Die skeppers van die pantomime Liewe Heksie: Flower Power gesels met Christiaan J de Swardt oor die bekoring van dié teatergenre.
Pantomime is 'n baldadige viering: ‘n flink fanfare van fantasie – vir jonk en oud!
Liewe Heksie: ‘n hippie?
Margit Meyer-Rödenbeck se kundigheid met kinderteater én haar ondervinding as skerpsketser, komediant en satirikus word in Liewe Heksie: Flower Power verweef. Die titel laat ‘n mens onwillekeurig wonder: Is Levinia toe al die tyd tóg ‘n hippie?
“At heart, ja: ek dink Levinia is ‘n ‘hippie’. Kyk net na daardie toutjieshare en die blom op die hoed en strik in die hare. Op ‘n ernstiger noot: tog wel; Levinia gun vir almal en alles net goed en sien die beste in almal raak en wil net vrede hê. Was dit nie ook maar die destydse blommekinders se behoeftes nie?
Die titel
“Flower Power was bloot ‘n logiese titel, om ‘n paar redes: die silwerroos se krag en die stryd waarom die hele verhaal gaan. Dit suggereer onmiddellik dis nie net op kinders gemik nie; dis familieteater én dit lewer sosiale kommentaar met die fokus op die ‘goedheid’ – wat spruit uit die oorwinning van die onvermydelike stryd, waarin die goeie die bose moet oorwin.”
Musiekgedrewe
Dié aanbieding word by die Woordfees onder musiekproduksies gelys. “Juis. Dit is nié kinderteater nie; dit is ‘n pantomime: teater vir die hele gesin – van 3 tot 84 en wragtig verder! Tot dusver was ons gehore 70% volwassenes, maar almal het iets gemeen: jonk van hart.”
Hierdie produksie is juis vanjaar weens sy musiekgedrewe aard vir twee kykNET Fiëstas benoem.
Vermaakvlakke
“In die pantomime is daar twee vlakke waarop die storie vertel word. Die kinders geniet die slapstick en lawwighede en vir die volwassenes is daar slim en soms stuitige sinspelings. Die ideale gehoor is nie net ‘n klomp volwassenes of ‘n klomp kinders nie. Dis juis die mengsel van die gehoor wat die ervaring laat slaag. Die volwassenes kraai van die lag as die kleingoed spontaan deelneem. Die kinders sal op hulle beurt weer glad nie Geraldina Geelheks verstaan met haar politieke aspirasies nie, maar hulle weet vir seker hulle hou nie van haar nie.
“Pantomime is eintlik ‘n ‘veilige’ genre, omdat dit nie probeer om ‘n ‘statement’ te maak nie. Die titel berei jou egter voor dat jy nie die heel tradisionele Liewe Heksie moet verwag nie.”
Inderdaad, hier kriewel ‘n kinkel in die kabel!
Omgedolwe Blommeland
Niemand was egter daarop voorbereid toe ‘n onskuldige pantomime die teiken van stakers moes wees toe feesgangers se teaterpret verlede jaar in die Vrystaat tydens ‘n opvoering versteur is en die verhooggrond in Blommeland ietwat omgedolwe is nie!
“Nadat die dansende stakers ons met hul teenwoordigheid op die Sand du Plessis-verhoog vereer het, het ons nog geen verdere speelvakke gehad nie. Maar dit was vanaf die begin so beplan om eers weer by die Woordfees daarmee voort te gaan. Dit was nie ‘n aangename ervaring nie; nie vir die gehoor of die spelers nie (seker ook nie vir die stakers nie, want daar was geen wenners nie; dit het almal net geld en energie gekos). ‘n Veilige, gerespekteerde baken is binnegeval. Gelukkig moes ons ná die voorval nog twee vertonings doen. Dis soos afval van ‘n perd en weer opklim. Ons het die verhoog en die ruimte onverskrokke teruggeëis!”
Margit se sesjarige dogtertjie, Luca, wat die rol van Liewe Heksie se katjie, Matewis, vertolk, het ná die voorval net een vraag gehad: sy wou weet of hulle die volgende vertoning van vooraf moet doen of net moet aangaan waar hulle onderbreek is.
“Dié kinderonskuld en energie maak dat die pantomime lig bly en dit maak dat ons makliker ons fokus hou vir wie die genre bedoel is en wat die doel van die produksie is. Ek beloof die hoofdoel is pret! Jy moet 90 minute lank van al jou sorge vergeet, uitstap en dink: Heng, dit was nou lekker! Wanneer is die volgende vertoning? En onmiddellik wéér ‘n kaartjie bespreek!”
Tradisionele teatergenre
Die pantomime: ‘n eeue oue tradisionele teatergenre – waarin die geliefde en bekende met aktuele vernuwing verweef word – verg verantwoordelikheid en spitsvondige vernuf.
Die antieke Romeine het baie tot die moderne wêreld bygedra. Dink maar aan sement, paaie, steenoonde, sentrale verwarming, koerante, kalenders, kunstande, keisersneë, rioolstelsels, boeke en wat nog! Gelukkig was die Romeine nie net hoogs gekultiveerd nie; hulle kon ook partytjie hou dat dit klap en daarom is een van hul prettigste ontdekkings die pantomime!
En danksy die toevoeging van ons eie storiemakers, met die ontslape Verna Vels se nimlike ikoniese karakters van haar kinderreeks Liewe Heksie aan die voorpunt, kan ons in Suid-Afrika in Afrikaans dié genre ten volle ontgin.
En nou is daar opwinding en afwagting in Blommeland, want daar’s rugbykoors én die silwerroos word (weer) gesteel … Die Geelheks knoei, Koning Rosekrans is verlief, Karel Kat kom kuier en die kabouters, Blommie en Kwaatjie, baljaar uitbundig. Die gifappels, Kerrie en Borrie, is gesplete aan ‘t stry en Matewis miaau-miaau liefdevol, terwyl Levinia, oftewel Liewe Heksie, wel ... die slimste heksie is wat sy ken! Veral wanneer sy Griet, die towerperd, per ongeluk toor …
Boonop is dié dollatjie ‘n regte rock chick!
Lizz Meiring is die regisseur
“Die aweregse grappies, sosiale spot en politieke verwysings is vir grootmense; die spanning in die storielyn is vir kinders,” sê die waagmoedige regisseur Lizz Meiring. “Hier moes ons 'n fyn lyn loop tussen wat mense van Liewe Heksie-stories onthou én verwag teenoor aanvaarbare moderne, onverwagse kinkels. Pantomime is ‘n verrassende, verbasterde, unieke genre. In pantomime word hansworsery, lawwe, geykte grappies, slim woordspelings, stoute dubbelsinnighede, politieke, letterkundige en sosiale verwysings saam opgedis in ‘n bonte, baldadige pakkie. Klug, komedie, elemente van kinderteater, satire, musiekblyspel en music hall verweef om ‘n redelik eenvoudige feëverhaal met ‘n kinkel te vertel. Die opvoerstyl is groter, astrant, raserig, magies, vermaaklik en fantasmagories. Die oorgrote meerderheid van die karakters word as eksentrieke karikature uitgebeeld. Dis kleur, klank, spoed en energie: ‘n klug op acid!”
Of, anders gestel: “Dis ‘n sirkus in jou kop, want alles is moontlik,” aldus die gebore danser, performer en choreograaf Loukmaan Adams. “Gelukkig is daar mense wat meen ek’s sjarmant, ook … Dit is waarom ek nooit enigiemand se tweelinkervoete-pogings beledig het nie. Maar, ek sal bieg: ek het soms gewonder hóé ek ritme in dié lotjie wittes se lywe gaan kry?!”
Maar hy hét!
Emile Minnie is die Koninklike Pianis
Emile Minnie, die bekende pianis, kabarettis, liedjieskrywer en sanger, lewer as die Koninklike Pianis slim, aanhitsende kommentaar op die gebeure en skep ‘n dialoogklankbord wat verskillende vlakke van storievertel en peisende subteks ontlok. “Die uitdaging was om musiek te kies wat lig genoeg vir kinders is om hulle mee te vereenselwig – én diep genoeg om volwassenes ook te boei. Ek het die musiek – van pop en rock tot klubritmes en rymklets-hip-hop – speels en prettig verwerk.”
Margit tree tussenbeide. “Emile moes omtrent uithaal, want nie al die akteurs is gebore sangers nie. Maar hy is supertalentvol én geduldig!”
As vervaardiger verkies Margit om, wanneer sy die rolverdeling beset, te let op spel- én humorvernuf, want in pantomime is tydsberekening van uiterste belang. In pantomime word herkenbare treffers met nuwe lirieke gebruik. In dié produksie kry Jak de Priester se “Binnelanders” (wat ‘n liefdesduet word tussen Koning Rosekrans en die Feëkoningin), Karen Zoid se “Afrikaners is plesierig”, Liane May en Jay se “Naweeklyfie”, Katy Perry se “Roar” en Village People se YMCA ‘n ánderse poetsing.
“Kom kyk! Dit is net die medisyne vir die land se depressie. Los die Prozac by die huis en kom pop eerder ‘n Heksie-panto!”
Kundigheid
Margit Meyer-Rödenbeck, die skepper en vervaardiger van Liewe Heksie: Flower Power, het die grade BA Drama Honneurs in kinderteater (cum laude) en ‘n meestersgraad in teaterbestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
In 1990 het Margit vir die Baxter-teater se Storyspinning Theatre Company gewerk aan produksies soos Hansel and Gretel, Alice in Xmas Wonderland, Goldilocks and the Three Bears.
Margit is in 1992 aangestel as die artistieke bestuurder by die Breughel-gemeenskapsteater in Cloetesville, waar sy op kinder- en gemeenskapsteater gefokus het.
In 1993 het sy en Eugenie Grobler die Scenario-toneelmaatskappy gestig om in kinderteater, slypskole en kabaret te spesialiseer. Hulle het vyf jaar lank talle skole met poppekas- en storieteateraanbiedings besoek.
Tydens Margit se radiojare by Punt Geselsradio (1997 tot 2000) het sy, naas die volwasse inbelprogram, ook ‘n wonderlike kinderprogram, Pikkiepunt, aangebied, wat kinders die geleentheid gegee het om hul mening oor allerlei dinge te lug.
Die afgelope 15 jaar gee Margit en haar vennoot, Marinda Engelbrecht, deur middel van hul kinderteatermaatskappy Krazy Kats verhooglewe aan die voorgeskrewe internasionale leesreeks Vlooi/Kipper-boeke. Dié produksie word jaarliks in Augustus by Kunstekaap aangebied en word deur 20 000 kinders bygewoon en is ook al twee keer in Doha, die Arabiese hoofstad van Qatar, opgevoer.
Sy kén haar nering en weet hoe om humor en komedie vir jonk en oud te skep en gemengde gehore te vermaak!
- Sedert Liewe Heksie: Flower Power se KKNK-debuut verlede jaar is die produksie ook by Bellville se Stadskouburg, by die Innibos-kunstefees (waar dit met die gewildheidstoekenning bekroon is) en by die Vrystaatse Kunstefees opgevoer. Die produksie word vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch aangebied.
- Liewe Heksie: Flower Power is te sien by Stellenbosch se Woordfees van 5 tot 13 Maart en dan by die Brooklyn-teater in Pretoria van 19 April tot 1 Mei.
- Die produksie word ondersteun deur kykNET, Absa-KKNK, Hiemstra Trust, Clemengold, Tygervalleisentrum, Hollywood Costumes en Hannon.
- Christiaan J de Swardt, die skrywer van dié artikel, se loopbaan in kunste- en vermaakjoernalistiek strek oor 36 jaar. Hy is verlede jaar met die Basa-toekenning (silwer) vir uitmuntende kunstejoernalistiek bekroon.
Metafore in Liewe Heksie: Flower Power
Die akteurs van Liewe Heksie: Flower Power gesels met Christiaan J de Swardt oor die metafore van hul karakters.
Margit Meyer-Rödenbeck is Levinia, Liewe Heksie
“Ek vertolk die rol van Levinia al vir soveel jare dat ek al in my slaap gestap het en vir my man gesê het: ‘Haai oe, kyk die blomme teen die slaapkamermure,’” sê Margit. “Sy is waarlik een van die volrondste karakters wat ek al kon vertolk. Sy is die mens met die mooiste, mooiste hart en haar intensie is altyd goed. Haar "dom"-heid en haar naïwiteit laat haar gereeld in die moeilikheid beland, maar ironies genoeg kry sy haarself altyd daar uit en tree só as die oorwinnaar uit die ewige stryd met die bose: die nare ou Geelheks. Liewe Heksie versinnebeeld die goeie in mense.”
Luca Human is Matewis Kat
Waar Heksie is, kry jy ook haar katjie, Matewis, gespeel deur Margit se sesjarige dogtertjie, Luca Human. Margit sê sy het Luca al in 2014 jaar beloof dat wanneer sy weer eendag die rol van Heksie vertolk, Luca die rol van Matewis mag speel. “Ek het natuurlik toe glad nie besef wat die omvang van die pantomime gaan wees nie. Maar eintlik gee pantomime die perfekte ruimte vir kinderakteurs. In Engeland, waar dié genre geweldig gewild is, speel ‘n hele dorp se mense in ‘n opvoering. ‘n Hele familie is op die verhoog en al die ander families is in die gehoor!”
Luca neem haar rol as Heksie se beste maatjie ernstig op. Al is Matewis “‘n kind-kat”, soos Luca sê, is sy “slimmer” as Heksie. Dis Matewis se stemmetjie – “miaau-miaau” – wat haar tot besinning roep.
Toe Margit haar sê sy kan maar die laaste liedjie van die vertoning saamsing, toe merk Luca op: “Moenie laf wees nie, Mamma! Ek is ‘n kat. Katte sing nie!” Maar wat dan van Karel; hy sing dan? “Nee, Karel is ‘n mens-kat!”
In Luca se lyfie is Matewis ‘n bondel katvreugde en jy wil hom (of is dit dalk haar?) sommer van die verhoog gaan afhaal en huis toe neem. “Ons moet haar met baie moeite oortuig om ná elke show haar kostuum uit te trek,” klik Margit.
Luca is vanjaar grootskool toe, maar sy is op haar pos as Matewis. “Sy het nogal vinnig groter geword en ons moes die kostuum se arms en bene van die babakatjie effens verleng. Gelukkig is Levinia se katjie ‘n slim katjie wat haar gereeld moet reghelp en red. Die vertonings word haarfyn beplan om nie met haar skoolwerk in te meng nie. Ek dink in dié stadium is hierdie ervaring ‘n heerlike verryking vir Luca. Sy geniet amper die uur lange opwarmsessie vooraf, wanneer ons lyf, stem en kop in die regte stemming kry, die meeste. Boonop het sy ook geleer dat Mamma wel régtig werk en nie net speel nie. Hoewel konserthou baie pret is, is dit harde werk en vir ‘n panto moet jy fiks wees en stamina hê.”
Chris van Niekerk is Karel Kat
“Karel Kat is ‘n kat wat glo enigiets is moontlik en alles kan deur dialoog opgelos word,” meen Chris van Niekerk. Dié veteraan vertolk hierdie rol met sjarme, die vergestalting van die ware kattemaaiende heer. Chris kan die nommers in ‘n telefoonboek lees en dit soos poësie laat klink! In dié pantomime beskryf hy Blommeland se wêreldbekerrugbywedstryd só geesdriftig dat dit selfs die ontslape sportkommentator Gerhard Viviers sou aanpor! “Karel Kat is die metafoor vir diplomasie en takt,” meen Chris.
- Chris van Niekerk het volksbesit geword as Ou Krokodil (Oom Francois) in SABC2 se sepie 7de Laan. Sy mees onlangse TV-werk is in kykNET se dramas Vlug na Egipte en Die Boekklub.
Crystal-Donna Roberts is Kwaaitjie Kabouter, Griet se voorkant en die bitter Haan.
Aan diere, ‘n gebrek aan takt en verwarring is daar in dié pantomime nie ‘n tekort nie! Crystal-Donna Roberts is naas Kwaaitjie Kabouter ook te sien in die rolle van ‘n bitter Haan en die kopkant van Griet, die towerperd. “Kwaaitjie is ‘n les in geduld. Deur hom leer ons ook om mense ‘n kans te gee om hulself te bewys; soos hy vir Levinia ‘n kans gee. Die Haan is ‘n whacky karakter wat dinge op sy kop keer en dit wanneer mense dit die minste verwag. Dit gaan oor persepsie. Heksie wil hê hy moet ‘n eier lê, maar almal weet hane kan nie. Die haan raak ontsteld, want hy word misverstaan, soos so baie van ons.” En wanneer die haan ontsteld word, het dié aktrise óók genoeg gehad. “Griet herinner ons daaraan dat hulp soms onverwags op vreemde maniere en net betyds kan opdaag.”
- Crystal-Donna is veral bekend om haar rolle in Vallei van die Sluiers en Getroud met Rugby op kykNET. Sy is onlangs – saam met die wêreldsterre Juliette Binoche en Kirsten Stewart – as beste aktrise by die Goue Leeu-filmfees in Venesië benoem vir haar rol in die Suid-Afrikaanse rolprentverdiger Olivier Hermanus se fliek Endless River.
(Net vir die duur van die US Woordfees word dié rolle deur Dean Balie vertolk.)
De Klerk Oelofse is Blommie Kabouter, die Gifappels Borrie en Kerrie, Liewe Lotta en Griet se agterkant
O Griet! Dis die towerwoord en toe kul De Klerk Oelofse die gehoor! Hy is Griet, die perd, se agterkant. En hy vertolk die rolle van Blommie Kabouter, die gesplete Gifappels Borrie en Kerrie (tegelykertyd!) en Liewe Lotta, die Feëkoningin se bysiende “Lady in Waiting”.
Vir sy veelsydige spel het De Klerk verlede jaar vir ‘n Kanna-toekenning as beste manlike byspeler gewen.
“Ek dink Blommie is 'n metafoor vir daai seuntjie in die agterplaas wat ons almal ken: hy wil net speel, lag, op avonture gaan en wil hê die lewe moet vir almal 'n lied wees – soos dit vir hom is.
“Die Gifappels, Borrie en Kerrie, is nie die slimste peanuts in die pakkie nie. Die arme lummels voer net die Geelheks se bevele uit, maar ongelukkig vir hulle met baie min sukses. Ek dink hul betekenis is: daar’s 'n plekkie vir almal in die son, maar soms staan iemand jou strale toe.
“Arme Liewe Lotta word ook heeldag rond georder deur die Feëkoningin. Sy kan egter die bevele goed uitvoer en haar metafoor moet geduld wees, want om só lank uit te hou met die kokende, singende en huilende Feëkoningin is 'n prestasie op sy eie!
“Griet se agterkant is, wel ... Griet se agterkant. Dus: daar is nie klein rolle nie, maar soms is jy die enigste akteur wat klein genoeg is om in die perdkostuum se agterkant te pas ...”
- De Klerk Oelofse, wat in 2014 by Aardklop as die beste akteur aangewys is vir sy rol in Na-aap, ‘n Afrikaanse verwerking van Franz Kafka se kortverhaal A Report to an Academy, het verlede jaar die KKNK se Kannatoekenning vir beste ondersteunende akteur vir sy spel in Liewe Heksie: Flower Power Hy is ook vanjaar vir ‘n kykNET Fiësta benoem.
Carel Nel is Koning Rosekrans
Carel Nel neem dié rol by TV-liefling en kykNET se Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk oor. “Dis ‘n groot voorreg. Ek pak die rol nes ek enige ander rol aanpak: deur deurentyd die teks te raadpleeg. Dit is die fondasie waaruit jy skep. Dit gaan om ensemblewerk, en wedersydse vertroue tussen regisseur en akteurs bepaal die welslae van die produksie.”
Hy sien Koning Rosekrans as metafoor vir gesag. “As ‘n mens terugdink aan die oorspronklike reekse, tref dit jou by dat hy altyd redelik streng met Heksie was en dat hy die hoogste standaarde van haar verwag. Tog, wanneer sy nie noodwendig altyd slaag in wat sy vir hom doen nie, sal hy haar vergewe en nog 'n kans gee. Dit is ‘n belangrike aspek van hom en van hul verhouding: hy aanvaar haar vir wie sy is en hoe sy dinge doen – al is dit nie hoe hy dit sou doen nie.”
- Carel, wat ‘n graad in drama en teater aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, het digby die 30 TV- en rolprentrolle (binnekort in die riller Die Ontwaking) en 40 verhoogproduksies op sy kerfstok. Hy is ook bekend as ‘n insetselaanbieder op die ontbytprogram Expresso Show op Vir sy talent is hy sedert 2008 met KKNK-, Standard Bank Ovation-, kykNET Fiësta- en die Broadway SA-toekennings benoem en met ‘n Fleur du Cap-toekenning as beste akteur in die verhoogdrama Die Rebellie van Lafras Verwey bekroon.
Anna Davel is die Feëprinses
“My benadering tot die rol is energiestorting!” sê die bekroonde liedjieskrywer-sangeres, aktrise en kabaretster Anna Davel, wat die rol by die operasangeres Zanne Stapelberg oorneem. “‘n Mens moet pret hê en álles gee.”
Die Feëprinses leef geheel en al met haar kop in die wolke. Sy is oortuig daarvan dat sy 'n uitstekende kokkedoor en koekedoor is, terwyl sy eintlik glad nie kan kook nie. Sy probeer Koning Rosekrans bekoor deur vir hom te kook, maar op die ou end is dit haar sjarme en goeie hart wat hom verower. “Sy is die een wat drome bewaarheid en die vrede bewaar. Sy is ook menslik; vol dinge, maar haar hart is goed. Sy is effens verlief, deur die blare en droomverlore. En sy leer dit is nie nodig om voor te gee wat jy is as jou hart reg klop nie!”
- Sedert Anna die ATKV se Crescendo-kompetisie in 1997 gewen het, het sy ‘n diploma in ligte musiek en jazz aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie verwerf, internasionale optredes saam met die a capella-groep Cutt Glas gedoen, vier Sama-benoemings ingepalm (onder meer vir beste jazz-album) en ‘n Sama-toekenning vir die beste volwasse kontemporêre album in Afrikaans gewen. Sy is ook bekend as TV- en rolprentaktrise (onder meer in Frans Marx se Die verhaal van Susannah van Biljon) en sy is aanstaande jaar te sien in die fliek Gat in die muur.
Loukmaan Adams: Geraldina, die Geelheks
In ware pantomimestyl is Loukmaan Adams die dame as die Geelheks. “Geraldina het ritme en sy is duidelik in da house! Sy’s goor, maar sy kán toor! Soos die styl van die pantomime egter vereis, oorwin goedheid haar schemery!”
- Loukmaan se loopbaan het op ses afgeskop met sy deelname aan Maleise kore en die Kaapse Klopse-karnaval. Op sy kerfstok is onder meer die blyspele District Six: The Musical, Kat & The Kings en Sy vaardigheid as akteur en choreograaf is onder meer met FNB Vita- en Naledi-toekennings vereer. Saam met sy broer Emo Adams sing en dans hulle die wêreld aan die brand in produksies soos Brother Love en My broertjie my bra. Loukmaan is vanjaar vir ‘n kykNET Fiësta benoem as ondersteunende akteur in Liewe Heksie: Flower Power.
Produksie
Met Margit Meyer-Rödenbeck en Francois Toerien se teks, Gerrit Snyman se dekor, Rouve Hattingh en Susanne Strydom se kostuums, Pieter Jan Kapp se beligting, Jeanne Steenkamp se tegniese regie en Carna Visser se verhoogbestuur bied dié pantomime deur die Arena-produksiehuis oneindige genot.
Bespreek vir Liewe Heksie Flower Power:
US Woordfees 2016: Stellenbosch Stadsaal - 5 Maart om 09:00; 12:00, 12 Maart om 09:00; 12:00, 13 Maart om 11:00 - Computicket
Pretoria: Brooklyn Teater- 19 April- 1 Mei - (012) 460 6033 & aanlyn by www.brooklyntheatre.co.za
The post US Woordfees 2016: Gesprek met die skeppers van Liewe Heksie Flower Power appeared first on LitNet.