Anzil Kulsen bied gereeld kreatiewe skryfsessies aan en deel haar gedagtes omtrent onlangse ervarings met LitNet se lesers.
Dis dalk my probleem: ek wil graag glo dat almal in my omgewing kan skryf. En dat dit sommer net lekker is om stories op te maak. Maar dan gebeur daar dae soos vandag: wanneer ek iemand in die oë kyk en seer sien wat nooit verwerk is nie.
In ‘n bedompige saaltjie is ‘n groep volwassenes besig om hul harte uit te skryf. Ek is buitentoe gesleep deur die jong meisie; moet luister of haar idee om oor ‘n lesbiese tiener te skryf sal werk.
Ek is nie opgelei hiervoor nie, dink ek terwyl die meisie met ‘n doodernstige gesig na my kyk. Ek probeer net in my enigheid die land aan die skryf kry. Of die Noord-Kaap dan nou. Die feit dat skryf vir die meeste van die mense met wie ek te doen kry, ‘n sielkundige uitlaatklep is, dat dit die terapeut is wat nie betaal hoef te word nie, het ek nie mee rekening gehou nie.
“En die meisie wat nou lesbies is, ken jy haar?” vra ek. Maar in my hart ken ek klaar die antwoord.
“Ja, want eintlik wil ek die storie vertel van hoe die meisie as gevolg van herhaalde verkragtings nie mans kan verdra nie.”
“En jy wil dit in ‘n jeugverhaal saamvat?”
Hoe hanteer mens sulke situasies? gil dit in my. Ek is in ‘n afgesonderde deel van die Noord-Kaap, ‘n deel met soveel geskiedenis, soveel kulturele rykdom waaroor stories geskryf kan word. Hoekom beland ek altyd in situasies waar ek agterna voel of ek self sielkundige behandeling moet kry?
“Ja, sodat dit jongmense kan waarsku,” probeer sy my oortuig.
“Teen verkragtings?” waag ek.
“Ek weet nie.” Sy skud haar kop.
Kyk, ek kan nie roem daarop dat ek mense se seksuele oriëntasie op hul voorkop kan lees nie, maar ek wil my kop op ‘n blok sit dat die meisie so “reguit” soos ‘n paal is. En dat sy haar eie storie wil skryf.
“Skryf jou storie in die derde persoon; moet dit nie ‘n ek-verteller maak nie,” begin ek.
“O, dis juis waaroor ek gewonder het.” Sy staan vertroulik nader. “Dis eintlik iets wat met my gebeur het. Op hoërskool, in die koshuis.”
“En jy wil dit uit jou gestel kry?”
Sy knik. En ek moedig haar aan dat ons na binne moet gaan. Die res van die leesgroep waarvoor ek die skryfsessie aanbied, begin al woelig raak, ‘n teken dat hul skryfoefening klaar is.
‘n Jong getroude vrou is die eerste vrywilliger wat voorlees. ‘n Storie van hoe sy in haar eerste huwelik mishandel is, hoe haar selfbeeld afgetakel is en hoe sy steeds sukkel om haar eiewaarde te erken. Die karakter het weliswaar ‘n ander naam as hare, maar toe ek vra of dit outobiografies is, knik sy net.
“Is hier iemand met ‘n vroliker verhaal?” waag ek.
Die enigste man in die groep steek sy hand op. En begin lees sy verhaal. Ook gebaseer op die werklikheid, van hoe hy vlerkgesleep het by die onderwyseres. Hy, ‘n gewone ambagsman, wat in so ‘n klein plekkie vir lang rukke werkloos is. Maar in sy storie speel die juffrou se hond ‘n belangrike rol. Hoe sy nie haar hond kon dissiplineer nie. En al kon hy nooit haar hart wen nie, kon hy toor met haar hond. En homself tog op ‘n manier laat geld. Haar wys dat status nie alles is nie. Dis ‘n hartseer storie, maar die groep vee lagtrane af. Hy lees dit komies, selfspottend. En gelukkig, vertel hy net voor hy gaan sit, het die juffrou vir haarself ‘n slegman losgeslaan. En verlekker hy hom deesdae daarin dat sy hom leepoog agterna kyk.
Die atmosfeer in die kerksaaltjie wat ons gebruik, is na sy voorlesing ligter.
Ek probeer so breedvoerig moontlik terugvoer gee op hul werk. Moedig humor aan, vra dat hulle meer dialoog moet gebruik. En probeer hulle aanmoedig om hul verbeelding in te span.
Hulle kry weer ‘n kans om te skryf. Dié keer gee ek hulle ‘n tema. Die soort tema wat ek dink hulle sal inspan om die hartseer, trauma en woede wat hulle so lank al opkrop, mee hok te slaan.
“Skryf oor die volgende,” daag ek hulle uit: “Die dag toe ek uitvind my ma is MIV-positief.”
Die reaksie is oorweldigend. Een groterige vrou staan op. Dadelik beswaard. Haar goeie moeder was ‘n kerkvrou, vertel sy. En is vandag ses-voet-ses begrawe nadat sy aan natuurlike oorsake beswyk het – ouderdom, verduidelik sy. Hoe kan sy so iets oor haar ma skryf?
Ek verduidelik van die stigma wat aan MIV-positiewe mense kleef. En dat ons almal bevooroordeeld is as ons mense met die siekte teenkom. En ek vra hulle om hul verbeelding in te span. En hul emosies so te manipuleer dat hulle tog ‘n storie van waarde aanmekaar sal slaan. Boonop, belowe ek, sal ek self ook skryf.
Hulle val weg, nie sonder enige murmurering nie, maar tog.
Ongelukkig haal die tyd ons in. En hulle belowe om hul verhale vir my volgende besoek gereed te hê.
Wat ‘n verrassing wag op my met my volgende besoek. Die dame wie se ma “ses-voet-ses” lê, het sommer twee stories geskryf. Een vanuit die ma se perspektief en een uit die kinders se perspektief. Die geskrywery het toe uiteindelik tot stukkies humor gelei.
En ek kom agter ek hoef nie sielkundige te speel nie. Ek hoef soms net te luister. Want die dame wat gekies het om ‘n lesbiese leefstyl, bring haar storie ook.
“En dit?” vra ek toe sy iets heeltemal anders vir my gee.
“Ek het besef wat ek moet skryf. Toe jy verduidelik hoe ons ons lewensverhale kan oorskryf en afstand moet kry in die proses, het ek gedink ek hoef nie iemand anders te word oor wat met my gebeur het nie. Ek het die storie geskryf, en toe opgeskeur. Hier is my MIV-storie. Ek gaan eendag ‘n jeugverhaal aanpak. Maar nie oor wat met my gebeur het nie. Ek moes eers leer om eie aan myself te wees. En wanneer ek skryf, gaan ek sommer net ‘n lekker storie skryf.”
Een op ‘n slag, dink ek toe sy wegstap. Net een op ‘n slag.
The post Een op 'n slag appeared first on LitNet.