Geagte professor De la Rey
Ons het mekaar nog nie ontmoet nie. Volgens alle getuienis is u ’n goeie luisteraar wat onder groot druk daarna streef om my alma mater, die Universiteit van Pretoria, op ’n inklusiewe basis te lei. Ek neem dus die vrymoedigheid om hierdie brief aan u te rig.
Professor, as u my dit sal veroorloof: ek was in 1989 ’n eerstejaar aan die UP. Feitlik op die dag vandag, op ’n Saterdag einde Februarie 1989, was ek in die eerste ry toe die musikante van die Voëlvry-beweging die Masker-teater gerock het in Afrikaans uit protes teen die verwerplike apartheidsbestel. Danksy Johannes Kerkorrel en die ander musikante op die verhoog het die woorde “kultuur” en “Afrikaner” daardie aand die eerste keer vir my iets beteken. Ook Afrikaans was nooit weer daarna vir my dieselfde nie. Ek moes enkele dae later op die verhoog van ’n stampvol Aula by ’n massavergadering praat teen ’n mosie wat die organiseerders van die Voëlvrykonsert, Studente vir ’n Demokratiese Samelewing, van die kampus wou verban.
Twee jaar later was ek meters van die verhoog af in die Amfiteater om te luister hoe ’n vrygelate Nelson Mandela ons kom toespreek. Dit het nooit gebeur nie, want belhamels van buite die universiteit het met ’n uitgewerkte plan die verhoog bestorm en Mandela verjaag. ’n Paar dae later moes ek by ’n massavergadering in die LC de Villiers-sentrum praat ten gunste van ’n mosie om die regse studenteorganisasies agter die insident van die kampus te skors – dit terwyl die destydse Perdeby-redakteur, wat vir my gesê het “Ons gaan hierdie regses opf**”, op die massavergadering omgeswaai en die regse organisasies verdedig het. Later is op kampus geskinder dat hy dalk lid van die Nasionale Intelligensiediens was, maar dit kon nie gestaaf word nie.
U sien dus, Professor, dat my band met die UP gesmee is in tye van soortgelyke onstuimigheid as wat u as rektor tans trotseer. Destyds was die grootste bron van onstuimigheid op Tuks die onderdrukking van my geslag deur die regering wat in ons naam gehandel het, terwyl die groeiende koor van ’n verdrukte land buite ons kampus al hoe duideliker gehoor kon word. So, Professor, moes vele van ons ook onder moeilike omstandighede opstaan teen bestuurslede van die UP wat nie werklik na ons geluister het nie, en sodoende die instelling in groter konflik gedompel het.
Professor, ek het tot ’n week gelede nie gedink sulke tonele sou hulle weer by my alma mater afspeel nie. Ongelukkig het dit nou gebeur. En nou, Professor, moes ’n mens in die media verneem van aantygings dat voorgestelde wysigings deur die taakspan wat Tuks se taalbeleid hersien, “wat deur die rektor deurgegee is asof dit die voorstelle van die taakspan is, ʼn wanvoorstelling [is]”. So lees ek ook: “Prof Norman Duncan, die UP se viserektor: akademies, het in ’n e-pos erken dat die senaat die taakgroep se aanbevelings gewysig het tot Engels as medium.”
Professor, as hierdie ernstige aantygings waar is, is u en u bestuurspan besig om u goeie reputasie as inklusiewe luisteraar te ondermyn. Dit kan u en die UP tog net enorme skade berokken.
Ek verneem ook dat u gister in die media erken het dat die moontlikheid van elemente van ’n derde mag wat agter van die betogings aan die UP sit, nie uitgesluit kan word nie. Professor, wat u so diplomaties stel, kan ons seker maar reguit hier vir mekaar sê: Almal weet gerugte doen sedert verlede November die ronde dat die EFF beplan om ons land in aanloop tot die munisipale verkiesing op verskeie terreine te destabiliseer – die parlement, banke, universiteite. Volgens my inligting, Professor, voer die EFF by Tuks letterlik bendes oproeriges van arm gebiede na Tuks in om te kom betoog. Ook volgens my inligting is die EFF-tak op Tuks maar ’n handjievol mense.
Professor, ewe min as wat belhamels van buite die kampus in my derde jaar toegelaat kon word om Mandela en enigiemand anders se stem aan die UP stil te maak, net so min kan u vandag toelaat dat ’n nuwe geslag belhamels Afrikaans stil maak en tot sondebok maak vir hulle eie woede teen ’n nuwe bedeling wat hulle en hul ondersteuners in die steek gelaat het. Dat hulle in die steek gelaat is, is ’n skandvlek op die nuwe bedeling, en die woede van die uitgeslotenes behoort ons almal se uitdaging te wees.
Maar Professor, deur Afrikaanse studente uit te sluit kan u tog nie hoop om die woedende uitgeslotenes tegemoet te kom nie? Soveel as wat ek met hulle woede simpatiseer, soveel is dit tog duidelik dat ons hier te doen het met ’n fascistiese beweging wat met klassieke revolusionêre metodes probeer om die burgery in ’n staat van paniek te dompel. Almal van ons wat mense van die middelgrond is, almal van ons wat brûe probeer bou, Professor, moet nou die ruggraat hê om die opstokers wat die uitgeslotenes se geldige woede probeer misbruik om op ondemokratiese wyse beheer van instellings te neem, teen te staan. Dit is ons plig, want ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die meerderheid gematigde mense van ons land wat weet dat net as ons mekaar erken, kan ons saam oorleef.
Daarom doen ek hiermee ’n beroep op u en die Raad van Tuks, wat môre vergader oor die UP se taalbeleid, om die nodige stappe te doen om die hersiening van die taalbeleid weer op die regte pad te plaas. Verseker asseblief dat die Afrikaans waarvoor die Voëlvrymusikante gestaan het, die Afrikaans wat ek lief het saam met die ander tale van ons land, haar rol as opvoeder en brugbouer aan Tuks kan bly speel. Gebeur dit nie, sal die boodskap hard en duidelik wees: Afrikaans as akademiese taal het nie ’n plek aan die universiteite van die Suid-Afrika wat apartheid vervang het nie.
Waarheen sal ons dan met Afrikaans? En watter soort land sal dit wees wat nie haar Afrikaanse burgers wil toelaat om in hulle taal voorberei te word om as burgers ons land die diverse wonder te help maak wat sy kan wees nie?
Met vriendelike groete
Johann Rossouw
Bloemfontein
Vrydag 26 Februarie 2016
The post Ope brief aan die rektor van die Universiteit van Pretoria appeared first on LitNet.