"Sport is vandag ’n belangrike onderdeel van die wêreldekonomie en speel ’n belangrike rol in die vermaaklikheidsbedryf. Sport en die media leef saam in ’n simbiotiese verhouding – sport bied aan televisie- en ander medianetwerke ’n oorvloed van materiaal wat aan geesdriftige kykers, luisteraars of lesers herlei kan word." So skryf Steve Cornelius in 'n LitNet Akademies (Regte)-artikel oor Die regsaard van mediaregte in sport. En 'n afrigter wat ook in die media se spervuur beland het, soos weens die keer toe hy in die pad gesteek is 'n week voordat die Goue Leeus teen die Britse en Ierse Leeus sou speel, is Eugene Eloff. Lees Jean Oosthuizen se onderhoud met hom hieronder.
Van jongs af was dit rugby en musiek wat Eugene Eloff se hart vinniger laat klop het. Sy passie vir rugby het van hom die geliefde Coach Loffie gemaak. Maar dit was ook in dié sport waar hy moes leer om teleurstelling en terugslae te hanteer. As afrigter van die Goue Leeus moes hy op die telefoonpale lees hoe hy in die rug gesteek is. In sy boek Coach Loffie vertel hy vir die eerste keer wat agter die skerms gebeur het toe Jake White van hom wou ontslae raak as afrigter. Jean Oosthuizen gesels met hom oor sy liefde vir rugby, maar pols hom ook oor omstrede kwessies soos verbode middels, beserings en die druk wat daar op spelers en afrigters is.
Sportafrigters, en spesifiek rugbyafrigters, is gedurig in die spervuur by die sportpubliek. Dit is dikwels ʼn baie ondankbare werk, soos wat jy self in jou loopbaan as afrigter ervaar het en waarvan jy ook in jou boek Coach Loffie, wenke vir wenners melding maak. Wat is in ʼn neutedop die geheim van ʼn suksesvolle afrigter?
Ek dink die dag wat jy besluit om rugbyafrigting jou loopbaan te maak moet jy weet dat jy in ʼn mate publieke eiendom word, en dat jy onder ʼn vergrootgas dopgehou word. Die geheim is dat jy ʼn plan moet hê en dit deurgaans aanpas. Jy moet progressie hê en saam met die span leer en groei, saam opoffer en jou voete op die grond hou.
Jy verwys in jou boek na die enorme druk waaronder ʼn afrigter moet funksioneer. Hoe het jy die druk hanteer?
Ek dink ek funksioneer van jongs af goed onder druk. Hoe meer druk hoe meer berekend en kalm is ek. Die weermagjare en grensoorlog het ook gehelp. ʼn Afrigter kan net die beheerbares beheer ... doen die regte goed met ʼn doel om die regte redes. Daarna moet jy jou vrugte pluk en die proses fasiliteer. Dis ongelooflik dinamies en spelers kom gou agter as ʼn afrigter nie druk kan hanteer nie.
En dan is daar soms nog ook rugbypolitiek by betrokke. Jy moes byvoorbeeld op die telefoonpale die koerantopskrifte lees dat jy in die pad gesteek is as afrigter van die Leeus. Hoe rym sulke optrede met goeie sportmanskap?
Rugby was nog altyd my passie. Ek het nie afgerig vir ego of geld nie, maar om van spelers beter mense vir die samelewing te maak. Ek is ook nie ʼn kopknikker nie en kruip nie gat by bestuur om my werk te hou nie.
As ek glo ek is reg en dis in belang van die span en die spelers, het ek opgestaan en my sê gesê. Dit het my nie gewild gemaak by sommige van die bestuur nie, maar ek het respek afgedwing by die regte mense en veral spelers. Ek is nooit in die pad gesteek nie en die Leeus was 11 jaar lank goed vir my. Hulle het my ʼn ander pos, soos direkteur rugby of iets, aangebied. Ek het dit geweier, want ek wou nog afrig.
Jy skryf in jou boek: “As jy in ʼn donderstorm instap, moenie omdraai nie. Hou net aan stap. Jy gaan uiteindelik daardeur kom.” Maar as jy geweet het van die donderstorms wat vir jou wag by die Leeus en ook later by Boland Kavaliers, sou jy seker ʼn dikker reënjas aangetrek het of hoe?
Agge nee wat, ʼn mens is wat jy is, doen wat jy moet doen en vat verantwoordelikheid vir jou besluite en aksies. Ek sou niks anders gedoen het nie. Ek het ook nooit prokureurs of koerante toe gegaan nie. Ek het dit op die ken gevat en my oog op my doelwitte (die bal gehou). My passie het by rugby gebly.
Ongeag watter span jy afrig?
Ek het nog altyd gesê ek sal dieselfde genot en passie uit die spel put al moet ek die Bokke, Leeus, Boland of wie afrig. En my toets het gekom. Ek help tans kinders buite die Paarl van ʼn spesiale skool, en glo my, dis net so ongelooflik – al is die veld grond. Ons het een ou bal en geen geriewe nie. Daar is so baie passie – al wat die outjies soek is leiding, liefde en hoop. Dit hou my op die aarde en nederig. Stefan Terblanche by SA- legendes en Franna Cilliers van Living Ball gaan ingryp en help, en Val de Vie gaan gras plant en die veld mooi maak. Enigiets is moontlik!
Soms is die druk enorm, en baie keer onbillik, maar soms geregverdig. Ek dink onder andere aan die geweldige kritiek wat iemand soos Heyneke Meyer verlede jaar moes trotseer. Is dit ʼn geval van die beste stuurman staan aan wal, of is dit soms nodig dat daar sulke druk van buite op ʼn afrigter geplaas word?
Heyneke is ʼn ongelooflike mens, maar het, soos enige ander afrigter, geweet waarvoor hy hom inlaat toe hy die pos aanvaar. Dit is maar deel van die pakket. Om die Springbokafrigter te wees is nie maklik nie. Die media en rugbymal publiek kan ongenaakbaar en persoonlik wees. Die geheim is om jou kop te lig en dit te face.
Wynand Claassen, vir wie ek ongelooflike respek het, het vir my geleer: bly soveel moontlik uit die kalklig en media uit. Daar kan soms ook positiewe insette uit kritiek kom. Mens moet nie altyd die kundigheid en ingeligtheid van Jan Publiek onderskat nie. Hulle ken ook die spel en weet wat aangaan. Ek het gewoonlik na almal geluister en die goeie goed gehou en die res weggegooi.
Wie is jou droomafrigter as jy enige een uit die rugbygeskiedenis kon kies?
Daar is baie. Kitch Christie, Rod MacQueen het uitgestaan, maar ek het ook baie geleer by Laurie Mains. Dan was daar die vorige era se Dok Craven en Izak van Heerden.
En wie sou jy vandag aanstel as Springbokafrigter uit diegene wat min of meer beskikbaar is?
Dis ʼn strikvraag, of ‘n moeilike ene. Wie hulle ook al aanstel as hoofafrigter, moet sy hulpafrigters en bestuurspan met wysheid en omsigtigheid aanstel. Omring jou deur die bestes. Ek dink vorige resultate is belangrik (een Curriebeker gewen is nie goed genoeg nie). Ook nie ʼn persoon wat net ʼn goeie spel kan “praat” en homself in enige pos kan inpraat nie. Moenie ʼn ou aanstel wat gemanipuleer word nie. Dit moet iemand wees met ʼn sterk karakter, met ʼn visie en strategiese denke. Die heel belangrikste eienskap bly egter eerlikheid en integriteit. En dit geld ook vir keurkomitees.
Ja, kom om ons praat bietjie breër as net oor die spelers. Sportbestuurders maak staat op die selfgedrewenheid van spelers om hulself in die strewe na sukses verby normale menslike vermoëns te dryf. Word dit nie soms te ver gevoer nie?
In moderne afrigtingstelsels, hulpbronne, infrastruktuur, geld en kundigheid kan ʼn goeie plan en uitvoerbare struktuur maklik daargestel word wat hoogs waarskynlik grootse resultate kan oplewer as dit reg geïmplementeer word. Afrigters moet egter ook spelers bemagtig met gereedskap en meganismes om te kan speel, self besluite te neem en verantwoordelikheid te kan vat.
Jy het ʼn militêre agtergrond, soos jy in die verbygaan genoem het, en ken die belangrikheid van streng dissipline as mens jou doelwitte wil bereik. Maar waar lê die grens tussen streng dissipline en spanboupogings soos Kamp Staaldraad wat alle grense van streng dissipline oorskry?
Dissipline vorm die basis van enige sukses ... alles in harmonie en balans. Dit hang af wat die leier se styl is en hoe hy dit toepas. Jy kry twee tipes afrigters of leiers. Die een wat lei van die rang op sy skouers af (outokraties). Vir hulle is dit “my way or the highway”. En dan is daar die afrigter of leier wat uit sy hart uit coach (demokraties). Laasgenoemde word gerespekteer as gevolg van sy gedrag en nie sy posisie nie. Ek het vir my spelers omgegee en bemagtig om met my te verskil – alles met respek natuurlik.
Jy praat ook oor beserings in jou boek. ’n Studie van Suid-Afrikaanse rugbyspelers tydens die 2012-SuperRugby-toernooi waaraan beroepspanne van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië deelneem, het getoon dat daar ’n beseringskoers by beroepsrugbyspelers in hierdie toernooi van 9,2 beserings per 1 000 ure was. As ’n mens in ag neem dat die gemiddelde beseringskoers in die Suid-Afrikaanse mynboubedryf 2,6 beserings per een miljoen ure beloop, word dit meteens duidelik dat daar vandag ’n beseringskrisis in sport is. Waarom is die uitermate hoë beseringstempo in sport oënskynlik so aanvaarbaar?
Te veel rugby! Druk om beseerde spelers op die veld te kry. Hier sit ons nou met Handré Pollard. Hy het geoefen en gespeel met ʼn besering, nou is hy uit vir die jaar.
Afrigters is nie dokters of fisio’s nie – hulle moet luister na die mediese span, want húlle is die kundiges op daardie gebied. Jy werk met ʼn mens en ʼn lewe na rugby. Neem besluite asof dit jou eie kind is. Ek het my mediese span carte blance gegee om spelers uit te haal, te laat rus of te rehabiliteer. Hulle kon eers weer speel nadat daar uitdruklik toestemming gegee is dat die speler weer reg is om te speel. Selfs dan sou ek nog steeds die speler van die bank af bring, ongeag of hy die kaptein of game breaker was.
Verbode middels en opkikkers was al menige sportman se ondergang. Hoe ernstig is die probleem by rugby?
Dit is kommerwekkend wat daar buite aangaan, en veral op skoolvlak. Die strawwe kompetisie en wenmotief speel ʼn groot rol. Daar is ʼn spul gemors wat die spelers ingegee en selfs ingespuit word. Uit die aard van die saak kan die speler vir twee jaar geskors word, maar wie gaan pa staan as die outjie in latere jare nierprobleme opdoen, of orgaanversaking? Daar is genoeg goeie sportwetenskaplikes en deskundiges. Raadpleeg hulle voordat jy net inspring en supplementasie gebruik. Daar is genoeg goeie produkte, soos byvoorbeeld Cipla, wat medies getoets en goedgekeur is.
Hoe skuldig is afrigters as dit kom by die gebruik van verbode middels by sportlui, en sal mens ooit hierdie euwel kan uitwis?
Soos wat ek gesê het, afrigters wíl wen! Sommige soek daardie “competitive edge” en neem dan kortpad. Ek veralgemeen dalk, want almal is nie dieselfde nie, maar dit is dikwels wanneer daar na allerlei produkte gegryp word.
Dit bly maar ʼn probleem in alle kompeterende sport. Vir my is dit eenvoudig: wat jy saai sal jy maai ... jy moet die “hard yards” doen ... maar daar is goeie supplementasie wat help met die herstel ens.
Anthony Johnson verwys in sy bydrae tot jou boek na die minagting van kontrakte. Hoe voel jy oor die minagting van kontrakte by spelers en beamptes en die weglokking van spelers en afrigters deur middel van geld? Het sport nie tog maar tot ʼn groot mate in ʼn geldgod ontaard nie? Wat het van lojaliteit geword en wat sou Dok Craven daarvan sê?
Ongelukkig is ons in 'n profesionele era, en tye het verander. Daar is nou groot geld en kontrakte ter sprake. Die mes sny twee kante toe: unies en instansies wat ʼn kontrak minag en reëls verander soos hulle wil, en spelers wat nie die reëls nakom nie.
Daarom doen mense soos Piet Heymans reusewerk by SARPA om spelers te ondersteun. Weer eens speel vertrouensverhouding tussen werkers en werknemers ʼn belangrike rol. Ek voel jammer vir die EP Kings spelers!
Op ʼn ander noot, wat is jou kort- en langertermynvoorspellings vir Suid-Afrikaanse rugby plaaslik en internasionaal?
Korttermyn ... maak huis skoon en begin van voor af bou. Meer vaartbelyn, kleiner, funksioneel. Kry die regte mense met integriteit in posisie. Begin bou ... met ʼn plan. Kry kontinuïteit en help Suid-Afrikaanse rugby om weer momentum te kry. Alles is nie verlore nie; inteendeel, ons het ongelooflike talent in ons land ... dis ons bate ... ons moet weer bo uitkom!
Jou reis as afrigter is seker nog lank nie verby nie. Watter uitdagings lê daar vir jou voor?
Ek is betrokke by ʼn forum, www.superscouts.co.za, wat ʼn platform vir alle spelers is om hulself te bemark en op die voorgrond te sit. Dit is soos ʼn tipe van LinkedIn of Facebook vir rugby. Ek het ook my boek geskryf as ʼn handleiding vir afrigters van alle sportkodes. Die Engelse weergawe verskyn binnekort. Ek doen ook konsultasiewerk, kursusse, mentor ʼn paar belowende jong spelers en afrigters ... en wie weet ... rugby is in my bloed en my passie!
Foto's verskaf
The post Onderhoud: Coach Loffie appeared first on LitNet.