlik leeg
Want die getroude man kan nie meer rondbeweeg
Die vrou kerm en gooi verwyte
So neem die man net meer verkeerde besluite

Die uurglas het toe letterlik gestop
Want die huwelik het finaal geflop
Alles het te vining gebeur
En die egpaar se harte is bitterlik seer
Die arme kinders moet daaronder ly
En boonop by ’n enkelouer bly

Die uurglas laat die liefde stap vir stap verdwyn
En los jou agter met hartseer en pyn


 

Corne Fourie

Liefde is soos seewater,
dit spoel oor my

en ek kan net nie genoeg daarvan kry.

Hoe meer jy drink,
hoe dorser word jy
want, liefde is soos seewater
dit trek jou in,
dit spoel uit,
dit maak jou bly,
dit voel of jy op branders ry.
Liefde is soos seewater,
hoe langer jy daarin bly,
hoe langer vat dit om jou daar uit te kry.

As jy daarin duik,

is daar tog iets moois wat daaruit wyk.
Want, liefde is soos seewater.
Die blou van die branders laat jou onthou,
dis iets wat jy altyd in jou hart sal hou.
Maar, as die branders teen die rotse slaan,
sal ’n mens die liefde ten volle verstaan,
liefde is soos seewater ...

The post Liefde is ... Inskrywings (VI) appeared first on LitNet.


Liefde is ... Inskrywings (VII)

$
0
0

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Marita Coetzee
  • Madelein Klopper
  • Estia Riekert
  • Melissa Grobler
  • Mariette Marais
  • Dorette Gower
  • Karin Nieuwoudt
  • Emmie Bedeker
  • Sanet van Tonder
  • Theuns de Bruyn
  • Melissa Ludick
  • Henlie Barnard
  • Melanè van den Berg
  • Evanthe Schurink

 

Marita Coetzee

Ek trap in jou spoor
soos ’n wellustige hond
ek besnuif jou feromone
en proe jou in my mond

ons dans in die maanlig
deur sterre bestraal, betotteld
ons sluimer in dag-se-lig
verlam tot aand toe verlore

jy wag vir die volmaan
om die son te vang
jy laat vingers hetig gaan
paaie maak oor lyf en gees

ons vind mekaar weer
in oggendson se gloed
ons weet wat liefde is
volrond en bittersoet


 

Madelein Klopper

Hy wag al amper 15 minute vir my,
maar as ek oor die trapreling loer
sien ek daardie sagte glimlag wat ek so beny,
dit weet ek – weliswaar – die liefde is geduldig.

Sy oë glinster, glimlag sag
toe ek stadig die trappe afloop.
“Hallo jy,” klink sy stem skor en hy lag
Ek plaas my hand in syne en
glimlag, want die liefde is vriendelik.

Dis al amper ’n dekade ons tradisie
om Valentynsdag so te vier.
Soos kinders, liefde – die enigste visie –
want liefde glo alles, verdra alles.

Ons wens op hierdie spesiale geleentheid,
altyd dieselfde,
om mekaar te seën met liefde en gelukkigheid,
om volgende jaar dit weer te vier.
Want die liefde hoop alles.


 

Estia Riekert

Liefde is
jou arms om my
na ’n moeilike dag
vreeslose vertroosting

liefde is
jou moue opgerol
maak my lewe beter
my super man

liefde is
om saam dinge te doen
bid, oefen en nog meer
my persoon

liefde is
die kyk in jou oë
die vat van jou hand
die snork in my bed

jy is liefde


 

Melissa Grobler

Liefde is,
beloftes oor die son en die maan

maar

ek voel nog steeds hoe my doene spartel om rein te bly,
My intensies, wat selfsugtig mense verlei 

te vermy

ek moet bid vanaand,
ek sal die verontagsaming
afstry


 

Mariette Marais

Liefde is die vat van ’n vriendin se hand 
in dae van smart

of die opgewondenheid van lieflinghond stertswaaiend
as die lewe se lawaai deur my draai ...

en torring aan my siel

as ek verniel, alleen probeer swem
in ’n stormsee van seer

en iemand, met sy ruwe baard, sag, teer, met ’n koppie koffie rustig en wys

luister en troos, en my brose hart
weer laat blom soos ’n roos.

Liefde is Deel. Liefde is Heel. Liefde is Hoop. My anker in tye van nood.


 

Dorette Gower

Die liefde, o die soete Liefde ...

Dis so vreeslik mooi,
Getooi in die rooiste rooi

Dit laat my dink,
Sommer vinnig en flink

Dis soet, en ek voel so goed

Liefde roep my naam en sê kom neem my saam

Ons gaan soen, alles saamdoen

Vry en ook soms oor dinge stry

Partykeer is dit grou maar die lug is altyd blou

Sit my neer en sê weer

Ek is lief vir jou!

(Vaaltynsdag ... 2018)


 

Karin Nieuwoudt

liefde is
die klamheid van jou lippe
strelend
onbeskaamd verskuif
oor die kuiltjie
van my wang
en geharnas
in veilige
arms

liefde is
verwondering in my kyk
wanneer my oog
jou beeldmooie gelaat
vasvang
en bêre in die holtes
van my hart

liefde is
wanneer
ek jou in ontwapening met
swanger minnetaal
betrou
en uiteindelik my hoogliedtempel
aan jou
toevertrou


 

Emmie Bedeker

Lieflied

die hotnotsvy
o, die hotnotsvy
as jy kan dans
mag jy my kry

die kalbaspyp
o, die kalbaspyp
ons staan om die hoek
om die kat te knyp

die jaargety
o, die jaargety
as die winter kom
lê jy by my

die bonesop
ja, die bonesop
kos vir die winter
saam met ’n dop

die kakiebos
o, die kakiebos
verneuk jy my
gaan ek jou los

die kakkerlak
o, die kakkerlak
ek sal nog nooit
jou hart vertrap

die grondgeitjie
o, die grondgeitjie
alleen in die veld
vang ons ’n vrytjie


 

Sanet van Tonder

Liefde is Karoo

Liefde is ’n druppel water wat die
dorre oopgeskeurde aarde keer op keer voed
Liefde is ’n windpomp wat draai in die kaal Karoo
en alles wat lewe het lok om van die lewende water te kom dors
Liefde is die Kamdeboo-rotse wat oopgebars in die snikhete son bak
Liefde is ’n witkruisarend wat soekend na ’n prooi bo in die blou draai
Liefde is ’n spekboom wat in somers en winters met of sonder water
sy groen blare uitstoot

Liefde is om die grys pad kilometers ver te stap
Liefde is stukkend, tog is liefde hoop
Liefde is Karoo


 

Theuns de Bruyn

Liefde is ... Jy

Liefde is ...
Jou naam.
Liefde is ...
So bietjie skaam.
Liefde is ...
Daardie skelm soen wat julle deel
Liefde is ...
Daardie kyk wat julle saam deel

Liefde is ...
Jou naam.
Liefde is ...
As ons hand aan hand saamstaan.


 

Melissa Ludick

die negatieffilm van ons saamgedra in my nylongatsak
(jip, ek het vergeet om by Kodak te stop)

 Liefde is ...

die karmosynrooi kersie op ons (gedeelde) sneeubergbederf by Milky Lane – tydens kaalvoet kindsdae sou die skoolbus hier stop

 Liefde is ...

jou vingers in myne geweef soos my hennahare jou borsbed beroof
en jy goedsmoeds vir my fluister: 
"jongejuffrou, in Christuswater is ons ewigheid gedoop"

 Liefde is ...

die ontdekking van háár buustelyfie in jou knortjor 
braak dwarrelwolkflits op Golgota,

en jongeman, nou, in Christuswater het ons ewigheid versuip.


 

Henlie Barnard

Liefde is ...
Jou hand
op my wang
sonder dwang
of bang.

Jou mond
op my mond
in die oggendstond
nooit gebonde.

As ons verskil
is dit nooit kil
nie eens koud.
Jy my behoud.

As jy weggaan
wat ek wel verstaan
is my dae sonder welbehae
Sonder enige welslae.

Liefde is, jy by my
jy net jy ...
ek net ek
liefde is, ek by jou.


 

Melanè van den Berg

DIT is die liefde

Grensloos,
beskermend …
en goed.

Vol geloof,
toeganklik …
en groet.

Eindeloos,
afwagtend …
en voed.

Volmaak,
kinderlik …
en soet.

Dis Satanloos.
Dis Goddelik,
en ’n MOET.


 

Evanthe Schurink

Liefde is ’n simfonie

word stil en luister my geliefde
na die eggo van ons harte
vingers vlinder oor akkoorde
speel onbekende note
huiwerig sag die melodie
stil stom sonder woorde
leer ons saam ’n nuwe lied

vingers         \/          snare
gly oor          harte
oor

luider klink ons simfonie
toegevoude roosknopblare
vou oop in prag en glorie
ons verdrink in mekaar se wese
word saamgesleur deur ons melodie

dawerende akkoorde
ek pluk die sterre in jou oë
jy fluister sag my naam
as die laaste klanke wegsterf
smelt twee siele saam

The post Liefde is ... Inskrywings (VII) appeared first on LitNet.

Liefde is ... Inskrywings (VIII)

$
0
0

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Bianca Erasmus
  • Sonja Mac Lachlan
  • Joha van Dyk
  • Elisabeth Nortje
  • Welmi Janse van Rensburg
  • Amorine Strydom
  • Riaan le Roux
  • Rehan Boonzaier
  • Anri Basson
  • Sanmarie Hugo
  • Erma van der Merwe
  • Mieke du Preez
  • Karen Simpson
  • Werner Wehmeyer

 

Bianca Erasmus

Liefde is ...

Liefde is gil, liefde is skree.
Liefde is om nog ’n kans te gee ...

Liefde is vra, liefde is ontvang.
Liefde is ’n sagte soen op my wang ...

Liefde is lag, liefde is sag.
Liefde is dans tot laat in die nag ...

Liefde is glo, liefde vertrou.
Liefde is die kans wat ek vat met jou ...

Liefde is lig, liefde is vry.
Liefde oorkom die spasie tussen jou en my ...

Liefde is hoop, liefde is verstaan.
Liefde is ons wat nooit sal vergaan ...

Liefde is loop, liefde is draf.
Liefde is geselsies tot laat in die nag ...

Liefde is veilig, liefde is braaf.
Liefde is ons aan mekaar verslaaf ...

Liefde is suiwer, liefde is eg.
Liefde is ek en jy wat altyd vir mekaar sal veg ...

Liefde is lewe en liefde is dood.
Liefde is jy wat my nooit weg sal stoot ...

Liefde...?

Liefde is ... Jy. Vir my.



 

Sonja Mac Lachlan

Liefde is sagte pienk wolkies waarop ons sweef
pienk malvalekkers, love notes en tjoklits
en ons drink mekaar in soos pienk sjampanje
ons glase loop oor

Liefde is die dag toe ek wasig wit na jou toe gestap het
jou asem was weg

Liefde is toe die berg op die tafel lê en wroeg van die pyn
toe was ons drie

Liefde is ’n plekkie van ons eie waar ons lief het, huil, lag, kwaad word
ons groei

Liefde verander … dit skree en wroeg en baklei
ons wil opgee

Maar liefde is ek en jy en bly in my
wanneer ek na die gat kyk en
jy verdwyn.


 

Joha van Dyk

’n ode aan bukowski

liefde is dobbel
liefde is die blou kol op haar arm

liefde is die boom waaronder jy rook,
jy wat altyd laat is en ek wat nog steeds wag,
hy wat na die einde nog gedigte skryf
liefde is sy baadjie wat hang oor jou stoel

liefde is koffie in die Neelsie
liefde is riots op die Rooiplein

liefde is ’n Spaanse meisie in Spanje
en ’n Afrikaanse meisie in Afrika

liefde is ’n sold-out show en narkotiese dwelms

liefde is die nugter seun
liefde is die ou wat slapdronk teen jou gebou sit
en jou flat bel tot twee uur in die oggend

liefde is die ry by ’n klub waarin almal wag,
maar niemand in wil wees nie

liefde is Victoria, Andringa en Dorpstraat,
dit is drag race in Merriman

liefde is die bergie onder ’n geleende kombers
liefde is jy wat wakker raak in my bed

liefde is die diewe,
die kriminele,
die leuenaars

liefde is jy wat my laat dink aan hom
al is vier jaar verby en jou oë helder in my geheue
helderder as syne

liefde is jy wat nie opdaag nie

liefde is jy op my bank met my kitaar op jou skoot
liefde is die liedjie wat jy nooit vir my gaan skryf nie

liefde is sy humeur in verkeer

liefde is die snaar wat krul en breek
liefde is die pick wat weg is

liefde is die R20-bundels in Protea
liefde is die horlosie wat stilstaan,
die lekkende pyp
’n kriekplaag, luid en teenwoordig en swart

liefde is die gedig wat nie klaarkom nie

liefde is die kers se vlam wat doodblaas,
die parfuum op jou baadjie
liefde is my naam op sy arm in permanent marker asof môre nie saak maak nie

liefde is die sleutel verloor
en die sekuriteitshek skud

liefde is die liedjie wat my sinne verdrink,
die amp wat blaas,
die staties op die radio

liefde is goue naels en koperringe
liefde is teleurstelling,
jou skadu by die voetenent van my bed net voordat dit verdwyn
en alles net donker is
liefde is hy wat ten spyte van jou my laat beter voel

liefde is ek wat my hand by die venster uitsteek
en jy wat die musiek harder draai
liefde ry doelloos rond net om langer te bly

liefde is waterbeperkings in ’n ramp-sone

liefde is nie altyd ’n jackpot nie


 

Elisabeth Nortje

Die laaste liefdesgedig

Daardie diep donker niks
wat oor my harsings spoel
die versamelde dwalings van my wanhopige hart,
is die poel waarin ek vanaand my hande was
van die gebreke van my liggaam en gees
wat in jou geen aanklank vind
waarin my spyt met geen maatstaf omskryf kan word 
waar siel en murg en been
aan geen godgegewe relaas waarde kan verleen,
want daar kan geen meer pretensie wees
soos die sluier wat val van ’n warm wintersdag
dat ek geen uitweg kan vind, vir die liefde wat my aan jou verbind.


 

Welmi Janse van Rensburg

Jou legkaartwoorde

Jy prikkel-vryf woorde
 letter vir letter
in die palm van my hand
 en dit laat raaisels
en puzzles in my kop
totdat ek dit alles ontsyfer.
Jou letters word woorde
en jou woorde word gedigte
wat net deur die hart
verstaan kan word.


 

Amorine Strydom

Sonnet vir my beminde

In die gloed van die agtermiddagson
Was als in armmansgoud gekleur.
In taai geel het die lug stadigaan verveer
... soos die vale voornag ook na my toe kom.

In die skynsel van die maan
Was als in goedkoop blink gedoop
Soos wat ’n kers se was vanself oorloop
... wagtend dat die siklus weer aangaan.

O my beminde, bring jou goue kostelose son
Laat jou silwer maan oor my droë liggaam streel
en weereens vir ’n ruk my dorre siel kom voed.
O my beminde, my stille liggaam blom
oop – soos jou maan se strale my gees beveel.
O God van maan en son, sal jy hom vir my behoed?


 

Riaan le Roux

Liefde is ...

mekaarversorging
omgee wat alles deurstraal
hoekom ons hart klop

 

Rehan Boonzaier

Uit die niet gemanifesteer
oombliklik het dit gebeur
ruk my uit my oujongkêrelskap
magnetisme versteur my slakkegang
oer vlamme bars op my vlakte uit
stuwende emosies skaalwip lig na swaar
dis sy! oplaas gekry! dis myne! dis haar

Haar glimlag verpletter my eensaamheid
geringste bewegings onopsetlik opsetlik
kaats beloftes met onskuld na my gemik
laat wilde perde in my galop
wat dawerend in my slape klop

So word liefde in my gebore
die een net vir my beskore
objek van my hart se minnelied
deur kupido se pyl en boog geskiet


 

Anri Basson

Liefde is,
’n gedig
oor ’n glimlag
op iemand se gesig.

Daardie
stukkie
hemel-op-aarde.

Liefde is
’n fassinasie
wat kan dans tot
inspirasie.

Jou hart wil
’n liedjie
sing.

Liefde is,
bottervliegies
wat jy bo die
wêreld sal kies.

Dit is heimwee
na daardie
spesiale mens.

Liefde is
daardie klein
dorpie-gevoel
beter as wyn.

Dis ’n silwer randjie
onvergeetlike
gevoel.

Liefde is,
soos die maan
wat nooit sal
vergaan.


 

Sanmarie Hugo

’n Ma se liefde

Ek is soos die lug is vir ’n seemeeu

  • ek skep ’n ruimte waarin jy jouself kan vind

Ek is soos die aarde is vir ’n boom

  • ek gee standvastigheid en voed jou

Ek is soos ’n berg is vir ’n avonturier

  • ek is altyd daar

Ek is soos die hartseerliedjie is vir een wat verlore voel

  • ek troos jou

Ek is soos endorfien is vir ’n atleet

  • ek lig jou op

Ek is soos ’n ploeg is vir saad

  • ek berei ’n weg vir jou

Ek is soos ’n half aan die slaap buurman is vir ’n partytjie langsaan

  • ek luister sonder om in te meng

Ek het jou lief my kind. Ek is jou ma!


 

Erna van der Merwe

Liefde is jou arms om my lyf
In jou hart my wese ingesluip
Ek en jy – twee ringe, blink gevryf
Fondamente in geloof geslyp
Daarom kan ek jou altyd by my hou
Ek is vir ewig lief vir jou


 

Mieke du Preez

Liefde is ... jy

met stormwaters
wat my lewensboot
rondruk en wegstoot
van waar ek moet wees,
bid ek vir vrede oor die
stormwaters
of standvastigheid vir my
lewensboot.

met jou groenblou oë
bring jy vrede oor die see
van my lewe

met daardie sagte
seesand-hare wat so
maklik deur my vingers vleg
bring jy vrede oor die see
oor my hart

met jou bemoedigende woorde
wat op ’n ontmoedigende dag
so maklik oor jou lippe rol,
bring jy vrede oor die see
oor my siel

jy is die anker in my lewe,
jy laat my lewensboot
standvastig staan in
tye van stormwaters.


 

Karen Simpson

Liefde is ...

Soos heuning op toast of vir haar ’n gediggie te post
Dis ’n glimlag hier en daar en sommer net na mekaar te staar
Mooiste en beste vir mekaar te hê en sommer net langs mekaar te lê ...

’n Sambreel teen die reën en stel die ander altyd eerste en weet dis meeste dat ons beste maatjies is, net soos hulle is
Doen dinge saam sonder versmoor en moenie probeer verander nie

Lag en hande vashou is die ding
Soentjies gee op hele gesig sonder ophou en soms die wasgoed en skottelgoed te was
’n Stem wat fluister hoe dierbaar jy is

Nooit alleen of kwaad bed toe te gaan en hy of sy ’n traan te vang
Die Here saam te dien en al Sy seëninge te sien en verdien
Te weet dat liefde is ... die kern van ons geloof


 

Werner Wehmeyer

Vir ewig in liefde

In die eenvoud
van elke môre,
vou ek myself oop
in jou borsholte
waar jou hart kaalvoet wag.

Jy ruik skoon in roos
as jy rank teen my,
jou vingers welig
wat my tydloos bemin.

Ons (ontmoet)
waar moulose arms
die passievuur aansteek;
lippe gloei ’n hittegolf.

My lyf (horisontaal)
word jou lêplek, verblyfholte,
tot ek myself anker
in die bloeisel van jou vrouwees.

Ek + jy = volkome(liefde); vir ewig.

The post Liefde is ... Inskrywings (VIII) appeared first on LitNet.

Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen

$
0
0

Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen

Elize Vos, Vakgroep Afrikaans vir Onderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 15(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Omstrede kwessies kom wêreldwyd al hoe meer in jeugliteratuur1 voor. Na aanleiding van sensuurwette is vier kategorieë geïdentifiseer waarvolgens omstrede kwessies in literêre tekste ingedeel kan word, naamlik geweld, politiek, seksualiteit en religie (Fritz en Van der Westhuizen 2010:163–82). Enkele voorbeelde van omstrede kwessies in jeugliteratuur waaroor ’n morele oordeel uitgespreek en in een van die vier genoemde kategorieë ingesluit kan word, is onder andere disrespek teenoor gesag, dwelm- en drankgebruik (of -misbruik), rook, asook seksuele promiskuïteit.

Volwassenes huldig uiteenlopende sieninge oor die blootstelling van omstrede kwessies in jeugliteratuur. Sommiges is van mening dat die leesblootstelling aan omstrede kwessies die adolessent negatief beïnvloed (angsteorie), terwyl ander argumenteer dat adolessente op hierdie wyse afsluiting vind van hulle eie probleme (katarsisteorie).

Die volwasse rolspelers, wat ’n bydraende rol behoort te vervul in die vestiging van moraliteit by die adolessent, openbaar somtyds self teenstrydige waardes, wat tot verwarring by die adolessent lei. Skrywers, en ook onderwysers, bly steeds van die belangrikste rolspelers wat betref die moontlike vestiging van ’n moraliteitsbewussyn by adolessente.

Adolessente word wyd aan omstrede kwessies deur ander media, onder andere films, televisie, internet, tydskrifte en koerante, blootgestel. Jeugverhale, waarvan die inhoud omstrede van aard mag wees, sal waarskynlik deel van adolessentelesers se leesbelangstellings vorm. Onderwêreld deur Fanie Viljoen is tans een van die voorgeskrewe werke vir graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders. Omstrede kwessies wat in hierdie jeugverhaal geïdentifiseer kan word, is onder andere kuberkraking, selfdood, tienerseks, asook drank- en dwelmgebruik. Die bespreking van hierdie jeugroman en ander soortgelyke jeugverhale van omstrede aard kan vir die onderwyser problematies in die klaskameromgewing raak en in hierdie artikel word gepoog om bepaalde interaktiewe metodes aan die hand van die resepsie-estetika-benadering aan te beveel om hierdie kwessies wel doeltreffend met leerders te kan bespreek. Enige hulp wat onderwysers in hulle rol as waardevormers kan ontvang, behoort verwelkom te word.

Onderwysers behoort te fokus op die letterkundestudie waartydens morele kwessies wat wel in die literêre werk geïntegreer is, bespreek kan word. In die beheerde klaskameromgewing kan gesprekke met die leerders oor omstrede kwessies ontlok word. Onder die mediëring2 van die onderwyser kan die leerders se eie ontdekking van die oorsake en gevolge van, en moontlike oplossings vir, sulke kwessies bydra tot die terapeutiese waarde wat in hierdie tipe jeugverhale verskuil is.

Trefwoorde: Fanie Viljoen; jeugliteratuur; moraliteit; omstrede kwessies; Onderwêreld

 

Abstract

Morality and controversial matters in youth literature: a perspective on Onderwêreld by Fanie Viljoen

Morality is a concept that is difficult to define because of the diversity of people and their lifestyles. The following commonalities emerge from an examination of the wide range of definitions of morality: Morality is a personal and subjective consciousness of what is good or evil or of what is right or wrong in one’s actions towards oneself and others. Morality therefore implies the ability to express an opinion on controversial matters that surface in youth literature. Controversiality, on the other hand, implies a debatable matter. In other words, it is possible to judge a matter differently. Morality can be summarised as follows: Morality judges controversial matters, which in this case refers to youth literature. In other words, moralityjudges whether certain debatable matters in certain youth narratives are right or wrong.

Since adolescents have free access to literature, it is becoming more difficult for parents to monitor what their children read. When certain youth novels are analysed, controversial content seems to be the order of the day. Owing to these controversial matters in youth literature, the stories are either severely criticised by certain role players who regard themselves as the moral gatekeepers of the youth, or enjoy the support of others who believe that the occurrence of controversial matters in youth literature provides an opportunity to conduct an intellectual conversation with the adolescent reader.

Teachers who shy away from these contentious topics in youth literature and who do not want to address these matters in the classroom with their learners, or would rather not have these controversial youth novels prescribed for their learners, no longer provide a solution to this problem. The question should rather be what effective methods can be used to facilitate these controversial matters with the learners in the classroom.

An extensive literature review was launched in an effort to determine the nature of morality, to pin down who the role players are in shaping adolescent morality, to shed light on the international view of morality in youth literature, to examine contemporary trends in Afrikaans youth literature regarding morality, as well as to investigate the different perspectives of adults regarding controversial matters in youth literature.

As it appeared from the literature review that morality is personal and subjective in nature, it was decided to use reception aesthetics as the literary theory to support this article, as described by Wolfgang Iser (1978). Iser (1978) argues that “literature is more than the text, for the text only takes on life when it is realized, and furthermore the realization is by no means independent of the individual disposition of the reader”.

From this can be deduced that reading a text involves an active creation of meaning by the reader from the text itself.

In the text analysis of the embodiment of morality in Onderwêreld by Fanie Viljoen an integrated literary approach as a descriptive method was followed. The steps followed were the analysis, interpretation and evaluation of the text. This approach was taken to suggest ways for the teacher to facilitate certain controversial matters with Grade 12 Afrikaans Home Language learners in the classroom.

The controversial matters that are becoming increasingly commonplace in youth literature and subject to censorship laws can be divided into four categories, namely violence, politics, sexuality and religion (Fritz and Van der Westhuizen 2010:163–82). Disrespect towards authority, drugs and alcohol use (or even abuse), smoking and sexual promiscuity are some examples of the controversial matters in youth literature on which a moral judgment can be expressed.

In the literature several role players and factors are mentioned that play a contributory role in shaping the morality of adolescents, including the parents, the church, cultural views, schools, politicians, singers, film stars, peer groups, as well as writers (Du Plessis 2017; Martinez 2017). The adult role players sometimes reveal contradictory values themselves that lead to confusion in the adolescents. Writers as well as teachers remain among the most important role players to possibly establish a moral awareness among adolescents.

Adults hold diverse perspectives on the exposure of controversial matters to adolescent readers in youth literature. Some believe that the reading exposure to controversial matters adversely affects the adolescent (angst theory), while others argue that adolescents find the conclusion of their own problems in this way (catharsis theory).

Internationally, the trend among youth writers is to consciously select content and contexts in their youth literature that are a fairly true reflection of their readers’ worlds, and ongoing efforts are made to deal tactfully with controversial subjects. The majority of youth writers want to lead and support adolescents and want to create stories of hope for their readers. Some of these youth writers warn that the content in their books should not be taken as necessarily reflecting their own views: when they write about divorce, teenage pregnancy or child abuse, it does not mean that they are propagating these controversial matters.

The Afrikaans youth novel ’n Pot vol winter (1989) by Maretha Maartens was the first youth novel to be severely criticised by the Censorship Board because it was the first Afrikaans youth novel that dealt explicitly with sex. Some other Afrikaans youth literature writers, who sometimes weave controversial matters into their narratives explicitly, though with caution, include François Bloemhof, Barrie Hough, Derick van der Walt, Carin Krahtz and Fanie Viljoen. Controversial matters addressed by these writers include sex, sexual orientation, suicide, drug and alcohol abuse, divorce, single parenthood, molestation, rape and the negative impact of social media.

Youth literature with controversial content can no longer be kept from adolescent readers. Onderwêreld by Fanie Viljoen is currently one of the prescribed books for Grade 12 Afrikaans Home Language learners. Viljoen, who is one of South Africa’s most productive writers, indicates that he reads newspapers on a daily basis to determine the ethos of, and to gain a glimpse into the mindset and lives of, adolescents. It is precisely these occurrences on which he wants to focus in his youth novels. Viljoen believes it is unnecessary to write morals or life lessons into his youth novels, as he feels that adolescent readers can decide what is right or wrong.

Onderwêreld is about the illegal industry of hacking, but nowhere in the story does Viljoen say that hacking is wrong. He actually presents the pros and cons of hacking and leaves it to the reader to decide whether it is acceptable. He does, however, state the law against hacking at the end of the story to strengthen the reality of this activity and to serve as a possible warning to the adolescent reader. Other controversial matters in this novel are suicide, teenage sex, as well as alcohol and drug use.

Greg Owen is the head boy at Lawson College, a distinguished school in the Drakensberg. A new learner of whom is not much known, Eckardt Wilken, is accepted at the school – somewhat unheard of for this school with a strict policy of admission. Over time, a close friendship develops between Greg and Eckardt. Systematically, Eckardt pulls Greg into the dark underworld of hacking. When Eckardt unexpectedly disappears without a trace, Greg has to help the police and the school to search for him. Greg realises that neither the school nor the police should know that he and Eckardt are hackers.

Greg follows clues and realises that Eckardt has become involved in activities that he should rather have left alone. Greg makes the shocking discovery that the principal of Lawson College is involved in illegal activities. Just when Greg seems to have all the answers, Eckardt suddenly reappears. Greg makes the startling discovery that Eckardt has planned everything in detail, including finding out everything about the Owen family. Greg is disillusioned when he realises that his father, too, is involved in the evil underworld of the school principal. Unwittingly, Greg has turned his own father over to the police. Eckardt’s motive for the attack on the Owen family is that years before, Greg’s father had destroyed Eckardt’s family in a similar way and Eckardt sought revenge for his own sadness.

Suggestions for the facilitation of controversial matters in youth literature in the classroom include the following: teachers should raise intellectual discussions and debates with the learners on these matters in the controlled classroom environment. The therapeutic value hidden in this type of youth literature is enhanced by discussing the causes and consequences of, and possible solutions to, such matters.

If the perspectives of youth writers and other experts in this field of study are kept in mind, as well as the reception aesthetics of Wolfgang Iser, one realises the extraordinary influence an author’s youth novel may have on the moral consciousness of the adolescent reader. Possibly it remains the responsibility of the youth writer to leave the adolescent reader with a spark of hope after reading a youth novel.

Keywords: controversial matters; Fanie Viljoen; morality; Onderwêreld; youth literature

 

1. Inleiding en kontekstualisering

Moraliteit is ’n moeilik definieerbare begrip as gevolg van die diversiteit van mense en hulle leefstyle. Wanneer die verskeidenheid van definisies vir moraliteit nagegaan word (DiCicco en Taylor-Greathouse 2014:75–6; Luther, Pheiffer en Gouws 2015; Van Heerden 2016), blyk die volgende gemeenskaplikhede uit die definisies: moraliteit is ’n persoonlike en subjektiewe bewussyn van wat goed of boos is of van wat reg of verkeerd is. Hierdie bewussyn is bepalend in interpersoonlike verhoudings.

In die literatuur word verskeie rolspelers en faktore genoem wat ’n bydraende rol vervul in die ontwikkeling van die moraliteit van ’n adolessent, onder andere die ouers, kerk, kultuuropvattinge, skool, politici, sangers, filmsterre, portuurgroep, en beslis ook skrywers (Du Plessis 2017; Martinez 2017).

Collins (1996) het bevind dat jeugliteratuur, en dan indirek skrywers daarvan, ’n waardevolle bydrae kan lewer in die vorming van ’n moraliteitsbewussyn by adolessente.

Omdat adolessente vrye toegang tot media het, raak dit vir ouers moeiliker om te kontroleer wat hulle kinders lees. Wanneer sekere jeugverhale ontleed word, blyk omstrede inhoude wel aan die orde van die dag te wees. Vanweë hierdie netelige kwessies in jeugverhale word hierdie werke somtyds erg gekritiseer deur bepaalde rolspelers wat hulself as die moraliteitsbewakers van die jeug beskou. Daarteenoor geniet hierdie jeugverhale die ondersteuning van ander wat glo dat die voorkoms van omstrede kwessies in jeugliteratuur ’n geleentheid bied om ’n gesprek met die adolessenteleser oor hierdie kwessies te voer. ’n Gesprek om die adolessenteleser se identifisering met of distansiëring van onder andere karakters, milieu en handeling te bepaal, kan waarskynlik sinvol wees in die vestiging van morele waardes by hierdie lesers. In hierdie gesprekke kan die emotiewe rol in die vorming van waardes nie geïgnoreer word nie.

In hierdie verband word twee uiteenlopende sieninge deur ouers en ander rolspelers gehuldig. Die eerste groep ondersteun die angsteorie en glo dat adolessente niks moet lees wat moontlik boos mag wees nie, aangesien hulle van mening is dat sulke leesstof adolessente negatief sal beïnvloed. Teverson (2013:61) verduidelik dat ondersteuners van die angsteorie van mening is dat vreedsame en afgryslike beelde soms so vervleg in stories voorkom dat die leser uiteindelik nie meer tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Die kritici wat die angsteorie ondersteun, gaan soms so ver om te sê dat sommige jeugverhale, vanweë aanvegbare inhoude, gesensor en selfs verban moet word (vergelyk paragraaf 4.4). Alhoewel hierdie kritici steeds van mening is dat sulke verhale nie altyd ouderdomsgeskik is nie en nog minder in die klaskamer tuishoort (byvoorbeeld ouers se reaksie teen BreinBliksem deur Fanie Viljoen en Ratels deur Leon van Nierop as voorgeskrewe werke in skole), bevestig Fritz en Van der Westhuizen (2010:168) dat, met die uitsondering van Stanley en die boikot (Miles 1980), geen kinder- of jeugliteratuur al ooit in Suid-Afrika verban is nie.

Die ander groep is ondersteuners van die katarsisteorie en glo dat adolessente juis aan omstrede kwessies in hulle leesstof blootgestel moet word, want sodoende kan adolessente sien watter probleme veroorsaak word en selfs oplossings vir en afsluiting van hulle eie probleme vind (Bohart 1980:192).

 

2. Probleemstelling

Die verskillende rolspelers wat hulself as die moraliteitsbewakers van adolessente beskou, kan nie meer wegskram van die feit dat omstrede kwessies deel is van eietydse jeugliteratuur nie (Mulet 2014:26–31).

Een van die voorgeskrewe verhale vir graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders is Onderwêreld deur Fanie Viljoen. Hierdie jeugverhaal is deurspek met bepaalde omstrede kwessies, onder andere kuberkraking (vergelyk paragraaf 5 vir die volledige teksontleding).

Onderwysers wat van hierdie soort tekste met sensitiewe onderwerpe wegskram en dit nie met hulle leerders in die klaskamer wil bespreek nie, óf eerder verkies om nie hierdie omstrede jeugverhale vir hulle leerders voor te skryf nie, is geen oplossing vir die probleem nie. Daar behoort binne die resepsie-estetika-benadering ’n soeke te wees na doeltreffende interaktiewe metodes om hierdie tipe tekste, waartydens die morele kwessies as integrale aspekte van die teks na vore kom, te bespreek.

 

3. Navorsingsmetodologie

Aangesien dit uit die literatuurondersoek blyk dat moraliteit persoonlik en subjektief van aard is (paragraaf 4.1), is daar besluit om die lesergeoriënteerde teorie, naamlik die resepsie-estetika-benadering, soos beskryf deur Wolfgang Iser (1978), as literêre teorie te gebruik om hierdie artikel te rugsteun. Iser (1978:40) argumenteer soos volg: “Literature is more than the text, for the text only takes on life when it is realized, and furthermore the realization is by no means independent of the individual disposition of the reader.”

Hieruit kan afgelei word dat die lees van ’n teks ’n aktiewe betekenisskepping deur die leser (die leser / meerdere lesers se interpretasie van die teks) vanuit die teks self (soos versinnebeeld deur die reële en geïmpliseerde vertellers, asook deur die fokalisator) is. Met die resepsie-estetika-benadering word in hierdie artikel gefokus op letterkundestudie gebaseer op leerders se interaksie met en respons op Onderwêreld deur Fanie Viljoen waartydens morele kwessies wat in die literêre teks geïntegreer is, bespreek word.

Voorts is ’n uitgebreide literatuurondersoek onderneem in ’n poging om die aard van moraliteit te bepaal, om vas te stel wie die rolspelers in die ontwikkeling van adolessente se moraliteit is, om die internasionale beskouing oor moraliteit in jeugliteratuur te belig, om die eietydse tendense in Afrikaanse jeugliteratuur ten opsigte van moraliteit te ondersoek, en om die verskillende beskouinge wat volwassenes huldig ten opsigte van omstrede kwessies in jeugliteratuur na te gaan.

In die teksontleding van die vergestalting van moraliteit in Onderwêreld deur Fanie Viljoen word ’n geïntegreerde literêre benadering as beskrywende metode gevolg. Die stappe wat gevolg is, is ontleding, interpretasie en evaluering van die teks. Hierdie benadering is gevolg om maniere vir die onderwyser aan die hand te doen om ’n teks met sekere omstrede kwessies, soos vergestalt in Onderwêreld asook in ander jeugverhale, wel in die klaskamer met graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders te fasiliteer.

 

4. Literatuurondersoek

4.1 Die aard van moraliteit

Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Luther, Pheiffer en Gouws 2015) word moraliteit omskryf as “sedelikheid”; dit is iemand of ’n groep se sedelike beginsels, hulle opvattings oor wat goed of reg en sleg of verkeerd is. Hieruit kan afgelei word dat moraliteit ’n universele begrip is, met ander woorde dat daar by alle mense ’n begrip van reg en verkeerd is. Moraliteit impliseer dan om ’n oordeel uit te spreek oor omstrede kwessies wat in jeugliteratuur verskyn.

Omstredenheid word in dieselfde bron omskryf as “betwisbaarheid”; met ander woorde daar kan verskillend oor ’n saak geoordeel word. Fritz en Van der Westhuizen (2010:166) verduidelik dat elemente wat nie in hierdie definisie na vore kom nie, dié van emosie en konflik is: “’n Saak waaroor verskillend geoordeel word, word slegs omstrede wanneer ’n sterk emosie gekoppel word aan konflikterende werklikheidsvisies wat betrokke is by die waarde-oordeel.”

Uit hierdie twee woordomskrywings en die verduideliking deur genoemde navorsers kan ’n moontlike samevatting soos volg wees: Moraliteit vorm die grondslag waarop ’n emotiewe oordeel vanuit ’n bepaalde oortuiging oor aanvegbare kwessies, in hierdie geval ten opsigte van jeugliteratuur, gebaseer is.

Kyk ’n mens na wat kerkleiers, filosowe en psigoloë oor moraliteit te sê het, is moraliteit iets persoonlik, dit is subjektief van aard en dit sluit die manier in waarop ons teenoor ander optree. Die Suid-Afrikaanse Grondwet (Suid-Afrika 1996) spel die morele grondslae uit waarop die gemeenskap ooreengekom het; daar is egter sowel individue as gemeenskappe wat strydig hiermee optree.

Volgens Kohlberg (1958) se morele-ontwikkelingsteorie doen kinders aanvanklik die sogenaamde regte ding. Kinders hou by die reëls uit blote vrees vir straf. Die volgende fase is die verstaan dat gehoorsaamheid aan hierdie reëls vir hulle positiewe gevolge inhou. Eers daarna, wanneer die kind adolessensie bereik, verstaan hy/sy die konsep van sosiale reëls: om goed te wees vir ander omdat dit “goeie waardes” verteenwoordig of ’n “goeie ding” is om te doen. Dan ontwikkel waardes soos vertroue en lojaliteit. Adolessente se kognitiewe vermoëns ontwikkel byvoorbeeld om moeilike wiskundige probleme op te los en daarmee saam ook hulle vermoëns om moeilike sosiale probleme op te los. Adolessente weet steel is verkeerd, maar sal byvoorbeeld medikasie steel indien dit ’n vriend se lewe kan verleng en die vriend nie die medikasie kan bekostig nie (situasionele moraliteit). Daarom is dit belangrik om van kinders, en later van hulle as adolessente, ouderdomstoepaslike optrede te verwag.

Omstrede kwessies wat soms in jeugliteratuur opduik waaroor ’n morele oordeel uitgespreek word, sluit die volgende aspekte in: disrespek teenoor gesag, dwelm- en drankgebruik (of -misbruik), rook, asook seksuele promiskuïteit, wat dikwels lei tot tienerswangerskappe en seksueel oordraagbare infeksies. Mokeyane (2017) verduidelik dat seksuele promiskuïteit dikwels die gevolg is van ’n lae selfbeeld, depressie, groepsdruk en ’n geskiedenis van seksuele misbruik. Maughan (2017) stem hiermee saam, maar noem dat die algemene voorkoms van onbeheerste drink- en rookgewoontes by adolessente toegeskryf kan word aan die voorbeeld wat deur ouers en portuurgroepe gestel word. Die adolessent dink drank en rook is aanvaarbaar en beskou hierdie twee gewoontes as hulle eerste stap na volwassenheid. Alkohol- en tabakprodukte word egter as toegangsdwelms bestempel. Ná die gewoontevorming van drank en rook mag dit gebeur dat adolessente met die sogenaamde harder dwelms begin eksperimenteer; dwelmgebruik verswak hulle selfbeeld nog meer, wat lei tot erge depressie, buierigheid en meer gesinskonflik. Nienaber (2017:10) berig juis dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement bekommerd is oor die omvang van middelmisbruik onder die jeug, met statistieke wat toon dat 66,7% van leerders positief vir dwelms toets. Die dwelm wat volgens Nienaber se navorsing die meeste deur leerders gebruik word, is dagga.

Fritz en Van der Westhuizen (2010:163–82) verduidelik dat sensuurwette wêreldwyd veral op grond van vier kategorieë van omstredenheid oorweeg word, naamlik geweld, politiek, seksualiteit en religie. Geweld word, as gevolg van die eksplisiete uitbeelding daarvan in die media, ook besonder realisties in jeugverhale uitgebeeld, onder andere fisieke, emosionele en seksuele mishandeling. Homoseksualiteit en prostitusie, asook die onderskeid tussen erotiek en pornografie is steeds internasionaal omstrede kwessies. In die adolessent se soeke na sy eie identiteit bevraagteken hy ook voortdurend bepaalde geloofskwessies. Volgens hierdie navorsers is daar steeds teenstand teen hierdie omstrede kwessies en is daar wel pogings om sensuur toe te pas.

4.2 Rolspelers in die vestiging van moraliteit by adolessente

Binne die gemeenskap en die groter samelewing waarin die adolessent hom of haar daagliks bevind, is daar verskeie rolspelers en faktore wat ’n bydraende rol vervul in die vestiging van moraliteit by die adolessent. Hierdie rolspelers is onder andere die ouers, wat tradisioneel nog as die vormers van morele waardes van die adolessent gesien word, die kerk en die skool, kultuuropvattinge, politici, sangers, filmsterre, die portuurgroep, en sekerlik ook skrywers. Larney en Lotter (2005) beklemtoon veral ouers se lewe en getuienis, met ander woorde die direkte modelleringsrol van die ouer, as een van die belangrikste wyses waarop waardes by kinders gevestig word. Gesprekke tussen die ouer en kind oor waardes is van uiterste belang. Ander wyses waarop waardes gevestig kan word, is die wyse waarop kinders godsdiensbepaalde waardes internaliseer en hulle godsdienssin uiteindelik gevestig en versterk word. Voorts is die voorbeelde wat in die samelewing waargeneem kan word, ’n verdere wyse om waardes te vorm. Nasionale kontekste wat aan drastiese veranderinge onderhewig is, het ook ’n invloed op waardevorming.

Gesagdraende persone of instellings verkondig soms self teenstrydige waardes en verwar die adolessent net meer. Fritz en Van der Westhuizen (2010:165) is van mening dat volwassenes self soms onseker is weens ’n gebrek aan ingeligtheid, opleiding en wysheid. Hierdie toedrag van sake veroorsaak dat die adolessent op hom-/haarself aangewese is om probleme te probeer verstaan en om riglyne oor probleemgevalle saam te stel.

Volgens Holborn en Eddy (2011:4) word heelwat Suid-Afrikaanse kinders in onveilige gesinskringe groot. Benewens die uitwerking van die MIV/Vigs-pandemie, wat aanleiding gee tot weeskinders wat vir hulleself moet sorg, word heelwat kinders in enkelouergesinne groot. Volgens Statistiek SA (2011) eindig ’n gemiddeld van tussen 50% en 66% van alle Suid-Afrikaanse huwelike in die skeihof. In 2011 is 20 980 egskeidings toegestaan en altesaam 18 571 kinders vorm nou, as gevolg van dié jaar se egskeidings, deel van gebroke huisgesinne. Uit die verslag van Holborn en Eddy (2011) is die afwesige vaderfiguur grootliks die rede vir aggressiewe gedrag by adolessente: “Boys growing up in absent father households are more likely to display hypermasculine behaviour, including aggression.” Adolessente wat in hierdie disfunksionele huisgesinne grootword, kan moontlik geneig wees tot waaghalsigheid wat tot sosiale verval mag bydra. ’n Potensiële bose kringloop wat moeilik verbreek kan word, kan waarskynlik sodoende ontstaan.

Sommige kerke veroordeel homoseksualiteit en ander kerke keur dit goed. Administrator (2016) berig oor die NG Kerk se pad jeens homoseksualiteit: vanaf 1986 toe homoseksualiteit beskou is as sonde tot so onlangs as 2016 waar aanvaarding van homoseksueles in die kerk bepleit word. Volgens Van Zyl (2010), wat ’n studie onderneem het na die invloed van religieuse en kulturele verskeidenheid op moraliteit in die huidige Suid-Afrikaanse konteks, veroorsaak hierdie verskeidenheid ’n radikale verandering in denke; veral ook op die gebied van morele waardes.

Van Zyl (2010) noem voorts dat talle persone in verantwoordelike posisies hulle mag misbruik en hulle skuldig maak aan ’n veelheid vorme van wangedrag. October (2012) berig in hierdie verband ook oor ’n ondersoek wat deur Willie Hofmeyr, hoof van die batebeslagleggingseenheid in die nasionale vervolgingsgesag, gelei is. Hofmeyr verduidelik aan October dat dit nie ’n maklike taak was om die 100 invloedryke mense wat elk al meer as R5 miljoen uit korrupsie gebuit het te vervolg nie.

Sangers en filmsterre is vir adolessente rolmodelle vanweë die positiewe morele waardes wat hulle kan ondersteun, maar die teenstrydige openbare optrede van sommige van hierdie sangers en filmsterre laat adolessente moontlik juis in vertwyfeling oor wat reg of wat verkeerd is. So ook kan die eksperimentering met drank, dwelms en seks van sommige portuurgroeplede wat soms selfs aangewys is as skoolleiers, ook moontlik bydra tot die adolessent se vertwyfeling oor morele waardes.

Stover (2000:108) argumenteer dat adolessente ’n behoefte het om hulself losstaande van die gesin te definieer. Adolessente bevind hul in die ontwikkelingsfase waar hulle besef dat hulle gesinne nie perfek is nie. Hulle moet intussen hulle eie seksualiteit en die gepaardgaande fisiologiese veranderinge verwerk. Alhoewel adolessente meestal positiewe verhoudings met hulle portuurgroep kweek, begin hulle redeneer oor hulle toekoms en hulle rol in die samelewing. Volwassenes bevraagteken soms die selfontdekkingsfase van adolessente en dat die ontwikkelende adolessent nog nie gereed mag wees om met bepaalde omstrede kwessies gekonfronteer te word nie. Hierdie vertrouensbreuk kan veroorsaak dat adolessente hulle eie stel morele, etiese, religieuse en politieke beginsels of reëls daarstel.

Na aanleiding van bogenoemde argument kan bespiegel word oor wie dan nou eintlik verantwoordelik is vir die moraliteitsbewussyn van die adolessent: Wie bepaal wat is geskik of wat is nié geskik vir hierdie ouderdomsgroep nie? Wat vir die een adolessent geskik is, is nie noodwendig vir die ander een geskik nie, juis vanweë elkeen se verskillende vlakke van ontwikkeling, agtergrond, opvoeding en lewenservaringe.

Die hedendaagse neigings dat jongmense op morele vlak al sterker deur die media beïnvloed word en dat die ouers en die kerk nie meer so ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die moraliteitsbewussyn van hierdie jongmense speel nie, veroorsaak dat onderwysers vanweë hul stereotiperende rol as opvoeders ’n al groter impak kan uitoefen op die morele beginsels van leerders (Du Plessis 2017:175). Casey en Grossman (2013) en Coleman (2016) beklemtoon in hierdie verband dat die oordrag van waardes volledig deel van die onderwyser se taak was en is.

Onderwysers word egter daagliks gekonfronteer met die uitdaging van leerders uit diverse kulturele, rasse-, religieuse, taal- en etniese groepe in een klaskamer, elk met sy eie gebruike en stel morele waardes (Meier en Marais 2012:127–8). In Suid-Afrikaanse openbare skole behoort onderwysers die waardes in die Grondwet (Suid-Afrika 1996) as vertrekpunt te gebruik, omdat dit die enkele waardegrondslag is waaroor die land se mense gesamentlik ooreengekom het. Daarby kan die verklaring van waardes, visie en missie van waardegedrewe skole as basis gebruik word. Daarná kan onderwysers respekvol met individuele of eksterne groepgebaseerde waardes werk.

Uit hierdie bespreking van die verskeidenheid rolspelers wat ’n moontlike invloed op die moraliteitsbewussyn van die adolessent kan uitoefen, blyk die potensiële rol wat skrywers ten opsigte van die kweek van ’n moraliteitsbewussyn by die adolessenteleser het.

4.3 Internasionale beskouing oor moraliteit in jeugliteratuur

Voordat moraliteit in Afrikaanse jeugliteratuur ondersoek kan word, is dit nodig om ’n internasionale beskouing oor moraliteit in jeugliteratuur te verkry.

Collins (1996:159) verduidelik dat jeugliteratuur vroeër deur volwassenes gebruik is om morele waardes en lesse aan die adolessenteleser te onderrig. Sy wys egter daarop dat hierdie tendens in die laaste helfte van die 20ste eeu verander het en dat jeugliteratuur probleme aanspreek wat vir adolessente en jong volwassenes van belang is in hulle stryd tot volwassewording in ’n komplekse, tegnologiese samelewing.

In persoonlike onderhoude met bekende Engelse jeugverhaalskrywers, het die meeste skrywers aangedui dat moraliteit ’n persoonlike begrip is, dat hierdie begrip subjektief van aard is en dat moraliteit verband hou met die wyse waarop ons ander hanteer (DiCicco en Taylor-Greathouse 2014:75–80).

Ismail (2008) het taalstudente en -professore genader oor die uitwerking van hedendaagse letterkunde op die jeug. Uit hierdie gesprekke het Ismail bevind dat literêre tekste ’n beduidende impak op die ontwikkeling van die samelewing uitoefen. Letterkunde het al beskawings gevorm, politieke stelsels verander en wanpraktyke aan die lig gebring. Letterkunde verskaf aan die mens ’n uitgebreide voorskou van menslike ervarings en laat toe dat mense op die basiese vlakke van begeerte en emosie met mekaar kontak maak. Alhoewel die geskrewe woord al samelewings gevorm het, het die werk van sekere skrywers samelewings ook al tot hul mees primitiewe vorm gedegradeer. In hierdie onderhoude met Ismail (2008) het Sophie Chamas, ’n student verbonde aan die skool van internasionale studies aan die American University of Sharjah, genoem dat letterkunde aan die leser insig gee in nie net die gedagtewêreld van mense nie, maar ook in die gedagtewêreld van die skrywer en die gedagtes van die karakters wat die skrywer tot stand bring.

In die onderhoude wat DiCicco en Taylor-Greathouse (2014:75–80) met 12 Engelse jeugverhaalskrywers gevoer het, blyk dit dat hierdie skrywers bewustelik inhoude en kontekste in hulle jeugverhale kies wat ’n redelik ware weerspieëling is van die wêreld van hulle lesers. Sodoende slaag hierdie skrywers daarin om outentieke en geloofwaardige verhale te skep. Van hierdie skrywers verskil van mekaar oor hulle gedrongenheid om ’n spesifieke boodskap deur middel van hulle teks aan die adolessenteleser oor te dra. Sommige meen dat hulle wel ’n moraliteitsbewussyn by hulle lesers wil kweek, terwyl ander voel dat hulle slegs ’n goeie storie wil vertel. Die meerderheid van hierdie skrywers is egter van mening dat hulle adolessente wil lei en ondersteun; hulle wil iets in adolessente se lewens inploeg wat hulle eerder sal help as wat dit hulle sal seermaak. Marion Dane Bauer, een van hierdie skrywers, noem nadruklik dat sy ’n lig van hoop met haar stories wil bring, hoe erg die storie ook mag wees. Sharon Draper glo in grense wanneer sy vir die jeug skryf: sy glo dat ’n jeugverhaalskrywer oor die vaardigheid moet beskik om omstrede onderwerpe met takt te hanteer. Sy is van mening dat hierdie werkswyse daartoe sal bydra dat die omstrede onderwerpe op ’n verstaanbare vlak met die adolessentelesers bespreek kan word, aangesien dit die idees en gedagtes is wat sy met haar leser wil deel en nie die ervaring op sigself nie. Lois Lowry beklemtoon dat dit vir haar belangrik is om eerlik, intelligent en sensitief te wees wanneer sy omstrede kwessies met haar adolessenteleser deel. Die meeste van hierdie skrywers stem saam dat ’n skrywer se eie morele waardes tog in sy of haar verhaal deurskemer. MT Anderson noem dat almal, ook skrywers, se lewens- en wêreldbeskouing al op een of ander wyse verwond is en dat hierdie verwondings in die vorm van moraliteitsvraagstukke noodwendig in die jeugverhaal aan die adolessenteleser oorgedra sal word. Metee Ivie Harrison waarsku dat moraliteitsvraagstukke in haar verhale nie noodwendig haar perspektief daaroor reflekteer nie: as sy oor egskeiding, tienerswangerskap of kindermishandeling skryf, beteken dit nie dat sy hierdie omstrede kwessies aanprys nie.

As die menings van bogenoemde jeugverhaalskrywers en ander kenners op hierdie studieterrein in gedagte gehou word, asook die resepsie-estetika van Iser, naamlik dat daar ’n wisselwerking tussen die teks en die leser se interpretasie van die teks is, besef ’n mens die buitengewone invloed wat ’n skrywer se jeugverhaal op die moraliteitsbewussyn van die adolessenteleser kan uitoefen.

4.4 Tendense in Afrikaanse jeugliteratuur ten opsigte van moraliteit

Alhoewel die Liewe Heksie-reeks deur Verna Vels (2002) ’n kinderverhaalreeks is, is dit nodig om dit hier te noem, juis om die uiteenlopende menings wat selfs oor kinderreekse gehuldig word, aan te toon. Sommige ouers vind die reeks ideaal vir die kinderleser. Volgens Terblanche (2014) het Vels self genoem dat sy gevind het kinders kon baie goed met Liewe Heksie identifiseer, omdat hulle soortgelyke probleme ondervind het wanneer hulle met die komplekse wêreld van volwassenes te doen kry.

Ander ouers skram van die lees van Liewe Heksie vir hulle kinders weg vanweë besware oor heksery en die gepaardgaande toorkuns daarin (Terblanche 2014). Laasgenoemde siening word selfs gehuldig teen stories oor die Tandmuis of Kersvader omdat dit volgens hierdie groep volwassenes afgekeur moet word as gevolg van verwarring ten opsigte van ’n kind se geloofsoortuigings (vergelyk paragraaf 4.5 ten opsigte van die angsteorie).

’n Pot vol winter (1989) deur Maretha Maartens is fel deur die sensuurraad gekritiseer vanweë die feit dat hierdie Afrikaanse jeugverhaal eksplisiet oor seks gehandel het. Die skrywer het egter volgehou dat die inhoud morele kwessies aanspreek waarvan die jeug bewus gemaak moet word, naamlik voorhuwelikse seks en selfdood. Uiteindelik het hierdie verhaal op die boekwinkelrakke verskyn en hoë verkoopsyfers behaal, en die verhaal is uiteindelik verfilm. Slinger-slinger (1997) deur François Bloemhof fokus op voorhuwelikse seks asook seksuele oriëntasie, terwyl Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough homoseksualiteit en selfdood belig. Lien se lankstaanskoene (2008) deur Derick van der Walt fokus op egskeiding, enkelouerskap en die invloed van alkoholisme van ’n ouer op die kinders. In Bambaduze (2015), ook deur Derick van der Walt, word die fokus geplaas op die verwerking van die selfdood van ’n broer. Asem (2016) deur Jan Vermeulen is ’n eksplisiete beskrywing van ’n adolessent se haat jeens sy pa en sy beplanning om hom te vermoor. Die 2017-Sanlampryswenner (goud) vir jeugliteratuur, Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz, vertel die verhaal van die Vorster-gesin wat ná ’n onverwerkte traumatiese gebeurtenis disfunksioneel geraak het. Omstrede kwessies wat in hierdie jeugroman aangeraak word, is onder andere alkoholisme, molestering, verkragting, selfskending, bloedskande, tienerswangerskap en gesinsmoord.

In Dis ek, Anna (2004) en Die staat teen Anna Bruwer (2012) het Anchien Troskie (skuilnaam: Elbie Lötter) lesers geskok met die realistiese beskrywings van molestering en verkragtings. Alhoewel jeugdige karakters in hierdie verhale voorkom, is hierdie verhale nie noodwendig jeugliteratuur nie, maar gunstelingleesstof onder adolessentemeisies volgens studies wat ek onderneem het (Vos 2006; 2014). Die aanduiding dat veral meisies hierdie swaargelaaide leesstof op ’n betreklik vroeë ouderdom (15 jaar) aandurf, is ’n definitiewe aanduiding dat adolessente juis nie van omstrede kwessies wegskram nie. Vaselinetjie (2004) deur Anoeschka von Meck spreek identiteitsproblematiek en ras aan, terwyl die tema van hoop, naamlik “God maak nie foute nie” soos ’n goue draad in die verhaal verweef is. Dis ek, Anna (2004) en Vaselinetjie (2004) is albei verfilm, wat ’n verdere bewys is van die gewildheid van hierdie verhale en die erns van regisseurs om die temas met kykers te deel. Daar word nie meer gehuiwer om hierdie omstrede kwessies te opper nie; daar is ’n amperse behoefte om dit aan die groot klok te hang in ’n poging om ’n debat daaroor te ontketen en sodoende die vraag te berde te bring na die genesende waarde van sulke omstrede inhoude.

Fanie Viljoen noem in ’n onderhoud dat hy daagliks koerante lees om die zeitgeist of tydsgees te bepaal. Gebeure soos dié van die Skielik Skieter, die Griekwastad- asook die De Zalze-moorde gee vir Viljoen ’n kykie in die gedagtewêreld en lewens van adolessente en dit is juis dié gebeure waarop hy in sy jeugverhale wil fokus. In ’n e-pos-onderhoud wat Theron (2017:68–70) in 2015 met Viljoen gevoer het, het Viljoen te kenne gegee dat hy ’n oom gehad het wat ’n alkoholis was en dat hierdie man hom kwaad en bang gemaak het. Dié alkoholisfiguur en Viljoen se interaksie met die persoon word in verskeie karakters in sy jeugboeke geprojekteer, veral in die manlike antagoniste. Die emosies en ervarings wat rondom ’n alkoholis kan ontstaan en dusdoende in Viljoen se jeugboeke beskryf word, sluit woede, geweld, vrees en trauma in.

Enkele verhale deur Viljoen is onder andere BreinBliksem (2005), waarin ’n eksplisiete en realistiese uitbeelding van geweld, dwelm- en drankmisbruik, verkragting en moord voorkom. In Betower (2012)word die invloed van sosiale media, en meer spesifiek die impak van die verspreiding van ongehoorde selfoonfoto’s, verwoord. Pleisters vir die dooies (2014)se inhoud skok, omdat die protagonis in ’n “donker nag” waarin hy die moord van sy skoolmaats beplan, ook te doen kry met prostitusie. In Uit (2014) word die omstrede kwessie van homoseksualiteit met deernis beskryf. In Afkop (2016)is ’n realistiese beskrywing van dwelm- en drankmisbruik, asook eksperimentering met seks.

Bogenoemde is slegs enkele voorbeelde van Afrikaanse jeugliteratuur waarin omstrede kwessies aangeraak word. In ’n studie wat ek met ’n bepaalde groep vyftienjariges onderneem het (kyk Vos 2006), is bevind dat hierdie groep respondente nie wegskram van omstrede kwessies in jeugliteratuur nie, solank die verhaal net nie uitsigloos eindig nie.

4.5 Angsteorie versus die katarsisteorie

Morele aanklagte teen jeugverhale is die rede dat sommige tekste uit hierdie genre nie in klaskamers met leerders behandel kan word nie.

DiCicco en Taylor-Greathouse (2014:80) argumenteer dat eietydse jeugliteratuur slegs van een aspek aangekla kan word en dit is dat die werklikheid daarin uitgebeeld word. Hierdie navorsers noem dat sekere jeugverhale afgekeur word op grond van taalgebruik, seksuele situasies of voorvalle, dwelm- en drankgebruik van adolessentekarakters en selfs ook die seksuele oriëntasie van sommige karakters. Die afleiding kan gemaak word dat dit juis weens hierdie morele aanklagte teen jeugverhale is dat sommige van hierdie fiksietekste nie in klaskamers met leerders gefasiliteer kan word nie.

Ondersteuners van die angsteorie voel dat gruwelike tesame met rustige beelde so deel van die sprokietradisie is dat dit vir die leser soms moeilik kan wees om die goeie en die bose van mekaar te skei. Waar die Aspoestertjie-sprokie wat ons vandag vertel, geen grusame beelde insluit nie, het historiese vertellings verwys na die stiefsusters wat hulle eie voete kleiner gekap het om in die glasskoen te pas (Teverson 2013:61). Fritz en Van der Westhuizen (2010:168) verduidelik dat daar heelwat teenstand is teen die neiging om geweld so werklikheidsgetrou as moontlik uit te beeld, aangesien hierdie uitbeelding die ontwikkelende adolessent negatief kan beïnvloed om die gewelddadige voorbeeld na te volg.

Aanhangers van die katarsisteorie is dit eens dat die werklikheid wel aan die leser uitgebeeld moet word juis vanweë die terapeutiese waarde van narratiewe inhoude verbonde aan hierdie omstrede kwessies, hetsy deur vertellings van ander of vanweë die narratiewe weergawe van eie ervarings. Bohart (1980:192) verduidelik dat emosies gesien word as entiteite, soos water of stoom, wat opbou as daar nie uitdrukking aan gegee word nie. Hieruit kan afgelei word dat die grusame en vreedsame beelde, asook die pyn en verlies wat die leser in die verhaal aantref, volgens die aanhangers van die katarsisteorie ’n voorbeeld stel vir die wyse waarop hierdie beelde en emosies gesuiwer kan word. Hierdie blootstelling aan grusame beelde stel die leser in staat om werklik ontstellende gebeure en beelde in hulle eie lewens te identifiseer en finale afsluiting daarvan te vind.

Verbandhoudend met katarsis is die teksinterne korrektief van ’n bepaalde teks waarna Fritz en Van der Westhuizen (2010:171) verwys:

[T]eksinterne korrektiewe kan dus beskou word as verhaalmatige procédés waarmee negatiewe waardes ten opsigte van karakters se handeling, die gebeure, die ruimte en tydsaspekte binne in die verhaalwêreld herstel, omgekeer, verander of aangepas word om die eintlik bedoelde positiewe waardes na vore te laat kom en sigbaar te maak.

Daar is gevalle in Onderwêreld waar dit om die hantering en afsluiting van ’n spesifieke insident soos selfdood handel, en ander waar dit om ’n deurlopende blootstelling soos kuberkraking gaan. Eersgenoemde sal waarskynlik met katarsis te make hê, en laasgenoemde met deurlopende hanteringsvaardighede wat die adolessent behoort aan te leer.

Marita van der Vyver, self ’n bekende skrywer van onder andere jeugverhale, is van mening dat jeugromans een van die beste maniere bly om te weet wat in jou kind se binnewêreld aangaan (Van der Vyver 2017:23). Sy is van mening dat ’n verbod nie ’n adolessent gaan keer om iets ongeoorloofs te doen nie. Volgens haar is dit beter om as ouer ook die jeugromans te lees of filmreekse te kyk waaroor al die adolessente praat en sodoende die kommunikasiekanale tussen ouer en kind oop te hou.

 

5. Teksontleding: Die uitbeelding van moraliteit in Onderwêreld deur Fanie Viljoen

Fanie Viljoen, een van Suid-Afrika se bekendste jeugverhaalskrywers, slaag daarin om adolessente weer aan die lees te kry met verhale soos BreinBliksem (2005), Miserella (2007), Betower (2012), Leeus met letsels (2013), Pleisters vir die dooies (2014), Uit (2014), Spoke en ander gruwelike goed (2015), Afkop (2016) en Dromers (2017).

Viljoen is van mening dat dit onnodig is om boodskappe of lewenslesse in sy verhale in te skryf, aangesien hy voel dat die adolessenteleser self kan besluit wat reg en verkeerd is (Opperman 2014:54–6).

Onderwêreld (2008), wat met die Silwer Sanlamprys vir jeuglektuur en die ATKV-kinderboektoekenning bekroon is, is vanaf 2017 een van die voorgeskrewe werke vir graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders.

5.1 Opsomming van Onderwêreld

Onderwêreld handel oor die onwettige bedryf van kuberkraking, maar nêrens in die verhaal sê Viljoen “Jy mag nie rekenaars kraak nie!” Hy gee eintlik die voor- én nadele van kuberkraking en laat dit aan lesers oor om te besluit of dit aanvaarbaar is. Viljoen verskaf wel aan die einde van die verhaal die wet teen kuberkraking wat die werklikheid van hierdie aktiwiteit bevestig en as ’n moontlike waarskuwing vir die adolessenteleser kan dien.

Die zeitgeist of tydsgees van hierdie jeugroman is van groot betekenis, want die inhoud beeld die hedendaagse Suid-Afrikaanse bestel van korrupsie en misdaad uit waar selfs vername mense hulle aan wandade skuldig maak. Voorts word die werklikheid van verbrokkelde gesinne en ’n soeke na liefde en aanvaarding belig. Matrikulante staan op die drumpel om self ook die werklike wêreld te betree en met hierdie tydsgees gekonfronteer te word.

Die titel van hierdie roman is ’n moontlike verwysing na die benederyk of hel, maar ook na die onderwêreld van misdaad of van spioenasie en geheimenisse, en dit herinner aan die mite van Orpheus en sy reise deur die onderwêreld. Donker geheime en spanning word deur die titel gesuggereer.

Lawson Kollege, ’n spogseunskool in die Drakensberge, is die ruimte waarin die verhaalgebeure afspeel. Greg Owen is die hoofseun wat nie net prestasiedruk van sy pa en die skoolhoof ervaar nie, maar ook die selfdood van sy geliefde broer, John, moet verwerk. In hierdie belangrike finale skooljaar word ’n nuwe leerder en duidelik ’n buitestaander, Eckardt Wilken, by die skool aanvaar – effens ongehoord vir hierdie skool waar toelating moeilik is. Greg en Eckardt is aanvanklik twee teenpole, maar mettertyd vorm hulle ’n hegte vriendskap. Greg sien iets van John in Eckardt. Stelselmatig trek Eckardt vir Greg in by die donker onderwêreld van kuberkraking. Die kuberkraking herinner Greg aan die ekstreme sport wat hy saam met sy broer aangedurf het. Die onverwagse gebeur dan: Eckardt verdwyn spoorloos en Greg moet die polisie en die skool help om hom terug te kry. Greg besef dat nie die skool óf die polisie mag weet dat hy en Eckardt kuberkrakers is nie.

Greg volg leidrade op en besef dat Eckardt betrokke geraak het by gebeure waar hy hom liewer moes uitgehou het. Uiteindelik vlek Greg ’n halwe waarheid oop: hy kom tot die skokontdekking dat Lawson Kollege se hoof, dr. Alec Pienaar, by ’n onwettige bedrywigheid betrokke is. Wanneer dit lyk of Greg al die antwoorde het, maak Eckardt skielik weer sy verskyning, in Clarens. Greg kom tot die ontnugterende besef dat Eckardt alles haarfyn beplan het en alles omtrent die Owen-gesin uitgevind het. Greg se pa is betrokke by die bose onderwêreld van Alec Pienaar; onwetend het Greg dus sy eie pa aan die polisie uitgelewer. Eckardt se motief vir die aanval op die Owen-gesin is dat Greg se pa jare gelede Eckardt se gesin op ’n soortgelyke wyse verwoes het. Eckardt wou wraak neem vir sy hartseer.

5.2 Omstrede kwessies in Onderwêreld

Moraliteit fokus op die mens en daarom is die karakters se samehang met die ander verhaalaspekte, veral die gebeure, uiters belangrik om moraliteit en omstrede kwessies in Onderwêreld te ondersoek. In die soektog na bepaalde omstrede kwessies in hierdie verhaal word ’n geïntegreerde benadering as beskrywende metode gebruik.

Die hoofkarakters se benadering tot en standpunte ten opsigte van omstrede kwessies kan vir die leser wat self met hierdie kwessies worstel, uiters waardevol wees. Volgens Fritz (2007:90–1) se verduideliking van teksinterne korrektiewe (vergelyk paragraaf 4.4) sal vervolgens in die beskrywings van omstrede kwessies ook gefokus word op rolmodelle, die reaksie van ander, en fisiese en emosionele gevolge.

5.2.1 Kuberkraking

Die onderwêreld van kuberkraking is sekerlik die mees omstrede kwessie in hierdie roman. Eckardt betrek Greg daarby in ’n poging om die dood van sy pa te probeer regverdig. Die besonder realistiese beskrywing van die wyse waarop kuberkrakers te werk gaan, laat dadelik die moraliteitswaarskuwing: Wat is reg en wat is verkeerd? Is kuberkraking geregverdig en het Eckardt die reg om op hierdie manier wraak te neem op die Owen-gesin vir wat aan sy pa gedoen is? Die mag van die media word duidelik wanneer Greg uiteindelik tot die ontnugterende besef kom oor hoe sy pa sy beroep misbruik het om sy en sy trawante se jag na geld te bevorder.

Die omstredenheid van kuberkraking word deur Fanie Viljoen bevestig wanneer hy na die feite en fiksie rakende hierdie onderwerp aan die einde van hierdie roman verwys. Deur middel van die byvoeging van hierdie inligting in die bylae toon hy dat kuberkraking ’n werklikheid is ten einde by te dra tot die werklikheidsillusie wat die roman skep. Alhoewel kuberkraking deur teksinterne korrektiewe as fataal in die verhaal beskryf is, laat die skrywer die adolessenteleser nogtans met ’n duidelike waarskuwing wanneer hy die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet no. 25, 2002) omvattend uiteensit. Op hierdie wyse spreek hy die moraliteitsbewussyn van die adolessentelesers duidelik aan, want die leser kan nou self oordeel oor wat reg en wat verkeerd is.

5.2.2 Selfdood

Die twee hoofkarakters is in ’n vroeë stadium in hulle lewens gekonfronteer met selfdood: Greg met die selfdood van sy broer, John, en Eckardt, toe maar 11 jaar oud, met die selfdoodpoging van sy pa, wat die hele motivering vir Eckardt se latere optrede in die verhaal word. Dit kan die vraag by die leser laat ontstaan: Is Eckardt inherent boos, of is sy ervaring van sy pa se selfdoodpoging genoeg rede vir sy radikale optrede? Wanneer Eckardt verdwyn, is daar ook sprake dat hy selfmoord gepleeg het (ble. 33, 40 en 53). Die koshuisinwoners se uiteenlopende reaksies hierop (sommige is bekommerd en geskok, terwyl ander grappies daaroor maak) kan ’n waardevolle gesprek in die klaskamer ontlok.

Voorts is daar die suggestie van selfdood wanneer Nicole nie haar sin kry om na die Black Eyed Peas-vertoning by Sun City te gaan nie en dink dat selfdood iets is wat haar ouers sal laat sleg voel (127). Dit wil voorkom of sy selfdood oorweeg as ’n wyse van onvolwasse emosionele manipulering: “Ek moet sommer iets ... iets doen, dan sal hulle jammer wees.”

In die finale konfrontasie tussen Greg en Eckardt in Clarens het Greg lus om net te lê dat Eckardt hom moet doodmaak, aangesien hy skuldig voel dat hy sy pa in die steek gelaat het (184). ’n Moontlike gesprek wat met leerders gevoer kan word, is of selfdood werklik ’n oplossing vir probleme is en of jy moet skuldig voel indien jy jou rolmodel aan die polisie moet rapporteer.

Selfdood is ’n sensitiewe kwessie waarmee adolessentelesers moontlik gekonfronteer kan word en ’n sinvolle gesprek met hulle in ’n klaskamer kan hulle help met moontlike antwoorde op hulle onbeantwoorde vrae rondom hierdie netelige kwessie.

5.2.3 Magstrukture en prestasiedruk

Greg Owen en Eckardt Wilken is vasgevang in die magstrukture soos verteenwoordig deur die ouers en die skool. Die verantwoordelikheid van Greg se hoofseunskap lê swaar op sy skouers.

Die onderliggende magstryd om leierskap tussen Greg, die hoofseun, en Kwanele Twala, die onderhoofseun, is ook ’n duidelik omstrede kwessie (18):

“Vir wat? Ek is die hoofseun, het jy vergeet?”

“So why didn’t you organise it then?”

Ook op bladsy 38 is Kwanele se antagonisme jeens Greg duidelik. Hierdie konflik tussen die twee hoofleiers kan ’n debat tussen leerders ontlok: Verdien Greg sy posisie as hoofseun – is hy hoofseun vanweë sy pa se invloed en is Kwanele ’n beter leier as Greg? Wanneer die ander leerders nie saam met Greg teen Dok Pienaar staan nie, word sy vertwyfeling in sy eie leierskap versterk (44):

“Is ek dan hulle leier?

If you think you’re a leader but nobody is following you, you’re merely going for a walk.

’n Ander omstrede kwessie wat in Onderwêreld aangeraak word, is die prestasiedruk op leerders deur gesagsfigure soos verteenwoordig deur Greg se pa en die skoolhoof. Greg se pa maak dit duidelik dat sy seun hoër doelwitte as die vorige jaar moet stel, soos die verwerwing van onderskeidings in sy matriekjaar en om die beste eerstespanrugbyspeler te wees. Die skoolhoof laat die seuns goed verstaan dat ’n teelaarde by Lawson Kollege geskep moet word “waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word” (17). Hierdie skoolhoof is nie tevrede met ’n sportman wat net sy beste lewer nie (42): “Sportmanne wat hul ‘beste’ doen, is verloorders. Dis nie goed genoeg vir my nie, en ook nie vir Lawson Kollege nie. Ek soek jou hart en jou siel. Determinasie, Visie. Oorwinning.”

Die houding van hierdie twee gesagsfigure kan verwarring oor morele waardes by Greg veroorsaak: Moet jy slegs ’n topposisie beklee om as kind aanvaar te word en moet jy slegs wen om vir ’n skool aanvaarbaar te wees? Greg se pa en die skoolhoof, wat die beeld van perfeksionisme uitdra, blyk later self korrup te wees. Die korrupsie van hierdie gesagsfigure herinner aan die Faust-legende: Faust was ontevrede met sy lewe en het met die duiwel onderhandel vir meer kennis en towermagte. Daar is verskeie variasies van hierdie legende: die vroegste vertellinge was van hoe Faust lewenslank ’n slaaf van die duiwel was, terwyl latere weergawes vertel hoe Faust deur God, in die vorm van ’n ewige vrou, gered is. Die sinspeling op hierdie legende is effektief binne die verhaalgebeure, aangesien dit aandui dat ambisieuse persone soos Greg se pa en die skoolhoof hulle morele waardes prysgegee het in ruil vir mag, kennis, sukses en geld.

5.2.4 Leerlingraadverkiesings

Die omstredenheid wat soms met leerlingraadverkiesings gepaard gaan, word sterk in hierdie jeugroman belig. Leerlingraadverkiesings wat saketransaksies tussen die skool en ouers is, is ’n omstrede kwessie wat onder die loep kom wanneer Plank, een van Greg se vriende, sê:

“Hoofseun, onderhoofseun, VRL’s. Julle was almal blote saketransaksies, was julle nie? Wie se pa kan die skool se budget die grootste hupstoot gee? En daai badge wat hulle op jou bors vassteek, is die kwitansie wat jy die hele blerrie jaar gaan dra!” (26)

Leerders wat tot hierdie gesagsposisies verkies word, kan altyd wonder of hulle dit werklik verdien en of hulle slegs vanweë hulle ouers se mag die posisie beklee.

5.2.5 Ontgroenings- of oriënteringsrituele

Ontgroenings- of oriënteringsrituele word as een van die omstrede kwessies beskryf wanneer die Trappers (graad 8-leerders) geblinddoek hulle weg in die donker ondergrondse waterafvoerpype moet vind (36–7). Die leuse van Lawson Kollege (Lux hominum vita – “lig is die lewe vir die mensdom”) word vir die leerders ’n werklikheid wanneer hulle besef dat hulle wel flitsliggies by hulle gehad het, maar omdat hulle geblinddoek was en in die rondte getol is, té gedisoriënteerd was om dit te besef.

Hierdie leuse behoort aanklank by die adolessentelesers te vind, veral aangesien ’n groep adolessentelesers in ’n studie (Vos 2006) aangetoon het dat hulle meer belangstel in die goeie en die positiewe omdat dit moontlik hulle bewuste of onbewuste strewe is om self optimisties in die lewe te wees of te ontwikkel. Graad 12-leerders is byna volwasse en behoort self die volgende morele afleiding, waarin ’n belangrike lewensles verskuil lê, met die bemiddeling van die onderwyser te maak: “Jy word in die donker tonnels losgelaat, maar jy word die gereedskap gegee om jou te help om jou pad te vind” (36).

Greg som die ontgroeningsritueel goed op wanneer hy vir die graad 8’s, wat suksesvol was om hulle pad uit die ondergrondse tonnels te vind, sê: “Om te onthou dat ons hier is om mekaar te help. Nou en in die toekoms” (37).

5.2.6 Seks

Reeds vroeg in hierdie roman is daar sprake van ’n seksuele verhouding tussen Greg en Nicole, voorbehoeding en die suggestie van ’n moontlike tienerswangerskap (12, 13). Greg twyfel tog in Nicole se getrouheid aan hom (52, 53) en dit behoort vir die adolessenteleser ’n waarskuwing te wees dat vrye liefde nie ’n waarborg vir ’n standhoudende verhouding is nie.

5.2.7 Alkohol- en dwelmgebruik

Alkoholgebruik deur skoolleerders word realisties uitgebeeld. Greg, wat as hoofseun ’n rolmodel vir ander leerders behoort te wees, behoort leerders wat drank in hulle besit het te rapporteer, maar hy drink saam met hulle (39):

“Ek buk by die klein yskassie. Skuif die koeldranke weg, en wragtig, daar is die verbode vrugte. Twee yskoue Castles. Ek weet ek is veronderstel om so iets te rapporteer, maar ek besluit: what the hell, 4 x 4’s kan mos nie net altyd veilig op die teerpad bly nie, hulle moet af en toe rowwe terrein aandurf.”

Die rook van dagga (Plank, oftewel Mark Gibbons, rook “lagtwak” (86)), asook die eksperimentering met dwelms, onder andere ecstasy, word beskryf wanneer hierdie groep adolessente hulle in ’n nagklub in Johannesburg bevind (88). Die oorsake en gevolge van, en oplossings vir, alkohol- en dwelmgebruik behoort ’n interessante gesprek in ’n veilige klaskameromgewing tot gevolg te hê.

Samevattend is Onderwêreld ’n outentieke en geloofwaardige verhaal waarin Fanie Viljoen uitmuntend daarin slaag om ’n goeie storie te skryf sonder om ’n nadruklike moraliteitsles op die adolessenteleser af te dwing. Die bogenoemde omstrede kwessies word met takt deur die skrywer hanteer en veral kuberkraking word beslis nie aangeprys nie. Viljoen laat die adolessenteleser aan die einde van die verhaal, ten spyte daarvan dat Greg sy pa onwetend aan die polisie oorlewer, steeds met ’n belofte van hoop (vergelyk paragraaf 4.3).

5.3 Fasilitering van omstrede kwessies in Onderwêreld in die klaskamer

Die benadering tot die onderrig van letterkunde word in die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) (Suid-Afrika 2011:12) bespreek. Hiervolgens is letterkundeonderrig ’n uitdagende taak waartydens die persoonlike en eerlike interpretasie en kommentaar van leerders in ag geneem moet word. Die leerders moet daarom die verhaal Onderwêreld verstaan en vir hierdie doel is leerderdeelname in die klas noodsaaklik. Die onderwyser kan nie sy/haar eie interpretasies en idees oor Onderwêreld aan die leerders oordra nie. Die onderrig van die “regte antwoord” is dus nie van belang nie, maar veel eerder wat binne die konteks van hierdie jeugverhaal vir die graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders betekenisvol is. Onderwêreld moet in sy geheel bestudeer word en deeglik, verkieslik in die klas sonder enige onderbreking van ander aktiwiteite, gelees word. Deeglike lees van hierdie verhaal behels interpretasie, kreatiewe en persoonlike belewing en die ondersoek daarvan.

Een van die doelwitte wat in die KABV (Suid-Afrika 2011:4) gestel word, is om leerders, ongeag hulle sosio-ekonomiese agtergrond, ras, geslag, fisieke of intellektuele vermoëns, toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as burgers van ’n vry land. Hierdie doelwit vereis dat leerders gestimuleer moet word om in kritiese denkers te ontwikkel. Om in genoemde doelwit van die KABV te slaag sal die volgende omstrede kwessies uit Onderwêreld ’n geskikte debat (praatgeleentheid) in die klas kan ontlok, en die praatgeleentheid kan skryfgeleenthede stimuleer:

  • Is kuberkraking geregverdig indien niemand daardeur benadeel sal word nie?
  • Behoort inligting van die polisie weerhou te word wanneer ’n misdaad gepleeg is?
  • Is eksperimentering met drank, dwelms en seks deur adolessente aanvaarbaar?
  • Moet jy stilbly oor die selfdood van ’n gesinslid?
  • Is dit aanvaarbaar dat skoolleiers gesag uitdaag?
  • Moet jy altyd met jou ouers saamstem?
  • Moet ’n kind bereid wees om sy ouers aan te meld indien hulle ’n misdaad pleeg?
  • Is dit goed dat adolessente vrye toegang tot die internet het?
  • Mag jy wraak neem indien iemand jou te na kom?

Die KABV vereis van onderwysers om verskillende kognitiewevaardigheidsvlakke in onderrig en assessering toe te pas en verskaf leiding aan onderwysers oor die hantering van waardes in letterkundige tekste (Suid-Afrika 2011:81–2). Hierdie voorgestelde hanteringswyses van waardes sluit ook gedeeltelik by Kohlberg (1958) se morele-ontwikkelingsteorie aan, naamlik dat adolessente se waardesisteem al sodanig ontwikkel is dat ’n gesprek met hulle daaroor moontlik is (vergelyk paragraaf 4.1). Die volgende vrae het met die vlak van waardering te doen en handel oor die beoordeling van waardes, houdings en oortuigings. Dit sluit in beoordeling van die werklikheid, geloofwaardigheid, feite en menings, geldigheid, logika asook die gewenstheid en aanvaarbaarheid van besluite en optrede in terme van morele waardes:

  • Bespreek krities / lewer kritiese kommentaar op die optrede/bedoeling/houding/implikasie ... Byvoorbeeld: Lewer kritiese kommentaar op Nicole se manipulerende optrede teenoor Greg.
  • Stem jy saam met die siening/standpunt/waarneming/vertolking ...? Byvoorbeeld: Stem jy saam met Greg se uitdaging van die skoolhoof se gesag voor ander leerders (44)?
  • Is die skrywer/verteller/karakter na jou mening, geregverdig as hy of sy voorstel dat ...? Motiveer jou antwoord / Gee redes vir jou antwoord. Byvoorbeeld: Is die adjunkhoof, mnr. Andersen, se optrede geregverdig wanneer hy vir die seuns vra om te help soek na Eckardt, maar dit stil te hou van buitestanders soos die polisie en ouers (bladsy 33, 41–2 en 45)? Motiveer jou antwoord.
  • Is die karakter se houding/optrede regverdigbaar of aanvaarbaar? Gee ’n rede vir jou antwoord. Byvoorbeeld: Is Eckardt se wraakneming op die Owen-gesin regverdigbaar? Gee ’n rede vir jou antwoord.
  • Wat sê ’n karakter se optrede/houding oor hom in die konteks van universele waardes? Byvoorbeeld: Wat sê Greg se bekendmaking van die onwettige bedrywighede van Dok Pienaar, en ook indirek van sy pa, oor hom in die konteks van universele waardes?
  • Bespreek Greg se regverdiging waarom hy wel drink (“hulle moet af en toe rowwe terrein aandurf” (39)) krities.
  • Bespreek die waardeoordeel wat in die teks gemaak word. Byvoorbeeld: Verskaf jou mening oor die volgende waardeoordele in die teks:

    ’n Mens moet soms die lewe aandurf “sonder ’n bulletproof baadjie wat jou beskerm teen pyn en hartseer” (34).
    “Lig is die lewe vir die mensdom” (37).
    “Ons is klone van ons ouers se bestaanswêreld – die ‘rat race waarbinne die wenner nog altyd ’n rot bly’ (41).
    Vergewe en vergeet is nie altyd moontlik nie (118).
    Prestasie maak kinders nie noodwendig gelukkig nie.
    Geld se rol binne die gesinslewe: Kan dit ’n gesin maak of breek? (190).

Voorts kan vrae wat die vlak van waardering sal assesseer, gevra word. Die doel van hierdie vrae is om die impak van die teks op die leser te assesseer en behoort nie eintlik tydens formele assesseringsgeleenthede gevra te word nie, aangesien hierdie tipe vrae nie betroubaar geassesseer kan word nie. Die vrae fokus op die leerder se emosionele reaksie op die inhoud, identifisering met karakters en reaksies op die skrywer se taalgebruik (woordkeuse en beelde):

  • Bespreek jou reaksie op die teks/insident/situasie/konflik/dilemma. Byvoorbeeld: Bespreek wat jy sou doen as jy uitvind dat jou pa by onwettige bedrywighede betrokke is.
  • Simpatiseer jy met die karakter? Wat sou jy doen indien jy in dieselfde situasie was? Byvoorbeeld: Simpatiseer jy met Eckardt wat wraak wil neem vir sy gesin se verlies? Wat sou jy gedoen het as jy op jou pa se selfdoodpoging afgekom het en besef het dat iemand jou pa so ver gedryf het?

Volgens Anker (2011:18) behoort die “adolessenteleser hom [te] kan vergewis van die sosiale leuen dat alle strukture en instansies tot sy beswil en voortdurende positiewe vorming wil optree”. Volgens hom word die adolessenteleser tydens die lees van jeugromans bemagtig om die wanbestuur van magstrukture te kan herken en hom daarteen te kan verset.

 

6. Voorstelle om jeugliteratuur van omstrede aard in die klaskamer te fasiliteer

In die onderhoude met 12 bekende Engelse jeugverhaalskrywers het die skrywers die rol van volwassenes (ouers, onderwysers, biblioteekkundiges en skrywers) beklemtoon wanneer besluit moet word oor die geskiktheid, al dan nie, van jeugliteratuur van omstrede aard. Volgens die Engelse skrywers bly volwassenes die beste toegerus om met adolessente oor omstrede kwessies te gesels en om hierdie adolessente tydens die leesproses te begelei. Om boeke van ’n omstrede aard uit skole te hou, is geen oplossing nie (DiCicco en Taylor-Greathouse 2014:75–80).

Onderwysers moet ander rolspelers wat ook ’n invloed op die moraliteitsbewussyn van adolessente uitoefen, betrek of op hulle menings ag slaan. In die onderhoude met genoemde Engelse jeugverhaalskrywers (DiCicco en Taylor-Greathouse 2014:75–80), meen een van die Engelse skrywers, Nancy Garden, dat die ouer teoreties die beste toegerus behoort te wees om te bepaal of ’n jeugverhaal met omstrede kwessies geskik sal wees vir hulle kinders of nie. Volgens haar behoort onderwysers en biblioteekkundiges ook oor hierdie oordeel te kan beskik, aangesien hulle die adolessente voor hulle ken. DiCicco en Taylor-Greathouse (2014:75–80) meen dat skrywers op hulle eie morele waardes steun, aangesien hulle nie oor dieselfde voorkennis as onderwysers beskik nie.

Fritz en Van der Westhuizen (2010:163–82) beveel aan dat die adolessent in ’n beheerde omgewing, byvoorbeeld die klaskamer, aan omstredenheid in jeugliteratuur blootgestel behoort te word. Deur bepaalde aspekte in die verhaal self (byvoorbeeld deur die karakters se handeling) kan negatiewe waardes binne die verhaal uiteindelik herstel, omgekeer, verander of aangepas word om die bedoelde positiewe waardes te beklemtoon (vergelyk paragraaf 4.5). Met behulp van hierdie verhaalmatige procédés word die adolessent stelselmatig toegerus om self later ’n oordeel te kan uitspreek wanneer hy met soortgelyke omstrede situasies gekonfronteer word.

In die klaskamer kan ’n sinvolle gesprek oor omstrede kwessies met omsigtigheid met leerders gevoer word, byvoorbeeld deur oor die oorsake en gevolge van, maar ook oplossings vir, onder andere egskeiding, selfdood, drank- en dwelmmisbruik te redeneer. Hierdie gesprekke en voorgestelde begeleide groepbesprekings, wat tydens literatuurstudie ontlok word, kan later aanleiding gee tot bepaalde praat- en skryfgeleenthede binne die kurrikulumvoorskrifte. Volgens Du Plessis (2017) is dit in so ’n situasie belangrik om ’n klimaat te skep waar elke leerder aanvaarding beleef. Hy beveel aan dat respek vir die medemens ten alle tye die fokus van die gesprek moet wees, veral wanneer morele waardes met diverse groepe (verskillende kulture, gelowe, rasse, geslagte) bespreek word. Dit is ook ’n beginsel wat deur die KABV (Suid-Afrika 2011:5) onderskryf word. Du Plessis (2017) se studie dui ook op die belang van oop kommunikasiekanale en van ’n bereidwilligheid om na mekaar te luister.

Die onderwyser behoort sy of haar leerders te ken ten opsigte van watter omstrede kwessies met hulle bespreek kan word, maar behoort ook bewus te wees van die wyses waarop hierdie kwessies bespreek kan word. Volgens die KABV (Suid-Afrika 2011:5) is een van die vooruitsigte dat leerders probleme moet kan identifiseer, dit kan oplos en besluite kan neem deur die ontwikkeling van kritiese en kreatiewe denke. Leerders moet bewus wees van en krities raak ten opsigte van die morele waardes wat in jeugliteratuur op die voorgrond geplaas word. Die onderwyser kan waarskynlik vra dat leerders hulle menings oor hierdie kwessies verskaf en die onderwyser kan moontlike gesprekke oor moraliteitsbeginsels rakende hierdie kwessies fasiliteer. Wanneer leerders aktiwiteite doen wat vereis dat hulle morele waardes in ’n bepaalde teks ontleed en/of bevraagteken, leer hulle hoe die teks ’n bepaalde siening van mense en gebeure handhaaf. Hulle sal die kritiese vaardighede ontwikkel om sodanige sienings en gepaardgaande waardes te ondersoek en, waar nodig, teen te staan.

Die genesende terapeutiese waarde van hierdie jeugverhale van ’n omstrede aard kan beklemtoon word. Dusdoende kan leerders afsluiting vind van hulle eie soortgelyke probleme aan dié van die karakters en hulle met ’n boodskap van hoop laat.

Jeugliteratuur bly ’n kragtige hulpmiddel waarmee adolessente hulle eie morele oortuigings kan toets.

 

7. Samevatting

Omstrede kwessies was in die verlede die oorsaak dat heelwat jeugverhale krities bejeën is, aangesien sommige volwassenes hierdie omstrede kwessies as ’n negatiewe etikettering op die moraliteitsbewussyn van die adolessent bestempel het.

Hierdie kwessies is egter hedendaags ’n internasionale tendens in jeugliteratuur. Volwassenes het die verantwoordelikheid om omsigtig met hierdie omstredenheid te handel: wanneer ouers boeke vir hulle kinders aankoop, of wanneer onderwysers boeke vir hulle leerders voorskryf.

Burger (2005) stel dit duidelik dat die waarde van letterkunde wél daarin lê “dat die leser betrek word by die lotgevalle van mense, by ander se ervarings, en sodoende gedwing word om na te dink oor verskillende fasette van menswees". Wanneer omstrede kwessies dan in jeugverhale met leerders in die klas gefasiliteer moet word (byvoorbeeld die morele kwessies in Onderwêreld – vergelyk paragraaf 5), is ’n sinvolle gesprek oor hierdie onderwerpe tussen die onderwysers en leerders noodsaaklik in ’n poging om leerders intellektueel én emosioneel by hierdie kwessies te betrek. Indien die onderwyser hierdie onderwerpe met sensitiwiteit hanteer, kan die lees van hierdie jeugverhale adolessentelesers by hulle medemens se ervarings betrek en terselfdertyd na oplossings vir hulle eie probleme begelei. Dusdoende kan leerders afsluiting vind van hulle eie probleme en kan die lig van hoop weer vir hulle aangesteek word.

 

Bibliografie

Administrator. 2016. Die NG Kerk en homoseksualiteit. Vrydag, 11 November. http://www.glodiebybel.co.za/component/content/article/277-1986-ngk-homoseksuele-standpunt.html (29 September 2017 geraadpleeg)

Anker, J. 2011. Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman. LitNet Akademies, 8(3):1–20.

Bloemhof, F. 1997. Slinger-slinger. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Bohart, A.C. 1980. Toward a cognitive theory of catharsis. Psychotherapy Theory Research and Practice, 17(2):192–201.

Burger, W. 2005. Subversiewe letterkunde kan vir dokters ook van nut wees. Beeld Plus, Saterdag 10 September, bl. 9.

Casey, K. en F.K. Grossman. 2013. Teaching values: Let’s end our misguided approach. Education week teacher. http://www.edweek.org/tm/articles/2013/02/25/fp_casey-grossman.html (13 Desember 2017 geraadpleeg).

Coleman, D. 2016. The value of religious education. http://www.collegeboard.org/membership/all-access/academic/david-coleman-value-religious-education (13 Desember 2017 geraadpleeg).

Collins, C.J. 1996. Finding the way: Morality and young adult literature. In Vandegrift (red.) 1996.

Departement van Basiese Onderwys (DBO) (kyk Suid-Afrika). 2011. Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.

DiCicco, M. en P. Taylor-Greathouse. 2014. The moral of the story: Young adult authors speak on morality, obligation, and age appropriateness. English Journal, 103(5):75–80.

Du Plessis, E. 2017. Die essensie van morele waardes in die konteks van ’n parallelmediumskool. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 53(1-2):175–97.

Fritz, M.J. 2007. Die representasie van omstrede kwessies in kontemporêre Afrikaanse jeugverhale. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Fritz, M.J. en E.S. van der Westhuizen. 2010.Omstrede kwessies en teksinterne korrektiewe in Skilpoppe van Barrie Hough. Literator, 31(2):163–82.

Holborn, L. en G. Eddy. 2011. First steps to healing the South African family: A research paper by the South African Institute of Race Relations sponsored by the Donaldson Trust. Johannesburg: South African Institute of Race Relations. https://edulibpretoria.files.wordpress.com/2008/01/first_steps_to_healing_the_south_african_family.pdf (1 November 2017 geraadpleeg).

Hough, B. 1998. Skilpoppe. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Iser, W. 1978. The act of reading: A theory of aesthetic response. Baltimore: Johns Hopkins UP.

Ismail, M. 2008. Literature is the mirror of society. http://gulfnews.com/literature-is-the-mirror-of-society-1.86134 (5 September 2017 geraadpleeg).

Kohlberg, L. 1958. Development of moral character and moral ideology. Chicago: University of Chicago.

Krahtz, C. 2017. Blou is nie ’n kleur nie. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Larney, T. en G.A. Lotter. 2005. Ouers se rol in die oordrag van etiese en morele waardes. Koers, 70(4):661–83.

Luther, J., F. Pheiffer en R.H. Gouws. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 6de uitgawe. Kaapstad: Pearson.

Maartens, M. 1989. ’n Pot vol winter. Pretoria: HAUM Literêr.

Martinez, E. 2017. Moral development in teens. https://howtoadult.com/moral-development-teens-2429.html (18 September 2017 geraadpleeg).

Maughan. S. 2017. Reckless behavior in adolescents. https://howtoadult.com/reckless-behavior-adolescents-2979.html (18 September 2017 geraadpleeg).

Meier, C. en P. Marais. 2012. Education management in early childhood education. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Miles, J. 1980. Stanley Bekker en die boikot. Suid-Afrika: Taurus.

Mokeyane, K.N. 2017. Bad teen behaviour. Oureverydaylife.com/bad-teen-behavior-1929.html (18 September 2017 geraadpleeg).

Monseau, V.R. en G.M. Salvner (reds.). 2000. Reading their world: The young adult novel in the classroom. 2de uitgawe. Portsmouth: Boynton/Cook.

Mulet, B. 2014. Controversial texts in children’s and young adult literature. Wisconsin English Journal, 56(1):26–31.

Nienaber, M. 2017. Skok oor dwelms in skole. Beeld, 22 September, bl. 10.

October, A. 2012. Dit is nie maklik om korruptes te vervolg. Die Burger, 17 Augustus, bl. 2.

Opperman, A. 2014. Wanneer die donker roep. Taalgenoot, Lente, ble. 55–6.

Statistiek SA. 2011. Mediavrystellings – Huweliksweek. http://www.sahuweliksweek.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=242&Itemid=458 (5 Oktober 2017 geraadpleeg).

Stover, L.T. 2000. Who am I? Who are you? Diversity and identity in the young adult novel. In Monseau en Salvner (reds.) 2000.

Suid-Afrika. 1996. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. http://www.justice.gov.za/legislation/constitution/SAConstitution-web-afr.pdf (11 Desember 2017 geraadpleeg).

Suid-Afrika. 2011. Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring, Afrikaans Huistaal, VOO-fase. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.

Terblanche, E. 2014. Verna Vels (1933–2014): Gebore en getoë. LitNet. http://www.litnet.co.za/verna-vels-1933 (28 September 2017 geraadpleeg).

Teverson, A. 2013. The new critical idiom: Fairy tale. New York en Londen: Routledge.

Theron, A.S. 2017. ’n Ondersoek na die rol van die “verwonde” kind in die werk van enkele kinder- of jeugverhaalskrywers in navolging van Alice Miller. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

Troskie, A. 2004. Dis ek, Anna. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2012. Die staat teen Anna Bruwer. Kaapstad: Tafelberg.

Vandegrift, K.E. 1996. Mosaics of meaning: Enhancing the intellectual life of young adults through story. Lanham: Scarecrow.

Van der Vyver, M. 2017. Dertien redes waarom. Vrouekeur, 15 September, bl. 23.

Van der Walt, D. 2008. Lien se lankstaanskoene. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

—. 2015. Bambaduze. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Van Heerden, H. 2016. Leierskap in onseker tye. Die Koord. Nr. 631, Mei 2016.

Van Zyl, C. 2010. Die invloed van religieuse en kulturele verskeidenheid op moraliteit in die huidige Suid-Afrikaanse konteks: ’n Uitdaging vir Christelike kerke. Verbum et Ecclesia,
31(1):1–8.

Vels, V. 2002. Die Liewe Heksie-omnibus. Kaapstad: Human en Rousseau.

Vermeulen, J. 2016. Asem. Pretoria: Lapa Uitgewers.

Viljoen, F. 2005. BreinBliksem. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

—. 2007. Miserella. Kaapstad: Human en Rousseau Uitgewers.

—. 2008. Onderwêreld. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

—. 2012. Betower. Pretoria: Lapa Uitgewers.

—. 2013. Leeus met letsels. Kaapstad: Human en Rousseau Uitgewers.

—. 2014a. Pleisters vir die dooies. Pretoria: Lapa Uitgewers.

—. 2014b. Uit. Pretoria: Lapa Uitgewers.

—. 2015. Spoke en ander gruwelike goed. Pretoria: Lapa Uitgewers.

—. 2016. Afkop. Pretoria: Lapa Uitgewers.

—. 2017. Dromers. Pretoria: Lapa Uitgewers.

Von Meck, A. 2004. Vaselinetjie. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Vos, J.E. 2006. Identiteitsontwikkeling in geselekteerde jeugverhale van Barrie Hough. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

—. 2014. ’n Leesmotiveringsprofiel van en ’n -raamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

 

Eindnotas

1 Jeugliteratuur verwys vir die doel van hierdie artikel na literatuur vir adolessentelesers (ongeveer 12 tot 18 jaar oud) en sluit nie die sogenaamde jongvolwasseneletterkunde in nie.

2Mediëring verwys na die onderwyser se rol as bemiddelaar om ’n ooreenkoms of versoening tot stand te bring tydens meningsverskille.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor <i>Onderwêreld</i> deur Fanie Viljoen appeared first on LitNet.

Morality and controversial matters in youth literature: a perspective on Onderwêreld by Fanie Viljoen

$
0
0

Abstract

Morality is a concept that is difficult to define because of the diversity of people and their lifestyles. The following commonalities emerge from an examination of the wide range of definitions of morality: Morality is a personal and subjective consciousness of what is good or evil or of what is right or wrong in one’s actions towards oneself and others. Morality therefore implies the ability to express an opinion on controversial matters that surface in youth literature. Controversiality, on the other hand, implies a debatable matter. In other words, it is possible to judge a matter differently. Morality can be summarised as follows: Morality judges controversial matters, which in this case refers to youth literature. In other words, moralityjudges whether certain debatable matters in certain youth narratives are right or wrong.

Since adolescents have free access to literature, it is becoming more difficult for parents to monitor what their children read. When certain youth novels are analysed, controversial content seems to be the order of the day. Owing to these controversial matters in youth literature, the stories are either severely criticised by certain role players who regard themselves as the moral gatekeepers of the youth, or enjoy the support of others who believe that the occurrence of controversial matters in youth literature provides an opportunity to conduct an intellectual conversation with the adolescent reader.

Teachers who shy away from these contentious topics in youth literature and who do not want to address these matters in the classroom with their learners, or would rather not have these controversial youth novels prescribed for their learners, no longer provide a solution to this problem. The question should rather be what effective methods can be used to facilitate these controversial matters with the learners in the classroom.

An extensive literature review was launched in an effort to determine the nature of morality, to pin down who the role players are in shaping adolescent morality, to shed light on the international view of morality in youth literature, to examine contemporary trends in Afrikaans youth literature regarding morality, as well as to investigate the different perspectives of adults regarding controversial matters in youth literature.

As it appeared from the literature review that morality is personal and subjective in nature, it was decided to use reception aesthetics as the literary theory to support this article, as described by Wolfgang Iser (1978). Iser (1978) argues that “literature is more than the text, for the text only takes on life when it is realized, and furthermore the realization is by no means independent of the individual disposition of the reader”.

From this can be deduced that reading a text involves an active creation of meaning by the reader from the text itself.

In the text analysis of the embodiment of morality in Onderwêreld by Fanie Viljoen an integrated literary approach as a descriptive method was followed. The steps followed were the analysis, interpretation and evaluation of the text. This approach was taken to suggest ways for the teacher to facilitate certain controversial matters with Grade 12 Afrikaans Home Language learners in the classroom.

The controversial matters that are becoming increasingly commonplace in youth literature and subject to censorship laws can be divided into four categories, namely violence, politics, sexuality and religion (Fritz and Van der Westhuizen 2010:163–82). Disrespect towards authority, drugs and alcohol use (or even abuse), smoking and sexual promiscuity are some examples of the controversial matters in youth literature on which a moral judgment can be expressed.

In the literature several role players and factors are mentioned that play a contributory role in shaping the morality of adolescents, including the parents, the church, cultural views, schools, politicians, singers, film stars, peer groups, as well as writers (Du Plessis 2017; Martinez 2017). The adult role players sometimes reveal contradictory values themselves that lead to confusion in the adolescents. Writers as well as teachers remain among the most important role players to possibly establish a moral awareness among adolescents.

Adults hold diverse perspectives on the exposure of controversial matters to adolescent readers in youth literature. Some believe that the reading exposure to controversial matters adversely affects the adolescent (angst theory), while others argue that adolescents find the conclusion of their own problems in this way (catharsis theory).

Internationally, the trend among youth writers is to consciously select content and contexts in their youth literature that are a fairly true reflection of their readers’ worlds, and ongoing efforts are made to deal tactfully with controversial subjects. The majority of youth writers want to lead and support adolescents and want to create stories of hope for their readers. Some of these youth writers warn that the content in their books should not be taken as necessarily reflecting their own views: when they write about divorce, teenage pregnancy or child abuse, it does not mean that they are propagating these controversial matters.

The Afrikaans youth novel ’n Pot vol winter (1989) by Maretha Maartens was the first youth novel to be severely criticised by the Censorship Board because it was the first Afrikaans youth novel that dealt explicitly with sex. Some other Afrikaans youth literature writers, who sometimes weave controversial matters into their narratives explicitly, though with caution, include François Bloemhof, Barrie Hough, Derick van der Walt, Carin Krahtz and Fanie Viljoen. Controversial matters addressed by these writers include sex, sexual orientation, suicide, drug and alcohol abuse, divorce, single parenthood, molestation, rape and the negative impact of social media.

Youth literature with controversial content can no longer be kept from adolescent readers. Onderwêreld by Fanie Viljoen is currently one of the prescribed books for Grade 12 Afrikaans Home Language learners. Viljoen, who is one of South Africa’s most productive writers, indicates that he reads newspapers on a daily basis to determine the ethos of, and to gain a glimpse into the mindset and lives of, adolescents. It is precisely these occurrences on which he wants to focus in his youth novels. Viljoen believes it is unnecessary to write morals or life lessons into his youth novels, as he feels that adolescent readers can decide what is right or wrong.

Onderwêreld is about the illegal industry of hacking, but nowhere in the story does Viljoen say that hacking is wrong. He actually presents the pros and cons of hacking and leaves it to the reader to decide whether it is acceptable. He does, however, state the law against hacking at the end of the story to strengthen the reality of this activity and to serve as a possible warning to the adolescent reader. Other controversial matters in this novel are suicide, teenage sex, as well as alcohol and drug use.

Greg Owen is the head boy at Lawson College, a distinguished school in the Drakensberg. A new learner of whom is not much known, Eckardt Wilken, is accepted at the school – somewhat unheard of for this school with a strict policy of admission. Over time, a close friendship develops between Greg and Eckardt. Systematically, Eckardt pulls Greg into the dark underworld of hacking. When Eckardt unexpectedly disappears without a trace, Greg has to help the police and the school to search for him. Greg realises that neither the school nor the police should know that he and Eckardt are hackers.

Greg follows clues and realises that Eckardt has become involved in activities that he should rather have left alone. Greg makes the shocking discovery that the principal of Lawson College is involved in illegal activities. Just when Greg seems to have all the answers, Eckardt suddenly reappears. Greg makes the startling discovery that Eckardt has planned everything in detail, including finding out everything about the Owen family. Greg is disillusioned when he realises that his father, too, is involved in the evil underworld of the school principal. Unwittingly, Greg has turned his own father over to the police. Eckardt’s motive for the attack on the Owen family is that years before, Greg’s father had destroyed Eckardt’s family in a similar way and Eckardt sought revenge for his own sadness.

Suggestions for the facilitation of controversial matters in youth literature in the classroom include the following: teachers should raise intellectual discussions and debates with the learners on these matters in the controlled classroom environment. The therapeutic value hidden in this type of youth literature is enhanced by discussing the causes and consequences of, and possible solutions to, such matters.

If the perspectives of youth writers and other experts in this field of study are kept in mind, as well as the reception aesthetics of Wolfgang Iser, one realises the extraordinary influence an author’s youth novel may have on the moral consciousness of the adolescent reader. Possibly it remains the responsibility of the youth writer to leave the adolescent reader with a spark of hope after reading a youth novel.

Keywords: controversial matters; Fanie Viljoen; morality; Onderwêreld; youth literature

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen

The post Morality and controversial matters in youth literature: a perspective on <i>Onderwêreld</i> by Fanie Viljoen appeared first on LitNet.

Eulogy to Raymond Danowski – in sacred memory

$
0
0

Raymond Danowski (permission for the publication given by Sandra Olivier-Danowski)

Delivered at the wake at Raymond’s home in Stellenbosch on Friday 9 February 2018. Present: friends and members of his family, including daughter Jane, sons Gus and Henry, and his surviving spouse Sandra Olivier-Danowski, and their families.

Raymond Danowski was born in Manhattan, New York, on 12 September 1943. The books on the shelves were high up, which meant the little boy had to satisfy himself with reading the words on the books’ spines to see what was there. But then, gradually, as he was growing up, he had opportunities to get to love poetry and plays. For instance, his uncle acted in The raven by Poe, and this made Raymond start to love literature, plays and, above all, poetry. For example, the poems of WH Auden became among his favourites. This love for Auden came from the fact that when Raymond was a young person, an uncle was sending him typed copies of Auden’s poetry. The lucky strike came when his aunt secured him a job packing books on shelves at the Burgess-Carpenter Library at Columbia University, where he found peace and solitude in books. Not just the reading appealed to him, but also the holding – the tactile side to it.

Raymond was a universal person with a multitude of interests, living across several continents during the course of his lifetime. His great interest, especially in art and literature – and also music – saw his dreams realised in collections and benefaction for art, literature and music – but especially art and literature. His strong love of art saw him become a very successful art dealer, with an expert knowledge of Renaissance art and prints.

In whatever work Raymond involved himself, there was always his deep social and civic conscience. For instance, while residing in Stellenbosch, the town he loved so much, he once went to a local store and bought up all the food vouchers, distributing them to street persons whom he encountered along the way. It led to the day’s fresh food stock being virtually depleted. He had a spirit of giving that was truly amazing.

However, the world will probably mostly remember Raymond as a book person, one who loved books and wanted to share the reading experience with others. It is as a result of Raymond’s own personal and deep interest in literature and books that I was greatly honoured, fortunate and lucky to know him. I first met Raymond at the opening of the Diocesan College Library wing on 21 August 1992 – today the Danowski Wing of the HA Molteno Library. Present there were his two boys: Gus, a boy at Bishops Prep, and Henry, still too young to be at school. It was an honour to know Raymond for these 25 years. It was truly a blessing to be able to visit Raymond last month, but sad to see him suffering from a life-threatening disease. And now, sadly, I will no longer be able to pick up the phone and run something by him, like, “What do you think about …?” And then, there would be the normal lengthy in-depth, yet perfectly simple, answer to what could have remained an almost unsolvable problem.

What did I learn from Raymond? It was in the gaps that Raymond saw what he saw. For instance, in the mid ’70s, as he was putting together his collection of 20th century English poetry, and as book after book came to the farm in Hertfordshire where he was living at the time, he began shelving the whole collection in a barn, and it was there that he realised what was missing, and he said, “It was all links and gaps ... I realised I had nothing, just a drop in a bucket.” From this initial stage, today the final product amounts to what is now known as the Danowski Poetry Library, a 75 000-volume collection of rare and first editions of modern and contemporary poetry at Emory University. It includes every poetry volume in English published worldwide on the 20th century. In addition, there are 50 000 literary journals and several thousand broadsides, recordings, newspaper articles and manuscripts, among other artefacts. The whole escapade took 30 years from when Danowski started with the collection, until it was finally donated to Emory in 2004. Today, it is a living library with additions and new acquisitions added. See http://danowski.library.emory.edu/. More specifically, visit the Rose Library at Emory, where the collection is: http://rose.library.emory.edu/about/contact.php. The collection is said to be the largest of its kind in the world today.

Closer to home, Raymond will also be remembered for his generosity in endowing so many institutions in South Africa – schools and universities – with books for libraries. He sponsored music recitals and put students – including those from disadvantaged backgrounds – through school and university. And the sending of books to persons that he knew, was a wonderful thing for someone to do. He sent me a collection of the philosophy of history that led to my thesis on Etienne van Heerden’s novels. And more books that led to a DPhil on Leipoldt. For this, I will always be grateful to Raymond. Not just the books, but also discussions on the relevant topics! And a wonderful friendship over the years.

In closing, I thought it would be apt to read a few lines, in this case, from Van Wyk Louw – “Winterbome”, one of Raymond’s favourites – about unconditional and universal love, which speaks to all of us today:

Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu's onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.

Langs baie weë gaan my smart,
blind is my oë en verward,
is alle dinge in my hart.

Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.

I will finish with my own attempt to translate the verse, and with Raymond’s voice right here saying, “Leave it to a person of the mother tongue to translate” – and, of course, he was right; but, I’ll try nevertheless for the purpose of those who might not know Afrikaans:

The thought of you, of you alone,
engrained on my mind
as shadows under trees
left behind
just you, just you.

Along so many paths, my woes
in my heart, blinded
to all things, and confused.

But this one thing – always
one thing and on its own
grounded and deep rooted – its relief
though naked in me, through a winter’s day
this love, this love.

Requiescat in pace, Raymond Danowski. Danowski is survived by six children and his wife, Sandra Olivier-Danowski.

Paul Murray

Stellenbosch

9 February 2018

The post Eulogy to Raymond Danowski – in sacred memory appeared first on LitNet.

Buiteperspektief op tale in die onderwys

$
0
0

Rosemary Salomone (Foto: Youtube)

In die 19 Januarie-uitgawe van die e-nuusbrief van University World News stel Rosemary Salomone van die St Johns Universiteit se Skool vir Regte die argument dat die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof die kern van die saak misgekyk het met die besluit oor Afrikaans by UV. Hierdie bydrae is te lese by http://www.universityworldnews.com/article.php?story=20180117110720340#.WnV0STISq_o.gmail.

Die skrywer is ’n akademikus in die regte wat oor taal- (linguistiese) geregtigheid, identiteit en die onderwys skrywe. Sy skryf tans aan ’n boek oor die globale rol van Engels en hoe dit taalregte raak. Sy skryf uit ’n taalgeregtigheidsperspektief, en sy wys op die feilbaarheid van hofbesluite – hoe argumente vasgevang is in die debatte van die dag en nie altyd toekomsgerig is nie.

Die punt wat Salomone in hierdie artikel beklemtoon, is dat die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof se uitspraak tekort skiet aan visie om die taalregte van al die landsburgers te verreken en nie die implikasies van veeltaligheid in ag neem nie. Sy voer aan dat argumente en besluite van die Konstitusionele Hof die rasverdelings in Suid-Afrika weer eens en opnuut na vore bring, en dis sigbaar in die rasverdeling van die hof se stemming oor die UV-saak.

Dat alles rondom tale in Suid-Afrika steeds “ver-ras” word, is geen verrassing nie.

Hierdie ontleding van Rosemary Salomone word hopelik baie wyd in Suid-Afrika gelees. Dit moedig mens aan om te besef dat hofbesluite wat soms as allesbepalend geneem word, ook reaktief is, met beperkte historiese perspektiewe geneem word, en nog nie die toets van die geskiedenis deurstaan het nie.

Salomone vra die vraag of die Konstitusionele Hof se meerderheidsbesluit minder gaan oor die “krag van Engels as verenigende neutrale taal”, en meer oor die simboliese assosiasie van Afrikaans met die rasgemotiveerde foute van apartheid en mense se behoefte om onregte van die verlede met sprekers self af te reken.

Wat ’n vraag!

Engels is nié ’n neutrale taal nie. Alle sprekers in Suid-Afrika het hulle funksionele asook gevoelsassosiasie met Engels, soos met enige ander taal. Sommiges kies Engels as taal van bevryding, as taal teen Afrikaans, en as taal van sosiale mobiliteit. Matrikulante uit townshipskole doen die Engels met oorgawe; welsprekend; welwetende dat geen geleenthede vir hoër onderwys in huistale regtig bestaan nie, en dat Afrikaans as opsie onbegonne bly. Engels is daarom noodgedwonge die gekose taal. Doen jy Engels voluit, kan jy graad kry en die middelklaslewe proe. Dís die aantrekkingskrag van Engels – die taal van sosiale mobiliteit. Dis ook die medium om met landsgenote op universiteit te kommunikeer en daarin te leer.

Vir Engels om ’n verenigende taal te wees, moet dit deur almal as identiteitstaal aanvaar word, wat tot ’n beperkte mate gebeur. Groter tale soos Zoeloe, Sepedi en Xhosa is eerder die identiteitstale buite die formele-onderwysomgewing, soos elders in Afrika waar Frans en Engels die tale van universiteite is, maar die plaaslike Swahili die kulturele eenheidstaal is.

Salomone vra die goeie vraag hoe Afrikaans gekarakteriseer word – as wit-etnies-Afrikaner-gegrond in raskonflikte van die verlede, of as die taal wat ’n teken is van ’n nie-etniese taalidentiteit, gedistansieer van die rasse-oorheersing van die verlede. Sprekers in die laasgenoemde kategorie het die reg op grondwetlike beskerming, meen sy.

Salomone impliseer voorts dat die ruimte vir Afrikaans as eenheids- en identiteitstaal wel bestaan, hoewel nie nasionaal nie, mits die taal die historiese assosiasies kan oorkom. Kan Afrikaans dit doen? Miskien wel in streekverband en wanneer dit gepaard gaan met toenemende en uitgebreide sosiale, ekonomiese, godsdienstige inklusiwiteit. Dit beteken ’n nuwe sosialisering in gemeenskappe, nie in gehekte gemeenskappe nie, want daar is Engels reeds die identiteitstaal van die hoë middelklas.

Die UV-taalrigting baan die weg vir die US, en selfs skole. Dit bring mee dat Afrikaans al minder sterk staan as wetenskapstaal. Die huidige generasie van Afrikaanse
akademici/navorsers wat nog in Afrikaans werk, is seker 80% minder. Hierdie akademici doen hulle kenniswerk in Engels en het al 10 jaar gelede hulle laaste klasse in Afrikaans gegee. Maar die generasie gaan voort in Engels, en het afgesien van die voorreg om Afrikaans steeds as wetenskapstaal te help bou. Een goeie voorbeeld is die situasie by UJ se ingenieursfakulteit, waar die gradeplegtigheidboekie einde verlede jaar toon dat 98% nie-Afrikaanse studente begelei is deur studieleiers wat almal Afrikaanse vanne het.

Laastens lei mens uit Salomone se skrywe af dat die Konstitusionele Hof se besluit ’n boodskap kommunikeer, naamlik: Afrikaans-belanghebbendes kan hulle stem laat hoor, maar die praktiese oorweging van die universiteit word deur die Hof hoër geag, en dit lei tot minagting en wraakgedagtes wat rassespanning verhoog.

Mens kan jou vereenselwig met Salomone se hoopvolle noot dat daar meer openbare debat sal kom oor hoe om strydende belange wat verby rasgrense gaan, te versoen, en oor hoe alle belanghebbendes, nie net universiteite nie, nuwe maniere kan vind van gemeenskapsbou wat rasintegrasie bevorder. Dit, meen sy, is getrou aan die ware veeltalige aard van die land waar die regte van alle studente beskerm moet word om in die taal van hulle keuse te leer.

The post Buiteperspektief op tale in die onderwys appeared first on LitNet.

Die heroes van Dag Zero

$
0
0

Dis ampe die dag wat ôs mekaa gan rêrig te lyf kô net vi ’n bietjie drinkwater. Tewyl Angus Buchan at leastie virrie homosexuals skuld gie nie, ôs kry vi genoeg skuld. Die issue wat ek het met Profit Buchan, of profeet Buchan, issie feit dattie man se storie change elke anner maand. Laas jaa toe sê hy, “Niee, die water gannie opdroeg innie Kaapie.” Hy was reg, die water gannie opdroegie, but dit gan opdroeg virrie mense wattie die luxury het om water te koepie. Ek hou van hoe ’n News24-artikel dit stel, ‘Wanne die dag Zero uiteindelik kô, dan sal daa 75% van vannie City se huise se water afgesit wôd. Nou as djy nie jouself ophang annie feit dat die water gan afgesit wôtie, dan moet djy siekelik wonne, but nou wie issie anner 25% huise wat nog somme lekke hulle water gan kry. Die artikel sê dan oek vêder dat ôs hoefie te warrie oorie “informal settlements” wat sal sonner water sittie, wan hulle moet anyways kla hulle water gan haal by “communal taps”. Soe ôs raak nou mal en veloo ôs koppe in Woolworths, Pick n Pay en Checkers-hulle oor ’n liewe wat baie mense al vir ’n lang tyd liewe. Ek dink Angus Buchan is miskien reg: daa is iets fout met hoe ôs mense mettie hele menswies deal. Die anner dag toe sê die Departement van Water en Sanitasie van Joburg dattie Joburgers moet hulle water hou vi hulleself ennie dit weg pos Kaap toe nie. Ek vestaan hoekô, but kan djy nou meer. Niee Profit Buchan, ek dinkie bid gan helpie, wan God is lankal moeg en gatvol vi ôse goddeloosheid, en onmenslikheid. Maa ek haal my hoed af, wan djy proebee sieke maa, nie soesie aliewige stryery wat gebeer agte daai toe deure vannie Wit Huis innie stad. Wat is hulle biesag om daa binne te maak? En nou is SONA soema oek op hold gesit! Die mense darem, buttie budget speech gan an. Ja nuh, hulle is mee geworried oorie geld dannie mense wattie geld moet inbring. Classic!

Pet ennie DA wat in mekaa se hare is oo wie se skuld dit rêrig is dat daa nie water issie. Dis nou ’n “goue” plan van soutwater vars maak. En wie moet betaal vi daai gold-plated plan? Ek en djy mos, toggie hulle nie. Ek mien is there anyone out there wat die mense net kan sit maak en hulle lat vestaan dat hulle biesag is om met mense se liewens te wêk. Any volunteers? Grap maa net, ôs wiet mos dit maakie saak wie praatie, hulle gannie luisterie. Of wag, sallit wêk as Geld die praatwêk doen? Money talks, en dit praat mos somme baie lekke in allie tale.

Wan ek vestaan dat as djy mossie geraak wôtie, dan vi wat moet djy warrie? Ôs kô mos nou al van toeka se tyd af soe an. “Dissie my problemie”, vi wat moet ek inmeng, but Pet en Zille, ennie res van Maimane se kamp. Nou wil hy kô sê die plaasboere se watergebruik wassie reg bestuurie. Niee, die hele water wassie reg bestuurie. Ek mien djy wôd mos genoeg betaal ommie te hoef te warrie oo waa jy gan slaap, iet, of bittie, en op soe ’n manier is jou kop mos skoon om te fokus oppie regte proebleme van regte mense.

OK, in all fairness, hy moes dan nou ees sy mind fokus op daai blou-en-wit stoel. Hy moes die swart man raak, wat die wit regering sou stem gee innie land. Dis alles wit en swart, mense, die kullit kô net uit op Twiede, of issit nou Dêre, Niewejaa? Vra maa vi Jaap Vaalie: hy’t besluit dat Kaaps nie stêk genoeg is om mien geskryf te wôtie, wan dit baster “sy” taal, of soe iets. En dissie die eeste keer dat Kaaps moet vetel wôd dat dit te ’n veil taal is om mee te skryfie. Ag please, kry ’n liewe en proebee om anner mense se kulture te vestaan en te respekteer.

Maa voo ek wegstap van Day Zero af, om te gan deal met die uwe Jaap Vaalie, sal ek maa stop, wan wat issie doel? As mense hulle mind opgemaakit dat djy, jou taal, jou velkleur, en jou whateva nie goed genoeg issie, dan bly dit maa soe. Soe, Jaap Vaalie, as djy wee ingeskakel het vir ’n stukkie Kaaps, welkom trug, ek sal proebee om Kaaps vi jou soe maklik as moonlik te maak. Grap net, iet dit soesit is.

OK, nou wat daai uit my system is, kô ôs kyk gou wee trug na die hele waterbiesagheid. Ek kan sieke angan en vi julle vetel oo hoe vekeerd of hoe swak of hoe blah-blah-blah die hele storie is, but wat is actually biesag om te gebee?

Global warming?

Hoekô praat niemand oorie feit dat die hele wêreld biesag is om warmer te wôd ennie drinkbare water biesag is om skaarser te wôtie? OK, ek wiet mos nou daa is baie mense, hoge mense wat praat oo die global warming stukkie, maa die mense oppie grond vat dittie kop toe nie, wan dis noggie “Nuus” ie. Nou wanne gannit dan nuus raak? Die annerdag vetel ek vi my suster se kind van 11 dat een vannie dae gan ôs ’n volle maaltyd kan koep in die vorm van ’n pil. Nou dis mos nou nie my original idee nie. Ek het dit op een of anner conspiracy website of artikel of movie gesien. Dit kind of maak sense as mens kyk hoe dinge net swakker en swakker wôd met tyd. Die polar bears wat in bikini’s in loep wan dis hoe warmer dit wôd in dele vannie Arctic Circle. Is actually nie ’n snaakse dingie, net daai prent van daai arme dier, wat absoluut niks vi niemand gedoen het, hulle proebee maa net liewe. En daai arme coral reef wat nou heeltemal in sy maai is wan ôs kennie van gemôs, olie en menseriool uitie see uit hou nie. Ek mien met al die klompie scientists op diese aardbol, could’ve thought dat ôs kannie sirkel vannie liewe bietere vestaan en hanteer. Of maak boekslim nie ’n veskil as mensie slim is met jou hartie? Ek wietie of daai sin maakie, but ek gloe met alles van my dat daa moet ’n stuk binne-in jou wies wat kan dink annie nagevolge wanne djy by ’n McDonald’s of KFC gan kos koep.

Mass production = Mass consumerism

En wat ly annie einde vannie dag? Die aardbol wat ôs moet huisves vi nog leeftye om te kô. Reg genoeg ek en djy sal miskien nog net die neks 50–70 jaa sien (daai is ’n GROOOT miskien), maa wat van ôs kinners, en hulle kinners, en ôs kinners se kleinkinners. Dit vattie ’n vuurpylkundige ommie getalle en nommes bymekaa te sit en alles te calculatie.

Massaproduksie = Massaverbruik, dissie die anner way ommie soes wat hulle ôs wil lat gloe nie.

Imagine ’n Kaap waa daarie ’n McD’s of ’n KFC, of ’n Burger King, of ienige kosplek bestaan wattie nodig issie. Imagine al daai water wat ôs sal kan spaar. “En wat van allie wêke wat sal moet replace wôd?” wil djy sieke wiet. Well, lat ôs gou daa stop, wan ek moet sê dit maak nou nie saak of die kosplekke gan bly of nie bly nie. Robots is klaa biesag om mense te vevang in retail winkels in, die kosbedryf issie ver agterie. Imagine ’n Westelike Kaap: die vrugte wat gegroei wôd, wôd gegroei nie virrie rykes wat hie kô skwat het, but virrie mense wat uit die grond uit kom. En hie praat ek nou nie van wêkskeppingie, wan dis maa net ’n roekskerm vi dié wat ryk is om vêdere ryk te wôd. Ek praat nou van plekke soes Ceres, Grabouw en soe. Hoeveel mense wat uit die distrikte kô het rêrig ienige sê, of aandele innie fabrieke wat meeste vannie land ennie resources van waa hulle bly, opgebruik? En ek praatie vannie aandele wat ook voogeskryf wôd an wêkers as net nog ’n roekskermie. 

Dan moet ôs nogal dankbaar wies dat hulle vi ôs water gegie het.

Hoekô is daa mense wat water kan privatiseer, maarie res van ôs moet maa net soe sit en hanna-hanna? Ek mien SAB, rêrig? Julle sien, hie is ek saam mettie EFF, wan soe kannit daremie angannie. Wie hettie SAB die reg gegie op daai land? Wie? Neh-man! Dis my mense se land daai, en ek moet op straat sit, en ek hettie claim op lantie, wan waa issie proof? Die proof is daa in ôs geskiedenis wat hulle uitgebrand het oppie “Hotnot” se Berge. 

Ek kannie help dat ek kwaad issie, wan hoe kan mens heppie wies in ’n wêreld wat soe onregverdig is. Ek mien dink daa-oo: 200 water-collection points. 200! Virrie hele Kaap, of die 75%, uitsluitend die informal settlements, wat klaa hulle water koelek by hulle gemeenskapkrane. Ridiculous, ek sê jou. En nou wil SAB baas speel oo daai fontein. Die baas-baasskap moet nou ’n slag sy plek gan invat innie veliede.

As dié nie deel is vannie gawwement ennie powers that be wat biesag is om ôs veder in kettangs te sittie, dan moet mens maa gloe wattie United Nations voospellit.

In 2006 het ’n departement vannie United Nations ’n verslag uitgebring waa hulle praat oorie waterskaarste wat ôs somme gan lekke tref soes die aardbol ouer raak, en dissie nog iets wat innie verre toekoms gan gebeurie. Die kaart wat hulle wys as deel van die verslag wys ’n baie droewige prentjie regoo Afrika – dis soes niemand anners die brand gan voelie, maa ôs as Africans. Wil djy my dan nou sê dat ôs leiers hettie gewiet van die krisis wat ôs na toe op pad issie, of wat ôs amper in issie? Dis sieke soe dat SAB ’n groot antal mense wêk gie, but SAB het ’n groter antal mense wat veslaaf is an hulle produkte. Wat anners kan ôs in plek in hê dan ’n plek waa drank vervaardig wôd, waa die begin van baie mense en families se einde van af kom. Reg genoeg, ôs is mos sieke ammal groot en kan grootmensbesluite maak volgens of ôs gan drink of syp, but ...

Massaproduksie = Massaverbruik, dissie die anner way ommie, soes wat hulle ôs wil lat gloe nie.

Water is liewe, sonner dit gan ôsie kan bestaanie. Die diere wat ôs nodig het ommie ecosystem annie gang te hou, ôs moet an hulle oek dink. I guess dit maakie rêrig saakie, wan as ôsie kan of wil stoppie, dan issie water besparing, dit wat ek en djy daily doen om vi Dag Zero te vermy, niks wêrtie. Wan as djy net kan stil sit en dink hoe alles saam wêk, die grotere prent, dan sal mens sieker ’n bietere vestandhouding mettie res vannie natuur het.

Dis maa my gedagtes. Ek wiet helfte klink soes ek skel, en wie’t dan nou nog lus vi dit. Maa as djy die funny innit sien, miskien sal djy oek kan vestaan waa my skel vandaan kô.

It’s time we need to start asking the real serious questions. Vat ôs “leiers” ôs vir ’n gat? Vat die groot companies wat ôs tyd en geld in invest ôs vir ’n gat? Vat die groot companies wat ôs plek gie in ôs huise ôs vir ’n gat? Vat ôs ôsself vir ’n gat om te iet wat hulle vi ôs voer om te iet? Vat ôs ôsself vir ’n gat deur te gloe in alles wat hulle an ôs vekoep?

Dis 2018, ek is nog steeds Livy vannie Rive, maa ek issie mee daai kind vannie straate vannie Lectric City nie. Ek is hie om te vetel wat ek sien in die sieke wêreld, miskien op soe ’n way kan ek jou inspireer, en deur vi jou te skryf inspireer ek myself vêder. Comment wat djy wil, dis jou stem en opinie, maa onthou dis op jou eie risiko.

Bly te kenne en dankie virrie onnersteuning.

The post Die heroes van Dag Zero appeared first on LitNet.


Slegte smaak

$
0
0

Seker een van die slegste goed  waaraan mens kan proe is ’n sigorei-wortel. ’n Bitter, walglike smaak. 

Maar vir my was die slegste egter toe ek eendag ’n stukkie van die duiwel se stert afgebyt het. Dit het só gekom: Een oggend baie vroeg lê ek nog in die bed. Skielik word ek bewus van ’n donker gedaante voor die bed. Korterig en effens krom, soos ’n bobbejaan wat op sy agterpote staan. Voor  ek nog behoorlik kan skrik, spring die ding op my en begin my te wurg! Dis die duiwel! Hy het horings en ’n stert!

Ek gryp sy arms vas en met al my krag stoei ek en kry dit met geluk reg om sy hande van my keel af te kry, maar hy is geweldig sterk en ek moet alles uithaal om te keer dat hy my weer wurg. Die slinkse satan maak nou ’n ander plan. Hy swaai sy stert om sy lyf na vore en probeer die punt in my oog druk.

Al wat ek kan doen is om na sy stert te hap, en die derde keer kry ek dit reg ... ek hap sy stert raak en ’n stukke beland in my mond. Dis die alleraakligste smaak. Groen Amara, bitter aalwyn, vrot olywe en suur asyn beskryf dit nie voldoende nie. Boonop is dit harig, met dik, stekelrige hare. Ek spoeg en spoeg en sukkel om dit uit my mond te kry en uiteindelik kry ek dit darem reg. 

Intussen het die duiwel met ’n geweldige gil van pyn orent gevlieg. Dit is ’n skril, senu-snydende gil wat opklink asof uit die swarte hole van die hel waar siele gemartel word. Dan vlieg hy by die venster uit en verdwyn al gillende oor die dakke van die huise. 

Ligte gaan aan in die buurhuise, deure word oopgemaak en mense vra luidkeels: “Wat gaan nou weer aan daar?” Een oom staan in sy voordeur met ’n haelgeweer gereed. Party dreig om die polisie te bel, soos hulle al voorheen gedoen het oor my singery in die bad.

Na ’n ruk bedaar almal  en meeste gaan lê weer. Maar ek gaan sit in die voorhuis en slaan my Bybel oop, lees soveel moontlik verse hardop om die duiwel heeltemal te verdryf. Van daardie dag af hou ek altyd my Bybel byderhand.

The post Slegte smaak appeared first on LitNet.

Katelknaap: ’n onderhoud met Leon van Nierop

$
0
0

Foto van Leon van Nierop: © Joanne Olivier

Katelknaap
Leon van Nierop
ISBN: 9781485903550
Penguin Randomhouse South Africa

Christiaan J de Swardt gesels met Leon van Nierop oor sy roman Katelknaap.

Die veelsydige skrywer, rolprentresensent en vermaakpersoonlikheid Leon van Nierop se jongste roman – sy stomendste nóg – Katelknaap, wat ook in Engels as Toy Boy vertaal is, het pas by Penguin verskyn.

Dit vertel die verhaal van Tristan Hansen, amper 27, aantreklik en ’n engel van plesier: ’n gigolo vir  wie Johannesburg se rykste vroue duisende rand betaal. Oor die liefdespel kan niemand hom iets vertel nie.

In sy weelderige dakwoonstel in Maboneng reik sy herinneringe terug na die vroue wat hom as jong man gevorm en van genot geleer het. Dit was veral saam met een vrou, Christina, ver weg in Positano, ’n dorp in Italië, dat hy hom kon loswikkel van die beklemming van sy ma wat hom ná sy pa se dood alleen grootgemaak het.

Maar Tristan word deur foonoproepe vol dreigende stiltes geteister en iemand hom hou dop. Terwyl sy verlede soos ’n Johannesburgse storm oor die horison aanrol, verlang hy terug na gelukkiger dae …

Is lesers gereed daarvoor?

Ek merk die afgelope tyd by kunstefeeste op dat gehore baie meer volwasse is en nie meer so dikwels soos in die verlede vir taalkruheid, naaktheid en seks op die verhoog lag en/of daaroor geskok is nie. Is dit ook ʼn leserstendens?

Ek dink ons het geleer om gemaklik met seks (en ander veelbesproke onderwerpe) te raak. Dit het veral gekom met die wegval van die oormatige sensuur wat ons gehad het – ook verspotte en preutse sensuur. Seks en ander warm onderwerpe moet egter deel van die storie wees en nie net in graffiti agter op ’n toiletdeur opgesom kan word nie. Seks met subteks! Nou ja. Ons het, in die Suid-Afrika van 2018 met al sy uitdagings en probleme, waaragtig nou meer dinge om bekommerd oor te wees as twee mense wat seks het. Ek merk in die reaksie op my resensies (en ek kry baie) dat mense net kla oor laster, hoegenaamd nie meer oor sekstonele nie. Interessant. Ek dink ook mense kan gou sien as seks op die verhoog bloot vir effek gebruik word, byvoorbeeld om ’n bekende se agterstewe te sien, teenoor die seks of naaktheid wat inherent deel van die storie is. Soos ons al hoe meer rolprentgeletterd raak, raak ons nou ook meer teatergeletterd en begin meer krities kyk na hoekom sekere veelbesproke tonele of naaktheid of taal gebruik word. Dink byvoorbeeld aan die eksplisiete seks in die plaaslike rolprent The wound (Inxeba) wat in goeie smaak aangebied is en dalk emosioneel kan skok, maar nie oor die daad self nie. Ons kan skynbaar steeds nie eksplisiete seks in ons plaaslike rolprente gebruik nie. Ek weet regtig nie hoekom nie.

Die voorloper, Plesierengel, is in 1997 uitgereik en in 2013 hersien. Dit het gegons. Tyd het verloop en dinge het verander. Hoe verskil Katelknaap van Plesierengel? Wat kon jy in 2018 doen wat jy nie destyds kon doen nie?

Nie veel nie. Ek het geweldige respek vir my leser. Elke keer wanneer ek van die tonele na my vriendinne gestuur het, het hulle geantwoord dat daar deesdae (en hulle het name genoem) baie meer eksplisiete luskry-sekstonele is en dat hulle Katelknaap s’n nie so ervaar nie. Dit vorm deel van die storie. In 1997 was daar skaars woorde vir sekere seksdade of liggaamsdele; ek moes selfs enkeles skep! In 2013 was dit bietjie meer direk (teenoor eksplisiet), en in 2018 het die aard van die sekstonele verander. Dus is daar ’n groter vryheid in wát die karakters met mekaar doen en hoe ek dit beskryf as tevore. Ek weet mense raak nie meer so erg geskok nie. Dit beteken nie ek het alles by die naam genoem soos ’n skoolseun wat vir die eerste keer ’n erotiese bekentenis maak nie, maar (hoop ek) ’n verantwoordelike uitbeelding daarvan gedoen. Ek moet ook my uitgewer, Fourie Botha, en my redigeerder, Elzebet Stubbe, loof in hierdie verband. Ek het spesifiek baie direkte en pertinente vrae aan hulle oor die sekstonele gevra en is gelei deur hulle baie vleiende kommentaar daaroor.

Wat is jou benadering tot seks in romans: blote prikkeling of kuns?

Plesierengel en Katelknaap is op die werklikheid gegrond en ek het destyds lank met die mense (ook vroue) gepraat wat deel daarvan was. Die vroue se ervarings (wat hulle oor die foon met my gedeel het) en hoe hulle Tristan ervaar het en wat hy hulle gebied het, was van kardinale belang. Ek het met die kliënte gepraat wat bereid was om (oor die foon) te praat en ek het sterk gesteun op vriendinne se kommentaar en my uitgewers/keurders se reaksie. En dan natuurlik Tristan se verduidelikings. Interessant, hy het dikwels van buite na homself gekyk asof na ’n ander mens, en dit is daardie ervarings en beskrywings wat ek probeer weergee het.

Seks moet funksioneel wees en dit moet deel van die storie wees – nie net ’n uitlaatklep of iets wat op ’n romantiese toneel volg nie. Wat aanleiding gee tot die seks en hoe dit ervaar word, is vir my baie belangriker as die fisieke daad. Seks kan kuns wees, want vir Tristan is dit ’n kuns wat hy vervolmaak het omdat hy respek het vir elke vrou by wie hy is, en hy behandel elkeen anders en soos sy graag behandel wil word. Hy doen ook intense navorsing oor sy kliënte waar hy kan voordat hy na hulle toe gaan. Onthou ook: baie kliënte soek nie noodwendig seks nie, maar geselskap of ’n maat om die aand saam mee uit te gaan. Ek sou sê 40 persent van Tristan se kliënte wil nie seks hê nie, anders stereotipeer ’n mens hulle.

Wat is die doel met dié roman en hoe verantwoordelik gaan jy met die gegewe om?

Een van my doelstellings met die boek is om persepsies en wanopvattings te weerlê oor mense wat hul lyf en dalk ook siel vir geld verkoop. Veral in Tristan se geval is daar ’n baie goeie rede. Maar dit is wat dit aan sy “siel” doen, by gebrek aan ’n beter beskrywing, en wat dit aan die vroue se “siele” doen, wat my geïnteresseer het.

Ek probeer om elke kliënt se storie op ’n verantwoordelike wyse te vertel en die karakter nie net te laat stuiptrek van plesier nie. Dit is wat die twee mense albei saam uit die daad kry wat belangrik is en ek probeer ook sosiale kommentaar lewer oor hoekom die vroue Tristan bespreek. Maar die rede hoekom hy dit doen, is baie belangrik.

Is daar ʼn verskil tussen jou roman en byvoorbeeld boekklubs se hygromans?

Dit is nie net iets wat geskryf is om te tituleer of mense lus te maak of fantasieë uit te leef nie, maar is, hoop ek, realisties en verantwoordelik. Dit verduidelik wat aanleiding gee tot die daad en watter effek dit op die mense het. Ook hoekom sekere mense bereid is om daarvoor te betaal of wat net kan funksioneer wanneer hulle betaal, of wanneer hulle betaal word. Elke sekstoneel is met die uitgewer bespreek asook met die redigeerders, sodat dit nooit bloot vir effek daar is nie. Die aard van romanse wat uitloop op seks of seks en romanse wat veronderstel is om dieselfde ding te wees, word ondersoek. Dit gaan ook oor vroue wat emosioneel verwaarloos is of wat nie van ’n man afhanklik wil wees daarvoor nie, maar wel ’n behoefte het – dus byvoorbeeld dat dit nie gedwonge is soos ’n vrou in ’n liefdelose huwelik wat seks het maar net om die huwelik te regverdig of te laat voortbestaan nie.

Hoe eksplisiet teenoor implisiet is Katelknaap?

Daar is enkele eksplisiete sekstonele in Katelknaap, veral een waarin ek probeer verduidelik wat elke vrou (in hierdie geval ’n avontuurlustige sportvrou wat nêrens kan kry wat sy soek nie, behalwe by Tristan) uit die seks kry en hoekom sy juis op daardie manier seks het: dit is ’n manifestasie van wie sy is. In Katelknaap is dit baie meer implisiet as eksplisiet. Die innerlike landskap was vir my baie belangriker as die uiterlike. En dan is daar sekstonele waarmee ek doodgewoon en hopelik nie té selfbewus met uitroeptekens omgegaan het nie (!) – soos die tonele waar Tristan sy groot liefde vind en hoe terloops en waarderend seks daar voorkom. Ek het dit ook so terloops en doodgewoon en onselfbewus probeer beskryf, teenoor die besigheidsaspek later, gemeng met romanse, by sy kliënte. Weer eens is die réde hoekom hy geld vra, hiperbelangrik, en vir mense wat nie Plesierengel gelees het nie, kan ek dit nie verklap nie.

En dan is daar die vrou Christina. Wie het haar begeester?

Christina is geïnspireer deur die mooiste vrou wat ek in my lewe in Positano gesien het en wat T-hemde verkoop het wat sy self gemaak het en in die straat opgehang het. Ek het onbeskaamd op haar verlief geraak en besluit dat dit Christina is. Voeg daarby die prentjiesmooi agtergrond en jy het die perfekte plek (setting) waar romanse kan afspeel. Ek gaan in Meimaand weer Positano toe en weer na daardie T-hempwinkel toe, soos ’n stalker (dit is in ’n piazza, terloops), net om seker te maak of sy nog bestaan. Die vrou het my doodeenvoudig begeester en het die karakter laat ontstaan. Ek het nog een van haar T-hemde in my besit en dra dit dikwels. Dit het die naam Positano daarop.

Randfigure word dikwels as stereotipes en selfs karikature uitgebeeld. Hoe vergelyk jou uitbeelding van jou held Tristan Hansen?

Ek het probeer om hom as volkome mens en man uit te beeld met swakhede, versugtings en demone waarmee hy spook. Baie van die vroue het hom gehelp om van daardie demone ontslae te raak. Katelknaap gaan ook oor die verlies aan onskuld, en ek het baie moeite gedoen met die toneel waar Tristan vir die eerste keer betaal word en eintlik “opgelei” word. Daardie toneel het my baie, baie lank geneem om, hoop ek, op ’n verantwoordelike manier te skryf. Ek het ook probeer om die stigma van seks-teen-betaling te verwyder.

Hoe verskil jou benadering tot seks in byvoorbeeld ʼn radioverhaal, TV- en rolprentteks van jou benadering in die roman?

Elke genre het sy eie dissiplines. Ek het pas ’n rolprentdraaiboek voltooi waarin daar nogal ’n eksplisiete sekstoneel is, wat ’n mens heeltemal anders beskryf as in ’n roman. Ek laat die uitvoering daarvan aan die regisseur oor, en gee net leidrade sonder om voorskrywerig te wees. Ek sal nie skryf: “Sy sit haar arm om my gespierde bolyf en sidder van ekstatiese genot nie.” Ek sal net skryf: “Hulle maak liefde.” (Nie “Hulle het seks” nie. Dit is te tegnies.)

Op radio is seks uiteraard moeilik, omdat kinders enige tyd kan luister, dus het ek dit nog nooit op radio gedoen nie, behalwe om mense te laat soen. En ook wil mens op radio tog seker nie net na ’n gesteun en gekreun luister nie.

’n Roman gee jou absolute vryheid om in die karakters se koppe in te kom en dit was vir my van kardinale belang – nie die gesteun of gespierde sespak nie, maar die genot sonder ’n skuldgevoel.

Liefde is egter deurgaans in al dié genres belangrik.

The post <em>Katelknaap</em>: ’n onderhoud met Leon van Nierop appeared first on LitNet.

Waar rats die ribbok gaan ...: rondom briewe van Elsabe Steenberg

$
0
0

Foto van Elsabe Steenberg en Pieter Pieterse verskaf deur Marietjie Coetzee; foto van Elsabe Steenberg: Tafelberg

In ’n skoenboks in ’n kas is briewe ontdek wat die bekroonde skryfster Elsabe Steenberg oor baie jare voor haar vroeë dood aan haar vriendin geskryf het. Dit is kosbare stof wat gedeel moet word. Sarel Venter, ’n afgetrede joernalis van Volksblad, het dit saamgestel in ’n manuskrip en die boek verskyn binnekort by Naledi danksy befondsing deur die SA Akademie.

Oor hierdie boek, Waar rats die ribbok gaan ... – Briewe van Elsabe Steenberg, skryf Marietjie Coetzee, ouduitgewer: HAUM-Literêr en NB Uitgewers, die volgende:

In die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde, en spesifiek die kinder- en jeugliteratuur, blink daar ’n naam wat baie lesers met nostalgie vervul: Elsabe Steenberg, die een wat baie van hulle leer lees het, liéf gemaak het vir lees. Die een wat hulle met ’n vaardige hand en hart bedag gemaak het op die herskepping van woorde tot nuwe werklikhede waarmee hulle kon identifiseer. Dié een, die terapeut, wat woorde kon snoer en skik tot stories wat verhelder, vermaak, vertroos, verwoord.

Elsabe Steenberg was nie net ’n bekroonde kinder- en jeugverhaalskrywer en ontvanger van ’n erepenning vir hierdie bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nie, sy was ook die vernuftige betoweraar, en is dit steeds, van volwasse lesers wat haar die kuns van kinder- en jeugverhaal skryf sou wou nadoen – hulle wat haar werk in die praktyk steeds as voorbeeld van geslaagde kinder- en jeugliteratuur gebruik. Hulle wat in die aanbied van die teorie van die skryf en beoordeling van die kinder- en jeugverhaalgenre voortbou op tendense wat Elsabe Steenberg nagelaat het: die skep, van kleins af, van ’n leeskultuur; die taboe om vir kinders lessies te leer of uit die hoogte met hulle te praat; die noodsaak van sprokies en fantasie vir kinders. Laasgenoemde siening was in sekere gevalle teen die stroom op. Hieroor het Steenberg ’n handleiding nagelaat: Fantasie en die kinderboek (HAUM-Literêr, 1989).

In Elsabe Steenberg se nagelate briewe aan haar vriendin Elizabeth Venter (saamgestel deur haar man, Sarel Venter) verskyn ’n heroïese mens in die teleskoop: ’n skryfster, ’n akademikus en passievolle dosent, ’n waarderende eggenoot, ’n moeder wat haar kinders bemin, ’n liefhebbende vriendin; en dan, ’n vegter: een wat haar tot die dood toe verset teen die slopende en verlammende siekte veelvuldige sklerose, wat uiteindelik ná dekades haar lewe beëindig het. En altyd, altyd, het sy die humor, die hoop, en die liefde vir die lewe behou.

In Waar rats die ribbok gaan … leer die leser Elsabe vir die eerste keer in haar volle menswees ken; al die fasette wat haar Elsabe Steenberg gemaak het. ’n Mens sou verwag dat die briewe neerdrukkend sou wees, maar die teenoorgestelde is waar – die inhoud versterk en verwonder: dat ’n via dolorosa só gelóóp kan word!

Die publikasie van Waar rats die ribbok gaan … is ’n saluut vir haar, die onoorwinlike: as sy ’n keuse gehad het, sou sy bly leef het. Die samesteller se inleidende aanhaling som daarom met skerp insig haar doodsveragtende lewensbenadering op – ook tot haar siekte, die “gog”, soos sy dit genoem het: “Met genoegsame genade sal ek jou nie toelaat om die kern van dit wat ek is, aan te tas nie. Eerder sal jy my sterker maak, ’n verbete vegter, ’n dankbare mens. Maar onderkry? O nee, onderkry sal jy my nie!”

  • Waar rats die ribbok gaan ... verskyn binnekort by Naledi.

The post <em>Waar rats die ribbok gaan ...</em>: rondom briewe van Elsabe Steenberg appeared first on LitNet.

By die herlees van Offerland: FA Venter

$
0
0

By die herlees van Offerland: FA Venter
Protea Boekhuis, 2de Uitgawe, 1ste druk, 2017

Joan Hambidge het iewers vroeër geskryf dat ’n resensent sy posisie, motiewe en standpunte moet verklaar.

Hierdie resensie kon nooit iets anders as uiters persoonlik en subjektief wees nie.

Dit het introspeksie geverg ten opsigte van my eerste lees van hierdie roman as voorgeskrewe boek in matriek (1969); die bewondering wat ek in 1964 in st 5 (graad 7) gehad het vir Geknelde land (1960), en ook die latere lees van die res van die tetralogie: Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). Die lees daarvan is ook beïnvloed deur en voortkomende uit my lewenslange inherente belangstelling in die geskiedenis. Juis omdat ek Offerland egter as ’n voorgeskrewe boek moes “bestudeer”, het ek daarna besluit dat dit nie weer op my boekrak sou staan nie – die res wel!

Die vraag het ook by my opgekom: Hoekom juis nou ’n herdruk van ’n historiese roman wat ’n baie tradisionele Afrikanergeskiedenis uitbeeld met al die raspejoratiewe en ideologieë wat daarmee saamgaan? En ’n tweede vraag was hoe ek my eie (steeds) veranderende sieninge (ideologies, polities, persoonlik en letterkundig) sou ervaar en raaklees in die herlees van hierdie roman (byna 50 jaar later en hopelik wyser as die 17-jarige in matriek).

Ek gaan nie noodwendig die kritiek van TT Cloete in sy studie oor die vier romans as romansiklus of in die literatuurgeskiedenisse daarna herhaal nie. Ek kan wel saamstem met die algemene strekking daarvan dat dit ’n redelik noukeurige uitbeelding is van die geskiedenis en bekende historiese figure van die sogenaamde Groot Trek, met Offerland as die tweede deel daarvan. Dié roman beskryf in breë trekke die trek oor die Gariep aan die begin van 1837, die stilstand en samekoms by Blesberg met die terugflitse na Vegkop, oorstaan by Vetrivier en Doornkop, onenigheid onder die leierskap en hul volgelinge oor die kerkkwessie, trekrigting en persoonlike botsings, die besoeke aan Dingaan en strafekspedisie teen die Matabeles by Mosega tot die Bloukransmoorde onder die Drakensberge gedurende Februarie 1838.

Soos met Geknelde land word die sogenaamde “groot geskiedenis” egter uitgebeeld deur die lotgevalle en fokalisering van die “klein geskiedenis” van Rudolf Dreyer en sy gesin. Deur hulle gesin en familie word die onrustigheid, verdeeldheid, bitterheid en selfs skeuring, maar ook ideale en drome van die gewone mens gedurende hierdie tydperk in die geskiedenis beskryf. Dit is seker een van die gesinne in ons letterkunde wat ek die langste en beste ken. Venter het beslis daarin geslaag om hulle deel van my verbeelding te maak, en met die herlees van Offerland het ek besef hoe verbonde ek nog altyd aan hulle is. Al het my mening oor hulle optrede verander en sien ek die foute in die karakters soveel beter raak as 50 jaar gelede, kan ek Meester se objektiewe siening van hulle beter verstaan, was my hartseer oor wat hierdie mense moes verduur in die soeke na vryheid en grond nog net so intens. Miskien meer, omdat my persoonlike ervarings my soveel meer empatie kan gee oor die verlies van familielede, kinders, sekuriteit en sekerheid oor hul toekoms.

Venter gebruik egter ook ander karakters se fokalisering om motiewe agter die besluite te ondersoek en spreek ook deur mindere karakters skerp kritiek uit teen verouderde ideologieë, rasseverdeeldheid, die idee van rassuiwerheid, kolonialisme, swak en verdeelde leierskap, koppigheid en die onvermoë om ag te slaan op waarskuwings oor die gevolge van sekere besluite. Daar is al literêr kritiek uitgespreek oor hierdie fragmentasie van fokalisering, en die hoofstukke oor Dingaan was vir my steeds onoortuigend, maar die herlees van die sienings van Sybrand, Adam Kok, sir Benjamin D’Urban, die trekleiers en Meester was vir my duideliker en meer relevant. Adam Kok sê byvoorbeeld aan Rudolf op bl 68: “Luister vandag na Adam Kok – eer baie jare om is, sal julle leer dat julle nie bo-op ons kan staan nie. Julle sal neffens ons moet staan”; en sir Benjamin D’Urban oor die Trekkers uit die kolonie: “We shall never get them back and through them we shall lose this Colony and more. You and I will not live to see it, but it will come.”

Hierdie kritiek het, saam met die uitbeelding van die hoofkarakters, universele temas na vore laat kom, soos die brandende begeerte na vryheid en grond by alle volkere, die offers wat mense moet bring en die lyding vir die individu wat hierdie groot motiewe vir besluite in die geskiedenis tot gevolg het, die mens se gedurige versugting na die beweeg oor grense wat altyd afskeid, skeiding en nuwe uitdagings tot gevolg het.

Aan die ander kant beklemtoon Venter steeds eg nasionalisties die tradisionele siening van die Afrikaner se gebondenheid aan geloof as ’n bindende faktor en die enigste hoop in ’n proses wat soveel offers vra. Daar is ook deurlopend die identifikasie met die Ou-Testamentiese geskiedenis met verwysing na leiers soos Moses, Josua, Aäron, Gideon en Jesaja. Binne hierdie denkraamwerk word die motief van God se Voorsienigheid en sy bestiering van alle gebeure ook ’n sterk faktor in die volharding met besluite en die aanvaarding van ’n persoonlike lot.

Een van die opvallende aspekte by die herlees was die ervaring van dramatiese ironie – soos by alle historiese romans waar die leser reeds die geskiedenis ken, maar die karakters nie. Dit bly een van die tegnieke wat Venter deurlopend gebruik. Op hierdie wyse word ook spanning by die leser geskep, omdat hy/sy nie weet wanneer die karakter ook uiteindelik die realiteit sal besef of daarmee sal kennis maak nie. In baie gevalle te laat, maar dit weet die leser nie in verband met die individuele karakters nie – nie altyd nie. In Offerland is daar byvoorbeeld in die algemeen die siening van Retief deur sommiges as ’n Messias en Moses, die oortuiging dat Dingaan reeds grond aan hulle afgestaan het, die verwagting van Natal as Kanaän. Daar is egter ook die individuele oortuigings, soos dié by Rudolf aan die begin van die roman wanneer hy die onderdrukking van die Kaapkolonie agter hom laat: “Die Oosgrens het hom min saamgegee, maar wat hy het, is syne om te behou en mee te woeker” (11). Op bl 360, wanneer hy op Buks se lyk afkom na die Bloukransmoorde, moet ons egter lees: “Op daardie plek in die stilte, in die warm sonlig, in die roerloosheid, stil van skrik, sien Rudolf Dreyer wat hierdie dag hom kos.”

Die titel van die roman dui juis die klem op die offers aan en op bl 164, wanneer Rudolf vir sy vader vra wanneer al die swaarkry dan gaan einde kry (na die besef van sy broer, Sybrand, se teregstelling), antwoord Helgaardt: “Dalk is dit ons offer vir Vryheid. Nog veel meer sal seker gevra word. Grensplaas het sy offers geëis. ’n Nuwe land en Vryheid sal nog meer eis.” Nie een van hulle twee weet wat nog alles voorlê nie, maar Venter laat die leser hierdie reeks offers saam met hulle beleef tot ’n aangrypende hoogtepunt in die laaste hoofstukke en die besef deur Hendriena verwoord: “Elkeen het ’n offer gebring. Daar is Salomon en Gesina en kinders wat ons nie eens ken nie. Daar is oom Pieter Retief, Vader, ons liefste Buks, Naomi – almal wat in die vallei rus. Dit is ons offer. Dit is ’n goeie offer, want dit is ons beste, ons dierbaarste. Dit is ons onskuld” (390).

Die gedetailleerde beskrywing van die daaglikse bestaan in die laer is opvallend deeglik en dit word ondersteun deur die woordeskat uit ’n vergange era wat by die herlees soos ou vriende na vore gekom het: “velkuip”, “skeimes”, “lopers en snaphane”, vuurstene wat “ingeskerp” word, “benieud”, “op-agter-os”, en hierdie “gewes”. Onder die spreekwoorde was daar herontdekkings soos: iets is “vaag en vers”; “lyk soos ’n nuwe peits”; “waar het jy dit al op ’n viool hoor speel”; “jy moet alles sê, nie een semel laat val nie”; “stilsit praat en griewe pruim”; “trou is nie ertjies dop nie”; en “hy’t nie ’n skelling om in sy oog te steek nie”. Hierdie besonderhede maak ook van die beskrywing van die voorbereiding op en die trek oor die Drakensberge een van die hoogtepunte in die roman.

Die karakterisering van Rudolf Dreyer deur die loop van hierdie roman is ook meer oortuigend as in Geknelde land. Die geleidelike verandering van ’n besliste, koersvaste, selfversekerde en kragdadige karakter tot ’n man vol twyfel en onsekerheid oor sieninge en beginsels wat vroeër vas gestaan het, as gevolg van die gebeure, die koersloosheid en verdeling in trekgeledere, asook die afbreek van sy trots en selfstandigheid deur die offers wat ook hy moet bring, vorm ’n deurlopende spanningslyn in hierdie roman.

Die herlees van Offerland het my aanvanklike sinisme weerspreek. Dit was ’n interessante reis deur my eie leeservarings, besinning oor die geskiedenis van al die mense en offers in hierdie “wye en droewe land”, ’n vergelyking met ander meer moderne historiese romans en nadink oor die aard van die geskiedskrywing as verhaal. Die belangrikheid van die “klein geskiedenisse” vir die begrip van wat die groter verloop van die geskiedenis aan mense doen, was meer opvallend en die begrip dat alle historiese romans moet handel oor die aard van die méns.

Alhoewel Offerland steeds ’n tradisionele en kultuurgebonde historiese roman uit die sestigerjare sal bly, is ek aan die einde van die lees daarvan wéér ontroer. Die ervaring van die menslike lyding van enkelinge in hierdie groot land ter wille van vryheid, meegesleur deur die groot historiese ontwikkelinge om hulle, asook die onskuld van die ontwikkeling van die verhouding tussen Buks en Naomi sal my bybly. Dit is ’n bewys dat Venter ook in hierdie roman daarin slaag om lesers soos ek mee te voer met die karakters en hul wedervaringe soos slegs ’n goeie storieverteller kan.

Offerland staan weer op my rak.

The post By die herlees van <em>Offerland</em>: FA Venter appeared first on LitNet.

Genoeg is genoeg

$
0
0

Musiek, beweer dié wat weet, is die klankbaan van ons lewens. Soms sal die eerste note van ’n liedjie ons terugneem na ’n tyd, ’n herinnering wat betekenisvol was op ’n stadium in ons lewens. Soms spreek die lirieke tot ons wanneer ons nie weet wat om te sê, of hoe om dit te sê nie.

Soms gebeur daar dinge wat ’n absolute woordstilte tot gevolg het, en dan help dit om musiek te gebruik. Hierdie naweek het ek so ’n woordstilte ervaar toe ek twee name leer ken het wat ek waarskynlik onder ander omstandighede nooit van sou geweet het nie.

Thabang Mosiako. Abigail Meyer.

Die enigste rede hoekom ek nou van hulle weet, is dat hulle lewens, in twee verskillende voorvalle in twee verskillende dele van die land, met dié van gewetenlose kriminele elemente gebots het, met tragiese gevolge.

Abigail Meyer het gesterwe nadat daar tydens ’n motorkaping op haar geskiet is.

Thabang Mosiako is in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy deur tien mans aangeval was in wat lyk asof dit ’n rasgemotiveerde voorval was.

Vandag is almal hieroor geskok en dit word in mediaberigte in al die afgryslike besonderhede rapporteer. Volgende week is dit ou nuus, want iets nuuts het ons kom skok, iets anders het ons aandag kom trek. Dan is hierdie berig “Yesterday’s paper, telling yesterday’s news.”

Behalwe vir die Meyer-gesin, waar ’n plek aan die tafel leeg is, ’n stem stil kom word het. Behalwe vir die Mosiako-gesin, waar drome van ’n internasionale loopbaan in atletiek tot stilstand gekom het.

Daar is net sóveel wat ons kan skok voor ons aanbeweeg na die volgende skokkende ding. Daar is Zuma, die staatsrede, die EFF, die waterkrisis. Daar is soveel ander dinge wat ons lewens beïnvloed.

Ons het gewoond geraak aan misdaad. Dis ons nuwe normaal, ons alledaagse ervaring. Wat ons nie besef in hierdie nuwe normaal nie, is dat dit meer as besittings is wat gesteel word. Dis meer as lewens wat verlore gaan.

Ons verloor potensiaal. Ons verloor die potensiaal van die individu wat deur misdaad geraak is. Wie weet wat Abigail Meyer kon gedoen het as haar lewe nie so tragies beëindig was nie? Watter lewens kon sy nie beïnvloed het nie, watter hoogtes kon sy nie bereik het nie?

Elke keer as iemand sterf, sterf die potensiaal van ’n nageslag saam met daardie persoon. Elke keer as iemand aan die hand van ’n ander sterf, word die potensiaal van ’n nageslag koelbloedig, wreedaardig, doelbewus ontneem.

Dis onaanvaarbaar. Dit kan nie so voortgaan nie.

Dis nog te vroeg om te weet wat nou met Mosiako se atletiekloopbaan gaan gebeur. Maar wie weet wat dalk volgende maand kon gebeur het wanneer hy aan die Afrika-spele sou deelneem? Of in die toekoms, by ander byeenkomste wat hy nou noodwendig misloop?

Ons word nie net die potensiaal van die individu, of die potensiaal van hul nageslag ontneem nie. Ons verloor ook die potensiaal van ’n land wat tot nuwe hoogtes gelei kan word. Ons verloor die potensiaal van mense wat, oor rassegrense heen, mekaar kan sien sonder agterdog. Ons verloor die potensiaal van ’n ekonomie wat nie gedrewe is deur hoër mure en beter sekuriteitstelsels nie, maar deur langer tafels en gedeelde ervarings.

Ons verloor ons onskuld, keer op keer op keer. Ons verloor ons kapasiteit om empatie te hê. Net die wreedste, mees tragiese voorvalle trek nou nog ons aandag.

Ek het hierdie rubriek begin deur oor musiek te skryf. Bob Dylan se "Blowing in the wind" was een van die heel eerste liedjies wat ek jare gelede op skool op kitaar leer speel het. Hierdie naweek is ek aan die lirieke herinner. Dylan lewer snydende sosiale kommentaar deur ’n aantal vrae te vra en dit dan self te antwoord met die refrein “The answer my friend, is blowing in the wind, the answer is blowing in the wind.”

Daai tien mans wat Mosiako aangerand het, het nie ewe skielik besluit nou slaan hulle ’n swart man bewusteloos nie. Daar was tekens, daar was ander voorvalle, daar was goed gesê en gedoen wat iemand, iewers moes gewaarsku het dat hierdie dag sou kom. Ons het geleer om te maak asof ons nie sien wat aangaan nie. Wilful ignorance. Om hulle as studente te beskryf is belaglik. Dis ’n bende kriminele wat ’n misdaad gepleeg het en agter tralies hoort.

Die mans wat Meyer en haar kollega se voertuig geteiken het, het nie ewe skielik besluit nou gaan hulle ’n kar steel nie. Iewers het iemand aan hulle vuurwapens verkoop. Iewers het iemand gesien hier word ’n kar geparkeer wat nie behoort aan die mense wat die kar ry nie. Maar niks word gesê of gedoen nie. Wilful ignorance. Om historiese armoede die skuld te gee is onaanvaarbaar. Misdaad het ’n winsgewende besigheid geword. Dis ’n bende kriminele wat ’n misdaad gepleeg het en agter tralies hoort.

“How many times can a man turn his head, pretending he just doesn’t see?”

Te veel mense is gedood, vermink, beseer. Te veel mense loop met sielkundige letsels waarvan ons niks weet nie.

Wanneer gaan ons keelvol genoeg word om iets daadwerkliks te doen?

“How many deaths will it take till he knows that too many people have died?”

Ons kan nie wag vir die staat om iets te doen nie. Ons kan nie wag vir die polisie om te besef hulle het ’n plig nie. Ons kan nie wag vir politici om hulle magsspeletjies te laat staan en ons te help nie. Elkeen van ons het ’n keuse. Ons kan aanhou aanvaar dat dit nou maar is hoe dinge in Suid-Afrika is, of ons kan kies om in ons klein hoekie van die land ’n daadwerklike, positiewe verskil te maak.

“There’s only us, there’s only this. No other road, no other way, no day but today.”

Iewers moet ons ’n streep in die sand trek. Iewers moet ons besef die enigste persone wat ons samelewing kan verander, is ons. Ons is dit verskuldig aan die lang lyn slagoffers van misdaad. Meer as dit, ons is dit verskuldig aan onsself.

“If you’ve had your fill, get the check, pay the bill you can do it ... enough is enough is enough.”

Ons kan dit doen deur bitter te raak, of ons kan dit doen deur beter te raak en op te tree op ’n manier wat ander rondom ons help om beter te raak.

Vandag kies ek beter, en ek hoop jy kies dit met my.

  • Behalwe Bob Dylan se "Blowing in the wind", waarna ek direk verwys, het ek ook aanhalings gebruik uit Ralph McTell se "Streets of London", Jonathan Larson se "No day but today" uit die musiekblyspel Rent, en "No more tears (Enough is enough)” gesing deur Donna Summers en Barbra Streisand.

The post Genoeg is genoeg appeared first on LitNet.

Misterie

$
0
0

“Wat? Wat probeer jy sê?” Dave Sherman voel hoe ysige vingers sy hart omklem. “Begin weer, en praat stadiger.”

“Meneer, Albert lê in die swembadhokkies. Ek dink hy’s dood.”

“Kak, man, hoekom sal hy nou daar lê?” vergeet Sherman skoon van sy voorneme om minder te vloek. “En dood! Hoe weet jy; is jy ’n dokter?”

“Daar’s bloed, Meneer, baie bloed,” verdedig die kind, sy oë yslik groot, gesig blink gesweet, asemhaling hortend van die hardloop.

“In elk geval, Albert wie?”

“Albert Jansen, Meneer.”

“O donner!” Sherman voel die vingers klem al stywer om sy ingewande. Albert Jansen is een van die mees prominente leerlinge in die skool: eerstespanheelagter, openingsbouler, heart throb van bykans elke meisie, bogemiddeld stout, bedorwe brok en erfgenaam van die fabelagtige rykdom van die beheerliggaamvoorsitter. O donner, laat die klein storiedraer tog net verkeerd wees, smeek hy by homself. “Wat het jy by die swembadhokkies gaan soek?”

“Dit is pouse en ek wou gou vinnig daar gaan ... e ...”

“Praat, man, magtig! Wat het jy daar gesoek? Wie is jy?”

“Gerook, Meneer. Japie Scholtz, Meneer.”

Sherman is lus en dam die klein bliksem by, maar besef dat hy dan slegs die boodskapper sal bykom. “Kom,” beveel hy, “kom wys my.”

Pouse is nog aan die gang, en dit lyk of die skoolkinders alreeds snuf in die neus gekry het dat iets nie pluis is nie. Daar is ’n samedromming buite die hek van die swembad. Gelukkig het iemand die teenwoordigheid van gees gehad om die nuuskieriges weg te hou van die hek af.

Sherman ruk vererg aan die slot. “Wie het die slot oopgesluit?” vra hy so in die bondel. Niemand antwoord nie; hulle staan asof versteen van skok. “Toemaar, ek sal wel uitvind,” belowe hy dreigend. Die klomp snuiters noem my nie verniet Sherlock Sherman nie, dink hy wrewelrig. Natuurlik omdat die lafhartige hoof alle aangeleenthede wat tot konflik kan lei, na my verwys. En dit sluit outomaties alle dissiplinêre sake in.

Binne die aantrekarea lei Japie hom na een van die aantrekhokkies. Die deur staan half oop en Sherman druk dit heeltemal oop. “O donner,” hyg hy. Skeef oor die sitplek lê Albert Jansen. Dis duidelik dat Japie se diagnose heeltemal in die kol was. Jansen se skoolklere hang onnet oor die klerehaak. Hy is geklee in ’n swart-en-oranje boksertipe onderbroek, niks verder nie. Sy liggaam is van bors tot voete besmeer met bloed. Sherman trap onthuts agteruit toe hy agterkom hy staan in ’n bloedplas.

Met bewende vingers bel hy die sekretaresse en beveel dat sy die polisie moet ontbied onmiddellik nadat sy hom na die skoolhoof deurgeskakel het.

“Meneer De Vries, hier’s groot kak,” val hy met die deur in die huis.

“U taal, meneer Sherman,” berispe die immer korrekte, hoogheilige skoolhoof hom.

“Meneer, Albert Jansen is dood; lyk my hy’s met ’n mes gesteek.”

“O fok.”

“Die polisie is al op pad. Kry my hier by die swembad.”

“Wat van sy ouers, Meneer; moet jy nie vir mnr Jansen in kennis stel nie?

“Posvlak 4-werk,” sê hy leedvermakerig net voor hy dooddruk.

“Toe-toe-toe,” jaag hy die horde kinders weg, wat genadiglik buite die hek bly staan het, klas toe. “Pouse is lankal verby; klas toe. Jy ook, Scholtz. Ek sal jou roep as die polisie met jou wil praat.”

“Meneer, ons het nou swem by meneer Viljoen,” murmureer ’n groepie vasbyters.

“Man, moer weg!” verloor hy sy pose.

Inspekteur Van van Niekerk is binne tien minute op die toneel. Donkerstroom is nie ’n groot dorp nie en moorde in die gegoede buurte is iets ongekends. Vir ’n gewone lokasiemoord sou hy sommer vir konstabel Williams gestuur het, maar hy kry die reuk van hoëprofiel-blootstelling, dalk nog bevordering stad toe as hy hierdie een gou-gou kan oplos.

“Het iemand die slot gehanteer?” vra Van toe hy by die oop hek instap.

“E ... ja, ek kon dalk,” bieg Sherman verleë.

“Kon of het?” blaf die speurder.

“E ... ek het.”

“En sommer ook moontlike vingerafdrukke afgevee. ’n Mens sou skerper denke van ’n hoof of so iets verwag. Is jy dan nie ’n visehoof hier nie?”

“Adjunkhoof,” brom Sherman, dankbaar dat die kinders almal reeds die wyk geneem het.

“En die spore in die hokkie?” verneem Van kamma geselserig toe hy om die hoek loer na waar die liggaam lê. “Ook joune?”

Sherman trap ongemaklik rond. “Ja.”

“Vertel gou vir my, watter deel van die toneel het jy nie besmet nie?”

“Ek dink ek het aan die deur ook gevat.”

“Moenie dínk nie; wéét. Het jy of het jy nie, want as jy sê jy het nie en ons kry jou afdrukke daar, is jy beslis ’n verdagte.”

“Ja, ek het.”

Van sug oordrewe. “Wat het jy hier gesoek toe jy op die liggaam afgekom het?”

“Dit was nie ek nie; dit was ’n skoolkind. Hy het vir my daarvan kom sê.” Sherman besef dat hy hierdie saak hopeloos verkeerd aangepak het. Ongemaklik verskuif hy sy gewig van een voet na die ander, terwyl hy angstig wonder hoe hy ongeskonde uit die penarie kan kom.

“Hoekom vir jou?” verneem Van gemaak-belangstellend. “Al wanneer ek by jou iets sal aanmeld, is as ek iemand soek om die bewyse van ’n misdaad deur die gat te trek. En waar is die kind nou? Moenie vir my sê jy’t hom tussen al die ander losgelaat om sy storie heeltyd te loop en aandik sodat hy na ’n held moet lyk nie. Besef jy dat hy op die oomblik verdagte nommer een is?”

’n Dag later is Van van Niekerk nog niks nader aan ’n deurbraak nie. Nóg Japie Scholtz, nóg Albert Jansen se ouers kon enigiets bydra wat kon lei tot die aankeer van ’n verdagte. Van ’n motief is daar geen sprake nie. Die Jansens het wel al dreigemente geopper oor aanklagte van slap speurwerk, en met hulle konneksies, blykbaar tot op ministeriële vlak, voel sy gat al hoe toeër gestop. Dis mos altyd so met mense wat meer geld as klas het, verwens hy die Jansens.

Dit lyk of Williams ook agter sy rug vir hom lag, nes al die ander lede by die stasie. Skielik lyk dit vir Van of hy hom maar moet versoen met die idee van lewenslank op Donkerstroom bly. Met sy twee kinders albei nog in die laerskool lyk sake vir hulle ook nie te rooskleurig nie. Hy ys vir die dag wanneer hulle by ou Sherlock moet verbykom ná die skrobbering wat hy die man gegee het.

“Van Niekerk,” blaf hy toe sy telefoon lui.

“Môre, Inspekteur, Dave Sherman hier,” kom dit so effens uit die hoogte, asof hy iets weet wat Van nie weet nie. “Ek het so ’n bietjie ingegaan op die moord en ek het vir jou ’n verdagte.”

“Wat!? Hou hom daar, moet nie woord met hom praat nie! Nie ’n woord nie, voor jy weer als opneuk, hoor jy my?” Oorbluf staar Sherman na die dooie gehoorstuk in sy hand.

Binne vyf minute hou die vangwa voor die skool stil en Frank Jooste word ingelaai. Sy ouers wag reeds by die polisiestasie toe hy geboeid daar instap. “Ma, Pa, ek wil nie ’n prokureur hê nie. Ek wil net die waarheid praat.”

Ná die formaliteite sit die drie Joostes by Van in sy kantoor. “Ek gaan vir Kaptein vertel hoekom ek hom doodgemaak het,” begin Frank.

“Inspekteur.”

“O, jammer. Sien, oom, Albert Jansen het ’n baie gemene streep in hom. Hy geniet ... het dit altyd baie geniet om kleiner of swakker kinders af te knou. By eergister se krieketoefening het hy my in die nette aanmekaar bestook met kortballe, en hy boul vinnig. Hy het my ’n hele paar keer getref en toe sê ek vir hom ek gaan hom nog vrekmaak. Die ander spelers het dit gehoor, vra maar vir hulle. Toe hy gister in pouse swembad toe gaan om solank te gaan uittrek vir ons LO-swem, toe volg ek hom en steek hom. Ek dink hy was dadelik dood.”

“Waarmee?”

“Met ’n ou skroewedraaier wat ek lankal opgetel het. Ek het dit gistermiddag gaan weggooi in die dorpsdam.”

Ná ’n volledige verklaring en ’n onderneming van sy ouers dat hulle sal toesien dat Frank nie die hasepad kies nie, word hy toegelaat om in hulle sorg huis toe te gaan.

Van het skaars die verklaring geliasseer toe sy foon weer lui. Weer Sherman, maar hierdie keer klink hy minder hooghartig, eerder ietwat uit die veld geslaan. “Ek weet nie eintlik hoe om die saak te benader nie, maar ...”

“Dit weet ons reeds;” val Van hom in die rede, “wat is dit hierdie keer?”

’n Halfuur later sit Van in die ondervragingskamer, met Shaun Pekeur, sonder sy ma, oorkant hom. “Reg, jy besef dat jou verklaring opgeneem word en in ’n hof teen jou gebruik kan word, nè? Laat ons hoor.”

“Majoor, die ding staan só.”

“Inspekteur.”

“Raait, ek het vanoggend gaan praat saam met mnr Sherlock oor my gewete my so beginne ry het. Ek vir Albert doodgesteek met ’n skroewedraaier oorlat sy pa en ons rugby coach groot pelle is. Die hele seisoen as die span gekies moet word, moet ek tweede span speel. Daai kind se pa dink mos hy kan alles koop because hy’s ryk. Ekke weet ek is ’n beter fullback as hy, maar oorlat hy elke keer gekies raak vir die eerste span, kon ek nie eens proewe speel vir Cravenweek nie. Nou het ek nie ’n beurs om kollege te loop nie; ook nie ’n toekoms nie. Daais wat ek weet, toe maak ek hom dood. Die whitey wat sê dis hy, hy’t gelieg, want ’n skroewedraaier is die weapon of choice van onse coloureds.”

Verstom gaap Van die kind aan. “Waar is die skroewedraaier?”

“Weggegooi in die dorpsdam, Boss.”

Tienuur is dit weer sulke tyd. “Inspekteur, dis nou ’n malhuis hier by die skool. Hier het nog ’n man ingestap wat beweer hy is die moordenaar. Ek weet nie meer watter kant toe nie.”

“Iemand probeer ons vir die gek hou,” sê Van. “Maar hou daai man intussen daar tot ek hom kom laai.”

Die verbystering is op Tommie Roos se ouers se gesigte te lees toe hulle hom in die aanklagkantoor ontmoet. Sy storie klink net so oortuigend en onwaarskynlik soos die ander twee s’n. “Kyk, Sersant, ek wag al ’n paar maande vir die kans om vir Albert alleen te kry.”

“Inspekteur.”

“Sorry, Meneer. Soos ek gesê het, ek wou al vroeër met hom afreken. Gister was die ideale geleentheid. Sien, Albert het by die winterbal my sussie opgechat, en toe sy instem om saam met hom rugbyveld toe te stap – ek meen, watter meisie sal nie – het hy haar net daar verkrag. Meneer, sy is maar vyftien, en nou is haar lewe verwoes. Sy kan ook vir niemand daarvan vertel nie, want hy het gedreig dat hy vir almal sou vertel dat sý daarop aangedring het. Wie sal haar woord bo syne vat, want alle meisies is mos verlief op hom. ’n Mens soos hy verdien nie om te lewe nie. Ek is bly ek het hom met die skroewedraaier doodgemaak.”

“En die skroewedraaier is nou seker in die dorpsdam, nè?”

“Hoe’t Meneer geweet?”

*

Theodore Jansen frons diep terwyl hy op sy selfoon na die nommer van sy kontak soek. Die afgelope paar dae was nie vir hom maklik nie, veral nie met die tragiese dood van sy seun nie. Veral sy vrou het die situasie baie moeilik hanteer. Albert was hul enigste kind, geseën met eienskappe waarvan Theodore sy lewe lank slegs kon droom.

Uiteindelik vind hy die nommer. Ná drie luie antwoord ’n lui stem. “Yes.”

“Waar de hel is jy?”

“Jy wil seker graag weet, nè?”

“Waarom is jy so stil? Ek het gesê jy moet laat weet sodra jy en jou geeks die saak van die miljoene wat uit my beleggingsrekeninge verdwyn, opgelos het.”

My lips are sealed.”

“Maar hoekom? Jy was veronderstel om my te bel as die etter wat my rekeninge so plunder, uitgehaal is.”

“En?”

“En wat?”

“Dis gedoen, partner.”

“Magtig, man, hoekom hou jy my in die duister? En hoekom moet ek my gat af soek na jou?”

Insurance, my ou. Weet net dat die skuldige dood is, en danksy jou welkome retainer is daar boonop drie suckers is wat gebieg het oor sy moord.”

The post Misterie appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Liefde op Petit Paris deur Frenette van Wyk

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Frenette van Wyk

Frenette van Wyk het van kleins af stories geskryf en op skool uitgeblink in kreatiewe skryfwerk. Dit was altyd haar droom om eendag ’n boek te skryf.

Aanvanklik het sy onderwys studeer en ’n honneursgraad in Latyn verwerf, waarna sy onderrig gegee het in Latyn, Frans en Engels.

Haar skryfloopbaan het in alle erns in 2006 begin toe haar eerste romanse, Kruisvaart na liefde, deur LAPA Uitgewers vir publikasie aanvaar is. Sy het sedertdien reeds twintig romanses geskryf, waaronder Vlinderdraai, Vuurvliegie, Boergonje bruid en Maskerdans.

Liefde op Petit Paris is haar eerste SuperRomanza.

Benewens skryf en lees sluit haar liefdes ook in tale, diere en om te reis. Sy is ’n CATHSSETA-geregistreerde nasionale toeristegids en woon in Pretoria saam met haar man, Etienne, en hulle jongste seun, Sasha. Haar oudste seun, Zander, is getroud met Charmonix.


Opsomming

Liefde op Petit Paris
Frenette van Wyk

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387131

In die ou Kaap de Goede Hoop stap ’n jongmeisie aan wal ná die vervolging van Protestante in Frankryk. Omdat Royale op die seereis haar ouers verloor het, is sy nou ’n weeskind in ’n land wat sy nog nooit gesien het nie. Die goewerneur wys Aragon as haar voog aan, ook ’n Hugenoot wat vroeër aan die Kaap ’n nuwe begin kom maak het.

Aragon is gekant teen Royale se liefde vir balletdans – dié ydele vermaak wat aan Louis die Veertiende se hof so modieus is – en wil haar nie toelaat om kontak met jongmans te hê nie. Dit is egter nie al wat Royale hinder nie, want sy weet nie waarheen met haar romantiese gevoelens vir haar voog nie, en die swaard van ’n huwelik met sy neef hang oor haar kop.

Boonop is dit ook nie net Royale wat besef wat ’n onweerstaanbaar aantreklike man Aragon is nie! Die ander vrou, Amalia, het boonop ’n dodelike wapen: Die plaas Petit Paris, waarop Aragon boer, behoort aan haar...

Profitez du livre!


Uittreksel

Een

Royale lig die soom van haar rok en trippel die houttrappe tot op die dek vinnig op. Sy stap tot teenaan die reling van die skip. Effens uitasem vee sy haar hare en die sout seesproei uit haar gesig, hou haar hand as sonskerm bo haar oë en kyk stip voor haar uit.

Die manjifieke prentjie van die suidpunt van Afrika, haar nuwe tuiste daar voor op die horison, is allesoorweldigend.

Haar hart voel skielik so lig soos die seemeeue wat in wye draaie hier bokant hulle deur die lug sweef. Die hartseer en onsekerheid van die reis lê ver agter haar.

Sedert die dood van albei haar ouers gedurende hierdie seereis, en vanweë seestorms en hittegolwe, was sy dikwels in die bedompigheid van ’n klein kajuit hier op die skip vasgekeer. Ná maande lange horisonne wat onseker en grys voor haar uitgestrek het en die ewige suur gesig van Kaptein Kees de Rijten wat haar voortdurend dopgehou het, kan sy die belofte van vryheid nou oor die blinkblou water na haar hoor roep. Vryheid om haar hart te volg.

Drie salvo’s kanonvuur salueer die Zeeland se aankoms.

Sy wuif uitbundig in die rigting van die land wat nou vinnig naderkom toe sy die rook teen die berg die lug in sien trek.

“Juffrou De Touillon, ons wag vir jou.”

Sy wil die rotsgrys berg daar voor, majestueus afgeëtsteen die oggendblou lug, nog bekyk en bewonder, maar swaai dadelik om. Sonder om in kaptein Kees se rigting te kyk, skarrel sy tussen die matrose deur oor die dek. Hy gaan dit nie regkry om nou weer haar uitgelate gemoedstemming te demp met sy ontevredenheid en kritiek oor haar gedrag nie.

Die skril fluitjie van die bootsman wat hier reg by haar begin skree, doof gelukkig die res van sy ongeduldige bevele uit.

’n Geharwar en lawaai breek hier om haar aan boord van die skip uit. Voete dreun oor die dek. Die ankertou rol krakend af en die maspale kreun. Die matrose se diep, eentonige sang terwyl hulle die seile intrek en begin vou, klink vir haar na ’n begeleidende orkes vir die lied wat haar eie hart vanoggend sing.

Sy lig haar rok weer tot ’n onbetaamlike hoogte bokant haar enkels en koes rats uit die pad om die spul geharde seemanne se warm asems en geswete lywe te systap.

“En waar is jou skoene, juffrou De Touillon?” Dis weer kaptein Kees hier agter haar. Hy kan sy ongeduld vanoggend weer glad nie verbloem nie.

Maar kan hy nie besef wat ’n belewenis dit vir haar is om vandag aan wal te stap in die land wat haar nuwe tuiste is nie? Kan hy nie vir een oomblik net dink dat sy gespanne en onseker, en ook nuuskierig en opgewonde voel oor alles wat skielik op haar hier in die Kaap de Goede Hoop wag nie?

Sy drafstap met ligte, kort treetjies terug na haar kajuit toe om sy grimmigheid te ontsnap en om van die ergste opwinding wat haar so meegesleur het, te laat ontlaai.

Haar voet skuur oor die plankvloer, maar sy kreun net in die hardloop van die naaldeprikkie deur haar stukkende kous.

Sy stamp die kajuitdeur oop. Eers toe sy dit weer agter haar toedruk en daarteen leun, haal sy kalmer asem.

So haastig was sy om die uitsig daarbo te gaan besigtig toe sy die roep van ’n matroos uit die kraaines hoor, sy het net haar rok oor haar kop gegooi. Daar was nie nog tyd om haar steweltjies ook aan te trek nie. Dit sal haar egter nie veel baat dat sy haar beste uitrusting aangetrek het om die goewerneur van die Kaap te ontmoet, as sy sonder skoene by Die Kasteel opdaag nie.

Sy kyk om haar rond. Dis die laaste keer dat sy hierdie beknopte ruimte met sy muwwe houtreuk betree het. Hier het sy menige dag op haar kouse haar balletpassies wat sy skelmpies by maître Gabelois in Parys geleer het, bly oefen. Al het haar pa haar belet om te dans en al het kaptein Kees haar die ruimte op enige van die skeepsdekke ontsê om haar passie uit te leef, het sy hier in die kajuit vir haar ’n balletrok gemaak en voor ’n denkbeeldige gehoor haar eie balletopvoerings gehou, nes dié wat sy gehoor het koning Louis in sy paleis aanbied.

Sy druk haar voete in die steweltjies en ryg dit toe. Die markiesin van Luzignan se brief druk sy voor by haar rok in. Sy bekyk eers weer die robynring aan haar vinger. Die voorletters J.M. daarop gegraveer, is ook dié van die markiesin van Luzignan, Jeanne de Mollet. Toe trek sy haar handskoene haastig aan soos dit haar betaam, maar ook om die ring vir nuuskierige oë te verberg.

Sy is gereed vir die toekoms wat vir haar wag en draf weer by die deur uit. Op die dek druk sy verby die ander passasiers tot voor by die reling. Sonder die hulp van kaptein Kees of enige ander offisier spring sy in die langboot en maak haar tuis in die voorstewe.

Toe hulle land toe begin vaar, kyk sy na die gesigte rondom haar.

Oom Marcel du Bois hou sy twee dogtertjies se hande styf vas. Hy en sy vrou, tante Madeleine, het hulle nogal ontferm oor haar hier op die skip.

Nader aan die land bekyk sy die groepies mense wat hulle staan en inwag. Daar is nie ’n siel wat daar op die kaai vir haar wag nie.

Wat is daar wat in hierdie vreemde land op haar wag?

Waarop kan sy hoop? Is haar toekoms dalk so ongenadig soos die kettings van die verlede?

Sy byt haar onderlip vas om nie weer te begin huil nie.

Die reis op die skip was vol ontberinge waaraan sy nie meer wil dink nie.

Al wat sy wil saamvat vorentoe is goeie herinneringe en gelukkige tye.

Haar trommeltjie wat sy gisteraand al ingepak het, bevat net enkele besittings.

Haar ma se kosbare troupand en ’n pêrelhalssnoer het sy aan die binnekant van die rok vasgewerk en dit juis vandag aangetrek om dit veilig saam met haar te hê wanneer sy die skip verlaat.

Die brief van die markiesin van Luzignan, haar ouers se vriendin, is ook veilig hier voor in haar rok en beskerm teen die seesproei wat kort-kort oor haar waai.

Sy het al baie gewonder wat daarin geskryf staan, maar dis nie aan haar gerig nie. Dis vir iemand wat sy nie ken nie, ene monsieur Aragon le Roux. Sy sal dit vir die goewerneur moet gee en hoor wat hy sê.

Die robynring wat haar ma ook by die markiesin gekry het, dra sy ná haar ma se dood nog al die tyd aan haar vinger, veilig onder die handskoen weggesteek. Sy ken die markiesin van geen kant af nie, maar sy het hierdie ring vir haar ma gegee, en sy kan seker nou daarop aanspraak maak, dit ook as ’n soort erfporsie beskou.

By die landingsplek help ’n amptenaar in ’n uniform haar uit die langboot klim.

“Welkom hier in die Kaap van Goeie Hoop, Juffrou.” Hy hou haar hande in syne totdat sy stewig op haar voetestaan.

“Dankie, Monsieur.” Dit voel skoon aardig om weer vaste grond onder haar voete te voel.

“Guillaume du Preez.” Hy buig galant. Hy het hoë wangbene en ’n langerige, sterk gesig. Sy blou oë kyk net te lank in hare. Sy kyk verleë af.

“Aangename kennis,” sê sy tog vriendelik voor haar vingers uit syne gly.

Ander passasiers in die landingsbootjie verg sy aandag en sy kan ’n entjie wegstap om op haar eie weer tot verhaal kom.

Terwyl hulle bagasie en andere goedere – nuwe teekoppies en eetserviese vir die goewerneurswoning, wynvaatjies vir die wynboere op die plase – ook aan land gebring word, kom een van die ander amptenare met ’n passasierslys in sy hand nader.

Hy lees die passasiers se name en merk dié af wat aan land gekom het.

“Henri Francois de Touillon?”

“Dis my pa,” antwoord sy. “Hy het gedurende ’n storm op pad hierheen oorboord geval en is in die ysige see begrawe.”

Hy maak ’n nota.

“Marié Anabelle de Touillon?”

“My ma. Sy is gedurende die reis aan griep oorlede en sy is ook in die Atlantiese Oseaan ter see begrawe.” Die knop in Royale se keel word al hoe dikker. Dis nie lekker om weer aan daardie hartseer te dink nie.

Die amptenaar maak weer ’n nota op sy lys.

“Royale Françoise Anabelle de Touillon.”

“Dis ek.” Haar stem is hees.

Die amptenaar maak ook ’n aantekening langs haar naam.

“Is jy dan ’n weeskind, Juffrou?” kom vra Guillaume du Preez besorg vir haar, en sy simpatieke blik troos haar weer so ’n bietjie. “Is daar niemand anders wat oor jou toesig het nie?”

“Kaptein Kees de Rijten het daardie taak deeglik op hom geneem daar op die skip, maar . . .” Maar waarheen sal sy nou gaan? Sy en haar ouers sou hier ’n nuwe lewe begin het ná die vervolging van Protestante in Frankryk, maar nou het sy nie regtig ’n heenkome hier nie.

Wat as sy nou na ’n weeshuis toe gestuur word? Haar hart begin onrustig klop toe die moontlikheid tot haar deurdring. Tog net nie ’n weeshuis waar sy van voor af reëls moet gehoorsaam en toegesluit word nie.

Ek sal na myself kyk, wil sy die amptenaar verseker. “Ek wil die goewerneur asseblief spreek,” sê sy egter dringend.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Liefde op Petit Paris</i> deur Frenette van Wyk appeared first on LitNet.


Liefde is ... Inskrywings (IX)

$
0
0

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Gwendoline Kordom
  • Mandy van der Merwe
  • Louisa Snyman
  • Jemima Meyer
  • Karlien van Rensburg
  • Zerelda Esterhuizen
  • David Bezuidenhout
  • Leandri Prinsloo
  • Loleta Dalton
  • Annelize Laban
  • Rosalee Meyer
  • Gideon Brückner
  • Carma Shaw
  • Timothy De Vos Botha

 

Gwendoline Kordom

Liefde is ...

Jou stem wat my wek in die donker dieptes van die nag
Die aanraking van jou vel is teer en sag
My binneste ontwaak jy raak aan my siel
Jou glimlag roer my soos ʼn rondomtaliewiel

Ek was soekend in my verlange na jou
My trane drup-drup soos die oggenddou
Jy was eens ver agter skerms versteek
Ek kon jou nooit sien nie jy was verberg

Tot eendag toe ek opkyk en jy voor my verskyn
Presies soos in my drome net mooier en rein
Jou oë weerkaats die liefde wat ek voel
Ek kan nooit glo jy is vir my bedoel

Soos ʼn ridder van ouds staan jy wydsbeen voor my
Diep donker kykers wat my voete laat gly
Jou hande groot en sterk om my te dra
Jou liefde vir ewig dis al wat ek vra

Ek is jou prinses jy is my held
Vir niks verruil ek jou nie eens vir geld
Jou liefde neem my soos ʼn brander in hooggety
Waar ek vir ewig en altyd gelukkig wil bly.


 

Mandy van der Merwe

Liefde is geensins ’n gegewe nie
Soms so onregverdig
Pynigend, seerkry, harde woorde …
Almal smag na ware liefde
Maar nie vir elkeen beskore
Liefde is partykeer blind
Na ’n vlaag van verliefdheid?
Maar DAN ontmoet jy jou sielsgenoot
Die een keer in ’n leeftyd mens …
Sonder dat jy daarvoor vra!
Jou lewe verander handomkeer
Jy sien weer die son skyn
Iemand wat jou verstaan!
Wat net na jou kan kyk en weet hoe jy voel
Iemand met wie jy alles kan deel
En jy WEET net dit is reg, dit is mooi …
Liefde is onvoorwaardelik liefhê, vergewe,
waardeer, vertroue
Liefde vra nie hoe oud jy is nie
Liefde is so mooi!


 

Louisa Snyman

Liefde is die hartklop van alle dinge
die spil waarom als draai
die kernwese van God
Hy wat ons met die liefde toebedeel
sodat ons dit kan beleef en uitleef
en arms vol kan aanhou uitdeel
soos ’n groot gerf kosmos
aan almal langs jou lewenspad
want slégs die taal van die liefde
maak ’n wesentlike verskil


 

Jemima Meyer

broos

as jou water met tyd verdamp

                en sulke bruin ringvlekke
             al om die pot los

sal my vol stingel met pienk en pers vlerke
weer stadigaan ineenkrimp
tot so droog en dors
soos vroeër

nes die blommetjies
vasgebind op my lessenaar
(voorheen vars
uit jou ma se tuin)
wat nou wortelwaarts
staar


 

Karlien van Rensburg

Liefde is gemengde speserye
En om jare saam te staan in rye
Dis om saam te lag
En te leer ’n vrou is sag

Liefde slaap minder as jy
Ook al is die dag verby
Liefde hou jou vas
En slaan soms jou bas

Dit hou aan in jou glo
Dit stel jou altyd bo
Dit droog trane af
Soms is dit saam met jou laf

Liefde vergewe elke keer
Selfs al was dit seer
Liefde kom laaste
Ook al is dit die naaste

Liefde het altyd raad
Dit is ’n goeie maat
Dit laat jou self leer
Dié liefde is teer

Die liefde is onvoorwaardelik
Dit maak tyd dadelik
Die liefde is my ma
Vir wat meer kan ek vra?


 

Zerelda Esterhuizen

Breytenbach sê dit met ’n rooiborsduif
en Boerneef met ’n veer
Maar laat ek gou rymelary en gevleuelde woorde keer,
want as die liefde suburbia, selluliet, snot, koors en skuld oorleef
is dit liefde
Dis daai hand wat donkernag na joune soek
die holte van twee lywe op ’n matras
die takeaway ná die soveelste verbrande kos
die sag praat in die stil ure van die nag
So mits dese wil ek vir jou sê
Liefde is nie net ’n engel nie
Maar dis die liefde
En dis al


 

David Bezuidenhout

Liefde is …

Geloof en hoop teen jou palms gegraveer,
Nog nooit kon ’n woord liefde my gedagtes beheer.
Te onwerklik het my hart se ritme van koers verander,
Ek het jou gekies bo iedere elk, bo al die ander.

Vir jou moes ek teen leë beloftes stoei,
Het baklei teen verskille wat ons liefde wou uitroei.
Daar was ’n rede hoekom God my aan jou toevertrou,
Elke persoon is deel van ’n seisoen, van toe af, tot nou.

Wit-oog-wimpertjie het ek jou genoem,
’n spierwit ooghaartjie het bo die donker ander geloer.
Soos ’n ou horlosie tik-tak teen die muur,
Verloor ek myself in sekondes, elke minuut, elke uur.

Nostalgie heimwee is wat ek wou gil,
Hipnotiese wyse my emosies kon stil.
Goed en sleg is opgeweeg teen mekaar,
En raai-raai die goed weeg gans te swaar.

Liefde is dalk net ’n sesletterwoord,
Maar gee lig deur die donker van nood.
Jy’t my hart in al sy weerstand leer ken,
My nooit laat voel dat ons nie saam sou kon stem.

Liefde is ’n vaste vertrou,
Hoop in dit wat ons glo, maar nooit sal berou.
Jou hart is ’n storie wat ek al lank al ken,
Die seer is weg, ek sien hoe liefde wen.


 

Leandri Prinsloo

Die liefde is ’n sprokie

Soms voel jy verlore
en weet nie wie jy is.
Dan kort jy net iemand
om die eensaamheid te blus.

Die liefde is ’n sprokie
dit kan jy maar glo.
Die liefde is soos ’n trein,
dit laat jou hartklop styg na bo.

As jy in die aand lê
en wens dat iemand daardie woorde kan sê.
Weet net dat jy iemand sal kry,
wat vir altyd by jou wil gaan bly.

Die liefde is die son en die maan,
dit is die middelpunt van ons bestaan.
Jy moet altyd sê hoe jy voel,
anders veroorsaak dit ’n hele warboel.

Die liefde smokkel met jou kop,
maar laat jou hart ook vinniger klop.
So moet nie té gou moed opgee nie,
want om die hoek wag daar dalk ’n sprokie.

Die liefde is eenvoudig gekompliseerd,
maar tog is dit iets waarop ’n mens floreer.
Soms is die liefde iets wat jou bevry,
as jy net bereid sal wees om daarvoor te baklei.

Luister na jou hart en vat ’n kans,
dalk sal jy ook in die maanlig kan dans.


 

Loleta Dalton

Liefde is om ’n leeftyd te deel, elke dag soentjies en drukkies te steel,
Dis ver meer as fênsie klere, soos ’n hoenderhaan wat net wil spog met sy swartbont vere –
Liefde is ’n aksie, dalk net ’n fraksie,
Van wat ’n opregte hart wil hê, om vir altyd in jou maat se arms te kan lê –
Om mekaar styf vas te hou, en ook saam hande in stille gebed te vou –
Liefde is daardie tinteling as ons aan mekaar raak,
Asof jy vir ’n oomblik jou woorde en asemhaling staak –
Dit is om veilig in sy omhelsing te wees,
Een in siel en een in gees –
Maar net ’n bietjie te bederf, biltong in klein stukkies op te kerf –
Om elke oggend koffie te maak, jou maat saggies te soen, ’n mond so volmaak,
Dis dinge wat ware liefde doen –
Liefde is soos ’n vlam in die swart donker nag,
Dit gloei en flikker – ons twee deel in die prag,
Wanneer ons na die sterre kyk, weet ons geen geld maak mens ooit ryk –
Liefde is om saam op die gras te lê, vir jou in ons liefdestaal te sê,
Julle wil niks anders doen, as om mekaar se woorde weg te soen –
Jy het jou maat gekry, verseker vat ek jou vir my –
Liefde is om jou hand te vat, langs my te stap,
Saam op ’n tandemfiets te trap –
Ons herinneringe weg te pak, in ’n klein kassie,
In ons harte, soos onder ons dubbelbedmatrassie –
En as ons oud is, elke oomblik te herleef,
En soos gister, ons drome en liefde na te streef –
Leef liefde vandag, in die oggend en in die nag,
Soos Hy die Drie-eenheid is, mag liefde ook tussen ons met Hom ’n eenheid bly –
Groet mekaar elke dag voor jul ry, sou die dood deur die dag jul van mekaar kom skei,
Weet dan, jul liefde sal vir ewig behoue bly …


 

Annelize Laban

Liefde is net daai gevoel
dat te midde
van al die gewoel
daar iemand is wat verstaan
wie jou so perfek aanvul
drukkies en soentjies
saam op ’n divan opgekrul
standvastig soos ’n rots
gestroop van valse trots
liefde is twee harte saamgebind
wat in die ganse heelal weerklank vind


 

Rosalee Meyer

Liefdesseën

As God's Liefde oor my uitstort
my skadukolle helder word
begin ek jubelend
ligvoets dans
hart en hande
opgehef na Bo
skoongewas met
gul Genadereën
helder strale
van Sy Seën
My hoof druip olie
My beker loop oor
want Ware Liefde
het gekom
ek buig nederig
dankbaar, stil, verstom …


 

Gideon Brückner

Die liefde van het en nie het nie

Is die liefde van nie het nie
’n liefde van nie weet nie
hoe ek dit sê?
hoe ek dit vra
is dit soos bid vir reën?

Is die liefde van het
’n liefde van weet
soos straatligte
wat blink in die eerste reën
en jou oë wat sê
daar is geen ander een?


 

Carma Shaw

Die liefde IS

Hoe die liefde werk –
dit wis ek nie;
ek weet net dat sy IS.

Soos tye en soos ruimte,
soos oseane en soos land;
soos lig en donker wissel,
soos gebergtes, klippe, sand ...
soos kraters wat gekerf is
in die ronding van die maan
en soos die lawa wat smeul
in die hart van ’n vulkaan.

Soos saad
wat op die bar grond lê
en sluimer tot dit reën –
’n anker in die grond instoot,
’n stingel in die lug op loot.

Soos ’n blaar
wat hoop op vog en lig en koolsuurgas,
dié elemente bymekaar inpas
en ’n wonder laat gebeur.

Soos ’n blom
wat met geur en kleur verras –
’n lelie van die vuur
wat kan bloei deur roet en as.

Só IS die liefde net.

Die liefde bind en maak ons vry.

En iewers binne my
meet sy kragte teen die kwade;
vind oorwinning oor die haat
en oor die nyd ... daar's nimmer einde
aan haar stryd.

En sou ek – vir ’n oomblik –
haar wese in my hande vas kon vang
dan sou ek weer die waarheid wis:
Van die liefde weet ek bitter min;
ek weet maar bloot
dat die liefde IS.


 

Timothy De Vos Botha

Droommeisie van my

My fiets het ek gevat
en gery tot hier by die leë dam,
op die dam se val vind ek my nou
in ’n oomblik waar ek jou onthou,
dit is tog hoe jy nog al die tyd in my hart woon
soms kan ek nie glo ek het jou
sommer net so deur my vingers laat glip nie.

Ek is die rede
hoekom jy my gelos het
jy het my verlaat
sonder dat ons net eers daaroor kon praat,
vir maande was my hart dolleeg
en dit het my lank gevat om weer iemand
daarin toe te laat,
ja meisie met die blou oë
jy is dié een
wat weggekom het,
vir altyd,
my droommeisie.

Dit was ’n moeilike besluit
maar net soos jy moes ek
ook een of ander tyd
aanbeweeg,
en nie vir liefde vrees,
ek weet jy sal die seker nooit lees,
maar jou plekkie in my hart
bly altyd leeg,
want daar was net nie weer iemand soos jy,
wat so lekker soen,
met so ’n sprankelende persoonlikheid
soos die droommeisie van my.

The post Liefde is ... Inskrywings (IX) appeared first on LitNet.

Zuma se fees van die ontplooides

$
0
0

Dit is makliker vir president Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe om sy land uit ’n politieke penarie te red as wat dit vir Cyril Ramaphosa gaan wees om Suid-Afrika reg te ruk.

Ramaphosa sit opgeskeep met ’n swetterjoel van Zuma se ontplooide kaders in magsposisies waarvan hy nie sommer oornag kan ontslae raak nie, al wil hy. 

So het die politieke wetenskaplike Willie Breytenbach Ramaphosa se uitdaging vir die land se toekoms opgesom nadat die ANC aangekondig het hulle gaan Zuma herroep.

Breytenbach het by ’n byeenkoms van die gespreksgroep DINK in Somerset-Wes reageer op die politieke magsverskuiwing wat die afgelope week in die ANC plaasgevind het.

Breytenbach sê die afgelope twee maande se gebeure in die Suid-Afrikaanse politiek was geensins ’n magsoordrag soos wat daar in 1994 was nie, maar bloot ’n magsverskuiwing.

Hy het gesê as hy kon kies sou hy eerder in Mnangagwa se skoene wou staan as in Ramaphosa s’n. Die rede daarvoor is omdat Suid-Afrika se grondwet wigte en teenwigte het wat keer dat die staatshoof nie mense kan hiet en gebied soos hy wil nie.

Dit is nie noodwendig sleg vir die land nie. Uit ’n politieke oogpunt is dit egter moeiliker vir Ramaphosa om vinnige besluite te neem as vir Mnangagwa wat nie aan dieselfde grondwetlike beginsels as Ramaphosa gebonde is nie.

Anders as Zuma ken Ramaphosa die land se grondwet beter as baie grondwetkenners omdat hy self ’n reusebydrae gehad het aan die skryf daarvan. Hy weet presies wat daarin staan en hoe om sy doelwitte binne die grondwetlike raamwerk te bereik.

Op die lang duur is Ramaphosa goeie nuus vir Suid-Afrika as hy sy doelwit kan bereik. Breytenbach het Zuma beskryf as “the last rural man” wat Suid-Afrika sal regeer teenoor Ramaphosa wat “the first urban man” is wat Suid-Afrika sedert 1994 sal regeer. Vir middelklas Suid-Afrikaners is dit goeie nuus ongeag aan watter ras hul behoort.

Dit is ook goeie nuus vir die land omdat dit ’n onderskeid tref tussen mag en gesag. Zuma het gesag aan sy kant gehad en het soos ’n stamhoof, aan wie al die gesag behoort, regeer. Ramaphosa weet aan die ander kant hoe om mag te bekom deur middel van fyn onderhandelings. Hy beroep hom nie op dieselfde tipe stamgesag waarop Zuma hom beroep nie, maar op die land se grondwet wat hy self help skryf het.

Een van Ramaphosa se hoofpyne is dat talle van Zuma se ontplooides nog steeds in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee dien. Met verwysing na PG du Plessis se boek, Fees van die ongenooides, wat handel oor die Anglo-Boereoorlog, noem Breytenbach die ANC se huidige NUK die fees van die ontplooides. Hy sê talle van Zuma se ontplooides dien steeds in die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam, naamlik die NUK. Dit sluit ministers, direkteur-generaals van staatsdepartemente en verskeie ander invloedryke mense in semi-staatsinstansies in wat hulle posisies danksy Zuma bekom het. Dit is nie so maklik om oornag van hulle ontslae ter raak nie. Hulle is almal deel van die fees van ongenooides wat Ramaphosa eintlik nie daar wil hê nie. Die probleem is dat daar nie binne ’n maand of twee van Zuma se “ontplooides” ontslae geraak kan word nie.

Breytenbach voorspel dat die ANC onder Ramaphosa se bewind aansienlik beter by die stembus sal vaar in volgende jaar se verkiesing as wat die geval sal wees indien die ANC nie van Zuma ontslae kan raak nie.

Hy het Suid-Afrikaners wat vrees die ANC gaan na die ANC se Desemberkonferensie hot en haar grond sonder vergoeding onteien gerusgestel. Volgens Breytenbach is die kanse dat dit sal gebeur omtrent nul. Hy sê Ramaphosa het duidelik met twee kampe in sy  party te doen. Onteiening van grond sonder vergoeding is een van die laaste dinge waaroor Suid-Afrikaners op die oomblik oor wakker hoef te lê. Lees maar net verder as die komma na Ramaphosa se uitspraak daaroor, het hy gesê. Grondonteiening sal nie geskied as dit voedselsekuriteit en ekonomiese groei benadeel nie. Dit sê volgens Breytenbach alles wat die vrese vir grondvergrype hoef te besweer omdat Ramaphosa graag die ekonomie wil sien groei en verseker dat daar voedselsekuriteit in die land is.

The post Zuma se fees van die ontplooides appeared first on LitNet.

Water crisis: a country at war

$
0
0

Title: For the Mercy of Water 
Author: Karen Jayes
Publisher: Penguin SA
ISBN: 9780143530213

Karen Jayes talks to Naomi Meyer about her book For the mercy of water. 

You won the Sunday Times Fiction Prize in 2013 for your novel For the mercy of water. Please can you tell me about this book: its premise, the story, the characters, your inspiration?

The book came out of my observations as an editor of a newspaper in London covering the Middle East. Every morning, I would see stories coming across my desk of water conflicts in far-flung regions of the world, like Yemen and Afghanistan. None of these stories ever made it to the headlines, no doubt because they had little geopolitical significance in comparison with the energy resources such as oil and gas, which are behind our current global conflicts.

When I returned to South Africa, I also began to notice small stories about water conflicts in rural areas, stories of poor people desperate for water who were breaking pumps so that they could get access to water, while water company guards cracked down on them, sometimes violently. I read of young girls braving dark nights to walk miles for water.

I saw how crucial water was becoming, and it was around the time that I began the novel (2009) that numerous water conferences were being held at global level, involving the UN, governments and private water companies who were making a grab for the resource they called “blue gold”.

So, I imagined a story of a country at war over water. I deliberately chose not to name the region or the characters, to enable a reader anywhere in the world to relate to it as his own, and also to move past the parameters of race and culture that can sometimes divide us. I believe the struggle for water access in the face of profit-hungry corporates is not a local struggle. It’s a global one, and we must unite with others who are battling the same.

The idea was to produce a story of beauty and validity which showed the journey of a female hero as she “followed the water” to find the truth about herself and the world she lived in. But, the story had many levels, just as the struggle for access to water, especially by women, has many levels. There is the sociopolitical element, where resource scarcity brings about great human trauma, and there is the feminist element, where the rape of the environment by corporates is akin to the defilement of a women’s body, and the earth’s regeneration akin to a feminine renaissance. And there is the spiritual element, where, for this particular female hero, the water led her to a better understanding of her Creator and what was required of her on this earth.

In short, the plot follows a young woman, a writer, who sees a story on a small independent website (they are living, as we are, in an era where mainstream news is corporatised and cannot be trusted, since the corporations are bound to one another and, therefore, support one another’s narratives of power). The story features the voice of an old woman who has been found after a sudden rain in a town long since thought deserted due to a drought. She is speaking in poetic language, in metaphor, and relaying a great trauma where water company guards passed through the town and abused some young girls under her care. The writer hitches a ride to the town and, on the way, experiences her own trauma, which ties her inexplicably to the old woman and the girls. When she arrives at the town, she finds an almost theatrical scene, where a doctor, two aid workers and a journalist are camped out, listening to the old woman’s almost prophetic ramblings, which warn about the preciousness of the water and how it is being stolen from the people and sold back to them at prices they cannot afford. She speaks about how this is “a war over the life left in all of us”. The writer joins the camp and is captivated by the old woman’s story. When the water company arrives at the behest of the government to manage the situation through their PR gurus, the old woman is taken away, but before she leaves, she charges the writer to find the only girl left surviving, Eve. The rest of the novel is the story of the writer’s search for Eve.

All in all, I wanted to interrogate seriously the morality of corporates as we see them becoming more ruthless and uncontrolled, while our environment and resources become more strained. Ultimately, I wrote it as a condemnation of the prevailing social, political and financial system, which has corrupted to the point that the earth’s water is now being siphoned by private companies and then sold back to the poor at a huge profit. I see the struggle for water access as the heart of a struggle for a new social and political system.

Please will you elaborate on the title of the book?

Water is a mercy from our Creator. All the Abrahamic religions and other religions of the world hold water as key to practising their faith. It features in rituals and celebrations. Because it is essential for all of us to live, and since our resources are finite, it is essential that we use it sparingly, but also that governments come to the table with an intent to ensure that we all have equal access, so that this mercy flows from the Source of water, to the bodies of the children and animals in our care.

What are your thoughts about the water situation and the drought in the Western Cape and in other parts of the country?

Although the rains have been less and the country is water-stressed, I do not believe in Day Zero at all. I believe that this threat of an apocalyptic scenario is being used like a stick over our heads to strong-arm the populace into accepting widespread privatisation of our water, and disastrous “solutions” like desalination (which is costly and energy-intensive, uses more water to run than it produces, and pumps tons of brine back into the oceans to destroy fish and other life). In the meantime, there are many politicians willing to parachute in, in true saviour mode, at the last minute.

This strong-arming has been carefully thought up and managed by PR people, who knew very well that the privatisation thing would be a hard sell to South Africans. 

Threatening South Africans with dry taps is akin to threatening those of us who cannot fork out R8 for a 250 ml plastic bottle of filtered tap water, with death in the one hand, while in the other offering us the “solutions” that, just by the way, will net huge profits for the city and private water companies, while pushing up our bills. Some of these water companies hail from countries such as England, France, the United States and Israel, countries with which some South African companies have deep links.

This is nothing more than colonisation. We are being colonised by the corporates, and water is the mode of this deathly exchange. I can’t understand why journalists have not been more aggressive in their reporting of this issue. After all, we have a rich history of colonisation, and the patterns are being repeated by the usual suspects. The company, the PR people, the government, the army … Just read my book (LOL); it’s all in there. But, what I am saying in the end is that it really doesn’t have to be this way. There is always a better way; it’s just that the beneficiaries of the money-spinners don’t want you to see it.

What do you think can be done now? Any practical ideas when the taps run dry?

I don’t believe the taps will run dry, but if they do, it must mobilise us. I do believe we should organise ourselves and resist attempts to privatise our water and build desalination plants at costs that will see us paying exorbitant amounts for our water and destroying the environment, even when the rains, God willing, do return.

Currently, we should all calm down and resist the threats of the PR people and their government paymasters. Then, we should identify clearly the mistakes that have been made, which include great wastage, lack of foresight and inequitable distribution. After that, we need to explore seriously the wonderful innovative options for water recovery, capture and distribution being offered by ethical individuals and groups all over the country, to whom those in power are not listening because their motivation is not primarily lining pockets.

We should amplify these voices. The media has a key role to play here, to turn the lens onto solutions, not politicking and profit-making. We need to put their plans into action. We must make our stand for water access be a stand for a more ethical and equitable society as well. I believe we are given these challenges, not to scare us, but to cause us as humans to open hitherto unopened doors, and to try to be better.

In the end, like in the book, it boils down to helping one another. There is great blessing in giving a glass of water to a poor and thirsty person. It is a form of healing. That metaphor needs to be expanded and extended on a grand scale, and that’s the truth.

The post Water crisis: a country at war appeared first on LitNet.

"Afrikaans sal nie verdwyn nie"

$
0
0

"Afrikaans sal nie verdwyn nie," sê die joernalis Malixole Gwatyu.

Wanneer Malixole Gwatyu ín Afrikaans óór Afrikaans praat, sit jy regop en spits jou ore. Malixole, ’n gerespekteerde joernalis wat vier tale praat, sê egter hy gaan nie vir Afrikaans veg nie.

Malixole Gwatyu

Dadelik skuif jy vorentoe op jou stoel en vra jou af maar hoekom nie? Die antwoord is baie eenvoudig.

“Afrikaans sal leef en voortleef. Ek sien nie dat Afrikaans sal verdwyn nie, want daar is so baie mense – en diverse mense – wat dit praat.”

Malixole was saam met twee medejoernaliste, Vincent Mofokeng en Dumile Mateza, deel van ’n paneelbespreking wat Woensdagaand by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) onder leiding van Danny Titus, uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede, gehou is.

Dumile Mateza, Vincent Mofokeng, Malixole Gwatyu en Danny Titus

Malixole het op ’n plaas grootgeword en dis waar hy Afrikaans leer praat het. Sy joernalistieke loopbaan het in 2001 by Die Burger begin. Hy het later by die Landbouweekblad gedraai en is tans by RSG.

In die lig van die gebeure by die Hoërskool Overvaal en die Universiteit van die Vrystaat is Malixole van mening dat taal op sy eie nie ’n probleem kan wees nie. Dis eerder hoe mense die sprekers van die taal ervaar en dan sekere persepsies vorm. “Ons bewys Afrikaans nie ’n guns as ons die taal blameer nie.”

Dit is juis volgens Titus hoekom ’n paneelgesprek soos dié van kardinale belang is. “Afrikaans is ’n taal wat lewe en bruis, maar dis ook ’n taal wat baie kommer losmaak. Afrikaans is ’n taal van diversiteit en ons moet die rykheid hiervan erken.

“Dit is daarom dat ons by die ATKV besluit het om erkenning te gee vir die bydrae van African Afrikaanssprekendes, mense wat net ook vir Afrikaans lief is en hande wil vat om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.”

Vincent Mofokeng, die jong stem wat jy soggens op RSG se Monitor hoor, sê die mense van Suid-Afrika moet op ’n plek kom waar hulle met mekaar kan gesels en sê "Dis my taal, dit is wat dit verteenwoordig, vertel my oor jouself."

Dumile Mateza

Dumile Mateza, wat die eerste kommentator was wat sokker in Afrikaans uitgesaai het, stem saam en glo dat ons die regering verantwoordbaar moet hou, want die Grondwet bepaal dat alle tale gelyk is. “Ons moet opstaan vir dit waaraan ons glo. Dit is vir my ’n voorreg om Afrikaans te kan praat.”

Dié drie joernaliste is duidelik passievol oor Afrikaans en glo dat die taal deel kan wees van die oplossing in ons land, maar Malixole waarsku tog aan die einde: “Moenie te veel aan Afrikaans dink as ’n slagoffer nie. Hoe meer jy aan daardie idee gaan vasklou, hoe meer gaan mense vir jou probeer wys dat dit nie so is nie.”

Foto's: verskaf

The post "Afrikaans sal nie verdwyn nie" appeared first on LitNet.

Omstrede kwessies in voorgeskrewe jeugliteratuur: ’n onderhoud

$
0
0

Gesprek van Estelle Kruger met Elize Vos oor haar artikel:

Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen

Wat is die agtergrond van hierdie studie van jou – maw hoe het jy bewus geraak van die probleem van moraliteit in Afrikaanse jeugliteratuur?

Reeds tydens my onderwysloopbaan het ek van die probleem bewus geword. Belese adolessentelesers het my mening gereeld daaroor getoets, en wanneer ons wel jeugromans van ’n omstrede aard voorgeskryf het, het onderwysers se mening oor die geskiktheid daarvan vir klaskamerdoeleindes dikwels drasties verskil.

Jy het reeds in jou PhD1 blyke getoon dat jy geïnteresseerd is in die leesmotivering en leesbelangstelling van Afrikaanssprekende adolessente. Hoe het hierdie belangstelling ontstaan en ontwikkel?

As onderwyseres was ek in my Afrikaansklasse deeglik bewus van die swak leesvermoë en
-motivering van leerders. Boonop was en is die ontstellende statistiek van die leesvermoë van Suid-Afrikaanse leerders vir my nog altyd kommerwekkend. Ek het daarom nie gehuiwer om in my PhD te fokus op die leesmotivering van Afrikaanssprekende adolessentelesers nie; hoofsaaklik vir bewusmakingsdoeleindes, maar ook om ’n leesmotiveringsprofiel van en ’n leesmotiveringsraamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers daar te stel.

Jy meld dat jeugliteratuur – en dan indirek die skrywer – ’n waardevolle bydrae kan lewer in die vorming van ’n moraliteitsbewussyn by adolessente. Kan jy voorbeelde hiervan noem soos wat dit wel in die Afrikaanssprekende samelewing voorkom?

Daar is verskeie jeugromans waarin moraliteitskwessies aangespreek word én op ’n hoopvolle toon afsluit, onder andere:

Skilpoppe deur Barrie Hough (1998) – selfdood en homoseksualiteit

Lien se lankstaanskoene – Derick van der Walt (2008) – egskeiding, enkelouergesinne, alkoholisme

Uit – Fanie Viljoen (2014) – homoseksualiteit

Asem – Jan Vermeulen (2016) – ’n adolessent se haat jeens sy pa

Daar is natuurlik nog heelwat ander Afrikaanse jeugverhale ook.

Is jy bewus van soortgelyke letterkundige studies wat gebaseer is op Afrikaanssprekende lesers se interaksie met en reaksies op jeugverhale?

Daar is wel al letterkundige studies hieroor onderneem, byvoorbeeld Wiggill (2004) se François Bloemhof se Slinger-slinger: ’n leserkundige evaluering met verwysing na Afrikaanssprekende tieners. Ek is egter van mening dat dit nog ’n braak studieterrein is en dat meer letterkundige sulke studies noodsaaklik is.

Kan jy asseblief die term “omstrede kwessies” in 25 woorde aan ’n belangstellende onderwyser verduidelik?

’n Omstrede kwessie is ’n saak waaroor ’n morele waardeoordeel (wat emotief, konflikterend, persoonlik en subjektief van aard kan wees) uitgespreek word.

Dit is duidelik in jou studie dat letterkunde (soos ook die media) ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van adolessente se moraliteit. As jy die hoof van ’n skool was en nie die angsteorie2 mbt omstrede kwessies onderskryf nie, hoe sou jy onderwysers se keuse van literêre tekste begelei om tog ook katarsis3 in letterkundestudies te kan bewerkstellig?

Ek sou beslis ’n voorstander wees daarvan om jeugromans van ’n omstrede aard, maar met ’n hoopvolle einde, voor te skryf. Ek glo dat leerders deur die lees van sulke jeugromans afsluiting (katarsis) kan vind van hulle eie probleme of ten minste vaardighede kan aanleer om soortgelyke probleme te kan hanteer. Ek sou in die keuse van hierdie jeugromans natuurlik leerderdiversiteit, menseregte en uiters sensitiewe kwessies, soos onderskryf deur wêreldwye sensuurwette, in ag neem.

In jou artikel kom dit duidelik na vore dat Engelse jeugverhaalskrywers bewustelik omstrede kwessies kies en uitbeeld wat ’n redelik ware weerspieëling van die wêreld van hulle lesers is. Is jy bewus van enige ander Afrikaanssprekende jeugverhaalskrywers behalwe Fanie Viljoen wat uitdruklik meld hoe hulle hieroor voel en dink en skryf

Ja, daar is heelwat van ons Afrikaanse skrywers wat in onderhoude te kenne gee hoe hulle te werk gaan met die skryfproses en die uitbeelding van die werklikheid, onder andere Marita van der Vyver, Derick van der Walt, François Bloemhof, Jan Vermeulen en Carin Krahtz (om maar net enkeles te noem).

Geluk met jou uitstekende ontleding van die omstrede kwessies in Onderwêreld in jou artikel – dit kan sekerlik onderwysers deeglik toerus, veral in die lig daarvan dat hierdie teks ’n voorgeskrewe jeugverhaal is. Is daar ook ander jeugverhale in Afrikaans met omstrede kwessies wat so volledig ontleed is?

Ja, daar is deeglike ontledings van Slinger-Slinger (François Bloemhof), Skilpoppe (Barrie Hough), Vaselinetjie (Anoeschka von Meck), Lien se lankstaanskoene (Derick van der Walt) en Uit (Fanie Viljoen).

Jy het onlangs ’n besoek aan Nederland gebring waartydens jy die inhoud van hierdie studie van jou bekend gemaak het. Wie was die gehoor? Hoe was die ontvangs daarvan? Is hierdie teks ook in Nederlands vertaal?

Die gehoor was hoofsaaklik taaldosente en -studente van ’n Christelik-gefundeerde universiteit in Nederland. Alhoewel daar by die betrokke universiteit steeds effens weggeskram word van verhaalinhoude van ’n omstrede aard as voorgeskrewe werke, is die inhoud van hierdie studie uiters positief ontvang. Onderwêreld is nog nie in Nederlands vertaal nie, maar ek is van mening dat dit ’n wegholsukses sou wees indien die vertaling kon realiseer.

Deel van jou werk by Noordwes-Universiteit as senior lektor is om toekomstige onderwysers te bemagtig om Afrikaanse prosa en poësie te onderrig. Wat is jou studente se reaksie op hierdie (of ander) omstrede jeugletterkundige teks(te)?

Wanneer die eerstejaaronderwysstudente by ons in die klas instap, het hulle nie noodwendig ’n breë leesverwysingsraamwerk van jeugverhale nie. Hulle word gaandeweg blootgestel aan nuwe Afrikaanse jeugromans, en hulle word ingelig oor die leesbehoeftes en -voorkeure van adolessente, asook oor die norme vir voorgeskrewe werke. Hulle belangstelling word sodanig geprikkel dat hulle uiteindelik selfgerig begin lees. Uiteindelik beskik hierdie studente aan die einde van hulle studies oor die vermoë om ’n jeugroman krities te kan ontleed.

Kan jy vir ons ’n paar praktiese idees op LitNet laai om belangstellende onderwysers te help toerus om Onderwêreld in die VOO-fase te onderrig?

  • Die onderwysers kan begin deur resensies oor hierdie jeugroman in die klas voor te lees.
  • Die verhaal móét sonder enige onderbreking van ander aktiwiteite met die leerders in die klas gelees word.
  • Hierdie leestyd in die klas is belangrik om voorspellings en vooruitskouings van verhaalgebeure met die leerders te bespreek. Die onderwysers moet in gedagte hou dat die persoonlike en eerlike interpretasie en kommentaar van die leerders in ag geneem moet word.
  • Die leerders moet die jeugverhaal verstaan en daarom sou ek voorstel dat hulle ’n leesdossier open wanneer die verhaal in die klas gelees word. Hulle maak aantekeninge oor al die verhaalaspekte soos die lees vorder en beeld van die verhaalaspekte (byvoorbeeld karakters en ruimte) met behulp van prente uit.
  • Leerders kan ’n kort opsomming van elke hoofstuk skryf. Skep praatgeleenthede in die klas om die kreatiewe denke van die leerders rakende hierdie roman te stimuleer; hierdie praatgeleenthede kan verdere skryfgeleenthede stimuleer.
  • ’n Naweekuitstappie na die Drakensberge en Clarens, natuurlik indien fondse dit toelaat, sal die werklikheidsgetroue uitbeelding van die ruimte vir die leerders ook ’n werklikheid maak.

Ekstra leesstof oor hierdie roman:

  • Klasgids Hoërskool, Januarie 2016 – Jana Luther van HAT het ’n Afrikaanse lys saamgestel van al die Engelse kuberterme in hierdie jeugroman.
  • Klasgids Hoërskool, April 2017 – Alet Mihálik: Onderwêreld in die klaskamer.
  • Onderwysersgids oor Onderwêreld wat gratis van die internet afgelaai kan word (hierdie gids is deur Fanie Viljoen en Alet Mihálik saamgestel en hou rekening met die KABV-voorskrifte).

Waardevolle artikels om te lees:

  • Anker, J. 2011. Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman. LitNet Akademies, 8(3):1–20.
  • Vos, J.E. 2017. Voldoen Onderwêreld deur Fanie Viljoen aan die norme vir voorgeskrewe werke vir graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders? LitNet Akademies, 14(1):259–80.
  • Besoek akkerkaans.co.za: Ons vakgroep (Afrikaans vir Onderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit) het op 20 Mei 2016 ’n skrywersdag gereël; Fanie Viljoen en Betsie van der Westhuizen, die twee gassprekers, het oor Onderwêreld gesels.

Wat het jy persoonlik geleer in hierdie proses van navorsing en publikasie van jou bevindinge?

Ten spyte van die resepsie-estetikabenadering wat op die adolessenteleser se interaksie en reaksie op die verhaalinhoud fokus, vervul die onderwyser steeds ’n uiters belangrike rol as bemiddelaar om in die klaskamer meningsverskille van leerders ten opsigte van omstrede kwessies te medieer.

Is daar enige nuwe navorsingsmoontlikhede op jou horison?

Ja, definitief. Tydens my besoek aan Nederland kon ek en my Nederlandse kollega ’n tema vir moontlike toekomstige samewerking identifiseer: “’n Vergelykende studie tussen die moraliteit van Nederlandse en Afrikaanse jeugliteratuur vanaf 1960 tot nou”. Voorts is ek ’n lid van ’n navorsingsprojek oor “Multimodal multiliteracies in support of selfdirected learning”, waar ek beplan om op visuele geletterdheid te fokus en maniere te probeer vind om leerders selfgerig te laat lees (my beplande artikels sal wel in Afrikaans wees). Daar is ook ’n nuwe Afrikaanse jeugroman wat my geweldig boei en ek sou graag iets daaroor wou skryf. Al hierdie projekte fokus hoofsaaklik op die leesmotivering van Afrikaanse adolessentelesers.

Eindnotas

1 Vos, JE. 2014. ’n Leesmotiveringsprofiel van en ’n -raamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

2 Ondersteuners van die angsteorie is van mening dat vreedsame en afgryslike beelde so vervleg in stories voorkom dat die leser uiteindelik nie meer tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Jeugverhale met aanvegbare inhoude moet dus liewer gesensor (of verbien) word.

3 Ondersteuners van die katarsisteorie meen dat adolessente dmv omstrede kwessies in hulle leesstof kan sien watter (en waardeur) probleme veroorsaak word en dat hulle in die letterkundige tekste oplossings vir en die afsluiting van hulle eie probleme kan vind.

The post Omstrede kwessies in voorgeskrewe jeugliteratuur: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Viewing all 21497 articles
Browse latest View live