Foto's: James Maritz
G&S bring South Pacific, Broadway se treffermusiekblyspel deur Rodgers & Hammerstein, na die KunsteKaap Operahuis in Kaapstad. Elke vertoning word begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, onder leiding van Alastair Cockburn.
Die storie speel in 1942 op twee eilande in die suide van die Stille Oseaan af, waarheen Amerikaanse verpleegsters en matrose tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgeplaas is. Nellie, 'n lewenslustige verpleegster van Arkansas, raak verlief op Emile, 'n Franse immigrant wat 'n plantasie besit. Luitenant Joseph Cable bevind homself in 'n passievolle verhouding met Liat, 'n Tonkanese meisie. Soos die oorlog teen Japan toeneem na die Slag van Pearl Harbour, moet beide Nellie en Joseph hul rassevooroordele in oënskou neem om oor hul toekoms te besluit.
South Pacific laat jou voete onwillekeurig saamtik op bekende liedjies soos "Some Enchanted Evening", "There's Nothing Like A Dame", "I'm Gonna Wash That Man Right Outa My Hair", "Cockeyed Optimist" en vele ander, wat deur die 1958-rolprent bekendheid verwerf het. Daarin was Rossano Brazzi en Mitzi Gaynor in die rolle van Emile en Nellie.
Kyla Thorburn is in die regisseurstoel en ook verantwoordelik vir G&S-produksies soos My Fair Lady (2016), The King and I (2008) en Annie (2010) se regie. Sy skryf in haar regisseursnota in die program dat die musiek nostalgie is vir dié wat dit ken en indrukwekkend vir dié wat dit nie ken nie. Dis beslis so, want hoewel ek van die musiek geken het, was dit my eerste keer as gehoorlid; terwyl my geliefde as kind in daardie einste operahuis met groot oë sit en kyk het. Nostalgie was oral op sy gesig geskryf.
Kyla sê voorts dat die oorspronklike stuk 25 tonele gehad het en dat heelwat tonele vir dié produksie gesny of verander moes word. Ongelukkig het dit tot gevolg gehad dat sekere tonele effens te lank aangehou het, terwyl ander te vinnig op mekaar gevolg en dus stokkerig voorgekom het.
Die reuse hoeveelheid akteurs en sangers, 'n totaal van 72 volgens 'n mediaberig, het natuurlik 'n groot verhoog vereis, maar met sommige van die tonele – veral in Emile, die plantasie-eienaar se huis – het die verhoog vir my net te kaal gelyk en die stelontwerp effe skraps en afgeskeep.
Die swemkostuums vir die arme verpleegsters was almal baie knap en 'n mens kon nie help om soms vir hulle jammer te voel as hulle met dié stywe klere eintlik potsierlik gelyk het terwyl hulle moes ronddans nie. Ons het ook nie 'n baie lekker klankaand gehad nie, want sommige sangers se stemme was baie hard, terwyl ander te sag was en soms nie vir goeie harmonie gesorg het nie.
Ek weet nie of die feit dat die operahuis net 'n derde vol was die gevolg was van hierdie probleme wat dalk van een konsertganger na die ander oorgedra is na vorige vertonings nie,. Maar dit voel amper asof die groep nog 'n dag of twee nodig gehad het om goed in te oefen en daardie probleme uit te stryk voordat dit 'n wêreldklasproduksie kan wees, soos wat ander Rodgers & Hammerstein-produksies - My Fair Lady en Oklahoma! in dieselfde operahuis was.
Op 'n positiewer noot: die sangers en hul toneelspel was uitstekend. Stephan le Roux as Emile de Becque; Charlene Martin as Bloody Mary, die plaaslike verkopertjie met die groot persoonlikheid wat beslis die gehoor se gunsteling was; Simon Thompson en Laura-Jo Diedericks, wat onderskeidelik die rolle van luitenant Joseph Cable en Liat vertolk het; en ook Sian Atterbury as Nellie Forbush. En wie kan nie mal wees oor Robert Shenton as Luther Billis en die professor nie?
Hul sterk stemme het pragtige hulde aan bekende, nostalgiese liedjies gebring. Die musiekblyspel is lekker vermaak vir die hele gesin, hoewel Kyla in 'n onderhoud genoem het dat die vertoning nie geskik is vir onder-tiens nie.
South Pacific
Andrea Fourie, Sian Atterbury, Riaan Hunter, Stephan le Roux, Charlene Martin, Siyavuya Vukutu, Neil Leachman, Robert Shenton, Andrew Weiss, Richard White, Simon Thompson, Kaylene Hendricks, Laura-Jo Diedericks, Michael Harris, John Carne en Lyle Wilson.
Regisseur: Kyla Thorburn
Beligting: Faheem Bardien
Kostuum en stel: Michael Mitchell
Musiek: Kaapstadse Filharmoniese Orkes, onder leiding van Alastair Cockburn
Kunstekaap Operahuis, Kaapstad
Tot 10 Augustus 2019
Kaartjies deur Computicket by 0861 915 8000, aanlyn by www.computicket.com of by enige Shoprite Checkers-tak.
The post Voete tik saam op bekende liedjies in <em>South Pacific</em> appeared first on LitNet.