Wat hou 2016 in vir die inwoners van Suid-Afrika? Só dink Christo van der Rheede.
2015 was 'n rowwe jaar vir alle Suid-Afrikaners. Dit is veral duidelik op politieke, ekonomiese en sosiale gebied. Van groot kommer is die talle uitdagings veral op ekonomiese gebied. 'n Moontlike afgradering van ons kredietwaardigheid na rommelstatus, beperkte regeringsreserwes, dreigende voedseltekorte as gevolg van die droogte, die dalende rand, stygende inflasie, dalende uitvoere en hoë werkloosheid onder andere hou 'n ernstige bedreiging vir ons vooruitsigte in.
Almal is bekommerd oor wat die toekoms inhou. Baie interessant is egter die wyse waarop Suid-Afrikaners oor alle grense heen veral in sulke krisistye reageer.
Vir verskeie aksiegroepe en individuele kommentators lê ons toekomsheil in die herlewing van ‘n Suid-Afrika wat bestaan uit verskillende “volke” met uiteenlopende kulturele belange en onversoenbare óf onoorbrugbare geskiedenisse en wat verkies om hul belange op ‘n sterk etnies-kultureel-godsdienstig-linguistiese nasionalistiese grondslag te bevorder.
Vir ander lê hul toekomsheil in die realisering van die post-‘94 ideaal. Dit is om te bou aan ‘n Suid-Afrikaanse nasie wat uit multikulturele gemeenskappe bestaan wat verkies om hul politieke, ekonomiese, kulturele en maatskaplike belange deur middel van nierassige en nieseksistiese strukture of instellings te bevorder.
Om egter bogenoemde twee groepe te stereotipeer as homogeen in denke en aksie is ‘n growwe vereenvoudiging. Want nie net is daar binne elkeen van hierdie makrodenkraamwerke ekstreme randgroepe wat die nuwe politieke bedeling heeltemal verwerp nie, maar daar is ‘n horde uiteenlopende politieke, kulturele en ekonomiese denkpermutasies binne elk daarvan te vinde. Uiteenlopende menings oor die ekonomie, politiek, kultuur, godsdiens, maatskaplike en vele ander sake in die media getuig hiervan.
Vir sekere wit, bruin en swart groepe is oudpresidente De Klerk en Mandela die grootste “uitverkopers” wat daar kan wees. Hulle verwerp konsepte soos onderhandeling, versoening, nasiebou, transformasie en restitusie, maar skroom terselfdertyd nie om hulself as Christelik-Bybels voor te hou nie. Andere plaas weer ‘n sterk fokus op die geskiedenis, herkoms, die herlewing van bepaalde histories-kulturele identiteite en praktyke.
‘n Verdere en baie interessante ontwikkeling is die soeke na en herlewing van allerlei “adellike” wortels. In die “bruin” gemeenskap verklaar mense hulself as Khoi-stamkapteins en konings. Andere roem weer op hul aandeel in die struggle teen apartheid. Jy moet vandag te bang wees om iemand net op sy naam te noem of ‘n spesifieke etniese groepering aan iemand toe te dig. Dis nou “koning”, “kaptein”, “comrade” So-en-so, terwyl andere weer sterk steun op allerlei Khoisan-identiteite. In die wit gemeenskap sien ons ‘n sterk herlewing van die Afrikaner- en Boerevolk-identiteite. Hierdie tipe van etniese “entitlement” is ook onder sekere van die swart jeug op universiteite te bespeur en niks en niemand word ontsien om hul doelwit van etniese bevoorregting na te jaag en te realiseer nie.
Die uitkerf van ‘n bepaalde kultuurhistoriese identiteit en die visualisering van ‘n “volkseie” utopie iewers op die kontinent van Afrika is sekerlik almal se goeie reg, maar in krisistye is dit nie meer belangrik dat ons almal ook rekening moet hou met waarheen Suid-Afrika en Afrika op pad is nie.
Dis die groter werklikheid wat ons in die gesig staar, met vele uitdagings, maar ook geleenthede. En snaaks genoeg, dis dikwels mense van ander lande wat die geleenthede raaksien en dit aangryp, terwyl Suid-Afrikaners verkies om aanspraak te maak op dit wat hul kwansuis ontsê word.
So dikwels beskuldig ons diegene wat hulle skuldig maak aan vreemdelingehaat en xenofobiese aanvalle teen mede-Afrikane van parogiale denke en gemaksugtigheid. Tog verwoord menige gesprek om die braaivleisvuur, in die raadsaal of waar ook al presies dieselfde sentimente. Hulle is ... ons is nie!
Verblydend is egter die tendense te bespeur in die hoofstroom. Miljoene Suid-Afrikaners oor grense heen het ‘n diepe besef dat die toekoms oor baie meer gaan as die eie belang. Suid-Afrika en Afrika is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Toenemend begin mense hul Afrikaanskap toe-eien en ‘n inherente deel maak van hul DNS.
Hulle staan ook die idee teen dat Afrikaanskap gelyk is aan etnisiteit, velkleur, hare en ander fisieke kenmerke. Nie net kom dit neer op ‘n vervlakking van wie en wat ‘n Afrikaan is nie, maar dit is oor dekades heen deur korrupte politici misbruik om hul magsbasis in baie Afrikastate in stand te hou. Na jare van onafhanklikwording word kolonialisme nog steeds die skuld gegee vir hul eie onbevoegdheid.
Dieselfde geld vandag in Suid-Afrika, waar Suid-Afrikaanse burgers weer onderwerp word aan die tirannie van uitgediende en beperkende apartheidsgebaseerde rasseklassifikasie. Dit druis in teen die letter en gees van ons nasionale Grondwet en ‘n klasaksie moet in die grondwetlike hof van stapel gestuur word om dit reg te stel.
Terwyl die Chinese en ander lande die geleenthede in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent raaksien en ontsluit, kan ons nie langer onsself op grond van die beperkinge van die verlede uitsluit of uitgesluit voel nie. Ons moet ons plek in die hoofstroom begin volstaan.
Want binne die hoofstroom word daar oor grense heen gewerk om die post-’94 ideaal lewend te hou. In my interaksie met verskeie gemeenskappe bespeur ek hernude ywer om politieke, ekonomiese, kulturele en maatskaplike belange deur middel van nierassige en nieseksistiese strukture of instellings te bevorder. Ons leef in opwindende, maar ook in krisistye, tog is 2016 se wel en wee in elke Suid-Afrikaanse burger, die massas se hande!
‘n Stewige en vredevolle grondslag is in 1994 daarvoor gelê. Verder gee ons Grondwet ons die reg om die gang van Suid-Afrika se toekoms deur middel van nierassige en nieseksistiese burgerlike en pragmatiese aktivisme te dikteer. Om dus vanweë ekonomiese en politieke wanhoop in die verlede te leef is elkeen se goeie reg. Maar is dit die mees pragmatiese en volhoubare keuse?
- Christo van der Rheede, verbonde aan AgriSA, skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
The post Kristalbalseminaar: Msholozi, Maimane, Malema of die Massas – wie gaan 2016 red? appeared first on LitNet.