Beste Angus
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 29 September 2015.
Jy sê jy ken Afrikaanssprekendes wat weet wat ’n sambreel is sonder dat hulle ’n woord Maleis of Portugees ken. Ek weet, dit is dan juis ek wat jou dit vertel het toe ek aan jou die verskil tussen leenwoorde en vreemde woorde verduidelik het. Ek het vir jou gesê ’n leenwoord is so ingeburger in die taal dat jy dit gebruik sonder om te weet waar dit vandaan kom waar ’n vreemde woord, aan die ander kant, nie verstaan word as jy nie daardie vreemde taal ken waaruit die woord kom nie. Wat jy ‘Kaaps’ noem is so vol Engelse woorde dat ’n Afrikaanssprekende wat nie Engels ken nie dit glad nie sal verstaan nie.
Jy reken dis futiel om die begrip ‘grammatika’ aan my te verduidelik. Angus, jý is die ou wat, lyk dit my, die begrip nie verstaan nie. Grammatika is tot taal soos meganiese aandrywing – die enjin, ratkas, dryfas, wiele die toetie – tot ’n motorkar. Daarsonder is dit nie ’n kar nie.
Jy praat van grammatika asof dit ’n aspek van taal is; so asof jy die taal kan praat (besig) sonder ’n kennis van grammatika. Dit werk nie so nie; jy, skyn dit my, beskou grammatika tot taal soos verf tot die motor om nou verder met bogenoemde analoog te gaan. Die motor kan nog ry ongeag of hy geverf is of nie maar ’n taal kan jy nie praat sonder grammatika nie want saam met woordeskat en sintaksis IS dit die taal. Jy kan wel met gebrekkige grammatika wegkom maar dan praat jy die taal gebrekkig, net soos ’n kar kan wegkom as net vier van die ses silinders vuur. Wat wel ‘n aspek van taal is is aksent; jy kan byvoorbeeld goed Afrikaans praat as jy Engels is maar met ’n Engelse aksent; niks fout daarmee nie – as jy die grammatika onder die knie het praat jy die taal, nou wel nie soos ’n boorling nie maar 100% korrek.
Dit is dus onsin om te beweer ‘grammatici ontdek die struktuur van ’n taal en skryf dan ’n grammatika wat aan die kinders geleer word’. Jou bewering dat taal op twee maniere aangeleer word moet eintlik lui GRAMMATIKA word op twee maniere aangeleer naamlik blootstelling (Berlitz was ’n voorstaander van hierdie manier) of, soos meestal deur volwassenes (as ’n tweede of derde taal) uit ’n grammatikaboek.
Wat Elsassies betref, wie sê vir jou dit is 19de eeus? Mag wees, maar is dit oor Goethe se ballade? Hier is vir jou ’n stukkie teenswoordige Elsassies:
Wenn’r mien Büechel lese, noo wundere n Ihr Ejch viellicht e manichs Mol un schüttle mit’m Kopf un saaue: „Warum isch denn des Wort esoo g’schriewe un sell Wort esoo? Soo redt m’r doch gar nit!“ — Un doo han’r ganz ereecht. Ich hab’ oft nit esoo g’schriewe, wie m’r redt, un ich will Ejch au saaue, warum.
Maar weer terug tot mengeltaal, waaroor ons gesprek eintlik gaan. Een taal word met ’n ander vreemde taal gemeng wanneer ’n spreker van die taal dit nie kan verstaan as hy nie ook die vreemde taal ken nie. Ek het dit nou al op baie maniere verduidelik. Indien dit nog onduidelik is laat maar weet dan vertel ek jou op ’n ander manier.
Groetnis
Jan Rap
The post Antwoord vir Angus op sy kommentaar van 30 September 2015 appeared first on LitNet.