Saartjie Botha, direkteur van Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees, het bevestig dat Afriforum nie deel is van die Woordfees 2016-program nie. Dit is in reaksie op bewerings deur ’n groep van sowat twintig protesgangers wat Vrydagaand ’n geleentheid by die fees probeer ontwrig het deur die verhoog oor te neem, te sing en te dans.
Die protesgangers het voorts beweer dat hulle op Donderdag 4 Maart tydens ’n EFF-optog op die kampus deur “lede van Afriforum met verkragting gedreig is”.
Volgens Botha is Flip Buys, die uitvoerende hoof van die vakverbond Solidariteit, Zwelinzima Vavi, voormalige sekretaris-generaal van Cosatu, en arbeidsjoernalis Jan de Lange wel genooi om aan ’n paneelbespreking oor die toekoms en rol van vakverbonde in Suid-Afrika te debatteer.
Die protesgangers het na sowat 10 minute die terrein van De Vette Mossel, waar die protesaksie plaasgevind het, verlaat en in die rigting van die Administrasie-gebou beweeg en toe verdaag.
Botha het gesê die fees gun die protesgangers hul stem en, waar daar op ’n verantwoordelike wyse teen ongeregtigheid beswaar gemaak word, steun hulle dit selfs. “Voorvalle soos hierdie maak dit egter baie moeilik om op ’n sinvolle wyse oor werklike brandpunte in die Suid-Afrikaanse samelewing te besin. Dit is juis waarom die fees geleenthede soos die gesprek oor vakverbonde skep, sodat Suid-Afrikaners mekaar kan hoor. Die US Woordfees is deeglik bewus van ons rol as transformerende fees in ‘n baie diverse omgewing en ons werk baie hard daaraan om die gemeenskap wat ons dien, te weerspieël.”
The post US Woordfees juis ’n platform waar mense kan verskil appeared first on LitNet.