Die groep van Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Potchefstroom Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes Universiteit, stigtersborge asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor jare, het op Dinsdag, 22 Maart 2016 vergader om te besin oor die haalbaarheid daarvan om die jaarlikse kunstefees op Potchefstroom te laat voortgaan.
Die groep het ontstaan na aanleiding van die onlangse skok aankondiging deur die direksie van Aardklop Stigting dat die jaarlikse Aardklop Nasionale Kunstefees met onmiddellike effek gestaak word en dus nie in 2016 aangebied sal word nie.
Die groep van Aardklop-belanghebbendes was bekommerd dat alle aspekte van so besluit nie in ag geneem is nie, veral die invloed van die nie-aanbieding van die fees op die ekonomie van Potchefstroom. Dit laat ook ʼn groot leemte in die platform vir drama, klassieke musiek en ander kunsvorme in die noorde van Suid-Afrika. Hierdie platform is oor 18 jaar deur Aardklop daargestel met die hulp van stigters- en ander borge wat baie in die handelsmerk, die kunste en die gemeenskap van Potchefstroom belê het.
Die groep van Aardklop-belanghebbendes het verlede week met die direksies van die Aardklop Stigting en die Aardklop Nasionale Kunstefees gesprek gevoer, waarna die Aardklop Stigting aangekondig het dat hulle voortgaan met hulle beplanning om nie meer so fees op Potchefstroom aan te bied nie.
Die groep van Aardklop-belanghebbendes het egter aangedui dat hulle voortgaan met ʼn dringende ondersoek na die haalbaarheid en volhoubaarheid van so ʼn fees op Potchefstroom.
Tydens gister se vergadering is verskeie aspekte van ʼn moontlike fees in Oktober 2016, indringend bespreek. Een van die belangrikste aspekte om die fees te laat gebeur, is om voldoende borge te kry om die fees moontlik te maak. Daar is ook gekyk na die omvang van hoe die fees aangebied is asook na die terugskuif van die feesterrein na Die Bult waar die fees in die beginjare aangebied is.
Japie Gouws, segspersoon van die groep van Aardklop-belanghebbendes, het na afloop van die vergadering gesê dat hulle baie optimisties is dat voldoende borge bereid sal wees om die fees nog hierdie jaar moontlik te maak. Die groep van Aardklop-belanghebbendes poog om hierdie beloftes oor die volgende weke met borge vas te maak. Hy het ook aangemoedig dat plaaslike besighede betrokke moet raak met borgskappe en het hulle aangemoedig om met die Potchefstroom Sakekamer in die verband te skakel.
“Ons is regtig beïndruk met die entoesiasme van baie instansies, besighede en gemeenskapsleiers in Potchefstroom dat die fees moet voortgaan,” het Gouws gesê. “Potchefstroom se jaarlikse ekonomiese inspuiting met die fees beloop tussen R60 miljoen en R80 miljoen per jaar.”
Indien voldoende borge tydig vasgemaak word, is daar geen rede dat daar nie vanjaar vanaf 4 tot 9 Oktober 2016 ʼn Afrikaanse Kunstefees op Potchefstroom kan plaasvind nie. “Ons is baie positief dat dit moontlik is en doen ʼn beroep op alle belanghebbendes om positief by hierdie inisiatief betrokke te raak.”
Die groep van Aardklop-belanghebbendes sal so gou moontlik duidelikheid oor potensiële borge kry sodat daar ʼn vaste besluit geneem kan word dat die fees wel in 2016 aangebied sal word. Sodra dit gebeur, sal die nodige aankondigings gemaak word en alle rolspelers daaroor ingelig word.
The post Gesprek oor die toekoms van Aardklop duur voort appeared first on LitNet.