Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21552 articles
Browse latest View live

Boekresensie: Koms van die biblioteekbus en ander stories deur Keina Swart

$
0
0

Koms van die biblioteekbus en ander stories
Keina Swart
Naledi
ISBN: 9780928316377

Keina Swart is ‘n bekroonde koerantredakteur en kinderboekskrywer, met vyf ander boeke onder haar naam. Met Die koms van die biblioteekbus en ander stories oortref sy haarself as keurige skrywer al bestaan dié boek slegs uit kortverhale – 44 vermaaklike kortverhale. Die enigste kritiek is dat mens graag nóg stories wil lees!

Haar pragtige, raakvatbeskrywings en -idiome laat mens telkens giggel – dis onvermydelik, want sy slaag daarin om jou die prentjie te laat sién wat sy skets. Sy neem jou op reise saam met oom Paul Kruger terug na toentertyd, Anton Goosen en sy trefferliedjie “Josie-Josie”, van Martino se "kul-jou-hier" uit die Transvaalse Republiek tot "kul-jou-dáár", in dié geval saam met Inger na Lapland of Kari na Oslo.

Haar verhale herinner mens aan die waarde(loosheid) van geld en die noodsaaklikheid van liefde, dat liefde die hoofelement is om werklik geluk te kan koop. Sy laat jou toe om die mamma te word wat benoud toekyk hoe haar dogtertjie haar balleteksamen aflê. Jy word die klein kindjie wat blinkoog wag vir Kersvader om die geskenke te bring, al wéét jy wat die realiteit is. Die geleentheid word geskep dat jy sáám met Kersvader en sy rendiere myle ver vlieg en verken en drome droom. Jy ís die dogtertjie wat aan jou ouma se lippe hang, “My ouma is nie noodwendig in ‘n nartjie, in kaneel of anys nie,” skryf Keina. Dié beskrywing laat mens rêrig aan jou ouma dink! Om aan ‘n ouma te dink, sluit altyd reuke in en dié boek het ‘n mengelmoes van emosies en reuke. Keina laat jou vóél of jý die handvol knope vashou, of jý die viool bespeel, of jý proe aan die roosblaartjieskonfyt, of jý die tuinrose inadem.

In "Koms van die biblioteekbus" raak ek kinderlik opgewonde en is dit byna asof ek ook sien hoe die biblioteekbus uit ‘n stofstreep verskyn. Hoe ek entoesiasties binne rondstap, my hande bewe en my oë glinster om te sien waarheen ek kan ontvlug. Ek ruik die boeke en hul avonture, vóél die gladde papier onder my vingerpunte. Ek ervaar vryheid soos ek saam met Keina en haar beskrywende pen op avonture vertrek en in haar skrywes teruggevoer word na gister. Maar ook hoe gister die weg baan na môre.

Ons kan identifiseer met soveel van haar vertellings, soos die kinders wat die vraag moet beantwoord van wat hul eendag wil word en hul kinderlike onskuld waarom hul dié loopbane kies; droom mens skielik ook drome van wat jy eendag wil word, tot die realiteit van dié hoofstukkie jou afbring aarde toe: “Iewers is daar ‘n ‘under conda’ in die gras, een wat slu langs voetpaadjies lê en wag om niksvermoedende kaalvoetkinders se drome te gryp en al die lewe daaruit te wurg.” Inderdaad, om ‘n grootmens te wees is nie kinderspeletjies nie. Was ek maar ‘n vlieër, vry om in die wind en weer te baljaar, saam met die voëls en sonskyn. ‘n Vlieër wat nie aan ‘n tou wil vas wees nie. Boeke bied vir seker dié vryheid, veral met die kundigheid van Keina Swart.

Die boek prut met vermaaklike vertellings en ‘n versameling herinneringe wat versigtig, koesterend in borrelpapier toegedraai kan word. Vir 114 bladsye ontvlug mens van realiteit en die lewe met al sy “bolero's” en word jy weggeswiep danksy ‘n bundel verhale met ‘n suiwer hart, danksy Keina. Wanneer jy die boek toemaak, kan al die stories wegwaai die vergetelheid in, of dié biblioteekbus kan sy parkering in jou geheue neem, waar dit ‘n ereplek verdien.

The post Boekresensie: Koms van die biblioteekbus en ander stories deur Keina Swart appeared first on LitNet.


ATKV groet Nico Carstens

$
0
0

Nico Carstens, die bekende Suid-Afrikaanse musikant wie se vingers oor ’n trekklavier kon kotiljons, is Dinsdag op die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Die basspeler Schalk Joubert het Dinsdagaand op sy Facebook-blad geskryf: “Vandag is ’n baie hartseerdag vir Suid-Afrikaanse musiek. Ons het pas een van ons reuse verloor. Vaarwel, Nico …”

Nico het meer as 90 albums opgeneem waarvan meer as 2 miljoen kopieë verkoop is. Hy het sy eerste trekklavier as 13-jarige gekry en het ses maande later ’n kompetisie vir volwassenes gewen. Hy het nooit weer teruggekyk nie en ongeveer 1200 liedjies geskryf.

Die ATKV wil sy medelye betoon aan familie en vriende van Nico Carstens in dié hartseertyd.

“Ons groet vandag ’n reus in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Nico Carstens was ’n legende in sy eie leeftyd,” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep.

The post ATKV groet Nico Carstens appeared first on LitNet.

Boekresensie: In die grot van die sibille deur Juanita Louw

$
0
0

In die grot van die sibille
Juanita Louw
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801235

Die meeste van die gedigte in Juanita Louw se debuutbundel In die grot van die sibille (2016) is die produk van ʼn MA in kreatiewe skryfkuns wat sy in 2014 aan die Universiteit van Kaapstad behaal. As deel van haar meestersgraad voltooi sy verder ’n skripsie oor die Russiese digter Marina Tswetajewa en daar is talle verwysings na dié digter se lewe en werk in Louw se bundel [sien byvoorbeeld "Op soek na Tswetajewa" (75–7) en "Die wurm in ons hart" (82–3)].

In sy resensie van In die grot van die sibille op Versindaba gee Marius Crous ’n uitgebreide bespreking van hoe Tswetajewa se gebruik van mitiese figure soos Orfeus, Euridike en die Sibille van Cumae neerslag vind in die digkuns van Louw. Die titel van haar bundel [wat geëggo word in die laaste reël van die gedig "Fantoom" (87–8) in die gedigsiklus getiteld "Kontrapuntaal" (87–8)] is dan ook geïnspireer deur die werk van Tswetajewa.

Op ’n uiters geslaagde wyse verweef Louw haar persoonlike geskiedenis en ervarings met die mitologiese raamwerk van die bundel. Alledaagse objekte soos ’n handgerolde sigaret ["Sehnsucht" (27)] en ’n leesbril geërf van die spreker se ma in "Die verraad van beelde" (59) kry besondere betekenis. In laasgenoemde gedig skryf Louw:

Ek vryf die lense skoon,
hou die roosgoud blink—
die Egiptenare het geglo
die siel van die dooies
besoek snags hul besittings.

Arme bril,
Goudgeraamde stukke glas,
te lig vir ’n papiergewig,
te vreemd vir ’n versiering—
jou vergrootkrag
is te veel vir my oë.

In "Tas" (65-6), wat uit drie dele bestaan, word die konflik tussen die spreker se ouers versinnebeeld deur haar ma se gepakte tas in die eerste twee dele. In die derde deel koop haar ma vir die spreker ’n tas as sy Londen toe vertrek, want haar "rugsak [is] te klein/om alles in te pas". Die las van die voorgeslagte word op simboliese wyse oorgedra na die spreker. Die tas word later nie meer gebruik nie, maar die spreker raak nooit heeltemal ontslae van die las daarvan nie: "Deesdae lê die swart Samsonite / —’n sluimerende blinkdopkewer— / op die boonste rak van my kas."

Die beeld van die tas word vroeër in die bundel reeds gebruik in die gedig "Die dooies" (56), wat aansluit by een van die sentrale temas in die bundel, naamlik verganklikheid. Die dooies het egter "geen tasse om te pak nie; / hulle het ons reeds verlaat". Ten spyte daarvan dat die dooies hulle aardse besittings agtergelaat het en "nie meer omgee vir foto’s in koekblikke gebêre / of porselein-teestelle in kartonbokse gestoor nie", kom hulle nie tot rus nie: hulle "fluister heeldag in ons ore" en "sommiges leer nooit om te vergeef nie".

In ’n gesprek tussen Louw en René Bohnen op Versindaba verwoord Louw die skryfproses as volg: "Om te skryf is ʼn Orfiese reis: ons sak af in die onderwêreld van ons binneste en bring die gedig terug, asook ʼn nuwe blik op die wêreld. Ons herskep onsself. Deur taal versoen ons ons eie teenstrydighede, asook die binne- en buite-ruimte, self en wêreld."

Wat my opgeval het in die bundel, is dat die spreker gedurig hunker na hierdie onderwêreld, die wêreld van die onderbewuste, en slaap ’n manier is om dit te bereik. In "vel" (63) vertel die spreker hoe sy soms "sonder [haar] vel" wakker word, hoe sy verlang daarna om die "droompapawer se melk weer [te] drink" en haar vel slegs kan teruggroei in die nag [sien ook "Dromende denke" (61–2)].   

Tydens die bekendstelling van In die grot van die sibille in Protea Boekwinkel in Stellenbosch wys Marius Swart, met spesifieke verwysing na die gedig "Die hart is ..." (20), op die humor wat aanwesig is in die bundel. ’n Speelsheid kom ook na vore in gedigte soos "Verkleurmannetjie" (38) en "Blou maan" (44). Die motto tot die bundel, ’n aanhaling van Tswetajewa wat in die oorspronklike Russies en vertaal in Afrikaans geplaas word, lui as volg: "Die digter se taak — om die verborge te ontbloot. Elke gedig is ’n uiting van die sibille." In In die grot van die sibille ontbloot Louw net genoeg om die leser in haar (onder)wêreld in te trek en te verwonder, maar steeds aan die wonder te laat. Alhoewel haar werk veelvlakkig is en gelaai is met simbolisme en verwysings wat die meeste lesers sal moet naslaan, is Louw se gedigte nie ontoeganklik nie. Dit is gedigte wat op diepgaande wyse ontleed of bloot net waardeer kan word. Om af te sluit, haal ek die gedig "Verdwyn" (29) aan wat tot enige leser behoort te spreek:

Soos die grofsmid se hamer klink
op metaal, soos die was wegsmelt
as die beeld se gietvorm verhit.
Soos ’n asemstoot in die bel
verdwyn as die glas rondom swel,
soos die sibille uitgebrand
tot net ’n stem in die holkrans—
begin jou hande, mond te kwyn
en in my bly agter ’n gat:
’n holte gevorm soos jy.

  • Foto van Juanita Louw: Naomi Bruwer

The post Boekresensie: In die grot van die sibille deur Juanita Louw appeared first on LitNet.

Oor oudword

$
0
0
Een van die dinge van oudword is dat jy voel niemand verstaan jou nie. Ja, glo dit maar, net soos 'n tienderjarige glo sy ouers verstaan hom nie, kan 'n oumens ook voel daar is nie volkome begrip vir hom nie. Niemand ken sy gevoelens en gedagtes presies nie, niemand ken sy bekommernisse en sy hoop nie. En hy voel daar is niemand teenoor wie hy sy hart kan ontboesem nie.
 
Wat weet ander van sy verlange na die wat al verhuis het na die ewige woning? Sy blywende skok oor die jonges wat skielik dood is, hulle wat nog nie moes sterf nie? Hy het gevoel hy moes nog gryp om te keer, toe is hulle al weg.
 
Daar is plekke wat hy nooit weer sal sien nie, mense wat hy dalk nooit weer sal sien nie, al leef hulle nog. Want hulle is ook al oud en swakheid, artritis pyn en die karige pensioentjie waarvan hy en baie ander moet leef, maak dit onmoontlik om te reis.
 
Die land het drasties verander, dinge is nie meer soos in sy jeug nie en hy weet nie of sy taal en sy mense sal kan bly staan teen die voortdurende aanslae op hulle nie.
 
Dit gaan ook oor die materiële dinge, hoe sal sy goedjies hanteer word na sy dood? Al is daar 'n testament, vertel dit nie alles nie. Wat sal van sy geliefdes word na sy dood? Geen mens kan dit met sekerheid weet nie, maar hy wil tóg weet daar sal altyd iemand wees wat omgee an versorg. Met dit as troos sal dit makliker wees om die oorgang te maak.
 
Varkspek

The post Oor oudword appeared first on LitNet.

Bedreig deur die waarheid

Kerk benodig ’n paradigmaskuif oor gays

$
0
0

Die buitengewone Algemene Sinode-sitting van die NG Kerk vind volgende week (7–10 November) plaas. Een van die belangrike sake wat bespreek gaan word, handel oor selfdegeslagverhoudings.

Ons weet teen hierdie tyd dat die twee basiese groepe rakende die verstaan van die Bybel en selfdegeslagverhoudings – die meer fundamentalistiese en die meer kritiese – mekaar nie sommer gaan oortuig nie.

Hoe hanteer ’n kerk ’n saak waaroor daar sulke sterk uiteenlopende menings onder haar lidmate bestaan?

Thomas Kuhn skryf in sy bekende boek The Structure of Scientific Revolutions baie insiggewend oor die feit dat wetenskaplike kennis altyd binne paradigmas funksioneer. Alhoewel Kuhn hierdie teorie van hom op die natuurwetenskap van toepassing maak, kan dit uiteraard nuttig gebruik word ook op ander sisteme van kennis, soos godsdiens – en meer spesifiek op oortuigings rakende sekere kwessies binne daardie godsdiens of geloof.

Vir lank is daar op ’n min of meer eenduidige manier oor homoseksualiteit binne die Christelike geloof, en dan meer spesifiek binne die NG Kerk, gedink. Vir lank het die vrae en antwoorde oor hierdie saak sonder veel teenspraak en spanning op mekaar gepas. Homoseksualiteit was volgens die Bybel sonde. Punt.

Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu het stemme van kritiek binne die NG Kerk, maar ook daarbuite, hierteen begin opklink. Die saad van onrus is geplant.

Hoe werk paradigmaskuiwe?

Vóór die onrus, sê Kuhn, verstaan almal ’n bepaalde saak min of meer dieselfde. Daar heers ’n groot mate van stabiliteit en vrede daaroor. Op al die vrae rakende ’n sekere saak is daar goeie antwoorde. Só ’n sisteem van denke kan vir lank goed funksioneer.

Die oomblik wat daar egter ’n krisis ontstaan, of wanneer bestaande oortuigings indringend getoets word, word die balans van ’n bepaalde paradigma versteur. Dit bring spanning. Die vrede binne daardie paradigma of geslote sisteem van denke word geskud en bedreig.

Daar word dán gewoonlik gevoel dat die nuwe inligting/kennis wat hierdie onrus teweegbring, ten alle koste teengestaan moet word, want dít bring ’n klomp vrae mee wat nie meer bevredigend beantwoord kan word nie. Onder sulke omstandighede word daar dan ook dikwels deur leiers ’n oproep gemaak om so ver moontlik die aanvaarde, gangbare oortuigings met lojaliteit en (Skriftuurlike) getrouheid te onderskryf.

Ons het hierdie verloop wat selfdegeslagverhoudings betref, binne die NG Kerk spesifiek, oor die laaste aantal jare sien gebeur.

Hierdie spanning kan vir ’n tyd met “noodmaatreëls” bestuur word, maar mettertyd raak die sisteem of paradigma onstabiel en ongeloofwaardig. En dit lei dan tot die ontstaan van ’n nuwe paradigma of sisteem van denke.

In godsdiens – en dit is wat paradigmaskuiwe hier moeilik maak – kan premoderne en moderne denke saam met postmoderne denke funksioneer. Dit vloei in mekaar en nuwe denke skakel nie noodwendig ou denke uit op pad na ’n nuwe paradigma nie.

Kenmerke van paradigmaskuiwe

Volgens Kuhn verstaan die aanhangers van die nuwe paradigma die ou paradigma – hulle kom immers van daar – alhoewel hulle dit nie meer kan onderskryf nie. Die omgekeerde is nie moontlik nie. Die aanhangers van die ou paradigma verstaan nie werklik die nuwe een en die noodsaaklikheid daarvan nie.

Die ou-paradigma-aanhangers ervaar die nuwe een as ’n bedreiging en hulle reageer reaksionêr daarop. Die aanhangers van die nuwe paradigma is gewoonlik meer genaakbaar en verdraagsaam.

As gevolg van hierdie spanning ontstaan daar dikwels binne die ou, bestaande paradigma ’n nuwe konserwatisme. Alles word (vir oulaas) in die stryd gewerp om die bestaande te beskerm en te behou.

Die nuwe-paradigma-mense is in staat om inklusief te dink, ook teenoor die ou paradigma, maar die persone binne die ou paradigma hou vas aan eksklusiwiteit. Hulle beskou húl siening as die enigste, en as reg.

Op die ou end word sinvolle kommunikasie tussen hierdie paradigmas feitlik onmoontlik, want rasionele argumente hiertussen verskil net te veel. En só kan ’n sogenaamde kommunikasie-dissonansie tussen paradigmas ontstaan.

Nag ou grote?

Die Algemene Sinode van die NG Kerk se 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudings is in hierdie opsig werklik uitstekend. Dit skep meer ruimte vir meer mense, sonder enige dwang. Dit is inklusief. Hierdie besluit hou op ’n manier twee paradigmas vas, in sover mens dit kan doen. En dít is eintlik waarvoor die “elf lidmate” en soveel ander ook vra: stel hierdie besondere goeie besluit volledig in werking!

Ek glo deur hierdie saak volgens die bestaande Sinodebesluit te hanteer, ál meer mense vorentoe op grond van volgehoue blootstelling aan onweerlegbare nuwe insigte en inligting, asook aan gay persone, tot ’n punt sal kom waar die ou paradigma toenemend as uitgedien beleef sal word en die nuwe een aanvaar sal word, sonder dat die kerk hoef te skeur.

Indien die ou-paradigma-aanhangers egter op allerlei maniere voortgaan om húlle oortuigings op ’n hele kerk te probeer afdwing en die kerk sodoende daardeur gevangene gaan hou, gaan mense in nóg groter getalle spiritueel en intellektueel uit die kerk verhuis na ruimtes wat deur nuwe-paradigma-denke gekenmerk word.

Die Hollandse dominee Okke Jager het by geleentheid gesê: die beste manier om lidmate in die kerk te hou, is om die risiko te loop om hulle te verloor. Mag die dapper 2015-AS-besluit volgende week volledig in werking gestel word. Indien ons gaan versuim om hierdie moreel-regte ding te doen, gaan ons vir onsself ’n blinde sambok skep. Een wat ons gaan aanhou looi – en as ons halsstarrig binne die ou paradigma gaan bly vasskop, ons gaan looi totdat ons uiteindelik gaan kwyn en mense sal sê: Nag ou grote!

Ons weet mos die geskiedenis is besig om die ou paradigma oor hierdie saak verkeerd te bewys. Die kerk kan haar tog nie langer in hierdie opsig deur die ou-paradigma-argumente op sleeptou laat neem nie. Mag die sinodegangers volgende week die hedendaagse uitdagings langs die omweg van die toekoms bedink! Só tree mens profeties op – en hoe nodig het die wêreldkerk dít nie!

Bron: Ben du Toit. 2012. God? Geloof in ’n postmoderne tyd.

 

The post Kerk benodig ’n paradigmaskuif oor gays appeared first on LitNet.

Jans Rautenbach (1936–2016)

$
0
0

Ek het Jans Rautenbach die eerste keer by die Kriterion-filmfees in Amsterdam ontmoet. Dit was Oktober 1995. Hy was daar om oor sy skitterende werk te praat. Jans het in ’n tyd toe sy tydgenote in die jare sestig Afrikaanse melodramas en romantiese musiekfilms vervaardig het, drie rolprente gemaak wat meer as 40 jaar later nog as baanbrekerswerk beskou word: Die kandidaat, Katrina en Jannie totsiens

Gedurende die jare sewentig en vroeë tagtigs het nog films gevolg, wat uiteindelik ’n besonderse oeuvre vorm. Jans se nalatenskap is sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse filmkuns as ’n vernuwer en ’n ware skrywer-regisseur. In al sy rolprente het hy die medium gebruik vir sy persoonlike wêreldbeskouing en het hy vrae gestel oor wie en wat die Afrikaner is. Hy was ’n Afrikaner wat van binne die Afrikanergemeenskap krities na die gevolge van apartheid gekyk het. Hy was ook ’n humanis wat besef het hoedat die apartheidsisteem talle van sy medemense van hul menswaardigheid beroof het. Rolprente was vir hom ’n kunsvorm, op dieselfde vlak as die ander kunste. Dit was ’n merkwaardige nuwe benadering tot die Afrikaanse filmkuns. Hoewel filmmakers soos Joseph Albrecht met Moedertjie (1931), Pierre de Wet met Geboortegrond (1946) en Jamie Uys met Daar doer in die Bosveld (1951) belangrike bydraes tot die ontwikkeling van die Afrikaanstalige filmkuns gemaak het, was die klem steeds op vermaak. In die geval van Rautenbach het die klem op selfuitdrukking geval, om die filmmedium te gebruik as die spreekwoordelike auteur.

Jans het instinktief gewerk. Hy het nie ’n geskiedenis gehad van hoe dit gedoen moes word nie. Hy het geen filmervaring of filmkennis gehad nie. Hy het nie blootstelling gehad aan ’n internasionale filmkultuur wat groot name en auteurs soos Ingmar Bergman, Michelangelo Antonioni, Federico Fellini of Jean-Luc Godard ingesluit het nie. Maar onbewustelik het hy die medium op dieselfde wyse begin gebruik: vir persoonlike uitdrukking en om mee te eksperimenteer. Met sy films sou hy juis die Afrikaanse film daardeur vernuwe: esteties, tematies en as ’n vorm van sosiopolitieke kommentaar.

Ek het Jans weer in 1999 ontmoet. Ons was saam op die raad van die Kaapse Filmkommissie. Hy het die Kannaland-distrik verteenwoordig. Ek het aan hom genoem dat ek ’n boek oor sy werk wou skryf. Hy het belangstel, maar gesê dat ek Oulap toe moet kom. Ek moet kom kyk waar hy bly. Sy wêreld beleef.

 

Oulap

In 2004 het die eerste besoek plaasgevind. Twintig kilometer buite die skilderagtige dorp De Rust, op die pad na Willowmore, is daar ’n bord wat die roete na Vlakteplaas en Oulap aanwys. ’n Grondpad neem ’n mens verby witgeverfde huisies, volstruise, garingbome en ’n klein treinstasie. ’n Mens ry in die rigting van die Swartberge en as dit bykans lyk of jy jou teen die hange gaan vasry, draai die pad na regs en begin dit uitkronkel. Dit maak ’n skerp draai, ’n steil spiraal, totdat dit uiteindelik by ’n kliphuis eindig.

Die huis is met die hand gebou uit duisende rotse wat uit die Swartberge gehaal is. Die rotse is opgebreek in kleiner klippe, wat gekap is totdat dit as bakstene, as boumateriaal, gebruik kon word. Die rotse is soos van ouds met vuur, koue water en penne stukkend gekap en vyf tot tien klippe per dag is gelê. Waar die klippe gebruik is om die hoeke van die huis te vorm, is dit verstommend 90 grade. Die huis is oor ’n periode van 13 jaar gebou. In die voorste tuin, wat ’n panoramiese uitsig op die Swartberge het, staan allerlei beeldhouwerke, waarvan Jans self die geskiedenis in sy memoires vertel. Dit is die wêreld wat Jans verbeeld het in sy laaste film, Abraham (2015). En ’n mens moet dit sien om Abraham beter te verstaan en te waardeer. Soos in ’n toneel in die film waarin Jans se vrou, Almeri, vir Abraham al die kunswerke in die huis wys, het ek self daardie ontdekkingstoer gemaak. Daar is al die artefakte van Jans se rolprente: die raadsaaldeur wat in Die kandidaat (1968) gebruik is, die skilderye uit Jannie totsiens (1970) en van Abraham se kunswerke.

Ek was bevoorreg om die eerste weergawe van Abraham (2015) te sien. Sonder die krediettitels. Ek het die volgende vir Jans in ’n e-pos geskryf:

Ek is in vervoering oor Abraham. Dit is jou mees persoonlike film, 'n uiters sensitiewe en roerende blik op marginaliteit, die kreatiewe proses en verhoudinge. Dit som so baie van jou temas op. Die marginalisering van bruin mense in Suid-Afrika – wat reeds al sedert Katrina en Die Kandidaat ter sprake was. Die feit dat sulke ongelooflike kreatiwiteit en armoede saam bestaan! Dit is uiters selfreflekterend – oor kuns, oor jou rol as filmmaker en jou rolprente, oor jou verhoudinge, 'n baie persoonlike blik wat vir ander oopgemaak word. Ek sien die herhalende motiewe en die stilistiese ooreenkomste met al jou ander werk, veral Pappa Lap en Broer Matie. Ook die wonderlike gebruik van kore en liedere, die skitterende aanwending van landskap – ook 'n loflied aan Kannaland. En Oulap word een van die karakters. As 'n laaste hoofstuk in my boek oor jou sal dit so netjies struktureel werk met OULAP as die eerste hoofstuk in die boek. Ek kan nog baie meer skryf – oor die sensitiewe vertolking, Koos Roets se stemmingsvolle fotografie, die subtiliteit ... As ek een voorstel kan maak, is dit dat 'n mens Engelse byskrifte ook moet skep vir die liedere – dit is so 'n belangrike deel van die betekenisgewing. Ek voel so bevoorreg dat jy dit met my gedeel het – en omdat ek so lank met jou werk saamleef, by Oulap.

My eerste onderhoud met Jans het oor ’n naweek plaasgevind. Meer as ses ure is op band vasgevang. Hy het my vertel van sy jeugjare, dié van ’n kind gebore in die Depressie van die jare dertig. “Ons was die kinders van vroegmoeg ouers wat in stinkende donker onderaardse tonnels goud vir die ryk mynbase in Houghton moes uitgrawe. My pa het 22 myl ver gewerk en het op ’n fiets heen en weer getrap. Vier-en-veertig myl per dag, winter en somer, van donker tot donker, tot hy 69 jaar oud was. En toe het hy aan myntering gesterf – ’n lang roggelende dood.”

jans-rautenbach

As kind het Jans al gedroom om uit sy omgewing te ontsnap na die fantasiewêreld wat hy geskep het. “Ons het nie boeke of tydskrifte in die huis gehad nie – wel later ’n blikkerige bekkelaait radio wat Saterdae boeremusiek, die Mielieblaarklub, Willie Liebenberg en Manie Maritz se rofstoei, en Eie Versoeke uitgesaai het.” Op Laerskool Baanbreker het hy geleer van “Dingaan, Da Gama, Jan van Riebeeck, Piet Retief en die Voortrekkers. Maar van ander wêrelde oorkant die einders het ek niks geleer of gehoor nie. Ek het nie geweet dat daar baie lande en plekke sonder mynhope en kreperende armoede was nie.”

Hy het in die middae op sy “eentjie in die geel sianiedsandhope, tussen afgeleefde masjinerie by verlate mynskagte met geroeste doringdraad omhein” gespeel – “vasgevang in ’n verbeeldingswêreld van seerowers, konings en dapper helde”. Hy was “’n reisiger in die ewige wonderland van kaalvoet seuntjies”. Boeke het daardie ander wonderland vir hom ontsluit. Dit het waarskynlik raakpunte met die Jans in sy laaste film wat aan Abraham ’n boek gee.

Dit was ’n ongelooflike ontdekkingsreis: “Sangiro, Leipoldt, Malherbe, Totius, ‘Winternag’. Daar het eens ’n doringboompie gestaan waarlangs sware ossewaens gaan ... Toe kom die Engelse boekontdekkinge. Boys own annual, Biggles, St Trinians. Toe die digters Shelley, Keats. “Home is the hunter, home from the hill. I am the captain of my soul, the master of my fate.”

In standerd vyf, op 12 jaar, het die bibliotekaris vir Jans toegelaat om sy eerste boek huis toe te neem: “Ek het boek na boek verslind. Later jare ook Mark Twain, Von Hildebrand, Daniel Defoe, Shakespeare, Somerset Maugham, Walt Whitman. Ek het aanhou lees en lees – in die hoërskoolvakansies tot twee biblioteekboeke ’n dag. Ek had nou ’n droomwêreld so wyd as die Heer se genade. Ek was nooit weer eensaam nie.”

Sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse filmbedryf is in my boek Jans Rautenbach: Dromer, baanbreker en auteur gedokumenteer. Sy grootste film, Die kandidaat (1968), was ongelooflik ambisieus vir ’n Afrikaanstalige film in die jare sestig. Waar die meeste Afrikaanstalige films bloot verstrooiingsvermaak was, het Jans ernstige vrae oor die rol van die Afrikaner in ’n multikulturele samelewing gevra. Ten spyte van probleme met die destydse Publikasieraad was die ontvangs van Die kandidaat met sy veelvlakkige siening van Afrikaner-identiteit en moderniteit sensasioneel. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Afrikaanstalige filmkuns was daar ’n eweknie vir die literêre werk van die sestigerskrywers soos Etienne Leroux, André Brink, Breyten Breytenbach en Jan Rabie. Suid-Afrikaanse filmkuns is met een film tot op die vlak van ons letterkunde verhef.

Met Die kandidaat het Rautenbach die stelling gemaak dat die wit Afrikaner vir hom “’n malhuis gaan skep met sy ideologieë en dogmas”. Die sestigerskrywer-karakter in die film, Du Toit, is die figuur waarmee Rautenbach die Afrikaner ondersoek en sy valshede ontbloot. Die karakter stel baie delikate vrae, soos of ’n persoon van Katolieke afkoms dan nie ook ’n Christen is nie.

Die film is deur akademici en resensente ontleed en talle leitmotiewe is geïdentifiseer. In baie opsigte bevat Die kandidaat al die temas wat Rautenbach in sy oeuvre sou ontgin, vanaf sy eerste film as regisseur tot by Broer Matie in 1984. ’n Hooftema dwarsdeur sy werk is die identiteit van die Afrikaner. Wie en wat is die Afrikaner? Wie kan as ’n ware Afrikaner gereken word, as daar so iets is? In die proses ontleed Jans die klasse- en ideologiese verskille en standpunte binne die wit Afrikanervolk.

Danksy die lof wat Die kandidaat ontvang het, het Jans selfvertroue ontwikkel. Met sy volgende film, Katrina (1969), wou hy en sy kollega Emil Nofal die groot problematiek rondom mense wat as blank, swart of bruin in die apartheidstaat geklassifiseer is, aansny. Na die voltooiing van Katrina het Rautenbach ook groot probleme ondervind met die Publikasieraad, wat verskeie tonele wou sny. NP Van Wyk Louw, een van die literêre reuse in die Afrikaanse letterkunde, het hom egter ondersteun. Van Wyk Louw het na die film gekyk en ’n stuk vir die pers geskryf waarin hy Katrina verdedig het. Hy het die film as ’n baie simpatieke uiteensetting van Suid-Afrika se “kleurprobleem” bestempel. Katrina is ’n voortsetting van ’n sentrale tema in Rautenbach se werk, naamlik kulturele identiteit.

Met Jannie totsiens (1970) het Rautenbach die plaaslike filmkuns radikaal vernuwe, veral in sy aansluiting by politieke modernisme in die Europese kunsfilm. Dit is ’n vernuwing in terme van die wegbeweeg van die klassieke narratiewe struktuur wat tot 1970 in die plaaslike film dominant was. Dit sluit aan by die werk van die sestigerskrywers soos Leroux se Sewe dae by die Silbersteins en Brink se Lobola vir die lewe. Rautenbach het die punt gedurende dié tyd gemaak dat hy wens hierdie skrywers sou by draaiboeke vir die plaaslike filmbedryf betrokke raak. Volgens hom sou dit ’n belangrike invloed op die tekste van ons filmkuns gehad het.

Jans se oeuvre raak aan onderwerpe soos Afrikaner-identiteit, die klasseverskille tussen Afrikaners, binnestanders en buitestanders, en meer subtiele kommentaar oor die Afrikaner-kerngesin.

Talle individue in die rolprentbedryf is deur Jans beïnvloed en het hulle eerste leerskool in die filmbedryf by hom ervaar: Katinka Heyns, Koos Roets, Regardt van den Bergh, Jana Cilliers en baie ander. ’n Nuwe geslag filmmakers het die diepe humanisme wat in werke soos Katrina en Broer Matie uitgestraal het, in hul eie werk ingebring. Johan Blignaut, wat met Mamza (1985) ook na die bruin gemeenskap en hul pyn sou kyk, is ’n uitstekende voorbeeld.

Aan die einde van my laaste onderhoud het hy sy lewe soos volg opgesom:

My beroep vandag is dromer. En as ek ’n vorm moet invul en daar staan “beroep”, dan skryf ek “dromer”. Wat ek is, is om te droom en nuwe moontlikhede te droom en om ander aan te moedig en te sê: “Sonder ’n droom het jy nie ’n toekoms nie. Jy moet ’n droom hê en jy moet daardie droom vergestalt. Al is jy stokoud en jy kan nie jou bene beweeg nie, moet jy nog altyd ’n droom hê. As ek terugkyk na my lewe kan ek sê dit was een lang helse droom gewees. Drome wat ek gebring het, wat ek self geleef het. Ek het vir my kinders gesê as julle ooit vir my ’n grafskrif wil gee, skryf maar net daarop: “Hy was ’n dromer.”

 

 

jansrautenbach_martin2

  • Martin Botha is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en is die skrywer van ’n boek oor Jans Rautenbach.

 

The post Jans Rautenbach (1936–2016) appeared first on LitNet.

Jonk en trots Afrikaans

$
0
0

Amanda de Stadler

Afrikaanse studente en hoërskoolleerders is baie minder bekommerd oor die toekoms van die taal as die ouer geslag.

Leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch wat saam met studente en ander liefhebbers van Afrikaans deelgeneem het aan ’n gesprek oor Afrikaans, glo die taal is springlewendig mits dit toeganklik is vir almal.

Die organisasie Vriende van Afrikaans het die gesprek gereël as deel van ’n reeks van vyf gesprekke die afgelope jaar waartydens brandende kwessies soos rassisme en ook vrae soos "Waarom sit ek my kind in ’n Engelse skool?" en "Wat het ek vir Afrikaans gedoen?" hanteer is.

Ter afsluiting van die jaar se gesprekke het Vriende van Afrikaans by die jonger geslag gaan kers opsteek om te hoor wat die jeug van Afrikaans verwag, wat gedoen moet word om Afrikaans te laat groei en waarom Afrikaans behoue moet bly.

Danny Titus

Danny Titus, van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), wat die gesprek met die jongmense gefasiliteer het, sê daar bestaan ’n groot mark in die land om Afrikaans te laat groei ten spyte van die negatiewe persepsies wat daar by baie mense oor Afrikaans bestaan.

Hy het onder meer verwys na die groot aantal jong swart mense in die land wie se huistaal Afrikaans is en die groot aantal mense uit ander lande in Afrika wat graag Afrikaans aanleer as hulle in Suid-Afrika kom werk.

Volgens Titus het Afrikaans op verskeie gebiede ’n leierskapsrol om te speel wat ook ander Afrikatale kan help bemagtig.

Al die deelnemers aan die gesprek het hulle sterk uitgespreek ten gunste van moedertaalonderrig.

Mercia Kannemeyer

Mercia Kannemeyer, ’n derdejaarstudent in drama- en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit is noodsaaklik dat al Afrikaans se vele gesigte erken en gevier word. “Afrikaans het verskeie variëteite en Afrikaanssprekers moet dit omarm en deel maak van hulle kultuur.”

Kannemeyer, wat Saterdae ook ’n gemeenskapsprogram op MFM 92.6 aanbied, sê haar belangstelling in Afrikaans is gegrond in die feit dat sy lief is vir haar moedertaal. “Dit is vir my baie opwindend dat daar soveel fasette aan Afrikaans is!”

Frederik van Dyk

’n Regstudent en voormalige voorsitter van die Adam Tas-studentevereniging vir Afrikaans, Frederik van Dyk, sê studente moet self eienaarskap van Afrikaans opeis.

Van Dyk, wat ook HK-lid is by Helshoogte-manskoshuis, sê as studente aan die Universiteit Stellenbosch self eienaarskap van Afrikaans opeis, dinge op die kampus aansienlik anders sou gelyk het.

Michael Jonas

Die hoof uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Michael Jonas, het gepleit dat Afrikaanssprekendes empatie en verdraagsaamheid aan die dag moet lê.

Hoe word mense in die Afrikaanse gemeenskap verwelkom? wou hy weet. “Is dit nie soms die hekwagters van Afrikaans wat so baklei wat dikwels die grootste skade aanrig nie?”

Hy sê daar moet maniere gevind word om Afrikaans in ’n veeltalige konteks so te bevorder dat daar by almal ’n liefde vir die taal gekweek word.

Jonas sê Engels is besig om by baie mense die taal van aspirasie te word. Dit kan teëgewerk word slegs as daar deur middel van lees- en ander projekte ’n liefde vir Afrikaans gekweek word wat die belangrikheid van moedertaalonderrig by Afrikaanse mense sal laat posvat.

Die vraag is hoe ons die diversiteit van Afrikaans se geskiedenis in ’n veeltalige konteks vier.

Verskeie deelnemers aan die gesprek het hulle uitgespreek ten gunste van veeltaligheid en die erkenning van diversiteit.

Vernita Beukes

Vernita Beukes, wat verantwoordelik is vir die onderrig van Afrikaans vir alle internasionale studente aan die Universiteit Stellenbosch, sê sy is passievol oor Afrikaans.

Sy sê baie van haar studente kom net vir ses maande Suid-Afrika toe, maar wil graag ’n basiese kennis van Afrikaans bemeester om die land se kultuurerfenis ten volle te ervaar. “Hoe meer tale jy ken hoe meer toeganklik is jy vir meer mense.”

Danie van Wyk

Danie van Wyk, ’n oudonderwyser, sê dit is belangrik dat die jeug eienaarskap van Afrikaans neem. Die jonger geslag moet ’n passie vir die taal ontwikkel. Hy sê daar is ’n wanpersepsie dat Afrikaans as onderrigtaal minder belangrik is. Dit sal ernstig aandag  moet ontvang.

Die meeste skole in Mitchells Plain is besig om heeltemal te verengels, maar volgens Van Wyk is die enkele skole waar Afrikaans nog die onderrigtaal is, se uitslae ’n bewys van die belangrikheid van moedertaalonderrig.

Liezel van Beek

Liezel van Beek, ’n jong entrepreneur wat onder andere sewe jaar lank skoolgehou het in die Ooste, sê mense wat omgee vir Afrikaans moet baie minder opinies hê en meer luister na ander mense se stories.

“Ons kan nie meer die reëls maak nie en moet die bagasie van die verlede afskud.”

Vriende van Afrikaans se bestuurder, Amanda de Stadler, sê die "grootmense" sal haar vergewe as sy sê die deelname van die studente en leerders was veral vir haar indrukwekkend en van groot belang.

De Stadler sê hulle hoop om in die toekoms meer van hierdie soort gesprekke te fasiliteer om groter begrip onder landsburgers te bewerkstellig.

Hierdie gespreksgeleenthede is strook met die Nasionale Ontwikkelingsplan se strewe na ’n sterk burgerlike gemeenskap wat selfstandig kan dink.

Vriende van Afrikaans het die afgelope jaar mense uit verskillende samelewingsfere en van verskillende ouderdomme genooi om te kom saamgesels oor Afrikaans.

 

Maryke van Schalkwyk

Ben Malan

Elin Swanepoel

René Cloete

16-10-30-atkv-vva-8497-kira-alberts

Kira Alberts

Christopher Banda

Gerda Odendaal

Adinda Vermaak

Benjamin Bock

Zian Blignaut

Jean Oosthuizen

Santjie van Vuuren

Andri Malan

16-10-30-atkv-vva-8482-robin-hendrikse

Robin Hendrikse

16-10-30-atkv-vva-8481-loraine-de-waal

Loraine de Waal

Nicola Bekker

Desmond Painter

Foto's: Izak de Vries

The post Jonk en trots Afrikaans appeared first on LitNet.


Jaco Botha (1972–2016)

$
0
0

Sêgoed van Jaco Botha

Wat inspireer hom? “Ek luister na stories, kyk na mense, dink aan goeie tonele en mooi sinne om te skryf. Dit help om ’n sterk storielyn te hê, soos met Miskruier. As iemand my kwaad maak, het hulle ’n kans om êrens in ’n storie te beland – gewoonlik nie in gawe omstandighede nie.”

Wat is vir hom die lekkerste van skryf? “Skryf is wat ek goed doen. Maar die lekkerste is as jy teruglees en jy sien die storie het ’n lewe van sy eie. Jy tree bloot as ‘tolk’ op – dis magic!”

“Ek is in wese outyds. Soos ’n oumens lees ek ook (vanweë my swak oë) naby, en het waardering vir die reuk en grein van die papier en die bindsel. Veral ouer boeke, met hul dik buiteblaaie, laat my tuis, gesofistikeerd en gesond voel – dis soos om aan goeie cognac te teug, ’n Kubaanse sigaar te rook, of onder die reuk van ’n rietdak aan die slaap te raak. Dis dan juis daarom dat ek nie National Geographic kan lees nie – omdat die bindgom vir my stink en my galsterig laat voel. Maar ek aanvaar dat ek hier in die minderheid is; dat ek in ’n moderne wêreld lewe waarin daar verskeie media beskikbaar is om stories te vertel; dat ’n gevoel vir die estetiese, langsame oomblik sy dag in die son gehad het.” (OuLitNet)

“Maar as voorstander van die boek moet ek noem dat om te kan oorleef en presteer in ’n moderne en erg vlugtige wêreld, het ’n mens verbeeldingskrag nodig. En hier is daar min kompetisie vir die boek, waar die leser die gedrukte woord tot ’n lewende verhaal kan verbeel. Jy sal ver soek om ’n leier van mense – of dit nou ’n uitvinder, ’n politikus, ’n sakeleier of bekwame skrywer of kunstenaar is – te vind wat nie ook ’n leser is nie.” (OuLitNet)

Na die verskyning van In drie riviere: “Om te skryf is vir my instink. Dis soos om asem te haal. Dis die enigste ding wat werklik sin maak en die enigste dryfveer in my lewe.” (Beeld, 6 November 1997)
Waarom kortverhale? “Miskien is ek ’n control freak en met ’n kortverhaal dwing ’n mens die leser om elke woord te lees. As dinge te voorspelbaar en vervelig begin raak in ’n roman, lees jy eenvoudig sommige bladsye glad nie. Met ’n kortverhaal kan die leser dit nie bekostig om iets te mis nie. Abraham de Vries het van die kortverhaal gesê meer is nie nodig nie.” (Beeld, 6 November 1997)

“Ek luister na mense en hul stories. Ek wil weet waarom hulle sekere emosies ervaar. Skryfwerk gaan vir my ook oor deernis. My boek is hopelik ’n medium waardeur die leser insig in ander kan kry.” (Beeld, 6 November 1997)

Die opdrag voor in Sweisbril: “My bemoeienis is met die mense wat nie verhale het om te leef nie; mense wat nie groot stellings het om te maak nie; my bemoeienis is met dié wat gebreek is, sonder dat hulle ooit heel was. Ek wil hul toevou in die liefde wat ek nie het nie. Oor hulle wil ek skrywe.” (Rapport, 19 Augustus 2000)

In 2000: “Dit is so dat die meeste van die Afrikaanse letterkunde my verveel en Afrikaans het nog min van wêreldstandaard gelewer. Maar vir ’n jong taal is daar al ’n paar oulike goed geskryf. Dis egter nie vir my ’n groot issue nie, ek wil nie daaroor in debat gaan nie. (...) Ek is klaar met literêre dinge, ek is ’n baie pragmatiese mens. ’n Mens se ervaringswêreld is baie beperk binne ’n literêre gemeenskap – ek dink dis beter vir my skryfwerk om met die regte wêreld te doen te hê.” (Die Burger, 6 Maart 2000)

Oor geweld in sy stories: “Om te skryf is sosiaal-aanvaarbare patologie. Dis ’n manier om die geweld in jouself deur karakters te laat lewe en so die geweld beter te verstaan.” (Onderhoud met Antonia Steyn op LitNet)

In 2005: “Die laaste drie jaar het my gehelp om soveel nader te kom aan wie ek is. Ek doen tans wat ek móét doen, en wat ek beter as enige iets anders doen: skryf. Dit gaan oor sin vind. As ek ’n tegniese ding skryf, is dit oor ’n paar maande niks werd nie – maar om in Afrikaans fiksie te skryf, laat my soos ’n reus voel.” (Beeld, 12 November 2005)

“Vir my gaan dit daaroor dat ek voltyds wil fiksie skryf. Dis hoekom dit vir my so belangrik is dat Miskruier vertaal word. Dit is moontlik vir ’n Afrikaanse skrywer om voltyds te skryf, maar dan moet jy ’n best seller skryf in Afrikaans en internasionaal goed doen.” (Beeld, 12 November 2005)

“Ek dink ek het ’n melancholiese persoonlikheid – dan het jy maar ’n sekere uitkyk op die lewe. Ek wissel tussen geweldig laf wees en geweldige donker buie. Later raak jy so laf dat jy omtrent teen die gordyne uitklim om van die weemoed te ontsnap. Vir my is die humor so belangrik om die donker onderste plas van my siel te counter. Soos ek ouer word, glo ek my manuskripte gaan net al hoe ligter word.” (Beeld, 12 November 2005)

Hoekom ’n roman na die twee kortverhaalbundels? “Ek wou vir ’n groter gehoor skryf en ek voel ek het gesê wat ek wou sê in kortverhale. Om ’n roman te skryf, is ’n groter uitdaging. Dit verg ’n ekstra vlak vaardigheid, uithouvermoë en ’n holistiese visie.” (Rapport, 25 September 2005)

Jaco aan Mike Nicol oor sy siening van vertaling: "I think when translating, your task is to channel the spirit of the writer, the essence of the text, and to accomplish that, you sometimes need to stray." (LitNet)

“Skryf is ’n vaardigheid wat deur jare en jare ontwikkel het. Ek dink nog nie ek is daar nie, maar ek is nader daaraan ná hierdie boek (Miskruier). Ek het goed litte losgemaak en ek glo dit gaan dalk ’n paar waves maak.” (Rapport, 25 September 2005)

“Ons skrywers is regtig ’n bietjie stereotiep – drink te veel, is jags, skryf om die depressie te bestry. Dit gaan al hoe meer oor die ontbloting van die self, om te sê: This is who I am ...” (Onderhoud met Antonia Steyn op LitNet)

Gebore en getoë

Christoffel Jacobus (Jaco) Botha is op 17 September 1972 in Vereeniging gebore. Hy is gebore met net 10% sig (vandaar sy bynaam Tien op universiteit). Sy eerste laerskool was Prinshof in Pretoria, ’n skool vir swaksiendes.

Hy vertel aan Willemien Brümmer (Beeld, 12 November 2005): “Ek was ’n groot huiler in daardie tyd. Ek het in bome geklim sodat ek nie in die kar gelaai kon word om skool toe te gaan nie. My ouers het besluit om Worcester toe te trek en in die helfte van sub B is ek na die Pionierskool vir blindes daar.”

Jaco het as veertienjarige gediggies en liefdesbriewe aan oulike meisies geskryf.

Tydens sy hoërskooljare werk Jaco in 1990–1991 by B&W-rekenaars op Worcester, waar hy rekenaartoerusting herstel en verkoop. Hy gee ook privaat klasse in rekenaargebruik en is aktief betrokke by aktiwiteite by die skool, soos bergklim, skaak, rugby en landloop.

In 1991 matrikuleer hy aan die Pionierskool met matrikulasievrystelling.

Verdere studie en werk

In 1992 is Jaco na die Universiteit Stellenbosch, waar hy begin met BSc voordat hy oorslaan na BA en in 1996 sy graad behaal met sielkunde en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. Daarna gaan hy na die Universiteit van Kaapstad. In 1997 verwerf hy sy BA Honneurs en in 1999 sy MA (cum laude) nadat die M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk in 1997 aan hom toegeken is.

In ’n onderhoud met Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 6 November 1997) sê Jaco dat die prys beteken het dat hy in die Kaap kon bly en sy honneursgraad onder Etienne van Heerden kon klaarmaak. “Ek het die afgelope jaar baie goed weggegooi. Sonder Van Heerden se leiding sou ek nie die insig gehad het om te weet wat is goed en wat is nie goed genoeg nie. Hy het my gehelp om te besef wat my sterk punte is ... wat my stem en my gut is.”

Op Stellenbosch, tydens sy studiejare, het hy ’n “roof”-radiostasie, WKPR, gehad en later het hy gehelp om Radio Matie op FM te kry en was hy ook stasiebestuurder daarvan. In 1996 was hy die beoordelaar van die SR-skrywerskompetisie op Stellenbosch.

Jaco was in die manskoshuis Wilgenhof, waar hy redakteur van die koshuiskoerant was. Hy het vir die koshuis se derde span rugby gespeel en was ook afrigter. Hy het tydens sy universiteitsjare ’n aktiewe rol in die snoeker-, veerpyltjie- en brugklubs gespeel.

Jaco verwerf verskeie beurse van die Universiteit Stellenbosch en in 1994–1995 kry hy ’n toekenning van Wilgenhof vir sy uitstaande bydrae tot kultuur. Hy is ook die wenner van die SR-skryfkompetisie in 1995. In 1998 word die Human & Rousseau-beurs aan hom toegeken.

Jaco was lid van die Suid-Afrikaanse Blindes-krieketspan wat in 1997–1998 die wêreldbeker in Delhi, Indië gewen het.

Na sy universiteitsjare werk Jaco as ’n rekenaarprogrammeerder by ’n IT-maatskappy op Stellenbosch.

Op 21-jarige ouderdom het hy ’n bundel kortverhale aan Tafelberg Uitgewers gestuur, maar dit is summier afgekeur en in 1997 debuteer hy met die bundel kortverhale In drie riviere. Die karakters in die verhale is middelklasmense wat nie daarin slaag om geluk te vind nie. Jaco vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 6 November 1997): “Die middelklas, waarvan ek ook ’n lid is, het nie die vryheid van die armes wat niks het om te verloor nie. Hulle het ook nie die flambojansie van die rykes nie. Wanneer hulle ’n doelwit bereik, vra hulle wat is daar nog. Hulle vind daar is op die lang termyn niks bevredigends nie. Elke doelwit wat jy bereik, is maar net ’n oomblik.”

Die titel van die boek verwys na Drie Riviere in Vereeniging, waar hy as seun gewoon het. “Ek het altyd gevoel die vierde rivier, die een na die paradys, word hier gemis. Die titel vat die voorstedelikheid en die gebrek aan die paradys vas.”

PC van der Westhuizen het as volg oor In drie riviere geskryf: "Hierdie debuutbundel beskik oor die soort intellektuele en tegniese diepgang wat ’n al skaarser verskynsel in ons letterkunde word. Ek beveel dit aan vir leesgieriges ten spyte van geringe leemtes, waaronder oordrewe soetsappige woorde en beeldgebruik."

JP Smuts (Die Burger, 8 Oktober 1997) se mening is dat Botha se verhale nogal fyn gestruktureer is en dat die heelwat goeie verhale in die bundel dit as ’n besonder hegte debuut kan laat klassifiseer.

Hennie van Coller (Volksblad, 2 Februarie 1998) beskou Botha se gebruik van Afrikaans in In drie riviere as van die keurigste wat hy nog in ’n debuutwerk aangetref het, "met ’n presiese inskatting van taalregisters, ritme en stilistiese presisie. Botha skryf daarbenewens ’n prosa van ’n seldsame sintuiglikheid waarin elke gevoelsnuanse belangrik is en veral kleure oorheers. Dit is skerp registrasie van alledaagse werklikheid."

Vasu Reddy (Insig, November 1997) skryf dat die verhale in die bundel besonderse verhale is wat ’n volwassenheid en fyn aanvoeling vir die woordkuns openbaar. "Jaco Botha het hom bewys as ’n sterk en belowende talent wat by die postmodernisme 'verby' is en in staat is om opnuut ’n sterk leesbare storie te skryf."

Abraham de Vries (Radio Sonder Grense, 31 Augustus 1997) beskou In drie riviere as ’n bundel wat stilisties van die fynste versorging getuig.

In 1999 word Jaco se volgende bundel kortverhale, Sweisbril, gepubliseer, en dit vorm deel van sy MA in skeppende skryfkuns waarvoor hy die M-Net-beurs gewen het. In hierdie bundel fokus Jaco op randfigure of doodgewone mense wat ’n paar dinge gemeen het: hulle is ongelukkig, gefrustreerd en sonder uitsig. Vir Herman Wasserman (Die Burger, 6 Maart 2000) "slaag die bundel daarin om ’n ontnugterde visie te gee van die gebrokenheid en eensaamheid in die strate en huis van suburbia".

In Volksblad van 1 Mei 2000 skryf Leana Lategan dat Jaco Botha in Sweisbril die leser aanraai "om sy beskermende bril af te haal en direk in die soms verblindende lewe te kyk. Die verhale gee ’n angswekkende kyk op die alledaagsheid: op die trivialiteit, maar ook op die pyn en ontgogeling daarvan.”

In sy resensie meen Marius Crous (Die Burger, 15 Maart 2000) dat die skrywer die leser ’n vars blik gee op die leefwêreld en lewenswyse van die blinde en dat die blinde ’n slagoffer kan raak van die wêreld waarin hy lewe.

Hoewel Jaco hom al vervies het vir mense wat hom as visueel gestremd bestempel, is sig, of meer spesifiek swak sig, ’n deurlopende tema in Sweisbril. Herman Wasserman (Die Burger, 6 Maart 2000) skryf dat dit vanaf die bundeltitel en die voorbladillustrasie tot die karakters in die verhale ’n sterk bemoeienis is. “Terselfdertyd is ’n uiterste sintuiglikheid in die skryfstyl onmiddellik opvallend. Asof die swaksiende karakters groter waarnemingsvermoë het juis as gevolg van hulle gebrek.”

Jaco antwoord dat die verhale ’n spesifieke kyk op die lewe weergee – “’n donkerder, meer beperkte, beskermende kyk op ’n baie klein hoekie van die lewe. Die motief van sig moet dus metafories gesien word. Maar die feit dat ek sleg sien ... die ding wat vir my sleg is daaromtrent, is dat dit altyd ’n invalshoek gaan wees vir mense wat oor my skryfwerk praat. Daarom het ek dit doelbewus uit my eerste boek gelaat. Ek wil nie geken word as ’n swaksiende skrywer nie. Dis maar net een van my eienskappe. Tog gee dit my toegang tot ’n ander wêreld, dié van mense wat swaksiende of blind is, en dit gee ’n ekstra dimensie aan my skryfwerk. Wat die sintuiglikheid betref – dit is miskien so dat, omdat ek op ’n klein kolletjie kan fokus terwyl ander mense ’n breë oorsig kan kry, my skryfwerk ook meer gedetailleerd is. Ek weet nie.”

Hy vertel aan Marguerite Black op LitNet dat die karakters in Sweisbril ’n blik werp op mense in Parow en Benoni wat dit geniet om die grootste deel van hulle lewe om ’n braaivleisvuur te staan en ’n geneigdheid tot "raspejoratiewe" toon. “Ons het hier te doen met ’n groep mense wat geweldig bedreig voel op die oomblik; as jy bedreig voel, then you lash out om kop bo water te hou en jou bestaan op ’n manier meer draaglik te maak. Die karakters wat hier uitgebeeld word, is wit, middeljarige Afrikaners wat uit die middelklas kom. Ek wou ’n groep mense uitbeeld wat down and out is en politieke, asook in baie gevalle, ekonomiese regte verloor het, maar vasklou aan ’n identiteit wat nie meer geldig is nie.”

Vir Dorothea van Zyl (Rapport, 20 Augustus 2000) het die grootte, of soos sy dit stel, die kleinte, van Sweisbril gewys dat daar ’n verskil is tussen hierdie een en Jaco se debuutbundel. "Hierdie tweede bundel is veel meer gestroop. Dié eienskap word deurgetrek tot op die vlak van die titels van albei die onderskeie bundels self en van die afsonderlike kortverhale. Geeneen van die vyftien kortverhaaltitels in Sweisbril is meer as een woord met twee lettergrepe lank nie. Daar is ook verskille in die aanbieding. Waar veral die eerste kortverhale in die vorige bundel in 'n dikwels liriese toon spreek met baie omskrywings en beeldspraak, is die tweede bundel veel meer ingestel op sober beskrywings met net die noodsaaklikste woorde. Hiermee bou Botha 'n tendens in enkele kort-kortverhale waarmee die vorige bundel eindig nog veel verder uit. Ook die soms nogal gepeperde dialoog, die klein kruheid en vuilbekkigheid van sy karakters in enkele van sy debuutverhale is in nog veel groter mate kenmerkend van Sweisbril. Gekombineer met die saaklike, onderbeklemtoonde vertelling draai die dialoog beslis geen doekies om nie."

Vir Van Zyl het Jaco beslis weer sy talent in Sweisbril ten toon gestel, maar is daar tog ’n "groter mate van eksperimentering met toonaard, styl en tematiek van sy debuutbundel (...), om vir die nodige verskeidenheid en afwisseling te sorg".

Jaco self vertel vir Herman Wasserman dat sy karakters in Sweisbril eerder ’n “gelatenheid as ’n negatiwiteit vertoon. Die moraal agter die boek is om die onvertelde verhale aan die lig te bring. As ek die boek moet opsom, sou ek sê dit gaan oor mense wat cope. Mense met, ek dink die term is, ’n uitsiglose bestaan.”

In 2003, na nege jaar in die Kaap, verhuis Jaco en sy verloofde, Ingrid Lehmensich, na Johannesburg, waar hulle ’n reklameagentskap, Big Bad Wolf Advertising, op die been bring. Jaco vertel aan Jo Prins (Beeld, 14 Augustus 2003) dat hy nog altyd ’n reklameagentskap wou begin het – “dis om my hart te volg. As jy kyk na my skryfwerk ... my wortels lê in ’n gestroopte wêreld. Hier is geen tierlantyntjies nie. Geen mooi berge en daardie tipe goed wat op ’n manier tussen mense staan nie. Hier is dit so half asof ’n mens kuns moet skep om hierdie wêreld ekstra dimensies te gee.” Hy is verantwoordelik vir skeppende elemente soos konsepontwikkeling, kopieskryf, en vernuwende strategiese beplanning. Hy werk ook as vryskut-skrywer. Dit gaan egter nie vir hom net om die agentskap nie, maar ook daarom om jong, kreatiewe mense die kans te gee om hul ding te doen.

“Ek wil ook graag werk skep. Dit gaan vir my daaroor om vir jong vryskutmense en klein maatskappye die geleentheid te gee om groter projekte te hanteer en om in die proses vir hulself werk en werksbevrediging te skep.”

Hy wil ’n netwerk van “talentvolle, bekwame, honger en energieke” mense opbou om saam aan projekte in die bedryf te werk. Hy en Ingrid is al twee in hulle harte Johannesburgers en Ingrid het “daardie kers in my weer aan die brand gesteek”.

Ingrid het grootgeword op Kleinwolwedans, ’n plaas naby Malmesbury, en het drama onder Babs Laker studeer. Nadat sy en Jaco in 2004 getroud is, speel sy toneel en studeer BPsych en word sy ook redakteur van LêNet op LitNet. Hulle het in 2007 hulle babadogtertjie verloor en Jaco erken teenoor Karin Eloff (Sondag, 21 Oktober 2007) dat sy hele lewenskonteks met hierdie gebeurtenis verander het. “Ek het nie meer lus vir letterkundige speletjies nie, ek kan nou net eerlik wees. Dit het ook die werk aan Nag Nella sleg onderbreek.”

Jaco se werk is, ten spyte van sy sigprobleem, baie visueel. Hy vertel dat hy voordat hy kan skryf, die storie soos ’n fliek in sy kop moet sien. “Ek moet self die karakter word en sy emosies ervaar. Ek kyk dalk langer na dinge as ander mense. My ander sintuie word ook goed gebruik. Veral jou reuksintuig roep baie helder beelde op.”

Die debat in die Afrikaanse boekewêreld oor die verhouding tussen skrywer en uitgewer het in 2002 uitgeloop op ’n hewige woordewisseling tussen verteenwoordigers van twee skrywersgenerasies. In ’n brief aan LitNet was Jaco se slotsom dat “baie skrywers soos babas is wat op ’n deurlopende basis van die uitgewershuis verwag om hulle te borsvoed”. Johann de Lange, wat in die tagtigerjare gedebuteer het, het gevoel dat hierdie kritiek afkomstig is van ’n generasie wat so kortsigtig en gemaksugtig is dat hulle tot dusver nog nie “hulle eie gat in rat” kon kry en hul eie tydskrifte en/of uitgewerye gestig het nie; “wat kennelik nie besef dat hulle tot dusver kon publiseer vanweë ’n klimaat wat deur vorige generasies geskep is nie, en deur die bietjie hype wat bestaande tydskrifte soos De Kat of Insig vir hulle gee nie. Kortom: wat tot dusver nog op die rug van óns generasie gery het.”

Jaco blameer daarna die neerdrukkende werklikhede van die Afrikaanse boekebedryf vir die feit dat sy generasie se beweerde kortsigtigheid en gemaksug “eerder ’n simptoom as ’n realiteit is. Vanweë die feit dat daar nie ’n Afrikaanse mark vir kuns is nie (daar is wel ’n redelike mark vir entertainers), is die ganse literêre gemeenskap ’n sinkende skip. En ja, ons as jong skrywers is miskien die rotte. Julle kan nie vir ons kwaad wees omdat ons die skemer kamers van ’n global village bo die hoe-ha-ha van ’n village press verkies nie.” Hy sluit af: “Ek is in wese ’n Jack-of-all-trades en moet sê ek verkies dit tans om met Britse bankiers en Amerikaanse Venture Capitalists, eerder as met Afrikaanse uitgewers, te onderhandel. Vir nou skryf ek maar konsep-dokumente of besigheidplanne (in Engels), eerder as ’n roman in Afrikaans.”

Jaco se eerste roman, Miskruier (’n spookstorie), word in 2005 gepubliseer. Die roman speel af in 2009. Mbeki is dood, Mandela het verdwyn, vigs vier hoogty en die land is oorgeneem deur ’n militaristiese tiran wat met ’n ysere hand regeer. Die verteller en joernalis Braam Fourie word verbind met ’n koerantberig waarin die bestel kwaai gekritiseer word, en hy moet vlug vir sy lewe.

Jaco het probeer om met sy roman die digtheid van die kortverhaal te behou. Die skryfwerk het hom sowat ’n jaar geneem en die skaafwerk om dit persklaar te maak, sowat drie maande. En die braille- en bandweergawes was saam met die gedrukte boek kant en klaar. Daarmee het Miskruier die eerste Afrikaanse boek geword waarvan die braille en oudio saam met die gedrukte uitgawe verskyn.

Jaco vertel dat Miskruier een aand langs hulle kaggel met ’n glas wyn gebore is. “Net ek, die skaduwees en die rookkringe van my sigarette. Toe dink ek aan Robert Mugabe en sy vergrype en ek dink aan die vorige Sondag toe hulle, terwyl ons in die huis was, by ons ingebreek het, en ek dag: Kom ons skryf ’n toekomsverhaal oor Suid-Afrika waarin niemand veilig is nie, kom ons skryf so ’n storie voordat dit gebeur.”

Hy vertel aan Sonja Loots (Rapport, 25 September 2005) dat namate die skryfwerk aan Miskruier gevorder het, hy dit stuk vir stuk aangegee het vir Ingrid, want “as sy sê dit raak nou boring en sy stel nie belang om verder te lees nie, moes ek gaan oorskryf. Op die ou end het ek besluit as ek Ingrid kan entertain, kan ek enigiemand entertain, want sy is wragtig ’n difficult customer.”

Vir Cecile Cilliers (Volksblad, 20 Januarie 2006) is Jaco se karakterisering so goed en skerp dat die karakters lank nadat die boek klaar gelees is, nog in jou kop lewe. "Weersin van die leser vir die storie word in perspektief geplaas deur ’n opeenhoping van spanningsmomente, ’n stygende vertelspoed en ’n verstommende insig in la condition humaine: ons seks- en geweld- en maggedrewe samelewing."

In Beeld (31 Oktober 2005) skryf Philip John dat die skrywer met Miskruier probeer het om die "eksistensiële kondisie van die wit middelklas in die 'nuwe' Suid-Afrika te verwoord, spesifiek die gewaarwording dat die nuwe stelsel pogings om so ’n bestaan te handhaaf, as 'afwykend' beskou. Die wisseling van toekomsvisie- na spanningsverhaal na tronkverhaal is effe steurend en dat gedeeltes van die voorstelling na die stereotipiese en selfs karikatuuragtige neig, maar dat dit tog ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse roman is. Dit is verfrissend – somber en ontgogelend."

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 10 Oktober 2005) is daar ’n ooreenkoms tussen Jaco Botha en Michel Houellebecq: beide skrywers se verhale bied ’n beeld op die somber kant van die gemeenskap waar daar politieke korrektheid moet wees om die lewe te reguleer. Dit waarvan jy bewus is en waarvoor jy bang is, word op ’n dwingende wyse uitgebeeld. Die leser voel dat hy nie die boek wil toemaak nie, maar dit word soms so erg dat hy gedwonge voel om dit wel te doen. “Botha se vermoë om beeldend te skryf (daar is niks boekagtigs aan sy seks- of geweldtonele nie) is eweneens lofwaardig. Liggaamlikheid, ingewandsreaksie, vomering en wat nog gebeur voor jou. Jy kan alles ruik en voel. (...) Dit is (...) ’n roman wat werklik ’n waterskeiding in ons prosa aankondig, en dit is, soos Henning Snyman skryf, ’n uitdagende en baanbrekende roman. Onthutsend is die roman omdat dit ’n ervaring van ’n jong mens se sinisme weergee, maar terselfdertyd dwing sy braafheid om daarmee in gesprek te tree, bewondering en respek af.”

Teenoor Willemien Brümmer (Beeld, 12 November 2005) erken Jaco self dat dit ’n boek oor die toekoms is wat oor die verlede gaan. “Sonder om weer die hele ons-is-jammer-apartheidswêreld te herskep, het ek deur die terugflitse na Braam se weermagdae aan Afrikaanse lesers probeer vra: Wat as die skoen aan die ander voet was? Wat as dit met jou gebeur?”

Jaco noem ook teenoor Brümmer dat dit hom pla dat nie een resensent melding gemaak het van die humor in Miskruier nie. “Goed, dis meesal swart humor, maar humor is iets wat helaas uiters skaars geraak het in Afrikaanse boeke. Ons is só ernstig.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, sê Jaco (Beeld, 24 April 2000) dat dit vir hom onmoontlik is om een uit te sonder, want verandering, hoop hy, is konstant, en hy hoop dat mens uit alle boeke iets kan leer. Vir hom is die Fransman Guy de Maupassant en die Amerikaner Raymond Carver die grootste kortverhaalskrywers van die afgelope twee eeue. “De Maupassant skryf oor die pretensieuse Franse establishment van sy tyd en Carver oor eenvoudige sukkelaars en dronkaards. Wat albei egter gemeen het, is die fyn raaksien en neerpen van die oomblik. (...) Vir my is dit dan ten slotte slegs menslikheid wat ’n boek die mag gee om te verander, om onthou te word.”

In 2005 wend Jaco hom na die skryf van kinderboeke met die publikasie van Lalala en ek by die see. Dit is ’n pasgemaakte boekie wat jy kan bestel waarin die storie vertel word van Lalala wat die kind (en hier kan jy enige kind se naam laat insit) op ’n vrolike reis via Zoeloeland na die see neem. Die storie is in rym, met illustrasies deur John Murray, en hoewel dit nie, volgens Gerrit Brand, grootse kinderliteratuur is nie, is dit ’n keurige en kunstige boek.

Tydens 2006 se KKNK haal Jaco hom die gramskap van ’n hele aantal kunstenaars en die publiek op die hals as gevolg van sy resensie in die feeskoerant Krit oor die 4Werke-vertoning van Sunette Bridges, Karla du Plessis, Jannie Moolman en Hugo. Jaco het in Krit die gehoor onder meer bestempel as “’n middeljarige, plattelandse gehoor met vormlose kleredrag en niksseggende haarstyle”. Oor die vertoning het hy geskryf dat “Sunette se lied my rillend laat dink aan ’n slegte acid trip ... Karla het min van haar briljante pa se liedjieskryftalent geërf. Eintlik sal net Jannie Moolman van die vier op ’n verhoog in ’n beskaafde land toegelaat word.” Die sangers was woedend en het by Krit se kantore protes aangeteken. Steve Hofmeyr se uitspraak (in Rapport, 22 April 2006) was: "Jaco Botha mis die ironie van eindelose koerantspasie om kunstenaars en gehore af te maai en dan ’n pleidooi na hulle te slinger om met meer kreatiewe reaksies as geweld vorendag te kom." Nadat die bespreking verskyn het, is twee lyfwagte aangestel om Jaco te beskerm en sy veiligheid te verseker nadat daar dreigemente was dat die “gemeenskap hom ’n pak slae wil gee”.

Willemien Brümmer (Beeld, 12 November 2005) beskryf Jaco as ’n “toegewyde bombardeerder van virtuele ruimtes. Die oningewydes hoef maar net die webwerf LitNet aan te durf, waar sy skryfsels so volop is soos kaas in ’n supermark.” Hy kan net so gereeld gelees word in Die Burger en in By op Saterdae.

Hy vertel aan Brümmer dat sy sig nie ’n prominente deel van hom as mens is nie. “Dis iets soos skurwe hakskene of my opvlieënde humeur. Wat interesting is, is daai industriële, amper agteraf wêreld waarin blindes operate omdat baie gedwing word tot ’n laer sosiaal-ekonomiese vlak – as skakelbordoperateurs en mandjievlegters en sulke goed. Terselfdertyd is hulle mense wat baie lees, met ’n ouer kultuur aan hulle.”

Jaco is besig om aan ’n nuwe roman, Nag Nella, te werk, vertel hy aan Brümmer. "Ek reken dat jy met elke boek moet skryf asof dit jou laaste een is. Jy moet glo hy gaan ’n merkie maak, êrens iets los. Soos nou, met Nag Nella, skryf ek asof ek gaan sterf die oomblik wanneer ek my laaste sin geskryf het.”

Brümmer wou in dieselfde onderhoud weet of hy saamstem dat daar nie juis talent onder jong Afrikaanse skrywers is nie. “Ek dink dis besig om te verander. Ons kom uit ’n generasie waar ons niks regtig nuuts gehad het om te sê nie. Ons moes eers stil raak en luister. Ons moes eers nuwe goed vind om oor te skryf. Ons het regtig weer van die nulpunt gekom. Ek glo ons letterkunde loop in 20 jaar fases – ’65, ’85, ’05 – elke 20 jaar is daar ’n stroomversnelling wat iets nuuts bring. In my eie oeuvre is Miskruier vir my ’n belangrike punt. Voor dit het ek nie iets gedoen wat werklik grondverskuiwend was nie. Ek hoop dit gaan ’n belangrike boek wees in ons letterkunde. Van dit wat ek van mense van my geslag gelees het, het niks my nog regtig weggeblaas nie. Daar was niks waarvan ek kon sê: ‘Ek wens ék het dit geskryf nie.’”

Karin Eloff (Sondag, 21 Oktober 2007) vra: “Maar hoekom ontstig jy mense dan so met die goed wat jy skryf?” En Jaco se antwoord: “Ag, ek weet waar mense se sagte plekkies is en ek hou daarvan om hulle te terg. Ek hou daarvan om met die heilige koei se spene te speel.”

Op sy grafsteen moet staan: “Moenie teen die akkerbome fluit nie.”

Aan Sonja Loots (Rapport, 25 September 2005) sê hy: “Ek glo Afrikaans het positiewe inisiatiewe nodig – nie mense wat heeltyd k*k en kla nie. My rol kan wees om lekker stories te skryf wat mense geniet"

Intussen het Jaco ook as ’n vertaler ontpop. In 2013 gee Umuzi Uitgewers Jaco se vertaling van Mike Nicol se Of cops and robbers uit onder die Afrikaanse vertaling Dieners en donners.

Jaco en Mike Nicol het met mekaar per e-pos gesels oor die vertaling en ook oor die oorspronklike boek. Jaco het aan Nicol gesê dat hy nie eers die boek klaar gelees het en toe begin vertaal het nie. Hy het bladsy vir bladsy gelees en dan vertaal en in sommige gevalle het hy dit vertaal en dit dan herskryf om dit ’n meer Afrikaanse "twang" te gee (LitNet).

Jaco het ook onder andere tegniese artikels vir boutydskrifte geskryf. Van sy artikels, prosastukke en gedigte is in Suid-Afrikaanse en Nederlandse tydskrifte gepubliseer, soos ’n rubriek wat gereeld in Manwees verskyn het. Hy lewer ook gereelde bydraes tot By, die Saterdag-bylae tot Beeld en Die Burger.

As draaiboekskrywer werk hy mee aan Casper Rasper Show (kykNET), Jozi Zoo (e.tv) en Skwizas (SABC), terwyl hy vir Spier Films die draaiboek vir BULLET! skryf en ook verantwoordelik is vir die draaiboek van ’n Saak van geloof. Hy is regisseur en vervaardiger van Talk SA (SABC2) en mederegisseur en uitvoerende vervaardiger van Whip the Chef (SABC2).

Hy lewer ook op musiekgebied ’n bydrae deurdat hy twee liedjies vir die sangeres Alta Joubert geskryf en getoonset het wat op haar debuut-CD Malta Bella gesing word.

Hy het ook self ’n versameling liedere onder die titel Hier kom die tier opgeneem en dit oor die Internet bemark.

Jaco en sy vrou en hulle troeteldiere verhuis in 2012 na ’n kleinhoewe naby Knysna, waar hy as vryskutskrywer gewerk het. Hy en Ingrid is later geskei.

In 2016 is Jaco aangestel om LitNet se nuwe skryfwerk te hanteer en sou verantwoordelik wees vir die keuring en plasing van kortverhale en gedigte. In ’n onderhoud met Naomi Meyer vertel Jaco hoekom hy in nuwe skryfwerk belangstel: "Ek dink ek was nog altyd in my hart 'n ontdekkingsreisiger. Nuwe skryfwerk bied die potensiaal om nuwe maniere van dink en voel na vore te bring. Ek glo in 'n literêre tradisie van evolusie."

Wanneer Jaco ’n nuwe gedig of kortverhaal onder oë neem, is die skrywer se beheer oor die taal vir hom baie belangrik. "Dis 'n absolute plesier om te ervaar hoe 'n skrywer jou grense verskuif deur die emotiewe en bekwame inspan van woorde. Swak taalbeheer sal maak dat ek nie verder na die storie of gedig sal kyk nie. Ook die gebruik van clichés. Slordigheid is dalk nog vergeefbaar indien die stuk 'n energie van sy eie het."

Dit is in Knysna waar Jaco op 18 Oktober 2016 sy eie lewe geneem het. Sy pa, Piet Botha, vertel aan Jackie Kruger (Die Burger, 21 Oktober 2016) dat Jaco die jaar voor sy dood aan erge depressie gely het en hy was ook vir ’n ruk in ’n kliniek.

"Hy het hom van die medisyne probeer speen," sê sy pa. "Hy het gesê dit ontneem hom van sy kreatiwiteit. Hy was ’n sagmoedige, uiters intelligente en bedagsame mens."

Jaco het in sy testament bepaal dat hy veras moet word en dat sy as in 'n rivier gestrooi moet word.

Hy word oorleef deur sy ouers, Piet en Annamari Botha, ’n broer Bertus en ’n suster Hesca Roux.

Huldeblyke

  • Neil Sandilands, Akteur: "Jy’t my verras met dié een. Die laaste vers het my laat stilstaan. Liefde broer, altyd.” (afrikaans.com)
  • Neil van Deventer: “Rus in vrede, Jaco Botha. Ek het jou nie so goed geken nie, maar ons sou nog goed saam doen. Ons het nog so week of twee gelede gemail oor die moontlikhede en dis waaroor ek hartseer is. Omdat jou talent nie in jou leeftyd erken is nie en omdat daar nie nog Miskruiers en stories soos dit sal wees nie. Ek gaan nog daai movie waaroor ons so baie gepraat het, maak. Al maak dit nie meer saak nie ...” (netwerk24)
  • Sonja Loots: "Ek het nie woorde omdat hy besluit het om ’n volpunt agter al sy sinne te sit nie. Die voorwoord uit sy bundel Sweisbril vang vir my iets vas van wie hy was: 'My bemoeienis is met die mense wat nie verhale het om te leef nie; mense wat nie groot stellings het om te maak nie; my bemoeienis is met die wat gebreek is, sonder dat hulle ooit heel was. Ek wil hul toevou in die liefde wat ek nie het nie. Oor hulle wil ek skrywe.'” (afrikaans.com)
  • Gérard Rudolf: "Ek het so pas gehoor dat my vriend Jaco Botha gisteraand dood is. Jaco was ’n sagte siel. Ek onthou die laaste keer dat ek hom gesien het laat verlede jaar hier in Joburg. Hy was nie lekker nie. Dit was asof iets in hom gebreek was, asof iets uit hom geruk was. Ons het die hele dag gesit en gesels oor die lewe en liefde en skryf – en oor sy kortverhaal Sweisbril wat ek in ’n kortfilm vir verlede jaar se Silwerskermfees verwerk en gemaak het. Ons het baie bier gedrink en gelag oor die film, en Jaco was so in sy noppies met die eindproduk gewees. ‘Right up my alley,’ het hy gesê.

"Ek wou aan die publiek wys watse goeie skrywer Jaco werklik was en die skaars talent wat hy gehad het om gewone mense se lewens en liefde en leed in sy werk te kon vasvat. Ek was so bly Jaco het soveel genot daaruit geput om sy karakters op die silwerskerm te sien.

“Cheers Jack. Dankie vir die stories en die songs. Dankie dat jy so vrygewig en met soveel liefde my vriend was. Ek sal jou nooit vergeet nie. Rus nou, bra.

“Kort daarna is hy weg uit Joburg uit om sy kop en sy lewe bymekaar te probeer kry. Ons het dan en wan mekaar gebel om oor projekte te gesels, oor die lewe – altyd oor die lewe. En hy het gewoonlik aan die einde van die gesprek gou een van sy nuwe songs vir my gespeel en gesing en my laat kraai van die lag. Ek het vanaand nie meer woorde oor nie. Jaco is weg. Stil. Hy sal nooit weer skryf nie. Hy sal nooit weer een van sy sad Afrikaanse country-liedjies oor ’n k*k selfoonkonneksie vir my sing nie. Ons sal mekaar nooit weer raakloop en oor gebroke harte kan lag nie. Niks meer skurwe grappe nie. Net niks. Jaco is op die lang pad." (netwerk24)

  • Etienne van Heerden: "Van sy generasie skrywers was Jaco Botha die voorste stilis. Hy't met sy beste werk meedoënlose prosa geskryf. Vir my begin skryftalent met 'n manier van kyk na die wêreld. (...) In Jaco se geval is dit nie soseer 'n eksentrieke blik nie. Dit sou veels te gesellig wees om sy blik op die lewe só te beskryf. Dit was eerder 'n seer kyk, en meer dikwels 'n desperate siening van die mens in sy gestrooptheid. Dis kyk sonder 'n skil op die oog. Kyk as straf. Die stipste blik van sy generasie.

"In die verhaal 'Sweisbril' uit sy gelyknamige bundel haal 'n man sy sweisbril af en kyk in die oog van die son in totdat hy blind is. Dis 'n lang, gedwonge en oplaas verwoestende kyk. Daardie manier van kyk was Jack, soos ek hom genoem het, se talent. (...)

"As kortverhaalskrywer, met die meer gefokuste doek om op te skep as wat dit die geval met die roman is, was hy op sy skerpste. Die roman het vir sy manier van kyk te breed geraak, te wyd. Te langasem, en miskien te bourgeois. Maar in sy kortverhale is hy op sy stipste beste. Dis verhale wat tydens die lees by jou inbrand.

"Ek sal die toneel nie vergeet nie. Jaco, gehurk op die badkamervloer, hier by my aan huis, een laatnag. Hy huil hartverskeurend en voor hom op die vloer is 'n poeletjie trane. 'Ek het nooit geweet traankliere kan soveel water produseer nie,' het ek hom agterna vertel. Hy hurk daar, gebuig oor die poeletjie op die badkamerteëls, asof hy diep inkyk in die Groot Verdriet.

“Jaco, wat tien persent visie gehad het, se bynaam by die Pionierskool op Worcester was Tien. Nie verniet dat 'Tien' rym met 'sien' nie. Jaco het skerper en meer gesien as die meeste siendes. Dit was 'n ongemaklike blik, en hy't baie mense ongemaklik gemaak. Ook in vriendskapsverband kon hy blind indonner waar hy eerder moes wegbly. Maar dit was Jack. Om te ontsetel was vir hom 'n opdrag. So intens was sy blik, kom dit by my op nadat ek van sy selfdood gehoor het, dat hy dwarsdeur die oog van die galg gekyk het.

"Dit was sy laaste dans, daar aan die selfdoodtou in Knysna. Gedryf deur depressie en sy stryd om sonder sy pille klaar te kom sodat hy kon bly skryf. Ek kan nie dink dat so 'n woelgees in vrede kan rus nie. Hy gaan die engele ontstig met daardie sardoniese blik van hom, daarvan is ek oortuig. Jack, die lewe is 'n fokker. Maar die dood is 'n bliksem. Bly kyk, Tien." (LitNet)

Publikasies:

Publikasie

In drie riviere

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813691X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sweisbril

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139900 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Miskruier (’n spookstorie)

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798145811 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lalala en ek by die see

Publikasiedatum

2005

ISBN

1919985158 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch: African Sun Media / Rapid Access Publishers

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die avonture van Lulu Lerulu

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780928316148 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Jaco Botha as assistentredakteur

Jaco Botha as vertaler

Artikels oor Jaco Botha beskikbaar op die internet

Artikels deur Jaco Botha op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Jaco Botha (1972–2016) appeared first on LitNet.

Gelukstrekking: NB-kookboeke vir Kersfees

$
0
0

kookboekeomtewen_gelukstrekking

 

Wil jy vier lekker kosboeke vir jou Kerskous wen? LitNet gee, in samewerking met en met die komplimente van NB-Uitgewers, een geskenkpakkie van vier smaaklike kookboeke weg. Die boeke ter sprake is:

een - pot / pan / bakplaat
Mari-Louis Guy & Callie Maritz
NB-Uitgewers
ISBN:  9780798171373

A year of seasonal dishes
Food & Home Entertaining
NB Publishers (Human & Rousseau)
ISBN: 9780798171892

Suid-Afrikaanse kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteite
Hilda Lategan
NB-Uitgewers (Tafelberg)
ISBN: 9780624072331

The Cookbook
Your Family
NB Publishers (Human & Rousseau)
ISBN: 9780798171885

Al wat jy moet doen om hierdie boeke te wen, is om jou naam, posadres en telefoonnommer vir wen@litnet.co.za te stuur. Die titel van jou e-pos moet wees: "Gelukstrekking: NB-kookboeke vir Kersfees". Jou inskrywing moet ons teen 22 November 2016 bereik. Die wenner sal deur middel van 'n gelukstrekking bepaal word.

The post Gelukstrekking: NB-kookboeke vir Kersfees appeared first on LitNet.

Skoleseminaar: Aanspreeklikheid in die onderwys

$
0
0

Seymour Bothman (foto: Izak de Vries)

Seymour Bothman is senior bestuurder van die ATKV se onderwysafdeling en het by ‘n onlangse geleentheid gesels oor die tema van die Global Education Monitoring vir 2017: Aanspreeklikheid in die onderwys. Wie se verantwoordelikheid is al die kinders in al die skole van hierdie land?

  1. Inleiding

Die omskrywing van aanspreeklikheid in die onderwys

“Aanspreeklikheid” is 'n term wat deur baie mense gebruik word, maar almal het nie dieselfde idee of definisie daarvan nie. Die idee van aanspreeklikheid is nie slegs 'n konsep wat tot die onderwys beperk is nie, maar word ook in ander sektore gebruik.

Die moniteringsverslag vir volhoubare doelwitte vir 2017 gaan op die volgende sleutelvrae fokus om die aanspreeklikheid van nasionale regerings aan te dui:

  • Wat is die grondslag en die evolusie van die begrip aanspreeklikheid in die onderwys?
  • Wat is die hoofvorme van aanspreeklikheid? Hoe het die vorme verander?
  • Wat is die rasionaal vir die verandering?
  • Wat is die gevolge (implikasies) ten opsigte van aanspreeklikheid in 'n globale onderwysomgewing?
  • Wat is die gevolge van aanspreeklikheidstelsels vir verskillende rolspelers, vlakke en sektore in die onderwys? Hoe verskil dit in verskillende lande?
  • Wat is die gevolge van die aanspreeklikheidsraamwerk van die openbare siening oor onderwys in die land?
  1. Hoofoogmerke van die verslag
  • Die tema van die Global Education Monitoring vir 2017 is "Aanspreeklikheid in Onderwys". As gevolg van ekonomiese druk en ingekorte begrotings is daar 'n sterk fokus op die onderwys van die gemarginaliseerde skoolgemeenskappe. Alle lande is aanspreeklik om te verseker dat alle landsburgers toegang tot gehalte-onderwys het.
  • Die hoofoogmerk van die moniteringsverslag is om vas te stel in welke mate nasionale regerings bygewerkte, betroubare en akkurate inligting aangaande vordering en verbintenis ten opsigte van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte kan verskaf.
  1. Internasionale en nasionale onderwysprentjie

Tydens die ATKV-onderwysafdeling se jaarlikse onderwyskonferensie in 2016 het Muavia Gallie aangetoon dat Suid-Afrika se beste leerders op dieselfde standaard as Singapoer se swakste leerders is. Die jongste navorsing dui aan dat 60% van die graad 4-leerders se lees en leesbegrip glad nie goed vergelyk met dié van hul oorsese eweknieë nie. Ook is dit onrusbarend dat 300 Suid-Afrikaanse onderwysers se leesvaardighede uiters power is. Navorsing toon aan dat van dié onderwysers se vaardighede swakker is as hulle leerders s'n.

Die South African and Eastern Consortium for Monitoring Educational Quality (SACMEQ) (2000- en 2007-data) toon aan dat Suid-Afrika swakker vaar as van die armste lande van Afrika. Van der Berg en ander is van mening dat Suid-Afrika veral swakker vaar in wiskunde en lees, ten spyte van die beter toegang tot leermateriaal.

In 2006 toon die Progress in International Reading Literacy Study-navorsing aan dat graad 5-leerders van Suid-Afrika die swakste presteer het uit 45 lande. Die meeste ander lande het hul graad 4-leerders getoets – lande wat deelgeneem het, is Iran, Marokko, Trinidad & Tobago, Indonesië en Macedonië. Volgens Nic Spaull, ‘n onderwysnavorser, het Suid-Afrika se leerders dieselfde as dié van Botswana gevaar, maar is Suid-Afrika se leerders volgens die 2011-studies drie jaar (2.9) agter hulle Colombiaanse eweknieë. Die Trends International Mathematics and Science- (TIMMS-) studies in 1995, 1999, 2002 en 2011 dui aan dat daar geen verbetering in graad 8 ten opsigte van wiskunde en wetenskap is nie.

  1. Twee leefwêrelde in Suid-Afrika

Volgens Roger Southall is ongelykhede onder apartheid in die onderwys versinnebeeld deur die minderwaardigheid van die destydse sogenaamde Bantoe-onderwys vir swart leerders. Die invoer van Afrikaans as onderrigmedium in swart skole was een van die oorsake van die opstande in Soweto in 1976.

Ná 1994 het alle leerders toegang tot openbare skole gehad. Inderdaad het alle kinders toegang tot skole, maar onderwyskenners is dit eens dat alle leerders nie toegang tot gehalte- en goeie onderwys het nie. Southall is van mening dat dit waarneembaar is dat die twee rykste en meer effektiewe administratiewe provinsies, Gauteng en die Wes-Kaap, beter in staat is om goeie onderwys te bied as die armer provinsies, byvoorbeeld Limpopo en die Oos-Kaap.

In ag genome die verandering na een onderwysstelsel is daar ook 'n ooreenkoms gesluit dat die beheer van skole die verantwoordelikheid van gekose ouers en personeel van die skool gaan wees. Dit is 'n edele idee en sluit nou aan by die ideologiese raamwerk van die Grondwet en die Nasionale Ontwikkelingsplan. Enersyds het dit gevolg gehad dat voormalige model C-skole hoër skoolgelde hef om gehalte-onderwys aan te bied, andersyds dat die staat meer fondse tot hul beskikking het om histories agtergestelde skole te ondersteun.

'n Mens vra jou af of die veranderde kurrikulum werklikwaar wesenlike verbeteringe vir die totale onderwysstelsel bewerkstellig het. Met die betrokkenheid van die onderwysafdeling van die ATKV is dit duidelik dat daar enkele minderbevoorregte skole is wat uitstekend op akademiese, kultuur en sportgebied vaar.

Behalwe bogenoemde ernstige tekortkominge is daar talle ander brandpunte waarop daar nie in fynere besonderhede uitgebrei gaan word nie, onder meer:

  • Die navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) wat daarop dui dat 60% leerders aan die einde van graad 4 se leesvermoëns, nie op peil is nie.
  • Die hoë uitsaksyfer wat veral in grade 9 en 10 toeneem.
  • Die invloed van onderwysunies – veral die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SADOU) – in onderwyssake. (Let wel: die onderwysunie kan nie blameer word vir al die gebreke in die onderwysstelsel nie.)
  • Onderpresterende skole se onderwysers se onderrigvaardighede en vakkundigheid is op peil nie.
  • Volgens amptelike bronne van die Departement Basiese Onderwys (DBO) verlaat 6 000 bekwame onderwysers die stelsel sedert 2009 op 'n jaarlikse basis. Die aantal onderwysers wat die onderwysstelsel verlaat, beteken dat die kundigheid en vaardighede in die meeste gevalle verlore gaan. Sedert 2011–2016 het 29 734 die onderwysprofessie verlaat.
  • Die fokus van die skoolkurrikulum is grotendeels om leerders vir die Jaarlikse Assesseringstoetse (beter bekend in die volksmond as die Annual National Assessments - ANA) voor te berei, waaraan die grondslagfase- en intermediêrefase-leerders van die laerskool deelneem.
  • Volgens Nic Spaull, ‘n onderwysnavorser van Research on Socio-Economic Policy (Resep), is daar slegs 25% skole wat goed presteer in Suid-Afrika.
  • Die onderwyspeil van drie provinsies, Limpopo, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, is kommerwekkend, en ná talle ingrypings sedert 1994 is daar nog geen noemenswaardige verbetering in die beheer- en bestuurstelsel van dié provinsies is nie.
  1. Slot

Dit is tans waarneembaar dat die aanspreeklikheid van sommige provinsiale departemente nie voldoen aan die hoofoogmerke van die moniteringverslag nie. Wat is die oplossing? Die ATKV, as deel van die burgerlike samelewing, is tans besig om in 800 skole gehalte-skoolbeheer en -bestuur te benadruk. Dit skep geleenthede om met die onderwysdepartement, ouers, leerders en onderwysers hande te neem.

The post Skoleseminaar: Aanspreeklikheid in die onderwys appeared first on LitNet.

Die state capture-verslag is uit, so what?

$
0
0

Die afgelope aantal maande voel ’n bietjie soos Groundhog Day. Eers is daar ’n verdoemende verslag van die openbare beskermer wat nog ’n laag korrupsie/nepotisme/inkompetentheid/arrogansie in die Zuma-kamp ontbloot.

Dan is daar die voorspelbare bewerings dat die OB bevooroordeeld is en Zuma en sy makkers onregverdig behandel het. Daarna gaan iemand hof toe, en die DA, EFF en lede van burgerorganisasies laat hulle byvoeg as partye. Daarna word ’n bevinding teen Zuma gemaak. Binne ’n dag of twee is daar ’n verklaring van Zuma wat bevestig dat hy die gesag van die hof erken. Kort daarna is daar ’n optog / optogte met een boodskap: “Zuma must go.” Die ANC skuil agter die holruggeryde verskoning dat hulle interne partyprosesse moet volg, wat beteken hulle kan niks doen voor die Elective Assembly in Desember 2017 nie. Zuma self is stil en in die agtergrond in hierdie fase. Hy’s óf oorsee, ٕóf rus by Nkandla of iets, maar hy sprak g’n sprook.

Dan gebeur daar iets anders. Natuurramp. Terroristeaanval. In hierdie tyd sal die Amerikaanse verkiesing goeie afleiding bied. Tensy #FeesMustFall weer iets skandaligs doen. Of ons komkommer oor of ons ekonomie tot rommelstatus verklaar gaan word. Dan vergeet ons van Zuma. Tot die volgende skandaal. Mix and repeat.

Elke keer juig die optimiste onder ons. Hiérdie keer sal hy moet bes gee. Hiérdie keer sal die ANC die lig sien en hom met ’n stewige stoot onder die agterstewe die vergetelheid instuur. Hiérdie keer sal hy moet verantwoording doen.

Elke keer beskaam die hoop.

Omdat Thabo Mbeki vrywilliglik geloop het toe hy uitgestoot was, het die algemene publiek die indruk gekry die ANC kan net hulle vingers klap, en presidente loop. Nou het hulle te doen met ’n president wat klou soos ’n neet. Hy bewys daagliks presies hoe magteloos die eens magtige ANC geword het. (Dis nou met die veronderstelling dat hulle wel wil hê hy moet loop, en hom nie heimlik ondersteun nie.)

En wat nou van die state capture-verslag, Thuli Madonsela se afskeidsgeskenk aan Suid-Afrika?

Daar is niks in wat ons nie alreeds geweet het nie. Die Guptas, Zuma, SAL, SABC, Eskom, Des van Rooyen en dies meer, ensovoorts. Ons het dit alreeds geweet. Die 355 bladsye van die verslag gaan net in meer besonderhede daarop in, en verskaf forensiese bevestiging vir wat ons al lankal weet.

Bewerings van korrupsie hang al lankal oor Zuma se kop. Daar is 783 klagtes wat wag om heringestel te word, deur die Paashaas of Sinterklaas, wie weet? Beslis nie die NPA, met ondersoek deur die onkreukbare Hawks nie.

Wat die uitgaande OB wel gedoen het, was om Zuma te verplig om binne sekere tydsbeperkinge op te tree. Binne 30 dae van gister af moet hy ’n kommissie van ondersoek instel. Die kommissie moet deur ’n regter gelei word, wat die kanse op politieke tap-dancing behoort te minimiseer. Die hoofregter stel die voorsittende regter aan. Die kommissie moet binne 180 dae hulle werk afhandel.

In kort, Zuma moet ’n kommissie instel om sy wandade te ondersoek, en hy’t geen sê oor wie die ondersoek lei nie. En as als goed afloop, sal ons teen Junie/Julie 2017 hoor wat die kommissie verrig het.

Ek verwag nie dat Zuma voor dan aangekla sal word van enige kriminele dade nie.

Die EFF het reeds Woensdag, kort nadat die hof beveel het die verslag moet bekend gemaak word, aangedui dat hulle ernstig besin oor hulle volgende stap. Donderdag het EFF- en DA-optogte plaasgevind, en ek verwag dat daar oor die komende dae heelwat meet optogte sal plaasvind.

Ek verwag dat daar weer ’n poging sal wees om Zuma te impeach. Laas het dit nie geslaag nie, omdat die ANC as ’n blok dit teengestaan het. Daar is egter al meer stemme van binne ANC-geledere wat begin eis dat Zuma se kop moet rol. Die wonde van die neerlaag in die Augustus-verkiesing is nog rou, veral in die munisipaliteite waar die ANC ontsetel is.

Die mees hoopvolle aanduiding dat dinge besig is om te verander, is die vergadering van sg “ANC stalwarts”, soos wat hulle hulself noem, wat Donderdagoggend ’n perskonferensie belê het met die doel om hulle kommer oor die huidige stand van sake te opper. Daar is dus alle aanduidings dat misnoeë met Zuma dieperliggend is as wat aanvanklik gedink was.

Binne die parlement egter, waar  gestem moet word oor impeachment, is Zuma se ondersteuners nog sterk, en die DA/EFF-alliansie nie bestendig genoeg nie. Dit sou heelwat gehelp het vir ’n vertoon van ’n verenigde front indien hulle vir Donderdag een gesamentlike optog gereël het, om maar een voorbeeld te noem.

Die enigste manier hoedat impeachment kan slaag, is indien ’n groot deel van die ANC-koukus ten gunste daarvan stem (en by implikasie teen die verwagte instruksie om dit teen te staan vanaf hul NUK). Dit sal neerkom op politieke harakiri, iets wat nie regtig in die ANC se DNS vasgelê is nie. Ek eet my hoed op indien dit gebeur.

Dié wat Woensdagaand die vonkelwyn uitgepluk het, moet dalk maar nog bietjie geduld gebruik.

Zuma se bedanking kom just now. Of dalk now now, maar in ieder geval waarskynlik nie voor die ANC Elective Assembly in Desember 2017 nie.

The post Die state capture-verslag is uit, so what? appeared first on LitNet.

Verontskuldigende pretensie

LitNet: Wat die hart van vol is

Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe

$
0
0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.   

By die skryf hiervan – op 2 November 2016 – het die Noord-Gautengse hooggeregshof pas ’n bevel met potensieel ingrypende implikasies gemaak: Jacob Zuma se terugtrekking van sy aansoek om ’n verbod te plaas op die vrystelling van die vorige openbare beskermer se verslag oor beweerde staatskaping is toegestaan – met koste, soos tussen prokureur en kliënt.

Maar dit is waar die knoop lê: Wie moet oplaas betaal – die President self (uit eie sak) of die belastingbetaler? Hierdie vraag is deur die hof voorbehou vir latere beslissing, straks voor die einde van 2016.

Dit is nadat die hof ’n dag vantevore verskeie politieke partye en ’n oud-ANC-aktivis, Vytjie Mentor, se aansoeke om tot die geding toe te tree, toegestaan het. Ook met koste, moet ek byvoeg.

Jacob Zuma se terugtrekking daarná van sy aansoek het gepaard gegaan met ’n gulhartige aanbod om ook die koste van dié saak – wat intussen tot ’n regsmonster aangegroei het – te betaal. Só gulhartig was sy aanbod, dat die hof geen probleem gehad het om te beveel dat die koste op die hoër skaal – dws soos tussen prokureur en kliënt – betaal moet word nie. Koste op dié skaal word normaalweg beskou as ’n “straf” vir die party wat moet opdok. Ek sal aanstons die verskillende kostebevele wat ’n hof kan gee, verduidelik.

Mnr Zuma het ongetwyfeld gemeen hy kan – soos so dikwels in die verlede toe hy hofsake verloor het – die astronomiese koste van sy ondeurdagte hofaansoek op die belastingbetaler afwentel.

Dié keer wil die handvol partye wat toegelaat is om sy aansoek teen te staan, egter hê dat die President sélf (en nie jan en alleman nie) die koste van sy aansoek moet betaal – nie alleen sy eie regskoste nie (hy was verwaand genoeg om die staatsprokureur te gebruik), maar ook dié van sy teenstanders. Dit kan uiteindelik miljoene beloop.

Daar was op die dag van die hofsaak wydverspreide betogings téén die klaarblyklike korrupsie en nepotisme van die Zuma-bewind. Die historiese Kerkplein het eerder na die Rooiplein gelyk, weens die duisende ondersteuners van die Economic Freedom Fighters (EFF), geklee in rooi, wat in protes daar saamgetrek het. Dit het wêreldwye nuusdekking geniet.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het, soos ek reeds aangedui het, gelas dat die vraag of Jacob Zuma die koste persoonlik moet opdok, behoorlik op ’n later datum bereg sal word: hoofde van betoog moet ingedien word, waarna die kwessie deur al die belanghebbende party in ’n ope hof gedebatteer sal word.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset
Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes
Regsalmanak: 'n Grusame botsing en die waarde van deskundige getuienis
Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig”
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van 'n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié

As die president van die land gelas word om uit eie sak vir sy jongste hofavontuur te betaal, sal dit ’n waterskeidingsoomblik in ons land se regsgeskiedenis wees. ’n Hof wat só ’n bevel maak, sal beslis daarna ’n dapper hof genoem word.

Dit is hoogtyd dat ’n stokkie gesteek word voor maghebbers se kosteverspillende speletjies in die howe.

Om waaroor dit hier gaan behoorlik te begryp, moet ek kortliks (en by herhaling[1]) verduidelik watter soort kostebevele deur ons howe in siviele sake toegeken kan word. (Daar word nie kostebevele in strafsake gegee nie.)

As ‘n party ’n hofsaak wen, moet die verloorder normaalweg die wenner se regskoste betaal. Kostebevele is in die diskresie van die howe, maar gewoonlik word koste toegeken op die skaal soos tussen party en party. Dit beteken dat daar in die hofreëls kostetabelle is wat die prokureur van die wenner moet volg wanneer hy die rekening – wat die verloorder moet betaal – opstel. Uiteindelik word daardie rekening deur die takseermeester van die betrokke hof nagegaan om vas te stel of alles wat die suksesvolle party eis, toelaatbaar is.

Daardie tabelle skryf byvoorbeeld 'n sekere bedrag voor vir die koste van 'n brief of ’n telefoonoproep; 'n konsultasie wat die kliënt met sy prokureur of advokaat gevoer het; die opstel van pleitstukke; die tyd wat die verhoor van die saak in beslag geneem het – daardie soort dinge.

Die kostetabelle maak egter nie voorsiening vir ál 'n party se regskoste nie, want daar is sekere dinge wat 'n prokureur of advokaat móét doen ter voorbereiding van 'n saak wat onontbeerlik is, maar waarvoor daar nie altyd in die kostetabelle voorsiening gemaak word nie. Daarom is dit 'n normale verskynsel dat ‘n hofsaak jou tog wel geld gaan kos, al wen jy die saak met koste. Normaalweg kom die prokureur en sy kliënt vooraf ooreen op watter basis die prokureur sy rekening sal lewer, byvoorbeeld ’n tarief per uur.

Soms gebeur dit dat die hof 'n party beveel om regskoste op ‘n hoër skaal – soos tussen prokureur en kliënt – te betaal. Dit het nou in die Noord-Gautengse hooggeregshof in die staatskapinggeding gebeur. In só 'n geval kan die wenner die meeste van sy koste van die verloorder verhaal. Dit gebeur egter slegs in buitengewone omstandighede: ’n party moet lelik droogmaak – hy moet byvoorbeeld grof oneerlik wees of gewoon almal se tyd mors – alvorens hy die gramskap van ’n hof op die hals sal haal en met ’n kostebevel op die hoër skaal gestraf sal word.

Daar is ook ’n derde soort kostebevel wat ’n hof kan verleen. In regstaal word dit genoem ’n bevel de bonis propriis: iemand wat in sy verteenwoordigende hoedanigheid voor die hof is, word beveel om die regskoste (gewoonlik soos tussen prokureur en kliënt) uit sy eie sak te betaal. Dit kan so iemand finansieel ruïneer.

Hierdie soort bevele word meestal teen regsverteenwoordigers gegee: ’n prokureur of advokaat se gedrag tydens ‘n hofsaak wyk byvoorbeeld só af van die hoë etiese norme wat die regsberoep nastreef dat ’n hof gelas dat hy self – en nie sy kliënt nie – die koste de bonis propriis (uit eie sak, dus) moet betaal. Ons howe het al sulke bevele gegee teen regspraktisyns wat oneerlik met die hof was, die regsproses gedwarsboom het of grof nalatig, onbevoeg of misleidend was.

’n Kostebevel de bonis propriis kan ook gegee word teen iemand wat ampshalwe voor die hof is – die President is in hierdie geval ’n goeie voorbeeld – gegee word. Ek weet van minstens een voorbeeld waar die appèlhof in 2013 op ’n nerf na ’n LUR beveel het om uit haar eie sak die verbysterende regskoste te betaal. Die bondige feite in Gauteng Gambling Board v MEC for Economic Development is dat die betrokke LUR die Dobbelraad beveel het om sy kantoor – wat sy eiendom was – te ontruim sodat ‘n maatskappy genaamd African Romance (bid jou aan!) daar kon intrek. Die Dobbelraad het geweier en ‘n interdik teen die LUR aangevra, waarna die LUR die Raad summier ontbind en sodoende die regsproses probeer fnuik het.

Die appèlhof het beslis dat die LUR haar statutêre magte vir haar eie doeleindes misbruik het en dat sy in die proses die ernstige gevolge van haar optrede vir die staatskas en die beginsel van verantwoordbare regering verontagsaam het.

Die LUR het die saak met koste – soos tussen prokureur en kliënt – verloor, maar klaarblyklik was appèlregter Navsa spyt dat hy nie die pyn na die LUR persoonlik kon verskuif nie. “Uiteindelik,” het hy gesê, “is dit die belastingbetaler wat vir die gelag moet betaal. Die tyd het aangebreek dat howe dit ernstig moet oorweeg om amptenare wat op so ’n aanmatigende wyse optree, persoonlik aanspreeklik te hou vir die koste. Dit behoort pligversakende amptenare wakker te skud” (my vertaling). (Die enigste rede waarom die appèlhof nie ’n de bonis propriis-bevel teen die LUR gegee het nie, is dat die Dobbelraad nie daarvoor gevra het nie.)

Ek gaan die verdere debat in die Noord-Gautengse hooggeregshof oor die vraag of mnr Zuma persoonlik, uit eie sak, vir sy kosteverspillende – en oplaas vrugtelose – hofaansoek in die staatskapingsage aanspreeklik gehou sal word, met belangstelling dophou.

As die aansoek van mnr Zuma se teenstanders dat hy daardie koste persoonlik moet betaal, slaag, sal ek nie verbaas wees as hy ook oplaas opgesaal sal word met die astronomiese regskoste wat hy die belastingbetaler tot dusver uit die sak gejaag het net om vervolging van 783 klagtes van – onder meer – bedrog, korrupsie en rampokkery – te probeer ontglip nie.

Hoogtyd, sou ek reken.

[1] Ek het al voorheen hieroor geskryf: http://www.litnet.co.za/soms-is-regskoste-nie-quotpeanutsquot-nie.

  • Foto's verskaf

The post Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe appeared first on LitNet.


Oom Jans, die kelnerin en die subteks

$
0
0

Jans Rautenbach (voorgrond) en Koos Roets op die stel van Abraham (foto verskaf deur en met erkenning aan MNet)

Dit was ‘n stil twee-uur-die-middag-sessie by die kykNET Silwerskermfees. Die middagete “rush” was verby en die kelners en ander vrywilligers was besig om die koffie en ander versnaperings reg te kry. Ek het eintlik net ingehol om ‘n vinnige koffie te gryp. Daarna sou ek my na een van die gesprekke toe haas. Dit was ‘n ou laai van my by dié fees. Ek sal nog ‘n vinnige onderhoud ná ‘n fliek met ‘n rolspeler doen, of ná ‘n spesifieke gesprek, en dan weer by ‘n vinnige geleentheid insluip. Maar tussenin moet ek eers ‘n koppie koffie of ‘n glas water gryp.

Ek het skaars my suiker ingeroer of ek kyk op en sien ‘n man wat self besig is om koffie te kry. Dis Jans Rautenbach. Die lewende legende self. Ek het die jaar vantevore my eerste onderhoud met hom gedoen. Anders sou ek beslis in sweet uitgeslaan het soos wat ek daar staan.

Die niksvermoedende kelnerin oorhandig egter net die koffie aan hom en sê-vra met ‘n groot glimlag: “Hoop dit gaan goed?”

Oom Jans sug, skud maar net sy kop en sê: “Nee, eintlik gaan dit nie so goed nie.”

Ek hou hom fyn dop. Dit is op dié betrokke aand van 2014, die laaste aand van die Silwerskermfees, die eerste vertoning van sy rolprent Abraham. Dis die eerste rolprent wat hy in 30 jaar vervaardig het. So ek raai hy is effe senuweeagtig oor hoe die gehoor daarop gaan reageer. Almal koester sulke hoë verwagtings vir die fliek, en selfs vir ‘n prentjieskepper met sy ervaring is dit seker ‘n stresvolle las om op mens se skouers te dra.

Maar die kelnerin, ‘n jong wit Afrikaanse meisie, is salig onbewus hiervan. Dalk neem sy aan dat die filmfees met al sy dinge hierdie oom moeg maak, want sy antwoord hom dadelik. “Ag, toemaar, dis amper verby.”

Oom Jans skud net sy kop. “Nee, nee, dit is nog lank nie verby nie.”

Ek glimlag binne myself en probeer om, soos wat dit ‘n onsigbare toeskouer betaam, dit nie openlik te wys nie.

Die meisie, wat seker as ‘n vrywilliger by die fees werk, voel haar genoop om oom Jans op te beur. Sy bied vir hom een van die lekkernye op die tafel aan. “Wat van ‘n stukkie koek? Dit laat my altyd beter voel.”

Oom Jans skud net sy kop en sê kalm: “Nee dis baie suiker. Suiker is nie goed vir ‘n ou man soos ek nie.” Hy sug weer terwyl hy peinsend aan sy koffie teug.

“Dis tog Oom se laaste dag?!”

Oom Jans se oë raak groot. “Ek hoop nie so nie!”

Duidelik het sy daarna verwys dat dit die laaste dag van die rolprentfees is, maar oom Jans het sekerlik besluit om die draak te steek met hierdie jong student en dit laat lyk of hy dit geïnterpreteer het asof sy hom vertel dat dit sy laaste dag op aarde is. Die volgende rolprentvertoning wat ek sou bygewoon het, is lank reeds vergete. Hiérdie is die éintlike fliek wat voor my afspeel.

Ek grawe rond vir ‘n beskuitjie op die tafel. Dit is mos wat goeie ekstras in ‘n toneel uit ‘n rolprent of sepie doen. Hulle kry iets om hul mee besig te hou sodat die twee eintlike karakters tussen wie die toneel afspeel, nie agterkom hulle staan eintlik net daar en afluister nie.

“Woon Oom ook die fees by?” vra die meisie vriendelik.

“Jy kan maar so sê, ja,” antwoord oom Jans – die beskermheer van die Silwerskermfees sedert kykNET die eerste keer die fees in 2011 aangebied het.

Haar oë helder op. Uiteindelik het sy iets waaroor sy met dié oom kan gesels.

“So wat doen Oom in die bedryf?” vra sy ewe onskuldig.

“Ek is ‘n regisseur,” antwoord oom Jans en neem nog ‘n sluk van sy koffie.

“O, regtig?” vra sy. En sy steek haar voet verder in haar mond. “Ek het al báie van hulle hierdie week ontmoet.” By ‘n fees waar daar 12 kortfilms bekendgestel word, en daar daagliks minstens drie eerste vertonings oftewel premières van rolprente plaasvind, is dit heel moontlik.

Ek loer vir oom Jans. Hy sug net weer voordat hy droog opmerk: “Ja, almal dink mos deesdae hulle is regisseurs.”

Dit was nogal ‘n groot onderwerp van die gesprekke by die betrokke jaar se fees. Van Regardt van den Berg tot Darrel Roodt, en veral die veteraanredigeerder Ronelle Loots (wat al vir onder meer Katinka Heyns en Koos Roets gewerk het), het opgemerk dat die nuwe tegnologie die tendens meegebring het dat rolprentmakers al hoe jonger begin regisseurs word, in stede daarvan dat hulle eers deur die leerskool gaan en hulself van onder af opwerk deur hulle eers in ‘n ander hoedanigheid op die rolprentstel te bekwaam.

Die meisie het nou éérs spoed gevang. “So het Oom ook ‘n fliek hier? Watse flieks het Oom al gemaak?”

Oom Jans, wat nog die hele tyd bewus was van my teenwoordigheid daar, loop nou na my toe, sit sy hand op my skouer en sê vir haar: “Hierdie dame is baie slim. Sy is ‘n nagraadse student en ‘n joernalis by RSG. Sy weet baie van Suid-Afrikaanse flieks af. Sy sal jou alles vertel wat jy wil weet.” Hy sit sy leë koppie neer voordat hy vir haar vra: “Wat is jou naam?”

Sy stel haarself aan hom voor en vertel hom in ‘n paar woorde van haarself, terwyl die ander jong kelner, wat die hele tyd langsaan haar gestaan het en ook nes ek alles besigtig het, hom tot my wend. Dit is ‘n manstudent wat as ‘n vrywilliger by die fees werk. “Wie ís hy?” fluister hy vir my terwyl hy met sy oë na oom Jans kyk, wat nog besig is om met die meisie te gesels.

“Dis Jans Rautenbach,” antwoord ek.

“Wie?” vra hy.

“Jans Rautenbach. Een van die grootste regisseurs wat ons land tot nóg toe gehad het.”

Die jong man lig sy skouers ontkennend. “Ek het nog nooit van hom gehoor nie.”

Oom Jans het intussen die meisie gegroet en is al amper by die deur van die vertrek. Hy lig sy hand en wuif vir my. “Sien jou later, Van Vuuren.”

Ek lig my hand in erkenning. By die grootste Afrikaanse filmfees in die land. By die énigste volwaardige Afrikaanse filmfees …

Dit laat dit my nou dink aan die oomblik in die 2016-Hollywood-rolprent Steve Jobs toe ‘n joernalis vir Jobs vra wie Alan Turing is. Jobs het net sy kop geskud, en geantwoord: “In a sense he invented the modern computer. But if you have to ask me who he is, he won’t form part of our marketing campaign anymore.”

The post Oom Jans, die kelnerin en die subteks appeared first on LitNet.

Teksmark: vars platform vir die skep van verhoogtekste

$
0
0

Kunste Onbeperk, in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), het vanjaar die eerste Teksmark by die Baxter-teater aangebied. Soos die titel aandui, is dit ‘n tipe forum waar skrywers hul werk kan "bemark". Na afloop van die mark kies NATi een uit die 14 finalis-tekste wat hul dan verder saam met die skrywer ontwikkel en uiteindelik in 2018 op die planke sal bring. Dit bied egter ook die geleentheid vir ander vervaardigers, feeste en teaters om hierdie werke te sien, en selfs die moontlikheid om dit saam met die skrywers verder te ontwikkel sou hul potensiaal daarin sien. Die skrywers het elkeen ‘n kort inleiding tot hul tekste gegee, waarna spelers ‘n kort uittreksel uit die teks gedoen het. Hierna kon gehoorlede aan die skrywers vrae rig sowel as terugvoer bied op die teks.

Die 14 tekste wat gekies is om aan die Teksmark deel te neem, is Melk en vleis deur Marina Albertyn, Abel deur Ricardo Arendse, Fees deur Ludwig Binge, Oculus deur Wilken Calitz, Rendezvous deur Rachelle Greeff, Prey deur Pieter Jacobs, Dans van die watermeid deur Amee Lekas, Die ramparty deur Deon Maas, Duiwelshoek deur Albert Maritz, Vat aan my deur Alma Nel, Portret van Dorian Gray deur Phillip Rademeyer, Kaalvoetspoor deur Sjaka Septembir, Ons is almal freaks hier deur Ingrid Winterbach en Cradle deur Stephina Zwane.

Die geleentheid het ook ‘n baie waardevolle paneelbespreking aangebied, onder leiding van Danie Marais, Lara Foot, Hennie van Greunen, Amy Jephta, Ismail Mahomed en Saartjie Botha. Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, stel dit in haar programinleiding soos volg: "Teksmark [is] ’n uitstekende platform vir die slyp van nuwe (en ou) stemme, waar die fokus op die teks is." Uit die paneelbespreking het die gesprek meermale juis om hierdie behoefte by skrywers gedraai. Daar is ‘n groot noodsaaklikheid vir ontwikkeling by die ontstaansfase van die proses, by die tydsame skep en skaaf van ‘n teks, voer Amy Jefta aan. Die bestuurder van die US Woordfees, Saartjie Botha, voer selfs aan dat wanneer hul aansoeke vir dié fees ontvang, hulle eers na begroting en die voorgestelde geselskap kyk voordat hulle die teks bestudeer. Foot het weer die herkenning en ontwikkeling van seminale stemme benadruk. Sy meen dat die fokus moet terugskuif na die skrywer en dat, in ‘n era van gelykheid waar die skep van teaterwerke deur die werkswinkelproses hoogs populêr is, die belangrikheid van ‘n outoritêre stem nie onderskat moet word nie.

Verder het die vraag oor hoe mens gehore, en meer spesifiek jong gehore, na die teater lok, meermale oor die twee dae na vore gekom. Mahomed het ‘n baie belangrike vergelyking getref tussen gehoorontwikkeling en gehoorretensie. Hy lê klem op die feit dat dit as twee aparte doelstellings beskou moet word en dat skrywers moet waaksaam wees dat die gehalte van die werk nie hierdeur beïnvloed word nie. Oor die algemeen was die gesprek dat die tekort aan hulpbronne lei tot die kompensasie van inhoud. Sandra Temmingh gaan so ver as om te sê dat Suid-Afrikaanse teater nie ‘n debat ontlok nie, ‘n resultaat van die "veilige" manier waarop werk geskep moet word. Marthinus Basson sluit hierby aan as hy sê: "Nêrens is daar meer ruimte om te val nie."  

Uiteindelik het NATi Amee Lakees se Die dans van die watermeid as die teks aangekondig wat hulle verder saam met die skrywer gaan ontwikkel. Lakees is ‘n 26-jarige kunstenaar wat in Willowmore grootgeword het. Sy het in 2014 haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en werk tans as aktrise. Hierdie teks merk haar debuut as skrywer.

Bo en behalwe hierdie wonderlike geleentheid was dit ook baie opwindend om teatermakers, skrywers en vervaardigers tussen tonele deur met mekaar te sien gesels en onderhandel oor toekomstige projekte. In hierdie opsig het die organiseerders van die Teksmark beslis geslaag in hul poging om die gesprek verder te voer as hierdie twee dae lange geleentheid en sal dit interessant wees om te sien watter van die ander uitstekende tekste wel hieruit verdere ontwikkelingsgeleenthede geniet.

Die volgende Teksmark is reeds vir 2017 bevestig en dit sal hopelik ‘n baie noodsaaklike jaarlikse geleentheid word.

  • Foto's: Stephen Elliot van Lumico

The post Teksmark: vars platform vir die skep van verhoogtekste appeared first on LitNet.

Pos beskikbaar: Sekretaris van die Afrikaanse Taalraad

Graad 9-wiskundevraestelle en memorandums (November)

Press release: PEN Afrikaans protests the pending suspension of Thulani Msimang | PEN Afrikaans protesteer teen die moontlike skorsing van Thulani Msimang

$
0
0

PEN Afrikaans protests the pending suspension of Thulani Msimang

On 6 November 2016 City Press has published evidence that the SABC management is threatening to suspend Thulani Msimang for being critical of the NPA’s lack of action against President Jacob Zuma. The criticism was published on Msimang’s personal Facebook page, and no reference to the SABC was made in the post.

In their letter to Msimang, published by City Press, the SABC management alleges that his personal opinion brings the SABC into disrepute and that it constitutes non-compliance with this contract.

PEN Afrikaans fails to understand how a personal opinion regarding the NPA’s lack of action can bring the SABC into disrepute. We can therefore only conclude that the SABC is trying to bully any employee who is critical of Jacob Zuma.

We insist that the SABC withdraws its action against Msimang, as we subscribe to the PEN International code that reads: “PEN stands for the principle of unhampered transmission of thought within each nation and between all nations, and members pledge themselves to oppose any form of suppression of freedom of expression in the country and community to which they belong, as well as throughout the world wherever this is possible. PEN declares for a free press and opposes arbitrary censorship in time of peace.”

If the SABC fails to do so, PEN Afrikaans shall call on PEN International and its global network to support our protest against the South African public broadcaster which seems to be severely politically compromised.

Read on the City Press website: SABC journo faces suspension for Facebook post about Zuma

PEN Afrikaans protesteer teen die moontlike skorsing van Thulani Msimang

Op 6 November 2016 publiseer City Press bewyse dat die SAUK-bestuur dreig om Thulani Msimang te skors omdat hy krities was oor die NVG se gebrek aan aksie teen president Jacob Zuma. Die kritiek is op Msimang se persoonlike Facebook-blad gepubliseer, daar was geen verwysing na die SAUK in die plasing nie.

In die brief wat deur die SAUK aan Msimang gestuur is, en deur City Press openbaar gemaak is, beweer die SAUK dat Msimang se persoonlike opinie die SAUK in oneer bring en dat Msimang sodoende ook in nie-nakoming van sy kontrak was.

PEN Afrikaans verstaan nie hoe 'n persoonlike mening oor die NVG se gebrek aan optrede die SAUK in oneer kan bring nie. Ons kan dus bloot aflei dat die SAUK besig is om 'n werknemer, wat kritiek lewer op Jacob Zuma, te probeer boelie.

Ons dring aan dat die SAUK hulle aksie teen Msimang terugtrek, want ons onderskryf PEN Internasionaal se kode wat lees: “PEN steun die beginsel van onverhinderde oordrag van denke binne elke nasie en tussen al die nasies, en die lede onderneem om hulle te verset teen enige vorm van onderdrukking van vryheid van uitdrukking in die land en gemeenskap waaraan hulle behoort, en wêreldwyd indien moontlik. PEN eis ’n vrye pers en is teen arbitrêre sensuur in vredestyd.”

Sou die SAUK versuim om dit te doen, sal PEN Afrikaans ’n beroep doen op PEN Internasionaal en dié organisasie se wêreldwye netwerk om ons protes teen die Suid-Afrikaanse openbare uitsaaier te steun, aangesien die instansie skynbaar polities erg gekompromitteer is.

Lees op die City Press-webwerf: SABC journo faces suspension for Facebook post about Zuma

The post Press release: PEN Afrikaans protests the pending suspension of Thulani Msimang | PEN Afrikaans protesteer teen die moontlike skorsing van Thulani Msimang appeared first on LitNet.

Viewing all 21552 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>