Die afgelope paar weke het ons gebeure sien afspeel op ons kampusse wat nie eens gedurende die ergste jare in apartheid gebeur het nie. Rugbywedstryde wat ontaard in a free-for-all tussen toeskouers, spelers en protesteerders, universiteitsbiblioteek en -administrasiegeboue wat afgebrand word en verskeie kampusse wat geforseer was om te sluit omdat daar verdere konfrontasie gevrees was.
Dis deel van ’n patroon van geleidelike eskalasie wat nou skynbaar ontplof het, en, wil ek my verstout om te voorspel, binnekort gaan inplof. Die eerste teken van onrus was met die protes aangeteken deur Open Stellenbosch met die pers blackface-insident. Daarna het dit oorgeskuif na Kaapstad, waar studente met ’n vindingryke idee vorendag gekom het om behuisingstekorte te protesteer en die publiek se aandag op onregverdige allokasiepraktyke te vestig. Hulle het ’n plakkershut opgerig op ’n plek wat verkeer versper het en tot aansienlike ongerief vir motorryers gelei het. Toe die hut afgebreek word, het studente skilderye begin verbrand. By Vrystaat was ’n standbeeld van CR Swart met aansienlike moeite platgetrek.
In al hierdie voorbeelde was daar konfrontasies met die polisie en privaat sekuriteit. Die eerste skermutselinge met ander studente en lede van die publiek het egter eers gekom toe die protesteerders ’n rugbywedstryd onderbreek het. Die beperkte nuusdekking het my die indruk laat kry die protesteerders het hier meer afgebyt as wat hulle kon kou.
Tukkies, die Mahikeng-kampus van Noordwes-Universiteit, Wits, UWK – die lys gaan aan. Sol Plaatje is ten tye van hierdie skrywe omtrent die enigste universiteit wat skynbaar nog nie protes aangeteken het teen iets nie. #AfrikaansMustFall, #EndOutsourcing, #FeesMustFall, #RhodesMustFall is almal hashtags wat ons gesien het.
Die pot van woede is besig om oor te kook, nie net van protesterende studente se kant nie, maar ook vanaf die kant van wit studente wat nou begin terugveg, in sommige instansies letterlik. Wat al hierdie bewegings gemeen het, is dat dit afgeskop het met ’n edele doel, of dan ten minste ’n doel waarmee mens simpatie kon hê. Wie kan gekant wees teen ’n pleidooi dat universiteitsgelde te hoog is en dit tersiêre opleiding onbekostigbaar maak vir baie? Baie ouers het saam deelgeneem aan die optog Uniegebou toe.
Wie kon kla dat uitgekontrakteerde dienste die werksekerheid van universiteitspersoneel bedreig? Of dat Rhodes se nalatenskap onregverdigheid tot gevolg het? Selfs indien mense nie noodwendig saamgestem het nie, kon die klagte ten minste ingesien word.
Maar in elke geval het die protesteerders hulle hand oorspeel. En die versigtigheid van kommentators wat o so redelik probeer wees en die protes probeer goedpraat, maak my bekommerd. Hierdie is nie die tyd om polities korrek te wees nie.
Ek het absoluut geen probleem met burgerlike ongehoorsaamheid nie. Ek het geen probleem met vreedsame protes nie. In die regte omstandighede kan ek selfs gewelddadige protes verstaan. Toe die ANC onder leiding van Madiba en ander van Umkhonto we Sizwe die gewapende stryd aangegaan het, was dit in omstandighede waar daar geen politieke oplossing gevind kon word nie, waar die onreg so groot was dat dit gewapende stryd regverdig het. Dis nie hier die geval nie. Die studente lewe in ’n demokratiese bestel waar hulle hulle stemreg kan uitoefen, waar hulle deur vreedsame protes, of deur toegang tot die howe, hulle griewe kan lug. Tog het hulle nie.
Die opslaan van die plakkershut by Kaapstad, in die middel van ’n pad op die universiteitskampus, was vir my vindingryk en goed deurdag. Die teenstelling tussen die luukse motors wat daar parkeer en verbyry met die simbool van armoede en gebrek, was uitstekend. Selfs klagtes dat die verkeer versper word, het gelyk soos tipiese middelklas onsimpatieke optrede van persone wie se sitkamers in alle waarskynlikheid groter is as die hut waaroor hulle kla. Selfs die verbranding van versigtig uitgesoekte portrette wat kolonialisme verheerlik, sou ek in beginsel kon ondersteun as geregverdigde kommentaar en uitdrukking van burgerlike ongehoorsaamheid. Om die vlag te verbrand as simboliese verwerping, byvoorbeeld, van die gesag van die staat, is ’n eeue oue tradisie dwarsoor die wêreld. Om egter voor die voet kunswerke te verbrand net omdat dit teen die mure hang sonder om in ag te neem die kommentaar wat die kunswerke self lewer, het egter te ver gegaan. Wat ’n potensieel kragtige protesaksie kon gewees het, het oornag verander in die onbeheerste kriminele optrede van ’n mob wie se enigste doel was om soveel vernietiging as moontlik aan te rig. Wat kon tog ooit die simboliese waarde daaraan wees om die kanselier se kantoor met ’n petrolbom te bestook?
Tog wil ek ook verskil van die alarmiste wat nou die verbranding van kunswerke vergelyk met die dade van Nazi-Duitsland, toe hulle voor die voet Joodse kuns vernietig het. Hierdie groepe studente is nie staatsbefondste soldate nie. Hulle is nie daarop uit om ’n spesifieke etniese groep uit te wis nie. Hulle is eenvoudig nie georganiseerd genoeg nie. Daar is nie die tipe kohesie binne die groep om op groot skaal die tipe vernietiging te saai wat in Nazi-Duitsland was nie. Kyk byvoorbeeld hoedat daar nie eens binne Open Stellenbosch-geledere eensgesindheid was oor presies wat blackfacing is en hoe daarop reageer moet word nie. Daar is ook nie die grootskaalse ondersteuning vir hulle dade van die algemene publiek nie. In die afgelope week het hulle inderwaarheid aansienlike steun verloor onder gewone mense, wat hulle nou eerder sien as ’n groep opportunistiese kriminele. Kyk byvoorbeeld na die publieke verontwaardiging toe die studente wat die parlement beset het, met geweld verwyder was, teenoor die ondersteuning van kragdadigheid aan die polisie se kant hierdie week.
Tog kan die woede van die studente nie sonder meer afgemaak word nie. Een kampus is alreeds gesluit. Indien iemand nie as leier vorentoe staan nie, gaan ons meer vernietiging sien. Zuma is eenvoudig te besig om politieke scores te settle en sy eie bas te probeer red om die leierskap te verskaf wat ons nou nodig het.
Die geweld van die afgelope tyd is ’n sweer wat oopbars. Nou is dit die tyd om daai wonde skoon te maak, te verbind en oor te begin. Ons kan nie langer mekaar die skuld gee en onsself verontskuldig nie. Daai tyd is noodwendig verby.
Die talle foto's van studente wat hande vat en bid, wat self begin skoonmaak waar ander gemors het, is ’n groot stap in die regte rigting. Ons het egter ook nodig dat ander vorentoe staan en standpunt inneem. Nou is nie die tyd om polities korrek te wees nie. Nou is die tyd om leierskap wat vrede en versoening bevorder, te openbaar. Nou is die tyd om groter te wees as die geskille wat ons onderling het, om hande te vat en die Suid-Afrika te bou wat ons wil sien. Nou is die tyd om vergifnis te vra, oor en weer, en vergifnis te skenk, oor en weer.
Natuurlik is vergifnis ’n gelaaide konsep. Om Margaret Atwood aan te haal uit The handmaid’s tale: “But remember that forgiveness too is a power. To beg for it is a power, and to withhold or bestow it is a power, perhaps the greatest.”
Kom ons hoop dat Suid-Afrikaners dwarsoor die spektrum groot genoeg is om vergifnis te verskaf en nie te weerhou nie. Ons sal egter die seermaakgesprekke in alle erns moet voer, en in eerlikheid met mekaar optree. Dis die regte manier.
Dis die enigste manier.
The post Die studenteproteste: Ontploffing of inploffing? appeared first on LitNet.