Vir kommunikasie om suksesvol te wees, moet die ontvanger van die boodskap dit hoor en verstaan wat die sender bedoel het. Dit klink eenvoudig, maar baie keer verstaan twee persone dieselfde woord of frase op verskillende maniere, met katastrofiese gevolge.
Die frase wit bevoorregting byvoorbeeld het die laaste ruk ’n polities- en emosiebelaaide frase geword wat mense in hulle onderskeie kampies injaag. Vir swart mense is dit ’n troefkaart, saam met rassisme, waarmee enige argument vinnig beëindig word. Vir wit mense is dit ’n beskuldiging oor iets waaraan hulle voel hulle niks kan doen nie, wat magteloosheid, frustrasie en woede veroorsaak. Dis ’n oorwerkte frase wat soms doelbewus verkeerd verstaan word.
In die rolprent Philadelphia vra Denzel Washington se karakter sy kliënte tydens konsultasie: “Explain it to me like I’m a four-year-old.” Baie keer is ons as volwassenes bang om op die oog af komplekse begrippe in eenvoudige taal te probeer verduidelik. Dis soms egter die enigste manier om tot ’n gemeenskaplike verstaan van iets te kom.
Hoe verduidelik mens “wit bevoorregting” in eenvoudige terme? En omdat mense so vinnig op hulle perdjies spring, laat ek afskop met ’n disclaimer. Hierdie is nie veronderstel om die definitiewe, allesomvattende bespreking van wit bevoorregting te wees wat alle ander besprekings beëindig nie. Dis bedoel om ’n aanknopingspunt vir ’n dieper gesprek en, hopelik, introspeksie te wees.
Die mees algemene wanopvatting is dat dit net die uiterlike tekens van welvaart beteken: die huis, die kar, die swembad, die oorsese vakansie, die bestuurspos. Die realiteit is egter dat die meeste wit mense nie die nuutste luukse Duitse motor bestuur nie, en nie in ’n agtslaapkamerhuis met sauna, aparte gastehuis en dies meer bly nie. Swembaddens in die watersnood wat ons deurgaan, begin al meer ’n simbool van selfsugtige waansin eerder as ’n simbool van welvaart word.
Dan word dit maklik vir wittes om te ontken dat wit bevoorregting bestaan, omdat hulle nie die uiterlike tekens van welvaart ervaar nie, terwyl sommige swart mense dit wel het. Ek dink dis ’n gevaarlike ontkenning, want wit bevoorregting is ’n werklikheid, en dalk juis so insidious omdat dit meesal onsigbaar is. Dis soos Doom: onsigbaar, onruikbaar, soms onbespeurbaar, maar juis daarom so giftig.
Wit bevoorregting beteken dat jou woord makliker aanvaar word omdat jy ’n wit vel het. Dis makliker vir mense om aan te neem dat jy natuurlik die gesag het om iets te doen of sê, sonder dat jy bevraagteken word.
Moenie te vinnig jou kop ontkennend skud nie. Dink bietjie na: Wanneer jy as wit persoon met jou swart kollega iewers heen gaan, wie word aangespreek as die senior persoon, die een wat in staat is om die besluite te neem? As julle in ’n restaurant sit, na wie se kant word die rekening subtiel neergesit?
Wit bevoorregting beteken dat wanneer ’n wit tiener met jeans wat by sy agterent afhang en kaalvoet in ’n winkelsentrum inloop, dit as jeugdige rebelsheid afgemaak word. Doen ’n swart tiener dit, word daar aangeneem hy’s daar om te steel of te bedel. As ’n wit tiener ’n luukse voertuig bestuur, word daar aangeneem dis sy pa se kar. Plaas ’n swart tiener in dieselfde voertuig, en daar word gewonder of hy die kar gesteel het.
Wit bevoorregting beteken dat ’n wit vrou dit as natuurlik aanvaar dat haar trollie na haar voertuig gestoot sal word, en dat die persoon wat haar trollie stoot, sal help om die goed in haar kattebak oor te laai. Swart vroue kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
Wit bevoorregting beteken dat as ’n jong wit persoon bevordering kry, dit aangeneem word dat die bevordering op meriete is. ’n Swart persoon moet gedurig verduidelik dat dit nie ’n affirmative action-besluit was nie. Dit beteken dat as jy ’n suksesvolle besigheid bedryf, daar nie outomaties aangeneem word jy’s ’n tenderpreneur nie, maar daar word aangeneem jy is suksesvol omdat jy oor die nodige vaardighede beskik.
Wit bevoorregting beteken dat jy by enige haarsalon in ’n mall kan instap, verseker in die wete dat jy gehelp sal word. Swart vroue moet eers seker maak of die salon met “etniese” hare werk, selfs wanneer die stiliste swart is.
Wit bevoorregting beteken dat jy nooit hoef te wonder of jy op grond van kleur by ’n restaurant weggewys gaan word nie.
Wit bevoorregting beteken dat jy na alle waarskynlikheid deel van ’n netwerk, bestaande uit familie, vriende en kennisse is wat bestuursondervinding het, wat mense in gesagsposisies ken.
Wit bevoorregting beteken dat jy normaalweg nie die eerste persoon in jou familie is om universiteit toe te gaan nie. Die deel van die aansoekvorm wat vra oor watter lede van jou familie vantevore by dieselfde universiteit studeer het, is nie ’n bron van kommer vir jou nie, want iemand anders was al voor jou daar. Jy hoef nie bekommerd te wees daaroor of jy koshuiskultuur sal verstaan, of sal weet wat om te doen wanneer jy by die universiteit aankom nie, want jou familie was daar, van jou vriende was daar, persone wat by dieselfde skool as jy skoolgegaan het, was daar.
Dit beteken dat jy, op grond van apartheidbeleid, skoolopvoeding van ’n beter gehalte ontvang het as jou swart kollega, en dit het op sy beurt beteken dat jy makliker aan die universiteitstoelatingsvereistes voldoen het. Dit beteken dat jou ouers ’n beter opvoeding kon kry, wat hulle in staat gestel het om beter werksgeleenthede te verkry, wat hulle in staat gestel het om jou beter lewenskwaliteit te bied.
Dit beteken dat jy waarskynlik in ’n werk is waar jy kan bekostig om iemand anders aan te stel om jou huiswerk te doen, al is dit net een keer ’n week. Dit beteken dat jy dit as vanselfsprekend aanvaar dat jy jou kind na ’n crèche of naskoolse sorg kan neem. Dit beteken dat jy as normaal aanvaar dat jou kind aan ekstrakurrikulêre aktiwiteite kan deelneem.
Wit bevoorregting beteken dat jy nie hoef te verduidelik hoekom jy by die werk moet weggaan om jou kind by die skool op te laai en iewers te gaan aflaai nie. Dit beteken dat dit aanvaar word dat jou vakansie gedeeltelik saamval met jou kind se skoolvakansie, sodat julle tyd saam kan deurbring. Jou swart kollega het selde daai luukse.
Wit bevoorregting beteken dat jy na alle waarskynlikheid meer betaal word as jou swart kollega, vir dieselfde werk. Selfs in 2016. Dit beteken dat jy tien teen een mediese fonds en pensioenvoordele as vanselfsprekend by jou werk aanvaar. Dit beteken dat jy steen en been kla oor die belasting wat jy moet betaal, want jy verdien genoeg om belas te word.
Dit beteken dat jou klagtes oor swak diens of wat ook al ernstiger opgeneem word as wanneer ’n swart persoon oor dieselfde aangeleentheid kla. Dit beteken ook dat daar vinniger aan jou klagte aandag geskenk word. As jy reken daar word voete gesleep met jou klagte, gaan sit bietjie en gesels met ’n swart persoon wat ook gekla het. Ek kan feitlik waarborg dat jou klagte vinniger hanteer was.
Wit bevoorregting beteken dat jy na alle waarskynlikheid nou oorbluf dink dat ek van my kop is en hierdie goed uit my duim suig, want jy't nog nooit opgelet dat jy voorkeurbehandeling kry nie.
Want jy’t dit as vanselfsprekend aanvaar.
The post Wit bevoorregting appeared first on LitNet.