Spotlight
Regisseur: Tom McCarthy
Spelers: Michael Keaton, Mark Ruffalo, Liev Schreiber, Rachel McAdams, John Slattery, Stanley Tucci
Spotlight is in wese ’n misdaad-en-speurverhaal. Dit het die spanning en vaart van ’n aksiefliek, maar sonder die ontploffings, koeëls en bloed. Hier is die bloed en verwonding binnekant, en op ’n manier is dit soveel wreder. As ’n hele samelewing kies om anderpad te kyk terwyl een ná die ander kind se lewe verwoes word deur seksuele molestering, raak selfvernietiging daardie kinders se pad: drank- of dwelmverslawing of selfmoord.
Die fliek is gegrond op die ware gebeure van ’n saak wat van 1976 strek en wat oplaas ’n sistemiese probleem blootgelê het: pedofilie in die Katolieke Kerk. ’n Akademikus wat dit al vir meer as dertig jaar navors, bereken dat tot 6% van Katolieke priesters kindermolesteerders is. En die Kerk weet dit, tot op die hoogste vlak, en het deur die jare ’n uiters doeltreffende stelsel in plek gestel om klaers uit die hof te hou en die skuldige priesters te beskerm – deur hulle net na ’n nuwe gemeente te stuur. Wat die briljante film Doubt jou in één geval gewys het, wys Spotlight jou in die statistiek van honderde.
Die verhaal in kort: Spotlight is ’n keurgroep van vier verslaggewers van die Boston Globe, gerespekteerde koerant van een van Amerika se oudste en prestigerykste stede. Toe die koerant in 2001 ’n nuwe redakteur kry, Marty Baron (Liev Schreiber), dring dié daarop aan dat die soveelste molestasiesaak waarin ’n Katolieke priester beskuldig word, met dringende voorkeur deur die Spotlight-span ondersoek word. Soos die ondersoek vorder, delf hulle dieper en dieper, as’t ware tot in die voorkamer van elke trotse Boston-boorling. Soos een van die karakters dit opsom: “If it takes a village to raise a child, it takes a village to abuse them.”
Gaan kyk hierdie fliek – dit het nie verniet vanjaar die Oscar vir beste film ontvang nie.
Sterre: 5
The post Filmresensie: Spotlight appeared first on LitNet.