Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21652 articles
Browse latest View live

Die ontelbare 48 by die Vrystaat Kunstefees: ’n teaterresensie

$
0
0

Die ontelbare 48 by die Vrystaat Kunstefees 2017

Met Wessel Pretorius
Regie, teks en vervaardiger: Wessel Pretorius
Ontwerp: Nico Scheepers

Die ontelbare 48 vertel ontelbare kleinverhale. Wessel Pretorius, skrywer van die teks en enigste vertolker van al die karakters se verhale in hierdie eenmanvertoning, het ’n Fiësta-toekenning as beste akteur in dié toneelstuk ontvang. Die toekenning was welverdiend. Pretorius vertolk elke rol met empatie en deernis. Die stuk is al in programboekies as ’n komedie aangedui, maar ek verskil met hierdie beskrywing. Daar is baie humor in die teks, maar dis geen grappige werk nie. Die stuk is warm, menslik en slim. Maar uiteindelik eerder ontstellend as snaaks.

Die storie-opsomming

Dis Woensdagaand op ’n klein plattelandse dorpie in die Laeveld. Die skoolsaal word ingerig vir die kerk se maandelikse fliekaand. 48 dorpenaars kom byeen, elkeen met sy eie storie, om vanaand ’n film te kyk. Tussen hulle sit ’n moordenaar met ’n sluwe plan.

Die karakters

Die fokus is op vier karakters van die 48 wat hul daardie aand in die filmvertoning bevind: ’n gefrustreerde hokkie-afrigter en ma, ’n hoërskoolseun wat bewus word van sy gay-seksualiteit, ’n drama-afrigter, en ’n dogtertjie van vyf. Wessel se bewoording van hoe elkeen hom- of haarself uitdruk, is raak en gevat. Plek-plek baie snaaks. Maar deurlopend is die gehoor bewus van wat wag. Die verteller het reg aan die begin reeds verklap wat gaan gebeur. Die verraderlike aspek van hierdie toneelstuk is hoe geheg mens aan hierdie karakters se lewens raak, elk met sy alledaagse onbenullighede en lief en leed.

Onthoubare tonele

Omdat die karakters onder die gehoor se velle inkruip, is daar onthoubare tonele. Mens beleef die afwagting en gewaarwordinge van verliefdheid in ’n kombuistoneel waar die hoërskoolseun met ’n ander seun gesels. Die onskuld van hierdie toneel is sjarmant. Die plasing van ’n ander toneel van ’n ma wat saam met haar seuntjie in ’n motor sit en vir hom sing, is baie goed. ’n Mens wil uitroep: laat haar bly waar sy is! Plasing van tonele is dus ook van belang – en goed gerangskik.

Wie is nie in die verhaal nie?

Die weglating van ander mense se doodgewone kleinverhale is slim. Wie is hulle en waaroor rou of lag elkeen van hulle vandag? Wie is al die mense in hierdie land wat op verskillende maniere omkom, almal wie se ontelbare stories ons nie hoor nie?

Dit het my opgeval: daar is geen stereotiepe heteroseksuele man wie se verhaal vertel word nie. En geen swart of bruin karakters nie.

Wie wie se stories vertel, is natuurlik van groot belang in hierdie land. Mense in magsposisies moenie namens ander praat nie. Ek vind die toneelstuk het slim hiermee omgegaan: dis kragtig om nie almal se stories te vertel nie, maar dit jou net te laat verbeel. Die onvertelde stories hinder; die skare gesiglose mense van wie ons nie hoor nie, is diegene wat mens bybly.

Die ontelbare 48 is een drama met baie stories. Wessel Pretorius, skrywer en akteur van hierdie toneelstuk, is een akteur met baie talente.

The post Die ontelbare 48 by die Vrystaat Kunstefees: ’n teaterresensie appeared first on LitNet.


Makhosi Khoza vir president?

$
0
0

Makhosi Khoza (Foto: Youbute)

Makhosi Khoza is op hierdie stadium waarskynlik die enigste ANC-lid wie se toewyding aan waarheid ek nie as polities opportunisties beskou nie. Cyril, Lindiwe en al die ander, selfs Trevor ... dit voel regtig net te gerieflik dat almal nou skielik ’n morele rugstring ontdek het, veral wanneer mens agterkom dat hulle almal sedert ten minste 2011 geweet het hier kom covfefe.

Nie dat ek hulle blameer nie. Die politieke moorde in sommige dele van ons land, die geweld en intimidasie, kan die sterkste siel ontsenu. Dis eenvoudig makliker om jou oë te sluit, uit die spervuur te bly en te hoop vir die beste.

Ons vergeet soms dat die ANC vir ’n groot deel van hul geskiedenis ’n gewapende stryd gevoer het in exile. Dis maklik om te sê, maar moeiliker om te verstaan. Konstante aanslae van ’n vyandige regering wat jou wil doodmaak. Infiltrasie deur spioene wat jou geheime wil blootstel, sodat jy nooit regtig weet wie om te vertrou nie. Onbehandelde trauma en verhoogde stresvlakke, want jy word konstant onderwerp aan vyandiggesindheid. Seksuele geweld deur of teen jou medesoldate. En omdat jy uitgeworpe en aan die vlug is, kan jy nêrens stop en hulp kry nie. Ook nie van die howe nie. Dis dan veiliger om almal met wantroue te bejeën, selfs jou makkers. Dis vinniger om jou eie weergawe van geregtigheid uit te deel. Dis Oorlewing 101.

Ek verstaan dis moeilik om die oorskakeling te maak van rebellemag na regerende party. Heelwat van wat hulle moes doen om te oorleef, was aan die verkeerde kant van die reg. As sg situational ethics vir so lank jou konstante is, dan is dit maklik om oorboord te gaan wanneer jy die een is wat die reëls maak en die kitaar slaan. Wanneer jy die kopskuif moet maak van kroniese tekorte na beheer van die staatsfiskus, dan is dit maklik om jouself toe te laat om hier en daar jou vingers in die kasregister te sit, veral as almal rondom jou dit óf self doen óf bereid is om anderpad te kyk. As skatryk besigheidsmense wat hulle voorheen nie aan jou gesteur het nie, nou met jou hand op die blaas is want jy het invloed, is dit maklik om dit na jou kop te laat gaan. Net omdat jy kapitaliste minag, beteken dit nie jy smag nie ook na die statussimbole, die gerief, die luuksheid en die eksklusiwiteit nie.

Ons vergeet dat die mense wat nou in beheer van die land is, dikwels geweldige sielkundige letsels het as gevolg van dinge wat in exile gebeur het. Die meeste het waarskynlik nooit hulp gekry om daaroor te kom nie. Hoeveel mense wat nou beleid moet bepaal vir die land, sit met ongediagnoseerde en onbehandelde posttraumatiese stressindroom?

Onthou verder dat die meeste van hulle geveg het vir ’n ideale Suid-Afrika, een waar hulle die redder en die held is. In stede van die heldeverering wat hulle verwag het, het hulle egter ’n weerbarstige volk gekry wat van hulle verwag dat hulle binne ’n jaar of twee ongeregtighede moet ongedaan maak wat oor eeue gevestig is. Natuurlik het hulle hard daaraan gewerk om daai verwagtinge te skep, en is hulle tot ’n mate die outeur van hul eie teenspoed. Hoe groot moes hulle ontnugtering nie wees toe hulle besef hulle heldedade, hulle opofferings, word as vuil lappe weggegooi nie. Vra maar vir Moses hoe hy gesukkel het met die Israeliete.

Dan kom jou kamerade boonop en begin jou ook kritiseer. Hoe in die rug gesteek moet jy nie voel nie? Na als wat jy vir hulle gedoen het?

Ek is geen sielkundige nie, maar mens hoef nie een te wees om te verstaan dat mense onder druk teruggaan na dit wat gemaklik en bekend is nie. Die maskers wat jy voorhou, word te veel om in stand te hou en jy gaan terug na jou default settings. Dis hoekom ek nooit rassiste glo wat sê hulle het buite hulle aard opgetree as gevolg van stres nie. Die masker het dalk geglip as gevolg van stres, maar dis maar al.

As jy dan boonop in ’n posisie is waar jy die regte mense in sleutelposisies onder jou duim het, is dit maklik om te vergeet jy is nie meer in exile, besig met ’n hand-en-tand-geveg vir oorlewing nie. As die luukse lewe waaraan jy gewoond geraak het, nou in gevaar is, dan is dit maklik genoeg om te besluit dat dit beter is om jou opponent te verwyder. After all, jy het dit in exile gedoen. Niks het verander nie.

Ek verstaan dit. Ek begryp dat dit moeilik is om ’n ou hond nuwe toertjies te leer, veral as die ou toertjies so effektief is. Ek begryp dit. Dit beteken nie ek moet daarvan hou nie. Dit beteken nie ek moet dit goedkeur nie. Dit beteken veral nie ek moet stem om daai disfunksionele sisteem in stand te hou nie.

Ek dink Makhosi Khoza verstaan dit ook. Die enigste manier om die disfunksie te stuit, is om die sisteem te vernietig. Using the master’s tools to dismantle the master’s house. En sy is bereid om ’n hoë prys te betaal om daai huis af te breek.

Ek het die grootste respek vir Khoza se beginsels. Sy veg teen oormag, en sy weet dit. Reeds sedert April is daar verskeie sekuriteitsondersoeke gehou om die vlak van die dreigemente teen haar lewe te ondersoek. Dis nou Julie, en sy het nog steeds nie lyfwagte nie. Dat sy so lank oorleef het, is ’n wonderwerk. Die parlement het uiteindelik besluit dat sy beskerming kan kry, maar een van die persone teen wie sy kritiek gelewer het, die Minister van Polisie, moet aan haar beskerming verleen. Praat van wolf skaapwagter maak. Boonop inspireer die bewoording van die parlement se mediavrystelling nie groot vertroue nie: “In this regard, Parliament is working with SAPS to ensure that the two institutions collaboratively provide the necessary support to Dr Khoza as soon as possible.” Daar is ’n reuseverskil tussen “as soon as possible” en “immediately”, wat mens sou verwag die parlement se houding behoort te wees. Dit moet vir Khoza ’n bitter pil wees wanneer Nkosazana Dlamini-Zuma so maklik ’n sekurititeitsdetail gekry het, sonder om deur enige van die kanale te gaan.

Ek haal my hoed af vir Makhosi Khoza. Maar ek kan nooit hoop dat sy president van hierdie land word nie. Dit sal nie die huis tot op sy fondamente afbreek nie, dit sal ten beste ’n herrangskikking van die verswakte bakstene wees. Wat nodig is om hierdie land te red, is om die huis heeltemal af te breek en sy fondasie te versterk. Enigiets anders is net ’n vars laag verf oor ’n verkrummelende huis – en ons almal, Makhosi Khoza inkluis, verdien beter.

The post Makhosi Khoza vir president? appeared first on LitNet.

Rooi haring deur Schalk Schoombie: ’n resensie

$
0
0

Rooi haring
Schalk Schoombie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175654

Twee onderwerpe waarvan die mensdom nie genoeg kan kry nie, is kos en moord. (In geen spesifieke volgorde nie.) Kosprogramme op televisie teel aan soos konyne, en veral Suid-Afrikaners word daagliks met moord en misdaad in koerante, nuusbulletins en Huisgenoot gebombardeer. Koerantopskrifte op lamppale basuin die wreedhede uit en romans (hetsy speurromans, misdaadfiksie, polisie- of raaiselromans) verkoop soos soetkoek – vra maar vir Deon Meyer. Nagraadse studente skryf proefskrifte en sommige universiteite het selfs dié genre by hul letterkundekursusse geïnkorporeer. Binne die Engelse letterkunde bestaan daar reeds ’n gevestigde kultuur van speurromans en misdaadfiksie – dink maar aan sir Arthur Conan Doyle se fiktiewe karakter Sherlock Holmes wat wêreldwyd onder leesgieriges bekend is. Dan was daar ook Angela Lansbury se fiktiewe karakter, Jessica Fletcher, wat kykers vir langer as ’n dekade voor die televisiestel vasgenael gehou het in die televisiereeks Murder she wrote. Televisiereekse soos CSI, Dexter en talle ander word getrou gevolg. Kookboeke laat talle uitgewers se balansstaat klop en elke Jan en San Rap bak en brou om hemelskos soos dié van Nigella, Jamie, Rueben, daai beneukte man op die kettingwinkel-televisieadvertensie of Kokkedoor(tjie) voor te sit.

Schalk Schoombie (en sy uitgewer) het dus dadelik ’n wenresep raakgesien met sy jongste roman, Rooi haring. (Waarskuwing: moenie dié roman lees wanneer jy honger is nie – dit is soos om Lasse Hallström se film Chocolat (2000) te kyk wanneer jy sjokolade afgesweer het. Schoombie maak jou lus – die disse wat in hierdie roman opgetower word, sal enige honger mens tot moord dryf – figuurlik gesproke natuurlik.) Schoombie is onder andere bekend as joernalis, dramaturg, oudredakteur van die glanstydskrif De Kat en ook romansier. Sy debuutroman, Boomkastele (2015), is vir die ATKV-Prosaprys sowel as die Jan Rabie-Rapportprys genomineer.

Met Rooi haring waag Schoombie sy pen aan ’n nuwe genre. Dit sit nie in enige skrywer se broek om ’n speurverhaal te skryf nie – jy moet jou storie ken. Lesers wat speurverhale (of misdaadfiksie, hetsy in die vorm van ’n raaiselroman of ’n polisieroman) lees, wil die spel saam met die skrywer speel om uit te vind wie die misdaad gepleeg het. Beplanning is nodig tot in die fynste besonderhede, aangesien die leser deur middel van iets so eenvoudig soos ’n semantiese verwysing die einde sal kan voorspel. In hierdie opsig slaag Schoombie die toets met vlieënde vaandels. Hy het my tot aan die einde aan die wonder gehou, my raaiskote telkens in die kiem gesmoor en my op ’n dwaalspoor gelei met ’n verrassende slot wat my soveel geskok het soos toe JR Ewing van Dallas-faam lewend op die televisieskerm verskyn het nadat almal gedink het die man het die tydelike met die ewige verwissel.

Hartman Swiegers is ’n vooraanstaande sjef wat skouers skuur met al wat ’n glanspersoonlikheid is. Hy is groter as lewensgroot (letterlik en figuurlik) met ’n charismatiese persoonlikheid wat baie mense groen van jaloesie laat. Sy sukses, status en reputasie loop hom vooruit. Hy open ’n nuwe restaurant in Pretoria genaamd Tydloos. Tydens die openingsaand daag gaste van heinde en ver op om aan dié skouspel mee te doen. (En leser, berei jouself voor: hierdie gaste is nie jou vervelige bure oorkant die straat nie.) Lanklaas het ek my so in fiktiewe karakters verkneukel. Ek moet wel beklemtoon dat Rooi haring propvol humor is – dit verduidelik die karakters en hul dade. Soms voel dit asof jy aan die Teater van die Absurde meedoen.

Greta Burger is ’n kosblogger wat tydens die openingsaand met van die interessante gaste geselsies aanknoop. Daar is Bruce Sanders, ’n Australiër, met wie sy intiem bevriend raak, asook Hartman se broer, Darius, wat sy eie geraamtes in die kas het. Latoya Jones skryf skindernuus vir ’n Sondagkoerant en Wickus Gericke konkel agter die skerms. Elke gas het sy/haar eie agenda en mettertyd ontvou die web van verraad, haat, jaloesie en agendas in ’n intrige wat die poppe laat dans.  

Alhoewel Greta haarself as ’n buitestanderfiguur beskou, het sy tydens die openingsaand ’n gevoel dat alles nie pluis is nie. Wanneer die lyk van Hartman Swiegers tesame met twee rooi harings in die koelkamer ontdek word, word Greta op ’n speurtog gelei wat haar na allerlei bestemmings neem.

Sy besoek Darius Swiegers op die plaas Stormkloof en ontbloot ’n steurende familiegeskiedenis wat dekades terug strek. Die leser word met talle vrae gekonfronteer: Wat het tussen Hartman en Darius Swiegers gebeur? Waarom haat die broers mekaar en wat het tydens hul kinderjare by die plaashek plaasgevind? Om sake verder te kompliseer, is daar vrae rondom Hartman se werknemers en hul moontlike betrokkenheid by sy moord. Is die moederlike figuur Lina Draai so onskuldig as wat sy voorkom, en het Jimmy Brown uiteindelik genoeg gehad van sy werkgewer se uitbarstings en beledigings?

Wat hierdie roman so lekker laat lees, is die feit dat daar ’n verrassing om elke hoek en draai verskyn. Schoombie laat reg aan sy karakters geskied deur elkeen se geheime oop te vlek, wat op sy beurt tot ’n spannende intrige bydra. Die titel, Rooi haring, is op sigself fassinerend, maar ek sal nie die geheime wat daaragter skuil, hier uitblaker nie.

Rooi haring is een van die mees humoristiese en genotvolle speurromans wat ek in ’n lang tyd gelees het. Daar bestaan by my geen twyfel dat die oorgrote meerderheid lesers hierdie teks terdeë sal geniet nie. En wanneer die misterie rondom die moordenaar uiteindelik ontrafel word, kan jy maar net sê: “Slaan my met ’n pap snoek!”

  • Foto van Schalk Schoombie: verskaf

The post Rooi haring deur Schalk Schoombie: ’n resensie appeared first on LitNet.

Stichting Eer en Herstel: Abolishment of slavery commemoration

$
0
0

Every year on 1 July, the commemoration of the abolition of slavery in the Netherlands is celebrated. Menán van Heerden chats to Bernice Nieuwendam from Stichting Eer en Herstel about the history of slavery in the Netherlands and how the Dutch colonial legacy is engaged with in contemporary Dutch society and cultural institutions.

Tell us about the organization Stichting Eer en Herstel. What does it entail, where did the idea for this organization come from and what is your role?

Stichting Eer en Herstel was founded by Roy Groenberg, aka Kaikusi, whose mother was a descendant of enslaved people and whose father was a descendant of the indigenous people of Suriname, South America. He founded Stichting Eer en Herstel 20 years ago because he saw how little was done by the Dutch government to honour and pay respect to the African people who suffered at the hands of Dutch slave traders and Dutch colonialism. He also saw how this denial by the Dutch government affected the descendants of the slave trade in their present life, both mentally and economically. Because of the importance of knowing your history and honouring your ancestors, he started the Stichting Eer en Herstel with this main goal: to ask for recognition and reparation for those who fell into the hands of the Dutch transatlantic slave trade.

My role is to help organize the keti koti (the commemoration) activities, and I also assist the chairman during his meetings with the mayor at the city hall and with other departments of the Dutch government.

Bernice Nieuwendam

In what ways does your organization acknowledge the Dutch colonial past and commemorate the abolition of slavery in the Netherlands?

We not only commemorate the abolition of slavery, but also honour our ancestors during the whole month of June. As you know, the Netherlands abolished slavery on the first of July. On that date, the Dutch government commemorates the abolition, but for us, the descendants of the enslaved people, this one day is not enough – especially since the majority of the Dutch people are misinformed about the slavery past. That is why we start with our commemorations on the first of June with a march through the streets of Amsterdam that have a direct link with the colonial past and with slavery. This march ends at the mayor’s house, where we sing and pray and lay garlands. The mayor’s house is one of the important colonial buildings from the slavery past. Besides this march, which is the beginning of the keti koti month (commemoration month), we organize lectures, the tori neti and the kabra neti. The tori neti is a story-telling night. We tell stories of our ancestors, just like they would sit together and tell each other stories of the homeland back in Africa. At the kabra neti, we worship our ancestors. We drink and eat the food that they ate and drank during slavery, and we dance and sing and play all the songs and plays that they did in the spare moments they had together with each other. By doing so, we are not only keeping their memories alive, but are also showing our young ones the importance of “knowing your roots”.

Memre waka (remembrance march on 1 June): We walk down the streets of downtown Amsterdam.

Tori neti (story-telling night): We all wash our hands with swiet watra (that is, perfumed water) before we enter the venue. We do this out of respect for our ancestors.

Kabra neti (ancestor worship night): Men are dancing a special dance that our ancestors used to dance. In the background, there is a table with slave food.

Herdenking (commemoration on 1 June): The poet Diana Ferrus recites her poem, “My name is February”.

What does it mean for you personally to be involved in Stichting Eer en Herstel?

For me, this is a way to bring reparation to our ancestors, who suffered from what we call the African holocaust. I can give them a voice, let people of today know that they lived under inhumane circumstances, and that, thanks to their blood, sweat and tears, huge economies such as that of the Netherlands were built. They deserve some credit for this, and their descendants also deserve to benefit from the wealth the Netherlands gained because they had free labour 24/7 to help build their great country.

In your opinion, to what extent is the Dutch role in the Dutch transatlantic slave trade (Suriname and the Dutch Antilles) and Indian Ocean world slave trade (Batavia, today Jakarta, in the Indonesian archipelago) denied or unknown in the Netherlands?

Many Dutch people say that they don’t have anything to do with the slave trade because they were not the ones who had slaves. Some even say that their ancestors were not involved in it. So, they deny the big part the Netherlands had in the African holocaust, as we call it. It was never taught in school, at least not the real story. Dutch children are taught that the 17th century was the golden century, with huge wealth, etc, but they are not taught who had to pay the price for this wealth.

In this regard, what histories from the colonial and slavery past of Amsterdam should be remembered?

The whole story needs to be told: how the people were stolen from Africa, how inhumane the journey to the Americas was and how they deprived Africa of its human capital. This is one of the main reasons that many African countries are now considered underdeveloped – because many young men and women who could have helped build their country were taken in order to build other people's countries for free. That must be emphasised, because the majority of the Dutch people feel that we, the descendants of African people, are not entitled to share the benefits of this country.

How are the Dutch slavery past and its legacies engaged with in contemporary Dutch society? Do you think that more institutions and festivals like Stichting Eer en Herstel, Het Nationaal Instituut Nederlands Slavernijverleden en Erfenis (NiNsee) and Keti Koti Festival Amsterdam (celebrating the abolition slavery in the Netherlands Antilles and in Suriname) are needed?

I think it is good and important to have these institutions. The number of institutions is not that important; what matters is what they stand for. Their goal is to tell everybody, especially schoolchildren, about the Dutch slavery past and what this means for the people living in the Netherlands today – both black and white, both descendants of the enslaved African people and descendants of the slave traders – because one group has benefited from slavery, while the other group is facing arrears. Another important goal of Stichting Eer en Herstel is to get the Dutch government to apologize on behalf of their ancestors for the cruelties of Dutch slavery.

Some people say that slavery in the Netherlands is just “a black page in history”. What do you think of this statement?

As far as I am concerned, it is not just a page; it is a whole chapter. And it needs to be addressed, because the consequences are still visible in the Netherlands today. The descendants of the enslaved people are, to this day, still struggling with arrears and racism, because the Dutch people still consider them unequal to themselves. The Dutch are not used to discussing this cruel part of their history (nor are they willing to do so). Perhaps it is too painful. But I think that is it necessary to talk about our shared history, in order to understand each other and to reconcile.

Has your organization worked with South African organizations and/or artists before? Tell us a bit more.

No, this is the first year that we have worked with an organization outside the triangle of the Netherlands, Suriname and the Dutch Antilles. Because of the story of Sara Baartman, we contacted Zuid-Afrikahuis, which led us to the writer Diana Ferrus. Once the connection was made, it was clear to us that there was a solid base to keep working together in the future with Diana Ferrus and with South Africa.

Lezing Sara Baartman (lecture about Sara Baartman): Sitting on the front row, from left to right: Roy Groenberg, the chairman of Stichting Eer en Herstel; Professor Rosemarie Buikema, who told the story of Sara Baartman; and the poet Diana Ferrus.

  • Photos: provided by Bernice Nieuwendam 
  • See the video featuring Diana Ferrus at a commemoration event in Oosterpark in Amsterdam on 1 July: 

The post Stichting Eer en Herstel: Abolishment of slavery commemoration appeared first on LitNet.

The Odyssey: ’n filmresensie

$
0
0

The Odyssey (Frans met Engelse onderskrifte)

Regie en draaiboek: Jérôme Salle

Spelers: Lambert Wilson, Pierre Niney, Audrey Tautou, Benjamin Lavernhe, Vincent Heneine

Met planeet Aarde se voortbestaan wat ernstig bedreig word, is die verskyning van hierdie biografiese prent oor die oseanograaf Jacques Cousteau (puik vertolk deur Lambert Wilson) tydiger as ooit.

Dié Fransman het meer in sy leeftyd van 87 jaar ingepak as wat ander in verskeie leeftye kan doen, en vir ’n filmmaker is die probleem sekerlik wat om daarvan te wys en wat om uit te laat. Regisseur Jérôme Salle het gesteun op die boeke van Cousteau se oudste seun, Jean-Michel (Benjamin Lavernhe), en sy hoofduiker, Albert Falco (Vincent Heneine), en daarvan ’n aangrypende pa-en-seun-drama gemaak wat wentel om Philippe (Pierre Niney), die jonger Cousteau. Dié het sy pa se vurige temperament geërf, maar dit het ook tot groot konflik tussen hulle gelei, veral oor hoe sy pa sy ma, Simone (Audrey Tautou), behandel het. Dit was aan haar te danke dat Cousteau met die skip Calypso sy gereelde duikekspedisies in 1951 kon begin, maar soos hy al beroemder geword het en die gewillige vroulike bewonderaars al meer, is Simone verneuk en afgeskeep.

Die film wys ’n man van wie ’n mens nie noodwendig hou nie, maar jy kan nie anders as om hom te bewonder nie. Cousteau het gesorg vir ’n revolusie in diepseeduik en was benewens avonturier ook fotograaf, skrywer en filmmaker. ’n Visioenêr wat geneig was tot grandiose, onmoontlike skemas, soos dat mense hulle uiteindelik in ondersese kolonies sal vestig, met ontwikkelde kieue en al! In sy lang loopbaan het hy mettertyd besef hoeveel skade die mens in die oseane aanrig, met die gevolg dat hy hom in sy laaste dekades toegewy het aan omgewingsbewaring.

Sterk aanbeveel vir kykers wat hou van grootse natuurfotografie en ’n pakkende drama. Kyk uit vir ons eie Morné Visser in ’n kameerolletjie as TV-joernalis.

Sterre: 4

The post The Odyssey: ’n filmresensie appeared first on LitNet.

dit snoer my stem

$
0
0

dit snoer my stem:
die opeenstamelende woorde van die
wyses  die slimmes  die bereisdes en die beleesdes
as ek my hande in verslaentheid saamslaan
oor hulle vlug van woorde  die ander tale ongeërg deel van die meng
die reis langs europa se riviere in navolging van daardie wyses
hulle idees, die klanke van hulle stem
die ordelike of onordelike samehang van hulle denke

my woorde stamel maar en speel in die afrika-ruimtes
en tuimel saam met die rollende  wolke af teen die berg se hang
ek sien nie die ontsiendes of vorm beelde van honde wat vreemd langs die pad van verbeelding rondspeel
my woorde stamel maar klein oor die selfdood van eensames
die klank van die somer se hoë spel
die eensaamheid van die wind wat af in die klowe om die palmiet huil
en die dwalende soeke van die maer hond

ek sukkel met die omarming van bekentenis
of ontboeseming oor oomblikke wat my in die kleinnag van die oggend trane in my kussing laat val
ek kan nie in gladde woorde uitbulder oor piel en die fokkense afwaartse neiging
van my tiete

vir my is daar net die knal van die fiets en die
huil van die viool en klavier om die hoeke van ons gedagtes die
gly van die arend langs die geure van die Hanekam

nou slaan ek al hierdie boeke toe.
en verban die digters die skrywers  al die ledige liedjiehuilers
en sit met my pen my eie gedagtes my woorde wat stamel en herhalend onthou:
die jaar se goue akkerblare
die ogilvie se druppel dou.

The post dit snoer my stem appeared first on LitNet.

Quarantine

$
0
0

Quarantine

Something is birthing
a nameless malady
outside they lock the doors
draw the curtains
a teapot strains
under unnecessary weight
two teabags for one
a semi-silent radio hums
disinfected doorknobs
naively proud of their strongly scented shine
light quakes
night wakes
fever breaks.

The post Quarantine appeared first on LitNet.

Isabella deur Mariël le Roux: ’n FMR-resensie

$
0
0

Isabella
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081371

Ek gesels graag oor Mariël le Roux se Isabella, uitgegee deur Tafelberg. Van haar het reeds verskyn: Wilhelmina: kampkind op Java wat in Nederlands vertaal is as Sterretje; daarna Die naamlose, wat pas heruitgegee is; en toe het gevolg Klara.

Isabella vertel haar verhaal in die eerste persoon. Sy dra haar eie gedagtes en emosies oor, beskryf hoe sy teenoor ander optree en dramatiseer die talle gebeurtenisse oor 300 groot bladsye heen. Hier gebeur inderdaad baie. Ek was nie verveeld nie. Alles word duidelik ingedeel in tonele wat tipografies geskei word. Die leser weet dadelik waar die karakters hulle bevind ná ’n tydsverloop. Nuwelinge word voorgestel.

Iets wat besonder voortreflik gedoen word, is die slotsinne van die tonele. Dit dra ’n sekere finaliteit oor. Die sinne is sober en oorwoë. Twee voorbeelde:  

Toe die psigiater my medisyne ná weke verminder, vra Gideon hom of hy nie ’n bietjie haastig is nie. Ek val hard aarde toe.

Ek stap kamer toe, sluit die deur agter my en gaan sit in die verste hoek op die vloer, my rug teen die muur, onseker, bang vir myself.

Isabella beskryf haar kleintyd as “verflenterd”. Haar Britse pa was ’n boekhouer. Wanneer hy met iemand bots, of as daar te veel geraas in die omgewing is, onttrek hy hom nors in sy slaapkamer, moet daar ’n kers agter ’n swart sambreel brand, want hy ly aan migraine. Net Queenie, die oudste dogter, weet hoe om hom snags te troos. Sy en hul moeder laat nie vir Isabella daar toe nie. Hierdie verwerping deur die gesin is dan die begin van Isabella se sielkundige probleme.

Queenie sal telkens deur die roman heen heerssugtig optree. Sy kom baie duidelik oor as ’n onaangename persoon. Jare later laat Isabella en haar man, Gideon, nie toe dat Queenie hulle baba help oppas nie. Woedend vertrek sy:

Die volgende oggend toe dit begin lig word, trek my suster brullend in die vroegoggendse stilte voor ons huis weg. Gruisklippies spat onder haar wiele uit tot op ons voorstoep.

Oor Isabella se persoonlikheidsprobleme is daar ’n sterk verhelderende toneel vroeg in die roman. Wanneer Gideon Malherbe, die rugbyspelende myningenieur in die Noord-Kaap, haar vra om met hom te trou, voel Isabella vasgekeer. Dit herinner haar aan die onderhoud wat ’n gryskopvrou by ’n verplegingskollege met haar gevoer het:

Ek was in ’n hoek, het dit my gevoel. ’n Gryskopvrou se woorde in die laaste weke van die tweede semester het in my kop gedreun.

“Dis die klein jakkalsies,” het sy daardie dag afgemete begin praat. “Dis die klein jakkalsies, juffrou Dickson, wat jou in die hakskeen byt, wat jou van die spoor af stamp. En klein jakkalsies word groot.” Sy het haar lywige agterstewe verder na agter op haar sitplek geskuif, haar borste op die lessenaar geanker en in die lêer met my naam op die omslag geblaai. [Leestekengebruik so in boek:] “In ons beroep...” sy het die lêer toegemaak, dit in my rigting oor die lessenaar gestoot en aan die swaar gelaaide epoulette op haar skouers gevat, “in die verpleegberoep is daar ook ’n gevoelsinhoud waarin jy, volgens jou verslae, nie slaag nie. Jou sosiale vaardighede is afgeskeep.” Sy het haar asem diep ingetrek, haar bril van haar neus afgehaal en my in die oë gekyk. “By jou, juffrou, vermoed ek, lê die versperring stewig en diep geanker en is die jakkalse uitgegroei. Dit gaan jou pootjie in jou lewe. Jy kan wel bietjie beheer toepas, maar net as jy kan toneelspeel. En dan moet jou vertoning uitmuntend wees.” Die vrou op die stoel oorkant my het my geroskam. “Jy staan kil teenoor jou medemens. Ek hou jou al ’n ruk dop. Jou skrifte bly feitlik foutloos, maar ek sien nie dat jy deur die skans om jou probeer breek nie. Dit laat jou stom. Jy sal jou vertoning moet opknap.” Toe het sy my met haar hand uit haar kantoor gewuif.

Deur die roman heen beleef ons dan Isabella se onvermoë tot uitreiking, maar ook hoe sy tog sukses daarmee het. Die radikaalste, die ontstellendste voorbeeld daarvan is ná die geboorte van haar en Gideon se Nicola, ook Nicky genoem. Isabella is oorval met wat die psigiater gediagnoseer het as postnatale of puerperale psigose. Sy had hallusinasies van swerms katte en ’n stem wat haar byvoorbeeld aanspoor om die kind terug te gee vir Jesus. Die kussing waarmee sy dit wou doen, die versmoring, sou lank nog ’n skrikbeeld wees.

Soms kan sy net nie so ver kom om iemand te antwoord nie. Of die ander ignoreer haar.

Ná die dood van Gideon is daar ’n toneel met hul kleindogter Donnie:

Ná ’n paar minute hoor ek gedempte snikke. Ek weet wat ek behoort te doen, maar ek draai rond, trek die gordyne toe en sluit die voordeur. Daarna eers stap ek tot by haar kamerdeur, lig my hand om te klop en laat sak dit weer. Toe gaan lê ek op my sy op die bed waaruit ek en Gideon die oggend opgestaan het en trek sy kussing nader; dit ruik na hom. Ek lê doodstil met my arms om my man se kussing, tot die snikke uit Donnie se kamer stil raak. Toe staan ek op en klop liggies aan haar kamerdeur. Ek kry nie antwoord nie en maak die deur op ’n skrefie oop. Donnie lê op haar maag. Sy is vas aan die slaap. [eie beklemtoning]

Nou ’n voorbeeld waar Isabella wel kontak maak. Nicky bel vanuit ’n tehuis vir ongehude moeders in die Kaap. Sy praat eers met haar pa. Isabella probeer luister.

Ek staan ’n oomblik vasgenael, stom, voor ek op die ingewing van die oomblik die foon by hom neem. “Jy moet vasbyt, Nicky. Jy kan hierdeur kom. Ons weet jy kan.” Toe trek ek my asem diep in. “En onthou dat ons baie lief is vir jou.”

“Ek weet, Ma,” huil sy. “Nag, Ma.”

My hele lyf ruk. Ek het dit reggekry, juig dit in my. Ek het dit reg gedoen. Hierdie keer.

Daar is nog vele gebeurtenisse in die roman. Die seun wat opgehang is ’n boom met die voete wat so swaai. Die stryd met skuldgevoelens oor al die leuens om ’n tienerswangerskap weg te steek.

Erotika word dikwels humoristies oorgedra. In die myndorpie is daar byvoorbeeld die omie wat met graagte plesierig verkeer met grasweduwees, dws dié wie se mans opgeroep is vir militêre diens of op ’n rugbytoer is. En daar’s ook die begeerlike Tulip wat ’n byna nudistiese vertoning vir die manne lewer.

Teen die einde van die roman is dit Donnie wat baie doen om Isabella weer rus en geluk te laat vind. Donnie vertrek Londen toe. Die slottoneel volg. Dit is ook ’n voorbeeld van die helder natuurbeskrywings in Isabella:

Die see is dae lank al onstuimig, in pas met my eie rusteloosheid sedert ek Donnie ’n week gelede by die lughawe afgelaai het. Die dag is verby. ’n Rukkie gelede het miswolkies soos ’n string wattebolletjies op die horison tussen die berg en Robbeneiland kom lê. ’n Vaal dynserigheid het daarna opgesteek. Toe die eiland uit die oog verdwyn, word die wind koud en my gesig voel klam in die sproei van die brandergeweld wat springgety bring. Dis tyd om huis toe te gaan.

My besluit is geneem. Dis tyd vir my om ook te vervel. My skimme en spoke moet ek verjaag en dit finaal gaan afskud.

Môre gaan ek ’n tas koop. ’n Troeteldier wat langs my sal loop, een met vier pote, want ek moet baie klere inpak. Dis bitter koud en nat in Engeland, het Donnie gister oor die foon gesê.

Lees hier ’n uittreksel uit Isabella in die Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie.

Hierdie resensie is oorspronklik op 19 Julie 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

The post Isabella deur Mariël le Roux: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.


Die aarde ...

Baby driver: a film review

$
0
0

Baby driver
Written and directed by Edgar Wright
With Ansel Elgort, Kevin Spacey, Lily James, Elza González, Jon Hamm and Jamie Foxx

Yes, I know it is pitched as a movie about cars. It is called Baby driver, after all, and the car chases are stellar, mind you. Yet, at its core, it is a striking, choreographed and heartfelt ode to music, love, the [mostly] good guy and, yes, cars.

The film comes with a soundtrack sure to reach legend status. Not only are the song choices spot on (thanks for some Brubeck), but they are synchronised with Baby moving or tapping his fingers, curtains being opened or cars hooting. It is worth seeing just for the surprisingly whimsical opening car chase and subsequent stroll for coffee. I did not see that coming.

Neither did I anticipate the pumping heart of the film. The reason Baby starts drowning out sound with music (and his beloved iPod) is heart-wrenching. The car crash which kills his parents will make your heart stop. The relationship I enjoyed the most was not between Baby and his girl, but between Baby and his deaf foster father, Joe. Look out for the scene on the porch. It brought me to tears. Even though the film was slick beyond belief, it did not lose its depth.

That brings me to the chemistry between all the actors. The whole team is, for lack of another word, synchronised. Even though Baby and Debora’s relationship is newly formed, their chemistry makes it believable. Jamie Foxx stands out as the troublemaker. Kevin Spacey is Kevin freaking Spacey. I am not so sure Jon Hamm pulled off the psychopath.

But back to the cars. The car chases will make your heart race. Apart from the last 20 minutes, which I will discuss later, the chases are not over the top, not ridiculously CGIed, but just well shot, well choreographed and perfectly executed. (I think I racked up two speeding fines on the way home from the screening …)

So, the last 20 minutes is where the – ahem – wheels come off. What is it with big Hollywood films (I am looking at you, Wonder woman) that set up a lovely backstory, build the tension, tug at your heart strings and then mess it up by going overboard, by bombarding the audience with ludicrous chases, senseless violence and destruction of things? Just tone it down a bit, please.

My only other gripe with the film is that the ending is perhaps a bit too neat.

All in all, Baby driver is an unexpectedly beautiful dance between love, music and kick-ass car chases.

The post Baby driver: a film review appeared first on LitNet.

67 woorde vir Mandela-dag 2017: inskrywings 2

$
0
0

Hier verskyn die inskrywings wat vir die Mandela-dag skryfkompetisie ontvang is.

Klik hier vir die kompetisie-inligting.

Hier is nog inskrywings: 67 woorde vir Mandela-dag 2017: inskrywings 1

Die kompetisie sluit op 31 Julie 2017.

Inhoud

Louis J Nell Naomi Corinaldi
Helena Mellet Alta Pretorius
Jean Lombard Barbara Geldenhuys
Don Beukes Franselize Rossouw 
Mimie de Vries Sunita Keyser
Thilde Nel Charles Mathewson
Johan Nieuwoudt Alida Walker
Deidre Kruger Ilza Roggeband
Brazelle Hanekom Elizabeth Hentschel
Gerhard Lampen Elna Jordaan

 

 

Mandeladag 2013

Per ongeluk ry ek tussen die betogers in. Verder ry, kan ek nie. Vlieg uit die kar en baan my weg.

"Haai, Mama, werk jou kind?"

"Nee, lankal nie."

Sy lag en klap my op die skouer. "Toi-toi ôk."

Ek sien ander vyftigers plus. Ons kinders werk nie. Ululeer kan ek nie. Iemand druk ’n vuvuzela in my wit hand.

Mandela-dag dans ek in die strate.


 

Naomi Corinaldi

Skoppelmaai

Skoppelmaai, skoppelmaai, ek ry op die skoppelmaai ...

Jy swaai my hoog. Ek glimlag; dit is tog opwindend. Jy grynslag.

Heen en weer swaai ek hoog op. Jy het belowe jy sal my beskerm. Tog voel ek steeds bang. My mond is droog. Ek roep dat jy die swaai moet stop. Jy draai jou rug op my. Ek hoor myself gil.

Jy het my weer nie gevang nie.


 

Helena Mellet

Vertroue

Anna sien hom buk, sy bruin gesig teen haar venster. ’n Versigtige klop teen die ruit. Sy wil vir hom wys sy het niks om te gee nie, maar hy spring haar voor. “Jammer om te pla, Mevrou. Ek moet geld trek, maar my ou oë wil nie saamwerk nie. Ek weet nie wie anders om te vra nie. Deesdae kan mens mos niemand meer vertrou nie.”


 

Alta Pretorius

Mandela se droom aan skerwe?

Suid-Afrika het in 1994 ’n nuwe vlag gekry as simbool van ’n verenigde reënboognasie. Die ses kleure het die verlede en hede laat saamvloei: die ANC se geel, groen en swart kleure sy aan sy met die rooi, wit en blou van Engeland en Nederland. Versoening?

Was dit met voorgevoel dat ek die strepe van die vlag onderstebo geskilder het? En die swart wolke voor die son?


 

Jean Lombard

Vir altyd

Rolihlahla, jou naam was moeilik en die juffrou doop jou toe sommer Nelson. Hoe sou sy ooit kon dink dat dié kaalvoet veewagtertjiekind wat sy kon onderrig eendag sou uitstyg as Nobelpryswenner en wêreldikoon. Min het jy ook seker ooit kon droom dat jou harde eilandklipkaplyding die hart van die wêreld sou verkrummel, wakker maak en verlos van onderdrukking. Jou visioenêre leierskap, groot hart en nagedagtenis is ingemessel en verewig.


 

Barbara Geldenhuys

’n Droomwens

Gaan verder as wat ek kan vlieg. Hoër as my hoogste. Delf dieper. Wees sterker. Dis my droom. ’n Groot wens. Begeertes om te inspireer met woorde, pen en papier. Ek por jou aan. Gee vlerke aan jou droom en wiele aan jou wens. Hou vas. Glo in jouself. Jy kan. Jy mag. Droom, baljaar in jou wens. Jy is kosbaar, ’n spesiale mens met ’n wens.


 

Don Beukes

Diary of a coloured boy

The day finally arrived for my first train journey to Cape Town. I never questioned why we had to sit in third class, whilst I waved to a smiling white girl passing our window to first class, as her mother pulled her away.

I remember the old lady in Struisbaai shrieking "Polisie!" as we bravely walked on the white beach.

I always wondered why my colour mattered ...


 

Franselize Rossouw

Die man

Inspirasie is soos alliterasie. Dit begin altyd dieselfde. Elke dan en wan is daar iemand wat die reël breek. Wat ons van ons pad af in ’n beter rigting forseer. Ons kry hieruit ’n man, ’n inspirasie wat ons lei tot prestasie. Die een uitsondering vir ons generasie. Die bou van Suid-Afrika. Groen van die woud. Blou van die lug. Inspirasie en trots. Hy is Nelson Mandela.


 

Mimie de Vries

Jennifer

Hy hang hygend aan die tehuis-hysbakdeur: “Weet jy, Jennifer kom vandag.”

“O,” sê ek en koes trap op, Ouma kort hoesstroop en Oupa se doeke is op.

Later, in die hysbak: “Jennifer ... so mooi ... ’n engel ...”

Matrone Connie brom onderlangs: “Jennifer, oom Japie se dogter, het jare gelede verongeluk.”

Sondagaand bel Ouma: “Ou hysbak-Japie is vanoggend oorlede.”

“Ja,” sê ek, “Jennifer het hom kom haal.”


 

Sunita Keyser

Onthou

Hy het dit gehoor. By iemand van die vorige geslag.

“Elkeen van ons moet vir hom ’n gedenksteen bou.”

Vir 67 dae het hy elke dag veld toe gegaan en in die klofies gesoek vir die pasmaat-klip.

Op Mandela-dag het hy haar gaan wys. Sy ma.

Hy het ’n klipstapel gepak. ’n Klein monument.

“Sodat ook óns sal onthou”.

Sy het hom styf teenaan haar vasgedruk.


 

Thilde Nel

Te koop

Alles rondom my verstadig soos dik vla; ek sukkel om te fokus. Die lug word verstikkend swaar, honde se geblaf bereik nie meer my ore nie. ’n Alarm af in die straat word skielik ’n rooi skrilheid in my binneste. My vinger bly rus stokstyf, versteen op die muis.

Die Gumtree-advertensie bly hang in siek veelkleurigheid op die wit agtergrond. "Te koop: babawiegie, -kleertjies, stootwaentjie – ongebruik".


 

Charles Mathewson

Payday

Hy staan voor die supermark. Hy grou in sy broeksak en haal ʼn papiertjie uit. Dis die uitdeelpamflet wat hy Sondag by die kerk gekry het. Laat ons God dankbaar dien, lees hy en draai dit om. Sy inkopielys is agterop geskryf.

Brood. Mieliemeel. Suiker. Koffie. Twak. Vuurhoutjies. Kerse. Seep. Waspoeier.

Hy stap in. Ai, hy hoop so daar is geld oor vir ʼn paar stukkies hoender.


 

Johan Nieuwoudt

Mandela-dag

“Roelf, ons gesin huldig Mandela-dag: deur hom oorleef ons in hierdie mooi land”. So praat ek met my kind. Dan vra ek hom: “ Roelfie, doen my tog ’n guns en laat Moeki pie-pie.”

Roelf neem die ou herdershond na die agterplaas. ’n Skoot klap: my kind is dood.

’n Jaar later nooi ’n vriend my uit: “Kom gedenk Mandela-dag saam met ons.”

“Miskien volgende jaar …”


 

Alida Walker

Hulde aan ’n staatsman

Gebore in die Oos-Kaap – ’n leeu vir ons land: onbemind, onbekend en aanvanklik gevrees. Gou het ons egter besef hierdie leeu is groot en sy hart nog groter. Vergewensgesindheid, liefde en verdraagsaamheid het wyd gestrek om ons land te begrens en wyer uit te kring tot na die buiteland.

Ons bring hulde aan die leeu, koning en heerser. Jou naam word onthou en jou ideale gekoester.


 

Deidre Kruger

Die perske

Soet stroop die sappigheid teen my mond. Soeter as wat ek gedink het. Dit skeel my min.

My happe is te groot. Ek weet. Die kind staar na my. Dit weet ek ook. Ek’s honger.

“Loop!” brom ek.

Langs my koggel nog drie blosendes vol belofte.

Rooi.

Groen.

Beweging.

My vrug val verbasend pienk in sy hol hande. In die truspieël begroet sy glimlag my. Groot. Gelukkig.


 

Ilza Roggeband

Madiba-kinders

Daar’s ’n tweeling saam met hom in die orkes, vertel my seun. “Ek kan hulle nog nie uitmekaar ken nie,” sê hy. “Een speel saksofoon soos ek, die ander baskitaar. Hulle laat my lag.” Weke later ry ons in die dorp. My kind waai, twee seuns waai terug. Die tweeling met ’n vel anders as my kind s’n. Die tweeling wat my kind nie geklassifiseer het nie.


 

Brazelle Hanekom

Slot

Dit was te laat. As hulle mekaar in die toekoms weer sou raakloop, sou hy afgetrokke wees. Met daardie kenmerkende onverskilligheid.

Dit sou nie saak maak nie. Sy sou nie soos vantevore daarop reageer nie.

Met die servet vee sy die vetterigheid van die skaapstertjie van haar lippe af. Sy kon nie die galsterigheid met die steranys temper nie.

Sy het besef dit was die laaste keer.


 

Elizabeth Hentschel

Elegie vir Madiba

’n Seemeeu sirkel oor die eiland van die melaatses. Die jong man kap en kap. Bevry klip uit rots.

Asimbonanga. ’n Kind huil in Nyanga.

’n Duif vlieg dwarsoor die land onder die Suiderkruis. Die ou man lag en dans. Bevry bevrore harte uit ys.

’n Kind lag in Nyanga.

’n Bloukraanvoël bewaak die graf by Qunu. Rus sag, liewe Madiba.

Asimbonanga. ’n Kind huil in Nyanga.


 

Gerhard Lampen

Bevry.

1987. My eersteling onskuldig gebore in wêreld deursypel met rassisme, sponse in skottelgoedwater. Besoedel deur familie, vriende, kerk, regering. Verander velkleur kleur van bloed, hart, breinselle, drome? Flip ʼn coin, nou’s ek bruin. Dieselfde ek. Ons leer om te haat, kan daarom liefhê aanleer, sê Madiba. Vandag en elke dag, verban elke rassistiese gedagte en leef openlik sonder vooroordeel. Sponse in sy voorbeeld gewas, bevry ook ander.


 

Elna Jordaan

Net omdat

“Nonnôki.” Ek hoor die moeilikheid in sy stem voor ek die jammer in sy oë lees.

“Jou pa weet,” sê hy.

Ons was toe negentien. Ek was ’n student. Hy nie.

“Nonnôki,” groet hy nou. Ek hoor die jammer in sy stem. In sy oë sien ek dat toe se hartseer vandag herbevestig word.

Ons is sestig. Hy is getroud. Ek nie.

Ek is wit. Hy nie.

The post 67 woorde vir Mandela-dag 2017: inskrywings 2 appeared first on LitNet.

VraNet: Wat jy moet weet voor jy ’n huurkontrak teken

$
0
0

Het jy al ooit gewonder oor versekering, visums, begrotings, werksonderhoude en volwassenes se ander vreugdes, frustrasies en verantwoordelikhede? Het jy al gewens vir raad wat op Suid-Afrikaners gemik is, en nie op ’n jong volwassene in ’n ander land en ander konteks nie? LitNet wil jou help om die gaping tussen kindwees en volwassenheid te oorbrug deur namens jou vir mentors raad en praktiese wenke te vra oor verskeie kwessies. Soek jy raad oor iets spesifiek? Stuur jou versoek aan vranet@litnet.co.za.

Een van die eerste verantwoordelikhede waarmee ’n jong volwassene gekonfronteer word, is om blyplek te soek. Met al die webtuistes, agente en moontlikhede is dit moeilik om te weet waar om te begin soek en waarvoor om te kyk. Liné Enslin het vir Marinda Uys gevra vir raad.

Waar begin mens soek vir eiendomme om te huur? Is webtuistes met geklassifiseerde advertensies, soos Gumtree of OLX, ’n goeie plek om te begin? Of beveel jy aan dat mens eerder verhuringsagente se webwerwe raadpleeg?

Die beste is om van ’n betroubare bron gebruik te maak. Ek sou voorstel dat die huurder van bekende agentskappe se webwerwe gebruik maak om eiendomme te soek. Daar is verskeie slinkse individue wat mens maar op die uitkyk voor moet wees

Wat is die voor- en nadele daarvan om by die eienaar self te huur, teenoor by ’n verhuringsagent?

Die grootste voordeel daarvan om van ’n agent gebruik te maak is dat die persoon met die nodige kennis ’n objektiewe en ingeligte mening oor moontlike geskille kan lewer. Die kompleksiteit van die verhuringswetgewing maak dit noodsaaklik dat ’n kundige die nodige advies oor kwessies soos kontrakbreuk en uitbetaling van depositogelde kan gee. Dit is baie belangrik om seker te maak dat die deposito ook eerder in die agentskap se trustrekening belê word met die nodige rente en beskerming soos deur wetgewing bepaal word

Is dit veilig om op grond van foto’s wat op die internet beskikbaar is of wat die eienaar/verhuringsagent direk vir jou stuur te besluit of jy wil huur al dan nie?

Daar moet liefs nie op grond van foto's alleen besluit word om die eiendom te huur al dan nie. Daar is verskeie redes, waarvan persepsie een is. Foto's kan vir seker nie die nodige inligting verskaf wat nodig is om ’n ingeligte besluit te neem nie. Die praktyk is vir geen party in die verhuring voordelig nie.

Indien dit om een of ander rede onmoontlik is om die eiendom wel voor die tyd te besigtig, soos byvoorbeeld as gevolg van afstand, behoort daar in ’n klousule in die kontrak daarvan melding gemaak te word wat die agent en die verhuurder vrywaar van moontlike eise. Die huurder moet dan moontlik ook die reg voor behou om byvoorbeeld die kontrak met ’n twee-maande-kennisgewingsperiode te kanselleer indien die eiendom nie in sy of haar behoeftes vooorsien nie.

Watter vrae moet jy vir die eienaar of verhuringsagent vra wanneer jy na die blyplek gaan kyk?

  1. Watter kostes behalwe die huur moet maandeliks ekstra betaal word?
  2. Mag diere (watter soort en hoeveel) toegelaat word?
  3. Wie is verantwoordelik vir die diens van ’n lugreëlaar – dis gewoonlik ’n teer puntjie.
  4. Is die DStv-skottel op die dak deel van die verhuring of die huidige huurder se besitting?
  5. Mag jy die binnemure verf indien jy nie van die kleur hou nie en moet jy dit weer die oorspronklike verfkleur verf aan die einde van die termyn?
  6. Is die eiendom tans in die mark om verkoop te word, en indien wel, hoe gereeld verwag die eienaar om besigtiging toe te laat (per week)?
  7. Termyn van huur.
  8. Waarde van deposito (1 maand of meer).

Is daar enige gevaarligte wat ’n aanduiding sal gee dat jy eerder nie die blyplek moet huur nie?

  • Indien jy gebruik maak van ’n verhuringsagentskap en die eienaar dring daarop aan om die deposito in trust te hou.
  • Toestand van huise en tuine in onmiddellike omgewing.
  • Toestand van die eiendom (algemene instandhoudingswerk – lyk dit of alles gereeld bygehou word?).
  • Enige vaaghede rondom wie verantwoordelik is vir watter kostes.

Wat is ’n billike prys om te betaal vir ’n jong volwassene wat pas begin werk het en ’n basiese eenmanwoonstel wil huur? Verskil hierdie prys drasties tussen woonstelle in die stad, woonareas buite die stad en op die platteland?

Die pryse is baie areagebonde. Eiendom op die platteland is vir seker goedkoper as in gewilde dorpe (bv Stellenbosch).

Basiese eenmanwoonstelle kan bv in Franschhoek en Stellenbosch verhuur vanaf R6 500 opwaarts en in Brackenfell kan mens soveel as R4 500 per maand betaal, afhangende van die area.

Wat is die belangrikste goed in ’n kontrak om na te kyk voor jy dit teken?

Daar is geweldig baie om voor uit te kyk en dit is nodig om dit klousule vir klousule saam met die agent deur te lees en seker te maak dat jy elke term verstaan.

Belangrikste:

  • Huurbedrag, en watter dag van die maand betaalbaar?
  • Wat is die maandelikse ekstra kostes?
  • Wat die deposito is en waar dit belê word, en maak seker dat dit bepaal word dat die deposito plus rente aan jou terugbetaal sal word.
  • Wie is verantwoordelik vir watter instandhouding en herstelwerk?
  • Is die eiendom in die mark?
  • Mag jy diere aanhou (watter soort en hoeveel)?
  • Enige boetes en waardes daarvan.
  • Maak seker jy kry ’n afskrif van die Huiseienaarsvereniging indien van toepassing.
  • Bevraagteken enige klousule wat jou ongemaklik laat voel.

The post VraNet: Wat jy moet weet voor jy ’n huurkontrak teken appeared first on LitNet.

Graad 9, 2016: Vraestelle en memoranda

$
0
0

Is daar ’n graad 9-leerder in jou huis?

Hier is gratis eksamenvraestelle en memoranda - beskikbaar vir die vakke Afrikaans, Engels, Xhosa, Sotho, Skeppende Kunste, Lewensoriëntering, Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe, Natuurlike Wetenskappe, Tegnologie, Sosiale Wetenskappe en Wiskunde.

Die volgende vakke se vraestelle is ter sprake:

  • Afrikaans (huistaal en addisionele taal, V2 en V3)
  • Engels (huistaal en addisionele taal, V2 en V3)
  • Xhosa (huistaal en addisionele taal, V2 en V3)
  • Sotho (huistaal, V2 en V3)
  • Skeppende Kunste
  • Lewensoriëntering
  • Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe
  • Natuurlike Wetenskappe
  • Tegnologie
  • Sosiale Wetenskappe 
  • Wiskunde

Laai die vraestelle hier af:

Hierdie vraestelle is geplaas met toestemming van die Oos-Kaap se onderwysdepartement.

The post Graad 9, 2016: Vraestelle en memoranda appeared first on LitNet.

Antjie Krog (1952–)

$
0
0

Gebore en getoë

Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore, die oudste van vyf kinders van Willem Krog, ’n boer van die plaas Middenspruit, en die bekende Afrikaanse skryfster Dot Serfontein. Antjie se oupagrootjie, Danie Serfontein, was parlementslid vir Kroonstad ná die Anglo-Boereoorlog.

Sy vertel aan Anet Pienaar-Vosloo (Taalgenoot, winter 2015) dat om te skryf, iets is wat in jou gene is en dit is net soos om te skilder of musiek te maak. In hulle huis het haar ma vir hulle baie gelees. "Ons het met boeke in die hand grootgeword. En omdat ons ’n huis van storievertellers is, gaan almal baie graag huis toe. Vir my kinders is dit ’n heerlike, onvervangbare opwinding om ‘die ooms’ en hul stories te beleef. Ons maak ’n groot vuur en dan vertel ons. Twee van my broers en my suster woon nog op Kroonstad. Almal is boekmense. Ek kry nie dieselfde bevrediging uit ’n digitale boek nie. Ek word woedend as mense van boeke en boekrakke skielik ornament-uitstalrakke maak.”

Toe Antjie in standerd 9 (graad 11) in ’n Afrikaanse klas van fonologie geleer het, was dit asof daar ’n lig vir haar opgegaan het: "Die feit dat elke klank ’n plek en beskrywing het. Skielik kon ek verstaan waarom ’n sin soos ‘Ek sal vir Israel wees soos die dou’ vir my mooi is. Dis die aanvanklike stemlose ritseling van die s’e wat dan uitloop in die stemhebbende plofklank van die letter d. Die d wat dan skielik stem het, verleen ontsettende krag en dus verrykende betekenis aan die woord dou.”

Antjie het een suster en drie broers. Sy matrikuleer in 1970 aan die Hoërskool Kroonstad.

As agtienjarige skoolmeisie skryf sy: "Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land." Dié gedig waarin dié woorde verskyn, asook ander gedigte, word in haar skool se jubileumblad gepubliseer en veroorsaak ’n groot ophef landwyd in die koerante.

Verdere studies en werk

In 1971 gaan Antjie na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), soos dit toe bekend gestaan het, en studeer BA met Afrikaans en Nederlands, Engels en Wysbegeerte. Tydens haar studentejare dien sy op die redaksie van Irawa en Shimla, twee studentekoerante. Na die verkryging van haar BA-graad behaal sy ook ’n honneursgraad in Engels in 1976 aan UOVS. In 1983 voltooi sy haar MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof AP Grové. Die titel van haar verhandeling is Familiefigure in die poësie van DJ Opperman.

Na ’n kortstondige huwelik met die pianis Albie van Schalkwyk tree sy in 1976 in die huwelik met John Samuel, ’n argitek en ’n jeugliefde van haar. Hulle het vier kinders en is ook al grootouers van twee dogters, van wie een Antjie se name geërf het.

Antjie gee onderwys by ’n bruin hoërskool in Kroonstad en in 1993 verhuis die gesin na Kaapstad, waar Antjie aangestel word by die tydskrif Die Suid-Afrikaan. Sy bedank in 1995 by Die Suid-Afrikaan nadat sy aangestel word as politieke verslaggewer by die SAUK en dra haar redakteurskap aan Sandile Dikeni oor.
Vir langer as twee jaar (1996 tot 1998) doen Antjie verslag van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Aanvanklik is sy slegs deel van die span, maar later voer sy die radiospan aan. Antjie het ook in ’n Nederlandse publikasie, Nieuw Wereldtijdschrift, verslag gedoen oor die WVK onder die titel "Brief uit Kaapstad". Hierdie blootstelling aan die WVK en die trauma wat daarmee gepaard gegaan het, veroorsaak dat sy geestelik en fisiek ineenstort. Sy besef dat sy ’n anker nodig het en vind dit deur “al die seer, verdriet en woede en haat wat dag na dag uitgestort is” neer te pen in Country of my skull, wat in 1998 gepubliseer is. Sy skryf dit aanvanklik in Afrikaans, maar vertaal dit later saam met Ivan Vladislavic. In 1999 bedank sy as politieke redakteur by die RSG, want sy glo sy kan nie dig as radiojoernalis nie.

Dit is met Country of my skull dat Antjie haar merk op die internasionale mark maak. Sy ontvang in 2000 die Year 2000 Award van die Hiroshima Foundation for Peace and Culture vir haar bydrae tot waarheid en versoening in Suid-Afrika. In 1999 word die boek ook eervol vermeld in die Noma-toekennings. Antjie ontvang in 1996 die Buitelandse Korrespondente-prys vir uitmuntende joernalistiek vir haar artikels wat in Mail & Guardian verskyn het. En ook in 1996 word sy en haar span bekroon met die Pringle-prys vir uitmuntendheid in joernalistiek vir hulle dekking van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. In 1999 deel sy die Alan Paton Award for Non-fiction met Stephen Clingman en ontvang Country of my skull ook die South African Booksellers’ Choice Award. Hierdie eer val haar weer te beurt in 2004 toe A change of tongue ook die toekenning ontvang. Country of my skull word in 2001 met die Olive Schreiner-prys bekroon.

Country of my skull word in New York, Londen, Milaan, Denemarke en Nederland gepubliseer. Dit word verfilm met die titel In my country met Juliette Binoche en Samuel L Jackson in die hoofrolle, maar die film word nie so goed ontvang soos die boek nie.

Maar lank voordat Antjie Country of my skull geskryf het, maak sy indruk as een van die beste digteresse in Afrikaans. Na die oproer wat die publikasie van haar gedigte in haar hoërskool se jubileumblad veroorsaak het, word haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, in 1970 gepubliseer, toe sy maar agtien jaar oud was. Dit bevat gedigte wat die omgewing van die skoolkind beskryf – adolessensie, muisneste en die unieke agtergrond van die skool met sy klaskamers en leerkragte. JC Kannemeyer (Beeld, 22 Oktober 1992) skryf dat “'n Bybelse gegewe as beeldraamwerk gebruik word en dit is geskryf in ’n eenvoudige praattoon met die afwesigheid van hoofletters, interpunksietekens en tradisionele strofiese vorme en rym.”

In 1972 verskyn Januarie-suite en ontvang Antjie die Eugène Marais-prys vir haar eerste twee bundels. Januarie-suite beleef in 1987 ’n sewende druk – iets wat amper ongehoord is vir ’n digbundel in Afrikaans. Teenoor haar eerste bundel wat primêr oor die skool gehandel het, beeld Januarie-suite die lewe van die student op die universiteitskampus uit met liefde as die motief. Die konservatorium en musiekterminologie is deel van die verwysingsraamwerk en die meer uitgebreide wêreld van die Vrystaat is meer op die agtergrond (JC Kannemeyer, Beeld, 7 Mei 1992).

In 1977 word Mannin en Beminde Antarktika, wat albei in 1975 uitgegee is, met die Reina Prinsen-Geerligsprys bekroon. Hierdie prys is ingestel om Nederlandse vroue en dogters wat hul lewens in versetbewegings teen Duitsland in 1940–45 verloor het, te gedenk. Sedert 1952 word die prys elke drie jaar aan ’n Suid-Afrikaner toegeken.

In hierdie twee bundels bekyk Krog die lewe van volwasse vrou voor sy getroud is, sowel as na haar huwelik. In Mannin verskaf Kaapstad die agtergrond, maar veral die vrou met haar liefde vir haar eggenoot en hulle huwelik word uitgebeeld.

“Siklus” is die titel van die tweede afdeling van die bundel en hier kan die leser die getroude paar se lewe saam, vanaf die die eerste nag saam, tot deur die geboorte en vroeë jare van die kind, volg. Die laaste twee verse in die bundel druk hierdie “huislike geluk” vir JC Kannemeyer (Beeld, 7 Mei 1992) baie mooi uit. Vir hom kan “Siklus” vergelyk word met Die stil avontuur (1939) van Elisabeth Eybers, waar die jong getroude vrou se geluk en haar moederskap aan die orde van die dag is.

In 1981 publiseer Antjie Otters in bronslaai. Oor die bundel skryf Carina Stander (Die Burger, 29 Mei 2010) as volg: “Die bundeltitel word deeglik in die verse ontgin: die otter as skugter waterdier; die bronstige otterjasie (vark) wat seksuele vernielsug simboliseer; die bron as fontein, oorsprong, moederliggaam of verwysingsdokument.

“Die slotsiklus in die bundel, ‘Die Leeu en die Roos’, is dan ook ’n helder voorbeeld van ’n historiese geskrif wat as bron vir digterlike inspirasie dien. Dit is gebaseer op die dagboekinskrywings van die Voortrekkervrou, Susana Catharina Smit (1799-1863), suster van die Groot Trek-leier, Gert Maritz. Op dertienjarige ouderdom word sy deur haar ma aan eerwaarde Erasmus Smit (34) gegee. As gevolg van sy drankprobleem (“tussen sy tande blits sy asem ’n spoor/ van ontbinding”), word hy telkens deur die sendinginstituut verplaas. Teen 1837 sluit hulle by die Trek aan. (…)

“Die openingsin in die gedig “6. Pietermaritzburg – 6 Augustus 1863” lui: ‘Vannag reeds sewe keer wakker./ Die onderskeid tussen droom en kamer/ word al hoe swakker.’ Elders in die gedig vra sy: ‘Here, maak die visioen aan my bekend . . .’ Sy verklaar ook: ‘God dryf my . . .

“In teenstelling met haar intieme Godsbelewenis, is daar haar huwelik met Eerwaarde: ’n swakkeling wat ontrou was aan haar. Daar is ’n botsing tussen haar ongelukkige gesinslewe en begeerte om te skryf: ‘Wat baat ’n gesin sonder aptyt; ’n man en kind/ wat al my woorde aan die hakskeen byt?’
Steeds skryf sy vir selfbehoud en reiniging: ‘die pen in my hand/ is styf en ek skryf hom nuut’. En: ‘Ek het woorde snags/ geskryf wat soos blare suurstof gee,/ sodat ek kon bestaan/ en niks giftigs agter ooglede verberg . . .’ (…)

“In die gedigtereeks word Smit getransformeer van slagoffer tot pionier. Dié transformasie bereik ’n hoogtepunt tydens ’n toespraak voor kommissaris Henry Cloete wanneer sy die legendariese verklaring maak dat die vroue kaalvoet oor die Drakensberg sal stap vir vryheid en reg. Krog eggo dit in die slot: ‘om myself kaalvoet uit te skryf/ teen hierdie brons geskubde Drakensberg’.

“Regdeur haar oeuvre maak Krog gebruik van uitruilbare identiteit: Jefta se dogter, Lady Anne Barnard, Antjie Somers. Wanneer sy by monde van Smit praat, verteenwoordig sy die Afrikanervrou wat veg vir vryheid, geregtigheid, eerbaarheid en kreatiewe uitlewing. Die vraagstukke rondom geslagtelikheid, die selfopoffering en dapperheid van die vrou as moeder, volksfiguur en skrywer en die strewes van die individu teen ’n patriargale stelsel, is kenmerkend van Krog én Smit se skryfwerk.”

Jerusalemgangers (1985) word in 1987 met die Rapportprys bekroon. Die bundeltitel speel in op ’n groep “sweepsiekes” wat deel is van die Trekkers, maar wat geglo het indien hulle aanhou om noorde toe te trek, hulle uiteindelik Jerusalem sal bereik deur oor die land te trek.

M Nienaber-Luitingh skryf in Die Burger van 13 Maart 1986 dat een van die kenmerke van Jerusalemgangers is dat dit nie meer so outobiografies is nie en dat daar by die digter ’n behoefte is “om te kyk na die ruimer konteks van die Suid-Afrikaanse - veral blanke burgerlike - samelewing. Naas talle mooi poëtiese vondste vertoon Jerusalemgangers nog ’n hele aantal van die swakhede wat ons uit Antjie Krog se vorige bundels ken, soos die neiging tot ’n soms onnodig verwronge sinsbou en die gebruik van onduidelike neologismes. Die treffendste gedigte in die bundel is dié wat die persoonlikste van aard is en daardeur die digste aansluit by haar vroeëre poësie, veral by Otters in bronslaai wat nog die hoogtepunt in haar werk verteenwoordig.”

In 1990 ontvang Antjie die grootste een – die Hertzogprys vir Poësie – vir Lady Anne, ’n digbundel wat in 1989 deur die destydse “ondergrondse” uitgewery Taurus gepubliseer is. Die laaste publikasie van Taurus wat met die Hertzogprys bekroon is, was Yk van Breyten Breytenbach en hy het die prys geweier. Daar is derhalwe bespiegel of Antjie die prys sou aanvaar, maar sy het. Sy vertel aan Beeld (21 April 1990): “Soos ek vir prof Elize Botha gesê het, aanvaar ek die prys, want dit bewys nou onomwonde ek en die Akademie het mekaar na weerskante toe besmet. Die feit dat die prys die naam dra van ’n man wie se politieke sieninge lynreg ingaan teen dit waarvoor ek my daagliks beywer en waarin ek glo, ontstel my nie. Ek het sekerlik nie die prys gekry op grond van my politieke oortuiginge nie, maar dat ek dit wel gekry het ondanks dit, sê vir my iets. Ek is in der waarheid bly oor die politieke agtergrond van die prys.”

Prof Elize Botha, destyds voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het gesê Lady Anne “is pragtige poësie in die post-modernistiese idioom. Dit word visueel ondersteun deur ander elemente, wat nie poësie is nie, om ’n pragtige boodskap oor te dra.”

Louise Viljoen skryf in haar resensie van Lady Anne (Die Burger, 28 Desember 1989): “Tot dusver het elke nuwe bundel van Antjie Krog haar groei as digter bevestig. Met die verskyning van dié bundel is dit weer eens die geval en word dit ook duidelik dat sy een van die belangrikste digters is wat tans in Afrikaans werk. Lady Anne is nie net ’n bundel wat die leser se bewondering afdwing vanweë sy virtuose kompleksiteit nie, maar ook vanweë die opwinding wat die aktuele aanbod en inhoud daarvan wek. Interessant genoeg word die aktualiteit in die bundel bewerkstellig deur die gebruik van ’n historiese figuur, Lady Anne Barnard. Krog gebruik hierdie vrou met haar sonderlinge geskiedenis as reisgenoot terwyl sy haar eie tyd en ruimte, Suid-Afrika vandag, verken.”

Die resensent in Beeld (onbekend, 18 September 1989) skryf dat betrokke digkuns dikwels “tegnies onbeholpe of poëties yl” kan wees, maar hierdie beswaar is nie van toepassing op Lady Anne nie. “Die bundel is ’n leesavontuur vir diegene wat hou van aktuele verse én ook vir die literêre speurder op soek na die verhulde en onverhulde interteks.” 

In 1995 verskyn Antjie se eerste roman, getiteld Relaas van ’n moord. In die vroeë 1990’s was Antjie in die koerante nadat daar ’n moord in haar tuisdorp, Kroonstad, was. Daar was beweringe van politieke beweegredes rondom die moord en Antjie was in die hof as staatsgetuie. Antjie gebruik hierdie gebeure as agtergrond vir Relaas van ’n moord

Fanie Olivier skryf in Beeld (4 Maart 1996): “Krog besweer die absolute betroubaarheid van haar storie deur vooraf te verklaar ‘Nie alles hierin is waar nie’, maar dit lyk my dat ’n mens dit maar met ’n knippie sout moet neem. Verdigsel het hierdie materiaal egter nie geword nie, bly heeltemal te feitelik relaas, sodat ’n mens gedwing word om met die leesslag ook te dink waarom die skryfster hierdie vertelling gemaak het. En een met so 'n lang aanloop wat weinig bydra binne die klein bestek van die boek ...

“Die verhaal speel hoofsaaklik af op Kroonstad, en grotendeels in die tydperk rondom en na die opheffing van die verbod op die ANC. Die hoofkarakter en verteller is die digteres A wat deur haar onderwyspos aan ’n swart skool en 'n vroeëre ontmoeting met swart skrywers by die Victoria-waterval, haar betrokke voel en maak by die lotgevalle van die buur-gemeenskappe. In hierdie proses raak sy vervreemd van die wit inwoners van die dorp, en haal haar hulle gramskap op die hals. Doodsdreigemente bly nie uit nie, en haar motor word die teiken van ’n suur- en spuitverfaanslag.

“Die ander sentrale figuur is die daar bekende Douglas Baartman, ’n bruin aktivis, hoewel daar nie juis van hom in die vertelling veel tereg kom nie. Dis jammer, want meer van hom sou iets meer van die novelle kon gemaak het. En dan is daar A se eggenoot, die argitek J, die karakter wat die sterkste uit hierdie verhaal na vore tree, en vir wie mens as leser die meeste empatie ontwikkel.

“Die verhaal ontplooi rondom die eerste maande van die bevryding, en die wyse waarop A in haar gewetenswroeging oor wat witmense in haar vel se naam gedoen het eenvoudig blindweg glo dat dit alles moet regverdig.”

Volgens die flapteks wil Relaas van ’n moord die leser forseer om “morele kwessies te laat rym met respek vir die lewe”, maar vir Fanie Olivier gebeur dit nie, want die etiese probleme waarmee A te kampe kry, word nie afdoende geteken nie. “Die verhaal (nie die gegewe nie) is gewoon te skraal sodat die vrae oor respek vir watter lewe of soort lewe nie bevredigend uit die verf kom nie. Miskien het me Krog ’n behoefte gehad om haar persoonlike dilemma uit te skryf, maar die publikasie van Relaas van ’n moord (met seker een van die lelikste bandontwerpe wat ooit by Human & Rousseau verskyn het) is ’n bewys dat die waarheid anders is as fiksie. En dat Antjie Krog haar waarskynlik moet bly besig hou met haar uitsonderlike talent as digter.”

Antjie se Engelse digwerk word ook bekroon – sy ontvang die FNB-Vita Poetry Award in 2001 vir Down to my last skin en die beoordelaars se kommentaar is dat hierdie gedigte nie as vertalings lees nie, maar as skeppings uit eie reg. Hierdie bundel is ook in Afrikaans gepubliseer as Kleur kom nooit alleen nie. Die Afrikaanse bundel word eweneens bekroon, en wel met die eerste RAU-Prys vir Skeppende Skryfwerk.

Oor Kleur kom nooit alleen nie skryf André P Brink op die flapteks: “Hierdie bundel is vir my in poësie die ekwivalent van Bach se groot Toccata en Fuga, waar die ganse register van die orrel oopgetrek word ... Dis een van die min bundels waarvan ek kan sê dat ek ná die lees daarvan werklik op ’n ander manier na die wêreld kyk” (Rapport, 15 Oktober 2000 in onderhoud met Hanlie Retief).

Dieselfde temas wat in haar ander digbundels was, kan ook in Kleur kom nooit alleen nie raakgelees word, naamlik verhoudings op verskillende vlakke: in die gesin, met kinders, met die landskap en met mede-Suid-Afrikaners. Aan Hanlie Retief: “Wat dit anders maak, is dat die landskap nie meer net Suid-Afrika is nie, maar die hele kontinent, en die stemme is nie meer net wit nie, daar’s ook ’n ander soort Afrikaans. Ek was verlede jaar saam met Breyten en ander Afrika-digters op die Poetry Caravan, ’n reis van die slawe-eiland Goree aan die Ivoorkus tot by Timboektoe in Mali. Op die reis het ek die mees afgryslike momente beleef, veral met kos, en ook die heel mooiste goed wat ek nog ooit kon beskryf het. Later eers het ek besef: dis eintlik wat ons is. Die aakligheid van hierdie vasteland, maar ook die ongelooflike, wonderlike ander kant, in landskap én in mense.”

Antjie vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 16 Oktober 2000): “Dis die mees onmiddellike manier waarop ek nog ooit geskryf het. Dinge wat ek waargeneem het, het dadelik op papier beland. Gewoonlik skryf ek eers ná die gewaarwording daaroor. Die reis het my ook laat vergeet van my teësin om voor ander mense te skryf.

“Ek vind dit phoney dat mense in die openbaar in kafees sit en skryf. Die eerste dag het ek gedink ek sou sterf as ek soos die ander digters my boek moet uithaal. Uiteindelik het ek my boekie onderlangs uitgehaal en ’n paar woorde geskryf. Teen dag drie het ek net so lekker soos die ander geskryf. Ek het hier ’n vrywording in die kontinent beleef wat nog nie voorheen gebeur het nie. Vir die eerste keer het my gedigte nie in afsondering gebeur nie.”

In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat Antjie se Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Antjie vertaal ook Long walk to freedom, die biografie van Nelson Mandela, in Afrikaans as Lang pad na vryheid. Die Nederlandse skrywer Henk van Woerden se boek oor Tsafendas, Mondvol glas, word deur Antjie vertaal as Domein van glasMamma Medea, ’n toneelstuk van die Belgiese skrywer Tom Lanoye, word deur Antjie vertaal en by Aardklop in 2002 ontvang die regisseur Marthinus Basson Beeld Plus se Aartvarkprys vir innoverende werk vir sy ontwerp en regie van hierdie stuk. Dit is dus nie vreemd nie dat Antjie tydens die KKNK in 2004 in ’n skrywersgesprek met Ingrid Winterbach, die Hertzogpryswenner, bepleit het dat die boek wat die Hertzogprys wen, as ’n gegewe in Engels vertaal moet word, sodat Afrikaanse skrywers deel kan word van die ander stemme in die land.

In 2013 vertaal sy Athol Fugard se The captain’s tiger as Die kaptein se tier en is dit tydens die Suidoosterfees in die Fugard-teater opgevoer met Neels van Jaarsveld in die hoofrol.

Antjie ontvang in 2009 saam met Richard van der Ross die ATKV-Prestigetoekenning tydens daardie jaar se KKNK.

Antjie se digbundel, Verweerskrif, wat terselfdertyd in Engels gepubliseer is as Body bereft,  veroorsaak opspraak met ’n foto van ’n naakte, ouer vrou op die voorblad. Op 53 wou Antjie "skryf oor ’n leeftyd, oor ’n lyf wat haar irriteer én boei” (aan Willemien Brümmer, Die Burger, 2 Junie 2006). Byna veertig jaar na die verskyning van Dogter van Jefta draai haar gedagtes toenemend na haar liggaam, verál na die ligte beroerte in 2002.

Die Proteaprys vir poësie van 2007 word aan Verweerskrif toegeken. Oor die toekenning sê Antjie: “’n Digter skryf vandag in Afrikaans in die volle wete dat dit geen werklike statuur het nie. Jy skryf omdat jy móét en jy weet dat selfs ’n Afrikaanse rock band waarskynlik ’n groter omset as jy het. Dit is daarom dat ’n prys soos dié soos jasmyn in die voortuin is vroeg September … ’n Taal word as taal erken as hy die poëtiese kan uitdruk. ’n Taal begin taal wees in die stemme van digters. ’n Taal sonder digters is ’n sterwende taal: daarom is die bevordering, koestering, instandhouding en erkenning van poësie in Suid-Afrika en in Afrikaans belangrik.”

Vir Johann de Lange (Rapport, 16 April 2006) maak “Krog se vermoë om haarself telkens te vernuwe, om in haar bundels telkens ’n ander rigting in te slaan en vreesloos te waag, om nooit vir álmal aanvaarbaar of veilig te skryf nie, van haar een van die mees opwindende eietydse digters en een van Afrikaans se belangrikste stemme.”

Helize van Vuuren (Beeld, 17 April 2006) skryf dat in Verweerskrif “is die openbare sfeer teruggedring en feitlik volledig vervang met die private ruimte van die ouerwordende, menopousale vrou. Die sentrale tema in die bundel is die verweer en sterflikheid van die menslike liggaam, spesifiek die vroulike middeljarige liggaam, teenoor die ewigheid van die berg in die agtergrond: ‘méns-tyd’ teenoor ‘ewigheid’. Die titel dui dus op ‘’n teks oor liggaamlike aftakeling’, maar ook op ‘’n geskrewe verdediging teen ’n aanklag’.”

Wat tema en tegniek betref, vernuwe die bundel beslis, meen Van Vuuren, en is dit baie meer verwikkeld as wat binne die omvang van ’n resensie bespreek kan word.

Kwela-uitgewers publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê "tsau": Xam-gedigte in Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo. Dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. In 2006 beweer Stephen Watson, digter en ook hoof van die Universiteit van Kaapstad se Departement Engels, in die tydskrif New Contrast dat Antjie plagiaat gepleeg het. Hy beweer in die artikel dat Krog “die hele gedagte Die sterre sê 'tsau' van hom gesteel het sonder enige erkenning”. Antjie se kommentaar op hierdie aanklag is: “Dis ’n verskriklike ding omdat dit die heel belangrikste ding in jou lewe aangaan, en dis jou integriteit. Daar’s nie ’n manier wat jy dit kan herstel nie. As ek jonk genoeg was, kón ek. Maar ek kan NIKS daaraan doen nie.” (aan Willemien Brümmer in Die Burger, 2 Junie 2006)

Antjie se eerste en enigste toneelstuk, Waarom is die wat voor toyi-toyi altyd so vet? (1999), is onder andere by die Aardklop Kunstefees en by die Markteater in Johannesburg opgevoer met Marthinus Basson as regisseur en Nomsa Xaba en Tess van Staden in die hoofrolle.

Tess van Staden het in 1998 vir Antjie genader om vir haar ’n monoloog te skryf. “Teen my beterwete het ek ingestem. Ek het altyd gedink as ek weer ’n toneelstuk aanpak, sou dit ’n versdrama wees. Maar soms is ’n mens kreatief vasgekeer en sê jy ja vir iets. Dan pluk dit jou uit,” vertel sy aan Gert Coetzee (Volksblad, 1 Oktober 1999). “Dit is verstommend wat regisseur Marthinus Basson met die stuk gedoen het. Ek het die taal gegee, maar Marthinus het dit visueel laat gebeur. Hy red jou ondanks jouself en kry jou hebbelikhede (in die stuk) weggesteek.”

Antjie se oë was vol trane nadat sy Nomsa Xaba se “ontsluiting” van wit en swart mense se verhale oor die WVK gesien het. “En dis lekker dat daar 'n vet stuk poësie in die toneelstuk is,” sê sy aan Coetzee.

In 1979 word Antjie genooi om die NP van Wyk Louw-gedenklesing te lewer. Die titel van haar voordrag is "NP van Wyk Louw: die pad vorentoe". In 2004 word sy weer genooi om dié lesing te lewer by die Randse Afrikaanse Universiteit met die titel "Die beautiful woorde van Van Wyk Louw".

Antjie bevind haar vanaf die publikasie van daardie eerste gedigte op die voorgrond in Suid-Afrika en die akkolades bly nie uit nie. In 1986 vervaardig Carl Theunissen en André van den Heever ’n televisieprogram oor Antjie wat ’n ATKV-prys wen. In die laat tagtigerjare is sy een van die groep Afrikaanse skrywers en intellektueles wat deur Idasa na die Watervalberaad in Zimbabwe genooi is om met uitgeweke skrywers en ANC-lede te gesels. In 1989 lees Ahmed Kathrada, ’n eertydse gevange ANC-leier, ’n Engelse vertaling van haar gedig "My mooi land" voor op ’n massasaamtrek in Soccer City in Soweto. Antjie se verse het so ’n indruk op hom gemaak terwyl hy in die tronk was dat hy dit “gekoester" het en dit vir hom “moed gegee" het.

Antjie is nie iemand wat al ooit gehuiwer het om te sê wat sy dink en hoe sy voel nie. Dit is die rede waarom almal wat haar ken, haar eerlikheid en haar oortuiging om getrou te bly aan dit wat sy dink reg is, uitsonder. In 1987 het sy met Ton Vosloo, besturende direkteur van Nasionale Pers, gebots oor Dene Smuts se bedanking as redakteur van die tydskrif Fair Lady. In 1990 het sy by die Afrikaanse Skrywersgilde-beraad onder haar medeskrywers ingeklim oor die Gilde se apatie en dat Afrikaans van die Gilde bevry moet word. Tydens die funksie met die toekenning van die Boekjoernalis van die Jaar aan André P Brink in 2000 is Antjie die gasspreker. Sy bepleit in haar toespraak dat koerante hulle kunsblaaie ernstiger moet opneem, omdat daar “binne die kunste en kulturele verbande altyd meer ruimte bestaan vir bevraagtekening en begripvorming” (Beeld, 16 Oktober 2000). Tydens ’n simposium wat in 2003 aan die Universiteit van Stellenbosch gehou is oor die uitdagings waarvoor die NG Kerk in ’n veranderende Suid-Afrika te staan kom, sê Antjie dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie ken nie. Die kerke moet mense help om nuwe verhoudings as gelykes te bou. En een van die maniere om dit reg te kry is dat die Kerk gesamentlike etes vir wit en swart moet reël.

In 1990 veroorsaak Antjie se aanstelling op die NG Kerk se Psalmkommissie opspraak. Sy dien in hierdie kommissie tot 1992 toe sy bedank as gevolg van te min tyd. In 1992 word sy genooi om saam met digters uit ander wêrelddele deel te neem aan die Poetry International-poësiefees in Rotterdam, ’n eer wat haar weer in 2004 te beurt val. In 2003 word sy genooi om die Internasionale Letterkundefees Winternachten in Den Haag te open met ’n orakelspreuk oor die toekoms van Afrikaans.

Antjie word in 2001 verkies tot die komitee wat ’n taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse tersiêre sektor moet ondersoek. Die komitee was onder voorsitterskap van Jakes Gerwel en die ander lede was proff Njabulo Ndebele en Willie Esterhuyse en dr Nomsa Satyo.

Erkenning van akademiese kant bly nie agterweë nie. In 2002 ken die Tavistock-kliniek in Londen ’n eredoktorsgraad aan haar toe vir die bydrae wat haar werk tot die veredeling van wêreld-humanisme gelewer het. In 2004 ken beide die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan Antjie toe. Na afloop van die KKNK in dieselfde jaar word die Afrikaans Onbeperk se Kanna vir Vernuwende Denke aan haar toegeken. Ook in 2004 neem sy saam met die Nigeriese skrywer en akademikus Kole Omotoso deel aan ’n bespreking in die Sol Plaatje-diskoers. 2004 is ’n jaar van vele toekennings aan Antjie. Sy word saam met Coenie de Villiers en Gert Grobler deur die Kovsie-Alumnibond vereer en word benoem as Oud-Kovsie van die jaar. Die Universiteit van Stellenbosch verkies haar in 2004 tot die raad van dié universiteit en in dieselfde jaar word sy aangewys as Buitengewone Professor van Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Tydens Exclusive Books se jaarlikse veiling by hulle tak in Hyde Park behaal ’n handgeskrewe gedig van Antjie, "Country of grace and grief", R3 700. Die gedig is opgeneem in Down to my last skin. Die gedig "Van litteken tot rivier" behaal R1 900.

Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies. Robert Dorsman vertaal van haar gedigte in Nederlands en gee dit in 1999 in die bundel Om te kan asemhaal uit. Country of my skull word aan universiteite in Amerika en Europa voorgeskryf as deel van die leerplan wat handel oor die optekening van die verlede.

Tydens die skryf van A change of tongue, wat in Afrikaans gepubliseer is as ’n Ander tongval, kry Antjie ’n ligte beroerte-aanval, maar sy herstel gelukkig feitlik heeltemal – iets wat sy glo toegeskryf kan word aan haar gereelde joga-oefeninge. ’n Ander tongval is deur Saartjie Botha omgesit in ’n toneelstuk met Nina Swart wat die rol van Antjie vertolk.

In 2006 onderneem Antjie ’n toer van ses weke saam met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Dit is aangebied deur Behoud de Begeerte, ’n onafhanklike kunsliggaam wat hom uitsluitlik beywer vir die bevordering van die Nederlandse/Vlaamse literatuur. Na die toer sê ’n Nederlandse vrou in Nederlands aan Antjie: “Dis die taal. Toe jy jou mond oopmaak, skiet die Afrikaans my deur die hart.” (Die Burger, 18 November 2006)

Antjie was in 2008 vir ’n jaar in Berlyn waar sy genooi was om die Wissenschaftskolleg zu Berlin – ’n sentrum vir gevorderde studie en navorsing – te besoek.

Sy vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Maart 2009) dat haar kinders elkeen op hul eie vir haar in Duitsland kom kuier het: “Ek het Duits geneem op skool, maar my kinders ... Dit was eintlik vreeslik lekker om hulle in ’n ander kultuur in te vat. Daai goed is high culture: dis klassieke musiek, dis Wagner, dis Thomas Mann, dis Bertolt Brecht, maar dan daarmee saam is daar onder dit alles ’n sosialistiese mind-set van Berlyn wat jy die hééltyd oralster optel; die heeltyd funksioneer bevraagtekening, ondermyning en dan so ongelóóflik geartikuleerd! Ek meen jy kan nie ...

“Jy lees daai koerante en dan wil jy in tráne uitbars oor hoe ongelooflik ... of hulle nou praat oor die sokker of die budget of die opera of die Páse. Hulle hele analíse van Páse ... here en dan lees ek ... ek het nou Faust gelees, van Goe­the, en dan kýk jy daar en dan sien jy: here, hiérdie man het die bose al bevráágteken terwyl ons nog in ons f—n óssewaens rondgevál het in dié land! En dan dink jy g’n wonder ons is nog hier besig met evolusie nie. Ek kan dit nie verdúúr dat jy nie ...” Sy struikel oor haar woorde van verontwaardiging. “... hoe ... hoeveel jaar gaan daai debat al aan? Hy kóm nié genuanseerd nie. Hy ís net die heeltyd pateties gepolariseer, jy weet.”

Sy erken teenoor La Vita dat sy dink digters is nie vol selfvertroue nie. “... om ’n gedig te doen moet iets ékstra bykom; jy kan nie net talent hê en gaan sit nie. Daar moet iets anders gebéúr. En jý weet nie hoe om daai te láát gebeur nie. Dit hélp as jy baie skills het; dit hélp as jy ... álles help, maar dis nie noodwendig dat daar ... Terwyl as jy ’n taléntvolle prosaskrywer is en jy het die selfdissipline om te gaan sit, en jy doen móéite en jy wérk ... iéts gaan gebeur.”

Begging to be black word in 2009 uitgegee. Dit het as agtergrond die dood van ’n bendeleier wat in Kroonstad doodgeskiet is. Die moordwapen is op Antjie se stoep weggesteek. In Begging to be black begin Antjie om haar posisie in hierdie saak na te vors. Die boek vertak dan in verskillende rigtings, beide in tyd (van die dae van koning Moshoeshoe van Lesotho) en in ruimte, soos die leser op Antjie se ondervindinge naloop. Die flapteks beskryf Begging to be black as ’n boek van reise – etiese, geskiedkundige, filosofiese en geografiese reise. “These form strands that Krog interweaves and sets in conversation with each other, as she explores questions of change and becoming, coherency and connectedness, before drawing them closer together as the book approaches its powerful end. Experimental and courageous, Begging to be black is a welcome addition to Krog's own oeuvre and to South African literary non-fiction.”

Begging to be black is die derde deel van die trilogie wat voorafgegaan is deur Country of my skull en A change of tongue.

“Die boek bestaan uit drie verhale,” sê Antjie aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 14 November 2009).

“Die een verhaal, die moordverhaal, is ’n terugkyk na ’n insident wat ek gedink het ek tóé moreel korrek hanteer het, en nou daaroor begin vrae vra.”

Die insident is die een waarvan in die vorige paragraaf geskryf is.

Die tweede verhaal is die geskiedenis van die Basoeto-koning Moshoeshoe I. “Die verhaal verwys na daardie eeue lange gesprek tussen wit en swart wat eintlik nog nooit ’n werklike gesprek was nie. Wit en swart het met mekaar gepraat en gedink hulle verstaan mekaar: Moshoeshoe het gedink hy verstaan die wittes en die wittes het gedink hulle verstaan hom, maar uiteindelik het hulle mekaar nie verstaan nie. Want hulle het gepraat vanuit verskillende raamwerke.”

Antjie gaan voort: “Die derde verhaal is my Europese verblyf en ervarings as ’n navorsingsgenoot in Berlyn. Daar het ek besef hoe mense die wêreld vanuit verskeie ‘raamwerke’ beoordeel.”

Antjie se volgende digbundel is ’n Engelse een met die titel Skinned wat in 2013 deur Umuzi en Seven Stories Press in Amerika uitgegee is. Hierdie bundel bevat gedigte uit tien van Antjie se gepubliseerde bundels wat ’n tydperk van dertig jaar dek. Dit verteenwoordig haar totale loopbaan as een van Suid-Afrika se bekendste digters. Die gedigte is nog nie vantevore vertaal nie en dit is die eerste maal dat dit in druk verskyn. Dit is ook die eerste keer dat ’n bundel met Antjie se verse in Amerika uitgegee is.

In die inleiding skryf Antjie: “Three themes have fingerprinted my work for four decades: politics and the land, family and love, and the being-ness of the poet. This volume attempts to present a kaleidoscope of how these themes changed and developed in the course of ten volumes against the background of profound political and social changes within South Africa.” http://www.sevenstories.com/events/book-launch-for-south-african-poet-antjie-krog-on-april-18th/

In sy resensie van Skinned skryf Leon de Kock in Die Burger van 14 Julie 2013 dat die titel heel gepas is vir hierdie versameling van Antjie Krog se gedigte in Engels: “Die onderdele van die boek is vergelykbaar met ’n reeks digterlike velle wat stelselmatig afgewerp word. Dit is ’n proses van gedaanteverwisseling wat alles in die stryd werp om vaste ras- en kultuurmodusse om te vorm.
“’Vertaling’ in die breedste sin moontlik, dit wil sê struktureel, linguistiek, ontologies en kultureel, staan sentraal in Krog se estetika, en hierdie versameling – ondanks sy tekortkominge – is effektief ’n poëtiese manifes van die allergrootste belang. Dit is ’n verkenningstog vir alle Suid-Afrikaanse digters oor alle grense heen en veral vir die diep-enkelsinnige, eenogige Engelssprekende Suid-Afrikaanse digterlike gemeenskap.”

De Kock sluit sy resensie af: “Krog bly een van die min Suid-Afrikaanse digters wat werklik ambisieus te werk gaan wat betref digterlike strekking, vormverwisseling en taalgebruik. Mag sy dit al hoe beter doen, want dit is ’n grootse tog.”

Die gedigte in Skinned kom uit Otters in Bronslaai (1981); Jerusalemgangers (1985); Lady Anne (1989); Gedigte (1995); Country of My Skull (1998); Kleur kom nooit alleen nie (2001); Met woorde soos met kerse (2002); die sterre sê ‘tsau’ (2004); en Verweerskrif (2006).

Antjie se gedigte word gereeld getoonset. In 2012 is gedigte uit Verweerskrif gebruik as die  basis vir ’n liedsiklus wat deur die komponis Ruan Strauss Kalis getoonset is. Hierdie musiek was ’n kombinasie van kunslied en kabaret.

In Februarie 2013 is die produksie “Woorde met wieke” in die Oude Libertas-teater op Stellenbosch op die planke gebring. Van die bekendste Afrikaanse kunstenaars in Suid-Afrika, soos Coenie de Villiers, Jak de Priester, Herman van den Bergh en Andries Bezuidenhout het elk van Antjie se gedigte getoonset.

Antjie het haar 60ste verjaardag in Den Haag gevier met ’n aandgeleentheid op 10 Oktober 2012 wat deur Writers Unlimited The Series aangebied is. Sy sou by hierdie geleentheid van haar Afrikaanse gedigte voorgelees het en ander digters het ook opgetree. Adriaan van Dis sou met haar gesels oor die posisie van die digter in Suid-Afrika.

Met Antjie se sestigste verjaardag het die volgende skrywers haar gelukgewens:

  • Max du Preez
    My wens vir Antjie is gesondheid en hope liefde, en mog ons land nader beweeg aan dit waarvan sy so lank gedroom het.
  • Breyten Breytenbach
    Mag sy nog lank vir ons word-en-verwordtaal uitgespaar bly, mag sy genade en geduld hê met die Dwaalvolk, en mag sy net van krag tot krag gaan. Viva, Antjie! Viva!
  • Joan Hambidge
    Mag jy op sestig, voortdig
    op jou uniek woedende
    en priemende wyse.
  • Deon Meyer
    Baie geluk, Antjie. Mag al die regte woorde in die volgende jaar gedienstig voor jou pen se punt kom lê. Lekker verjaar.
  • André P Brink
    Net ’n dankie-sê, liewe Antjie, dat jy is wie en wat jy is, en dat jou daar-wees dit vir almal van ons die moeite werd maak om te wees wie en waar ons is.
    Met liefde,
    André en Karina
  • Marita van der Vyver
    My hartewens vir Antjie op 60: dat jou woorde nooit sal opraak of wegraak nie; dat jou geliefdes se liefde jou tot die einde sal abba; dat jou hart altyd so vol passie sal bly klop.
  • Riana Scheepers
    ’n Rympie, vir Antjie, op 6(0)
    Antjie S maak kinders bang
    en Antjie K skryf versies
    my wens vir jou op hierdie dag:
    ’n versekoek met kersies.

(Beeld, 23 Oktober 2012)

In Die Burger van 3 Maart 2012 gee Antjie haar mening oor godsdiens: “Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek dat die mens se behoefte aan godsdiens, God, Jesus en ’n heilige gees hoofsaaklik met mag te doen het. Hoe meer ‘uit beheer’ jy voel, hoe meer het jy iets nodig om te stabiliseer. Maar dit is nie te sê dat dit nie vir my soms wonderlik is om in ’n kerk te wees nie, dat as ’n vorm van saamwees, veral in ’n swart kerk, dit ’n mens sterk bind aan iets groters as jyself, nie God nie, maar mense, die spiritualiteit van menswees.

“Wat glo ek nóú? Ek hou nie van die woord ongelowige nie. Want ek is gevul met geloof, maar ek is nie ’n Christen nie. Ek glo nie aan God soos hy vertel word deur die Bybel of die kerk nie. Maar ek glo dat daar iets groters as ekself is. Die beeld waarmee ek dit miskien kan verduidelik, is dat elke mens aan die struktuur van dit wat groter as jyself is, drink soos ’n baba aan ’n bors. Ons voel die tepel tussen ons kake, dan sê ons: dis God. Ons voel die melk in ons mond en sê: dis Christus. Intussen is daar agter die tepel ’n hele bors met ’n ingewikkelde klierstelsel, daar is nog ’n bors, en daaragter die hele liggaam. Maar ons kyk met ons bababrein en ongekoördineerde oë na die tepel en sê: ghoeghoe-ghoe.”

In 2012 is daar ’n skrywerskonferensie in die Fugard-teater in Distrik Ses gehou wat deel was van ’n internasionale herbesoek aan die Edinburgse wêreldskrywerskonferensie van 1962. In haar spreekbeurt oor die tema “Moet letterkunde polities wees?” het Antjie gesê: “Die departement van kuns en kultuur is ’n nul op ’n kontrak en kan geensins krediet neem vir Suid-Afrikaanse kunstenaars se suksesse nie.”

In haar praatjie het sy gewys op hoe belangrik dit is dat daar wel wisselwerking tussen skrywers en politici moet wees, ook teen apartheid. Sy het Karl Marx aangehaal: “’n ­Regering hoor net sy eie stem. Hy wéét hy hoor net sy eie stem. Hy hou graag die illusie voor dat hy die stem van die mense hoor. En dring daarop aan dat die mense ook hierdie illusie voorhou.”

Sy het voortgegaan: “Dáárom moet ’n kabinet ­letter­kunde lees. Nóg die staat wat hulle beheer, nóg die goeie planne om die land om te laat draai, sal help in die afwesigheid van ’n ­visioenêre woordeskat wat ten beste gemaak word deur ­skry­wers en digters om te skep, besiel en fokus op sosiale k­ohesie.” (Die Burger, 24 September 2012)

Antjie Krog was in 2014 aan die ontvangkant van die Mbokodo-toekennings wat sedert 2013 toegeken word. Dit word gesamentlik aangebied deur die Departement van Kuns en Kultuur en Carol Bouwer-produksies om erkenning te gee aan vroue wat ’n beduidende bydrae tot die kunste in Suid-Afrika gelewer het. Sy het dit ontvang in die kategorie van taal en die kuns van storievertel, veral vir die invloed wat Country of my skull (1998) gehad het en nog steeds het.

In 2014, agt jaar na die verskyning van haar vorige bundel, Verweerskrif, word Mede-wete / Synapse gepubliseer. Dit word in 2015 met die ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon (beoordelaars Diana Ferrus, Margot Luyt en Bernard Odendaal) en in 2017 palm Antjie met Mede-wete vir die tweede maal die Hertzogprys vir poësie in.

In sy huldigingswoord by die oorhandiging van die Hertzogprys aan Antjie sê Hein Viljoen dat Mede-wete ’n "sterk en ontstellende bundel is, oorspronklik en vindingryk. Die digter ondersoek ’n wye reeks aktuele kwessies, veral politiek en rasseverhoudings (soos in die skrynende reeks 'Bediendepraatjies'). Die bundel is oorweldigend (en baie moedig) in die wyse waarop dit die kwessies van bevoorregting, wit-wees en inherente rassisme aan die orde stel. Dit is fel betrokke poësie – baie naby aan die aktualiteit.

"Die teks ontgin ’n wye reeks taalregisters op ’n byna argeologiese wyse. Taal word – op die voetspoor van Paul Celan na die Groot Brandoffer – gebreek en hersaamgestel, so asof die bestaande (standaard)taal te swaar dra aan 'n ideologiese ballas, uitgedien geraak het en daarom nuut uitgevind moet word. Deur sy/haar mede-wete en mede-pligtigheid is die leser betrokke by hierdie ontdekkingstog. 'n Soort meedoënlose woordspel kenmerk die bundel – ’n voorneme as’t ware om meer as een betekenis op ’n slag uit te druk en betekenis ekspressionisties uit te vergroot, soos in die gedig by Mandela se dood of in die gedigte oor die geliefde. Deur sy volgehoue (taal-) eksperimentering is die bundel vergelykbaar met Marlene van Niekerk se bundel, Kaar. (...)

"Die gewaagde en intense aanpak van die politiek van skuld, die verskeidenheid en veelstemmigheid daarvan en die uiters vernuwende eksperimentele gebruik van die taal maak Mede-wete ’n waardige ontvanger van die Hertzogprys –  ’n besondere prestasie in ’n jaar waarin verskeie puik bundels meegeding het om die prys."

In haar antwoord het Antjie Krog onder andere gesê (Die Burger, 22 Junie 2017): "(D)ankie aan die Akademie vir soliede gewoonheid. Want waarom dit eintlik hier gaan, is dat literêre pryse die manna uit die hemel is, die dou op Gideon se skaapvel, dan op dan af. As dit na jou kant toe kom, is dit iets waaroor jy jou van harte verbly, jouself toelaat om vir ’n oomblik in rond te dryf, dalk jou bek bokant die water soos ’n seekoei te groot te rek of klein spuitfonteintjies van plesier te blaas. Want ’n digter kan nie lewe van poësie alleen nie. Nog erger: om poësie te kan skryf, moet jy as ’t ware toegang tot lugleegtes hê, oop tyd, ruimtes vol tyd. Geld soos dié stel ’n mens in staat om van die agtervoet na albei voete te beweeg en uitgewers weer op goeie voet te vind. (...)

"My grootste dankie gaan egter aan die poësieliefhebbers in Afrikaans, of hulle self ook skryf, pryse toeken of onderrig gee, of net ’n gedig lees en vir ’n oomblik hulle oë toemaak asof hulle iets bowe-werkliks ervaar het, mense wat glo dat poësie die slagaar van ’n taal is, die diepste vorm van filosofie. Wat weet dat poësie die gevoelige ervaring van menswees verleng; wat aan iemand wat sigself aan die einde van wanhoop bevind, ’n opening bied, ’n asem, ’n oomblik van insig - verblindend van die onsegbare.

"Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend omdat dit die mens in ’n verhoogde staat van bewussyn plaas, altyd met verhelderende gevolge. Asof jy op die drumpel van asem staan. Asof jy suurstof uit koel bome kry en skielik vorentoe gaan. Dis waarom digters skryf. Dis waarom lesers lees. Om die verheldering, die intensifisering, om iets van die onsterflike te ontruk.

"’n Goeie gedig is ’n versneller van die bewussyn. Indien jy ooit eenmaal hierdie versnelling meegemaak het, smag jy daarna en raak volslae afhanklik. Wie sigself in hierdie soort verruklike afhanklikheid van taal bevind, heet, so dink ek, digter en gedigliefhebber. Ek salueer julle en ’n uitgewery wat al vir honderd jaar poësie publiseer.

"So hou die poësie voet by stuk, gee sy nie om as haar gesig verbrand nie, selfs al word sy toegegooi deur nimmereindigende internetmeule-variasies wat geen komplekser handeling van lesers verg as ’n duimpie op of af nie."

Mede-wete is Antjie se gunsteling bundel, vertel sy aan Pienaar-Vosloo. "Ek het die grootste risiko's daarmee geloop. Hoe ouer jy raak hoe meer vra jy jouself af of dit nie nou tyd is om stil te bly nie. Moet vandag nie uitgesê word deur die jongeres en digitaal-ratses nie? Hoe ouer jy word hoe meer bewus word jy van weerloosheid en sterflikheid en dit raak moeilik om skerp en hard te werk om van oortollige woord-gewig ontslae te raak. Dit word al hoe moeiliker om ’n digbundel te publiseer en om legitimiteit daarvoor te kry. Met al die nuwe tegnologie en vlugtigheid van woorde op die internet, die digitalisering, Facebook en blogs is daar net soveel digters. En mense kan so vinnig, soms ondeurdag en so onbevange daarop reageer.”

Wanneer sy met Murray la Vita oor Mede-wete gesels, noem sy aan hom dat sy gewoonlik altyd ’n stel tipiese temas het. "Ek skryf politiek, ek skryf persoonlike gedigte, ek skryf oor taal, ek skryf oor die maak van gedigte, ek skryf oor my familie en hierdie keer toe ek begin werk aan ons plaas en die werf, toe besef ek dat eintlik is werf ’n ideale plek vir álmal.

"Die werf van ’n plaas is waar álle dinge bymekaarkom, die sterre, die diere, die mense wat daar werk, die eienaar, die kinders, die kos, die honger, die onreg - dis alles, alles plek op ’n werf.

"Ek het aanvanklik gedink die bundel se titel moet wees Die werf en toe het Johann de Lange vir my gesê, nee, jô, hierdie gedigte ... jy weet nie wat maak hulle daarin nie en as mens dit lees, is dit te vreemd en dit is te wild, hy dink hulle moet uit.

"En toe het ek gedink ek probeer juis ’n ánder taal kry ... En dis dan waar ek begin het om by Paul Celan te kyk wát doen jy aan taal om die woorde wat nie meer iets beteken in daai taal nie, terug te bring dat hulle iets beteken. Toe het ek die gedigte almal uitgehaal en hulle in ’n aparte afdeling gesit."

Op Versindaba skryf Marlies Taljard as volg oor Mede-wete: "Die bundel Mede-wete herinner aan ’n laataand-gesprek waarin die knelpunte van ons lewe in hierdie land en ons bestaan op aarde op diepsinnige wyse en met inagneming van die geskakeerde aard van die werklikheid en die waarheid uitgepluis word. Die bundel het ’n diep spirituele stramien wat in die grein van die gedigte lê, dikwels sonder om beredeneer te word. (...)

"Die digterlike styl van Mede-wete is, soos ons nou reeds van Antjie Krog te wagte is, kenmerkend van ’n digter wat ’n meester van haar ambag is. By haar gaan gedigte met ’n narratiewe aard naatloos oor in liriek, in argumentatiewe betoog; van die mees informele register na die formele akademiese register sonder dat sy ooit haar greep op die poëtiese aard van die gedigte verloor. Die wyse waarop sy taal hanteer, vorm en vervorm om nuut te klink en nuut te beteken het reeds by haar ’n handelsmerk geword en laat die leser telkens sprakeloos. Sy skryf ewe gemaklik in vrye versvorm as wanneer sy van ingewikkelde vaste poëtiese strukture gebruik maak. Mede-wete hoort myns insiens voor in die vertoonkas van die Afrikaanse poësie. Ek haal ten slotte die laaste deel aan uit een van my gunsteling gedigte, mirakel, met sy pragtige liriese – byna inkanterende – inslag:

ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak

ek het geen ander land
as dié land nie

mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde

ek glo nie aan wonders nie maar
die vreedsame vrymaking van my land

was ʼn wonder – onkant en lighoofdig bly
dit by my die weergaloosheid daarvan

bly my by

Die Nederlandse vertaling, Medeweten, vertaal deur Alfred Schaffer, Robert Dorsman en Jan van der Haar, was een van die vyf benoemdes vir die Filter Vertaalprijs vir 2016. Die beoordelaars vir hierdie prys het onder andere oor die vertaling geskryf: "Medeweten vormt zonder twijfel een hoogtepunt in het oeuvre van de Zuid-Afrikaanse dichteres Antjie Krog. Het is een bundel van een verbluffende complexiteit waarin centrale motieven uit haar werk samenkomen: grond en gemeenschap, het vrouw-zijn, de menselijke vergankelijkheid (zoals in het prachtig en tegelijk ontluisterende ‘ontweiden’ over de levende dode die haar moeder geworden is, een ‘dodin’), maar ook het schrijven zelf. Alle stijlregisters worden ingezet, zowel spreektalige als hooggestemde, de toon schiet heen en weer tussen nuchter, ontroerend en schokkend, en genreconventies moeten eraan geloven. Tafereeltjes die in verwondering stilstaan bij het dagelijks leven volgen op prozagedichten over de worsteling met ongelijkheid en racisme of op beschouwingen over de taal als grondstof van de dichter. Dankzij Robert Dorsman, Jan van der Haar en Alfred Schaffer beschikken we nu ook over een tweetalige leeseditie, met telkens op de linkerpagina de Nederlandse vertaling en rechts het origineel. Een toelichting bij de vertaling is er niet, waarschijnlijk om de poëzie laagdrempelig te houden. Dat is een begrijpelijke bekommernis, al vraagt de lezer zich nu wel af waarom bijvoorbeeld het koppelteken uit de Afrikaanse titel (Mede-wete) werd weggelaten, of waarom niet de integrale bundel werd vertaald. De vertalers hebben zich strikt gehouden aan de strofebouw en aan de bladspiegel en slagen er uitstekend in om de sfeer en het ritme van de oorspronkelijke gedichten op te roepen." (http://www.tijdschrift-filter.nl/filter-vertaalprijs/2016/nominaties-filter-vertaalprijs-2016.aspx)

Antjie se ma, Dot Serfontein, is op 4 November 2016 oorlede. Haar reaksie op haar ma se afsterwe teenoor Charles Smith was: "Die verlies is oorweldigend. Die woord huldeblyk skielik ook ..." Antjie het die gedig "ontwei" in die bundel Mede-wete aan haar ma opgedra:

ontwei

jy gly onder my uit, Ma, in hierdie virulentgeurende lente
vanoggend toe ek jou groet, klamp jy aan my vas
en byna te buite hou ek jou

hou jou lignemendheid jou werpwrakende woedebrokke
jou brak onuitblussende steenkooloë vegtend bloed-
veragtendvegtend maar jy’s reeds sonder skouers

(here die gedagte aan ’n ontdagte-jy klief op my af die weg-
glip van die vreesloosste priemhonger sillabe
van my lewe) – dis boggel wat ek
in my arms hou    newe-aards skots-skreef probeer jy
die inmekaarplons toeskoffel
die swetsende terdoodbrenging van slyt-
bare vlees soos voortgedryf deur pis deur die onwaardigheid
van skyt van herberglose breuke knoppe en fynmasige
wade van immerende onmagtigheidsmakings

maar altyd

altyd met die vlammende dapperswaard stip vooruit dit robbel
en skree Ma want hoe benaam ek jou tot leef tot nader-
baar bly as boegbeeld wat die aarde voor my kloof

torsende briefvellige vrou morsend met jou nat grys hare
asof jy met moeite uit die grond geruk is ek sien die wanhoop
in jou oë ons gryp na die enigste wat ons ken: die skrifgeluid van

skerwe angsvallig tastend teen soveel vergruisende weerloosheid
om die dood te probeer indink tot die dood-in toe hoor ek jou
beier aan onverlore taal jou woede spaar jy nie nog jou deernis
nog jou arms nog jou bors in die truspieëltjie sien ek jou staan
staan in jou vooroorstortende lyf

alleen, onnoembaar mensonterend alleen dodin van my wese
en trillende keelvel van my alfabet

In Taalgenoot (winter 2015) vertel Antjie vir Anet Pienaar-Vosloo dat sy ’n beter ouma is as wat sy ’n ma was. "Ek glo onwrikbaar daarin dat jy vir kleinkinders moet lees vandat hulle jou kan hoor. Om vir ’n jong kind daagliks voor te lees is die grootste geskenk wat jy die kind kan gee. Rymelary en die klank van rym, sonder om te verstaan wat die woorde beteken, vorm ’n ritme in ’n kind se brein wat haar meer laat begryp as wat sy verstaan. Rym werk met klanke en asem, jy voel dus taal deur jou lyf.

"Rudolf Steiner noem dit 'innerlike semi-spirituele ruimtes' wat ’n kind se psige verruim. Rym stel ’n kind voor aan sulke komplekse sinstrukture dat haar maatjies, wat lesers is, eers op 15 by haar gaan opvang. Rym skep ’n enorme passiewe woordeskat – mens ken mos baie meer woorde as wat jy gebruik. Dit laat ’n kind kreatiewe spronge maak: ‘lap’ en ‘kap’ het niks met mekaar te make nie, maar klankgewys konfronteer hul samehang jou. Daar word beweer dat ’n Engelstalige kind in 1945 maklik 10 000 woorde geken het. Vandag is dit skaars ’n duisend. Een van die belangrikste redes vir die agteruitgang is glo dat ouers nie meer vir kinders rympies en berymde gedigte lees nie.”

In ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger van 30 Junie 2017 praat Antjie met hom oor die dood: "Ek is tog altyd bietjie teen die feit dat die dood soms in die poësie ’n ontsnapping word van die léwe; met ander woorde jy hoef nie te skryf hoe jy oud word nie en hoe jy sleg lyk en voel nie. As jy praat, praat jy oor die dood. En ek sê nie dis maklik om oor die dood te praat nie, maar ek sê net daar is ’n stadium van verwoording wat verwaarloos word en dít is die pre-dood.

"Ek het vir my ma die heeltyd gesê: 'Skryf oor nóú. Wat dink ’n mens? Wat doen ’n mens? Wát?' En sy het glad nie belang gestel daarin nie.

"En ek het een keer vir ’n ander baie ou skrywer gesê: "Ek wil weet oor daai tydperk, ek wil daai tydperk verstaan. Die poësie het my in staat gestel om die fases van my lewe te begryp. Jy raak verlief met die gedigte van Ingrid Jonker, Jy hét lief met Breyten se goed, of Van Wyk Louw se 'Ek haat en ek het lief'... (...)

"Dit gee jou toegang tot ’n intensiteit van sekere fases van jou lewe en dáái deel word nie verwoord nie. En toe sê die skrywer vir my: "Ék skryf om wég te kom daarvan.' En toe dink ek dit is ’n probleem, want dit is hierdie ... En dan, wanneer manskrywers in prosa wél daaroor skryf, dan maak hulle hulself ou vrouens - sowel Coetzee as Karel Schoeman; die karakters is ou vrouens wat sterwend is.

"Nou weet ek nie of dit die uitmekaarval van ’n vrou se liggaam is wat makliker is om jou te verbeel as die uitmekaarval van ’n mán se liggaam nie.

"En jy weet, sodra die digters oud word, dan vat hulle meesal jong vrouens, so dan het jy hierdie fantastiese kontras van die jeug en die dood. Maar nié hierdie arme stokou man saam met die jeug nie; die uitmekaarvallende manlike liggaam is nie ’n teenwoordigheid nie; ek ken nie gedigte waarin dit figureer nie."

Dit het Murray la Vita opgeval dat iets wat Antjie fassineer van die manlike teenwoordigheid is dat "sodra dit verdwyn, vat dit die mag saam".

"En nou kyk jy na die letterkunde - die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klas gee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag van die letterkunde verdwyn.

"In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook: hulle sê die beroep word vervroulik.

"En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees, is nie meer daai aangrypende Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die mans of hulle gaan in geld in.

"Ek kyk na die politiek wat nou sulke sterk vrouens het en hierdie mans wat uitruilbaar lyk. (...) Hulle lyk almal of hulle in dieselfde fabriek gemaak is. (...) Ek vermoed oor ’n ruk gaan daar geen mag mee oor wees in die politiek nie. Die geld gaan die politiek só lamlê dat dit nie eintlik saak maak wat die politici daar binne besluit nie. Dis eintlik klaar so - geld run die wêreld en jy sien daai mans wat dit doen nooit.

"Nou in die kreatiewe letterkunde blý mans gelukkig, so ek is altyd bly as ek na ’n plek gaan en jy sien daar gaan manskrywers wees want dan weet jy hulle bring met hulle die mag saam, die aandag, die respek.

"Ek dink dit is jammer dat dit so is en dat ’n mens nie leer hoe om waarde te heg aan dit wat vrouens doen nie. Of doen ons dit op so ’n manier dat dit móéilik is om dit te eer?"

Publikasies:

Publikasie

Dogter van Jefta

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1980
  • 1982

ISBN

  • 0798102632
  • 0798113537

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Januarie-suite

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1980

ISBN

079810211X

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1973

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Beminde Antarktika

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0798105860

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Reina Prinsen-Geerligsprys voor Zuid Afrika 1977

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mannin

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0798105879

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Reina Prinsen-Geerligsprys voor Zuid Afrika 1977

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Otters in bronslaai

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1983

ISBN

0798111739

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eerste gedigte

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1990
  • 2004

ISBN

  • 0798117362
  • 0798127473 (sb)
  • 0798144599 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mankepank en ander monsters

Publikasiedatum

  • 1985
  • 2011 (illustrasies deur Diek Grobler)

ISBN

  • 0620087706 (sb)
  • 9780624052562 (sb)

Uitgewer

  • Emmarentia: Minotaurus
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

Jerusalemgangers

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1986
  • 1992

ISBN

  • 079811939X
  • 07981130792 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Rapportprys 1987

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lady Anne

Publikasiedatum

  • 1989
  • 2004

ISBN

  • 0947046186 (sb)
  • 0798144475 (sb)

Uitgewer

  • Bramley: Taurus
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1990

Vertalings

Engels 2017 deur Bucknell University Press (Lady Anne: a chronicle in verse)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voëls van anderste vere = Birds of a different feather = Iintaka zolunye usiba: gedigte vir kinders

Publikasiedatum

1992

ISBN

1874863059 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Buchu Books

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

Siklus

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132469

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Relaas van ’n moord

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798135107 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, vertaal deur Karen Press 1997
  • Nederlands, vertaal deur Robert Dorsman 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gedigte 1989–1995

Publikasiedatum

1995

ISBN

1874969124 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Hond

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Country of my skull

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2002

ISBN

  • 0958419515 (pbk)
  • 0958419566 (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Random House

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken

  • Honourable mention Noma Award for Publishing in Africa 1999
  • Sunday Times/Alan Paton Award for Non-fiction 1999
  • South African Booksellers’ Choice Award 1999
  • Hiroshima Foundation for Peace and Culture Award 2000
  • Olive Schreiner Prize 2001

Vertalings

Word gepubliseer in Londen, Amerika, Milaan, Denemarke en Nederland

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kleur kom nooit alleen nie

Publikasiedatum

2000

ISBN

0795701179 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk

Vertalings

Terselfdertyd in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Down to my last skin: poems

Publikasiedatum

2000

ISBN

0958419558 (pbk)

Uitgewer

Kaapstad: Random House

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

FNB-Vita Poetry Award

Vertalings

Terselfdertyd in Afrikaans gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A change of tongue

Publikasiedatum

2003

ISBN

0958446849 (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Random House

Literêre vorm

Non-fiction

Pryse toegeken

South African Booksellers’ Choice Award 2004

Vertalings

Ook in Afrikaans gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die sterre sê"tsau": Xam-gedigte in, Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo

Publikasiedatum

2004

ISBN

0795701748 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Vertaalde poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The stars say "tsau"

Publikasiedatum

2004

ISBN

0795701756 (pbk)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Terselfdertyd in Afrikaans gepubliseer
  • Nederlands 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Ander tongval

Publikasiedatum

2005

ISBN

 062404209X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verweerskrif

Publikasiedatum

2006

ISBN

1415200068 (sb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Protea Poësieprys 2007

Vertalings

Terselfdertyd in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Body bereft

Publikasiedatum

2006

ISBN

1415200122 (pbk)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Gelyktydig in Afrikaans gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fynbosfeetjies

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781415200223 (hb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Gus Ferguson 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Digter wordende: ’n keur

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149266 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Begging to be black

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781770220706 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Random House Struik

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skinned: selected poems

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781415203859 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Umuzi
  • New York: Seven Stories Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Conditional tense: memory and vocabulary after the South African Truth and Reconciliation Commission

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780857421746 (sb)

Uitgewer

  • Chicago: University of Chicago Press

Literêre vorm

Kultuurgeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mede-wete / Synapse

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167871 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir poësie 2015
  • Hertzogprys 2017

Vertalings

  • Engels 2014
  • Nederlands 2016; vertaal deur Albert Schaffer, Robert Dorsman  en Jan van der Haar

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Antjie Krog as vertaler

 

Antjie Krog as samesteller

 

Werke oor Antjie Krog

 

LitNet Akademies-artikels

 

Keur van artikels beskikbaar op die internet

 

Gedigte van Antjie Krog op die internet

 

Artikels deur Antjie Krog beskikbaar op die internet

 

Plagiaat-debat op LitNet na aanleiding van Stephen Watson se aantygings in New Contrast

 

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


The post Antjie Krog (1952–) appeared first on LitNet.

Kook & Geniet: ’n onderhoud met Eunice van der Berg

$
0
0

’n Nuwe program op kykNET vestig Suid-Afrikaners se aandag op ’n kookboek wat almal ken. Eunice van der Berg, een van die dogters van Kook & geniet-skrywer SJA de Villiers, is ook in hierdie program te sien en gesels met Naomi Meyer oor dié alombekende boek.

Eunice, jou ma se boek Kook & Geniet is in talle Suid-Afrikaners se kombuise. Vertel my asseblief van jou vroegste herinneringe aan jou ma: speel hierdie geheueflitse af in ’n ruimte soos die kombuis?

My vroegste herinnering aan my ma is nie in die kombuis nie, maar wel aan die bedrywige huishouding met wasgoed was en ander huishoudelike dinge. My ma het ook baie tyd aan admin bestee, omdat sy K&G self uitgegee en versprei het. Smiddae het sy in die sonkamer (waar sy ook naaldwerk gedoen het) op ’n divan gerus en ek het agter haar rug ingekruip. Hier het sy my op vyf jaar leer horlosie lees.

Het jou ma op haar eie gekook, was dit ’n gesinsaktiwiteit? In watter mate is jy, jou suster en dalk jou pa betrek by kosmaak?

My ma het nooit op haar eie gekook nie. Ons huishulp, Florina Scheepers, was baie goed deur my ma opgelei om volgens haar instruksies te kook. My pa het skaars vir homself ’n koppie tee kon maak, maar het gereeld kort voor ete ’n vooraf proefie in die kombuis kom haal. Een van my groot plesiere was om vir hom ’n lekkerny te maak, maar verder het ek en my suster, Heleen, nie veel bygedra tot die maaltye nie. Kosmaak was beslis nie ’n gesinsaktiwiteit nie.

Toe jy die huis verlaat, het kosmaak saam met jou gegaan? En was dit jou eie resepte, of jou ma s’n?

Dit was vir my beslis heerlik om my eie kombuisie te hê en voel-voel te begin kook. Natuurlik het baie van my agtergrond van my ma gekom, maar ek het ook huishoudkunde gestudeer en moes in my tweede jaar ’n kookkunsmodule volg. Die kursus was op ’n eksperimentele basis gegrond en het my later baie goed te staan gekom toe ek my ma begin help het met Klein Kook & Geniet, asook met die nuutste hersiening van K&G.

En het jy toe van kosmaak gehou? Was dit nog altyd vir jou ’n persoonlike vreugde? Vertel asseblief nog meer van jou eie vreugdes en genietinge in die lewe wat nie met kosmaak te doen het nie.

Ek was aanvanklik baie meer geïnteresseerd in tekstiele en ontwerp as in kosmaak. Die huishoudkundekursus het my blootstelling aan ’n hele klomp aspekte van ’n huishouding laat kry en ek het dit baie bevredigend gevind. Later, toe my kinders van die hand af was, het ek Afrikaans en Nederlands en Frans by die US geneem. Dit het my belangstelling in die letterkunde laat ontwikkel wat vandag vir my kosbaar is. Ek was ook baie lief vir koorsing. Ek het ’n ruk by Acama Fick in die Camarata gesing, en ook by Louis van der Watt in Canticum Novum.

Jy weet ook baie van boeke. Dink jy dat ’n roman en ’n resep raakpunte toon in dié opsig dat sekeres (boeke en resepte) die kanon haal, en dus belangriker geag word as ander? Watter resepte is na jou mening onontbeerlik vir Suid-Afrikaners?

In resepte is daar basiese dinge wat ’n mens moet baasraak en wat in baie ander resepte toegepas kan word. Ek glo nie dat ’n mens dit met ’n kanon in die letterkunde kan vergelyk nie. Verskillende kokke het verskillende voorkeure en style, net soos lesers verskillende boeke interessant of genotvol vind. As ek moet raai, sou ek sê dat iets soos bobotie, ’n oondgebraaide lamsboud en ’n lekker bredie die klassieke Suid-Afrikaanse geregte is. Daar bestaan egter verskillende resepte vir elk.

Wat is jou gunstelingresep? (Dit kan in Kook & Geniet wees, of jou eie!)

Dit is ’n vraag wat baie sal laat kopkrap – ook vir my. Uit K&G kan dit moontlik die ryk vrugtekoek of die kaas-soufflé wees, maar my K&G val vanself oop by die piesangbrood. Uit ander bronne is dit miskien basiliepesto of Jenny Morris se wilderys-en-gort-slaai.

Hoe belangrik is dit om eksak te wees as mens kook? Mense met ’n natuurlike aanvoeling vir kosmaak kan seker regkom sonder presiese afmetings of sonder om te veel ag te slaan op akkurate lesings, maar is dit ’n goeie idee om jou eie kop, eerder as die resep, te volg as mens wil hê dat ’n gereg moet slaag?

Dit is ’n interessante vraag. Met sekere geregte, soos ’n bredie of muesli of gestoomde groente, is dit nie nodig om ’n resep te volg as jy die metode eers onder die knie het nie. Met gebak, konfyt of ’n gereg wat moet stol, is dit egter baie belangrik dat die regte bestanddele in die regte verhoudings tot mekaar gebruik word. Dit is hier waar gesoute kokke steeds ’n resep nader trek. Dan verskil mense natuurlik in hul benadering tot kosmaak. Party wil nie gebind wees nie, terwyl ander ’n behoefte het om noukeurig af te meet. ’n Goeie idee is om ’n nuwe resep versigtig te volg en later die resep op eie inisiatief aan te pas.

Hoe het jy dit ervaar om deel te wees van ’n TV-program mbt Kook & Geniet?

Die TV-reeks is gemaak deur Riaan Badenhorst. Hy is verantwoordelik vir die styl en inhoud en Lise Swart was sy keuse vir aanbieder. Ek kon vir niks beter gewens het nie. Hulle het ons op ons gemak laat voel en alles het heel spontaan verloop. Uiteindelik is die reeks ’n wonderlike erkenning vir my ma se lewenstaak.

Lise Swart

Jy was die samesteller van die Klein Kook & Geniet, of hoe? Wil jy dalk iets hiervan vertel?

Ja, die geleentheid het in 1981 gekom toe my ma deur ’n uitgewer genader is om resepte vir ’n kinderkookboek te kies. Hulle sou dit dan oorskryf, afrond, laat illustreer en uitgee. Die kort storie is dat hulle nie ’n geskikte persoon kon vind om die skryfwerk te doen nie. Daarom het ek aangebied om die resepte te verwerk vir kinders. Ek het Klein Kook & Geniet nie beskou as my boek nie en was stom verbaas toe die eerste uitgawe verskyn en my naam saam met my ma s’n daarop staan. Dit was ’n onverwagte gebaar van erkentlikheid van my ma teenoor my.

The post Kook & Geniet: ’n onderhoud met Eunice van der Berg appeared first on LitNet.


Putatiewe noodweer as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Kritiese oorsig van die onseker pad tot by Pistorius en daarná

$
0
0

Putatiewe noodweer as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Kritiese oorsig van die onseker pad tot by Pistorius en daarná

Rinda Botha, Departement Publiekreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 14(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In misdaadgeteisterde Suid-Afrika glo mense dikwels verkeerdelik dat hulle in lewensgevaar verkeer en derhalwe in noodweer optree. Wanneer hierdie persone hulle dan skielik in die beskuldigdebank bevind, is putatiewe noodweer die verweer waarop hulle kan steun. Hierdie verweer word reeds langer as 50 jaar in Suid-Afrikaanse howe geopper. Tog het die onlangse Pistorius-saak opnuut belangstelling in putatiewe noodweer gewek en boonop die beduidende regsonsekerheid daaroor blootgelê. Hoewel die Hoogste Hof van Appèl bevind het dat Pistorius nié met putatiewe noodweer kon slaag nie en skuldig is aan moord, meen toonaangewende strafregkenners dat die verhoorhof korrek was om hom oorspronklik aan strafbare manslag skuldig te bevind. Hierdie artikel onderneem ’n kritiese chronologiese oorsig van Suid-Afrikaanse howe en strafregkenners se benadering tot putatiewe noodweer oor die afgelope dekades. Dié oorsig onthul ’n betreklik onbestendige benadering. In die 1950’s stel die howe die (objektiewe) vereiste dat die foutiewe oortuiging van noodweer redelik en die beskuldigde se verdedigende optrede regverdigbaar moet wees. In die 1990’s blyk die enigste vereiste ’n (subjektiewe) foutiewe oortuiging te wees, hoewel sake met ’n deels objektiewe “redelike persoon”-toets vertroebel word. Hierna volg ’n rits uitsprake tot in die 2000’s waarin ’n suiwer subjektiewe toets toegepas en slegs ’n opregte foutiewe oortuiging van noodweer vereis word om wederregtelikheidsbewussyn uit te skakel. Die verhoorhof in die Pistorius-saak blyk eers koers te hou deur na ’n foutiewe dog opregte oortuiging as die enigste vereiste te verwys, maar verwerp dan putatiewe noodweer weens Pistorius se uitlating dat hy nooit bedoel het om enigiemand te skiet nie. Tog is dit die Hoogste Hof van Appèl wat hierná enige sekerheid oor putatiewe noodweer verydel deur te bevind dat die verweer misluk omdat Pistorius se foutiewe oortuiging van noodweer onder meer nie “rasioneel” was nie, wat weer op ’n objektiewe toets sinspeel. Dié wipplankryery beteken uiteindelik die verskil tussen skuldigbevinding aan moord of strafbare manslag, wat regsekerheid noodsaaklik maak. Die hoofaanbeveling is daarom dat akademici en die howe hulle voortaan moet beywer vir die konsekwente toepassing van ’n suiwer subjektiewe toets om wederregtelikheidsbewussyn te bepaal. Slegs indien wederregtelikheidsbewussyn ontbreek, behoort die objektiewe “redelike persoon”-toets gebruik te word om nalatigheid vas te stel.

Trefwoorde: opregte foutiewe oortuiging; Pistorius; putatiewe noodweer; Suid-Afrika; redelike persoon; regsekerheid; wederregtelikheidsbewussyn

 

Abstract

Putative self-defence as a defence in South African criminal law: A critical overview of the uncertain path to Pistorius and beyond

In crime-ridden societies such as South Africa it often happens that people genuinely though mistakenly believe that their lives are in danger and that, should they act, they would be acting in self-defence. When these people are then criminally prosecuted and suddenly find themselves in the dock, the only defence available to them is putative self-defence. Unlike regular self-defence, putative self-defence relates to the state of mind of the accused at the time of the crime and, therefore, whether the person was conscious of the wrongfulness of his/her actions or was acting based on an honestly held, albeit erroneous, belief.

Putative self-defence is nothing new in South African criminal law. In fact, as the case law discussed in this contribution will demonstrate, it has been raised as a defence in South African courts for over half a century. In addition, the difference between self-defence and putative self-defence, as well as the criminal liability resulting from putative self-defence, has been firmly entrenched and clearly explained in our law over the years. Yet despite this long history, the recent Pistorius matter not only reignited interest in putative self-defence, but also turned the spotlight on the considerable legal uncertainty regarding our courts’ approach to it: although the Supreme Court of Appeal found that Pistorius could not succeed with putative self-defence and was in fact guilty of murder, a range of leading criminal law experts still believe that the court a quo was correct in initially finding Pistorius guilty of culpable homicide only.

Against this backdrop, the article embarks on a critical chronological overview of the South African courts’ and criminal law experts’ approach to putative self-defence over the past few decades. This overview of case law points to an approach that can at best be described as uncertain and inconsistent. When putative self-defence was raised in R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N), the court insisted that the accused’s mistaken belief of self-defence had to be reasonable and his defending actions justifiable – thus clearly pointing to an objective test. In S v De Oliveira 1993 2 SASV 59 (A), however, the then Appellate Division in a rather drastic turnabout insisted on a purely subjective “erroneous belief” as the only requirement to eliminate dolus (intent). At the same time, though, in deciding whether the accused in De Oliveira could successfully raise putative self-defence against a murder charge, the court unfortunately and unnecessarily clouded the issue by applying a partially objective test, stating that the “reasonable person” in the circumstances of the accused would not have believed that he was entitled to shoot. This was followed by a series of judgments well into the 2000s that all applied a solely subjective test and required only a genuinely mistaken belief of self-defence in order to eliminate consciousness of wrongfulness. In S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T), for example, the court focused on whether the accused himself had been honestly yet mistakenly convinced that he was being attacked and was therefore acting within the parameters of self-defence. If so, the court argued, even though the subjective belief turned out to have been held erroneously, there was no consciousness of wrongfulness, and the accused could be found guilty only of culpable homicide. In Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W) too, the court required only a bona fide belief as prerequisite to find that consciousness of wrongfulness, and thus intent, was absent. Exactly ten years following De Oliveira, the matter of S v Joshua 2003 1 SACR 1 (SCA) afforded the Supreme Court of Appeal another chance to reflect on putative self-defence. The court referred to the requirements established in De Oliveira, then stated a subjective mistaken belief as the only requirement to eliminate intent, and finally overturned the court a quo’s convictions in Joshua from murder to culpable homicide. By that time, the approach seemed to have been firmly established. Sticking with the trend, a truly mistaken belief served as sole requirement to eliminate intent in S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) also, again resulting in a conviction of culpable homicide instead of murder. But then the much publicised, media-hyped Pistorius matter came before our courts. At first, the court in S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) seemed to pick up where previous judgments had left off, remaining on course by referring to a mistaken though genuine belief as the only requirement to eliminate intent. However, based on inconsistencies in the accused’s testimony and, more specifically, Pistorius’s statement that he had never intended to shoot anyone, the court eventually rejected putative self-defence in its entirety – a pity, as a contrary conclusion would have been far more logical. Yet it was the Supreme Court of Appeal’s subsequent finding in Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (SCA) that dealt any potential certainty regarding the approach to putative self-defence a particularly severe blow. The court found that putative self-defence had to fail, inter alia since Pistorius’s mistaken belief of self-defence was not “rational”. In the proverbial one fell swoop, therefore, the Supreme Court of Appeal returned the countries’ courts to the 1950s approach to putative self-defence, applying an objective test – no more, no less.

This seesawing between divergent views is not only confusing from a legal theoretical point of view, but to many accused means the difference between a conviction of culpable homicide and a conviction of murder, and thus also widely differing sentences. The importance of obtaining legal certainty in this regard cannot be overemphasised. Based on the examination of the uncertain path up to Pistorius and beyond, this contribution finally offers a few recommendations to facilitate a more clear-cut, uncomplicated and constant approach to putative self-defence in future. The primary recommendation is for academics and practitioners (the courts) to collaborate in working towards the consistent application of a solely subjective test to establish consciousness of wrongfulness. Only where consciousness of wrongfulness is found to have been absent, the objective “reasonable person” test should be used to determine negligence. In two secondary recommendations, the article also advocates that defence against either real or perceived intruders at home be dealt with differently from other cases, particularly in light of current societal trends, with burglary and robbery the order of the day. Taking into account the facts and circumstances of each matter, people’s homes should be regarded and approached as their safe haven. This implies that decisive action should be permitted if you or a family member were to be confronted by an intruder at home in the middle of the night. In this regard, Snyman’s remarks in Criminal Law (2014) are particularly relevant: “Experience tells us that even a moment’s hesitation by [a homeowner] in such circumstances is to require her to gamble with her life or that of the other people in the house, and the law cannot expect this of her.” In addition, consensus is urgently required on the need for firing warning shots at home, which may in some instances be unreasonable to expect of a homeowner faced with an intruder in the current climate of brutal violence.

Keywords: consciousness of wrongfulness; genuine mistaken belief; legal certainty; Pistorius; putative self-defence; reasonable person; South Africa

 

1. Inleiding

In ’n onvolmaakte wêreld is foute onvermydelik, selfs gedurende misdaadpleging. Die betrokkenes is doodgewone mense wat hulle moontlik “op die verkeerde tyd op die verkeerde plek” bevind en gevolglik met onvoorsiene omstandighede te doen kry. Daar is geen manier om ’n mens daarop voor te berei nie, en bedoelde persone het in sulke omstandighede dikwels slegs enkele sekondes om lewensbelangrike besluite te neem.

Veral in die lig van die hoë misdaadsyfers in Suid-Afrika1 gebeur dit dikwels2 dat die betrokkenes verkeerdelik glo dat hulle in lewensgevaar verkeer en derhalwe in noodweer optree. Hierdie persone word dan as “misdadigers” strafregtelik vervolg, en wend hulle dus noodgedwonge tot die verweer wat in die Suid-Afrikaanse strafreg as putatiewe noodweer bekend is.3 Anders as noodweer, hou putatiewe noodweer verband met die beskuldigde se denke of gedagtes gedurende misdaadpleging, oftewel wat die beskuldigde in daardie stadium gedink het.4

Putatiewe noodweer is geen nuutjie in die Suid-Afrikaanse strafreg nie. Inteendeel, die saakbesprekings in hierdie bydrae toon dat dié verweer plaaslik al meer as ’n halwe eeu gelede geopper is.5 Eweneens is die verskil tussen noodweer en putatiewe noodweer, asook die strafregtelike aanspreeklikheid wat uit putatiewe noodweer spruit, reeds jare gelede in ons reg neergelê en op eenvoudige wyse uiteengesit.6

Tog het die onlangse Oscar Pistorius-saak7 en die gepaardgaande mediasirkus opnuut belangstelling in putatiewe noodweer gewek, en terselfdertyd die beduidende regsonsekerheid daaroor in Suid-Afrika onderstreep. In dié saak het die Hoogste Hof van Appèl bevind dat die beskuldigde nie met putatiewe noodweer kon slaag nie, en dus skuldig is aan moord,8 terwyl van die land se voorste strafregkenners weer meen dat die verhoorhof korrek was om Pistorius oorspronklik aan strafbare manslag skuldig te bevind.9 Sulke uiteenlopende sienings is nie net verwarrend uit ’n regsteoretiese oogpunt nie, maar beteken vir menige beskuldigde die verskil tussen skuldigbevinding aan strafbare manslag of moord.

Teen dié agtergrond word in hierdie artikel ’n kritiese ondersoek gedoen na die Suid-Afrikaanse howe en sommige Suid-Afrikaanse strafregkenners se vertolking van putatiewe noodweer oor die jare, en die vereistes om daarmee te slaag. Dit sluit af met sowel sekere vrae oor die mislukking van die verweer in die Pistorius-saak,10 as aanbevelings oor die toekomstige hantering van putatiewe noodweer in Suid-Afrika.

 

2. Boustene van strafregtelike aanspreeklikheid

Om ’n beskuldigde in Suid-Afrika aan ’n misdryf skuldig te bevind, moet sy/haar gedrag aan sekere misdaadelemente, oftewel aanspreeklikheidsvereistes, voldoen, naamlik handeling, kousaliteit, wederregtelikheid, toerekeningsvatbaarheid en skuld.11 By die vervolging van ’n beskuldigde moet voldoening aan hierdie vereistes ook in hierdie spesifieke orde bewys word.12

Beskuldigdes beskik op hul beurt oor verskeie verwere om op die afwesigheid van hierdie elemente te dui. ’n Suksesvolle beroep op noodweer skakel byvoorbeeld die vereiste van wederregtelikheid uit.13 Omdat putatiewe noodweer met ’n persoon se gedagtegang verband hou,14 sal ’n suksesvolle beroep op putatiewe noodweer weer die laaste vereiste, naamlik die skuldelement, uitskakel.15

Die volgorde van bogenoemde misdaadelemente impliseer dat die kwessie van ’n suksesvolle beroep op putatiewe noodweer aan bod kom eers wanneer al die ander misdaadelemente, waaronder wederregtelikheid van gedrag, reeds vasstaan. Met ander woorde, die vraag of ’n persoon met putatiewe noodweer kan slaag, word gevra eers nadat daar bevind is dat hy nie met ware noodweer kan slaag nie.

 

3. Die verskil tussen noodweer en putatiewe noodweer

3.1 Noodweer

Soos reeds genoem is, sal ’n suksesvolle beroep op noodweer die vereiste van wederregtelikheid uitskakel.16 Volgens Snyman17 is gedrag wederregtelik indien dit “in stryd is met die gemeenskap se opvattings van regverdigheid of met die regsoortuiging van die gemeenskap”. Dus, hoewel dit moontlik volgens die gemeenskap verkeerd is om ’n ander se lewe te neem, sal hulle dit byvoorbeeld as regverdig beskou indien ’n aanvaller gedurende selfverdediging sou sterf.

Snyman18 omskryf noodweer soos volg:

Iemand tree in noodweer op, en haar handeling is gevolglik regmatig, indien sy haar weer teen ’n wederregtelike aanval, wat reeds begin het of wat onmiddellik dreigend is, op haar of iemand anders se lewe, liggaamlike integriteit, eiendom of ander beskermwaardige regsbelang, mits die afweerhandeling noodsaaklik is om die bedreigde belang te beskerm, dit gerig is teen die aanvaller en dit in ’n redelike verhouding tot die aanval is.

Die vereistes wat in hierdie omskrywing van noodweer opgesluit lê, kan ingedeel word in vereistes waaraan die aanval moet voldoen en vereistes waaraan die verdedigende handeling moet voldoen. Hierdie vereistes is ewe belangrik vir die latere bespreking van putatiewe noodweer: ’n persoon wat in putatiewe noodweer opgetree het, het immers (verkeerdelik) geglo dat hy in noodweer optree en dat sy handelinge aan die perke en vereistes van ware noodweer voldoen.

3.1.1 Vereistes om met noodweer te slaag

Om met noodweer te slaag, kan die vereistes vir die aanval op die verdediger soos volg saamgevat word:19 die aanval moet wederregtelik wees,20 gerig op ’n belang wat regtens beskerm word,21 en onmiddellik dreigend wees.22 Kortom kan daar dus afgelei word dat indien iemand verkeerdelik sou glo dat hy hom in noodweeromstandighede bevind (en dus in putatiewe noodweer verkeer), hy ook glo dat daar sprake is van ’n wederregtelike aanval op sy of ’n derde se belang (soos lewe, liggaamlike integriteit of eiendom). Boonop moet hy onder die indruk verkeer dat die aanval onmiddellik dreigend is – dit moet met ander woorde nie reeds afgeloop óf net ’n toekomstige moontlikheid wees nie.

Die vereistes vir die verdedigende handeling is soos volg:23 die verdediging moet teen die aanvaller gemik, noodsaaklik, redelik in verhouding tot die aanval, en ’n doelbewuste noodweerhandeling wees. Die eerste en laaste van hierdie groep vereistes spreek vanself. Die middelste twee vereistes – noodsaaklikheid en ’n redelike verhouding tussen die aanval en verdediging – het egter al heelwat vrae in die praktyk laat ontstaan, en word dus kortliks hier onder bespreek.

By die vereiste dat die verdedigende handeling noodsaaklik moet wees, is dit veral die vraag of ’n persoon (die verdediger) nie eerder moes gevlug het as om eie reg te gebruik nie, wat kenners laat kopkrap. Burchell24 glo daar is inderdaad geen sodanige absolute plig om te vlug nie. Snyman25 meen die howe het nog nie onomwonde besluit of daar wel so ’n plig bestaan nie, maar is wél seker dat daar nie so ’n plig bestaan wanneer dit byvoorbeeld gevaarlik is om te vlug of jy by jou eie huis aangeval word nie26 – ’n besonder tersaaklike opmerking vir die doeleindes van hierdie artikel. ’n Mens se huis is op stuk van sake jou toevlug en veilige hawe, waar jy jou teen enige gevaar mag beskerm.27

Wat betref die vereiste dat die verdediger se gedrag redelik in verhouding tot die aanvaller s’n moet wees, gebruik Snyman28 nóg ’n baie tersaaklike voorbeeld vir hierdie artikel:

Assume that X, sleeping in her home, is woken in the middle of the night by a burglar Y, who approaches her room or that of a family member. May X summarily shoot Y in order to kill her, or must she first ask Y to identify herself and state the purpose of her visit, in order to decide what, objectively, the appropriate defensive measures would be in the circumstances? Must she first try to arrest Y and then call the police? It is submitted that in such a situation X is entitled summarily to resort to extreme measures of shooting at Y. Even if subsequent investigation reveals that Y was an unarmed or a physically weak person who could easily have been overpowered by X, and who wanted to steal, say, only a cell phone, it is extremely unlikely that any court would hold that X acted unlawfully in shooting at Y. A celebrated phrase emanating from English law reads “a person’s home is her castle”. Experience tells us that even a moment’s hesitation by X in such circumstances is to require her to gamble with her life or that of the other people in the house, and the law cannot expect this of her.

Burchell29 wys op sy beurt op die kwessie van waarskuwingskote – ’n verdere vraag wat baie aandag in die howe geniet met betrekking tot die vereiste van redelike gedrag. Hy argumenteer soos volg:

The issuing of a warning or the firing of a warning shot must, however, be examined in the light of all the circumstances. It may, in certain circumstances, be unreasonable to expect a person faced with an intruder in his or her home to call out a warning or fire a warning shot. By calling out he or she might simply sign his or her own death warrant by identifying his or her position to the intruder or by provoking an armed intruder into returning fire. The emergency situation faced by the homeowner might not give time for warnings.

Alhoewel die Pistorius-saak30 eers heelwat later bespreek word, kan daar interessantheidshalwe nou reeds daarop gewys word dat Pistorius geglo het hy word in sy eie huis aangeval. Wat die noodsaaklikheidsvereiste betref, was hy in daardie geval geensins verplig om te vlug nie. Wat die redelikheidsvereiste betref, en in teenstelling met Burchell se mening hier bo, het die hof egter geargumenteer dat ’n rasionele persoon, hoewel angstig, nie sou glo dat hy geregtig is om in sy eie huis op so ’n “aanvaller” te skiet sonder om minstens ’n waarskuwingskoot af te vuur nie.31

Hoe dit ook al sy, wanneer bogenoemde vereistes vir die verdedigende handeling op putatiewe noodweer toegepas word, kan daar dus afgelei word dat die verdediger moet glo dat sy gedrag op ’n aanvaller gerig is, noodsaaklik is (hoewel daar geen plig is om van jou eie huis te vlug óf te vlug indien dit gevaarlik blyk te wees nie), redelik is in verhouding tot die aanvaller s’n (hoewel dít volgens Burchell32 nie noodwendig die afvuur van waarskuwingskote behels wanneer jy in die nag glo jy word in jou huis aangeval nie) en ’n doelbewuste noodweerhandeling is.

Let laastens daarop dat die toets vir ware noodweer objektief is. Die sukses van noodweer word objektief bepaal, en die aard van die aanval en verdedigende handeling word dus objektief bekyk.33 ’n Objektiewe toets behels inagneming van alle tersaaklike faktore, onder meer faktore waarvan die verdediger nie in daardie stadium kon kennis gedra of geneem het nie.34 Daarteenoor word die sukses van putatiewe noodweer met ’n subjektiewe toets bepaal. Snyman35 wys in dié verband uitdruklik daarop dat sowel die verdediger se ware gedagtes as sy opvatting van die betrokke gebeure en omstandighede vasgestel moet word.

3.2 Putatiewe noodweer

Indien ’n persoon egter glo dat hy in noodweer handel, terwyl dit nié die geval is nie, is noodweer nie, maar eerder putatiewe noodweer, as verweer beskikbaar.36 Anders as noodweer, hou putatiewe noodweer verband met die beskuldigde se gedagtes en denke,37 en dus sy wederregtelikheidsbewussyn. As sodanig kan dit op die afwesigheid van die laaste aanspreeklikheidsvereiste van misdaad, naamlik skuld, dui.

In die Suid-Afrikaanse strafreg word skuld hoofsaaklik in twee groepe ingedeel, naamlik opset (dolus) en nalatigheid. Terwyl sekere misdade, soos moord, skuld in die vorm van opset vereis, vereis ander misdade, soos strafbare manslag, bloot skuld in die vorm van nalatigheid. 38

Die toets vir opset in ál sy vorme, naamlik dolus directus, dolus indirectus, dolus eventualis39en dolus indeterminatus40(’n onderafdeling van eersgenoemde drie),is subjektief.41 Wederregtelikheidsbewussyn – oftewel die wete dat jy wederregtelik optree – maak deel uit van elk van hierdie vorme van opset.42 Volgens Snyman43 bestaan opset uit ’n kognitiewe en ’n wilselement (“volitional element”). Wat die kognitiewe element betref, het die beskuldigde geweet dat sy gedrag aan die misdaadelemente voldoen? Wat die wilselement betref, was die beskuldigde bewus van die wederregtelikheid van sy gedrag? Bewustheid van wederregtelikheid impliseer dat die persoon geweet het dat sy gedrag nie as byvoorbeeld noodweer geregverdig sou kon word nie. Slegs indien die antwoord op albei die vrae hier bo positief is, kan daar tereg gesê word dat so ’n persoon met opset opgetree het. Hoctor44 wys daarop dat hierdie tweede element van opset, naamlik wederregtelikheidsbewussyn, juis by putatiewe noodweer ontbreek, wat ’n skuldigbevinding aan moord uitskakel.

Aan die ander kant is die toets vir nalatigheid bekend as die meer objektiewe “redelike persoon”-toets, wat soos volg uiteengesit kan word:45

A person’s conduct is negligent if

1. the reasonable person in the same circumstances would have foreseen the possibility

(a) that the particular circumstance might exist; or

(b) that his conduct might bring about the particular result;

2. the reasonable person would have taken steps to guard against such a possibility; and

3. the conduct of the person whose negligence has to be determined differed from the conduct expected of the reasonable person.

Na gelang van die feite en omstandighede van die saak kan putatiewe noodweer dus ook skuld in die vorm van nalatigheid uitskakel.46

Indien ’n persoon sonder wederregtelikheidsbewussyn opgetree het, ontbreek opset. Indien daar egter méér van die redelike persoon in die beskuldigde se omstandighede verwag sou kon word, kan so iemand aan ’n “nalatigheidsmisdaad” skuldig bevind word. Botha47 wys tereg daarop dat indien so ’n persoon nie aanspreeklik gehou word nie omdat skuld ontbreek, hy “verskoon” kan word ondanks sy wederregtelike gedrag. Ook De Wet48 meen dat hoewel so ’n persoon wederregtelik opgetree het, hy steeds onskuldig bevind kan word.

3.2.1 Vereistes om met putatiewe noodweer te slaag, en strafregtelike aanspreeklikheid wat uit putatiewe noodweer spruit

Baie strafregkenners het al die vereistes uiteengesit om met putatiewe noodweer te slaag. Vir Burchell49 is die vereistes

whether the accused genuinely, albeit mistakenly, believed that he or she was acting in lawful private defence (where the charge requires intention to be proved) or whether this belief was also held on reasonable grounds (where negligence is sufficient for liability).

Uit Burchell se verduideliking blyk duidelik dat die toets vir opset by putatiewe noodweer op die persoon se eie gedagtes en denke konsentreer en dus subjektief is, terwyl die toets vir nalatigheid die meer objektiewe “redelike persoon”-toets behels.

Visser en Vorster50 maak die volgende opmerking oor die vraag of die beskuldigde se feitedwaling redelik moet wees by misdade wat opset vereis:

Of die feitedwaling redelik of onredelik is, is nie ter sake nie omdat die toets subjektief is. Die begrip van redelikheid of onredelikheid, en die graad daarvan in die omstandighede en feite van elke saak, kom alleen ter sprake by bewyslewering of die beskuldigde wel bona fide gedwaal het al dan nie.

Sowel Kemp en kollegas51 as Snyman52 ondersteun die siening dat die feitedwaling by opsetmisdade bloot bona fide hoef te wees, en nie noodwendig redelik nie, en dat dit ten tye van misdaadpleging moet bestaan. Met betrekking tot opsetmisdade wys Snyman53 voorts daarop dat die beskuldigde se ware gemoedstoestand en opvatting van die betrokke gebeure en omstandighede vasgestel moet word. Hy sê uitdruklik dat die vraag nie is of die redelike persoon in die beskuldigde se omstandighede dieselfde fout sou begaan nie – dít sou ’n objektiewe toets veronderstel, terwyl die toets vir opset subjektief is.54 Juis omdat die toets subjektief is, kan onder meer die beskuldigde se unieke karaktereienskappe, bygelowe, intelligensie en agtergrond in ag geneem word om te bepaal of sy feitedwaling opset uitgeskakel het.

Wat nalatigheid betref, herinner Neethling en Potgieter55 ons op hul beurt daaraan dat putatiewe noodweer skuld in die vorm van sowel opset as nalatigheid kan uitskakel. ’n Bona fide-oortuiging dat jou liggaamlike integriteit of lewe in gevaar is, skakel opset uit weens ’n gebrek aan wederregtelikheidsbewussyn. Indien ’n redelike persoon in die verdediger se omstandighede boonop óók sou glo dat sy lewe in gevaar is en presies so sou optree, ontbreek nalatigheid ook.

Die afleiding is dus dat indien die bestaan van putatiewe noodweer aanvaar word, ’n persoon nie aan ’n opsetmisdaad skuldig bevind kan word nie. Ingeval sy gedrag afgewyk het van die maatstaf van die redelike persoon, kan hy egter steeds aan ’n nalatigheidsmisdaad, byvoorbeeld strafbare manslag, skuldig bevind word.

Die volgende afdelings spoor die Suid-Afrikaanse howe se vertolking van putatiewe noodweer en die vereistes om daarmee te slaag na van so ver terug as die vyftigerjare tot die meer onlangse, opspraakwekkende Pistorius-saak.

 

4. Historiese oorsig

4.1 R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N)

Die beskuldigde in hierdie saak is van saakbeskadiging aangekla en in die verhoorhof skuldig bevind, waarteen die beskuldigde geappelleer het. Die aanklag was gegrond op die beskuldigde se bekentenis dat hy ene Essop Moosa se voertuig met ’n piksteel geslaan en beskadig het.56

Die beskuldigde se gedrag het gespruit uit sy foutiewe oortuiging ten tye van die voorval dat sy broer se lewe in gevaar was en dat die persone in Moosa se motor op die punt was om op sy broer af te jaag en hom te steek met ’n mes wat die beskuldigde in die een persoon se hand gesien het.57 Die beskuldigde se foutiewe oortuiging is deur die volgende aangevuur:58

a) Die persone in die motor en die beskuldigde se broer was in verskillende bendes wat gereeld in konflik was.

b) Die beskuldigde het dieselfde motor die vorige twee middae geparkeer sien staan net mooi op die plek van waar en tyd waarop sy broer sy werkplek sou verlaat.

c) Die beskuldigde het gesien een van die persone in die voertuig hou ’n mes in sy hand.

d) Die oomblik toe sy broer die pad wou oorsteek, is die motorenjin aangeskakel.

Na aanleiding van sy foutiewe oortuiging het die beskuldigde na sy winkel gehardloop, ’n piksteel gaan haal en in wat hy geglo het ’n noodweerhandeling was, die piksteel gebruik om die motor te beskadig om sy broer te probeer beskerm. Terselfdertyd het hy geskree om sy broer te waarsku.59

In die appèl teen die skuldigbevinding het die hof geargumenteer dat die volgende twee vrae deurslaggewend is om te bepaal of die beskuldigde met putatiewe noodweer kon slaag of nie:60

Whether the belief entertained by the appellant that the complainant and his companions were about to assault his brother (Nr 1 accused) was or was not reasonable. If it was not a reasonable belief, then although actually and bona fide entertained by the appellant, it would not, if mistaken, afford in law an excuse for conduct based upon that belief.

If it was reasonable, the question remains whether the steps taken by him to protect No. 1 accused by forestalling the assault upon him were justified in law.

Dit is teleurstellend dat die hof hier verwag het dat die foutiewe geloof nie net bona fide nie, maar ook redelik moet wees. Daar is immers reeds hier bo61 op gewys dat die vraag na die redelikheid van die dwaling slegs by die bepaling van nalatigheid ter sprake behoort te kom. Saakbeskadiging is egter ’n misdaad wat skuld in die vorm van opset vereis.62 Die beskuldigde se bona fide-oortuiging dat hy in noodweer opgetree het, en sy gepaardgaande gebrek aan wederregtelikheidsbewussyn, behoort dus voldoende te gewees het vir ’n onskuldigbevinding aan saakbeskadiging.

Nietemin kom die hof steeds tot die gevolgtrekking dat die beskuldigde onskuldig is63 omdat sy foutiewe oortuiging en gevolglike gedrag inderdaad redelik en ook die enigste optrede in die omstandighede was.

4.2 S v De Oliveira 1993 2 SASV 59 (A)

Die appellant in hierdie saak is in die verhoorhof aangekla en skuldig bevind aan moord en twee klagtes van poging tot moord.64

Op die betrokke dag het die appellant se vrou hom ná ’n middagslapie wakker gemaak en beangs meegedeel dat daar onbekende mans in hul oprit is. Die appellant het gesê hy sal dit hanteer, met sy pistool na die venster geloop en bykans onmiddellik ses skote na buite afgevuur. Die “onbekende mans” was inderwaarheid die beskuldigde se jare lange inwoonwerknemer en vriend, ene Vusi, en sy makkers. Nadat die beskuldigde Vusi persoonlik vroeër die middag in Hillbrow afgelaai het, het laasgenoemde nou teruggekeer en gesukkel om toegang te verkry tot sy kamer, wat agter in die erf was.65 Een van die skote het Vusi in die been getref, ’n ander het sy vriend noodlottig getref, terwyl ’n derde skoot nóg ’n vriend rakelings getref het.66

Om te beslis of die beskuldigde met putatiewe noodweer kon slaag, met ander woorde of die beskuldigde bona fide oortuig was dat hy in noodweer gehandel het,67 verduidelik die hof die verskil tussen noodweer en putatiewe noodweer, asook die strafregtelike aanspreeklikheid verbonde aan putatiewe noodweer, soos volg:

A person who acts in private defence acts lawfully, provided his conduct satisfies the requirements laid down for such a defence and does not exceed its limits. The test for private defence is objective – would a reasonable man in the position of the accused have acted in the same way. In putative private defence it is not lawfulness that is in issue but culpability. If an accused honestly believes his or her property to be in danger, but objectively viewed they are not, the defensive steps he takes cannot constitute private defence. If in those circumstances he kills someone his conduct is unlawful. His erroneous belief that his life or property was in danger may well (depending upon the precise circumstances) exclude dolus in which case liability for the person’s death based on intention will also be excluded; at worst for him he can then be convicted of culpable homicide.68

Die belang van dié riglyn blyk daaruit dat daaropvolgende uitsprake69 telkens daarna verwys. Hierdie beslissing deur die Appèlhof (nou bekend as die Hoogste Hof van Appèl) is immers bindend vir alle ander strafhowe in die land.70

Tog het die beskuldigde verkies om nié te getuig nie, en moes sy gemoedstoestand of gedagtes ten tye van misdaadpleging dus van ander bewyse en afgeleide beredenering afgelei word. Die volgende het teen hom getel:

a) Alhoewel hy en sy vrou in ’n gevaarlike gebied gewoon het waar inbrake en huisrowe aan die orde van die dag was,71 was daar in die omstandighede geen rede om te glo dat sy lewe of eiendom in onmiddellike gevaar was nie. Daar was geen teken van enige poging tot inbraak nie.72 Die hof het voorts genoem dat dit in die bepaalde omstandighede ondenkbaar was dat ’n redelike persoon sou glo dat hy daarop geregtig was om op persone buite die huis te skiet.73 Dit is jammer dat die hof hier na die “redelike persoon”-maatstaf verwys om te bepaal of die beskuldigde met putatiewe noodweer kon slaag. Dit sou straks beter gewees het om te sê dat die beskuldigde se foutiewe oortuiging dat hy in die omstandighede daarop geregtig was om te skiet, nie as geloofwaardig beskou kon word nie.

b) Boonop was die appellant veilig in sy kamer, in ’n koeëlvaste huis én gewapen.74

c) In hierdie omstandighede was daar volgens die hof prima facie-bewys dat die beskuldigde nié so opreg oortuig was dat hy in noodweer gehandel het nie. Sy versuim om te getuig het ook nie hierdie prima facie-bewys weerlê nie.75

Die Appèlhof bevind dus dat die verhoorhof korrek was om die verweer van putatiewe noodweer te verwerp.76

4.3 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T)

Alhoewel die feite effens verskil, is daar sterk ooreenkomste tussen die Naidoo-77 en Pistorius-sake.78 In albei sake het die beskuldigdes ’n geliefde tuis doodgeskiet onder die wanindruk dat hulle op ’n inbreker geskiet het, en in albei sake het die beskuldigdes die verweer van putatiewe noodweer geopper.

In Naidoo79 is die oorledene en een van sy seuns (Ugandian) in die vroeë oggendure na die beskuldigde (’n ander seun van die oorledene) se huis. Die beskuldigde was nog wakker en aan die gesels met sy ma en suster oor sy planne om sy kind na sy pa te vernoem.80 Buite die beskuldigde se huis het die oorledene en Ugandian die gesprek staan en afluister. Die oorledene het Ugandian aangesê om stil te wees sodat hy die gesprek kon hoor. Toe Ugandian egter teen ’n veiligheidshek leun, het dit ’n geluid gemaak. Die beskuldigde het hierna na buite geskree: “Wie is daar?” Toe hy geen antwoord kry nie, het hy die kombuisdeur effens oopgemaak en ’n skoot na buite afgevuur. Toe die beskuldigde sien dat hy sy pa geskiet het, het hy huilend gevra hoekom sy broer-hulle hom nie geantwoord het toe hy geroep het nie.81

In die bepaling of die beskuldigde met putatiewe noodweer kon slaag, het die hof op die vereistes gewys dat die beskuldigde moet glo dat hy aangeval word en dat sy gevolglike handeling redelik en noodsaaklik82 moet wees om die aanval af te weer. Indien wel, het wederregtelikheidsbewussyn, en dus skuld in die vorm van opset, ontbreek. Die beskuldigde kan dan egter steeds aan strafbare manslag skuldig bevind word.83 Die hof84 verwys voorts na S v Bailey85 waar appèlregter Jansen soos volg opgemerk het:

[Dit is] ... ook denkbaar dat selfs by ontstentenis van so ’n hoë graad van vrees hy in bepaalde omstandighede bona fide kan glo dat hy geregtig is om ’n ander se belang op te offer. In al dié gevalle sal daar afwesigheid van wederregtelikheidsbewussyn wees.

Om te bepaal of die beskuldigde in Naidoo subjektief geglo het dat hy daarop geregtig was om te skiet, het die hof die volgende in ag geneem:86

a) Die beskuldigde was 19 jaar oud.

b) Daar is voorheen by sy huis ingebreek.

c) Hy het redelike gronde gehad om te glo dat iemand by sy huis wou inbreek, selfs al was die lig aan en daar mense saam met hom in die huis was.

d) Hy was die enigste man in die huis, en dit was ’n gevaarlike woonbuurt.

e) Toe hy die kombuisdeur oopmaak, was daar net ’n veiligheidshek tussen hom en die “onbekende getal inbrekers”, wat oor enige soort wapens kon beskik het.

f) In die lig van die gewelddadigheid van misdadigers in Suid-Afrika, is dit te verstane dat die beskuldigde in die vroeë oggendure geglo het dat die enigste redelike uitweg was om te skiet, soos hy wel het.

Die verdediging het ook tereg aangevoer dat die beskuldigde nie hoef te gewag het vir die “aanvallers” om deur die veiligheidshek te bars nie, maar daarop geregtig was om vroeër te skiet.87

Die hof aanvaar dat die beskuldigde die moontlikheid voorsien het dat hy iemand met die skoot kon dood,88 maar wys op die vereiste van wederregtelikheidsbewussyn om ’n skuldigbevinding aan moord te verseker, met ander woorde die beskuldigde moes geweet het dat hy wederregtelik optree.89 So ’n besef het hier ontbreek. Daarbenewens verwys die hof90 na Burchell en Hunt,91 waar die volgende verklaar word:

Where X, in intentionally killing Y, bona fide but mistakenly believed that his act was justified or authorized by law, his mistake would preclude a finding of dolus on his part in respect of the unlawfulness of the killing. However, his mistake would not necessarily preclude a finding that, in intentionally killing Y, he acted with negligence required to support a conviction of culpable homicide.

Gevolglik beslis die hof só:

In this case we find that the accused reasonably believed that he was under attack. Whether, for the defence which I am now discussing to succeed, it is necessary that the belief should be reasonable, is not something which we have to decide. The effect of these authorities is therefore that if a person believes that he is under attack, and if the force which he is applying to resist the putative attack is reasonable and justified and necessary to ward of the attack, then he does not have the necessary “wederregtelikheidsbewussyn” or knowledge of wrongfulness which would constitute the dolus necessary to sustain a conviction of murder, but he may be convicted of culpable homicide.92

Die gebrek aan wederregtelikheidsbewussyn met die afvuur van die skoot na buite het dus ’n skuldigbevinding aan moord verhoed, hoewel die beskuldigde se nalatigheid in die omstandighede tot ’n skuldigbevinding aan strafbare manslag gelei het.93

4.4 S v Sataardien 1998 1 SASV 637 (KH)

Sataardien94 dien as ’n voorbeeld van waar die verweer van putatiewe noodweer tot algehele onskuldigbevinding gelei het.

Die beskuldigde in die saak het saam met sy twee minderjarige seuns van ’n moskee af gestap toe die oorledene hom nader. Die beskuldigde en oorledene het in ’n woordewisseling betrokke geraak en die oorledene het gedreig om die beskuldigde aan te rand. Die oorledene het daarna daad by die woord gevoeg en die beskuldigde oomblikke later ’n paar keer teen die kop geslaan. Die oorledene het toe agteruit beweeg met sy hande op sy regtersy terwyl hy die beskuldigde toegesnou het: “Vanaand gaan jy vrek.” Onder die (wan)indruk dat die oorledene ’n vuurwapen te voorskyn sou bring, het die beskuldigde sy eie vuurwapen uitgehaal en na die oorledene se hande geskiet. Die skoot was egter noodlottig.95

In die beoordeling of die beskuldigde met putatiewe noodweer kon slaag, het die hof die kernvraag gestel of

die beskuldigde eerlik, dog foutiewelik, geglo het dat sy lewe in gevaar was en dat hy derhalwe daarop geregtig was om homself te beskerm teen wat hy gesien het as ’n dreigende aanval op hom. Daar moet subjektief na die gemoedstoestand van die beskuldigde gekyk word, en die Hof moet hom, sover moontlik, in die posisie plaas van die beskuldigde ten tyde van die gebeure.96

Dit was die enigste vereiste wat die hof geopper het, en word verwelkom. Om die vraag te beantwoord, het die hof die volgende in ag geneem:97

a) Wat liggaamsbou betref, was die beskuldigde heelwat kleiner as die oorledene.

b) Alles het te vinnig gebeur vir die beskuldigde om alternatiewe te oorweeg soos om weg te hardloop of die oorledene te waarsku voordat hy geskiet het.

c) Die oorledene se dreigement aan die beskuldigde, tesame met die beweging van sy hand na sy regtersy, het die beskuldigde oortuig dat hy in gevaar was.

Alhoewel die beskuldigde nie op daardie oomblik daaraan gedink het nie, het hy geweet dat die koeël uit sy wapen iemand se dood kon beteken.98 Hy het die skoot egter afgevuur in “’n toestand van angs en vrees, en in ’n stadium toe hy, reg of verkeerd, geregverdig of ongeregverdig, vir sy lewe gevrees het”.99

Die hof bevind uiteindelik dat die beskuldigde inderdaad opreg vir sy lewe gevrees het en geglo het dat sy enigste uitweg in die omstandighede sou wees om na die oorledene se hande te skiet en hom sodoende te probeer “ontwapen”. Hy het dus nie wederregtelikheidsbewussyn, en gevolglik opset, gehad om die oorledene te dood nie.100

Die hof wys voorts tereg daarop dat om te bepaal of die beskuldigde aan strafbare manslag skuldig bevind kon word, ’n objektiewe redelikheidstoets moet geld, met ander woorde of die beskuldigde redelikerwys onder die indruk was dat hy in noodweeromstandighede verkeer, en of sy gedrag in daardie omstandighede redelik was.101 Die hof se duidelike onderskeid tussen die subjektiewe toets vir opset en die objektiewe redelikheidstoets vir nalatigheid is ook lofwaardig.

In die lig van die spesifieke omstandighede beslis die hof dat die beskuldigde redelik opgetree het en nie nalatig was wat die oorledene se dood betref nie,102 en word die beskuldigde onskuldig bevind.103

4.5 Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W)

Alhoewel hierdie aangeleentheid nie ’n strafsaak was nie, maar eerder ’n deliktuele eis deur die oorledene se vrou teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit as eerste verweerder en inspekteur Myburgh as tweede verweerder, is die verweer van putatiewe noodweer ook hiér suksesvol geopper.

Uit die feite blyk dat inspekteur Myburgh en kaptein Jurgens gereageer het op ’n radioverslag dat daar by ’n elektrisiteitsverdeelkas ingebreek is. Toe hulle by die betrokke kas aankom, het ’n groep mans wat daar bymekaar was, uiteengespat. Myburgh, wat met sy R5-geweer gewapen was, het die oorledene agternagesit. Die oorledene het skielik met geboë skouers en albei hande teenaan sy bors op ’n erf gaan staan. In die oorledene se hande het Myburgh iets gesien wat vir hom na die blink knalmeganisme van ’n handgranaat gelyk het. Onder die indruk dat sy lewe in onmiddellike gevaar was, het Myburgh aan die oorledene geskree om die “handgranaat” te laat val, en het hy terselfdertyd ’n skoot in die grond afgevuur. Toe die oorledene geen reaksie toon nie, het Myburgh oomblikke ná die eerste skoot ’n tweede skoot afgevuur, dié keer in die rigting van die oorledene, wat noodlottig was. Toe kaptein Jurgens op die toneel aankom, het Myburgh hom gewaarsku om versigtig te wees, want daar was ’n “handgranaat” op die toneel. Toe niks ontplof nie, het Myburgh by nadere ondersoek ’n blik traangas naby die oorledene se hand sien lê,104 wat hy verkeerdelik vir ’n handgranaat aangesien het.

Om die verweerders se aanspreeklikheid te bepaal, het die hof die volgende logies uiteengesette vrae gevra:105 Het Myburgh in noodweer opgetree? Het Myburgh bona fide geglo dat hy daarop geregtig was om die oorledene te skiet? Was Myburgh nalatig? Wat die eerste vraag betref, verduidelik Neethling106 dat die toets objektief is. Die vraag oor noodweer berus dus op die ware feite wat agterna vasgestel is, en nie die verweerder se subjektiewe toestand nie. Die ander twee vrae hou egter verband met die kwessie van skuld.

Omdat daar objektief geen gevaar (en dus geen noodweer) ter sprake was nie, kon die verweer van noodweer nie slaag nie.107 Wat die vraag oor skuld betref, het die hof egter bevind dat die verweerder se bona fide-oortuiging dat hy daarop geregtig was om op te tree, sy wederregtelikheidsbewussyn – en dus skuld in die vorm van opset – uitgeskakel het.108 Die hof verduidelik dan tereg dat skuld in die vorm van dolus uitgeskakel is omdat dolus nie net bestaan uit die bedoeling om ’n sekere doel te bereik nie, maar ook uit ’n wederregtelikheidsbewussyn, dit wil sê die wete dat jou gedrag wederregtelik is.109

’n Bona fide-oortuiging dat gedrag geregverdig is, was dus in hierdie geval die hof se enigste kriterium vir ’n suksesvolle beroep op putatiewe noodweer. In die bepaling van nalatigheid het die hof geargumenteer dat Myburgh nie in die omstandighede afgewyk het van die gedrag wat ’n mens van ’n redelike persoon sou verwag nie, en dus ook nie nalatig opgetree het nie.110 Gevolglik het die eis deur die oorledene se vrou misluk.111

4.6 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA)

In nóg ’n beslissing deur die Hoogste Hof van Appèl waar die verweer van putatiewe noodweer geopper is, het die hof twee klagtes van moord (ten opsigte van die oorledenes in klagtes 2 en 3) en een van poging tot moord tersyde gestel en vervang met twee skuldigbevindings aan strafbare manslag, en algehele kwytskelding wat betref die klagte van poging tot moord.112

Die klagtes het gespruit uit gebeure vroeër die dag nadat die appellant se vrou van R200 beroof is. Op grond van ’n beskrywing van die twee rowers het die appellant met ’n geweer by hom die verdagtes later die aand trompop geloop.113 Die verdagtes was aan die bier drink en dagga rook saam met ander jong mans. Die appellant het twee tot drie treë van die groep af gaan staan en hulle oor sy vrou se beursie uitgevra.114 Die appellant het getuig dat toe hy ene Marlin (oorledene in klag 1) oor die beursie uitvra, het laasgenoemde met bierbottel in die hand opgestaan en gesê: “Moenie kak praat nie.”

Die res van die groep het hierna óók opgestaan. Toe hy die vraag oor die beursie herhaal, het Marlin gedreig om hom aan te rand, die bierbottel opgelig en nader aan die appellant beweeg. Die appellant het teruggestaan en Marlin gewaarsku dat hy hom sou skiet indien hy verder vorentoe sou tree. Die groep jong mans het die appellant omring, waarna Marlin die bevel “up” gegee het, wat die appellant vertolk het as ’n bevel om hom aan te val. Die appellant het verder getuig dat die groepie jong mans aggressief en byna op hom was toe hy sy vuurwapen uitgehaal en begin skiet het. Hy het ook gesê dat indien hy sou omdraai om te vlug, hulle hom met die bierbottel sou slaan, en dus was sy lewe in gevaar. Hy het eers op Marlin geskiet en daarna skote van regs na links afgevuur.115 Marlin (klagte 1), Fabian Rossouw (klagte 2) en Mervyn du Plessis (klagte 3) is in die voorval oorlede, terwyl Ivan Mootjie (die klaer in die klagte van poging tot moord) in die arm beseer is.116

Ná deskundige getuienis in verband met die afstand waarop die skote afgevuur en die plek waar die oorledenes geskiet is (Marlin is van naby reg van voor geskiet, en die ander twee oorledenes ook van naby, maar in die sy), het die verhoorhof die beskuldigde tereg onskuldig bevind op klagte 1.117 In daardie geval het die beskuldigde in noodweer opgetree. Volgens die hof het die oorledenes wat in die sy gewond is (klagtes 2 en 3) waarskynlik nie meer aangeval toe hulle geskiet is nie, maar was hulle so naby aan die appellant dat hy wel verkeerdelik kon glo dat hy steeds in onmiddellike gevaar verkeer het. Die hof verwys dan na die uitspraak in S v De Oliveira,118 wat ook hier bo aangehaal is, naamlik:119

The test for private defence is objective – would a reasonable man in the position of the accused have acted in the same way. In putative private defence it is not lawfulness that is in issue but culpability (“skuld”). If an accused honestly believes his life or property to be in danger, but objectively viewed they are not, the defensive steps he takes cannot constitute private defence. If in those circumstances he kills someone his conduct is unlawful. His erroneous belief that his life or property was in danger may well (depending upon the precise circumstances) exclude dolus in which case liability for the person’s death based on intention will also be excluded; at worst for him he can then be convicted of culpable homicide.

Die hof het verder gesê dit was ongegrond van die verhoorhof om die appellant skuldig te bevind aan moord ten opsigte van die oorledenes in klagtes 2 en 3 slegs omdat hulle in die sy geskiet is en nie van voor nie (wat daarop kan dui dat hulle waarskynlik besig was om te vlug). Hierdie persone was immers ook baie na aan die beskuldigde, en die voorval het vinnig gebeur, dus was daar nie tyd vir die appellant om sy opsies rustig te oorweeg nie. Ivan Mootjie (die klaer in die klagte van poging tot moord) was eweneens baie naby.120

In navolging van S v De Oliveira121 kon die appellant dus wat die dood van die oorledenes in klagtes 2 en 3 betref, hoogstens aan strafbare manslag skuldig bevind word, op grond van sy foutiewe oortuiging dat hy steeds onder aanval was, terwyl hulle waarskynlik sywaarts gedraai het om te vlug. Sy foutiewe oortuiging (putatiewe noodweer) het dus dolus uitgeskakel. Wat Ivan Mootjie se besering betref, kon die appellant aan geen misdaad skuldig bevind word nie, omdat dolus ontbreek het, en selfs nie aan aanranding (as bevoegde uitspraak op die klagte van poging tot moord) nie, omdat dit skuld in die vorm van dolus vereis.122

4.7 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W)

In hierdie saak het die beskuldigde geappelleer teen ’n skuldigbevinding aan moord en poging tot moord in die verhoorhof, waar die beskuldigde noodweer en, as alternatief, putatiewe noodweer geopper het.123

Die skuldigbevinding deur die verhoorhof het gevolg ná gebeure die aand van die beskuldigde se 63ste verjaardagpartytjie. Twee van die beskuldigde se vriende is die aand ernstig aangerand nadat hulle die partytjie verlaat het. Die beskuldigde het hiervan te hore gekom, sy pistool geneem en gaan ondersoek instel. Met sy pistool gereed in die hand het hy op die oorledene, ’n 31-jarige man,124 en dié se vriend, Elias Dlomo, afgekom. Nadat die beskuldigde die twee oor die aanranding uitgevra het, het die oorledene na die pistool gewys en die beskuldigde beveel om dit nie te gebruik nie. Hierna het die oorledene nader aan die beskuldigde beweeg. Ten spyte daarvan dat die beskuldigde ’n waarskuwingskoot afgevuur het, het die oorledene steeds nader gekom. Alhoewel die oorledene ongewapen was en net ’n broek aangehad het, het die beskuldigde vir sy lewe gevrees en ’n aantal skote in die rigting van die oorledene en Elias afgevuur. Toe hulle neerval, het hy huis toe gehardloop.125 Die beskuldigde het dit soos volg in sy eie woorde verduidelik:126

I immediately thought that this man was going to take the firearm away from me after telling me that I would not use it and the commanding tone of his voice that left no doubt in my mind that he was actually coming for that firearm. I am afraid had he got the firearm, I would not be sitting here today.

Volgens deskundige getuienis127 is die skote in hierdie saak ook op ’n baie kort afstand (ongeveer 3,5 meter) afgevuur.

Nieteenstaande bogenoemde, asook die oorledene se jong ouderdom vergeleke met dié van die beskuldigde, het die hof met die verhoorhof se bevinding saamgestem dat die beskuldigde nie met noodweer kon slaag nie. Die hof het na die gebruik van die objektiewe toets by wederregtelikheid verwys, en geargumenteer dat die beskuldigde objektief onredelik opgetree het in die doodslag van die ongewapende oorledene.128 Tog stem Snyman129 nie saam met die hof se bevinding dat die beskuldigde se gedrag die perke van noodweer hier oorskry het nie, en meen tereg dat dit ’n klassieke voorbeeld is van iemand wat aan ál die vereistes van noodweer voldoen het. Snyman motiveer sy standpunt deur te sê dat die vrees redelik was: dit is objektief waar dat die oorledene en Elias van die beskuldigde se gaste aangerand het;130 daar was geen getuienis dat die beskuldigde se eerste skoot direk op hulle afgevuur is nie; dit was ’n geval van twee teen een, en die beskuldigde het nie veel ander opsies tot sy beskikking gehad nie.131

Hoe dit ook al sy, ná die verwerping van ware noodweer was die volgende vraag of die beskuldigde dan wel met putatiewe noodweer kon slaag. Hiervoor het die hof die volgende as vereistes gestel:132

If an accused person honestly but erroneously believed that his conduct in killing another was justified, then dolus is excluded.

The reason is that there had been a lack of consciousness of the wrongfulness of the act and thus fault in the form of dolus.

Die hof verwys ook na ’n artikel waarin Manfred Nathan133 meer as 100 jaar vantevore reeds gesê het:134

[T]here will be cases where, despite the fact that there was an unlawful, intentional killing of another human being, the proper verdict is nevertheless culpable homicide. These will be the rare instances where the intention had not been evil (ie where there was a lack of consciousness of the wrongfulness of the act on the part of the perpetrator).

Die hof stel hierdie foutiewe dog bona fide-oortuiging as die enigste vereiste om opset uit te skakel, maar verduidelik dan dat, na gelang van omstandighede, ’n persoon steeds aan nalatigheid (in die vorm van strafbare manslag) skuldig bevind kan word.135 Uiteindelik het die hof beslis dat hoewel skuld in die vorm van opset hier ontbreek het,136 die appellant inderdaad nalatig was omdat ’n redelike persoon in dieselfde omstandighede nie ’n aantal skote in die rigting van die oorledene en Elias sou afgevuur het nie, maar eerder slegs nienoodlottige skote om sy aanvallers buite aksie te stel.137 Hoewel die hof se verwagting van die redelike persoon in dieselfde omstandighede en binne dieselfde kort tydsbestek hier kommerwekkend is, val dit buite die bestek van hierdie artikel.

Die skuldigbevinding aan moord is gevolglik met strafbare manslag vervang138 en dié aan poging tot moord tersyde gestel omdat daar nie ’n “nalatigheidsopsie” vir ’n klag van poging tot moord bestaan nie.139

4.8 Coetzee v Fourie 2004 6 SA 485 (HHA)

Nóg ’n deliktuele aangeleentheid waar putatiewe noodweer as verweer voor die Hoogste Hof van Appèl gedien het, is Coetzee v Fourie.140 Die verweerder in hierdie saak het een aand laat (ongeveer 23:00) by die huis aangekom. Dit was donker toe hy met sy pistool in die hand na die motorhuis se deur gestap het om dit te sluit. Toe hy naby die agterwiel van sy voertuig kom, het hy die silhoeët opgemerk van iemand wat na hom toe stap. Hierdie persoon was ongeveer 7,5 meter van die verweerder af toe hy opgemerk is, en het vinnig en met swaaiende arms na die verweerder toe aangekom. Volgens die verweerder het die armbewegings by hom die indruk gewek dat die persoon hom op ’n dreigende wyse nader. Die verweerder was ook bang omdat hy glad nie geweet het waarom die persoon hom daardie tyd van die nag sou nader nie. Toe hy geen reaksie kry op sy vraag oor wat die persoon wil hê nie, en die persoon reeds ongeveer 2 tot 3 meter van hom af was, het hy ’n skoot in die rigting van die persoon afgevuur. Die persoon het neergesak, waarna die verweerder die ambulans en polisie ontbied het.141 Die eiser was inderwaarheid ’n man wat daar naby gewoon en self laat by die huis gekom het, en bloot wou navraag doen oor ’n waentjie wat hy by die verweerder wou koop. Sy teenwoordigheid was dus onskuldig.

Omdat dit nie ’n strafregtelike aangeleentheid was nie (die eiser het aanvaar dat die verweerder hom geskiet het slegs in die oortuiging dat sy lewe in gevaar was),142 maar eerder ’n deliktuele aangeleentheid op grond van nalatigheid, moes die hof slegs bepaal of die verweerder se foutiewe oortuiging redelik was, oftewel of die redelike persoon in die verweerder se skoene ook in die omstandighede só sou opgetree het.143

Die verweerder het die voorval soos volg in sy eie woorde verduidelik:144

Ek het geskrik u Edele … Dit was donker, dit was nag, ek het nie enige persoon verwag om na my toe te kom nie. Dit was ’n totale onbekende persoon. Ek kon aan geen rede dink waarom ’n persoon my daardie tyd van die nag sou wou nader nie. Ek was alleen gewees. Ek was in die motorhuis, vasgekeer in die sin dat ek nie kon vorentoe of agtertoe. Hier het ’n persoon na my toe aangekom, onverwags, sonder dat ek geweet het wat die persoon se bedoelings is en daardie tyd van die aand het ek geweldig geskrik daarvoor.

Die hof het egter geargumenteer dat daar onvoldoende bewyse was dat die verweerder in onmiddellike gevaar verkeer het: Die manier waarop hy genader is, was nie uitermate dreigend nie; hy het geen vuurwapen by die eiser gewaar nie, en net omdat die eiser homself nie onmiddellik geïdentifiseer het nie, het dit nie sy gedrag outomaties dreigend gemaak nie. Indien die verweerder bedreig gevoel het, was daar volgens die hof genoeg tyd om ten minste ’n waarskuwingskoot af te vuur.145 Deur te skiet, het die verweerder dus nalatig opgetree.146

Hierdie uitspraak het heel tereg kwaai onder skoot gekom. Neethling en Potgieter147 verskil soos volg met die hof se siening:

[I]n the present-day South Africa where people are in similar circumstances summarily shot and killed in their driveways, usually in an attempt to hijack the victim’s vehicle, it is probably more reasonable to accept that the plaintiff’s conduct, especially his failure to identify himself when requested to do so, was indicative of imminent danger and that the defendant therefore acted as a reasonable person in the circumstances.

Hulle148 motiveer hul sienswyse met die volgende stelling:

Precisely because of the often complete disrespect for life, limb, dignity and property, it is no longer realistic to expect of “the average prudent person” not to be a nervous, timorous faintheart, often in trepidation lest he or others suffer some injury, and to act accordingly.

In teenstelling met die bevinding van die hof, wat die appèl van die hand gewys het, meen Neethling en Potgieter149 dus dat die verweerder in die omstandighede opgetree het soos ’n redelike persoon sou, en inderwaarheid aanspreeklikheid moes vrygespring het.

 

5. Meer onlangse hofgesag

5.1 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014)

Die “Oscar-saak”150 is stellig die mees opspraakwekkende onlangse hofsaak waarin die verweer van putatiewe noodweer geopper is. Die beskuldigde het in sy eie woorde soos volg oor die betrokke voorval getuig:151

During the early hours of the morning I brought two fans in from the balcony. I had shortly spoken to Reeva who was in bed besides me. Unbeknown to me, Reeva must have gone to the toilet in the bathroom, at the time when I brought in the fans, closed the sliding doors and drew the blinds and the curtains. I heard the bathroom window sliding open. I believed that an intruder or intruders had entered the bathroom through the bathroom window which was not fitted with burglar bars. I approached the bathroom, armed with my firearm so as to defend Reeva and I. At that time I believed Reeva was still in bed. The discharging of my firearm was precipitated by a noise in the toilet which I, in my fearful state, knowing that I was on my stumps, unable to run away or properly defend myself physically, believed to be the intruder or intruders coming out of the toilet to attack Reeva and me.

Die verhoorhof het bevind dat die staat nié bewys het dat die beskuldigde om enige ander rede geskiet het as sy foutiewe oortuiging dat daar ’n inbreker agter die toiletdeur was nie. Volgens die verhoorhof kon daar ook nie gesê word dat die beskuldigde onopreg was in sy oortuiging dat die inbreker ’n gevaar ingehou het nie.152 Die beskuldigde het weliswaar uit die staanspoor verskeie persone van sy foutiewe oortuiging in kennis gestel, onder wie dr Stipp, ’n onafhanklike getuie, en die polisie.153 Stipp het voorts getuig dat die beskuldigde minute ná die voorval “genuinely distraught” voorgekom het, gebid het en Stipp gesmeek het om die oorledene te red.154 Die verhoorhof, wat hierdie gedeelte van die beskuldigde se getuienis aanvaar het, het dit soos volg gestel:155

Counsel for the defence correctly argued that it was highly improbable that the accused would have made this up so quickly and be consistent in his version, even at the bail application before he had access to the police docket and before he was privy to the evidence on behalf of the State at the bail application.

Nietemin verwerp die verhoorhof steeds die verweer van putatiewe noodweer op grond van die beskuldigde se getuienis dat hy nooit bedoel het om enigiemand te skiet nie.156 Soos reeds hier bo verduidelik,157 vereis putatiewe noodweer juis dat gedrag spesifiek op ’n veronderstelde wederregtelike aanvaller gemik moet wees. Dit is jammer dat die beskuldigde se eierdans onder kruisondervraging die verhoorhof hieroor laat twyfel het terwyl ’n teenoorgestelde afleiding maklik en meer logies sou gewees het.

Die beskuldigde se verduidelikings waarom hy die skote na die toiletdeur afgevuur het, het die volgende ingesluit:158

The shooting was an accident ...

[I] shot in the belief that the intruders were coming out to attack [me] ...

[I] did not have time to think ...

[I] never intended to shoot anyone ...

[I] pulled the trigger when [I] heard the noise ...

I pulled the trigger at that moment when I heard the noise. I did not have time to think about what was happening ...

Before thinking, out of fear, I fired the shots ...

[I] shot because I was at that point, with that split moment, I believed somebody was coming out to attack me. That is what made me fire out of fear. I did not have time to think. I discharged my firearm ...

Toe hy gevra is om te verduidelik waarom hy sê die skietvoorval was ’n ongeluk, sê die beskuldigde:159

The accident was that I discharged my firearm in the belief that an intruder was coming out to attack me.

The discharge was accidental, M’Lady. I believe that somebody was coming out. I believed the noise that I heard inside the toilet was somebody coming out to attack me or to take my life.

Die beskuldigde se wankelrige getuienis en versuim om deurgaans te erken dat hy “opsetlik” na “die aanvaller” geskiet het om sy eie lewe te probeer beskerm, laat dus hierdie verweer misluk. Tog stel die hof dit enkele paragrawe verder soos volg:160 “The accused clearly wanted to use the firearm and the only way he could have used it was to shoot at the perceived danger.” Die hof gaan dan selfs verder en verwerp die beskuldigde se getuienis dat hy nie opset gehad het om te skiet nie met die volgende woorde:161 “The accused was clearly not candid with the court when he said that he had no intention to shoot at anyone, as he had a loaded firearm in his hand, ready to shoot.” Ten spyte van die verhoorhof se stelling dat162 “[t]he court is, however, entitled to look at the evidence as a whole and the circumstances of the case to determine the presence or absence of intention at the time of the incident”, weier die hof om putatiewe noodweer te aanvaar.

Burchell163 is korrek dat ’n meer oortuigende gevolgtrekking sou gewees het dat Pistorius wél voorsien het dat die persoon agter die deur gedood kon word (en dus opset gehad het om op die “inbreker” te skiet), maar steeds verkeerdelik geglo het dat hy daarop geregtig was om te skiet weens sy opregte oortuiging dat die persoon ’n inbreker was. Selfs al sou ’n mens aanvaar dat die beskuldigde nie geskiet het om te dood nie, maar slegs skote in die rigting van die gevaar afgevuur het, behoort dit steeds onder die verweer van putatiewe noodweer te val. Die gedrag was immers gemik op die “aanvaller”. Ongeag of daar opset was om te dood of slegs opset om op die “aanvaller” of “bedreiging” te skiet om die “aanval” af te weer, sal dit steeds wederregtelikheidsbewussyn uitskakel en as putatiewe noodweer in aanmerking kom.

Ondanks die verwerping van putatiewe noodweer bevind die hof dat die beskuldigde steeds nie aan moord skuldig bevind kan word nie, weens die gebrek aan dolus directus – ’n begeerte om die oorledene te dood.164 Die hof aanvaar ook die beskuldigde se getuienis dat indien hy die persoon agter die deur wou gedood het, hy hoër (borshoogte) sou gemik het,165 en kom daarom tot die gevolgtrekking dat opset in die vorm van dolus eventualis ook nie aanwesig was nie.166 Vanweë sy foutiewe oortuiging dat die oorledene in die slaapkamer was, het die beskuldigde met die afvuur van die skote dus nie die moontlikheid van háár dood voorsien nie, en op grond van sy onaangevegte stelling dat hy hoër sou gemik het indien hy enigiemand agter die deur wou gedood het, hy ook nie die moontlikheid van die dood van enigiemand ánders agter die deur voorsien het nie.167 Tog bevind die verhoorhof dat die beskuldigde nalatig was en dus skuldig was aan strafbare manslag.168

Al het dié uitspraak heelwat kritiek ontlok, soos uit die bespreking in die volgende afdeling sal blyk, het twee van die land se voorste strafregkenners169 die skuldigbevinding aan strafbare manslag ondersteun. Hulle steun is egter vir die uitslag van strafbare manslag op sigself, en nie noodwendig die hof se onderliggende redenering nie. Burchell170 verduidelik dat die skuldigbevinding aan strafbare manslag korrek was in die lig van die feite en die reg. Die redelike persoon (met fisieke gebreke) sou die moontlikheid van die oorledene se dood voorsien het (alhoewel die beskuldigde self nié het nie) en sou stappe gedoen het om teen die moontlikheid van dood op te tree, soos om sekuriteit te bel. Ook Snyman171 stem saam met regter Masipa se uitspraak en motiveer sy standpunt deur te verwys na die aanwesigheid van “kleurlose opset” by die beskuldigde, met ander woorde opset wat nie gekleur is deur wederregtelikheidsbewussyn nie. Snyman erken egter ook dat regter Masipa se stellings oor die reg “’n onindrukwekkende uiteensetting van die regsreëls” was, maar dat die uitkoms dieselfde sou gewees het “al het sy die regsreëls korrek uiteengesit”.172

Die staat was egter nie tevrede nie, en het teen die skuldigbevinding aan strafbare manslag geappelleer.

5.2 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA)

5.2.1 Dolus eventualis

Die vernaamste rede vir die staat se appèl was sy ontevredenheid met die verhoorregter se toepassing van dolus eventualis. Al is dolus eventualis nie waaroor hierdie bydrae allereers handel nie, word dit volledigheidshalwe steeds bondig bespreek.

Om die aanwesigheid van dolus eventualis te bepaal, het die verhoorregter die volgende vrae gestel:173

1. Did the accused subjectively foresee that it could be the deceased behind the toilet door and

2. Notwithstanding the foresight did he then fire the shots, thereby reconciling himself to the possibility that it could be the deceased in the toilet?

Die verhoorhof het bevind dat die beskuldigde, as gevolg van sy foutiewe oortuiging dat die oorledene steeds in die slaapkamer was, nie met die afvuur van die skote die moontlikheid van haar dood voorsien het nie. Eweneens het die beskuldigde nie die dood van enigiemand anders agter die deur voorsien nie op grond van sy getuienis dat hy in so ’n geval hoër (borshoogte) sou gemik het.174 Die Hoogste Hof van Appèl verskil egter hiermee en aanvaar dat die beskuldigde, met die tipe wapen wat gebruik is én die skote na ’n badkamer met ’n beperkte oppervlakte, inderdaad die moontlikheid voorsien het dat wie ook al agter die deur was, kon sterf.175 Boonop het die staat reeds in die verhoorhof geargumenteer dat176

even if the court were to find that the accused shot the deceased, thinking that he was firing the shots at an intruder, this would not assist him as he had intended to kill a human being.

Dit lyk dan ook of die Hoogste Hof van Appèl die staat met die volgende woorde gelyk gee:177

What was in issue, therefore, was not whether the accused had foreseen that Reeva might be in the cubicle when he fired the fatal shots at the toilet door but whether there was a person behind the door who might possibly be killed by his actions. The accused’s incorrect appreciation as to who was in the cubicle is not determinative of whether he had the requisite criminal intent.

Hierdie stelling is egter aanvegbaar. Die beskuldigde se “incorrect appreciation” van wie agter die toiletdeur was, was hier júís die bepalende faktor wat betref die kwessie van skuld. Die verhoorhof het tog die beskuldigde se foutiewe oortuiging dat hy op ’n “inbreker” geskiet het, aanvaar, wat wederregtelikheidsbewussyn uitskakel. Net soos by alle ander vorme van dolus, maak wederregtelikheidsbewussyn deel van dolus eventualis uit. Indien dit ontbreek, is daar gewoon nie opset nie.

Snyman178 verduidelik ook dat error in objecto179 nie op die Oscar-sage van toepassing is nie. Gestel jy wil Piet skiet, verduidelik Snyman, en dit blyk agterna jy het Koos geskiet, sal jy normaalweg steeds skuldig wees aan moord, want jy het geweet jy skiet op ’n mens, en jy skiet wederregtelik. As jy egter dink jy skiet op ’n inbreker, soos in Oscar se geval, verander dit die saak, want jy dink nie jy tree wederregtelik op nie. Snyman180 verwoord dit só:

As ek in die middel van die nag geluide in die toilet hoor en ek glo dit is ’n inbreker en ek skiet deur ’n deur met die opset om die inbreker te dood, dan het ek nie opset in die regstegniese sin van die woord nie. Ek het nie dolus nie omdat ek nie wederregtelikheidsbewussyn het nie.

Volgens Snyman181 maak dit ook nie saak hoeveel skote geskiet is nie. Alles hang af van wat die beskuldigde subjektief ten tye van die misdaadpleging geglo het.

Nietemin het die Hoogste Hof van Appèl die aanwesigheid van dolus eventualis aanvaar en die verhoorhof se skuldigbevinding aan strafbare manslag deur ’n skuldigbevinding aan moord vervang.182

5.2.2 Putatiewe noodweer

Wat die hantering van putatiewe noodweer betref, het die Hoogste Hof van Appèl dit baie kortliks oorweeg, en verwerp. Die hof verwys na die toets vir putatiewe noodweer in S v De Oliveira183 en verwerp dan dié verweer om die volgende redes:184

a) Teenstrydigheid in die beskuldigde se getuienis

Die verskillende weergawes van die beskuldigde se getuienis oor waarom hy in die rigting van die badkamer geskiet het, is reeds hier bo uiteengesit.185 Die Hoogste Hof van Appèl maak op een van hierdie weergawes staat om die verweer van putatiewe noodweer te verwerp, naamlik dat die beskuldigde “never intended to shoot anyone”.186

In hierdie opsig het die verdediging egter tereg aangevoer dat die hof uit die getuienis kon aflei dat die beskuldigde wie ook al agter die toiletdeur was, as ’n bedreiging ervaar het. Verdere ondersteuning vir hierdie standpunt is Burchell187 se mening dat ’n meer oortuigende gevolgtrekking sou gewees het dat Pistorius wél die moontlikheid voorsien het van die dood van die persoon agter die deur, maar steeds verkeerdelik geglo het dat hy daarop geregtig was om te skiet weens sy opregte oortuiging dat die persoon ’n inbreker was. Trouens, die volgende toon dat selfs die verhoorhof oortuig was van die aanwesigheid van opset om te skiet:188 “The accused was clearly not candid with the court when he said that he had no intention to shoot at anyone, as he had a loaded firearm in his hand, ready to shoot.”

b) Die irrasionaliteit van die vrees dat die persoon in die toilet ’n gevaar vir die beskuldigde se lewe ingehou het189

As motivering hiervoor wys die hof daarop dat die “gevaar”, oftewel persoon, nie net agter ’n deur verberg was nie, maar dat die beskuldigde ook nie geweet het wié die persoon was en óf hy inderdaad enige gevaar ingehou het nie. Die beskuldigde se vrees dat so iemand sy lewe bedreig het, was dus volgens die hof “not the product of any rational thought”.190 ’n Rasionele persoon, alhoewel angstig, sou na die hof se mening ook nie geglo het dat hy daarop geregtig was om op so ’n “gevaar” te skiet sonder om ten minste eers ’n waarskuwingskoot af te vuur nie. Die hof lei dus af dat die beskuldigde nié opreg kon geglo het dat sy gedrag toelaatbaar was nie.191

Hierdie stelling deur die hof laat ’n aantal vrae ontstaan: Eerstens, móés die dwaling deur die beskuldigde dan enigsins rasioneel wees? Soos reeds hier bo bespreek,192 het die hof in S v De Oliveira193 die ongelukkige stelling gemaak dat ’n redelike persoon in die omstandighede van daardie saak nie sou glo dat hy geregtig was om op die persone buite sy huis te skiet nie. Die verwysing na die “redelike persoon” om die subjektiewe staat van die beskuldigde se denke te bepaal, is jammer, en waarskynlik ook waarom die Hoogste Hof van Appèl hier ’n “rasionele” feitedwaling as vereiste stel. Wat die twee sake egter van mekaar onderskei, is dat die beskuldigde in De Oliveira in die dag op persone buite sy huis geskiet het, wat later geblyk het persone te wees wat ook op die erf gewoon het, terwyl daar in die Pistorius-saak in die nag, of vroeë oggendure, op “iemand” binne-in die beskuldigde se huis geskiet is. In De Oliveira het die beskuldigde ook verkies om nié te getuig en ’n grondslag vir sy verweer te bied nie.194 Menige strafregkenner195 meen boonop dat om met ’n feitedwaling te slaag ten opsigte van ’n misdaad wat opset vereis, die dwaling inderdaad nie redelik hoef te wees nie. Tweedens, was die beskuldigde se foutiewe oortuiging inderdaad irrasioneel? Is dit in die hedendaagse samelewing met sy hoë voorkoms van misdaad en huisbraak werklik irrasioneel om te vermoed dat daar ’n inbreker in die huis is as jy in die vroeë oggendure geluide in die badkamer hoor? Is dit irrasioneel om te glo dat jy daarop geregtig is om in jou eie huis skote in die rigting van die “gevaar” af te vuur voordat jy die “bedreiging” oor die rede vir sy aanwesigheid ondervra, en vasstel oor watter wapens hy beskik? Is dit irrasioneel om nie eers waarskuwingskote af te vuur voordat jy skiet nie omdat dít jou posisie aan die “bedreiging” sal verklap?196

c) Die beskuldigde se versuim om ’n feitelike grondslag vir sy verweer te bied197

Ook hierdie rede vir die verwerping van putatiewe noodweer was verrassend. Die beskuldigde het uit die staanspoor ’n hele aantal persone van sy foutiewe oortuiging in kennis gestel, onder wie dr Stipp, ’n onafhanklike getuie en die polisie.198 Volgens Stipp het die beskuldigde minute ná die voorval “genuinely distraught” gelyk, gebid en hom gesmeek om die oorledene se lewe te red.199 Die verhoorhof het dít as die waarheid aanvaar. Daarbenewens het die beskuldigde self getuig en uitdruklik gesê dat sy gedrag die gevolg van sy foutiewe oortuiging was.200

Boonop herinner Burchell201 ons daaraan dat ’n beskuldigde nie ’n verweer hoef te bewys nie. Dit is voldoende as bewyse van ’n verweer redelik moontlik waar kan wees en dus redelike twyfel skep. Dit is die aanklaer se werk om sowel die wederregtelikheid van gedrag as skuld bo redelike twyfel te bewys.

 

6. ’n Samevatting van die onseker pad van putatiewe noodweer tot Pistorius

’n Oorsig van aangeleenthede waarin die verweer van putatiewe noodweer in Suid-Afrikaanse howe geopper is, dui op ’n benadering wat op sy beste as wisselvallig beskryf kan word.

Toe putatiewe noodweer reeds in 1953 in R v Bhaya202 geopper is, het die hof gesê die foutiewe oortuiging van die bestaan van noodweer moes redelik wees, en die beskuldigde se stappe om die gevaar af te weer regverdigbaar. Hierdie objektiewe vereiste is spesifiek gestel ten opsigte van ’n klagte (nl. saakbeskadiging) waarvoor die vereiste skuldvorm opset is.

In S v De Oliveira203 stel die destydse Appèlhof op sy beurt ’n “erroneous belief” as enigste vereiste om dolus (opset) uit te skakel. Tog, om te bepaal of die beskuldigde op ’n klag van moord (’n opsetmisdaad) met putatiewe noodweer kon slaag, het die hof ongelukkig ’n deels objektiewe toets gebruik, en genoem dat die “redelike persoon” in die beskuldigde se omstandighede nié sou glo dat hy daarop geregtig was om te skiet nie. Dít was egter onnodig,204 want die beskuldigde se versuim om te getuig en die omstandighede van die saak was reeds voldoende om af te lei dat die beskuldigde se foutiewe oortuiging onopreg was.

In S v Naidoo205 pas die hof weer ’n suiwer subjektiewe toets toe en vra die vraag of die beskuldigde self verkeerdelik oortuig was dat hy aangeval word en binne die vereistes van noodweer opgetree het. Die hof sê uitdruklik dat indien daar so ’n subjektiewe oortuiging bestaan, selfs al blyk dit verkeerd te wees, wederregtelikheidsbewussyn ontbreek en so iemand slegs aan strafbare manslag skuldig bevind kan word,206 wat dan ook die bevinding in dié saak was.207 Ook Kgaleng v Minister of Safety and Security208 stel ’n bona fide-oortuiging as enigste vereiste om te bevind dat wederregtelikheidsbewussyn, en dus opset, ontbreek. Tien jaar ná De Oliveira kry die Hoogste Hof van Appèl in S v Joshua209 weer geleentheid om oor putatiewe noodweer te besin. Die hof verwys na die vereistes wat in De Oliveira uiteengesit is,210 stel ’n subjektiewe foutiewe oortuiging as die enigste vereiste om opset uit te skakel, en vervang gevolglik die skuldigbevindings aan moord in Joshua met strafbare manslag.211

Ook in S v Dougherty212 word ’n opregte foutiewe oortuiging as enigste vereiste gestel om opset uit te skakel, en word die beskuldigde skuldig bevind aan strafbare manslag in plaas van moord.213

Hoewel die verhoorhof in die meer onlangse S v Pistorius214 ook na ’n foutiewe dog opregte oortuiging verwys as enigste vereiste om opset uit te skakel, verwerp die hof dan putatiewe noodweer in die geheel as gevolg van die beskuldigde se wankelrige getuienis en, meer spesifiek, die stelling dat hy nooit bedoel het om enigiemand te skiet nie. Dít is jammer – ’n teenoorgestelde afleiding sou immers ’n veel logieser gevolgtrekking gewees het.215

Tog is die Hoogste Hof van Appèl se daaropvolgende hantering en verwerping van putatiewe noodweer selfs méér kommerwekkend. Die Hoogste Hof van Appèl verwys na De Oliveira216 se vereistes om met putatiewe noodweer te slaag, maar verwerp dan die verweer – nie net as gevolg van die teenstrydigheid in die beskuldigde se getuienis en sogenaamde gebrek aan ’n grondslag vir die verweer nie, maar ook omdat die beskuldigde se foutiewe oortuiging dat hy daarop geregtig was om te skiet, nie rasioneel was nie.217 Of die foutiewe oortuiging rasioneel of irrasioneel was, is inderdaad vatbaar vir bespreking, maar dít is ’n bespreking wat moet plaasvind slegs om ’n beskuldigde se nalatigheid te bepaal, en nie opset nie. Daar is reeds hier bo218 daarop gewys dat verskeie strafregkenners dit eens is dat ’n foutiewe dog opregte oortuiging nie redelik of rasioneel hoef te wees om opset uit te skakel nie. ’n Subjektiewe toets moet toegepas word wat die omstandighede van elke betrokke saak oorweeg om die geloofwaardigheid van die foutiewe oortuiging te bepaal. Ook die hofgesag wat in hierdie bydrae bespreek is, huldig merendeels hierdie siening. Juis daarom is die Hoogste Hof van Appèl se aandrang daarop dat die foutiewe oortuiging “rasioneel” moet wees, so teleurstellend. Die rasionaliteit of redelikheid van gedrag dui tog op ’n objektiewe toets en is iets wat slegs by die bepaling van nalatigheid geopper behoort te word.

In die praktyk maak die howe se wipplankryery uiteindelik die verskil tussen ’n skuldigbevinding aan moord (opsetmisdaad) of aan strafbare manslag (nalatigheidsmisdaad), wat vanselfsprekend reuseverskille in vonnisse tot gevolg het.219 Regsekerheid word dus dringend vereis.

 

7. Aanbevelings vir ’n sekerder pad vorentoe

Putatiewe noodweer is die spreekwoordelike strooihalm waaraan persone vasklou wat onder die wanindruk verkeer dat hulle in noodweer opgetree het en hulle hulle uiteindelik in strafverrigtinge in die beskuldigdebank bevind. Die belang van regsekerheid op dié gebied kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Om die duideliker en eenvoudiger hantering van dié verweer in die toekoms in die hand te werk, behoort akademici en praktisyns (howe) in veral die volgende opsigte saam te werk:

a) Die konsekwente toepassing van ’n suiwer subjektiewe toets om wederregtelikheidsbewussyn, en dus opset, te bepaal. Slegs indien wederregtelikheidsbewussyn ontbreek, behoort die meer objektiewe “redelike persoon”-toets gebruik te word om nalatigheid in die spesifieke omstandighede vas te stel.

b) Die konsekwente hantering van ’n persoon se huis as sy veilige hawe, en die gepaardgaande toepassing van Snyman se standpunt dat daadwerklike optrede toelaatbaar behoort te wees as ’n inbreker jou of ’n familielid in die middel van die nag by die huis sou nader. Snyman verwoord dié standpunt soos volg:220

May X summarily shoot Y in order to kill her, or must she first ask Y to identify herself and state the purpose of her visit, in order to decide what, objectively, the appropriate defensive measures would be in the circumstances? Must she first try to arrest Y and then call the police? It is submitted that in such a situation X is entitled summarily to resort to extreme measures of shooting at Y. Even if subsequent investigation reveals that Y was an unarmed or a physically weak person who could easily have been overpowered by X, and who wanted to steal, say, only a cell phone, it is extremely unlikely that any court would hold that X acted unlawfully in shooting at Y. A celebrated phrase emanating from English law reads “a person’s home is her castle”. Experience tells us that even a moment’s hesitation by X in such circumstances is to require her to gamble with her life or that of the other people in the house, and the law cannot expect this of her.

c) Eenstemmigheid oor die vereiste van waarskuwingskote tuis, en die toepassing van Burchell221 se standpunt in hierdie verband:

The issuing of a warning or the firing of a warning shot must, however, be examined in the light of all the circumstances. It may, in certain circumstances, be unreasonable to expect a person faced with an intruder in his or her home to call out a warning or fire a warning shot. By calling out he or she might simply sign his or her own death warrant by identifying his or her position to the intruder or by provoking an armed intruder into returning fire. The emergency situation faced by the homeowner might not give time for warnings.

Veral in die lig van hedendaagse samelewingstendense, met huisbraak en roof aan die orde van die dag,222 behoort verdediging teen hetsy werklike of veronderstelde aanvallers tuis eenvoudig anders as ander gevalle hanteer te word, met inagneming van die feite en omstandighede van elke saak.

 

Bibliografie

Botha, M.F.T. 2013. Private defence in the South African law of delict: Rethinking the rethinker. South African Law Journal, 130(1):154–86.

Botha, R. 2014. Strafregtelike struikelblokke in die mishandelde persoon se stryd om geregtigheid. LitNet Akademies, 11(3):189–222.

Botha, R. en M. van der Merwe. 2013. Die tergende toekoms van provokasie as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg. LitNet Akademies, 10(2):81–108.

Botha, R. en M. van Rooyen. 2016. Dronkenskap as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Sober benadering? LitNet Akademies, 13(2):556–93.

Burchell, J. 2014. Masipa’s decision to acquit Oscar of murder justified. BDLive. http://www.bdlive.co.za/opinion/2014/09/17/masipas-decision-to-acquit-oscar-of-murder-justified (28 Februarie 2017 geraadpleeg).

—. 2016. Principles of criminal law. 5de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Carstens, S. 2014. Tergende regsvraag wat verdeel. Kenners nie eens oor regter Masipa se uitspraak. Die Volksblad, 23 September, bl. 9.

De Wet, J.C. 1985. De Wet en Swanepoel strafreg. 4de uitgawe. Durban: Butterworth.

Hoctor, S. 2015. Recent cases: General principles and specific offences. South African Journal of Criminal Justice, 28(1):73–84.

Kemp, G., S. Walker, R. Palmer, D. Baqwa, C. Gevers, B. Leslie en A. Steynberg. 2015. Criminal law in South Africa. 2de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Maharaj, S. 2015. Fight back and you might be found guilty: Putative self-defence. De Rebus, 2015(555):34–6.

Neethling, J. 2002. Self-defence: The “unreasonable” reasonable man. South African Law Journal, 119(2):283–7.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2004. Section 49 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977, private defence and putative private defence. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:602–8.

Snyman, C.R. 2004. Private defence in criminal law – an unwarranted raising of the test of reasonableness: S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 67(2):325–31.

—. 2012. Strafreg. 5de uitgawe. LexisNexis.

—. 2014. Criminal law. 6de uitgawe. LexisNexis.

Supreme Court of Appeal of South Africa. 2015. http://www.justice.gov.za/sca/aboutsca.htm (6 Junie 2017 geraadpleeg).

Visser, P.J. en J.P. Vorster. 1982. General principles of criminal law through the cases. Durban-Pretoria: Butterworths.

 

Eindnotas

1 Snyman (2014:22). Moordsyfers in Suid-Afrika is meer as vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde. Sien ook Botha en Van Rooyen (2016:559).

2 Sien bv. R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N); S v De Oliveira 1993 2 SASV 59 (A); S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T); S v Sataardien 1998 1 SASV 637 (KH); Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W); S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA); S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W).

3 Snyman (2014:112).

4 Burchell (2016:131).

5 R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N).

6 S v De Oliveira 1993 2 SACR 59 (A) 63–4.

7 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA).

8 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 336–7.

9 Sien Snyman in Carstens (2014); Burchell (2014).

10 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA).

11 Snyman (2014:32–4); Kemp e.a. (2015:24–8); Botha en Van der Merwe (2013:84).

12 Snyman (2014:34).

13 Burchell (2016:131).

14 Ibid.

15 Snyman (2014:112).

16 Burchell (2016:131).

17 (2014:97–8). Sien ook Botha (2014:193).

18 (2012:106). Sien ook Snyman (2014:102) vir die Engelse weergawe.

19 Snyman (2014:103–5); Burchell (2016:122–5); Kemp e.a. (2015:94–5); Botha (2014:194).

20 Snyman (2014:103).

21 Snyman (2014:105) waar hy o.a. na lewe, liggaamlike integriteit en selfs eiendom as belange verwys.

22 Snyman (2014:105) waar hy verduidelik dat X nie net ’n moontlikheid van ’n aanval moet voorsien nie, en dat die aanval ook nie iets in die verlede moet wees nie.

23 Snyman (2014:106–11). Sien ook Burchell (2016:126–30) wat na die volgende verwys as vereistes vir die verdedigende handeling: die verdediging moet noodsaaklik wees; dit moet ’n redelike reaksie op die aanval wees, en dit moet teen die aanvaller gemik wees. Sien ook Kemp e.a. (2015:95–8); Botha (2014:194).

24 (2016:127).

25 (2014:106).

26 Sien ook S v Engelbrecht 2005 2 SACR 41 (W) par. 354 in hierdie verband.

27 (2014:107); Kemp e.a. (2015:96).

28 (2014:111). Eie beklemtoning.

29 (2016:128–9). Eie beklemtoning.

30 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA).

31 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 328.

32 (2016:128–9).

33 Burchell (2016:130).

34 Kemp e.a. (2015:102).

35 (2014:188).

36 Snyman (2014:112); De Wet (1985:81).

37 Burchell (2016:131); Maharaj (2015:35).

38 Snyman (2014:442).

39 Snyman (2014:177) verduidelik dolus directus soos volg: “[It] comprises a person’s directing his will towards achieving the prohibited result or towards performing the prohibited act. This result or act is his goal. He desires the act or result.” Dolus indirectus, daarenteen, is aldus Snyman (2014:178) ter sprake waar “the prohibited act or result is not X’s goal, but he realizes that if he wants to achieve his goal, the prohibited act or result will of necessity materialise”. Dolus eventualis word weer soos volg omskryf: “A person acts with intention in the form of dolus eventualis if the commission of the unlawful act or causing of the unlawful result is not his main aim, but (a) he subjectively foresees the possibility that, in striving towards his main aim, the unlawful act may be committed or the unlawful result may be caused, and (b) he reconciles himself to this possibility” (Snyman 2014:178).

40 Snyman (2014:196–7) verduidelik dolus indeterminatus soos volg: “If X’s act is directed not at a particular person, but at anybody who may be affected by his act, he acts with dolus indeterminatus.”

41 Snyman (2014:184).

42 Burchell (2014).

43 Snyman (2014:198); Botha (2013:180).

44 (2015:75).

45 Snyman (2014:206).

46 Neethling en Potgieter (2004:605-6.

47 (2013:182).

48 (1985:155).

49 (2016:131). Eie beklemtoning. Sien ook Kemp e.a. (2015:102).

50 (1982:324). Eie beklemtoning.

51 (2015:248).

52 (2014:188).

53 (2014:188).

54 Snyman (2014:188).

55 Ibid.

56 R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N) 147.

57 Ibid.

58 Ibid.

59 Ibid.

60 149. Eie beklemtoning.

61 Sien par. 3.2.1.

62 Snyman (2014:541).

63 R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N) 149.

64 S v De Oliveira 1993 2 SACR 59 (A) 59.

65 62.

66 60. Sien ook Maharaj (2015:35).

67 S v De Oliveira 1993 2 SACR 59 (A) 64.

68 63–4. Eie beklemtoning.

69 Soos dié in S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) en Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA).

70 Supreme Court of Appeal of South Africa (2015).

71 59–60.

72 64.

73 60.

74 64. Sien ook Maharaj (2015:35).

75 S v De Oliveira 1993 2 SACR 59 (A) 65.

76 65.

77 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T).

78 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA).

79 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T) 64.

80 64. Die beskuldigde se pa was blykbaar Tamil, en die beskuldigde en sy vrou Moslems, wat die belangrike gesprek oor die vernoeming van die kind verklaar.

81 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T) 64.

82 Sien die vereistes om met ware noodweer te slaag in par. 3.1.1 hier bo.

83 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T) 62.

84 67.

85 1982 3 SA 772 (A) 796 C–D.

86 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T) 69.

87 Ibid.

88 66.

89 Ibid.

90 67.

91 (1983). Eie beklemtoning.

92 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T) 68. Eie beklemtoning.

93 69. Sien ook Maharaj (2015:35).

94 1998 1 SACR 637 (KH).

95 1998 1 SACR 637 (KH) 637.

96 Ibid. Eie beklemtoning.

97 641.

98 Ibid.

99 643.

100 645.

101 637. Sien ook Maharaj (2015:36).

102 S v Sataardien1998 1 SACR 637 (KH) 645.

103 Ibid.

104 Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W) 860. Sien ook Neethling (2002:283) vir ’n opsomming van die feite. Sien verder Botha (2013:163).

105 Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W) 856.

106 (2002:284).

107 Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W) 855.

108 Ibid.

109 Ibid.

110 Ibid. Sien ook Neethling (2002:285).

111 Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W) 875.

112 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) 12–3. Sien ook Maharaj (2015:36).

113 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) 3.

114 Ibid.

115 8.

116 4.

117 10.

118 1993 2 SACR 59 (A) 63–4.

119 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) 10–1. Eie beklemtoning.

120 11.

121 1993 2 SACR 59 (A) 63–4.

122 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) 11.

123 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 44.

124 39.

125 38–9. Sien ook Snyman (2004:326).

126 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 39.

127 Dr. Van der Westhuizen wat die post mortem behartig het.

128 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 50.

129 (2004:325). Sien ook Neethling en Potgieter (2004:606).

130 Snyman (2004:327).

131 Snyman (2004:328).

132 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 47. Eie beklemtoning.

133 1902.

134 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 49.

135 47.

136 49.

137 50.

138 Maharaj (2015:36).

139 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 50. Sien ook S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) 11.

140 2004 6 SA 485 (HHA).

141 Coetzee v Fourie 2004 6 SA 485 (HHA) 487–8.

142 488.

143 489.

144 490.

145 489.

146 490. Sien ook Maharaj (2015:36).

147 (2004:607).

148 Neethling en Potgieter (2004:607).

149 Ibid.

150 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014).

151 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3284–5. Sien ook Maharaj (2015:35).

152 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3328; Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 325. Sien ook S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3328, waar die hof sê: “The bathroom door was indeed open, so it was not his imagination at work when he thought he heard the window slide open. He armed himself with a loaded firearm and went to the direction of the noise. He heard a door slam shut … On his version he was scared as he thought the intruder was coming out to attack him.”

153 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3329; Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 327.

154 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3298; Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 328.

155 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3329–30; Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 327.

156 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3318.

157 Sien par. 3.1.1.

158 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3310.

159 3311.

160 3319.

161 3322.

162 3328.

163 (2014).

164 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3324; Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 325.

165 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3330.

166 3331.

167 3330.

168 3336, 3352. Sien ook Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 325.

169 Snyman in Carstens (2014); Burchell (2014).

170 (2014).

171 In Carstens (2014).

172 Snyman in Carstens (2014).

173 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3329.

174 3330.

175 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 335.

176 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3324.

177 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 330.

178 In Carstens (2014).

179 Snyman (2014:188) verduidelik error in objecto as ’n geval waar X ’n fout begaan in verband met die voorwerp waarteen sy handeling gemik is.

180 In Carstens (2014).

181 Ibid.

182 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 338.

183 1993 2 SASV 59 (A). Sien ook par. 4.2 hier bo.

184 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 336–7.

185 Par. 5.1.

186 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 336.

187 (2014).

188 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3322.

189 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 336–7.

190 336.

191 337.

192 Par. 4.2.

193 S v De Oliveira 1993 2 SACR 59 (A) 60.

194 Ibid.

195 Sien par. 3.2.1 hier bo.

196 Sien Burchell se mening in par. 3.1.1 hier bo.

197 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 336–7.

198 327.

199 328.

200 S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3284–5. Sien ook Maharaj (2015:35).

201 (2014).

202 1953 3 SA 143 (N) 149.

203 1993 2 SACR 59 (A) 63–4.

204 Sien par. 4.2.

205 1997 1 SACR 62 (T) 64.

206 S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T) 69.

207 Ibid.

208 2001 4 SA 854 (W) 855.

209 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA).

210 S v Joshua 2003 1 SACR 1 (HHA) 10–1.

211 12–3.

212 2003 2 SACR 36 (W) 47.

213 S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) 50.

214 CC113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) 3328.

215 Sien par. 5.1.

216 1993 2 SASV 59 (A).

217 Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (HHA) 336–7.

218 Par. 3.2.1.

219 Art. 51(1) en 51(2) van die Algemene Strafregwysigingswet 105 van 1997 skryf onder sekere verswarende omstandighede verpligte lewenslange gevangenisstraf vir moord voor, en in alle ander gevalle 15 jaar gevangenisstraf vir die eerste oortreder, 20 jaar vir die tweede oortreder en 25 jaar vir die derde oortreder, tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede is wat ’n korter tydperk regverdig. Hierdie voorgeskrewe minimum vonnistydperke is nie op strafbare manslag van toepassing nie.

220 (2014:111). Eie beklemtoning.

221 (2016:128–9). Eie beklemtoning.

222 Snyman (2014:23–4). “In 1994/1995 there were 231 355 cases of housebreaking. In 2012/2013 residential burglary alone has increased to 262 113 – an increase of 13%. …

During a twelve-month period in 1994 to 1995 there were 32 659 cases of common robbery. During the corresponding twelve-month period in 2012 to 2013 the number has increased by 64%.”

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Putatiewe noodweer as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Kritiese oorsig van die onseker pad tot by Pistorius en daarná appeared first on LitNet.

Graad 10, 2016: Vraestelle en memoranda

$
0
0

Is daar ’n graad 10-leerder in jou huis?

Hier is gratis eksamenvraestelle en memoranda - beskikbaar vir die vakke Wiskunde en Fisiese Wetenskappe.

Die volgende vakke se vraestelle is ter sprake:

  • Fisiese Wetenskappe (Fisika, V1 en Chemie, V2)
  • Wiskunde (V1, V2)

Laai die vraestelle hier af:

Hierdie vraestelle is geplaas met toestemming van die Oos-Kaap se onderwysdepartement.

The post Graad 10, 2016: Vraestelle en memoranda appeared first on LitNet.

ATKV se nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie vir die eerste keer in Kaapstad

$
0
0

ATKV-Muziq is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassieke musiek in Suid-Afrika. Dit vind plaas in die vorm van ’n klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici en het ’n totale prysgeld van R180 000.

Vanjaar vind hierdie kompetisie vir die eerste keer in die ouditorium van die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow plaas. Die kompetisie skop af met die tweede ronde wat om 11:00 op Vrydag, 28 Julie sal begin. Die finale ronde vind plaas op Saterdagaad, 29 Julie om 19:00.

Instrumentaliste tussen 15 en 27 jaar oud kon vir Muziq inskryf. Die eerste ronde het in Mei vanjaar plaasgevind, waartydens slegs 10 musici vir die tweede ronde gekies is. Hulle is vanjaar:

Naam

Instrument

Leermeester

Sulayman Human

Klavier

Cameron Williams

Saksofoon

A Voges

Jonathan Mayer

Viool

I Tsoniff

Jeffrey Armstrong

Viool

P Schoeman

Paul Loeb van Zuilenburg

Viool

F Bacharova

Thapelo Masita

Tjello

S Doane

Bianca Wesley-Smith

Viool

D Sutton

Tim ter Huurne

Klassieke Kitaar

N Fourie-Gouws

Neil Robertson

Fluit

B Rennie-Salonen

Brian Bae

Klavier

J Stanford

 

Die beoordelaarspaneel staan onder leiding van die ervare violis Denise Sutton (nie-stemmende voorsitter). Die bekende pianis, John Theodore, Heinrich Armer (voormalige klarinetdosent aan die Universiteit van die Vrystaat), en Patrick Goodwin (die huidige orkesmeester van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes) is die ander lede van die paneel.

Om sitplekke vir die finale (derde) ronde, wat op Saterdag, 29 Julie om 19:00 plaasvind te bespreek, skakel asb die projekorganiseerder, Ilse Schürmann by 082 851 7157 na-ure of vir Louisa van Rensburg by 011 919 9009 tydens kantoorure. Toegang is gratis, maar vooraf bespreking vir spesifiek die finale ronde is noodsaaklik.

Tydens die finale ronde sal die algehele wenner dan ook prysgeld ter waarde van R65 000 ontvang. Verder word daar ’n tweede prys ter waarde van R32 000 en ’n derde prys ter waarde van R16 000 ook toegeken. Die 5 finaliste sal ook elkeen R10 000 ontvang.

’n Addisionele prys van R8 500 vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde, asook ’n R8 500-prys vir die beste vertolking van ’n barok of klassieke werk tydens die derde ronde is beskikbaar.

Tydens die derde en dus finale ronde tree die sopraan Palesa Malieloa as gaskunstenaar op. Palesa is aangewys as die algehele wenner van ATKV-Muziqanto 2016, die ATKV se volwaardige nasionale klassiekesangkompetisie.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG is weer eens vanjaar die mediavennoot van beide ATKV-Muziq en -Muziqanto.

The post ATKV se nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie vir die eerste keer in Kaapstad appeared first on LitNet.

ATKV en Afrikaans

$
0
0

Die ATKV wil nou ander tale ook inbring by die organisasie om dit glo meer inklusief te maak. Hul gaan blykbaar nog steeds omsien na Afrikaans en glo Afrikaans sal nie benadeel word deur hierdie veranderings nie. Die vraag is waarom doen die ATKV hierdie dinge? Hul is tog ’n Afrikaanse organisasie wat die belange van die Afrikaanse taal op die hart moet dra en dit maak geen sin om ander tale ook te betrek nie. Ander tale kan seer sekerlik na hulself omsien en hul eie organisasies stig of hoe?

Waarom probeer die ATKV iets vir almal wees, want uiteindelik gaan hul niks vir niemand beteken nie. Hierdie stap gaan die einde van die ATKV wees as ’n Afrikaanse organisasie en weereens is die groot verloorder die Afrikaanse taal. Dis kommerwekkend om te sien hoe Afrikaans oral uitgewerk word en vertrap word. Iets sal gedoen moet word om Afrikaans te beskerm want ons kan nie toelaat dat ons taal so stelselmatig vernietig word nie.

Frik Lotz.

The post ATKV en Afrikaans appeared first on LitNet.

Putative self-defence as a defence in South African criminal law: A critical overview of the uncertain path to Pistorius and beyond

$
0
0

Abstract

In crime-ridden societies such as South Africa it often happens that people genuinely though mistakenly believe that their lives are in danger and that, should they act, they would be acting in self-defence. When these people are then criminally prosecuted and suddenly find themselves in the dock, the only defence available to them is putative self-defence. Unlike regular self-defence, putative self-defence relates to the state of mind of the accused at the time of the crime and, therefore, whether the person was conscious of the wrongfulness of his/her actions or was acting based on an honestly held, albeit erroneous, belief.

Putative self-defence is nothing new in South African criminal law. In fact, as the case law discussed in this contribution will demonstrate, it has been raised as a defence in South African courts for over half a century. In addition, the difference between self-defence and putative self-defence, as well as the criminal liability resulting from putative self-defence, has been firmly entrenched and clearly explained in our law over the years. Yet despite this long history, the recent Pistorius matter not only reignited interest in putative self-defence, but also turned the spotlight on the considerable legal uncertainty regarding our courts’ approach to it: although the Supreme Court of Appeal found that Pistorius could not succeed with putative self-defence and was in fact guilty of murder, a range of leading criminal law experts still believe that the court a quo was correct in initially finding Pistorius guilty of culpable homicide only.

Against this backdrop, the article embarks on a critical chronological overview of the South African courts’ and criminal law experts’ approach to putative self-defence over the past few decades. This overview of case law points to an approach that can at best be described as uncertain and inconsistent. When putative self-defence was raised in R v Bhaya 1953 3 SA 143 (N), the court insisted that the accused’s mistaken belief of self-defence had to be reasonable and his defending actions justifiable – thus clearly pointing to an objective test. In S v De Oliveira 1993 2 SASV 59 (A), however, the then Appellate Division in a rather drastic turnabout insisted on a purely subjective “erroneous belief” as the only requirement to eliminate dolus (intent). At the same time, though, in deciding whether the accused in De Oliveira could successfully raise putative self-defence against a murder charge, the court unfortunately and unnecessarily clouded the issue by applying a partially objective test, stating that the “reasonable person” in the circumstances of the accused would not have believed that he was entitled to shoot. This was followed by a series of judgments well into the 2000s that all applied a solely subjective test and required only a genuinely mistaken belief of self-defence in order to eliminate consciousness of wrongfulness. In S v Naidoo 1997 1 SACR 62 (T), for example, the court focused on whether the accused himself had been honestly yet mistakenly convinced that he was being attacked and was therefore acting within the parameters of self-defence. If so, the court argued, even though the subjective belief turned out to have been held erroneously, there was no consciousness of wrongfulness, and the accused could be found guilty only of culpable homicide. In Kgaleng v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 854 (W) too, the court required only a bona fide belief as prerequisite to find that consciousness of wrongfulness, and thus intent, was absent. Exactly ten years following De Oliveira, the matter of S v Joshua 2003 1 SACR 1 (SCA) afforded the Supreme Court of Appeal another chance to reflect on putative self-defence. The court referred to the requirements established in De Oliveira, then stated a subjective mistaken belief as the only requirement to eliminate intent, and finally overturned the court a quo’s convictions in Joshua from murder to culpable homicide. By that time, the approach seemed to have been firmly established. Sticking with the trend, a truly mistaken belief served as sole requirement to eliminate intent in S v Dougherty 2003 2 SACR 36 (W) also, again resulting in a conviction of culpable homicide instead of murder. But then the much publicised, media-hyped Pistoriusmatter came before our courts. At first, the court in S v Pistorius CC 113/2013 [2014] ZAGPPHC 793 (12 September 2014) seemed to pick up where previous judgments had left off, remaining on course by referring to a mistaken though genuine belief as the only requirement to eliminate intent. However, based on inconsistencies in the accused’s testimony and, more specifically, Pistorius’s statement that he had never intended to shoot anyone, the court eventually rejected putative self-defence in its entirety – a pity, as a contrary conclusion would have been far more logical. Yet it was the Supreme Court of Appeal’s subsequent finding in Director of Public Prosecutions, Gauteng v Pistorius 2016 2 SA 317 (SCA) that dealt any potential certainty regarding the approach to putative self-defence a particularly severe blow. The court found that putative self-defence had to fail, inter alia since Pistorius’s mistaken belief of self-defence was not “rational”. In the proverbial one fell swoop, therefore, the Supreme Court of Appeal returned the countries’ courts to the 1950s approach to putative self-defence, applying an objective test – no more, no less.

This seesawing between divergent views is not only confusing from a legal theoretical point of view, but to many accused means the difference between a conviction of culpable homicide and a conviction of murder, and thus also widely differing sentences. The importance of obtaining legal certainty in this regard cannot be overemphasised. Based on the examination of the uncertain path up to Pistorius and beyond, this contribution finally offers a few recommendations to facilitate a more clear-cut, uncomplicated and constant approach to putative self-defence in future. The primary recommendation is for academics and practitioners (the courts) to collaborate in working towards the consistent application of a solely subjective test to establish consciousness of wrongfulness. Only where consciousness of wrongfulness is found to have been absent, the objective “reasonable person” test should be used to determine negligence. In two secondary recommendations, the article also advocates that defence against either real or perceived intruders at home be dealt with differently from other cases, particularly in light of current societal trends, with burglary and robbery the order of the day. Taking into account the facts and circumstances of each matter, people’s homes should be regarded and approached as their safe haven. This implies that decisive action should be permitted if you or a family member were to be confronted by an intruder at home in the middle of the night. In this regard, Snyman’s remarks in Criminal Law (2014) are particularly relevant: “Experience tells us that even a moment’s hesitation by [a homeowner] in such circumstances is to require her to gamble with her life or that of the other people in the house, and the law cannot expect this of her.” In addition, consensus is urgently required on the need for firing warning shots at home, which may in some instances be unreasonable to expect of a homeowner faced with an intruder in the current climate of brutal violence.

Keywords: consciousness of wrongfulness; genuine mistaken belief; legal certainty; Pistorius; putative self-defence; reasonable person; South Africa

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Putatiewe noodweer as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Kritiese oorsig van die onseker pad tot by Pistorius en daarná

The post Putative self-defence as a defence in South African criminal law: A critical overview of the uncertain path to Pistorius and beyond appeared first on LitNet.

Viewing all 21652 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>