Met 108 skole en 300 leerders van reg oor Suid-Afrika, beloof die finale ronde van die Sanlam WOW Spelkomptisie vir 2015 groot opwinding – en erge senuwees vir die ma’s en pa’s wat die dag gaan bywoon.
“Dit is die hoogtepunt van ’n jaar se harde werk en goeie organisasie,” sê Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees en WOW-projek. (WOW is ’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde.) “Ons doel met die kompetisie is om leerders weer opgewonde te maak oor hul taal – en oor woorde. By WOW en by die Woordfees draai alles wat ons doen om woorde – lees, skryf, sang, toneel. Ons wil graag dié passie ook by ’n nuwe geslag laat vlamvat.”
“As ware Welvaartmeesters™ is Sanlam trots om betrokke te wees by die WOW Spelfees,” sê Francois Adriaan, Hoof van Sanlam Korporatiewe Sosiale Betrokkenheid. “Spel speel ’n groot rol in leerders se akademiese prestasie op skool, asook in die ontwikkeling van leerders se potensiaal om uiteindelik naskoolse opleiding te ondergaan, finansieel vooruit te kan gaan en waardige, suksesvolle landsburgers te word.”
Fiona van Kerwel, die projekbestuurder vir die WOW-projek sê sy en haar span deurkruis jaarliks die land om toe te sien die verskillende rondes van die kompetisie – van skoolvlak, dan na kring-, distrik en provinsiale vlak – verloop foutloos en glad. “Ons maak staat op ’n hele klomp onderwysers en ouers wat ons vrywillig help om die projek verder uit te bou. Die potensiaal van ons leerders én hulle ouers en onderwysers is ongelooflik en gee ’n mens oneindig baie hoop.”
Drie leerders per graad uit elk van die nege provinsies sal op Saterdag 17 Oktober byeenkom om sake uit te spook as spelkoning- of koningin.
Sanlam, die Welvaartmeesters, is die trotse borg van die kompetisie.
Dit word aangebied by die Universiteit van Stellenbosch en begin om 9:45.
The post Nasionale ronde van Sanlam WOW Spelkompetisie appeared first on LitNet.