’n Pawpaw vir my darling
Regisseur: Koos Roets
Spelers: Deon Lotz, Deirdre Wolhuter, Lida Botha, Marcel van Heerden, Jana Nortier
Toeval is ’n vreemde ding. In dieselfde week dat die Penny Sparrow-rasseherrie losgebars het, verskyn ’n Pawpaw vir my darling op ons kringloop. Met die onstuimige politieke oorgang van die 1990’s het Jeanne Goosen se boektitel Afrikaners die woorde gegee om te sê: “Ons is nie almal so nie.” Nou moet een van haar ander stories ons dalk laat erken: “Ons ís almal so.” (Al is dit vir sommige net ’n bietjie.)
Goosen se boek is alom bekend, en dis ’n plesier om die mense en honde van Frik du Preez-straat in Damnville verbeeld te sien. Aanvanklik verloop die storie ’n bietjie te rond en bont omdat daar nie werklik ’n sterk, sentrale storielyn is nie, maar ten slotte word die drade tog bymekaar getrek. En pasop, ná die lekker lag bly daardie donker melancholie wat so kenmerkend van Goosen se werk is jou by.
’n Mens vra jou af hoe word ’n film gemaak van ’n storie wat vanuit ’n hond se gedagtes gerapporteer word, en regisseur Koos Roets verstom jou met hoe maklik hy dit laat lyk. Daarby het ons ’n hondeakteur (Zeus in die rol van Tsjaka) wat Oscar-materiaal is – sulke sprekende gesigsuitdrukkings het ek lanklaas gesien. In kombinasie met Tobie Cronjé se onverbeterlike stem werk dit soos ’n bom.
Die akteurs, die meeste van hulle groot name, is uitstekend, maar Deon Lotz staan weer eens uit. Om Vleis Beeslaer as die tipiese braai-brannas-en-coke-Afrikanerman te speel en steeds die kyker se simpatie te behou, wil gedoen wees. Marcel van Heerden, wat gewoonlik skurkrolle speel, verras jou totaal met sy sielvolle vertolking van die pierewaaier Tango du Toit. En die nommerpas temalied moet natuurlik deur Anton Goosen wees, die oorspronklike boy van die suburbs.
Om komedie te doen is nie ’n grap nie – hierdie span mag maar.
Sterre: 3½
The post Filmresensie: ’n Pawpaw vir my darling appeared first on LitNet.