Skrywers en digters, dis alweer tyd om die pen in ink te doop of om die rekenaarsleutels te kielie dat die rook daaruit trek. Dis natuurlik alweer tyd vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse nasionale skryfwedstryd 2016 in vennootskap (al vir dekades lank) met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN). Die wedstryd word weer vanjaar met R18 000 geborg deur ons gewaardeerde borg, die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat. Die afdelings waarin deelgeneem kan word met ‘n kortverhaal, kortkortverhaal, skets/vertelling, ‘n opstel/essay en poësie, is die skoleafdeling (juniors, gr 8 en 9) en seniors (gr 10 tot 12) en ope-afdelings (B vir ongepubliseerde skrywers en C vir gepubliseerde skrywers). Buiten vir die prysgeld, wisseltrofeë, sertifikaat en die publikasie van die wenbydrae in Inkvars 2016, is daar ook ‘n gratis slypskool vir alle kategoriewenners, ook vir ‘n niemoedertaalwenner, by ‘n gerekende skrywer op die spel. Beoordeling geskied anoniem deur ‘n paneel kundige beoordelaars. Omkring dus ook solank nou reeds die nasionale BSV-Slypskooldatum, Saterdag, 20 Augustus 2016 met die uiters kundige digter, resensent en akademikus, Joan Hambidge, in u dagboeke – buiten vir die wenners, kan die publiek ook die slypskool bywoon. Met so ‘n kundige slypskoolaanbieder, gaan die beskikbare plekke beslis vlieg! Die inskrywingsvorms en die wedstrydpamflet (met heerlike prosa- en poësie-onderwerpe wat elke skoolgaande of volwasse skrywer se verbeelding sal kielie) is beskikbaar op die BSV-webwerf vir selfaflaaidoeleindes, en ook hieronder. Wedstrydnavrae (en slypskoolbesprekings): Corlietha Swart (Voorsitter: BSV) by bloemsv@gmail.com of Lelani Fourie (Sekretaresse/Tesourier: BSV) by sel 0733883377. U kan die inskrywingsvorms ook self aflaai van die BSV-webwerf. Die sluitingsdatum van die skryfwedstryd is 13 Mei 2016.
Lekker skryf!
Corlietha Swart
Voorsitter: BSV
- Laai die wedstrydpamflet hier af.
- Laai die inskrywingsvorm vir die junior- en seniorfafdeling hier af.
- Laai die inskrywingsvorm vir die opeafdeling hier af.
The post Bloemfonteinse Skrywersvereniging: nasionale skryfwedstryd 2016 appeared first on LitNet.