Noem my Jan Gaai soos ek horings, stert en ’n braaivurk deur my eie poephol tuimel. Dit gebeur té gereeld, hierdie realiteit as ’n proses van vervreemding eerder as ’n skynheilige wanbetaling ter oorlewing. Op hierdie tydstip se kontinuum van onderskeidings in honger, versadig en oorversadig oortuig meer monde my minder male dat ek doodgaan van die honger terwyl ek agter die lekker moet aanhou eet. Die roekelose reklame van hierdie subliminale kriminele se denke spring soos vlooie.
Onder my vernaamste voorsate tel ’n ene Jan Braai. Volksbesnit, ek sê! Verskoon hom sy voorbarige uitstort van braaisouse en so, ek is immers sy gevolg. My enigste nasaat tot op hede heet Jan Slaai, verskoon hom ook tog asseblief sy beperkte begrip, ag jy weet, klein brein.
Eers lees ek dat dit ongeveer 25 000 tot 50 000 liter water verg om 0,5 kg vleis te produseer. Toe lees ek dat minder as ’n 100g vleis per persoon per dag nie net die nuwe mediese maatstaf vir ’n gesonde karnivoriese lewe is nie maar dat dit ook ’n volhoubaar planetêre toekoms verseker. Lank terug het ek ook gelees dat die vraag na weiding gruwelike deforestasie (ontbossing) tot gevolg het. Dit alleen laat vele vrae! Is 25 000 tot 50 000 liter water verreken in 0,5 kg beesvleis teen R38? Is 99,99g vleis per dag minder as? Het alle Vleiseterye reeds hulle spyskaarte proporsioneel gewysig en waarskuwings en boetes aangebring indien ’n geregte individu sy of haar ten goede gedeelte oorskry? Lees my mediese fonds of die Minister van gesondheid hierdie? Is die Bybelse taboe oor vark omrede elke peusel my lewe met ongeveer dertig minute verkort? Tot watter uithoeke van my leefruimte sal ek myself moet wend om ’n totaal van twintig vriende, kennisse of verlangse aangetroudes byeen te kry vir die help eet indien ek weer ’n 1,99 kg hoender braai?
In die verlede het ek my bestaan as ekologies verantwoordbaar beskou. Teen die angs het ek myself bekwaam in die kweek van derduisende bome eerder as reisgids speel vir deurtrappers terwyl woude slink. Ek het lekkerbreek en witpeer in volume tot die mark gebring vir die verbruik van ’n hoër kultuur. Ek het selfs die eerste generasie van berghardepeer se moedervoorraad gevestig. Dit was ’n futiele troos. Die kwekery in die botaniese tuin waar al daardie klassieke konserte gehou word op Sondae het noodgedwonge die boeke laat klop met die verkoop van roomyse. Die eienaars het vlugtig ook sop in die winter oorweeg maar besluit om, ek weet nie, eerder afrikanertjies oor ’n oop graf te strooi?
Hier sit ek, Jan Gaai, die enigste geletterde wil dit blyk, en slaan ’n dampie in die glaskas met die extractor fan in afwagting op my 99,99g kruisskyf en my kwart pint bier met Liszt in die agtergrond en ek wonder: is alles windskeef wete soos die waterpas parallakse van gronddom-vuurgevrete?
The post Backseat braaier appeared first on LitNet.