Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
“Johann Beukes, ‘n bekende Bloemfonteinse argitek, sakeman en reisagent, is op Maandag 14 September 2015 in ‘n kliniek in Zürich, Switserland, oorlede. Hy was 66 jaar oud.”
Só lui die eerste paragraaf van ‘n persverklaring deur ‘n ander bekende Bloemfonteiner, Albé Grobbelaar, gedurende 2015 se vroeë lente. Grobbelaar was ‘n nabyvriend van die oorledene en sy familie.
Wat egter op die eerste paragraaf van Grobbelaar se oënskynlik roetine-aankondiging gevolg het, het die land aan die gons gehad:
Johann het met die hulp van die Switserse Dignitas-organisasie sy eie lewe beëindig. Dignitas verleen onder streng voorwaardes hulp aan mense om genade-selfdood (eutanasie) toe te pas. Hierdie hulp is onderhewig aan ‘n uitvoerige keuringsproses en is gerig op persone wat aan ‘n terminale siekte of erge fisiese gebreke met gepaardgaande pyn ly.
Johann het ‘n rare en uiters pynlike siektetoestand gehad waarvan die hoofkenmerk is dat die kraakbeen tussen gewrigte teen ‘n onvoorspelbare tempo verweer. Hy het sedert sy kinderdae meer as dertig operasies ondergaan, wat verskeie ingrypende rugoperasies ingesluit het. Hy het op 31-jarige ouderdom reeds bi-laterale [sic] heupvervangings, gevolg deur skouers, enkels en handgewrig-vervangings gehad. Hy was toenemend in konstante pyn wat nie met medikasie beheer kon word nie.
Vroeër in 2015 het ‘n uitspraak van regter Fabricius van die Noord-Gautengse hooggeregshof ook opspraak gewek.[i] Dit het gevolg op ‘n dringende aansoek deur ‘n advokaat, Robin Stransham-Ford, dat ‘n mediese dokter toegelaat moet word om hom vrywillig en – belangrik – straffeloos op ‘n waardige wyse uit sy ongeneeslike, uitmergelende, mensonterende fase 4-kankerlyding te verlos – hetsy by wyse van die toediening van ‘n dodelike middel of deur die verskaffing van sodanige middel aan Stransham-Ford sodat hy dit eiehandig kon toedien. In wese was dit dus ‘n aansoek dat genadedood (eutanasie, wil dit my voorkom, is die verkieslike term) hom vergun mag word.
Dit is belangrik om daarop te wys dat Stransham-Ford ‘n hoogs gekwalifiseerde juris was; dat hy ’n volledige insig in sy siekte en die swak prognose vir herstel gehad het, en dat hy ten tye van die aansoek by sy volle positiewe was.
Op 25 April 2015 – ‘n paar dae voor sy dood – het 'n artikel oor hom in Rapport verskyn toe die gesoute joernalis, Hanlie Retief, se onderhoud met hom gepubliseer is.
Regter Fabricius het op 30 April 2015 – aan die einde van ‘n twee dae lange hofbetoog deur ‘n indrukwekkende paneel regsgeleerdes – die regshulp waarvoor Stransham-Ford gevra het, toegestaan. Die regter was onbewus daarvan dat die applikant daardie selfde oggend – ongeveer twee uur voordat die bevel verleen is – op ‘n natuurlike wyse aan sy einde gekom het. Nietemin het die regter ‘n paar dae later, op 5 Mei 2015, in ‘n uitspraak van 51 bladsye sy redes vir die bevel van ‘n paar dae vantevore gegee. Die regter se uitspraak is oplaas dus slegs maar van akademiese belang; dit had immers geen praktiese betekenis meer nie. Nietemin: dit is ‘n dapper, onverskrokke en weldeurdagte baanbrekeruitspraak.
Die regter begin deur daarop te wys dat hy hom in ‘n onbenydenswaardige posisie bevind het: as enkelregter moes hy op ‘n dringende basis uitspraak lewer oor talle regs-, etiese en morele kwessies wat eintlik die taak van die wetgewer – en, oplaas, die konstitusionele hof – behoort te wees. Ek sal dalk by ‘n latere geleentheid meer breedvoerig oor hierdie belangwekkende uitspraak skryf. Vir die huidige is dit voldoende om op die volgende belangrike aspekte daarvan te wys:
- Volgens die Suid-Afrikaanse gemenereg is aktiewe genadedood, asook die verlening van bystand aan iemand wat selfdoding wil toepas, steeds onregmatig. Dit kan, na gelang van omstandighede, óf die misdryf moord óf die misdryf strafbare manslag daarstel.
- Die Handves van Regte in die Grondwet erken dat elke mens ‘n ingebore waardigheid het. Elke mens het ook die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word. Die regter lê deurgaans in sy uitspraak besondere klem op hierdie bepaling in die Handves.
- Daar rus ‘n grondwetlike verpligting op ons howe om gevolg te gee aan die regte wat in die Handves van Regte verleen word. Die howe het daarby ‘n verpligting om die gemenereg toe te pas en, indien nodig, te ontwikkel wanneer wetgewing of die gemenereg nie voldoende gevolg gee aan die regte wat in die Handves van Regte verleen word nie. Dit was ‘n sleutelpunt in die regter se uitspraak.
- Die regter haal ‘n frase uit ‘n uitspraak van die VSA se hoogste hof (die Supreme Court) aan waarin beslis is dat “dying is part of life, its completion rather than its opposite. We can, however, influence the manner in which we come to terms with our mortality.” (Cruzan v Director, Missouri Department of Health et al 497 US 261 (1990) op bl 343)
- Die regter wys op die teenstrydigheid dat dit in ons reg volkome aanvaarbaar is vir ‘n mediese praktisyn om onder bepaalde omstandighede – met ander woorde, waar daar medies gesproke geen hoop meer vir ‘n pasiënt is nie – toestemming te gee dat lewensondersteunende apparaat afgeskakel kan word, wetende dat dit die pasiënt se dood sal beteken. “Is dit nie ‘n goeie voorbeeld van dolus eventualis nie?” wou die regter weet.
- Met verwysing na ‘n 16 jaar oue verslag van die Suid-Afrikaanse Regskommissie oor die kwessie van eutanasie (waarvan daar sedertdien niks gekom het nie), maak die regter die volgende treffende en oortuigende opmerkings:
It is noticeable, unfortunate and disturbing that from a philosophical ... and a jurisprudential point of view ... societies in various parts of the world acquiesce in thousands of deaths caused by weapons of mass destruction. They seem to even tolerate a horrendous murder rate in a number of countries, including ours. They seem to tolerate the yearly slaughter on our roads because despite the statistics, thousands of people drive like lunatics on our roads every single day. People die of Aids, from malaria by the hundreds of thousands, from hunger, from malnutrition and impure water and insufficient medical facilities. The state says that it cannot afford to fulfil all socioeconomic demands, but it assumes the power to tell an educated individual of sound mind who is gravely ill and about to die that he must suffer the indignity of the severe pain, and is not allowed to die in a dignified, quiet manner with the assistance of a medical practitioner.
In die verlening van die regshulp aan Stransham-Ford het die regter beklemtoon dat sy bevel slegs op die applikant persoonlik betrekking gehad het; dit verleen, met ander woorde, nie as’t ware ‘n “lisensie” aan dokters om pasiënte met soortgelyke versoeke by te staan nie.
Ná regter Fabricius se uitspraak het die Departement van Justisie hom genader om, in die lig daarvan dat die applikant reeds aan natuurlike oorsake oorlede is voordat die uitspraak gelewer is, die uitspraak ter syde te stel. Die regter het geweier en daarop gewys dat die Departement aansoek kon doen om verlof om daarteen te appelleer – ‘n aansoek wat hy, luidens ‘n persberig,[ii] simpatiek sou oorweeg. Klaarblyklik was die regter begerig dat die aangeleentheid oplaas voor die konstitusionele hof bereg moes word. Sover ek kon vasstel, het die Departement van Justisie en die ander partye betrokke by die Stransham-Ford-aansoek, die aangeleentheid egter nie verder gevoer nie. Dit is nogal jammer.
‘n Mens kan dus – terug na die verhaal waarmee ek hier bo begin het – begryp dat toe Johann Beukes in September 2015 sy vrou, kinders, kleinkinders en intieme vriende gegroet het voordat hy ‘n laaste vlug na Switserland gehaal het, die Suid-Afrikaanse regsposisie mbt eutanasie steeds te onseker was ten einde sy wens in sy vaderland tot vervulling te probeer bring. By herhaling: ongelukkig het daar sedert regter Fabricius se manmoedige uitspraak van 5 Mei 2015 nog nie groter klarigheid hieroor gekom nie.
Terwyl aktiewe eutanasie en bystand by selfdoding dus steeds in ons reg onregmatig is, is dit tog verblydend dat ons howe in die gryse verlede al sulke voorvalle met groot empatie bejeën het. Een so 'n saak is Staat v Hartmann.[iii] Die beskuldigde was 'n mediese praktisyn wie se vader op sterwe gelê het aan kanker. Die 87-jarige vader het 'n onbeskryflike lyding gehad. Enkele ure voordat hy waarskynlik in elk geval sou gesterf het, het sy geneesheer-seun aan hom 'n dodelike dosis van 'n narkosemiddel toegedien, wat hom enkele sekondes later laat sterf het. Dr Hartmann is daarna van moord aangekla.
In sy uitspraak op 21 Maart 1975 wys regter Van Winsen daarop dat die beskuldigde se handeling in die omgangstaal as "genadedood" bekend staan. Die reg erken egter nie genadedood as 'n regverdigingsgrond nie – 'n standpunt wat tóé al as onnodig streng en ongevoelig gekritiseer is, veral met verwysing na die dilemma waarin 'n geneesheer, soos dr Hartmann, hom soms kan bevind.
Aan die ander kant, het regter Winsen gesê, is daar die siening dat genadedood tot wanpraktyke kan lei wat die gemeenskap skade kan berokken. Kortom, dit is 'n onderwerp met baie morele, etiese en godsdienstige implikasies. Die regter het beklemtoon dat hy nie die bevoegdheid het om die bestaande reg te wysig nie. Slegs die parlement kon dit indertyd doen. (Vandag het die konstitusionele hof egter die finale bevoegdheid om dit te doen.)
Die hof het dus geen ander keuse gehad nie as om dr Hartmann aan moord skuldig te bevind.
Moord was toe nog 'n sogenaamde halsmisdaad. Destyds was ons howe nog verplig om by skuldigbevinding aan moord die doodstraf op te lê, tensy die hof versagtende omstandighede kon bevind. Regter Van Winsen ontleed die getuienis versigtig en verwys weer na die etiese dilemma van 'n geneesheer in sulke omstandighede: Moet hy tot elke prys die sterwende aan die lewe hou, of moet hy hom van sy lyding verlos? Daar was geen getuienis dat dr Hartmann enige ander oorwegings as slegs die beste belange van sy pasiënt op die hart gedra het nie. Die regter bevind dus versagtende omstandighede, en gaan vervolgens oor om te beslis wat onder die omstandighede 'n gepaste vonnis sou wees.
Vonnisoplegging is soms die moeilikste stadium in 'n verhoor, want die regter of landdros moet verskillende belange in ag neem en nie die een oor- en die ander onderbeklemtoon nie. In dié verband haal die hof appèlregter Holmes se gevleuelde woorde aan: "Punishment should fit the criminal as well as the crime, be fair to the accused and society and be blended with a measure of mercy."[iv]
Die regter vonnis dr Hartmann uiteindelik tot 'n jaar gevangenisstraf, en omdat dit destyds nie moontlik was om 'n vonnis weens moord volledig op te skort nie, beveel hy dat die dokter in hegtenis gehou word totdat die hof verdaag. Die res van sy gevangenisstraf van een jaar is vir 'n jaar opgeskort.
[i] 2015(4) SA 50 (GP)
[ii] IOL News, “Why I ruled in favour of assisted death”, 5 Mei 2015
[iii] 1975(3) SA 532 (KPA). Vgl ook S v Nkwanyana 2003 (1) SA 303 (W)
[iv] S v V, 1972(3) SA 611 (AA)
The post Regsalmanak: Oor eutanasie ("genadedood") appeared first on LitNet.