Federalisme word in baie wêrelddele as ʼn goeie vorm van staatsorganisasie gereken, omdat dit die regering en noodsaaklike dienste nader aan die mense bring, maar federalisme was nog altyd ʼn kwessie van omstredenheid hier in Suid-Afrika.
Die Wes-Kaapse ANC se voorstel dat provinsies afgeskaf moet word, is nie iets nuuts nie. Ten einde die omvang van dié probleem te verstaan, moet jy die kontemporêre geskiedenis sedert 1990 weer in oënskou neem. ʼn Sin vir geskiedenis is dus krities vir volle begrip.
Nadat FW de Klerk die ANC en ander bevrydingsbewegings op 2 Februarie 1990 ontban het, het die ANC uit sy ballingskap ʼn verklaring in Lusaka uitgereik. Dit het gelui dat daar niks is om oor te onderhandel nie, behalwe oor hoe die mag aan die onderdruktes oorhandig gaan word.
Die ANC was gekant teen federalisme en het ʼn unitêre staat met ʼn sterk sentrale regering en plaaslike owerhede voorgestaan. Daarteenoor het die NP en verskeie kleiner partye wat minderhede verteenwoordig het, hulle beywer vir ʼn geografiese federasie van state. Met ander woorde drie vlakke van regering wat bestaan uit die sentrale regering, provinsiale regerings en plaaslike owerhede.
Gaan lees die toesprake van politieke leiers op die eerste sitting van die Konvensie vir ʼn Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) in Kempton Park op 20 en 21 Desember 1991. Baie van dié leiers het federalisme ondersteun.
Dié beweegrede vir die NP, IVP en kleiner partye was om minderheidsbelange te beskerm deur middel van die desentralisasie van die sentrale regering se mag na provinsies en plaaslike owerhede.
Daar is geglo federalisme kan van minderhede geografiese meerderhede maak.
Groot moondhede soos Amerika en Duitsland het sekerlik die beste federale model. Hul federale of bondsregerings fokus net op verdediging, buitelandse sake en die begroting, terwyl die deelstate of provinsies en plaaslike owerhede hulle op noodsaaklike dienste nader aan die mense toespits.
Vir minderheidspartye is federalisme nie net ʼn goeie vorm van staatsorganisasie nie, maar ook ʼn geleentheid om streeksregerings vir minderhede moontlik te maak.
Dit is dus by minderheidsregte en wie provinsies regeer waar die knoop lê. Reeds daarom het die ANC nog altyd ʼn (gesonde of ongesonde?) sinisme jeens federalisme gekoester.
Die ANC se vertrekpunt was nog altyd dat Suid-Afrika met sy rassistiese verlede en talle etniese en kultuurgroepe die beste deur ʼn sterk sentrale regering gedien kan word. ʼn Unitêre staat sou die land dus beter in sy verskeidend byeen kan hou.
Ons het wel verskeie elemente van federalisme in ons grondwet, soos die nege provinsies, maar ons is geen federasie nie.
Flip Smit, ʼn demograaf en ʼn voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria, wat op die Afbakeningskommissie in 1993 gedien het, het tereg uitgewys dat die samestelling van die drie regeringsvlakke nie reg deurdink nie. Daar is te min sinergie tussen die sentrale, provinsiale en plaaslike owerhede.
Dit bemoeilik integrale beplanning en implementering van projekte. Dit lei ook tot die duplisering van take en verantwoordelikhede.
Dit maak provinsiale regerings dus ʼn onnodige staatsorganisasie en finansiële las. Die ANC het dus ʼn punt beet. Skaf provinsies af en versterk plaaslike owerhede. Ook moet lomp distriksmunisipaliteite, wie se rol en funksies nie altyd duidelik is nie, plek maak vir sterk plaaslike owerhede.
Hoe word plaaslike owerhede versterk?
Die samevoeging van die 1 100 munisipaliteite voor 1994 tot 278 tans was bedoel om dienslewering te verbeter. Die onbedoelde gevolge is dat klein dorpies hul plaaslike regering en administratiewe kapasiteit verloor het.
Dit vererger die agteruitgang van dié dorpies.
So, skaf provinsies en distriksmunisipaliteite af en gee vir elke dorpie sy eie munisipaliteit en plaas sodoende die regering terug in die hande van ons gemeenskappe.
The post Hotnotsgot: Federalisme appeared first on LitNet.