Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21802 articles
Browse latest View live

Huis, woning, tuiste: Donker storm

$
0
0

Donker storm

Die wind waai deur die branders
Die reuk hang sag in my
Die blou van die lug en water smelt saam
Daar waar my hart altyd heen gaan

Donker raak dit donker
Geen woorde kan beskryf
Diep in my agterste hartkamer
Daar waar die wind my heen dryf

Ek voel die sand
Dan die warm blou water

Hoe groet ’n mens jou hart,
Daar waar jy altyd wil wees
Is ek maar nog net ’n storm
Sal my hart ooit stil kan staan
Vloei dit dan nie in my are
Breek dit dan nie in my vorm

Donker raak dit donker
Geen woorde kan beskryf
Diep in my agterste hartkamer
Daar waar die wind my heen dryf.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Donker storm appeared first on LitNet.


Huis, woning, tuiste: Arina Wepener se inskrywings

$
0
0

Hartsgoed

Onbewus van naderende onweerswolke
Perdfris, aktief en in beheer
Donder in knallende stilte
’n Vreemde siekte oor my neer

Newels van onbewuste grepe
Wegsink in die niksheid heen
Soms ’n gesig, soms ’n stem
’n Hand wat vashou of streel oor ’n been

Ontwaak in vreemde maar opgepas
Kragteloos, magteloos, stemloos, sag
Worstelende werklikheid daal neer
Lewe, dood, of onbemag?

Sekondes, ure, dae, weke
Ingrepe en hospitaal gekluister
Pype, naalde, pille en besluite
Verlang ek innig smekend na my tuiste

En wat is dit, wat tuiste is
Verwarrend deur mistige newels rits
’n Paar aardse kosbaarhede – nee!
Kosbare hartsherinneringe wat flits

Heel eerste tuiste - boek en pen
Hier moet ek my sinne wen
Eenvoud en bekende dinge
Slegs gebede dra my binne

Kosbare vriende deur God gestuur
Familie - getuies van my lewensboek
Verlang my plekkie by die see
Waar ek my God en sy skepping soek

Verlangend kyk ek uit na buite
Opsoek na son, wind en weer
So belangrik is my vryheid
Dat ek kan rits, gaan en terugkeer

My tuiste was toe in my mense
In bekende plekkies heen
Binne aspekte van die natuur
’n Boom, die berg en reën

Nooit die geld-aspek of luukse
Nooit die “wonderlike” goed
Maar ’n kuier of ’n kerkdiens
’n Gebed en Bybelboek

Jy kan hardloop en presteer
Val, opstaan, weer probeer
Vind tuiste is in jou eie hart
Dinge wat jou red van smart

 

Klip by Vic Baai

Soms is daar ’n enkele simbool
Wat ’n magdom herinneringe vervat
Dit reis met jou die lewe deur
Maar telkens keer jy terug na daardie plek hier in jou hart

Dikwels besoek jy daardie plek
Oor ver afstande heen
Dis ingraveer saam met mense en gebeure
Die besoek kosteloos – soms ’n geluidlose ween

Einste plek kom uit in musiek
En Lukas eien ook jou klip vir hom
In die verte hoor jy hom sing
Mense sien waarde en wil daarheen kom

So dra jy jou plek die wêreld deur
“Besoek” gereeld jou tuiste in jou kop
En op ’n dag as jy daar is met besoek
Is die bekende vreemd - deur ander omgedop

Jou tuiste bestaan steeds in herinneringe
Die lewe verander voortdurend – niks bly soos dit is
So gaan jy verder en vind nog tuistes
Maar jou eerste tuiste bly in ge-nis.

 

Fiets

Gou in die lewe
Seer geleer
Tyd met mense
Kan jy nooit weer kry

Wat eens eie was
En vanselfsprekend
Is op ’n dag
Vir goed verby

So skuif die rame
Waardeur jy kyk
Ook prioriteite
Sommiges verdwyn

Wat bly is dit: Geloof
In God Drie-enig
– of wat jy kies
Ook mense om jou pad te kruis

Hou vas aan “engele” wie jy teëkom
Sien die mooi in elke siel
Jy hoef nie oor alles saam te stem
Hierdie lewe is soos ’n wiel

Elke sirkel, 360 grade
Elke graad nodig, om glad te rol
Net so moet jy mense hê
Om te keer dat jou hart nie stol

Want soms is een medisyne
’n Ander tyd ’n ander hand
Nog een bid en dra jou nader
Aan God se Vaderhart

Soms is jy die instrument
Onwetend beteken jy wel iets
Ons is saam geplaas hieronder
En as eenheid ry ons fiets

Een lang tandem van die lewe
As jy nie trap nie, trap die res
En as jy weer tyd en krag en moed het
Gaan ’n ander deur ’n les

Jy is daar om te ondersteun
Dit is die lewe daai
As een swaarkry en soms kreun
Help die ander in die draai

Hande vat en deel in lewe
Dis die antwoord in my hart
Ons mag verskil in strewe
Maar kort mekaar op hierdie pad

Die tuiste in my hart
Is vriendskappe om my heen
Diegene wat verstaan
Dat mens jubelend kan ween


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Arina Wepener se inskrywings appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Jy, my woning

$
0
0

Jy, my woning

Ek dwaal hier rond, hier in Eikeland
Met die Stellies se winter-Blues
Verlange na jou hartklop-klop:
Musiek vir my oor.

Oor ’n jaar of twee sal ek jou steeds sien
En saam diep-diep die toekoms koester,
Wat ons jonkwees so verdien.

Jy sal beeldskoon lyk as ek jou ontvang,
Met die lente wat jy dra
Verlange maak my hartklop stop
Jou glimlag, doen dit net oor.

Oor ’n jaar of twee sal ek jou trane afvee
En saam diep-diep die toekoms koester,
Ons droom mos van 'n huisie by die see.

Nooit het ek gedink dat die wiel so sal draai
Hy't ons gevat waar die wind ons waai, waai en waai.

Die koffie raak al koud hier neffens my,
In die vroeë oggend-uur,
Terwyl ek staar na die foto’s teen ons muur.

Ek hoor jou nou neurie in die kombuis
Die reuk van koffie hang al deur die hele huis
Die koppies klingel in die wasbak
Dit breek jou mooiste neurie melodie
Want iewers loop my hart rond in die mooiste van die mooi
En ek voel jou hart klop-klop
Teen my sy
Wil koffie maak vir twee
Maar dan besef ek dis verby.

Ek hoor my selfoon se ringtone
– Dis ons song wat daar lui –
Maar die bitter smaak word nie versoet,
Dit klink mos met ons eerste vry.

Ek mis jou hande deur my hare,
Jou perske-wang teen my
Jou middernag messages
Is jy veilig en oukei?

Liefling,

Niemand maak beter koffie
as jy.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Jy, my woning appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: verplaas / verhuis

Huis, woning, tuiste: Zavey Goliath se inskrywings

$
0
0

ek het ’n huis

ek het ’n huis
’n nederige huis
ek het ’n huis
’n doodeenvoudige huis
ek het ’n huis
’n armsalige huis
ek het ’n huis
’n plat op die aarde huis
ek het ’n huis
nie ’n weelderige huis
ek het ’n huis waarin
my hart warm klop
ek het ’n huis
dit is nie ’n pragpaleis
maar ’n dak oor my kop

 

kom ek vat jou

kom ek vat jou in ’n plek waar
wanhopigheid hoog seëvier en
strate wemel met gebroke 
siele wat aan die sterwe is en wat
soms lag en huil ’n paradys met ’n
donker toekoms vir baie van hulle wat nie meer
hoop het vir die dag van more nie
kom ek wys jou ’n plek waar mense
skadu's kom word het in
hul bestaansreg en hul menswaardigheid
verkrag word ja het ’n plek sonder 
hospitale speed bumps en basiese dienste 
sien jy daar is die plek waar snotnies-
laities moet opgroei en brandsiek
honde oor biesage strate skarrel vi iets om te iet en nog moet sidestep tussen
al die bullets om net by die skool uit te kom vir ’n future

hoor jy van die plek as daar gepraat
word van gister wat verby is oor ’n jong kind
wat wreed aan sy einde gekom het en
nog ’n moeder wat tussen deur haar
trane gehuil het en vas geklou het aan
haar kind se lewelose liggaam op ’n
straathoek en biddend was vir krag vir
’n uitkoms vir vrede sodat die bende-
geweld moet tot ’n einde kom
kom loop saam my deur ’n plek waar
jong dogters swanger is en hul
bloedjies in hul sye oral oor met hul
saamdra sonder die ondersteuning van ’n pa
loop saam met my uit ’n plek waar my
hart vir jare nou al bly en sê vir hulle
wat ons veroordeel as hulle haastig
verbyry om ons bestaan te ontken en
te wil vermy jy was met my in die plek waar mense bly

 

hulle het ko vat

hulle het ko vat osse dream en osse
hopes met osse future wat os vi os
kinnes geditermin het
hulle het gevat osse kerk met osse religion en osse God wat os vi osse
kids moes aanpass
toe stuur die bastards die bulldozers in
en die ko trap osse hyse met osse
dream en osse religion en osse future
in sy blerrie moer vanaf distrik six tot innie bo-kaap
sien nou staan os en long ek en djy pellie na
die new years parties en die gesingery
oppie seven steps en Woodstock en
Wynberg se stasies nai da date is very
cos why hulle het soema die kitaar oek
gevat da by is alles anyway veby
hulle het mos ko vat osse Broadway en
mak die somma hulle se highway en ek
en djy kyk nou al tussen die strate vi
jare nou al ’n way ’n plek om in te bly

 

my huisie by die see

my huisie by die see staan in wit prag en praal ek hoop net
dat die gulsige branders hom nie kom
haal as dit genadeloos soms woedend slaan
my huisie by die see staan geanker tussen sand en rotsklip
wat kan ek meer begeer tewyl ek
uitkyk na buite in die stormagtige weer
want die see is te gevaarlik hy
kan dalk my huisie kom omstoot soos ’n boot


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Zavey Goliath se inskrywings appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Kasteel

$
0
0

Kasteel

Hetsy oos of wes,
bly jy my tuis bes.

Jy is my plek, my woning,
my plekkie in die son.
My huis met ’n hartklop, ’n glimlag
’n beskutting waarna ek smag. 

Veilig, rustig en gelukkig,
dit is wat jy my bied.
Geen huur of onkostes,
jou liefde is verniet.

Jou oë is die vensters van my huis,
jou arms die vier mure wat my koester.
Jou lag die elektrisiteit wat alles laat werk,
jou skouer my slaapkamer waar ek rus, vernuwe en aansterk.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Kasteel appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Musiek is my tuiste

$
0
0

Musiek is my tuiste

Daar in my kamer, op my bed eensaam,
sit ek en dink aan al my probleme.
Met musiek in my ore, kliphard.
Sit ek en sug,
want ek wag.

Die wêreld is maar wreed daar buite,
soos ’n wilde hond wat wag vir
sy prooi en dit verskeur.
Weet nie of ek kom of gaan.

Die musiek speel, die kamer draai
en ek, ek sit en wag.
Waarvoor wag ek?
Self weet ek nie, wag vir beter dae?
Nee ek wag vir my musiek,
my musiek wat my gaan red,
red van die wilde hond,
red van die probleme.
Daar sit ek in my kamer,
eensaam op my bed …


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Musiek is my tuiste appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Miempie Swart se inskrywings

$
0
0

Die vensters van my siel

skyn vanaand ...
die spore van die maan
op my huis wat kaal
in die donker staan

in ’n plekkie wat my waak
teen die goeters
wat in my traan

want hierdie winter klei
die jaar se wingerd binne my 
uit die hoeke wat my snoei
in die winde wat my waai

pleister die krake wat in my bloei
waar distels en dorings groei
in die splinter van die son 
om in my huis te blom

laat my oë in sikkels silwer
weer skitter in stille vrede
in die vensters van my siel

 

Waar kan ek my huisie bou?

ek slaan my oë op na die berge
waar kan ek my huisie bou?
op ’n rots van porselein 
oorgetrek in goud so fyn
op groen smarag onder blou saffier
oor die velde heen

want ’n dwaas woon op sand
pik sy hart swart in klip
in koue harde sement
in die krake van sy oë


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Miempie Swart se inskrywings appeared first on LitNet.


Huis, woning, tuiste: My huis

$
0
0

My huis
(aan die hand van Josua se verhaal)

En in my verkenningstog is gevind;
Mure met krake waardeur hekse gogel
Weggeslypte arkades waarop demone hoon
Valleie vol sand waarmee padwysers smokkel
Altare wat brand met die lanterfanterkroon

Maar my spoor wat nie wou bly lê
in die wegholgange van onbewoonde lande
het sy eerste asem weer teruggevind
in die Bloedrooi Tou se laaste bind
voor die venster se afhang na bo

En in my oorwinningskreet is gevind;
Huise met tuistes waarvandaan hekse vlug
Oopgeloopte paaie waarop engele speel
Valleie vol gras waarin almal mag rus
My huis was gevat, maar die heelal my deel.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: My huis appeared first on LitNet.

Grondverdeling en ander obsessies

$
0
0

Ek wonder deesdae baie oor stommiteite in SA. Hoe gaan mens die karooplase verdeel?
My vraag wat onbeantwoord bly is waar is swart fabriekseienaars in SA? Waar is die swart beleggers in SA ekonomie?
Hans Richardt

The post Grondverdeling en ander obsessies appeared first on LitNet.

LitNet: Jou web

NB-Uitgewers by die US Woordfees 2017

LOK-simposium 2017: Onderwêreld video en verslag

$
0
0

Saterdag 18 Februarie 2017 het die 650 Lokkers na die lokale in die Letterkunde en Wysbegeerte-gebou gestroom om die aanbiedings by te woon.

Een van die gunstelinge was die een van Fanie Viljoen, skrywer van Onderwêreld, die nuwe voorgeskrewe roman vir graad 12. As gevolg van die polemiek rondom die geskiktheid van die boek vir huistaalsprekers, was die onderwysers gretig om die “man” van die “onderwêreld” te ontmoet en eerstehandse menings te vorm.

Fanie het met sy kenmerkende gemaklike styl die onderwysers teruggeneem na die geboorte van Onderwêreld. Die Lokkers het met groot belangstelling geluister hoe die idee ontstaan het en hoe hy die ruimte en karakters gekies het en dit ontwikkel het tot ’n spanningsvolle storielyn. En die ongelooflik baie navorsing wat die skryf voorafgegaan het!

Dié aanbieding by LOK is voorafgegaan deur ’n bekendstellingstoer by al die skole van die Overberg-onderwysdistrik. Een van die seuns het gesê dat die lees van Onderwêreld in die klas ’n aangename en vreemde ervaring was. Vir die eerste keer in jare het die leerders saam omgeblaai wanneer hulle in die klas gelees het!

Myrtle Klaasen, Afrikaansonderwyser van Groenberg Sekondêr in Grabouw, se mening is:

“Wat Fanie betref: die navorsing en hoe die karakters lewe kom kry het, die karakters wat hy ’n gesig kom gee het, foto’s van kuberkrakers se werkpatroon, die realiteit van kuberkrakery – dit het hy so goed aan die leerders oorgedra.”

Fanie som sy besoek aan die Overberg so op: “Oor die kinders kan ek nie uitgepraat raak nie. Toe ek destyds Onderwêreld geskryf het, het ek nie besef soveel leerders sal opgewonde raak oor lees nie. Ek moes by die skole en by die LOK telkens hoor hoe die boek wérk vir die matrieks, dat sommige leerders self die boek by die huis gaan klaar lees. Sommige leerders het vir my kom vertel hulle lees die boek al 'n tweede keer en sien nou die vooruitskouings raak. Hulle vrae oor die boek wys ook dat hulle dit deeglik lees.

“Die grootste oomblik vir my was egter die matriekseun wat by een van die skole vir my kom vra het hoekom die titel Onderwêreld is. Dis 'n seun wat al swaargekry het en wie se oë al duidelik dinge gesien het wat kinders nie moet sien nie. Ek het die verskillende onderwêrelde in die roman verduidelik, en uiteindelik vir hom gevra: "Onder die bendes is daar seker ook so 'n onderwêreld?" Hy het so 'n glimlaggie gekry en daar het 'n lig in sy oë opgegaan toe hy antwoord: ‘Djy weet mos.’ Hoe sou enige een van ons ooit kon raai dat die voorgeskrewe boek op só 'n manier met 'n leerder sou kon praat?”

Fanie oor sy eerste skryfwerk: “My eerste skryfwerk was seker die poppekas-draaiboek wat ek op laerskool geskryf het. Ek het ook die poppe met papier-mâché gemaak. My ma het klere vir die poppe gemaak, en my pa die poppekas. Vir die klank het ek twee bandopnemers gebruik. Een het musiek gespeel. Met die ander een het ek die musiek en dialoog vooraf opgeneem. My plan was om die buurt se kinders die skrik op die lyf te jaag, maar dit het nie baie goed gewerk nie. My grillerige poppe wou nie alles doen wat ek wou doen nie, en die vrolike klaviermusiek wat gespeel het, het ook nie juis bygedra tot die spokerige atmosfeer wat ek probeer skep het nie. Tog het ek baie geleer uit hierdie stukkie werk. Vandag geniet ek dit steeds om die spanning in my boeke op te jaag. Daar is niks so lekker as om mense met ’n goeie storie te vermaak nie.

 “Elke boek is egter ’n onderwêreld van sy eie. Jy weet nooit of jy uiteindelik by die laaste paragraaf, sin en punt gaan kom nie. Soveel aspekte kan ’n manuskrip in die skryfproses laat ontspoor. ’n Skrywer se werk is daarom om in die onderwêreld af te sak en uiteindelik weer ’n pad daaruit te maak.”

Ja. Fanie, het ongetwyfeld ’n (onderwêreldse) aar raakgeboor. Hierdie roman het beslis ’n onverwagte leesreaksie in die skole aan die gang gesit. Daar is matrieks wat sê dat hulle die boek moet wegsteek, want die graad 11’s steel dit. Hulle sien nie kans om te wag tot 2018 om die boek te behandel nie!

Video geplaas met vergunning van Suki Lock.

 

The post LOK-simposium 2017: Onderwêreld video en verslag appeared first on LitNet.

LOK-simposium 2017: Kreatiewe idees vir Afrikaans in die graad 10 EAT-klaskamer

$
0
0

Amanda Reinke, wat die afgelope nege jaar aan Hoërskool Hermanus verbonde is, het praktiese idees, kreatiewe voorbeelde en inspirasie aan onderwysers gegee tydens haar aanbieding by die pas afgelope LOK-simposium op 18 Februarie 2017 wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is. Amanda Reinke se gr 12-leerders se uitslae is jaarliks konstant bo 70% vir die matriekeindeksamens. Dit beteken duidelik dat sy iets in die klaskamer reg doen.

Haar aanbieding was gebaseer op die nuwe graad 10-handboek, Suksesvolle Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 10, uitgegee deur Oxford University Press. Sy was ook een van die skrywers. Die boek bevat splinternuwe tekste, vele aktiwiteite en van die nuwe literatuur wat deur die Departement van Onderwys voorgeskryf is.

Haar vakkennis, asook passie vir dit wat sy doen, is aansteeklik en dit was maklik om te sien hoekom die leerders van haar Afrikaans-klasse hou. Sy het selfs ’n videogreep gewys van een van haar graad 11-leerders, Luvo Jimlongo, wat die Matthews Phosa-gedig “Baadjie met ’n gaatjie” rap.

Sy het benadruk hoe belangrik woordeskat is en dat sy baie tyd (op kreatiewe maniere) spandeer dat leerders vertroud raak met die woordeskat van ’n teks. Herhaling speel ’n groot rol.

’n Hoogtepunt was toe die sangeres Marike van Heerden afgesluit het met die sing van die gedig “Crick se song” wat sy self geskryf het. Die gedig is ook in die boek opgeneem.

Suksesvolle Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 10

ISBN: 9780190440848

Amanda Reinke en Marike van Heerden

Amanda Reinke en Rikus van Rooy (Oxford University Press)

The post LOK-simposium 2017: Kreatiewe idees vir Afrikaans in die graad 10 EAT-klaskamer appeared first on LitNet.

Xenofobiese aanvalle: vrees of haat?

$
0
0

Empatie word beskryf as die vermoë om jouself in die plek van ’n ander te stel, om sy reaksies en houding te begryp.

Baie vlugtelinge kom na Suid-Afrika vanuit oorloggeteisterde lande, waar hul eie regerings baie keer hulle lewens bedreig. Hulle kom uit gebiede waar daar nie genoeg kos of water is nie, gebiede geteister deur droogtes, hongersnood, milisie, verkragtings, rasgebaseerde aanvalle en moorde. Hulle vlug vanaf onderdrukkende regimes waar basiese menseregte in die grond vertrap word. Hulle vlug weg van diktators wat eie belang voor die belange van die bevolking stel. Hulle kom vanaf gebiede waar hulle moontlik nie hul eie bure kon vertrou nie. In Rwanda byvoorbeeld het bure teen bure opgestaan en op grond van stamverband begin uitmoor.

Hulle kom deur riviere, oor beboste gebiede. Hulle trotseer hitte en koue, wilde diere en wettelose mense. Hulle staar telkemale die dood in die gesig. Hulle vlug te voet, in bote, met vervalle voertuie. Baie vlug met net die klere aan hulle lyf, en dit wat in hulle hande gedra kan word.

Hulle vlug na Suid-Afrika. Die reënboognasie. Die land waar daar genoeg te ete en te drinke is vir almal. Die land waar die regering hulle verwelkom en sal beskerm. Die land wat gewys het dat dit deur vergifnis ’n politieke oplossing kon vind waar onderdrukker en onderdrukte in vrede en voorspoed saam kan leef. Die land van biltong en braaivleis. Die land van melk en heuning. Die land waar hulle rus sal vind.

Die pot goud aan die einde van die reënboog.

Dis nie maklik om in ’n vreemde land aan te pas nie. Die mense praat vreemde tale. Hulle gebruik idiome wat jy nie verstaan nie. Hulle eetgewoontes is anders. Hulle kultuur is anders. Dinge wat in jou kultuur aanvaarbaar is, is nou skielik onvanpas. Jy sukkel om aan te pas en ’n geloofsfamilie te vind. Waar jou geloof in jou tuisland dalk die meerderheidsgeloof was, is dit nou miskien net een van vele. Of dis een wat nie ernstig opgeneem word nie. Dalk is dit een wat aktief onderdruk word.

Mense dra ander klere, en jy sukkel om dit waaraan jy gewoond is, te kry. Die speserye waarmee jy gewoonlik kos maak, is nie in die winkels nie. Jy’t nie geld nie. Jy’s geheel en al oorgelaat aan die genade van die regering, en aan die goedheid van die gemeenskap waarbinne jy jou bevind.

Die meeste vlugtelinge besef dat hulle moet werk om finansieel onafhanklik te word. As hulle nie werk kan kry nie, begin hulle besighede. Baie werk in hotelle en restaurante. Hulle weet daar is nie ’n familie, of staatsgesubsidieerde werkloosheidstoelae om op staat te maak nie, dus werk hulle hard. Baie keer harder en beter as die Suid-Afrikaners rondom hulle. Hoeveel van ons het nie al in ’n restaurant diens aan die hand van ’n Suid-Afrikaner ervaar, en besef dis ondergeskik aan die diens van die Zimbabwiese kelner langsaan nie?

Die verhaal is veronderstel om te eindig met die vlugteling wat ’n burger word, ’n volwaardige en waardevolle lid van die gemeenskap waar hy of sy hom of haar bevind.

Ons is mos die reënboognasie, waar almal saamlewe en almal welkom is.

Tot ’n politikus gemoedere begin opsweep om politieke punte te wen. Tot ’n politikus onverantwoordelike stellings maak waarin hy negatiewe kenmerke aan al die lede van ’n groep toedig, en daai groep isoleer. Dis dan wanneer vlugtelinge hulself in die visier bevind van ’n woedende groep burgers wat hulle hulle sukses beny. Dis dan dat winkels gestroop word, mense aangerand, verkrag en vermoor word, eiendom aan die brand gesteek word en algehele pandemonium losbars.

Die nuwe bure kan net so gevaarlik wees soos die ou bure van wie hulle weggevlug het.

En die politici?

Wanneer xenofobiese geweld afgemaak word as die frustrasie oor kriminele gedrag, dan word die gevaar waarin ’n alreeds weerlose groep hulle bevind, geminimaliseer. Wanneer die gedrag van burgers teenoor vreemdelinge nie as barbaars en rassisties veroordeel word nie, stel dit die vreemdelinge in groter gevaar.

Wanneer die politieke leierskap stilbly en nie hul lede wat die geweld aanblaas, penaliseer nie, dan moet hulle medeverantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge.

Herman Mashaba moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweld wat verlede week in Johannesburg losgebars het. Die bloed van die vreemdelinge is aan sy hande.

Die bloed van die vreemdelinge is aan die DA se kollektiewe hande, want hulle het stilgebly. Die bloed van die vreemdelinge is aan die ANC se hande, want hulle het saamgestem dat dit nie oor xenofobie gaan nie, maar oor kriminaliteit.

Geweld teenoor vreemdelinge word genormaliseer. Die reënboognasie se hande is bloedbevlek.

Die probleem is, daar is nie vrees aan die hart van die geweld nie. Dis haat wat elke klip, elke panga, elke vuurhoutjie dryf.

Langtermyn het dit ekonomiese gevolge vir ons. Politieke onstabiliteit, oproer, geweld dien nie juis as aansporing vir beleggers om hulle geld aan ons toe te vertrou nie.

Meer as dit, egter: ons verloor die morele en etiese leierskap wat ons in Afrika gehad het. Ons verloor ons status, hoe efemeries ook al, as die Kanaän van Afrika. Ons verloor ons status as die empatiese leier wat beskerming bied aan almal.

Meer as dit, ons vergeet tot ons nadeel: ons is almal iewers vreemdelinge.

The post Xenofobiese aanvalle: vrees of haat? appeared first on LitNet.


Die Chacma-ekspedisie deur Marius Ackermann, ’n resensie

$
0
0

Die Chacma-ekspedisie
Marius Ackermann

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306269

Hoe die boek geskryf is, onttroon eintlik die storie self.

Nie dat dit ’n verhaal sonder meriete is nie.

Die skryfstyl is net so verbluffend. Skeppend sonder aansit en nie oorbeskryf nie.

Die woordgebruik vloei soos ’n fontein van uitnemendheid.

Gewis skuil hope subteks; en allerlei verwysings – destyds en hedendaags – versterk die storie-inhoud.

Die eerste paragraaf hou die belofte in van ’n interessante, ongewone vertelling.

Sal dit wel enduit prikkel?

Marius Ackerman se verhaal vertel van twee kampe, min of meer. Aan die een kant sit die leierbobbejaan Grootraad Makedaan in die Schurweberg, en natuurlik sy span karakters wat direk in sy storielyn figureer en die span eksepdisielede op soek na pratende Papio ursinus. Dit speel af in die dorp Kwenang, wat voorheen De la Rey genoem is.

Dit is reeds ’n gelaaide basis waarop die boek rus.

Die sukses van hang egter van die inviduele leser af. Hoe meer belese jy is, hoe meer sal die boek in jou hande bly. As jy meer van ’n leek is, sal jy dalk sukkel.

Terselfdertyd bied die teks genoeg kwinkslae wat jou hardop kan laat lag.

Op die koop toe sal jy ’n ding of twee leer, of wil gaan oplees oor onder meer die natuur.

Dis verbysternd hoe ’n mens wil afleidings maak met die lees van sommige karakters. Die naamkeuse en/of hul handelinge dra veral hiertoe by.

Die beskrywing dat die dorp Kwaneng gebuk gaan onder korrupsie en basies ’n gebrek aan organisasie, bring al klaar ’n paar ander dorpname by lesers op.

Die skrywer se verwysingsraamwerk moet erken word. Daar is geskiedkundige verwysings, asook vergelykings en metafore in die letterkunde, en op ’n indrukwekkende wyse word dit alles saamgevoeg om die storie van Grootraad Makedaan en al die ander karakters te vertel.

Noodwendig dink ’n mens ook aan Eugène Marais en al die navorsing wat hy oor bobbejane gedoen het.

Selfs die woord “mesmeraais” kom ook in die teks voor, so gepraat van Marais.

Die verkiesing van ’n bobbejaan as burgemeester en die uiteinde daarvan, sowel as die lede van die ekspedisie se ervarings en waarnemings, is ’n interessante keuse vir ’n storielyn en dit is werklik baie skeppend gedoen, en die beskrywings is kleurryk en humoristies.

Die lees van Die Chacma-ekspedisie laat ’n mens soms wonder of jy vandag se koerant vashou of ’n geskiedenishandboek. Daar is soveel moontlike goed wat jy hierin kan lees. ’n Mens moet seker ook waak teen te veel in sekere gegewens te lees, maar baie interpretasies kom aan bod. En dis seker maar die leser se voorreg?

Vir iemand wat miskien nie al die kennis van die skrywer dra nie, sal dit op ’n stadium begin voel die storie sloer.

Die Chacma-ekspedisie sal nie almal se gunstelinge-leeslys haal nie, maar wat dit in my geval vermag, is die prikkel om weer Marais-tekste oop te slaan. Daar is soveel om steeds te leer.

The post Die Chacma-ekspedisie deur Marius Ackermann, ’n resensie appeared first on LitNet.

Chaka in Afrikaans by US Woordfees 2017

Die Burger 100: Sy mense en hul stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman

$
0
0

Die Burger 100: Sy mense en hul stories
Bun Booyens en Aldi Schoeman
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427963

Danksy die honderde duisende koerante wat die afgelope eeu ses dae per week uitgegee is, is Die Burger vandag ’n huishoudelike naam.

Die boek diep van die merkwaardigste gebeure, groot en klein, op wat sy joernaliste beleef het – van die Groot Griep en die twee wêreldoorloë tot Chris Barnard se eerste hartoorplanting en Nelson Mandela se afsterwe in 2013. 

Skandes en skandale, natuurrampe, persoonlikhede in die nuus, belangrike sportmomente – die boek is nie net ’n belangrike optekening nie, maar het ook groot nostalgiewaarde. Die “onthou jy nog?”-faktor word versterk deur hope foto’s én spotprente. Enkele hoogtepunte:

  • Lindie Koorts skryf oor DF Malan, eerste redakteur
  • Dana Snyman ondersoek die oorsprong van DJ Opperman se bekende gedig, Klara Majola – ’n Burger-berig in 1950
  • Johann Maarman deel sy indrukke van Jakes Gerwel
  • Leopold Scholtz beskryf die val van die Berlynse Muur
  • Francois Verster vertel van Die Burger se spotprent-tekenaars – DC Boonzaaier, TO Honiball en Fred Mouton
  • Bun Booyens was in Kazakstan vir Mark Shuttleworth se reis as eerste ruimtetoeris in 2002

Bun Booyens was redakteur van Die Burger van 2010 tot 2016. Hy was onder meer die stigtersredakteur van die reistydskrif Weg! en ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement. 

Aldi Schoeman het haar loopbaan in 2007 by Beeld begin en daarná vir sewe jaar by Die Burger gewerk, waar sy onder meer nuusredakteur was. Sy is tans ’n joernalis by Rapport

The post Die Burger 100: Sy mense en hul stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman appeared first on LitNet.

US Woordfees 2017: Bekendstelling van die kortverhaalbundel Wys

$
0
0

Die US Woordfees se kortverhaalbundel is Vrydagaand bekendgestel. Michèle Meyer is aangekondig as wenner van die R30 000-prys, geborg deur Du Toitskloof Kelders. Boonop het kykNET vir 'n verrassing gesorg – hierdie wenverhaal gaan ook omskep word in 'n kortfilm. Hier is foto's van die geleentheid, gevolg deur Du Toitskloof se kort toespraak.

Michèle Meyer ontvang die prys by Johan de Wet, voorsitter van Du Toitskloof se direksie.
Foto: Naomi Bruwer

Karen Meiring (kykNET), Nico Koopman (Universiteit Stellenbosch), Michele Meyer, Johan de Wet (Du Toitskloof), Bernard Kotzé (Du Toitskloof) en Saartjie Botha (US Woordfees)
Foto: Naomi Bruwer

Daar is 25 kortverhale in die bundel opgeneem. Hier is 'n groep van die skrywers wat die aand kon bywoon.
Foto: Izak de Vries

Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor
Foto: Gerrit Rautenbach

Karen Meiring het aangekondig dat kykNET die wenverhaal gaan omskep in 'n kortfilm.
Foto: Izak de Vries

Jonathan Amid en Retseh Steenkamp
Foto: Izak de Vries

Kabous Meiring
Foto: Izak de Vries

Johan de Wet, Du Toitskloof
Foto: Naomi Bruwer

Nico Koopman
Foto: Izak de Vries

Kirby van der Merwe en Nita Cronjé
Foto: Naomi Bruwer

Martin Steyn en Gerda Taljaard
Foto: Gerrit Rautenbach

Izak de Vries
Foto: Gerrit Rautenbach

Bernard Kotzé, bemarkingsbestuurder van Du Toitskloof, en Karen Meiring, direkteur vir kykNET-kanale.
Foto: Naomi Bruwer

Bomshelter Beast het na afloop van die geleentheid gespeel.
Foto: Gerrit Rautenbach

Bomshelter Beast
Foto: Gerrit Rautenbach

Bomshelter Beast
Foto: Naomi Bruwer

 

Johan de Wet het by die funksie onderstaande kort toespraak deur Marius Louw, hoof uitvoerende beampte van Du Toitskloof, voorgelees.

Johan de Wet
Foto: Naomi Bruwer

Professor Nico Koopman, viserektor Universiteit Stellenbosch, Saartjie Botha en haar uitmuntende span US-Woordfeesorganiseerders, Karen Meiring, direkteur Afrikaanse programme DStv, lede van die media, skrywers en feesgangers, dames en here.

Dit is vir Du Toitskloof-wynkelder ’n enorme eer en ’n voorreg om by vanjaar se US Woordfees op ’n platform soos hierdie betrokke te mag wees.

Ek is seker (of ek hoop immers so!) dat die meerderheid van diegene hier vanaand op een of ander manier vertroud is met Du Toitskloof se bekendste produk, naamlik die wyne wat ons maak.

As wynprodusent was ons die afgelope paar jaar meer indirek by die Woordfees betrokke – meestal deur te sorg dat die feesgangers se inname van die kulturele aanbiedinge afgewissel word met inname en genieting van enkele van ons bekroonde produkte.

Wyn en kultuur as pasmaats vir mekaar het immers geen bekendstelling nodig nie. Soos een van die grootste skrywers van alle tye, ene Ernest Hemingway, geskryf het: “Good wine is the most civilised thing on earth.”

Du Toitskloof is ’n wynkelder geleë naby Rawsonville. Met ander woorde, aan die ander kant van die berg, deur die tonnel. En as wynprodusente van “daardie kant van die berg” is dit vir ons ’n bykomende voorreg om ons wynbeskawing te kan deel met u as feesgangers en ondersteuners van Afrikaanse kuns en kultuur.

Behalwe dat ons streek “daar anderkant die berg” wyne van topgehalte lewer, moet ek darem ook byvoeg dat as dit by kultuur kom, die gebied geseën is met ’n ewe ryklike oes: dit is hier waar David Kramer en sy kunstenaarbroer hulle wortels geskiet het; Arno Carstens noem “daardie kant van die berg” ook sy tuiste; en die skrywer JM Coetzee is ’n Nobelpryswenner van “daardie kant van die berg”.

Feesgangers en vriende, ons is vanaand hier om die assosiasie van wyn, kuns, kultuur en die geskrewe woord te vier!

Taal in sy breedste definisie is identiteit, en die wonder van boeke, lees en geskrewe idees maak nuwe wêrelde oop. Mag geeneen van ons ooit daarvan beskuldig word dat ons mense (en veral kinders!) verhoed het om te lees of om toegang tot boeke en die geskrewe woord te geniet nie.

Twee jaar gelede het Du Toitskloof met die inisiatief van ’n mobiele biblioteek vorendag gekom. Baie van u sal met my saamstem dat dit nie regtig ’n nuwe konsep is nie – ek onthou steeds hoe ’n mobiele biblioteek kleintyd in ons buurt toegang tot boeke verseker het. Ek het dus dieselfde konsep geneem, effens afgestof met WiFi, rekenaars en pasmaaksagteware en siedaar:

  • Toegang tot boeke, rekenaars, internet – ’n heel nuwe wêreld vir kinders van landelike skole in die platteland!
  • Stories, rympies, romans, ensiklopedieë, wetenskap, geskiedenis, geografie elke dag van die week – en dit alles op wiele!

Iemand het eenkeer gesê dat dit tog baie lekkerder is om te gee as om te ontvang, en die voorreg om te sien hoe iets soos ’n boek, ’n storie, ’n geskrewe bladsy die oë van honderde kinders laat blink met spontane glimlaggies, kan met min vergelyk word.

Hoe bevoorreg, dus, is Du Toitskloof om ons naam, ons handelmerke en ons wyne te mag koppel aan onder andere die Woordfees, die wêreld se grootste Afrikaanse literatuurgebeurtenis!

Bepaald baie geseënd en dankbaar vir die geleentheid.

Vanjaar is Du Toitskloof die trotse medeborg van die US Woordfees-kortverhaalkompetisie. Die inisiatief het juis ten doel om gevestigde en nuwe skrywers aan te moedig om nuwe verhale te skryf, en daardeur ’n beskeie bydrae te lewer tot die skep van oorspronklike stories van literêre meriete. Mag ons ook glo dat ons in die afsienbare toekoms inskrywings sal ontvang van leerders uit die platteland wat hulle eerste ervaring van skryf en lees onthou uit die Du Toitskloof Mobiele Biblioteek.

Net soos ’n goeie wyn, is ’n kortverhaal ’n lewende produk. En vir Du Toitskloof eweneens ’n voorreg om te kan bydra tot die skep van meer as 180 nuwe, oorspronklike kortverhale wat die skatkis van Afrikaanse letterkunde voed.

Ek wil daarom eerstens elkeen van die skrywers wat vir die kompetisie ingeskryf het, bedank vir hul bydrae. Dankie dat jy pen op papier gesit het en sodoende uiting aan jou gedagtes gegee het. Ons waardeer dit opreg.

Uit die 180 inskrywings is 25 verhale gekies om ingesluit te word in hierdie pragbundel met die titel WYS. En volgens alle aanduidings lewer hierdie versameling ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse kortkuns.

Dan is daar natuurlik een wenner van die kompetisie, die kersie op die koek van wat beloof om bekend te staan as een van Suid-Afrika se toonaangewende literêre kompetisies.

Vir die deelnemers wat vanaand hier is om in afwagting te hoor wie die wenner van die 2017 US Woordfees-kortverhaalkompetisie is, wil ek graag Napoleon aanhaal:

In oorwinning verdien jy ’n dop.

En met die aanhoor van verlies, het jy dit nodig!

Nogmaals dankie aan die organiseerders van die US Woordfees vir die geleentheid om tot jul skouspel van woorde by te dra.

Aan diegene wat ingeskryf het: ons bedank julle vir jul sweet agter die rekenaar en vernuf met woorde – nadat ek die gehalte van sommige van die inskrywings gesien het, weet ek ons gaan ons maar by wynmaak hou ...

Daar is verstommende kortverhale vir hierdie kompetisie geskryf, en as gevolg van die inisiatief van die Woordfees is die taal waarskynlik ryker na afloop hiervan.

Ek vra dat julle saam met my ’n glasie lig en drink op die gesondheid van die US Woordfees, die stand van die Afrikaanse woord en die genot wat jul woorde en ons wyn aan die wêreld mag verskaf.

Baie dankie en geniet die res van die aand saam met ons.

The post US Woordfees 2017: Bekendstelling van die kortverhaalbundel Wys appeared first on LitNet.

Sulamiet deur Lina Spies, ’n resensie

$
0
0

Sulamiet
Lina Spies

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316476

Wanneer mens oor die literatuur skryf, is daar – en dit moet so wees – voortdurend ’n bewustheid van nie net wát geskryf word nie, maar ook hóé daar geskryf word. Die een ingesteldheid wat alle mense wat met die literatuur omgaan, geleer het uit die hipertrofies teoretiese fase van die laat 20ste eeu, is die onvermydelike inwerking van vertrekpunte en teoretiese aannames wat korresponderende oogmerke en maatstawwe bied en selfs afdwing. Dit kan selfs teoreties geregverdig word om met baie spesifieke oogmerke te lees en te ontleed, al beteken dit dat ’n teks buite sy tyd en teen die grein van sy eie intensies in gelees en beoordeel word.

Maar elke ervare leser van gedigte en verhale van alle soorte weet ook dat die huis van die literatuur baie wonings het. Die moontlikheid bestaan gewis dat dit verskraal of reduseer word tot enkele aspekte wat binne daardie teoretiese diskoers relevant is. Dit kan egter wel meebring dat die ryk wêrelde wat in tekste opgesluit is, nie volledig ontgin word nie. Hiermee betoog ek nie dat mens nie teoreties moet of mag lees nie. Dit is onvermydelik dat vertrekpunte en aannames so geïnternaliseer is dat mens soms nie eers meer daarvan bewus is nie. En ek weet baie goed die enigste verweer teen teoretiese dwalings is om jou vertrekpunte en aannames te herken en te erken, om dit uit te pak en op die tafel te sit, dit eksplisiet deel te maak van die gesprek, voordat jy aan die skryf raak oor ’n teks.

Die manier van lees op ’n bepaalde historiese moment, sowel literêr-histories as teoreties, kan egter wel verhoed dat bepaalde skrywers tot hulle reg kom. Ons weet almal van die groot foute wat histories gemaak is op grond van ideologiese lesings en waardeoordele en ons weet almal dat dit steeds en tans opnuut weer gebeur. Die werklik groot skrywers styg altyd uit, maar dit vergoelik nie altyd die mindere aandag en erkenning vir die groot gros skrywers wat eintlik die korpus van die literêre uitset uitmaak nie. Die hoë premie wat op vernuwing geplaas word, op literatuur wat lesers tot stilstand skok omdat dit nuut en anders kyk of klink, is heeltemal in orde, maar baie digters en skrywers val deur hierdie sif en die ware poësieliefhebber moet hiervan bewus wees. Soos wat poësie dikwels buite tyd val, ómdat poësie dikwels buite tyd val, moet lesers ook buite tyd kan lees, buite die maatstawwe van die oomblik, die modes en die dwang van ’n bepaalde historiese moment.

Hoe meer ek lees, hoe meer besef ek wat ’n oop gemoed teenoor literêre tekste behels. Hoe meer weet ek wat ’n geweldige opgawe dit is om elke teks binne sy eie reg te probeer verstaan. Dit bly ’n verkenningstog van onbekende wonings en die naspeur van kronkelende paaie. Al wil en kan en moet lesers soms vir bepaalde doeleindes lees, met ’n spesifieke opset, hetsy akademies of teories of histories, moet die toegewyde leser ook bereid wees om die skrywer te volg met nougesette aandag – dit is sowel die byna onbereikbare eis aan, as die geweldige voorreg van, die leser. Maar die ervare leser sal onteenseglik uiteindelik besef dat dit is waarom skrywers skryf en lesers lees, naamlik om ’n gesprek tussen die gees van die skrywer en die gees van die leser te laat gebeur.

Dit was met hierdie ingesteldheid dat ek Lina Spies se Sulamiet gelees het. Spies het ’n uitgebreide oeuvre, maar sy is nie ’n radikale vernuwer nie en die bundels is nie almal met ewe veel entoesiasme ontvang nie. Juis daarom wou ek die bundel met aandag lees, met dié soort aandag wat poog om die ontwikkeling van elke gedig nougeset te volg soos wat ek gedigte van digters uit ander taalgebiede sou lees, sonder om vas te val in die literatuurhistoriese en teoretiese gesprekke wat die digter se werk kan toespin.

By die lees van Sulamiet dwing die oorspronklike definisie van liriek sigself aan die leser op. In al die standaard literêre woordeboeke en ensiklopedieë is die kern van die historiese siening van die konsep liriek dieselfde. Net soos MH Abrams, Harry Shaw, die Encyclopedia of Poetry and Poetics en talle ander beskryf Grové liriek in sy suiwer en oorspronklike vorm as “subjektief …’n (gewoonlik betreklik kort) gedig waarin ’n persoonlike stemming of belewing, dikwels belydend, tot uitdrukking gebring word” (in TT Cloete (red), Literêre terme en teorieë, 1991:256). Nou wonder ek of ons nie ter wille van die opwinding van lees en ontleed so sterk konsentreer op die verbreking van die liriese kode, hetsy tegnies of ideologies, dat ons die bestaan van die oorspronklike manifestasie van die literêre soort nie meer raaksien nie. (Mea culpa, want is ek nie die een wat narratiewe strukture en tegnieke in liriese poësie ondersoek het juis om die spanning tussen liriek en epiek in gedigte te vind nie?)

Lina Spies se poësie was nog altyd belydend en meditatief; dit was nog altyd persoonlik gekleur en mild verwoord; dit is poësie van ’n sagte stem, van inlewing meer as deklarasie, van nadenke en vraagstelling meer as van ontmaskering en geveg. Spies is ’n digteres van liriese verse in die klassieke sin. En Sulamiet is nog eens op ’n hoogs leesbare en ontroerende wyse ’n liriese bundel in die volle sin van die woord.

Sulamiet is ’n kindernaam uit die Bybelse tyd en dit het beteken “vredevol”, “perfek”, “een wat vergoed of goedmaak”. Die meer bekende gebruik van die naam kom uit die Bybelse Hooglied waar die “Sulamitiese vrou” wat dans, deur die koning as sy geliefde besing word. Terloops, sommige Hebraïci is van mening dat sulam en sunem sinonieme is, sodat die woord sulamiet ook ’n verband kan lê met die jong vrou uit Sunem wat Dawid se voete warm gehou het, en selfs met Salomo se eerste vrou, wat ook ’n Sulamiet was (daar word selfs bespiegel dat hierdie twee figure dieselfde vrou was).

In hierdie bundel is die betekenis van Sulamiet wat die duidelikste geaktiveer word, dié van die verlangende geliefde van Hooglied 1:2, die meisie wat verlang na die soene van die geliefde. Dit word hier egter deur meer as een gedig in die bundel verder toegelig as ’n onvervulde verlange: daar is ’n soekende, onvervulde geliefde, sodat die term inderwaarheid ook ’n ironiese betekenis aktiveer. In die gedig “Belydenis van ’n Sulamiet” (41), die enigste gedig wat met sy titel die titel van die bundel eksplisiet oproep, word in teenstelling tot die betekenislose soene waarmee gegroet word, verlang na die soene van die geliefde, daardie unieke geliefde na wie die spreker se “nephesh” verlang. Volgens woordeboeke omvat die woord nephesh in Hebreeus ’n aantal betekenisse wat die werklike siel, die bestaan self, die wese van ’n mens en fasette daarvan beskryf: “siel, lewende wese, lewe, self, persoon, begeerte, passie, aptyt en emosie”. Die verlange groei dus uit die diepste kern van die spreker in die gedig en die digter soek na die geliefde in baie van die verse. Dit is veral in die tweede afdeling van die bundel die geval, aangesien dié deel van die bundel spesifiek liefdesgedigte bevat. Dit is egter nie tradisionele liefdesverse nie, maar eerder ’n bespiegeling oor wat die liefde is en kan wees, soos die motto van ee cummings suggereer:

love is the voice under all silences,
the hope which has no opposite in fear;
the strength so strong that force is mere feebleness:
the truth more first than sun more last than star.

In dieselfde mymerende en bespiegelende toonaard bevat die bundel in hierdie afdeling verse van eensaamheid, maar ook verse van kompensasie, soos in “Spel” (43), waar die digter haar op haar verbeelding beroep om ’n wonderwêreld van liefde te skep. Dan betoog sy teenoor haarself dat sy dalk voorkeur moet gee aan “die liefde wat mens vriendskap noem,/ omdat dit meer bestand is/ teen die wispelturigheid van die hart”. In die baie mooi slotvers van die gedig verwoord die digter haar siening oor die liefde, die tydtransenderende werking daarvan, maar ook die hoop daarop:

Ek is van niks meer seker nie
behalwe dat die liefde
sinoniem is met tydloosheid
en dat as ek lief het, ek bevry is
van die kalender se heerskappy
en dat die winter onvoorsiens
omslaan in ’n opslagsomer.

Al sien die digter haarself as die Aspoester (39), al wens sy haarself nuutgeskep (40), al sien sy alle tekens van vriendskap as liefdesgeskenke (46), al besef sy “(o)m nog ’n liefdesvers te skryf,/ is dalk vir een leeftyd een te veel”, wat eintlik alles eensaamheid en kompensasie uitdruk, bly sy glo in die liefde.

“Hipotese” (45) gee in aansluiting hierby uitdrukking aan ’n gelate relativerende siening van liefde:

’n Laat liefde is dalk altyd bedoel
net vir onpaar maats:
twee eensaamhede wat mekaar bewaak
soos wat ’n halfmaan
in ’n helder poel weerkaats.

Die afdeling sluit egter af met ’n gedig oor Rodin en sy leerling en geliefde, Camille Claudel (“Die ewige idool”, 47). Die gedig verwoord pragtig hoe Rodin en Claudel se liefde en drif hulle in staat stel om kuns te skep: hulle beelde word “uit marmer en klei” geruk “in die strik van vlees en bloed”. Die gedig eindig met die suggestie dat volmaakte liefde net in die kuns kan bestaan:

… glo ons in die ewige liefde
wat net kunstenaars vergestalt.

Hierdie bundel is egter geensins net ’n bundel met verse oor en om die liefde nie. Allermins. Hoewel die bundel deurgaans gebind word deur deurlopende temas, fokus die verskillende afdelings op bepaalde aspekte. So is tyd en die teenoormekaarstelling van jeug en ouderdom ’n tema wat telkens in ’n ander gedaante na vore kom. En telkens, soos by die liefdesgedigte, word vervreemding en weemoed getemper deur hoop. In die aanvangsgedig word die ouderdom gerelativeer:

Besef

Dalk word die kreeftegang van die ouderom
in die aandbries soms ’n wandeling
saam met ’n onvervreemde God
in die tuin van ’n ontwakende aardse lente
en hoor jy skielik ’n voël
sing soos by oggendskemering.

Die onderliggende en vraende beskouing van religie, ’n soort versugting byna, is in hierdie vers, soos in baie ander, merkbaar. Hiermee saam kry mens die digter se intense natuurbewustheid. ’n Fyn aanvoeling vir die natuur, die seisoene, die tye van die dag, die geluide en kleure, is deurgaans ’n sterk kenmerk in bykans al die verse (vgl “Oggend”, 15; “Estetika”, 26; “Herlewing”, 27; ”Beskutting”, 29). Daarmee saam, soos in die gedig “Besluiteloos” (14) geïllustreer, is daar deurlopend die soek na en vind van uitkomste en hoop in die kunste. Wat my opval, is hoe in die gedigte van Spies, ’n deurwinterde digter en ervare mens in die wêreld van die kunste, verskillende verwysingsvelde en belewenisse werklik diep ineengegroei is. In “Beskutting” (29) word die Stellenbosse winter ’n “Hollandse sewentiende-eeuse stillewe” ’n “akwarel” van beskutting teenoor die fel somer “wat niks verdoesel en teen smart/ geen beskutting bied”. In “Himne aan die herfs” (28) is die digter se eie herfservaring volledig vergroei met Keats se “Ode to Autumn”. Die manier waarop die wêreldliteratuur en -kuns saampraat in die gedigte is vir my iets anders as óf allusies soos by Eliot óf intertekstualiteit in teoretiese sin.

Miskien het ons ’n ander term nodig, ’n term wat ineengestrengelde en vergroeide kennis, eintlik wete meer as kennis, op die vlak van belewenis beskryf. Die meeste skrywers weet nie eers meer dat, of hoe, hulle wéét van dinge nie – dit het belewing en bestaan geword. En waar lê die onderskeid tussen belewing, menslik-gedinkte en -bedinkte sien en hoor en emosionele ervaring en reaksie aan die een kant en taal en literêre vormgewing aan die ander kant? In veral die poësie is daardie onderskeide baie vaag en ineengevloei.

Spies skryf inderdaad persoonlike verse, gedigte oor mense wat sy geken het, mense wat merkwaardige dinge oorgekom het of mense wie se lewens haar aangryp. Die toonaard van Spies se digterlike verwondering en bespiegeling oor lewensvraagstukke sluit dikwels op verskuilde wyse aan by digters soos Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Waar Eybers meer intellektueel en tegnies met byna matematiese presisie skryf, verwoord Dickinson haar vrae oor onreg, oor smart, oor die gang van die menslike bestaan tegelyk trefseker en stamelend op haar unieke manier. Spies maak ’n vrye vertaling van Dickinson se gedig “I measure every Grief I meet” – ’n erkenning van en waardering vir hierdie merkwaardige digter. Dit is dan ook ’n uiters geslaagde vertaling wat op sigself ’n nuwe treffende gedig in Afrikaans is.

Vir hierdie soort digters gaan die lewe juis oor die klein ervaring, oor reaksie op klein kwellinge en herhalende universele menslike ervarings: die digter moet te rade gaan met die wete dat ’n kind of jongmens voortydig gesterf het, of ’n vriend aan breinkanker, of ’n vriend in ’n ver land. Net so sal die digter haar onvolkome verhouding met haar eie moeder vanuit haar eie kinderloosheid vir haarself probeer beredeneer. Dit gaan nie altyd om grootse sake nie, maar juis om die liriese uitdrukking van die subjektiewe ervaring.

Tog word Spies ook aangegryp deur sake wat in ’n groter, wyer wêreld afspeel. In die vierde afdeling in die bundel kom haar religieuse aanvoeling en haar bemoeienis met historiese en sosiale onregte bymekaar. Die vertaling van Celan se “Todesfuge” lei hierdie afdeling in en dan volg daar verse oor verskillende vorme van verlies en skending. In “Verlies” (61) gaan die digter se belewenis van ’n besoek aan ’n uitwissingslokaal oor in ’n bespiegeling oor die verlies aan die ware inhoud van die Christelike boodskap by mense wat vergrype pleeg. In “Die weerloses” (64) gaan dit oor vergrype gepleeg teenoor kinders, spesifiek klein dogtertjies, oor hoe mens met “die een wat ’n brose kleintjie skend … geen raad” weet nie. Dit is duidelik dat die digter diep besin oor wie en wat Jesus is, op sigself en vir mense, maar wat wel opval, is dat die digter wel oplugting soek en vind, enersyds in ’n Jesus wat “sy glas lig en sê ‘L’chayim’” en in die gawes wat God aan kunstenaars gee, aan die violis Zuckerman of die komponis Mendelssohn of die sangeres Cecilia Bartoli. Desnieteenstaande ervaar die digteres God nooit as ’n maklike uitweg of antwoord nie, maar juis in terme van alles wat sy nie kan beheer nie: “God is in my woordeloosheid” (“Transendent”, 76).

In die laaste afdeling word die fokus nouer getrek, na die digter se eie Suid-Afrikaanse omstandighede, en uit hierdie verse kom ’n lament voort oor die verlede, maar ook oor die hede van hierdie land. Ouer digters kon plekke van herkoms in liedere besing, maar nou heers onvrede en daar is steeds oral brand. Alle plekke is aangetas deur ontnugtering en verwoesting. Dan kan mens dalk vra wie in hierdie vers werklik die “agtergeblewene” is (79). Dit neem moed om in die huidige Suid-Afrika openlik vrae te vra oor die vernietiging van die hoop van 1994, maar die digter skram nie weg van óf die diere wat in plakkerskampe saam met eiendom en mense se ganse leeftog verbrand óf van die verlies van mense wat Afrikaans op hulle hart dra nie. Die digter gee toe “te veel van my verse/ was pleisters op eie wonde” (83) en erken die vergrype van die verlede, maar sy treur oor die feit dat mense in hierdie land mekaar steeds nie in die oë kan kyk nie en vervreemd raak: “ek … sing nou my versuimde treursang” (84). Tog sluit die bundel af op ’n positiewe noot as die digter beskryf hoe Randall Wicomb se broer nou tog uit die skaduwee van ’n beroemde broer uit in “die sonlig van die nuwe suid-Afrika” kan instap.

In hierdie laaste afdeling van Sulamiet verwoord Spies die gevoel wat tans meer algemeen is as wat mens graag sou wou hê, naamlik die teleurstelling en spyt oor verspeelde kanse, nou weer vir die soveelste keer in die Suid-Afrikaansse geskiedenis. Dis of daar telkens net nuwe slagoffers is. En tog word daar vasgehou aan hoop, word die positiewe steeds genoem, is daar steeds die behoefte en drang om die positiewe te stel en te bevestig.

Hierdie bundel is Lina Spies se oeuvre waardig. Die verse is inhoudelik veelkantig en deurdag. Tegnies is dit helder en ongekompliseerde verse, eenvoudig en direk in struktuur en segging. Hier en daar verloor ’n reël sy spanning as gevolg van die gelykmatige praattoon, maar dit val my tog op dat die verse ritmies steeds voortstu en so die dieptepunte oorkom.

Wat genoem moet word, is dat hoewel die bundel tematies aansluit by Spies se vorige werk, die verse tog opnuut tref. Dit gaan weer eens oor die digter se eie bemoeienisse, oor menslike smart vanweë kleiner en groter sake, die voortdurende menslike strewe om te begryp, die mens se behoefte om te huil en te troos, al is dit selftroos. Maar hierdie temas is in werklikheid die bemoeienis van die meeste digters van alle tye. In hierdie bundel val Spies se fokus spesifiek op die verwerking van smart, veral die smart oor kinders en vriende. Die digter staan midde in die natuur vir elke belewenis; sy bemoei haar opnuut met die lot van die Jodedom (vgl ook haar baie geslaagde en oortuigende vertaling van die dagboek van Anne Frank). Sy dink steeds in terme van die kuns in al sy vorme, maar die skryf self geskied met ’n onfeilbare aanvoeling vir die taal in al sy eenvoud en direktheid, sy vloei, sy klank en sy ritme. En daaruit kom ’n ryk mosaïek van verse voort.

Die bundel is netjies versorg met ’n omvoubuiteblad met ’n mooi ontwerp, en is uitgegee deur Naledi.

Mag vele lesers vreugde hê aan hierdie bundel liriese poësie.

The post Sulamiet deur Lina Spies, ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 21802 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>