Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

Uit die argief: Toespraak deur Leon Rousseau by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag

$
0
0

Praatjie deur Leon Rousseau op Vrydagaand 13 Februarie 2009 in Leinster Hall, Kaapstad. Hierdie bydrae het oorspronklik op LitNet verskyn op 26 Februarie 2009.

 

 

Die oerbeginne

Voor ek begin, eers baie dankie aan NB-Uitgewers vir vanaand se vrolike en deftige byeenkoms. Die oorspronklike H&R, dit wil sê ek en Koos Human, is vanaand hierheen gebring deur ’n chauffeur agter die stuur van ’n pragtig-opgepaste Rolls Royce uit die jaar 1958. Baie gepas, want 1958 was in die verhaal van H&R ’n belangrike jaar.

Op die oorspronklike agenda vir vanaand was daar: “Leon Rousseau praat 15 minute, Koos Human praat 15 minute, Kerneels Breytenbach antwoord.”

Dit sou darem te wreed gewees het. Ek en Koos het besluit om saam net omtrent ’n kwartier te praat. (Applous asseblief.)

Human & Rousseau Uitgewers is vandeesmaand 50 jaar oud. Om iets van die firma se oorsprong te verstaan, is dit nodig om meer as 50 jaar in die verlede terug te flits, na 1956.

Ek was ’n redaksielid van Die Burger in Kaapstad, ’n jeugdige 25. Die ewe jeugdige Koos Human, wat weldra my vennoot sou word, het in dieselfde jaar uit die destydse Transvaal na die Kaap gekom om by Nasboek te werk. Dit was destyds die uitgewersafdeling van Naspers (vandag Media 24).

Ek en Koos was nie onmiddellik van mekaar bewus nie, want daar was min kontak tussen Die Burger in Keeromstraat en die uitgewery in die Tygerberg.

In daardie jaar het ek dit in my kop gekry om by Die Burger te bedank en vryskut te word. My kollegas het min hoop vir my planne gesien. Op my laaste werkdag het ons hoofsub, Willem Wepener, ’n spotprentjie geplaas waarin ’n netjies-geklede man aan ’n verflenterde bedelaar iets sê soos: “Dag, ou Leon, en hoe gaan dit met jou nuwe boek?”

Meer deur geluk as wysheid het ek toe al ’n huis en ’n vrou gehad. Die huis was Rugbyweg 7, heel bo teen die berg in Oranjezicht. Die dennebome van Tafelberg het trouens in ons agtertuin begin. Ek het £3 600 vir die baie eenvoudige en beknopte huisie betaal, maar die uitsig was na my skatting £3 000 werd. Dus somtotaal, soos Dirk Opperman graag gesê het, nie ’n slegte koop nie. Hier het ek ywerig met ’n nuwe Fritz Deelman-boek begin, elke dag op my ou Underwood ’n hoofstuk getik en die boek binne ’n maand voltooi. Dit was waarskynlik Fritz Deelman en die swart eiland.

Enter Koos Human. Die eerste outeurskontrak is nog deur George Minnaar na Die Burger gebring vir my om te onderteken, maar hy is in 1956 deur die jeugdige Koos Human as hoof van Nasboek se afdeling algemene publikasies opgevolg. Alles het in daardie dae op presies die regte tyd gebeur. Ek het gou besef ek het nou met ’n professional te doen. Sy bynaam in uitgewerskringe, The Boy Wonder, was nie onvanpas nie. Koos het my belangrik laat voel deur in eie persoon kontrakte en pas-gepubliseerde boeke na my huis te bring. Hy het daardie jaar reeds twee Fritz Deelmans laat verskyn. Ons het dadelik gekliek en gou vriende geword. Van toe af het die lang skraal wit Ford met die lang, ekstra-skraal Koos Human agter die stuur, meer dikwels voor Rugbyweg 7 kom stilhou.

As vryskut moes ek meer doen as skryf. Spoedig ontvang ek van JD Pretorius, hoof van Tafelberg-Uitgewers, wat toe hoofsaaklik boekklub- en slapbandboeke uitgegee het, ‘n manuskrip deur ene Gerrie Radlof om te sub. Dit was die skuilnaam van Gerrit van Zyl, nou lankal dood, maar toe in Tamboerskloof woonagtig. Hy was die skrywer van die Buiter-boeke en baie ander. Na ek die manuskrip nagesien het, nooi ek die skrywer om my veranderings oor ‘n drankie in die Café Royal te kom bespreek. My kasboek uit daardie dae wys van tyd tot tyd “Drankies, 7/6”.

Gerrit was ’n fenomeen. Hy kon homself op ‘n Vrydagaand in sy werkkamer toesluit, gewapen met ’n bandopnemer (dit was ‘n Grundig), en iets vir die dors, en teen Sondagaand ’n boek klaar dikteer. Hy word hier genoem omdat hy die ontstaan van die firma Human & Rousseau help moontlik maak het.

As jy 25 of 26 is, sien jy vir baie kans. Na ’n ruk besluit ek en Gerrit om saam ’n onderneming te begin. So gesê so gedaan. Gerrit bedank by African Homes Trust om voltyds te skryf, ek koop vir £100, as ek reg onthou, ‘n bankrot persagentskap, Afritopics, by ene Nico van Rensburg. Ons verander die naam in die Uniale Persdiens en ek vestig dit in twee kantore in die Volkskas-gebou in Adderleystraat. Gerrit het tuis gewerk.

Min kon ek toe droom dat dié kantore binne twee jaar deur ’n nuwe firma, Human & Rousseau, beset sou word.

Na ‘n ruk koop ek Gerrit van Zyl uit, en teen Koos Human se tweede jaar by Nasboek is ek die alleeneienaar van Uniale Persdiens. Die firma het sy geld gemaak deur buitelandse foto’s en artikels aan plaaslike blaaie te verkoop, aangevul deur my vryskutwerk.

Vroeg in 1958 word Koos Human deur ’n aantreklike aanbod na ’n ander uitgewery, die Afrikaanse Pers Bpk van Johannesburg, gelok, maar na nege maande kon hy dit skaars meer daar uithou.

As gevolg hiervan kry ek op ’n dag uit die noorde ’n oproep van hom. Hoe lyk dit, vra hy, wil jy nie saam met my ’n uitgewery begin nie? Dit was die grootste kompliment wat ek ooit kon kry.

Vroeg in 1959 trek hy toe by die twee kantore in Adderleystraat in. Hoe ons ingepas het, onthou ek nie mooi nie, want ons was vier: ek en Koos, my sekretaresse, Helena Thiart van Windhoek (sy het dadelik ons albei se sekretaresse geword), en Ebrahim Petersen van Distrik 6, ons bode.

Ebrahim het ’n kleurryke Kaapse Afrikaans gepraat wat vir Koos Human seker nuut was. Hy het sy vrou, vir al wat ek weet ‘n lankmoedige vrou, teenoor ons beskryf as “die vrietende kanker”.

Koos Human was ’n bietjie soos Odusseus van ouds. Hy het altyd ’n plan gehad. Gedagtig aan die nuwe firma se beperkte middele het hy idees saamgebring vir verskeie dun maar nogal elegante boekies waarvan klein oplae gedruk kon word. Van die heel eerste een, The Last Division deur Anthony Delius, byvoorbeeld, is 1 000 eksemplare deur Tulp van Zwolle in Nederland gedruk. Die toegespykerde kis met die hele oplaag is by Koos-hulle se huis in Kampsbaai afgelewer en oopgemaak in wat destyds die bediendekamer genoem is.

Van kapitaal was daar geen sprake en geen sent nie. Alles moes uit Uniale Persdiens se inkomste kom. En terwyl die firma my, my vrou en ons eerste baba tevore ’n gerieflike inkomste besorg het, kon dit met moeite twee vennote en hul gesinne onderhou. Boonop moes ons nog boeke laat druk, voorskotte betaal, omslae laat ontwerp, manuskripte laat nasien.

So is die Human & Rousseau-boompie ’n halwe eeu gelede geplant. Dit was swaar tye, broekskeurtye, maar onvergeetlik – en ja, ook heerlik!

Ek het nou so min of meer die eerste jaar behandel. In Koos se vyf minute kan hy nou vertel wat in die volgende 49 jaar gebeur het.

Lees ook: Koos Human onthou Leon Rousseau.

The post Uit die argief: Toespraak deur Leon Rousseau by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>