Bruegel se twee apies
So lyk my groot matriekeksamendroom:
twee apies sit vasgeketting in die venster,
agter die venster wapper die lug
en was die see homself.
Ek lê eksamen af in mensgeskiedenis.
Ek stotter en stamel.
Een apie, starend na my, luister sarkasties,
die ander lyk of hy dagdroom –
maar wanneer daar stilte op ʼn vraag ontstaan,
moedig hy my aan
met stil klingelende ketting.
Ek kon nie anders as om aan hierdie gedig van die Nobelpryswenner Wisława Szymborska te dink toe ek oor die spanning oor taal en verlede op ons kampusse van die afgelope ruk nadink nie. Hierdie gedig is geskryf in tyd van die 1956-opstande in Poznań, Pole. Die Pole het in verset gekom teen die regering van die dag en aangedring op laer kospryse, beter lone en werksomstandighede. In die Suid-Afrika van 2016 is ons weer besig om ’n eksamen in mensgeskiedenis af te lê en ons nageslag sal eendag moet sê of ons daarin geslaag het of nie.
Ek moet dit van die begin af duidelik maak dat ek self baie waarde aan meertaligheid heg. Uit my persoonlike en beroepslewe kan ek baie voorbeelde gee van wat meertaligheid al vir my beteken het. As julle my in die middel van die nag wakker maak, sal ek onomwonde sê dat ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika meertalig moet wees – dat ons dit moet bevorder. Ons tale is vasgeketting soos in Szymborska se gedig en ek is die idealis wat hulle graag sal wil bevry.
Meertaligheid in my lewe
Ek wil so ’n paar voorbeelde uit my lewe noem om te illustreer hoe belangrik meertaligheid is.
Ek wil nou nie my ouderdom verklap nie, maar ek was in die 1990’s op skool. Daardie woelige jare! In daardie dae het ons nog Suid-Sotho as vak op skool gehad en ek het dit nog as matriekvak geneem. Ek het ’n geleentheid gesien om my Suid-Sotho buite die klas te gebruik. Destyds was ek deel van die CSV (Christelike Studentevereniging) en om die Suid-Sothosprekende kinders uit te nooi om deel van my Bybelstudiekring by die skool te word, het ek ’n stukkie uit die Bybel in Suid-Sotho gelees. Dit was seker die eerste keer dat ek applous gekry het omdat ek uit die Bybel lees. Dit was die jare van die voel-voel naderbeweeg van groepe en ek het besef watter kragtige rol tale hierin kan speel.
Tale bied geleenthede en ek vind dit jammer dat die taalaanbod op skool verskraal het. My onderwysers het my afgeraai om in tale te studeer. Ek was nog nie een dag sonder werk nie. Om die waarheid te sê het my tale deure vir my oopgemaak. Dit het my die geleentheid gegee om in Duitsland te studeer. En tot daar kon ek my Tswana-kennis gebruik. Ek het eendag in Hamburg op ’n bus agter twee au pairs gesit – en tot my groot vreugde hoor ek dat hulle Tswana praat. Dit was so lekker om ’n bekende taal uit Afrika te hoor – veral as ’n mens al so rukkie in Duitsland was. Dit was dalk eerder ’n skok vir my Tswana-medereisigers, want die sonlose wintermaande het my baie na ’n Duitser laat lyk.
Op grond van my kwalifikasie in Tswana het ek die geleentheid gekry om Afrikaans en kultuurstudies by ’n universiteit in Poznań te gee. Die eerste ding wat my opgeval het, was die baie taalskole – tot selfs in die kleinste dorpie! Na baie jare van isolasie het die Pole besef dat ander tale ’n paspoort na reise in die buiteland sal wees.
Ek het die voorreg gehad om deel van ’n meertalige leesprojek in Noordwes te wees. Die Noordwes-Universiteit se Taaldirektoraat het saam met die Rotariërs van Orkney die leesboekies van die Kagiso-reeks (van Pearson) in Afrikaans, Engels en Tswana aan ses skole in die streek beskikbaar gestel. (Dit was Ed en Barbara Coombe – die pa en ma van die reeks – se droom om moedertaalonderrig en meertaligheid te bevorder. Hulle finansiële bydrae het die meertaligheidsgesprek moontlik gemaak.) Die doel was om te kyk of die insluiting van die moedertaal sou help om die leerders beter in Engels te leer lees. Engels was die onderrigmedium in die skole. Die onderwysers (hoofsaaklik Afrikaanssprekend!) het in een middag geleer hoe om in Tswana te kan lees (Tswana-ortografie is nog meer “foneties” as Afrikaanse ortografie.) Die terugvoer van die onderwysers het ons stoutste verwagtinge oortref. Wat vir my uitgestaan het, was die verhale van skaam kinders wat begin blom het toe hulle hul moedertale kon gebruik en vir “juffrou” kon help!
By die ATKV is ek verantwoordelik vir die bestuur van die Afrikaans-klasse in Soweto waar kinders Saterdae informele klasse kan bywoon. My kollega, Suzie Matlhola, het baanbrekerswerk gedoen toe hulp aan haar seun en sy maatjies met hulle Afrikaans-huiswerk gegroei het tot klasse wat op vyf verskillende plekke in Soweto aangebied word. Die ATKV het ’n meertaligheidsbenadering waarin Afrikaans in ’n meertaligheidskonteks bevorder word. ’n Mens kan egter nie van meertaligheid praat as daar Afrikaans in Soweto aangebied word nie. Daarom bied ek ook Tswana-klasse in Afrikaans by die ATKV-hoofkantoor in Randburg aan. Hierdie ATKV-werknemers het ook al intussen Soweto besoek en baie wanpersepsies is deur taalbrûe uit die weg geruim – die “hulle” het “ons” begin word.
Ek gee ook deeltyds klas by die Universiteit van Johannesburg se Departement Linguistiek. Ek sien in die taalpraktykstudente se beheersing (of gebrek daaraan) van die Afrikatale dat ons baie vinnig ’n plan sal moet maak om die posisie van die Afrikatale te versterk.
Is meertaligheid ’n luukse?
Ek dink dit is geldig om te vra of ons nie eerder ons geld aan iets anders as tale en meertaligheid moet bestee nie. In ’n land waar so baie mense nog honger gaan slaap, kinders sonder ouers grootword, geweld en misdaad iets alledaags geword het, lyk tale en meertaligheid na ’n luukse.
Ek wil nie taal en meertaligheid die towerstaffies maak wat al Suid-Afrika se probleme gaan regtoor nie. Tog glo ek ons moet nie die waarde van tale en meertaligheid onderskat nie – veral nie as dit by volhoubare ontwikkeling kom nie. Ontwikkeling beteken onderwys/opvoeding en dit sluit taal in.
Taal is die medium waardeur ons inligting en kennis oordra. Ons gebruik taal om te tel, somme te maak en die x, y en z in vergelykings te bepaal. Ons gebruik taal om stroombane te bou en die sywurm se lewensiklus te bestudeer. Is dit voldoende om dit net in een taal (’n wêreldtaal) te doen? Dit is seker ’n oplossing. Ons hoef dan nie boeke te vertaal nie en almal sal aan die wêreldekonomie in die wêreldtaal kan deelneem. Of hoe?
Ek het twee standpunte hier:
1. Hoeveel kinders gaan in die stelsel verlore omdat hulle nie in hulle moedertaal kon leer nie? (Dit is nou al so ’n holruggeryde stelling: ’n mens leer soveel beter in ’n mens se moedertaal.) Hoeveel geld “mors” ons uiteindelik op ’n eksklusiewe opvoedkundige stelsel.
2. Ons woon nie internasionaal nie. Ja, ons beweeg makliker tussen verskillende lande as ooit tevore, maar ons is nog gekoppel aan ’n gemeenskap. Dit is nie almal wat na Kanada, Australië of Brittanje verhuis nie. Selfs in ’n globaliserende wêreld gaan daar nog ’n behoefte wees aan Zoeloesprekende, Sothosprekende, Afrikaanssprekende dokters, loodgieters, bouers, huisagente en onderwysers.
Ons moet ons kinders eerder op ’n meertalige wêreld voorberei:
1) Moedertaalonderrig (om die kinders so lank as moontlik en suksesvol in die onderwysstelsel te kan hou).
2) ’n Plaaslike lingua franca (’n wonderlike manier om wedersydse respek op plaaslike vlak te bou).
’n Vinnige anekdote: ek was op ’n keer in die Poolse stad Szczecin (lees hier meer oor die stad en hoe om die naam uit te spreek: https://af.wikipedia.org/wiki/Szczecin). Hierdie stad is op die grens tussen Duitsland en Pole en julle sal seker weet dat die verhouding tussen die twee buurlande nie altyd so rooskleurig is nie. In die herberg waar ek tuisgegaan het, was daar ook Duitsers. Dit was vir my ietwat hartseer toe die Pole en Duitsers (nogal interessante) Engels met mekaar gepraat het. Ek wonder soms wat dit vir die wedersydse verhoudings sou beteken het as die Duitsers meer Pools geken het en die gesprek in Duits en Pools gevoer kon word! Ek weet mos hoe ek op die hande gedra is oor my Poolse pogings.
3) ’n Wêreldtaal – ja, nie almal gaan verhuis nie, maar dit sal beslis tot voordeel van die plaaslike ekonomie wees as dit ook internasionaal kan meeding
Taal is nie die begin en die einde van ontwikkeling nie, maar ons kan ook nie daarsonder ontwikkel nie. Hoe duur is dit om nié in meertaligheid te belê nie? ’n Voormalige Kanadese eerste minster, Pierre Trudeau, het al in 1968 gesê: “Of course a bilingual state is more expensive than a unilingual one – but it is a richer state.”
Hierdie toespraak is gelewer by die US Woordfees 2016 se gesprek oor meertaligheid.
The post Meertaligheid: Bruegel se twee apies appeared first on LitNet.