Tussen die rugby, die NG Kerk-sinode en die Konstitusionele Hof-beslissing oor Stellenbosch se taalbeleid was sommige Afrikaner-braaivleisvure maar ʼn koorsige affêre die afgelope naweek, vermoed ek.
Dié wat die ergste opgewonde raak, is waarskynlik dieselfde groep wat in 1993 in afwagting op die Groot Swart Slagting hul spense vol blikkieskos gepak het – en weer in 1999, in voorbereiding op die ineenstorting van die internet. Goed, ek gee toe, krap aan mense se taal en jy krap aan hul emosies. Maar is dit regtig die dood van Katryn as die US se taalbeleid uitgebrei word? Ek dink nie so nie. Daar is ander maniere om ʼn taal lewend te hou.
Om dit te gebruik om ander uit te sluit, is nie die regte manier nie. Veral nie as die taal in die eerste plek negatief beskou word juis omdat dit gebruik was om uit te sluit en te onderdruk nie. Iewers moet mens mos leer uit die foute van die verlede en daarop verbeter. Wanneer die hoogste hof in die land gekonfronteer word met twee stelle kompeterende regte, is die kanse dat hulle gaan beslis ten gunste van die reg wat uitsluit ten koste van die kompeterende reg wat groter groepe insluit, maar skraal.
Verlede week se beslissing het nie die universiteit verbied om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik nie. Inteendeel, dit maak ruimte vir die gebruik van Afrikaans, maar ook dat Engels as onderrigtaal bevestig word. Hoekom is dit problematies vir soveel Afrikaners?
Ek vermoed dit gaan veel minder oor die behoud van die taal as wat dit gaan oor die behoud van eksklusiewe wit ruimtes. Toe skole die eerste keer oopgestel is vir alle rasse, was daar ʼn massa-eksodus van wit leerders. Die gehalte van onderwys sal laer word, was beweer. Anders gestel, swart en bruin mense is te onnosel om saam met wittes te leer. Natuurlik is dit nooit in die openbaar so kru gestel nie. Maar die braaivleisvuur, na so ʼn paar brannas en Coke ...
Afrikaans moet beskerm word, is die argument. Hoekom? In ʼn land met 11 amptelike tale is daar nie voorsiening vir onderrig in nege van die tale nie. Dit is maar redelik onlangs eers, in ʼn land waar Xhosa en Zoeloe die eerste taal van die oorgrote meerderheid van die bevolking is, dat ʼn doktorale proefskrif vir die eerste keer in Xhosa gelewer is. Gelewer by ʼn tradisioneel Engelse universiteit, Rhodes. Ten spyte van die protes dat daar by Stellenbosch voorsiening gemaak word vir die bemagtiging van alle tale, sou dit nie daar gebeur nie. Ek sal ook baie verbaas wees as daar enige proefskrifte in tale anders as Engels en Afrikaans gedurende my leeftyd daar aanvaar word.
En die mense wat so graag argumenteer dat al die ander landstale opgehef moet word: Hoeveel van julle kan julleself help in ʼn Afrikataal? Kom ons begin maar eenvoudig, met hallo, dankie, hoe gaan dit? In die taal wat die mees algemeen is in jou spesifieke streek. Maar dan kan die meeste van julle dit ook nie in Afrikaans doen met iemand van ʼn ander kleur nie, of hoe? En hoeveel weet wat julle swart huishulp se naam is, laat staan nog hoe om dit uit te spreek? O nee, dis te swaar om uit te spreek, is die refrein. Kom ons hou maar by Gladys of Hope of Faith. Maar die name van Italiaanse filmsterre, Franse ontwerpers en Sweedse en Kroatiese sportsterre gly soos heuning van jul lippe af. Verskoning.
Afrikaanssprekendes is Afrikaans se grootste vyand.
Dis Afrikaanssprekendes wat ander uitsluit omdat hulle nie die “regte” Afrikaans praat nie. Hoekom dan verbaas wees as mense eerder kies om ʼn ander taal te praat? Hoekom verbaas wees as mense kies om eerder ʼn taal te praat waarin jy met ʼn groter deel van die samelewing kan kommunikeer?
Engels is die besigheidstaal van die oorgrote meerderheid van die samelewing in Suid-Afrika. Die Noord-Kaap en Namakwaland is omtrent nog die enigste gebiede waar mens kan verwag om in Afrikaans as standaardtaal bedien te word.
Tale sterf nie uit omdat hulle nie as onderrigtaal op universiteitsvlak gebruik word nie. Xhosa, Zoeloe, Sepedi en die ander tale in Suid-Afrika bewys dit. Tale sterf uit wanneer hulle nie gebruik word nie.
Dus, voordat daar aanvalle gerig word en daar neerhalend na Slim Wim verwys word, vra eerder jouself af: Hoekom jou kinders aanraai om eerder Australië (of enige ander oorsese land) toe te trek? Dink jy hulle, en hulle kinders, gaan die taal daar lewend hou? Hoeveel van julle wat julle kinders weggestuur het na ander lande toe, moet nou Engels praat met jul kleinkinders?
Selfs Nederland, die emosionele heimat van soveel Afrikaners, gaan nie die taal lewend hou nie. Stuur jou kinders soontoe, en hulle leer blitsvinnig Nederlands praat en raak selfbewus oor hulle Afrikaans.
Die probleem is nie dat die regering die mes in het vir Afrikaans nie. Die probleem is dat die meeste Afrikaanssprekendes aanhou om die negatiewe stereotipes oor die taal en haar gebruikers bevestig.
Een van die eerste argumente wat gebruik word oor hoekom Stellenbosch Afrikaans moet bly, is om die arm bruin kinders van die platteland wat nie in Engels die mas kan opkom nie, te help. Het iemand al gaan kyk hoeveel van daai arm bruin kinders by Stellenbosch toegelaat word?
In my tyd, toegegee in die 1980’s, was ek een van drie bruin studente in my klas van 400 studente. My broerskind het tot 2017 aan Maties studeer, dus goed 30 jaar later. In haar klas was daar minder as 20 van die arm bruin studente vir wie die onderrigtaal behoue moet bly.
Die arm-bruin-student-verskoning is net dit: ʼn verskoning. UWK en UK, al twee veel meer inklusiewe spasies, het verkies om met hul taalbeleid meer mense in te sluit. En selfs toe die US se deure ferm gesluit was vir bruin en swart studente, was daai twee universiteite se deure oop vir die arm bruin plattelandse student, wat vinnig genoeg aangepas het in Engels.
Die hof het korrek beslis. Net jammer dat Afrikaners nie op hul eie tot die regte besluit kon kom nie. Keer op keer op keer moet inklusiwiteit van buite afforseer word.
Maar, vir die geharde eksklusiewe Afrikaanssprekendes: Moenie worry nie. Ek hoor Solidariteit bou ʼn Afrikaanse universiteit.
Ek wonder hoe welkom die arm bruin studente van die platteland daar gaan wees.
Lees ook:
US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
Elders gesien: Wannie Carstens reageer op die Konstitusionele Hof se beslissing
The post Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boere oorlog dan nog steeds? appeared first on LitNet.