![]()
“Trap van my plaas af!” sê Beatrice se pa. “En verbreek onmiddelik alle kontak met ons dogter. Hemel weet, ons in nie verkramp nie, dit is darem al die ’90’s, maar ons vertrou ons dogter nie aan ’n geskeide losloper toe nie. Veral nie een wat gelieg en bedrieg het nie.”
Hanko kyk af na sy hande. Dit voel of sy wêreld om hom ineenstort. Die woorde “Ek was voorheen getroud” aan Beatrice se ouers het ’n oorlog ontketen wat hom verpletter het – haar ma die masjiengeweer, haar pa die grofgeskut. Die skermutseling het skaars ’n kwartier geduur.
Hulle opdrag aan Beatrice is net so venynig: “Los hierdie man met sy slegte verlede heeltemal uit, of staan ’n kans om jou ouers van jou te vervreem. Daar kan niks goeds kom uit enigiemand wat voorheen getroud was nie.” Die woord “onterf” huiwer onuitgesproke op hulle lippe. Boonop: “Wat sou die mense sê?”
Buite by sy motor kyk hy verslae na Beatrice se groot, donker oë, nou vol trane. Na haar donker hare in ’n kort, moderne styl, haar dun middeltjie. Hy wil haar teen hom aantrek, sy hande op haar sagte heupe sit. Hierdie nederige meisiekind het sy stukkende hart weer heel gemaak; sy was sy nuwe begin.
“Ek kan nie anders nie,” snik Beatrice. “Ons gesin is baie lief vir mekaar en hulle ondersteun my al vir 23 jaar. Ek kan hulle nie verraai nie.”
Veral nie vir hierdie geskeide Johannesburger wie jy minder as ’n jaar ken en wie oor een uiters belangrike feit geswyg het tot ná jy op hom verlief was nie, dink Hanko skuldig. “Ek is jammer,” sê sy in ’n dun fluisterstem. Sy draai hartseer om en stap weg.
Hanko se tuimeldroërbinneste kom eers effens in bedwang nadat hy verby Leeudoringstad is. Mislukking lê bitter op sy tong. Hy het sy pasmaat verloor.
*
Hanko Bakkes is ’n netjiese jong man, aantreklik, kort blonde hare, blou oë, goedgevormde rugbybene. Hy lewe passievol, is soms waaghalsig, gedrewe en nogals windgat. Hy ken ’n stabiele gesinslewe, was effe bo gemiddeld op skool. Na sy diensplig is hy Pretoria toe vir ingenieurstudies. Hy floreer as student en geniet Pretoria – veral die sokkies en die volop pragtige jong dames.
In sy eerste jaar dans hy vir Susan raak – ook blond met blou oë, lief vir moderne dans. Sy pas haar lyf mooi op, want noupassende leotards is standaarduitrusting by die dansstudio. Die fisika leer dat teenoorgesteldes mekaar aantrek, en met hulle was dit nie anders nie. Teen die einde van Hanko se derde jaar lui die huweliksklokkies vir hulle.
Na afloop van sy studies slaag Hanko se werksaansoek by ’n internasionale maatskappy om die beheerstelsels van ’n nuwe kragstasie in die Bosveld in bedryf te gaan stel. Dis vir hom en Susan ’n opwindende nuwe avontuur, hul eerste kennismaking met die regte wêreld! As inbedryfstellingsingenieur word hy byna onmiddelik deel van die maatskappy se “big boys”.
Met hul aankoms op Ellisras het twee dinge baie gou baie duidelik geword: almal daar is op mekaar aangewese vir sosiale vermaak, terwyl die “big boys” se vroue gefrustreerd daagliks by hul huise sit omdat daar nêrens geleentheid is waar hulle kan werk en hul beroepe kan uitleef nie.
Naweke het die gefuif begin: iemand in die maatskappy sou sy huis aanbied vir die naweek se makietie. Vroegaand Vrydag begin die partytjie en almal dans en drink en kuier tot die bure kla. Dan word daar ’n Krismisbed in die sitkamer gemaak waar almal deurmekaar kon gaan slaap as jy nie meer wou, of kon, dans/drink/kuier nie. Die partytjiegangers is dan eers die Saterdag, of selfs die Sondag, huis toe.
Naweek na naweek het hierdie dodelike roetine die naelstring tussen Hanko en Susan begin lostorring. “Ek begeer uitdagings, ek soek aandag en stimulasie!” het Susan byna daagliks vir Hanko gegil.
En toe kom Brenton Swart by die kragstasie aan: ’n ongetroude adonis met ’n six-pack. Die saamkuiery naweke het hande begin uitruk. Op die dansbaan het almal na verliefde paartjies gelyk, behalwe dat niemand meer met sy of haar troumaat gedans het nie. Susan het Brenton se attensies begin geniet.
Hanko het een aand in die vroeë oggendure in die Krismisbed wakker geword. Die vertrek het na alkohol en sigaretrook geruik. Hy was sat vir hierdie lewe. Waar is Susan? Haar plek was leeg. Hy het gesukkel om in die donker te fokus. Verder af, waar Brenton lê, het hy Susan se blonde hare sien uitsteek, en toe die bewegings onder die komberse van twee mense wat nie meer omgee dat ander sien nie.
Die egskeiding was vinnig, onbestrede, maar seer. Hanko kon nou uitsluitlik op sy werk fokus, en slaag met ’n projek en adverteer sodoende sy tegniese vermoëns. Gevolglik is hy bevorder hoofkantoor toe. ’n Nuwe pos, ’n nuwe stad, ’n nuwe begin. Koop ook toe sommer ’n nuwe Honda as beloning vir homself.
Pas in Johannesburg loop hy vir Tian, ’n studentevriend, raak, op soek na nog ’n manspersoon vir hul kommune. Die prys was reg, die afstand na die werk was reg en die tikkie bekendheid in die vreemde welkom. ’n Handtekening later trek Hanko in.
Op die eerste aand vra Tian of Hanko hom nie wil vergesel nie. Beatrice, ’n vriendin uit Ottosdal wat onlangs as verpleegkundige afgestudeer het, is kortstondig in Johannesburg en hy wil haar uitneem vir ’n potjie putt-putt. Hanko stem in. Die aand is lekker genoeg en die drie besluit om die daaropvolgende aand te gaan dans. Ook díe aand verloop heel prettig. Hanko besef Beatrice is eintlik sy huismaat se vriendin, maar sy dans soos ’n droom en haar persoonlikheid is heelwat groter as haar fisiese lengte. Daarby is sy, soos hy, mal oor Snoopy die strokiesprentkaraktertjie.
’n Maand later bel Beatrice vir Tian. ’n Studentevriendin trou op Upington en Beatrice moet haar help aantrek en grimeer. Sy wil nie graag alleen ry nie: sal Tian asseblief saamgaan? Maar dis onmoontlik – Tian is opgeroep vir ’n weermagkamp. “Hanko ou maat, help my bietjie uit, asseblief,” begin Tian aanvoor. “Jy het tog Beatrice se geselskap nou die dag geniet, en nou soek sy ’n reisgenoot Upington toe vir ’n troue. My weermagverpligtinge maak dit onmoontlik. Gaan asseblief saam in my plek?” Hanko bedink die versoek en sê glimlaggend: “Goed, ek sal, al is ek haar tweede keuse.”
Op die afgespreekte tyd ontmoet Hanko vir Beatrice by haar ouers se plaas net buite Makwassie. Hy word eers deeglik uitgekyk en ondervra voor hulle tevrede is en hulle dogter aan die vreemdeling toevertrou.
Die dagreis Upington toe vind in koel, reënerige weer plaas en die twee praat en praat soos ou bekendes. Met hul aankoms by hul oornaghotelletjie kon nie een glo hoe kort agt ure in ’n Honda voel met iemand wat onlangs nog ’n vreemdeling was nie.
Ondanks ’n baie besige dag het Beatrice genoeg energie oor om op die onthaal beswaarlik ’n dans met Hanko te mis. Laataand met hul terugkeer na die hotel is hulle een van hart en gees.
Tydens Sondagoggendontbyt sê Beatrice: “Ek het byna al my vriendinne een of ander tyd gisteraand betrap dat hulle agter hulle hande met mekaar praat terwyl hulle vir ons kyk. ’n Paar het my prontuit gevra wat tussen ons aangaan!” Hanko glimlag, sit sy hand liggies op hare, sê selfvoldaan: “Hulle sien waarskynlik dat ons soos ’n sleutel en ’n slot inmekaar pas?” Die terugrit voel selfs korter as die heenrit. Toe die Honda uiteindelik in Ottosdal aankom, is hulle tot oor hul ore verlief.
’n Wonderlike tyd volg. Hulle spandeer die meeste naweke saam en leef letterlik vir die volgende naweek wanneer hulle weer bymekaar sal wees. Telefonies spandeer hulle ook weeksaande by mekaar. Die verhouding groei tot ’n trotse kremetartboom, oënskynlik weerbaar, maar Hanko begin sleg slaap.
Hy weet hy het sy geesgenoot ontmoet, en dat hy die res van sy lewe saam met haar wil deurbring, maar hoe kan hy haar om haar hand vra? Hy het doelbewus die feit van sy mislukte huwelik met Susan stilgehou. In die begin was dit net omdat dit te seer was om daaroor te praat, maar later was hy bang dat hy Beatrice sou verloor. Sy leef doelgerig op die morele hoë grond – soos ’n rein, koel bergstroompie na al die dekadensie wat hy by die kragstasie ervaar het. Hy sal moet bieg.
’n Geskikte oomblik hiervoor duik ’n paar weke later op die sitkamerbank in Beatrice se woonstel op. “Lief, vanaand moet ek jou iets vertel wat jy nie van my geweet het nie,” begin Hanko met Beatrice se hand in syne. “Dit gaan ons verhouding erg toets.”
Beatrice reageer grootoog, effe verbaas: “Ek is reg vir enigiets behalwe as jy my gaan vertel dat jy elders ’n liefdeskind het.”
“O nee!” antwoord Hanko byna verlig, en kom met die hele sak patats vorendag.
Beatrice se gesigsuitdrukking en belewenis verander stapsgewys soos die feite voor haar uitgepak word: van ongeloof na verbasing, dan angstigheid, senuweeagtigheid. Na Hanko klaar gepraat het, is albei na aan trane. “Voel jy nog iets vir haar? Is daar ’n kans dat jy haar ooit sal terugvat?” vra Beatrice.
Hanko skud sy kop.
“Ek wil hieroor slaap en bid. Kom ons praat môreoggend klaar.” En met hierdie woorde is Beatrice na haar kamer toe.
Die volgende oggend het Beatrice vir Hanko koffie in die bed geneem en dadelik met die deur in die huis geval: ”Ek is vir jou lief, Hanko Bakkes, en ons almal maak foute. Ek is nie bereid om ons huidige geluk weg te gooi omdat twee mense ’n fout gemaak het in hulle storm-en-drang-jare nie. Kom ons gaan aan met ons lewens, sáám met mekaar.”
Hanko kon weer slaap, maar het soms wakker geskrik met nagmerries van hoe hulle Beatrice se ouers vertel. Gelukkig was haar Ouma Ottosdal aan hulle kant: ’n prettige gryskop-ouma, net so breed is as wat sy lank is, skerp ogies, skerper intellek. Moederhen van die familie. ’n Besoek aan haar was volgende.
“Ouma se kleindogter het Ouma vanoggend dringend nodig,” het Beatrice met ’n senuagtige glimlag die gesprek begin.
“Kom sit kinders, en vertel my waarmee my grysheid kan help,” het Ouma met ’n opregte glimlag Beatrice dadelik kalmer gemaak. Ouma het na hulle geluister. Sy het hulle baie vrae gevra om veral Beatrice mooi te laat nadink oor waarmee sy sou moes vrede maak, maar hierdie probleem is nie onoorkombaar nie.
Die twee is Makwassie toe, min wetende van die veldslag wat daar op hulle gewag het.
*
Hanko het hom in sy werk begrawe, tot so ’n mate dat Tian toegetree het. “Wanneer kuier jy weer saam met ons?” het Tian een middag gevra. “’n Man kan nie net van werk alleen lewe nie.”
“Los my ’seblief!” Hanko se oë het weer na sy rekenaar gedwaal.
“Ek het by Beatrice se ouma gehoor wat op die plaas gebeur het.”
Hanko se kop ruk.
“Beatrice kry ook swaar, mater,” sê Tian sag. “Sy het by die boesem van haar ouma en ou-dominee Malan troos en raad gaan soek. Hulle erken dat julle Beatrice se ouers se opdragte nakom, maar Ouma Ottosdal is blykbaar glad nie gelukkig om haar liefling-kleindogter so te sien ly nie.”
Hoop begin weer in Hanko lewe. “Tian, weet jy of Ouma Ottosdal ’n plan het? My verlange na Beatrice dryf my tot raserny. ’n Klein bietjie hoop sal my weer op koers kry.”
“Nou goed.” Tian knik. “Ek sal – op een voorwaarde: jy sit jou rekenaar af en kom swem saam met ons.”
Ouma Ottosdal bel Hanko. “Ek het by Tian gehoor dat jy ook swaarkry. Ek respekteer julle twee dat julle Beatrice se ouers se bevele gehoorsaam en wil graag help. Daar het nou iets gebeur, Hanko, en ek het ’n plan, maar ek het jou hulp nodig.”
Hanko voel skoon lighoofdig van opgewondenheid. “Enigiets, Tannie, sê net wat ek kan doen.”
“Nou kyk, ek en daardie twee hardekopkinders van my was op pad Wesselsbron toe toe hulle bakkie breek. Na ure in die bloedige son het ’n onbekende Samaritaan by ons gestop. Die man het binne minute die bakkie weer aan die gang gekry en is net so vinnig uit ons lewens uit as wat hy daar ingery het. Hy het net genoem dat sy naam Sarel is en is weg voordat hy bedank kon word vir sy welkome hulp. Ek is seker hy het gesê het hy werk in kragverspreiding en jy ken tog baie mense in Eskom. Sal jy my help om hom op te spoor? Ek het gesien hy het ’n wit ringmerk aan sy ringvinger, wat my ’n plan gegee het.”
“Beatrice het gebel,” sê Tian ’n week later. “Sy sê haar ouma sê dankie sê, sy het vir Sarel gekry. Sy sê ook haar ouma is ’n vrou op ’n missie. Sy is glo by die Absabank in Wolmaransstad en ook by Wollies Hoërskool opgemerk.” Hy klop Hanko op die skouer. “Daai tannie gaan julle probleem uitsorteer.”
’n Maand later kry Tian ’n uitnodiging na Ouma Ottosdal se jaarlikse oggendtee.
“Ek sit saam met die spesiaal-genooide ‘inkommers’,” vertel Tian vir Hanko. “Dis nou mense wat nie van Ottosdal self is nie. Hy gee die kaartjie vir Hanko. “Kyk wie die ander tafelgaste is: Beatrice se ouers; Gunter, die bankbestuurder; Salomé, Beatrice se geliefde onderwyseres; Sarel die Samaritaan; Ou-dominee en van hulle gades. Iets is aan die broei!”
Dis die spanningvolste naweek wat Hanko nog ooit beleef het. Hy is sommer lus en ry self deur Ottosdal toe. Hy staan Tian en inwag toe hy die aand by die erf inry.
“Beatrice se ouers was baie verbaas oor Sarel se teenwoordigheid,” vertel Tian. “Hulle het almal van sy goeie daad te vertel. Die gesprekke om die tafel was jolig en opgeruimd en almal het mekaar se geselskap terdeë geniet. Na die meeste mense vertrek het, kon Beatrice se ma nie uitgepraat raak oor die oulike geselskap aan hulle tafel nie – Gunter, Salomé, Sarel … sout-van-die-aarde-mense, ordentlik, maklik om te respekteer.
“Dit was net waarvoor Ouma Ottosdal gewag het. Sy het vooraf vir my gesê ek moet bly sit tot sy sê ek mag ry. Sy kyk Beatrice se ouers so half snaaks aan, en sê: ‘Hierdie mense met wie julle so danig is, weet julle wat hulle gemeen het?’
“'Nee, Ma.' Totaal verbaas.
“‘Ieder van hulle was al voorheen getroud.’ Sy het na hulle geskokte gesigte gekyk en haar arms gekruis. ‘Ja, dis reg. Betroubare Gunter, wie julle met julle geld vertrou; Salomé, wat julle kinders geleer het; en goeie Sarel wat julle uit jul nood gehelp het. Hulle is alger deur mislukte huwelike.’
“Sy kyk toe vir my.” Tian klop Hanko op die skouer. “'Nou’s dit jou beurt, Tian. Jy’t saam met Hanko studeer, julle deel ’n huis. Vertel bietjie oor Hanko as jou vriend, waarom hy moes skei.’ Nadat ek klaar is, draai sy na Dominee toe. 'Nou beantwoord jy enige vrae wat hulle nog mag hê oor waarom Hanko Bakkes nie weer ’n kans kan kry om vir hul geliefde Beatrice se hand mee te ding nie!’”
Tian sug simpatiek: “Beatrice se ouers was uitgeboul, stomgeslaan. Heelwat vrae later roep Beatrice se pa haar waar sy in die kombuis doenig is. Voor ons almal, sê hy: ‘My kind, ons was verkeerd oor ons vooroordele met Hanko. Vergeef ons asseblief. As julle julle verhouding wil hervat, gaan voort met ons seën.’”
Hanko staar verstom toe Beatrice om die hoek stap en aankondig: “Ek het saam met Tian hierheen gery, want ek wil self die res van die storie vertel.”
Hanko, steeds stom, sien die donker kringe onder haar pragtige oë.
Beatrice val dadelik met die deur in die huis: “Ek kon my ore nie glo toe my pa dit sê nie. Ek het sommer almal in die groep op die mond gesoen – vir Ouma Ottosdal drie keer! Toe het ek gereël om nou hier by jou te kan wees.”
Die volgende dag is dit asof hulle van voor af moet leer om uit te gaan. Hierdie onverwagse wending is vir hulle amper te groot om te hanteer. Hulle gaan elke aand uit, deel hartsgeheime tot hanekraai en elke woord en soen kry nuwe betekenis.
Die Vrydag voor hy haar terugneem huis toe, wil hulle die aand gaan uiteet, maar Hanko noem dat die Honda lol. Want hy soek ’n rede om vir Beatrice naby ’n kolossale elektroniese advertensiebord by Cresta te kry. Hy’t ’n week se advertensietyd gekoop, ’n “advertensie” ontwerp, en gereël dat die volle week se vertonings hiervan op hierdie enkele Vrydagaand vertoon sal word. Die 30-sekonde-advertensie sal ongeveer elke drie minute verskyn.
Op pad eetplek toe laat Hanko die Honda met opset stol, en hy troetel die Honda tot op ’n verkeerseiland in Judgesrylaan, van waar Beatrice die groot advertensiebord met sy helder beelde onbelemmerd kan sien: Snoopy, die strokiesprentkaraktertjie, met ’n groot bos rooi rose, op sy knieë met die flitsende woorde: “Beatrice … trou met my ... ‘seblief.” Dan rol die beeld af en Snoopy keer glimlaggend terug met en ’n groot rooi hart in sy arms.
Sy begin te giggel. “Is dit jy?” vra sy toe Hanko met ’n breë glimlag om die enjinkap van die Honda loer.
Hanko knik tevrede.
“Vra jy my regtig om te trou?”
Hy knik weer, sy glimlag nou nog breër.
Hanko haal ’n opvoutafeltjie en stoeltjies uit die kattebak en slaan dit reg langs Judgesrylaan op. Hy gooi ’n tafeldoek oor, bring ’n piekniekmandjie en ’n kers te voorskyn. Beatrice staar hom met opgewonde verbasing aan.
Die kaviaar en vonkelwyn ontplof behaaglik teen hul verhemeltes en geamuseerde voetgangers moedig Beatrice luidkeels aan om "ja" te sê.
“Jy het nog nie geantwoord nie?” vra Hanko huiwerend toe hulle twee ure later begin oppak. Sy glimlag vir hom, onnutsig, en sy’s op daardie oomblik vir Hanko mooier as wat sy ooit was.
“Oukei, ek sal …” sê sy.
En hulle soen met oorgawe terwyl Snoopy glimlaggend van bo af op hulle neerkyk.
![]()
The post Die tafeltjie langs Judges-rylaan appeared first on LitNet.