Wanneer ’n mens na Cass Abrahams sit en luister, voel dit of jy ’n lewende kosensiklopedie ontmoet het. Sy verstaan die chemie, die geskiedenis en die kulturele agtergrond van elke dis; ook die samehang van kruie en speserye, alles kom ter sprake.
Marike Bekker het op 9 Maart om 17:00 by die US Woordfees met Cass Abrahams gesels oor haar lewe, haar liefde vir kos en die paaie waarop dit haar laat loop het.
Cass se storie, aanmekaargesit deur Marika Bekker, het vroeër vanjaar verskyn. ’n Lewe met kos, uitgegee deur LAPA, is inderdaad ’n storieboek. Daar is baie resepte, maar daar is veel meer. Dit is ’n boek vir lees in die bed.
Die boek is ook in Engels beskikbaar as A life with food.
Ons leer Cass ken as dogter van ’n onderwyser wat sy werk verloor. Hulle bly dan in bitter moeilike omstandighede, maar Cass is slim en doen goed in die skool. Sy word raakgesien en kry ’n beurs na ’n Katolieke skool. Van hier gaan sy na Engeland om verder te studeer en leer die feminisme ken.
In Suid-Afrika gaan sy verder studeer aan die UWK en daag die eerste dag op in ’n ketelpak van denim, met ’n pyp in haar mond. Dit ontstel die owerhede so dat sy ingeroep en deur die hoof ingelig word dat dames aan die UWK rokke sal dra en altyd ’n skoen met ’n hak.
Cass word uiteindelik aangestel by Tastic as ’n huishoudkundige en so word sy bekend.
Marike het aan Cass gevra hoekom sy, wat eintlik Engels grootgeword het, deesdae so gemaklik met Afrikaans omgaan.
Cass sê toe dat die apartheidbeleid ten spyt, sy altyd goed met Afrikaanse mense oor die weggekom het. Een voorbeeld uit die dae van Groot Apartheid was toe ene Sannie Smit van die Vleisraad vir Cass genooi het om in haar eie huis te kom kook – Cass wat bruin was sou nie noodwendig in ’n openbare ruimte kon kook nie. Cass was so op haar senuwees dat sy haar vingers flenters gesny het met die kap van haar eerste ui. Die mense het haar so mooi bygestaan dat sy daar besef het dat kos en medemenslikheid ’n toekoms kan help bou.
’n Lewe met kos vertel soveel van ons land se mense en geskiedenis. Waar kom bobotie regtig vandaan? Waar kry ’n Hertzoggie daardie naam? En wat is ’n twoface?
Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV, het persoonlik opdrag gegee dat hierdie boek gemaak moes word, want, voel hy, ons moet ons erfenis koester en bewaar. Hierdie gesprek by die US Woordfees - vol humor - het die waarde daarvan onderstreep.
The post US Woordfees 2016: Cass Abrahams se 'n Lewe met kos appeared first on LitNet.