Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

US Woordfees: God is 'n metafoor

$
0
0

Hy het finaal weggestap van die gedagte dat God ’n persoonlike wese is, het die filosoof Wille Esterhuyse tydens die bespreking van sy jongste boek, Geagte Jahwe, by die US Woordfees gesê.

“Ek kan nie werk met die idee van ’n skeppergod wat toelaat dat die wêreld lyk soos wat hy lyk nie.”

Vir hom is “God” ’n metafoor, maar ’n baie belangrike metafoor. God kan nie verantwoordelik gehou word vir die goed en die kwaad wat in die wêreld gebeur nie. Die mens is self daarvoor verantwoordelik.

“As mens kyk na die enorme wreedhede waarmee daar regdeur die geskiedenis oorlog gevoer is en hoe Moslems en Christene mekaar al uitgemoor het, móét ek my afvra hoe kan dit wees as ons sê dit is God se wil.”

In sy gesprek met Chris Jones sê Esterhuyse hy dink ook nie mens het ’n kerk nodig om gelowig of spiritueel te wees nie.

Godsdiens het volgens hom wel ’n deurslaggewende rol gespeel in die mensdom se morele verbreding. Daar is egter ook van die wreedste en onmenslikste dade gepleeg in die naam van God.

Behalwe godsdiens is daar ook ander tradisies, soos die humanistiese tradisie en die liberale tradisie, wat tot morele waardes bygedra het.

Hy self kies ten gunste van ’n Christelik-geankerde waardestelsel. “My kritiek daarteen is wanneer mense se waardestelsel van so ’n aard is dat dit ander mense se regte ondermyn.”

Daar moet gestreef word na ’n kultuur van verdraagsaamheid.

Die Bybel bly vir hom ’n belangrike boek, maar géén teks as sodanig is heilig nie. So is die Bybel ook net ’n boek met verhale. Daar is ook ander heilige boeke, soos die Koran.

jahwe650

Vir Esterhuyse is die teks wel heilig, omdat daar baie dinge in die teks is wat mens kan gebruik om van die wêreld ’n beter plek te maak. Hy glo ook nie die Nuwe Testament is die vervulling van die Ou Testament nie. Dit is eerder ’n korreksie op die Ou Testament.

Hy lees die Ou Testament anders as toe hy jonk was. Dit is vol geykte maniere van dink oor etiek in antieke tye.

Of Jesus nou uit ’n maagd gebore is of nie, maak nie vir hom saak nie. “Daar is baie verwysings in die geskiedenis na maagdelike geboortes. Dit het ’n groot rol gespeel in die antieke tye toe daar anders gedink is oor die seksuele.”

Wanneer daar van Jesus gepraat word as Seun van God, sien hy dit as ’n metafoor, want daar was nie ’n goddelike geboorte nie.

Jesus se boodskap gryp hom wel aan en hy identifiseer ten volle daarmee. “Jesus se etiek was ’n etiek van omgee en ’n afwysing van die Joods-ortodokse manier van dink oor moraliteit.”

Esterhuyse sê hy is nie geïnteresseerd in die hiernamaals nie. Sy verbondenheid aan Jesus se boodskap is om van die hiérmaals op aarde ’n beter plek te maak. Jesus is vir hom onsterflik omdat sy boodskap onsterflik is. “Paulus leef ook vir my, al was hy soms ’n lastige figuur en ietwat kwasterig.”

Tydens vraetyd wou iemand by Esterhuyse weet hoe moet mens dan bid om al die wreedhede wat in die wêreld plaasvind te beëindig as God ’n metafoor is. Esterhuyse sê vir hom is gebed ’n manier om te besin oor die lewe. Mens kan dit nie gebruik om die gang van die natuur te verander nie. Daardie dinge gebeur vanself.

The post US Woordfees: God is 'n metafoor appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>