Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21877 articles
Browse latest View live

Huis, woning, tuiste: Hester van der Walt se inskrywings

$
0
0

Tuiste

In die hart van my huis is baie wonings:
’n tuiste van boeke met deure van blaaie.
In die huis van my hart is baie wonings −
ek het vir ons ’n skuilplek gaan berei.
Ons hoef nooit weer uit te gaan nie,
die eindes van die aarde kom na ons
deur boeke wat flenters gelees is,
waar riviere van woorde opstoot en oorloop
met watermerke en opdrifsels teen die mure.

My hartkamers het ’n steil trap na die kelder
waar donker woorde soos fok en haat en dood
vretend uitsyfer uit dagboeke met vergete datums.

Daar is ook ’n wenteltrap na die solder
waar herinneringe soos droëperskes
wag vir ons onthou en herkou oor my en jou:
in kartonbokse met albums vol kiekies
en skoenbokse vol Kerskaarte en poskaarte.

Lief, in die boeke van my huis is baie wonings:
ek het vir ons brood en wyn gaan voorberei.
Kom maak jou tuis waar alle woorde soos vlamme brand
en die Suidoos van gister aan die vensters klop.
Kom maak jou tuis in die huis in die hart van my huis,
kom blaai deur my lyf en sit jou boekmerk in
waar jou naam en myne saam geskryf staan,
geboekstaaf in die huis van my hart se baie wonings.

 

Geboorte

In die huis van die haarkapper
hang ’n draadmandjie in die hoek
Onder uit die baarmoeder van klapperhaar
Swel ’n orgidee in volle blom
Die spikkelkelkblare hang in ’n tros
Aan groen naelstringstingels
Liggeel vlinders wat enige oomblik
Kan losvlieg en op jou skouer kom sit
In die huis van die haarkapper

 

Die blou huis

Ma vat altyd ’n bord kos
vir die oom oorkant die straat
hy en die antie het baie op die stoep gesit
toe gaan sy hospitaal toe
en kom nie terug nie
die goeters in die huis is baie blou
want die antie het van blou gehou
nou is die oom se baard so lank
sy snor groei oor sy lippe
en hy is bangmaakmaer
die gang na die kamer waar hy lê
ruik na ou piepie en sweet
en as Ma daar was ruik dit na pine gel
en macaroni cheese en malvapoeding


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Hester van der Walt se inskrywings appeared first on LitNet.


Huis, woning, tuiste: Op soek

$
0
0

Op soek

Die slimmes spekuleer ons is spoke,
beendere beklee met vleis, op reis deur ruimte.

Maar dié is nié my huis …

Hierdie planeet is afskuwelik siek,
bedek met die duiwel se parasiet.
In die agtergrond speel grunge katslag-musiek
en die mensdom is sy eie selfvernietigende masjien.

Ek is ’n uitlander hier.
’n Swerwer op soek na ’n ander dimensie,
een waar haat en kwaad nie aan my siel kan grens nie.
Waar ek kan laat gaan van gebalde vuiste,

Ek soek en ek smag na my tuiste …

Totius het gesê: “Die wêreld is ons woning nie.”
En die Prediker bespiegel dat alles kom tog tot niet
en ek vra myself: “Wat doen ek dan hier?”


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Op soek appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Janie Davel se inskrywings

$
0
0

Woorde

As dit woorde word uit my rooiwyn mond
en ek soen weer die liefde met afwagting

As die sout van my trane uit my hart se oseaan

keer

op

keer oor my wonde spoel
dan voel ek die lewe asof alles te veel is

Maar dis daar waar my hart klop
En my asem my naam onthou

Maar ek sluk soms my woorde
Ek laat dit bloei op papier
Want my hart se huis is die woorde in sy kluis

Ek skryf met ’n wens om te vergeet en te onthou
My woorde bloei oor diep berou
En ek soen weer die lewe as hy sy arms om my vou

 

Ek wag

Ek wonder of jy my maar net sal liefhê
en ’n plekkie in jou hart sal regmaak vir eendag?

Sal jy jou vingers oor my seer kan trek
en sê dit is verby want jy is by my?

Sal jy ’n huis bou waarin ons liefde kan woon?

Laat my oor jou lippe spoel
Soen my asof jy dit bedoel
Gee my jou trane
Gee my jou seer
Oor elke grens en soveel meer

Want my oë dra die water van wat my lippe nie kan sê
Sal jy my trane jou toevlug maak?
Vir my veg?

Ek breek vir net een woord,
vir een kyk van jou oë

En wag …
vir ’n somersdag

 

Dans in my hartskamers

Blaas jou hooglied oor my lyf
Gee jou asem vir die dans van die liefde
Dans jou passie in die kamers van my hart
Spoel jou woorde oor my

Want jy vloei soos wyn deur my are
Jou asem is my huis
Dit is hier waar ek wil lewe
en ons liefde vir die wêreld wys

As my lippe op joune lê
word die woorde wat ek nog wou sê
skielik niks,
eintlik min, my lief,
as jy my so bemin

 

Belofte in die kaggelvuur

As die lewe my longe vul
verf ek sy skoonheid op my hart se skilderdoek
Afwagting dans in elke kleur
En my sielskleed lewe onder die ligte

As die liefde my versadig met heuning uit haar mond,
skep die kaggelvuur weer vir my ’n tuiste
terwyl elke ster geduldig wag vir sy beurt om met die maan te dans

 

Hartsbundel

Ek wil jou in ’n gedig ombou
Sal jy dans met my diepste vreugde?
Mag ek jou oë deurboor in die middernag se stilte
en jou in my hartsbundel toevou?

Ek wil hê jy moet my ken
waar ek my woorde neerpen
Waar ek skryf oor liefde en leed,
En waar ek loodswaar vlug van dit wat ek wil vergeet

Laat my ’n gedig uit jou asem kerf
terwyl ek jou lewe se kwas in my liefde doop
en vir my en jou die horison verf


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Janie Davel se inskrywings appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Ons tuiste

$
0
0

Ons tuiste

Mamma dit voel ek het jou nou net gemis
toe ek gaan stilstaan en in my
voetspore vastrap. Die huisie is leeg
as ek by die bure staan.

Daar waar ek kon lag en myself
wees elke dag. Daar waar ek kon 
spoeg en plak en die drade aan
mekaar haak. Daar waar ek drome kon 
uitlê wat dalk eendag mag wag.
Dis ’n woning. Ons tuiste en al was die
pad soms hard en ver, het jou hande
vir my gewerk. Jy het my daar gebêre 
onder jou vlerk en my met jou moeder-
liefde gemerk. As ek weer kon sou ek
die lego’s uit my boks uit gooi en die 
bure oorkant se kinders vir koffie nooi.
Daar waar ons laat aande die hark se tande kon breek en die klippe uit die grond uitsteek. Ek onthou die laat aande
lag en die beker koffie op die kombuis-
tafel wat wag.
Daar vind ek nog altyd my tuiste. Daar waar jou hart na my sou luister.
’n Woning wat deur geen woord beskryf kon word nie. Jy was lief vir my. Oneindig lief. Ek was jou enigste kind. Jou hartedief en so verlang ons almal na ’n tuiste waar ’n nuwe dalk mag wag.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Ons tuiste appeared first on LitNet.

Jackal and the Wind: "Ons doen dit net vir pure genot"

$
0
0

Die Stellenbosse rockgroep Jackal and the Wind het al grootskaalse sukses geproe met hul enkelsnit "The ukulele song", en het onlangs ’n splinternuwe lied vrygestel. Christopher Kruger, hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Christopher. Hoe's dinge?

Dit gaan goed dankie! Ons het nou net van toer afgekom, so ons is almal nog in herstel-mode.

jw1groot

Geluk met julle jongste single, "The people sing", wat onlangs vrygestel is. Dis ’n heerlike saamspringer/saamsinger, met ’n ooglopende (oorlopende?) samesnoer van genres – onder meer val dit gemaklik in die breë indie folk-aanslag, ook met ’n onmiskenbare mbaqanga-kopknik. Dis ook die eerste nuwe snit wat julle in ’n lang tyd vrystel. Hoe het die lied ontstaan en ontwikkel, en in hoe ’n mate dien dit vir julle as ’n rigtingaanduider – iets wat sê “Dís wat julle voorts van Jackal and the Wind kan verwag, dís hoe ons terugkeer”, en dies meer? Of hoe sou jy die opbou tot die vrystelling beskryf?

Ek het “The people sing” een aand by ons huis in die Paarl geskryf. Ek en my broer Peter hou jaarliks ’n kuier vir al ons vriende by die huis. Op die aand het ek in die woud gaan lê en begin dink aan hoe min ek eintlik by die partytjie wil wees. “The people sing” was vir ons ietwat van ’n waagkans – dis die eerste snit wat so baie "township-folk" invloede het, maar ek dink ons het dit goed reggekry om te eksperimenteer, maar terselfdertyd eg aan Jackal and the Wind te bly.

In dieselfde asem: “The people sing” het beslis ’n ander gevoel as jul vroeëre vrystellings, ’n ander benadering ... byna asof daar ’n wil is tot meer kompleksiteit of intricacy wat betref die arrangements, lirieke en dies meer. Is it ’n akkurate waarneming? Hoe sou jy Jackal and the Wind se huidige headspace beskryf, vergeleke met waar julle twee, drie jaar terug was? Dis nou in terme van hoe julle liedere gebore word, hoe dit afgerond word, en hoe julle dit op die ou end op ’n verhoog onvergeetlik wil maak?

Ons het beslis verander sedert twee tot drie jaar terug. As ek skryf, vorm my omstandighede ’n groot deel van my kreatiwiteit en my inspirasie. Ons het onlangs by Digital Forest Studio begin opneem en ek dink ons producer, Andrew Rawbone-Viljoen, speel ook ’n groot rol in hoe ons finale produk uitkom. Ons is rêrig bevoorreg om die studio aan ons kant te hê.

Die bogenoemde indie folk-genre is natuurlik een wat nou al vir ’n wyle wêreldwyd groot aanhang geniet, veral sedert kêrels soos Mumford, the Lumineers en so aan die deure na die hoofstroom oopgeskop het. Wat laat Jackal and the Wind uitstaan van die res, dink jy? Met ander woorde, wat kry mense by ’n Jackal and the Wind-gig wat hulle nêrens anders kan kry nie? Is dit iets waaroor julle tob, of is dit bloot ’n geval van doen wat julle wil en kyk waarheen dit alles vloei? Hoe kry ’n mens daai balans reg?

Die hele band is baie lief vir musiek maak. Ons doen dit vir geen ander rede as vir pure genot nie. Ons klassifiseer onsself nie onder een spesifieke genre nie, maar bring alle elemente van musiek by ons liedere in. Ek dink ons is iets uniek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en wanneer ons oorsee begin toer sal ons tot ’n goeie mate Suid-Afrika se unieke musiek kan verteenwoordig.

Julle het ’n massiewe treffer gehad met "The ukulele song" – in hierdie stadium het dit byna ’n kwartmiljoen plays op Soundcloud. Dit wil gedoen wees! Waar en hoe het "The ukulele song" ontstaan, en hoekom dink jy is dit so gewild? Het jy verwag dit gaan so goed doen? Het die sukses daarvan vir julle ’n paar deure oopgemaak, of hoe onthou en beskou jy die saak?

Ons het eerlikwaar nie verwag dat dit so goed gaan doen nie. Ons beskou “Ukulele song” as die een liedjie wat ons op die map gesit het. Ons het ’n lekker groot fan base daarvan af gekry, en waar ons nou is, is grotendeels te danke aan dié liedjie.

Dis interessant dat julle die roete kies van geleidelike aanlyn vrystelling van nuwe songs. Natuurlik verkies baie jong bands dit; ander kies om altyd te gaan met ’n gedrukte EP of ’n vollengte-album. Wat dink jy is die voordele van sporadies elektronies vrystel, en die nadele daarvan? Ditto vir die album- of EP-roete? Sal Jackal and the Wind in die toekoms nog met ’n ander roete eksperimenteer? Of in watter rigting dink jy beweeg die musiekbedryf?

Ons het nou onlangs by Digital Forest Studios begin opneem. Daar is ’n baie groot aanvraag vir nuwe musiek van ons aanhangers, so ons het besluit om ’n paar liedjies aanlyn vry te stel. Daar is wel groot planne vir ’n vollengte-album vroeg in 2017!

Gepraat van die bedryf ... Dis uiteraard nooit maklik om ’n vinnige, sterk en blywende impak te maak nie, en waarskynlik is dit nog moeiliker in Suid-Afrika. Hoe ervaar jy die plaaslike bedryf in terme van toeganklikheid en gehalte sedert Jackal and the Wind se ontstaan in 2013? En die Suid-Afrikaanse musiektoneel vandag ... Wat suig daaromtrent, en wat is kief? Wat dink jy is julle plek op hierdie toneel, en hoe sal jy die toneel wil sien verander in die volgende paar jaar?

Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is verskriklik moeilik. Daar is so baie talent daar buite en so baie bands wat dit probeer maak – maar daar is nie genoeg ondersteuners nie. Daar is te min mense wat ’n Vrydagaand in die klub sal wegwys vir ’n Vrydagaand waar hulle ’n plaaslike band kan ondersteun. Ons is baie geseënd in Stellenbosch, juis omdat ons ’n sterk fan base daar het en hulle sal ons ondersteun deur dik en dun.

Ek dink van ’n band se kant af sal ek meer ondersteuning van die publiek wil sien. Ons het mense nodig wat die CD’s koop, en die T-hemde koop en na die meeste van die vertonings toe kom. Dit vat baie tyd en energie om ’n band te vorm, en daar is selde beloning daarvoor.

Julle het onlangs teruggekeer van jul "Finding Home"-toer, wat gigs van die Paarl tot Pretoria ingesluit het. Hoe was die toer? Enige hoogtepunte, en enige haakplekke? Watse gigs of ongewone gebeure op toer staan tot dusver vir jou uit as hoogtepunte (en laagtepunte?) in Jackal and the Wind se drie jaar lange geskiedenis?

Die toer was ongelooflik lekker. Dis die eerste keer dat die band saam toer en ek dink dit is al lank overdue. Dit was ’n baie goeie week vir die band in sy geheel, veral omdat ons mekaar beter leer ken het. Een van die hoogtepunte was dat al twee ons vertonings in Paarl (opeenvolgende vertonings) uitverkoop het. Ons ondersteuners is die beste en sonder hulle sou ons nooit ons passie kon uitleef nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Jackal and the Wind, en vir Christopher Kruger?

Ons bring ’n vollengte-album uit in die volgende paar maande en ons beplan twee toere in die nuwe jaar. 2017 gaan vir Jackal and the Wind ’n groot jaar wees, ek hoop Suid-Afrika is reg daarvoor!

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe is om jou passie elke dag tot die beste van jou vermoë uit te leef.

The post Jackal and the Wind: "Ons doen dit net vir pure genot" appeared first on LitNet.

Spore van verwoesting na Boland se brande

$
0
0

Soos in ’n surrealistiese rolprent het Bolanders in die Wes-Kaap sedert verlede week daagliks magteloos toegekyk hoe hulle geliefde omgewing deur ’n see van vlamme verswelg word.

Van Grabouw in die Overberg waar die eerste brand ontstaan het tot by Somerset-Wes in die Helderbergkom, Jonkershoek in Stellenbosch tot by Dal Josefat in die Paarl het die inferno voortgewoed en sy spoor van verwoesting oral in die Boland se berge gelaat.

Een van die historiese bakens wat in die brand verwoes is, is die huis waarin die skrywer Totius grootgeword het.

www.sullivanphotography.org

Drie ander gedenkwaardighede, die Hugenote-gedenkskool, die Malherbe-huis en ’n geskiedkundige begraafplaas het die vlamme wonderbaarlik vrygespring.

Bekende bakens soos die luukse Bezweni Lodge teen die Hottentots-Hollandberge in Cape Nature se Hottentots-Holland-natuurreservaat naby Sir Lowryspas het heeltemal afgebrand.

Van die historiese Augusta-Kleinbosch se pragtige herehuis in Dal Josafat by die Paarl is net murasies oor.

Skaars twee maande gelede het ons nog op die lowergroen gras saam met die eienaar van die historiese Du Toit-huis gekuier na die jaarlikse Skerpskryf skeppende Afrikaanse skryfkompetisie vir Afrikaanse leerders by die Hugenote Gedenkskool skaars honderd treë van die afgebrande herehuis af.

du-toit-huis

dutoit_jeanoosthuizen

Die Hugenote Gedenkskool langs die herehuis is die Afrikaanse skool wat in 1882 gebou is. Dit het die brand wonderbaarlik vrygespring.

Die skool het moedertaalonderrig verseker vir kinders van die boeregemeenskap van Dal Josafat en Klein Drakenstein. DF du Toit (Oom Lokomotief) was die eerste onderwyser. Onder meer die skrywers JD du Toit (Totius), AG Visser en DF Malherbe het daar skoolgegaan.

Dit is in 2001 gerestoureer tot sy oorspronklike vorm en word sedertdien vir konferensies en as gastekamers gebruik. Die lesinglokaal word as slypskool en konferensiesentrum vir die bevordering van Afrikaans benut.

Van die pragtige herehuis langs die skool wat in 1792 deur die Hugenote-familie Du Toit gebou is, het net ’n murasie oorgebly. DF Malherbe, ’n bekende joernalis en digter, het ook sy Victoriaanse huis op Kleinbosch gebou. Dit was dié twee families se seuns wat Die Hugenote Gedenkskool daar gebou het.

sullivan4

www.sullivanphotography.org

Soos in ’n oorlogsone het inwoners in die brandgeteisterde gebiede mekaar dag en nag op sosiale media op hoogte gehou van die vlammesee wat langer as ’n week byna sonder ophou deur sterk stormwinde voortgedryf is.

“Jy wonder: Moet jy jou bonsais of jou skilderye red?” het Willem Pretorius, ’n inwoner van Rome Glen in Somerset-Wes aan Netwerk24 gesê terwyl hy na die brand sowat 50 m van sy huis af kyk. Hy was een van verskeies wat gereed was om te ontruim indien nodig, maar wie se huis gespaar is.

Ander was minder gelukkig en het alles verloor.

www.sullivanphotography.org

Dit is ’n onbeskryflike gevoel as dit helderoordag skielik skemer word en die son verdwyn in die donker rookwolke.

Teen aandskemer raak die voortdurende gedruis van die helikopters stil. Slegs die brandweerwaens se loeiende sirenes vertel die verhaal van die lekkende vlamme wat in die berge voortwoed.

Op Facebook word oproepe gedoen vir perdesleepwaens om die angsbevange perde in die omgewing se perdeplase na veiligheid te bring. Tientalle troeteldiere is deur weldoeners gered.

Almal in die omgewing volg die drama op sosiale media, want as die wind draai, is daar groter moeilikheid.

Toebroodjies, oogdruppels en bottels drinkwater is heel bo aan die talle brandslaners se wenslysie van noodsaaklikhede wat dringend benodig word.

Jean Oosthuizen

Inwoners stel hulle huise oop vir mens en dier. Hulp stroom van oral in.

Die eerste aand teen middernag waai die wind stormsterkte. Terwyl sommige van die inwoners teen die berg aangesê word om hulle huise te ontruim, word van die ontruimde huise deur vandale geplunder.

Radloffpark brand. Bezweni Lodge word as en groot dele van bekende wynlandgoede soos Vergelegen en Lourensford staan in ligte laaie. Die wind tier ongenadig voort en jaag die vlamme aan.

Teen ligdag weer die gedreun van helikopters wat gaan waterbomme gooi. Dit voel weer soos ’n oorlogsone.

Ek klim in my kar en ry in die rigting van Sir Lowryspas. Oral is brandweerwaens wat kom en gaan.

sir-lowryspas-onder

Jean Oosthuizen

Hier en daar 'n padblokkade om die verkeer weg van die brande te stuur.

Helikopters druis bokant my kop. Die een na die ander reën die waterbomme op die vlamme om die vuurspuwende monster te probeer tem.

By die brandweerstasie in die Strand ry mense onophoudelik proviand aan vir die brandslaners. “Nog oogdruppels en ys asseblief,” kom die boodskappe sonder ophou op sosiale media deur.

Strand, Gordonsbaai, Somerset-Wes, ons is almal een in Helderberg, troos die opskrif op my dorp se Facebookblad die inwoners.

Ek ry Wimpy toe en bestel 'n ekstragroot koppie koffie en 'n double-up ontbyt. Langs die Strand soek die vakansiegangers parkeerplek om te gaan swem. Die lewe gaan voort.

A City of Two Tales. Vir sommige “the best of times” en vir ander “the worst of times”.

Hier onder die gedruis van branders en daar bo die gedruis van helikopters.

'n See van branders en 'n see van vlamme.

www.sullivanphotography.org

Meer as 120 brandweermanne en vrywillige brandslaners veg ’n week lank sonder ophou teen die brandende monster voordat die nuus kom dat die brand onder beheer is.

Almal slaak ’n sug van verligting en glimlag vir die skoon blou lug bokant die Boland se berge.

Dan skielik weer die wind. Die inferno begin van voor af. Dié slag beur die vlammesee buite beheer oor die berge en klowe. Stellenbosch se koers in om sy verwoesting daar ook voort te sit.

Lugfoto’s wys ’n verskroeide aarde. Maar die Boland is my woning. Hy sal opstaan en weer soos ’n feniks uit die as herrys. Hy het dit al gedoen in die verlede en sal dit wéér doen.

Vra maar vir AG Visser wat skoolgegaan het in die Hugenote-gedenkskool wat die afgelope week se brand vrygespring het: “O Berge, ons vertoef hier net een dag; U staan so onverganklik vas en pal. En roep: ‘U dag is kort, O leef en lag; Vervul u rol, totdat die voorhang val; Dans voort tot die musiek verstom oplaas; En speel totdat die fluit die aftog blaas!’”

  • Kaapstad se spesiale ondersoekeenheid, die polisie, die brandweer en Sanparke is tans besig met ’n ondersoek om die oorsaak van onlangse brande in die Wes-Kaap vas te stel.

Die berge van die Boland
AG Visser
(Sonnet)

O berge van die Boland, wees gegroet!
Die swerweling aanskou u skoonheid weer,
Die voer hom t'rug na dae van weleer
En wek herinneringe wondersoet.
Hoe vul sy hart met weemoed en met vreug
By aanblik van u kalme majesteit!
Want agter u pers-bloue dynsigheid
Lê al die skoonste jare van sy jeug;
Toe met veerkragt'ge voet en held're oog
Die knaap, sig lawend aan die bergstroom klaar,
Geklim het tot die kale kruin omhoog;
’n Koning was hy toe, ag wis hy 't maar!
U roep – hy strek die hande uit – hy kom;
Die jare wyk – hy is ’n knaap weerom!

O Berge, duisend jaar in u bestaan
Is minder as by hom een vlugt'ge uur,
Sy lente was, helaas, so kort van duur –
Wat het hy met die gulde tyd gedaan?
O Berge, hy was af in die vallei
In Poel van wankelmoedigheid en vrees –
Op Tabors van verheerliking was hy gewees
En Maras bitter, Elims soet ken hy!
Want hy ook moes sig in die strydperk waag;
Hy het gesmaak van liefdesaligheid,
Van wel en wee – sukses en nederlaag;
En diepe letsels dra hy van die stryd.
Van alles uit die lewe span die kroon
Die eie dak waaronder liefde woon!

Die Bouheer van die berge het oor u
Die rooiwyn van Sy vreugde uitgedruk,
En nog weergalm die lag van Sy geluk
In donderklank oor u gevaartes ru!
En blydskap skink Hy ons uit die bokaal
Van sy troonhemel oor u, blou en rein,
Uit duisendvoud'ge lewe groot en klein
En uit Sy sterreheer se prag en praal!
O Berge, ons vertoef hier net een dag;
U staan so onverganklik vas en pal
En roep: “U dag is kort, O leef en lag;
Vervul u rol, totdat die voorhang val;
Dans voort tot die musiek verstom oplaas;
En speel totdat die fluit die aftog blaas!”

 

Besoek Sullivan Photography se webwerf vir nog foto's.

The post Spore van verwoesting na Boland se brande appeared first on LitNet.

Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin?

$
0
0

gedenkskool650

In Die Burger se berig oor die Du Toit-huis op Augusta-Kleinbosch wat afgebrand het, word genoem dat die Hugenote-gedenkskool (1883 opgerig) die eerste skool was waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik is.  Is hierdie inligting korrek?

Afrikaans is in die 19de eeu al lankal gepraat, deur verskillende groepe sprekers, en op verskillende maniere. Daar was toe nie ’n algemene manier om Afrikaans te skryf nie, maar die verskeidenheid was herkenbaar Afrikaans, en nie ’n ander taal nie. Een van die groepe het Afrikaans al baie vroeg as onderrigtaal gebruik, die Kaapse Moesliems, soos Achmat Davids hulle in sy navorsing noem. Teen 1840, en selfs miskien vroeër, was Afrikaans die onderrigtaal in die bekende Dorp Straat Madrasah. Enkele jare vroeër is hierdie Afrikaans heel moontlik al as onderrigmedium in skooltjies van die London Missionary Society gebruik. Dit was lank voordat GRA-Afrikaans in die Hugenote-gedenkskool onderrig is.

Achmat Davids het grondige navorsing gedoen oor die deurslaggewende rol wat die Moesliems aan die Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het.  Wat het sy navorsing aan die lig gebring?

In die Dorp Straat Madrasah is Afrikaans gebruik om gedeeltes van die Moesliemgodsdiensgeskrifte neer te skryf in oefeningboeke en van buite te leer, en andersom. Die boeke was bekend as "koplesboeke", omdat die leerlinge die lesse uit hulle koppe geleer het. Maleise ritmes uit die slawetyd het met die onthou daarvan gehelp, maar die hoofdoel was om met behulp van Arabiese karakters te leer skryf, waarin die kinders goed geslaag het. Die Arabiese karakters is aangepas om die Afrikaanse klanke noukeurig weer te gee, wat ondersoekers ’n goeie idee gee van hoe daardie variëteit van Afrikaans geklink het. Tuan Guru, Jan van Boughies en Abu Bakr Effendi is bekende name wat geassosieer word met die Moesliem-Afrikaanse geskrifte, en naas Achmat Davids (in verskeie studies van die 1980’s af) het A van Selms (1951), Piet Muller (1960), H Kähler (1971) en andere al in die tweede helfte van die 20ste eeu al op die verskrifteliking van hierdie Afrikaans gewys. Hulle het eintlik net gewys op die manier waarop die sprekers van die Bo-Kaap en omstreke al vir ’n eeu of langer met Afrikaans geleef het.

Die Hugenote-gedenkskool het wel 'n belangrike rol in die uitbreiding van Afrikaans as onderrigtaal gespeel?

SJ du Toit, die stigter van die GRA (die Genootskap van Regte Afrikaanders) was ’n groot pleitbesorger vir die Hugenote-gedenkskool waar GRA-Afrikaans ’n onderrigfunksie kon verkry. In sy pleidooie vir die totstandkoming van die Hugenote-gedenkskool het hy hom onverskrokke oor die voordele van moedertaalonderwys uitgelaat.

Onder skoliere van die Hugenote-gedenkskool tel AG Visser, DF Malherbe, Totius, en AI Perold (bekend in wynboukringe). Van hierdie oudleerlinge van die Hugenote-gedenkskool het later ’n groot rol gespeel in die latere standaardisering van ’n ander vorm van Afrikaans.

gedenkskool

Advertensie vir die Gedenkschool der Hugenooten soos dit in Ons Klyntji in Maart 1904 verskyn het. Bron: Ons gaan 'n taal maak.

Word daar genoeg erkenning gegee aan die rol van die Moesliem-gemeenskap in die bestudering van ons taalgeskiedenis?

Sosiopolitieke strominge en die godsdienstige isolasie van Moesliem-Afrikaans het meegebring dat kennis van dié besondere Kaapse variëteit (en ander variëteite van Afrikaans) tot laat in die 20ste eeu nie in die hoofstroom van die geskiedenis van Afrikaans opgeneem is nie. Die situasie het sedertdien beduidend verander. Die uitgangspunt dat Afrikaans uit al sy variëteite bestaan, word in die laaste dertig-veertig jaar baie meer algemeen erken as vroeër.

 

The post Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin? appeared first on LitNet.

Beskawing

$
0
0
Dit is blykbaar 'n probleem vir baie om te weet wat waarheid is. Hopelik weet almal wat leuens is.
 
CM

The post Beskawing appeared first on LitNet.


Kettinggesprek: Frank Hendricks gesels met Michael le Cordeur oor Ons kom van vêr

$
0
0
 ketting_michealhendrik
Ons kom van vêr
Redakteurs: WAM Carstens en
Michael le Cordeur
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316674
Kaaps in fokus
Redakteurs: Frank Hendricks en Charlyn Dyers
Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA
ISBN: 9781928314165
  • Op die foto's hierbo verskyn Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Frank Hendricks en Charlyn Dyers.


Teen die agtergrond van twee uiteenlopende boeke wat onlangs verskyn het, gesels Frank Hendricks en Michael le Cordeur met mekaar. Frank Hendricks, een van die redakteurs van Kaaps in fokus (AFRICAN SUN MeDIA), stel hier onder vrae aan Michael le Cordeur, een van die redakteurs van Ons kom van vêr (Naledi). In die dae wat kom, word nog soortgelyke gesprekke gepubliseer.

Michael

Die boek Ons kom van vêr met jou en Wannie Carstens as redakteurs het in Desember 2016 by Naledi verskyn. Ek was teenwoordig by die bekendstellingsgeleentheid wat op 16 Desember by ArtsCape gehou is. Die kritiese leser, reken ek, sal graag antwoorde op onder meer die volgende vrae verskaf wil hê – vrae wat deur jou of Wannie beantwoord kan word.

’n Eerste vraag: die subtitel van die boek word aangegee as “Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans”. Sou dit dalk meer korrek wees om te sê dat die boek meer bepaald handel oor die bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die geskiedenis van Suid-Afrika”? En: is al die bydraers bruin?

Dankie vir die vraag, Frank. Ek sou die boek beskryf as ’n bundel essays waarin die bruin gemeenskap – anders as wat baie persone vandag in Suid-Afrika wil glo – vertel van hul betrokkenheid by die struggle teen apartheid, en hoe hierdie stryd in hulle moedertaal, Afrikaans, geskied het. In die proses het hulle nie net ’n bydrae gelewer tot die bevryding van hulle mense nie, maar ook ’n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Afrikaans, omdat hierdie stryd hoofsaaklik in Afrikaans geskied het. Vir bruin mense was Afrikaans dus nie net ’n taal van verdrukking nie, maar ook ’n taal van bevryding en vandag ’n taal van versoening.

Die titel Ons kom van vêr suggereer dat bruin mense (en dan in die besonder Afrikáánssprekende bruin mense) reeds lank terug begin het om betekenisvolle bydraes in die ontwikkeling van Suid-Afrika te speel. Hoe ver gaan die boek in hierdie opsig terug? Tot die 17de eeu? Tot die struggle tydens en teen die apartheidregime? Word alleen oorbekendes soos Adam Small, Allan Boesak en Jakes Gerwel se bydraes belig, of gaan dit bepaald ook oor die bydraes van minder bekendes? Op watter terreine het bruin mense, volgens die boek, bydraes gelewer?

Sjoe! Hierdie vraag is ’n hele mondvol: Die boek onderstreep dat bruin mense se verhouding met Afrikaans teruggaan tot die grondlegging van die Kaap in die 17de eeu toe die eerste slawe hier aangekom het en in die kombuise en op die plase van die Vryburgers begin werk het. Soos Ronel van Oordt se hoofstuk aandui, moes die verskeidenheid mense aan die Kaap (Hollanders van die VOC, slawe en Vryburgers) ’n taal vind om met mekaar te kommunikeer, en daardie taal was Kaaps-Hollands, later Kaaps en nog later Afrikaans. Willa Boesak se hoofstuk boekstaaf dat die Khoisan-bevolking reeds lank, baie lank, voor die Portugese in die 15de eeu en die Hollanders in die 17de eeu interaksie met Europeërs gehad het wat onder meer tot Saldanha se eerste tweetalige woordeboek (Portugees–Khoi-Khoin) van bykans 100 woorde gelei het. My eie hoofstuk oor die klopse vertel hoe die slawe reeds in die 1860’s ’n tradisie begin het wat gebou was om musiek en ’n taal, ’n taal wat – soos Ronel van Oordt uitspel, hier aan die voet van Tafelberg posgevat het. Dit was ook ’n taal wat die bruin mense se verwantskap aandui met hulle wit broers en susters, soos die gedig van SV Petersen met dieselfde naam duidelik uitbeeld. In daardie sin “kom ons dus van ver” wat betref ons verhouding met Afrikaans en ons betrokkenheid in die struggle. Gepraat van: legendes soos Small, Gerwel en Boesak se invloed op my en die ander skrywers word duidelik belig, maar ook Franklin Sonn word vereer vir sy leierskap. Maar die groot waarde van die boek lê daarin dat die 36 skrywers elk hul eie legendes se geskiedenis en bydraes tot die struggle en Afrikaans nagevors het en hier vir die eerste keer aanbied aan ’n “oningeligte Afrikaanse gemeenskap wat nog altyd gedink het die beginpunt van Afrikaans was Totius en Eugène Marais wat sou eindig by Van Wyk Louw, Opperman en Breytenbach”.

Die boek is opgedra aan Adam Small. Hoekom juis aan hom en nie aan ’n ander prominente bruin persoon nie? Bygevra: Hoekom het die boek juis in 2016 verskyn, en nie vroeër of later nie? Dus: In watter mate staan die verskyningsdatum van die boek met Adam Small in verband?

Omdat Small die moed gehad het om sy mense se pyn en lyding te verwoord, om as stem vir die stemloses op te tree toe die apartheidsregering hulle van hul stemreg ontneem het, en dit boonop in die variëteit gedoen het wat bruin mense van die vroegste tye af gepraat het, is besluit om die boek aan hom op te dra. Dis ons manier van dankie sê aan ’n ikoon wat nie eens vir die Hertzogprys sy beginsels prysgegee het nie. Sy invloed op elke skrywer van die boek, asook sy werk, loop soos ’n goue draad regdeur die boek en bind die 36 hoofstukke saam as ’n afgeronde geheel. 

Ons wou die boek in 2016 uitgee omdat Adam Small op 21 Desember 2016 sy 80ste verjaarsdag sou vier. Dit was ons (baie klein) geskenk aan ’n man wat sy tyd ver vooruit was. As wit en bruin Afrikaanssprekendes verskillende uitgawes van Die Burger gelees het (soos Conrad Sidego in sy hoofstuk aandui), spreek dit vanself dat wit en bruin eintlik min van mekaar af weet. Daar is dus ’n rede waarom ons hierdie boek op Versoeningsdag (16 Desember) bekendgestel het. Daar is steeds ruimte vir die volle Afrikaanse gemeenskap om ’n versoeningsgesprek te begin.

Vier bydraes in die boek verskyn onder jou naam. Wil jy kortliks hieroor uitwei? Hoe sluit hierdie vier bydraes tematies aan by jou bydrae in die boek Kaaps in fokus?

My eerste hoofstuk (14) vertel my eie verhaal tydens apartheid en hoe my betrokkenheid by die opstande van 1976 (toe ek in matriek was) byna my toekoms verongeluk het. Dit vertel ook van my betrokkenheid by die 1980-studenteprotes (toe ek ’n student op UWK was met wonderlike dosente soos Jakes Gerwel, Tony Links en ’n bloedjong Frank Hendricks) en onthul my vriendskap met nog ’n legende, Cecyl Esau, en hoe ek my eerste gedig in die studentetydskrif Grondstof van die UWK (met Hein Willemse as voorsitter en Cecyl Esau as sekretaris) gepubliseer het. Ek skets die impak wat die 1976-opstand op ʼn persoonlike vlak op my – toe nog op skool – gehad het. Ek sou eers werklik verstaan toe ek in die vroeë 1980’s op UWK deel was van die groep Afrikaanssprekende bruin studente wat hulle teen apartheid verset het.

In die daaropvolgende twee hoofstukke onthul ek twee van die bes-bewaarde kulturele geheime in Suid-Afrika – albei al meer as ’n eeu oud. My tweede hoofstuk (16), “Hoor hoe slaan die ghoema”, bekyk die oorsprong van die klopsetradisie en skets kursories ’n musiektradisie wat, ondanks uitsluiting uit die hoofstroom in die apartheidsjare, steeds daarin slaag om jongmense te inspireer om in Afrikaans te skryf, te dig, te komponeer en te sing, reeds vir meer as 100 jaar. In my derde hoofstuk (19) boekstaaf ek die geskiedenis van een van die oudste kultuurorganisasies in Suid-Afrika, naamlik die Wellington Krisantevereniging wat reeds in 1916 deur pioniers soos Adam Small se ouers gestig is. Ek ondersoek die uitdagings van die afgelope eeu en bied ʼn blik op ʼn kulturele familie wat oor kleur- en godsdiensgrense heen strek. Met albei hierdie hoofstukke dui ek aan hoe Afrikaans die taal was waarmee bruin mense hul kultuurhistoriese erfenis bewaar het ondanks die feit dat hulle geen borge of enige finansiële ondersteuning van die regering gekry het nie.

In my vierdie hoofstuk (23) gee ek ’n kritiese oorsig van bruin Afrikaanssprekendes se historiese en toekomstige rol in die Afrikaanse media. Ek voer aan dat die Afrikaanse media hul versoeningsrol tussen die twee grootste Afrikaanse groepe onderskat (en dikwels versuim) het en pleit dat die Afrikaanse media hul bruin Afrikaanssprekende lesers in ag moet neem deur hul beheptheid met “suiwer” Afrikaans te laat vaar ten einde nasiebou te bevorder. In hierdie hoofstuk sluit ek dus aan by my hoofstuk in Kaaps in fokus waarin ek aanvoer dat Kaaps in die skoolkurrikulum verreken moet word in die skole waar die leerders hoofsaaklik Kaaps as huistaal het. Die hoofstuk behels ’n blik op die geskiedenis en huidige status van Kaaps; of daar ruimte is vir Kaaps binne die doelwitte van die KABV (Kurrikulum en Assesserings-beleidsverklarings); die invloed van Kaaps op sy sprekers se persepsie van hul identiteit; die spanning tussen Kaaps en Standaardafrikaans te midde van die herstandaardiseringsproses; en tot watter mate Kaaps in Suid-Afrikaanse skole tot sy reg kom. My hoofstuk in Kaaps in fokus kom tot die slotsom dat leerders wat met Kaaps groot word, benadeel word en beveel aan dat Afrikaansonderrig op skool ’n meer inklusiewe benadering moet volg wat aan Kaaps sy regmatige plek in die kurrikulum sal gee.

Voorsien jy en Wannie ’n opvolg vir hierdie boek?

My eerste impulsiewe antwoord (en ook die antwoord van my vrou) sal wees: Nee, asseblief nie weer so ’n jaar waar ek dag en nag moes werk om die boek betyds klaar te kry nie. In die proses is heelwat van my ander werk en projekte afgeskeep, wat ek hierdie jaar sal moet inhaal. Hou ook in gedagte dat ’n omvattende boek soos hierdie (600 bladsye en 36 skrywers) baie, baie tyd verg en baie duur is. Ek moes self al die fondse werf. Fondse sou dus ’n oorweging wees. Vir eers sal ek dus moet fokus op die ander werk op hande, maar ek sluit die moontlikheid van ’n deel 2 nie uit nie.

Soos Nataniël gesê het: Kóóp net die bleddie boek! En lees dit.

The post Kettinggesprek: Frank Hendricks gesels met Michael le Cordeur oor Ons kom van vêr appeared first on LitNet.

Regsalmanak: Caveat subscriptor

$
0
0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.         

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van ’n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié
Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe
• Regsalmanak: Padwoede is nie die "nuwe normaal" nie 
 • Regsalmanak: Konstitusionele hof – die howe is nie die beste plek om kerklike geskille te besleg nie

Die jaar 1955 was nog in sy babaskoene toe ene meneer George sy intrek in ’n Kaapse hotel, Fairmead Court, geneem het. Die ontvangsdame het hom versoek om die hotelregister te teken. Daarnaas het hy ook die datum van aankoms en die tarief – R54 per maand (kan jy dit glo?) – ingevul. Dié tarief het hy met die hotel ooreengekom toe hy ’n paar dae vantevore sy plek bespreek en ’n deposito van R6 betaal het.

Toe mnr George een middag na sy kamer terugkeer, ontdek hy dat persoonlike besittings ter waarde van R250 daaruit gesteel is.

En wat maak hy toe? Hy eis die bedrag van die eienaars van die hotel, maar hulle trek die hotelregister nader en wys vir hom dat bokant sy handtekening in die gasteregister dit duidelik staan dat hulle nie aanspreeklik sou wees as hy skade sou ly as gevolg van, onder meer, diefstal nie. "Jammer, mnr George."

Mnr George was nie met hierdie antwoord tevrede nie, en hy dagvaar die hotel. Sy saak was dat toe hy ’n paar dae voor sy aankoms die kamer bespreek het, oor die tarief ooreengekom en die deposito betaal het, hy ’n mondelinge kontrak met die hotel gesluit het. Toe was daar geen sprake dat hulle nié aanspreeklik sou wees as sy goed gesteel sou word nie. Hy het nie bedoel om ’n nuwe kontrak met die hotel te sluit toe hy die register onderteken het nie. Wat hom betref, was dit maar net ’n formaliteit wat hy moes nakom. Hy voer dus aan dat hy gedwaal het oor die betekenis van sy handtekening in die register. Daarom is hy nie gebonde aan die klousule waardeur die hotel kwytgeskeld word van aanspreeklikheid as sy eiendom gesteel sou word nie. Buitendien het niemand sy aandag pertinent op die "fyndruk" bokant sy handtekening gevestig nie.

Mnr George het sy saak in die landdroshof en die Kaapse hooggeregshof, waarheen hy geappelleer het, verloor. En toe wend hy hom jou waarlik tot ons land se hoogste hof van appèl in Bloemfontein.

In sy uitspraak1 sê hoofregter Fagan dat as ’n mens versoek word om ’n dokument te onderteken, jy nie agterna kan sê dat jy nie daardeur jou instemming betuig het met alles wat bokant jou handtekening verskyn nie. Die Romeine het al eeue gelede gewaarsku: caveat subscriptor – “koper, wees versigtig!”

As jy egter mislei is om die dokument te onderteken, moet die ander party tot die kontrak die blaam dra, en sal die hof normaalweg bevind dat jou dwaling redelik was. Jy sal dan nie aan die kontrak gebonde gehou word nie.2

Die hof het egter geweier om te aanvaar dat mnr George se dwaling redelik was. Toe hy die register onderteken het, het hy self twee van die terme van die kontrak – naamlik die datum waarop hy in die hotel sou begin inwoon, en die prys wat hy sou betaal – ingevul. Buitendien, sê die hoofregter, mnr George het erken dat hy gesien het dat daar ’n klomp dinge bokant sy handtekening geskryf was. As hy maar net sy oë oopgemaak het, sou hy gesien het dat dit begin met die woorde "Ek stem toe ..."

Mnr George het dus ook in die appèlhof verloor. Ongetwyfeld het die spulletjie hom ver meer gekos as die R250 wat sy gesteelde klere werd was. Miskien was dit vir hom ’n beginselsaak, maar dan het hy nie Langenhoven se spreuk ter harte geneem nie: "Prosedeer oor ’n baadjie en hou jou broek klaar vir die koste."3

1 George v Fairmead (Pty) Ltd  1958(2) SA 465(A).

2 Du Toit v Atkinson’s Motors Bpk 1985(2) SA 893 (A).

3 CJ Langenhoven: Versamelde werke, Vol 9 (Vyfde uitgawe), bl 199.

 

The post Regsalmanak: Caveat subscriptor appeared first on LitNet.

Deon Meyer (1958– )

$
0
0

Gebore en getoë

Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Toe hy 18 maande oud was, verhuis die gesin na Klerksdorp in die ou Wes-Transvaal. Sy pa, Neil, was hier areabestuurder van ’n hysermaatskappy. Sy ma, Francis, was ’n tuisteskepper.

Sy pa het arm grootgeword en moes ná standerd 6 (deesdae se graad 8) die skool verlaat. Hy het hom as elektrisiën bekwaam en aanvanklik by African Theatres in die Kaap gewerk.

Deon begin sy skooljare aan die Laerskool Meiringspark en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit. Hy is die middelste van drie seuns. In standerd 6 moes hy sy twee broers, Bertus en Francois, afpers om sy eerste storie te lees. Hulle raad aan hom was dat hy nie dadelik met ’n nuwe boek moet begin nie. Deon sal sy Engels-onderwyseres, Valerie de Bruyn, altyd onthou as iemand wat hom voortdurend aangemoedig het en met haar positiewe terugvoer oor sy opstelle ’n sekere selfvertroue vir skryf by hom gekweek het.

Sy liefde vir skryf was maar net altyd daar. Deon meen dat dit dalk te doen het met die feit dat hy in ’n boekehuis grootgeword het. “Lees was van kleins af ’n intense vreugde,” vertel hy aan Heidi de Goede. “Ek onthou ek was so agt of nege jaar oud toe ek, ná die lees van ’n (vergete) wonderlike boek, vir die eerste keer besef het: Ek wil ook eendag probeer om stories te maak, hoewel ek tog as seuntjie die gewone seuntjie-goed soos soldaat of speurder wou word.”

Deon beskou sy pa as die wonderlikste storieverteller wat hy ken, en sy ma as die beste resensent van sy pa se stories – sy het van almal gehou. Wanneer die gesin vakansietye Kaap toe gery het, het sy pa vertel die lewe is soos ’n reis Kaap toe: jy moet eers die dor vlaktes van die Karoo oorsteek voordat jy die oase van die Kaap kan bereik. In die grootmens Deon se lewe beteken dit die lewe vra opofferings as jy iets wil bereik.

“Albei my ouers was lief vir boeke, maar my liefde vir lees kom beslis van my ma af. Sy het baie gepraat oor wat sy gelees het en die liefde vir lees by die kinders gekweek. My pa was weer ’n natuurlike storieverteller wat bloot die verloop van sy dag of ’n goeie grap in ’n verhalende belewenis kon omskep. Hy het nooit die moeite ontsien om ons twee, drie keer per week biblioteek toe te neem nie.

“My pa was hierdie natúúrlike storieverteller. Hy kom ook uit ’n geslag van storievertellers. Dit was die era voor televisie. Sosialisering en vermaak het plaasgevind om ’n tafel of ’n vuur waar stories vertel is.

“My pa sou byvoorbeeld elke aand by die huis kom en sy dag as ’n stórie vir ons vertel. Op so ’n boeiende manier. En stories uit sý jeug uit.

“Die man met die rooi mus ... as ons nou iewers heen ry, dan sal my pa sit en stories opmaak oor die man met die rooi mus. En dan sou hy kindertjies gehad het wat almal rooi mussies gedra het,” vertel hy aan De Goede.

In Rooi Rose vertel Deon aan Ilse Salzwedel: "My ma was versot op boeke – sy het veral graag Engels gelees. Ek en my twee broers is aangemoedig om te lees en sy het ons elke week biblioteek toe geneem vir nuwe boeke. Ek het reeds van jongs af Engels ook gelees."

Deon se latere sukses as spanningsverhaalskrywer kan teruggevoer word na sy verslaafdheid as kind aan ’n skrywer soos Ed McBain. “Ek het op 14 die eerste keer met McBain kennis gemaak en daarna alles gekoop wat uit sy pen verskyn. Hy is volgens my die beste misdaadromanskrywer ooit en dit het my die grootste thrill gegee toe foto’s van my en hom pas langs mekaar in ’n Nederlandse katalogus verskyn het.”

Die naaste wat Deon aan kultuur in Klerksdorp destyds gekom het, was die Voortrekkerfees. “Daar was maar min wat musiek en drama betref. Die hoogtepunt van die jaar was die landbouskou. Soos ander dorpe geskei word deur die regte en verkeerde kant van die spoorlyn, het Klerksdorpers van die regte of die verkeerde kant van die spruit gekom. Songloed, die voorstad waar ek gewoon het, was aan die verkeerde kant. Dit was positief en negatief: Ek het skoolgegaan saam met kinders uit gegoede huise én saam met bitter arm kinders. Ek het mense ontmoet wat ek andersins nooit sou leer ken het nie.

“Ons het aan die rand van die dorp gebly. Ons het dus ’n groot deel van die tyd in die veld deurgebring. Ons het in die bloekombosse duiwe gejag, kaal geswem in die spruit en kleilat gegooi. Ek dink nie daar is iets verkeerd met jag nie, maar my kleintyd-ervaring het nie van my ’n jagter gemaak nie,” vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt.

Verdere studie en werk

Na skool is Deon na die lugmag vir sy militêre diensplig. Hy gaan na die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en geskiedenis as hoofvakke met die doel om hom as onderwyser te bekwaam.

Na ’n jaar van klasgee aan minderbevoorregte matrieks as deel van ’n uitreikprogram om swart leerlinge met hulle studies te help, besef hy onderwys is nie vir hom bedoel nie. Gelukkig ontdek hy toe die wêreld van die joernalistiek.

In 1980 begin hy as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein werk. Hy het ook ’n tyd lank in Kroonstad deurgebring, waar hy bydraes uit die kontrei vir ’n bylae tot Die Volksblad gelewer het. “Die meeste van my berigte het ek van speurders en uit die polisiekantore gekry. Ek onthou hoe ek elke oggend al die sentrales in die streek gebel het om uit te vind of daar nuwe stories opgeduik het. Ek sal nooit die polisiehoof, majoor Koos Calitz, vergeet nie. Ek en hy het daagliks polisiestories uitgeruil. Ons het later uitsonderlike pêlle geword.”

In 1983 volg hy sy joernalistieke mentor, Tom Ferreira, na die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo. Daar behaal hy sy honneursgraad in geskiedenis en handel driekwart van die vakke vir sy BIur-graad af. In 1989 verlaat hy die Vrystaat en sluit hom as reklamekopieskrywer by Sanlam in Kaapstad aan.

In 1991 word hy aangestel as bestuurder van interne kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se reklame-afdeling. Deon is ook onder meer raadslid, president en later senator van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs (SAVBR) en hoofbeoordelaar van SAVBR en UniTech se publikasiewedstryde.

Met die koms van die internet is hy deel van Sanlam se eerste treë in die kuberruim en ontvang hy en sy span verskeie internettoekennings, waaronder Business Day en London Financial Times se pryse. Hy behartig ook ’n tegnologierubriek vir die tydskrif Insig.

Hy bring sy eie maatskappy op die been wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet. Behalwe skrywer, was hy destyds bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling.

Terwyl hy op universiteit was, het Deon soetsappige gedigte in Engels geskryf. Dit was eers in die negentigerjare dat hy ernstig begin skryf het. In 1992 stuur hy ’n kortverhaal aan Huisgenoot, wat dit publiseer. Hy is so aangevuur dat hy onmiddellik nog een aan hulle stuur, wat afgekeur word. Dertien kortverhale verskyn later in Sarie en Huisgenoot; dit word later gebundel en in 1997 deur Van der Walt onder die titel Bottervisse in die jêm uitgegee.

In 1992 begin Deon ook werk aan sy eerste roman, met die titel Ikarus. Die uitgewers glo egter nie dat eenwoordtitels in Afrikaans sal werk nie en dit word gepubliseer onder die titel Wie met vuur speel. Deon voel oor die boek “soos ’n mens oor ’n broer in die tronk voel – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie”. Die boek is, ten spyte van Deon se eie mening daaroor, in 2007 heruitgegee.

Corli van der Merwe skryf in Volksblad (26 Maart 2008) dat nadat sy die tweede uitgawe gelees het, sy duidelik kon sien dat Deon in sy latere skryfwerk baie beter gevaar het.

Wie met vuur speel vertel die storie van die pragtige en intelligente Rachel Bergh wat ’n boekwinkel in Langstraat besit. Nadat sy die sjarmante Dirk Buchner by ’n boekeveiling ontmoet, raak sy dolverlief op hom. Haar ontnugtering is egter groot, en wanneer sy om hulp soek, ontmoet sy die "geheimsinnige Ivan Malan, ’n man wat om ’n goeie rede nie oor sy verlede praat nie,” skryf Gunther Pakendorf (Die Burger, 22 Maart 1995).

"Nou begin ’n soektog wat nie net van die Kaap na Johannesburg en terug verskuif nie, maar ook sielkundige aanvoeling en speurvernuf uit die boonste rakke verg. Dit ontwikkel in ’n konflik tussen die twee antagoniste, broers in hul stryd teen die wêreld, teen hulself. En nou, deur ’n eienaardige verloop van gebeure, in stryd met mekaar. Ambassadeurs van goed en kwaad.

"Wie met vuur speel bevat al die elemente van ’n goeie spanningsverhaal: mooi vroue, sterk manne, blink motors, ’n titseltjie romanse met ’n bietjie seks daarby, ’n stewige dosis aksie met ’n knippie bloedige geweld, en ’n slim intrige wat nét nie te ingewikkeld is om jou konsentrasie te versteur nie. Daar is ook inligting oor sielkundige oorlogvoering, wapentegnologie, afpersing en bedrog, want ons het hier met opgeleide teenstanders te make.

"Maar dit is nie net die wat nie, dit is veral ook die hoe. Deon Meyer het sy huiswerk gedoen, en daarin geslaag het om ’n eersterangse aksieverhaal te skryf wat alle elemente van dié genre op oortuigende manier met mekaar verbind. Dit is nie ’n geringe prestasie nie, veral aangesien dit ’n debuutroman is. Die lakmoestoets vir romans in hierdie genre is dat die leser dit nie kan neersit as jy eers begin lees het nie. Nouja, ék kon dit nie neersit nie, en ek wil vir die skrywer sê: Doe zo voort!” prys Pakendorf vir Meyer.

Wie met vuur speelplaas Deon op die toneel van die Afrikaanse letterkunde in ’n genre wat nog nie behoorlik ontgin is nie, naamlik die spanningsverhaal.

Dit is egter met Feniks (1996), sy tweede boek, dat Deon sy merk gemaak het as een van die beste skrywers van spanningsverhale in Afrikaans. Op LitNet vertel Chris van der Merwe so ‘n bietjie meer oor die storie van Feniks: "Die hoofkarakter in Feniks is kaptein Mat Joubert van Bellville-Suid se Moord- en Roofeenheid. Hy het die regte naam gekry, want Mat Joubert is afgemat. Sy vrou is oorlede (die leser weet nie presies hoe sy dood is nie, maar ’n mens kom agter dat dit ’n verskriklik traumatiese gebeurtenis moes gewees het), hy het belangstelling in sy werk verloor, en hy is oorgewig en onfiks en lewensmoeg.

"Op hierdie laagtepunt in sy lewe word ’n nuwe hoof deur regstellende aksie bo hom aangestel, kolonel Bart de Wit, en hy waarsku vir Mat om hom reg te ruk. Hy gee aan Mat twee uiters moeilike sake om op te los. In die eerste plek is daar ’n reeks bankrowe, almal op dieselfde bankgroep, met die skuldige wat telkens in ’n ander vermomming verskyn; en in die tweede plek die moorde deur ’n geheimsinnige reeksmoordenaar wat met ’n antieke Mauser die een slagoffer na die ander neervel.

"En so ontwikkel ’n konflik wat Mat op verskeie fronte moet veg – ’n konflik teen sy hoof, wat vir hom ’n bedreiging is; ’n konflik met die misdadiger of misdadigers wat vir die bankrowe en die Mauser-moorde verantwoordelik is; maar bowenal ’n konflik met homself om homself te rehabiliteer – om die traumas van die verlede te verwerk, om sy lewenslus te herwin, en om ’n wenner in plaas van ’n verloorder te word.

"Hierdie persoonlike herstel is die eintlike tema van die roman. Dit titel Feniks suggereer dit al – Mat Joubert worstel om te wees soos die feniks, die mitologiese voël wat uit die as herrys. Sy stryd teen die misdadigers vorm ’n simboliese parallel met sy eie stryd om genesing."

Ander karakters wat ’n rol speel in Joubert se herstelstryd is Bennie Griessel, wie se liefde vir drank sy huwelikslewe verwoes. Ook die hoof De Wit se persoonlikheidsontwikkeling word onder die loep geneem.

"Die skrywer het in ’n radio-onderhoud vertel hoe hy met die polisie saamgewerk het terwyl hy besig was om hierdie roman te skryf. Sodoende het hy baie oor die werk van die polisie geleer, en het hy ’n roman geskryf wat nie ’n karikatuur van die polisiemag en van hul werk maak nie. Ons het in die Afrikaanse literatuur baie soorte uitbeeldings van die polisiemag gehad – in die sewentiger- en tagtigerjare meestal ’n negatiewe uitbeelding. Miskien is dit ’n teken van die volwassenheid wat ons nou bereik het dat polisiemanne nie meer verheerlik of afgekraak hoef te word nie."

Van der Merwe beskryf Feniks as ’n storie wat baie lekker lees deur ’n skrywer wat baie goed daarin geslaag het om sy leser vasgenael te hou van die eerste tot die laaste bladsy. "Met meesterlike vakmanskap wissel die skrywer die verskillende spanningsdrade af, breek die verhaal telkens op ’n spanningshoogtepunt af, stel dit uit om die inligting te gee wat die leser verlang, lok jou uit, mislei en verras jou voortdurend. Uiteindelik bied hy ’n ontknoping wat miskien nie almal sal bevredig nie, maar sekerlik almal sal verras. Saam met die volgehoue spanning is daar die humor wat die plesier van die leser verhoog. Feniks is 288 bladsye van louter genot. As daar nie ’n draaiboekskrywer en ander kundiges is wat hierdie boek omwerk tot ’n film nie, dan is iemand êrens baie dom.”

Orion (2000), Deon se volgende spanningsroman, bied dieselfde leesgenot as Feniks. Fanie Olivier skryf in sy resensie in Beeld van 25 September 2000 dat dit ’n heerlike storie is wat goed vertel word, met interessante karakters, asook ’n tikkie sentiment.

"Zatopek van Heerden, ’n verslonste wegkruiper van sy verlede as ’n topkriminoloog en polisie-ondersoekbeampte, word genader om ’n testament op te spoor wat soek geraak het tydens ’n gruwelike moord in voorstedelike Kaapstad. Daarvoor het hy sewe dae, en die formele organisasie van die roman is dan ook in een stel hoofstukke die aftel van hierdie opdragtyd.

"In alternatiewe hoofstukke (ook in ’n ander lettertipe geset) skryf Zatopek sy eie verhaal waarin hy probeer vertel hoekom hy geword het wat hy nou is: ’n slegte mens. Die onderliggende tema in sy lewe is een van afdraaipaaie, waarvan die verhouding met Nagel en die liefdesverhouding met Nonnie die twee keuses is wat sy lewe tot op ’n punt van verwoesting sou bring. Daarna word hy meedoënloos sinies: 'Die regte ding om te doen is om te oorleef. Om seker te maak niemand fok met jou nie.'

"Omdat die twee wêrelde in die psige van Van Heerden verstrengel is, bly die nuuskierigheid van die leser geprikkel. (...) Meyer demonstreer, soos in Feniks, ook in Orion die wins van sy agtergrond as koerantman. Kort sinne, goed-georkestreerde paragrawe, bedagtheid oor die effek van te veel bywoorde en byvoeglike naamwoorde, wat die tempo van die roman aansienlik verhoog. Verder skryf hy ’n keurige Afrikaans, sodat afwykings en 'slordighede' funksioneel is. (...)

"Een van die boeiendste dinge omtrent Orion is die onmiskenbare onmiddellikheid wat dit het, beide geografies en in terme van die gebeure. Al die herkenbare dinge verleen ’n bekoring aan die roman, waardeur die leser se betrokkenheid verseker word. (...) Orion bewys weer eens dat Afrikaans geskik is om alles mee te doen, en dat jy jou nie hoef te verlaat op allerlei foefies om ’n ordentlike storie ordentlik te vertel nie."

As deel van ’n ATKV-kursus in draaiboekskryfwerk wen Deon die kompetisie. Die SAUK sou die regte koop vir die draaiboek, maar dit val deur die mat. Hy help skryf aan die draaiboek vir die televisiereeks van Orion, maar vind dit baie moeilik. “Kreatiewe keuses moet vir televisie gedoen word, wat soms die essensie van ’n karakter verander. Ek dink nie ek gaan meer draaiboeke lees nie.”

Hierdie televisiereeks, met Neil Sandilands as Zatopek en Erica Wessels as Hoop Beneke in die hoofrolle en Gerrit Schoonhoven as regisseur, word in 2006 op kykNET en M-Net gebeeldsend en is ’n baie groot sukses. Vir die reeks is Deon met ’n ATKV-Veertjie bekroon in die narratiewe genre vir die draaiboek van die reeks en word Schoonhoven aangewys as die beste regisseur en die reeks as die beste Afrikaanse dramareeks.

Wat Orion vir Elmari Rautenbach (Volksblad, 30 Oktober 2000) anders maak, is dat die "suiwere speurverhaal deeglik gemotiveer, soepel geskryf, ongelooflik spannend, kompleks maar altyd geloofbaar is. Voeg hierby ’n baie menslike hoofkarakter, wat in ’n tweede, parallelle storielyn sy persoonlike verhaal ontboesem, en jy sit met ’n boek wat jou as ’t ware heel insluk.

"Veral die persoonlike aspek, die grootword, seksuele ontwaking, soeke na beroepsidentiteit, gepaardgaande selftevredenheid en uiteindelike val van ’n doodgewone Afrikaanse man gee die speurstorie wyer dimensie. Zatopek bly nie net polisieman nie, maar word ’n volronde karakter, weliswaar met foute – beduiweld, koppig, maar skrynend alleen, wat sy kreatiwiteit en soeke na warmte uitstort in ’n oorgawe aan kosmaak (elke resep wil ’n mens self probeer) en goeie musiek. (...)

“Ek het Orion het toegemaak met ’n gevoel van intense bevrediging,” eindig Rautenbach. “Moenie weer kom sê daar is nie speurromans wat vergelyk met die bestes uit Europa of Amerika nie. Daar is. Boonop is hierdie een van die mooiste boeke wat ek nog in my hand gehou het. Komplimente aan die uitgewers.”

Deon se derde spanningsroman, Proteus, word in 2002 uitgegee en in Beeld van 9 Desember 2002 skryf Dirk Jordaan dat Deon hom met hierdie roman gevestig het as die "voorste eksponent van die spanningsroman-riller" in Suid-Afrika. In Proteus ontmoet die leser weer twee van die karakters uit Orion: Zatopek van Heerden en Tobela "Tiny" Mpayipeli. In Proteus verskuif die hooffokus egter na Tobela.

Jordaan gaan voort: “Tobela beland op ’n pad sonder omdraaikans wanneer ’n ou struggle-vriend se dogter, op haar pa se aanbeveling, hom om hulp nader. Tobela kan weens ‘ou skuld’ nie weier nie, al bedreig sy nie-amptelike sending sy geluk saam met sy nuwe kitsgesin.

“Hy moet ’n rekenaarhardeskyf in Lusaka gaan aflewer om sy vriend se lewe te red, maar wanneer ’n spesiale Suid-Afrikaanse spioenasie-agentskap op sy spoor beland en sy roetes daarheen begin toestop, moet hy plan maak. Die gevolg is ’n rolprentagtige jaagtog wanneer Tobela ’n motorfiets steel en die pad noorde toe aanpak teen ’n oormag spesialiseenhede, die polisie en selfs helikopters. Die sentrale karakter se eertydse ondervinding as sluipmoordenaar en spioen maak van hom ’n onverwags waardige teenstander vir dié oormag. (...)

“Meyer benut in der waarheid talle spanningskeppende filmiese tegnieke om die verhaaldele aan mekaar te bind. Daar is heen en weer flitse tussen die verskillende karakteromgewings (waarvan hy die insetsels se lengte ook afwissel ten einde die spanning te beheer); koerantberigte; en terugflitse wat verskaf word deur transkripsies van onderhoude deur die regering se agente gevoer. Laasgenoemde word tussenin geplaas om stelselmatig al hoe meer lig op die intrige te werp. Want intrigerend is dit gewis. Dit gaan hier oor die nuwe Suid-Afrikaanse intelligensiebestel, wat maar steeds ’n grys onderwêreld is.

“Die verhaal snel, letterlik, voort met die hoofkarakters op parallelle paaie tot sy einde in Botswana en die uiteindelike ontknoping. Tot sy krediet bied die skrywer ’n geloofwaardige einde aan en nie ’n klimaktiese botsing wat die leser sou vervreem nie. Meyer het ’n gespierde skryfstyl wat beelde en besonderhede betref. Op plekke is dit selfs macho, met fyn besonderhede oor wapens en motorfietse – laasgenoemde ’n groot liefde by die skrywer.

“Die enigste swak plekke in Proteus se mondering is die stereotipering van die groep mense wat in die geheime agentskap se opskamer werk. En, aansluitend daarby, die onnodige nabootsing van ’n Duitser se swak Engelse aksent, terwyl al die ander karakters se gesprekke in Afrikaans (ongeag hul herkoms) weergegee word. Dit was sekerlik ook nie noodsaaklik om al die rekenaarterme in Afrikaans te verskaf nie: niemand praat tog van ‘rugsteun maak’ (backups) nie. Maar dit is klein klippies op ’n opwindende pad waarop Meyer die leser saamneem. Proteus is nie net ’n hoogtepunt vir hom nie, maar waarskynlik die beste (ont)spanningsverhaal nóg in Afrikaans.”

André Vos (Rapport, 3 November 2002) beskryf Tobela as volg: "Met die veggees van ’n filistyn en die ratsheid van ’n springbok is Mpayipheli nietemin ’n onwillige held, aangesien hy tot inkeer gekom het wat betref sy gewelddadige verlede.

“Die politieke agtergrond waarteen die verhaal hom afspeel, is ’n knap verwewing van die hedendaagse en eertydse politieke toneel, plaaslik en oorsee, wat die storielyn boeiend en relevant hou. Hoewel die storielyn ’n goeie skoot geskiedenis uit die dae van die Koue Oorlog van die jare tagtig bevat, is dit ook in voeling met die mees onlangse politieke verwikkelinge op die wêreldtoneel, soos die bedreiging deur Moslem-ekstremiste. Dit doen Meyer sonder om enigsins in die proses kant te kies.

“Meyer het duidelik geput uit sy ervaring as joernalis. Sy loopbaan het destyds by Die Volksblad in Bloemfontein begin, hoewel hy deesdae onder meer internetkonsultant is. Die karakterisering is lewensgetrou.

“Hoewel die leser se simpatie sonder twyfel sal lê by Mpayipheli, wat geensins as ’n vlekkelose held voorgestel word nie, word antagoniste soos Jenina Mentz van die nuutgeskepte presidensiële intelligensie-eenheid en kaptein Tiger Mazibuko, die taai soldaat, nie so omskryf of gestereotipeer dat ’n mens afsydig voel teenoor hulle nie. Veral Mentz en Mazibuko se onderskeie agtergronde en lewensinvloede word genoegsaam uitgepluis in die verloop van die verhaal dat die leser ’n mate van empatie ontwikkel vir elk se persoonlike agenda.”

Ook Deon se volgende roman, Infanta, wat in 2005 gepubliseer is, is ’n wegholsukses. Dit het Madeleine van Biljon (Beeld, 22 November 2004) binne die eerste paar minute vasgenael gehad "soos ’n vlieg in ’n spinnerak in die spannende wêreld van Deon Meyer wat met elke nuwe boek ’n trappie hoër klim, al hoe meer meester van sy vak en ongetwyfeld tans die Afrikaanse eweknie van die sogenaamde grotes in die genre soos Ian Rankin, Henning Mankell of Michael Connelly.

“Wat Meyer so aanvaarbaar maak vir ’n Afrikaanse leser is een van sy belangrikste hoofkarakters, die Zoeloe, Tobela. Meyer het in ’n onderhoud vertel dat hy hard gewerk het om die kop van ’n swart man te verstaan totdat hy besef het hy’s ’n man, soos alle ander mans, trouens soos hyself. Tobela is ’n besondere skepping.

“Wat Meyer ewe aanvaarbaar maak (vir een soos hierdie resensent) is sy onberispelike navorsing. As hy die leser vertel dis hoe ’n sekswerker dink en optree, kan jy maar weet hy het met sekswerkers gepraat. Wanneer Tobela iemand doodsteek met die kortlemassegaai van die impi’s, weet Meyer presies hoe daardie wond gaan lyk en wat die staatspatoloog se opsomming gaan wees.

“Maar in Infanta gaan dit om meer as nougesette navorsing, dit gaan oor persepsies van reg en geregtigheid. Tobela, diep ongelukkig oor Pakamile se dood en die skurke wat ontsnap het, koop weer ’n assegaai ...

“Inmiddels het ons nog die verhaal van die foonsnol Christine en haar verhouding met Carlos Sangrenegro, ’n dwelmhandelaar en baie besitlik. Hy sien haar dogtertjie, Sonia, en ’n vreeslike vrees pak haar beet – sy ken mans en die uitdrukking as hulle na iets begeerliks kyk. Dan tree sy amper roekeloos op met ongewone en bittere gevolge.

“Die ontplooiing van die verhaal gebeur nie dramaties vinnig nie, maar op ’n volgehoue pas wat volgehoue leesaandag afdwing. (Meyer skryf ek-kon-dit-nie-neersit-nie boeke.) Die spanning is egter hoog en dit gaan bepaald nie net oor wie volgende gaan sterf of hoe vinnig die polisie vorder nie.

“Bennie Griessel se hunkering na ’n herstelde verhouding met sy vrou en twee kinders word met deernis en insig beskryf. Dat die boek suiwer leesplesier is vanuit die verhaalstandpunt is nie te betwyfel nie.”

Vir Philip John (Rapport, 16 Januarie 2005) wys Meyer in Infanta dat hy hom ernstiger met sy medium bemoei as voorheen. “Veel meer aandag word bestee aan die uitdieping van die psigiese kante van karakters, veral dié van Bennie Griessel en die prostituut Christine. Dit is ook asof daar meer aandag geskenk word aan die ‘realistiese’ inkleding van die agtergrond waarteen die gebeure hulle afspeel, onder meer deurdat kommentaar gelewer word op die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing.

“Een nadeel van hierdie verhoogde aandag aan die teks as sodanig is dat dit die pas van die intrige vertraag, en Infanta lees effens moeisamer as Meyer se vorige romans, veral in die middelste gedeelte. Lesers sal waarskynlik verskillend oordeel oor die relatiewe meriete van die lewendige skop-skiet-en-donner-inslag van ’n roman soos Orion en die ‘harder’, meer werklikheidsgetroue realisme van Infanta.

“Wanneer die pas nader aan die einde van die roman weer versnel, is die ‘ou’ Meyer egter terug en kan ’n mens die boek werklik nie neersit totdat die laaste, ontstellende skoot geval het nie.”

Deon Meyer het oor die afgelope dekade sy stempel deeglik op die spanningsverhaal in Afrikaans afgedruk, meen Ronel Nel (Beeld, 22 November 2007). In Onsigbaar (2007), die eerste keer dat die protagonis se stem in die eerste stem gelees word, brei Meyer sy oeuvre “ontsagwekkend” uit.

“Lemmer (dis eintlik sy van, maar almal spreek hom so aan – sy voornaam is Martin) is ’n anti-held. Hy was voorheen in die tronk en werk nou by Body Armour as ’n persoonlike lyfwag. (...) Lemmer werk volgens ’n paar eie wette. Soos Wet 1: Moenie betrokke raak nie. Wet 2: Moenie vertrou nie. En nog ’n paar wette wat hulself ontwerp soos hy aangaan in sy onderhandelinge met sy nuwe kliënt: die mooi, ryk Emma le Roux. Hy gaan delf sommer dadelik vir nog ’n wet: Moenie klein vroue vertrou nie. Maar voordat jy kan sê ‘oorhaal en skiet!’ is hy betrokke by die einste Emma se dilemmas. (...)

“Emma vertrek Laeveld toe op die dag na Kersfees in haar soektog na haar broer. In sy hoedanigheid as haar gehuurde lyfwag moet Lemmer haar noodwendig vergesel. En soos hy saam met haar reis, begin dinge hom pla. (...) En skielik besef hy. Daar ís nog iets wat hy kan bydra. Sy ou instinkte is nie dood nie, net diep begrawe. Dit is dán, soos die spreekwoord lui, dat die poppe begin dans.

Onsigbaar – die titel dui duidelik op Lemmer se selfbelewenis van sy posisie in die samelewing – word uiters sigbaar kort na die aanvang van die openingsin.

“Lemmer is ’n volronde, brawe karakter wat soms kru en met ’n goeie dosis misantropie kan optree – maar ook een met noodsaaklike menslikheid, broosheid en foute. En dit is juis dié mengsel wat hom geliefd maak. (...)

“Meyer het deur die jare sy potloodpunt al skerper gevyl, en in Onsigbaar val dit veral op hoe hy deesdae soomloos en oënskynlik sonder inspanning ’n verweefde, ‘layer-ed’ verhaal kan neerpen sonder dat dit die leser verwilderd laat.

“Daardie gemak kom slegs met jare se inskerping en verfyning van sy kuns: skryf. Meyer kry dit reg om kwessies wat homself waarskynlik na aan die hart lê, veral ons natuurerfenis, só te deurvleg dat dit nie opval nie, maar deel word van die tapisserie van die boek. So gesê, sou die leser graag ’n dieper ontginning van die aasvoël-tema wou beleef. (...)

"Die einde in Onsigbaar jaag wel effe snel op die leser af. Dit is uiteraard kompleks, maar word met tye onvergenoeglik vereenvoudig vir die leser en dit maak die ontplooiing dalk te maklik. Volgens hierdie leser, egter, Meyer se beste boek tot dusver.”

Met Deon se volgende boek, 13 uur, wat in 2008 verskyn het, keer hy terug na die speurder Bennie Griessel wat al in Feniks sy verskyning gemaak het, en later ook in Infanta.

Gert van der Westhuizen (Beeld, 25 November 2008) skryf dat Bennie Griessel se ervaring in 13 uur ingespan word. Hier is hy ’n mentor vir jong speurders en moet hy drie van sy studente, Vusi Ndabeni, Fransman Dekker en Mbali Kaleni, bystaan met die ondersoek na twee sake wat op die oog af niks met mekaar te doen het nie: ’n moord op ’n jong Amerikaanse toeris en die dood van die baas van ’n platemaatskappy. Hulle moet teen die horlosie werk, aangesien die Amerikaanse toeris ’n vriendin het wat nou deur die skurke gejag word. Bo en behalwe hulle soektog na die boewe moet Griessel en sy "studente" ook nog die huidige Suid-Afrikaanse probleme in hul werkplek hanteer: politieke onderstrominge in die polisiediens en korrupsie.

Van der Westhuizen skryf verder: "Meyer se realistiese uitbeelding van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat op deeglike navorsing gegrond is, is juis een van die redes waarom sy romans veral plaaslik so gewild is."

Vir Mariana Malan (Die Burger) is Deon Meyer se insig in wat in die polisie aan die gang is, verstommend. "Elke karakter is volledig mens; die leser het simpatie, en veral empatie, met elkeen. Daar word nie weggeskram van bestaande rassisme en seksisme nie. Hulle praat ’n taal wat ons elke dag hoor, mondeling en in hul gedagtes. Humor bly nooit uit nie."

Deon het in 2009 as homself in die bekende Afrikaanse sepie 7de Laan verskyn om 13 uur bekend te stel.

’n Bundel kortverhale van Deon word in 2009 uitgegee onder die titel Karoonag en ander verhale.

"Lesers met ’n sagte plekkie vir speurder-kaptein Bennie Griessel, een van die protagoniste van Infanta, sal bly wees om te hoor hy is nou 34 dae sonder alkohol, al voel hy nog 'die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares' (39). Hy moet in ’Die perfekte moord' sin maak van ’n selfmoordbrief wat vreemde bekentenisse bevat en hy kry hond se gedagtes," skryf Adèle Dempers (Volksblad, 15 Desember 2009).

Lemmer van Onsigbaar maak ook weer sy opwagting in die verhaal "Karoonag". In die verhaal word vertel van ’n plaasaanval met ’n kinkel in die kabel. Vir Dempers is dit ’n "lekker skop-skiet-en-jaag-storie en die arme Lemmer skryf sy splinternuwe bakkie af omdat hy Lemmer se Eerste Wet oortree: Moenie betrokke raak nie ..."

Die bundel bevat ses kortverhale en ’n lang-kortverhaal, “Stiltetyd”, wat as vervolgverhaal in Die Burger verskyn het. Van die ander verhale, soos “Die Nostradamus-dokument” en “Die ontvoering van Leendert le Roux” het as vervolgverhale in Huisgenoot en Sarie verskyn.

"Die pas in die kortverhale is flink soos dit ’n spanningsverhaal betaam. Maar wat pla, is dat dit verby is nog voordat die storie behoorlik op dreef kom. Meyer is gelief vir sy goeie karakterisering, maar die kortverhaalgenre is net te kort hiervoor. Hoewel die meeste verhale nie nuut is nie, is Karoonag en ander verhale ’n lekker peuselboek in die afwesigheid van ’n Deon Meyer-roman in 2009" – aldus Dempers.

Wat baie interessant van die bundel is, is dat daar ná elke verhaal ’n nawoord is waar die skrywer verduidelik hoe die verhaal ontstaan het en wat baie van die lesers se vrae kan beantwoord.

Hy vertel byvoorbeeld oor “Die Skoen in Maria” dat dit een van die opdragte was terwyl hy sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk gedoen het. Hy vertel hoe sy hulle as studente gemotiveer en gestimuleer het en dra die verhaal aan haar op.

“Verslag oor ’n verdwyning” word weer opgedra aan Petra Muller, “wat een donker nag op Melkbosstrand my mistieke muse was”. En oor “Die ontvoering van Leendert le Roux” erken hy: “[M]et die insluiting van ‘Die Ontvoering’ ... in hierdie bundel het ek lank gedink oor ’n moontlike totale herskryf daarvan, want vandag staan die leemtes en foute daarin ongemaklik uit ... ek het eindelik besluit om dit nie te doen nie ...” Dit verg moed van ’n skrywer om homself só bloot te stel.

Wat veral weer vir Chris Barnard (Die Burger), ook ’n uitsonderlike beoefenaar van die kortverhaal, opval, is dat Meyer nooit verval in voor die hand ­liggende wendings nie. “Jy word ­kort-kort verras deur die soms aweregse kinkels van ’n ­vindingryke verbeelding. En jy kry heeltyd die gevoel: Hierdie verteller ken sy materiaal – van ­rekenaartegnologie en handwapens tot Italiaanse skoei­sel­ontwerp en Maleise kookkuns.

“In ‘Stiltetyd’, die langste ­­ver­haal in die bundel, word ons voorgestel aan twee (vir my) nuwe ­karakters van wie ’n mens graag weer sal wil hoor: Supt John ­October, reeds naby aan aftrede, wat so graag vir oulaas nog ’n moordenaar wil vastrek, en sy dierbare vrou, Pearlie, wat ’n hond uit ’n bos uit kook in haar restourantjie met sy sabanang, ­kabobs, essies en rulle. Deon Meyer streef verby ­soetsappigheid, toeval, cliché en kunsmatige handgrepies. Elke ­verhaal loop snaarreguit na sy ­­­­on­afwendbare einde toe.”

Soos Deon belowe het toe hy in 2008 voltyds begin skryf het, verskyn daar jaarliks ’n nuwe werk van hom. In 2010 word sy “bielie” van ’n boek, Spoor, gepubliseer. En weer maak hy staat op ’n karakter uit een van sy vroeëre boeke: hierdie keer Lemmer – lyfwag van die rykes en ’n man met ’n verlede – wat aan die einde van Onsigbaar rus vir sy siel op Loxton in die Karoo gevind het. “Dit was nog altyd my plan om Lemmer weer in te span. Daar is net te veel karakter om dit nie te doen nie,” verduidelik Deon.

Spoor was ook betrokke by ’n eerste in die Afrikaanse letterkunde: ’n kort lokprent is van die boek gemaak en vooraf op die internet beskikbaar gestel om lesers se aptyt te wek. En soos ’n mens teen hierdie tyd van Meyer verwag, is dit ’n boek wat jy nie sommer kan neersit nie.

Hierdie keer raak Lemmer betrokke wanneer hy renosters wat vervoer word, moet oppas, en gou kom ’n mens agter dat daar meer agter die belangstelling van booswigte lê as die diere se kosbare horings.

“Partykeer is ’n mens gelukkig,” sê Deon oor die aktuele toevalligheid wat tussen sy gegewe met die renosters en die onlangse arrestasies van vooraanstaande horingstropers lê. “Ek bly op die hoogte van bewaringsnuus en was bewus van neigings, maar die ooreenstemming tussen die uitreiking van die boek en die inhegtenisnemings was ’n gelukskoot.”

In Spoor word spoorsny as ’n leitmotief gebruik. “Ek het van die begin af besluit dat spoorsny betrokke moes wees.” Hy het gesukkel om ’n plaaslike boek daaroor te kry, maar hou vol dat ons van die wêreld se beste spoorsnyers in Suid-Afrika het. “Ek het selfs ’n kursus in spoorsny gaan doen as deel van my navorsing.”

Dit is nie die eerste keer dat natuurbewaring ’n tema in sy romans is nie. “Ek voel sterk oor natuurbewaring, want ek het baie na aan die natuur geleef in my grootwordjare. Dit was deel van die redenasie om ’n plek in die Karoo (ook Loxton) te koop, sodat my kinders dit ook kon hê.”

Volgens Madri Victor het Spoor ’n ingewikkelde intrige, met baie feite, baie karakters en ’n magdom inligting om te verwerk. Sy skryf op LitNet: “Wat dadelik opval van Spoor, is die onkonvensionele struktuur: dit bestaan uit drie boeke wat losweg aan mekaar gekoppel is. Daar word van die leser verwag om die spoor wat regdeur loop, te volg. Die titel is nie om dowe neute nie. Deon verwag ook van die leser om spoorsnyer te raak, om die tekens te lees, deel van die jag te word. Daar is ’n magdom feite en inligting, daar is red herrings en misleidende afdraaie, en sommige lesers sal beslis beter kophou as ander. (...)

“Boek een vertel die verhaal van Milla Strachan, ’n gefrustreerde huisvrou van Durbanville wat uiteindelik genoeg moed bymekaar skraap om uit te loop op haar man wat haar gereeld verneuk en haar manipulerende, selfsugtige tienerseun. In Kaapstad trek sy in haar nuwe woonstel in, kry werk by die Presidensiële Intelligensie-agentskap, waar sy verslae moet skryf, en begin stadig haar lewe van voor af opbou. Want van haar ‘ou’ lewe het Milla genoeg gehad. Sy soek opwinding en ’n uitdaging, sy wil haar selfvertroue en haar vreesloosheid terugkry. Wanneer Milla by haar dansskool vir Lukas ontmoet, word haar nuwe lewe totaal op sy kop gekeer. Want sy ken vir Lukas, so soort van – sy moes ’n verslag oor hom skryf. Lukas word, soos die Moslem Supreme Committee, baie goed deur die PIA dopgehou. En sy sogenaamde betrokkenheid by die Moslem Supreme Committee se plan lyk al meer verdag.

“Indien jy, soos vele ander, ’n Lemmer-aanhanger is, sal Boek twee jou kos wees. Dáár sal jy nou eers begin lekker lees. Want Lemmer is terug en soos gewoonlik soek hy nie moeilikheid nie, maar volg dit hom nietemin. Lemmer word deur Diederik gevra om as back-up saam met Laurens te ry wanneer hy ’n renosterpaar by die Zimbabwiese grens gaan optel. En hier kom Vlooi by, spoorsnyer sonder weerga en ’n katjie wat jy beslis nie sonder handskoene wil aanpak nie. Dinge verloop nie heeltemal volgens plan nie en voor hy hom kom kry, oortree Lemmer alweer sy Eerste Wet. Want hy vat soos ’n bloedhond daai spoor ...

“In Boek drie is Mat Joubert weer in die prentjie. Hy het bedank uit die polisiediens en begin as senior konsultant, of gewoon gestel privaat speurder, by Jack Fischer werk. Vir sy eerste saak moet hy die raaiselagtige verdwyning van Danie Flint ondersoek. Maar die tyd vir ondersoek is min, want Tanja Flint se geld raak vinnig op en Jack Fisher is ’n man wat sy pond vleis eis.

“Of jy van die begin af onstuitbaar deur die inligting en verwysings spoorhou en of jy ’n paar keer moet terugblaai en naslaan, een ding bly seker: Deon neem jou weer eens op ’n jagtog wat jou teen die einde van die verhaal na meer sal laat vra. En dan wag jy ook, soos ’n verslaafde, saam met al die ander fans vir die volgende boek.”

Pieter Haasbroek (Die Burger) skryf: "Deon Meyer se gevoel vir plek en tydsverloop is trefseker – dit getuig van deeglike navorsing – die leser kan saamloop op die spoor van die ­Karoo tot by Kariba en terug. Met die Wêreldbekersokkertoernooi in die nuwe Kaapstadse stadion in die vooruitsig, gebeur soveel dinge ­gelyktydig dat dae en ure teen ’n asemrowende pas verbytol; die leser moet soms terugblaai om seker te maak van hoe iets begin het, en waarheen dit gaan.

“En dan voeg Meyer hierby soveel interessante gegewens oor die omstandighede waarin sy verhaal afspeel as wat hy nodig vind. (...) Onder die aanhangers van spanningsverhale tel fyn­proewers wat sal let op elke besonderheid wat Meyer beskryf. Hulle ken vuur­wapens en renosters se velsiektes. As iemand Meyer kan uitvang dat hy een brokkie verkeerde inligting in Spoor bied, sal ek graag daarvan wil hoor.

“Is daar enige leemtes in Spoor as spanningsverhaal? Miskien tog. Omdat Meyer sy verhaal in ­ver­skillende frag­mente verdeel het, het hy die spanningslyn verbreek. Dit is jammer, want dit maak van die boek ’n optelsom van ervarings en ondermyn die verhaal. Om die drie spoorsnyers ­Lemmer, Becker en Joubert saam na ’n ontknoping te volg, sou aan die leser moontlik ’n interessanter ­uitdaging gebied het. Dat Spoor nogtans lekker lees, is nie altemit nie. Hierdie boek kan jy net met moeite toemaak en neersit.”

Wat was Deon se inspirasie agter die verhaal?

Ek moet bieg en sê ek glo nie in inspirasie nie – om ’n boek te skryf is feitlik uitsluitlik perspirasie. Die elemente van die storie het uit vele oorde gekom – die interessantheid van Durbanville (ek woon vir die eerste keer in 22 jaar weer in wat beskou kan word as ’n ‘Afrikaanse’ voorstad), die verstommende tegnologie van die Golden Arrow-busmaatskappy waarvan my broer Francois my vertel het, die slagting onder renosters, Mike Nicol se boek Payback ...”

Deon se volgende boek, 7 dae, het in November 2011 verskyn en is ook voorafgegaan deur ’n lokprent wat op die internet te sien was.

Weer is dit Bennie Griessel wat die leidrade moet opvolg en die moord van Hanneke Sloet, ’n prokureur, moet oplos, asook die persoon wat op polisiemanne jag maak, moet vang.

JB Roux (Beeld, 7 November 2011) se mening oor 7 dae is: “Maar al is geloofwaardigheid in ’n boek soos hierdie hóé belangrik, sal lesers met ’n avontuurlike streep dalk wens die skrywer het effens kop verloor.

“Griessel is ’n geskeide, middeljarige speurder en gerehabiliteerde alkoholis. Hy sukkel om met sy salaris deur te kom, rook, vloek (al probeer hy ophou) en voel, op sosiale gebied, ongemaklik buite sy werkomgewing. Hy is halfpad verlief op ’n vrou wat hy nie regtig verstaan nie en sy kinders gee hom hoofbrekens. Maar Griessel se gewóónheid; die feit dat niemand die bestaan van iemand soos hy, of honderde soos hy, durf ontken nie, sal sommige lesers teen die mure uitdryf. ’n Mens wonder of ’n bietjie meer oorspronklikheid ten opsigte van die hoofkarakter wel die verhaal se geloofwaardigheid sou bedreig. Griessel se amper-liefde (’n sangeres wat hy op die waterkar probeer hou) sou kon sorg vir ’n bietjie emosionele diepte, maar Griessel (of die skrywer self?) laat dié geleentheid deur sy vingers glip.

“Griessel se seun wil ’n tatoeëermerk kry en sy dogter is verlief op ’n rugby­speler wat reeds ’n tatoeëermerk het. Tieners is vindingryke wesens. Jy wonder dus: Is dit al waarmee dié twee vorendag kon kom om hul speurder-pa mee uit te daag? Lesers wil hê Griessel se persoonlike lewe moet ook betrek word, maar dié aspek van die roman is nie deurgebak nie.

“Die snelvuur-dialoog en Griessel se interessante en selfs eksentrieke kollegas verskaf gelukkig woema, veral wanneer dit voel asof die eindelose vergaderings tussen Griessel en die top brass en die getjommel oor die ekonomie en die politiek effens oorweldigend raak. Dié aspekte is meestal interessant, funksioneel en akkuraat, maar soms wens mens iemand wil op ’n piesangskil gly sodat daar iets gebéúr. Meyer toon met 7 dae begrip vir hoe uiteenlopende mense uit diverse kulture dink en funksioneer, maar die emosionele nuanses wat van ’n skrywer van sy kaliber verwag word, is maar yl.

“Om te sê Meyer wou net nog ’n goeie spanningsroman skryf, sal ’n klap in hierdie skrywer se gesig wees: Dis nie verregaande om grootsheid van genrewerk te verwag nie, veral nie met ’n skrywer van dié formaat nie. Maar hierdie roman is geen grootse boek nie. Op sy beste is 7 dae ’n roman van wisselende gehalte: Dis die moeite werd om te lees, maar selfs Meyer se getrouste aanhangers gaan dié een nie baie lank onthou nie.”

Joan Hambidge verskil egter van Roux: “Die boek se slim toespelings op Etienne Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins, ’n karakter met die naam Henry van Eeden en ’n swenkswaai-plot deur die gebruik van SMS’e, e-pos en ’n ingeboude modem in ’n skootrekenaar, maak van hierdie boek binne die sub-genre van speur- en misdaadverhale ’n kragtoer.

“Roux merk onder meer op: ‘Die snelvuur-dialoog en Griessel se interessante en selfs eksentrieke kollegas verskaf gelukkig woema ... (en wat daarop volg). Dit is juis die verskillende storielyne en die aktualiteit van die verhaal soos die subtiele toespelings op onopgeloste moordsake, sluipmoorde (ook gehuurde moorde) wat die roman hoogs leesbaar maak. Boonop verras die skrywer die leser wanneer die moordenaar na vore kom.

“Die enorme navorsing (onder meer na geldwassery, rekenaartegnologie, moordwapens, forensiese ondersoeke, en dies meer) wat ‘vertaal’ word in ’n ónneersitbare misdaadroman, behoort lesers te oortuig waarom Meyer hier te lande én internasionaal opslae maak. (Die fyn leser sal die leidrade optel in ’n operaverwysing en die toespelings op Leroux.)

“Vir kenners van hierdie soort roman is dit duidelik dat die skrywer sy toneel goed ken. Gaan kyk onder meer na die endnote watter navorsing alles gedoen is! Bennie Griessel is back in town.”

“Sewe dae van hel waarvoor jy nie jou aandag kan laat verslap nie”, skryf Piet Steyn (Beeld, 6 Novem,ber 2011), ook ’n misdaadskrywer, oor die nuwe Deon Meyer. “In die engste sin van die begrip kan Deon Meyer se nuutste boek, 7 Dae, sekerlik beskryf word as misdaadfiksie op sy beste, want daar is aan misdaad en speurders nie tekort nie.

“Daar is ook ’n goeie hoop spanning, afwagting en opwinding gekombineer met ’n vinnige pas by dié mengsel ingeroer om te kwalifiseer vir die genre van outydse riller. 7 Dae sit ’n mens moeilik neer as die skote eers begin klap en die speurders begin krap.

“In die bladteks word die inhoud van die boek hoeka beskryf as: ‘Sewe dae van hel’. Dis ’n storie wat stewig geanker is in die aktualiteit van ’n Suid-Afrika wat gebuk gaan onder die vloek van korrupsie, ingewikkelde saketransaksies en geweldsmisdaad. (...)

“Die boek wemel van interessante karakters wat vernuftig deur die skrywer aangewend word as spanningbrekers, en dit maak die lees ’n aangename ervaring. Die leser loop die ondersoekpad saam met die speurders en dit is wanneer Meyer op sy ondersoekende beste is. (...)

“Die verhaal speel af teen die agtergrond van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en die komplekse onderwêreld in die skaduwee van Tafelberg. (...) Daar is tog iets wat my pla: In ’n omgewing soos Kaapstad, met sy indrukwekkende natuurskoon van berg en see en ’n weerpatroon wat deur die wispelturige ‘Kaapse dokter’ oorheers word, sou ek meer ruimtelike beskrywings in die boek wou sien. Hoe lyk die toneel? Waai die wind en het Van Hunks al sy pyp opgesteek? Dit is vrae wat soms deur my gedagtes geskiet het by die lees van 7 Dae. Ek besef dit is dalk net ’n persoonlike ding, en dit kan sekerlik nie afbreuk doen aan ’n boek wat ’n moet is vir enige krimi-liefhebber nie.

“Wees egter gewaarsku: Dit is nie ’n boek om te lees as ’n slaapmiddel net voor ligte-uit saans nie. Daarvoor is daar te veel dialoog deur ’n klomp verskillende karakters met onbekende name, vanne en byname wat die demografiese samestelling van Suid-Afrika (goed) weerspieël. Dit is ’n boek om met jou volle aandag te lees – nie dat dit moontlik is om ’n Deon Meyer te lees sónder om dit jou volle aandag te gee nie.”

Maar dit is die ondersteuners en lesers van Deon se boeke wat op die ou end die hardste praat: binne ’n week is 7 000 eksemplare van 7 dae by Exclusive Books in Tygervallei in die Wes-Kaap verkoop.

Pryse bly nie agterweë nie en die ATKV-Prosaprys word in 2001 aan Orion, in 2003 aan Proteus en in 2005 aan Infanta toegeken. Buitelandse erkenning volg met die toekenning van Le Grand Prix du Littérature Policière in 2003 aan Jusqu’au dernier (Franse vertaling van Feniks) en die Prix Mystère de la Critique aan Les soldats de l’aube (Orion in Frans) in 2004. In 2006 word die Duitse misdaadfiksieprys aan Proteus toegeken. Orion en Infanta haal ook die kortlys vir die M-Net-boekprys. Infanta was ook op die kortlys vir die Helgaardt Steyn-prys in 2004. Die Martin Beck-toekenning (Den gyllene kofoten / The golden crowbar) van die Sweedse Akademie vir Misdaadskrywers is in 2010 aan Infanta toegeken en die Franse vertaling van Infanta (Le pic du diable) wen in 2010 die Leserstoekenning van CritiquesLibres.com vir die beste speur- of spanningsroman wat in Frankryk verskyn het. Onsigbaar besorg in 2008 aan Deon die ATKV-prys vir die Beste Spanningsroman, en die Duitse vertaling, Weisser Schatten, ontvang die Krimi Preis in 2009. Deon is deur Pansat (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) vereer in die Taal, Geskrewe of Mondelingse Letterkundekategorie in die jaarlikse multitalige toekennings vir 2010.

13 uur het in 2011 die Barry-toekenning vir die beste spanningsroman ontvang. Deon was self by Boucheron in St Louis in Amerika om die prys in ontvangs te neem. Dit was die eerste prys wat hy in Amerika gewen het nadat hy al verskeie pryse in Europa ingepalm het. Die Barry-pryse word jaarliks by die Boucheron-fees deur Deadly Pleasures, Amerika se voorste tydskrif vir spanningslektuurlesers, toegeken, en ontvangs van ‘n Barry-toekenning word deur rolspelers in die bedryf as ’n baie groot eer beskou.

Van sy mededingers om die prys vertel Deon aan Elmari Rautenbach: “Die Amerikaanse mark is waarskynlik die mededingendste ter wêreld, en die kortlys was vol mense wie se werk ek bewonder en respekteer.

“Boucheron is ook die grootste misdaadfiksiekongres in die wêreld. Die ruimhartigheid van veral skrywers oorrompel my elke keer en, dalk omdat alle skrywers in die genre weet hoe moeilik dit is om sukses te behaal, was die reaksie en gelukwensinge oorweldigend. Ek was erg bewoë, natuurlik omdat mens op só oomblik kwaai huis toe verlang.”

13 uur het ook die ATKV-prys vir die Beste Spanningsroman in 2009 gewen, asook die Boeke Prize Fanatics Choice Awards van Exclusive Books in 2011. Ook die M-Net-toekenning vir die mees filmiese roman is in 2009 deur 13 uur opgeraap. Dit was ook op die kortlys vir die CWA International Dagger Award in Brittanje in 2010, en op die kortlys vir die Macavity-toekenning vir die beste misdaadroman in Amerika in 2011. Die CWA International Dagger Award is die mees gevestigde literêre toekenning in Brittanje en word deur die Britse Crime Writers’ Association toegeken.

In 2003 ontvang Deon die PUK-Alumni-oorkonde en in 2007 die Kovsie-Alumni Cum Laude-toekenning vir sy besonderse prestasies op plaaslike, nasionale en internasionale vlak.

In 2013 is ’n spesiale prys vir die eerste keer by die Huisgenoot-Tempo-prysseremonie aan ’n persoon toegeken. Deon het dit ontvang vir uitnemendheid in Afrikaans en in 2015 het hy weer ’n Alumni-toekenning van die Noordwes-Universiteit ontvang op kuns- en kultuurgebied. In 2015 is Deon aangewys as die beskermheer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ’n Woord-veldtog.

Feniks was die eerste van Deon se boeke waarop filmregte geneem is. Die bekende Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer Johann Potgieter het die draaiboek in 2008 gefinaliseer. Proteus se filmregte is deur ’n Suid-Afrikaanse maatskappy bekom. Hulle het beplan om die film in Suid-Afrika te skiet met plaaslike en Amerikaanse akteurs. 13 uur se filmregte is in Augustus 2009 toegeken aan ’n rolprentspan in Londen, Malcolm Kohll en Robert Fig.

Ook vertalings bly nie agterweë nie, soos reeds hier bo geblyk het, en Deon se boeke is al in Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Spaans, Tsjeggies, Bulgaars, Deens, Sweeds, Fins en Japannees vertaal. In 2003 maak Deon ’n deurbraak in Amerika deurdat die uitgewersmaatskappy Little Brown die regte van Feniks, Orion en Proteus koop. Dit plaas Deon letterlik en figuurlik op dieselfde verhoog as wêreldbekende spanningsverhaalskrywers soos Michael Connelly, Ian Rankin en David Morrell. In Oktober 2004 neem hy saam met dié drie skrywers in Kanada aan ’n beraad vir misdaadskrywers deel as spreker. Ook in 2004 word die Engelse vertaling van Proteus, getitel The heart of the hunter, deur die Chicago Tribune aangewys as een van die tien beste spanningsromans in Amerika. Proteus en Onsigbaar is ook in Japannees vertaal.

Dit is ook die goeie verkope van sy boeke in die buiteland in ander tale wat hom finansieel in staat stel om van 2008 af heeltyds te begin skryf, wat goeie nuus is vir al sy aanhangers, want hy sê self: “Noudat ek heeltyds kan skryf, gaan ek mik na een boek per jaar.”

Uit vrees dat “ek deur my eie boeke verveel sal word”, skryf Deon hom in 2003 in vir ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch. “Ek het nog altyd wonderlike redakteurs by uitgewershuise gehad, maar op ’n manier verval jy én hulle in ’n gemaksone. Ek het dus die kursus gedoen om gestimuleer, uitgedaag en verryk te word; ek het ’n klankbord behoef omdat ek geruime tyd reeds in ’n tegnologiese omgewing gewerk het waar ek nie juis kontak met ander skrywers het nie. Ek was nog altyd effe jaloers op mense wat in ’n meer akademiese omgewing opereer, en met die kursus is jy skielik in wisselwerking met vier skrikwekkende maar onbevange beoordelaars en die geniale Marlene ... ek bedoel, ek het tóé eers gehoor van iets soos narratologie ... die uitpluis van die vertelkuns.”

Deon deel graag sy ondervinding met ander skrywers en aspirantskrywers deur deel te neem aan slypskole soos die een oor die skryf van spanningsverhale wat in 2004 deur die ATKV aangebied is. In 2015 het hy aan die jaarlikse slypskool van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging sy skryfgeheime en ander anekdotes met die deelnemers gedeel.

Deon is ’n gereelde en baie gewilde deelnemer aan kunstefeeste se boekeprogramme en in 2006 deel hy die verhoog met Michael Connelly tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein.

Hy hou hom ook besig met die skryf van draaiboeke vir televisie en is so pas klaar met Transito, ’n nuwe spanningsreeks, waarvan die verfilming in Kaapstad begin het. Deon kon die skryf van draaiboeke toepas op die skryf van sy romans, want dit het veral gehelp met die geweldig vinnige aksietonele van hom, asook met sy dialoog.

Die konsep vir Transito het lank in sy kop gemaal, vertel Deon aan Jeanne Calitz (Volksblad, 14 Januarie 2008). “Ek het gewonder wat sal gebeur as die rowers én veiligheidsmense in die aanval omkom en ’n derde party op die toneel afkom. Hy swig natuurlik voor die versoeking van die geldtrommels en vat die pad daarmee.

“En dan is daar ’n klomp mense wat goed in die trommels het, belang het daarby, en eindelik is almal op die spoor van die geld.”

Dié opsomming gee ’n goeie idee van wat in dié reeks verwag kan word. Deon beskryf dit as “spannend maar nie swaar nie”. Hy sê ook kykers moenie dink dit gaan dieselfde verloop hê as verlede jaar se Orion-TV-reeks nie.

Transito is, anders as Orion, ’n spanningsreeks wat homself nie te ernstig opneem nie. Dit is ’n ligte spanningsreeks eerder as ’n wroegende verhaal. Ek het nodig gehad om dit meer lig as donker te skryf.”

In ’n onlangse onderhoud met van die akteurs in die reeks kon die spelers nie uitgepraat raak oor die wonderlike geleentheid om Deon se unieke, volronde karakters te vertolk nie. Dit het hom net soveel plesier gegee om die karakters te skep, om aan hulle soveel fasette te gee. Sy booswigte is byvoorbeeld nie nét sleg nie.

Die onverbiddelike Kruger (vertolk deur Michelle Burgers) is ’n goeie voorbeeld. “Sy is ’n ruwe diamant, eintlik die sout van die aarde,” sê Deon. “Maar sy is deur die lewe se meule. Sy het sterker anderkant uitgekom. Sy vat nie nonsens nie. Van niemand nie. Op ’n manier het Kruger iets edels in haar. Maar sy moet darem iemand kry om haar vuilwerk te doen – die karakter Priester.”

Priester is ’n psigopatiese huurmoordernaar. “Hy praat suiwer Afrikaans, is hoogdrawend, intelligent en welbelese. Dít is sy karakter se reddende eienskap.” Die interaksie tussen Kruger en Priester lewer interessante kykstof.

“Hy kan nie emosie voel nie, want hy is ’n psigopaat. Hy gebruik Kruger se emosie. Sy wil moor, maar sy kan nie; hy wil voel, maar hy kan nie.”

Deon sê sy uitgangspunt met die skep van ’n karakter is dat die meeste mense voete van klei het. “Die lekkerste van die reeks is dat almal, met die uitsondering van die polisieman, ’n klomp skelms is – maar hulle is meestal dierbare skelms. Die meeste van ons het al iets gedoen waaroor ons nie eintlik wil praat nie, en dit is waarby ek in die reeks wil uitkom.”

Deon erken dat daar ’n groot verskil is tussen die skryf van ’n boek en die skryf van ’n reeks vir televisie. Daar was so baie nuwe truuks wat hy moes leer. Die struktuur is waar die verskil inkom. Vir die televisie is die struktuur baie belangrik, aangesien jy só moet skryf dat die konflik tot ’n klimaks moet oploop voor elke onderbreking vir ’n advertensie. Dit is om te verseker dat jy nie die kyker sal verloor nie.

’n Ander verskil is in die manier waarop konflik oorgedra word. “In ’n boek kan ’n mens die interne konflik van die karakter verken, maar met ’n draaiboek is dit moeilik om so iets oor te dra,” verduidelik hy aan Calitz. “As jy vir televisie skryf, moet jy ook die begroting in gedagte hou. Dit is nie ekonomies om ’n klomp goed te laat opblaas nie. Dit is waarom Priester ’n wurgdraad eerder as ’n geweer gebruik om mense uit die weg te ruim. Dit is duur om mense dood te skiet,” sê Deon.

Voel dit soms vir hom vreemd om sy karakters, waaraan hy so mooi in sy kop geskaaf het, aan akteurs en hul interpretasies af te staan? “Met Orion het ek geleer jy moet eenvoudig ’n geloofsprong maak. Die akteurs van Orion het my só oorrompel met hul talent. Hulle is wat my betref almal geniaal. Dit is ongelooflik om te dink die karakters wat ek geskep het, dra nou hierdie mense se gesigte.”

Ook met Transito het hy die geloofsprong gemaak: “’n Mens kan die akteurs se talent vertrou en glo hulle sal die rolle met deernis vertolk.”

Wat ’n mens dikwels van Deon Meyer se karakters opval, is dat hulle selde nét goed of nét sleg is. En dikwels weet ’n mens glad nie waar om hulle te plaas nie. “Ek glo die mens het altyd die kapasiteit om goed of sleg te wees, en as daardie soort ambivalensie by die leser is, is dit vir my goed so.”

Hy wend ’n poging aan om sy fyn waarnemingsvermoë te verklaar: “Ek dink ’n mens is allereers ’n belangstellende in mense en met ’n bepaalde fassinasie in menswees voordat jy ’n skrywer is. Alle skrywers is tog maar voyeurs, en as ek kyk hoe gereeld die hoofkarakter in van my stories ook ’n voyeur is, raak ek eintlik bang!”

Wanneer hy skryf, glo Meyer daarin om nie in te veel besonderhede te beplan nie. “Mens moet jouself die vryheid gun om die storie in die skryf daarvan te laat verander.” Oor die deeglike navorsing, waaroor hy so sterk voel, sê hy: “In hierdie genre is dit belangrik om ten minste die skyn van werklikheid te handhaaf.”

Deon en sy vrou, Anita, se kookboek, Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer, word in 2011 gepubliseer. Dié kookboek bevat gunstelingresepte afkomstig van hulle onderskeie families, asook van ander bronne.

“Die vet was egter in die vuur” nie lank na die publikasie van die boek nie toe Barbara Joubert, Sarie se kosredakteur, kapsie gemaak het teen sommige resepte in die boek waar nie erkenning aan haar gegee is nie. By twee van die resepte gee die Meyers wel erkenning aan haar.

Deon se kommentaar hierop was: “Ons spreek ons bewondering vir Joubert duidelik uit in die boek. Dit was altyd ons bedoeling om haar die nodige erkenning te gee. Dit was ’n fout dat ons nie by ál die resepte erkenning gegee het nie. Dit sal beslis in die volgende oplaag reggestel word.”

Prokureurs het as volg gereageer op hierdie netelige saak van kopiereg op resepte: “Die Meyer-egpaar het nie kopiereg in hul resepteboek geskend nie, tensy hulle die kosredakteur van Sarie se resepte woord vir woord oorgeskryf het.

Human & Rousseau, wat die Meyers se boek uitgee, het gesê hulle het die skrywers ingelig dat daar geen kopiereg op resepte is nie. Die Meyers het gevolglik nie Joubert as bron erken nie.

“Die bewoording en styl van die resep kan uniek wees, maar mense het geen kopiereg op ’n idee self nie,” het Janusz Luterek, ’n prokureur vir Hahn & Hahn Geïnk, wat in intellektuele eiendom spesialiseer, gesê.

Salomé le Roux van Smit & Van Wyk Geïnk het gesê die spesifieke bewoording van ’n resep is ’n literêre werk wat deur kopiereg beskerm word.

“‘Enige foto’s wat saam met ’n resep geplaas word, is ’n artistieke werk. As die resep woordeliks oorgeskryf is of ’n foto is net so oorgeneem, sal dit op inbreukmaking neerkom.’

’n Johannesburgse prokureur, Barbara Berdou, het gesê dit is baie moeilik om te bewys wie die oorspronklike outeur van ’n resep is.

Nadat Deon en Anita begin het om Loxton gereeld te besoek en ’n huis daar gekoop het, het die behoefte van die Laerskool JJ Booysen op die dorp vir Deon aangegryp. Hy vertel dat die ouers so arm is dat hulle geen bydrae kan lewer om die skooltjie te onderhou nie. Daar was soms 60 kinders per klaskamer met net vyf leesboeke, geen biblioteek nie, geen vervoer nie en geboue wat uitmekaar val. En iewers in sy verbeelding het ’n storie begin broei van ’n kluisenaarsanger in die Groot Karoo en ’n mooi jong juffrou by ’n eenvoudige laerskool. En die storie het ’n draaiboek geword, en die draaiboek – met die tussenkoms van Darrell James Roodt – ’n fliek. In 2010 het Jakhalsdans die Suid-Afrikaanse rolprentteaters getref. Dit handel oor ’n kluisenaarsanger (gespeel deur Theuns Jordaan) wat in die Karoo wegkruip van die musiekbedryf. ’n Nuwe onderwyseres (Elizma Theron) word by die plaaslike skool aangestel en spoor die inwoners aan om die laerskool van sluiting te red deur ’n halfmiljoen rand in te samel om geboue op te knap en boeke aan te koop.

Oor die lekker van skryf vertel Deon aan Heidi de Goede: “Die groot gevaar van skryf as ’n heeltydse beroep, is dat dit soos ’n ‘werk’ kan begin voel. Met ander woorde, dat mens die lekker verloor tussen al die spertye, bemarkingsverpligtinge, lesers- en uitgewersverwagtinge en groterwordende roetine deur.

“Dan herinner ek myself aan hoeveel pret ek destyds gehad het, as volslae groentjie, met die skryf van kortverhale vir tydskrifte. Daar was geen druk nie, net loslit-kreatiwiteit, die begeerte om die geheimenisse van skryf te probeer ontrafel, en ’n drang om elke storie so lekker as moontlik te probeer vertel. (En natuurlik totale onkunde oor hoe goed of sleg daardie verhale was …) Daarom is een van my doelstellings vir die nuwe boek (7 dae) dat die skryfproses lekker moet wees. En, eienaardig genoeg, dit werk. Ek het lanklaas soveel pret gehad as met die roman wat nou in wording is.”

Oor watter waarhede hy altyd met hom sal saam dra, antwoord Deon vir Danila Liebenberg (Volksblad, 4 Desember 2007):“Sukses en baie geld kan nie die liefde, die gesin en geliefdes vervang nie. Jack Welch van General Electric het gesê: ‘Mens begryp nie altyd nie. Maar jy moet die werklikheid sien soos dit is. En nie soos jy wil hê dit moet wees nie. Die ware werklikheid moenie misgekyk word nie. Bly binne die werklikheid.’ Ook sê ek, vind geluk in jouself. En vind jouself.”

Aan Murray la Vita (Die Burger, 14 Augustus 2011) verduidelik Deon die voor- en nadele van voltyds skryf: “Die voordele is gróót. Vir die eerste keer in my lewe hoef ek nie meer vieruur in die oggend op te staan om te begin skryf nie. En ek het ’n soveel groter deel van die dag tot my beskikking. Ek werk nou só dat ek iewers tussen vyf en ses begin skryf; dis ’n halwe gewoonte om nog steeds daai vroeë oggend te benut. Maar nou’t ek tyd, jy weet; ek vat in die oggend die kinders skool toe – wat vir my baie lekker is – en dan gaan haal ek hulle weer in die middag.

“Maar dan werk ek tot so teen middagete, dan het ek sewe, agt ure se skryf agter die rug. En daai luukse: om vir ses, sewe, agt ure aanmekaar te skryf ... aanmekaar is nou relatief, jy weet, ’n mens gaan nou en dan ’n koffietjie maak net om jou kop skoon te kry ... daai luukse is fantasties.

“Maar daar is ook nadele. Ek dink die grootste nadeel is dat ek nou baie minder stimulasie kry. Veral met my werk by BMW (as strategiekonsultant) die laaste vyf jaar het ek verskriklik baie gereis, veral in Suid-Afrika.

“Jy word blootgestel en gestimuleer deur nuwe plekke, nuwe mense, nuwe stóries. En dít mis ek. So ek moet nou kompenseer daarvoor deur baie meer doelbewus tyd te maak vir daai soort van dinge. Ek dink dit is die enigste régtige nadeel – dat my wêreld verklein het. Ek is maar in en om die huis, en om vir my vrou iets by Pick n Pay te gaan koop is nogal ’n groot uitstappie deesdae.”

La Vita het gewonder watter invloed die skep van ’n storie soos 13 uur op die psige van die skrywer het.

“Noudat ek voltyds skryf, is dit twáálf maande wat ek saam met hierdie karakters leef,” verduidelik Deon. “So dié mense word regtig ... Ek dink nie ’n mens se brein kan onderskei tussen fiktiewe mense en regte mense nie. Jy hoor wat hulle sê. Jy weet wat hulle voel, baie meer as wat jy met regte mense weet wat hul emosies is. So die identifikasie is verskriklik sterk.

“Ek raak baie betrokke by my karakters, en as dit met hulle sleg gaan, met die karakters vir wie ek regtig omgee, dan vóél ek dit, jy weet ... ek kry hulle jammer. Ek gun hulle dit nie, en dit is vir my moeilik om daardie tonele te skryf.

“En dan is die verligting aan die einde van ’n boek wanneer hulle al die slaggate deur is baie groot. Ek het so ’n lígte gevoel aan my as ek die laaste bladsye skryf.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Deon aan Beeld (12 Junie 2000) vertel: “Dié geleentheid dring aan op die uitsondering van ’n spesifieke boek. Vergun my om ’n klein bietjie te kul deur twee aan te bied.

“Die eerste is André P Brink se Kennis van die aand. Ek het as student, in die dae van Die Groot Verbod, toegang daartoe gekry onder die leuen van ‘navorsing’ by die PU vir CHO se biblioteek. My primêre motivering was die gerugte van blatante seks wat dit sou bevat. En wat ek in die plek daarvan ontdek het, was ’n Afrikaanse leeservaring wat beter was as enigiets wat ek tot in daardie stadium in Engels ervaar het. Dit was die boek wat my bekeer het tot Afrikaans as storietaal.

“Die tweede is Net gain van Hagel en Armstrong (Harvard Business School Press). Dit is ’n briljante uiteensetting van (so glo ek) die enigste internet-sakestrategie wat die toets van die tyd gaan deurstaan. Min het ek gedink, toe ek dit in 1998 vir die eerste keer gelees het, dat ek eendag my eie maatskappy daarop sou bou.”

Deon huiwer nog nooit om eer te gee aan diegene wat dit toekom nie, veral waar dit sy skryfwerk betref. En hy vertel baie graag van die besonderse verhouding wat daar tussen hom en sy uitgewer, Etienne Bloemhof, bestaan: “Dis vir my ’n verskríklik belangrike verhouding. Ek het nou al met redakteurs in ’n klomp lande en ’n klomp tale gewerk, en ek kan vir jou sê Etienne is wêreldklas. Hy is régtig, régtig. Die groot ding is vertroue.

“Ek weet dit klink baie snaaks, maar as ek ’n boek klaar geskryf het, dan het ek ’n vertérende vertwýfeling in die boek. Ek is séker daarvan dat dit ’n totále mislukking gaan wees; dat niemand dit gaan lees nie; dat dit klomp twak is en dat Etienne vir my gaan laat weet ...

“Wat ook gebeur, is dat ek hier in die helfte al begin twyfel en dan sal ek dit vir hom stuur en sê: ‘Etienne, sê vir my eerlik: Wérk dit enigsins?’ En ek móét hom vertrou ...

“Dis wonderlik om dit met Anita te kan deel, maar sy’s liéf vir my. Hoewel sy sê sy is objektief in haar reaksie, is ek maar bekommerd; sê sy nie net so omdat sy my liefhet nie?”

Wanneer Deon met ’n nuwe boek begin, lê dit soos ’n berg voor hom, want hy weet dit is vir ’n jaar wat hy in die wêreld van skryf ingaan, “en dis dalk die één ding wat skryf verskillend maak van die meeste ander beroepe: jou werkswêreld is suiwer fiksie.”

Anita lees soos hy skryf en dit is vir hom wonderlik, aangesien dit minstens een ander persoon is met wie hy daardie wêreld wat net in sy kop bestaan, kan deel. “Dis ’n ding wat jou insuig, en as jy eers in is, dan ... ek het ’n baie sterk emosionele band met dit wat ek doen, so dis so ’n halwe op en af. Veral aan die begin.

“Die eerste derde van ’n boek is die probleemstelling van die storie en waar jy jou karakters voorstel en hulle het net moeilikheid, jy weet, dit is die groot uitdagings wat voorlê.

“En natuurlik die werk ... jy sien hoe die 400, 450 blaaie hier voor jou lê; daar’s nog niks op papier nie en dan moet jy begin. Dis soos om opdraande te klím of te stáp. Totdat jy uiteindelik by die klimaks van die boek kom, en dan is dit hierdie geweldige verligting van nou’s jy amper klaar en jou karakters is oukei en jou storie, dink jy, werk redelik.

“En daarna is dit die slot wat jy met groot verligting skryf. En as ek klaar is, is dit soos ’n geweldige gewíg wat van my skouers af is.

“En dan dink ek: Nooit weer nie! Dis die laaste boek wat ek gaan skryf in my lewe. En dan, ag, binne ’n maand of twee is die lus maar weer daar.”

In 2013 word Kobra uitgegee. Vir hierdie verhaal was dit nie vir Deon nodig om soveel navorsing te doen as vir 7 dae nie, aangesien hy reeds vir 7 dae heelwat tyd saam met die Valke bestee het. Hy vertel aan Karin Brynard (Volksblad, 17 Oktober 2013) dat sy eintlike navorsing vir Kobra oor sakkerollers was. "Ek kan sê ek is nou ’n bekwame sakkeroller. ’n Groot deel van die klimaks van die boek speel af op Metrotreine tussen Stellenbosch en Kaapstad. Ek het dus baie trein gery en interessante gesprekke met Metrorail se mense gehad."

Bennie Griessel is ook weer terug in Kobra en sy probleme het nie verander nie en ook nie minder geword nie. Die storie skop af met drie slagoffers by ’n moordondersoek in ’n gastehuis op Franschhoek, vertel Deon verder aan Brynard: "’n Vierde mens is ontvoer, maar niemand weet wie dit is nie. Die Britse ambassade en Suid-Afrikaanse misdaadintelligensie raak betrokke en Bennie kry swaar."

Jonathan Amid (LitNet) is ná die lees van Kobra weer eens beïndruk met Deon se vermoë as krimiskrywer. Hy som Kobra as volg op: "Wat Meyer die leser met Kobra bied, is ’n veelvlakkige ondersoek in die duistere wêreld van internasionale intelligensie-dienste, die uitruil van inligting in ’n dawerende magspel tussen regerings en hul geheime organisasies. Les bes is daar ’n diepsnydende blik op die manier wat die misdaadgenre, moontlik beter as enige ander, ’n uiteenlopende somtotaal karakters op so ’n manier kan toevou onder omstandighede wat in die regte hande (soos Meyer s’n) nie dreig om geloofwaardigheid of leesbaarheid in te boet nie.

"Meyer is lief daarvoor om sy net wyer as ’n enkele verhaallyn te span. In Kobra is daar hoofsaaklik twee spanningslyne wat eindelik op kenmerkende wyse met mekaar verbind word. Die eerste spanningslyn behels die ondersoek by ’n luukse gastehuis buite Franschhoek op die sluipmoordagtige uitwissing van twee militêre manne en ’n derde slagoffer in ’n bloedige aanval wat die werk van ’n professionele laksman blyk te wees. Boonop is daar tekens dat ’n buitelander met allerlei interessante konneksies en moontlik gevaarlike inligting uit die gastehuis ontvoer is. Die enigste bruikbare leidraad is die spoegkobra wat op die drie koeëldoppies wat saam met die lyke gevind word gegraveer is. Om so min as moontlik weg te gee van die eerste spanningslyn word die Kobra-simbool en karakter met die maksimum woema en adrenalien in die are ontgin. Daar is meer as net ’n tikkie Lee Child en Frederick Forsyth, dalk tog bietjie John Sandford, in die wyse wat die Kobra se agtergrond en duistere motiewe belig word.

"Lanklaas, dalk nog met Meyer se eie 13 Uur en Feniks (met die verruklike Thobela ‘Tiny’ Mpayipeli aan die spits) het ek so die oorweldigende gevoel van lekkerkry ervaar, my so verkneukel in hoe Meyer sy boosdoeners so sterk teenoor die verteenwoordigers van geregtigheid laat opweeg.

"Die tweede spanningslyn fokus op ’n fantastiese nuwe karakter, die sakkeroller Tyrone Kleinbooi, wat na sy slim sussie op universiteit omsien deur die (skelm) vindingrykheid van sy wyle oom te laat voortleef in verskeie ruimtes van die omliggende Bo-Kaap. Tyrone se storie is fassinerend, vars en onderhoudend. Dit wentel veral in die tweede helfte van die roman om sy stryd om oorlewing nadat hy in besit geplaas word van ’n geheueskyf met inligting wat die Kobra bitter graag in die hande wil kry. (...)

"Humor en ironie is twee van die misdaad-riller se vernaamste wapens om die leser wakker te hou. In Kobra is daar ’n oorvloed van fynproewers-oomblikke wat humor en sosio-politieke kommentaar met mekaar versoen. Ek durf hulle nie hier verklap nie.

"Soos wat die lees van die roman vorder het dit vir my duideliker geword dat dit wat op die spel is, laas met Infanta so groot gevoel het. Daar is, soos in daardie roman, nie net ’n kompleksiteit aan die morele en etiese kwessies wat hier ondersoek word en ’n soortgelyke balans tussen spanningslyne, verskillende stemme, aksie en pittige dialoog tussen karakters nie; daar word ook hier ooglopend aandag gegee aan die tipe frustrasies en alledaagse struikelblokke wat dieners van die gereg in ons land die hoof moet bied om betekenisvolle bydraes te kan maak. (...) Meyer lewer met Kobra die tipe vaartbelynde kragtoer wat die spanningsroman in Afrikaans tot groter hoogtes aanvoer."

Kobra en Bennie sorg ook dat Deon weer op die internasionale pryslys beland. Die Engelse vertaling daarvan het aan hom ’n plek op die kortlys van die Crime Writers' Association van Brittanje se Dagger-pryse besorg.

Deon verduidelik aan Ilse Salzwedel (Rooi Rose) dat hy probeer om elke jaar op Nuwejaarsdag met ’n nuwe roman te begin: "’n Skoon lei, soort van." En Deon stel nooit sy fan club teleur nie. ’n Nuwe boek uit sy pen verskyn minstens elke twee jaar. In 2015 word Ikarus gepubliseer.

Bennie staan weer aan die hoof van die ondersoek na die moord op Ernst Richter, wie se lyk tussen die duine op Bloubergstrand uitgespoel het en ontdek word. Ernst het aan die hoof van ’n internet-onderneming, alibi.co.za, gestaan, ’n webwerf wat ’n alibi aan vroueverneukers verskaf. En weer is daar twee spanningslyne, met die een die ondersoek van Bennie en die Valke na die moord en die ander een wat te doen het met ’n wynboer van Stellenbosch wat die leser ontmoet wanneer hy by ’n advokaat se kantoor in Kaapstad instap en wil bieg oor die moord op Richter. Sy vertelling en Bennie se ondersoek na die moord speel gelyktydig af, vertel Deon aan Elmari Rautenbach tydens 2015 se Woordfees. (Beeld, 16 Maart 2015)

Saam met Bennie werk Vaughn Cupido aan die moordondersoek. Deon se lesers het al vir Cupido in Infanta ontmoet en Deon vertel dat toe hy hom aanvanklik geskep het, hy nie eintlik van Cupido gehou het nie en hy was net daar om vir Bennie grensloos te irriteer. Maar soos die storie aangegaan het, het Deon teen die einde van Infanta ’n sagte plekkie vir hom ontwikkel, veral omdat hy so baie selfvertroue het. Deon het ’n stille bewondering vir mense met baie selfvertroue, al is dit vir hom swaar om van hulle te hou.

In haar resensie in Rapport (22 Maart 2015) skryf Elmari Rautenbach dat Cupido en Griessel ’n wonderlike paar en span is: "Want op die ou end is dit mense wat ’n storie maak. En hierdie twee hou kers vas by die bestes in wêreldmisdaadfiksie."

Hierna vat Deon ’n bietjie van ’n blaaskans en word ’n nuwe kortverhaalbundel, Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale, in 2015 by Human & Rousseau uitgegee. Dit bevat verhale wat voorheen in tydskrifte verskyn het, tesame met vyf nuwe verhale wat nog nie vantevore in druk verskyn het nie.

Die titelverhaal, wat vertel van ’n opkomende sangeres met heelwat geraamtes in die kas, is ook met redelik groot sukses verfilm. Wat vir Dewald Koen (Volksblad, 21 September 2015) opgeval het van hierdie bundel, is die verskeidenheid van temas wat daarin opgesluit lê. "Hierdie bundel kan beskryf word as ’n boeket verhale wat temas soos misdaad, liefde, speurverhale en romanse insluit. (...) Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale is die soort kortverhaalbundel wat nie net oor literêre meriete beskik nie, dit sal ook aanklank by die oorgrote meerderheid van die leserspubliek vind. Danksy die wye verskeidenheid tematiek wat in die kortverhale voorkom, sal hierdie kortverhaalbundel geensins teleurstel nie."

In 2016, weer net ’n jaar na Ikarus, is daar weer ’n boek van Deon op die mark – een waarna sy ondersteuners koorsagtig uitgesien het, naamlik Koors. Die uitgewers vertel die storie: "Die Koors het byna almal gevat. Maar nie dertien jaar oue Nico Storm en sy pa, Willem, nie. Deur ’n Suid-Afrikaanse landskap feitlik sonder mense, met al hoe minder blikkieskos in die verlate winkels, Koeberg-bestraling in die Wes-Kaap en al hoe meer moorddadige hondebendes – én mensebendes – swerf Nico en sy pa, op soek na ’n plek om die samelewing weer te vestig.

"Wanneer hulle dit eindelik sover het by die ou Vanderkloof – nou Amanzi – met ’n groepie swerflinge wat saam van voor af wil begin, steek al die ou sondes van die mensdom kop uit. Gou is Amanzi op geloofs- en politieke lyne verdeel, en verdediging teen die swaar gewapende motorfietsbendes wat dwarsoor Suid-Afrika plunder en moor raak al hoe moeiliker. En wat van die geheimsinnige, yskoue Domingo, wat by Amanzi aangery kom op ’n motorfiets van sy eie en spoedig as paramilitêre leier ontpop – kan hý ooit vertrou word? Dis nie lank nie, of moord kom inderdaad ook na Amanzi …

"In Koors vertel die volwasse Nico Storm die verhaal van die moord op sy pa. Dit is ’n aksiebelaaide nuwe rigting vir Deon Meyer, met al die aspekte wat lesers van sy spanningsfiksie verwag en nog vele nuwe lekkertes daarby."

In Die Burger (1 Augustus 2016) vertel Deon aan Willem de Vries dat hy Koors beskou as sy "spannendste boek wat hy nóg geskryf het". Hy het die verhaal geplaas in ’n situasie "wat nie ons huidige werklikheid is nie, maar wat baie maklik sal kan gebeur".

Die verhaal kan gesien word as ’n toekomsverhaal, maar ook ’n storie oor ’n moord. Die spanningselement is egter vir Deon die belangrikste. "Om die waarheid te sê, ek dink dit is my beste werk tot nog toe."

Deon het nie sy filmwerk afgeskeep met die skryf van al sy romans nie. Hy het in 2012 ’n jaar afgevat van sy romanskryfwerk en aandag gegee aan die skryf van draaiboeke vir films. Behalwe dat hy die draaiboek geskryf het, is hy ook die vervaardiger van die film Die laaste tango met Antoinette Louw en Louw Venter. In 2013 het Die ballade van Robbie de Wee begin draai en ook Alles wat mal is, wat gebaseer is op Deon se kortverhaal “Helena se verhaal”. Sy films word vervaardig deur The Karoo Film Company, Deon en sy vennoot Diony Kempen se maatskappy.

In 2016 is Jagveld, waarvan Deon ook die draaiboek geskryf het, geskiet. Deon vertel aan Willem de Vries meer hieroor: “Ons het verskriklik lekker daaraan geskiet en het ’n ongelooflike klomp jong mense gehad wat daarin speel. En dit het ’n jong regisseur, Byron Davis. In die rolverdeling is Neels van Jaarsveld, Bouwer Bosch, Leandie du Randt en Tim Theron. Die groep is almal briljant. Ek sien baie uit na die uitreiking van die rolprent. Dis ’n eerste Afrikaanse spanningsaksiefliek en ek is opgewonde daaroor.”

Baie mense wil weet hoe ’n mens ’n draaiboek skryf en daarom beoog Deon dat wanneer Jagveld begin draai in 2017 sy draaiboeke in boekformaat beskikbaar sal wees. Hieronder tel Die Ballade van Robbie de Wee, Die laaste tango, Jakhalsdans en die televisiereekse Orion en Transito.

"Intussen werk ek aan ’n geskenkboek vir die Nederlandse Spannende Boeken Weken, wat van 9 tot 25 Junie 2017 plaasvind. Na verwagting sal die boek in ’n oplaag van 400 000 eksemplare verskyn. Die Nederlanders het vir ’n jaar eksklusiewe reg op die werk, waarna dit in Afrikaans sal verskyn," sê Meyer.

Deon is die uitvoerende vervaardiger van die rolprentweergawe van Marita van der Vyver se roman Dis koue kos, skat. Van der Vyver het die draaiboek geskryf. Etienne Fourie is die regisseur.

Deon se trilogie met Mat Joubert se filmregte is aan ’n Duitse rolprentmaatskappy verkoop en die eerste een wat verfilm is, is Feniks (Dead before dying), waarna 13 uur sal volg.

Publikasies

Publikasie

Wie met vuur speel

Publikasiedatum

  • 1994
  • 2de hersiene uitgawe 2007

ISBN

  • 062403321X (sb)
  • 9780624045526 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Feniks

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2de uitgawe 2004

ISBN

  • 1874901562 (sb)
  • 0798144262 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Human & Rousseau (2de uitgawe)

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Le Grand Prix de Littérature Policière 2003

Vertalings

  • Engels; vertaal deur Madeleine van Biljon, 1999
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs, 1999
  • Frans; vertaal deur Robert Pépin, 2002
  • Italiaans
  • Bulgaars
  • Tsjeggies
  • Duits; vertaal deur Ulrich Hoffmann 2005
  • Estlands 2016
  • Spaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bottervisse in die jêm: 13 kortverhale

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323535 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Orion

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2de uitgawe 2005
  • 3de uitgawe 2006

ISBN

  • 0798140496 (sb)
  • 0798145617 (sb)
  • 0798148004 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2001
  • Prix Mystère de la Critique 2004
  • ATKV-prys vir beste draaiboek vir televisiereeks 2007
  • Kortlys vir die Martin Beck-toekenning vir beste vertaalde Sweedse speurroman 2008
  • Kortlys vir M-Net-Boekprys
  • Kortlys vir Sunday Times Letterkundeprys 2004

Vertalings

  • Engels, Dead at daybreak; vertaal deur Madeleine van Biljon 2000
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs 2000
  • Frans, Les soldats de l'aube; vertaal deur Robert Pépin 2003
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Proteus

Publikasiedatum

2002

ISBN

079814274X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2003
  • Deutsche Krimi Preis (Duitse Misdaadfiksie-prys) 2006

Vertalings

  • Engels; vertaal deur KL Seegers, 2004
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs, 2005
  • Duits
  • Frans
  • Noorweegs
  • Sweeds

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Infanta

Publikasiedatum

2004

ISBN

079933314X (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2005
  • The Golden Crowbar, die Martin Beck-toekenning vir beste speurverhaal in Sweeds vertaal is 2010
  • Readers’ Award van CritiqueLibre.com in die afdeling Speurverhaal/Riller 2010

Vertalings

  • Engels; vertaal deur KL Seegers, 2007
  • Sweeds; vertaal deur Svante Weyter, 2010
  • Frans
  • Duits
  • Pools
  • Spaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onsigbaar

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148962 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prys vir beste spanningsroman 2008
  • Deutsche Krimi Preis 2009 (derde plek)

Vertalings

  • Frans
  • Duits
  • Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

13 uur

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798150101 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

  • Boeke Prize Fanatics Choice Award 2011
  • Best Thriller in the Barry Awards 2011
  • Kortlys vir Macavity Award vir Beste Speurverhaal 2011
  • Kortlys vir die CWA International Dagger in Brittanje 2010
  • Eerste wenner in die nuwe rolprentkategorie van die M-Net-toekennings 2009
  • ATKV-prys vir Beste Spanningsroman 2009

Vertalings

  • Engels; vertaal deur KL Seegers
  • Suid-Koreaans
  • Frans
  • Duits
  • Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karoonag en ander verhale

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151177 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spoor

Publikasiedatum

2010

ISBN

978079815251 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

  • Barry Award for Best Thriller, 2011, USA
  • Boeke Prize Fanatics Choice Award, 2011, Exclusive Books
  • Shortlisted for the CWA International Dagger award in the UK, 2010
  • ATKV-prys vir beste spanningsroman 2009
  • M-Net-prys vir beste boek in die rolprentkategorie 2009
  • Shortlisted for the 2011 Macavity Award for Best Mystery Novel, USA

Vertalings

  • Engels; vertaal deur Laura Seegers, 2011
  • Duits
  • Frans
  • Sweeds
  • Noorweegs
  • Nederlands
  • Italiaans
  • Taiwannees

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

7 dae

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156219 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

  • “Shot in Translation”, best translated crime novel award from Shots Magazine (2012)
  • M-Net-prys vir beste boek in rolprentkategorie 2012
  • ATKV-prys vir beste spanningsroman 2012
  • Booksellers’ Choice Award, 2011/2012, by the South African Booksellers Association (SABA)

Vertalings

  • Engels 2012
  • Frans
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798151641 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook beskikbaar in Engels: Enjoy! Cooking with Deon and Anita Meyer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kobra

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798165044 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

  • ATKV-prys vir beste spanningsfiksie 2014
  • Kortlys van die Crime Writers' Association van Brittanje se Dagger-pryse 2015

Vertalings

  • Engels 2014
  • Frans
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ikarus

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169776 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands
  • Duits
  • Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale

Publikasiedatum

2015

ISBN

0780798169462 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koors

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798173858 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels 2017
  • Nederlands 2017

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

’n Keur van artikels oor Deon Meyer op die internet

Artikels deur Deon Meyer beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Deon Meyer (1958– ) appeared first on LitNet.

Onderhoud met Stephanus Muller: Dekolonisasie van musiek

$
0
0

Stephanus Muller (foto verskaf)

Om te dekoloniseer. Is dit nodig? Is dit moontlik?

Stephanus Muller, hoof van Africa Open, Instituut vir musiek, navorsing en vernuwing (Engels: Africa Open – Institute for Music, Research and Innovation), gesels met Naomi Meyer. 

Om musiek te dekoloniseer. Jy verwys hierna in jou openingsrede by die jaarkongres van die South African Society for Research in Music (SASRIM) in Bloemfontein – nie óf mense dit gaan begin sê nie, maar wannéér. Is dit ’n frase wat jy reeds dikwels hoor? Is dit nodig? Is dit moontlik?

Ná my openingsrede het ’n voorgraadse student van die College of Music, Universiteit van Kaapstad, ’n referaat gelewer oor dekolonisering, musiek en institusionele transformasie. Dit was een van die belangrikste referate wat ek nóg by ’n nasionale kongres aangehoor het, en het geen twyfel gelaat nie dat dekolonisering ’n noodsaaklike lens bied waardeur van die mees aktuele en dwingende kwessies en uitdagings in tersiêre musiekbeoefening en -studie herbedink kan word. Ek was geraak deur die intelligensie van die voordrag, die dapperheid en weerloosheid daarvan, maar ook deur die behoefte van die student om in gesprek te tree met die verteenwoordigers van die akademie. Dit was nie ’n patetiese soort noodkreet, gerig vanuit ’n posisie van swakheid nie; inteendeel, dit het aangetoon in watter mate studente-aktivisme die intellektuele agenda ontwikkel en uitwerk. Voor hierdie geleentheid het musiekstudente by die UK reeds op sosiale media teen bepaalde praktyke van die College of Music beswaar gemaak, en op Stellenbosch was daar in 2016 ’n besetting van die Musiekbiblioteek, voorafgegaan en gevolg deur inisiatiewe van dosente en studente om die diskoers oor dekolonisering in die Departement Musiek aan die orde te stel op intellektuele forums.

Hierdie dinge is natuurlik nie onverwags nie. Op dieselfde manier as wat dít wat tans op universiteitskampusse gebeur, ’n onafwendbare wending is omdat universiteite nie geïsoleerd kan bestaan van ons sosiohistoriese konteks van ernstige ekonomiese ongelykheid en disintegrerende gemeenskap nie, kan geen akademiese departement aan enige universiteit onverskillig staan teenoor die institusionele, politieke en intellektuele vraagstukke wat al lank smeul, maar wat nou ontbrand het nie. Musiek is deur en deur ’n historiese en sosiale verskynsel, en dit sou rede tot ernstige kommer wees indien daar in musiekdepartemente wat dekades lank die belange van Europese musiekkultuur gedien het, geen dringende introspeksie sou plaasvind nie. Geïnstitusionaliseerde musiek het, weens die geskiedenis van die universiteitsektor in Suid-Afrika en die plek van musiek in hierdie sektor, ’n unieke potensiaal om kulturele eksklusiwiteit gebaseer in wit normatiwiteit, gekamoefleer deur die retoriek van verdraagsaamheid en diversifisering, te onderhou. Die dringende behoefte om hierdie dinge te verstaan en te bespreek is nie deur musiekprofessore uitgespreek nie, maar deur studente. Daardeur het hulle die selfingenomenheid van die akademie aan die kaak gestel. Dit behoort ’n saak van selfrespek vir akademici te wees om nie nou ook op die studente te wag om die rigting en inhoud van oplossings aan te dui nie.

Africa Open ís ’n institusionele reaksie op hierdie potensieel vernuwende, potensieel destruktiewe energie, ’n poging om die dinkwerk en skepping aan te moedig wat ons kan begelei na sterker en beter universiteite wat die belange van ons land en die groter gemeenskap van intellektuele en kreatiewe ondernemings beter dien. Natuurlik sou die Universiteit Stellenbosch nie die stigting van hierdie instituut ondersteun het, en sou die Andrew W Mellon Foundation dit nie befonds het, indien hulle dit nie eens was dat die inisiatief spreek tot die dringendheid van die oomblik nie. Dit word goed verstaan dat dit wat Africa Open voorstel as navorsingsagenda in die instituut, konkreet worstel met die lank uitgestelde gesprekke oor die verhoudings tussen tradisie en vernuwing, tussen die soort institusies wat ons universiteite in die 20ste eeu was en wat hulle in die 21ste eeu kan word. Konkreet sluit dit in: die skep van ruimtes vir akademiese en artistieke eksperimentering en grensoorskryding van alle soorte deur die oopmaak van die universiteit vir die beste en opwindendste dinge in musiek in ons samelewing (insluitend, natuurlik, die beste dinge in ons institusies). Die uitkomste van hierdie oop proses sal uiteindelik implikasies hê vir aanstellings, vir konsertprogramme, vir opleiding en vir navorsing. Dit sal op die lange duur lei tot ’n herbesinning oor die verhouding tussen voorgraadse opleiding en nagraadse intellektuele en kreatiewe werk, oor die aannames wat ons praktyke ontwikkel het tot wat dit tans is, oor die verhouding van ons kuns met die verlede en die verantwoordelikheid wat ons het as ’n belangrike rolspeler op die kontinent. Africa Open sien die uitbou van die argief as ’n spilpunt vir hierdie werk, en is daarom sterk geïntegreer met die werk van die Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus). Indien ons hard werk, sal hierdie ontwikkelings nie beteken dat die beste eienskappe van ons huidige programme verval nie, maar eerder dat dit aangevul en versterk sal word. Ek is baie trots daarop dat Stellenbosch-universiteit nasionaal die voortou geneem het met die stigting van die instituut. Dit is ’n aanduiding van hoe belangrik musiek is vir die universiteit, maar ook hoe ernstig die universiteit voel daaroor om kwessies soos dekolonisering nie net pragmaties en ad hoc te hanteer nie, maar ook deur die skep van strukture wat langtermyn (hopelik remediërende) intellektuele trajekte volg. Die oorsake van die situasie waarin ons ons bevind, het ’n baie lang aanloop en geskiedenis. Om vas te kyk teen die protesaksies op ons kampusse as sou dít die probleem wees, eerder as een van die komplekse gevolge van besluite of versuim oor ’n baie lang tyd, is disoriënterend. Dit speel in die hande van populistiese retoriek van links en regs en word aangebied as regverdiging vir ’n teruggryp na ons historiese voorkeur vir die polisie as alternatief vir die morsigheid van spanning en verskil.

Nog iets oor persepsies: Dink baie studente van die Westerse musiek dat Afrikamusiek bestaan uit die bespeel van tromme? Brei asseblief uit op ander tendense in Suid-Afrikaanse en in die besonder Afrikamusiek wat mense mag verbaas?

Die kulturele chauvinisme waarvan jy praat, kom wel voor by sommige studente én akademici én praktiese musici, net soos dit by ander geheel en al afwesig is. Soms is hierdie reaksionêre persepsies gekoppel aan kwalik verborge rassisme, soms aan welmenende patroniserende houdings, soms aan vrees, soms aan die beskerming van eiebelang, dikwels gewoon aan onkunde. Dit vind uitdrukking in gebrek aan nuuskierigheid, die verheffing van burokratiese prosesse tot substantiewe kwessies, die onbewuste gelykskakeling van genres soos jazz met swart identiteit, die diversifikasie van elites in genres soos opera as plaasvervanger vir vernuwing, die paniekerige aansprake op universele estetiese waardes vir historiese kulturele voorkeure en die gebrek aan volhoubare investering in enigiets meer as toeristiese intellektuele en kreatiewe besigtigings en beluisterings van Afrikamusiek. In Maart ken Stellenbosch-universiteit ’n eredoktorsgraad toe aan Kofi Agawu van Princeton-universiteit. Agawu se werk het heelwat daartoe bygedra, miskien meer as dié van enigiemand anders, om begrip oor die kompleksiteit van Afrikamusiek te skep en om stereotipes en wanopvattings (soos die dominansie van ritmiek in Afrikamusiek bó harmoniek en melodiek, die voorkoms van poliritmiek, die oorbeklemtoning van verskil, die analitiese weerstandigheid van Afrikamusiek) te problematiseer. Maar ook in Suid-Afrika het die werk van verskeie akademici stelselmatig akademiese wanpersepsies begin verstel oor ’n breë spektrum van musiek wat verskillende aanknopingspunte het met Westerse musiek. Die dualisme Westers/Afrika is ’n oorvereenvoudigde identiteitspolitieke konstruk wat beperkte waarde het as ’n intellektuele of kreatiewe vertrekpunt. Ons het min te baat daarby om hierdie simplistiese opposisionele konstruk te handhaaf.

Teen die agtergrond van jou opmerkings oor protes haal ek jou uit jou openingsrede aan:

Openings are restitutive.
Openings reverse decline.
Openings embrace protest.
Openings lacerate.
Openings butcher.
Openings burn. 

Heel prakties: Hoe omhels mens dié onafwendbare, soms anargistiese, soms noodsaaklike protes binne die werksomgewing?

Eerste moet ek sê dat ek glo dat die dinamika van protes op die verskillende universiteitskampusse beduidend verskil. Dit is duidelik dat partypolitieke mobilisering by Wits, byvoorbeeld, ’n baie belangriker deel van die proteste uitmaak as by Stellenbosch. Die vlakke van polisiebrutaliteit wissel ook, met arrestasies en interdikte in Stellenbosch wat skaars die nuus haal, terwyl ons skokkende beelde van die brutalisering van studente by UCKNAR (University Currently Known as Rhodes) op sosiale media kon sien, asook hoe ’n militêre voertuig op ’n kerkperseel afjaag in Braamfontein en ’n priester in die gesig geskiet word. Verskillende strategieë sou noodwendig nodig wees om in hierdie heel uiteenlopende kontekste sinvol te handel, en een van die stigtende dinge van 2016 was hoe die mees ekstreme voorvalle van gewelddadige protes aangegryp is deur universiteitsowerhede as regverdiging vir die militarisering van betreklik vreedsame omgewings.

Die tweede opmerking is dat ek ’n direkte verband sien tussen hierdie teruggryp na die wet-en-orde-benadering deur ons universiteite en die dekades lange ondermyning van die humaniora op ons kampusse ten gunste van apartheidsera-wetenskapsbesteding en daarna die burokratiserende impulse van ons universiteite wat die soort skeefgetrekte befondsingmodelle voortgesit het. Net meer as 20 jaar gelede, betreklik onlangs dus, het intellektuele aan Suid-Afrikaanse universiteite nog selfsensuur moes toepas wanneer daar gedink en geskryf word oor ’n hele spektrum van idees wat nou met groot dringendheid deur die studente op die agenda geplaas word: ekonomiese ongelykheid, strukturele en stadige geweld, identiteitspolitiek, transformasie. Skrywers, musici, denkers, intellektuele, kunstenaars – die mense wat ons realiteit interpreteer en verbeel en weerspieël en vorm – moes “reg” dink en skryf. Mense en boeke en films en musiek is verbied, en loopbane is verwoes. Na my beste wete het universiteite nooit ná apartheid probeer om vas te stel wat die omvang van die skade van hierdie praktyke (in samehang met internasionale isolasie) was nie.

Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015–2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.

Om meer konkreet te antwoord op jou vraag, kan ek verwys na twee inisiatiewe wat Africa Open laat verlede jaar van stapel gestuur het as pogings om gesprek te soek te midde van disintegrerende vertroue tussen institusies en studente, en die immer groter wordende radikalisering van standpunte (van studente en besture). Die eerste was om ’n groep aktivistiese studente by Wits te ontmoet en te vra of hulle dit sou oorweeg om die musiek van protes wat met die studenteopstande gepaard gaan, op te neem, te versamel en vir navorsing en studie beskikbaar te stel aan die Dokumentasiesentrum vir Musiek. Die ontmoeting met hierdie jongmense en wat daarna gebeur het, was hoopgewend. Alhoewel hulle politieke standpunte op die oog af teoreties onverbiddelik radikaal is, het hulle onmiddellik die potensiaal van die voorstel ingesien en is die projek geformaliseer en die nodige strukture tot hulle beskikking gestel. Dit het gou geblyk dat die musiek wat die studente tydens byeenkomste en optogte sing, insluitende die gedekoloniseerde “Nkosi sikelel’ iAfrika”, komplekse genealogieë openbaar met musiek van die struggle, van verskillende kerkdenominasies, van mynwerkers, van tronkmusiek, van tradisionele repertoriums. Alhoewel dit musikologies interessant is, is daar ook die fassinerende moontlikheid dat hierdie musiek spreek van die intergenerasie-transmissie wat so belangrik is om trauma, pyn en woede onder die studenteaktiviste te verstaan. Dissiplinêre werk, dus, wat die moontlikheid bied om die soort noodsaaklike gesprekke te voer wat so moeilik is om te choreografeer. Interessant genoeg het die Wits-studente op eie stoom ’n seminaar belê waar hierdie sake bespreek is, en ek hoop om die resultate van daardie gesprek in hierdie jaar na ons kampus te bring sodat Wits- en Stellenbosch- en Kaapstad- en UWK-studente met mekaar in gesprek kan tree oor wat nou hulle navorsing geword het oor die klank van protes.

In November het Africa Open die inisiatief geneem om ’n solidariteitskonsert in die Kruiskerk op Stellenbosch te hou. Van die belangrikste digters van die Fallism-beweging en legendariese musici het opgetree. Dit was die eerste openbare inisiatief om op musikale en literêre wyse te reageer op wat op ons kampusse gebeur, en dit is spoedig opgevolg deur ’n geleentheid in Johannesburg wat deur studente gereël is (en waarby ons nie betrokke was nie). Die Kruiskerk-konsert, getiteld You’re in chains too, was ’n merkwaardige kuratoriese projek van die filmmaker en skrywer Aryan Kaganof. Die digters Nathan Trantraal, Lesego Rampolokeng, Stacy Hardy, Afurakan, Siphokazi Jonas en Koleka Putuma het opgetree, en onder die musici het getel Louis Moholo-Moholo (dromme), Kyle Shepherd (klavier), Nduduzo Makhathini (klavier), Jitsvinger (hip-hop-kunstenaar en digter), Emile YX Jansen en Heal The Hood (hip-hop-kunstenaar), KHOI KONNEXION en Siyabonga Njica (digter en kitaarspeler). Lwazi Lushaba van Kaapstad het gepraat, en ook verskeie studenteaktiviste. Stacy Hardy se voorlesing is ontwrig en AS IS (met Niklas Zimmer, Garth Erasmus en Manfred Zylla) kon daarna nie optree nie. Die poësie en musiek en resepsie van die konsert sou die agenda vir ’n jaar se besinnings kon verskaf, met verrassende en ontstellende en hoopgewende intreepunte vir debat en gesprek. Kyk gerus as voorbeelde van wat tydens die geleentheid plaasgevind het, na die volgende skakels: https://vimeo.com/194567596 (Siphokazi Jonas), https://vimeo.com/193038316 (Ashanti) en https://vimeo.com/192738789 (Your silence is painful). Ek hoop om in hierdie jaar maniere te vind om die poësie en musiek en debatte wat ná die konsert plaasgevind het, op ’n manier te publiseer vir wye verspreiding sodat verdere gesprek en bewusmaking en teoretisering en skepping kan plaasvind.

Watter taal praat musiek in hierdie dae op Stellenbosch? Dalk die enigste werklik meertalige departement op die kampus waar jy is?

Africa Open is ’n Tipe 2-instituut, maw dit het die status van ’n onafhanklike departement in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en my posisie as direkteur beteken dat ek – soos ander departementele voorsitters – aan die dekaan rapporteer eerder as aan die voorsitter van die Departement Musiek. Ek maak dit duidelik, omdat dit ten dele jou vraag beantwoord. Die beste manier om die soort inisiatiewe soos wat ek hier bo beskryf (en heelwat ander wat ek nie hier kan uiteensit nie), werklikheid te laat word, was om hierdie soort struktuur tot stand te bring naas die Departement Musiek. Institusionele vernuwing is moeilik in die dissiplinêr-gereguleerde omgewings wat die ruggraat vorm van universiteite se intellektuele projek. In die geval van die Departement Musiek maak die leerplanne, aanstellings en bedrywighede dit duidelik dat dit ’n departement is wat op Westerse kunsmusiek fokus. Dit is om hierdie rede dat Stellenbosch-universiteit se steun vir Africa Open, gepaardgaande met voortgesette ondersteuning van die Departement Musiek, so beduidend en grensverskuiwend is as ’n institusionele strategie. Africa Open wil die Departement Musiek help om die uitnemendheid te handhaaf wat uit hierdie historiese fokus ontwikkel het. Maar die instituut wil ook die intellektuele en kreatiewe beweegruimte skep waarin ons met minder angsvallige en skoorvoetende pogings vorendag kan kom om te kyk hoe hierdie fokus insluitend eerder as uitsluitend kan wees. Hierdie is een voorbeeld – sonder presedent in my dissipline – van hoe ’n dekoloniseringsagenda struktureel beslag kan kry in institusionele strategie. Die nuwe bedeling stel ’n toekoms in die vooruitsig waarin ons heelwat beter, heelwat interessanter en heelwat invloedryker werk kan doen (ook musici en akademici wat fokus op Westerse kunsmusiek) nie deur ons Westerse musikale erfenis die rug toe te keer nie, maar deur verbeeldingryk en dapper oop te maak na ander aspekte van ons kulturele erfenis en die fassinerende wyses waarop musiek met ander media en dissiplines in hierdie verstrengelde ruimtes bestaan.

Lees Stephanus Muller se intreerede as nuwe professor in Musiek, Universiteit Stellenbosch, gelewer op 10 Mei 2016.

The post Onderhoud met Stephanus Muller: Dekolonisasie van musiek appeared first on LitNet.

Stephanus Muller, intreerede as nuwe professor in Musiek, Universiteit Stellenbosch, gelewer op 10 Mei 2016

$
0
0

stephanusmuller_dekolonsiasieonderhoud

Stephanus Muller
Africa Open – Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie
Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Universiteit Stellenbosch

Kopiereg © 2016 Stephanus Muller
Uit Engels vertaal deur Hans Oosthuizen

Stephanus Muller ontvang sy voorgraadse musiekopleiding by die Universiteit van Pretoria. Sy musiekstudie ondergaan in 1993 ’n klemverskuiwing van klavieruitvoering na musiekwetenskap en hy verwerf meestersgrade hierin by die universiteite van Suid-Afrika en Oxford.

Voor sy terugkeer Suid-Afrika in 2001 behaal hy vroeër daardie jaar ’n DPhil-graad by Oxford. Hy is in 2004 tot voorsitter van die Musiekwetenskapvereniging van Suidelike Afrika verkies en het in 2006 ’n aandeel gehad aan die samesmelting daarvan met die Ethnomusicology Symposium.

Na sy aanstelling as dosent by die Universiteit Stellenbosch in 2005 stig hy die Dokumentesentrum vir Musiek (Domus) as navorsings- en musiekerfenis-inisiatief. Domus het sedertdien van die belangrikste en waardevolste argiewe van individue en instellings verkry, sodat dit nou ’n unieke bewaarplek van musiekopnames, partiture en argiefdokumente in Afrika is.

Muller was sedert sy aanstelling by Stellenbosch die studieleier vir baanbrekende navorsing deur ’n nuwe geslag Suid-Afrikaanse musieknavorsers, van wie baie aangeskuif het om by toonaangewende universiteite in die buiteland verder te studeer of in doseerposte aan Suid-Afrikaanse universiteite aangestel te word.

By die Universiteit Stellenbosch is hy nou die direkteur van ’n ambisieuse institusionele inisiatief, Africa Open – Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie, wat reageer op die uitdagings van en geleenthede vir musiekstudie in Suid-Afrika en geborg word deur die Andrew W Mellon Stigting.

Muller het dié universiteit se Kanselierstoekenning vir Uitnemende Navorsing ontvang. Vir Nagmusiek, sy boek oor die komponis Arnold van Wyk, is hy vereer met ’n aantal toonaangewende letterkundepryse vir fiksie en niefiksie.

*

“I am open to you” could be recapitulated as “I have the capacity to bear your investment” or “I afford you”. This conservative voice is not associated with will or intention, but with the inevitability of affordance as a mesophilic bond, and with the survival economy and the logic of capacity. If you exceed the capacity by which you can be afforded, you will be cracked, lacerated and laid open. (Reza Negarestani, Cyclonopedia: Complicity with Anonymous Materials, Melbourne: re.press, 2008:198)

To conclude is not merely erroneous, but ugly. (Nick Land, Art as insurrection: The question of aesthetics in Kant, Schopenhauer, and Nietzsche, Fanged Noumena: Collected Writings 1987–2007, Falmouth, UK: Urbanomic, 2011:145–74, veral 174)

A trill is a trill. (Werner Ansbach, Why the lark cannot see the open, Essays in Defense of Nitwits, Pietermaritzburg: Kenotaphion Press, 2016:656–78, veral 666)

 

Openings

Opgedra aan my vriend Chris Walton

Om as ’n professor – in Afrikaans ook bekend as hoogleraar – in die universiteitsgemeenskap verwelkom te word, is ’n soort aankomspunt. Dis dus ook ’n soort dood. Vir dié dood is ek oopgestel deur, om Foucault aan te haal, “naamlose stemme wat my in die verre verlede voorafgegaan het en my voorberei het [...] om daarin verwikkeld te word, hul kadense deel van myself te maak”.1 In die inleiding tot dié lesing wil ek graag openings oorweeg wat my tot nou toe aangelok het; in die tweede deel verskuif my klem na openings wat nuut geskep word deur hierdie bevordering, met die veronderstelling dat dit nie eerder ’n neerdaling na donkerder plekke is nie. In dié proses bring ek hulde aan voorgangers en bied enkele opmerkings oor die tradisie waarbinne ek werk, gevolg deur ’n breë oorsig oor die musiektradisie in Suid-Afrika en oor hoe ek uitdagings en geleenthede in musiekstudie en -onderrig in ons land beskou. Dit is betekenisvol dat ek dit nie doen net as die Universiteit Stellenbosch se nuutste musiekprofessor nie maar as die eerste een wat dié posisie nie binne die Departement Musiek beklee nie. Dit verteenwoordig in sigself ’n belangrike drumpeloorgang in ons dissipline.

Musiek – nie net geïnstitusionaliseerde musiek nie – het ’n dissiplinêre karakter, nie net in die sin dat dit ’n kennisvertakking daarstel nie, maar ook in wat dit van sy beoefenaars verwag: opleiding, gehoorsaamheid, onderwerping aan gesag en respekvolle erkenning van hiërargie, bewustheid van reëls as ’n deug, getrouheid aan tradisie as iets net so belangrik as vernuwing, toewyding aan behendigheid, en vurig mededingende onafhanklikheid van ander artistieke of meer akademiese universiteitsdissiplines. My inlywing, van baie jonk af, in dié gemeenskap van vreemd welmenende outoritarisme het geskied deur die onderrig en leiding van merkwaardige mense, almal op een of ander manier aanhangers van dié dissiplinêre etos van musiek. Noem ek Joseph Stanford, Stefanus Zondagh en Marian Friedman, erken ek hiermee my verskuldiging aan en ’n verbintenis tot die musiekgenealogie soos verteenwoordig deur hulle.

Die gestrenge musiekopleiding waarmee ek as ’n klein seuntjie in 1978 begin het, was een van ontwyfelbare toewyding aan Westerse kunsmusiek. Dit het nie verander toe ’n sameloop van belangstelling en beperkings, baie jare later, my verbintenis tot musiek in ’n navorsingsrigting gelei het nie. Die mans van wie ek as universiteitstudent leiding gekry het, is in hierdie land gebore, maar hul musiekoriëntasie was gesetel in Europa. My deurslaggewende ontdekkings oor musiek as ’n akademiese dissipline, ontdekkings wat my die oorvloedige geleenthede vir musieknavorsing in Suid-Afrika laat besef het, was nie hier nie maar in Oxford, waar ek onder die operanavorser Roger Parker se leiding gewerk het.

Hoe het dit gebeur dat my intellektuele ontwaking vir die rykheid van Suid-Afrikaanse musiek by Oxford geskied het en nie by my eerste alma mater, die Universiteit van Pretoria, of my tweede, die Universiteit van Suid-Afrika, nie? Dit was beslis nie omdat Oxford as plek of instelling, of inderdaad omdat musiekgeleerdes daar, besonder geïnteresseerd in of ingelig oor musiek in Suid-Afrika was nie. Dalk het dit iets te make gehad met die soort intellektuele wêreld wat Oxford verteenwoordig het en, omgekeerd, die soort intellektuele wêreld wat my alma maters in Pretoria nie kon wees nie. Oxford het so ’n selfversekerde sin gehad vir die akademiese projek en van haar gesentreerdheid daarin dat sy akkommoderend kon wees selfs teenoor dit waarin sy nie besonder belanggestel het nie. Hierteenoor was die Suid-Afrika van my vroeë jeug vasgevang in sulke onsekerheid en gebrek aan selfvertroue dat dit brutaal onverdraagsaam was teenoor denke wat nie beskou is as direk in die eiebelang nie. Dit was dus nie ’n plek gekenmerk deur weetgierigheid, ontdekking, waagmoed, intellektuele avontuurlus, kreatiewe spel, perkelose moontlikheid en bemagtigde gesentreerdheid nie.

Dink ek terug aan daardie tyd, nou 25 jaar gelede, begryp ek dat selfs al kan die dissiplinêre openings wat die horisonne van ons denke bepaal, vlietend wees, dateer hulle tog hul onderwerpe. In my eie werk bly ek toegewy aan daardie navorsingsdeugde wat ek tevergeefs soek in dit wat ek nou herken as die hoogs polities gekompromitteerde universiteitsomgewing van my voorgraadse en vroeë nagraadse jare. Ek bly in my geïnstitusionaliseerdheid op ’n besonderse manier geopen deur daardie ervarings.

My professionele akademiese loopbaan het begin ná my doktorale werk in Oxford. Die meeste beskeie prestasies daarvan, nie allermins hierdie inhuldiging as professor by Stellenbosch nie, sou ondenkbaar gewees het sonder die vriendskap en kollegiale steun van Chris Walton, aan wie ek vanaand se lesing opdra. Walton, gebore in noordoos-Engeland, Oxbridge-opgelei (Caius-kollege, Cambridge en Christ Church, Oxford), Switsers-Duits genaturaliseer, Afrikaner-ingeburger, navorser en bibliotekaris, het by die Universiteit van Pretoria gewerk, eers as hoof van die musiekdepartement gedurende 2001 tot 2005 en daarna as navorsingsprofessor tot 2008, toe hy terug is Switserland toe. Ek beskou dit as die enkele mees gelukkige toeval in my nadoktorale akademiese loopbaan dat Chris in Suid-Afrika aangekom het op die tydstip toe ek uit Engeland teruggekom het hiernatoe. Met hom as senior vennoot het ons saam twee boeke uitgegee: Gender and sexuality in South African music (2005) en A composer in Africa: Essays on the life and work of Stefans Grové (2006), en ek is ingelei in ’n ongeëwenaarde werksetiek, wakker gemaak tot ’n ambisie vir die moontlikhede van Suid-Afrikaanse musiek en musiekstudie en geïnspireer deur ’n navorsingsgerigte toewyding tot ’n getransformeerde dissipline en samelewing.

Chris het my vroeë loopbaan gevoed, nie omdat ek sy verantwoordelikheid was nie, maar omdat hy geglo het ons dissipline kort ’n versterkte, verbredende, bemagtigde nuwe geslag geleerdes om musiek se volhoubaarheid as ’n universiteitsvak in Suid-Afrika te verseker. Deur sy voorbeeld het hy gelei, en gepubliseer, nie net oor sy vakgebied, naamlik Wagner en laat-Oostenryks-Duitse romantiek nie, maar ook oor Suid-Afrikaanse musiek. Ongeëwenaard, wat laasgenoemde betref, het hy dit in internasionale vaktydskrifte gedoen en só ’n breë gehoor blootgestel aan musiek wat lank net plaaslik van belang was. Hy was verantwoordelik vir die eerste International Musicological Society-streekskongres op die Afrika-kontinent, hier in Stellenbosch in 2010,2 vir die heel eerste uitgawe wat Fontes Artis Musicae, die International Association of Music Libraries, Archives and Documentation Centres se tydskrif, aan Suid-Afrikaanse musiek gewy het,3 die uitgebreide en herverlewendigde verbintenis van Suid-Afrikaanse navorsing met RILM (die Répertoire International de Littérature Musicale) wat sedert Walton se vertrek in Stellenbosch gesetel is, en die eerste kongres oor musiek en gender in Suid-Afrika, in Augustus 2003, naas vele ander inisiatiewe en professionele akademiese bydraes tot die musiekgemeenskap. Sy agtergrond en idees as voormalige hoof van die musiekdepartement in die sentrale biblioteek in Zürich is ingevoer in my vestiging van die Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus) in 2005, en Chris het my onvermoeid voorsien van raad en ondersteuning in my strewe om die Universiteit Stellenbosch se musiekargief die rykste en aantreklikste in die land en op die kontinent te maak. Die betekenisvolste is dat sy doseerwerk by die Universiteit van Pretoria gelei het tot ’n geslag van jong musiekgeleerdes, van wie baie doktorale studente of nadoktorale genote op Stellenbosch geword het, en wat reeds die mantel dra van ’n 21ste-eeuse generasie van dissiplinêre leiers. Ek wil erkenning gee vir wat ek verskuldig is aan dié merkwaardige man, wat ek vereer vir sy buitengewoon briljante intellek, sy waagmoed, sy gulhartigheid, sy gedugte eienskappe as navorser, asook sy persoonlike toewyding aan studente en kollegas en aan ons land.

Toe Chris by die Universiteit van Pretoria begin werk het, het hy blykbaar sy personeel ingelig dat hy die laaste wit man as departementshoof daar sou wees. Drie hoofde later, al drie wit en al drie mans, sou hy seker die eerste wees wat erken hy het hom oor sekere dinge vergis. Chris se werk in en uiteindelike vertrek uit Suid-Afrika het iets getoon van die aard van openings in die veld waarin ek klasgee en publiseer:

Openings is ingrypings.
Openings wat van buite af geskied, skeur oop.
Openings beteken opskaal.
Openings is broos.

Afhangende van ’n mens se subdissiplinêre uitgangspunt het Suid-Afrikaanse musieknavorsing ’n buitengewoon beskeie of nogal ’n voortreflike geskiedenis. Suid-Afrikaanse populêre en inheemse musiek was tot dusver oor die algemeen nie net die vrugbaarste navorsingsvelde nie, maar ook internasionaal die sigbaarste en bes erkende. Metodologies en dissiplinêr het dié navorsing geskiedkundig uitgegaan vanuit breë interdissiplinêre inklusiwiteit, dit was deurentyd deur sy betrokkenheid met musiek vatbaar vir kulturele en kritiese teorie, dit was op sigself dikwels teoriebouend, het die plaaslike as die spil van die studieprojek erken, het ’n internasionale leserspubliek gehad, was skaamteloos sosiopolities ontvanklik en opgeskerp, en het ’n lewendige dialoog tussen praktyk en navorsing gehandhaaf. Daarteenoor, waar universiteitsdepartemente op die onderrig van Westerse kunsmusiek toegespits was, was navorsing, of eerder die gebrek daaraan, die getuie van hoe bronne oorweldigend elders verwys is, meestal om uitvoerende kunstenaars op te lei in die tradisies en uitvoeringspraktyke van die Westerse kanonieke repertorium, waarin plaaslike akademiese ondersoek ten beste ’n beskeie aanhangsel was, en algemene musikologiese bewustheid, ten slegste, heeltemal afwesig. Vir sover die invloede op navorsing landwyd onbetwisbaar nypend was as die apartheidstyd se ideologiese oorbelegging in sulke musiekdepartemente in ag geneem word, het die meeste goedgesubsidieerde universiteite se verbintenis om konservatoriumagtige opleidingsinstellings te wees deur die jare dikwels-vermelde suksesse gelewer, meestal in die vorm van toonaangewende oudstudente wat later belangrike uitvoerende of doseerloopbane gehad het. Die Stellenbosse musiekdepartement het oor baie dekades in dié opsig ’n besonder belangrike rol gespeel en daar kan geredeneer word dat dit nou die belangrikste instansie in die land is waar dié soort klem en opleiding energiek ondersteun word.

Soos vele politieke kompromieë van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu wat op die einde van apartheid gevolg het, blyk die gedagte toenemend oorbodig te wees dat daar net een musiekdepartement in Suid-Afrika sou oorbly waar Westerse kunsmusiek deur leerreëls, gebruike en leerplanne die agenda sou oorheers, met die uitsluiting van alle ander musiekvorme. Die onbetwisbaar noue verbintenis tussen die studie en uitvoer van Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika en, andersyds, koloniale en apartheidsbenaderings tot kultuur, lê nie, soos wat dikwels verkeerd aangeneem word, slegs by die materiële vorme daarvan nie (sy instrumente, werke, gebruike, ruimtes, uitvoeringspraktyke – waarvoor daar ter verdediging gewoonlik ’n argument van “universeelheid” aangevoer word), maar dit lê meer betekenisvol in die anti-intellektualisme van sy Suid-Afrikaanse weergawes. Dit kom steeds uiteenlopend tot uiting in die onverskilligheid daarvan teenoor die plaaslike, die oorweldigende verlede-gerigtheid, respek vir kultuursentra wat geografies ver weg is, isolasie van ander kunste, vervreemdheid van kritiese denke, en gevolglik die eienaardige betowering met dit wat nageboots word. Waar ook al musiek in die greep van dié saamgestelde kragte bestaan, is dit dood. Die eis om radikale hervorming, geartikuleer onder verskillende protesbaniere, wat ons sedert 2015 op Suid-Afrikaanse kampusse gehoor het, sal uiteindelik vanaf standbeelde en kunswerke oorbeweeg na musiek. Die vraag is nie óf nie, maar wannéér dit gaan gebeur. Kunsverbranding en standbeeldverwydering wys ’n uiterlike opdamming van kragte sonder inagneming van die stelsel se vermoë om dit te kan bekostig. Instellings se wesenlike onvermoë om die digbevolkte uiterlike van hul dissiplinêre neigings te aanvaar, is veel ernstiger as hul onvermoë om deel te neem aan die noodsaaklike argumentvoering oor die relatief eenvoudige kwessies soos wat uitgevoer behoort te word of selfs van leerplanne. Daar wink ’n toekoms waarin afgeslote bevoorregtingsruimtes, gebou op ’n omhelsing van onkunde, van buite af geopen sal word.

Openings is regstellend.
Openings keer agteruitgang om.
Openings omhels protes.
Openings verwond.
Openings verskeur.
Openings brand.

In 2015, dieselfde jaar waarin Suid-Afrikaanse universiteitskampusse in proteste ontvlam het, is Domus se tienjarige bestaan gevier. Na my aanstelling by die Universiteit Stellenbosch in 2005 stig ek Domus, met voortdurende raad van Chris Walton, wat in sy alte kort hoofskap onsuksesvol probeer het om so ’n instelling by die Universiteit van Pretoria te skep. Toegerus deur ervaring met my navorsing oor die komponis Arnold van Wyk se lewe en werk, ’n projek wat toe reeds vier jaar geduur het en eers nege jaar later voltooi is met my boek Nagmusiek se publikasie in 2014) het ek besef die lot van die Van Wyk-argief was die reël eerder as die uitsondering in Suid-Afrika. As historiografiese musikoloog het ek ook besef dié toedrag van sake raak die kern van my dissipline. Eenvoudig gestel: bestee elke Suid-Afrikaanse nagraadse student of navorser soveel tyd as wat ek moes met die versamel, orden en katalogiseer van haar of sy onderwerp se argief, indien dit ’n onderwerp is wat in ’n mate deur ’n argief gesteun word, geskied daar geen navorsing nie (soos nou nog dikwels in Suid-Afrika die geval is), of dit gebeur ontmoedigend en onproduktief stadig. Meer nog, ek het klinkklaar besef dat Suid-Afrika, soos baie ander samelewings wat gretig is om verby ’n traumatiese verlede te beweeg, minder as noukeurig omsien na haar komponiste, uitvoerende musici en kunstenaars se dokumentêre nalatenskappe. Geld was vir seker ’n rede, maar ook politiek en ideologie. Suid-Afrika wou graag vergeet, en dit het vir eers aanvaarbaar gelyk om dit deels te doen deur die verlede wat ons probeer vergeet het, agter ons te sit. Argiewe is nie net níé sistematies bymekaargebring en versorg nie; gerugte het rondgegaan dat hulle oral in die land en by baie instellings verwaarloos en selfs aktief vernietig is. Domus is dus gestig weens ’n diagnose van instellings- en dissiplinêre krisis.

Domus het begin met die ordeningsproses van die 20 versamelings wat die Stellenbosse Musiekbiblioteek se Spesiale Versamelings lukraak verkry het (insluitende die internasionaal belangrike versamelings van die bibliofiel Michael Scott en die dirigent Albert Coates) saam met ’n proaktiewe beleid om nuwe versamelings te werf. Die eerste aansienlike nuwe aanwins was dié van die Johannesburg-gesetelde 12-toon-komponis Graham Newcater in 2007, gevolg deur die manuskripte van die Pretoriase komponis Stefans Grové. Dat Domus versamelings ontvang het van individue sonder enige verbintenis tot ons universiteit en geografies gesetel naby ander universiteite en argiewe, het vir ons bevestig dat instellings landwyd onverskillig en/of onbevoegd is om die dringende dissiplinêre verpligting waardeur Domus voortgedryf word, te erken.

Intussen was dié dringende verpligtinge, soos wat ek dit in 2005 voorsien het, aan die toeneem. Toe Domus die permanente leenooreenkoms vir die Eoan-groep se argief in 2008 gesluit het, het ’n uitgebreide projek oor gemeenskapsbetrokkenheid en mondelinge geskiedenis ontstaan. Ons argiefbedrywighede het iets meer geword as dokumente versamel en katalogusse skep. Suid-Afrika se musiekgeskiedenis, het ons besef, kon nie opgeteken word sonder om aktief betrokke te raak en te streef na die oorbrugging van die verdeeldheidserfenis wat andersins alle geskiedskrywing komende vanuit Stellenbosch sou verdoem tot die beperktheid van “wit geskiedenis” nie. ’n Argief soos die Eoan-groep s’n kon help om dié wit oorvertellings te deurbreek, maar die voorvereiste was ’n hervestiging van ’n vertrouensverhouding met die gemeenskap wat dié kultuurbate besit. Die moontlikheid vir die argief om ’n verskil te maak, kon net in werking gestel word as ons vanaf ’n hernude sosiale kontrak sou begin, en Domus het dus die nodige vertroue begin bou as ’n voorvereiste om die argief te kry ten einde dit te bewaar. Dié proses het gelei tot ’n boek-4 en ’n filmprojek5 wat op betekenisvolle maniere die kernverstaan peil van hoe musiekgeskiedenis geskryf word.

Teen dié tyd het dit toenemend duidelik geword dat ’n lewendige betrokkenheid by Suid-Afrikaanse musiek nie kon geskied in afsondering van die uitgebreide musiekverband van ons tyd en plek nie en dat die argief ’n eksperimentering- en vernuwingsruimte geword het wat gehoor gee aan instellings se beweginglose vasgevangenheid tussen ’n verlede wat aan die verdwyn is en ’n voortdurend uitgestelde toekoms. Domus het seminare, komposisiesimposiums, tafelrondes en lesings geborg, ’n begin gemaak met die reël van aktivistiese musiekgebeure, en belangrike navorsings- en musiekprojekte geborg.6 Deurentyd is nog argiewe tot ons versameling toegevoeg: die Musiekwetenskapvereniging van Suidelike Afrika, NewMusicSA, Obelisk Musiek, die South African Jewish Music Centre en die Kaapse Filharmoniese Orkes, die versamelings en/of literêre nalatenskappe van George van der Spuy, Christopher James, John Simon, Lionel Bowman, Hanlie van Niekerk, Michael Blake, Nico Carstens, Surendran Reddy, Aryan Kaganof, Hubert du Plessis, Pieter de Villiers, Richard Behrens en Anton Goosen, die David Marks Hidden Years Music Archive en die Hennie Aucamp kabaret- en Entartete Kunst-versamelings, om net van die belangrikstes te noem. Teen ons tienjarige bestaansviering het Domus 50 versamelings by die aanvanklike 20 gevoeg. Nie net het die grootte van ons versamelings verskeie kere vermenigvuldig nie, maar die musiek- en materiaalverskeidenheid is ook vanaf Westerse kunsmusiek aanmerklik uitgebrei om rolprent-, jazz-, populêre, folk- en tradisionele musiek in te sluit.

Ons groeiende argiefmateriaal én uitgebreide navorsingsinisiatiewe het dit vir Domus moontlik gemaak om ’n kernrol te vervul in die handhawing van die intellektuele integriteit van musiek as akademiese dissipline, en andersyds om radikaal-dissiplinêre hervorming te stimuleer. Domus se aanskaffingsbeleid het ’n dissiplinêre dimensie gehad, maar dit het wesenlik in ’n minder netelige verhouding met die dissipline gestaan as dié tussen leerplan en dissipline. Naas dissiplinêre maatstawwe is versamelings aanvaar volgens oorwegings soos befondsing, strategiese posisionering, kudos, behoefte, regstelling, navorsingsmoontlikhede en nagraadse belange, om net enkeles te noem.

Oor dié balans van argiefoorwegings wat die dissipline se grense tegelyk vashou en uitstoot, kan ’n mens twee standpunte stel. Eerstens dien dit, byna deur verstek, tot die behoud van die dissipline, want dit ontwikkel vanuit ’n voortdurend verbredende maar ononderbroke siening van dissiplinêre konsensus en materiële produksie. Tweedens bedreig of ondermyn dié ontwikkeling nie dissiplinêre orde nie, want dit is sonder direkte verband tot die leerplan, met ander woorde tot dit wat voorgraads gedoseer word. Die argief is in vergelyking met die leerplan nóg ’n institusionele noodsaaklikheid nóg ’n voldoende voorvereiste vir die dissipline se bestaan en behoud. Dissiplinêr is dit dus potensieel meer strategies, presies omdat nie universiteitsbesture of die meeste praktiserende akademici meen dit vorm ’n institusionele vereiste nie. So gesien, word die teenstrydigheid tussen oënskynlik reaksionêre en progressiewe agendas wat in die argief se kern ingebed is, beter verduidelik as ’n aandrang op wat WJT Mitchell genoem het “die reg van die kunste en die geesteswetenskappe om net so eksperimenteel en nougeset as die wetenskappe te wees, net so oop vir die veranderende karakter van argiewe oor mense se geskiedenisse as wat wetenskaplikes is vir nuwe bewyse en nuwe metodes om bewyse te produseer”.7 Gegewe die geneigdheid van die humaniora en kunstedissiplines om te kanoniseer (ten einde te vergeet van mededingende hermeneutiese aansprake) in die afwesigheid van meer soliede waarheidseise en in die lig van die spesifiek Suid-Afrikaanse angst wat gepaard gaan met versnelde politieke en kulturele transformasie, kan die argief inhoud gee aan die reg waarvan Michell praat.

Vernuwing wat só gesien word (of in Mitchell se woorde “eksperimentalisme”, of “transformasie”, of in Suid-Afrikaanse politieke taal “dekolonisasie”), is nie gebaseer op vernietiging (dikwels gelykgestel met “ont-opleiding” of “in die steek laat”) en ’n gevolglike vervanging nie, maar op die dissiplinêre selfvertroue wat aanvanklik spruit uit ’n massa gegewens met presies die soort eienskappe wat vir ’n dissipline se erkenning nodig is. Op dié manier het die argief die moontlikheid om die enkele ruimte te word wat institusioneel geldig maar nie gekoöpteer is nie, waarbinne die sogenaamde ideologiese teenstrydigheid tussen behoudende en radikale benaderings opgeklaar word. Dít is waar die onderskeid tussen institusioneelheid en dissiplinariteit betekenisvol word. Die dissiplinêre inisiatiewe, soos ek dit in 2005 gesien het, sou beter gedien word as dit, minstens, volgens my siening, nie saamloop met wat institusioneel gebiedend noodsaaklik is nie. Domus het geïllustreer hoe ’n polities verwronge institusionele gebruik, voorgehou as dissiplinêre normatiwiteit, uitgedaag en verander word tot die dissipline se uiteindelike voordeel. Die argief laat ons toe om dít te doen, maar anders as die instelling waartoe dit slegs ’n bykomstigheid kan wees, weerstaan dit die druk om dit in die naam van die dissipline te doen. Dit is my oortuiging dat argiewe se vermoë om só te funksioneer, uniek belangrik is vir lande soos Suid-Afrika waar soveel van wat as “die dissipline” vermom word, verkalkte nabootsing is, beskerm deur wanopgevatte institusionele identifikasie tussen dissiplinêre en institusionele belange. Die argief dryf die pragtige kakofonie van die uitgestelde revolusie voort.

Openings versnel revolusies.
Openings kan nie bekostig word nie.
Openings is strategies.
Openings is morsig.
Openings verskaf nie afsluiting nie.
Openings is nie huishoudelik nie.
Openings is nie vrywillig nie.
Openings is nie versugtings nie.

Domus se tydelike tuiste, wat sedert sy ontstaan swewend was tussen enersyds ’n akademiese departement met eng-gedefinieerde institusionele en dissiplinêre belange teenoor andersyds die Biblioteek- en Inligtingsdiens, kon uiteindelik nie Domus se nomadiese, gebiedsonsekere aard finansieel onderhou nie, of die intellektuele en musikale ambisies daarvan bekostig nie. Onder druk om Domus institusioneel by die omvang van sy aanwinste én die energie van sy intellektuele en musikale projekte te formaliseer, het ek ’n proses aangepak om Africa Open – Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie – as ’n onafhanklike instituut in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe te vestig. Uit dié ontwikkeling is hierdie lesing se titel ontleen, want vir sover radikale oopheid, “om oop te word vir” of “oopgestel te word vir”, dui op daardie proses van ’n interne snit, is openings strukturele reaksies wat in werking tree teen die eenheids- (unitêre) of tweeledige (binêre) logikas van binne- en buitekant, van in- en uitsluiting; is openings in wese deurvloeibare ruimtes wat nuwe handelingsmoontlikhede bied aan institusionele raakpunte waar ons in wisselwerking tree.

By die Universiteit Stellenbosch is musiek al meer as ’n eeu geïnstitusionaliseer en, soos aangedui is, is veel van dit wat op musiekgebied by die universiteit bereik is, al wyd erken vir die lewering van nasionale maatstawwe in Westerse kunsmusiekuitvoering. Die beperkende normatiewe veronderstellings van ’n musiekdissipline wat as ideaal die skitterend gladde oppervlakke van gedissiplineerde vakmanskap aanneem, maak beide ’n krag en ’n swakheid uit: met die skep van normatiewe omstandighede vir Westerse kunsmusiekbeoefening maak die universiteit nou ’n vlak van musiekbeoefening op dié gebied moontlik wat ongeëwenaar in die land is. Aan die ander kant, indien daar in sulke normatiewe toestande gewerk word, ontvou die teenstrydighede wat in praktyke vervat is, nie doeltreffend in paradigmaskuiwe in nie. Gevolglik bly die interdissiplinêre opwinding van ons tyd uitgestel en die radikale optimisme van die onbekende bly onondersoek. Evoluering vanaf Africa Open se argiefwortels in Domus en die intensiteit van sy intellektuele en musiekprojekte in geïntegreerde navorsing deur uitvoering, komposisie, stelselsteorie, intermedialiteit, uiteenlopende interdissiplinêre rigtings, radikaal blootgestelde onderwerpsposisies, die rehabilitasie van polities en esteties verwerpte musiekvorme, gemeenskapsbetrokkenheid, verlewendigde vorme van musiekontleding en kritiese historiografie – alles beskrywings van my inspirerende en briljante studente se navorsing – is Africa Open gestig met die veronderstelling dat kennisskepping in Suid-Afrika nie beperk moet word deur epistemologieë, hiërargieë en teoretiese modelle wat tot die skep van Westers-oorheerste moderniteit gelei het nie.

Die instituut is dus verbind tot ’n artistieke en studieagenda wat dié opvattings uitdaag in die gees van streng ondersoek, moontlik gemaak deur die universiteit as laboratorium van nuwe idees en vorme asook die waarborger en voorsiener van ongehinderde ruimtes vir die vooruitgang van skeppende, vernuwende en ondersoekende denke. Met verloop van tyd sal Africa Opendie grootste, veiligste en tegnologies bes ontwikkelde ooptoegang-musiekargief in Afrika – Domus – daarstel, saam met die verskaffing van die voorpunt- en netwerkgerigte intellektuele ruimte vir navorsing, vernuwing en kritiese denke, toegespits op kreatiewe musiekprojekte in ’n Afrikaverband.

As “openheid” nie die “antropomorfiese begeerte om oop te maak” is nie, maar ’n “oopgemaak-word veroorsaak deur die handeling van om-te-open”,8 is dit in die openings na buite toe dat ons moet vorentoe gaan, in die “hierheen roep” deur die vestiging van aanlokkingslyne na buite (eerder as om te reis na bestemmings wat as “buite” geïdentifiseer is). Africa Open sal aansluit by die soort denke en skeppende werk wat diep insny in ons vermoë om te “akkommodeer”. Die toekomstige ontwikkeling van musiekstudies in Suid-Afrika hang af van radikale openheid, van oop wees soos wat dit deur die skep van openings geskied. Die 21ste eeu se jong musici en musiekgeleerdes word nie net met die kunsmusiek van Westerse moderniteit in hul ore groot nie, maar ook met die ryke opname-erfenisse van jazz en ’n verbysterende spektrum van populêre- en wêreldmusiekvorme. Met die wye uitmonding van 20ste-eeuse musiekuitdrukking agter ons moet enige musikale ruimte wat hoop om interessante skeppende werk aan te moedig, respek hê vir die rykste verskeidenhede van alle agtergronde, tradisies en ontstaansgeskiedenisse se musikale uitdrukking. Ons moet van oral af die musiekvorme van kulture en samelewings anders as dié waaraan ons gewoond is, hierheen bymekaarroep: dié van intieme oorpeinsing, verbeelde tradisies, musiekvorme van ontkenning en weerstand, dié wat aan spesifieke geskiedenisse verbind is, dié van skokke of onderhandeling of oproer, musiek wat binne groot nasionale tradisies gesetel is, gewelddadige musikale verklarings van afwykendheid, gebeure, uitdagings, meditatiewe religieuse musiekekstases, musiek wat strek van streng prosesse tot vrye keuse, musiekvorme van stilte en transfigurasie – klank in al sy kaleidoskopiese grootsheid.

Africa Open voorsien uitgestrekte nuwe velde van akademiese en skeppende werk in musiek, of dit nou die jazzstudies en die argiefprojek is waarmee ons hoop om aandag aan onverdedigbare leemtes te gee deur die institusionalisering van ’n ryk en internasionaal invloedryke Suid-Afrikaanse musiekpraktyk; die vestiging van ’n interdissiplinêre forum vir populêre musiek wat gemik is op die beëindiging van die onverdedigbare skeidslyne tussen “hoog” en “laag” soos wat ons akademiese departemente dit laat voortbestaan; die skep van publikasieplatforms om skeppende werk akademies uit te gee volgens voorwaardes soos bevorder deur die noodsaaklikhede van sulke skeppende werk eerder as deur instellings- of dissiplinêre dogma; die gebruik van tegnologiese ontwikkelings om musiekkomposisie, -uitvoering en -navorsing aan te bied op maniere wat selfs tien jaar gelede nog ondenkbaar was; die rig van uitnodigings aan musici as lewende argiewe om by ons instellings te kom werk en doseer en ons akademiese kortsigtigheid oop te kloof; of die skerpgemaakte gereedskap van ons dissipline in te lê vir die aanlok van musiekvorme en -praktyke wat ons tot nou toe eenkant toe geskuif het, én om dit wat ons agtelosig omhels het, beter te begryp en te waardeer. Die instituut sal musiek aan die kunste herverbind sodat komponiste en musici nie kultureel en intellektueel onsigbaar is nie; sal uitvoeringsgeleenthede vereer as openings wat van binne af verwond; sal die interdissiplinêre werklikheid van musiek in die wêreld kragtig najaag, die wellustige krag vier van in en deur klank te dink; en sal die vernietigende interne politiekerye en die ideologiese geredetwis van Suid-Afrikaanse musiek, wat onvermydelik uit die Suid-Afrikaanse verlede spruit, intellektueel aanvat. Dít is die uitdaging: om ons te verbind tot ingewikkelde kwessies, nie om geskille te besleg nie, maar om daardeur oopgestel te word.

In die loop van sy betoog om “The Open” te teoretiseer deur die verwantskap tussen mens en dier te oorweeg, staan Giorgo Agamben stil by die belangrikheid van die groot 20ste-eeuse soöloog Jakob von Uexküll se werk, voordat hy oorweging skenk aan Heidegger se worsteling met intense verveling.9 In ’n kort hoofstuk bestee Agamben tyd vir nadenke aan Uexküll se omskrywing van die begrip Umwelt (“omgewingswêreld” vertaal hy dit) en Umgebung (wat hy vertaal as “die objektiewe ruimte waarbinne ons ’n lewende wese sien beweeg”). Binne dié twee verbande, skryf Agamben, “bestaan daar geen unitêre wêreld nie, net soos daar geen ruimte en tyd bestaan wat dieselfde en gelyk is vir alle lewende dinge nie”.10 Uexküll veronderstel ’n “oneindige verskeidenheid van perseptuele wêrelde wat, hoewel hulle niekommunikerend en wedersyds eksklusief is, almal ewe perfek is en geskakel is asof in ’n reuse musikale partituur”.11 Vir Uexküll is die funksionele verwantskap tussen dié wêrelde ’n “musikale eenheid” tussen heterogene elemente wat “perfek ingestem” is en gee dit uitdrukking aan “die teenstrydige toevalligheid van […] wedersydse blindheid”.12 Die beweging tussen perseptuele wêrelde word vir Agamben ’n probleem van “om die grens te definieer – tegelyk die verwydering en die nabyheid – tussen dier en mens”.13 As Agamben erken dat die bewoning van dierewêrelde deur die gehalte van dierebetowering ’n “meer betowerde en intense openheid as enige soort mensekennis” kan wees, terwyl hy terselfdertyd die gevolgtrekking maak dat dié soort ongeëwenaarde hartstog van betowering in ’n bepaalde wêreld “geslote in algehele ondeursigtigheid” is omdat dit oop is in ’n nie-onverdoeseldheid, of oop tot ’n geslotenheid,14 dan verskaf hy nie net nadenke oor die menslike toestand nie, maar ook ’n metafoor vir die oopheid van instellings en dissiplines.

In dié verband staan Africa Open op die drumpel van ’n tevoorskyntreding nie soseer vanuit nóg-oop-nóg-geslote strukture wat nie radikale oopheid kan bekostig nie, as vanuit die intense verveling van daardie wedersyds eksklusiewe strukture met die onaktiewe, leë, agtergelate, in afwagting hangende kontekste waardeur hulle nie histories of ideologies betower word nie.

Africa Open rig die teleskoopvisier buitentoe vanuit die intensiteit van ons betowering deur ons partikuliere musikale hebbelikhede, om ’n skerp beeld te kry op ’n reusagtige musiekpartituur wat ons aanlok om ’n teiken te word vir wat daar buite is. Groot geskryf onder die titel Openings is die uitvoeringsaanduidings:

Openings is altyd HIER.
Openings is altyd NOU.

 

Eindnotas

 

1 Michel Foucault, The archeology of knowledge and the discourse on language, vert AM Sheridan Smith, Pantheon Books: New York, 1972, bl 215.

2 Die konferensie met die tema “Echoes of Empires: Musical encounters after hegemony” is gedurende 14–17 Julie 2010 by die Departement Musiek, Universiteit Stellenbosch, gehou, aangebied in samewerking met die South African Society for Research in Music (SASRIM).

3 Fontes Artis Musicae, 54:3, 2007.

4 Eoan Group Project. Eoan – Our story, ed. Hilde Roos en Wayne Muller, Johannesburg: Fourthwall, 2013.

5 An inconsolable memory, Aryan Kaganof, 2014.

6 Vir ’n vollediger weergawe van Domus se eerste tien jaar, kyk Santie de Jongh, “Armed with a light bulb at the end of a chord: The ten-year journey of DOMUS”, Fontes Artis Musicae, 62:3, 2015, 212–21.

7 Art, fate, and the disciplines: Some indicators, Critical Inquiry, 35:4, 2009, 1031.

8 Reza Negarestani, Cyclonopedia: Complicity with Anonymous Materials, Melbourne: re.press, 2008, 199.

9 Giorgio Agamben, The Open: man and animal, vert Kevin Attell, Stanford: Stanford UP, 2004. Oorspronklike uitgawe: L’aperto: L’uomo e l’animale, Bollati Boringhieri, 2002.

10 Ibid, 40.

11 Ibid, 40.

12 Ibid, 41–2.

13 Ibid, 59.

14 Ibid, 59.

Lees ook ’n onderhoud met Stephanus Muller oor die dekolonisasie van musiek.

The post Stephanus Muller, intreerede as nuwe professor in Musiek, Universiteit Stellenbosch, gelewer op 10 Mei 2016 appeared first on LitNet.

Onderhoud met Ingrid Glorie: Deelnemers van Week van de Afrikaanse roman 2017 bekend

$
0
0

5Die name van die Afrikaanse skrywers wat in September en Oktober op ’n literêre avontuur deur die Lae Lande gaan, is bekend. Naomi Meyer gesels met Ingrid Glorie, koördineerder van die derde Week van de Afrikaanse roman.

Hallo Ingrid! Ek hoor die derde Week van de Afrikaanse roman word gehou van 29 September tot 8 Oktober 2017. Ek dog die Week is ’n tweejaarlikse gebeure. Die laaste een het in 2016 plaasgevind. Hoekom so gou al weer ’n nuwe ronde?

Hallo Naomi, lekker om met jou te gesels! Jy is reg. In beginsel is daar elke twee jaar ’n Week van de Afrikaanse roman. Ons het begin in 2014 en ons het verlede jaar, in 2016, die tweede edisie beleef. So mens sou dink die derde Week moet dan in 2018 plaasvind… Maar in 2016 het ons in Nederland ook die terugkeer van die Festival van het Afrikaans gesien, nou onder ’n nuwe naam: die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (AKA). So skielik was daar toe twéé groot byeenkomste rondom Afrikaans in die Lae Lande. Dit was wonderlik, maar dis jammer om in een jaar twee feeste te hê en dan die volgende jaar niks nie. En natuurlik was dit ook ’n dubbele belasting vir ons borge. So nou het ons besluit om in 2017 weer ’n Week te organiseer. Van dan af sal dit telkens in die onewe jare gehou word (2017, 2019 …) en die AKA in die ewe jare (2018, 2020 …). Dis kort dag om weer ’n volledige Week van de Afrikaanse roman te organiseer, en ons is dan ook versigtig in ons ambisies. Maar ons het vandat ons in 2014 begin het, heelwat ondervinding opgedoen en ’n lekker netwerk opgebou. Ons hoop ons partnerorganisasies in Nederland en Vlaandere, ons borge én die gehore sal ons by hierdie vinnige stap ondersteun.

En nou … Moenie ons verder in spanning laat nie! Ek hoor die deelnemers van die Week van de Afrikaanse roman 2017 is bekend?

ingrid-winterbach-brenda-veldtman

Ingrid Winterbach (Foto: Brenda Veldtman)

Hulle is! Die skrywers wat gaan deelneem, is Willem Anker, Amy Jephta, Rudie van Rensburg en Ingrid Winterbach. Dan kom ook Suzie Mathlola van die ATKV se Afrikaans-in-Soweto-projek saam. En niemand minder nie as Andries Bezuidenhout gaan ons feeskunstenaar wees! Dit is gedugte skrywers, sprekers en kunstenaars. Wat die groep vir my nog meer interessant maak, is dat daar ’n hele paar dubbeltalente by is. Dit beteken ons kan verbindinge lê met die wêreld van die musiek, die teater, die beeldende kuns én die akademie. Vir die Week om suksesvol te wees, gaan dit ook nie net om optredes voor ’n so groot moontlike gehoor nie. Die kontakte wat die skrywers opdoen, die uitwisseling met Nederlandse en Vlaamse kollegas en die blootstelling aan alles wat Nederland en België op kulturele vlak te biede het, is net so belangrik. Ek kan nie wag om te sien waartoe dit alles gaan lei nie!

Is daar al iets bekend oor die invulling van die program?

amy-jeptha

Amy Jephta

Nee, nog niks definitiefs nie. Ons gee onsself twee maande om die program saam te stel. Met die Week van de Afrikaanse roman werk dit mos so dat ons eers die skrywers nooi en dat ons vervolgens plaaslike organisasies vra om ’n byeenkoms met die skrywers te organiseer. Verlede jaar het ons byvoorbeeld saamgewerk met die Universiteit van Amsterdam, die Letterkundige Museum in Den Haag en Vlaams-Nederlands Cultuurhuis deBuren in Brussel. Dit is waar dat ons ’n groot deel van die fondse vir die reis- en verblyfkoste van die skrywers van Suid-Afrikaanse borge kry. Maar die plaaslike vennote in Nederland en Vlaandere gee vir ons ’n saal, publisiteit, ’n redaksie, ’n moderator, lig en klank … Eenvoudig álles wat nodig is om ’n byeenkoms prakties moontlik te maak. Dit is ’n “skenking” wat al gou ’n paar duisend euro werd is.

Wat nuut is, is dat die skrywers tot dusver altyd net in Amsterdam tuisgegaan het. Ook wanneer ons in België opgetree het, het ons laataand nog vanuit Leuven of Brussel teruggery Amsterdam toe. Om op een vaste plek te bly, het ’n sekere rus in die warrelwindprogram gegee. Maar die lang afstande was natuurlik ook uitputtend. Hierdie jaar, vir die eerste keer, begin ons in Nederland en trek ons halfpad deur die Week België toe. Ek dink dis ’n goeie manier om te wys dat Nederland en Vlaandere ’n gelykwaardige aandeel in die Week het.

suzie-mathlola

Suzie Mathlola

Ek merk op jy praat van “ons”. Ek onthou jy het die Week in 2014 byna stoksielalleen begin. Wie is hierdie “ons” van wie jy praat?

andries-bezuidenhout-zw

Andries Bezuidenhout

Bly jy vra! Ná daardie eerste edisie in 2014 het al hoe meer mense in die Week begin glo. Karen Vegt, wat vroeër by Sasnev in Pinelands gewerk het, was van die begin af betrokke as IT-deskundige. Jente Rhebergen, wat al ’n hele paar keer vir studies in Suid-Afrika was en wat die mooiste Afrikaans praat, het in 2014 gehelp met vervoer en sy het van toe af ontwikkel as my regterhand vir die Nederlandse deel van die Week. Van hierdie jaar af gaan Laura Engels, student aan die Universiteit Gent, my werk as koördineerder in Vlaandere oorneem. En dan kom Marisa Botha, ’n letterkundige van NMMU (PE) wat vir twee jaar in Amsterdam gevestig is, ook by. Dit is die “harde kern”. Verder is daar mense op wie se kennis en ondervinding ons enige tyd kan staat maak, soos Ingrid Scholtz van Stichting Afrinetwerk, Corinne Vuijk van Mozaïek Uitgewers en Frank Judo van die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting. En daar is nóg. Verder is daar troue vrywilligers soos Maurice Jorissen en Elize Zorgman, wat help met logistiek en “hand-en-spandiensten”. Ons is niks sonder hulle nie!

Ek kom agter dis vir party mense moeilik om te verstaan die Week behoort nie aan een spesifieke organisasie nie. Ek het al gelees mense dink die Week is ’n projek van dese of gene universiteit of van ’n ander kulturele instelling. Maar dis nie waar nie. Die Week behoort ook nie aan een land of een stad nie. Soos dinge nou staan, is ons maar net ’n klompie vrywilligers wat bereid is om ’n groot deel van ons tyd in hierdie projek in te sit. Die feit dat ons onafhanklik is, stel ons in staat om met énige uitgewer, universiteit, boekwinkel, teater of biblioteek saam te werk.

Vir my is die uitbreiding van die span natuurlik ’n groot verligting. Nou het die Week ’n kans om ook in die toekoms te oorleef. Dis ook gesond om van verskillende kante insette te kry. Ek verwag daar sal, in die manier waarop die Week georganiseer word, al hoe meer ruimte kom vir kreatiwiteit en verdieping.

Klik hier vir meer inligting oor die Week van de Afrikaanse roman.

  • Foto's: verskaf

The post Onderhoud met Ingrid Glorie: Deelnemers van Week van de Afrikaanse roman 2017 bekend appeared first on LitNet.

LitNet: Jou kompetisie


Net woorde

$
0
0

Met woorde kan elkeen na eie keuse sonde en 'n hel hê. Daarsonder kan hy net lewe.

CM

The post Net woorde appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Marlené Veldman se inskrywings

$
0
0

Waar is jou huis,
Waar voel jy veilig en tuis?
Vier mure om jou gebou,
Wie word daar gehuisves,
Wat word daar binne gehou.

Kinders hardloop, speel en lag,
Om die tafel gaste wat op etes wag.
Beddens in donsvere, snoesig en sag.

Hierdie is my huis,
hier is ek veilig, hier voel ek tuis.
Almal is welkom om in te loer.
Let wel, jy mag kuier, nie hier boer.


Ek soek na jou, ek kyk verwilderd om my rond.
My hart is onstuimig, hy is rou, seer, gewond.

Waar is jy, waar kan jy wees?
My oë was toe, het ek jou tekens maar gelees.

Party dae was vreugde, lag en juig,
Ander hartseer, afsydig, koud ... bevrees.

My hart was jou huis,
ek het gevoel daar binne was ons liefde tuis.
Het ek my dit alles verbeel?
Want duidelik was jou hart in twee verdeel.

Nou is jy weg ...
My hartshuis is leeg.
Hoe gaan mens aan, hoe kan jy weer aanbeweeg?


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Marlené Veldman se inskrywings appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Paul Partoeval se inskrywing

Huis, woning, tuiste: My cottage in die Kaap

$
0
0

My cottage in die Kaap

Vir hierdie pelgrim is daar geen rus
soekend na jou in die bos waar jy nou is
swerwend deur die woestyn van beton en glas
smag ek na die enigste huis wat daar ooit vir my was.

Ek verlang na die holtes van jou hand
koud, knus en bo my verstand
en die voue van jou glimlag
wat my gespe soos ’n winter-wolkombers terwyl ek wag
dat jou vingers die sitkamerstel van my siel betas.

Vuisvoos gevlug
onthou ek die lig
wat deur die blou vensters bo jou wange
bars en weer heel  maak die krake in my gange.

Nou kan ek net hoop
die kamers van jou hart bly oop;
ek probeer terugkeer soos die verlore seun
na jou , my huis van vel en been.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: My cottage in die Kaap appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Drumpel

$
0
0

Drumpel

Blare, altyd neffens die traliehek voor die deur
Knars van sleutels, dan die geur
Sug van verligting

Gooi alles neer, diere, kinders verg aandag
Nat neusies maak alles draaglik

Die bekende geklap klap van blindings as die wind waai
In die na nag kreun en sug dit êrens
Troostend in die wete
Jy is vir my bedoel

Jy staan wag oor my
Sus my sag


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Drumpel appeared first on LitNet.

Viewing all 21877 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>