Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Repliek: Elke teks is 'n vorm van taalhandeling

$
0
0

Henning Snyman het onlangs hierdie artikel op LitNet geskryf. Die artikel het heelwat gesprek uitgelok. Hieronder lewer Henning Snyman repliek op kommentaar van Helize van Vuuren onderaan die oorspronklike artikel.

Helize, ek het  met waardering jou verdediging van die literêre teorie as vakdissipline of vakrigting gelees. My essay het nie hierdie rigting binne die lettere en filosofie betrek nie. Sekerlik is ek bewus van hierdie praktyk.  Wat vergelykende studie betref,vind  daar aan die UK waar ek die grootste deel van my loopbaan deurgebring het, heelwat sodanige studies binne die taaldepartemente plaas. Veral toe JM Coetzee daar was, is daar heelwat gedoen in die Engels-departement. Nog steeds word dit ruim bedryf. Dit is nie aan die kern van my essay nie. Trouens, ek beskou daardie velde van studie al hoe meer deel van filosofie, 'n vakrigting wat radikaal verander en aangepas het in die laaste paar jaar. Dit is 'n studie van menings, nie 'n wetenskap nie.

Dat daar in die ontleding van 'n teks  heelwat kennis van moderne en belangrike sake in die harde wetenskappe 'n plek vind, is nie alleen vanselfsprekend nie, maar broodnodig vir die doel van literatuur as "waarskuwing". Die gevare van die ontwikkeling van skaliegas is beslis 'n tema wat deur die letterkunde aangespreek moet word, soos politieke bedelings en ideologieë. Dit het met literêre teorie ongeveer niks te maak nie;  dit is ingebou in die verwysingsraamwerk van 'n teks. Ek glo nie iemand sal sulke verwysings mislees nie. Letterkunde is tog onder meer kanttekeninge by die menslike kondisie op alle vlakke van bestaan. 'n Gedig is nooit presies gelyk aan die werklikheid nie, dan sou 'n konkrete mededeling dit beter kon doen.

My denklyn in die essay gaan oor die lees en ontleding van 'n teks. My argument oor baie jare is dat die teks 'n taalkunswerk is, en dat alle taalmiddele in die taksonomiese opbou van 'n teks ter sake is. Natuurlik is metafoor,  die ironie en alle geïmpliseerde taal deel van die teks. Baie dikwels val of staan 'n teks by die manier waarop implikasie-verskynsels binne die teks funkioneer. Elke teks is 'n vorm van taalhandeling. Net so kan ongemotiveerde verwysings 'n teks groot maak of laat sink.

Wat ek in die essay voorstel, is dat die teks in die eerste plek fundamenteel gelees moet word. My argument gaan teen jou opvatting, of dit nou Bakhtin- of Hellingscholtz-gerig is, dat alle gegewens wat dalk met die teks kan skakel  dadelik deel word van 'n interpretasie. My beskouing is teen die konstante byhaal van 'n leesmodel  geskoei op 'n bepaalde teorie of teoretikus se mening om die teks te ontleed. Die kern vir die evaluering van 'n teks begin by die taal. Wat ek hiermee bedoel, staan in die essay. Toegegee, jy lees as literator, ek as semantikus. Alhoewel ek verskil van die werkwyse om 'n teks binne verskeie denkpatrone te  wil dekodeer tot feitlik met en by die ruwe gegewe of grondplan waaruit die teks ontstaan het, het ek sekerlik waardering daarvoor. Persoonlik wil ek die teks fundamenteel lees en die skoonheid en diepte daarvan vir die leser probeer uitwys; 'n betekenis van die teks oopmaak, eerstens deur die wendinge en "mistiek" van die taalmiddele.

Henning Snyman

The post Repliek: Elke teks is 'n vorm van taalhandeling appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>