Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21832 articles
Browse latest View live

My neef James

$
0
0

Ek het paar keer al van hierdie dude se dade vertel. Sy wandade is so legendaries dit maak hom half na die beter kant toe neig.

Hom leer ken as die wilde bliksem wat destyds dit kon regkry om weg te raak in Hillbrow toe dit nog half beskaafd en tog wild was. Nou waag nie eens die SAPD dit meer daar tensy hulle verbonde is aan een of ander kartel nie. En hy kon tog gevind word al was hy net hoger as 'n skoenboks of twee. Want dit was toe nog veilig al was jy wild en nou moet jy 'n politikus of Nigeriër wees om veilig deur een van ons top buurte te beweeg en steeds dink ons Afrikaanse media en politici dat Hillbrow 'n cool plek is ...

Nietemin en voor ons te gou morbied raak: My neef James se storie sal volumes volmaak en ons kan dalkies 'n paar hier deel eendag. Kry die tyding: Via 'n tante van 'n vriend van 'n vriend wat by die bed sit en dophou: As julle wil kom groet sal julle moet kom, want vandag is die dag. Never mind die feit dat ek hierdie einste tyding reeds vyf of ses keer gekry het oor einste my neef James nie. Want dood wil hy doodgewoon net nie. Want ons los mos nie dinge sommer net so nie. Nie ons Skotte nie ...

Ry al die pad tussen die bliksemse GP karre se chaotiese verkeerschaos deur want ons weet mos as dit Desember is vergeet almal wat hulle met die Magiese K53-parkeerlesse geleer het en so sit ons en ek’s haastig en James is aan’t doodgaan en die wêreld se oues en vakansiegangers is verdwaas oor die blou dam net links van hulle. Snotneus verveelde en bedorwe gebroedsels staan en suig aan duur Cornettos en pappie kyk na mammie en wens sy wil verdomp net nie probeer om met 'n bikini op die strand te verskyn nie want hy is al lankal gatvol gelieg om te beduie hoe goed sy daarin lyk.

Ek sit langs James se sterfbed en ek wonder oor sy sterfte want ek het al 'n paar keer sy doodstyding gekry en verniet loop groet. Hom netso hoor roggel soos vandag. Maar nog nie so geel en afgetakel gesien nie. Want geel is lewer en as die lewer gegaan het is jy soos hulle hier rond sê gefok. Selfs my ou dok beduie met sy duim afwaarts en my ou Dok is altyd reg.

Ek vra vir James of hy kondome nodig het want getrou aan die Wes-Kaapse gesondheids-whatever is daar nie genoeg beddens by die manne nie so hulle het hom maar in die vrouesaal loop laat lê om dood te gaan of dood te veroorsaak. Ek vra hom of hy kans sien vir 'n paar van die gevalle en hy lag en beduie ek’s fucked up, want hy kan nie eens opstaan nie. Never mind nog jonges bykom.

In die Designer Wes-Kaapse hospitaal strompel drie dronkes in pantoffels rond en ons lag vir die een wat terroriste soek en die ander twee dwaal net rond, slurp my en jou tax op, want hulle loop in die designer drag van die Wes-Kaapse gesondheidsorg rond. En My neef lê en roggel, want die staat het doodgewoon nie genoeg geld om sy antiretrovirals te betaal nie en ek sien hoe privaat hospitaalgroepe verlede jaar biljoene rande se wins aan hul aandeelhouers besorg het.

En jy wat hier lees is waarskynlik een van hulle aandeelhouers.

Ek groet my neef en ek groet hom met die klassieke lieg: Sien jou more ... bel my ok ...?

Ek ry weg en ek bekyk die plek want ook ek het, uit beginsel uit, nie mediese "versekering" nie en is net so gefok soos hy. En eks nie eens hartseer nie. Want dis hoe dit is.

oester

The post My neef James appeared first on LitNet.


Wenner: LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2016

$
0
0

 

Braam de Vries

Die wenner van LitNet se Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie 2016 is pas bekend.

Braam de Vries wen R1000 vir die woord "staatskaping".

Baie geluk, Braam!

Omdat meer as een inskrywing van hierdie woord ontvang is, is die wenner deur middel van 'n trekking bepaal.

 

Hier is nog agtergrond van die kompetisie: 

'n Woord kan 'n tydsgees vasvang.

In 2013, toe LitNet die eerste keer LitNet se Suid-Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie aangebied het, was die woord op almal se lippe "e-tol".

Een van 2014 se mees emotiewe woorde was "beurtkrag". (Sien "Woorde van 2014", deur Willem Botha en die WAT.)

In 2015 was daar vuurwarm diskoers rondom studenteprotes en hutsmerkveldtogte. Die # is aangewys as wenner.

Besoek hierdie kategoriebladsy om vanjaar se inskrywings te bekyk.

Die kompetisie is geloods om uit te vind watter ontstellende, prikkelende en aktuele Afrikaanse woorde in 2016 op almal se lippe was.

 

The post Wenner: LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2016 appeared first on LitNet.

Kunste Onbeperk-teksmark: 'n Dag saam met Tom Lanoye

$
0
0

Suid-Afrikaanse teater 101

  • Suid-Afrika is so 'n diverse land dat ons as Suid-Afrikaners almal verskillende borrels bewoon - en ons verstaan nie altyd mekaar se omstandighede nie.
  • Party mense het geld vir teater, en kom nog steeds nie teater toe nie. Ander het nie geld vir teater nie, en hulle gaan ook nie.
  • Sommige teatermense ondersteun mede-teatermense. Daar is nie altyd nuwe bloed in die teater nie.
  • Daar is belangrike teaterinisiatiewe soos die Teksmark en Kunste Onbeperk; teatermense moet hieromtrent ingelig wees. Daar bestaan dus geleenthede as jy daarvoor soek.
  • Woon teaterproduksies by: as jy vir teater wil skryf, moet jy teater ken.
  • Partykeer werk die sosiale media as lokmiddel.
  • Partykeer nie.
  • Dit mag dalk help om gratis kaartjies weg te gee, 'n gehoor op te bou wat andere trek om die volgende aand te gaan kyk.
  • Ander kere nie.
  • Partykeer help dit om oor warm onderwerpe te skryf, oor dinge waaroor almal praat.
  • Soms help dit om alle belangrike temas te ignoreer en net iets nuuts en wonderliks te skep.
  • Hoe kry ons mense in die teater? Daar is nie altyd antwoorde nie.
  • Die staat moet bereid wees om geld te gee en te befonds.
  • Daar moet kunsterade wees wat vir teatermense sorg.
  • Nuwe stemme is nodig.
  • Die ouer, gevestigde teaterskrywers is noodsaaklik sodat die jonges by hulle kan leer.
  • Dit gaan goed met Afrikaanse teater.
  • Dit gaan sleg met Afrikaanse teater.
  • Teater moet mense se koppe skuif, hulle anders na die lewe laat kyk.
  • Dit is nodig om tegniese vaardighede aan te leer om vir die teater te skryf.
  • Shakespeare het nie net die regte woorde gebruik nie, hy het ook byna-wiskundig woorde op die regte tyd gebruik.
  • As jy 'n akteur is: Klem op die regte woord in die regte plek van die sin is belangrik.
  • Iemand moet kinders van kleins af opvoed.
  • As jy 'n roman skryf, skryf jy alleen. As jy vir die teater skryf, gaan jy spanwerk moet beoefen - akteurs, regisseurs en al die res van die teatermense gaan jou woorde op hul eie manier interpreteer en dit voorstel/uitbeeld op 'n manier waaroor jy nie altyd beheer het nie.
  • Moenie dink dat Europa niks van Afrika verstaan nie.
  • Moet ook nie dink dat dinge in Europese teater net soos hier werk nie.

'n Paar gesprekspunte tydens 'n dinkskrum met Tom Lanoye as fasiliteerder. Die geleentheid?

Kunste Onbeperk het in samewerking met die Vlaamse regering (België) en SASNEV op 13 Desember 'n werksessie met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye aangebied. Hierdie was die eerste in 'n reeks van meesterklasse en werkwinkels met internasionale skrywers as deel van die Teksmark-inisiatief.

Waarom 'n teater-dinkskrum saam met Tom Lanoye?

Wie is hy?

tomlanoye650_naomibruwer

Tom Lanoye (foto geneem deur Naomi Bruwer tydens US Woordfees 2016)

Agtergrond van Tom Lanoye

Tom Lanoye (1958) is ’n skrywer, digter, dramaturg, joernalis, vertaler en kritikus. Hy woon en werk in Antwerpen en Kaapstad. Hy is een van die mees gelese en bekroonde skrywers in sy taalgebied (Nederland en Vlaandere). Sy werk is reeds in meer as twaalf tale vertaal en opgevoer. In 2013 is hy vir sy volle oeuvre met die gesogte Constantijn Huygens-prys bekroon. Die eer het al skrywers soos Hugo Claus en Harry Mulisch te beurt geval.

Sy romans Sprakeloos, Kartondose en Gelukkige slawe het reeds in Afrikaans verskyn – al hierdie werke is vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea Boekehuis. Twee van Lanoye se toneelstukke is al in Afrikaans opgevoer in Suid Afrika, beide onder regie van Marthinus Basson: Mamma Medea (vertaal deur Antjie Krog) in 2002 en Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles (vertaal deur Basson) in 2014.

Coenraad Walters skryf oor hom in hierdie resensie:

Tom Lanoye is ’n veelsydige en produktiewe skrywer van onder meer gedigte, rubrieke en dramas. In sy prosa-oeuvre kan veral drie strominge aangetoon word: die outobiografiese (soos Kartondose, wat hy in 1996 by die KKNK in Oudtshoorn opgevoer het, en die onlangse Sprakeloos), die magies-realistiese (wat ek veral in sy kortverhale raakgelees het, soos dié wat in ’n Slagterseun met ’n brilletjie opgeneem is), en dan ’n soort hiperrealisme, met romans wat bevolk word deur karakters wat ongewone omstandighede en avonture beleef, soos Gelukkige slawe.

Toe Geraldine Reymenants, afgevaardigde en algemene verteenwoordiger van die Vlaamse regering in Suid-Afrika, hom tydens die teatergespreksdag aan die woord stel, bevestig sy dit: "He is a very famous Flemish writer."

Hy is al bekend van sy werk Kartondose af, en mense ken sy werk. Behalwe skoolkinders, want sy werk was "te obseen" om voorgeskrewe werk te word, glimlag sy.

Hy skryf wel oor baie belangrike dinge, sê sy. Oor België, en wat daarmee verkeerd is.

Sy kyk vir die gehoor: "Our politics need to change."

Die Suid-Afrikaners knik almal. Toe hier 'n verwysing is na 'n land waarvan die politieke omstandighede aangespreek behoort te word, is daar 'n raakpunt tussen hierdie land en die land waarvandaan Lanoye kom.

In die vertrek is ongeveer twintig mense - verteenwoordigers van Kunste Onbeperk, die Vlaamse ambassade en SASNEV, skrywers en belangrike rolspelers in die teaterbedryf:

Rozanne Vos, Willem Anker, Tertius Kapp, Deon Maas, André Gerber, Malan Steyn, Geraldine Reymenants, Ingrid Winterbach, Antjie Krog, Philip Rademeyer, Amee Lekas, Marthinus Basson, Hugo Theart, Wessel Pretorius, Jason Jacobs, Ameera Conrad, Amy Jephta, Albert Maritz, Retief Scholtz, Stephina Zwane, Jan Mouton, Eureka Barnard en Ena Jansen.

Malan Steyn, Geraldine Reymenants, Philip Rademeyer, Ingrid Winterbach en Antjie Krog (foto: Hugo Theart)

Die samekoms met Tom Lanoye het voortgevloei uit 'n vorige Teksmarkgeleentheid (hier is agtergrond).

'n Oorsig van Tom Lanoye se aanbieding

Lanoye praat in Engels, want hy weet almal hier verstaan nie noodwendig Vlaams óf Afrikaans nie.

  • Teater = taal
  • Taal = teater

"Why I love theatre and Afrikaans," sê hy. "For me, theatre is language."

Daar is altyd oor-en-weer-oorvleueling en kruisbestuiwing.

Hy weet van omgewings waar kruisbestuiwing plaasvind. Hierdie skrywer-dramateksskrywer, verstaan van verskillende omgewings en hoe dit by mekaar aansluit. Sy ma was immers 'n aktrise.

Persoonlike lewe

Sy pa, vertel Tom Lanoye, is 'n slagter. En hy vra die gehoor: kan jy jou 'n meer teatrale en 'n meer basiese beroep indink? Jy werk met 'n dier se vleis.

En my ma, gaan hy voort. Sy het Italiaanse bloed in haar gehad. En daarmee saam iets van die teatrale geaardheid van die Italianer.

By haar het ek geleer: 'n ma oordramatiseer. Ek het 'n privaatmitologie geleer: 'n ma, om beheer te behou oor die gesin, moes veins of voorgee om 'n hartaanval te kry by elke denkbare geleentheid.

In sy huishouding, vertel hy, het hy geleer om Arthur Miller te lees toe hy so sewe of agt was.  Sy hele ouerhuishouding was 'n verhoog/teatrale omgewing. Sommige daarvan, dink ek terwyl ek na hom luister, het hy later as teatraal ervaar: soos die simbool van sy pa die slagter. Sy ma, as die een wat hom teater met moedersmelk ingee, was meer voor die hand liggend.

(Persoonlike aantekening: Wikipedia het my niks van sy moeder vertel nie. Die enigste verwysing na haar, is die feit dat hy oor haar geskryf het - sy boek Sprakeloos handel oor hoe sy haar spraak verloor het ná 'n beroerte.)

Hier praat hy verder oor haar: om teaterwerke te kon lees en om 'n ma te hê wat hom na die kleedrepetisies neem, het hom beïnvloed.

Sy het my gereedgemaak, vertel hy. Sy het my gereedgemaak, want ek het gesien hoe sy háár voor die spieël gereedmaak. Sy ma was dus betrokke by die teater.

Sy ma se gedrag en wie sy is het die weg vir hom gebaan, hy het teater ingekry deur middel van alles wat hy waargeneem het. En sy pa, so 'n simboliese en tog basiese beroep.

Hy wil oor iets anders gesels, sê hy. Die trauma van sy ma wat 'n beroerte gehad het. Sy het gedink sy praat Vlaams, maar inderwaarheid het sy onverstaanbaar gepraat.

Jou moedertaal-aanleerder kan haar taal verloor. Die een wat vir jou jou moedertaal geleer het, kan haar eie taal verloor.

En toe lees hy voor uit sy boek wat oor hierdie tema handel, hoe die een wat hom leer praat het en hom gevorm het, haar spraak verloor: Sprakeloos.

"Ons longe raak vol water, inderwaarheid is ons dit: visse met pretensie."

As mens die storie van Lanoye se ma verstaan, verstaan jy waarom taal en teater vir hom so belangrik is.

Waarom het Lanoye vir die teater begin skryf?

Hy wou nie onderwyser word nie, hy wou skryf. Dus het hy begin skryf vir die teater, want daarmee kon hy geld verdien.

Willem Anker, Tertius Kapp, Deon Maas, André Gerber, Malan Steyn en agter: Jan Mouton (foto: Hugo Theart)

Taal, teater en politiek

Die vorige ambassadeur van België en ook voorheen op die bestuur van die SBA, Jan Mouton, steek sy hand op en kry 'n spreekbeurt.

Taal is deel van ons identiteit, sê hy.

Ons as Vlaminge ken die belang van taal. Frans is anders, dis 'n wêreldtaal.

"We (die Vlaminge) knew that language was going to be our way of surviving. Language was our way of surviving."

Toe Lanoye weer aan die woord is, beklemtoon hy die politieke belang van taal. 'n Taal is 'n politieke standpunt.

Daar bestaan in Vlaandere 'n behoefte om taal en identiteit te verbind.

Maar taal was ook protes - vir hom wat Lanoye is. Deur in 'n sekere taal te skryf het jy geprotesteer, al het jy geskryf in 'n taal wat voorheen 'n slagoffer was, of 'n identiteit probeer afdwing het.

Met my taal wou ek 'n ander image skep van Vlaandere as juis hierdie byna-meerderheidsgevoel, sê Lanoye.

Terwyl hy praat, besef almal dit word 'n gesprek oor 'n ander land, oor hierdie land waar ons is. Hoe het ons hier beland, hier waar ons vandag is? Ons wat die vermenging van taal en identiteit ken, weet presies waaroor Lanoye praat. 

Eureka Barnard, Tom Lanoye, Geraldine Reymenants en Hugo Theart

Hoe leer mens om vir die teater te skryf?

Raad vanaf Tom Lanoye:

  • Gaan woon teater by, "even the shitty productions".
  • Wees geïnteresseerd in teater, lees teater, kyk teater.
  • Jy moet kan verduidelik (aan jouself, en aan ander mense) waarom jy iets herskryf, soos 'n werk van Shakespeare. Daar moet universele temas en waarhede wees.
  • Om na ander mense te luister voordat jy begin skryf, is belangrik.
  • Teater is spanwerk: "Team and time".
  • Daar moet tyd verloop vir 'n stuk én sy karakters om op mekaar te kan inwerk, "om potjieskos te kan raak".

Europa soos Afrika, Afrika soos Europa?

'n Vraag van Ingrid Winterbach - hoe maak mens met al die nuwe invloei van vlugtelinge in Europa? Hoe beïnvloed dit teater? - vestig aandag op 'n gekompliseerde en belangrike kwessie in Europe.

Lanoye reageer hierop: Die teatergehoor in Europa is steeds hoofsaaklik ryk, opgevoed en wit. Daar is nou eers vlugtelinge wat begin universiteitskwalifikasies kry.

Toe Marthinus Basson later vertel van sy ervaringe in België in die laat-tagtigs en vroeë-negentigerjare, hoor almal die raakpunte tussen die Suid-Afrikaanse en die Europese konteks. Teatergehore se koppe moes geskuif word.

Basson is wel baie positief oor die aktiewe teateromgewings in die kleinste Europese dorpie. En hy meen 'n definitiewe aspek om in Suid-Afrika aan te spreek, is om skoolkinders van kleins af op te voed en teater toe te stuur as deel van die skoolkurrikulum.

Nou vra Lanoye vir Basson: waarheen het jy teruggekom, in die negentigerjare?

Basson sê: Die kunsterade was besig om te ontbind, befondsing sou verander. 'n Groter spektrum van stemme, meer invalshoeke. Dit was wat móés gebeur. Ongelukkig het dit nie gebeur nie. Befondsing het nie na wense en op hierdie manier plaasgevind nie.

Wessel Pretorius, Jason Jacobs, Marthinus Basson en André Gerber

'n Optekening van die gespreksessie en die kernvrae: Waar is die teatergangers? Hoe kry ons mense in die teater?

Lanoye: Al die mense wat sê Afrikaans is onder druk, kan gerus een boek per drie maande koop of een teaterstuk per paar maande bywoon. Ondersteun dus finansieel, nie net in woorde nie.

Teater word verkeerd verpak, meen Rozanne Vos. Mense is so oorgestimuleer - mense moet ingelok word, en dit moet werklik besonders wees. Waar is 'n speelvlak?

The arts industry is supporting the arts industry.

Nog 'n standpunt, Ameera Conrad van die Baxter: mense het nie die geld om eens by die teater uit te kom nie, wat nog te sê die geld vir die teaterstuk te betaal. Ons kan nie 'n produksie op die planke bring as die mense vir wie ons dit skryf, nie kan kom kyk nie.

Maar nou is daar ander dinge waarop mense geld sal spandeer. Hulle sal betaal vir 'n skouspel, of vir sokker. Selfs in Europa, sê Lanoye. 

Ameera Conrad, praat oor 'n produksie by die Baxter waar mense gratis kon kom kyk. Op die ou end was hul kapitaal mense se sosiale media-gesprekke. Die nuus het versprei. En die produksie word dan uiteindelik goed ondersteun.

Deon Maas meen Afrikaanse teater is nie in die moeilikheid nie, wit Afrikaanse mense is steeds die rykste mense. Xhosa-teater is die soort teater wat in die moeilikheid is. Almal praat oor die afname van Afrikaans. En het daaroor gepraat van die begin van demokratiese Suid-Afrika af. Daar is 'n ontploffing van Afrikaanse musiek en teater. Maar sy gevoel is dat die euforie van Afrikaanse kunstevorme besig is om af te weer. Dis besig om nou net te normaliseer. Afrikaanse mense was nog nooit juis baie gekultiveerd nie, sê hy.

Wat van aktuele en relevante drama, vra Stephina Zwane. Nou skryf mense oor studenteprotes, so die studente kom kyk. Miskien is ons nie besig om stories te vertel oor dinge wat regtig saakmaak nie, meen sy. In die tagtigerjare het mense stories van protes geskryf, anti-apartheid. Wat van #-stories? Dinge wat saakmaak vir mense van vandag?

Lanoye: hoekom het ons 'n biblioteek as jy nuwe boeke kan skryf? Want jy kan leer uit ouer skrywers ook. Dit geld ook dramatekste en -skrywers: nuwe dramateksskrywers kan leer uit 'n ouer generasie skrywers ook.

Hugo Theart: Ons is altyd op soek na nuwe stemme. Maar uit 'n feesperspektief: ons moet ook omsien na ons gevestigde skrywers.

Albert Maritz: In 'n ideale wêreld moet daar meer mense wees wat toegang kry tot befondsing. Die instellings en infrastruktuur moet bestaan.

Jason Jacobs sê:

There are spaces in Langa, for example. Farm workers, amateur production groups. We have fully equipped spaces. Getting people from the community to attend, how do we get an audience?

Not all audiences are interested. Until they are in [inside the theatre], they cannot be part of the experience.

So how do we get people into the theatres? vra Stephina Zwane.

En sy verduidelik 'n belangrike kwessie om in gedagte te hou: onthou dat omstandighede in 'n township verskil van omstandighede in baie van die wit buurte.

Saterdagaand in die township: dis gevaarlik op straat. Wie gaan die kinders kos gee? Waar gaan hulle vervoer kry? Mense gaan nie teater toe gaan nie.

Saterdagmiddag twaalf-uur: mense is nog by die begrafnis. Mense gaan nie teater toe gaan nie.

Hoe dan, wanneer is 'n goeie tyd? vra Lanoye haar.

Jy moet maande voor die tyd vir die mense waarsku, sê sy. Mense gaan moet wéét. Lig jou gehoor in, maak seker die inligting kom by hulle uit. Hulle moet reëlings kan tref.

Willem Anker vra: wat gaan die teater red? Juis die idee om nie te red nie. Om nie doelbewus oor 'n belangrike kwessie te skryf nie. Godot, dis eurosentries, dis elitisties, maar dis relevant. Doen iets wat so anders is dat mense nie anders kan as om te kom kyk nie.

Jason Jacobs, Amy Jephta, Stephina Zwane en Philip Rademeyer

Ten slotte, Shakespeare

Lanoye gesels oor hoe belangrik dit is om gevestigde skrywers, soos Shakespeare, se werk te ken. Hy beveel hierdie boek ter agtergrond aan: Shakespeare's restless world deur Neil MacGregor.

Leer ken Shakespeare se wiskundigheid, die belang van taal in die teater.

En nie net die woord nie, maar ook waar's die klem: op elke vierde lettergreep, dit is: die tweede "oet" van die "vijfvoetige jambe". Dis die versvorm waarin Shakespeare geskryf het, net soos sy voorganger en voorbeeld Christopher Marlowe.

To be or NOT to be, that is the question.

Is that a DAG-ger I see before me?

Hierna dramatiseer Tom Lanoye sy eie Hamlet versus Hamlet.

Hy skryf in verskillende tale in een drama. Engels, Frans en Vlaams.

Hy dramatiseer ook groot gedeeltes uit sy kop, sonder om ooit na die teks te kyk. Hy is nie net skrywer nie, hy is ook akteur.

Op pad terug huis toe sien ek 'n man met stukkende klere deur 'n stukkende heining naby die Stellenbosch-stasie klim. Was vandag se gesprek ook vir hom?

Vandag se gesprek was oor taal in al sy gedaantes. Dalk is kennis van 'n man op 'n treinspoor se taal één manier om 'n nuwe mens in die teater te kry.

  • Al Tom Lanoye se dramas kan gratis op sy webwerf afgelaai word. Lanoye se bibliografie verskyn op wikipedia.

 

The post Kunste Onbeperk-teksmark: 'n Dag saam met Tom Lanoye appeared first on LitNet.

LitNet: Jou feestyd

My Landie en die spinnekoppe

$
0
0

Myself ook mos begewe om 'n Land-Rover te besit. Al is hierdie ene net ’n Land-Rover van aansien want binne-in en onderin en in die are (dis die bedrading) is alles in elk geval Amerikaans (Chev 4.1 enjin) en Duits (Mercedes-Benz-kragstuur) en Amerikaans (Jeep transfer case) en die Britse deel is die Rover Auto gearboks (wat ook al dit in Afrikaans mag wees). Voeg hierby al die ander nasies wat bygedra het lat hy kan loop en jy sit met 'n ryding wat reg inpas in ons nuwe Suid-Afrika wat eintlik lankal nie meer nuut is nie en nog net suid is.

Nietemin, en ek sweer hierdie nie op Bybels of enige ander geskrifte nie maar ek sê vir jou dis waar:

Ons sukkel altoos om die blerrie ding verkoop te kry want jy weet mos Land-Rover se mense is mos maar mense wat puriste is en hulle wil selfs 'n geroeste skroefie in plek hê solank dit Brits en Landie is. Al val die ding uitmekaar moet hy reg en oorspronklik wees. Tipies Brits al staan die ding en breek op die vloer. Want jy weet hulle sê 'n Land-Rover wat nie olie lek nie het nie 'n enjin in nie.

Thysie roep my annerdag want hy is kak bang vir spinnekoppe. Een of ander Bobbejaanspinnekop (hier rond is enige spinnekop groter as 'n speld se kop 'n bobbejaanspinnekop, never mind sy genetiese of familie-geskiedenis en sertifikate tot die teendeel) het hom verwilder toe ek hom mooi gevra het om die Landie te loop start. Want 'n Landie moet gereeld gestart word anners breek hy net nog erger. Soos enige Landie-eienaar jou sal verwittig.

Na blikke Doom (en hier was geen predikers betrokke nie) is die Landie  skoon van alle spinnekoppe verklaar en die res van die werkers kon al om die tweede dag die Landie start en laat loop en dalkies straat af ry om te loop bier of 'n bankie of twee koop by die kantien of die plek waar bankies ook al verhandel word.....

En so loop die weke inmekaar en die Landie se battery is gekoppel en die werk raak mos altoos al meer en mens vergeet mos maar om die dinge te herinner en net gister toe lê ek in die nanag en dink dat die blerrie Landie weke laas gestart is. Wonner of die battery nog vol is want laas het ek hom op die charger laat sit en ek’s seker die bliksems het vergeet ... my inkluis ...

Ek beduie vir Thysie hy moet lat die manne kyk of daai Brit (want ons weet mos toe die Britte die oorlog destyds verloor het het hulle beduie dat hulle ons eendag sal terugkry en toe los hulle mos maar vir ons die Land-Rovers  as straf omdat hulle verloor het ...) nog kan start.

Thys roep my verskrik nader na 'n uur of wat se wegbly. Beduie vir my ek moet kom kyk. Die spinnekoppe ...  En die Landie wil net nie weg nie ...

Met die naderstap sien ek iets soos mis in die Landie. Mistigheid verwag mens nie op 'n snikhete dag soos vandag nie. Nietemin, deur oop en toe sien ek dis die spinnerakke wat die binnekant so mistig laat lyk het. Thysie beduie my dis nog fokol, start jy die fokken ding en probeer jy wegry en kyk wat gebeur ...

Ek draai die sleutel en getrou aan enige Chevrolet 4.1 motor (met 'n Weber carb) vat hy soos, wel, 'n Chev ... rathefboom onnertoe maar niks.

Skakel af want hier’s 'n fokop. Thysie beduie my boontoe want dit smaak my ek’s nie baie oplettend nie.
"Kyk op in die boom in jou n%$&...(hy praat altyd so al praat hy met onse dominees) die ding sal nooit loop nie, die spinnekoppe het oorgeneem!"

"Hoe so Thysie?" En toe sien ek wat hy meen:

Die hele blerrie Landie hang in die lug. Die spinnekoppe het van binne af buitentoe beweeg en van onner af die Landie letterlik opgehys aan die ou geelhout waaronder hy al so lank geparkeer was. Die mistige weer wat ek altoos so soggens opstaantyd beskou het was toe al die tyd die spinnekoppe wat uit wraak met hul spinnerakke  my Landie opgehys het met hulle rakke. Al van bo van die Landie se Dakrak af onnertoe.

Ek is tans op soek na ons bekende Doom-prediker se kontakbesonderhede. Net dalk het hy 'n manier hoe ekke dalk van 'n plaag ontslae kan raak, want nou sit ek met 'n voertuig wat ek nie eens op sleeptou kan neem nie ...

Groete uit Oesterland, en ja, die Landie staan nog net so onder die geelhoutboom.

oester

The post My Landie en die spinnekoppe appeared first on LitNet.

Musiekgesprek: Tien vrae oor Mahai

$
0
0

Foto: http://hermanbergman.com/

Musiekgesprek: Naomi Meyer vra Herman van den Berg uit oor sy jongste album, Mahai.

Herman, jy is bekend as sanger van onder andere Jacques Brel se musiek in Afrikaans. Maar jy sing nie op jou album Mahai nie. Hoe dan?

Mahai is ’n album van akoestiese kitaarmusiek. My droom, toe ek ’n seuntjie was, was om klassieke musiek te komponeer. Ek het dit op skool egter nooit nagevolg nie, want ek het klarinet gespeel wat ’n solo instrument is en hom nie noodwendig leen tot komposisie nie. Toe ek uiteindelik die kitaar op universiteit opgetel het, het die gogga my ernstig gebyt. Aanvanklik was dit songs met maklike harmonie en vorm, maar deurentyd het ek probeer instrumentale komposisies op die kitaar te skep, meer vir eie vermaak en om my speelvernuf te verbeter. Na ek ’n paar Afrikaanse albums uitgebring het, het ek begin agtergrondmusiek maak vir reekse soos Binnelanders, en tydens die proses het ek besef dat instrumentale musiek iets is wat my nader aan die hart lê as wat ek gedink het. So die oorgang van sang na instrumentaal was vir my amper te wagte gewees. Mahai is die eerste kommersiële instrumentale album wat ek uitgebring het (ek het ’n paar ander niekommersiële albums wat deur internasionale musiekbiblioteke versprei word).

Ek sien op die omslag van die CD dat jou van verander is – dis nou Herman Bergman. Is hierdie ’n aanduiding dat jy wegbeweeg van sing?

Dit was ’n moeilike besluit. Ek het probeer om Mahai meer op die internasionale mark te rig, en dit sou verwarrend wees vir andertaliges om op Herman van den Berg se webwerf te beland, wat net Afrikaans is en op Afrikaanse musiek toegespits is. So Herman Bergman was vir my meer gepas vir die internasionale mark. Of ek wegbeweeg van sing? Ek moet erken dat ek moedeloos is met die Afrikaanse musiekbedryf en selfs ’n teësin in populêre Afrikaanse musiek ontwikkel het. Dit sal heelwat verg om my weer ’n Afrikaanse album te laat opneem, maar ek sê nie “nooit weer” nie. Mahai het baie natuurlik gekom en het met heelwat minder stres en onsekerheid gepaard gegaan, so ek gaan dit wel probeer opvolg met soortgelyke projekte. Hier is my nuwe webwerf: http://hermanbergman.com/

Kitaar is nie jou enigste instrument nie, of hoe? As jy Brel sing, hou jy ook van die trekklavier. Wat is jou eerste liefde?

Nee wat, op die trekklavier is ek maar net ’n tokkelaar! Ek speel hoofsaaklik kitaar en klarinet, maar ek kan so ’n paar ander instrumente met minder sukses ’n klank laat maak. My voorliefde op die oomblik is die klassieke kitaar. Ek hou van die beperkinge wat die kitaar op mens plaas, amper soos om te probeer fotografeer met net een vaste lens.

Watter luisteraar en watter omstandighede het jy in gedagte gehad toe jy dit gekomponeer het?

Ek skryf hierdie musiek vir myself en hoop maar dit val goed op die oor van luisteraars, maar die oorspronklike dryfveer agter die skeppingsproses is beslis vir myself en om amper ’n klankfoto te neem van ’n plek wat ek besoek het of ervaring wat ek gehad het. Ek probeer dikwels ’n atmosfeer vasvang. Ek hou nie van die idee dat dit agtergrondmusiek is nie (vir my is dit meer soos ’n foto as soos muurpapier), maar besef dat dit meesal so beluister sal word.

Hoe ontstaan ’n liedjie/komposisie vir jou?

Die wonder daarvan is dat dit enige tyd op enige plek kan gebeur. Soms is dit as ek iets op die kitaar probeer tokkel, maar heel dikwels is dit as ek nie naby ’n instrument is nie. Ek vind wel dat ek in ’n ontspanne atmosfeer moet wees vir die muse om my te besoek en om te reis ontlok ook heelwat idees. Ek glo vas dat dit iets is wat met jou gebeur, amper asof die musiek jou gekies het as ’n voertuig, in teenstelling daarmee dat jy dit laat gebeur.

Watse werk doen jy bedags? En wat is jou musikale agtergrond?

Ek het gekwalifiseer as meganiese ingenieur, wat my aan die lewe hou, maar musiek is my passie. Ek probeer die twee balanseer maar dit gaan soms moeilik. Ek het klarinet graad 8, en verder geen formele opleiding gehad nie. Ek sou bitter graag ’n kursus wou doen om my komposisievaardighede te verbeter, maar helaas, die tyd laat dit nie toe nie.

Hoekom maak jy musiek?

Want dit is wie ek is. Ek dink nie ek sal kan ophou nie.

Watter van die liedjies op Mahai is jou gunsteling?

"Modest Life" lê my veral na aan die hart. Dit was ’n uitdagende komposisie en nog moeiliker om te speel, wat seker ’n invloed het op mens se opinie, maar ek dink tog dit is een van my beter komposisies. Verder is "Timepiece", "Mahai", "Café Trieste" en "Grand Teton" ook van my ander gunstelinge.

Waar kan mense na snitte op Mahai gaan luister? En waar kan mense weer binnekort na jou gaan luister?

Op my webwerf of iTunes. Volgende jaar wag daar sover ’n paar optredes in Pretoria, George, Stilbaai en Stellenbosch. Die beste is om my Facebook-bladsy te like, waar ek die konserte en ander nuus bekend maak.

Wat kos hierdie album en waar kan mense dit bestel?

Dit is by Musica, Salon Musiek, op my webwerf en op digitale platforms soos iTunes beskikbaar. Die koste verskil, maar dis ongeveer R120.

The post Musiekgesprek: Tien vrae oor Mahai appeared first on LitNet.

Hooglied

$
0
0

Ek voel Jou in die dag se dinge
soos ’n Roy Starke
borduurkant na binne
karos om my gedraai

In sterlig word Jy uitgesprei
soos toe Tenar
vir Ged in die
glinstergrot gewaar

Ek rol soos ’n merrie oor
kameelhaar en sy
voor die Groot Bont Lap
swart toevou oor my

The post Hooglied appeared first on LitNet.

Persverklaring: Ons kom van vêr – bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans

$
0
0

Die storie van Afrikaans het in die verlede meestal gefokus op die taal se wit geskiedenis, terwyl die taal se bruin en swart geskiedenis misken is. Met hierdie boek word die verhaal meer volledig vertel as wat tot dusver die geval was.  Michael le Cordeur en Wannie Carstens verduidelik waarom dit nodig was om die situasie reg te stel deur aan te toon dat bruin mense se verbintenis met Afrikaans inderdaad van vêr af kom.

Daar heers tans ’n groot debat in Suid-Afrika oor die toekoms van Afrikaans as onderwystaal. In hierdie debat word daar dikwels vinger gewys na bruin mense en veral bruin leiers oor hul “stilswye” in hierdie debat. Die punt word veral gemaak dat bruin mense die grootste komponent uitmaak van die totale Afrikaanssprekende gemeenskap.

Michael le Cordeur sê hy was nog altyd van mening dat bogenoemde stelling ’n aanvegbare stelling is. “Daarom het ek en Wannie Carstens reeds aan die einde van 2015 begin praat oor die moontlikheid om ’n gedenkboek saam te stel, opgedra aan Adam Small, met die tema: die bydrae van bruin sprekers van Afrikaans tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal.

adam-en-rosalie

Adam Small en sy vrou, Rosalie.

Le Cordeur het verskeie skrywers hoofsaaklik uit die bruin gemeenskap genader om betrokke te raak en oor ’n aspek te skryf waarby hulle intens betrokke is/was en waar ’n bydrae tot Afrikaans gemaak is. “Die reaksie uit die bruin gemeenskap het ons wildste drome oortref en ons moes streng keuring toepas om die boek tot 35 hoofstukke te beperk.”

Uiteindelik het 35 skrywers, akademici en gemeenskapsleiers van byna elke sfeer van die samelewing hulle tot die projek verbind, wat deur die SA Akademie, die Jan Marais Nasionale Fonds, die Hiemstra Trust, die SBA en die ATKV ondersteun is.

Hulle is Fatima Alie (SBA, ATR en Moesliem leier), Herman Bailey (oud-burgemeester), Jacques Beukes (jeugpredikant), Charles Beukes (sportjoernalis), Willa Boezak (Khoisan-beweging), Wannie Carstens (taalredakteur), Johan Coetzer (akademikus), Gavin Davids (musiekkenner, UWK), John Diergaardt (onderwyskundige), Cecyl Esau (apartheidsaktivis en Robbeneilander), Gaireyah Fredericks (digter), Edwena Goff (kerkleier, Mej Suid-Afrika), Willem Fransman (digter), Henry Jeffreys (oud-koerantredakteur), Basil Kivedo (oud-burgermeester en MK-lid), Nico Koopman (vise-rektor, US), Michael le Cordeur (inhoudsredakteur, akademikus, US), Marlene le Roux (hoof van Kunstekaap, Voorsitter van die SBA), Llwellyn MacMaster (US en predikant), Basil May (onderwyskundige en oud-rektor), Patrick Mettler (onderwyskundige), Selwyn Milborrow (digter), Reggie Nel (akademikus, UNISA), Elias Nel (ATKV en kultuurmens), Robert Pearce (NMMU, dramaturg), Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (US, kerkleier, moderator), Conrad Sidego (oud-koerantredakteur en ambassadeur), Cornelius Thomas (akademikus, Rhodes Universiteit), Danny Titus (ATKV), Christo van de Rheede (Agri Wes-Kaap), Raymond van Diemel (akademikus, Militêre Akademie), Danie van Wyk (FEDSAS, onderwyskundige), Ronel van Oordt (akademikus, NWU) en Archie Vergotine (onderwyskundige en KPO).

Die bydraes in hierdie omvattende werk van 600 bladsye val in tien kategorieë uiteen: ekonomie en bemagtiging, godsdiens en kerk , identiteit, die impak van apartheid, sport, kultuur, media, onderwys, politiek en taal.

Die plan was om die boek op 21 Desember 2016, die dag van Adam Small se 80ste verjaarsdag, vry te stel. Small het sy seën op die projek geplaas. Ongelukkig het die Hoër Hand ingegryp en Adam Small is op 24 Junie 2016 van ons weggeneem, maar die skrywers en sy weduwee Rosalie was oortuig om voort te gaan om sy nalatenskap te eer.

Die boek begin en eindig met ’n gedig; een van die twee genres wat Adam Small beoefen het: Selwyn Milborrow se gedig “Kô lat ôs ere bring aan Adam Small” – is ʼn ode aan die werk van Small en ’n gepaste manier om die boek te begin. ’n Pragtige gedig deur nog ’n talentvolle jong kunstenaar, Gaireyah Fredericks, rond die boek af.

Rosalie Small stel in haar hoofstuk die vraag: “Wie is Adam Small?”, waarin sy aspekte van die digter-dramaturg bekend maak waarvan niemand ooit geweet het nie. Op die flapteks skryf die redakteurs die volgende: “As akademikus, digter en dramaturg was Adam Small ’n stem vir die stemloses. Deur hierdie boek aan Adam Small op te dra, en dit op Versoeningsdag bekend te stel, gee gepaste erkenning aan ’n man wat lank in sy land misken is”.

In die proses word nie net bruin mense se bydrae tot die totstandkoming van Afrikaans geboekstaaf nie, maar die skrywers wys telkens uit dat die bruin gemeenskap dikwels aan die voorpunt gestaan het in die stryd teen apartheid – en hulle het dit boonop trots in Afrikaans gedoen. Franklin Sonn skryf op die agterblad van die boek die volgende:

“Die gesprek oor Afrikaans en bruin mense wat die skrywers in hierdie boek aanroer, is tydig in die opsig dat ná al die ambivalensie oor die Afrikaans van ons hart en die onverkwiklike manier waarop ons in hierdie taal verdruk en misken is, ons ons vryheid gekry het. Dit bring ook die verantwoordelikheid mee om minstens onder mekaar klaarheid te vind oor wat nou vorentoe met ons taal moet gebeur.”

Volgens Le Cordeur is die boek se grootste waarde dat dit die stigma dat bruin mense nie ’n stem het oor Afrikaans of ’n bydrae te maak het tot Afrikaans nie, weerlê. Die skrywers toon aan dat Afrikaans nie net die taal van apartheid was nie. Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening.

In die wyse woorde van Franklin Sonn: Hierdie boek is ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote. Met hierdie boek slaag die skrywers daarin om veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef! Dit is geen geringe prestasie nie.

Al 35 skrywers se foto’s en CV’s is in die boek opgeneem en beskikbaar op aanvraag.

Wie is die redakteurs?

michael Michael le Cordeur is ’n NNS-gegradeerde navorser en hoof van die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die outeur of mede-outeur van verskeie boeke en artikels en tree op as inhoudsredakteur.
wannie Wannie Carstens is ’n NNS-gegradeerde navorser en die huidige direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit. Hy is die outeur of mede-outeur van vier akademiese boeke en talle artikels en tree op as taalredakteur.

 

 

The post Persverklaring: Ons kom van vêr – bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans appeared first on LitNet.


Gewyde (offer)gawes

$
0
0

berg my, Ararat!
sonder stottering soos
Aäron-agterdog
en terughou-twyfel
ek wil die (offer)gawe wees
aan die einde van jou sypel

laat my aardsvaandels en ek
soos Babel voor die blaas
van jou ramshoring val
in hewige knal
en in my bid stol

met my gewyde gawes is die olyftak
uit jou mondheiligdom geneem
en ek kan net goddankbaar
teenoor jou kunstige Skepper wees

The post Gewyde (offer)gawes appeared first on LitNet.

Dankie dat ek nie soos hy is nie

$
0
0

Die wêreldling

afstootlik in sy teengoddelikheid
doem die wêreldling voor my op
’wyl die weersin bittergal uit my diepste sekerhede en vroomheid braak

verlangend na die onbevlekte land
verdoem en kruisig ek hom;
hoor hom vra, aan die man aan sy linkerkant
“Dink aan my [Heer] wanneer U in U koninkryk kom?”

toe antwoord hy
en die haan kraai drie maal vir my,
want eers toe herken ek Hom

vasgespyker aan drie kruise
uitgestal,  tereggestel, verneder, voltrek
die geskiedenis van die mens
en daar herontdek
ek my
Fariseër, Skrifgeleerde, Priester en Leviet … Petrus … Judas

          in my goddelose heimwee na Sy Koninkryk
          val ek in my eie allerheilige swaard:
                    want hy, hier midde-in-die-wêreld,
                    die man aan Sy regterhand
                    is die voorwerp van Sy ondeurgrondelike liefde*

en genade, en hoop wat bevry

Broedertwis

dwalend in sy soeke
dwars in sy wederstrewige konfrontasie
met die wapenrusting van God: Sý Woord,
sy ideologie. sy dogma. sy waarheid … sy swaard
sy pen, en venynige tong, paraat
in die gif van sy [gebrekkige] verstaan gedoop
verdoem hy my. steek ’n vuur aan. gooi sy klip.

En ek, met Sy wapenrusting
besweer sy twyfelagtige Woord- en wêreldwysheid
met Sy Woord,
my ideologie. my dogma. my waarheid… my skild

soos mý lees van sý hoor van dieselfde Woord
tog so anders gestalte vind
in my verstaan en sy verstaan
en in my verstaan van sy verstaan (dwaalleraar. ketter. Trojaan)
en sy verstaan van my verstaan (fundamentalis. kruisvaarder. inkwisiteur)
en albei se verstane tog so ten dele, ontoereikend
beperk deur ’n drie kilogram soekenjin en
(sonder eers ’n sleutel tot sy eie geleende bewussyn),
verwerk in die misteries tussen die lyne
van kode: van tyd, taal, teks, konteks
                             en spekulatiewe konsepte,
wat saam met hoor en sien vergaan, wegglip,
en in die mis oor die oneindige horisonne van Sy grootheid en kompleksiteit
in ons onbegrip
verdwyn

maar eers toe ek in sy skoene staan
toe val Sy blik op my
eers toe sien ek Hom

so val ek in my eie allerheilige swaard:
          hy, hier mede-midde-in-die-wêreld,
          twyfelend, dwalend, mede-soekend
          is die voorwerp van God se ondeurgrondelike liefde.* 

“O God, ek het gepraat oor dinge wat ek nie begryp nie! U is te groot vir my.”

*Na Dietrich Bonhoeffer: Midde-in-die-wêreld (meditasies) saamgestel deur Otto Dudzus

The post Dankie dat ek nie soos hy is nie appeared first on LitNet.

Boekresensie: Dorado deur Tom Dreyer

$
0
0

dorado_omslagDorado
Tom Dreyer
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781415208960

Tom Dreyer se jongste roman Dorado is ’n verwerking en uitbreiding van die gegewe in sy kortverhaal “Polaroid” uit die gelyknamige kortverhaalbundel van 2007. Die roman vertel die verhaal van ene Gilbert du Toit van Kirkwood wat met sy blou Ford Capri en ’n karavaan op reis is deur die land. Hy weet nie presies waarheen hy op pad is nie en laat hom lei deur sy visioene van ’n skool dorado’s wat by geleentheid in die lug bo hom verskyn.

Die eerste hoofstuk vertel hoe hierdie verskynings verloop. Gilbert raak bewus van ’n geluid soos “’n dringende gefluister” en “die reuk van seewater waarin jellievisse dobber” voordat hy die visse sien wat met hulle “vaartbelynde lywe” deur die lug klief en dan in die rigting swenk wat hy moet volg. Vandat hy vir die eerste keer die skool visse in die lug bokant ’n lemoenboord op Kirkwood gesien het, is hy oortuig daarvan dat die noodlot hom uitgesonder het vir ’n besondere openbaring. Tesame met die verskyning van die visse gebeur dit ook dat die verwantskap en samehang tussen dinge momenteel vir hom sigbaar raak: “Dit is asof elke voorwerp na elke ander toe neig, en ofskoon hulle nie fisies verwring nie, suggereer hulle wel dat hule betekenis nie net in hulself lê nie, maar ook in hierdie netwerk van verbintenisse” (11). Na so ’n verskyning is Gilbert verlos van alle vermoeienis, vertwyfeling en moedeloosheid sodat hy daarna sy reis met hernude ywer kan voortsit. Waarom die visse wat hy sien juis dorado’s is, word gesuggereer in die titel van die eerste afdeling “El Dorado lê ver”: Gilbert is op reis na die soort eind-bestemming wat in ander kontekste El Dorado genoem is.

Die roman volg dan die verloop van Gilbert se tog deur die land agter die visse aan. Volgens die aanhaling van Willem Anker wat op die buiteblad gebruik word, lees die roman asof David Lynch en Wim Wenders saam ’n road movie kom skiet het in Suid-Afrika. Met sy byna filmiese uitbeelding en sterk visuele beskrywing van gebeure sluit hierdie roman – soos Dreyer se ander tekste – inderdaad aan by verskillende bekende filmregisseurs se werk. Die roman het egter ook ander genre-voorgangers soos die road novel (dink maar aan Jack Kerouac se On the Road) wat op sy beurt voorafgegaan is deur romansoorte soos die reisnarratief en die pikareske roman. Dit is belangrik dat die reis juis per motor plaasvind. Vir Gilbert is die reis in sy Ford Capri op die agterpaaie van die land ’n manier waarop hy toegang tot en begrip van die werklikheid kan kry, soos wat blyk wanneer hy dink: “Is ’n stuurwiel nie ’n beter koppelvlak met die wêreld as taal nie, taal met sy verminderinge en misverstande” (182). Om ’n motor op die lang pad te bestuur, is – by implikasie – ’n beter manier om die werklikheid aan jouself en ander te verduidelik as om taal te gebruik, iets wat ’n mens sou kon lees as ’n moment waarop die roman sigself as talige konstruksie bevraagteken.

Belangrike punte op Gilbert se reis is sy besoek aan Pacaltsdorp waar hy by ’n vulstasie en kafee gefassineer word deur ’n vistenk en die voorraad outydse preparate soos Metafos Versterker vir senuweekwale en Dokter Menkowitz se Universal Tablets. In Pacaltsdorp ontmoet hy ook die Howlers, ’n groep musikante bestaande uit drie eertydse tronkvoëls wat hom oorreed om saam met hulle na ’n Fossielpark naby Aberdeen te gaan waar hulle op ’n musiekfees moet speel. Na afloop van die fees keer hy terug na Pacaltsdorp waar hy die kafee se hele voorraad van dokter Menkowitz se Universal Tablets met Snellerien (wat “na gelang van die dosis, óf euforie óf stuiptrekkings kan veroorsaak”) koop omdat dit hom so goed laat voel. By hierdie geleentheid sien hy ook ’n aantreklike jong vrou wat sit en huil in haar motor naby die vulstasie. Van daar af reis hy onder begeleiding van die visse via Sir Lowryspas na Kuilsrivier waar hy na ’n ongeluk in die Tygerberg-hospitaal beland voordat hy hom tydelik vestig in die die Fortuna-karavaanpark en ’n werkie losslaan by Mister Mower. By Tygerberghospitaal loop hy weer in die vrou Katie wat hy op Pacaltsdorp gesien het vas en raak betrokke in ’n verhouding met haar. Tydens sy verblyf in Kuilsrivier maak hy ook weer kontak met die Howlers en ontwikkel daar ’n vriendskap tussen hom en hulle leier Rory .

Hierna word Rory en Katie Gilbert se belangrikste metgeselle op sy reis. Daar is bepaalde redes hiervoor. Behalwe dat Rory in die tronk was, het hy by Something Fishy gewerk waar hy kliënte moes lok in ’n viskostuum en was hy ook verkoopsman by Inversion Optics waar hy oortuig geraak het van die wondere van Polaroid-sonbrille. Vir hom is die wêreld sonder ’n filter “te taai op die oë” en daarom meen hy dat ’n mens ’n polaroid nodig het om na die werklikheid te kyk (152). ’n Verdere wenk in verband met sy belangrikheid vir Gilbert se tog is dat hy vroeër in ’n groep gespeel het met die naam Tree of Gilead, ’n verwysing na die Bybelse balsem van Gilead wat gesien is as ’n universele kuur vir alles (net soos wat Gilbert soek na die volmaakte eindbestemming). Katie se belangrikheid vir Gilbert word onderstreep deur die tatoeëermerk van ’n vis op haar rug en die feit dat ook sy gedryf word deur ’n soeke, naamlik na die dogter wat sy moes opgee vir aanneming. Gilbert is oortuig daarvan dat dit saam met hierdie twee is wat hy die uiteindelike openbaring sal ervaar. Katie en Rory speel dan ook ’n belangrike rol in die slot wanneer die roman tot sy liriese en enigmatiese einde kom.

Soos wat Gilbert se reis vorder, is dit duidelik dat hy swaar dra aan die psigologiese wond van sy ma se dood toe hy nog ’n jong seun was en die ongemaklike verhouding met sy pa. Om te ontsnap aan sy ongelukkigheid en die chaotiese sinloosheid van sy lewe, glo hy ten alle koste aan ’n tweede wêreld onderliggend aan die teleurstellende werklikheid waarin hy leef, ’n tweede wêreld wat “soos ’n draadraam ons s’n onderlê, daardie ryk waar niks verweer en niemand ooit sterf nie” (58). Dit is ook om hierdie rede wat hy alledaagse verskynsels soos die tekening van ’n vis agter op ’n Toyota Cressida, die tatoeëermerk op Katie se rug en Rory se verhaal oor sy viskostuum sien as tekens dat hy op die regte spoor is met sy soektog. Dit is ook die rede waarom hy ontvanklik is vir die suggestie dat bepaalde uitsonderlike gebeurtenisse, soos die meteoriete-reën wat die aarde gaan tref, die potensiaal het om die sin van alles aan hom te openbaar. Sy hoopvolheid beteken egter nie dat hy vertwyfeling vryspring nie: aan die een kant is daar sy sekerheid dat hy sy bestemming sal bereik en dat die patroon van sy lewe vir hom duidelik gemaak sal word; aan die ander kant is hy herhaaldelik die slagoffer van ’n gevoel van “verglyding en verwoesting” (220) wanneer dit nie gebeur nie. Nooit ontsnap hy aan die dubbele aard van betekenisvolle oomblikke nie: “leegheid vermeng met ’n verbysterende rykheid, gruwels aan die hand van iets byna eufories” (160).

Gilbert se eiesinnige geloof in ’n bestemming, sy trots oor die feit dat die noodlot hom uitgesonder het en die hoop dat hy uiteindelik sal arriveer, word op verskillende punte in die roman bevraagteken. Wanneer hy vir sy eerste meisie Christine op Kirkwood van die visse vertel, toon sy geen begrip nie; net so word hy aanvanklik deur Katie verwerp wanneer hy haar van sy visioene vertel. Ook die dokter en psigiater met wie hy in Tygerberghospitaal te doen kry, sien hom as iemand met ’n sielkundige afwyking eerder as ’n opregte soeker na sin en samehang. Die eerste dokter vertel hom van die verskynsel van “apofenie” (die neiging om patrone in gebeure te sien) en suggereer dat Gilbert hoort in die kategorie van persone van wat op die rand van skisofrenie of psigose staan. Hierdie bevraagtekenings van Gilbert deur ander karakters plaas die leser as’t ware in die posisie om ’n eie diagnose te maak. Reageer jy afwerend soos die vroue in Gilbert se lewe, dink jy soos die dokter en psigiater dat Gilbert sielkundig versteur is of ‘glo’ jy vir die duur van die roman die innerlike wêreld wat hy skep? Is Gilbert die slagoffer van ’n sielkundige afwyking en sy onoordeelkundige gebruik van Dr Menkowitz se Universal Tablets of is sy geestestoestand ’n sonderlinge voorbeeld van dit wat filosowe, teoloë en mistici dryf om te spekuleer oor die samehang en sin van die menslike bestaan?

Myns insiens kry Dreyer kry dit reg om in Gilbert ’n karakter te skep wat jou oortuig met sy menslikheid eerder as wat jy hom ervaar as ’n frats. Hy hou byvoorbeeld die vertelling goed onder beheer deur gebruik te maak van ’n eksterne verteller wat hoofsaaklik vanuit Gilbert se perspektief na die gebeure kyk. Die leser kry dus toegang tot sý innerlike en sy gedagtes, eerder as om hom van buite met ’n skeptiese oog te betrag en te veroordeel. Verder word sy ervaring konkrete gestalte gegee deur te fokus op die klein detail van sy ervaring. Ons kry byvoorbeeld sorgvuldige beskrywings van Sonstraal Sitrus op Kirkwood waar hy as assistant-verskepingsklerk gewerk het, van die sement-dinosourusse elk met sy eie klankbaan op die plaas naby Aberdeen, sy staanplek in die Fortuna-karavaanpark met ’n uitsig oor die kreosootfabriek, die liggies van Cash Crusaders waarmee hy sy karavaan versier vir ’n partytjie, die swembadjie met paddavissies in die karavaanpark, om maar net enkeles te noem. In hierdie opsig herinner Dreyer se roman aan die werk van Jaco Botha en Jaco Fouché wat eweneens die wêreld van die gewone mens in betekenisvolle detail kon teken.

Die verdere oortuigingskrag van die roman lê ook in die bekoorlike taal- en beeldgebruik. Gilbert se moeilik-artikuleerbare visioene word met groot helderheid en vindingrykheid beskryf terwyl daar talle voorbeelde is van evokatiewe beeldgebruik: ’n huis wat lyk “soos ’n leeggeloopte dam” (53), Gilbert se gevoel dat hy die sigbare en onsigbare ryke bymekaar bring soos “die grendelende tande van ’n rissluiter” (116) en die dwarsstukke van ’n kragtoring wat lyk “soos ’n vrou wat haar rokspante van die grond af lig” (142).

Ten slotte lees ek hierdie roman as een met ’n sterk filosofiese onderbou wat handel oor die mens se behoefte om sin en patroon te vind in die banaliteit van sy of haar alledaagse lewe eerder as wat ek dit sien as die uitbeelding van ’n versteurde karakter. Myns insiens is dit ’n roerende beeld van ’n baie gewone man se behoefte om homself te oortuig dat die gebeure in sy lewe volgens ’n bepaalde plan verloop en ’n sinvolle afloop sal hê. As sodanig is dit vir my een van die mees oorwoë van Dreyer se romans en ’n hoogtepunt in sy oeuvre.

The post Boekresensie: Dorado deur Tom Dreyer appeared first on LitNet.

Foto’s: Bekendstelling van Ons kom van vêr

$
0
0

Ons kom van vêr – bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans is op 16 Desember 2016 in die Kunstekaap bekendgestel. Hier is nog inligting en foto’s van die geleentheid. (Foto's: Sonia le Cordeur.)

fb_img_1482054117025_resized

Franklin Sonn was die hoofspreker by die geleentheid.

fb_img_1482052445019_resized

Michael le Cordeur gee ’n kort inleiding tot die boek, met die ander skrywers in die agtergrond.

20161216_151054_resized

Wannie Carstens en Michael le Cordeur saam met Rosalie Small

fb_img_1482052527456_resized

Rosalie Small betuig haar dank aan die skrywers.

fb_img_1482050664358_resized

Die skrywers van Ons kom van vêr

The post Foto’s: Bekendstelling van Ons kom van vêr appeared first on LitNet.

Stig Anderson, ABBA se bestuurder

$
0
0
stig_anderson

Stig Anderson

ABBA is in 1972 gestig met Benny Anderson, Anni-Frid Lyngstad (Frida), Agnetha Faltskog en Bjorn Ulvaeus as lede. Na raming het hierdie uiters gewilde popgroep sedertdien tussen 140 en 500 miljoen plate, CD’s en kassette wêreldwyd verkoop. ABBA het in Desember 1982 formeel ontbind, oftewel opgehou om as pogroep op te tree en/of om nuwe plate uit te reik.

In die 1960’s was Björn Ulvaeus en Benny Anderson van ABBA deel van ’n onbekende popgroep, die Hootenanny Singers. In die jare voor die vorming van die immergewilde ABBA het Björn en Benny saam in ’n Volkswagenbus gebly en ’n armsalige bestaan in Swede gevoer. Dinge het nie heeltemal goed vir hierdie twee here uitgewerk nie, en hulle het dit op daardie stadium baie sterk oorweeg om vir hulle “regte voltydse beroepe” te kry. Die man wat hulle egter oortuig het om vas te byt en deur te druk met hulle drome, was ’n man met die naam Stig Erik Leopold Anderson.

Stig Anderson was van die begin af ABBA se bestuurder, en word vandag allerweë beskou as die suksesverhaal agter ABBA se gewildheid. Maar wie was Stig Anderson?

Stig is op 25 Januarie 1931 in Hova, Swede gebore. Hy het op die ouderdom van 15 jaar die skool verlaat. Hy het in latere jare teruggegaan skool toe en daarna ’n wetenskap- en wiskundeonderwyser geword.

In 1951 begin hy liedjies komponeer en in 1959 komponeer hy sy eerste groot treffer “Är du kär i mig ännu, Klas-Göran” (“Are you still in love with me, Klas-Göran”). Na hierdie sukses het Stig die popmusiekwêreld voltyds betree as komponis en bestuurder van popgroepe.  In die jare sestig komponeer hy meer as 3 000 liedjies. In 1963 stig hy die gewilde Polar Music plateagentskap, asook die Swede Music plateagentskap. Hy was ’n uiters suksesvolle komponis en bestuurder.

Voor 1972 was hy elkeen van die ABBA-lede se individuele bestuurder. Hy het die ABBA-lede in 1972 oortuig om saam ’n popgroep (ABBA) te stig.

In die beginjare het Stig gehelp om meeste van ABBA se grootste treffers te komponeer, soos “Ring-Ring” (1973), “Waterloo” (1974), “Honey, Honey” (1974), “I Do, I Do, I Do” (1975), “Mamma Mia” (1975), “S.O.S.” (1975), “Fernando” (1976), “Dancing Queen” (1976), “Knowing Me, Knowing You” (1977) en “The Name of the Game” (1977).

Soos dit egter met meeste popgroepe en bestuurders gaan, was daar in latere jare ’n onsmaaklike hofsaak oor “royalties” en winste. Hierdie hofsaak het in Julie 1991 ’n stil dood gesterf toe die onderskeie partye (ABBA versus Stig Anderson) buite die hof geskik het. Wat die skikkingsooreenkoms se inhoud behels het, weet niemand nie, want die terme van die skikkingsooreenkoms is nooit geopenbaar nie.

Stig het op 12 September 1997 op die ouderdom van 66 jaar aan ’n hartaanval gesterf. Hy is tydens sy loopbaan deur die Billboard-musiektydskrif genomineer vir die “Trendsetter Award”. In die internasionale musiekbedryf is daar nog net 2 persone vir hierdie gesogte toekenning genomineer, naamlik Stig Anderson en Brian Epstein, die Beatles se musiekbestuurder.

Met Stig Anderson se dood het hy die kopiereg van meer as 9 000 internasionale poptreffers besit en het hy in Swede die bynaam “The Business” gehad. Hy was die ABBA-lid wat die meeste geld verdien het uit die groep se poptreffers. Verder het hy ook miljoene euro’s verdien uit ander popsangers se treffers.

Stig Anderson was getroud met Gudrun, hulle het twee seuns (Anders en Lasse) en ’n dogter (Marie Ledin) gehad. Van sy drie kinders het net Marie Ledin later, in eie reg, ’n groot naam in die Europese musiekbedryf geword.

Vandag sien almal uit na ABBA se groot reünie-konserte, maar helaas sal Stig Anderson nie daar wees om hulle vir ’n laaste skof te bestuur nie.

  • Jan van der Merwe, skrywer van die Vrystaatse- en Noord-Kaapse Dorpe-boeke.

The post Stig Anderson, ABBA se bestuurder appeared first on LitNet.

Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs)

$
0
0

Toespraak deur Frank Hendricks (UWK) by die loodsing van die boek Kaaps in fokus op Donderdag, 8 Desember 2016 in Kuilsrivier

kaaps-in-fokusDames en here

Ons is hier byeen om die boek Kaaps in Fokus wat pas by Sun Media verskyn het, offisieel te lanseer. Die kleurvolle en beeldryke omslag van hierdie publikasie van 150 bladsye en die prominensie wat die boektitel (ten opsigte van lettergrootte en plasing) op die voorste buiteblad geniet, suggereer tereg dat dit in die boek gaan om die sentraalstelling van ’n taalvorm wat in die ruimte rondom en in die nabyheid van Tafelberg wortel geskiet het en steeds gedy. Ja, dit gaan in hierdie werk oor Kaaps – een van die ontstaansvariëteite oftewel bakermatvorme van Afrikaans wat alternatiewelik onder meer ook Kaapse Afrikaans, Kaapse Vernakulêre Afrikaans, Bo-Kaapse Afrikaans en Kaapsevlakteafrikaans genoem word.

Die taak is my opgelê om by hierdie bekendstellingsgeleentheid die woord te voer – ’n taak wat nie sonder strikke is nie, want mens loop gevaar om as betrokkene die eie beuel te blaas (al sou jy jou dalk net by implikasie daaraan skuldig maak). Hoe dit ook al sy, ek aanvaar die uitdaging met genoegdoening!

Ek bied my praatjie aan in die vorm van enkele opmerkings – opmerkings oor en opmerkings rondom die boek.

’n Eerste opmerking

Die werk Kaaps in fokus is inderdaad van historiese belang. Dis naamlik, soos aangedui op die flapteks, die eerste akademiese boek waarin Kaaps deur verskillende outeurs vanuit diverse invalshoeke betrag word. Die nege hoofstukke in die boek val tematies in twee dele uiteen. Deel I bevat vier taalkundige bydraes oor Kaaps deur Frank Hendricks, Ernst Kotzé, Christo van Rensburg en Charlyn Dyers, terwyl Deel II die kontekstuele gebruike van hierdie taalvorm bekyk: Hein Willemse betrag Kaaps vanuit ’n letterkundige perspektief. Michael le Cordeur en Dmitri Jegels besin oor die benutting van Kaaps as onderwysmedium. Christo van der Rheede het dit oor die ontginning van die ekonomiese potensiaal van Kaaps, terwyl Anastasia de Vries ingaan op die gebruik van Kaaps as joernalistieke medium.

Dié nege bydraes is gegrond op referate wat gelewer is tydens die histories eerste simposium oor Kaaps wat van 19 tot 20 Julie 2012 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gehou is. Dié simposium was ’n inisiatief van die departemente Afrikaans en Nederlands en Linguistiek aan die UWK, in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Vlaamse Interuniversitaire Raad (VLIR).

’n Tweede opmerking

Dat ek en Charlyn Dyers as redakteurs van hierdie historiese publikasie kon diens doen, is inderdaad ’n voorreg, maar terselfdertyd vir albei van ons vanuit ’n persoonlike hoek betekenisvol, en wel omdat Kaaps in Fokus in die uitloop van ons professionele loopbane die lig sien. Feit is: ons al twee lê volgende jaar amptelik die tuig neer. Ja, volgende jaar is uitspantyd! Die begin van my loopbaan as Afrikaansdosent het saamgeval met my verwerwing van die graad magister in Afrikaans en Nederlands vir ’n verhandeling oor die gebruik van Kaaps in die drama Kanna hy ko hystoe van Adam Small, en hier teen die einde is ek steeds aan Kaaps verbind. Dis asof Kaaps die begin- en eindknoop vorm van my professionele loopbaan van bykans veertig jaar.

’n Derde opmerking

Die totstandkoming van die werk Kaaps in fokus word onderlê deur die ineenvloei (blending) van akademiese skerpheid, teksskeppingsvernuf, ewekniebeoordeling, redaksionele en taal-tegniese opskerping, vindingryke teksuitleg asook uitgewersprofessionaliteit soos weerspieël in die insette van Sun Media se Wikus van Zyl, Emily Vosloo en Davida. (Anders gestel: Kaaps in fokus is die resultaat van ’n spanpoging om van alle fasette van die produksieproses ’n groot sukses te maak.)

’n Vierde opmerking

Kaaps in fokus is met reg te bestempel as ’n werk uit die hart van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK):

  • 7 van die 9 outeurs is of was op een of ander manier aan die UWK verbind:
    Charlyn, Anastasia de Vries en ekself is reeds ’n geruime tyd deel van die doserende personeel van die UWK, Hein Willemse was vroeër as letterkundige verbonde aan die UWK se departement Afrikaans en Nederlands, Dmitri Jegels was vroeër kontrakdosent in die UWK se departement Linguistiek, terwyl Michael le Cordeur en Christo van der Rheede oud-studente van die UWK is, en van die departement Afrikaans en Nederlands in die besonder.
  • Die ander twee outeurs, tw Christo van Rensburg en Ernst Kotzé, is nie van die UWK los te dink nie, want my eie doseerinhoud en navorsingsuitsette weerspieël ook die invloed van hierdie twee gesiene taalkundiges se vakkundige bydraes oor taalvariasie en oor Kaaps in die besonder.
  • Voorts adem die boek as geheel die soort denke oor taal, oor Afrikaans, wat oor die jare heen sinonimies met die UWK geword het.

Bygesê: Om die binneruimte van die boek te kan deel met persone van die kaliber van die gemeldes, is inderdaad ’n voorreg wat moeilik onder woorde te bring is – ’n saak van onskatbare waarde!

’n Vyfde opmerking

Kaaps in fokus is ’n boek met waarde – ’n boek met die potensiaal om in meer as een opsig waarde toe te voeg!!!

Maar waarin lê die waarde van die boek?

1. Die boek is in die eerste plek as waardevol aan te slaan omdat dit aspekte omtrent Kaaps belig waarvan Afrikaanssprekendes en almal met ’n sintuig vir taalvariasie, en vir die diversiteit van Afrikaans in die besonder, kennis behoort te neem:

Die boek laat blyk onder meer:

  • dat Kaaps nie ’n taal náás Afrikaans of Engels of enige ander Suid-Afrikaanse taal is nie, maar wel ’n variëteitsonderskeiding van Afrikaans as heterogene taal;
  • dat Kaaps as variëteit van Afrikaans op sigself heterogeen is;
  • dat Kaaps nie mindere Afrikaans nie, maar volwaardig Afrikaans is;
  • dat die wortels van Afrikaans, en van Kaaps as manifestasievorm van Afrikaans, tot die periode vóór die aanvang van die VOC-bewind aan die Kaap te herlei is;
  • dat Kaaps talig genuanseerd, en fonologies, leksikaal en grammaties sterk gemerk is;
  • dat Kaaps tegelykertyd histories behoudend en progressief modern is, d.w.s. ’n taalvorm waarin sowel die jaarringe van eeue gelede en die botsels van nuwe ontwikkeling na vore kom;
  • dat Kaaps funksioneel toereikend is;
  • dat Kaaps na gebruik meer bepaald ’n vorm van Praatafrikaans, is, maar ook metterjare verskriftelik is – onder meer in die letterkunde en in die joernalistiek;
  • dat Kaaps manifesteer as ’n taalvorm wat histories en kontemporêr met die Kaapstadse werkersklas (onder wie bruin én wit) geassosieer word, en daarom nie sonder meer as ’n merker van bruin identiteit te bestempel is nie.

Aansluitend hierby verwoord die boek die verwonding waaraan Kaaps oor die jare heen uitgelewer is. Ter sake in hierdie verband is onder meer die marginalisering van Kaaps in die linguistiese beskrywing van Afrikaans, die systap daarvan in die standaardisering van Afrikaans, die stigmatisering daarvan vanuit die standaard uit hoofde van neerbuigende minagting (“patronising scorn”) asook die magspel en gepaardgaande ideologieë in vorige tydvakke wat tot op hede nog steeds die posisie van Kaaps en sy sprekers negatief beïnvloed.

2. Die waarde van die boek lê in die tweede plek daarin dat dit in die teken staan van ’n historiese regstelling en van verandering wat noodwendig móét kom:

Die boek bepleit naamlik ’n groter bewuswees van die variasie binne die Afrikaanse taal en, daarmee saam, die omarming van ’n polilektiese (oftewel inklusiewe) benadering tot die linguistiese beskrywing van Afrikaans met besondere klem op die verrekening van die talige en gebruiksistematiek van Kaaps en van ander histories-gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans, en wel as teenvoeter vir die grootliks monolektiese aanpak tot op hede. Samehangend hiermee bepleit die boek die hervorming van die standaardvariëteit deur ’n beklemtoning van die organiese band tussen Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans, en van die noodsaak om Kaaps en ander kleurvariëteite vorentoe toenemend as voedingsbronne vir Standaardafrikaans te benut (hoofstuk 1).

3. In die derde plek kom die waarde van die boek daarin tot uiting dat die boek sterk gewag maak van die waardigheid oftewel soppangheid van Kaaps én sy sprekers:

In hierdie verband meld Charlyn Dyers dat ’n verbreding en verryking van begrippe oor die taalrepertoire van mense inhou dat Kaaps met nuwe oë bekyk moet word en dat hierdie nuwe kyk die herstel van die waardigheid van dié variëteit en die sprekers daarvan, in onder meer die skoolopset, moet meebring.

Aansluitend by Dyers is Hein Willemse ten gunste van ’n “bi-dialektiese” (of selfs multi-dialektiese) benadering in die onderwys en die media as meganisme ter bevordering van die waardigheid (soppangheid) van Kaaps en die sprekers daarvan.

Ook Michael le Cordeur en Dmitri Jegels se sterk aandrang om Kaaps as onderwysmedium te benut, Anastasia de Vries se uitwys van die gebruikswaarde van Kaaps as joernalistieke medium en van die ekonomiese lewensvatbaarheid van media wat met gemeenskappe praat in variëteite waarmee hulle vertroud is, en Christo van der Rheede se pleidooi vir die posisionering van Kaaps as taal van ekonomiese bemagtiging en welvaartskepping vir sy sprekers, staan in die teken van die waardigheid van Kaaps en sy sprekers.

’n Slotopmerking

Die boek Kaaps in fokus moet uiteindelik tog verkoop word. Ek sal die aankoop van die boek met vrymoedigheid wil aanbeveel, en wel om verskeie redes.

’n Eerste rede staan in verband met die voorkoms van die boek. Menigeen wat die boek vir die eerste keer sien, beskryf die boek as ’n besonder mooi boek, as ’n pragtige boek, as ’n lus vir die oog. Die voorkoms van die boek is derhalwe genoeg rede om sommer ’n aantal eksemplare aan te skaf om as Kersgeskenk onder jou geliefdes uit te deel.

Maar, dames en here, die boek het inderdaad ook ’n ewe mooi inhoud, ’n sterk inhoud, en is daarom aan te beveel vir dosente en studente in Afrikaans en Nederlands en Linguistiek. Ja, voorskryfmateriaal is die boek beslis!

Laat gisteraand val my oog op ’n nota wat Gerhard van Huysteen, huidige voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, op die forum van VivA Afrikaans geplaas het. Dis ’n nota bedoel vir my en ander lede van die Taalkommissie. Ek hou dit graag aan u voor. Hy skryf:

My kopie van Frank en Charlyn Dyers (reds) se boek “Kaaps in Fokus” het vandag per koerier hier aangekom. Wat ’n pragtige boek! Baie geluk van my kant af, Frank! Die enigste hoofstuk wat ek tot nou toe gelees het, is dan ook Frank se hoofstuk. Dit bevat ’n lekker samevatting van die kenmerkendste taalkundige eienskappe van Kaaps, en is iets wat ek graag in die toekoms na sal verwys. Baie geluk, Frank!

Maar Kaaps en fokus is ook bedoel vir enigeen met ’n verwondering oor die rykheid van taal en van Afrikaans in die besonder. En vir enigeen met Afrikaans as hartstaal!

Kaaps in fokus het hier in die uitloop van 2016 in ons midde kom land – om waarde toe te voeg!

Ek dank u!

  • Foto van Frank Hendricks: Naomi Bruwer

 

The post Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs) appeared first on LitNet.

Wil net weet ...

$
0
0

... of Dirk Rigter wat my onderrig hoe om my taal te besig (my brief 9 deser) wanneer hy met 'n bier in die hand om die braaivleisvuur staan, praat van:

kotelette ipv “chops”,
beeshaas ipv “fillet”,
kruisskyf ipv “rump steak”,
T-been-skyf ipv “T-bone steak”?

Praat hy van hoenderboudjies en van hoenderdytjies met 'n “klippies en coke” in die hand?
Vra hy miskien om die bordjie versnaperinge ipv “snacks” om te stuur?
Ek dink 'n paar manne sal skuins onderlangs na hom loer.

Soms is Afrikaans in die gewone omgang lomp. Ek het 'n siening dat Afrikaans hom in baie gevalle nie tot sang leen nie. Kyk maar hoe word andertalige liedjies in Afrikaans vertaal, verkrag. Die oorgrote meerderheid van Afrikaans-gekomponeerde liedjies tuit in my ore.

Wat ek gebruik het is woorde wat ek “geleen” het, dis nie anglisismes nie. Wat is meer aanvaarbaar, leenwoorde of anglisismes? Engels het ook sy leenwoorde uit Afrikaans soos stoep en trek, byvoorbeeld.

Cheers!

Raed-na-Gael

 

The post Wil net weet ... appeared first on LitNet.


Ek wil aan ...

$
0
0

... al my lesers (kyk hoe verwaand is Raed-na-Gael) en vrinne ’n heel geseënde Kersfees toewens. Mag daar in die Kerskous regtig ’n bak vol rus en vrede en dankbaarheid wees. En mag ons onthou dat daar in hierdie wêreld vir ons ’n Kers aangesteek is.

 En dieselfde aan Webvoet.

 Groetnis

 Raed-na-Gael.

 

The post Ek wil aan ... appeared first on LitNet.

Persverklaring: Wie wil in 2017 ’n BCom doen?

$
0
0

Drie gelukkige studente sal in Januarie 2017 met behulp van beurse van die Afrikaanse Taalraad met hul BCom-grade by die private universiteit Akademia kan begin. “Die Taalraad help hiermee om presteerders uit die Afrikaanse taalgemeenskap toegang tot kwaliteit tersiêre opvoeding in Afrikaans te gee,” sê dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad.

Die beurswenners kan vir enige van Akademia se BCom-kursusse inskryf, te wete Ondernemingsbestuur, Bestuursrekeningkunde, Ekonomie en Regte, of Finansiële Beplanning. Die na-uurse kontaksessies kan voorts by enige van Akademia se goed toegeruste studiesentrums in die land bygewoon word. Die Taalraad-beurse dek drie jaar se studiekoste.

Beursaansoekers se sosio-ekonomiese omstandighede sal in die keuringsproses in ag geneem word. Doen voor 8 Januarie 2017 op Akademia se webwerf aansoek om vir die beurs in aanmerking geneem te word.

The post Persverklaring: Wie wil in 2017 ’n BCom doen? appeared first on LitNet.

Kopgreep van opvoeders

$
0
0
Daar is lank reeds nuwe opwindende rasionele kennis beskikbaar, maar dit blyk dat die denkers met 'n brandstapel-mentaliteit nog lank die voortou gaan neem.
 
CM

The post Kopgreep van opvoeders appeared first on LitNet.

LitNet Akademies: Volledige joernaaluitgawes

$
0
0

Jaargang 13, Nommer 3 – 2016

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

Jaargang 13, Nommer 2 – 2016

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 13, Nommer 1 – Mei 2016

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 12, Nommer 3 – Desember 2015

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 12, Nommer 2 – Augustus 2015

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

Afdeling: Natuurwetenskappe                                 

 

Jaargang 12, Nommer 1 – April 2015

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opvoedkunde

Afdeling: Regte

 

Jaargang 11, Nommer 3 – Desember 2014

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Opoedkunde

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 11, Nommer 2 – Augustus 2014

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Godsdienswetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 11, Nommer 1 – Maart 2014

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 10, Nommer 3 – Desember 2013

Afdeling: Regte

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 10, Nommer 2 – Augustus 2013

Afdeling: Regte

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 10, Nommer 1 – Maart 2013

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 9, Nommer 3 – Desember 2012

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

Afdeling: Godsdienswetenskappe

 

Jaargang 9, Nommer 2 – Augustus 2012

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 9, Nommer 1 – Maart 2012

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Regte

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 8, Nommer 3 – Desember 2011

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 8, Nommer 2 – Augustus 2011

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 8, Nommer 1 – Maart 2011

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 7, Nommer 3 – Desember 2010

Afdeling: Natuurwetenskappe

Afdeling: Geesteswetenskappe

 

Jaargang 7, Nommer 2 – Augustus 2010

 

Jaargang 7, Nommer 1 – Maart 2010

 

Jaargang 6, Nommer 3 – Desember 2009

 

Jaargang 6, Nommer 2 – Augustus 2009

 

Jaargang 6, Nommer 1 – Maart 2009

 

Jaargang 5, Nommer 3 – Desember 2008

 

Jaargang 5, Nommer 2 – Oktober 2008

 

Jaargang 5, Nommer 1 – Augustus 2008

 

The post LitNet Akademies: Volledige joernaaluitgawes appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Chris Barnard-radioverhaal kry lewe op die silwerskerm

$
0
0

Die bekende radiodrama en verhoogstuk Die rebellie van Lafras Verwey uit die pen van bekroonde skrywer Chris Barnard gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm met gesoute akteur, Tobie Cronjé, in die hoofrol.

Hierdie tragedie-komedie is gebaseer op die 1971-drama wat deur die oorlede skrywer en sy seun, Simon Barnard, verwerk is in ’n eietydse draaiboek. Dit vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Hy werk in die Staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander. Wanneer hy Petra (Chantell Phillipus), ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis. Ironies genoeg begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word. Komedie, drama en elemente van fantasie word verweef in ’n aangrypende storie van ’n man wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom van ’n beter wêreld vir almal te verwesenlik.

chantelle-phillipus-600

Chantell Phillipus

Die rebellie van Lafras Verwey word vervaardig deur geliefde aktrise en regisseur Katinka Heyns en Genevieve Hofmeyr, onder leiding van opkomende filmmaker, Simon Barnard. Laasgenoemde maak ook sy debuut as regisseur van ’n vollengte speelfilm met dié boeiende verhaal.

Simon, seun van Katinka Heyns en Chris Barnard, het in die vermaakbedryf grootgeword. Sy eerste rol in ’n fliek was as die jong Benjamin Komoetie in die treffer Fiela se Kind. Buiten vir die regie en vervaardiging van ’n dokumentêr oor sy pa vir kykNET en musiekvideo’s vir Die Heuwels Fantasties, is hy ook die skepper van 60 programme, in samewerking met kykNET en Medihelp, oor geestesgesondheid (’n Lewe met... / Living with...) saam met psigiater Franco Colin. Sy eerste professionele kennismaking met ’n drama was op die stel van Die Wonderwerker met sy pa as skrywer en ma as regisseur, waar hy fotografie, redigering en regie van materiaal agter die skerms behartig het. Simon is tans mededirekteur van Sonneblom Ateljees, wat in 1975 deur Katinka gestig is.

katinka-simon_600

Simon Barnard en Katinka Heyns

Katinka Heyns is bekend in radio-, televisie-, film- en teaterkringe, as aktrise en regisseur, en is al met verskeie toekennings bekroon, waaronder die internasionale Crystal-toekenning vir Vroue in Rolprente, tien MNet Vita-toekennings, die Rapport City Press Vrou van die Jaar-toekenning, die Ere-Kanseliersmedalje van die Tshwane Universiteit van Tegnologie, ’n FAK-erepenning en ’n SAFTA-prys vir lewenslange bydrae tot die bedryf. Sy is ook die eerste vrou wat in die Nasionale Rolprent- en Televisiestigting se Hall of Fame opgeneem is en deur die Departement van Kuns en Kultuur as raadslid van die Nasionale Rolprent- en Videostigting aangestel is. As verhoog- en rolprentaktrise, het sy al saam met die room van Afrikaanse kunstenaars opgetree, met hoofrolle in verskeie flieks soos Pappalap, Jannie Totsiens, Eendag op ’n Reëndag en Babbelkous en Bruidegom saam met Tobie Cronjé. In 1987 maak sy haar debuut as rolprentregisseur en -vervaardiger, waarna ’n rits suksesvolle films soos Fiela se Kind, Die Storie van Klara Viljee en Paljas, volg. Laasgenoemde was ook die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat aanvaar is vir ’n Oscar-benoeming. Haar mees onlangse film, Die Wonderwerker, is ook met lof ontvang. Haar DPhil (eredoktorsgraad – TUKS) en onlangse erepenning van die Akademie van Wetenskap en Kuns gee erkenning aan haar oorkoepelende bydrae tot die bedryf.

Die rebellie van Lafras Verwey sal op 9 Maart 2017 by die Woordfees in Stellenbosch bekendgestel word. Bekendes soos Neels van Jaarsveld, Chantell Phillipus, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius het ook rolle in dié fliek wat op 7 April 2017 landswyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik word.

Volg Die rebellie van Lafras Verwey op Facebook en Twitter by @LafrasFilm

  • Foto's van Tobie Cronjé en Chantell Phillipus: Jennifer Wheatley
  • Foto van Katinka Heyns en Simon Barnard: Lien Botha, met vergunning van Lééf

The post Persvrystelling: Chris Barnard-radioverhaal kry lewe op die silwerskerm appeared first on LitNet.

Viewing all 21832 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>