U sal my verskoon as ek my "mededelings" op ’n persoonlike noot begin.
In 1955 arriveer ek as eerstejaarstudent in die ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Dit beteken dat ek so pas ’n 60-jaar-verbintenis met die universiteit voltooi het. Dit is daarom ook die gepaste tyd om afskeid te neem as president van die konvokasie.
Die dag na die opening van die universiteit in my tweede jaar van studie verskyn Die Burger met dié hoofopskrif op die voorblad: “Die US bars uit sy nate met 3 000 ingeskrewe studente”.
Na 60 jaar het die US radikaal verander. Dosente dikteer nie meer nie en studente neem nie meer notas met die hand tydens lesingperiodes af nie. Vakke is nie meer jaarvakke nie en promovering na die volgende jaar is nie meer outomaties op grond van predikate alleen nie. Ingenieurstudente gebruik nie meer skuifliniale vir berekeninge en rekeningkundestudente meganiese optelmasjiene nie, maar draagbare skootrekenaars met kragtige programme. Die maroengestreepte Matiebaadjie word nie meer gedra nie. Jool en die jaarlikse sangfees en "sing-songs" vir intervarsity het verdwyn. Studente loop nie gedas en gebaadjie klas toe nie. Doop is afgeskaf en studente ry nie meer per fiets klas toe nie. Tokkelokbos bestaan nie meer nie. "Internasionale studente" is nie net afkomstig vanaf die destydse Suidwes-Afrika of Rhodesië (vandag onderskeidelik Namibië en Zimbabwe) nie. Die US trek vandag meer as 4 000 internasionale studente uit meer as 100 lande.
Interessant genoeg is ons lesings ook nie, soos sommiges glo, eksklusief in Afrikaans aangebied nie. Vakansiewerkverslae van ingenieurstudente moes byvoorbeeld in Engels geskryf word om ons skryfvaardighede in dié taal op te knap. Een van ons finalejaarvakke was verpligtend in Engels gedoseer.
Vandag se Matieland het tien maal meer studente as die een wat ek destyds geken het. Die grootliks statiese universiteitsomgewing van destyds het verander in ’n snelveranderende dinamiese omgewing.
Nuwe fakulteite en departemente en studierigtings het bygekom. Die US is besig om sy reputasie as 'n wêreldklas instelling en navorsinguitnemendheidsinrigting te bevestig. Die demografie van sy studentekorps het gediversifiseerd geraak.
Dit help nie meer om nostalgies te raak oor die Matieland wat baie van ons geken het nie. Daardie Matieland bestaan nie meer nie. Vandag se studente gesels met mekaar op slimfone, gebruik Google vir toegang tot die internet as bron van inligting, en is aktief op die sosiale media. Vandag se Maties is die vrygebore geslag wat anders dink as destyds se studente. Hulle is burgers van ’n geïnternasionaliseerde wêreld en hul prioriteite is anders. Hulle kom uit diverse omgewings en kulture. Hulle berei hul voor vir ’n internasionale en mededingende werkswêreld.
En as ons vorentoe kyk, gaan die Matieland van môre óók anders wees as die een van vandag.
Die universiteit wat in hierdie 21ste-eeuse snelveranderende wêreld met sy kennisgebaseerde ekonomie sal floreer (sommige sê oorleef), is die een wat as ondernemende en aanpasbare hoëronderwysinstelling na vore tree.
Dit was nie altyd so nie. Universiteite was vir eeue staties, aanvanklik slegs as inrigtings vir leer en onderrig - tot die aanbreek van die 20ste eeu en die besef dat universiteite meer as net oordraers van bestaande kennis moet wees, maar ook nuwe kennis moet skep. Die leuse was: “Geen goeie onderrig sonder goeie navorsing”.
Teen die tweede helfte van die 20ste eeu het 'n derde universiteitsplig bygekom: die universiteit in diens van die gemeenskap.
Hierdie drievoudige plig van onderrig, navorsing en gemeenskapsdiens word duidelik uitgespel in die US se “Strategiese raamwerk vir die eeuwisseling en daarna”wat in 2000 deur die Universiteitsraad aanvaar is.
En steeds is die speelveld besig om teen 'n versnellende tempo te verander.
Universiteite wêreldwyd moet ’n kompromie vind tussen wat prof HW Rossouw, ’n voormalige viserektor, in sy artikel “Opmerkings rondom die idee van die universiteit” (1991) noem “polêre spanningsverhoudinge tussen uiteenlopende aansprake”. Volgens hom gaan dit “in ’n sekere sin om die stryd tussen aan die een kant die aansprake wat voortvloei uit die erflikheidselemente van die universiteit, aan die ander kant die aansprake wat uitgeoefen word deur die kontemporêre omgewing van die universiteit”.
Rossouw bespreek enkele van hierdie konseptuele kragvelde wat polêrespanningsverhoudinge ("dichotomies") tot gevolg het: identiteit versus relevansie, universaliteit versus partikulariteit, elitisme versus egalitarisme, outonomie (akademiese vryheid) versus beperking, en gemeenskap versus korporasie. Vandag, ’n kwarteeu later, bestaan hierdie spanningsvelde steeds, maar het hulle toegeneem en feller geword. Ek sou ’n spanningsveld kon byvoeg wat in die afgelope jaar of twee sterk na vore getree het: finansiële volhoubaarheid versus toeganklikheid (en bepaald gratis onderrig). Dit is ’n toenemend moeiliker uitdaging vir universiteitsbesture om die regte balans tussen hierdie teenstrydige aansprake te vind te midde van ’n snelveranderende en dinamiese omgewing.
Die strategiese dokumente van die US erken almal die belang van voortdurende vernuwing en aanpassing (ek haal aan uit die “Strategiese raamwerk”-dokument): "Die inhoud van 'n raamwerk soos hierdie sal aangepas en verryk moet word aan die hand van die ondervinding wat die Universiteit opdoen namate die raamwerk geïmplementeer word en aan die hand van toepaslike nuwe insigte uit ander oorde."
In hierdie omgewing is persoonlike kommunikasie aan die verander, met slimfone en breëbandnetwerke wat kommunikasie en inligtingsvoorsiening fasiliteer. Al meer en meer is die neiging dat die student nie na die kampus toe gaan nie, maar om die kampus deur middel van breëbandkommunikasie na die student te neem (waar hy hom ook al bevind).
Die kern van hierdie veranderinge gaan oor:
- Veranderinge in kennisskepping: Interdissiplinêre en transdissiplinêre benaderinge is nodig; niewetenskaplike vorme van kennis moet ontgin word.
- Veranderinge in die onderrigmodel: Nuwe leer-/onderrigbenaderings vir die ontwikkeling van kritiese en skeppende denke moet geïntegreer word. Leer het 'n lewenslange, voortgesette aktiwiteit om oorlewing in die internasionale beroepswêreld geword.
- Veranderinge gerig op die ontginning van die potensiaal van inligting- en kommunikasietegnologieë vir die skep en verspreiding van kennis – wat as kuberwysheid beskryf kan word.
- Veranderinge met die oog op maatskaplike verantwoordelikheid en kennisoordrag. Die werk van hoëronderwysinstellings moet nie net relevant wees nie. Dit moet as gemeenskapsdiens beskou word; navorsing moet sosiale behoeftes antisipeer; en navorsingsuitsette moet met die gemeenskap, wat die sakewêreld en die nywerheid insluit, gedeel en daarna oorgedra word, vir die uiteindelike skep van maatskaplike welvaart vir almal, en werksgeleenthede.
Al hierdie balle moet die universiteitsbestuur van vandag tegelyk in die lug hou.
Terselfdertyd is daar, in die geval van die US, wat Rossouw noem die "erflikheidselement”, wat reeds ’n eeu gelede die onderwerp van intense debat op Stellenbosch was. Dit het naamlik gegaan oor die vraag of die destydse Victoria Kollege by die voorgestelde Engels-eentalige SA Kollege (SACS) in Kaapstad ingelyf moes word om die Universiteit van Kaapstad te vorm. Dit was Jan Henoch Marais, weldoener van die universiteit en wie se dood ’n eeu gelede pas verlede jaar herdenk is, wat met sy reuseskenking van £100 000 verseker het dat die US as universiteit in 1918 tot stand kon kom, waar Nederlands/Afrikaans "geen mindere plaats" sou inneem nie. Na ’n eeu moet hierdie uitgangspunt steeds verreken word.
Let wel, die US van destyds was nie eksklusief Afrikaans/Nederlands nie. ’n Baie groot deel van die professorekorps was afkomstig uit Engeland en veral Skotland.
En tog is daar geen ander aspek van die US waaroor meer gedebatteer is sedert die begin van hierdie eeu as oor die taalkwessie nie. Dit oorheers die koerante se rubrieke en briewekolomme. Elke keer as mens dink die debat kom tot ruste, vlam dit weer op, dikwels as gevolg van konfrontasionele uitsprake of optrede deur een of ander party. Ek vind dat die debat dikwels persoonlik neig, en die akademiese vlak van debattering soms benede die peil daal van wat ek sou verwag van ’n akademiese debat. En elke keer as ek dink dat ons nou asem kan skep, kry ek ’n oproep van ’n joernalis wat reaksie vra oor een of ander artikel of rubriek of uitspraak of verwarrende aankondiging.
Diegene wat debatte voer oor die hipotetiese bestaan van ’n eksklusief Afrikaanse universiteit, bestorm soos Don Quichot ’n windmeul. Daar bestaan nie ’n eksklusief Afrikaanse US nie, en ek is nie bewus van enige beduidende stemme om dit te bepleit nie. Dieselfde geld kwasi-akademiese skrywes oor onderwerpe soos "Afrikaans verdien nie spesiale behandeling nie", terwyl daar nie gevra word vir "spesiale behandeling” nie.
Soos die kanselier, dr Johan Rupert, in Desember by die gradedagdinee gesê het: "Hou op om te baklei oor die taalkwessie; daar is veel belangriker dinge wat ons aandag vereis."
Dus: dit is haas tyd om halt te roep vir die taaldebat. Ek kry die indruk dat ons meestal by mekaar verby praat; dat daar meer dinge is waaroor ons saamstem as waaroor ons verskil. Waarom die debat met ’n groot mate van moedswil voortsleep is vir my dikwels onduidelik.
Ek wil die hoop uitspreek dat daar van nou af gestreef sal word na ’n wen-wen-benadering waarin almal as wenners uit die gesprekke kan uittree: dat die universiteit sal wen, dat sy studente sal wen, en dat die tale waarin onderrig word, almal sal wen. Dat ons mekaar bestaansreg sal gun en nie ’n "winner takes all"-beheptheid nastreef nie.
Ek wil voorstel dat die universiteitsraad binnekort ’n verteenwoordigende paneel van onafhanklike deskundiges, insluitende taalsosioloë, sal aanstel om die hele situasie, na wye oorleg met alle partye, te ondersoek. Ek glo dat dit ’n Kodesa-tipe taalberaad moet insluit waarin alle belanggroepe verteenwoordig sal wees, om praktiese uiting te gee aan die beginsels van gelyke taalregte. Onderhandelinge moet met die Departement van Hoër Onderwys gevoer word nadat die Minister reeds in die openbaar erken het dat meertaligheid ’n addisionele finansiële las op universiteite plaas, en addisioneel deur die staat gesubsidieer behoort te word – iets wat die akademiese ontwikkeling van die inheemse tale sal fasiliteer.
Laat ons met mekaar práát, soos wat prof Amanda Gouws onlangs in haar rubriek skryf: "Dit is beter as ons saamwerk, eerder as om aan verskillende kante van die draad te staan en skreeu." Laat ons maksimum konsensus bereik; waarvoor dit nodig sal wees dat elke party toegewings sal moet maak.
Ons moet konsensus bereik oor wat "gelyke status" in die praktyk beteken (en nie, soos so dikwels gebeur met ’n bespreking oor grondwetlike taalregte, fokus op dit wat die regte nié beteken nie).
Gelyke status beteken eenvoudig dit: gelyke status. Enige bepaling in die Taalbeleid ten opsigte van een taal sal mutatis mutandis ook vir die ander taal moet geld. Gelyke status impliseer ook dat daar nie ’n verstek- of voorkeurtaal kan wees nie, geen "mindere plaats" nie.
Daar is één belangrike caveat: gelyke status beteken nié dat alle lesings in Engels voorgedra word, met tolking na Afrikaans nie. Sonder ’n nagenoeg identiese omvang van tolking van Afrikaans na Engels is dit oneerlik en nie in die gees van "gelyke status" nie; trouens, dit kom neer op boereverneukery.
Laat ons nié fokus op wat "gelyke status" nié is nie, eerder as op wat dit wel is.
Terselfdertyd bepaal die taalbeleid dat taal nie gebruik mag word as uitsluitingsmeganisme nie; en dit geld vir sowel Afrikaans as Engels.
Die gelyke-status-beginsel geld reeds in die Taalbeleid en word algemeen aanvaar. Minister Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het volgens Die Burger van 16 Oktober 2015 gesê:
Soms, wanneer ons die taalkwessies opper, voel sommige dit is ’n aanval op die Afrikaanse taal of die Afrikaanse kultuur. Niemand baklei teen Afrikaans of teen die Afrikanerkultuur nie.
Maar dan moet tale gelyk wees – Afrikaans én Engels. Dit moet gelyk wees.
Die Minister se woordvoerder, Khaye Nkwanyana, het volgens Die Burger van 5 Desember 2015 gesê:
Die Minister glo juis dat Afrikaans as ’n onderrigtaal gered moet word. Dr Nzimande het nog altyd aangevoer dat ’n balans gehandhaaf moet word waar die status van Afrikaans en Engels werklik ewe belangrik is – en nie net oppervlakkig nie. Die heersende toestande by die US in dié stadium is nie verwelkomend vir diegene wat nie Afrikaans praat nie, en die universiteit moet na dié studente uitreik.
Ek sou kon byvoeg: ’n Engels-eentalige benadering is óók nie verwelkomend vir studente vir wie akademiese Engels tot ’n hoë mate ontoeganklik is nie. Laat die wyse komitee wat ek voorstel, planne aan die hand doen om dit op te los.
Verlede jaar ontmoet ek ’n student uit dié bevolkingsdeel met die laagste deelnamekoers aan universiteitstudie, en wat afkomstig is van die Noord-Kaap. Hy kla teenoor my dat wat hy "akademiese Engels" noem, in die Engelstalige helfte van T-opsie-vakmodules vir hom onverstaanbaar is. Feit is: daar bestaan géén lingua franca in Suid-Afrika nie. Volgens PanSAT word geen enkele van die 11 amptelike tale in Suid-Afrika deur selfs 50% van die volwasse bevolking (wat vir universiteitstudie kwalifiseer) voldoende verstaan word om suksesvol daarin op universiteitsvlak te studeer nie.
Die rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, het tydens in sy inhuldigingsrede gesê:
Stellenbosch is nie ’n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Xhosa-universiteit nie; Stellenbosch is ’n wêreldklas meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in dié kategorie, wat bitter nodig in ’n land met 11 amptelike tale is. Laat ons dit aanvaar as ’n realiteit.
In die jongste Matieland verklaar hy verder:
Die Universiteit Stellenbosch het nog altyd in Afrikaans en Engels gedoseer en vraestelle beantwoord. Tans wil ons ’n beleid van gelyke status implementeer en finansier op ’n manier wat niemand uitsluit nie en geen negatiewe impak sal hê nie.
Met dit die geval, vra mens andermaal: Is dit nodig dat die debat en gedurige konfrontasie voortsleep? Waaroor gaan dit dan nog? As alle redelike partye, van die Minister tot die universiteitsraad tot die universiteitsbestuur die beginsel van Afrikaans en Engels as onderrig- en kommunikasietale met gelyke status ondersteun, dan kom dit voor asof ons by mekaar verby praat. Dus hoop ek werklik dat die aanwys van ’n onafhanklike paneel van kundiges en ’n Kodesa-tipe beraad vroeg vanjaar nog gerealiseer kan word.
Ons gaan nie almal tevrede stel nie; toegewings en wedersydse respek is nodig. ’n Goeie vriend het destyds, toe ek as voorsitter van die SAUK-raad alle politieke partye moes tevrede stel met lugtyd oor die nasionale uitsaaidiens, gesê dat ek nooit daarin sal slaag om álmal tevrede te stel nie; waarna gestreef moet word, is om almal op dieselfde vlak van ongelukkigheid te probeer kry.
Kan ek as slotwoord die volgende uitgangspunte vir die beraad voorstel, waaroor, so glo ek (miskien naïewelik?) die meeste redelike belanghebbendes (met die uitsluiting van ekstremistiese stemme aan beide kante) kan saamstem? Dit spruit voort uit ’n dinkskrum wat die UK van die konvokasie drie jaar gelede gehou het, verteenwoordigend van elke ouderdom, geslag, ras en fakulteit van herkoms, en wat eenparig aanvaar is:
- Die US is ’n meertalige, inklusiewe universiteit, wat
- uitnemendheid nastreef; waarvan ons
- sy ontstaansdoel nie buite rekening laat nie, maar dit
- verreken met die vereiste van die huidige tydsgewrig;
- wat Afrikaans en Engels gebruik as onderrig- en kommunikasietale, met
- gelyke status,
- wat taal nie gebruik as uitsluitingsmeganisme nie; en
- met spesiale aandag aan isiXhosa.
Vir ’n ingewikkelde saak soos die onderrig- en kommunikasietaalrealiteite is daar nie simplistiese oplossings nie. Maar dít is juis die uitdaging aan die universiteitsraad, wat die beleid moet maak, en -bestuur wat die beleid moet uitvoer, om praktiese uitvoering te gee aan die beginsels hier bo en om die polêrespanningsverhouding tussen die grondwetlik-verskanste aanspraak op moedertaalonderrig aan die een kant en toeganklikheid aan die ander kant op pragmatiese wyse op te los. Daar moet bestaansruimte vir albei geskep word.
Is ’n meertalige beleid volhoubaar en bekostigbaar, sou u vra?
Ek het aan die begin genoem dat toe ek 60 jaar gelede ’n eerstejaarstudent aan die US was, het die universiteit 3 000 studente gehad. Dit was ’n volhoubare en bekostigbare universiteit. Vandag het die US vier maal soveel studente (12 754 in 2015) wat aangedui het dat hulle Afrikaans as huistaal het. Ek sou dink dat dit viervoudig volhoubaar is om aan hulle die keuse van onderrig van wêreldgehalte in hul voorkeurtaal te voorsien.
Ek is bemoedig deur die raad se besluit van 30 November 2015, wat die volgende sê:
Die Raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ’n groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente wat kies om aan die US te studeer. Die Raad sal daarom saam met Bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.
Hopelik sal 2016 die nuwe begin wees van ’n reis na ’n beter bestemming vir Matieland – ’n universiteit waar diversiteit in al sy kleur- en taalskakerings kan gedy sonder om enige groep weg te transformeer.
Stellenbosch dien Suid-Afrika al vir 150 jaar. Hy wil voortgaan om dit deur sy gehalte en deur ’n inklusiewe kultuur en taalgebruik te doen. Daarvoor het hy selfstandigheid en ruimte en ons almal se samewerking nodig. Dan kan Stellenbosch wéér sê hy staan vir ’n idee.
H Christo Viljoen
Stellenbosch
26 Januarie 2016
US-konvokasie 2016 |
US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos Breyten Breytenbach
"Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ’n onvermydelike tot niet maak van ’n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei." |
US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa Lovelyn Chidinma Nwadeyi
"Ladies and gentlemen, something is brewing in South Africa. I do not know the name of that something, but I know that it is irreversible and will continue to brew and boil over, whether we give it permission to do so or not." |
US-konvokasie 2016: Afskeidstoespraak deur Christo Viljoen, uittredende president Christo Viljoen
"Stellenbosch dien Suid-Afrika al vir 150 jaar. Hy wil voortgaan om dit deur sy gehalte en deur ’n inklusiewe kultuur en taalgebruik te doen. Daarvoor het hy selfstandigheid en ruimte en ons almal se samewerking nodig. Dan kan Stellenbosch wéér sê hy staan vir ’n idee." |
US-konvokasie 2016: Universiteit Stellenbosch: Vorentoe! Wim de Villiers
"Deur Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons toeganklik is vir meer mense. Maar daar is steeds ’n groot behoefte aan en vraag na Afrikaans, daarom duur ons aanbod daarin voort." Rektor en visekanselier Wim de Villiers se mededelings aan die US-konvokasie. |
Haal af die Bosch se maskers, vra Maties Jean Oosthuizen
Byna 2 000 stemgeregtigde oud-Maties het Dinsdagaand hulle opwagting gemaak by die US-konvokasievergadering. Jean Oosthuizen lewer verslag. |
US-konvokasie 2016: Foto's en videos Naomi Bruwer
Die grootste konvokasievergadering in twee dekades is Dinsdagaand in die Coetzenburg-stadion op Stellenbosch gehou. Kyk na foto's en videos. |
The post US-konvokasie 2016: Afskeidstoespraak deur Christo Viljoen, uittredende president appeared first on LitNet.