As jy moet koebaai sê vir mense dan is dit maar in die aard om te sit en grawe in dit was was, vir 'n paar weke of wat.
So sit ek en mymer (eintlik moes ek hierdie deel om die lus te bedwing) oor die dae toe ons nog Groot gedobbel het. Enige dobbelhuis, hoe groot of klein ook al, het 'n persoonlikheid van sy eie, met sy eie mense, en elke masjien, tafel, waiter, deler, en bestuurder die betrokke aand beïnvloed jou geluk. Of ongeluk. Ek wil nie uitbrei oor dobbelaars nie want hulle sal boeke vol maak. Die spel tussen dobbelaars en die huis nog minder. Want dit iets anders, en ons wil nie vloek hier nie.
My eerste kennis met werklike dobbel was doerie jare by daardie casino net oor die grens ten noorde van Pretoria. Lang aand van wyn en vog en 'n rolletjie 20sentstukke ingedruk in 'n masjien wat dit gulsig ingesluk het. Amper jackpot geslaan, "as jy vyf munte ingegooi het ..."
Onthou die eerste aand hier in Oesterland se eie dobbelhuis. Nie lus vir die storie nie; R5 muntstuk (inflasie) innie gewillige gleuf en die masjien raas en die klokke lui en die manne in rooi beduie: "If only you put three coins in ..."
En so raak jy slim. En jy leer en die manne in rooi beginne jou op jou voornaam noem want jy's nie eens meer Meneer nie want hulle voel almal reeds soos ou vrinne. En die fooitjies wat jy uitdeel is nie te onaardig nie. Jy leer en jy storm nie meer net in en gooi jou enigste R5 munt in 'n masjien in wat jy eenie-meenie-minie-mou gekies het nie. Jy beginne 'n stelsel uitwerk. En dit werk later soort van, want jy besoek die ATM (daar’s 'n baie goeie rede vir ATM's by dobbelhuise) al minder gereeld. Die groot dobbelaars sal jou beduie dat jy nooit dronk dobbel nie. Blykbaar beïnvloed dit jou oordeel. Hulle praat louter kak: Die reuk van geld beïnvloed mens se oordeel vandat hy dit ruik. Die drank is bysaak.
My system was na jare en baie geld baie basies: Alles in en dis alles of niks ... Hopelik word die polisie ingeroep as jy uiteindelik die slag slaan en aandring op jou geld en hulle nie genoeg het om jou te betaal nie. Wat nooit gebeur het nie. Jy kry dobbelaars wat die oggend vroeg instap met R10 000 in die sak. Die hele dag daar sit, dalk dronk word en die volgende nag uitstap met 'n duisend of wat wins. Dan kry jy die pensionarisse en dit is, ongelukkig die bron van alle casinos se inkomste, al kerm die regime ten sterkste dat dit nie so is nie, en dan die kansvatters ...
Ek het nooit met meer as 'n duisend rand (en my bankkaart byderhand) gegaan nie, en nooit nugter nie. Dit as "bad luck" beskou om nugter te loop sit agter 'n masjien of langs 'n tafel. Dobbelaars se gewoontes kan ook boeke vol maak. Jy kry die stil sitters, sit en staar en wens daardie rekenaarprogram tot in die geluk in. Die geraasmakers, die armswaaiers, die wegkykers, die enkelinge wat met elke druk vee oor die skerm, en so kan ons aanhou alles in die naam van die godin van geluk.
Ek? Ek onthou relatief net goeie tye en relatief min, want ek onthou nie een enkele keer enige casino nugter nie. Ek weet wel dat ek die een aand, so met eie gewoontes (wat gewerk het) die sg jackpot 'n hele paar keer geslaan het. Die aand effens meer as R54 000 los gedobbel het en hier teen die oggendure nie genoeg gehad het in my sak om 'n pakkie Dunhill Menthols (dis toe ek nog gerook het) te kon koop nie. En so het die aande gevolg want as jy eers gewen of eers verloor het gaan jy altyd terug. Dit is die rede waarom casinos bestaan: Om jou terug te verwelkom. Wag tot jy die Groot ene slaan by die groot masjiene of as hulle sien jy is besig met 'n groot ene by die tafels ... jy gaan lekker slaap en jy sal nie sukkel met mooi dames nie ...
Ek stap nou die dag in by ons local casino en ek ruik die drank en rook en asems en die geld. Die waiters beginne aandra want as jy bekend is vir groot fooitjies vra jy nie vir 'n dop of vrou of enigiets wat jou hart begeer nie. Ek beduie nee dankie, eks genees hiervan. Al mis ek die dae. Hulle se hulle mis my ook en ek is 100% seker ons mis is nie om dieselfde redes nie.
Ek stap uit vir die eerste keer en ek is nie spyt oor die tye nie, want dit was goed. Ek is spyt oor die blerrie geld wat ek nooit daar weggevat het nie. Want dit sou hulle lank gevat het om dit op te maak.
Of so hoop ek.
Groete uit Oesterland
oester
The post Dobbel (Is die priester in vir confession?) appeared first on LitNet.