Hoe skryf ’n ma oor die trauma wat haar kind beleef? Is dit ’n manier om sin te gee aan jou kind se lewe en jou eie struweling?
Madri Victor het dié vrae gestel aan Marga van Rooy, die medeskrywer van Marga & Henriëtte, in die skadu van skisofrenie (LAPA), Juliana Coetzer, die skrywer van Bloedvreemd (Jonathan Ball) en Douwleen Bredenhann wat ʼn Hemelhoë hekkie (Tafelberg) geskryf het. Die gesprek het op 7 Maart om 15:30 by die US Woordfees plaasgevind.
Marga van Rooy se dogter, Henriëtte Boot, is pas ná matriek met skisofrenie gediagnoseer. Henriëtte was bewus van haar siekte en het baie hard saam met die dokters gewerk. Vandag woon sy in ’n veilige huis waar haar siekte gemonitor kan word, maar sy het ’n werk en sy kon meedoen aan die skryf van die boek. Marga het dus sekere dele geskryf, en Henriëtte ander.
Henriëtte was onkreukbaar eerlik en dit het Marga soms ontstel, maar tog vind albei dat hulle verhouding nou, ná die skryf van die boek, veel beter is as tevore.
Douwleen Bredenhann se dogter is vermoor. Tot vandag weet sy nie hoekom nie. Die moordenaar is vasgetrek, maar haar dogter is steeds weg.
Juliana Coetzer se dogter het weer die herpesvirus gekry wat haar brein aangetas het.
Al drie vroue het gesels oor die trauma wat hulle en hul gesinne ervaar het. Die rouproses is bespreek, asook die feit dat die skryfproses in al drie gevalle weer ou rowe oopgekrap met.
Al drie skrywers sê dit was nodig om hul pyn met ander te deel, want daar is talle mense daarbuite wat ook deur trauma geraak word; die lesers moet weet hulle is nie alleen nie.
Die saal was stampvol. Ekstra sitplekke moes ingedra word.
The post US Woordfees 2016: My kind, my memoire appeared first on LitNet.