Burgert Senekal skryf in sy LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel ’n Veelvlakkige netwerkontleding van die Afrikaanse filmbedryf en filmakteurnetwerk (1994–2014) oor filmnetwerkontleding in die tydperk 1994 tot 2004. In hierdie essay skryf Anna-Marie Jansen van Vuuren oor ‘n filmmaker wat baie lank voor 1994 Afrikaanse films begin maak het – Jans Rautenbach, wat op Maandag 22 Februarie 2016 80 jaar oud word.
“Om ’n rolprent te maak is om ’n droom te vergestalt en dit in ’n bioskoop te laat wys vir die mense sonder drome. Jy bring drome vir mense en daai drome moet eenvoudig oorspoel in leë siele in; en jy moet vir hulle nuwe ervaringe en nuwe begrippe gee.” (Jans Rautenbach)
“What? You are doing research about Afrikaans identity and cinema, and you want to watch Die Kavaliers?” het Trevor Moses van die Nasionale Filmargief my oor die telefoon uitgelag. Dit was 2005. Ek was ’n jong student by Tukkies en as deel van ’n kultuurstudiestaak het ek besluit om sogenaamde Afrikaneridentiteit in rolprente te bespreek. Met my beperkte kennis van ou Suid-Afrikaanse rolprente het Die Kavaliers vir my na ’n goeie opsie geklink. Dit was die tyd vóór PVR, Netflix en die wye uitreiking van Afrikaanse rolprente op DVD’s wat ons vandag het. As jy na ’n ou rolprent wou kyk, moes jy die filmargief kontak. “Come to the film archives. We are next to the Union Buildings. I will introduce you to some films that explore Afrikaans identity.” En hy het. En die eerste daarvan was Jans Rautenbach se baanbrekerswerk, Die Kandidaat.
Rautenbach het Die Kandidaat (1968) gemaak nadat hy saam met sy mentor, Emil Nofal, aan King Hendrik (1965) gewerk het. Laasgenoemde rolprent het, nes Jamie Uys se vorige twee rolprente, Hans en die Rooinek (1961) en Lord Oom Piet (1963), die konflik en struweling tussen Engelse en Afrikaanse wit Suid-Afrikaners ondersoek. Daarna het Rautenbach in die vervaardigerstoel ingeskuif met sy rolprent Wild Season in 1967, voordat hy met Die Kandidaat as regisseur sou begin met sy filmoeuvre wat die wit Afrikaner se psige, identiteit en selfs net eenvoudige menswees sou ondersoek.
Met Die Kandidaat het Rautenbach my kop oopgekraak vir die kwessies en worsteling waardeur diegene wat hulself met die titel “Afrikaner” vereenselwig het, moes gaan. In my onkunde het ek gedink die pos by die “Stigting” waarvoor die hoofkarakter, dr Jan le Roux, aansoek doen, het met die Broederbond te doen, maar later uitgevind dit was ’n metaforiese verwysing na die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit het my ook bekendgestel aan belangrike pilare van “Afrikanerskap” in die uitgebeelde samelewing, deur middel van die lede van die keurkomitee: die sestigerskrywer (vertolk deur Cobus Rossouw), die NG Kerk-predikant, die staatsamptenaar en die “volksmoeder” (gespeel deur Hermien Dommisse). Met hulle uitgebreide gesprekke oor wat dit eintlik beteken om ’n Afrikaner te wees, in ’n ingeperkte vertrek met ongenaakbare simbole van Afrikanerleiers wat na hulle staar, het dit my die eerste keer self laat wonder oor en twyfel in my eie identiteit.
Daarna het seker een van Rautenbach se mees omstrede rolprente, Katrina (1969), gevolg. Dit was gegrond op ’n verhoogstuk, Try for white, en het gehandel oor ’n bruin vrou wat saam met haar seun as wit geklassifiseer word en sodoende familiebande breek om ’n lewe in die wit gemeenskap te lei. Enigeen met selfs net ’n beperkte kennis van Suid-Afrika se sensuurwette van die sestiger- en sewentigerjare sal absoluut wonder hoe hierdie regisseur dit reggekry het om hierdie twee rolprente te vertoon, terwyl baie van sy eweknieë se films verban is.
Met fyn strategie.
Op daardie stadium was die wit Afrikaanse samelewing meestal in twee groepe verdeel: die konserwatiewe groep, wat as die “verkramptes” uitgemaak is, en die meer liberale “verligtes”. Rautenbach het sy kennisse uit die laasgenoemde groep gebruik om ’n stryd teen die hoofsensor van die staat, Jannie Kruger, te voer. Kruger het reeds met Die Kandidaat probleme met Rautenbach se werk gehad, veral oor dialoog in dié rolprent waarin die kwessie voorgekom het of Afrikaanse bruin mense as Afrikaners beskou kan word. Maar met Katrina wou die sensor die rolprent uit die staanspoor verban – of groot gedeeltes uit die fliek sny deur middel van redigering. Intussen het ’n paar verregse individue ook doodsdreigemente aan Rautenbach gestuur. Rautenbach se “verligte” kennisse, veral die joernaliste Schalk Pienaar, Rykie van Reenen en die letterkundige swaargewig NP Van Wyk Louw, het namens hom in die kryt getree en veral in die Beeld-koerant ’n mediastryd gevoer téén sensorskap en vír vryheid van spraak. Hulle het die stryd gewen en Katrina is aan die wêreld, en nog belangriker, aan Suid-Afrikaanse gehore vertoon, op die einste manier waarop Rautenbach dit op die silwerdoek uitgeëts het – sonder enige veranderings van die sensor. In ’n tydperk waarin alle rolprente en ander kultuurwerke wat kritiek op die apartheidsregering gelewer het verban is, het hierdie skuif selfs internasionale filmkenners laat regop sit en Katrina nie net in die Suid-Afrikaanse rolprentgeskiedenis nie, maar ook in die biblioteke en leerplanne van internasionale rolprentskole verewig.
Vandag (2016), in ’n tydperk waar die Afrikaanse rolprentbedryf sterk staan, maar meestal romantiese komedies en tienerflieks as stapelvoedsel aan gehore opdis, praat ek gereeld met rolprentvervaardigers wat bieg dat dit net nie winsgewend genoeg is om dramas wat kritiese vrae vra te vervaardig nie. Buiten vir ’n uitskieter hier en daar maak dié tipes flieks nie geld nie en daarom is beleggers huiwerig om kapitaal daarin te belê. Dit word dus die verweer van baie hedendaagse fliekmakers. Op ’n vraag hieroor in ’n 2013-onderhoud by die Silwerskermfees het Rautenbach skerp hierteen te velde getrek: “Dis bog man, Anna-Marie. Hulle moet nie wegkruip agter die finansieringverskoning nie. Daar is altyd iemand wat juis dié een wat uitdagend werk, sal ondersteun.” In Rautenbach se geval was “die iemand” vier Nederlandse beleggers: een van hulle was verbonde aan die Irene Filmlaboratorium, maar die ander drie het in die boubedryf gewerk.
Ná Katrina het Rautenbach weer eens die Afrikanerpsige in ’n rolprent ondersoek. Deur die storie in ’n malhuis te laat afspeel, het hy die boodskap met ’n baie wesenlike metafoor aan gehore gekommunikeer. Jannie totsiens (1970) word deur baie plaaslike sowel as internasionale akademici as Suid-Afrika se eerste avant-garde-film beskou. Wat beteken dit? Die rolprent volg nie ’n klassieke narratiewe struktuur met ’n begin, middel en einde nie. Dis ’n psigologiese riller waarin Rautenbach veral met kamerawerk, kleur, kunsregie en klank eksperimenteer – op ’n manier wat nog nie op daardie stadium in die Suid-Afrikaanse rolprentwese beproef is nie. Volgens Martin Botha van die Universiteit van Kaapstad was Jannie totsiens ’n uitsondering in ’n tydperk waarin gehore na sogenaamde ontvlugtingsrolprente soos musiekblyspele, avontuur- en natuurfilms gestroom het. “Die fliek het beslis nie aan die verwagtings van gehore voldoen nie,” skryf Botha in sy boek South African Cinema 1896–2010.
Rautenbach het binne ’n jaar nog ’n rolprent voltooi. Pappa Lap (1971) het miskien op die oog af gelyk soos ’n fliek wat handel oor tienerliefde en ’n meisie se matriekafskeidsrok, maar dit het eintlik indringend gekyk na klasverskille in die wit Afrikaanse kultuur. Pappa Lap het die eietydse rolprentmaker Corné van Rooyen só beïndruk toe hy dit die eerste keer gesien het (Van Rooyen is eers nege jaar ná die uitreiking daarvan gebore) dat hy besluit het om met sy eerste fliek, Hollywood in my huis (2015), ’n intertekstuele huldeblyk daaraan te maak. Van Rooyen wys wel dat Afrikaanse dogters selfs ná 40 jaar steeds verknog is daaraan om die perfekte matriekafskeidsrok te kry (en dat dit grootliks bydra tot hulle selfvertroue vir die aand), maar fokus eintlik daarop dat die klasseverskille wat Rautenbach in sy 1971-fliek uitgewys het, steeds met ons is.
Van Rooyen se fliek is in 2014 as die beste rolprent by die Silwerskermfees bekroon en in sy toespraak het hy een spesifieke persoon bedank – die man wat volgens hom die mees invloedryke persoon in Suid-Afrikaanse rolprentwese is: “Jans Rautenbach het iets gesê wat alles wat ek in rolprente wou doen, net laat sin maak het. Hy het gesê: ‘Om ’n rolprent te maak is om ’n droom te vergestalt en dit in ’n bioskoop te laat wys vir die mense sonder drome.’” Van Rooyen sê hierdie woorde was vir hom ’n absolute inspirasie, “om te weet ek het ’n doelwit op hierdie aarde”. Daarom kyk die twee hoofkarakters van Hollywood in my huis (vertolk deur Christia Visser en Edwin van der Walt) self ook na ’n toneel uit die einste Pappa Lap op ‘n antieke tuisprojektor. Van Rooyen sê dit is die minste wat hy kon doen om in die fliek op ’n visuele manier sy mentor te bedank.
Pappa Lap was ook die begin van ’n blink loopbaan vir die regisseur Katinka Heyns. Alhoewel sy onder veterane soos Truida Pohl gestudeer het en reeds sedert 1969 in verskeie rolprentproduksies verskyn het, was Pappa Lap die eerste keer dat sy die kans gekry het om haar hand agter die skerms te waag. Rautenbach het haar betrek met die draaiboekskryf en daarna het sy ook by die produksie, kostuums en redigering betrokke geraak. Heyns sou daarna trefferrolprente soos Fiela se kind (1988) en Paljas vervaardig. Paljas was Suid-Afrika se eerste inskrywing ooit vir die afdeling beste buitelandse rolprent van die Oscar-toekennings. En selfs so onlangs soos 2012 het Heyns weer Rautenbach bedank vir sy mentorskap toe sy as die beste regisseur by die Silwerskermfees aangewys is vir Die wonderwerker.
Die kinematograaf van Die wonderwerker, Koos Roets, het self ook vir Rautenbach bedank toe hý weer in 2013 as die beste regisseur by die Silwerskermfees aangewys is. Hy het dié toekenning vir sy regie op Faan se trein ontvang. En Roets sê wat die toekenning veral besonders gemaak het, is dat Rautenbach dit aan hom oorhandig het. “Dit was só ‘’n groot eer. Ek het alles – of altans die bietjie wat ek weet – by hom geleer.” Roets het ook as ’n vakleerling onder Rautenbach gewerk en het die kinematografie van onder meer Jannie totsiens (sy eerste speelfilm as volwaardige kinematograaf), Die storie van Klara Viljee (1992) en Paljas (1998) waargeneem. Rautenbach sê self dat sy pad met Koos Roets al 50 jaar lank strek. Roets het ook die regie van die onlangse rolprent ’n Paw Paw vir my Darling behartig.
In 1981 is Jans Rautenbach se Blink Stefaans met Regardt van den Berg in die hoofrol uitgereik. (Van den Berg sou ook later ’n vername Suid-Afrikaanse regisseur word. Sy rolprent Uitvlucht verskyn later vanjaar op die silwerdoek.)
Toe het Rautenbach se voorlaaste rolprent, Broer Matie, in 1984 aangebreek. In dié fliek sou hy weer eens Afrikaanse gehore uitdaag, veral ten opsigte van die beskouings wat hulle oor ’n multikulturele samelewing gekoester het, iets wat tien jaar later, in 1994, ’n werklikheid sou word en waarvoor min in die vroeëre tagtigerjare gereed was.
Rautenbach het in 1984 ook No one cries forever gemaak, wat ook in Duits vertaal is. Dit is dieselfde jaar waarin ek gebore is.
Daarna het hy ophou flieks maak. Wat het tóé van hom geword? Ek het gedink hy is dood. Ja, dit bieg ek hier en nou. Toe ek daardie taak in 2005 gedoen het, het ek gedink oom Jans is nie meer met ons nie. Want hoekom anders sou ek nie gereeld van só ’n groot gees gehoor het nie? Hulle sou tog gereeld onderhoude en des dergeliks met hom in die media gevoer het? Tot my spyt was ek nog nooit by die KKNK nie. Aangesien hy een van die stigterslede van dié fees was, sou dit wel my persepsie verander het. Maar weer eens het ek in my salige onkunde verkeer totdat ek vir die eerste keer in 2012 by die Silwerskermfees aangekom het en gesien het hoe die feesorganiseerders ’n spesiale bank in die fliekteater vir hom uithou. O, hy leef, het ek besef en soos die Engelse uitdrukking sê, met eier op my gesig ’n sug van verligting geslaak dat ek nooit vantevore hierdie onkunde in ’n gesprek geopenbaar het nie.
In 2013 het die ATKV vir Rautenbach met ’n lewensbydraetoekenning vereer. Dié keer was dit nie vir sy bydrae as rolprentmaker nie, maar vir die rol wat hy in sy plaaslike omgewing speel, veral in die oprigting van ’n skool in Vlakteplaas. kykNET het dit as die ideale geleentheid gebruik om aan te kondig dat hulle hierdie veteraan weer ’n kans sou gee om in die regisseurstoel in te skuif – dié keer met ’n semi-outobiografiese rolprent, Abraham. Hierdie toekenning het my die geleentheid gegee om my eerste ware onderhoud met oom Jans te voer, in my hoedanigheid as joernalis vir Monitor by RSG Nuusaktualiteit. Daarna het hy my genoeg vertrou om vir my ’n blik op Abraham se draaiboek te gee en op hoogte te hou met die vordering.
En in 2014 het die tyd uiteindelik aangebreek vir die wêreld (of altans die uitgenooide gaste) om Rautenbach se eerste rolprent in 30 jaar te aanskou. Die rooitapytgeleentheid sou die aand plaasvind, maar eers het ek heel toevallig, of dalk was dit bestem, ’n kans gekry om ’n surrealistiese subteksoomblik saam met dié groot denker te beleef.
Abraham. Ek het in die Bayside-hotel met ‘n skok in een van my kollegas van die Universiteit van Johannesburg vasgeloop. Ntshavheni wa Luruli word as een van Suid-Afrika se groot regisseurs beskou nadat hy tydens die apartheidsjare ’n beurs gekry het om in New York onder groot name onder meer Spike Lee en Martin Scorsese te studeer. Wa Luruli se fliek Elelwani, Suid-Afrika se eerste Vendatalige rolprent, was een van die openingsrolprente by die betrokke jaar se Berlyn Internasionale Filmfees. Wat het hy by die Afrikaanse rolprentfees kom doen? “I came to see Jans Rautenbach’s movie.”
Maar dit sou nog ’n jaar langer neem voordat die Abraham by die loket sou draai. En dit het gemengde reaksies by resensente ontlok. Terwyl die Engelse Suid-Afrikaanse resensente baie positief oor die fliek was, het die meeste Afrikaanse kritici dit as ’n kunsfliek afgeskryf wat net by ’n beperkte gehoor sou aanklank vind. Eggo’s en weerklanke van Jannie totsiens in 1970?
’n Filmdosent by die Universiteit van Pretoria, Chris Broodryk, sou na afloop van die fliek se Kaapse première in September 2015 vir my sê dat hy baie verbaas was oor hoeveel diepte daar is in ’n verhaal wat oënskynlik so eenvoudig is. Ek het self daarna op die Afrikaanse rolprentwebblad Bioskoop.co geskryf hoe diep die fliek mý geraak het, veral omdat Rautenbach dit kon regkry om ’n eenvoudige storie met visuele beelde te vertel. Nie ’n nagebootste storie nie. Sy eie storie. Een waarin hy boonop kritiek lewer op homself – omdat hy as ‘n kunstenaar ‘n ander skepper (Abraham) se stem misken het: “Dit gaan oor Rautenbach wat in die sewentiger- en tagtigerjare flieks gemaak het wat die bruin man ‘n stem gegee het, maar die stem van ‘n bruin man naby aan hom misken het. En wat my hoendervleis gee nou in 2015 – soveel jare nadat die ware storie afgespeel het – is hoe min daar aan die sosiale omstandighede van die mense verander het wat die karakters voorstel. Miskien is dit die grootste vraag wat Rautenbach met Abraham vra. Watter rol speel ons in hierdie omstandighede? Soos wat die een karakter beskuldigend vir Rautenbach in die fliek sê: “Dit was jy!”
En toe ek by die einste première vir Rautenbach vra hoekom hy na 30 jaar besluit het om weer ’n fliek te maak, het hy weer eens nie doekies omgedraai nie en skerp in die hedendaagse Afrikaanse rolprentbedryf ingeklim. “Dit voel of hulle deesdae net koekresepte volg as hulle flieks maak. Dit lyk nie of iemand meer die waagmoed het om ’n nuwe verhaal te skep nie. Dis altyd ’n kopie van hiérdie oorsese fliek of ’n aanpassing van dáárdie boek. En ’n mens kan nie ’n filmbedryf só bou nie.”
Rautenbach is dus deur sommige kritici met Rip van Winkel vergelyk, wat 30 jaar lank geslaap het. Soos wat Broodryk dit verduidelik: “Vir 30 jaar lank het daar niks gebeur nie. Vir 30 jaar het Rautenbach geleef, maar ook geslaap. En toe hy ontwaak is dit weer tyd om ’n storie te vertel. En hy vertel die régte storie op die régte tyd.
En nou is dit 2016 en oom Jans se 80ste verjaardag het aangebreek. Mag u in die volgende 80 jaar net soveel drome skep soos wat u bakens verskuif het.
Anna-Marie Jansen van Vuuren is 'n vryskutjoernalis en 'n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg.
- Alle foto's verskaf deur en met erkenning aan MNet
***
Buiten vir die onderhoude wat ek met die onderskeie rolspelers gevoer het, het ek vir hierdie oordenking sterk gesteun op Martin Botha se twee werke: Jans Rautenbach: Dromer, baanbreker en outeur en South African Cinema 1896–2010. Botha het ’n kernrol gespeel in die opteken van Rautenbach se oeuvre en sonder sy navorsing sou my kennis maar ‘n klein stofkorreltjie op ’n groot kameralens gewees het.
Lees ook nog 'n onderhoud oor Abraham.
Lees 'n filmresensie oor Abraham.
The post Jans Rautenbach, filmmaker, op tagtig appeared first on LitNet.