“Ek droom van die dag dat ek die woordeboek oopmaak by die woord verkragting en dan staan daar langsaan 'argaïsme'.” Met hierdie standpunt het Martin Steyn applous ontvang van die groot groep mense wat in die ATKV-Boektent kom luister het na een van die laaste gesprekke van die US Woordfees wat op 12 Maart om 15:30 gehou is.
Tog was nie almal tevrede nie. Sowat vyftig minute later het ’n vrou die bal hard teruggeslaan tydens vraetyd: “Watse moraliteit is daar by die skryf van misdaadfiksie?” Dié vraag het sy voor die deur van die twee fiksieskrywers gelê. Vier van LAPA uitgewers se skrywers het opgetree, twee van fiksie en twee van niefiksie.
Die vraer wou bepaald weet of die skryf oor misdaad, soos Henk Breytenbach en Martin Steyn dit doen, nie onverantwoordelik is nie? Sy het daarop gewys dat Riette Rust en Carla van der Spuy gewoon feite weergee en dat hulle praat oor misdade wat gewoonlik reeds deur die hof gestraf is. Die fiksieskrywer beskryf dikwels die misdaad sonder dat ’n hof noodwendig daaroor uitspraak gee.
Henk se antwoord was dat daar in misdaadfiksie juis ’n soeke na geregtigheid is. Die rede waarom mense misdaadfiksie koop, is omdat die leser en die skrywer saam moet soek na maniere om die skuldige aan die pen te laat ry.
Martin se antwoord was dat almal van ons ’n donker kant het. Dit is goed om met die donkerte in onsself om te gaan, soos deur die lees van fiksie, want so verwerk ons dit wat ons ontstig. Martin het ook gesê dat vroue in Suid-Afrika veel eerder deur ’n persoon naby haar vermoor sal word as deur ’n vreemde. Ons moet hieroor praat, sê hy.
Is die grense wat jy nie mag oorsteek nie dieselfde vir skrywers van niefiksie en fiksie? Dit is een van die vrae waarmee die paneel geworstel het. Uiteindelik sou die leser self moet bepaal. Tog, die leser stel belang en wanneer die situasie daarvoor vra, kan ’n mens ’n leser inneem in die disseksiesaal – of dit feit of fiksie is. Jy kan vreemde, kru situasies deel met die leser, mits die konteks reg is. Al vier skrywers het ook genoem dat humor belangrik is. Riette haal byvoorbeeld die twee sussies aan oor wie Vlees en bloed gaan. Hulle ruim misdaadtonele op. Een het vir haar gesê: “Soms is die maaiers so groot soos worshonde. As ons gaan slaap sit ons sommer die TV vir hulle aan.”
Riette en Carla moes heelwat navorsing doen om hulle stories te skryf. Carla het byvoorbeeld heelwat tyd in verskillende tronke deurgebring om met veroordeelde misdadigers te gesels. Riette moes vele onderhoude met die twee sussies en hulle werknemers voer, maar het verder gegaan en het met akademici en ander kenners oor elke situasie gesels om meer inligting aan die leser te bied. Henk se navorsing het hom weer in die onderwêreld van die apartheidseraveiligheidsmagte ingeneem, terwyl Martin Steyn ure met polisielede gesels het en ook ’n outopsie gaan bywoon het om dit in detail te kon beskryf.
Al vier skrywers het lof gehad vir die polisie en die verwante veiligheidsdienste, hoewel Henk verduidelik het dat die politieke invloed op die polisie dikwels baie negatief is. Martin, veral, het gesê dit is opvallend hoeveel toegewyde polisiemanne daar wel nog in ons polisiediens is.
Riette Rust is die skrywer van Vlees en bloed, wat ook in Engels beskikbaar is.
Carla van der Spuy het Mens of monster en Bloed op haar hande geskryf. Albei is ook in Engels beskikbaar.
Henk Breytenbach is die skrywer van Kodenaam Icarus.
Martin Steyn se romans heet Donker spoor en Skuldig.
Al hierdie boeke is deur LAPA uitgegee.
The post US Woordfees 2016: Die skrywer as morele agent - feit of fiksie? appeared first on LitNet.