Hiermee kommentaar op die toespraak van Breyten Breytenbach wat op Januarie 2016 op LitNet se webtuiste gepubliseer is.
Ek het die toespraak wat Breyten Breytenbach by die Universiteit Stellenbosch gelewer het en wat op 26 Januarie 2016 op u webtuiste gepubliseer is, gelees. Hoewel ek daaraan gewoond is om baie aanvalle op Jonathan Jansen in die Afrikaanse media te hoor en te lees, is dit meestal afkomstig van mense wat ek nie moreel of intellektueel respekteer nie en ek het dit voorheen dus nie die moeite werd geag om by enige van die gepubliseerde venyn betrokke te raak nie.
Mnr Breytenbach se kommentaar oor Jonathan Jansen se Knowledge in the blood vereis egter 'n antwoord, aangesien dit afkomstig is van 'n belangrike skrywer en denker wie se siening oor Suid-Afrika nie altyd so eng was soos dit nou blyk nie. Dit is deels uit respek vir mnr Breytenbach dat ek besluit het om hierdie brief te skryf.
Om te sê die argument van die boek is dat Afrikaners rassisme in hulle bloed het, is so verregaande dat ek vermoed Breytenbach het óf nie die boek gelees nie óf ons het te doen met 'n ernstige geval van beneweling. In die lig van die feit dat ek ernstig twyfel of die meerderheid van u lesers al ooit die boek onder hande gehad het, blyk dit noodsaaklik te wees dat mnr Breytenbach se opsomming reggestel word.
Die boek is 'n navorsingsgebaseerde studie om te probeer verstaan waarom 'n geslag van jong wit Suid-Afrikaners wat nog nooit apartheid of die mees traumatiese aspekte van die Afrikanergeskiedenis beleef het nie, so gegrond is in 'n diskoers van identiteit, vrees, wanhoop en bitterheid. In sy soeke ontleed Jansen die oorsprong van dit wat hy indirekte kennis noem deur die verskillende instellings te ontleed wat op een of ander wyse bydra tot 'n verhaal oor die geskiedenis van Suid-Afrika en die rol van Afrikaners daarin, wat uit pas is met sowel ons tye as die werk van hedendaagse geskiedkundiges.
Knowledge in the blood is nie 'n verwoording wat 'n oordeel oor Afrikaners fel nie: “Hulle het rassisme in hulle bloed”, asof dit (a) onveranderlik en (b) deel van die wese van 'n Afrikaner is. Inteendeel. Knowledge in the blood is 'n konseptuele instrument wat dit moontlik maak om die “gewoonte- en roetine”-kennis wat 'n tweede geslag oor hulleself het – soos afgelei en opgeneem deur verskillende stadiums en ervarings van hulle lewens – te verduidelik. Vir Jansen is Knowledge in the blood 'n stelling (sorgvuldig gedokumenteer oor 200 bladsye) en nie 'n oordeel nie; dit is, bowenal, 'n vraag (bl 171).
Jansen is 'n pedagoog in die oorspronklike sin van die woord. Die feit dat “kennis in die bloed” 'n vraag is, beteken nie vir hom dat die Afrikanerjeug verwerp, of erger nog, afgeskryf moet word nie; inteendeel, hy gebruik dit as 'n beginpunt vir 'n pedagogie van verdeeldheid wat gegrond is op empatie en geloof in die goedheid van die menslike natuur. Waar Jansen vir Knowledge in the blood gekritiseer is, was dit juis omdat hierdie gebaar van empatie vir sommige geblyk het te gereed te wees om te vergewe en te omhels.
Die boek het lof ontvang as 'n “daad van empatie” en in 2014 is dit met die Britse Akademie se Nayef Al Rodhan-prys vir Transkulturele Begrip bekroon “ter erkenning van 'n publikasie wat die drie dimensies wat in die beoordeling van die prys in aanmerking geneem word – akademiese vakkundigheid, affektiewe potensiaal op 'n breë leserspubliek en 'n verbintenis met die kwessies – kombineer. Dit dui op die skrywer se persoonlike betrokkenheid by transkulturele begrip in die Suid-Afrikaanse konteks.”
Daar is iets diep hartseer daarin om nie te weet of hierdie ongelooflike strydigheid tussen 'n boek en die interpretasie daarvan 'n geval is van verkeerde uitleg of een van opsetlike wanvertolking nie.
Lis Lange
Viserektor: Akademies, Universiteit van die Vrystaat
The post Die Viserektor van die UV se reaksie op Breytenbach se US Konvokasietoespraak appeared first on LitNet.