Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette

$
0
0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Op 20 Maart 1990 het die destydse staatspresident van Suid-Afrika, FW de Klerk, die Wet op die Erkenning van die Onafhanklikheid van Namibië goedgekeur.[i] Wat dié gebeurtenis interessant en buitengewoon maak, is dat mnr De Klerk die wet onderteken het in sy ampsvliegtuig terwyl hy en die Minister van Buitelandse Sake onderweg was na Windhoek om die onafhanklikheidsvierings van Namibië by te woon.

Veral die Amerikaners hou nogal daarvan om een of ander seremonie te reël wanneer die president ‘n belangrike wet onderteken. Die foto hier onder is geneem toe John F Kennedy op 10 Junie 1963 die Equal Pay Act onderteken het. Die aansienlike aantal deftig-geklede lede van die skoner geslag wat op daardie dag in die Oval Office saamgetrek was, illustreer hoe belangrik dié wet indertyd geag is.

Foto: John F Kennedy Presidential Library and Museum

Ek het gedurende die ampstermyn van president Mandela navraag gedoen oor die wyse waarop die Suid-Afrikaanse president gewoonlik parlementswette goedkeur en het nogal interessante inligting van Madiba se kantoor ontvang. (Ek neem aan dat die gebruike wat toe gegeld het, nie intussen noemenswaardig verander het nie.)

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372

Daar is nie 'n bepaalde dag van die week waarop die president wette goedkeur nie. Dit word deur sy werksprogram en die werksaamhede van die parlement bepaal. Wanneer 'n wet deur die parlement aangeneem is, word dit deur die sekretaris van die parlement op spesiale argiefpapier gedruk en na die president se kantoor gestuur, waar 'n nommer vir die wet toegeken word. Die president se kantoor bepaal ook watter teks van die wet onderteken moet word: Gewoonlik is dit die teks wat deur die parlement bespreek is. Die president keur altyd net een teks van ‘n besondere wet goed – in die praktyk óf net die Engelse teks óf die teks in een van die ander amptelike tale. Dié reëling het soms interessante – selfs ironiese – gevolge, soos dat die Staatspresident destyds die Engelse teks van die Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal[ii] geteken het. As daar 'n verskil of botsing is tussen die bewoording van, byvoorbeeld, die Afrikaanse en Engelse tekste van 'n wet, gee die teks wat deur die president geteken is, die deurslag.

Wanneer die president 'n wet goedkeur, onderteken hy dit tesame met wat genoem word 'n "presidensiële handeling", en die oorspronklike getekende wet word dan aan die griffier van die konstitusionele hof besorg vir bewaring.[iii] Die wet het dan nog nie regskrag nie; dit verkry regskrag eers wanneer dit gepromulgeer is by wyse van kennisgewing en publikasie in die Staatskoerant.

Die president gebruik geen spesiale pen vir die ondertekening van parlementswette nie. In die verlede was daar egter 'n paar interessante uitsonderings. In 1930 het 'n organisasie wat hulle vir die daarstelling van die vrouestemreg beywer het, die destydse goewerneur- generaal versoek om hulle toe te laat om die ondertekening van die Vrouestemregwet[iv] van 1930 by te woon. Dié versoek is beleefd geweier, maar die Goewerneur-Generaal het wel ingestem om die pen wat hulle vir hom gestuur het, by die ondertekening van die wet te gebruik.

'n Ander uitsondering was toe staatspresident Marais Viljoen die 1983-Grondwet van die Republiek[v] onderteken het met dieselfde pen wat in 1961 deur staatspresident CR Swart gebruik is om tydens sy inhuldiging as eerste staatspresident van die Republiek die ampseed te onderteken.

President Mandela het by minstens twee geleenthede toegelaat dat die publiek in sy goedkeuring van parlementswette kon deel. Die een geleentheid was die goedkeuring van die Wet op Arbeidsverhoudinge,[vi] toe die pers uitgenooi is om die ondertekeningseremonie by te woon in die ou kabinetskamer in die Uniegebou in Pretoria. Die ander, meer bekende, uitsondering is die ondertekening van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika[vii] te Sharpeville op 16 Desember 1996. By daardie geleentheid het Mandela 'n goue Parker-vulpen gebruik wat deur die bekende Parker-penmaatskappy aan die kantoor van die president geskenk is.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is op spesiale en duur papier gedruk en in leer gebind. Die adjunkdirekteur: Administrasie en Ondersteuningsdienste van die konstitusionele hof, Eddie Brewis, was so vriendelik om vir my foto’s van die oorspronklike Grondwet van 1996 aan te stuur. Die omslag, in blou leer gebind, word op die foto hierbo vertoon.

Hierdie foto (hieronder) toon die oorspronklike handtekening van president Mandela waardeur hy – kragtens die tussentydse Grondwet, wat toe nog gegeld het – op daardie historiese Desemberdag in 1996 en in daardie veelbewoë township (Sharpeville) die Grondwet onderteken het:

Mnr Brewis was so vriendelik om ook ‘n foto te neem van die “sertifiseringsbladsy” van die Grondwet. Kragtens die tussentydse Grondwet van 1993 moes die finale Grondwet deur die grondwetlike vergadering aangeneem word in ooreenstemming met die grondwetlike beginsels wat tydens die pre-1994-onderhandlingsproses tussen die betrokke partye afgespreek is. Die finale teks van die Grondwet is deur die destydse sekretaris van die grondwetlike vergadering onderteken, waarna die president van die konstitusionele hof – soos hy indertyd nog bekend gestaan het – regter Arthur Chaskalson, gesertifiseer het dat die Grondwet aan die vermelde ooreengekome grondwetlike beginsels voldoen het.

Hier is nog ‘n interessantheid: Omdat die Grondwet goedgekeur is terwyl die tussentydse Grondwet[viii] nog van krag was, is dit tot verlede jaar in die argief van die hoogste hof van appèl in Bloemfontein bewaar.[ix] Die huidige griffier, PA Myburgh, deel my egter mee dat hy verlede jaar versoek is dat die Grondwet na die konstitusionele hof oorgeplaas moet word.

“Hoe is hierdie belangrike dokument tussen Bloemfontein en Johannesburg vervoer? Het jul van ‘n koeriermaatskappy gebruik gemaak? Dalk ‘n gepantserde geldwa?” was my vraag.

“Nee, jy kan darem nie so ‘n dokument aan ‘n koeriermaatskappy toevertrou nie,” het hy laggend geantwoord. “Uiteindelik het ek dit persoonlik met my eie motor Johannesburg toe geneem.”

Die oorspronklike getekende teks van die Grondwet (wat hier bo uitgebeeld word) word volgens mnr Brewis nou in ‘n kluis in die konstitusionelehofgebou in Braamfontein, Johannesburg, bewaar. Al die nog geldende wette wat gedurende die vorige bedeling aangeneem en goedgekeur is, word steeds deur die griffier van die hoogste hof van appèl in Bloemfontein bewaar, terwyl wette wat kragtens die huidige Grondwet goedgekeur word, deur die griffier van die konstitusionele hof in Johannesburg bewaar word.

Jammer genoeg word die Grondwet tans nog nie iewers in die indrukwekkende kompleks van die konstitusionele hof vir besigtiging deur besoekers uitgestal nie. Hopelik sal Suid-Afrikaners mettertyd die begeerte ontwikkel om – soos byvoorbeeld die Amerikaners met betrekking tot hul “founding papers” maak – heelwat meer te doen om óns “founding papers” (soos die Grondwet) vir besigtiging deur die publiek toeganklik te maak.

 

Foto: Gustaf Pienaar

[i] Wet 34 van 1990

[ii] Wet 50 van 1972 – sedertdien herroep deur Wet 66 van 2001. Vgl ook die Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 59 van 1995.

[iii] Ingevolge Art 82 van die Grondwet

[iv] Wet 18 van 1930

[v] Wet 110 van 1983

[vi] Wet 66 van 1995

[vii] Wet 108 van 1996. Sedertdien het die nommer van die wet – 108 – verval en word daar net verwys na die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. In sy bestaan van byna 20 jaar is die Grondwet al 17 keer gewysig. Sover ek weet, was geeneen van dié wysigings egter van ingrypende betekenis nie; niks om snags oor sleg te slaap nie.

[viii] Wet 200 van 1993

[ix] Lees gerus iets meer oor die geskiedenis van die hoogste hof van appèl (Regsalmanak, 1 Oktober 2014): http://www.litnet.co.za/oor-die-applhof-en-die-howe-vir-klein-eise.

The post Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!