Carien Smith het vir Bernard Lategan uitgevra oor sy LitNet Akademies-artikel: ’n Verskuiwing na ’n oper en meer “pragmatiese” lees van Romeine 13:1–7?
Hoekom is dit die geval dat Romeine 13:1–7 nie slegs in teologiese en kerklike kringe as tema vir debat dien nie, maar ook op ander terreine, soos die regspraak, politieke filosofie, openbare administrasie, opvoedkunde en politiek?
Daar is twee redes waarom die gedeelte so ’n wye uitstralingskrag het. Kyk hoe onbeperk maak Paulus self die reikwydte daarvan – dit geld vir "elkemens" (nie net gelowiges nie) en vir "die owerhede" in die algemeen, sonder om hulle nader te kwalifiseer. Tweedens verwys hy na temas wat vér buite die grense strek van wat normaalweg as godsdiens of teologie beskou word: belastings, aksyns, gesag en eer (weer eens in die mees algemene terme). Geen wonder dat hierdie "generiese" uitsprake (as mens dit so kan noem) op ander gebiede in die loop van die geskiedenis ’n invloed uitgeoefen het nie. In die regspraak is die beginsel van die oppergesag van die reg (een vorm van "owerheid") van deurslaggewende belang – dink maar aan die onlangse saak in die konstitusionele hof oor die gesag van artikel 9-instellings en die vraag of die president hom aan die bevindings van die openbare beskermer moet steur of nie. Die verhouding tussen kerk en staat en die reg op gewelddadige opstand is belangrike temas waarmee politieke filosofie hom besig hou. Openbare administrasie het daagliks te doen met die afdwing van gesag in verskillende vorme (die insameling van verkeersboetes, die ontduiking van belasting) terwyl in die opvoedkunde die kwessie van dissipline, die mag van skoolhoofde en respek vir onderwysers telkens ter sprake kom. En in die politiek (per definisie die spel van mag) is dit ’n daaglikse realiteit, afgesien van meer teoretiese vrae oor die verdeling van die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag. Op al hierdie gebiede het Romeine 13 histories, of potensieel, betekenis.
In die artikel verwys jy na Voelz se mening dat die teks self “in meer as een opsig dubbelsinnig is” (261). Die semantiese reikwydte van sekere woorde, soos mag, goed, kwaad en dienaar, is ’n voorbeeld. Wanneer daar ondersoek ingestel word in die semantiese waarde en betekenis van hierdie woorde, wat is die rol van die ondersoek na die Hebreeuse woorde se semantiese waardes en betekenisse in die oorspronklike tekste by die ontleding van die betekenisse van hierdie Afrikaanse woorde?
Dubbelsinnigheid en die semantiese reikwydte van woorde is van daardie interessante dinge waarmee elke vertaler daagliks te doen het. Afgesien daarvan (soos ons by die vorige vraag gesien het) dat die begrippe in hierdie gedeelte vanself wyd is, lê daaragter ook die oorspronklike Griekse teks. Ons moet onthou dat Paulus se moedertaal waarskynlik Aramees was, maar as goedgeskoolde skrifgeleerde was hy Grieks (waarin hierdie teks oorspronklik geskryf is) baie goed magtig. Begrippe soos owerheid, dienaar en belasting assosieer ons maklik met wat ons vandag daarvan weet, hoewel dit in sy tyd en in die konteks van die Romeinse staatsbestel heeltemal ander nuanses kon gehad het. Daarby is dit altyd ’n uitdaging om die naaste of beste ekwivalent in die ontvangertaal te vind. Sinonieme oorvleuel wel, maar verskil tog ook subtiel. Hierdie uitdaging het tot ’n heel ander soort woordeboek vir Nuwe-Testamentiese Grieks aanleiding gegee, waarin die bekende Jannie Louw van Pretoria ’n leidende rol gespeel het. Saam met Eugene Nida, ’n wêreldbekende vertaalkundige, het hy die Greek-English Lexicon (1988) vir die United Bible Societies saamgestel. In plaas daarvan om die Griekse woorde wat in die Nuwe Testament voorkom, alfabeties te lys (elk met 'n ekwivalent in Engels) het hulle semantiese velde saamgegroepeer. So is byvoorbeeld alle woorde wat met versoening en vergifnis te doen het, saamgegroepeer, houdings en emosies, ens. Vertalers weet maar te goed dat daar tussen bron en vertaling altyd ’n mate van speling bestaan.
Oor die algemeen word daar baie klem daarop gelê dat skrifgedeeltes in die Bybel “in konteks” geïnterpreteer moet word, anders kan ’n skrifgedeelte verkeerd geïnterpreteer word. Hier word daar egter klem gelê op die feit dat daar “grade van onbepaaldheid” is (261) en dat “leserdeelname” dus noodsaaklik is. Dit is veral verwarrend in die konteks van hierdie skrifgedeelte wat so omstrede is. Hoe moet die oningeligte, algemene leser betrokke raak by ’n teks waar daar soveel “oop ruimtes” is?
Dit mag verwarrend klink dat tekste "oop" is en daarom "lesersdeelname" vra. Ons sal graag wil hê dat alle onsekerheid uitgeskakel word en dat daar een, definitiewe interpretasie van ’n teks is. Die artikel wil juis aantoon dat dit nie is wat in die praktyk gebeur nie – dit gaan nie in die eerste plek oor hoe die gedeelte behóórtgelees te word nie, maar hoe lesers dit in werklikheid doen. Dit wil ons dwing om krities te kyk na wat ons doen as ons lees en om redes te gee waarom ons tot ’n bepaalde interpretasie kom. As ons saamstem met die positiewe klem op gesag en die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid, is dit omdat ons self in ’n gesagsposisie is? As ons ongemaklik voel oor die skynbaar absolute klem op gesag, is dit omdat ons ervaar het hoe mag misbruik kan word?
In die artikel verwys jy na die “twee diametraal verskillende interpretasies” van die verband tussen owerhede en God. Een wat “aanspraak maak op die goddelike reg van owerhede om onderwerping en gehoorsaamheid van hul onderdane te eis” en ’n tweede wat “onderwerping aan owerhede voorwaardelik maak van die mate waarin hulle dade teenoor God verantwoord kan word en dus die “goeie” bevorder” (262). Is die een noodwendig positief en die ander negatief, of kan die twee saam werk en beide as positief ervaar word deur die onderdane?
Hierdie twee maniere om die gedeelte te lees (positief of negatief), volg op die vorige antwoord. Op gesigswaarde is Paulus positief oor gesag (dis immers deur God ingestel) en rus daar inderdaad ’n verpligting op die onderdaan om wetsgehoorsaam te wees. Maar wat daarvan as die owerheid sy magte misbruik en onderdanigheid ’n probleem word? Die gedeelte gee self ’n sleutel hoe om so ’n situasie te hanteer. Owerhede mag wel hul gesag van God ontvang, maar dan rus die verpligting op hulle om as dienaars van God op te tree en die goeie te dien. As hulle hierdie roeping versaak en hul mag misbruik, verval die verpligting om gehoorsaam te wees en word burgerlike ongehoorsaamheid ’n praktiese opsie. So gesien, lê hierdie twee lesings in die verlengde van mekaar – hulle kan inderdaad saamwerk en albei positief ervaar word deur die onderdane.
Indien dit eerder gaan oor Paulus wat die “evangelie van liefde” verkondig (soos volgens Tardivel), beteken dit dan dat daar in werklikheid eintlik geen “opdrag” in Romeine 13:1–7 gegee word aan die regering of die owerhede nie? Hoe moet hierdie teksgedeelte dan gelees word?
’n Mens sou wel die hele Romeine-brief as uitgangspunt kon neem en beweer dat Paulus se hoofdoel met hierdie skrywe is om “die evangelie van liefde" te dien. Dit is sekerlik so dat Paulus nie in die eerste plek ’n verhandeling oor kerk en staat of oor die beginsel van burgerlike ongehoorsaamheid wou skryf nie. Hy is besig om die gemeente in Rome voor te berei met die oog op sy voorgenome besoek. In die proses gee hy raad aan gelowiges hoe hulle teenoor ’n (nie-Christelike) owerheid behoort te gedra. Hoewel die houding teenoor gesag dus nie die sentrale punt is nie en hy eerder die voortgang van die evangelie in die oog het, kan sy uitsprake nie sommer onder die kombers van “die evangelie van liefde" toegemaak word nie – dit lyk te veel na 'n verleentheidsoplossing. Ons het hier te doen met 'n klassieke voorbeeld van hoe ’n teks hom nie laat indam of beperk nie. Soos Ricoeur daarop wys, het tekste die eienaardige vermoë om bo hulself uit te styg, om uiteindelik ’n eie lewe te lei. As iets een keer gesê of geskryf is, is die teks nie meer onder beheer van die spreker of die skrywer nie. Kyk maar wat met ’n oorhaastige en ondeurdagte twiet gebeur. Om ’n voorbeeld uit die nieteologiese wêreld te neem: Antigone van Sophokles is in die eerste plek ’n grootse drama oor die liefde van ’n suster teenoor haar broer wat op die slagveld sterf. Sy wil die nodige eer en respek teenoor haar broer betoon, wat ook al haar vader en menslike wette bepaal. Sophokles gee weergaloos uitdrukking aan hierdie tydlose botsing tussen innerlike oortuigings en uiterlike voorskrifte, daarom het die drama vandag nog so ’n trefkrag vir gehore. Hoewel die skrywer sekerlik nie in die eerste plek die verhouding tussen staat en onderdaan in gedagte gehad het nie, kon dit nie voorkom dat Antigone herhaaldelik aangehaal word in debatte oor hierdie en verwante temas nie – soos byvoorbeeld burgerlike ongehoorsaamheid.
Iets soortgelyks het in die uitleggeskiedenis van Romeine 13 gebeur. Eerder as om hierdie ongemaklikheid te probeer omseil, sou dit beter wees om die redes vir hierdie Wirkungsgeschichte te verstaan.
Indien die teksgedeelte as “’n stuk pragmatiese advies” beskou kan word, is die vraag steeds: Hoe word dit as pragmatiese advies geïmplementeer indien daar steeds ’n inherente dubbelsinnigheid is?
Die inherente dubbelsinnigheid – wat in die praktyk tot diametraal verskillende lesings van die gedeelte aanleiding gegee het – behoort ons bewus te maak daarvan dat ons nie maklik by ’n simplistiese of eenlynige uitleg gaan uitkom nie. Maar juis hierdie skynbare teenstrydigheid skerp ons op en daag ons uit om meer noukeurig na die teks te kyk. Die oorweldigende positiewe uitsprake oor die owerheid kan nie ontken word nie – selfs owerhede wat as "ongelowig" beskryf kan word (soos Rome in die tyd van Paulus sekerlik was). Alle gesag kom immers (volgens Paulus) van God. Die "pragmatiese advies" vir gelowiges is dus om ’n basishouding van respek teenoor die owerheid in te neem, om wetsgehoorsame burgers te wees en om belasting te betaal. Dit is egter nie die volle verhaal nie. Juis omdátalle gesag van God kom en die owerheid daarom as dienaar behoort op te tree wat die "goeie" bevorder, word daarmee ’n kritiese maatstaf aangedui wat hierdie verwagte onderwerping aan die owerheid kwalifiseer. Hierdie maatstaf gee aan die gelowige die reg om die optrede van die owerheid krities te beoordeel en waar laasgenoemde sy magte oorskry en sy dienaarsrol verloën, onderwerping aan so ’n owerheid desnoods te heroorweeg. In beginsel sluit dit die moontlikheid van burgerlike ongehoorsaamheid in. Dietrich Bonhoeffer het hieroor onthullend geskryf, soos beide Wynand Fourie en Nadia Marais aandui.
Wat dus by die eerste opslag as wedersyds uitsluitende interpretasies wil voorkom, lê by nadere beskouing in die verlengde van mekaar. Wat wel ontoepaslik is, is om eensydig op een lesing te besluit met uitsluiting van die ander. Die "pragmatiese advies" sou dus wees: Gedra jou sover moontlik as ’n wetsgehoorsame burger, maar onthou dat gesag nooit absoluut is nie – dit bly toetsbaar aan die diensbaarheidsbeginsel. Die moontlikheid van burgerlike ongehoorsaamheid bly oop, maar jy moet deeglik bewus wees van die konsekwensies wat dit inhou as jy hierdie pad sou kies.
So beskou, hou die feit dat ons in Romeine 13 met ’n "oop" teks te doen het, meer voordele as nadele in. Dit bevorder ’n meer genuanseerde lees wat aan die een kant die belang van ’n geordende samelewing, en daarom van wetsgehoorsaamheid, ten volle erken, maar aan die ander kant mag nooit verabsoluteer nie en die owerheid gevolglik nie slaafs en onkrities navolg nie.
Hoe word hierdie teksgedeelte se riglyne versoen met Aristoteles se deugde-etiek?
Dit is Disbrey (2008) wat hierdie teks as 'n voorbeeld van deugde-etiek beskou – ’n konsep wat gewoonlik na Aristoteles teruggevoer word. Hoewel ek nie ’n kenner van Aristoteles is nie, het sy etiek wel ’n sterk pragmatiese inslag wat klem op basiese deugde lê. Die "deugdelike mens" is iemand wat uit innerlike oortuiging weet hoe om die regte ding op die regte tyd en op die regte wyse te doen. Daar is ongetwyfeld raakvlakke met die raad wat Paulus aan die Romeine gee hoe om verstandig teenoor die owerhede op te tree.
Dit is juis hierdie mate van oorvleueling in basiese waardes wat ’n belangrike waarheid inhou vir mense (soos hier in Suid-Afrika, maar ook in baie ander lande) wat in ’n multikulturele en multireligieuse samelewing probeer om met mekaar saam te leef en om ’n nasionale samehorigheid te bou. Dikwels word getwyfel of nasionale eenheid ooit bereik sal word – om nie eers van gedeelde waardes te praat nie. Wanneer polarisasie nog verder religieus gemotiveer word (selfmoordaanvalle in die naam van Allah, of Donald Trump wat Moslems uit Amerika wil weer), word die saak nog meer uitsigloos. Wat misgekyk word, is die mate waarin dieselfde basiese waardes deur verskillende religieuse tradisies en deur uiteenlopende kulture gedeel word. Karen Armstrong het baanbrekerswerk in hierdie opsig verrig wat die etiese raakvlakke tussen Christendom, Jodedom en Islam betref. En as Paulus se raad in Romeine baie gemeen het met Aristoteles se deugde-etiek, kan dit net ’n bate wees. Oorvleueling in etiese praktyk moet verwelkom word, hoewel die etiese motivering wesenlik mag verskil. In die geval van Romeine word die eerbied teenoor die owerheid en goeie burgerskap gemotiveer deur die feit dat hierdie owerhede in die laaste instansie deur God ingestel is – wat nie sou wees hoe Aristoteles dit sou doen nie. As dieselfde deugde en dieselfde verstandige optrede op verskillende beginsels of geloofsoortuigings berus, kan dit in die praktyk die samelewing en sosiale verbondenheid net versterk.
Jy verwys na Du Toit (1995:323–4) se siening dat Paulus moontlik ’n langtermynstrategie op die oog gehad het met hierdie teksgedeelte: “deur nie die aandag op hulleself [gelowiges] te vestig nie (byvoorbeeld deur dade van burgerlike ongehoorsaamheid) word ruimte geskep om die kerk se eintlike roeping uit te voer, naamlik om die evangelie uit te brei”. Sou die debatte rondom hierdie teksgedeelte minder wees indien meer gelowiges hierdie perspektief sou insien?
Hierdie vraag is tot ’n mate reeds hier bo beantwoord. Net om saam te vat: die houding van die gelowige teenoor die owerheid is sekerlik nie die hooffokus van die brief nie. Du Toit is heel moontlik reg dat Paulus se belangrikste oogmerk is om die evangelie uit te brei en daarom die mees gunstige omstandighede daarvoor wil skep. Om vir die verkeerde redes met die owerhede te bots sal nie hierdie doel dien nie. Gelowiges moet eerder ’n reputasie as wetsgehoorsame burgers opbou. (Ons moet onthou dat as God as die hoogte gesag erken word, dit maklik daartoe kan lei dat gelowiges nie "wêreldlike" owerhede sal wil erken nie.)
Hierdie perspektief mag daartoe bydra om die debatte rondom Romeine 13 te verminder. Of dit alle kontroversie sal uitskakel, is egter onwaarskynlik. Soos ons hier bo gesien het, begin ’n teks ’n eie lewe te voer sodra dit die pen van die skrywer verlaat – ’n lewe wat soms in onverwagte rigtings lei. En boonop: Hoekom sou ons niéna aanleiding van hierdie gedeelte oor ons houding teenoor gesag en ons optrede teenoor die owerheid nadink nie?
Nadia Marais vra in haar reaksie op die artikel: “Is dit nie dalk veiliger om, in die lig van al hierdie gevare, die teksgedeelte bloot weg te gooi – of dalk net te ignoreer, toe te skryf aan ’n tyd lank verby, en maar jou eie kop oor sake soos mag, gesag en owerhede te volg nie?” Wat is jou mening oor hierdie stelling en, meer spesifiek, die idee om hierdie teksgedeelte net “bloot weg te gooi”?
Nadia Marais se versugting om "hierdie teksgedeelte bloot weg te gooi" is nie die eerste poging om dit uit te skakel nie. In die artikel is verwys na voortgesette pogings van byvoorbeeld Hoover, Ho, Cassidy en Bernstein om Romeine 13 as oneg te verklaar of as ’n latere invoeging af te skryf. Dit is egter – gegee die manuskripgeskiedenis van Romeine – ’n te maklike uitweg om van ’n lastige gedeelte ontslae te raak.
Maar die grond van Nadia se besware lê veel dieper en kan nie ligtelik afgemaak word nie. Eeue van magsmisbruik het ’n diepgewortelde wantroue in alle vorme van gesagstrukture gevestig wat dit haas onmoontlik maak om positief teenoor gesag ingestel te wees. Sy toon aan dat dit op vroue in ’n dubbele mate van toepassing is. Vir hulle geld die bykomende faktor dat gesag en dominasie gewoonlik ’n genderdimensie inhou in die wyse waarop mans teenoor vroue optree – dikwels binne ’n patriargale raamwerk of op ’n chauvinistiese wyse.
Dit sou aanmatigend van my wees om voor te gee dat ek verstaan wat vroue deur die eeue heen onder verdrukkende gesagstrukture gely het – en steeds ervaar. Vir Nadia gaan dit nie slegs om inhoudelike oorwegings nie, maar ook om die retoriek wat daarmee gepaard gaan. ’n Voorbeeld hiervan is die bevelende aard van die "moet"-taal wat Paulus in Romeine 13 gebruik. "’n Mens 'moet' tog sekerliks niks nie, veral nie wat betref gehoorsaamheid aan die owerhede nie!" sê sy en verwys na die argument van Sarodjini Nadar dat retoriek wat gehoorsaamheid en onderwerping vereis (soos in die geval van vrouens wat hulle mans gehoorsaam moet wees omdat mans die hoof van die huishouding is) binne ongelyke magsverhoudings tot geweld kan lei.
Voor ons te gou dink dat dit ’n verdraaiing van die duidelike betekenis van die teks beteken, is dit goed om ons te herinner wat ons reeds met ’n teks soos Levitikus 20:10 gedoen het: “Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ’n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg." Baie min lesers verstaan hierdie "moet" as ’n letterlike opdrag om egbrekers dood te maak.
Die herlees van ’n teks in veranderde tye dui egter op ’n ander belangrike aspek van historiese dokumente, naamlik hul latente vermoë om in veranderde omstandighede nuwe betekenismoontlikhede na vore te bring. Tekste is produkte van hul (ontstaans)tyd wat dikwels nie aan die voorveronderstellings en waardestelsels van daardie tyd kan ontsnap nie. Die patriargale en manlik-gedomineerde kulturele konteks van die Ou Testament en groot dele van die Nuwe Testament is duidelik sigbaar op baie plekke. ’n Voorbeeld is Paulus se siening van die posisie van vroue – in Korintiërs verwag hy onderdanigheid van hulle teenoor hul mans in ooreenstemming met die kulturele gebruike van sy dag. Maar dit is die evangelie self wat hierin ’n verandering bring. Soos ek elders probeer aantoon het, het die ontdekking dat geloof die enigste voorwaarde is om aan die geloofsgemeenskap te behoort (en nie lidmaatskap van die Joodse volk of onderhouding van die wet nie), radikale implikasies vir Paulus gehad het. Hy formuleer hierdie insig op klassieke wyse in Galasiërs 3:28: "Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één."
Die eerste insluiting (Jood en Griek) het reeds in Paulus se tyd werklikheid geword; die tweede (slaaf en vrye) het eers met die vrystelling van slawe in die loop van die 18de eeue algemeen geword; terwyl gelykberegtiging tussen man en vrou vandag wel wetlike beslag gekry het, maar diskriminasie teen vroue nog in vele vorme voortduur. Daar bly dus ’n diskrepansie tussen Galasiërs en Korintiërs ten opsigte van die posisie van vroue – dis asof Paulus die volle konsekwensies van die een nog nie tot die ander deurgetrek het nie.
Hier het ons ’n goeie voorbeeld van hoe die inherente potensiaal van ’n teks deur latere lesers gerealiseer of "bevry" moet word. Nadia se oproep om met verbeelding te lees en rusteloos te bly soek na "’n wêreld waarin alle mense ’n vol en menswaardige lewe kan leef" is dus in die kol. Wynand Fourie gee in sy reaksie goeie voorbeelde van hoe so ’n voortgaande leesproses in sowel Namibië as Suid-Afrika sou kon verloop.
Wanneer ’n diepgewortelde agterdog teen alle vorme van gesag die vertrekpunt is, verskuif die fokus van die leesproses. Die klem is nie meer op die misbruik van mag nie, maar op hoe die orde wat noodsaaklik vir ’n goed-funksionerende samelewing is, dan wel bereik kan word. Nadia se verwysing na die grondwaardes van die Grondwet dui die regte rigting aan, maar sê nog nie veel hoe ’n "nie-onderdrukkende" staatsbestel in die praktyk bereik kan word nie.
Lees ook:
Uit die argief: ’n Verskuiwing na ’n oper en meer “pragmatiese” lees van Romeine 13:1–7?
Bernard Lategan "Romeine 13:1–7 is bekend – of berug – as een van die teksgedeeltes waarvan die uitleg nog altyd omstrede was. Die kernvrae waarom dit hier gaan, is goed bekend: Hoe kan Paulus so ongekwalifiseerd positief wees ten opsigte van gesag?" |
Uit die argief: Die probleem van mag, gesag en owerhede: Romeine 13 en 21ste-eeuse lesers
Nadia Marais "’n Mens 'moet' tog sekerlik niks nie, veral nie wat betref gehoorsaamheid aan owerhede nie!" |
Uit die argief: Romeine 13:1–7: ’n Steekproef van die dinamiese verhouding tussen teks en konteks
Wynand Fourie "Nie net is dit broodnodig nie, dit is ook uiters verantwoordelike akademiese rentmeesterskap wanneer die Bybel gelees word op die verskillende maniere waarvan die 'pragmatiese' lees getuig." |
The post Die geval van Romeine 13:1–7: Carien Smith gesels met Bernard Lategan appeared first on LitNet.