Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

#SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372

$
0
0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: Mondigverklaring

 

‘n Paar jaar gelede, terwyl ek nog op George as prokureur gepraktiseer het, bel adv Rudolph Hiemstra SC my. (Hy het toe ook nog op George gepraktiseer.) Rudolph is ‘n nederige, innemende, totaal onselfsugtige advokaatsvriend, maar hy volg getrou die baliereël dat prokureurs advokate by hul kamers besoek, en nie omgekeerd nie. “Ek wil vir jou iets gee wat aan my pa behoort het,” deel hy my mee. “Kom maak ‘n draai by my as jy ‘n kans kry.”

Rudolph se pa was genl RC Hiemstra, in lewe kommandant-generaal (dus die hoof) van die Suid-Afrikaanse Weermag gedurende die bewindsjare van HF Verwoerd en John Vorster. Op die foto hier onder (regs) verskyn hy saam met ‘n lugmagvlieënier met wie hy ‘n vlug in een van wêreld se voorste vegvliegtuie van destyds – die Mirage merk III   – meegemaak het.

Genl Hiemstra se twee ewe bekende broers was regter Victor Hiemstra – die skrywer van ‘n standaardwerk oor die Suid-Afrikaanse strafprosesreg[i] – en dr Louis Hiemstra, die woordeboekmaker en weldoener van die bekende LW Hiemstra Trust.

Genl Hiemstra het sy lang militêre loopbaan in die 1930’s as vlieginstrukteur in die Suid-Afrikaanse lugmag begin. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het hy geweier om die Afrika-eed – bekend as die “rooi eed” – te neem. Dit was ‘n eed wat genl Jan Smuts ingevoer het en wat almal moes aflê wat bereid was om enige plek in Afrika aan die kant van Groot-Brittanje te gaan veg.[ii] In sy interessante outobiografie, Die Wilde Haf,[iii] vertel Hiemstra van sy geweldige bewondering vir genl Hertzog en laat hy geen twyfel nie – hy doen dit, trouens, betreklik grafies – oor hoe min hy van genl Smuts gehou het. Sy weiering om die eed te neem het oplaas tot sy verplasing uit die lugmag na die Departement van Vervoer gelei, en kon hy eers weer na die Nasionale Party se oorwinning in 1948 sy militêre loopbaan hervat.

Toe Rudolph dus vir my laat weet dat hy vir my “iets” het wat aan sy bekende vader behoort het, kon ek nie my nuuskierigheid bedwing nie, en het ek my na George se advokatekamers gehaas. Rudolph het ‘n klein borsbeeldjie te voorskyn gebring. Hy het dit op sy vader – wat kort tevore oorlede is – se boekrak gevind, en omdat hy geweet het dat ek ‘n groot belangstelling vir ons politieke geskiedenis koester, het hy gemeen dié beeldjie kan gerus na my toe kom.

 “Dis genl Hertzog,” het Rudolph met oortuiging gesê.

Kyk, ek haat dit om my meerderes – veral my seniors in die regsberoep – te korrigeer, maar ek het oombliklik besef dat Rudolph verkeerd was. “Nee man, Rudolph,” het ek geantwoord, “dis Slimjannie Smuts!”

“Kan nie wees nie!” het Rudolph uitgeroep. “My pa het nooit ‘n goeie woord vir Jan Smuts gehad nie!” En toe, na ‘n oomblik se nabetragting, grinnik hy: “Nóú verstaan ek waarom dié beeldjie op Pa se boekrak met sy gesig na die muur gestaan het ...”

Rudolph had g’n idee hoe die beeldjie in sy pa se besit gekom het nie. En hoe ek ook al sedertdien op die internet rondgesoek het, sien ek nêrens ‘n soortgelyke afbeelding van hierdie besondere werk nie en kan ek gevolglik ook nie agterkom wie die kunstenaar was nie (daar is, sover ek kan sien, ook nie die gebruiklike handtekening of merk van die kunstenaar op die beeldjie nie).

Self het ek in my gemoed oor die jare nogal ‘n bewondering vir Jan Smuts ontwikkel.[iv] Hy troon uit as een van ons land se mees gerekende staatsmanne. (Natuurlik had hy ook sy tekortkominge: gedenk maar net Jopie Fourie.) Die Smutsbeeldjie het dus gou ‘n ereplek op my lessenaar verwerf.

 ‘n Week of drie gelede stof ek eiehandig my lessenaar af – vredeshalwe, moet ek byvoeg, want Vroutjie dreig toe al ‘n paar dae lank om in te gryp. Ek gebruik ‘n sagte sintetiese verestoffer waarmee ek ook van tyd tot tyd my klavier afstof. Dis ‘n geval van hier kiep-kiep en daar kiep-kiep, want daar lê stapels dokumente en boeke rondom my rekenaar gerangskik, en uit ervaring weet ek dat dit nie onnodig versteur mag word nie. Ek tel die Smuts-beeldjie op en kielie Slimjannie se gesig en agterkop met die sintetiese verestoffer. Dis asof hy ril toe ek onder sy neus afstof, want die volgende oomblik glip hy uit my hand uit en beland op die vloer.

My eerste gedagte was: “Ag nee! Nie nou ook nog #SmutsMustFall nie!” – nav die #RhodesMustFall-, #ZumaMustFall-, #FeesMustFall- en #wat-nog-MustFall-veldtogte wat soos ‘n veldbrand deur die ganse land versprei het.

Gelukkig merk ek (vir die eerste keer) dat die beeldjie uit ‘n soort hars vervaardig is en dat dit “skoon” gebreek het. Straks sal dit maklik herstel kan word.

Dis waar ons getroue Epidermix 372 inkom. Dit is ‘n kleefmiddel wat uit twee dele bestaan. Jy neem ‘n klein hoeveelheid koperkleurige, jellieagtige pasta uit die kleiner blikkie en dubbel soveel van die wit pasta uit die groter blikkie. Dan meng jy die twee totdat dit ‘n botterkleur aanneem. Dan is die kleefmiddel gereed om aangewend te word. Jy moet daarna vir so ‘n rukkie die twee dele teen mekaar druk, en as jy dan jou greep laat los moet jy die herstelde voorwerp versigtig eenkant hou vir so 24 uur sodat die “gom” kan set.

Slimjannie se beeldjie kon dus gou ná sy traumatiese val weer sy vertroude plek op my lessenaar inneem, vanwaar hy voortdurend sy skerp blik op my hou terwyl ek aan “Regsalmanak” werk ...

Verskoon asseblief dat ek so babbel, maar ek moet tog ook – vir dié van julle wat belang stel – iets meer van Epidermix 372 vertel. Daarvoor haal ek ‘n (ongepubliseerde) sketsie te voorskyn uit my argief. Ek het dit in 2009 geskryf tydens my en my geliefde se reis na ons noordelike buurstate. Hierdie skets begin in Zambië – die verste land noord wat ons besoek het:

Nou is ons hier by Suid-Luangwa, op die wal van die indrukwekkende rivier met dieselfde naam. Dis ‘n heerlike kampeerplek met goeie ablusiegeriewe. Dis wild hier om ons – seekoeie en talle krokodille aan die oorkant; hiënas en leeus aan ons kant, so word ons meegedeel. ‘n Trop van sewe olifante het juis vanmiddag doodluiters deur die kamp getrek en takke van die bome afgeskeur soos net olifante dit kan doen. Ons het maar in die motors en onder die koel grasafdakkies wat by elke staanplek is, gaan wegkruip.

Met ons getroue bakkie is daar net een lastigheid: die sleepstang het alwéér losgekom op die sinkplaatpad van Chipata af. Voorheen het ek al swetend (en ietwat swetsend) die los sleepstang by Cahora Bassa probeer regmaak.

Die probleem raak nou erg: my voorraad boute en moere is op.

Op advies van die lodge-eienaar, ‘n boerklong met die indrukwekkende Ierse naam van Shaun O’Driscoll, ry ek “dorp” toe om by Mfuwe Hardy Engineering hulp te gaan soek.

Moenie dat die naam jul mislei nie.

Dis ‘n miserabele bruinrooi-geverfde werkswinkeltjie, met ou Land Cruisers, Land Rovers en Toyotas net waar jy kyk – elk in ‘n wisselende staat van aftakeling en/of verval. Almal slagoffers van die afgryslike paaie. Binne lê stapels motorenjins en -onderdele, als bedek onder ‘n olie-en-stof-laag.

Ek word deur ene Moses begroet en ons kniel in die warm stof aan die agterkant van die bakkie om die probleem te beskou en te bespreek. Moses sê “no problem” (Afrika se bekendste cliché), hy sal die sakie gou opfieks. Hy trek sy bruin oorpak aan. Agterop is in wit geborduur “Mfuwe Hardy Engineering”.

Moenie dat die naam jul mislei nie….

Die probleem is dat een van die boute en moere van die sleepstang wat ek by Cahora Bassa vasgedraai het, nou verlore is. Dié moet vervang word.

Moses en sy handlanger begin ‘n 19 mm-bout en -moer soek. Hul keer ‘n ou oopgesnyde Mobil-oliekan vol moere en boute om en soek en soek. Niks pas nie. Toe volg die rooi Caltex Oil-kan. Steeds niks. Oplaas keer hul ‘n ou 5-liter-PVA-verfkan om. Daaruit val twee afgeleefde alternators, ‘n gebarste verkoelerpyp, ‘n verwoeste motorradiospreker, ‘n rat uit ‘n onbekende ratkas, en nog talle moere en boute.

Uiteindelik kom hul af op ‘n 17 mm-moer en -bout wat die ding net eenvoudig sal móét doen. Ek vra na ‘n veerwaster, want ek weet al bout en moer sonder veerwaster beteken in Afrika net mooi niks nie. Moses se handlanger loop na ‘n ou Land Cruiser-wrak en krap-krap in die stof by die linkervoorwiel. Hy haal sowaar ‘n veerwaster daar uit. Wonderlike geheue wat dié kêrel het.

Lang storie kort: na 45 minute se gesoek na ‘n afgeleefde 17 mm-bout en -moer en ‘n veerwaster word my bakkie se sleepstang weer vasgebout. My rekening? Veertig duisend Zambiese kwachas – dis sowat R70.

Soek en jy sal vind. En: die arbeider reken hy is sy loon werd. Sy soekfooi is immers ‘n skamele R100 per uur ...

Nou mag jy vra wat het die relaas hier bo met Epidermix 372 uit te waai?

Wel, terug by ons kamp op die wal van die Suid-Luangwarivier het ek besluit om die sleepstang se los boute en moere versigtigheidshalwe ook met hierdie wonderlike kleefstof vas te heg. Ek het dus by elke plek waar die sleepstang en die bakkie se aanhegtingsplekke bymekaarkom, die boute, wasters, veerwasters en moere deeglik moet Epidermix 372 besmeer en die spul met my gereedskap bymekaar getrek. Daarná was daar nie ‘n oomblik se verdere moeite en sorge met die sleepstang nie.

Toe ons oplaas weer tuis was op George het ek die bakkie geneem na die kêrel wat oorspronklik die sleepstang aangesit het, en hom van my sleepstangellendes op Afrika se paaie vertel. “Maak reg jou brouwerk, jongman!” het ek hom in my prokureurstem beveel.

Twee uur later bel hy my. “Oom,” sê-vra hy (ek haat dit as ek ge-oom word). “Oom, moet daardie boute en moere rêrig loskom? Ek is besig om my gereedskap als te strip, maar ek kry die flippen goed nie lós nie!

“Moenie verder probeer nie,” het ek tevrede geantwoord. “Ek kom haal my bakkie netnou.”

Wraak is soet.

Viva Epidermix 372! Viva!

Foto's verskaf


 

[i] Ek het al by twee geleenthede uitsprake van regter Hiemstra in Regsalmanak bespreek – vgl. http://www.litnet.co.za/versigtig-met-die-kaas en http://www.litnet.co.za/regsalmanak-regte-van-n-ongeborene.

[ii] Ek het in 2015 ‘n Regsalmanak gewy aan ‘n skadevergoedingseis wat ene Broodryk teen Smuts ingestel het voortspruitend uit die sg rooi eed. Die skakel is http://www.litnet.co.za/slim-jannie-se-rooi-eed.

[iii] 2001, Human en Rousseau, Kaapstad

[iv] Smuts was natuurlik self ‘n voorste regsgeleerde. Hy het op sestienjarige ouderdom aan die Victoria College, Stellenbosch, in onder meer die Klassieke begin studeer en hom daarna nagraads in die regte verdiep aan die gerekende Engelse universiteit Cambridge (Christ’s College). In 1970 het die “Master” van dié kollege vertel dat daar veral drie studente was wat gedurende die kollege se 500-jarige bestaan werklik uitgeblink het: John Milton, Charles Darwin en Jan Smuts.

The post #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>