Joy
Regisseur: David O Russell
Spelers: Jennifer Lawrence, Bradley Cooper, Robert de Niro, Dianne Ladd, Isabella Rossellini, Virginia Madsen, Edgar Ramirez
Vooraf weet ’n mens hierdie fliek gaan oor die Amerikaner Joy Mangano wat die “self-wringing mop” uitgevind het – klink nie juis opwindend nie, nè? Maar veteraanregisseur David O Russell, wat ook die draaiboekskrywer was van Joy, laat die klem op al die regte plekke val en skep só ’n wonderlike, boeiende film.
Die tema en storielyn kan in ’n enkele sin opgesom word, maar Joy is een van daardie flieks wat grootliks op een akteur gebou is: Jennifer Lawrence (Russell was ook die regisseur van Silver Linings Playbook, waarvoor Lawrence ’n Oscar gekry het – ook ’n film met Bradley Cooper en Robert de Niro as medesterre). Sedert Winter’s Bone (2010) groei Lawrence se reputasie deurgaans, en afgesien van haar lustelose vertolking in die laaste Hunger Games het sy my nog altyd net beïndruk. As Joy trek sy jou moeiteloos in en hou jou aandag gevange vir die volle 124 minute.
Die fliek speel af in die 1980’s, die begindae van infomercials, wat die platform was waarop Joy Mangano haar vroegste sukses behaal het. Vandag is entrepreneurskap ’n gonswoord, maar in daardie dae moes sy, veral as vrou, hand en tand baklei om al die hindernisse in haar pad te oorkom. Gevolglik gaan die film in wese nie oor ’n mundane stuk skoonmaaktoerusting nie, maar oor ’n vrou wat dit regkry om vas te byt en aan te hou totdat sy bo uitkom – en watter soet oorwinning is dit nie! Op Joy se pad vol oppe en affe is daar mense, hoofsaaklik familie, wat haar help én hinder en wat die storie met wrang humor inkleur.
Hoog aanbeveel vir almal wat hou van ’n eg menslike storie, en verpligtend vir elke jongeling met entrepreneuriese drome.
Sterre: 4
The post Filmresensie: Joy appeared first on LitNet.