
Bettina Wyngaard (foto: Facebook)
Skrywers oor hulle nuwe boeke: Bettina Wyngaard oor Slaafs
Bettina, vertel my wat beteken die titel van jou boek – Slaafs
Dit verwys enersyds na mensehandel / wit slawerny, maar is ook 'n woordspeling op hoe onnadenkend een persoon 'n ander, of 'n idee/ideologie kan navolg sonder om dit wat jy glo of doen te bevraagteken – tot so 'n mate dat jy moreel ambiguous goed begin doen.
In een sin: waaroor handel die storie?
Dis 'n misdaadverhaal wat die kwessie van mensehandel aansny.
In soveel sinne jy wil: vertel asseblief nog meer oor die verhaal.
Sonder om te veel van die verhaal te verklap: Nicci de Wee, Blackie Swart en 'n paar nuwe karakters moet 'n moord oplos waar die liggaam gebrandmerk was. Tydens die ondersoek kom hulle agter dat vroue uit oorloggeteisterde gebiede na Suid-Afrika verhandel word as seksslawe.
Wat het jou geïnspireer – of het Vuilspel jou net nog nooit gelos toe dit klaar was nie?
Daar is altyd genderkwessies wat my aandag trek, en die afgelope tyd, veral nou met landsgrense wat so poreus geword het as gevolg van oorlog en onrus, is vroue geweldig weerloos en oorgelaat aan die genade van gewetenlose mense. Hulle is onveilig in hulle tuislande, en moet ongelooflike risiko’s neem om veiligheid te probeer bereik. Met soveel mense aan die beweeg is dit maklik om te verdwyn en niemand soek ooit na jou nie. Ek wou die lig werp op die horror wat soveel vlugtelinge deurmaak. Ek het die verhaal begin skryf voordat die vlugtelingkrisis so prominent geword het, maar die verhaal kom op absoluut die regte tyd uit.
Is jou boek ‘n opvolg op Vuilspel of kan mens dit onafhanklik van Vuilspel lees?
Dis dieselfde hoofkarakters, en daar word verwys na gebeure uit Vuilspel, maar 'n nuwe leser kan Slaafs lees sonder om te voel dat hulle in die middel van die verhaal beland het.
Vertel ons van jou hoofkarakter, die vrouespeurder (en maak dit saak dat sy ‘n vrou is)?
Nicci de Wee is 'n lekker karakter om te skryf. Sy's 'n bruin vroulike speurder met 'n geheim: sy's gay en grootliks closeted. Vir my is dit belangrik om 'n sterk vrou te skryf, en dis natuurlik 'n wegbreek van die stereotiepe manlike, flawed speurder as hoofkarakter. Ek dink haar geslag maak saak, nie omdat dit die storie beïnvloed nie, maar omdat dit karakters aan die leespubliek bekend stel wat nog nie regtig daglig gesien het nie.
Jy glo aan betrokke skryfwerk, het jy nou die dag op kykNET se Prontuit gesê. Hoe doen mens dit; hoe skryf mens betrokke (en hoe verskil dit van “onbetrokke” skryfwerk – kry mens so iets)?
Betrokke skryfwerk lewer kommentaar op die sosiale en/of politieke kwessies van die dag. Dit probeer sosiale geregtigheid bereik deur die lig te werp op ongeregtighede, en deur te agiteer vir verandering.
Dis natuurlik altyd moontlik om verhale te vertel wat nie sosiale kwessies aansny nie – romanses en dies meer, byvoorbeeld.
Dit maak net nie vir my sin om al daai bloed, sweet en trane in skryfwerk te sit en dan het jy nie regtig een enkele nuwe gedagte in jou leser se kop probeer sit nie. To each his or her own, natuurlik, en ek lees fluff met net soveel gusto as die volgende persoon.
Jy is aktivis vir menseregte en baie aktief betrokke by PEN Afrikaans. Skryfwerk kan mense in ander lande met ander regstelsels soveel omkrap dat skrywers ter dood veroordeel word, selfs vandag nog. Maar wat kan mens met skryfwerk régkry?
Die krag van woorde is daarin dat mens die leser anders kan laat dink oor kwessies. Indien selfs net een persoon 'n aha-oomblik kry nadat hulle 'n stuk gelees het, dan het die skrywer iets reggekry.
Na my eerste boek, Troos vir die gebrokenes, het 'n verpleegster wat in een van die fabrieke werk, byvoorbeeld vir my geskryf dat sy nou die fabriekswerkers anders hanteer as voordat sy die boek gelees het, omdat sy hulle nou anders beskou. Dis die krag van woorde.
En dit kan natuurlik ewe goed deur fiksie as deur 'n politieke opinie of ondersoekende joernalistieke stuk gedoen word. Ek dink juis omdat woorde die krag het om mense se denke te verander, voel soveel leiers bedreig deur skryfwerk, veral as dit krities teenoor hulle regime is.
Selfs in Suid-Afrika, wat veronderstel is om 'n demokrasie te wees, sien ons pogings om mense te muilband.
Vertel asseblief vir ons van Trippel 7 – die skryfprojek van PEN Afrikaans.
Ons neem sewe skrywers vir sewe dae deur sewe Noord-Kaapse dorpies om kreatieweskryfkuns-kursusse aan te bied aan gewone mense, met die idee dat dit hulle in staat sal stel om hulle verhale op skrif te stel. Statistieke dui daarop dat 60% van Afrikaanssprekendes bruin en swart is, maar ons sien bitter min swart en bruin mense se verhale wat in Afrikaans gepubliseer word. Trippel 7 wil dit probeer verander.
Dis 'n lekker groep woordkunstenaars wat op die road trip gaan, en ons hoop om stories te sien verskyn wat mense se trots in hulle moedertaal sal versterk.
Ek is baie opgewonde oor die projek – ek hoop dat dit die persepsies oor wie Afrikaans besig, aansienlik sal verander.
Dis ook 'n projek wat die krag van vennootskappe belig. Ons kry befondsing van PEN International en Unesco, en ons werk saam met die ATKV in die Noord-Kaap.
Skryf jy reeds weer aan iets anders? En wat lees jy?
Ek is altyd aan die skryf, en op die oomblik speel ek met twee verskillende skryfprojekte. Die een het weer vir Nicci en trawante. Met die tweede projek wil ek 'n ambisieuse historiese rigting inslaan.
Verder doen ek ook navorsing vir 'n biografie wat ek genader was om te skryf.
Wat lees ek? Enigiets en als. As daar niks anders is, sal ek die agterkant van die ontbytgraanboks lees! Op die oomblik gaan ek deur 'n vampierfase, en ek lees als van Charlaine Harris en Laurell K Hamilton waarop ek my hande kan lê. Glad nie hogere literatuur nie, maar uiters entertaining!
The post US Woordfees 2016: Bettina Wyngaard oor Slaafs appeared first on LitNet.