Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21823 articles
Browse latest View live

Persvrystelling: Irma Eloff nuwe voorsitter die van SA Akademie

$
0
0

Irma Eloff

Geskiedenis is gister in Pretoria gemaak met die aanwysing van Irma Eloff as Voorsitter van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as opvolger van Wessel Pienaar van die Universiteit van Stellenbosch. In sy bestaan van 108 jaar is Eloff slegs die tweede vrou wat voorsitter van die Akademie word na Elize Botha wat tussen 1990 en 1992 die eerste vroulike voorsitter was. Eloff was die sewende en eerste vroulike dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit van Pretoria en het haar termyn as dekaan pas beëindig. Tans is sy professor in Opvoedkundige Sielkunde aan die UP. Sy het haar BA-graad aan die Noordwes-Universiteit behaal en vervolgens nagraadse kwalifikasies verwerf aan die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch. Eloff was tussen 2001 en 2002 besoekende professor by Yale Universiteit in die VSA en was gasdosent onder meer by die Universiteit van Innsbruck, die Universiteit van Wisconsin, Fordham Universiteit en die Universiteit van New York. Sy het in 2014 die International Aids Society se Prys vir Uitnemendheid in VIGS-navorsing met betrekking tot kinders gewen. Akademiese handboeke en talle navorsingsartikels het reeds uit haar pen verskyn. Sy is ’n geregistreerde psigoloog.

Oppel Greeff, voormalige hoof van die Departement Farmakologie by die Universiteit van Pretoria en tans mediese direkteur van Cytespace SA (Edms), is aangewys as Ondervoorsitter. Ander lede van die Raad wat vir ′n nuwe termyn verkies is, is Anne-Marie Beukes van die Universiteit van Johannesburg, Japie Engelbrecht (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit), Ilse Feinauer (Universiteit Stellenbosch), Fransjohan Pretorius (Universiteit van Pretoria), Hennie van Coller (Universiteit van die Vrystaat), Helena van Coller (Rhodes-Universiteit), Kobus van der Walt (Noordwes-Universiteit), Leopold van Huyssteen (Universiteit Stellenbosch) en Cassie Carstens (Pretoria). Kobus Eloff, Ina Wolfaardt-Gräbe en Rudolph Botha is ex officio-lede. Dit is die eerste keer in die SA Akademie se geskiedenis dat pa en dogter, Hennie en Helena van Coller, gelyktydig in die Akademieraad dien.

Benewens Eloff se geskiedkundige aanstelling het die SA Akademie ook sy nuwe gebou in gebruik geneem. Die drieverdiepinggebou is ′n toevoeging tot die geskied­kundige Engelenburghuis in Ziervogelstraat, Arcadia langs die Uniegebou.

The post Persvrystelling: Irma Eloff nuwe voorsitter die van SA Akademie appeared first on LitNet.


On the brink by Claire Bisseker: book launch

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir niefiksie 2017 – Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, Elsabé Brits

$
0
0

Kyknet-RapportBoekpryse600

Waarom gryp sekere lewens uit die verlede ’n mens steeds aan, meer as ’n honderd jaar later? Waarom klink sekere stemme uit die verlede vandag byna net so helder en dringend as ’n eeu gelede?

In die geval van Emily Hobhouse en ander soos sy is dit dalk omdat die vrae wat hulle aan hulself en aan ander gevra het, oor tydsgrense heen relevant bly. Vrae soos:

Aan wie en wat is ’n mens lojaliteit verskuldig?

Wat beteken verraad?

Watter ideale is die moeite werd om nagestreef te word?

Hoe lyk ware medemenslikheid?

Elsabé Brits se biografie oor Emily Hobhouse is nie die eerste oor hierdie figuur nie. Oor die jare heen is daar al heelwat oor hierdie kampvegter vir menseregte en voorstander van pasifisme geskryf. Nietemin spreek Geliefde verraaier tot die hedendaagse leser nie in die eerste plek danksy nuwe inligting oor veral die persoonlike lewe van hierdie bekende en geliefde historiese figuur nie, maar omdat die verhaal op so ’n manier aan ons hervertel word dat Hobhouse weer opnuut herkenbaar word.

Pertinent in Brits se biografie is die skakel tussen Hobhouse se werk om die lot van vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog te verbeter en haar humanitêre werk elders, soos haar ondernemings om vrede te probeer bewerkstellig gedurende die Eerste Wêreldoorlog en haar selflose diens en fondsinsamelings vir Duitse vroue en weeskinders. Die Hobhouse wat na vore kom uit Brits se vertelling is nie net ’n vreeslose kampvegter nie, maar ook juis ’n mens van vlees en bloed – iemand met angste, liefdes, teleurstellings, twyfel. Dalk is dit juis in hierdie broosheid in die aangesig van geweld en politieke vergrype dat die leser by die heldin van Brits se boek oor ’n eeu heen aanklank vind. 

Brits se herbesoek aan bronne oor Hobhouse stel ons in staat om opnuut in hierdie merkwaardige vrou die eienskappe te sien wat aan die kern lê van ons universele menslikheid – die vermoë om te empatiseer met die onderdruktes, op te staan vir reg en geregtigheid selfs teen ’n hoë persoonlike en politieke prys, om nood en lyding te verlig ongeag waar dit voorkom.

Sy word uitgekryt as verraaier deur diegene wat vlag en vaderland belangriker ag as gelykheid en geregtigheid, maar bly onwrikbaar glo in menswaardigheid wat geslag, party of velkleur te bowe gaan. Haar ywer om die onreg in die konsentrasiekampe aan die kaak te stel spruit uit dieselfde bron as haar vredeswerk in Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog,  haar identifikasie met stemreglose vroue en haar besorgdheid oor immigrante, die Indiërvraagstuk en die lot van swart Suid-Afrikaners.  Dit val op uit Brits se vertelling dat Hobhouse hierdie verskillende strydkwessies nie kompartementaliseer nie, maar met mekaar verbind. Sy huiwer nie om dit onder die aandag van magshebbers en invloedrykes te bring nie, selfs al weet sy dat dit teen hul grein ingaan. Slagofferskap was vir haar die basis van solidariteit.

Hoewel Hobhouse se kritiek op die konsentrasiekampe indertyd toegeëien is vir die saak van Afrikanernasionalisme, het sy haarself duidelik uitgespreek teen die onreg wat swart Suid-Afrikaners tydens die oorlog aangedoen is.  Hoewel Brits se boek dit nie eksplisiet aanraak nie, kom Hobhouse se boodskap dermate duidelik uit haar vertelling na vore om ons vandag steeds te laat let op die bitter erfenis van sowel kolonialisme en apartheid wat ons steeds daagliks mee te kampe het. Maar dit noop ons ook om, soos Hobhouse, op te staan wanneer ons hernieude voorbeelde van magsvergrype rondom ons sien. Brits skets Hobhouse as die vergestalting van verset soos dit in die woorde van die Nederlandse digter Remco Campert gedefinieer word: Om aan jouself ’n vraag te vra, daarmee begin verset - en om dit dan aan ’n ander te vra.

Brits se boek noop ons om in die Suid-Afrika van vandag weer hierdie kritiese vrae te vra oor menswaardigheid, gelykheid, en weerstand.

Brits bied die vertelling hiervan in kort en bondige hoofstukke aan, in gemaklike trant en met joernalistieke deeglikheid. Haar boek is ’n intieme en persoonlike dokument wat haar onderwerp sagkens en byna liefderyk hanteer, gerugsteun deur ’n visuele aanbieding wat, te oordeel aan die boek se sukses tot dusver in die handel, byklank vind.

Vir die toeganklike aanbieding, relevansie vir vandag se politieke kwessies en deeglike herbesinning oor historiese materiaal, is Emily Hobhouse: Geliefde verraaier die wenner van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir niefiksie.

Video: Commendatio deur Herman Wasserman en dankwoord deur Elsabé Brits.

Lees ook:

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Elsabé Brits en Elsabé Brits se essay oor Emily Hobhouse.

The post Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir niefiksie 2017 – <i>Emily Hobhouse: Geliefde verraaier</i>, Elsabé Brits appeared first on LitNet.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2017 – Huilboek, Ryk Hattingh

$
0
0

Kyknet-RapportBoekpryse600

Die wenboek van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie is ’n verhaal wat oor baie dinge gaan. Een daarvan is taal en verlange, hoe die taal Afrikaans self  ’n uitdrukking word van ’n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek ’n liefdesbrief van ver af, sonder adres.

Die onheelbare pyn van ’n vader wat nie van sy seun gehou het nie is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kan kom nie.

Daar is die deurlopende metafore van tuinmaak en fisieke pyn, wat albei tog wel by ’n troospunt uitkom. Tuinmaak, deur die onmiddellike genoegdoening daarvan maar veral die plant van bome met hul gestadigde ontplooiing en uitgestelde bevrediging. En die kniebesering wat hom in sy heling nie laat aanjaag nie, maar tog na ’n brose verbetering neig. Dit is net deur groot geduld en eintlik deur lydsaamheid dat die kniebesering verduurbaar met die lewe van  die skrywer geïntegreer kan word – wat ’n beeld skep vir die modus van lewe wat nodig is om met die ander, groter breuke van die bestaan saam te leef.

Een van die groot deugde van die boek is hoe sy onderwerpe nie direk nie maar sydelings, indirek in die loep gebring word – waarvan een van die vernaamste instansies Outa Toon is. Die verteller eerbiedig die (vir hom) onuitspreeklikheid van hierdie mens se lewe in so ’n mate dat hy dit nie eens deur sy verbeelding wil aantas om vertelling daarvan te maak nie.

Die boek hou sonder uitsondering ’n fyn balans, ’n subtiliteit van segging, ’n beskeie toon en algehele gebrek aan selfkoestering. So word dit nooit swaartillend nie, en die ligte, deernisvolle humor weerhou dit geheel en al van selfbejammering. En ondanks die feit dat emosie nêrens getap word nie, getuig menige resensent en  leser dit is een van die emosioneel aangrypendste boeke wat hulle in ’n lang tyd gelees het.

Soos Hy kom met die skoenlappers van Valda Jansen, die wenboek van vanjaar se Jan Rabie-Rapportprys, presteer Huilboek deur sy sagkense behandeling van groot dinge, die manier waarop hy persoonlike pyn uiteindelik, sonder politieke grandstandery, vestig in die konteks van ’n hele land se trauma.

Huilboek is ’n prestasie in hoe groot kragte in beweging gestel kan word deur ’n minimum aan woorde en vertoon  – ’n waardige wenner van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie.

Video: Elmari Rautenbach lewer die commendatio

Lees ook:

Lees Reinhardt Fourie se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Ryk Hattingh.

The post Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2017 – <i>Huilboek</i>, Ryk Hattingh appeared first on LitNet.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 – Al wat ek weet, Maria van der Vyver

$
0
0

Kyknet-RapportBoekpryse600

In die gees van die boek:

Dis ’n ou-ou storie wat ek nou gaan vertel

van ’n beautiful girl met ’n spierwit vel …

Jy ken haar van kleins af, kom ons noem haar Snow White

sy’s mooi soos ’n prinses en boonop bright

haar mense is ryk, sy woon in ’n paleis

met ’n security gate, ja, daai soort huis

Aan die woord is  Gabriel, hoofkarakter in Marita van der Vyver se eietydse jeugroman, Al wat ek weet, ’n straatwys boek wat getuig van diepgaande insig, nie net in die leefwêreld van tieners nie, maar in die onversuikerde werklikhede waarmee jonk én oud te kampe kry in ons bestaan op die ondermaanse.

In post-Apartheid Suid-Afrika kom dié tienerseun van gemengde afkoms vroeg te staan voor groot struikelblokke in die lewe,  ’n moeder wat sterf in ’n tragiese ongeluk, die gebrek aan kommunikasie met sy eens slimme pa wat hy eendag in ’n huilende bondeltjie onder sy lessenaar aantref. Endemiese rassisme.

Sonder rigtingwysers voer Gabriel ’n stryd met woede, met min-verstaan, en dan, eendag, uit die bloute, nogal by sy terapeut se praktyk, ook met ontluikende liefde. Die Snow White van sy drome. Hoe vind hy sy weg? Belangriker nog: Hoe vind hy sy stem? Daardie Eureka!-oomblik wanneer dinge veronderstel is om vir jou in plek te val?

Gabriel ontdek dit uiteindelik in sy eie komposisies van  rap songs, ’n genre wat hom toelaat om sy woede om te sit in woorde, een wat hom die moed gee om op ’n verhoog te klim en sy diepste wese aan ’n gehoor te ontbloot:

Jy sê ek lyk vir jou bruin

Ek sê hey no pain no gain

Jy sê ek is taamlik swart

Ek sê nee net so ’n kwart

Jy sê is ek dan ’n Boer?

Ek sê: Ag vlieg in jou moer

Die reaksie van ’n gehoor op ’n kunstenaar se werk is die magiese oomblik waarin “kuns” geskep word, en wanneer ’n kunstenaar sy reg op bestaan ontdek. In Gabriel se geval ook ’n rede om die lewe vierkant in die oë te kyk.  

Dit alles met die ligte, vaardige hand van Marita van der Vyver aan die stuur in ’n verhaal wat smeek om verfilm te word. Dink – nét vir ’n oomblik – aan die nuwe Afrikaanse treffers wat hierdie film gaan oplewer – die eerste volwaardige HipHop-fliek in Afrikaans!

Video: Commendatio deur Herman Binge en dankwoord deur Marita van der Vyver.

Lees ook:

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Marita van der Vyver.

The post Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 – <i>Al wat ek weet</i>, Maria van der Vyver appeared first on LitNet.

Commendatio: Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutfiksie 2017 – Hy kom met die skoenlappers, Valda Jansen

$
0
0

Kyknet-RapportBoekpryse600

Valda Jansen se debuutroman word op die omslag as ’n elegie aan verlore liefde bestempel. En dit is hierdie merkwaardige boek wel, maar dis ook in verskeie opsigte veel meer. Jansen se subtiele liefdesverhaal gryp terug na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, maar gee ’n vars inkleding danksy die tematiese bewussyn van die politieke geskiedenis wat alles onderlê, en die vorms van die liefde wat die verloopte Suid-Afrikaner vandag dwing om die verskeie aangesigte van daardie liefde te aanvaar, asook die berou wat daarmee saamgaan.   

Wanneer die ek-verteller probeer sin maak van die redes waarom sy haar Oos-Duitse beminde, Anders, se liefde nooit heeltemal beantwoord het nie, dwaal sy terug deur haar dae as uitruilstudent in Jena, ’n ongelukkige huwelik in Johannesburg en ambivalente ervarings van moederskap tot in haar kinderjare in die Strand. Só word Hy kom met die skoenlappers ’n pynlik intieme en deurtastende verkenning van al die maniere waarop ’n hele lewe soos een byna noodwendig verspeelde kans kan voorkom.

Jansen kleur nie dit wat persoonlik is ooit met groot politieke stellings nie, maar wys hoe onontwarbaar die persoonlike en die politieke in Suid-Afrika verstrengel is. Haar debuut gee ’n aangrypende en ontstemmende blik op ’n bevreemdende, bruin middelklas-ervaring van apartheid; ’n genuanseerde perspektief op ’n benarde posisie wat nog bitter min in Afrikaanse fiksie belig is. “Ek was nie ’n heldin nie ek was nie in die struggle nie ek is nie gemartel nie ek is nie verban nie ek het nie gely vir my land nie ek het nie baklei nie ek is nie in die tronk gegooi nie,” verklaar Jansen, maar deur die loop van haar vertelling word dit duidelik hoe die ek-verteller nogtans deur onwrikbare politieke werklikhede van haar eie land en taal vervreem is.

Hy kom met die skoenlappers is ’n roman wat lees soos ’n memoir oor die gisters wat nooit heeltemal verby kan wees nie. Dit wentel om die maniere waarop die verlede die lewe van die moderne Suid-Afrikaner steeds vorm, wring en temper.

Wyle Jan Rabie sou sekerlik baie bly gewees het om te hoor ’n prys wat sy naam dra, is aan hierdie uitsonderlike debuut van Valda Jansen toegeken.

Video: Dankwoord deur Valda Jansen

Lees ook:

Lees Karin Schimke se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Valda Jansen.

The post Commendatio: Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutfiksie 2017 – <i>Hy kom met die skoenlappers</i>, Valda Jansen appeared first on LitNet.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Niefiksie – Emile Joubert

$
0
0

Emile Joubert – “Die afkook van ’n vol lewe vind hier beslag” (oor Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman met Elmari Rautenbach, Media24-dagblaaie, 31 Oktober 2016)

 

Dis maklik om te motiveer waarom Emile Joubert se resensie van Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman en Elmari Rautenbach vanjaar die koek gevat het in die niefiksie-kategorie. Asof hy keurig tafel dek skep Joubert konteks vir die leser, sodat selfs diegene wat nie bekend is met Veldsman nie, ’n goeie beeld kry van die wêreld waarbinne die boek en persoonlikheid figureer. Verder posisioneer die lekker lywige inleiding die boek ook binne die kontemporêre koswêreld met sy ooraanbod celebrity-sjefs, kinderkokkies, kosboeke, kookprogramme en ander kulinêre vermaak in verskeie media, en maak dit uit die staanspoor duidelik dat die boek wat geresenseer word vir hom as leser uitstaan bo die geroesemoes.

Die voorbeelde wat hy aanhaal om sy mening oor die boek te motiveer, is goed uitgekies: dit gee ’n uitstekende voorsmakie van wat ’n mens van die boek te wagte kan wees, en daar is net mooi genoeg om te verseker dat die leser van die resensie lus gaan wees vir nóg. Die gemaklike, ongedwonge toon van Joubert se resensie voer jou enduit mee, en die keurders beskryf sy taalgebruik as “vlugvoetig” en “smaaklik”. Die taalgebruik pas verder goed aan by die onderwerp, en die kosbeelde waarmee die resensent sy resensie geur word netjies deurgevoer. In die kombinasie van toon en taalgebruik kan ’n mens die resensent se entoesiasme vir die boek aanvoel, en dit is inderdaad aansteeklik: selfs al is mens nie ’n groot kosmaker of Veldsman-aanhanger nie, is daar genoeg hier om mens nuuskierig te maak, en leeshonger. Hierdie resensie is ’n uitstekende voorbeeld van toeganklikheid, sonder om gehalte prys te gee. Joubert het duidelik self kennis oor en waardering vir kos en dit vind neerslag in die resensie – welgedaan ook aan die boekeredakteur vir ’n goeie pairing van boek en resensent. Die resultaat is goed genoeg vir ’n fynproewer.

The post Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Niefiksie – Emile Joubert appeared first on LitNet.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Fiksie – Danie Marais

$
0
0

Danie Marais – “Die Kook en geniet van oneerbiedigheid” (oor Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix 17, Media24-dagblaaie, 4 Julie 2016)

 

Danie Marais se diepgaande kennis oor die onderwerp waaroor hy skryf verhef sy resensie van Bitterkomix 17 tot ’n hoër vlak. Nuwe lesers – diegene wat nie bekend is met Bitterkomix en die werk wat deur die jare in dié comic-tydskrif gepubliseer is nie – word gou op die hoogte gebring met ’n deeglike, bondige terugblik wat inlig en kontekstualiseer sonder om vervelig te raak.

Hier het ons nie net gewoon ’n resensie van ’n teks nie: die resensent bou ’n boeiende storie rondom die fenomeen van (wit) verset, en bied Bitterkomix as gevallestudie aan. Buiten die beoordeling van Bitterkomix word dit ook ’n beskrywing van onlangse politieke en artistieke geskiedenis wat vir die leser waarde toevoeg. Dis ook nie ’n geval van ’n “anonieme” resensent wat “objektiwiteit” probeer voorgee nie: die resensie toon ’n eie visie en mening oor méér as net die boek wat ter sprake is. Daar is ’n opstapeling van feite oor die inhoud en samestelling van hierdie spesifieke uitgawe van die comic-tydskrif wat telkens ook lei na ander aanvullende inligting en verdere konteks.

Daar is werklike diepgang in Marais se beskouing van Bitterkomix en ’n wye verwysingsveld word by sy bespreking betrek – van die filosoof Slavoj Zizek tot die Poolse digter en Nobelpryswenner Wislawa Szymborska en die akademikus Christi van der Westhuizen – maar die resensie verval nooit in ’n vaal Akademiaans nie. Die liefde, respek en geesdrif waarmee hy oor sy onderwerp skryf sleur die leser mee, sodat selfs diegene wat nie gewoonlik comics lees nie uiteindelik met nuwe oë na die hele genre móét kyk.

Marais se taalgebruik is beeldryk en lewendig, en die leser van die resensie kan hom- of haarself aan sy aanwending van subtiele humor verkneukel sonder om ooit te voel dat iets belaglik gemaak word of afgelag word. Die resensie is ’n skitterende voorbeeld van hoe die gesprek rondom boeke kan uitkring en deel word van die breër diskoers rondom politiek, seksualiteit en identiteit – eintlik enige onderwerp of aktuele kwessie – en lesers bedag kan maak op gebeure en ontwikkelinge in die boekwêreld, maar ook in die breër samelewing.    

The post Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Fiksie – Danie Marais appeared first on LitNet.


Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Gister is verby deur Juanita Aggenbach

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Juanita Aggenbach

Juanita Aggenbach is in 1976 gebore. Sy verwerf honneursgrade in sielkunde aan die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch en ’n honneursgraad in Kriminologie, waarna sy as sielkundige berader en kriminologiedosent werk. Haar derde roman is in 2016 vir ’n ATKV Woordveertjie benoem. Juanita woon in Durbanville met haar man en twee dogters.


Opsomming

Gister is verby
Juanita Aggenbach

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176323

’n Deernisvolle verhoudingsroman oor borskanker en die invloed daarvan op verhoudings. Nadine se wêreld stort in duie wanneer ’n doodgewone doktersafspraak ’n skrikwekkende vonnis oplewer. Skielik moet sy nie net borskanker se onmenslike aanslae op haar gesondheid, menslikheid en vroulikheid leer hanteer nie, maar ook die reaksies van hul vriendekring en haar man, Pierre. Maar ook Pierre voel magteloos. Hy soek desperaat na antwoorde en begin stelsematig sy plek in hul verhouding bevraagteken. Hoe het hulle onderskeie rolle binne hulle huwelik verander? Sal hulle ooit eendag ouers kan wees?

Hoe leer Nadine en Pierre om mekaar weer opnuut te ondersteun? In Gister is verby wys Aggenbach hoe geliefdes, te midde van talle strukelblokke, kan groei en saam sterk kan word.


Uittreksel

Die muurhorlosie in die sonarvertrek tik in duidelike slae die sekondes af.

Nadine sluk. “Kan ek net eers my man bel?”

Dokter Neethling vang die sonar-tegnikus se oë voor hy simpatiek na haar kyk. “Natuurlik.”

Met snel gedagtes en trae hande trek Nadine die bra en bloes wat sy in die aantrekhokkie gelos het aan. Haar hart klop angstig in haar ore. Sy sit haar handsak oor haar skouer en stap nikssiende tot by haar motor in die parkeerarea.

Die motor is warm van die heelmiddag se staan in die son.

Sy draai die venster af en bel vir Pierre wat bly klink om haar stem te hoor.

Die groeiende vrees vir die draaikolk wat haar intrek kry die oorhand en sy snik ’n groet uit.

“Wat gaan aan? Was jy in ’n ongeluk?”

“Die ginekoloog het my vir ’n mammogram gestuur en . . .”

Nog ’n snik smoor verdere woorde.

“Nadine?”

Sy vee haar nat hande aan haar broek af. “Hulle wil ’n biopsie doen. By ’n chirurg. Nou.”

“Ek is op pad.”

Nadine kyk na die foon wat skielik stil in haar hand geword het. Pierre is op pad, eggo dit terwyl sy die venster weer toedraai en terugstap hospitaalgebou toe, na ’n onbekende dokter Van Zyl toe wat haar haar bloes en bra laat uittrek.

“Kom ons begin by die begin,” sê dokter Van Zyl. “Het jy enige trauma, soos ’n harde stamp op jou bors gehad?”

Nadine hou die dun jurkie wat hy haar gegee het om haar mee te bedek toe waar sy op die ondersoekbed sit. Dokter Neethling het dieselfde gevra voor hy haar vir die mammogram gestuur het. “Nie wat ek kan onthou nie. Kan ’n stamp so iets veroorsaak?”

“Trauma van die bors veroorsaak nie kanker nie, maar dit kan lei tot vetnekrose in ’n gebied waar die weefsel beseer was. Die vet in die selle word dan vrygestel in die weefsel en veroorsaak ’n inflammatoriese respons wat as ’n knop gevoel word. Jy kan maar plat lê, asseblief.”

Sy maak haar oë toe toe hy die bietjie bedekking wegneem.

“Ek gaan eers doodspuit. Dis gevoelig, ek is jammer.”

Skok stol in haar keel toe sy die eerste brandsteek langs haar tepel voel. Nog ’n steek laat haar die laken in haar linkervuis vasgryp.

Nog ’n keer. En weer. Dis sigaret-teen-die-vel-dooddruk-seer. Sy is uitasem toe die naald ’n vyfde keer haar liggaam binnedring.

“Doen jy al die biopsie?”

“Nee, ek spuit nog net dood. Ek is jammer, ek weet dis seer.”

Sy klem haar kake saam en kry eers ordentlik lug in haar longe toe hy ná die sesde keer die inspuitnaald eenkant sit.

“Ons gaan ’n trucut-biopsie doen.” Hy tel ’n dik naald op.

“Hiermee verwyder ons ’n strooitjie weefsel uit die knoppie in jou bors en stuur dit na ’n patoloog om te bepaal of dit kankerselle bevat. Is jy reg?”

Toe die dikker naald deur haar vel breek, gryp sy die laken met haar linkerhand vas en draai haar kop na die muur toe.

Pierre blaas gefrustreerd sy asem uit toe die parkeeraanwyser beduie dat al die plekke gevul is. Die hartklop wat in sy keel hamer, het nog nie bedaar vandat hy Nadine se oproep gekry het nie.

Verwoed maak hy ’n driepuntdraai en stuur die motor na die dakparkering verste weg van die hospitaal se ingang. Hy parkeer skeef in die eerste oop plek en sluit die motor met die afstandbeheer toe hy al ’n paar treë daarvan weg is.

Daar is niemand by die ontvangstoonbank nie. Die klerk by die fotostaatmasjien neem ’n ewigheid om om te draai van waarmee sy ook al besig was.

Hy tik met sy vingers op die toonbank. “Ek soek na die ginekoloog by wie my vrou was.”

“Hier is vier ginekoloë by ons.” Sy kyk oor haar bril na hom.

“Het u dalk die dokter se van?”

“Nee.”

“Ek skakel hulle sommer gou. Wat is u vrou se van?”

“Duvenhage.”

“U vrou was by dokter Neethling,” sê die klerk toe sy die foon neersit. “Sy is nou by dokter Van Zyl, die chirurg. Volg net die gang, draai regs en weer regs, sy spreekkamer is aan die linkerkant.”

“Dankie.”

Pierre haas hom die gang af. Hy het geweet daar is fout. Die eerste keer toe hy bloed op Nadine se bra gesien het, het hy vir haar gesê om by ’n dokter uit te kom.

Maar toe weet sy mos beter, wil vir hom vertel dis weens haar baie oefening. Watse snert.

Die vrou by die chirurg se ontvangs lyk of sy reeds opgepak het vir huis toe gaan. “Middag, meneer. Kan ek help?”

Hy laat rus beide sy hande op die toonbank. “Ek hoor my vrou is by dokter Van Zyl. Nadine Duvenhage?”

Die vrou knik. “Sy behoort nie meer lank te wees nie. U kan gerus sit.”

Hy kies ’n sitplek in die verlate wagkamer en tel die boonste van die stapel tydskrifte op. Hoe lank neem ’n biopsie? Wat behels ’n biopsie?

Blindelings blaai hy deur die tydskrif. Maak dit toe en sit dit neer. Wie probeer hy bluf?

“Ons is klaar.” Dokter Van Zyl lyk verlig toe hy die naald neersit. Nadine vou die jurk oor haar borste toe. “Wanneer kry ek die uitslag, dokter?”

“Ons behoort jou teen môre al te laat weet.” Hy trek die handskoene van sy hande af. “Gaan nou huis toe en ontspan. Jy het ’n lang middag agter die rug.”

Om haar bors wat so seer klop te lawe skuif Nadine dieper onder die water in. “Ek moes ná die mammogram werk toe bel om die middag af te vra. En dít drie weke nadat ek daar begin het.”

Pierre leun oor om nog warm water in die bad te tap. “Het jy vir hulle gesê hoekom?”

“Ja. Hannah het net gesê: ‘You gotta do what you gotta do.’”

“Ek is seker hulle sal nie ’n issue hê nie.”

Sy vee met haar nat hande oor haar gesig. “Ek kan nie gló wat vandag gebeur het nie. Hier gaan ek vir my gewone jaarlikse ondersoek ginekoloog toe en om met dokter Neethling te praat oor ons met ’n gesin wil begin. Toe kry ek nie eens kans om hom te vra oor die Pil wat ek vandag wou los nie.”

“Hy het duidelik belangriker dinge gehad om te hanteer.”

Pierre begin sy lyf inseep, ’n seker teken dat hy nie verder daaroor wil praat nie.

Sy steek haar hand uit om aan hom te raak. “Ek is jammer.”

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Gister is verby</i> deur Juanita Aggenbach appeared first on LitNet.

Foto's en video's: kykNET-Rapport Boekpryse 2017

$
0
0

Die wenners van die kykNET-Rapport Boekpryse – die grootste pryse in hul soort in Afrikaans – is op Saterdag 30 September 2017 in Kaapstad bekend gemaak. Die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuutroman in Afrikaans asook die twee kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is by dieselfde geleentheid oorhandig. Foto's en video's: Naomi Bruwer

Waldimar Pelser van Rapport en Karen Meiring van kykNET was die seremoniemeesters vir die aand.

Die kykNET-Rapport Boekprys vir niefiksie 2017 is toegeken aan Elsabé Brits vir Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. 

Video: Commendatio deur Herman Wasserman en dankwoord deur Elsabé Brits

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir niefiksie 2017 – Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, Elsabé Brits

Herman Wasserman
Boeke en skrywers

"Die Hobhouse wat na vore kom uit Brits se vertelling is nie net ’n vreeslose kampvegter nie, maar ook juis ’n mens van vlees en bloed – iemand met angste, liefdes, teleurstellings, twyfel."

Die kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2017 is toegeken aan Ryk Hattingh vir Huilboek.

Video: Elmari Rautenbach lewer die commendatio.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2017 – Huilboek, Ryk Hattingh

Frederik de Jager
Boeke en skrywers

"Huilboek is ’n prestasie in hoe groot kragte in beweging gestel kan word deur ’n minimum aan woorde en vertoon – ’n waardige wenner van vanjaar se kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie."

Ryk Hattingh

Die kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 is toegeken aan Marita van der Vyver vir Al wat ek weet.

Video: Commendatio deur Herman Binge en dankwoord deur Marita van der Vyver

Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 – Al wat ek weet, Maria van der Vyver

Herman Binge
Boeke en skrywers

"Dink – nét vir ’n oomblik – aan die nuwe Afrikaanse treffers wat hierdie film gaan oplewer – die eerste volwaardige hip-hop-fliek in Afrikaans!"

Die Jan Rabie-Rapportprys is vanjaar toegeken aan Valda Jansen vir Hy kom met die skoenlappers.

Video: Dankwoord deur Valda Jansen

Commendatio: Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutfiksie 2017 – Hy kom met die skoenlappers, Valda Jansen

Danie Marais
Boeke en skrywers

"Hy kom met die skoenlappers is ’n roman wat lees soos ’n memoir oor die gisters wat nooit heeltemal verby kan wees nie. Dit wentel om die maniere waarop die verlede die lewe van die moderne Suid-Afrikaner steeds vorm, wring en temper."

Die kykNET-Rapportprys vir Boekresensent van die jaar: Fiksie is toegeken aan Danie Marais.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Fiksie – Danie Marais

Bibi Slippers
Boeke en skrywers

"Die resensie is ’n skitterende voorbeeld van hoe die gesprek rondom boeke kan uitkring en deel word van die breër diskoers rondom politiek, seksualiteit en identiteit – eintlik enige onderwerp of aktuele kwessie – en lesers bedag kan maak op gebeure en ontwikkelinge in die boekwêreld, maar ook in die breër samelewing."

Die kykNET-Rapportprys vir Boekresensent van die jaar: Niefiksie is toegeken aan Emile Joubert.

Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Niefiksie – Emile Joubert

Bibi Slippers
Boeke en skrywers

"Hierdie resensie is ’n uitstekende voorbeeld van toeganklikheid, sonder om gehalte prys te gee."

Die wenners: Valda Jansen, Ryk Hattingh, Marita van der Vyver, Elsabé Brits, Emile Joubert en Danie Marais

Gerrit Schoonhoven en Marita van der Vyver

Danny Titus gesels met Kenneth Makatees.

Tom Dreyer

Peter van Noord

Hester Carstens, Celesté Fritze, Hettie Scholtz en Elize Wessels

Johan van Zyl

Tracey Lange

Gerrit Schoonhoven

Herman Binge

Francois Verster

Leon van Nierop

Karen Meiring

Anneli Groenewald

Valda Jansen en Nelleke de Jager

Ryk Hattingh

 

Danie Marais

Etienne Bloemhof

Leon van Nierop en Eloise Wessels

Hettie Scholtz

 

The post Foto's en video's: kykNET-Rapport Boekpryse 2017 appeared first on LitNet.

Bybel in Kaaps: Johannes 6, deel 2

$
0
0

Johannes 6

Lees hier deel 1 van Johannes 6.

25 En toe hulle hom oorkantie see gekry het, toe vra hulle vi Hom, “Rabbi, wanne het u hientoe gekô?”

26 Toe antwoord Jesus vi hulle en sê, “Dit vesieke ek julle. Julle soek my nie ommat julle die wonnerwêke gesien hettie, maa ommat julle vannie brood geïet het en dit het julle vesadig. 27 Julle moetie wêk virrie kos wat vegaanie, maa virrie kos wat nie vegaanie en wat iewige liewe gie. Dit sallie Seun vannie Mens vi julle gie, wan God die Vader het hom die mag gegie.

28 Toe sê hulle vi hom, “Maa wat moet ôs an doen om te doen wat God wil hê ôs moet doen?” 29 Jesus antwoord hulle, “Wat God van julle af wil hê, is dat julle moet in Hom in gloe wat Hy gestuurit. 30 Hulle sê toe vi Hom, “Nou watte wonnewêke kan u doen soedat ôs dit kan sien en in u kan gloe? Wat gan u doen?” 31 Ôs se voo-oues het manna innie woestyn geïet, soes daa geskrywe staan, Hy het an hulle brood uitie hiemel uit gegie om te iet.” 32 Toe sê Jesus vi hulle, “Dit vesieke Ek julle. Dissie Moses wat vi julle die brood uitie hiemel uit gegie hettie, maa dis my Vader wat vi julle die ware brood uitie hiemel uit gie. 33 Die brood wat God gie, is Hy wat uitie hiemel uit kô en annie wêreltie liewe gie.

34 Hulle sê toe vi Hom, “Menee, gie tog altyd vi ôs hierrie brood.” 35 Jesus sê vi hulle, “Ek issie brood wat liewe gie. Wie na my toe kô, sal nooit wee honge wiesie, en wie in My in gloe, sal nooit wee dôs kry nie. 36 Maa wat julle betref, Ek het reeds gesê. Julle sien My, maa julle gloe nog steedsie in My nie.37 Elke-een wattie Vader vi My gie, sal na My toe kô; en Ek sal hom wat na my toe kô, nooit weg drukkie.

38 Ek hettie vannie hiemel af gekô om my wil te doenie maarie wil van Hom wat My gestuurit. 39 En dissie wil van Hom wat My gestuurit, dat Ek van amal wat Hy vi My gegie het, nie een velore sal laat gannie, maa hulle amal oppie laaste dag uitie dood uit sal laat opstaan. 40 En dissie wil van my Vader, dat elke-een wattie Seun sien en in Hom gloe, die iewige liewe sal hê; en Ek sal hom oppie laaste dag uitie dood uit lat opstaan.

Die Jode vestanie Jesus se woorde nie

41 Die Jode het toe gebrom ommat Hy gesê het, “Ek issie brood wat uitie hiemel uit gekommit.” 42 Hulle het gesê, “Maa is dittie Jesus die seun van Josefie? Ôs ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy dan nou sê, ‘Ek kom uitie hiemel uit’?”

43 Jesus sê toe vi hulle, “Moenie soe brom onne mekaa nie. 44 Niemand kan na My toe kô assie Vader wat My gestuurit, hom nie na My toe trekkie; en Ek sal hom oppie laaste dag uitie dood uit laat opstaan. 45 By een vannie proefete staan daa geskrywe, ‘En hulle sal amal mense wies wat deur God geleer is.’ Elke-een wat na die Vader geluiste het en van Hom geleerit het, kô na My toe. 46 Dit willie sê dat iemand anners allie Vader gesien hettie; net Hy wat van God af kô, Hy hettie Vader gesien.

47 “Dit vesieke Ek julle: Wie in my gloe hettie iewige liewe. 48 Ek issie brood wat liewe gie. 49 Julle voo-oues het innie woestyn manna geïet en nog altyd gesterwe. 50 Maa hie issie brood wat uitie hiemel kô soedat ’n mens daavan kan iet en nie sterwe nie.

51 Ek issie liewende brood wat uitie hiemel gekommit. As iemand van hierie brood iet, sal hy vi iewig liewe. Ennie brood is my liggaam wat Ek sal gie soedat die wêreld kan liewe.”

52 Die Jode het toe onne mekaa begin stry en gesê, “Hoe kan hy sy liggaam vi ôs gie om te iet?”

53 Jesus sê toe vi hulle, “Dit vesieke Ek julle: As julle nie die liggaam vannie Seun vannie Mens iet en sy bloed drinkie, het julle nie die liewe in julle nie.

54 Wie my liggaam iet en my bloed drink, hettie iewige liewe, en Ek sal hom oppie laaste dag uitie dood uit lat opstaan. 55 My liggaam issie ware kos, en my bloed issie ware drank. 56 Wie my liggaam iet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soes die liewende Vader my gestuurit, en Ek deur Hom liewe, soe sal hy wat My iet, oek deur My liewe.

58 Hierie brood wat uitie hiemel uit gekommit, issie soesie manna wat julle voo-oues geïet hettie. Hulle het dit geïet en nog altyd gesterwe. Wie hierie brood iet, sal vi iewig liewe.”

59 Dit het Jesus gesê toe Hy die mense innie sinagoge in Kapernaum geleerit.

Ongeloof en geloof onnerie dissipels van Jesus

60 Toe hulle dit hoo, het baie van Jesus se dissipels gesê, “Wat Hy darem nou sê, is darem te êg. Wie kannan daana luiste?”

61 Jesus het vanself gewiet dat sy dissipels hieroo gebrommit, en Hy sê toe vi hulle, “Maakit julle bang? 62 Wat dan nog as julle die Seun vannie Mens sien opvaar na waa Hy voorheen was? 63 Dit issie Gies wat iemand liewendig maak; die mens self dra niks by nie. Wat Ek vi julle gesê het, kô vannie Gies af en gie liewe. 64 Maa daa is party van julle wat nie in My gloe nie.”

Jesus het immers vannie begin af gewiet wie dit is wattie gloe nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65 Vêder het Hy gesê, “Daarom het Ek vi julle gesê niemand kan na My toe kô assie Vaderie dit an hom gegie hettie.” 66 Hievoo het baie van sy dissipels trug gedraai huis toe en nie mee saam met Hom gegan nie.

67 Toe vra Jesus virrie twaalf, “Wil julle nie oek weggan nie?”

68 Simon Petrus antwoord Hom, “Jirre, na wie toe sal ôs gan? U hettie woorde wat iewige liewe gie. 69 En ôs gloe vas en ôs wiet dat U die Heilige God is.”

70 Jesus het daaop vi hulle gesê, “Het Ekkie self julle twaalf uitgekiesie? En een van julle is ’n duiwel!”

71 Hy het gepraat van Judas die seun van Simon Iskariot, wan hy sou Hom verraai, hy wat een vannie twaalf was.

The post Bybel in Kaaps: Johannes 6, deel 2 appeared first on LitNet.

My Kroon

$
0
0

“Is jy seker jy sal alleen regkom by jou Tate, my kind?”

“Moenie worrie nie, Mame, die winkels wag nie.”

Hy kyk hulle agterna tot hy seker is Japie Toi se motor is op die teerpad en daar is nie meer omdraaikans nie. Hy het dié dag lank genoeg uitgestel; die afstand was sy verskoning vir sy afwesigheid. En dit terwyl hy gelate ingestem het om provinsies vol te loop smous.

Vandag is dit hy en sy pa. Sy Kroon, soos hy in die jare weg smalend aan hom gedink het. Tyd vir konsert, Tate, soos Mame en haar kerkkoor al die jare met Krismis gehou het – heel voor met haar gestyfde kraag.

Hy kry die Bybel voor sy ma se bed, verflenter soos hy dit onthou, engeltjie geplak oor die plek waar Mies Henta se naam eers was. 

“Here, ek is ’n kindjie klein, maak my rein.”

Die ou man lê in die agterste kamer. Dié steun toe hy hom toerol in die lappieskombers. Hy tel hom op en is verbaas oor hoe swaar sy pa is, al lyk hy so beenderig.

Op die stoep sit hy hom neer in die leunstoel wat terugkyk, skuur se kant toe. Sy pa se kop val half agteroor, asof hy na asem snak, en sy oë trek skrefies in die vreeslike lig wat hy nooit meer sien nie.

Hy self gaan sit op die kerkbankie oorkant hom, een van dié wat uitgedeel is met die afbreekslag van die ou wit kerk. Mame het mos daar ook uitgehelp.

Lank sit hulle so, hy en die invalide wie se oë wild in hulle kaste roer.

Hoeveel keer het hy nie hierdie toneel in sy kop laat kom nie: die dag van afrekening. Toe sy ma met Sofina saam van die beroerte laat weet het, het hy besef hy sou nie meer sy pa met geweld hoef sit te maak nie.

Hy begin blaai in die swart boek, sy vingers aan die soek na die eerste boek van Samuel.

“My Kroon,” sê hy eindelik, uit sy maag.

Die klank van die woorde wat soveel jare in hom gepiekel het, laat hom geskok stilbly. Maar dan kry hy sy keel skoon: “My Kroon, ken jy die speletjie wat ek, Naatjie, Sofina en Flora toentertyd gespeel het? ‘Koning, koning, ek wil op reis gaan.’

“Eers staan almal in ’n groot kring om die ene wat aan is. Hy moet die ander so lank moontlik van hom af weghou, dié wat sê: ‘Koning, koning, ek wil op reis gaan.’ Hulle kan op enige manier nader aan hom gaan: skuifel-skuifel, hande-viervoet hol, eenbeen spring. Hy tel en laat mens een, twee of drie treë op ’n slag naderkom voor hy skree: ‘Stop!’ Nes jy kon uitdink, kon jy vra om die koning by te kom. En of hy wil of nie, hy moet jou laat kom.

“Jy raak al hoe blyer soos jy naderkom om die koning te touch. Dis die een speletjie waar jy wil aan wees, want dan is jy die een wat die ander kan rond order, al bly jy ’n benoude baas met ’n hoed wat uit gebruikte foelie geprakseer is.

“Vandag, my Kroon, voel ek weer daardie bang blyheid om voor te wees.”

Hy kyk lank in die ou man se oë wat net nie tot rus kom nie. Hy wil hom bedink, dis nie soos die woorde moes uitgekom het nie. Hy wou eers gepraat het van ’n ander speel – van die siter.

“Dis die bose gees, my Kroon, dis wat jy sou gesê het as jy nog woorde gehad het. En dalk was dit. Eers net die wynbottel met sy uitgeklopte bodem onder die kraantjie by die boer, en later, toe die hongerloon ’n bietjie meer geword het, die vuurwater.

“Dan het jy my laat speel.”

Die bitterheid wil maak dat hy amper nie gepraat kry nie, maar dié woorde het hy oor jare op die ver paaie geoefen. 

“Met hierdie duim, met hierdie voorvinger, het ek gespeel totdat dit met jou beter geword het. Want ek was die ene wat guns in jou oë gevind het. Ek, jou Dawid, klein en rooierig.”

Sy pa se lippe trek van simpelheid oor sy tande, al in die een die hoek in.

“Die Here weet, die predikant se ‘vader van die huis’. Hoe Mame en die meisiekinders jou aanbid het.

“ ‘Ag Vossie, gaan haal jou Tate by die skuur my kind, dis al ampers donker en die diere kom al aan. Jy kyk altyd so mooi na hom.’ En ek soebat, ‘Ag, Mame, laat ’n slag vir Flora gaan.’ ”

Het sy ooit bekommerd gewees oor ’n klein kind wat skemeraand wegbly?

“Ek het nie geweet hoe dit met my is nie. Mame en die kasterolie. Dis hoe ek as Dawid gesalf gekom het. Ek was die een wat bloed geskyt het die longdrop in. Dit was my pismatras wat soggens son toe is en waaroor Mame bly skel het. Ek was die een wat my hand gewas en gewas het by die pomparm.”

Maar daar is ’n vuil wat die skuim van die varkseep wat vanaf die groot werf aangedra is, nie kon afwas nie.

Hy weet die woorde dreun harder in sy kop as wat hy dit sê. Maar teen dié tyd is sy mond droog en hy is bang die winkels sluit al.

“Nou gaan ons klaar speel, my Kroon,” probeer hy met nuwe drif.

In die toemaakdonkerte soos al daai jare.

“Ons gaan skuur toe. Dat ek jou lewe kan spaar. Jy sal moet hard praat en jammerte betoon, soos Saul.

“Ek, jou Dawid, gaan met ’n groot stem uitroep: ‘My heer die koning!’

“Ek sal met die punt van die kombers van die honderde stukke lap waarmee Mame ons mae vol gehou het terwyl jy dronkgat was, in my hand staan. Met hierdie lem sal ek dit afsny, en dit ophou na jou toe sodat jy om vergiffenis kan vra. Dis hoe dit sal wees, my Kroon. Jy moet weet wat die dink in jou kop doen as jou lyf vas is.”

Hy tel sy pa oor sy skouer en begin loop. Die flertsies materiaal sleep deur die sand: die wit van Klein Henta se trourok, die lapgoed vir Naatjie se aanneming voor sy met die lieplapper hier weg is. Die dorpsvrouens se bont, die cream van die doodsrokke, dit alles het eindelose ure later deur die trapmasjien klaargekom.

So ’n voorslag, het die mense gesê. ’n Man wat dag in en dag uit tussen die skaapdrolle sit en suip en kyk hoe staan sy reg by die kerk en vir haar kinders.

Die hele ent pad na die klipgebou meet hy sy treë, soos in ’n stoet. Hy sit die ou man in die deur van die skuur neer, half in die lig, half in die skadu, sodat dié se oë heel toe bly.

“Jou swaard,” sê hy as hy die sekel van die haak aflig en dit onder sy pa se arm insteek. Die lem steek wild by sy slap nek verby.

Dan haal hy weer sy knipmes uit sy bosak en slaan dit oop. In die diep donker van die skuur vee hy eers die sweet van sy gesig af.

Hy wag. Hy wag vir die vrees vir die vasdruk wat jou gorrelpyp toewurre. En hy wag vir die magteloosheid van woede om hom sterk te maak.

Hy vat die hef stywer vas.

Hy dink. Hy dink aan al die aande wat sy begerentheid vir sy vrou te gou bly stol het. En hy dink aan al die jobs wat hom bly ver vat het en ruik weer die bedompige brood wat in blink papier met liefde saamgegee is.

Hy luister. Hy spits sy ore om weer die geluide te hoor. Die gehyg. Die gestamp van die sorteertafel se pote. En eindelik die skaap wat al hoe nader blêr.

Maar al wat hy hoor, is die trae gekraak van die sinkdak. En die oumensklapgeluidjies van die hopie mens in die deur.

Hy trek sy skoene uit en loop op sy sokkies tot by sy pa. Met sy linkerhand gryp hy die punt van die kombers in sy vuis en kyk stip na die fyn stekies wat die lappies bymekaarhou. Hy kyk en kyk totdat die bontspul voor sy oë vervloei.

“Vossie, stop!”

Dis sy ma. Sy staan verskrik voor die opening, uitasem en rooi in die wange van die bak onder die voorruit van Japie Toi se kar.

“Wil jy jou hand teen jou Tate lig?” vra sy, en versit verdwaas ’n pakkie wat sy nog onder die arm klem.

“Nee, Mame,” sê hy. “Ons speel net. Ons speel hier in die skuur soos destyds.

“Maar miskien het ek en hy mekaar nou lank genoeg beroer. Miskien moet ek en jy liewers praat, Mame. Oor dit wat die Singer al die jare doodgetrap het.”

The post My Kroon appeared first on LitNet.

Waarom die Bybel in Kaaps?

$
0
0

Die Bybel word besmet met Kaaps ...

“Wan soe lief het God die wêreld gehad dat hy sy ienigste seun gegie het.” Hoeveel kee het djy al dié gehoo? Die eeste kee toe ek dit gehoorit was ek baie confused. Ek het gewonner maa nou hoekô sal God sy ienigste seun gie, of hoekô sal God sê maa hy’t net een seun, wanne die bekeerdes dan sê dat ôs is amal kinners van God?

Ek vestaan dit nou bietere ...

Ja, woorde betieken niksie – dissie gevoel wat djy voel wat tel ...

’n Paa wieke trug comment ’n vrou op een van my Kaapse Bybelvetalings op LitNet. Sy sê of vra toe hoekô issit nodig dat die Bybel in die “Veil Afrikaans” (dis nou hoe ekkit vestaan het) vetaal moet wôd? Sy gan toe an om te sê maa “hulle” vestaan mos amal Afrikaans. Nou vi wat moet dinge soe gedoen wôd? Toe ek klaa die comment gelies het, toe vra ek myself maa hoekô is dit rêrig nodig dat die Bybel soe besmet moet wôd, met die “veil” Kaaps. Ek het toe gedink dat wel, miskien het sy ’n punt beet, wan hoekô wil ôs dan nou rêrig dié pad loep? En net soe by da way, diésie die eeste kee dat iemand wattie Kaaps praatie, soe sleg praat oo Kaaps. Ek gloe stellig dit sal oekie die laaste kee wiesie.

Maa ek wonne toe wat is rêrig die punt wat sy wou maak? Issit dat mense soes ek nie hulleself moet sien in die Bybelie wan die taal wat hulle lies, issie hulle sinne nie? Of miskien is dittie nodig dat mense soes ek ôsself kan sien innie Bybelie, wan die Bybel was nog nooit ôs sinne nie? Miskien het sy ’n punt beet.

Maa ek het toe maa vêde gedink daa oo, en ek het besef dat daa moet plek wies vi mense soes ek om te lies in hulle eie taal oo die wonners innie Bybel, en van God. Ek het gedink dat natuurlik as mense hulleself kan indink in ’n storie in, dan kan hulle siekerlik self hulle eie pad kies. Die ghetto’s, die townships is bestrooi met kêke, bestrooi, maa nog steeds is geweld, drank en dwelmmisbruik op sy hoegste in die areas waa djy drie kêke op elke hoek kry. Die een oppie anne een. Die een wil bietere wies dan daai een. Die een beloewe dat djy gouer by God sal uitkô as djy net soe-en-soe maak, en “as djy op tyd jou tiendes betaal,” sê daai een wee. Dit gat mossie oorie skaape nie. En niemand gat wonne of warrie oo hoekô dit soe issie.

Veoggend op pad winkel toe stap ek veby ’n cash loans kantoo, waa die mense wat geld kry by Sassa gehelp wôd met personal loans. Daai is oek ’n storie vir ’n anne dag. Wat ek gesien het was mammas en pappas, uncles en anties, en snotnies-laaities, wat amal in lang lyne wag, som sit en som staan op en om mekaa, om wee geld op hulle Sassa-kaarte te lien. Daa staan toe oek soe ’n ouerige oem, met ’n Bybel in sy hand. En die man is biesag om ernstig te priek vi die skare mense wat mee geworried is oo wanne hulle sal gehelp wôd dan die man in sy bruin pak mettie Bybel in sy hand. Ek vang toe die gesig van een vannie vrouemense wat oppie pavement sit. Sy kyk toe die oem an, soe om te vra: “But wat het jou God al ooit vi my gedoen? Kyk waa sit ek nou.”

Ek dink toe trug annie vrou wat wil wiet hoekô die Bybel in Kaaps moet vetaal wôd ...

Miskien gie dit mense hoep, mense soes daai vrou wat innie warme son voo daai cash loans gesit en wag het. Miskien kan hulle oek hoep kry ommie liewe differently te sien, as hulle die woord van God kan vestaan in hulle eie taal.

Wan dit gan oorie gevoel wat die woorde bring vi jou en nie oorie woorde selfie. Djy moet kan inskakel by daai gevoel.

Toe ek 13 jaar oud was, het ek ’n jeuggroep op hoërskool gejoin. Die leiers vannie groep was amal ouer as ek, en soesie wêreld is, kyk ’n mens mos maa op na diés wat ouer as djy is. Soe was dit gewies vi ôs ouers en ôs ouers se ouers, en soe an. Soe ek het maa dieselfde pattern gevolg, wan ek wou deel raak van iets wat gelyk het soes daa meaning in is.

Ek het toe oek self die Bybel begin lies, met kinner-oë wat na die wêreld gekyk het met hoep dat ek sou verlos wôd vannie wêreld se dinge. Ek het gehoep dat iewers innie Bybel sou ek myself vind, sou ek myself bietere kon vestaan. Miskien mettie hulp vannie Bybel sou ek bieter kon vestaan hoekô dinge soe swaar gan met my, met ôs, met die wêreld waa in ek geliewe het. Maa soes ek gesoek het, het ek min gekry, meedere vrae dan antwoorde. Ek kon rêrigie vestaanie.

Soe, ek het maa net gedoen wattie ouer kinners van daai jeuggroep gedoen het. Ek het gedoen wat ek gesien het my anties doen. Al het hulle hulleself hoër as my ma en ôs as kinners gesit, net ommat sy en ôssie deel gewies het van daai groep mense wat ’n afgod vannie ideë van God gemaak hettie sonner dat hulle rêrig vi God of die woord vestaan het. Ek het dit gedoen wan ek wou deel wies van iets wat my “hoër” gesit het assie res. Ek het toe bekeer. Ek het myself gesien met daai oë. Ek het anner Christene in hulle bekeerskap oek soe gesien. Ôs het iets gehad wattie res nie gehad hettie. Maa het ôs rêrig? Ôs hettie Bybel vestaan, of eeder dele van dit. Of het ôs rêrig God se woord vestaan?

Toe ek die Engelse en Afrikaanse Bybels gelies het, het ek die tien gebooie nie soe vestaanie soes ekkit vestaan het toe ek dit vetaal en in my taal gelies hettie, veal dié, Eksodus 20:4–6. Volgens die eeste twie gebooie moet daa nie kruise en foto’s van Jesus Christus en beeldjies bestaan tien mense mure, of om mense se nekke of stickers wat geplak is op mense se karre nie. Wan dissie waa God issie.

Die Bybel wat ek gelies het as kind, was in Engels. Ek het nou op my 35ste jaar wee ’n Afrikaanse Bybel gekry en dit gelies. Ek het daai tyd nooit gedink an hoe dit sou wies as ek die Bybel kon gelies het in my eie taalie, wan daai tyd toe bestaan my taal net as “slang”. En tog vedag dink baie mense soe daa-an, selfs die mense wat dit praat. Al het my geloef in Christus veswak, het die Bybel wel my fondasie geraak van my geloef in God. Die meer ek sit met die Woord in my eie taal vestaan ek die veliede bietere.

Maa toe ek begin vetaal het, het daa iets anner gebee. Toe ek dit gelies het, het daa iets anners gebee. Die Woord het liewendig geraak vi my. Die “veil” Afrikaans, die slawe se Afrikaans, die Kaaps is nodig vi my mense om ’n kans te het innie liewe in. En ek wiet dat ek hettie nodig gehad om die stuk te skryfie. Maa ek wiet oek dat daa baie mense is wat tienie kar skop oo die vetalings, selfsie mense wie Kaaps praat as moedertaal.

Maa daai eeste kee toe ek die Bybel skryf, lies en hoo in Kaaps, in ’n stem wat ek vestaan, het daai woorde liewe gekry, het die Woord vi my Liewe gekry. En ja! Kaaps is lekke oppie oo, maa dis ’n taal wat meer is dan net ’n taal wat gehoo moet wôd.

En dis my hoep dat mense wat Kaaps praat, in allie veskillende maniere, hulle hoep kan vind innie Bybel wanne hulle die Bybel lies in hulle eie taal. Dat hulle dit kan vestaan deur hulle eie taal. Dat hulle hulle minds kan oepmaak vi die God wat nog net altyd ’n wit God was. Die wit God is die God wat ek ontmoet het op skool, in daai jeuggroep, in my bekeerde anties in, en in dáái God se woord kon ekkie myself sien nie.

Ek kan nou myself sien, wan ek vestaan bietere die mag.

Elke mens het hoep nodig ommie die donke liewe ’n bietjie lig te gie, elke mens.

Op die oudedom van 16 was uh Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met uh mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa’vandaan hulle kom. O’s almal het oppie netbalbane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from? Heelwat op sy nerves. Ek ’it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”  

Bly te kenne!

The post Waarom die Bybel in Kaaps? appeared first on LitNet.

Raaiselkind: ’n filmresensie

$
0
0

Raaiselkind
Met: Diaan Lawrenson, Anrich Herbst, Deon Lotz, June van Merch en Neels Clasen
Regie: André Velts

Raaiselkind is my lewe uitgespel op die silwerdoek. Ek was deel van ’n familie wat deur ’n erg gestremde broer vernietig is. Ek het ook kontak gehad met soortgelyke families. Ek kan derhalwe met gesag sê die draaiboek het die chaos perfek vasgevang – ma’s neem in die reël al die verantwoordelikheid op hulleself, die pa’s loop gewoonlik weg, almal is moeg, die ander kinders voel afgeskeep, daar is ’n swart of bruin engel wat met absolute liefde na daardie kind omsien, en die samelewing kyk gewoonlik anderpad. Baie min familie of vriende kan vrede maak met gestremdheid.

My teleurstelling was dus groot toe die film plat val. Die kinematografie is ondergemiddeld. Met sterk kompetisie soos Meerkat Maantuig en Liewe Kersfeesvader kan jy dit nie waag nie.

Die stelinkleding/stilering is vervelig en soms niebestaande. Niks omtrent die huis of hul kleredrag staan uit of dra by tot die film nie. Mens hoef nie ’n Wes Anderson op jouself te trek nie, maar sit ’n bietjie meer moeite in. (Die betreklik luukse huis reg by die strand maak ook nie sin vir ’n familie wat finansieel geruïneer is nie.)

Die openingstoneel waar Diaan Lawrenson se karakter tussen die verpletterde meubels en versiersels deurloop, is lank en melodramaties. Diaan probeer ook ’n bietjie te hard. Ons almal weet sy kan toneelspeel, maar die regisseur moes dalk meer leiding gegee het. Kyk byvoorbeeld na Kristin Scott Thomas se vertolking in die Franse film I’ve loved you so long. Sy speel ’n ma wat haar seun vermoor deur ’n oordosis medisyne toe te dien. Die film begin waar sy na 20 jaar vrygelaat word en weer moet aanpas in die samelewing. Te midde van almal wat antwoorde by haar soek, is haar amper lewelose vertolking ’n belewenis.

June von Merch is gelukkig ’n ligstraaltjie. Die toneel waar Diaan se karakter in die see in stap en Miriam haar gaan uithaal is hartverskeurend.

Die klankontwerp is steurend. Ek weet dit móét met tye steurend wees, want gehoor is ’n sintuig wat aangeval word, byvoorbeeld waar die baba vir dae nie ophou skree nie. Waar hy as jong seuntjie met ’n pyp teen die muur slaan, sou die klank daarvan genoeg wees om mens om te krap. Jy het nie stroperige klavier ook nodig om jou te beweeg nie.

Ek blameer al hierdie foute op die lustelose regie.

Die einde is boonop nie bevredigend nie. (Bederfwaarskuwing.) Het sy of het sy nie haar kind vermoor nie? vra die film. Die antwoord wat hulle gee, is sy is te lief vir hom om hom te vermoor, dus moes hy verdrink het as gevolg van ’n epileptiese aanval. My teenredenasie is: dalk het sy hom vermoor juis oor sy hom so lief het? Oor hy nie ’n lewe sonder haar sou hê nie? Dit laak my dink aan Tania Clarence wat haar drie gestremde kinders vermoor het. Lees meer hier en probeer om nie te oordeel nie.

The post <i>Raaiselkind</i>: ’n filmresensie appeared first on LitNet.

Alles begin met Anna deur Annemari Coetser: ’n lesersindruk deur Alta Cloete

$
0
0

Netwerk24 in samewerking met NB-Uitgewers en PEN Afrikaans het onlangs twee resensiekursusse aangebied. Alta Cloete het die Kaapse kursus bygewoon en deel haar indrukke van Alles begin met Anna – ’n opdrag wat sy voor haar bywoning van die kursus moes skryf. Lees ook Liné Enslin se indrukke van dié boek.

Alles begin met Anna
Annemari Coetser
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176170

Dis nie enige skrywer wat suksesvol tussen genres kan beweeg nie. Annemari Coetser kry dit uitmuntend reg. Alles begin met Anna is ’n opwindende toevoeging tot haar uiteenlopende lys publikasies, wat benewens romans vir volwassenes ook ’n jeugverhaal, kinderversies en verskeie kortverhale insluit.

Die verhaal volg die lewensloop van verskeie karakters met die naam Anna, wat soms ietwat verwarrend kan wees. Aanvanklik word die storie afwisselend uit die perspektief van Anna Nienaber en haar dogter Poppie (ook Anna) vertel. (Poppie het ook ’n sussie Anna, wat vir haar ’n moederfiguur word by afwesigheid van haar werklike ma.) Dié gemaklike vertelritme word egter onverwags verbreek wanneer Poppie se pa se verhaal en dié van haar uiteindelike geliefde ook bygebring word. Die suksesvolle opbou van spanning in die eerste deel van die verhaal word hiermee verbreek.

Die leser kan hom afvra of nog ’n weergawe van die bekendste gebeure van die Anglo-Boereoorlog en Tweede Wêreldoorlog werklik ’n doel dien. Aan boeke oor dié twee oorloë is daar immers in Afrikaans geen tekort nie. Die groot veldslae van veral die Anglo-Boereoorlog is al oor en oor in die Afrikaanse literatuur geveg. Die bevestigende antwoord lê in heelwat besonderhede wat vir lesers nuut kan wees. Die belewing van die twee broers in ballingskap op Ceylon en die opleiding van die latere vrywilliger in die Tweede Wêreldoorlog voor sy ontplooiing in Noord-Afrika is voorbeelde hiervan.

Een van die sterkpunte van die roman is die manier waarop die ouwêreldse atmosfeer vasgevang word deur die gebruik van outydse taal, asook beskrywings van die omgewing en sosiale gewoontes. Dit skep ’n outentieke atmosfeer wat aan die roman ’n besondere bekoring gee.     

Die lyding wat oorlog veroorsaak, en veral die lyding van soldate se geliefdes, word ’n sterk tema wat deurgaans na vore tree. Telkens is dit die vroue wat die manlike geslag se geneigdheid tot oorlog bevraagteken en wens daar kon alternatiewe gevind word. Die ouer Anna beleef die trauma van ’n konsentrasiekamp asook die swaarkry na die oorlog. Die jonger Poppie leef in die tyd van die opkoms van Afrikanernasionalisme en word telkens verskeur tussen die uiteenlopende sienings van die mans in haar lewe en hulle geneigdheid om klakkelose navolging van haar te verwag.

Die belangrike manlike karakters wat in die oorloë betrokke is, word nie noodwendig as groot helde uitgebeeld nie. Die eerste gewonde (Laatste Steenkamp) het sy wond op ’n besonder nieheldhaftige manier opgedoen. Wanneer die Anglo-Boereoorlog sloer, keer die swaers terug huis toe en is nie besonder gretig om weer te gaan veg nie. Dit is dan eintlik die vroue wat hulle oorreed om weer te gaan. Die jong Anna (Poppie) se vriend bely later dat hy nie oortuig is van die meriete van die Tweede Wêreldoorlog nie en dalk selfs ’n verraaier sou kon wees. Die oorloë word ook nie as skouspelagtig en vol avontuur uitgebeeld nie. Afgesien van die beskrywing van veldslae, word telkens van die gesloer, die lang wagtye en die ewige administrasie melding gemaak.

Die tweede belangrike tema is die kwessie van geestesiektes en die stigma wat destyds (vroeg in die 20ste eeu) daaraan gekleef het. Hierdie tema loop subtiel maar dodelik deur die hele verhaal en beïnvloed uiteindelik al die belangrike karakters se lewens. Die ouer Anna se verhaal spreek van die lyding van ongelukkiges wat as “mal” gesien is en destyds eenvoudig uit die samelewing verwyder is. Die gevoel van verwerping wat Poppie ervaar weens die gebrekkige en foutiewe inligting oor haar ma se toestand, gooi ’n skadu oor haar ganse lewe. Anna se verhaal en die invloed op haar kinders is ’n skreiende voorbeeld van die skade wat stilswye en onkunde in mense se lewens kan veroorsaak.

Die harde werklikheid is natuurlik dat hierdie stigma vandag steeds tot ’n groot mate aan psigiese siektes kleef. Hoewel spesifieke toestande soos depressie, bipolariteit en skisofrenie vandag met meer openlikheid in die pers aangespreek word, is daar baie ander toestande wat steeds onder die mat ingevee word. Die werklikheid van baie psigiatriese pasiënte is steeds ’n kille, ongenaakbare werklikheid. Niemand hoef herinner te word aan die onlangse dood van ’n groot aantal van hierdie pasiënte nie. Dit bly ’n aanklag teen die samelewing sowel as die gesondheidsdienste van die land. Die destigmatisering van psigiese siektes is steeds ’n groot dringendheid in ons samelewing.

Die grootste waarde van hierdie roman lê in die oopskryf van die lyding en psigiese ineenstorting van ’n enkeling en die langdurige uitwerking daarvan op haar nasate. Dis ’n tragiese verhaal, ja, maar dis eintlik verfrissend dat ’n stoere Boervrou in haar menslike swakheid uitgebeeld word. Die trefkrag word oneindig verhoog wanneer die leser besef dis geen blote verhaal nie, maar dat die roman op die werklikheid geskoei is. Deur die jare het ons immers oorgenoeg gelees van Boervrouens wat die lyding van die Boereoorlog en die swaarkry daarna stoïsyns deurstaan en anderkant uitgekom het. Alles begin met Anna toon dat hierdie vroue ook net mense was vir wie die vrag soms te swaar geword het.

Alles begin met Anna is ’n welkome toevoeging tot Afrikaanse ontspanningsfiksie vir lesers wat toeganklike, maar oortuigende leesstof soek. Dit word sterk aanbeveel.

The post <i>Alles begin met Anna</i> deur Annemari Coetser: ’n lesersindruk deur Alta Cloete appeared first on LitNet.


Jaco Jacobs: Both sides of zero se regte aan Oneworld verkoop

$
0
0

LAPA is baie trots om aan te kondig dat Jaco Jacobs se boek Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word se wêreldwye Engelse regte pas verkoop is aan Oneworld, ’n uitgewery in Brittanje.

Die Engelse titel sal heet Both sides of zero. Die vertaling is deur Kobus Geldenhuys gedoen. Vroeër vanjaar is die fliek Nul is nie niks nie landswyd in filmteaters uitgereik. Dit is ’n verwerking van hierdie einste boek.

Oneworld is dieselfde uitgewery wat vroeër ook die regte vir Jaco se boek ’n Goeie dag vir boomklim gekoop het. Oneworld is ook bekend daarvoor dat twee van hulle boeke reeds die Man Booker Prize gewen het.

Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word is hier te koop.

The post Jaco Jacobs: <i>Both sides of zero</i> se regte aan Oneworld verkoop appeared first on LitNet.

Heimwee

$
0
0

In die snerpende oggendlug rook al die vroeg-uit-die-vere-voëls. Die mistigheid sluk jou in en die rede vir die wasem is ’n engel wat te lank gestort het. Jou gehawende vellies laat blywende spore op die dun ryplagie op die grasperk. Ek hou jou fyn dop en wonder, hoekom loop jy met soveel seer vasgevang in jou oë? Soos jy jou blou hande warm blaas, voel ek ’n rilling deur my gaan. Motors, van verskillende groottes en kleure, rits haastig verby, maar jy laat jou nie aanjaag nie. Jy vind die tussen-êrens-en-nêrens-bankie net betyds, voor jou bene ingee. Toe jy die flentertjie-Bybel uithaal, weet ek jy gaan uit Prediker 3 lees. Die blaaie van jou Bybel het potloodkrabbels in soos jy met God worstel oor die verlede. Jou fluisterende stem, ’n herinnering van jou laaste drie woorde aan my …

Sommige dae vleg ek, slegs ’n spook uit jou verlede, deur die verkeer. Voor ek weet, sit ek in jou grootwordhuis. Dis nou ’n verlate, oorvol stoorkamer, maar die houtmeubels dra nog die reuk van heimwee. Tussen bokse wit olifante lê jou kleintyd kiekies tussen begrafnispamfletjies versteek. Ek benat die plante met my trane en praat met die weeskinders, wat miaau vir melk. Die troeteldiergrafte getuig van die prediker se wysheid oor geboortes en sterftes, asook plant en ontwortel.

Ek breek die kettings wat my gevange hou en vlug die bekende strate in. Wanneer ek my ore spits, hoor ek nog die weglooptrein. Wandelend op die geroeste treinspore verlang ek na jou omhelsing. Was ons naïef, onrealisties en uit beheer? Of was ons net te jonk?

Sonder rigting sweef my warboel gedagtes tot waar die pad skei. Ek hunker na die dae van eindelose keuses met ’n legio uitkomstes. Nou is ons slegs herinneringe. Was hierdie ons Godswil-pad? Nietemin was ons braaf genoeg vir die grondpad.

My paadjie, vol eg Suid-Afrikaanse slaggate, lei my tot in die middestad met ’n miernes bedrywighede. Die miere skarrel rond op soek na rykdom, kennis en mag. Maar al wat hul werklik benodig, is behoort met ’n doel. Die mensdom raas, selfs in hul stilte van onsekerheid. Soos ek hulle dophou, wonder die Prediker in my: Kom alles werklik tot niks?

Wanneer die stadsliggies besluit om met God se hemelruim te kompeteer, word my sirkel voltooi. Ek loer om boomstamme, op soek na jou. Want na ’n dag se probeer vergeet, om te onthou, verklaar ek ’n skietstilstand oor die oorlog binne my.

Op die einste bankie vind ek jou. Jy lig jou kop, asof jy die blare hoor ritsel en my parfuum kan ruik. Ek kom sit langs jou; jy is onbewus van jou engel. Selfs die tyd om lief te hê, kom tot ’n einde. My hand lê in joune, toe jy oudergewoonte uit Prediker 3 begin lees. Soms wonder ek met heimwee … waarom is ek slegs ’n engel wat oor jou waak, na die noodlottige motorongeluk?

Jy sluit jou gebed af met daardie laaste drie woorde … “Tyd is relatief.”

The post Heimwee appeared first on LitNet.

Bybel in Kaaps op RSG se Sondagjoernaal

$
0
0

Olivia M Coetzee het op 1 Oktober op RSG se Sondagjoernaal met Lizelle de Bruin gesels oor Bybel in Kaaps, LitNet se projek om gedeeltes uit die Bybel in Kaaps te laat vertaal, asook die kompetisie waarin lesers genooi word om ’n deel van Genesis 1 in Kaaps te vertaal. Hier is meer besonderhede oor die kompetisie.

Olivia vertel kortliks hoe dit gebeur het dat LitNet haar genader het vir die vertalings en gesels oor die rol van Kaaps, die doel van die vertalings en die kompetisie wat aan die einde van Oktober sluit.

Hoekom hierdie projek noodwendig vir Kaapse Afrikaans?

"Die Bybel is nou al getranslate in so baie ander tale, dit sal lekker wees as dit in Kaaps getranslate word. Jy moet ook verstaan dat daar baie verskillende vorms is van Kaaps, so hoe meer mense kan deel raak van die translation, hoe beter is dit vir ons, om ons ’n kans te gee om asem te haal en uit die skaduwee van Afrikaans te kom.

"Dit is tog lekker om ’n boek in jou eie taal te lees. Die taal wat jy mee kan relate. En soveel meer die Bybel.

"LitNet is ’n huis met baie deure, so dis fantasties vir my om deel te wees van ’n platform online wat Afrikaans in haar verskeie stemme plek gee om te groei."

Luister hier na die volledige potgooi op RSG se webtuiste. Die gedeelte oor die Bybel in Kaaps begin in die potgooi by 20:20.

Lees Olivia Coetzee se jongste rubriek:

Waarom die Bybel in Kaaps?

Olivia M Coetzee
Rubrieke

"Miskien gie dit mense hoep, mense soes daai vrou wat innie warme son voo daai cash loans gesit en wag het. Miskien kan hulle oek hoep kry ommie liewe differently te sien, as hulle die woord van God kan vestaan in hulle eie taal."

The post Bybel in Kaaps op RSG se <i>Sondagjoernaal</i> appeared first on LitNet.

Week van de Afrikaanse roman 2017: Jannie du Toit maakt Jacques Brel en Koos du Plessis springlevend in Gent

$
0
0

In het kader van de Week van de Afrikaanse roman gonst het van activiteiten in Gent. Zondag beet Jannie du Toit de spits af met twee onvergetelijke concerten in theater Tinnenpot. In de late namiddag bracht de Zuid-Afrikaanse chansonnier Bonjour Monsieur Brel, ’s avonds Doep is nie dood nie, een hommage aan Koos du Plessis. Beide concerten werden fel gesmaakt door het ruim opgekomen, enthousiaste publiek.

Jo Decaluwe leidt met jeugdig gemoed theater Tinnenpot. Julien Schoenaerts en Nand Buyl, twee van de grootste naoorlogse Vlaamse acteurs, studeerden er lang geleden een stuk van Beckett in, zo vertelde Jo Decaluwe me. Bij hen rees het idee om de namen van alle acht zalen van het theater te doen beginnen met een b. Zo ontstond de Beckett-zaal en ook de Bonbonnière-zaal, waarin Jannie optrad. Het publiek zit er in rode, pluchen zetels die gerecupereerd zijn uit de Gentse opera. Jacques Brel en Koos du Plessis zouden ongetwijfeld diep in hun zetel achteruit geschoven zitten, wanneer ze Jannie du Toit daar nog konden meemaken, met zijn unieke vertolking van de mooiste van hun chansons.

Jannie du Toit in theater Tinnenpot, Gent

In Bonjour Monsieur Brel brengt Jannie du Toit een twintigtal bekende en minder bekende chansons van Jacques Brel (1929-1978) ten gehore. Sommige zijn teergevoelig. Jannie heeft een stemtimbre dat zich buitengewoon goed leent voor gevoeligheid en tederheid, zoals in ’n Vriend wat huil en Laat me niet alleen. Maar hij kan halsoverkop overschakelen naar een totaal ander register, waar ritme de toon aangeeft, zoals in La valse à mille temps, of ongeduld, zoals in Madeleine, of zeemansgebral, zoals in Dans le port d’Amsterdam. Ik vergeet nog Le prochain amour, Marieke en Quand on n’a que l’amour te vermelden, maar deze chansons zitten zo diep verankerd in ons collectief bewustzijn dat ze er, in hun perfectie, gewoonweg bij horen. Wanneer je luistert naar Bonjour Monsieur Brel, dan bedwelmt Jannie je. De talen die hij gebruikt: het Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands, vloeien als het ware samen tot één taal, die Jacques Brel doet uitgroeien tot een universeel zanger, dichter en woordkunstenaar. Het beste bewijs dat dit gebeurt, is de vaststelling dat je je na de voorstelling moeilijk kunt herinneren in welke taal (of combinatie van talen) het ene of het andere chanson is gezongen. De verwondering houdt maar niet op. Het raadsel blijft bestaan.

In Doep is nie dood nie brengt Jannie du Toit een hommage aan de legendarische Zuid-Afrikaanse zanger, dichter, tekstschrijver Koos du Plessis (1945-1984). Het valt op hoezeer de grote thema’s uit het repertoire van Jacques Brel en Koos du Plessis elkaar overlappen, en hoe subtiel die worden verwoord in het Frans en Afrikaans, in principe toch twee zeer verschillende talen. Afscheid nemen, eenzaamheid, weerloosheid, het zwerven en ronddolen zijn grote thema’s maar de manier waarop Koos du Plessis en Jannie du Toit ze brengen, is fijngevoelig en intiem en sluit volledig aan bij het dagelijkse leven van mensen, hun momenten van geluk en ellende en alle schakeringen daar tussenin, zoals in Vermiste mense, Skadu’s teen die muur en Onder die Suiderkruis. Het zich herinneren van wat is geweest, veelal jeugdherinneringen, krijgt een traag ritme met veel rustpunten, zoals in Pretoria, de Jacaranda-stad, en Molberge, over het goudmijndorp waar Koos schoolliep. Zoals ook bij Brel, kunnen de ritmes plotseling heftig worden, zoals in Edelwyn en Hier’s ons almal tesaam. Jannie du Toit vertolkt in zijn concert een twintigtal chansons en ik heb er dus een hele reeks niet vermeld. Maar Kinders van die wind, de evergreen die met eenvoudige woorden mensen blijft beroeren en de afsluiter is van het concert, is het absolute hoogtepunt. De concertgangers verlaten mijmerend de zaal en er is iets wat hen bindt. Thalia Kruger, die uit Johannesburg komt en nu  vanavond vanuit uit Leuven naar de Tinnenpot is gekomen, is een groot bewonderaar van Jannie du Toit. “Jannie het vir ons weer ’n brokkie van Koos se son en skadu’s gebring,” zegt zij bij het buitengaan. Mooier kan het niet worden gezegd.   

Susan Mouton (cello), Chanie Jonker (piano en accordeon) en Jannie du Toit (zang, woordkunst en gitaar)

Susan Mouton is hoofdcellist bij het Johannesburg Filharmoniese Orkes.

Chanie Jonker voltooit haar B Mus (Uitvoerend) aan de Universiteit van Pretoria en verwerft bijkomende muziekcertificaten aan UNISA en de Associate Board of the Royal Schools of Music in het Verenigd Koninkrijk.

De muzikale ondersteuning van beide concerten is fenomenaal. De manier waarop Susan Mouton cello speelt, snijdt door merg en been. Het pianospel van Chanie Jonker onderstreept de ritmes; haar accordeonspel zorgt voor nabijheid.

Jannie du Toit is niet alleen zanger en woordkunstenaar, maar wanneer hij zijn gitaar ter hand neemt, wordt de Bonbonnière-zaal nog een stuk gezelliger.

Tekst en foto’s: Herman Meulemans

Nadere informatie: http://www.janniedutoit.com/

The post Week van de Afrikaanse roman 2017: Jannie du Toit maakt Jacques Brel en Koos du Plessis springlevend in Gent appeared first on LitNet.

Huldeblyk

$
0
0

Anton de Bruin blaai na die volgende bladsy in sy ma se telefoonboekie. Dis leeg. So ook die laaste drie bladsye.

"Is dit alles, Ma?"

Sit dan sy selfoon met 'n sug neer toe sy knik. Vir seker die meeste oproepe wat hy nog ooit op een dag gemaak het en die meeste daarvan na familie en kennisse wat sy pa die DDT-mense genoem het. Mens sien of hoor net van hulle tydens ’n doop, dood of troue. Hy grinnik. Sy pa weet nie hoe reg hy was nie, dink hy en trek die koppie met tee nader.

"Wag, ek maak gou ’n vars koppie. Daardie een is al maklik ’n halfuur oud," bied sy suster, Leandri, aan.

"Hierdie is reg, dankie. My keel is nou so rou van al die praat dat ek nie kans sien om dit verder te brand met kookwater nie." Hy drink dit vinnig en staan op. "Kom ons gaan sit binne. My gai is ook seer en die stoele daar is ten minste sag."

"Sy is nogal baie kalm," fluister hy vir Leandri op pad woonkamer toe.

"Ek dink dis die dokter se kannie-worry-pil wat werk."

"Kan wees," antwoord hy en sak neer op die gemakstoel waar sy pa altyd gesit het. "Dink jy hy sal omgee dat ek hier sit? Hy was altyd so heilig oor sy plek."

Leandri gee ’n laggie, tel die TV se afstandbeheer op en skuif dit oor die koffietafel na Anton.

"Miskien sal hy jou vergewe as jy daarin sit en rugby kyk met ’n bier in die hand en die skeidsregter luidkeels kritiseer as hy ’n strafskop teen Province toeken."

Anton lag hardop. "Dis iets om te noem in sy huldeblyk." Dan kyk hy strak na Leandri. "O, shit. Wat sê mens alles van hom? Nee, jig, die gewone goed steek my altyd dwars in die krop. Dit laat ’n dooie mens al te veel na ’n klein godjie klink en Pa was ’n méns."

"Maklik," antwoord sy, "vertel wat jy alles van hom onthou soos die hengse pak slae wat hy jou gegee het oor ..."

"... ek in die kerk gepoep het," val hy haar laggend in die rede en moet na sy lagbui trane uit sy oë wegvee.

"En wat lag julle twee so lekker?"

Sy ma staan voor hom met ’n rooi lêer in die hand. "Sommer oor dinge wat ons van Pa onthou." Hy vat die lêer by haar. TESTAMENT staan daarop. "Regtig Ma, is dit nou nodig. Ek wonder of hy al koud is in die ondernemer se yskas."

"Ja dit is. Hy was baie gesteld daarop dat hierdie lêer die eerste ding is wat ek vir jou moet gee en behalwe vir sy testament, is daar ook ’n brief vir julle."

Heel bo in die lêer is ’n kort nota: “Sê vir jou ma hierdie is ’n verouderde testament. Jy soek die lêer waarop staan Aandele. (Nie dat daar meer iets van oor is nie.) My jongste testament is daarin.” Hy sê dit vir sy ma. Sien haar frons. Weet sy dus nie daarvan nie, wonder hy en vou sy arms. Terwyl sy wegstap, leun hy agteroor en trek groot oë vir Leandri. Haar gesigsuitdrukking kan maklik aan ’n speler by ’n Pokertafel behoort. Weet sy dalk hoekom Ma klaarblyklik niks daarvan weet nie? HKGK, dink hy en hoop hy is verkeerd.

Hy maak die voulêer oop. Die datum bo-aan is ongeveer twee weke tevore. Daarna die opskrif INSTRUKSIES. Tipies Pa. Regeer uit die graf. Ander mense kon dit dalk  waardevolle notas genoem het. Hy vluglees die eerste bladsy.

My dierbare kinders:

Dis nie maklik om hieroor te skryf nie, maar ten tye van ’n sterfgeval is mens emosioneel en dink jy regtig nie aan alles nie, tog is dit nodig om sekere dinge te doen en ander nie. Ek weet julle sal dalk aan meeste hiervan kan dink, maar niemand weet alles nie. Veral nie van my nie.

Moet nie dadelik die bank van my afsterwe in kennis stel nie. Hulle mag dalk besluit om my rekenings te vries en in die proses debietorders soos byvoorbeeld versekeringspremies en die mediese fonds se paaiement terug te stuur. Verder gaan julle ook kontant nodig hê vir die begrafnis/verassing, waarop julle ook al mag besluit.

Daarna volg ’n langdradige bespreking van redes waarom die bank nie dadelik van sy afsterwe moet hoor nie. Ook detail oor hoe om op sy bankprofiel aan te teken en bedrae van oorplasings tussen rekeninge om vir hulle ma bykomende kontant beskikbaar te stel.

Mamma se e-mail is gekoppel aan die hosting van debruinskryf.co.za. Dit word gedoen deur Afrihost.

Bla-bla-bla ...

Die volgende twee bladsye lees hy met aandag. Dit bevat stappe om te volg vir die omskakeling van selfone, versekering, internet-rekeninge wat toegemaak moet word en vele ander items. Heel laaste ’n punt rakende onbekende mense.

Buiten die gewone familie en vriende wie se nommers julle by Mamma sal kry, is daar ’n paar mense wat ek wil hê julle moet laat weet ek is oorlede voordat dit op Facebook geplaas word. (Mamma sal nooit aan hulle kan dink nie, want nie een van hulle val binne haar, of ons gesamentlike vriendekring nie.):

a. Piet Joubert (nie die generaal nie, ʼn gholfmaat. 😊 083 485 1120
b. Melani van Zyl 076 252 9934 (My uitgewer, sodat sy sal weet om my instruksie rakende tantieme en kopiereg deur te voer.)

Gmf! Hy het geweet sy pa het probeer skryf, maar ’n instruksie oor tantieme en kopiereg aan sy uitgewer? Flippen hel. Hoeveel gee die ou man so op ’n skinkbord weg en aan wie?

c. “Anna Serfontein 082 888 1461 (ʼn Vriendin in die boekebedryf.)
d. Thea Wolfaardt (Ook ʼn vriendin in die boekebedryf.) 083 074 0702
Moenie verbaas wees as sy huil nie. Alhoewel baie ver van mekaar, was ons baie naby aan mekaar.
e. Nig Bettie 073 120 1515 (Sy antwoord nie meer haar foon nie. Hardhorend, maar lees wel ʼn WhatsApp.)

Bliksem. Anton sit asof versteen. Kan dit moontlik wees? Jou vriende, ons vriende en my vriende? En een van laasgenoemde so close dat sy dalk kan huil. Fok, dit klink soos ’n saamgestelde gesin. Jou kinders, my kinders en ons kinders en pa as die ramkat in die middel. Dan nog ’n nig Bettie. Iemand van wie hy nog nooit gehoor het nie!

Hy moet homself staal om nie die vraag te vra nie. Plak dan die drie bladsye op die koffietafel neffens hom neer en kyk vir sy ma.

"Nogal volledig sou ek sê, maar niks wat nie tot môre kan wag nie."

Tog weet hy dat hy later, en buite die geselskap, ten minste twee oproepe gaan maak. Ja, okei, en ’n WhatsApp stuur. Sy pa se laaste versoek sal hy uitvoer. Ten minste is die ou man tot ’n mate eerlik. ’n Beter mens as hyself. Sulke inligting sal hy liewer saam met hom graf toe neem.

Leandri neem die A4-grootte koevert, wat Anton vir haar uithou, in haar hande. ’n Laaste brief? Néé! Dis nie wat sy wil hê nie! Hy moet steeds hier wees! Haar binneste wil vulkanies tussendeur haar ooglede uitspoel. “My liefste doggie,” lees sy die aanhef en snuif. Haar troetelnaampie terwyl sy op laerskool was. Dan swem die letters voor haar oë en weet sy die maskara gaan swart strepe oor haar wange trek. Sy spring op, stap haastig uit en klap haar eertydse kamerdeur agter haar toe. Sy wil alleen huil. Nou. Oor haar Dadda. Die pa wat haar beskerm het teen die aanslagte van die lewe en die man wat hom oor ’n modderbesmeerde brakkie ontferm het.

Op pad huis toe het ’n hond onder sy kar se wiele beland en het hy stilgehou om die dooie dier uit die straat te sleep. Eers toe hy haar opgetel het, kon hy sien sy is in melk. Hy het begin soek en ’n piepklein reuntjie gevind. Sy ogies was kwalik oop. Hy het albei in die kar gelaai en huis toe gevat, die ma onder die perskeboom begrawe en die kleintjie skoon gewas. Toe met ’n pipet begin melk voer.

"Wat de duiwel dra jy hier in?" het haar ma gillend gevra toe hy die hondjie op ’n voetekombersie langs die stoof neerlê. "Vat weg! Jy weet mos ek duld nie ’n hond in die huis nie!"

Pa het uitdagend voor haar gaan staan. "Dis myne," het hy sag geantwoord, "en die een wat hom hier wil uitjaag moet nog gebore word. Verstaan jy my?"

Ma het hom een gluur gegee, omgedraai en met afgebuigde mondhoeke weggestap. Vir dae nie met Pa gepraat nie en vir Vlekkie geïgnoreer. Pa moes alles vir hom doen. Kos gee, was, sy kombersie buite gaan uitskud. Selfs later, toe daar, wie weet hoe dit gebeur het, ’n slang in die kombuis was en Vlekkie hom bestorm en dood gebyt het toe hy Ma wou pik, het sy hom steeds soos ’n misbaksel behandel. Arme Vlekkie. Hoe sou hy kon weet sy koms was die waterskeiding in ’n huwelik?

Leandri vee haar oë droog met ’n snesie. Ook Pa was nie haar misnoeë en toorn gespaar nie. Sy kon net nie meer op ’n menslike toonhoogte met hom praat nie. Hy kon ook net mooi niks reg doen nie. Fokkol! Nie eens ’n verjaardag- of Kersgeskenk was goed genoeg ’n ordentlike dankie nie, maar Pa het homself gebly. Bedagsaam gewees, vriendelik en aangehou om vir hulle te sorg asof niks verkeerd was nie.

Sowat een jaar later moes hy op een dag twee uiteenlopende brokkies nuus ontvang. Vlekkie is dood aan katgriep en sy jongste boek het voorblaaie gehaal as topverkoper. Ma se reaksie was kort en kragtig. "Dankie tog, nou sal die huis nie meer na hondepis ruik nie."

Ouboet het verkies om neutraal te bly. Sy voel hoe haar hartseer in woede omskakel. Blerrie manteldraaier. As hy saam met Pa was, het hy vir Ma beswadder en andersom. Die dag daarna het Pa die spaarkamer betrek. Leandri wens sy weet hoeveel keer sy daar in die oggend ’n nat kussingsloop afgetrek en met haar hande gaan uitwas het. Later het dit wel opgehou. Leandri glimlag vir die eerste keer. Dit was kort voor die pakkie.

’n Boetiek se inkopiesak het in die kar gelê toe hy haar een middag by die universiteit kom oplaai het. Sy het gebrand van nuuskierigheid en vinnig gekoekeloer toe hy by ’n vulstasie uitgeklim het om vir die brandstof te betaal. Dit was ’n chemise, gemaak van die sagste satyn denkbaar. Sy het dadelik gewonder of hy wraggies gaan probeer opmaak, maar wou nie uitvra nie. Geweet hy sou self kom vertel. Daarvoor moes sy wag tot na aandete. Hy het by haar kamer ingekom met die pakkie in die hand.

"Ek het by die garage gesien jy loer."

Sy het skuldig afgekyk.

"Draai dit asseblief toe en maak ’n pakkie op. Ek wil dit wegstuur. Dan vertel ek vir jou ’n geheim."

Tot vandag toe weet sy nie hoekom sy nie geskok was nie.

 "Ek is bly vir jou, Paps," was al wat sy kon sê. Sy het die nagklere uitgehaal en die prysetiket afgeknip. Hel, sy het nooit kon droom dat hy soveel vir so ’n klein stukkie lap betaal het nie.

Sy lees verder aan die brief. ’n Verduideliking oor hoekom die testament lyk soos hy lyk; ’n verwysing na ’n polis wat direk aan haar ma as begunstigde gaan uitbetaal en dat sy pensioen ook aan haar oorgedra sal word. Die volgende sin laat haar mond oophang: “Ek het nog ’n geheim om op te klaar. Ek het vir jou gelieg oor Hannes. Dis nie my kind nie.” Nogmaals swem die letters weer voor haar oë. Tog kry sy dit reg om klaar te lees. Jirre, Pa! Vyftien jaar en jy fokken sê my nou!

Sy spring op badkamer toe, was haar gesig en trek haar klere reg, bekyk haarself in die spieël. Dis die staal in haar pa se grou oë wat vir haar kyk.

Daar speel ’n grynslag om haar mond toe sy fier en met ’n ferm tred uitgaan in die gang. Sy steek vas en spits haar ore toe sy Anton se stem, op sy venynigste, hoor.

"Ma weet, wat my die meeste van alles die moer in maak, is dat ons, wat altyd daar was vir hom, niks kry nie, maar die kind van daardie Nig-Bettie-slet, kry die huis. Fok!"

Leandri bly staan vir haar ma se antwoord: "Ja, Boetie, maar kind of nie kind nie, al wat ek jou kan sê is ek gaan geen begrafnis hou nie. ’n Diens by die ondernemer se kapel is goed genoeg. Daarna kan hy bráái in die goedkoopste kis wat beskikbaar is."

Leandri stap die woonkamer binne.

"Nè!"

Soos sy verwag het, ruk albei se koppe in haar rigting.

"Addergeslag, skaam julle," sis sy. “Die man wat sy lewe lank vir ons gesorg het en aan wie ons alles wat ons het te danke is, is dood." Sy bly ’n oomblik stil. "En voor die dag om is beswadder julle hom oor geld! Sies." Sy kyk Anton in sy oë. "Vertel vir ons hoeveel van jou lugkastele Pa gefinansier het. Toe, vertel."

"Dit was altyd op die basis van ’n lening."

Sy knik. "En hoeveel daarvan het jy terugbetaal?"

"Asof jy niks gekry het nie. Verbeel ek my of het jy ses maande lank op Pa se koste in Amerika rondgeflenter?"

"Hoor jy my kla?"

Sy rig haar tot haar ma toe hy nie antwoord nie. "Moenie vir my sê Ma verstaan nie die woordspeling oor nig Bettie nie. Ek was self by toe hy vir jou vertel het van die tannie wat op sterwe gelê het en toe vir die dominee gesê het sy moet die oom verskoon as hy weer trou. Sy het gesê hy moet. Kan nie eers ’n knoop vir homself aanwerk nie. Daarby is hy nog jonk genoeg om weer geluk te kan vind. Toe antwoord die oom mos so droogweg dat hy en nig Bettie reeds dieselfde onderwerp bespreek het."

Haar ma ruk haar skouers styf.

"So, wat het dit met my te doen?"

"Ma het hom voortydig in die spreekwoordelike nig Bettie se arms ingejaag op soek na liefde en huislikheid."

"Se gwhar! Hy het alles hier gekry wat nodig was."

"Nou wie dink Ma het Pa se knope die afgelope twintig jaar aangewerk? Hmm? Sy sokkies gestop, sy gunstelingkos gemaak en ’n huislike atmosfeer geskep toe hy dit nie hier gekry het nie? En dit te midde daarvan dat sy net aalmoese gekry het om in ’n enkelwoonstel aan die lewe te bly."

"Vertel dan. Jy het ons nou nuuskierig, want dit smaak my jy weet meer van my huwelikslewe af as ekself," antwoord haar ma smalend.

"Carol, Ma. Carol Strachan. En vir Ma se inligting, Johannes Jurgens de Bruin Strachan is nie haar of Pa se kind nie. Ma behoort te weet. Jy het hom self by die hospitaal gaan haal na die operasie wat hom sy van manlikheid ontneem het."

"Hoekom dra die kind dan sy naam?"

"Dis sy kleinkind, Ma. My kind. As jy net een maal navraag gedoen het sou jy geweet het ek was nie in Amerika nie, maar vier blokke hiervandaan. In ’n inrigting vir ongehude moeders. Die pa kon nie met my trou nie en ek het nie kans gesien om hom in ’n liefdelose omgewing groot te maak nie. Toe teken ek hom af en ek het vanaand uitgevind dis sy wat hom aangeneem het, ter wille van Pa."

Nie Anton of haar ma sê iets nie.

"Net môre gaan ek vir my pa ’n begrafnis reël soos wat hierdie gemeenskap nog nie gesien het nie. Die begrafnisbrief sal plein wees. Soos hy altyd was. Net ’n foto voorop en ’n uittreksel uit ’n gedig van Jan F E Cilliers: ‘Stil, broers, hier gaan ’n man verby.’" Sy vou haar arms en stoot haar bors uit.

"Nou moet julle my asseblief verskoon. Ek het ’n kind om te leer ken en ’n huldeblyk om te skryf."

The post Huldeblyk appeared first on LitNet.

Viewing all 21823 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>