Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

US Woordfees: Liedjieboer Anton Goosen word 70

$
0
0

Die liedjieboer en onmiskenbare vader van Afrikaanse rock wat Afrikaans cool gemaak het, word hierdie maand 70 jaar oud. Jean Oosthuizen het met Anton Goosen gesels oor sy lewensfilosofie, sy rebelsheid teenoor die establishment en sy liefde vir Afrikaans. Hy wou ook by hom weet of hy regtig so zef is soos wat party mense dink. Die Woordfees bring op 5 Maart hulde aan Anton tydens ’n optrede by Spier-amfiteater saam met kunstenaars soos David Kramer, Sonja Herholdt, Gert Vlok Nel en Gian Groen.

Anton Goosen en Schalk Joubert
Foto: Naomi Bruwer

Heita Anton! Jy word volgende maand 70, kan jy dit glo! Hoe voel jy oor hierdie mylpaal of wat mens dit ook al noem?

Ek is nog nie heeltemal seker nie, maar ek sien dat niemand vir Leonard Cohen of Keith Richards “oom” noem nie, so dis seker oukei. Ek dink ouderdom is net ’n state of mind. Ek self het seker nie ’n keuse nie. Ek is maar te bly jors troelie het so lank uitgehou. En in die woorde van Willie Nelson, “music is still better than working”. Plus, jy sien baie mooi plekke mahala!

Dalk ouer, maar nog lank nie kouer of flouer nie. “Jors Troelie” tree vanjaar weer by die Woordfees op saam met David Kramer, Sonja Herholdt, Gert Vlok Nel en Gian Groen. Dit klink na ’n moerse lekker verjaarsdagpartytjie wat oop is vir almal. Hoe voel jy oor die show?

Dis ’n huldigingskonsert. Ek is baie opgewonde daaroor. Saartjie Botha van die Woordfees het my uitgenooi om die aand agteroor te sit en die feesvieringe te geniet. Schalk Joubert – die baskitaarfoendi – sit die aand se musiek aanmekaar. Ons werk al ’n leeftyd saam. Ek sien baie uit daarna. Hy sê daar gaan verrassings wees, maar ek mag nie weet nie. Soos dit hoort op verrassingspartytjies. En ek gaan eintlik net as ’n gas in die gehoor sit en humble voorkom – haha, maar dalk oorreed Schalk en Alexa Strachan (die produksieleier) my nog om een song te doen.

Van songs gepraat, die temalied “’n Pawpaw vir my darling” is einde Oktober verlede jaar uitgereik en die fliek vroeër vanjaar. Lekker zef nè! Maar soos “Boy van die suburbs” meer as net zef, nie waar nie?

Jeanne Goosen se boek met die gelykmatige titel is nie net oor die zefkant of humor nie, maar ook oor die ironie. “Boy van die suburbs” ook. Almal is bietjie zef oftewel ’n stukkie tappit hier en daar in ons almal. Dis hoekom ek van Gansbaai hou. What you see, is what you get. Niks pretensieuse nonsens nie.

Toe ek “Boy van die suburbs” skryf, toe sien ek die bure se dogter verf die sementduiwe op die prefabmuur se bekkies in die lente. Hul het varings in tyres op die stoep ook gehad. Hoekom nie? My gewese skoonsus-hulle het hul bikes gebruik as sitkamermeubels en hul gras in die winter afgebrand.

So, wat beteken zef volgens jou?

Zef is nogal eerlik – wat jy sien is wat jy kry. Ek kon onmiddellik by Jeanne se pawpaw-boek aanklank vind. Toe Koos Roets en André Scholtz vra vir ’n bluesy temaliedjie, was dit eintlik maklik, want ek was al dikwels fisies in daardie kopspasie. Die lewe sonder trimmings. Ek en Jeanne het baie dieselfde humorsin. Sy moes ’n onderhoud eens met my voer op TV2 oor die Patricia Lewis-Jurie Els-kwessie. Dit was diabolies snaaks – veral omdat ons tot die slotsom gekom het dat ons nie seker was wie is wie nie, met ander woorde is dit nie net een persoon in “drag” nie?

Sy het my ook vertel toe sy in 1979 vir ’n koerant in Pretoria gewerk het toe "Kruidjie" gewild was en die lesers gebel en haar gevra het “of sy Anton Goosen se liewe vroutjie is”? Ek dink Jeanne se boek was briljant en so ook Koos Roets se movie. Dit was heerlik om die temalied te doen.

Daar is mense wat reken jy self is moerse zef en ’n ou ballie met lang hare. Of is dalk eerder soos wat jy in “Kruidjie” sing: “Wat maak alles saak; waar ons twee gaan bly? In Waterkloofrif of langs Parrafontein?”

Daar is altyd mense wat kuns visueel beoordeel wanneer dit abstrak is. Dalk het dit te doen met laterale denke of iets. Of omdat Beethoven doof was – lang hare en al – en of Einstein se lang hare wat nie gekam was nie, punte op die Richterskaal verdien of nie.

Pla dit jou enigsins wat mense van jou dink?

Ek gee nie regtig om wat mense van my dink nie – dit gaan oor musiek, nie voorkoms nie. As dit oor voorkoms gegaan het sou ek al seker ’n fortuin aan botox moes spandeer het.

Dit herinner my nogal aan politiese sosiale bekgevegte waar argumente nie besleg word op die punt nie maar eerder op beledigings. Keyboard cowboys en trolle.

Jy was ook betrokke by ’n CD wat deur Ingrid Jonker se dogter en haar man Ernesto via Permanent Records uitgereik gaan word waarin daar hulde gebring word aan Ingrid Jonker. Vertel ons daarvan.

Dis ’n baie nisprojek – hul gebruik "’n Hemel vol blou akkers" (“plant vir my ’n boom André”) vanaf die Bushrock-album. En nee, "’n Brief vir Simone" is nié vir Ingrid se dogter geskryf nie – lol. Simone en Ernesto kuier dikwels hier in Ganzegat.

Vir wie het jy dit dan geskryf?

Ek het in Pretoriastraat in Hillbrow by die kultus-rolprentteater verbygestap. Die poster was ’n movie met Simone Signoret, die Franse aktrise. Ek gebruik nooit werklike name in liedjies nie. Ek was deur een van die vele liefdesteleurstellingfases en ek en ’n vriend het tot die vroeë oggendure eers in die restaurant in die Hillbrowtoring gesit ... en toe ... Dis voordat dit gesluit is.

Simone-Signoret

Simone Signoret

Is dit waar dat hulle gereken het jy is nie baie “bright” op skool nie en dat die onderwysers jou in ’n spesiale klas wou dit omdat jy ’n moeilike klein bliksem was?

Ja, my ma het uitgefreak hieroor. Die standerd 1- (graad 3-) onderwyseres wou my laat toets vir die spesiale klas. Vir ’n kwartaal lank het ek tuisonderrig gekry. Ek kan nou nog “quickly” in my slaap reg spel (danksy my pa se werk op die stoep). Daarna was sake baie beter. En my punte hemelhoog. Daar het ’n uil in me Van Niekerk se donker huis se dak se nok gewoon. Ek was ’n dromer dis al ...

So, jy was eintlik van jongs af ’n rebel. In 1963 is jy uit die koshuis geskop nadat jy in die bad gevang is terwyl jy kitaar speel en rook. Maar dit het jou nie ontmoedig om tog jou skool se eerste rock band te begin nie!

In standerd 9 en 10 (graad 11 en 12) was ek en my kitaar onafskeidbaar. Dit (die uitskop) het my gepas, dankie! Toe kon ek tuis speel. In standerd 9 het hulle my na die skoolsielkundige gestuur wat gesê het dis net die regtige groot muso’s soos Nico Carstens en Hennie Bekker wat ’n bestaan uit musiek kan maak! Ek het dit nou die dag vir Hennie Bekker in ’n e-pos vertel waar hy nou in Kanada woon. Hy het lekker gelag. Nee, ek weet nie wat van die skoolsielkundige geword het nie.

antoncover

En toe word jy maar ’n ducktail?

Rock ’n roll en lang hare en kitare was daardie tyd beskou as tekens van ducktail wees – die rebellie teen die samelewing. Hulle was heeltemal reg. Rock ’n roll het ’n leefstyl geword – ’n beter alternatief as om soos skape op aandag te staan. Pink Floyd se "Another brick in the wall" het dit alles verduidelik.

En wat sê jou pa toe van dit alles?

My pa het op ’n stadium my kitaar in sy hangkas toegesluit. Ek het dit eendag uitgehaal, ’n baksteen of twee in die kas gesit en die kitaar by die rock band se lead guitarist gebêre. Almal gelukkig dus. Gabriel die kitaarspeler het oorkant die skool gewoon so gedurende pouses en klasse waar ek uitgejaag is, het ons geoefen. “The honourable Mr Goosen, get out!” – meneer De Munnick. Gabriel het dooie vlermuise en operaplaatomslae teen sy muur gehad in die oefenkamer. Weird, maar hy het goed gespeel.

Jy is die onmiskenbare vader van Afrikaanse rock; die liedjieboer wat Afrikaans cool gemaak het. Wat was jou eerste groot deurbraak in die musiekwêreld?

Ek sou sê “Jantjie”. Toe ek by St Stithian’s skoolgehou het, het ek dit geskryf as temaliedjie vir ’n verhoogstuk in twee bedrywe met dieselfde titel. Daar was troepe ook in die opvoering, soos Nuwejaar destyds toe die troepe in Waalstraat afgestroom het – die Kanaaldorp-follies en Cape Town jazziness ...

ID du Plessis het vir my ma klas gegee op UCT en op haar aanbeveling het ek hom gaan sien in Kaapstad om die feite reg te kry. Die skoolhoof, Mark Henning, wat voorsitter van Transvaal se krieket was destyds, het gereken ek moet eendag die liedjie ("Jantjie") laat opneem deur iemand. Hy was reg. Dave Matthews het St Stihian’s toe gekom die jaar nadat ek daar weg is, maar ek het darem vir John Leyden van Mango Groove skoolgehou.

En hoe word "Jantjie" toe Sonja se song?

Toe ek as vryskutresensent van Beeld vir Huisgenoot ’n storie moes doen oor die nuwe sangeres Sonja Herholdt, het sy gesê sy benodig liedjies vir haar eerste album. Sy het deur my liriekboek geblaai en op "Jantjie" afgekom.

Drie jaar later het my eerste produksieleier, Chris Kritzinger, voorgestel dat ons die eerste singer-songwriter album in Afrikaans maak. "Kruidjie" was reeds op die treffersparade en dus het die Boy van die Suburbs-album die lig gesien. "Blommetjie-gedenk-aan-my" was ook op daardie album. Ollie Olwage van Huisgenoot het die artikel geskryf oor die misterieuse verskynsel oor Paasnaweke in die Klein Karoo. Dat dit die eerste rock song geword het in Afrikaans is bloot toeval, want toevallig was die opdrag in die studio aan die tromspeler: “Think ‘Baby come back’.”

Die establishment was nie baie beïndruk met jou nie en jy het selfs die sensuurraad laat kopkrap. Waarom was jy so anti-establishment?

Rock ’n roll leer ’n mens om die establishment te bevraagteken. In die lig van daardie definisie het ek dit te lig en oneerlik bevind. Dit is nodig om waar dinge skeefloop in die samelewing oftewel die establishment, dit uit te wys. Almal kan nie net wil stilbly nie, want dan sit jy met ’n Stepford wives-situasie. Of soos wat George Orwell voorspel het.

En vandag op byna 70? Is jy nog dieselfde anti-establishment Anton en wat was die belangrikste les wat jy deur die jare geleer het?

Om net te wees presies wie jy regtig is – mense hou daarvan om te hoor wat hul graag wil hoor. Dis bullshit of public relations ... ek kan dit nie doen nie. Ek is nie goed daarmee nie.

Die les van Dead poets society was om alles van alle kante te bekyk voor ’n mens dit vir soetkoek opeet. Mammon het veroorsaak dat daar baie ongerymdhede uit mense se monde spoel, hetsy politiek, godsdiens, sport of musiek. “Sometimes Satan comes as a man of peace” – Bob Dylan.

Anton-Goosen-is-bekend-vir-sy-helderkleurige-sonbrille

In ons gesprek haal jy graag sangers en skrywers aan. Wat is jou twee gunstelingboeke?

Dark Stream (Die Groot Verlange) van Leon Rousseau oor Eugène Marais se lewe en The Agony and the Ecstasy van Oliver Stone oor Michelangelo se lewe.

En die beste liedjie wat jy self ooit geskryf het?

Hoe bedoel neef nou? Dit kan ek nie beantwoord nie.

Goed dan, wat is die swakste liedjie wat jy ooit geskryf het?

Seker die hele klomp wat ek weggegooi het. "I am the clown" was een van hulle. Ek het dit later oorgeskryf in Afrikaans as "Harlekyn".

En wat is vir jou die beste Afrikaanse liedjie ooit van enige kunstenaar?

Dit weet ek ook nie. Dis alles relatief. Volgens my word alle vertalings, direk of nie – liedjies met uitheemse oorsprong – uitgeskakel. ’n Halwe Afrikaanse liedjie is nie Afrikaans nie.

Oor die wyer Suid-Afrikaanse popspektrum dink ek "Weeping" van Bright Blue is seker een van die beste liedjies wat ooit uit hierdie land gekom het. Maar dis Engels. ’n Mens beoordeel liedjies ook in sekere tydvakke, maar hoe vergelyk ’n mens David Kramer se "Skipskop" met "Ver in die ou Kalahari"? Dis stupid om sulke vergelykings te probeer tref, ewe veel as om te moet kies tussen Marais se "Winternag" en "Die beiteltjie" van Van Wyk Louw.

En hoe voel jy oor hedendaagse Afrikaanse musiek? Is daar enige jong Afrikaanse kunstenaars wat jou nog opgewonde maak?

Die kuifie-in-die-lug-en-backtrack-in-die-gatsak-brigade staan my nie juis aan nie. Ja, as ek verby die sokkies-sokkie-boude-stamp markgerigte goed kyk, is daar tog baie talent.

Laurika-Rauch-en-Anton-Goosen

Laurika Rauch en Anton Goosen

Jy het vroeër in ons gesprek van godsdiens gepraat. In jou vroeë 20’s het jy weer die Bybel begin lees asook die Koran in Afrikaans en later ander filosofiese werke soos onder andere Zen, Tao ens, en selfs paganisme. Is daar enige gemeenskaplike waarheid wat jy uit al hierdie verskillende denkrigtings ontdek het?

Die mens het ’n ingeboude drang na orde, na reg en verkeerd, lig en donker, respek, ’n strewe na die goeie, maar ook ’n aanvaarding dat Jin en Jang langs mekaar bestaan. Dat die bose en goedheid nie sonder mekaar kan bestaan nie. En die beginsel van “kyk deur ’n spieël na die raaisel”. Al wat ’n mens regtig weet, is dat jy niks weet nie. Soos Lao Tzu sê, die pad wat beskryf kan word is nie die regte pad nie.

En hoe pas jy dit in jou lewe toe?

In alle dogmas, religie en filosofieë kom die gemeenskaplike teorie van goed en kwaad na vore soos wat die mens dit deur die eeue heen saam beleef en ervaar het. Dat ’n mens nie mag moor nie, behoort nie eksklusief net aan een groep nie. Almal het min of meer dieselfde riglyne.

Alles is Jin en Jang: manlik en vroulik, lig en donker, goed en kwaad; plus en minus – die een kan nie sonder die ander bestaan nie. ’n Aarde sonder negatiewe is nie die aarde nie – dis dalk die hemel. Maar dit beteken nie dat ’n mens nie ’n verandering ten goede moet aanwend nie. Maar ook nie soos Don Quixote windmeulens beveg nie. “I saw a man kicking the night until it was bleeding daytime” – Bruce Cockburn.

Kom ons praat bietjie oor Afrikaans. Daar is deesdae weer ’n groot geveg oor Afrikaans by Stellenbosch en elders. Hoe voel jy oor die hele taalkwessie en al die gestry daaroor?

Ek kan glad nie sien hoekom Stellenbosch nie ’n Afrikaanse en Engelse universiteit kan wees nie. Daar is ’n horde Engelse universiteite naby US vir dié wat nie hou van die dubbelmedium nie. 

Ek kan nie sien hoekom Stellenbosch nie tweetalig kan wees nie. Ek kan ook nie sien hoekom Xhosa, Pedi, Zoeloe ens nie ook hul regmatige plekke kan of mag hê nie. Dit kan demografies gedoen word en ingedeel word.

Solank alle inheemse tale nie net uitgeskuif word nie. Afrikaans is reeds vakkundig op standaard. Ek sê nie Engels moet weggegooi word nie (al is dit die taal van die koloniale onderdrukker); dit is en bly ’n wêreldtaal. Maar dit mag nie al wees nie. Dis teen die Grondwet. As Afrikaans uit alle universiteite gejaag word, is sekondêre onderrig volgende. En moedertaalonderrig, weet ons, is belangrik in enige kind se opleiding. As die taal sterf, sterf die kultuur ook.

Anton-Goosen-by-Innie-Bos

Anton Goosen by Inniebos (foto verskaf)

As ek so met jou gesels, kan ek sien jy is gatvol vir die studentebetogings en die land se politiek. Is jy nog tevrede om in Suid-Afrika te woon?

Ek is ’n Suid-Afrikaner – ’n Afrikaan. ’n Afrikaanse dude in Mzansi. Ek is baie lief vir die land en my taal. En al sy mense. En die demografiese diversiteit.

Maar hoe maak ons dit werk?

Ons moet leer om met mekaar te praat en te luister en te kuier. Baie van die liberale dampkringetjie was nog nooit in ’n sjebeen of ’n zola budd (taxi) nie. Om met die mede-Suid-Afrikaner te meng en te praat beteken nie om kos te bestel by ’n straatkafee in Stellenbosch waar hy of sy ’n waitron is nie. Almal moet begin cool raak met almal.

En die studentebetogings? Is hulle nie maar ook net rebels soos wat jy rebels was toe jy jonk was nie?

Ons land word deur ’n giggelende beeswagter regeer. Toe ek studeer het, was daar die Franse studente-opstande in De Gaulle se tyd. Vir ’n ruk het die Wits-studente ook langs Jan Smutslaan betoog. RAU (nou UJ) was in tydelike geboue oorkant Wits in Braamfontein en hul studente se groot mission was om die Witsies se lang hare te probeer afsny. Daar was van die Witsies se kant plakkate van “shave backs not hair” soos nou in die gedaante van “I am against it what have you got?”. Ek het gedink die #FeesMustFall was ’n billike protes, maar ek dink nie dis cool dat skilderye verbrand word, geboue by Mahikeng in ligte laaie staan en geweld plaasvind nie.

Of "kill the boer" of "f*ck whites", asook die teenoorgesteldes wat mens dikwels op die rasrotte se Facebook-blaaie sien. En aanhitsing tot geweld. En nog minder polarisasie soos wat aan die orde van die dag is.

Ultraregs en ultralinks is maar een slang met twee koppe. En dis die skandalige gevolg – dis onder andere wat gebeur het met daardie twee meisies op Stellenbosch, asook die radikale anargie by Kovsies en elders.

Waar gaan dit eindig?

Ons leef in onstuimige tye. Die politieke leiers en partye buit dit uit vir eie gewin. Soos hulle nog altyd deur die eeue gedoen het. Almal moet net cool wees. Ons land kan werk, apartheid is verby, die freeborns, wit en swart, het die reg om cool te wees, om te studeer, om in ’n samelewing sonder korrupsie, misdaad en geweld ’n bestaan te kan maak, sonder enige diskriminasie van enige kant af, wit swart en bruin.

Ons het nie ’n revolusie nodig nie, maar tans ruik ek dit in die lug.

Hoe rym dit alles met jou liedjie “Wit K*****s van Afrika” wat die regses tydens een van hulle betogings gespeel het? Wat is die konteks van daardie song?

Die song was geskryf juis om die woord “kaffer” dood te maak. Dit beteken “heiden” in Arabies. Met ander woorde afhangende van uit wie se religieuse oogpunt jy kyk, gaan die ander groep altyd volgens iemand ’n heiden wees omdat hulle nie dieselfde is nie. Daar is ’n wonderlike lyn in Monty Python se Life of Brian waar die hele skare van 5 000 mense chant “We are all different!” En een dude steek sy hand op en sê “I’m not!”

Vrede en koelkopdenke is só nodig! As ek mag verwys na Jean Paul Sartre, vir ’n tydperk van rede – “an age of reason”. Almal moet begin cool raak.

Jy het eenmaal in ’n onderhoud vir my gesê om jou naaste lief te hê is vir jou baie belangrik. Dit sny oor geloofsgrense heen – die Bybel, "redemption” van die rastas, die "enlightment" van die Boeddha. Maar mens moet eers jouself liefhê voordat mens dit kan regkry, nie waar nie?

Juis, die naaste liefhê soos jouself begin by die innerlike self en van daar gaan dit na buite. Anders gestel, in die woorde van Confucius: “Val die kwaad – die evil – binne jouself aan eerder as die kwaad in ander.” Dis ’n moeilike les, maar dit sluit aan by sy “What the superior man seeks is in himself; what the small man seeks is in others.”

Ahoi Anton! Maar voordat ek groet. Is daar enige ander toekomsplanne op die Liedjieboer se horison waarvan jy ons kan vertel?

’n Nuwe CD waaraan ek skryf en werk vir vanjaar (en al sewe jaar oor praat van uitreik – haha) en ’n volgende reeks kultusmusiekprogramme op RSG binnekort met die tema van die grootste singer-songwriter van alle tye in ligte musiek se werk – die Zimmerman van Hibbing, Minnesota. Oftewel Bob Dylan. Ek sien baie uit na die reeks.

Dankie Anton, sien jou by die Woordfees!

Aweh bra! Cool runnings ...

 

The post US Woordfees: Liedjieboer Anton Goosen word 70 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>